| |
| |
| |
I.
‘Soe!’ roep die wandelaar uit en laat sy bondeltjie goed sak. Sweet glans onder sy hoedrand uit en beweeg stadig oor sy warm, deurvoorde gesig. ‘Soe!’ Die hitte slaan uit sy klere op. Van die hoogte waar hy nou staan, kan hy ver oor die vlakte heen kyk. Agter hom lê die blou reekse berge soos die voue van 'n konsertina. Al verder blou die yl, bewerige randjies weg tot dit vergaan in die onsekerte van die verte se dynserigheid. Eienaardige stuk wêreld wat hy agter hom gelaat het! In die skaduwee van 'n rietskraal bloubos gaan hy sit, en 'n weldadige vrede kom hier in die strepie koelte oor hom. Dit voel so rustig en verruimend hier, of jy in 'n diep kuil koel water swem. En rondom hom dein die landskap, groots en met die verre kimme in wasige skoonheid. Hy moet weer omkyk na die skof wat hy afgelê het. ‘Soe!’ en hy voel
| |
| |
die hitte van die end pad nog na, waar dit met sy meelsagte stof van bult na bult wegskiet of dit 'n ewige hunkering het na afstand, na ruimte. Daar waar die berge nou hulle skadu-diepe voue plooi, het hy gewerk, en hy sien weer die wye koringlande wat geel opglans teen die lang, uitgerekte hellinge wat vredig lê en slaap soos moeë arbeiders in die koelte van die berge. Daardie lappe en lappe koring het verdwyn. Saam met die ander snyers het hy van sonop tot sononder krom gestaan sodat die sekel gebrand het in sy klamgeswete hand. Toe die swaar miedens op die lande, die gerwe op die dorsvloer, die vul van die sakke en dan - afskeid! Verlore in sy drome van gedane arbeid kyk hy nog altyd terug na die berge vanwaar hy gekom het. Altyd maar die sware arbeid waarteen mens eers opsien as jy moet begin, en dan jou vreugde daarin, jou lus om dit te verower, en as jy end se kant toe gaan, dan kom daar byna 'n segenryke weemoed in jou oor die oomblikke wat agter lê, die skoonheid van dade wat verrig is, en jy weet dat jy nou weer moet voort..
‘Vir hom altyd maar afskeid ná die dagtaak klaar is. Nie die aangename rus om stil te gaan sit as die skure volgepak is en die geweld van die winter met genot voor die goue vlamme van die vuurherd afgewag word nie.
| |
| |
Altyd maar voort! So is sy lewe. So, totdat hy in die laaste groot Koelte gaan rus .... Maar wag, hy sit sy tyd hier en verdroom. Daar onder, langs 'n paar vaal randjies lê die groepies huisies waarheen hy mik. Hier sal weer arbeid te verrig wees, want 'n end van hom af weg sien hy die koringlande lê, sommige nog groen, ander wat reeds verkleur. En ver strek hulle uit, daar by die randjie verby, na die bedrieglikheid van veraf bultrondinge. Die son sak stadig laer en laat lang, puntige skaduwees oor die koring kruip. Die wandelaar vat sy bondel en met sy seer voete kies hy weer die wapad. Maar hy voel nou lekkerder as netnou, want dit word koeler op die veld en die huise wat nader en nader kom, laat blye verwagtinge tintel deur sy bloed. Sy swaar skoene plof deur die dik stof, wat lui opdwarrel en in wolkies gaan lê. Nader kom die koringlande na hom toe. Hulle strek weerskante van die pad af weg, 'n gelykte van lewende, ritselende halms. Hy draai uit die pad, kruip deur die doringdraad van die land en aan die kant van die ruisende koringveld gaan hy staan, asof gevul met 'n tere eerbied, en hy luister na die ritmiese geritsel, nou sag en ingehoue en dan weer in voller vlae, want die aandwind het ontwaak, en van die onderend van die land af, buig die mollige golwe
| |
| |
aan tot hier by hom - die hele koringveld in gelyke deining, wat luister na die aanswelling en daling van die wind. Hy streel met sy growwe, gebarste hande oor 'n paar are heen. ‘Dié koring sal in hierdie week ryp wees,’ mompel hy en loop stadig na die pad terug. Die geruis van die koring vul hom met 'n diep genoeë, met 'n liggaamsvreugde. Altyd as hy die koring hoor, voel hy 'n drang na lewe en verstaan hy hoe goed, hoe mild die lewe is, die lewe wat werk in sy bloed en hom met arbeidslus vervul, die lewe wat die koring laat groei, van klein, swak stoeltjies tot kragtige halms en are en hulle omtower as die somer kom en die lewe volgroeid is, ryk van belofte en vol skone geheime van skeppingdade. Ja, die somer is vir hom die mooiste van die jaargetye! En tog, wat sou dit dan tog wees? Net soos hy die heerlikheid van die groeiende lewe sien, as hy die diepste drink aan die skoonheid, dan kom daardie gevoel oor hom, soos die wye koelte nou hier oor die koring - dit alles gaan verby! Want is die somer nie maar net die versekering dat die lewe ryp geword het nie - dat doodseker die herfs en winter moet volg nie? Maar nog erger as alles: die mens en sy genadeloosheid! Wag - en sy bewussyn raak los uit die donker gedagtes - daar kom iemand aan. Die man het onver- | |
| |
wags verskyn uit die lang koring en sy wye ferweelbroek en hemp teken hom vaal af teen die groen agtergrond. Hy kom nader na die wandelaar toe, wat haastiger begin stap, sy oë vas op die kêrel wat uit die koring verskyn het. Toe hulle bymekaar kom, laat die wandelaar handig sy bondel neer en terwyl hy sy growwe hand uitsteek, sê hy ‘Wynand Naudé’ en die ander man antwoord ‘Tom du Preez.’
‘Kom jy vér?’ vra laasgenoemde en hy byt van sy baard tussen die lippe vas. Sy oë kyk skerp en met 'n glansie agterdog. Wat sou hy weet? peins die vreemdeling neerslagtig.
‘Ja, Oom, ek kom 'n hele end. Ek het 'n lang skof agter die rug.’ Hy plaas sy hande in sy sye en kyk voor hom. Dan beduie hy: ‘Oom woon seker dáár’; sy vinger wys na 'n paar huise wat by die randjie lê en nou stadigaan begin wegsak in die aankruipende skaduwees.
‘Ja,’ sê Oom Tom en hy knik voldaan sy kop. ‘Sny jy koring? So? Nou ek dink hier sal vir 'n hele rukkie iets te doen wees - hm, ja nee, ongetwyfeld. Ons kan vanaand oor die geldkant van die ding praat. Jy is nou seker moeg. Kom ons stap aan huistoe. Pragtige koring, man,’ en die oop hand beduie oor die gelykte, ‘ons het lanklaas so'n jaar gehad.’
| |
| |
‘Woon familie van Oom in daardie huise, daar rondom oom s'n?’ vra Wynand.
‘Ja, hoe sal ek sê? 'n Broer, 'n swaer en die ander huis behoort aan 'n Venter. Hy het die grond gekoop van my broer Lukas, wat na Johannesburg getrek het - hm. Ken jy vir Johannesburg, vriend?’
‘Ja,’ klink dit kortaf en half ontwykend.
‘Nou ja, wat ek wou sê: hy is daarheen. Hy is glo in die myne. Ons hoor selde of ooit van die man. Dit is jammer dat die grond van die ou voorvadere uit die hande van die nageslag moet raak. Maar so gaan dit: opskrywe, opskrywe - en môre moet jy laat vat. Ja neef, soos ons hier stap - kyk bietjie so af, daar na die wilkerboom se kant toe, hier het werk gelê. Hier was dit van sonop tot sononder agter die ploeg. Gelukkig was hier vanjaar geen stukkie hael nie. Dis 'n bestiering. Anders het ons nog maar altyd die een of ander teenspoed gehad. Die wêreld is hierlangs mos maar bietjie kwasterig - hm. Maar, ou vriend, hoe lyk die wêreld soos jy gekom het?’ Wynand hou van hierdie boer met sy vos-baard en skerp blou oë. Daar klink oortuiging en sekerte uit sy stem.
‘Nee, die boere gaan baie koring wen. Dié wat vroeë-baard gehad het, het reeds alles af. Hulle is tevrede.’
| |
| |
‘Was jy by Baart van Tonder, Blouvlei, langs?’
‘Ja, net daar langs. Hy sal glo goed wen.’
‘Ja, ek ken heelwat mense - so uit in die rigting wat jy gekom het. Maar, neef, laat ek nou maar vra wat ek netnou al wou vra: waar kom neef eintlik vandaan en gaan neef nou maar so van plaas tot plaas om koring te sny?’ Wynand se wenkbroue trek effens saam. Altyd dieselfde vrae, waarvoor die mense tog so lief is, altyd maar vrae wat ontwyk moet word. Waarom?
‘Oom, ek kom ver hiervandaan, uit die Transvaal. Ja, ek sny koring. Dis harde werk, maar die mense is goed vir my.’
‘Hm.’ Hulle stap 'n rukkie in stilte. Wynand voel nou of daar meer krag in sy lede kom. Die koelte lê mild op die koring, die wind het gaan rus en die halme staan vorstelik, met effens geboë hoofde eerbiediglik en luister na die komende vrede en stilte van die aand. Die son sak anderkant die wilkerboom weg en verdwyn soos 'n vlam vuur in die kwynende gloed van 'n veraf veldbrand. Groots en teer kom die aand oor die koringlande, 'n laaste goudvonk van die verdwynende son tril uit die fynheid van are op, 'n geur van rypende lewe hang in die aandlug en laat die twee manne vir 'n oomblik gaan staan, sprakeloos
| |
| |
asof woorde nou onnodig is en net 'n dieprustige vrede sal versteur, noudat die aand nader oor 'n wêreld wat in die son se hitte lê en bewe het, die aand wat streel en genees en kom soos 'n groot seën oor die land, wat gewag het in stille geloof en diepe wete.
Oom Tom verbreek die stilte toe hulle by die huis kom. ‘Sit jou goed neer, neef. Netnou wys ek vir jou jou buitekamer. Wag, neef, wil jy nog jou hande was? Linda!’ Uit die voordeur kom 'n sewentienjarige meisie te voorskyn. Van vriendelikheid lag sy haar mooi wit tande oop. Haar oë is blou en haar hare sag geel. ‘Neef, dis my dogter Linda. Linda, is dit amper klaar vir ete? Gooi vir die neef waswater in. Kom binne, neef. Dis nog maar warm in die huis. Vrou, hier is 'n kêrel wat vir ons wil help koring sny. Hy lyk vir my baie na Maans, lyk hy nie? Nou, neef, gaan was jou hande, dan eet ons.’
Linda gooi die water in die groot erdeskottel, sy bring 'n kêrs en sit dit 'n end van die skottel af.
‘Kom was maar, asseblief ...’ sê sy. Sy kyk na die diep lyne in Wynand se gesig, na die moegheid in sy oë.
‘Dankie,’ antwoord hy hartlik en hulle oë lag na mekaar toe, asof hulle 'n geheim deel. |
|