| |
| |
| |
XIII.
‘Wat is dit, Stefaans?’ vra Oom Tom toe hy die jong voor die agterdeur sien staan.
‘Nee Baas,’ sê Stefaans en hy veë sweet van sy glansende gesig af, ‘die plat-voet Boesman en Katryn is skoon weg. Die volk van die lokasie op die dorp sê hulle is Nuwejaarsdag daar deur. Maar dit was laaste sien. Skoon met die meid weggeloop. Ek moes liewers die ding daar op die land vir goed ingebreek het. Wat gaan baas nou maak? Gaan baas die doringhakskeen laat haal om hulle aan te keer?’
‘Nee wat, Stefaans, ek het daaroor gedink. Ek laat hulle maar staan. Dis nou klaar met die oestery, die koring is verkoop en ek kan sonder hom klaarkom. Ek het darem nooit gedink dat hy my so in die steek sou laat nie.’
‘Ag nee wat, baas, baas kon mos somar sien waar sit die ding se ore. Skone plat-hakskeen-Boesman met 'n vlakhaas se oë. En Katryn - dis somar 'n optel-meid, baas. Dis
| |
| |
maar goed dat ek my nooit aan die ding gesteur het nie.’ Oom Tom moet onderlangs lag. Die oorlamse skepsel - of mens nou so dom is!
‘Maar ek sien dit al klaar, Stefaans, so'n agtermekaar jong soos jy sal nooit lank by my bly nie. Die meide is te erg oor jou, en hulle sal jou hier wegrokkel.’
'n Lag wat by sy mondhoeke begin, plooi stadig weg oor die geel vel tot dit lyk of Stefaans tot by sy ore lag. Dis waar, dié Baas Tom, daar loop nie nog so'n baas op die aarde nie! ‘Ag nee, my grootbaas, watwo hulle my hier weg sal kry? Nog nooit. Die Bolandse jong trap mos fyn oor die land. Nee ek bly hier, Baas, maar baas sal seker nie omgee as ek later vir my ook 'n hennetjie aankeer nie. Ja nee, my baas. Nie optel-goed soos Katryn nie, maar 'n meid wat vir my op wit kussingslope sal laat slaap. Dankie, my baas. Nou okso, my grootbaas,’ en met sy hoed skeef op die kop loop Stefaans windmakerig by die randjie om en praat luidrugtig alleen toe hy 'n paar meide in die verte sien: ‘Ag tog, hoe kom hy daar in die voetpad aan, die Bolandse jong wat die meide se koppe so deurmekaar krap. Gee pad voor! Die jong is vanmiddag bra wild.’
Maar een van die meide lag hom honend
| |
| |
uit: ‘Wag, laat staan ons! Waar's Katryn? Sy stap nou baie diep in die Kolonie saam met April. Die grootmond se hand is in die as geslaan. O jé, wag, kyk waar sit die ding se hoed! Dis geen wonder dat die meide stuipe kry as hy aankom nie.’ Al wat Stefaans net antwoord is:
‘Julle soek my verniet, skurwe hakskene. Stefaans is somar 'n jong van die eerste kjeret. Stefaans, jou fyn stapper, laat die goed staan. Jy ken jou mos.’ Toe verdwyn hy om die rantjie. Oom Tom, wat hom 'n ruk agterna staan en kyk het, skud net sy kop en toe draai hy om en gaan in die huis. Hy loop na Wynand se kamer toe en leun in die deur: ‘Hoe voel jy nou?’
‘Nee, dit gaan beter, Oom.’ Op Wynand se gesig en arms is nog die tekens van die brand te sien.
‘Jy is nie maar lus en bly by ons nie?’ en vriendelik kyk Oom Tom se oë in Wynand s'n.
‘Nee, dankie Oom. Ek het Oom reeds gesê. Ek vertrek nou na 'n dag of wat. Ek voel baie beter. Ai Oom, ek kan die arme Hannes nie vergeet nie.’ Oom Tom draai sy kop weg en al wat hy sê is: ‘Ai.’ Hy gaan na die spens.
| |
| |
‘Linda, gooi tog vir pa bietjie koffie in asseblief, ek wil na Oom Frans toe stap.’ O, sy hart bloei vir sy dogter wat hier deur die huis dwaal met haar bleek gesig. Sy praat omtrent niks. Hy wil met haar praat, vir haar troos, maar in hierdie omgewing is die kinders so opgevoed dat hulle selde deur die geslote erns van hul ouers se wese kan dring. Hoe magteloos voel hy nie! Sy eie kind, en tog kan hy niks vir haar sê nie! En hy sien hoe sy ly ... Toe hy wil loop, vra hy baie vriendelik vir haar: ‘Lindatjie, wil jy volgende week met my saam ry dorptoe?’ Maar toe sy kalm ‘nee’ antwoord en sê dat sy nie kan nie, weet hy nie wat om te antwoord nie, en loop na buite... Die arme kind!
Reusagtige donderwolke staan haelwit teen die hemel uitgesneeu en Oom Tom kyk na hulle en na die bulte, en 'n gevoel van vreemde heimwee maak sy hart teer... Hy loop by die rantjie om en by die kerkhof, wat nabv Oom Frans se tuin lê, gaan hy staan. Die arme Hannes! Die kransies lê verweerd op die nuwe graf. Oom Tom kyk na die ander graftes, sy grootvader en grootmoeder s'n, sy vader en moeder s'n... Dit doen so snaaks aan hier by die graftes, die rustige stilte en nou en dan net die sware geruis van 'n bloekomboom. Driefontein! So word hulle almal by
| |
| |
die hek van hierdie kerkhof ingedra, net soos Hannes; die stryd is oor, ander bewerk die lande, en die lewe gaan voort... En in elkeen lewe daar 'n geheim, en miskien gaan hy daarmee graf-toe. Wie het ooit kon dink dat die arme Hannes so baie van Linda gehou het? Het die arme kind nie dalk die mied aan die brand gesteek uit jaloesie nie? Niemand sal dit ooit weet nie... Maar die slag wat dit alles vir die arme Linda moes gewees het ... Hy kyk weer op na die pragtige, haelwit wolke en dan na die bulte en die wyd uitgestrekte aarde, en die gevoel van heimwee kom weer in hom op... Een van die dae moet hulle ook sy plekkie hier regmaak, en dit is soos gister toe hy 'n seun was wat gedink het daar is geen einde aan die lewe nie. En die tyd het verbygegaan. Wat is die tyd? Ja, ons is maar soos die koring, wat groei en afgesny word. Hy voel die weldadige straling van die middagson, en hy dink aan die winter... Hy huiwer en loop in die rigting van die tuin. In die verte sien hy vir Oom Frans aankom. Hy loop hom tegemoet.
‘Hoe dwaal jy dan so oor die land rond?’ vra hy vir Oom Frans, wat met hande agter die rug aangestap kom.
‘Dit kan jy wel vra,’ kom die antwoord. ‘Ja, man, ek het vanmiddag tot 'n gewigtige
| |
| |
besluit oorgegaan. Kom ons gaan sit in die koelte van daardie boom. Ja, wat ek wil sê is: ek het nou maar klaar besluit om te verkoop. Ek dink Fanie sal my grond neem. Ag, die arme kêrel, ek kry hom darem so jammer oor Hannes... Ja, hy sal seker die grond neem. Nee, Tom jong, as ek nog daardie rente kon betaal, en die bedrag by die bank... Jy weet self ek is te bang om in die dorp te kom.’ Oom Tom bly stil, en magtig kom die vrede van die somermiddag van die lande af na hulle toe. Hy moet verkoop, dink Oom Frans, maar geen mens weet hoe dierbaar hierdie grond vir hom is nie. Niemand sal ook ooit die wens van sy hart ken nie...
‘Maar sê nou maar jy kan regkom met die prokureur en bank?’ vra Oom Tom en daar lewe fyne simpatie in sy oë.
‘Hoe kan dit regkom? Wie sal vir my borgstaan? Nee, Tom jong, moenie die ding nog vir my swaarder maak nie. Ek het nou besluit. Die ou natuur was nou teen my,’ en hy kyk ver oor die veld na 'n wolk wat blou geword het onder en waaruit 'n reënbui neersluier...
Daar kraak papiere in Oom Tom se hand. Hulle word opgevou en in die eeltbedekte hande van Oom Frans geskuiwe. ‘Wat is
| |
| |
dit?’ vra hy en 'n keep vou tussen sy wenkbroue in toe hy dit lees.
‘Wel, Frans jong,’ sê Oom Tom, en lanklaas het daar so 'n kalm, diepe geluk in hom gelê - die geluk om 'n ander gelukkig te sien, ‘oorlede pa het vir Driefontein aan ons bemaak. Toe ons ons grond gekry het, was daar geen pennie skuld op nie. Nou, ons het swaar jare gehad, maar ons moet die ou plaas weer losboer. Daar by die kerkhof, waar ek nou vandaan kom, was dit vir my nou net of een vir my sê dat oupa-Grootjie, oupa, pa en almal sal skaam kry vir ons as ons die grond loslaat. Frans jong, ek hoop jy gee nie om nie,’ en dit gee vir Oom Tom vreugde om sy geheim nog 'n oomblik te hou, ‘daar het jy jou kwitansies. Ek het jou rente by die prokureur betaal en met die bankbestuurder gaan praat. Ek het vyf-en-sewentig pond daar afbetaal. Ek het 'n bietjie van my skuld laat bly. Hierdie jaar maak ons alles reg. Dan kan jy my somar terug betaal.’
Vir 'n oomblik kan Oom Frans geen woord uit kry nie. Die dun papier ritsel in sy hand. Sy oë brand ... hy kan nie goed sien nie. ‘Tag, Tom jong,’ en sy stem bewe effens, hoe hy ook al wil keer, ‘my oë brand in die laaste tyd so - altyd pure water... Jong, jy kan soiets mos nooit doen nie. Nee man,
| |
| |
dit kan nie. Jou skuld moet af... Wat kry jy vir die koring?’
‘Ek het vyftien en ses per mud gekry.’
‘Ai man, en dan nog jou groot skade ... maar rêrig, Tom, vat die kwitansies, jy kan so iets nie doen nie.’
‘Wag, wag, man,’ weer Oom Tom af, ‘ons moet die grond behou. Hierdie jaar spook ons soos molle in die aarde. Ons gooi die skuld af.’ Weer swyg Oom Frans vir 'n ruk. Dan kom dit dankbaar-ontroerd:
‘Dankie, Tom jong. God sal jou seën. En van nou af nie meer 'n klagte uit my mond nie, al staan ek ook krom soos 'n sekel in die grond. Ek was te veel 'n ou Jeremia, maar jong ons sal vir Driefontein losboer. Hoor wat ek jou sê,’ en die maer gesig roer opgewonde.
‘Net so,’ sê Oom Tom. Die twee broers staan op, en terwyl hul donker skaduwees voor hulle uit reis, stap hulle weg van die dalende son af, altwee se oë op die wagtende lande. |
|