| |
| |
| |
Hoofstuk VII
I
Die nagte staan hoog en blou aan die hemel met die sterre koud en ver verwyderd van haar. Elke aand sit sy voor die raam en dan kyk sy uit oor die veld wat met die koms van die donkerte wegsink soos 'n werklikheid wat tenslotte op sinsbedrog berus het. Die pad is nog vir 'n ruk te sien waar dit wit en stil op die heuwel lê, die pad wat die wonder en verrassing van sy terugkoms moes bring, maar haar nog steeds bedrieg het en net 'n spot van haar hunkerende blik maak. Sy verskyn voor haar ouers net wanneer dit hoogs nodig is, en onttrek haar verder aan die wêreld wat met onbeskaamde, wrede oë na haar kyk, haar veroordeel of sy 'n moord begaan het.
Hoe die nuus so gou versprei het, weet sy self nie, maar dit is kompleet of die mure, die bossies, die berge ore gekry het. Haar ma moes baie vertroulik - waarskynlik uit nood - met mense gepraat het, en dié het op hulle beurt weer baie vertroulik met ander gesels, tot die hele buurt wemel van vertroulike mededeelsaamheid.
En nou krimp sy ineen van wat daar alles
| |
| |
gesê word; dit spyt haar diep oor wat haar ouers om haar onthalwe moet ly. Sy het hulle in die steek gelaat, en die een wat sy die liefste het, het haar weer in die steek gelaat. Watter snaakse, onbegryplike wêreld! Geen wonder dat sy elke aand hier voor die raam gaan sit, geen kers opsteek nie, maar so in die donker wag met haar oë gerig op die wêreld daarbuite. Sy ken die nagvorme van die dinge al so goed: die turksvylaning wat swart afstreep langs die landmuur, twee sipresse wat spits en roerloos uit die roetswart ondergrond oprys teen die sterre; 'n randjie wat lyk soos 'n olifant se kop, net uit die vormlose massa daaronder opgelig, en daar ver teen die nagtelike horison 'n eensame randjie - op die einde van alle dinge.
Sy sit so na hulle en kyk asof hulle haar blik vassuig en haar bind aan hulle onbeweeglike swartheid - 'n dooi wêreld waarin alles geen bewussyn het nie, en nog net sy oorgebly het om dit alles te aanskou.
Sy sien die sterre opkom. Elke aand, telkens 'n bietjie later, kom dié mooi rooi ster presies agter die randjie uit. Hy ontroer haar diep, want uit die swart afgrond van die hemel daar aan die kant van die skerp bultlyn, klim hy uit, trillend soos 'n diep glansende vonk, wat haar blik lok en betower of 'n verre wagvuur deur wie-weet-wie op die hemelvelde aangesteek is. Al die kleiner sterre lyk nietig en onbelangrik
| |
| |
naas hom, en groots en eensaam gaan hy hoër en hoër die wydheid van die naghemel in tot hy verdwyn bokant die raam.
Dan wag sy tot dit al baie laat moet wees. Kleiner sterre kom skaam en verlore agter die wêreldronding uit. Die hele hemel draai om haar heen. Dit voel so groot en ontsagwekkend dat sy soms haar hande ootmoedig vou en bid dat God, wat al die majesteit in sy hand hou, haar moet vergewe vir die groot sonde wat sy begaan het, dat Hy haar nie moet straf daarvoor nie, want net Hy weet dat sy gesondig het in haar groot liefde, haar liefde wat vir haar 'n enkel mens byna verhef het bo God. Dit is warm trane van berou wat oor haar wange loop, want so eensaam, dink sy, het geen mens seker ooit gevoel nie. Verlate deur die ouers op wie sy gesteun het, beskaam in haar liefde wat so groot was dat dit die vlaktes en berge om haar, die dae en nagte waardeur sy gekom het, 'n lig gegee het soos die skoonheid wat 'n gelowige siel alleen in sy oorgawe kan aanskou. Nou is die liefdeswoorde wat so heet in haar verbeelding gebrand het, die beloftes wat gemaak is, soos littekens wat in haar verbeelding bly, want dit dra die smet van verraad.
Dan kyk sy weer oor die velde heen. Daar kom die tweede groot ster nou links van die randjie op. Hy het 'n lig soos van skitterende silwer en so op die horison, met die donkerte as
| |
| |
'n ondergrond, is hy van 'n skoonheid en suiwerheid wat haar kan laat ween omdat dit in haar die diepte van waaragtige liefde wakker roep, maar ook die bedrog van belydenis en woorde, wat daardie suiwerheid net skend en verlaag. So het sy ook voor hierdie raam gesit toe haar hart soos 'n skietster van blydskap was, toe sy besef het dat hy haar lief het, dat die dae wat kom, swaar en vrugbaar sal wees van vervulling.
Die dae het gekom en nou staar sy verlate uit oor die wêreld, sonder doel, sonder steun. Almal laat haar voel dat sy baie goed sal doen as sy maar wil skoert uit die lewe, omdat sy gesondig het teen bestaande opvattings, omdat sy nie die een vaste weg betree het nie. Sy kan dit nie help nie, maar haar gees gaan altyd maar weer terug na die heilige oomblikke van haar liefde. Sy verwyl daarby soos 'n bedroefde by 'n geliefde dode, en dan onverwags kom die snikke en sy sê sag: ‘Hoe kon jy my so in die steek laat, Henning?’
Dan bedaar dit, en in die donker trek sy haar uit, met 'n afgedaanheid of sy haar vir haar doodsbed voorberei, want sy vrees die dag wat kom, die skimpe, die agterdogtige oë en sluwe verwyte. Tussen die koel lakens voel sy uitgeworpe deur die lewe, reeds op weg na 'n ander, stiller, simpatieker wêreld.
| |
| |
| |
II
Oom Jaap is nou maar selde in die huis. Net soos hy klaar geëet het, dan vat hy sy hoed en kruppel-kruppel sukkel hy oor die plaas rond, kyk na dinge wat hy lank, weens sy liefde vir die rusbank, totaal verwaarloos het, merk hoe gedeeltes van sy plaas totaal uitgetrap is en hoe die kraalmure verval, omdat geen sorgsame hand die neerstortende klippe weer opstawel nie. Hy voel dat die lewe hom vasgevat het, dat hy oor 'n sloot moet spring, alhoewel hy voor sy siel weet dat hy nie die anderkant sal raak nie. Vandat die verhaal soos 'n dwarrelwind van plaas tot plaas voortgereis het oor die skande wat oor sy huis gekom het, het niemand hom weer vir die honderd pond bydrae kom vra wat vroeër so van hom afgesmeek is nie; mense wat nooit by hom verbygery het nie as hulle van die dorp af kom, waai nou driftig met die peits oor die perde as hulle by sy plaashek deur is en die wiele dreun so vinnig as moontlik voor sy huis verby asof daar 'n dodelik aansteeklike siekte in skuil.
Hy gaan nie meer na die kerk of na die biduur toe nie, maar vermy die mense asof hy 'n lelike tronkrekord agter die rug het. Hy dink nie oor die dieper ondergrond van sy dogter se moeilikheid, oor die oorsake wat daartoe aanleiding gegee het of die snaakse samehang van maatskaplike instellings en menslike bekrompenheid
| |
| |
nie; hy besef net hoe die kring wat daar om hom getrek word, al nouer en nouer word en hoe hy, as hy so alleen met sy vrou sit en praat, verlang na ander mense, na hulle respek en hartlike simpatiebetuiging. Maar daardie mense kom hy nie in die oomblik van sy ellende teen nie, en om sy mond lê nou 'n stroewe trek van teleurstelling en siniese verbittering.
Die uitval wat hy met oom Sybrand gehad het, het by hom eers 'n woede opgewek of hy die beroerte daarvan kan kry, maar met die verloop van tyd voel hy of die meeste van sy bure maar aan 'n ingeskape laaghartigheid ly wat hy so verfoei by die ‘ou heiding’. Hulle verberg dit net goed, maar sodra daar 'n krisis kom, dan openbaar hulle maar te mooi die lelike werklikheid van hulle karakters, die heimlike afguns en leedvermaak, die diep verborge verdelglus uit 'n dwase selfbehoudsinstink.
Op 'n miershoop gaan hy sit en luister hoe die wind fluister in die jong gras rondom hom, en dit roep gedagtes oor die lewe in hom op wat hy nog nooit gehad het nie. As daar 'n God is, waarom het hy die mens dan so vol sonde geskape? Waarom? Net om die genoeë te hê om hulle weer te bekeer? Waarom lê die vreeslike drifte in die mens wat sy dogter in die ongeluk gestort het? Waarom is die een ding sonde en die ander nie? Waarom probeer die mens om met skynheiligheid dinge toe te
| |
| |
dek wat dikwels bloot natuurlik is? Hy vee met sy hand deur sy hare, daar kom 'n skuldige gevoel in hom op dat hy sondig om so aan die verborge dinge te peuter. Meer as een mens het al daardeur in 'n stryd geraak. Hy weet van 'n kêrel wat saans met sononder bedtoe moes gaan so bang het hy vir die donker geword, en dit net om sy prakseerdery die hele dag oor die vraag of God magtiger is as die duiwel, want as God die oorsprong van alle dinge is, dan het Hy mos die duiwel ook geskape, en as dit die geval is, dan kan Hy hom mos weer vernietig om 'n einde te maak aan al die versoekings waarmee die duiwel gedurig besig is. Waarom hou God dit dan aan die gang? Het Hy genoeë daarin om te sien hoe die mense in die sonde gelei word deur die duiwel net sodat Hy hulle weer daaruit kan help en die mens ewig daaroor dankbaar moet wees? Die arme kêrel sit nou onder die kranksinniges; nou en dan gaan sy mense hom daar haal om 'n paar dae op die plaas te bly, en dan is dit te akelig om hom te sien met die verwarde kop, vol lang hare, wat hy gedurig in 'n sirkelvorm ronddraai, en verder sy vrees vir die nag. Nee, hy moet uit daardie spinnerakke wegbly. Dit is glo net soos jy sê: mes! dan breek die styfgespanne draad van jou gedagte en jy kry hom nooit weer reg nie.
Hy staan op en loop stadigaan na die huis toe, en terwyl hy lusteloos aanstryk, met sy twee
| |
| |
hande agter die rug, en kruppel-kruppel oor die polle gras mik, sien hy 'n kar oor die bult aankom, dit hou by die hek stil en hy wonder wie dit kan wees. Dan ry dit nader en kom tot stilstand voor sy deur. Hy stryk haastiger aan met 'n ligte blyheidsgevoel, omdat iemand darem nog van hom notisie neem. Dit is Sakkie, 'n kêrel wat 'n uur te perd van hom af woon en onlangs vir die eerste keer gekies is as diaken vir dié wyk, waaroor die gemoedelike oom Andries ouderling is. Sakkie is 'n skraal kêrel met 'n vaal-grys vel wat in plooie oor sy boordjie stoot. Sy oë is klein en skerp. Hy het 'n goeie naam by baie mense in die distrik, omdat hy so ‘reguit’ is. Hy groet nou vir oom Jaap met 'n tikkie terughoudendheid en sy oë kyk vas na die moedelose man hier voor hom wat skuldbewus en gekwes in sy sosiale waardigheid sy oë neerslaan, onderdanig en oorrompel.
‘Wil jy binnekom, neef,’ vra oom Jaap sku en rig sy oë, rooi van son en wind, op die besoeker, angstig oor wat die antwoord sal wees.
‘Ja,’ sê Sakkie beslis op die toon van 'n man wat nie vir gemoedelike geselsery hier is nie, ‘ek sal 'n rukkie stilhou. Willem!’ skreeu hy vir die kaffertjie op die kar, ‘hou die perde vas; moet nie aan die slaap raak dat die leisels uit jou hande gly nie.’
Hy loop voor oom Jaap uit, draai hom effens om en sê: ‘Hoe gaan dit met die vee, ou vrind?’
| |
| |
As hy ‘vriend’ gesê het, dan was dit iets anders, dan was dit ook vertroulik, aanhalend, maar ‘vrind’ het vir oom Jaap se oor, veral noudat hy so besonder kleinserig is, 'n klank en betekenisskakering wat duidelik aanmatiging en neerbuigendheid openbaar. Hy voel dat sy hart 'n vinnige skop gee, maar antwoord vriendelik: ‘Goed, ou neef. Dit is net die veld wat baie uitgetrap raak en daarby lyk dit my of ons vanjaar baie ruspes gaan kry.’
Hulle gaan sit in die voorhuis, waar twee volstruiseierdoppe aan blink drade in twee hoeke van die vertrek hang, bokant bosse papierblomme wat dof en karakterloos langs die bont muurpapier staan. Oom Sakkie gooi sy linkerbeen oor die regtereen sodat die enkel op die kniekop van die ander been rus. Hy leun met 'n gebaar van 'n man wat 'n saak moet aanpak, maar ten volle bewus is van die minderwaardige aard daarvan.
‘Hoe gaan dit tuis?’ vra oom Jaap naderhand net om die geselskap aan mekaar te ryg, alhoewel hy, net ná die aankoms van die besoeker, reeds die vraag gestel het.
‘Goed,’ sê oom Sakkie en frons sy voorkop effens.
‘Ek hoor jou seun en dogter word ook met die volgende nagmaal aangeneem,’ worstel oom Jaap verder.
‘Ja,’ sê oom Sakkie en hy rek sy mond met
| |
| |
'n tuit uit; ‘hulle sal voorgestel word en hulle sal op die regte paaie wandel. Vandag is daar baie mense wat in ons kerk sit, maar in die donker lae en vuil dinge laat aangaan. My kinders wil ek so opvoed dat niemand 'n vinger op hulle kan druk en iets van hulle karakter kan sê nie. Dit is my plig as ouer.’
Oom Jaap voel hoe die skaamte en verdronge opstandigheid sy gesig warm maak. Hy gee 'n droë sluk, wil praat, maar voel so magteloos, omdat hy deurweek is van bitter skuldgevoel. Hy moet nou maar buig en luister. Hy moet sy hoogmoed in sy sak steek.
Tant Annie bring koffie in, groet sedig en gaan sit. Dit is duidelik dat oom Sakkie nie baie lus het vir intieme mededelings en lekker geselsery nie. Hy het gekom om sy plig te doen, om te wys op die waarde van 'n goeie, gesonde morele lewe.
‘Ja,’ sê hy na 'n rukkie, ‘julle weet seker waarom ek hier is. Ek het met dominie gepraat en hy het gesê ek moet bietjie met julle gesels. Kan ek bietjie met Johanna praat?’
Oom Jaap haal swaar asem, half verbyster deur dié versoek en onhelder oor wat hy presies moet doen in hierdie omstandighede. Hy is 'n man wat nie gou 'n situasie kan deurvoel en handig kan optree nie. Stadigaan dring verhoudinge tot hom deur, maar as dit eers duidelik is, reageer hy ook buitengewoon heftig.
| |
| |
‘Seker,’ sê tant Annie en oor 'n rukkie kom sy met die dogter terug. Maer en bleek, met groot, ronde vraag-oë, byna soos van 'n verskrikte kind, sit Johanna daar, en kyk reguit in die vorsende blik van die diaken. Hy sluit plegtig sy hande, lig sy oë effens na die dak en begin: ‘Johanna, ek is die diaken vir hierdie wyk, soos jy seker weet.’
‘Ja, oom,’ sê sy gedwee.
‘Nou, soos jy kan verstaan: ek het my pligte om na te kom. Ek moet my oë oophou en kyk waar daar gesondig word. Ek moet help waarsku en partymaal ook bestraf. Ek is jammer dat ek vanmiddag met jou moet kom praat, want jy is uit 'n goeie familie. Almal praat van die groot sonde en skande wat jy begaan het, en die verdriet wat jy jou ouers veroorsaak het. Dit is 'n sonde ...’
‘Ek het geen sonde gedoen nie,’ sê sy moedig en met haar blik vas in syne. Dit is of iemand oom Sakkie hard tussen die blaaie gestamp het. Hy gaan regop sit en sy oë vlam, terwyl oom Jaap en tant Annie verskrik oor die onverwagte astrantheid na mekaar kyk.
‘Maar, Johanna,’ sê oom Sakkie dreigend, ‘weet jy wat jy praat? Dit is godslastering. Wil jy sê dit is geen sonde: dié vuil en lae ding wat jy begaan het nie!’ Dit is of hy haar in die grond wil kyk.
| |
| |
‘Nee, oom,’ sê sy naief, maar met stille krag, ‘ek het nie sonde gedoen nie. Ek het niks gedoen wat vuil of laag is nie. Waar ek verkeerd geloop het, soos u sê, was dit net uit liefde, en Christus het self gesê dat liefde meer is as alles.’
Oom Sakkie het opgestaan. So 'n reaksie het hy nooit verwag nie. Hy het klaar sy moralisasie uitgedink en gepeins hoe nadruklik hy dit by Johanna sal inhamer tot die trane kom. Maar wat ontmoet hy nou hier? Dis ongelooflik. Hy gaan voor haar staan en beduie met sy voorvinger: ‘Johanna, het die duiwel jou nou al so diep in die verderf ingesleep? As my dogter moet gedoen het wat jy aangevang het, dan het ek haar by die deur uitgeja, maar jy is te dom om te verstaan hoe laag jy gesink het. En dan sê jy nog dat jy nie sonde gedoen het nie en jy sleep nogal Christus se naam daarby. Het jy in jou lewe soiets gehoor?’ Hy kyk haar bestrawwend aan; sy oë het 'n gedempte vuur van wraaklus, omdat hy die astrante dogter nie kan buig soos hy hom dit voorgestel het nie. Hy wil haar laat ingee, laat bely, hom smeek om haar te help red uit die ondergang wat haar bedreig.
‘Val op jou knieë, Johanna! Bid God dat Hy jou moet vergewe vir die vreeslike misstap wat jy begaan het. As jy vannag moet sterf, gaan jou siel reguit verderf-toe. Vir ewig sal
| |
| |
jy brand en gepynig word. Jy moet nag en dag bid ...’
‘Oom, God sal vergewe as ek verkeerd gedoen het. Hy alleen weet wat in my hart omgegaan het. Hy weet hoe ek alleen gely het. Ek het nie vuil of lae dinge gedoen nie, oom, en die Here weet hoe opreg my liefde ...’ haar stem tril effens, maar voor sy nog kan verder praat, slaan sy woorde soos geselhoue op haar: ‘Jou liefde? Jy noem God se naam by al dié lae smerigheid wat jy aangevang het ...’ Maar verder kan hy nie praat nie. Aan sy arm voel hy 'n vaste hand, en toe hy omkyk, brand daar twee oë so fel en wraaksugtig in syne dat hy 'n lam gevoel in sy bene kry.
‘Waar kom jy vandaan, Isak Lombard,’ sê oom Jaap en sy woorde is swaar van emosie, ‘om so met my kind te kom praat? Jy matig jou aan of jy in die plek van God optree om haar te kom bestraf. Waar kom jy vandaan om van “lae smerigheid” met dié arme kind te praat wat in haar onskuld in die moeilikheid gekom het?’
Oom Sakkie draai hom om. Dit is of hy terugskrik vir die hele ontaarding wat in hierdie huisgesin aangaan. Dat selfs 'n vader sy sondige dogter kan bystaan waar sy bestraf en tot inkeer moet gebring word, is treurig verby. Hy vat opeens sy hoed. ‘Goed,’ sê hy ‘ek het my plig as diaken gedoen. My kinders ...’
| |
| |
‘Man, loop hier uit,’ sê oom Jaap buite homself van woede; ‘jou dogter gedra haar op plaasdanse só dat sy al die laaste een se spot is. Maar dit is niks, solank as daar net niks verkeerd loop nie!’
Dit lyk of Sakkie vir oom Jaap wil te lyf gaan.
‘Dit sal jy my bewys! Ek sleep jou voor die hof - smerige ou spul wat julle is.’
‘Doen dit gerus,’ sê oom Jaap, nou oor al sy bedrukte skaamte heen; ‘dan sal jy meer dinge hoor wat nou net agter jou rug gesê word!’
'n Deur knal toe en perdepote klap driftig daarbuite.
‘Kom, my kind,’ sê oom Jaap liefderyk vir sy dogter en sit sy hand om haar skouer, so teer en beskermend dat sy daaroor kan huil, ‘jou pa en jou ma sal vir jou sorg. Ons sal jou nie verder laat verneder nie.’
En hy is bly dat hy dit gesê het, want dit kom soos 'n bevryding, dit verlos hom uit die stroewe eensaamheid wat sy siel so terneergedruk het. Nou weet hy wat die werklike oorsaak van sy lyding was.
| |
III
Oom Sybrand het in die laaste tyd altyd 'n ekskuus om dorptoe te gaan. Vroeër het hy net sy kar ingespan as dit hoogs nodig is, omdat dit sy eerlike mening was dat, as 'n boer
| |
| |
lui is en al die moeilike werk op sy plaas wil ontwyk, dan ry hy twee-, driekeer per week dorptoe vir allerhande beuselagtigheid - as dit nie vir dringende pos is nie, dan is dit vir 'n sakkie suiker of 'n bottel lampolie.
Nou ontdek hy self in die laaste tyd allerhande denkbeeldige regverdigings vir sy begeerte om dorp-toe te ry, en in sy gedagte probeer hy om die werklike dryfveer te ontwyk. Sy karperde staan nou dag-en-nag in die stal; hy kom kyk elke more met 'n kritiese oog of hulle maanhare glad uitgekam is en of hulle velle blink onder die borsel se bewerking.
Hy self ondergaan 'n belangrike verandering. Dit is of daar uit sy lewe wat so vas en stewig met die jare gegroei het, plotseling jong lote opskiet. Vir jare het hy elke more net vlugtig in die spieël gekyk as hy hom gewas het; dan het hy vinnig met die kam deur sy harde hare gewerk en sy gelaatsversorging was klaar. Nou gaan hy op die stoep op 'n veldstoel sit, neem die skêr en handspieëltjie versigtig, en langsaam knip hy sy baard met die liefde en oorgawe van 'n egte kunstenaar. Vir die afgelope twintig jaar het hy nog dieselfde paar ‘kerkskoene’, wat so selde aangetrek is dat hulle die jare se gewig goed gedra het. Nou word hulle gereeld onder die bed uitgehaal; sy klere word deur die meid so goed as dit kan met bitter koffie nat gesprinkel en skoon geborsel. Hy het net die
| |
| |
een pak ‘dorpsklere’, en dit kry in die laaste tyd meer werk as wat dit ooit moes verduur.
Hy staan soos gewoonlik nog vroeg op, maar hy is ongedurig. Sy ou vaste, sekere gang oor die plaas het ondergegaan in 'n senuweeagtige vat-hier-en-los-daar. Hy het gedag dat die rus ná sy vrou se dood diep in sy lewe sou neersak, dat hy met die groot opbouingswerk sou kon begin, sy hele plaas verander en omskep volgens die uitgewerkte planne wat hy al jare in sy hoof omdra, maar nou het 'n nuwe jeugdrang hom beetgepak en dit bring kabbeling en onrus waar daar reeds die stilte van diep kuile was; dit bring onsekerheid en opgejaagdheid waar daar vroeër 'n vertraagde ritme en helder afgelynde skemas gekom het.
In die nag lê hy wakker met sy hande agter sy hoof en dan dink hy na oor die weg waarlangs hy geklim het. 'n Swaar skuldgevoel druk hom in die eensaamheid, en hy wens dan dat dit wil lig word dat die dinge weer hulle vaste, onwrikbare vorme kan aanneem. Nou skrik hy, soos iemand wat baie gespanne is, as die huis se dak 'n lang kraak gee. Dit is of daar iets in hom aan stukke spring, of sy gekonsentreerde gedagtes hulle ewewig verloor in die nagtelike verskrikking. Hy dink aan 'n vrou wat eensaam dag-vir-dag in die huis gewerk het. Die helderheid van sy voorstelling gaan in die nagstilte tot 'n grieselige werklikheid oor, want hy hoor
| |
| |
haar loop. Hy is bang dat sy elke oomblik by die kamerdeur kan inkom, maar nou nie meer die verdrukte, swygsame vrou van vroeër nie, maar 'n wese met die bo-menslike krag van die dodes, met die onaardse verskrikkingsmag van 'n gees wat in die lewe vertrap is en nou ná die dood nie kan rus nie, maar na herstel, kompensasie, wraak soek deur 'n oneindig herhalende besoek aan die terrein waaraan hulle as lewendes verkneg was.
Dit is dan dat die man met die vaste senuweegestel die kers opsteek en bly is as die lig vertroulik oor die voorwerpe om hom vloei. Hy het 'n mense-wese nodig om die eensaamheid vir hom te help oorwin. Ja, die dodes moet mens vergeet; as hulle begrawe is, is hulle weg vir altyd; net so dig en dood het hulle geword soos die aarde waarin hulle lê.
Die somernag se opstanding kom swaar deur die raam; dit is die geur van koel-fris wilkerbome wat oor gladde gras-omsoomde water hang; dit is die ruik van die natgereënde nagvelde en vogtige vlei wat vrugbaarheid in die lug laat opdamp; dit is die geur van somerdae wat ryp word, van swaar beloftes wat in die vrugte lê, van hoë, fris, jong gras met pluimerige sate, van die heerlike aarde wat praat met sy diepste instinkte. So wag hy tot die dageraad ver agter die bulte 'n wit streep bring. Dan word sy gevoel anders; die nag se bygelowigheid het afgedaan
| |
| |
en die lewe word gevul met lig en kry bekende lyne en gestaltes wat vertroue en pligsgevoel opwek.
Maar die son sit nog nie baie hoog nie en dan bekruip die begeerte hom om dorptoe te ry. Dit is 'n drang wat hom uit sy planmatigheid van vroeër ruk, en dit verontrus hom, want hy voel vaag die gevaarlike daarin; tog is dit sterker as sy redenasie en dit dryf hom teen sy vasgesakte lewensgewoonte in.
As hy sy werkies in die dorp klaar het, laat hy haastig inspan en sê luid-op vir die winkelier dat die boerdery wag en dat hy nog iets ‘onder in die dorp’ moet oplaai. Hy vra gereeld of sy vrou se grafsteen nog nie gekom het nie, alhoewel hy weet dat dit eers oor 'n maand afgelewer moet word. Soos 'n man wat nie 'n oomblik kan wag nie, klim hy in die kar, waai die peits skerp oor die perde en ry tot ‘onder in die dorp’. Daar hou hy maklik vir 'n uur stil voor die armmoedige huisie waarin Maggie nou weer by haar ouers woon. Met die lompheid van 'n ou wewenaar sit hy daar, heeltemal doof vir die skerpste kritiek, en doen dinge wat vir hom vroeër stuitlik en dronkmansagtig sou gelyk het.
| |
IV
Die twee bruines word net buitekant die dorp bietjie bymekaar gevat, die peits fluit bitsig oor hulle heen en met gekromde nekke en
| |
| |
voorpote wat in die lug wil klim, kom hulle by die hoofstraat in dat die kar se wiele dril. Die mense in die straat kyk nuuskierig na die wakker diere wat hulle pote uitskiet met 'n vuur wat tog deur reëlmaat getemper is. ‘Dit is weer die ou wewenaar wat by die jong vrou aanlê; hy het nie verniet haar man vermoor nie!’ word op onverantwoordelike wyse gesê, maar al die vyandige en spottende blikke skrik oom Sybrand nie vir 'n oomblik af nie, want die mag wat hom voortstu, is sterker as alle maatskaplike oorwegings of menslike bemoeisug.
Bo in die straat, naby die poskantoor, bring hy die kar by die draai om dat dit vir 'n oomblik op een wiel loop, en hy dreun onder die peperbome deur en hou, met 'n vinnige pluk van die leisels, voor die pastorie stil.
‘Hou die perde mooi vas, Jik,’ sê hy vir die kaffertjie, ‘ek is netnou terug.’
Regop stap hy by die piepende hekkie deur, stof versigtig sy broekspype af en voel met sy hand aan sy swart dassie. Dan klop hy aan die deur dat dit hard dreun op die vreedsame stoep. Die meid neem hom na die predikant se studeerkamer toe.
‘A, oom Sybrand,’ sê die dominee, wat oom Sybrand nooit in die kerk sien nie en hom nog nooit tevore in die pastorie kon verwelkom nie, ‘ek is bly om oom hier te sien. Gaan sit asseblief. En hoe gaan dit met oom?’
| |
| |
‘Nee, meneer, dit ken,’ sê hy en vra skamerig met sy hand oor sy harde baard wat sag kraak; ‘meneer weet 'n boer het dit maar moeilik. Hy moet bontstaan van die more tot die aand.’
Sy toon het nie die hoekigheid van vroeër nie. Dit merk die dominee dadelik. Hy praat openhartig, met 'n onderdrukte behaagtoon.
‘Ja, dit is waar,’ sê die predikant, ‘baie dorpenaars verstaan nie die boer se moeilikheid nie en daarom oordeel hulle hard oor hom en sê dat hy feitlik die hele dag vakansie het.’
‘Dis waar, dominie,’ meen oom Sybrand, baie onvaster in sy uitlatings hier as op die plaas; dáár kom van self stewigheid en rigting in sy optrede as hy tussen die bekende dinge staan. Hier voel hy onvas en effens lomp tussen die boeke wat hom omring. Hy kan die onnatuurlike gevoel nie oorwin nie, en daarom wil hy die predikant maar graag na die mond praat, want dit help hom om sy ewewig te herstel, om in 'n vreemde atmosfeer en omgewing 'n deel van sy wese aan te pas, wat nou sku en agterdogtig is en versigtig eers die nuwe terrein aanvoel.
‘Ja, u weet, meneer,’ gaan hy voort en kyk die dominee met waterige oë aan, ‘ons, boere, het maar 'n eensame lewe. Ons moet maar van die more tot die aand op die land werk, 'n stukkie eet, en daar is maar min afleiding.’
‘Dit is waar,’ sê die dominee simpatiek,
| |
| |
‘die lewe op ons plase is eensaam, en mens kan baie boere nie kwalik neem as hulle 'n bietjie inkom dorp-toe nie. Oom vind dit seker ook maar baie eensaam ná oom se vrou se dood?’
‘Ja, dominie, dit gaan maar hard,’ sê hy met neergeslane oë, diep-in skuldbewus, alhoewel hy vir 'n oomblik nie weet waarom hy so bedremmeld is nie, net asof daar oor iets gepraat word waaroor mens moet swyg, net of hierdie vraag die eintlike saak waaroor hy kom, verdonkermaan en onnodig 'n ingewikkelde kleur gee.
‘Ja,’ meen die predikant, wat opvattings oor hierdie sake in dié omgewing goed begryp, ‘oom sal een van die dae seker ook weer 'n maat soek?’
Dit is of daar 'n bevrydende lig in oom Sybrand se oë kom; hy gee 'n onnatuurlike lag, wat uit 'n bedrukte gevoel losgespring het en terwyl hy sy kop nadruklik knik, sê hy: ‘Soos u my hier sien, meneer, is ek op pad na 'n nuwe vrou!’
Die predikant het praatjies gehoor, hy is gewoon aan 'n besonder praktiese soort liefdesopvatting by baie lede van sy gemeente, maar hy is tog innerlik getref deur die snelheid waarmee oom Sybrand tot hierdie besluit oorgegaan het, want sy vrou is maar onlangs eers dood. Ja, dit is ook waar, mens sou hom nooit
| |
| |
by hierdie pastorie gesien het as hy jou nie dringend nodig het nie!
‘En wie is die gelukkige?’ vra die predikant gemaak-opgewek, want hy kan die weeïge gevoel in hom nie onderdruk oor die hartelose haas waarmee die dode vergeet word nie.
Oom Sybrand gee 'n half-stuitlike lag, enigsins ru en liggaamlik. ‘A, meneer,’ sê hy met 'n triomftrek op sy gesig, ‘ou bok lus nog jong blaar!’ Hy slaan met sy hand op sy knie, val toe agteroor en sy mond is wyd oop soos hy bulkend lag. Sy duim buig suidwaarts: ‘Sy is hier onder in die dorp; meneer ken haar!’ Sy oë is nou blink en vrolik op die predikant gerig.
‘Dan is dit tog waar wat ek gehoor het,’ sê die predikant met 'n kunsmatige glimlag, bang om dié verharde ou sondaar te kwes, ‘en nou wil oom seker die gebooie kom ingee?’
‘Net so, dominie,’ sê oom Sybrand verlig en bly dat die hele besoek so maklik op die essensiële afgespits het, ‘ek sal bly wees as dominee maar Sondag die eerste gebod wil laat gaan.’
Die predikant haal 'n swart boek uit die laai. Oom Sybrand voel opeens of die trek op die dominee se gesig, die traagheid waarmee hy die boek oopslaan en die blik in sy oë net toe hy opkyk, onvriendelik, vyandig is soos van al die mense daarbuite wat hom niks gun nie, wat hom sal afslag as hulle kan, en 'n nydige trek kom om sy harde lippe; sy luidrugtige openhartigheid
| |
| |
kruip terug in die skulp van die terughoudendheid, en sorgsame afweer van die mensdom buite hom ontwaak. Sedig en streng gee hy die name op en bepaal die troudag, en daar is in hom opeens 'n sure afsydigheid van die lewe, 'n gevoel of die hele spul nie die moeite werd is nie.
Die dominee merk hoe ernstig en kort-af oom Sybrand geword het en om verbetering in die verkeerde wending aan te bring wat plotseling ontstaan het, sê hy: ‘Ek wonder so dikwels, oom Sybrand, wat 'n man soos u, wat al so baie van die lewe gesien het, van u medemens en die wêreld dink.’
Deurdat hy hom vererg het vir die predikant, het sy onnatuurlike houding verdwyn; sy ware gees duik na bo en stoot alle uiterlike belemmeringe en inperkinge vir sy uitdrukking weg en op 'n vinnige afsnou-manier sê hy: ‘Mense? Nee, meneer, moet nie oor hulle met my gesels nie, al is ek ook een! Hoe ouer ek word en hoe meer ek met my plaasdiere omgaan, hoe meer ek sien dat die diere in baie opsigte bokant die mens staan. Die mens doen laer dinge as wat 'n dier ooit kan doen. Hulle probeer dit net wegsteek, omdat hulle 'n verstand het, maar as hulle ouer word, kom die mombakkies wat onder al die mooi praatjies sit, al meer uit. Dan gee hulle nie meer so baie om om dit te wys nie. Ja, hulle is maar 'n spul diere, meneer. Ek het vir hulle gesien as daar geërwe moet word. 'n
| |
| |
Spul brakke is dan nog beter. Ek het vir hulle gesien as hulle 'n mens kan uitdruk. 'n Spul donkies by water is nog beter. Nee, meneer, u werk is anders as ons s'n. Mense wat boer, wat met die grond omgaan, word so inhalig dat hy sy eie broer sal uitkoop en hom liewers die moord laat steek as help.’
Toe staan hy skielik op of iets hom hinder. ‘Ek moet ry meneer, dankie vir alles.’
‘Wil oom nie eers tee drink nie?’
‘Baie dankie, meneer, ek is jammer dat ek so gou moet weg.’ Hy vat aan die deur se knop.
‘Dit is jammer dat u so 'n strawwe opinie oor u medemens het,’ sê die dominee en vat dié harde plaashand.
‘Jammer, dominie, maar ek is net eerlik. U ontmoet die ou spul net as hulle hulle graag mooi wil voordoen. Ek ken hulle uit lang ondervinding.’
Die predikant skud sy kop en oom Sybrand loop haastig na die kar toe. Hy is bly dat hy die moeilike ding van sy skouers af het. Hy moet maar oor 'n paar dae een van sy ouerige hamels vang en dit vir die predikant bring. Die ou het dit seker maar moeilik om uit die skuld te bly.
| |
V
Dit was 'n somerdag wat rustig soos 'n ryp blaar op die oppervlakte van 'n rimpelose,
| |
| |
helder kuil gelê het. Die berge ver weg was duidelik in die klaarte te sien met hulle opstroming in die branderige wit van die kim, en die velde met die uitgegroeide gras, waartussen stippeltjies van die grasende vee te merk is, het ontsaglik en verstild in die dalende son voor haar uitgeplooi gelê met baie kleur wat daarop ineengewewe is tot 'n fees wat die somerrykdom is.
Op die ou, geliefde koppie het sy weer gaan sit en haar hele gees en aanskouing was vol van die somer toe sy die aand, langsaam en nadenkend soos een wat baie mooi dinge gesien het, na die huis geloop het. Haar groot smart, eers so heftig en vol doodsverlange, het stadigaan deur die dae en die nagte toe sy alleen gely het, 'n dieper sin gekry, dit het geesteliker en ryper geword. Vandat haar vader en moeder op daardie middag, toe die diaken haar so verneder het, aan haar kant kom staan het, getoon het dat hulle haar nie as verworpe en waardeloos beskou nie, het die vertroue langsaam begin groei, daar het stutkrag in die bestaan gekom, die troebel droefheid het afgesak en langsaam het gereinigde ervaring oorgebly, kon sy dinge verstaan in die lewe van die mense om haar en in verhale wat sy gehoor het van menslike beproewing. Stadig het dit haar lewe kom vul soos 'n krag uit die wêreldsiel self wat eers binnevloei as al wat onsuiwer en sentimenteel is, weggesak het. Nou huil sy nie meer in die
| |
| |
eensame nagte nie, maar lê lank wakker met branderige oë en sy dink aan die verantwoordelikheid wat sy teen die lewe dra, van haar plig teenoor haar kind wat oor 'n tydjie gebore moet word.
Van daardie oomblik af toe sy kalm en eerlik aan die bemoeisieke diaken gesê het wat sy werklik voel en glo, het sy rigting gekry, uitgeklim bo die moeras waarin sy al dieper wou wegsink, en deur haar geloof aan haar eie waarde, deur weer 'n doel in die lewe te vind, het die rus stadig gekom, die rus wat blink en hoog bokant die vermoeide hang soos die somerson bo in die takke van 'n wilkerboom as jy lank onder hom lê en daarna staar; soos die vrede wat kom na 'n siekte as die moreson oor die laken kom kruip en die sieke dit oor sy hande en bors voel skyn.
Maar onder in haar gedagtes lê nog die groot teleurstelling wat soms soos 'n skerp pyn kan word: Henning se gedrag. Dan was dit tog waar wat haar ouers vir haar gesê het, dan het hulle waarskuwings nie net uit blinde vooroordeel ontstaan nie. In die voortvarendheid en doofheid van haar ontwaakte liefde wou sy na niks luister nie, was haar ouers se hardvogtigheid vir haar juis 'n aansporing om te volhard met die koppigheid van 'n eerste drif. Noudat hulle simpatiek en beskermend is, versag haar gevoel weer teenoor hulle, en noudat sy geen taal of
| |
| |
tyding van Henning kry nie, begin sy langsamerhand glo dat hy maar die wreedheid van sy pa in hom het, dat die jong, onweerstaanbare seun maar in hom dieselfde trekke van sy weerbarstige vader dra; omstandighede en die verloop van tyd moes hulle net na vore bring en uiteindelik openbaar.
Dit is dié twee beelde wat steeds veg in haar drome: die hartstogtelike kêrel met sy opregte oogopslag wat haar die middag by oom Gert met so 'n diep openbaring van sy liefde gesoen het; die rustelose, deurdrywende vryer wat haar soos in 'n storm meegeneem met sy woorde vol hese oorgawe en dwingende manlikheid. En daarteenoor is die beeld van oom Sybrand se seun, 'n beeld wat al meer vorm en vastheid kry: die hartelose, wat haar opregte liefde verraai het, die wellusteling, wat net soos sy ou stuitlike, bespotlike vader met die jong vrou nou niks ontsien nie, net dink aan homself om daarna opregte liefde en offervaardigheid te vertrap en nie meer daaraan terug te dink nie.
Sy haat oom Sybrand nou met 'n onverwagte felheid, want alhoewel sy vroeër net in hom belang gestel het, omdat Henning op sy plaas gewoon het, het al die praatjies wat in die laaste tyd van hom vertel word, vir haar 'n besonder sin en dieper verband gekry. Sy walg van die man, wat sy eie vrou so verwaarloos het en nou met die jong vrou gaan trou ná al
| |
| |
wat met die bywoner gebeur het en ná alles wat gesê is. Sy glo vas dat hy verantwoordelik was vir Buks se dood, al kon niemand iets daarvan bewys nie. Dieselfde laaghartigheid moes sy deurmaak; Henning het net dieselfde bloed in hom as dié uitgeslape ou jakkals en van sy ma se stille goedheid, waaroor almal altyd eenstemmig was, het hy nie 'n greintjie nie.
Maar ná al die hewige beskuldigings kom daar plotseling voor haar die oogopslag, die vaste mond wat vir haar so dierbaar was, en dan hoor sy haar naam noem. Dan is dit dat die stil pyn in haar brand en sy lank stil sit soos een wat net van 'n geliefde, wat pas gesterwe het, afskeid moet neem.
| |
VI
Vanaand brand die kers langs haar bed stil en vertroulik. Dit is goed om so roerloos daarlangs te lê en te weet dat die wêreld daar ver van jou af is soos 'n kwaai, gevaarlike gevangene, wat steeds dinge van haar wou afpers, maar nou vir 'n ruk veilig opgesluit is. Sy kyk na die kersvlam, so doodstil en mooi, en sy dink aan die vlam in haar wat soveel verbrand het tot dit nou stil en wit brand ná alles wat daarin verteer is.
Sy sal nooit trou nie, sy sal net lewe vir haar kind, dit opvoed om trou en opreg te wees,
| |
| |
'n slaaf van 'n woord wat eenmaal gegee is. Uit haar lewe kan hy onbelemmerd groei, want sy het afgedaan met die selfsug wat deel is van die sinnelikheid. Sy sal haar pad alleen en moedig loop, haar kind die bitter weg wat voorlê vir iemand wat buite die huwelik gebore is, help ligter maak - om dan haar taak as afgedaan te beskou.
'n Vakerigheid kom oor haar en sy blaas die kers dood. En noudat die stil brandende vlam weggeblaas is in die nag, voel sy opeens bang, bang vir die vreeslike gebeurtenis wat eersdaags vir haar wag. Nou voel sy weer so duidelik hoe bitter dit is om hierdie paadjie alleen te gaan, om jou gedagte toe te seël en regop voor die mense te loop sonder om gedurig grondtoe te kyk. Ja, daar begin dit nou weer - die bevreemdende beelde. Daar staan hy met sy hare blink in die son; hy het net uit die kloof te voorskyn gekom.
‘Johanna!’
Sy hoor dit nog so duidelik; daardie stemklank, so bly en vol ingehoue emosie, sal sy haar lewe deur nooit vergeet nie.
‘Johanna!’ Die klank draal met 'n ontstellende werklike toon in haar geheue sodat sy onwillekeurig so diep sug dat dit luid in die kamer opklink.
‘Johanna!’
Nou word sy bang vir die werklikheid van haar
| |
| |
eie lewendige voorstelling; hulle sê dat mens kranksinnig wil word as jy nie meer die onderskeid tussen jou voorstelling en die werklikheid kan vat nie. Haar hart hamer in haar keel, want sy hoor duidelik sagte kloppies. Sou dit dan spook in die kamer? Sy voel dat haar verbeelding met haar op hol slaan en vas druk sy die laken om haar. Daar is dit weer - die sagte geklop. Sy dink verward aan 'n voorbode, aan 'n geliefde se dood wat op dié bo-werklike manier voorspel word. Sy kan hoor hoe haar hart hamer. Daar is die geklop nou harder en driftiger en duidelik hoor sy: ‘Johanna!’
Sy spring uit die bed; haar bene bewe onder haar. Sy is te bang om die kers op te steek. Sy druk met albei hande op haar hart en wag. Sy vrees dat sy flou sal word, want dit word lig in haar hoof en die swart van die nag ruk aan haar bewussyn.
‘Johanna! Maak oop die venster. Dis ek - Henning!’ Sy gryp aan die bed vas. Oor haar vreesgevoel kom 'n verskriklike dierlike blydskap. Sy waggel vorentoe, sukkel om die stram houtvenster op te skuiwe. Twee hande, so bekend, vat langs hare en skuiwe dit hoër. Dan kruip hy daardeur en vir 'n oomblik is dit of sy van die onmenslike vreugde wat eintlik 'n pyn is, kan sterwe in sy arms.
Dit duur lank voor hulle praat. Hy druk haar maar net teen hom vas en voel haar liggaam
| |
| |
ril van opwinding. Hy voel die trane op haar wange, want sy lag en sy huil deurmekaar. Naderhand vra sy: ‘Is dit waar?’ Al wat geweeg het aan haar gedagtes en aan haar lewe, het opeens diep weg geval. God, hoe is 'n vrou se hart tog? Sy voel so lig of sy kan swewe; dit is of al die steun waarna sy vroeër gesoek het, nou hier digby haar is, vas soos 'n berg. Die eensame dae en verlate nagte word nou mooi net terwille van hierdie oomblik, want nou was hulle nie tevergeefs nie. Hulle was nodig om hierdie vreugde so vol, so ondraaglik ryk te maak dat mens maklik in dié oomblik kan sterwe.
En nou begin hy saggies te vertel en te vra. Sy verwyt hom nou niks, en al haar wraakgedagtes wat in haar allenigheid teen hom opgebou is, is nou net so onwaar soos die onsamehangende gebeurtenisse in 'n koorsdroom. Hy vertel dat hy 'n ruk by 'n boer gewerk het ver van hierdie omgewing af en dat hy daarna met 'n vriend die Kalahari in is, waar hulle weinig nuus van die wêreld daarbuite gekry het. Daar in die begin het hy 'n paar dik briewe aan haar geskrywe, maar geen antwoord gekry nie. By sy terugkeer het hy van sy moeder se dood verneem en hy het ook alles van Johanna se ellende gehoor.
Sy luister of die lotgevalle van haar eie lewe daar deur iemand anders op meeslepende wyse
| |
| |
vertel word. Ja, hy en dié kêrel het 'n goedkoop plaas op die grens van die Kalahari gekoop. Hy wou eers alles in orde bring en haar dan kom haal. Hy het maar nie weer geskrywe nie, want hy het geweet al sy briewe sou vernietig word. Hy het geweet sy sal trou bly tot hy haar kom haal. Met vier persone het hy net ná sy vertrek boodskappe vir haar gestuur. Of sy dit gekry het?
Waarom luister sy nog na al dié onnodige uitleg? Wat beteken al die dinge van gister as hulle moet opweeg teen hierdie saam-wees, die oorweldigende mag van die oomblik? Sy hoor sy vaste stem, sy beslistheid - die seunsagtige in hom is dood net soos die skugter meisie in haar. Hulle het nou saam 'n weg om te bewandel, hulle lewens heg ineengegroei en deur verdriet geheilig.
Kort-kort sê sy net: ‘O Henning, ek is so bly. Jy weet nie.’ En sonder enige kleinmenslike verskriktheid vir die praatsieke wêreld daarbuite, sê hy: ‘Ek gaan alles reg maak vir ons twee se troue. Ek hoop ek kan net vir jou iets vergoed vir al wat jy gely het, Johanna.’ En dit is in die uitspreek van haar naam dat sy weet hoe sy liefde vir haar net so diep en ongeskok gebly het soos lank gelede.
| |
| |
| |
VII
Oom Sybrand en Maggie sit by die tafel, waar hy en tant Betta en die kinders vroeër gesit het. Dit voel vanaand vir hom so vreemd en onwerklik dat daar vroeër 'n ander lewe bestaan het, toe hy nog veel jonger was en die kinders se stemme baie hard in die stil huis geklink het.
‘Ek hoor dat Henning terug is,’ sê Maggie hard en hy skrik regop soos een wat baie diep in gedagtes versink was, soos 'n ou man wat nie meer die vinnige reaksie van die jeug het nie. Sy vererg haar vir dié oumanagtigheid en daar is 'n trek van minagting om haar mond toe sy swaar vuis magteloos op die tafel val en hy gedwee ‘ja’ antwoord. Oor Henning wil hy nie praat nie, want vandat hy verneem het dat sy seun terug is in die ou omgewing, het 'n onkeerbare verlange in hom opgekom om die kind weer te sien, hom uit te vra waar hy was, deur Henning iets van die ou lewe te herstel wat vir hom nou al begeerliker lyk. Hy sit met sy kop voor sy bors; hy weet nie wat om vir sy jong vrou te sê nie. Die geselskap is skoon op. Die stilte word 'n vyand. Dit was ná die eerste paar dae al duidelik dat daar skaafplekkies kom, en stadigaan duik hy op uit die roes waarin hy was en hy word bewus van die moeilikhede wat vir hom voorlê. Nou is daar weer 'n vrou se stem in die huis, maar dit bring 'n hele verande- | |
| |
ring in sy bestaan, dit is soveel anders as wat hy verwag het. Sy eerste vrou is gebuig deur sy oorheersende geaardheid om stil en ingetoë, gedurig op haar plek te wees, haar werk te doen en hom sy gang te laat gaan.
Dit is duidelik dat Maggie baie te sê wil hê in die huis. Sy vra noukeurig alles uit oor sy besitting, en dit kan hy eenvoudig nie verdra nie, want al sy planne, al sy eiendom gee vir hom 'n heimlike plesier, dit is syne alleen; daaroor kan hy, afgesonder van die grypsugtige mensdom, beskik soos hy wil. Maggie het hom net ná die troudag verplig om die helfte van die losgoed aan haar te bemaak, want volgens die eerste testament word Boskloof ná die vader se dood, Henning se eiendom. Annie sal dan 'n duisend pond kry as al die vee en ander dinge verkoop is. Dit is nou verander, omdat die helfte van die losgoed aan Maggie bemaak is. Maar sy is nie tevrede nie. Sy kan gedurende die laaste paar dae oor niks anders gesels as oor die nuwe testament nie. Sy wil hê dat hy dit so moet verander dat sy al die losgoed kry. Nou begin sy weer.
‘Hoeveel geld het jy in die bank?’ vra sy, kyk hom onder haar ooglede deur aan, terwyl haar regterhand langsaam oor haar voorkop vrywe.
Oom Sybrand frons sy voorkop geweldig; binne in hom is daar opstand, dreig daar 'n
| |
| |
begeerte om af te snou soos hy altyd gewoon was, kom sy afweer-neiging op sodra daar oor sy besittings gepraat word.
‘Ek weet nie,’ sê hy en trek sy skouers op.
‘Wat se man is jy dan wat van jou geld in die bank niks weet nie,’ sê sy op die bemoeisieke manier wat hom so opvlieënd kan maak.
Maar hy bedwing hom, want haar jeug en haar skoonheid oorheers nog sy gedagtes en vriendelik antwoord hy: ‘Ek moet eers nagaan; mens kan nie so dadelik sê nie.’
‘Is dit darem 'n duisend pond?’ vra sy en sit haar wit hand op sy knie.
Daar stoei twee groot kragte in oom Sybrand: sy drang na die jong vrou en sy vrekkige, uitsluitlike beskerming van sy besitting. Sy hele lewe het hy feitlik gewy aan ‘sy goed’; hy is daaraan vasgegroei soos 'n mossel aan 'n klip. Hy wil los maar kan nie, en as hy los, dan is 'n deel van sy wese dood. Daarom antwoord hy nou liewers niks, maar sit net blaserig en asem haal. Sy trek haar hand terug van sy knie af.
‘Maar, mens, wat makeer jy?’ snou sy hom toe; ‘dit lyk vir my ek mag nie 'n vraag vra oor ons goed nie, dan dink jy ek steek my neus in jou sake! Dit is tog my goed net sowel as joune, en waarom mag ek nou nie weet hoe dit staan nie? Een van die dae is jy dood, en dan is ek nog nie goed op die hoogte nie.’
| |
| |
Die laaste paar woorde steek hom soos 'n mes in die nek. Hy staan driftig op en sê: ‘Ek moet gou sorg dat daar 'n slagding vir more is.’ Met vlammende oë kyk sy hom agterna, maak haar voorskoot los en skiet hom woedend oor die tafel heen net om uitdrukking te gee aan haar wrewel, en sterk en bewus van haar krag staan sy op en kyk, terwyl haar mond suur getrek is, deur die venster.
Oom Sybrand loop met langsame treë na die kampie waar hy die ou-ooie hou. In die weste lê 'n blou wolkbank; dit is 'n egte nasomerweer, wat vir die afgelope paar dae al in die middag kom en met veel weerligstrale en swaar reëngeruis oor die plaas trek. Die blou weer, die haastige blitse oor die rante van die plase wat doer ver op die vlakte verlore lê, bring 'n vreemde beklemming in hom. ‘Een van die dae is jy dood...’ Dit slaan swaar soos hamerslae op sy hoof neer. Die wêreldvreemdheid wat hom dof en weemoedig laat voel by die aanskouing van die weer, ontsaglik en dreigend, op die horison, druk hom swaarder en swaarder. Vroeër was sy weerstand tog sterker. Sy knieë knik effens onder hom. Ag ja ... Sag spoel die reënwind uit die verte teen sy hete gesig aan. |
|