| |
| |
| |
Hoofstuk VI
I
Daarbuite waai 'n kou winterwind. Miswolke het vroeg vanmiddag in die suide verskyn as teken van 'n strawwe nag wat voorlê. Die meid het 'n vuur in die stoof aangepak en toe het sy geloop sonder om vir die baas naand te sê asof sy bang is dat hy haar nog meer werk sou gee. Hy het self mistroostig twee eiers in die pan gegooi, dit kliphard gebak en nou sit hy met die half koudgeworde kos en 'n stukkie brood, wat deur die bywoner se vrou vir hom gebak word, langs dieselfde tafel waar sy vrou en seun nog 'n tydjie gelede ook gesit het. Ja, nou is hulle weg, maar kort-kort kan hy hulle in sy verbeelding sien, werklik, asof hulle nog daar is. Die sipresbome daarbuite ruis aanhoudend in die wind en reëndruppels kom nou en dan teen die venster plak en ril daar in die wind soos lewendige wesens wat in die koue buite alleen gelaat word. Hy het die eiers en brood vinnig geëet en drink sy koffie wat koud en naar, met die slierte room bo-op, oor sy lippe kom en hom vul met afkeer vir voedsel, vir sy eie dorre lewe.
Dit is vir hom vanaand kompleet of hy in 'n eensame kerkhof begrawe is, dat niemand iets
| |
| |
vir hom omgee nie, dat hy, verworpe, nog net omgewe is deur boomgeruis en die koue winternag. Hy kon nooit dink dat sy vrou so 'n gewigtige rol in sy lewe speel nie. Sy het stil haar weg gegaan, hy het haar nooit geraadpleeg nie, haar alleen gelaat, maar sy was tog altyd in sy lewe aanwesig, sy was vasgegroei in sy bewussyn, en die oomblik toe sy dood is, toe haar liggaamlike aanwesigheid uit die huis verwyder is, was dit of 'n deel van sy geestelike bestaan soos 'n stut uitgeslaan is, was dit of daar iets in hom half geword het, was dit of 'n deel van sy lewe ingesak het, saam met sy vrou begrawe is. Ook die verlies van sy seun het hom die groot gemis meer laat voel as wat hy aanvanklik gedag het, maar hierdie gebeurtenis laat hom na of hy 'n ernstige siekte gehad het en nou, onvas en uitgeput, langsaam sal moet herstel. Hy laat die goed net so op die tafel staan en plaas sy hand oor sy voorkop. In die kombuis hoor hy hoe die vuur uitbrand en hoe die hout kort-kort insak. Die koue kom van die vloer af in sy bene op. Hy vou sy ou, deurgeslyte jas om sy lyf vas en slaan dit so ver as moontlik om sy bene.
Teen die venster spat-spat die winterreëndruppels en die nag daarbuite is onherbergsaam, gevul met swaar boomgeruis, In hom wissel angs en verlatenheid mekaar af. Hy word kortkort met 'n snaakse vrees gevul as die bome so
| |
| |
sing in die wind, breed en weemoedig, of die heengegane dodes in die winterwind is en nou, in die verlore nag, hulle stemme laat hoor, bo-aards, diep-fluisterend in 'n taal wat die mens se hele lewe verontrus. Dan keer sy gedagtes weer na sy eie lewe terug; hy besef nou hoe alleen hy is, asof die genadelose wêreld hom uitgewerp het, asof hy in 'n donker gevangenis sit en wag, sit en wag op 'n more wat nie meer sal kom nie. Kwellinge skawe teen sy gewete; hy dink aan sy vrou, hoe eensaam en sonder afwisseling sy in hierdie huis gearbei het. Waarskynlik ken sy nou sy gedagtes - waar sou sy wees? En sy seun? As hy nog hier was sou die huis nie so dood, so 'n graf gewees het nie. Die boomgeruis sing deur sy gedagtes; ja, dit is die stem van die dodes wat bedrieg, verwaarloos, verneder is. Hulle kom terug, hulle klop saam met die reën teen die ruite, hulle voetstappe is in die huis, hulle kla in die wind en smeek in die bome; hulle is in die nag, in die donker ruimte; hulle is dood en weg, en tog is hulle in die winterwind en hulle klop aan die gedagte, die gewete, die gevoel. Hy trek sy jas vaster om hom. Ja, hulle sug teen die ruite, hulle is nou oral, hulle stem is yl, fluisterend, 'n magtige geruis en geroep na die lewendes.
Hy staan op en grendel die venster vaster. More as die son weer skyn, sal alles vaster en op hulle plek staan. Sy senuwees is nie goed nie.
| |
| |
Hy gooi vir hom 'n bietjie lewensessens in en slaan dit weg. Hy het altyd pal gestaan; nou moet hy nie wyk nie. Sy boerdery wag vir hom om te lei en bevele te gee.
Hy steek sy lantern aan, blaas die kers dood en toe loop hy in die koue nag uit om na die lammerooie te kyk. Die wind sny koud om hom. Met lang treë gaan hy tot by die kraal, terwyl die lantern se lig 'n klein swaaiende kringetjie om hom trek. Vier ooie het net gelam; hy neem die klein, verkluimde diertjies onder sy arm en loop huistoe. In die kombuis lê hy hulle onder sakke neer. Hy sal later weer moet gaan kyk. Hy sit die agterdeur se werwel op. Die kontak met die lewende diere, die klein lammertjies wat kortgelede in die wêreld gekom het, het sy lewensgevoel verwarm, hom meer verbinding gegee met die aarde. Nou gly dit al weer van hom af, want terwyl hy uittrek, kom die stem van die wind weer; dit fluit deur die skeure. Die meubels oud en dele van sy lewensfondament, staan glimmend, maar ook in hulle is 'n gees. Die verlede klop sag daaragter; dit is in alles; dit is in die spieël, die lakens, die muurtekste. Ja, die dodes kan nie rus nie. Hulle weeklaag in die winterwind en ween om 'n verlore lewe.
Hy lê en laat die lantern maar langs hom brand. Lewe hy nog of is hy al eeue gelede begrawe?
| |
| |
| |
II
Buks het 'n moeilike dag agter die rug. Vandat oom Sybrand se vrou dood is, ken die ou man geen rus meer nie. Hy wil hom behoorlik dood werk. Vandat die dag lig maak daar in die ooste tot mens saans nie meer voor jou kan sien nie, duur dit so voort. Dis draadspan, slap draad weer styf trek met die draadmasjien; klippale wat effens skeef staan, weer reguit inplant; dorre stukke hout uit die bome saag; die fonteinvoor skoonmaak, wat 'n nare, koue werk is; rieme brei; die huise pleister; skape deur soek vir brandsiek - as die een ding klaar is, begin hy met 'n ander.
Buks gee nie om vir die werk nie, maar dit lyk vir hom eerlikwaar of 'n klomp van die werk agterstevoor is as jy net goed daaroor nagedink het. Hy verdra nie halwe werk nie, en hy weet dat oom Sybrand vroeër ook nooit 'n ding twee maal oorgedoen het nie, maar nou is dit of iemand vuur onder hom maak. Gedurig moet die ou in beweging bly. As hy net vir 'n rukkie moet gaan sit, dan word hy ongeduldig en dan moet iets anders weer aangepak word. Hy het by een van sy kampe 'n stuk draad laat span net waar dit aan die saailand sny. Toe alles klaar was, het hy tot die volk se groot verbasing vir hulle gesê dat al die drade weer losgemaak moet word, want dit sal baie beter wees om sifdraad
| |
| |
daar te hê, aangesien die hase so lastig is net so gou as wat daar 'n groenigheidjie op die land verskyn! Hy het 'n ou ry kweperbome in die tuin met vreeslike gesukkel wortel en tak laat uitroei; die grond is mooi reg gemaak en bemes vir 'n nuwe laning, maar die stokke het 'n week gestaan toe hy besluit dat hy liewers vyebome daar wil hê, en toe die vyestokke 'n paar dae blou en lewenloos daar gepryk het, het hy gesê dat hy sy gedagte goed laat gaan het en hulle liewers onderkant die dam wil plant waar daar baie nattigheid is, en dat die kweperstokke maar weer daar geplant kan word!
Buks is 'n swygsame en geduldige man, en hy het nooit vir een oomblik teengepraat as oom Sybrand met sy omgooiplanne begin nie, maar terwyl hy nou met sy hande op sy rug na die huistoe stap en 'n skerp pyn in sy rug voel, wonder hy wat dit met oom Sybrand kan wees. Hy soek nie na dieper oorsake nie, maar is net verbaas oor die verandering in die optrede van die presiese boer. Dit moet vir hom ook maar baie eensaam in die huis daar oorkant wees, want daar kom nooit 'n mens nie. Hy wonder darem waarom oom Sybrand se dogter nie maar hier kom bly nie. Dit sal tog vir hom baie aangenamer wees. Die seun sal seker nie meer terugkom nie, want niemand weet waar die kêrel nou is nie.
Die lig van sy woning lok gesellig deur die
| |
| |
venster, en tog is hy nie baie lus om daarheen te gaan nie, want sy vrou is teenswoordig so stuurs en vyandig teenoor hom dat hy, vandat hy sy voet in die huis sit tot hy weer daar uitloop, omtrent net verwyte, skimpe en slegverbloemde beledigings hoor. Sy is met niks meer tevrede nie. Op die vorige plek waar hulle gebly het en waar hy die groot teenslag gehad het, het sy hom daagliks gedrywe en gedwing. Niks wat hy met liefde en sorg vir haar gedoen het, het sy in die minste waardeer nie. Ander vrouens was altyd duisendmaal beter daaraan toe as sy. Hulle het lekker, gesellige huise; sy moet maar voor die outydse stoof sukkel tot haar oë bloedrooi en haar hande amper gerooster is. Ander mense het ordentlike meubels, maar mens voel skaam as iemand by hulle kom. Kyk hoe lyk ander vrouens as hulle dorptoe ry, en sy het nou al die ou groen rok met die krale op die bors vir meer as 'n jaar! Haar klagte en verwyte het nooit 'n end nie; in sy geselskap is sy altyd nukkerig, ontevrede en vol griewe oor haar ‘kwale’ waarvan hy dan nooit notisie neem nie, maar as daar 'n jongerige man aankom, is al dié triestigheid meteens vergete en dan is sy opgewek, praat met 'n gemaakte stem wat hom vreeslik verbaas; sy het dan draaie en bewegings in haar hande en lyf wat hy nooit by ander geleenthede sien nie.
Met 'n sug staan hy sy swaar skoene voor die
| |
| |
agterdeur en skoon skraap. Dan loop hy na binne en groet haar met 'n sagte, bedrukte stem. Sy antwoord nie daarop nie, maar sê net bitsig: ‘Mens, maak tog die deur agter jou toe, die wind is al hier op my, en ek is vuurwarm gesukkel in dié ou nes van 'n plek.’ Hy gaan langs haar staan en voel 'n begeerte in hom opkom om, ná die werk daar op die oop lande, vir haar teen hom vas te druk, haar warmte teen hom te voel. Maar hy sien te duidelik die afwerende van haar af kom. Hy merk die trek om haar mond wat altyd die duidelike teken van haar misnoeë is. In haar regterhand het sy 'n vurk en daarmee bewerk sy die vetkoeke in die pan. Die sissende vet spring daaromheen in klein pyltjies rond en Buks voel lus om die opgestapelde bruin hopie in die bord, naas die pan, by te dam, want hy is geweldig honger; hy is een van dié maer, sprinkaanlyf-mense, dink Maggie toe hy die vetkoekruik so met wellustige neusgate opsnuif, wat gedurig net aan eet dink, alles verslind wat voorkom en tog nooit vet word nie.
‘Hoe lyk dit dan, ou vrou, wanneer eet ons? Ek is rêrig honger.’
Sy draai haar nydig na hom toe en sê: ‘Kyk, hoeveel keer moet ek vir jou sê ek is nie jou ou vrou nie; ek is nog nie tagtig jaar oud nie.’
Hy kyk haar verslae aan en gaan by die tafel sit. Netnou kom die vetkoek en die lekker
| |
| |
warm koffie. Hy weet dat sy vrou maar swak kos kook, dat sy gladnie daarvan hou nie, omdat dit haar vel bederwe en haar hare altyd na kos en rook laat ruik, maar vanaand is hy met enigiets tevrede so honger voel hy. Hy het net 'n vetkoek gevat of die maer hand met die plat naels skiet weer vorentoe om 'n ander een te neem. Sy kyk met minagting na sy vraterigheid en sê oor 'n rukkie: ‘Hoe lank moet ek nou nog vir die ou siel hier oorkant brood bak?’ Hy staar haar aan met sy uitdrukkinglose koei-oë, sy mond blink van die vet. Sy voel lus om hom so dwarsweg 'n taai klap te gee.
‘Toe maar,’ sê sy met 'n snou, ‘gaan maar aan; daar is nog vetkoek oor.’
Nou het hulle baie min vir mekaar te sê, en ná ete gaan hulle maar lê in die slaapkamer met sy dik, koue mure. Dit duur nie lank nie of haar man slaap vas; hy gee lang saagsnorke, sodat sy kort-kort aan hom moet stamp en sê: ‘Wat snork jy so vreeslik, mens?’ Dan is dit vir 'n rukkie stil, tot hy weer onder uit die slaapdieptes met die rukkerige snorkgeluide begin.
Dit is nou al 'n paar nagte dat dieselfde ding haar hinder. Daar is dit nou weer. Sy hoor duidelik hoe die agterdeur oopgaan, dan kom daar iemand met 'n stampende kierie in. Oor 'n rukkie hoor sy hoe koppies en borde van die rak gehaal word. Dan is dit vir 'n rukkie stil en die geluid kom na die sitkamer toe. Sy kan duidelik die
| |
| |
tampende kierie daar hoor; dan 'n rondtasbeweging of 'n hand die goed afstof. Sy hoor 'n sagte roering soos van 'n bors wat swaar asemhaal, soos van 'n oumens wat sukkel om sy werk te doen. Dan kom die kappende kierie duidelik soek-soek na hulle kamer se deur toe. Sy hoor 'n hand aan die knop vat en sy gee 'n vreeslike skreeu dat die huis weergalm. ‘Steek op die kers! Steek op die kers!’ skreeu sy. Buks is deurmekaar, vlie op en tas onnosel teen die muur rond. Naderhand brand die kers, flou en geheimsinnig.
‘Wat is dit?’ vra hy en gee 'n lekker snorkgaap.
‘Dit spook hier. Hier loop een in die huis rond!’ sê sy en haar gesig is bleek. ‘Gaan kyk!’ Hy neem die kers en met sy wye, rooi flennieonderbroek gaan hy, kyk oral rond, sonder enige vrees, want hy besit min verbeelding. Hy kom terug, gee weer 'n lang gaap wat sy mond lelik skeef trek. ‘Nee'k, hier is niks.’ Hy kruip weer genoeglik onder die kombers in.
‘Laat die kers maar brand,’ sê sy. Hy sluit sy oë en binne 'n paar oomblikke saag hy weer die stilte stukkend. Met groot oë lê sy na die dak en kyk.
| |
| |
| |
III
Dit gaan swaar met oom Sybrand se boerdery, want hy merk nou eers duidelik wat Henning se hulp vir hom werd was. Hy staan elke more op net soos die dag breek, maak dan vir hom 'n bietjie koffie en gaan dadelik uit die huis asof iets hom jaag, asof hy 'n beklemmende naggevoel van hom deur die fris morelug wil verdrywe. Nooit is die lewe vir hom soveel werd as hierdie tyd van die dag nie, wanneer die morekoelte opbeurend oor die velde kom en hy dit diep in sy longe optrek soos 'n verjongende krag uit die aarde self. Dit is die tyd van die dag wanneer die lewe in hom met 'n kreet ontwaak, met 'n drang om te verower, reg te plooi, haarfyn te organiseer.
Maar sy huis word vir hom 'n las. As hy daarin stap, is dit of selfbeskuldiging van alle kante na hom toe kom, of die atmosfeer wat om elke ding is, swaar gedrenk lê in verwyte wat tog nooit na die bewuste lewe opduik nie, maar soos skimme hulle geheimsinnige lewe uit skuilhoeke dreig. Tot saans laat werk hy, en as die eerste sterre al oor die velde hang, dan stamp sy skoene swaar oor die voetpad, hy eet die kou kos met lang tande en gaan lê, met dié neerdrukkende gevoel asof almal van hom weg gereis het na 'n ander, geselliger wêreld en hy hier agterbly het, half verdoem soos
| |
| |
iemand wat lewenslange gevangenisstraf gekry het. Hy wil die vaal spinnewebbe verwyder wat rondom sy lewe geweef word net soos hy hom tussen die dik mure van sy huis bevind, maar dit is haas onmoontlik, want sodra hy op die riempiesmat-stoel gaan sit, dan kom die herinneringe, wat hy nie so maklik kan onderdruk nie, en hulle weef dan om hom heen die web waarin hy onredbaar vas sit en waaruit net kragtige, onverpoosde arbeid hom kan red.
En dat hy ou Jannewarie nou bo-op alles nog moet verloor! Dit is die beste skaapwagter wat hy ooit gehad het, en al moes hy hom nou en dan bydam, al het hy hom al baie harde klappe gegee, die ou jong het nog maar steeds gebly, omdat hy hom regverdig maar streng behandel het, hy hom gegee het wat hom toekom, selfs die slae as hy verbrou het. Hy het die ou jong byna gesmeek om te bly, maar dit het geen uitwerking gehad nie. Hy weet nou wat daar skort. Die klomp bygelowige ellendelinge! Hulle vertel oral rond - hy het dit van Spantou afgepers - dat die ounooi spook, dat daar in die nag lelike dinge op die werf rond gesien word, dat daar 'n vrou besig is om skottelgoed te was in die kombuis as die jong in die more die vuur kom aansteek.
Laat hulle dan maar trap, die klomp nare, agterdogtige goed! Maar hoe hy ook al rondval, hy kan geen ander bediendes kry nie. Sy naam
| |
| |
is deur die traag-pratende kaffers wyd en syd beskinder. Hy weet dat die een vir die ander, waar hulle in hulle strooise sit of mekaar langs die pad ontmoet, op hulle omslagtige, oordrywende manier vertel hoe hy 'n mens laat werk tot jou oë wit omkeer soos 'n os s'n, tot jy na die toordokter moet gaan om ‘meestergoed’ vir jou senings te kry.
As hy trekvolk voorkeer, het hulle altyd 'n klomp ekskuse; partymaal belowe hulle om te kom, maar dit is ook die laaste sien, want sodra hulle aangeneem het, word hulle dadelik deur ander volk gewaarsku en bewerk. Oom Sybrand kan alleen maar sy magteloosheid wys deur sy vuiste te bal. Dit help hom niks. Die flukse bywoner, Buks, en hy het dit hotagter, want hulle moet nou ploeë, die beeste en skape moet versorg word - ja, wat die ergste is: die ellendige skaap-inspekteur vervolg hom tot in die verderf, want in die winter moes hy sy skape dip. Hy weet hoe die ander mense vir die arme ou inspekteur slagskape gee, hoe hy die slagvee nie kan betaal wat hy gekoop het nie en dan daarna nooit meer sy skuldeiser se skape deur soek vir brandsiekte nie. Hy sal so 'n omkopery nooit aanvang nie, en nou is die ou blikskater daarop uit om sy skape deur te soek net wanneer hy kan, tot hy eendag 'n nat pak slae sal kry. Daarvoor kan mens gerus 'n paar pond boete betaal!
| |
| |
Oom Sybrand sit voor sy deur en 'n kaffertjie hou vir hom die witgebreide riempiesvel vas. Sorgvuldig sny hy die riempies en as die vetterige, gladde vel uit die kaffertjie se hande gly, dan skreeu hy: ‘Hou vas! Wat het jy in jou pote, swart nerf?’
In die pad gaan trekvolk verby. Hy bêre die riempies en stap dadelik daarheen. Die Basoetokaffer loop slenter-slenter agter sy paar skape aan en op 'n verwaarlooste bultmaagmerrie, met inmekaargekoekte maanhare, ry 'n ou meid met swart sierstrepe oor die slapende gesig. Op haar rug abba sy twee hoenders in 'n vuil doek. Die ou jong, potswart in sy rooi kombers, wys weinig tekens van belangstelling. Dit lyk of daar amper geen lewe in sy oë is nie - net 'n fleugie wil in die lusteloos bewegende liggaam.
Nee, hy wil nie bly nie, hy trek Basoetolandtoe.
‘Loop na jou verstand!’ skreeu oom Sybrand toe hy genoeg gesukkel het om hom verstaanbaar te maak en om te begryp wat die ou trae skepsel trapsuutjiesagtig wil beduie. Nukkerig loop die boer na sy bywoner se huis, waarheen hy nou gereeld gaan om 'n rukkie te gesels.
| |
| |
| |
IV
Die mense het kwaai tonge; hulle gesels, hulle vertel oor, hulle las by en maak die dae aangenamer deur van ander te praat, deur onophoudelik dinge te versin of te vergroot. Van Boskloof trek die skinder-ringe af weg soos van 'n klip af wat in diep water geval het; hoe verder dit gaan hoe dowwer en vaer word die sirkels. Die verhaal word fluisterend vertel dat oom Sybrand op dieselfde pad is as Dawid met Bátseba. Uria is nog in die pad, maar hy sal gou gestuur word na 'n plek waar hy maklik van kant gemaak kan word, en dan kan die ou skynheilige skelm met sy bywoner se vrou maak wat hy wil! Party berigte sê dat hy nou die helfte van die dag by die bywoner se huis deur bring, net soos Buks na die veld is. Wat 'n ewige skande, die spore op tant Betta se graf is nog nie eers mooi dood nie! Ander berigte meld weer dat Maggie een middag op die werf gesien is, besig om oom Sybrand met die skape te help en dat die soort grappe wat hy met haar gemaak het, so stuitlik was dat mens eintlik skaam is om hulle oor te vertel.
Op die rustige plase waar oom Sybrand se naam selde genoem is, daar word nou oor hom gesels, daar word hande langs die mond gehou en twyfelagtige dinge in luistergrage ore gefluister, daar word sye vasgehou as die skaterlag
| |
| |
uitbundig weergalm vir die ou krimpvark se streke met 'n jong, ontroue vrou. Oom Sybrand weet nog nie wat aangaan nie, maar as hy op die dorp kom, dan draai die geselsende groepies hulle behoorlik om om na hom te kyk waar hy met sy kort, vaste stap deur die strate gaan, koppe word geskud of geknik, daar word vertel, gejol, mekaar in die ribbes gesteek en géklik gelag. Die vrouens vind dit so 'n skandaal dat hulle nie daaroor uitgepraat kan raak nie. Lang, onsamehangende verhale van Maggie se vroeëre lewe word opgedis, en telkens kom die poliesman weer daarin wat vir urelank voor die deur stil gehou het net soos Buks na die veld toe is.
Die mans vind 'n sluwe genoeë in die gekruide verhaal van gesuggereerde onsedelikheid. Daar is veel boetpredikasies by die uitbundige geskinder; veel vyandige veroordeling by die buitengewone belangstelling. Oom Sybrand se lewe word omring deur 'n gonsende byenes sonder dat hy dit weet.
Die predikant het al tien naamlose briewe ontvang van mense wat eis dat die ‘ou heiden’ se naam uit alle kerkboeke ‘verdelg’ moet word! Baie mense het al by die dominee kom sit en hom met vorsende oë gevra wat hy van plan is om te doen om die smet wat die gemeente getref het, behoorlik uit te wis. Maar die liewe, goeie man weet self geen raad nie, want nie een enkel persoon wat kom kla, het persoonlik
| |
| |
iets gesien nie. Dit bly maar: ‘hier swaer Bêrend’ sê dit, of: ‘Gert Brakwater se broerskind’ sê dat, en een het selfs verseker dat alles waar moet wees, want as sy ore sing en hy noem dan oom Sybrand se naam, dan hou die gesing dadelik op!
Dit is lekker, sappige nuus wat mens onmoontlik net vir jou eie genieting kan bewaar. Dit moet uit, dit moet vertel word, dit moet verras en mense hulle hande op hulle mond laat slaan en sê: ‘Haai mens, wat vertel jy my nou! Dit kan nooit waar wees nie!’
So is dit dan dat Annie ook die praatjies hoor. Sy het so wit soos 'n laken geword toe iemand dit skugter aan haar vertel het, en toe kwaadaardig losgebars oor die skindertonge. Die volgende dag is sy en haar man op pad na Boskloof om vir oom Sybrand te waarsku. Hulle kry hom by die werfskroef besig om 'n houtgaffel te maak vir die volgende oes. Dit is onnodig om geld vir sulke dinge uit te gee as jy al die materiaal op jou plaas het om hulle te maak! Hy is werklik bly toe hy sien dat hulle voor die deur stilhou en opgewek help hy uitspan. Annie is effens ontnugterd oor dié opgewektheid, want dit is vir haar 'n teken dat hy haar moeder reeds vergeet het en dat daar dalk waarheid kan skuil in dié senuwee-skokkende verhale.
Sy gaan dadelik in die huis met haar kinders
| |
| |
en vee trane uit haar oë toe sy sien hoe haar moeder se goed verwaarloos en hoe haar vader moet sukkel. 'n Vrouehand is in die huis nodig om alles reg te skik - en noudat Hennie so goed as ‘uit’ is, gaan hulle teen wil en dank hier bly, want waar moet hulle na toe? Naderhand gaan 'n stiefmoeder heen met alles wat haar moeder met haar groot sorgsamigheid versamel het. Sy maak dadelik koffie en haal die sagte soetkoekies te voorskyn wat sy saamgebring het, want sy weet dat haar vader alte lief daarvoor is. En sy vergis haar nie, want hongerig vat hy die een na die ander, drink drie koppies koffie uit en vra vir haar belangstellend na haar huishouding; hy is so vriendelik dat sy daarvan seker is dat hy nou sal toegee aan haar versoek dat hulle maar hier by hom moet kom bly. Sy kyk sy kosvoorraad krities deur en vra met gefronste wenkbroue: ‘En wie bak hierdie kluitjiebrood vir pa?’
‘Buks se vrou,’ sê hy kalm en kyk haar aan.
‘Genugtig,’ sê sy bitsig, ‘mens kan snysels daarvan rol. Dit is nog half deeg!’
‘Nou ja, sy doen maar haar bes. Sy moet feitlik vir twee huise sorg,’ sê oom Sybrand vergoeilikend.
'n Donker trek kom oor Annie se gesig. Sy het byna 'n kwaai, redelose aanval gemaak op dié vrou wat sy skaars ken, maar wie se
| |
| |
naam aan haar vader s'n gekoppel word sodat die hele familie deur die as gesleep kan word.
Oom Sybrand is in 'n besonder goeie luim. Hy wys vir sy skoonseun wat hy besig is om te doen, watter verbeteringe nog alles nodig is om die plaas in alle opsigte te maak soos hy dit graag verlang. Hy vertel, verduidelik, omlyn - maar hy noem nie eenkeer sy oorlede vrou se naam nie. Hennie let veral daarop, en hy kom so gaandeweg tot die gevolgtrekking dat daar waarheid moet wees in al die praatjies oor sy skoonvader, dat hy die herinneringe aan sy vrou saam met haar lyk begrawe het.
Terwyl hy so met sy skoonvader saamstap, reken hy uit wat hy eendag moet erwe. Soos hy dit uitwerk, terwyl hy bedrae op sy vinger aftik, sal dit genoeg wees om al sy skuld dood te vrywe en darem nog genoeg oor te hou om weer met 'n boerdery te begin. Wat in die testament staan, is 'n geheim, maar Hennie reken dat Henning die plaas sal kry en dat hy vir Annie soveel-en-soveel sal moet uitbetaal. Miskien word Henning nog onterf en dan kry Annie alles ná haar vader se dood. Dié gedagte spring soos 'n veer in hom omhoog en hy luister met meer geduld as tevore na sy skoonvader se selftevrede verklarings oor sy ‘goed’ - ja, die woord ‘goed’ kom so dikwels terug dat Hennie, wat so graag uit sy moeilikheid wil gehelp word deur 'n flinke erfenis, hom ver- | |
| |
baas oor sy skoonvader se verknogtheid aan sy wêreldse besitting. Hy bekyk hom sorgvuldig en wonder hoe lank hy dit nog sal maak. Hy en Annie moet hulle uiterste bes doen om die ou kêrel so ver te kry dat hy nooit weer trou nie; dit sal alles deurmekaar krap, want dan kom die nuwe moeder by wat ook 'n klomp van die losgoed moet erwe, vir wie ook nog - en dit alles uit Boskloof - voorsorg gemaak moet word. Annie moet vanaand pleit soos nog nooit tevore nie. Hulle moet nou hier kom bly; hy moet maar al sy kleinserigheid laat staan oor die ou kêrel se afsnouery van vroeër, want dit is wel die moeite werd om te verdra as jy daaraan dink wat die erfenis vir hom kan beteken.
So loop hulle rond op die werf en in die veld, waar die groen skynsel van ontwakende gras reeds lê. Dit is 'n stil, sagte dag wat die verre wit horison vertoon en die gladde welwing van die bulte, geleidelik uitgevloei in die lugoneindigheid. Hennie help vir oom Sybrand die skape by die kraalhek tel. Hy is verbaas oor die skoonvader se welvarendheid en dit doen oom Sybrand se hart goed om die vleiende woorde van sy skoonseun te hoor oor sy boerdery, oor die presiesheid van alles en die groot toekoms van Boskloof.
Annie het 'n heerlike maaltyd voorberei, en met vreugde kyk sy oor die onderdeur na haar naderende man en vader, want dit is duidelik
| |
| |
dat hulle hartlik gesels en die verhouding tussen die twee nog nooit so goed was nie. En dit word vir die verwaarloosde, uitgehongerde oom Sybrand 'n feestelike aand. Die vleis, wat saam met ertappels bruin en geurig gebak is; die boontjies en ertappels deurmekaar gekook; die kerrie-rys, en daarna die doekpoeding - dit laat hom meer as gewoonlik praat. Hy geniet van die goed voorbereide voedsel, van die stemme van bekendes in hierdie huis, waar skimme van die dood en die onaardse gewaai van die nagwind hom soveel verontrus het en hom laat verlang het na menslike gemeenskap.
Maar noudat hy goed gevoed is, noudat hulle rustig sit en gesels voor hulle gaan slaap, word 'n sluwe helderheid in sy gees wakker. Sou die skoonseun van hom miskien dink dat hy met 'n aap te doen het? Waarom het hy netnou gevra hoe oud hy met sy volgende verjaarsdag sal wees? Hy loop al lankal in die land en ken mense - hulle is soos diere wat mekaar verdring om by die water te kom. Waar daar iets te aas is, skud almal hulle opgeplakte skyn en vroomheid af en hulle blaf en storm en byt om die grootste deel te kry. Hy is nou soos altyd op sy hoede, en toe Annie hom versigtig uitvra oor die vrou van die bywoner en iets suggereer van die mense se skinderpraatjies, sê hy kalm: ‘Laat die ou spul maar blaf. Ek ken hulle so goed, die lae ou klomp met hulle vroom bakkies
| |
| |
en godsdienstige praatjies wat net skynheilig is. Ek ken hulle te goed, en daarom steur ek my min aan hulle skindery. Ek bly hier alleen; ek vra niemand om hulp nie. Maar hulle moet my ook alleen laat.’
Hennie en Annie se moed het laer gesink oor die laaste deel van sy uitlating. Dit lyk of 'n afwysendheid, 'n vyandigheid in hom sommer ewe skielik opgewek is; ja, 'n diep-gewortelde begeerte om hom te verweer teen sy medemens wat hy net as belagers en aanvallers beskou. ‘Pa, moet tog net nie weer dink aan trou nie?’ sê Annie met 'n senuweeagtige lag wat in onnatuurlikheid verstar. Haar verwagting sak laer en laer. ‘Dit is ook my saak,’ sê hy enigsins ru en weerbarstig, gee 'n lang gaap, en sê: ‘Kyk, dit is tyd om te gaan lê.’
| |
III
Wat hy daar van sy dogter verneem het, het hom meer getref as wat hy wou toon. So, dit is die verhale waarmee die klomp leeglêers en skinderbekke nou besig is. Wat kan jy verwag van die grootste deel van hulle? Dit is 'n stoepsittery die hele dag, 'n uitdink van allerhande praatjies wat 'n ander se naam kan vervuil. As hy vir 'n jaar die kans kon kry om oor hulle te regeer, sou hy hulle goed onder die sweep steek, en instede dat hulle plase soos varkhokke
| |
| |
lyk, sou dit netjies en in orde wees en dié klomp onderduimse, lui goed sou iets werd wees op die aarde, wat hulle nou net nutteloos beslaan. Dit kook in hom, en soos hy daar deur die veld stryk met die lentewind fris in sy gesig, kan hy die hele distrik uitdaag, kan hy aanval en waardelose gesigte met agterdogtige sluwe oë in die grond druk en daar rondvrywe.
Op die koppie bokant die krale gaan hy staan en kyk oor die plaas heen. Die plaaslyne is netjies versorg en streep lynreguit oor die vlakte. Die lande en kampe lê keurig toegemaak. Alles is agtermekaar; elke ding wat waardeloos word of nie meer op sy plek is nie, word uitgehaal en vervang. Daaronder lê Gert se woning. Niemand woon nou daarin nie. Hy wil nie nog 'n bywoner neem nie. Later sal hy dit laat afbreek en die sink, balke, deure en vensters vir goeie buitegeboue gebruik. Dit hinder hom, soos 'n kwelling aan sy gewete, dat dit so sleg gaan met sy suster op die dorp. Hy verneem dat hulle sukkel om te lewe, dat Gert, wat nooit enige ambag geleer het nie, nog altyd hooghartigskaam vir 'n werkie rondsoek, maar niks kan kry nie, en dat sy eie suster, die fiere, onafhanklike vrou, nou die skool moet help skoonhou, dat sy brood bak vir die predikant se vrou en dat sy van die more tot die aand moet werk soos 'n meid om haar kinders in die klere te hou. Maar wat kan mens daaraan doen? As jy nie
| |
| |
waardeer wat jy besit het nie, moet jy sulke dinge verwag.
Die lewe is hard en genadeloos. Hy wag vir niemand nie. Maar om te kla dat die lewe en omstandighede teen jou is, is twak. Dit is in elke mens se vermoë om die lewe en die omstandighede te ry of dit 'n kwaai jong perd is en hulle te buig en te dwing soos jy hulle wil hê. Daarvoor het 'n mens 'n wil in jou. Hy kan min simpatie voel met boere, wat 'n klomp lui stoepsitters is en soos ou tantes sit en skinder, wat dan uitraak en moet vergaan met hulle families en al. Mens moet vooruit dink, jy moet wakker loop, jy moet waardeer wat jy geërwe het, jy moet ondernemingsgees besit, jy moet aanmekaar werk sodat die luiheid jou nie gedurig neerpluk om te gaan sit nie; jy moet presies en oppassend wees, en dan sal jy nie so maklik 'n ander se hotnot word of op die ashoop van ellende soos Job sit en kla nie.
Gert was een van die agterstevoor-boere, wat met praatjies die plaas aan die gang wou hou. Vandag sit die prokureur en winkelier met alles waarvoor sy voorvaders gewerk het en hy loop in die strate rond om 'n werkie te soek! Dit hinder hom dat hulle so uitgeboer het, maar sy gewete voel gerus, want hulle dra die skuld daarvan, hulle het self gesaai wat hulle nou maai.
Die lentewind is kragtig en suiwer om hom; wyd rondom kring die velde weg. Hy kyk na
| |
| |
die tuin. Oor 'n dag of wat moet Buks en hy daardie twee dooi populiere afsaag en weer ander plant. Die hout kan hy baie goed gebruik. Hy moet gedurig sorg dat die nuwe die plek van die uitgediende inneem. Ja, die dooi populiere moet uit! Hulle taak is gedaan. Die jonges moet in hulle plek kom ...
Maar hy is nog gladnie klaar nie. Wat hinder hom al as hy aan die dooi populiere dink? En Henning? Hy het nog nie weer 'n woord van die kêrel gehoor nie. Hy verhard sy hart teen hom, want iemand wat so met sy vader gepraat het, moet uit sy lewe. Voert! Hy noem nooit sy naam teen iemand nie; hy doen nie navraag of iemand iets van hom weet nie. Net in die nag droom hy soms dinge wat nog lank in hom bly náspook. Laasnag weer het hy gedroom dat Henning voor die deur met 'n bokkie stilhou en dat hy by sy vader verbygeloop het en hom nie gegroet het nie. Hy was groot en sterk - baie groter as oom Sybrand. Wat dink hy nog aan dié astrante bog?
Hy laat sy oë wei oor sy plaas, sy velde, sy handewerk. 'n Vreugde kom in sy oë; sy liggaam voel die stuwing van kragtige bloed, van 'n onbreekbare wil om te lewe. Om hom werk dieselfde diep kragte, dit kom nou aarselend en groenblink uit die harde kors van die aarde, maar dit word jaar-vir-jaar deur 'n mag voortgestu wat opstyg uit die geheime donkerte waar
| |
| |
hulle geslaap het om die lewe se onverwylde drang na vervulling te volbring, om blind te gehoorsaam waar die onsigbare wil tot lewe alles dra, aanbeur, gebruik en in wilde roes laat aandring op uitlewing.
Sy skoene staan vas op die jong gras. Hy kyk daarna en voel die bloed wat lig tintel onder sy vel; dit is soos die sap van die aarde wat ook in hom opstoot. Die nuwe lewe sal ontwaak, net soos die aarde se wonderkrag die bome, wat eers kaal en lewensloos gelyk het, laat blare en blomme voortbring, mooier en magtiger as ooit verwag is. Die eensame aande en nagte daar in sy benoude huis is nou vir hom soos 'n swaar, nare winterslaap waaruit hy onseker ontwaak. Langsaam maak hy hom daaruit los, druk hy die onaangename soos spinnewebbe weg.
Hy wil soos die jong lewe uitklim na die bloute. Die lewe sterf nie; dit gaan net slaap, en dan kom dit jonk en fris weer terug soos die ontwaking by die mens elke more 'n eindelose wonder bly. Daar glans die populiere liggroen in die moreson; hulle staan al in die swart, vrugbare grond van sy oupa se tyd af; elke winter word hulle kaal en droewig, eensaam met hulle naakte takke bokant die harde wintergrond. Maar as die najaar kom, dan word hulle weer jonk, vol sappige, huid-sagte blare, en deur hulle kom die natuur se ritmiese werking
| |
| |
tot voldraenheid. En hier is hy - 'n mens wat alleen was in die eensame, donker nagte toe die winterreën met 'n onheuglike stem teen die ruite gepraat het van dodes wat vergeet word in die aarde waarin hulle weggelê is, dieselfde aarde wat weer hierdie jong, ritselende lewe voortbring. Die winterslaap is verby; hy moet die verlede, die ellende wat daar was, die misverstande en teleurstellings laat wegsak net soos die ou populierblare met die vogtige aarde weer een word sodat die voorjaarslewe daaruit kan groei.
Sy gedagtes voel sterk en strydvaardig; in sy bloed is die verlange na lewe, na die vrolike gelag van 'n jong vrou wie se oë alles in hom kan vernuwe, wie se tande wit en sterk onder haar vol lippe blink. Hy dink aan Maggie soos hy haar gister gesien het toe sy vir hom 'n bordjie ingelegde vrugte ingeskep het. Sy het oor haar skouer omgekyk na hom met 'n skalkse en uitdagende glimlag sodat sy bloed soos 'n jong, wilde dier in hom omhoog gespring het. Sou sy werklik van hom hou? Daardie kyk, dié blik van vroulike krag, bewus aangewend, werk soos 'n kragtige wyn in hom. Wat onbewus skamerig en verward in hom gesluimer het, is opeens met 'n blye skok van herkenning en aanmoediging na die oppervlakte gebring.
Hy kan aan niks anders meer dink as aan die bywoner se vrou nie. Hy weet nou waarom hy
| |
| |
in die laaste tyd, met baie ekskusies as voorwendsel, so graag daarheen gegaan het. Wat het die mense met hom te doen? 'n Blinde wil dryf hom hier voort, 'n skalkse lag, 'n paar blou-grys oë se astrante uitnodiging het soos 'n swaar vloed oor sy redenasies gekom. Die voorjaar is in hom soos hy daar staan, hy, die trotse besitter van die hele Boskloof, 'n ander Dawid wat deur die verleidelike skoonheid van 'n Bátseba tot nuwe begeerte opgewek is.
| |
IV
Dit was lang ure, lang dae van wag, wag, wag. Daarbuite het die velde se kleur verander; die winter, met dae soos harde, geslypte diamant, het traag verby gegaan, en saam daarmee die ure wat omgesukkel is, die eentonige more en middag en die aande wat koud was en vol verlore gerugte van 'n verre, hartstogtelike lewe. Vroeër het die dae ongemerk in mekaar gevloei soos water wat so stil loop dat mens nouliks enige beweging daarin sien. Nou tel sy die dae, van Saterdag tot Saterdag. Sy ken al so goed die stemming wat elkeen, more, middag, aand, het. In die ledigheid wat soos 'n afgrond om haar is, is daar nog net die lied van haar verlange. Sy wil die tyd kalm en onbewus laat wegstroom, maar haar verlange is soos 'n ewige wagter op die mure van die dae. Altyd dra sy die harde
| |
| |
wete in haar om dat Henning weg is, dat sy nog nooit weer 'n briefie of boodskap van hom ontvang het nie en dat sy nou net kan wag, die dae kan aftel en die lang wit grootpad dophou.
As sy maar die kans het, dan gaan sy alleen sit en kyk na die wit streep van die pad daar oor die bult. Sy ken al elke teken in die nabyheid daarvan. Daar waar dit wegraak in die helder horison, is 'n hek en elke voorwerp wat daarvandaan kom, hou sy dop, rustig en vol hoop, tot dit naby die huis is, en as sy sien dat dit nie Henning is nie, dan stroom haar lewe vol van 'n bitter stilte en eensaamheid, haar lippe tril en in haar oë wel die trane op, nie alleen omdat hy nie kom nie, maar omdat die lewe so hardvogtig kan wees, so genadeloos die belange en drome van een, arme mens kan minag.
Maar daar is weer iets in die pad! En dan begin die hoop weer, dit verrys blink en heerlik uit die teleurstelling. Watter fees sal haar lewe word as dit hy is! Die dag sal 'n goue lig om hulle streel, die dae wat doof en toonloos verby is, sal dan ook weer waarde kry, omdat hulle dié groot oomblik voorberei het soos nederige lakeie wat diep gebuig het voor die prins wat nader. Maar ook dit is weer 'n teleurstelling, so gaan die een dag na die ander om. Sy het gehoor dat Henning en sy vader rusie gekry het en dat hy weg is van Boskloof af, en toe het sy so in haar allenigheid gedag dat hy sou kom,
| |
| |
in weerwil van alle dreigemente en moedswillige teenwerking. Maar die kuile water het dieper en sagter geglans toe die winter doodkwyn, die vroeë morens, met die lig op die verre bulte, was dag-vir-dag 'n heerlikheid met die stemme, teer en dringend, wat die komende lente daarin opsing. En nog het hy nie gekom nie. Die aarde het wyer oopgegaan aan die hemel en daarin was die warm klank van vee wat bulk, daarin was weemoedige geskreeu van veewagters ver teen die bulte, 'n geroep soos van 'n banneling wat elke aand met die eerste sterre saggies begin praat en sy eindelose heimwee na sy land dwingend en fluisterend aan hulle vertel. Hy kan haar nie so vergeet nie! Hy kan haar nie, gebroke deur die oorgawe van haar liefde, oorlaat aan haar lot nie! Maar die twyfel is tog daar. As sy in die spieël kyk, dan sien sy haar oë, groot en hunkerend, in haar smal vermaerde, ovaalgevormde gesig. As sy in die geselskap van jong mense is, dan word dit vir haar ondraaglik, want die hele omgewing weet dat haar ouers haar weggestuur het, dat sy heimlik verlang, en oor al die dinge wat 'n glans van suiwer drome vir haar geword het, haar hele bestaan is, spot hulle lomp en oppervlakkig, hoor sy skimpe, skerts en stompsinnige aanmerkings.
Haar gedagtes begin al meer vassuig aan 'n vernietiging van haar lewe, aan dood in die
| |
| |
rivier, of miskien van 'n hoë krans af. Haar vader se suster by wie sy bly, het eerlik haar bes gedoen om die rykste kêrels uit die distrik na haar toe te laat kom, maar na 'n rukkie het hulle nie meer verskyn nie, want sy is bot en stil en haar gesig het in die laaste tyd 'n rooi uitslag wat haar onaantreklik maak.
Haar tante begin die aanwesigheid van die stil, treurende meisie in haar huis as 'n oorlas te voel. Sy vind dit laf en onverstaanbaar dat mens so jou jong jare kan verkwis met bog. Hier is ryk-ryk kêrels en om jou so te sit en verknies, is net 'n siekte en niks anders nie. Sy kan tog darem met die kerels opsit, maar ook daarvan kom niks. Van die ou kêreltjie, oor wie sy so treur, sal sy ook niks weer hoor nie; dit is nou darem teen dié tyd baie duidelik. Die beste is maar dat Jaap haar moet kom haal, want mens het genoeg sorge van jou eie om nog met 'n ander s'n opgeskeep te sit.
Sy was dan ook werklik bly toe oom Jaap een more daar verskyn met sy kapkar. Sy vrou kon ongelukkig nie saamry nie. Hy kom net gou vir Johanna haal. Vandat die Henning-vent weg is van Boskloof af, lyk dinge nou beter; Johanna het seker ook genees van haar dwaasheid. Die wêreld sal nou totaal verander. Hy het aangenaam gesels met sy suster en sy swaer en heelwat te vertel gehad van ‘die ou heiding’ wat nou dag-vir-dag by die bywoner se huis
| |
| |
te sien is en vir dié flerrie van 'n vrou die een geskenk ná die ander van die dorp af bring.
‘Dan wou dié ou vark se kind nogal by Johanna aanlê?’ het hy gesê en sy been wat stram van die ry was, krakerig uitgestrek; ‘ek het reg gedaan om 'n stok daar voor te steek. Die kind sou vir die dag van haar lewe ongelukkig gewees het. Al die muisneste is nou uit haar kop.’
‘Ek weet nie,’ het sy suster gesê, ‘jy moet maar self kyk.’
Ná die middagete vertrek oom Jaap en Johanna. Rustig tok-tok die draaghout op die disselboom, van hek tot hek gaan hulle. Die geaardheid van die veld verander, die son sak laer en skuiwe oor hulle bene; sweetkolle slaan op die perde uit en oom Jaap hou op 'n hoogte stil om hulle 'n bietjie te laat blaas. En nog sê sy dogter niks. Sy sit doodstil langs hom of hy 'n vreemde vir haar is. Hy voel die kille vyandigheid en verlepte lewenslus baie skerp en probeer om te gesels, maar dit wil nie vlot nie. Die woorde verloor hulle waarde en karakter in hierdie atmosfeer. Sou die kind dan nou nog waarlik aan dié niksnuts dink, of het sy hardhandige optrede haar van hom vervreemd? Hy voel ontmoedig deur haar treurige ingetoënheid, gee die perde 'n dowwe raps en sê, vertrouliker as wat hy ooit met sy eie dogter was: ‘My kind,
| |
| |
jy moet nie dat die ou wêreld jou so druk nie. Vandag se swaar is more weer alles oor.’
Sy haat hierdie oppervlakkige beskouings van haar pa oor die liefde en oor die smart. Hy praat daaroor of hy met sy vee te doen het. Hy het meer besorgdheid oor sy opregte skape getoon as oor sy eie kind, en noudat die lewe haar al vaster wikkel in die onvermydelike, voel sy 'n bitter afsydigheid teenoor alle holle trooswoorde, alle gladde praatjies wat die diepte van haar jong lewe se ervaring nie raak nie. So in haar self gekeer, weef die gedagtes, die subtiele omwerking van die veranderende werklikheid 'n ander mens uit haar, en toe sy geen antwoord op haar pa se vraag gee nie, maar net haar hoof ootmoedig buig, weet hy dat sy dogter se gees baie ryper geword het, dat sy in die afgelope maande uitgegroei het tot 'n vrou wat langsaam, deur lyding en nadenke, die swakheid en die krag van haar wese leer ken het en deur die troebel verlange heen stadigaan helderder die dinge om haar benader en sekuurder die huigelagtige van menslike verhouding aanvoel. Die ou kinderlike vrees vir harde berisping is dood.
So allenig het sy lanklaas in haar lewe gevoel; die vlaktes strek ver om hulle uit, lewensloos met net 'n skaapwagter en vee wat nou en dan te sien is, en oor die eensaamte kom nou en dan 'n lang, losgeboude dwarrelwind wat in die vertes vergaan en dan weer die ruimte oor haar
| |
| |
lewe laat heers, oorweldigend en wreed. Meteens sien sy die kop bokant die kloof van Boskloof en daar kom so 'n hunkering in haar dat sy voel of haar gees uit haar liggaam, hier gebonde aan dié middag en dié kar, vertrek na 'n roerlose wintermiddag daar op die koppie, toe die dag en die velde haar so deurdring het met 'n oorredende aanwesigheid dat sy totaal daarin versink het, en toe hy gekom het om haar lewe op te roep uit die doellose gepeins van vroeër na die beslistheid en oerkrag wat haar liefde geword het.
Haar liggaam en gedagte sak opeens so week en gedaan ineen dat sy voel of 'n floute haar wil oorval, en in hierdie oomblik van swakheid kry die wrede, mooi verlede so 'n werklikheid dat dit haar pynig en die geringste prikkel van buite, verbonde aan die ervaring van vroeër, 'n hewige reaksie word. Dit is die deureenstrengeling van teenstrydige gevoelens wat haar so uitput, want nou is haar liefde van vroeër, die sagte vleiwoorde, die streling van haar liggaam, sy aanwesigheid ontstellend werklik in haar, en dan opeens is die vlakte met die verre, heimweewekkende berge op die horison voor haar, en sy voel dan losgemaak van alles wat haar gebind het, bedroë, verbitterd en met 'n duister drang na die dood vervul.
Die geklap van die perdepote sing deur haar gedagte, word 'n stadige marteling wat haar soos
| |
| |
'n meganiese stuk ding laat voel, sonder sin, sonder wil, sonder waarde. Eindelik kom hulle by die huis aan net toe die skemering se skaduwee met lang punte oor die werf aankruip. Haar moeder soen haar opgewek, maar haar gesig word ernstig toe sy merk dat Johanna se houding nie verbeter het nie, maar dat die kind se gesig maer en sieklik lyk.
Nadat die perde afgetuig is, gaan oom Jaap op die bank lê, strek sy bene behaaglik uit, drink sy koffie en begin nadink oor hoeveel hy vir die kerkbasaar moet gee. Tweekeer was die diaken al daar, en more sal hy weer kom, want hulle wil honderd pond uit hom hê. Die hele gemeente sal oor dié bedrag praat. Tien kêrels in die distrik moet honderd pond gee, en hy moet een wees. Hy sal dit hotagter kry om die bedrag bymekaar te skraap en tog streel die gedagte hom besonder oor die gunstige kommentaar wat daar oor hom sal wees. Hy moet 'n mooi teenstelling met die ou heiding hier onder vorm!
Hy skrik toe hy sy vrou langs hom sien staan. Sy het geruisloos binne gekom. Haar gesig lyk soos die wit van hout-as. Haar woorde het 'n ligte trilling. Hy het haar nog nooit so gesien nie.
‘Jaap, ons is in 'n vreeslike ding. Daar is fout met Johanna.’
‘Wat bedoel jy?’
| |
| |
‘Maar mens, het jy nie verstand nie?’ Haar oë kyk vas in syne.
‘My God!’
Dit is of hy 'n slag gekry het en opeens in mekaar sak. Hy kyk reddeloos, hulpsoekend na sy vrou. Die distrik sal soos 'n vlam aan die brand slaan van roekelose skindery. Die lewe het vir hom en sy vrou gevang. Dit is klaar met hulle. Woordeloos, verslae kyk die twee, ouers van Johanna, mekaar aan.
| |
V
Oom Jaap het lanklaas in sy lewe so 'n verskriklike nag deurgebring. Nadat hy die verbysterende nuus van sy vrou ontvang het, het hy na Johanna gegaan en teuelloos teen haar losgebars, haar verwyt dat sy haar ouers se goeie raad in die wind geslaan het, dat sy 'n ewige skande vir sy huis is en dat hy niks daarvan sal maak om haar uit die huis te ja en te onterf nie. Sy het net, sonder om 'n woord te sê, vooroor in die bed geval en aanhoudend gehuil, waarop hy haar snydend toegevoeg het: ‘Jou grensery help nou niks! Jy het ons nou klaar in die modder.’ Hy het die deur so swaar agter hom toegeslaan dat die mure getril het, en hy het werklik gewens dat die huis op hulle moet instort om hulle met die skande en al te bedek.
| |
| |
Daardie nag het hy rondgerol, nou en dan met sy vrou gepraat, want sy kon ook nie slaap nie. Dan het hy weer begin dink, maar telkens gevoel hoe die onvermydelike vaster en vaster om hom trek en hoe hy op 'n dun strokie damwal loop net voor die wal gaan breek. So gaan dit as 'n kind nie na haar ouers se raad wil luister nie, dink hy verbitterd; nou sal Johanna met dié ellendeling moet trou, maar waar is hy? Net soos hy, as vader, dit vir haar voorspel het, so het dit gekom! Die niksnuts laat haar nou in die steek, hy is die wêreld in en Johanna moet met haar skande alleen agter bly.
Moeg van al die dink, sluimer hy effens in, maar dan kom daar verskriklike gevoelens wat hom helder wakker laat skrik. Die hele distrik sal vir maande oor niks anders praat nie, hulle sal sit en skinder tot hy en sy gesin skaars nog deur 'n mens gegroet word. Hy sal met sy kop op sy bors in die dorp moet loop; die swartspan sal hom aankeer en hy sal bloedrooi daar sit, ellendig van skaamte moet erken dat hy sy pligte as vader nie nagekom het nie, en alle oë sal soos naalde op hom gerig wees, hy sal verdoem uit die pastorie struikel en op sy plasie kom sit sonder dat hy 'n mens weer behoorlik in die oë kan kyk.
‘Jy weet, vrou,’ sê hy opeens, en dit klink onwerklik en spokig in die nagstil kamer, ‘ek sal daar niks van maak en vat my roer en
| |
| |
skiet die ou vuilgoed hier onder soos 'n hond dood nie. Johanna is gewaarsku teen die ou spul, en so wragtig daar het jy dit so erg as wat jy dit kan kry.’
Tant Annie steun net effens; sy het geen raad om aan te bied nie; binnekant voel sy gekneus, want as moeder gaan haar hart uit na haar dogter, voel sy intuïtief wat die kind alleen moet ly, maar dan kom sosiale oorwegings weer op en sy wens dat hulle ver in 'n woestyn kon wegtrek, waar mens nooit 'n ander mens hoef te sien nie, want as so 'n slag jou tref, sou jy sweer die onderduimste en onsedelikste skepsel het 'n engel geword wat jou bejammer, betreur en heimlik minag. Die ongeregtigheid wat sy om haar sien aangaan, in hierdie selfde distrik, word net toegedek onder huigelary. Die groot ding is nie dat jy skelm onsedelik is nie, maar jy moet net nie uitgevind word nie! As jy uitgevind word, is dit 'n skande, anders kan dit maar so aangaan, met 'n heimlike oogknip, 'n stootjie in die ribbes om die verborge-plesierige daarvan te suggereer in die geselskap. Haar arme kind! Sy was hard teenoor haar, maar in die stille nagure vermurwe haar gevoel al meer en besef sy dat sy aan Johanna se kant moet gaan staan eerdat kwaai veroordeling haar sal agtervolg en vereensaam.
Daar is nog geen dag aan die hemel nie, toe oom Jaap opstaan, sy skoene met bewerige
| |
| |
hande aansukkel en sê: ‘Ek kan nie slaap nie, vrou. Jy moet my keer, ek voel of ek vreeslike dinge kan doen.’
Sy hoor hoe hy in die stilte boosaardig blaas en al wat sy kan antwoord is: ‘Gebruik jou verstand, Jaap. Moenie die dinge nog erger maak nie.’
Hy loop deur die stil voorhuis, die planke gee 'n diep kraak onder sy voete en sy eie huis se atmosfeer voel vir hom vreemd, of hy moet trek - die liewe Vader weet waarheen! Mankmank loop hy teen die randjie uit. Die lig stoot wit in die ooste op, maar glansend hang die more-ster nog daar bokant, 'n hemelvuur wat vertroulik oor die slapende nagvelde brand. Die lig styg langsaam oor die dinge op; die bulte se lyne word sigbaar en toe die groen velde, jeugdig en teer in die frisheid van die komende dag.
Die morekoelte waai om oom Jaap. Hy stamp met sy kierie driftig op die grond en sê: ‘Hy het my water gesteel, my vee skut-toe gestuur, my gedurig verpes. Maar dit is die ergste. Hier steek ek vas - hier voel dit of ek bloed sien!’ Die ou jong kom van die stroois af; koulik loop hy oor die dou-nat gras en hy skrik geweldig toe die harde stem van sy baas van die randjie af dreun: ‘Koevoet, as jy die vuur aangemaak het, dan keer jy dadelik die karperde aan en span hulle vir my in!’
‘Reg, oubaas,’ antwoord die ou jong en hy
| |
| |
stryk nou onverwags lewendig na die kombuis toe, want hy het die oubaas nie so vroeg hier verwag nie. Ook tant Annie het opgestaan, sy skink koffie in en roep haar man. Kruppelkruppel kom hy die kombuis binne. Dit lyk of hy in een nag stokoud geword het.
‘Ou man,’ sê sy kalmérend, ‘dié ding het nou oor ons gekom, maar moet nou nie dat jou gedagtes 'n te wilde loop neem nie. God sal wel sorg dat alles op die ou end regkom.’
Maar sy skrik vir die wit van sy oë toe hy met skuddende kop beduie: ‘Ou vrou, dan ken jy my nog maar sleg! Ek het nou genoeg opgevreet van 'n spul heidings. Ek ry hulle bloots; ek prosedeer hulle tot ek nie 'n kassie het om op te sit nie.’ Vinnig drink hy die warm koffie, verdwyn in die spens en kom met sy lemetford terug. Sy vrou se gesig word spierwit, sy gryp hom aan die arm en smeek: ‘Maar, Jaap, raak jy van jou sinne af? Waar gaan jy met die geweer heen?’
‘Dit is my saak, vrou. Ek het nou genoeg na ander se raad geluister. Nou volg ek hierdie harde klapperdop van my. Daar kom tye dat mens nie meer redeneer nie, maar jy blaas alles weg wat voorkom.’
Met sy stywe bene sukkel hy by die deur uit. Sy hol agter hom aan. ‘Jaap! Jaap! Wil jy ons verder in die ellende stort? Jaap!’ Maar hy is reeds in die kar, die sweep swiesj! oor die
| |
| |
perde en die karwiele knerp oor die werfgruis en ry voor haar angstige oë weg. Sy voel lig in haar kop net of sy wil flou word en onseker loop sy by die oond om in die huis in.
Oom Jaap ry of iemand op sterwe lê. Die moreson kom net rooi soos 'n vlam vuur agter die randjies uit en kleur die opslaande stof agter die wiele. Dit is jare-en-jare gelede dat hy laas op Boskloof was. Hy was nie eers by tant Betta se begrafnis nie, maar vanmore gaan hy daarheen; dit kan nie vinnig genoeg nie, al is dit nog so vroeg, want vanmore wil hy met 'n vyand op sy eie grondgebied afreken. Luid dreun die karwiele toe hy op Boskloof se werf in ry en hy ruk die perde in hulle bekke tot stilstand dat hulle op hulle agterpote gaan staan en dit lyk of die kar agteroor wil tuimel. Hy klim nie af nie, maar skreeu vir 'n kaffer wat by die staldeur uit kom: ‘Hei! Loop roep jou baas!’ Hy sit en wag, terwyl die perde voor die kaar rondtrippel van ongeduld. Vanmore moet hulle twee uitpraat; vanmore is dit 'n saak van onder vier oë. Dit is of hy inwendig 'n ruk kry toe oom Sybrand by die huishoek om kom en op sy gemak na die kar stap. Sy ongeërgdheid is vir oom Jaap 'n opsetlike uittarting en sonder om te groet, sê hy: ‘Ek is vanmore hier om 'n appeltjie met jou te skil.’
‘Klim af,’ sê oom Sybrand kortaf.
‘Ek klim gan af nie. My pote nie op jou grond
| |
| |
nie. Ek bly op my eie kar sit. Waar is daardie seun van jou?’ kom dit soos 'n dreigement.
‘Wat traak dit jou?’ Oom Sybrand se kopvel trek agteruit van ergernis soos 'n bobbejaan s'n.
‘Wat traak dit my? Jy het nog die onbeskoftheid om dit vir my te sê! Die klein vuilgoed het vir Johanna in die moeilikheid gebring en nou het hy gemaak dat hy wegkom. Wat kan 'n mens anders verwag van julle ou klomp?’
Maar nou het hy te ver gegaan. Oom Sybrand voel dat dit lig word in sy harsings. Hy laat niemand ter wêreld met hom praat of hy 'n hotnot is nie; al het hy en sy seun rusie gehad, dit maak nou niks. Hier gaan dit oor dieper dinge waar hulle, vader en seun, een bly.
Hy stap vorentoe en sy linkerhand vat aan die harde karband.
‘Kyk hier, ou vrind, as jy hierheen gekom het om my uit te skel,’ sê hy en sy stem bewe, ‘dan sal jy jou lelik vasloop. Ek is nie van dié soort wat vir my deur kou pampoen op loop laat ja nie.’
Dat hy nog by al die leed wat hy en sy seun aan sy gesin gedoen het, so kan praat, laat oom Jaap, veral ná die slegte nag se slaap en al die afmattende oorpeinsings, buite homself raak van woede. Hy sluk asof hy geen woord het nie. Sy oë is groot gesper, met die dreigende wit daaromheen. Hy voel nie lus vir woorde nie, maar vir aksie wat die spanning soos 'n veer in
| |
| |
hom kan laat losspring. Hy voel dat dit 'n bevryding sal wees om hom op die gehate vyand te werp en te stry tot daar geen lewe meer in hom is nie.
Hy druk die peits byna in oom Sybrand se oog so beduie hy: ‘Jy wat daar staan,’ sê hy en die minagting brand in sy woorde, ‘is die laagste ou ellendeling wat ek ken. Jy het jou eie vrou soos 'n meid behandel. Die hele wêreld weet dit, en nou loop jy soos 'n ou gek agter jou bywoner se vrou aan. Jy en jou seun is lae skuim. Julle hoort in die tronk. Daar is nie 'n ordentlike haar op daardie ou harspan van jou nie, jou ...’ maar hy kan nie aangaan nie, want oom Sybrand het hom aan die arm gegryp.
‘Klim uit die kar, jou ou meid, dat ek jou nek kan omdraai,’ en toe hy sien dat oom Jaap se hand wat ook die leisels hou, op die lemetford val, sê hy: ‘Dit kon ek verwag het van jou, jou ou huislêer! Agter 'n roer kan jy skuil, maar moenie dink ek skrik daarvoor nie. In die bek van die geweer sal ek nog sê wat ek dink. Ek sê jou nou: trap dadelik, of ek ruk jou van die kar af met jou ou seer poot en al en druk jou kop in die gras hier voor my dat jy half versmoor. Maak dat jy wegkom of ek vat daardie geweer en slaat hom op jou harspan stukkend!’
En toe uit blinde woede en om tot enige daad oor te gaan, gee oom Sybrand die hotperd 'n skop in sy lies dat hy beteuterd vooruit spring,
| |
| |
wild aan die skop gaan dat die bak van die kar kletter, en daarna maal die perde in die rondte sodat oom Jaap net moet hou, maar naderhand kry hy hulle in die pad, en terwyl hy beduie en onverstaanbare dinge skreeu, dreun sy kar oor die werf.
Oom Sybrand kyk hom agterna met oë wat blits van wraaklus.
| |
VI
Boskloof se vorstelike populiere staan nou groen en blink in die lenteson. Ver van die plaas af kan hulle al oor die bulte gesien word, die spits punte wat roerloos na die bloute wys. Nou ritsel hulle sappige, glansende blare bly in die wind en die tuin is vol van hulle bewende musiek. Oom Sybrand het onder hulle gaan staan en opgekyk na die ronde, koninklike gestaltes wat lyk of hulle die hele hemelblou dra en hy was diep spyt dat twee van die pragtige bome, wat al so lank soos geduldige wagters op Boskloof staan met hulle wortels vas in die vrugbare grond, doodgegaan het; waarom weet hy self nie. Kan dit van ouderdom wees of was 'n kwaaddoener hier aan die werk wat dalk iets in die bome gespuit en die lewe in hulle doodgemaak het?
Hy wantrou oom Jaap nou diep, en as daar iets op die plaas verkeerd is, dan dink hy baie
| |
| |
gou aan die ou knoeier met sy kruppel been wat die ongelooflike astrantheid gehad het om hom meer vernederende dinge toe te roep as wat 'n mens nog ooit gewaag het. Daar is diep wraakgedagtes in sy siel. As hy kan, sal hy hom 'n lelike knou gee net waar hy kan; as hy genoeg geld beskikbaar het, dan wil hy die ou blikskottel uitkoop met alles wat hy het, net om hom hier weg te werk sodat mens nie gedurig dié onaangename bakkies hoef raak te loop nie. Kry sal hy hom nog oor daardie beledigende taal, al duur dit honderd jaar. Ja nee, hy is soos 'n bobbejaan, as mens hom eenmaal kwaad gemaak het, vergeet hy dit nooit weer nie al duur dit sy hele lewe lank. Hy sal die ou windbroek nou baie fyn moet dophou, want hy sal probeer om op alle moontlike maniere kwaad op die plaas aan te rig. As hy hom op die kleinste ding betrap, sal hy die beste advokaat in die land kry en kyk of hy hom nie in die tronk kan boender nie. Met daardie soort mense kan mens nie praat nie; jy moet hulle sonder genade onder kry, anders is dit verby met jou.
Van die praatjie oor ou Jaap se dogter glo hy nie 'n woord nie. Dit is eenvoudig 'n slinkse plan om Henning in 'n val te lok, hom te dwing om met die ou skelm se dogter te trou, want hy weet dat Henning vir Boskloof moet erwe, dit sal 'n goeie huwelik wees om die ou bankrotspul daar bo weer uit die modder te trek. Henning
| |
| |
sal 'n aap wees as hy dit doen - en so wragtig, as hy op daardie manier gevang word, dan onterf hy hom, dan kry hy nie 'n blou duit nie, dan moet hy en ou mankbeen-Jaap se dogter maar kyk hoe hulle oor die bult kom. Die klein duiwel het hom alreeds genoeg sonde besorge; dit sal nie veel kos nie en dan vee hy sy naam heeltemal van die testament af.
Ja, hy het groot planne wat hy haarfyn uitgewerk het. Hierdie end lewe wat vir hom nog voor lê, sal vrugbaarder wees as sy hele verlede. Hy voel sterk en wilskragtig, hy voel of 'n tweede jeug weer in sy murg sit. Al wat hy nodig het, is dat 'n jong vrou sy dooi en eentonige huis weer lewendig moet maak. 'n Fyn glimlag kom om sy lippe, en dan kyk hy weer na die populiere wat bokant hom uitstrek na die hemel; hulle blaregeruis is soos sterwende orrelmusiek om hom; dit bou hom toe met 'n ontsagwekkende bewing wat gaan of dit uit die hele omgewing stroom, of dit 'n stem is wat uit die aarde opsing, diep en breed, 'n himne van die natuur aan sy eie skeppingskrag.
Hy skreeu luid na Spantou en die jong verskyn. In die laaste tyd het hy alte veel moeilikheid met die werkvolk. Hulle kla dat hulle nou te veel moet werk. Nou die aand het hy die Basoeto wat hy gehuur het om die skape op te pas, met een taai klap onderstebo laat rol toe van die skape twee dae na mekaar weg was.
| |
| |
Die volgende more was hy met sy hele pakaas weg, en nou is dit weer 'n gesukkel van die more tot die aand.
‘Sê vir baas Buks hy moet kom help; ons moet hierdie twee bome afsaag. Ek wil weer jongetjies plant. Bring die treksaag en ook die groot byl. Toe! Hardloop!’
So, vol van die blaregeruis, staan hy en wag vir die bywoner. Dit is of die musiek hom vashou, hom boei met 'n duister bekoring, net of dit hom bind aan verre, vergete dae, aan geslagte wie se stemme in die ritseling van die blare is, in die stemme van die aarde wat bly sing lank nadat die mens wat daaruit voortgekom het, al weer deel daarvan is.
| |
VII
Wat nou presies op daardie more gebeur het, sal niemand kan sê nie, want die berig het net pas bekend geword of 'n stortvloed van verhale, van opgewonde bylassings deur die verbeelding, van vingers wat profeties na die lug gewys word met 'n seëvierende: ‘ek het jou gesê!’ het die hele omgewing in beroering gebring. Dit is vertel dat oom Sybrand, soos Dawid vir Bátseba begeer het, 'n fyn uitgedinkte plan gehad het met die afsaag van die populierbome. Hy het gesorg dat een van die bome vir Buks raak val sodat hy, sonder dat iemand hom daaroor voor die hof
| |
| |
kan sleep, sy sin kan kry. Ander het gedeeltes bygelas hoe die ou heiding vir Buks vinnig onder die neervallende boom ingestamp het, so vinnig dat die jong wat daar by was, dit nie eers gemerk het nie. Daar was geen einde aan die versinsels en nuwe maniere waarop die voorval betrag is nie. Wat die uitleg ook al is, hoe die eenvoudige voorval ook verwring lê onder valse waarneming, hoor-sê-getuienis en die drif om in die wens die werklikheid te sien, een ding was egter duidelik temidde van al die troebelheid: oom Sybrand word voor die voet verdink, beskuldig en verdoem.
In rustige huise, waarin die nuus skaars is, word oor niks anders gepraat nie, verwensings geuit en gewoonlik bygevoeg: ‘God sal soiets nie ongestraf laat nie.’
Buks is na die huis gedra. Hy het ondraaglik pyn in sy rug gehad, maar het geduldig gelê sonder dat hy eenmaal 'n klagwoord geuit het. Soos in sy eenvoudige lewe, so was hy ook noudat dié slag hom getref het, geduldig en nederig asof hy niemand moeite wil aandoen nie, asof hulle 'n bohaai oor 'n nietigheid maak. Hy het selfs geweier dat oom Sybrand die dokter moet laat roep, want hy was seker dat hy ‘more weer op die been is’. Die lang middag het verby gegaan, maar die dokter het nie gekom nie.
Oom Sybrand het aaneen by die bed gestaan en kort-kort gevra: ‘Hoe gaan dit nou, Buks?’
| |
| |
En dan was die nederige antwoord maar: ‘Beter, dankie oom.’
Maggie het pappe op die rug gesit en nou staan sy ook langs die bed en sê kort-kort: ‘As hy net eers kan slaap, sal alles regkom.’
Oom Sybrand vermoed wat die skinderbekke sal sê. Sy gesigspiere is hard gespan. Wie kon ooit verwag dat die boom in sy val teen 'n andereen so geweldig sou swaai dat die afgekapte stam die arme kêrel sou raak? So byna hê-tê-tê het hy self die slag in die maag gehad.
‘Hou maar moed,’ sê hy vir Buks, ‘die dokter is netnou hier,’ en Buks antwoord flou: ‘Oom moes nie die onkoste gemaak het nie. Ek voel beter.’
Maar Buks het nie beter geword nie. Toe die son rooi deur die kamervenster kom, toe sterwe hy geduldig en beskeie asof hy in sy laaste oomblikke vir niemand te veel moeite wil gee nie.
En nou lê sy hard-gewerkte hande, met die breë, gebarste naels, op sy bors. Hulle is gevou en rus na sy sware taak. Hulle lyk soos stukke gesnyde hout, hoekig en bruin, met die dood se geel glans daaronder. Hulle lê ontstellend stil daar langs die brandende kers asof dit van 'n steengeworde lyk is wat eeue al so rus. Daar bokant is die profiel, stil en effens vervalle, van 'n mens wat altyd gevoel het of hy 'n stiefkind van die lewe is.
Die volgende dag word sy graf in die familie- | |
| |
kerkhof gegrawe, waarvan die stram hek weer oopgedraai moes word. Die graf word 'n hele end weg van die ander gemaak, naby die hoek van die kerkhof, omdat Buks nie tot die familie behoort nie en omdat hy maar net 'n bywoner is. |
|