| |
| |
| |
Hoofstuk V
I
Die huis waarin ouma Willa eenmaal gewoon het, is weer oopgesluit, nuwe stemme klink daarin op, ander wesens gee 'n eie kleur aan die woning.
Buks is 'n boer wat nooit saam met die son opstaan nie. Van jongsaf, toe hy as 'n weeskind skape vir 'n ryk boer opgepas het, tot vandagtoe, het hy geleer dat die lewe 'n mens maar bra wild behandel, dat jou hande altyd hard gelooi moet wees van die werk anders raak jy agter, gryp die skuld jou vas en word die bestaan 'n ongenadige gevangenis. Hy het pragtig aangegaan, 'n vyfhonderd skape besit, en toe het hy ná sy troue 'n stuk grond gehuur. Maar hy het klap op klap gekry. Hy weet dat daar mense in die omgewing is wat woes geskinder het oor sy vrou, dat sy spandabel is, dat sy bokant hulle inkomste lewe. Hy self praat egter nie 'n woord daaroor nie. Sy vrou is die dogter van 'n kêrel wat bakstene op die dorp karwei. Daar in 'n vaal, verwaarloosde huisie het hy haar vir die eerste keer ontmoet. Hy kan nie sê dat hulle baie gelukkig saam was nie. Sy torring oor die laaste ding wat hy doen.
| |
| |
Dan eet hy te veel as daar mense is, dan het hy nie opgestaan om die koffie by haar te vat nie en dan vergelyk sy hom weer met ander mans wat so netjies is dat jy hulle deur 'n ring kon trek. Maar hy swyg op al dié aanklagte, want hy is 'n stadige, maar baie deeglike man. As hy 'n ding gedaan het, dan hoef jy jou nie weer daaraan te steur nie. Dit is deur 'n gewetensgetroue werker verrig.
Vanmiddag sit hy op die agterstoep van die huis, besig om sy tuie, na dié rondtrekkery, reg te maak. Sy riempies is netjies gesny en gestryk en stadig en noukeurig maak hy die gate met die els en as die twee riempies naas mekaar verby gegly het, trek hy hulle met pesige hande so vas dat hulle diep wegsak in die voortjies wat hy in die leer gemaak het. Dit is duidelik aan sy voorkop, sy oë, skouers en hande dat hy 'n groot liefde vir hande-arbeid het en dat hy hom met 'n volledige oorgawe aan die eenvoudigste werk kan wy sodat hy vir ure verlore daarin is asof daar niks elders op die wêreld bestaan nie. As hy 'n paar velskoene gemaak het, dan kan jy maar met 'n passer meet: al die steke is net ewe ver van mekaar, die sole presies eners gesny, die riempes net ewe lank. Sy werkmanskap is vir hom alles. Hy is gedurig besig met iets, en enige presiese boer sal nêrens in die wêreld 'n beter en betroubaarder bywoner kry nie.
Nou en dan kyk hy op van die tuig af. Terwyl
| |
| |
hy werk, dink hy langsaam en met veel aandag aan besonderhede oor sy verblyf op hierdie plaas. Hy kan nie sê dat hy baie van Oom Sybrand hou nie, maar een ding is seker: dit is 'n boer honderd. Die man wat werk uit sy twee hande wil vat, moet hom ken. Buks het respek vir sy fluksheid, sy presiesheid en liefde vir sy plaasgoed; dit is so na sy hart. Maar wat sy toekoms hier op Boskloof sal wees, weet hy self nie. Hy was so gelukkig toe hy sy stukkie grond gehad het, maar die geldlenery teen hoë rente waarmee hy moes begin, het hom klaar gemaak.
Dit gee hom 'n liggaamlike genot om die riempies so deur die gate te werk, dit dan styf te trek en die netjiese werk te sien, so goed asof 'n geoefende tuiemaker dit gedoen het.
‘Mens slaap jy? Hier is vir jou koffie.’
‘O.’ Sy maer hand met die breë vingertoppe skiet na die koppie koffie toe uit wat sy vrou, Maggie, dwars-weg vir hom aangee. Sy kyk met 'n suur gesig na wat hy doen. Haar oë is groen-grys en onrustig. Haar gesig is mooi gevorm en haar lig-rooi hare verskerp die aantreklikheid van haar gesig. Hy drink die koffie stadig, en daar kom 'n wrewel in haar op toe sy hom so sien sit met die tuig, die koppie koffie en dié paar groot hande. Hulle bly net waar hulle is; hulle boer eerder agteruit. Sy bly die spot van ander vrouens wat meer as sy besit.
| |
| |
Sy moes met 'n ryker man getrou het. Sy was glad te haastig. Maar haar pa het haar so gedrywe, omdat daar nog agt ander in die huis was. Waarom moet die ander ou spul vir haar neus optrek, en opeens sê sy stuurs: ‘Dié ou huis is 'n ouderwetse gemors. Mens sal jou hier dood sukkel.’
Hy kyk op; sy doodlangsame gebare maak haar woedend, want hy is alte veel soos 'n trapsuutjies. Hy kyk haar met getroue, beweeglose oë aan en dit laat haar net nog meer ongeduldig voel. Hy sê niks. Hy wil hê sy moet nog meer verduidelik.
‘Ek sal my hande deursukkel in hierdie ou huis. Die ou stoof is totaal deurgebrand en die meid moet 'n vreeslike end loop om water by die fontein te gaan haal. Ek wonder wanneer ek ook eendag 'n bietjie ordentlik sal kan lewe? Die hele ou bywonergedoente maak 'n mens vies.’
Hy antwoord niks, want hy weet nie wat om te sê nie. Sy vrou moet maar net by hom staan. As hy sy bes doen, kan hy darem vooruitboer. Toe daar geen woord van hom kom nie, loop sy vrou vererg na binne. Daar gaan sy ingekrimp op 'n stoel sit, heeltemal neerslagtig en sonder toekomsdrome. Sy sien vir Henning deur die venster aankom en vinnig spring sy op, hardloop na die eenvoudige muurspieëltjie, kam haar hare en poeier haar gesig. Haar triestige
| |
| |
stemming verdwyn. Ywerig begin sy koppies reg sit vir die koffie. Die aanwesigheid van 'n man, van 'n aantreklike jongkêrel het haar hele middag verhelder. Met 'n oorvriendelike gesig bring sy die koffie na die stoep.
| |
II
Skuld werk stadig maar seker; soos 'n skroef draai dit jou al vaster. Jy leen hier en leen daar om ou bedrae af te betaal; telkens word die rente hoër en groei die skuldlas aan. Tot die stram tou breek en jy daaronder lê. Oom Gert het hotkant-toe en haarkant-toe gedink, hy het woeste beskuldigings so in sy allenigheid geslinger na almal wat hom ‘heeltemal wil uittrek,’ soos hy dit genoem het, maar dit het niks gehelp nie en die swaar dag het soos 'n vaste sandstorm op hom afgekom. As Sybrand hom net 'n kans wou gee met die vyfhonderd pond, dan kan hy hom miskien stadig loswikkel uit die kwaai skuldgreep. Maar noudat dit duidelik geword het dat die stringe gaan breek, is die laaste een soos 'n wildehond by om te aas. Hy moet dood, hy moet vrekgemaak word! Tweekeer het hy al gaan praat met Sybrand. Dit het niks gehelp nie. Hy wil nie 'n duimbreedte toegee nie. Hy wil elke pennie rente hê en die hele kapitaal op die vervaldag, anders vat hy Maria se deel van Boskloof. Kan jy
| |
| |
jou ooit 'n harder mens voorstel? Op en af kuier oom Gert langs die stoep. Sy dungeslyte klerksbaadjie hang komieklik om sy geboë lyf; soms lyk hy soos 'n kraai wat 'n toga aan het, dan weer soos 'n koster wat baie swaar dae agter die rug het. Sy gesig het slap plooie waarop die stoppelbaard van agt dae orent staan. Om sy nek het hy 'n verbleikte serpie, naas sy harde boordjie sonder das. Die groot boordjieknoop loer soos altyd geel onderkant die riffelrige gorrel uit.
Met vrou en kinders moet hy nou na die dorp. Hulle sal hom so rot-en-kaal uitverkoop dat hy skaars brood sal hê om te eet. En wat sal hy daar kan doen om te bestaan? Daar is genoeg mense wat karweiwerk doen; as hy 'n kans kon kry as koster, sou dit gaan, maar Bêrend Lubbe kan nog baie jare hou. Kort-kort trek die asma hom neer, maar 'n ruk daarna loop hy maar weer met sy brandmaer lyf rond. Nee, die toekoms is donker. Die meeste van sy kinders is klein. Hy sal nog jare vir hulle moet sorg. Daar is net een uitweg: Sybrand moet wys dat hy nog 'n Christenhart het. Hy moet hulle 'n kans gee om in die huis te bly woon, om 'n klompie skape aan te hou - ja, om dan maar 'n bywoner by sy eie swaer te wees! As hy dorptoe moet gaan, sal hulle krepeer van ellende. Die vader weet dit sal 'n nagmerrie-lewe word.
Oom Gert loop van die stoep af en op die werf
| |
| |
gaan hy staan en kyk oor die plaas heen, verlore in moedelose gepeins. Sy gekromde figuur, so allenig en roerloos daar, teken hom teen die ruimte af in al sy onbeholpenheid en verslaentheid teenoor die hardvogtige gang van die lewe. Sy vrou kom by die deur uit. Haar hare is byna grys; haar gesig het duideliker as tevore die trek van moederlike edelmoedigheid, van trouhartige bystand en noeste volharding.
‘Gert! Kom drink koffie.’ 'n Weke medelyde kom in haar op toe sy hom so verslae, so weerloos teen die lewe daar op die werf sien staan. Sy as vrou, met haar sekure aanvoeling, het altyd geweet dat hy geen praktiese boer is nie, dat hy dromerig dinge maar laat gaan soos hulle wil sonder om in te gryp. As mense hom net met vrede laat, dan kan hulle maar hulle gang gaan. Stry kon hy nooit. Nou het die lewe hom vasgevat; hy moet nou wys dat hy 'n wil het. Maar sy sien so duidelik dat hy nie kan nie. Hy krummel weg voor die aanslag; hy smeek met honde-oë instede dat hy sy tande ook 'n slaggie wil wys. Sy steek haar arm deur syne toe hy met die stoeptrappies op kom, en hierdie daad van moederlike jammerte en fyne begrip laat die trane in sy oë blink, sodat hy moet wegkyk oor Boskloof heen. Ja, hy voel diep skaam en vernederd, want hy het sy brawe, verstandige vrou van die begin tot die end in die skande gesteek. Deur sy domheid, sy gebrek aan prak- | |
| |
tiese begrip het hy haar goed help deurbring, en tog in weerwil van alles het daar nog nooit 'n woord van beskuldiging oor haar lippe gekom nie. Van vroeg tot laat werk sy; sy kla nooit; haar hande staan reg vir elke taak wat kom. ‘Toe maar, ou man,’ sê sy toe hulle na die spens stap, ‘hou maar moed! Daar kom sulke dae in 'n mens se lewe dat dit lyk of alles aan stukke wil breek. Maar vertrou maar net op God. Dit moet weer regkom.’
Hy vat sy koffie en sit dit ingedagte en drink.
‘As dit maar waar was, Maria. Maar hierdie ding kan nie meer regkom nie. Bid help ook nie meer nie, want dit is nou al maande dat ek vurig bid, maar dit bly maar bult-af gaan. Ek verstaan God se weë nie. Hy het my geskape soos ek is, en Hy weet dat ek die waaragtige waarheid praat: ek is 'n groot mislukking! Sulke mense is net 'n vloek vir 'n ander, hulle hoort nie op die aarde nie.’
Trane staan in sy oë; sy stem is opreg, sy woorde is 'n ruwe belydenis van diepe oortuiging. Sy vrou kom langs hom staan en sit haar hand langs sy maer nek.
‘Nee, Gert, so moet jy nie praat nie. Ek sal jou help dat ons deurkom. Jy is nie 'n mislukking nie. Jy is net in 'n rigting gedwing wat nie by jou aard pas nie. Jy moes nie 'n boer geword het nie. Jy was 'n man vir die boeke.
| |
| |
Jy moet nie nou moed verloor nie. Dink aan jou kinders. Ons almal sal pal by jou staan.’
Haar stem het 'n vaste klank; dit is van 'n mens met wilskrag en hoop. En tog is daar iewers 'n bars in, net of sy nie heeltemal oortuig is van wat sy sê nie, net of sy wil troos en die skerpe werklikheid vermy. Oom Gert antwoord nie. Hy sit oumanagtig voor hom en uitstaar. Sy vrou besef dat sy moet ingryp, dat haar raad nodig is.
‘Ek sal jou sê wat ons doen, Gert: ons stryk netnou saam na broer Sybrand toe. Ek sal dié slag met hom praat. Ek sal hom vra om ons 'n kans te gee om nog hier te bly. Na my sal hy luister.’ Oom Gert luister met min hoop in sy oë en kalm antwoord hy: ‘Goed, ek sal saamgaan, maar ek dink jy gaan net jou woorde mors. Niks kan daardie man se hart vir sy medemens vermurwe nie.’
‘Ek sal jou wys wat ek kan uitrig,’ sê sy met gemaakte opgeruimdheid; ‘ek laat die lewe my nie kleinkry nie!’
Sy gaan haar kappie opsit en loop saam met haar man by die agterdeur uit. Oor die plaas hang die lug van 'n warm nasomer. Nog geen reën het geval nie en die wêreld is droog en onvriendelik. Rustig loop die paar met die voetpad langs - sy voor en hy, met die hande agter die rug, agter. Die hitte slaan uit die
| |
| |
velde op en laat hulle warm en onaangenaam voel.
‘Dit lyk my maar 'n bra snaakse vrou van die bywoner Buks,’ sê tant Maria toe hulle naby die ou woonhuis kom.
‘Ja,’ antwoord oom Gert met die stem van 'n man wat deur bekommernis afgebeul is, ‘dit sal vir die klein kêrel ook maar 'n strawwe lewe wees, want hy ken nog nie vir Sybrand nie. Hulle sê dat die ou vroutjie van hom vreeslik spandabel is. Sy het hom glo al byna verrinneweer.’
‘Ja,’ sê tant Maria en haar lang rok woer-woer oor die onegalige pad; ‘sy kom maar uit 'n baie swak klas. Haar pa drink glo omtrent alles uit wat hy met karweiwerk verdien, en die dogters het sommer so wild groot geword. Maar Buks is glo 'n fluks kêrel. Hy het onder begin en almal wat hom ken, sê dat hy van die more tot die aand werk. Maar wat help dit: wat hy by die een deur inbring, gee sy by die ander een uit. Ek vertrou haar nie. Net waar sy 'n man sien, daar is sy. Daar word baie lelike dinge van haar vertel. Op die plek waar hulle vandaan kom, het sy haar glo swak gedra. 'n Poliesman wat haar vroeër geken het, het ure daar stilgehou met sy perd as haar man weg is. Die laaste een het daarvan gepraat, net die arme, goeie siel, Buks, het geen onraad gemerk nie en weet tot vandag toe niks nie. Hy is een van die soort
| |
| |
mense wat jy voor sy oë kan kul. Hy sal jou nooit verdink nie.’
Toe hulle by die huis verby kom, kry hulle vir Buks net besig om skoene te versool. Vriendelik en onderdanig groet hy vir oom Gert en tant Maria en hy nooi hulle om binne te kom.
‘Dankie,’ sê tant Maria; sy het agter die raam 'n paar oë gesien wat vlugtig loer, toe verdwyn; ‘ons is op pad na broer Sybrand toe. As ons van hom af terugkom, sal ons by julle langs kom.’
‘Goed tante,’ sê Buks en hy trek sy paphangende broek hoër. ‘Hoe lyk dit vir oom: gaan ons reën kry?’
‘Nee, man,’ antwoord oom Gert; ‘dit is 'n slegte jaar hierdie. Sybrand was nog gelukkig om daardie hawer te wen. Dit word 'n slegte winter. Nou ja, ons kom netnou hierlangs.’
Die twee gaan verder, loop by die duik deur en stryk netnou by oom Sybrand se huis se agterdeur in. Tant Betta is net besig om koffie wat sy gebrand het, uit die stoof-oond te haal. Dit versprei 'n skerp geur deur die hele huis. ‘Gaan julle maar deur spens-toe,’ sê sy, ‘ek is klaar met hierdie werk.’
Oom Gert en tant Maria gaan sit. Albei voel onrustig, met 'n drang daarby om nederig en vleierig te wees. Tant Betta kom neem plek naas die kassie waarop die koffieketel staan.
‘Ek is bly om te sien dat julle weer hier
| |
| |
uitslaan,’ sê sy met die stem van 'n mens wat min gesels; sy weet nie wat hierdie twee bekommerde mense voortdryf nie. Haar man se doen en late is vir haar 'n geslote boek.
‘Ja,’ sê tant Maria; ‘ons het gedag ons sal vanmiddag bietjie hierheen kom; ons wil baie graag met Sybrand praat. Is hy miskien in die nabyheid?’
‘Ja. Daar kom hy nou uit die tuin aan.’
Dit is vir tant Betta of sy hierdie mense heeltemal afgesterwe het, want sy lewe in 'n kringetjie ver weg van hulle af, al is hulle familie. Sy het al die behoefte aan geselskap verloor en sy voel onhandig om 'n gesprek te voer.
‘Ons hoor dat Jaap hier bo vir Sybrand gedagvaar het oor die dam se water wat uitgeloop het. Is dit so?’
Tant Betta voel skaam dat sy so sleg op hoogte is met wat om haar gebeur en onskuldig antwoord sy: ‘Nee ek weet daar niks van nie. Waar het julle dit verneem?’
‘Op die dorp,’ sê tant Maria; ‘daar praat die mense almal oor die skelm streek van die persoon wat Jaap se dampomp oopgetrek het. Dit is darem vreeslik gemeen,’ sê sy vleierig, ‘om 'n ander van so 'n lae iets te beskuldig. Maar ou Jaap was maar altyd 'n ou korrelkop. Met die laaste een het hy altyd rusie.’
Swaar voetstappe word in die kombuis gehoor
| |
| |
en oom Sybrand bring met hom 'n stemming mee wat vyandig lyk vir enige toenadering. Hy groet kortaf, met betekenislose neusgeluide daarby. Soos hy daar op die stoel sit met sy boelhond-gesig en vaste lyf lyk hy vir oom Gert die laaste man op die wêreld met wie jy kan onderhandel. Dit is darem rêrig swaar as die lewe jou dwing om hierdie vernedering te ondergaan. Hy sê niks en wag maar geduldig op sy vrou se woorde. Oom Sybrand vermoed wat gaan kom; die twee saam is nie vir dowwe neute hier nie. Daarom sy afwysende houding waarin hartlikheid en simpatie nie kan posvat en hom dalk van sy koers af dwing nie.
‘Hoe gaan dit met jou, Sybrand?’ vra tant Maria nou, enigsins skel en onnatuurlik, want die gesprek moet tog begin. Oom Sybrand gee net 'n kort snorkgeluid wat moet aandui dat alles met hom nog wel is. Tant Maria word onrustig. Die atmosfeer is totaal verkeerd. Hoe moet sy hierdie vernederende ding regkry? Tant Betta voel die akeligheid in die verhouding en senuweeagtig begin sy koffie inskink.
‘Hoe lyk jy dan so sieklik, Betta?’ vra oom Gert en sy stem breek los uit 'n geslote lewe vol kommer-stemming. Oom Sybrand frons sy wenkbroue vaster toe hy hierdie vraag hoor en tant Betta antwoord ontwykend: ‘Nee, dit gaan darem. Dit help tog ook nie om te kla nie.’ Dan drink almal swyend hulle koffie, tant Maria
| |
| |
vra nog uit oor Henning en sy suggereer van 'n ‘nooie’ wat hy in die stilte het, maar oom Sybrand se houding moedig hierdie ligvaardigheid nie aan nie, en tant Maria voel dat sy nou maar teen die vyandige stemming moet inbeur met openhartige woorde. Haar gesig is nou skielik streng, maar trotserend en eerlik. Sy het die vleierigheid laat staan, want sy het gou aangevoel dat dit geen indruk op haar broer maak nie. Die beste manier om hom aan te pak, is met reguit, vaste woorde. As jy hom sommer tromp-op loop, respekteer hy jou; as jy buig en vlei, dan vertrap hy jou net verder, want hy sien dit vir swakheid aan. Sy rig haar oë hard en verstandig op hom en begin met 'n duidelike stemklank byna of sy 'n vergadering wil toespreek: ‘Sybrand, jy weet waarom ons hier is vanmiddag. Ek wil sommer baie reguit met jou praat. Gert was al by jou, maar jy wou nie help nie. Soos dit nou is, het jy die hele Boskloof. My stuk, wat ek van oorlede pa geërwe het, kry jy nou ook by. Ons het alles verloor; die moeilike tye het ons gemoor. Nou kom vra ek as jou suster vir jou reguit: gee ons 'n kans, Sybrand. Ons het moeilike jare agter die rug; die kinders is nog klein en as ons op die dorp moet gaan bly, sal ons grond-toe gaan. Jy weet dit. Gee vir ons net 'n kans. Gee vir ons dieselfde voorwaardes wat jy vir Buks gegee het. Ons vra niks meer nie. Jy vat nou my stuk
| |
| |
grond, maar wys nou dat jy ons nie wil verstoot nie. Ons hele toekoms hang nou van jou af.’
Haar oë is fier op hom gerig; sy is uit dieselfde harde hout as hy gesny. Ook sy is selfstandig van geaardheid en dit is vir haar 'n las, 'n vernedering om hierdie guns te vra, maar in die laaste tyd het die sweepslae van die lewe haar laat buk.
Sy hou haar broer se gesig dop; sy lees die gebrek aan goeie wil daarop, die stuurse vasklou aan 'n paar vaste oortuigings. Hy is 'n kêrel wat swaar praat; hy handel liewers. Nou probeer hy nie die hele saak mooi en verstandig uit te lê nie. Hy sê maar reguit, kwetsend, wat hy voel, want dit is sy manier. Die lewe het hom geleer dat mens langs dié pad die verste kom. ‘Nee, Maria,’ sê hy met die kortaf manier van praat wat soms na verbete blaffies lyk; ‘ek het baie goed oor die saak nagedink, en ek sê vir jou sommer reguit: geen familie van my as bywoners op my grond nie. My eie dogter het my gevra of hulle nie hier oorkant in oorlede ma se huis kan kom bly nie. Ek het botweg geweier. En ek sê nou dieselfde. Dit is nie besigheid nie! Dit word 'n nare gedoente. Almal lê naderhand op een bondel en doodgaan. Ek sê nee, ek sê gladnie!’
Tant Maria kyk vas in sy oë; daar is iets in sy argument wat spreek tot haar besliste karakter; sy weet dat hy mik op Gert se onbekwaamheid. Met 'n seer gevoel besef sy dat hy naby
| |
| |
die waarheid kom, maar dat hy so harteloos, so koelbloedig vir hulle na hulle ondergang kan stuur, maak haar bloed warm. Sy staan op, rysig en sterk. Nou glo sy alles wat Gert haar vertel het van Sybrand se gryplus. Liewers daagliks gebukkend staan oor die wasgoed van ander, liewers in 'n grondvloer-huis woon op die dorp en swoeg van vroeg en laat vir jou kinders, maar om so verneder te word of jy en jou man volk is, is te veel. Haar selfstandigheidsgevoel seëvier, die las van stoflike dinge, van skuld en verpligting skud sy van haar af. Sy is nou weer die vrou wat nie bang is om haar hande uit haar mou te steek nie, wat geen guns wil afsmeek nie; sy is nie bang vir die toekoms nie. Sy plaas haar hande in haar sye en sê: ‘Kom, Gert. Kom ons loop. Maar net voor ek loop, wil ek dit vir jou sê, Sybrand: jou dag sal nog kom! Jy het nie meer 'n hart nie. Hierdie selfde Boskloof sal hom nog op jou wreek. Jy moenie dink jy kan maar so aangaan nie. Die dag van afrekening kom en dan is dit te laat.’ Plegtig, of hulle vir goed afskeid neem van bekendes, loop hulle by die agterdeur uit.
‘Jy was reg,’ sê tant Maria vir haar man, ‘ek skaam my vir my eie broer. Ek weet nie wat oor hom gekom het nie, maar die wêreldse goed het hom blind gemaak. Hy kan tog al die goed nie saamvat as hy sterwe nie. Hy sal nie
| |
| |
kan sterwe nie, dit sal vir hom te swaar wees om afskeid te neem.’
Langs mekaar loop hulle, deur lyding verbonde. 'n Onverbiddelike dag-van-more wag. Dit is goed, dit is bevrydend om 'n ander te verwens en te verwyt, maar nou kom die onontwykbare werklikheid, die klein skaafplekke, die vrae wat moet opgelos word. Hulle kyk albei oor Boskloof heen. In die verte slaan die stof van trekkende skape op en daaragter sak die son soos 'n wit vlammende kol in en laat hulle hier alleen in die groot ruimte met hulle angs vir die komende dae. Nou is hulle by die populiere wat al effens geel gekleur is en glansend bo hulle in die middaglug ruis soos verre golfgeluid.
Sy steek haar hand deur sy arm. ‘Hou maar moed, Gert; God sal sorg vir ons.’ En so loop hulle aan, twee mense wat die lewe saam moet dra.
| |
III
Die praatjie dat oom Sybrand die skuldige is wat oom Jaap se dampomp oopgetrek het, het ontsettend veel kwaad bloed geset. Die polisie kon nie met die saak voortgaan nie, want daar was geen bewys nie. Hulle het hot-en-haar onder die volk rondgevra, maar hulle kon nie die geringste spoor van die boosdoener ontdek nie. Net tant Betta het geweet, alhoewel haar
| |
| |
man dit nooit vermoed het nie, maar haar mond was verseël, sy het nooit die minste laat blyk wat sy daardie nag waargeneem het nie. Oom Jaap het hoog en laag gesweer dat hy die ou skelm nog sou kry, al is dit oor twintig jaar, en hy het met sy kierie vloekend in die rigting van Boskloof beduie sodat sy vrou bang was dat hy van dié buitensporige opwinding dalk die beroerte kan kry. Johanna het dit alles aangehoor, en dit het duideliker as tevore vir haar geword dat sy nooit, so lank as wat sy hier by haar ouers woon, met Henning sal kan trou nie.
Sy en Henning het besluit om weer met haar vader te praat, hom te oortuig van die redeloosheid van sy standpunt. Nou weet sy, ná die dreigemente met polisie, ná die verslegting van die verhouding tussen die bure dat as sy met so 'n versoek na haar pa kom, hy bepaald vreeslike dinge kan doen.
Die ontmoeting in die kloof het die skeiding tussen haar en Henning onuithoubaar gemaak. Elke slag, ná liefkosing en woorde vol hartstog en oorgawe, gaan dit swaarder vir haar om van hom weg te kom. Sy weet dat haar moeder se agterdog opgewek is. Sy het haar nou belet om na die randjie te loop in die middag.
'n Ander plan is deur die wakende ouers uitgedink. Johanna sal drie uur te perd van Langvlei af by haar tant Tienie gaan kuier; as Henning miskien daar aankom, moet hy soos
| |
| |
'n brak weggeja word. Johanna sal ander kêrels ontmoet en dié breë-gesig so vergeet! Johanna huil omtrent nou dag en nag. Sy word lelik; haar gesig en oë is rooi opgehewe. Haar ma het nog nouliks met haar gepraat, dan kom die trane, dan skud sy soos sy huil. Haar weerbaarheid is gebreek; die spanning het haar hele gestel ondermyn.
Sy staan voor haar kamervenster en kyk na die pad, die randjie en kloof wat vir haar so dierbaar geword het. Saterdag sal tant Tienie haar kom haal, maar haar hele wese skreeu om te bly; dit is of hulle haar met wortels en al uit hierdie grond sal moet trek. Sy sal sterwe; haar groeikrag en lewe sal ongeneeslik gekwes wees.
Sy sien 'n kar met die pad afkom. Die getoktok word duideliker. Dit hou voor die deur op en die predikant en ouderling klim uit die kar. Sy hoor die gehamer aan die voordeur, maar is te bang om te gaan oopmaak. Sy het alle selfvertroue verloor, sy is vol selfbeskuldiging, sonder houvas, sy het geen beheer meer oor haarself nie. Sy hoor hoe haar moeder die gaste binnenooi. Sou hulle oor haar kom praat het, oor haar liefde vir Henning? Haar ouers het dit vir haar al so baiemaal voorgestel as 'n onheilige, lelike iets dat sy nou huiwerig begin dink dat die hele wêreld daarbuite haar optrede ook so beskou. Die predikant kom om haar te
| |
| |
bestraf oor haar sonde. Sy sal voor hom moet verskyn en sy is te bang, te weerloos. Sy sal net weer wild in trane kan uitbars en 'n spot van haar maak. Sy kan die las nie meer alleen dra nie. As haar ouers nie rede wil verstaan nie, gaan sy naderhand haar hand aan haar lewe slaan. Sy wring haar sakdoek histeries in haar beswete handpalms. Elke oomblik kan haar moeder haar nou roep, dan sal die sware beskuldigings van sonde en verdoemenis volg, en sy sal niks kan sê nie, maar net deur dié harde woorde magteloos ineengeknak word.
Maar haar moeder kom nie. Sy hoor die stemme harder dreun. Haar vader het bygekom. Sy gaan nader na die deur, kyk deur 'n barsskrefie. Die predikant leun vooroor; hy beduie met opgehewe wysvinger: ‘Nee, broer,’ sê hy met nadruk, ‘ons kan die ding nie hier laat nie. Die hele distrik praat van die rusie. Julle is nie heidene om so voort te gaan nie. Ons wil u nou hier oplaai om saam met ons te ry na u buurman, oom Sybrand, toe. U moet u hand in syne lê en erken dat u altwee 'n bietjie skuld het. Mens is nooit heeltemal reg nie. Die ander man het ook sy standpunt. Kom nou, broer, wees groter as al dié kleinlike dinge. U sal self voel hoeveel gelukkiger u daarna is. Sulke dinge hinder 'n mens.’
Johanna se hart klop tot in haar keel. As haar vader nou vergewensgesind is, as hy saamry
| |
| |
na oom Sybrand toe, dan is die moeilikheid uit haar lewe verwyder; dan kan sy en Henning trou. 'n Golf van vreugde kom oor haar sodat sy histeries kan uitbars van die lag. Maar haar stemming verander gou weer, want haar vader stamp hard met sy kierie op die vloer, en terwyl sy vrou hom ophitsend aankyk, sê hy met 'n hese skreeu-stem: ‘Nooit, dominie! Nooit! Ek is geen huigelaar wat bo-op vriendskap sluit en onder in my hart nog 'n wrok dra nie. Ek vergewe nie met die mond alleen nie, maar ook met die hart. En al vergewe jy, jy vergeet dit nooit nie! Die hele ding moet onder van die wortel af regkom. Ek sê u dit: dit sal nie regkom nie! Ek is al jare dié ou korrelkop se buurman en ek wil u eerlik sê dat as ek more my grond teen 'n goeie prys verkoop kan kry, dan trap ek. Nee, dominie, moet nie dit vir my kom vra nie. Dit is net so goed of u vir my sê ek moet op 'n onderduimse manier die ding regmaak. Wat ou Sybrand aan my gedoen het, vergeet ek nooit, en al bring julle die hele Ring en Sinode, dan steek ek nog vier kloue in die grond vas.’
Johanna se hande is styf inmekaar gewring. Dit is nutteloos, volkome nutteloos. Sy sal na haar tante moet gaan; haar vader sal haar liewers vernietig sien voordat hy buig. So werk die verbitterdheid met 'n mens.
Die predikant probeer nog 'n slag. ‘Broer,’ sê hy so verstandig as ooit, ‘sê nou maar u of
| |
| |
u buurman moet vannag te sterwe kom, hoe kan u dan voor God verskyn? U het die geleentheid gehad om vrede te maak, maar u het dit laat verbygaan. Kom, wees nou grootmoedig,’ sê hy op 'n toon byna asof hy met 'n opgeskote kind praat.
Maar oom Jaap leun nou ver oor sy kierie, die jigbeen reguit oor die vloer: ‘Nee, dominie, ek het u eerlik gesê wat ek dink. As ek vannag te sterwe moet kom, sal ek met 'n rein gewete my Skepper tegemoet gaan, want ek weet dat ek nie die skuldige, die rusiesoeker is nie.’
Die predikant skud ontmoedig sy hoof en sug. ‘Nou ons moet ry,’ sê hy vir oom Andries wat die hele tyd weer met 'n guitige blik in sy oë na ou Jaap se gedoente sit en kyk het; drie suurklontjies het hy ondertussen weggesuig. Sy standpunt in die lewe is baie eenvoudig: waarom moet 'n mens sukkel? Om vreeslik oor dinge te redeneer, is net tydmors. Maak maar 'n grap van alles, dan kom jy die beste oor die pad met die arme ou mens, wat gedurig sy gekweste waardigheid onder 'n dik klomp woorde wegsteek. Hy het skatryk geword sonder dat hy sy keel droog geredeneer het oor bog. Hy sê wat hy wil, hy skeer gek met wie hy wil, en as 'n man hom daaroor wil vererg, dan is dit ook maar goed, want diep-in is hy daarvan oortuig dat alle mense maar 'n droewige, kleingeestige, onbetroubare ou spul is; as jy veel van hulle
| |
| |
verwag, word jy voor-die-voet teleurgestel. Behandel hulle daarom maar soos 'n klomp onnutsige kinders.
Hy het nou opgestaan; met sy groot lyf loop hy, sy bene effens weg van mekaar, na die deur se kant toe en lag koddig deur sy neus. By die deur gaan hy staan en kyk met 'n stout glimlag na die suur gesig van oom Jaap.
‘Jy weet, Jaap,’ sê hy, ‘daar is net een manier om met jou en ou Sybrand te werk. Mens moet julle vasmaak op twee stoele sodat julle gesigte mooi na mekaar toe staan. Dan kan julle mekaar so sleg sê as julle wil, maar op die ou end sal julle moet uitbars van die lag, want mens kan jou nie te lank so verspot hou as wat julle twee nou is nie. Kom, dominie!’ en met sy liggaamsgewig wat van die een been op die ander oorskuiwe, loop hy stampend by die deur uit.
Oom Jaap vererg hom verskriklik vir dié ligsinnigheid van die ouderling; hy was daardie keer bitter teleurgestel toe hy genommer is. ‘Dit is nou 'n ouderling,’ sê hy gekwes; ‘altyd 'n jillery met 'n ander! As ek my sonde nie ontsien nie...’ maar verder kom hy ook nie, want die predikant groet hom haastig.
| |
IV
Dit is swaar om jou goedjies op die wa te pak as jy nie weet waarheen jy moet trek nie. Oom
| |
| |
Gert het vanmore opgestaan toe die morester blink oor Boskloof gehang het; 'n kille, herfstige lug was daar oor die aarde en hy het voor die agterdeur gaan staan en kyk na die blou mis wat bokant die leegte opdamp, na die lig wat stadig oor die bulte gekom het tot die herfsgras vogtig en wit opgerys het uit die skemeringkolle onder die randjie. Elke dag het hy die geleentheid gehad om daarna te kyk, maar naderhand word alles gewoon vir die oog, waardeur dit nie meer die skoonheid raaksien nie. Vanmore kyk hy na die wêreld om hom soos 'n gevangene wat net-nou verwyder word en weet dat hy die ou vertroude dinge vir jare en jare nie meer sal sien nie. Dit is of sy lewe binnekant neerstort by die aanskouing van die grond, die gras, die veld, die randjies, die plaaslyn - alles dinge wat eenmaal syne was, eenmaal, toe hy alles vanselfsprekend geag het, toe sy waardering die dinge, sy besittings nie opgehef het uit hulle egalige onbelangrikheid nie. Vanmore is die aarde iets anders; sy oë haal verborge waarde uit alles wat hy aanskou.
Soos 'n jong bruid kom die nuwe dag na hom toe, en hy voel so seer, so vreemd beledig deur die lewe, omdat hy alles moet verlaat, moet afskeid neem van dinge wat soos 'n opklim langs sy lewe opgerank het. Dit is vir hom vanmore of sy oë skoon en helder deur die skokke van die laaste tyd gewas is, of sy gees deur teenslag
| |
| |
op teenslag tot 'n waaragtige nederigheid gebring is om God se ongeëwenaarde geskenke te waardeer soos dit moet, om dankbaar om te gaan met dinge wat anders so argeloos behandel word.
Hy loop van die huis af weg na die randjie toe. Stadig klim hy daarteen uit. Sy skoene roer die doodstil herfsgras sodat hulle onrustig skud om dan weer tot die magtige, alomteenwoordige stilte van die najaarsmore terug te keer. Die stilte en herfstige wydsheid vloei ook in hom oor en dankbaar en diep word dit tot aan die verste horisonne van sy lewe. Gedagteloos staan hy vir 'n oomblik van die randjie af en wegkyk oor die velde rondom hom. Die wit gras lê ver voor sy oog weg teen die lang bult, wat glooiend wegsak na Langvlei se kant toe. Die stygende son bring verte en 'n koesterende vrede oor die land. 'n Drang, opeens vreeslik sterk en werklik, kom in hom op om weg geswelg te word deur die velde en die wydte waarin hulle slaap, om nie van hulle weg te gaan nie, maar deel van hulle te wees, te bly, gedagteloos, verlore, soos 'n klein klippie wat weggesink het in 'n helder, diep kuil.
Daar kom opeens beweging in die verte. 'n Hond het 'n haas opgejaag en met wye draaie gaan hulle oor die veld. Net soos die hond naby die haas is, dan maak die ratse diertjie 'n vinnige draai en die hond moet dan in 'n wye bak loop om weer op vaart te kom. Dan blaf
| |
| |
hy luid en skerp in die helder more en pyl weer op die haas af met halende voorpote. Hulle verdwyn oor die randjie. Oor 'n rukkie kom Henning te voorskyn. Hy sien vir oom Gert op die randjie staan en begin in dié rigting te loop. Oom Gert is vir 'n oomblik spyt dat hy na hom toe kom, want op so 'n dag wil hy graag alleen wees; hy voel sku vir mense, want vaag het hy die gevoel dat almal teen hom heul en alle vriendskap tenslotte net huigelary is wat uit eie belang aan die gang gehou word.
Maar die strakheid van sy gedagte verswak toe hy sien hoe lenig en manlik Henning daar deur die gras aankom. Agter hom roer die toppe nog 'n endjie. Nou loop hy oor 'n end kaalte - vas, met wil. Ja, so vol hoop was hy ook baie jare gelede, toe Maria en hy vir die eerste keer in hierdie huis getrek het. Sy was vir hom so mooi en jonk, en kort-kort moes hy uit die veld terug net om weer met haar te praat, om haar bewegings in die huis te sien en haar meeslepende stem te hoor. Maar die jare het sy lewe weggeskaaf. Hy is oud voor sy tyd, en die sorge wat nou kom, sal genoeg wees om hom gou na sy graf te stuur.
‘More, oom Gert.’
‘More, Henning. Wie ry daar in die pad?’
‘Dit is 'n veekoper wat pa laat kom het, oom. Hy wil glo 'n klomp van die oortollige beeste en perde van die hand sit.’ Van oom
| |
| |
Sybrand wil oom Gert liewers niks hoor nie. Daarom swyg hy.
‘Kom ons loop huistoe,’ sê hy, ‘ek wag net vir die vrou om die beddegoed op te sit waarop ons geslaap het, dan moet ons ry.’
Henning loop naas sy oom. Hy is breed gebou en sterk; oom Gert is maer, beplooid en geboë. ‘Gaan oom nou maar op die dorp bly?’ vra hy onseker, want hy besef die swaar wat die geboë man langs hom dra.
‘God weet,’ sê oom Gert opeens baie bitter, en toe praat hulle niks verder nie. Hulle gaan by die huis in. Die mure is kaal en hulle voetstappe klink asof hulle in 'n hol grot stap. Tant Maria groet vir Henning en sê verder niks. In een van die leë vertrekke juig die kinders uitbundig oor die verandering, oor die avontuur wat vir hulle voorlê.
| |
V
Terwyl Henning teen die middag deur die stroke wintergras huistoe stap, is daar 'n gevoel van onbestendigheid en vae droefenis in hom. Die hele vertrek van oom Gert en sy gesin het deur hom gesny, het hom laat voel hoe onversetlik die ou aarde is as jy nie nodig is nie en iemand anders, wat vaster kan aanpak, jou plek moet inneem. Naas hierdie gebeurtenis, wat hom veel dieper oor die lewensloop laat dink het as ooit te vore, is daar die vertrek van Johanna.
| |
| |
Hy het maar net van die ou skaapwagter die boodskap ontvang dat haar ouers haar na 'n ander plaas gestuur het, ver hiervandaan, maar die jong se besonderhede was so verward dat Henning nie veel daaruit kon wys word nie.
Hy dink nou met 'n gevoel van skrynende oorgawe en teerheid aan die ure toe hulle saam was in die kloof; nou is dit ook al weer heen, en God weet alleen wat van hulle toekoms sal word.
So ingedagte het hy gestap dat hy nouliks merk hoe naby hy is aan die huis van sy oorlede ouma, en met min belangstelling sien hy hoe die bywoner se vrou ywerig op die stoep besig is en kort-kort in die rigting kyk vanwaar hy kom. Hy lig sy hoed toe hy by die stoep verbyloop; met 'n oorvriendelike gesig groet sy hom en vra hom hoe dit by die huis gaan, of hy nog vir oom Gert-hulle vóór hulle vertrek gesien het. Haar woorde volg in 'n vinnige stroom, en Henning word opeens bewus van behaagsieke oë wat wil verduidelik hoe welkom hy hier is, hoe goed dit sal wees as hy 'n oomblik wil vertoef. Die bloed stoot warm in sy wange op; hy voel 'n wreweligheid opkom, maar daarby tog 'n onderdrukte streling, omdat almal hom beveg en hier tenminste vriendelikheid en gasvryheid is. Sy vra of hy nie koffie wil drink nie, maar nou word hy onrustig, maak verskoning om weg te kom, want 'n hinderlike voorbarigheid by haar
| |
| |
het 'n ongunstige indruk nagelaat, en met 'n gevoel van onhelderheid loop hy verder sonder om 'n keer weer om te kyk.
So is dit dan tog waar wat die mense van Maggie vertel, dat sy behaagsiek is, dat sy dol is oor mans, dat sy geen goeie huisvrou is nie, maar die meeste van haar tyd bestee om haar mooi te maak, haar op te tooi en mans se oë te trek.
Met 'n skok dink hy daaraan dat sy 'n getroude vrou is. In hierdie omgewing is soiets verskriklik. Die skinderbekke sal haar lewendig afslag; van haar hele naam sal net flenters oorbly. Dit is 'n ewige skande dat so 'n vrou haar doodgoeie man so kan kul. Hy onthou nog hoe daar eenmaal op 'n dansparty waar hy ook was, 'n geskeide vrou verskyn het. Dit was net so goed of sy 'n soort melaatsheid versprei. Nie een wou verder dans nie en vyandige blikke het dié goddelose, verworpe mens feitlik vandaar verdrywe. In hierdie omgewing moet mens nie met daardie soort bogtery begin nie. En tog voel hy, tenspyte van sy pogings om haar te verkleineer, verhef uit sy gevoel van minderwaardigheid deur die besef dat sy tenminste van hom notisie vat.
Maar gou druk sy gees hierdie vlugtige ervaring opsy en keer terug na die groot ramp wat sy lewe getref het. Hy kyk in die rigting van Langvlei en 'n wilde heimwee kom in hom op, veral toe hy diep bewus word van die verlate
| |
| |
herfsvelde wat van alle kante op hom afvloei. Soos daardie Sondag toe hy na oom Gert se woning geloop het om Johanna daar te ontmoet, so gaan hy nou ook weer by die helder fonteinstroom staan, wat geluidloos met fyn rimpelinge voor hom wegtrek. Bokant hom blink die populiere soos glansende, gepolyste brons; hoog en plegtig staan hulle met hulle beelde verwring onder in die water. Hulle laat hom klein en verlore voel met hulle onbeweeglike opreiking na die hemel, hulle vaste greep in die aarde, hulle glansende blare wat 'n kleurediepte en tog broosheid het van alle dinge wat baie oud en baie kosbaar is. Byna met eerbied loop hy onder hulle, oor die geel blare wat vuil en verwaarloos daaronder lê om te vergaan en tot nuwe lewe te word. Dit is of die groot wagters van die aarde roerloos en eerbiedig langs hom staan sodat hy kan uittrek na 'n ander, ruimer lewe, weg in die wit, ryke lig van die herfsdag.
Hy kyk na die bult voor hom en sien nog net hoe 'n jong die klomp perde aanja wat sy pa vandag verkoop het. Graag sou hy, as boerseun, ook by die verkopery gewees het, maar dit is vir hom maar te duidelik dat sy pa in die laaste tyd, noudat hy die hele Boskloof besit, meer beslis is as ooit om op hom en ander te trap sodat hy nog ryker, nog magtiger in die distrik kan word. Vir 'n jongkêrel is daar baie min plek op hierdie plaas, peins hy ontmoedig; hy sal
| |
| |
maar 'n soort bywoner bly, uitgesluit waar ernstige planne beraam word, 'n handige plaashulp en nie die toekomstige besitter van hierdie grond nie. Hy reken uit hoeveel vee hy het. Reeds drie honderd skape dra sy merk, al loop hulle nog saam met sy pa s'n. Maar die wolgeld daarvan durf hy nog nie kry nie. Geen enkele kêrel van sy ouderom in dié omgewing word so behandel nie. Hy het verlede jaar nie eers daaroor gepraat nie. Hy wil hê dat sy pa dit nou self moet aanbied, maar hy sal waarskynlik moet wag tot hy 'n grysaard is. Hy besit vee, maar dit is ook nie syne nie; hy boer ook, maar is darem bywoner. Hy is so 'n tussen-in-affêre wat geen behoorlike plek in die boerdery het nie. Daarom dat hy nie daaraan kan dink om te trou nie, dat sy pa se rusies die hele verhouding met Johanna se ouers belemmer het en hy niks daaraan kan doen nie. Hy is maar soos een van die volk wat in die oë van sy pa eintlik geen wil het nie, dink hy opstandig en met 'n swaar wrok teen sy vader; die dae en maande wat verbygaan, bring geen vordering nie. Hy boer eerder agteruit. Sy pa klim op sy jong skouers hoër; sy pa teer op hom om sterker te word; sy pa is 'n koppige, vreeslike, ou man!
So stryk hy aan tot by die kombuis. Sy moeder is daar besig, soos sy maar altyd besig is. Sy rus nie vir 'n oomblik nie, maar vat hier en werk daar, want as sy sit, druk die neerslagtige
| |
| |
gedagtes swaar op haar, word die allenigheid vir haar te groot. Hy drink 'n beker water en wag vir 'n oomblik, net asof sy vir hom iets moet meedeel. Maar daar kom niks. Die maer, knopperige hande bly maar vlytig 'n vadoek uitwas.
‘Is die spekulant al weg, ma?’ vra hy.
‘Ja, my kind. Hy het 'n hele ruk gelede al gery.’
‘Het pa baie vee verkoop?’
‘Ek weet nie. Dit sal seker wees.’
Toe plaas sy 'n kombers reg, met 'n laken daaroor. Sy begin die wasgoed nat sprinkel. Die parsysters staan op die vuur. Netnou vat sy een en gaan hom buite in die sand skoon skuur. Dan begin sy stryk, versigtig, met effens omhoogstaande regterskouer, die oë vas op die bewegende ysterpunt voor haar. Sy ma is klaar 'n ou vrou; die jare het haar krom gebuig. Hy kan dit nou so duidelik sien, terwyl sy teen die agtergrond van lig staan, reg teenoor die agterdeur. Og, sy arme moeder - hoe droog en onaantreklik het haar arms geword, hoe bultigkrom haar rug. Hy dink aan Johanna - haar mooi, jong liggaam. Dit is waar: die lewe werk alte wreed met 'n mens. Daardie middag het hy dit so duidelik gevoel toe hy na sy afgeleefde ouma gekyk het, na haar lelike, uitgediende oumens-vel; nou voel hy weer hoe dieselfde mag sy ma gekasty en kleingekry het, hoe dit haar,
| |
| |
byna onmerkbaar, deur die jare afgeslyt het en met sy verwaarlosende magte minder sterk, minder weerbaar gemaak het. Dit is sy eie jong, uitgroeiende lewe wat hierdie krag-afname dubbelsterk merk; dit is die jeug wat hom, met 'n ligte verbystering en byna dierlike onrus, spieël aan die ouderdom, aan die lewe se dieper gang en betekenis.
Spantou verskyn by die deur en sê: ‘Nooi, die baas sê nooi moet vir my samblief die blik ghries gee.’ Tant Betta antwoord niks; sy skuif die gordyn voor haar opsy, soek in die holte van die kas, maar tevergeefs. Dan haal sy die sleutels van die muur af in die spens en gaan na die pakkamer. Die ou jong sien vir Henning sit; hy vee met sy klein handjies bedremmeld oor sy korrelkop en sê: ‘Auk, maar dis darem baie jammer dat basie die mooi vosperd verkoop het. Hy kon so...’
‘Wat!’ Henning het regop gespring, dit is of sy oë uitpeul uit sy kop. Die ou jong het hom nog nooit so gesien nie. Die reaksie was vinnig en van 'n buitengewone heftigheid. Hy staan nou voor die ou jong. Dit is of hy hom wil skud om te hoor of hy nie onsin praat nie.
‘My vosperd verkoop? Vir Vos verkoop? Waar kom jy daaraan?’
‘Maar dit is tog so, baas. Ek het hom self uit die stal gehaal. Hy is saam met die klomp perde.’
| |
| |
‘Jy lieg!’
‘Nou gaan kyk dan in die stal, basie.’
Met 'n vinnige vaart is Henning by ou Spantou verby. Hy draf-stap na die stal toe, en die ou jong kyk hom agterna en gee 'n benoude lag deur sy neus. ‘Auk, vandag is Boskloof onderste-bo. Vandag gaan die stof op 'n ding se blaaie staan!’
Toe Henning by die stal inkom, loop hy nog 'n endjie aarsel-aarsel, en dan bly hy staan. Ou Spantou het die waarheid gepraat.
Nou moet die groot rusie, die eindelike afrekening kom, dink hy en hy trek sy blaaie swaar en sterk agteruit. Sy pa het daarop aangestuur. Van daardie aand af toe hy hom, half verblind van woede, 'n klap gegee het, het die wrok stadigaan gegroei. Hulle het mekaar vermy. Maar sy pa het intussen voortgegaan met sy uittarting en minagting. Stap vir stap. Of hy 'n sekere uitwerking daarmee wil bereik. Die verkoop van Vos is die laaste uitdaging. Hy wil daardeur wys dat Henning se goed tenslotte maar sy goed is, dat dit bog is om twee eienaars op een plaas te hê. Hy het dit opsetlik gedoen. Nou is die gort gaar. Nou keer niks ter wêreld hom meer nie. Met swaar, vaste stappe gaan hy by die staldeur uit. Dit is die stappe van 'n man wat weet wat hy wil doen; hy het alle aarseling, alle onhandigheid van die jeug van hom afgeskud. Hy gee nie meer om
| |
| |
wat die gevolge van sy daad sal wees nie. Eerbied vir sy vader, verantwoordelikheidsgevoel het in hierdie opkomende storm ondergegaan. Hy gaan in die waenhuisdeur staan. Sy gesig is rooi, sy oë strak en vreemd. Oom Sybrand is besig om 'n bokkie te smeer. Ou Spantou het die ghries vir hom gebring en nou haal hy dit met 'n plat stokkie uit en smeer dit versigtig om en om die bus, wat 'n end uitsteek, want die wiel is ver uitgestoot.
‘Het pa vir Vos vanmore verkoop?’
Die woorde blaf by die holte van die waenhuis in. Hulle is uittartend, opjagend. Oom Sybrand antwoord nie. Hy kom regop met die plat stokkie vol ghries nog in sy regterhand. Hy kyk na sy seun; hy is tydsaam, asof hierdie astrantheid benede sy verhewenheid is, asof dit nie eers die moeite werd is om daarvan notisie te neem nie. Toe hy die vosperd vir 'n mooi som verkoop het, het hy geweet dat hy moeilikheid kan verwag. Hy het dit opsetlik gedoen om sy baasskap bo alle twyfel vas te plant hier op Boskloof. Hy het klaar gedink hoe hy sal handel. Hy moet wys dat hy hier kan hiet en gebied soos hy wil. Hy wat wil regeer, moet hard en onbuigbaar wees. Dit het hy jare gelede al geleer.
Hy antwoord daarom niks, maar kyk net vir Henning aan soos 'n ernstige man wat in sy ernstige werk deur bog gesteur word. Henning
| |
| |
kom 'n endjie nader. Sy pa se houding sweep hom nog verder op. Hy staan daar vas en breed, en oom Sybrand sien die krag, die uitgegroeidheid van 'n seun wat hy soos 'n lastige vlieg wil behandel. Die krag hier voor hom roer 'n verborge jaloesie, 'n verset wat in die diepste vesels van sy wese sit, 'n verset teen die lewe; ja, in hierdie geval gebruik die lewe sy seun om hom opsy te skuiwe en baas te word, om op sy ou, uitgediende skouers te gaan staan en bo te bly. Hy sien die dik arms, pesig en met swaar bloedare. Die bors wat kragtig onder die hemp span. Hy is nog geen ou man nie! Die krag sit nog in sy eie arms; hy kan dit voel in sy maagspiere as hy 'n swaar gewig moet optel. Hy wyk vir niks. Met sy liggaam en met sy vernuf bly hy nog lank baas.
Henning se vuis dreig na bo; dit skud dan uitdagend na hom toe.
‘Dit is nou klaar,’ sê hy, ‘nou loop ek my eie pad. Pa het nie 'n gevoel vir 'n ander mens nie, pa het skoon kjêns geword.’
Of iemand hom met 'n warm yster brand, ruk die vader regop. Henning kon nie 'n ander woord gekies het wat sy pa so, asof hy deur 'n pyl getref is, geraak het nie. Kjêns! Is dit nie verskriklik nie! Dit teen sy eie vader? Oom Sybrand se vuiste skud van die opwinding; sy oë knip senuweeagtig. Sy besluit om kalm uit die hoogte teenoor sy seun te staan as hy wil
| |
| |
weet waarom sy perd verkoop is, het opeens verdwyn. Die woord ‘kjêns’, met al die assosiasies wat dit in hom opwek, het alle strydvaardigheid in die ou man tot op 'n spits gedrywe. Hy loop tot naby Henning en sy woorde tril. ‘Kjêns? Praat jy met 'n vuilgoed? Klein bog wat nog nat is agter jou ore, waar kom jy vandaan om daardie woord teen jou vader te gebruik? Hè?’
Maar Henning wyk niks. Met vaste oë, waarin 'n donker vuur brand, staan hy sy vader en aankyk. Sy wenkbroue is laag afgetrek.
‘Ja, ek praat met my eie vader,’ sê hy en sy neusvleuels roer, ‘want hy het niks vir my of vir sy eie vrou of sy suster oor nie. So 'n mens wat dit kan doen, het kjêns geword.’
Toe hy die woord weer sê, hef die vader sy gebalde vuis op, gereed om sy seun 'n dodelike slag te gee oor dié koelbloedige belediging van sy eie pa. En tog slaan hy nie. Henning staan onverskrokke met sy sterk arms gevou. Hy kyk net sy vader strak en uitdagend aan.
En oom Sybrand slaan nie, en omdat hy nie op daardie oomblik geslaan het nie, weet hy dat hy aan die verloor is. Daardie keer toe hy sy seun in die stoepkamer 'n klap gegee het, was dit vir die laaste keer. Hy voel die krag, die beslistheid, die man hier voor hom. Hy deins vir 'n oomblik terug. Hier begin sy vernedering, sy afdraende pad. Soos swaar wolke rys dit in
| |
| |
hom op. Omdat sy aanval afgekets het teen die jong krag, teen die lewenswil wat hier ryp en onversetlik geword het, neem die woorde nou die plek van die daad. Oom Sybrand, die man van besliste dade, neem sy toevlug tot woorde. Hy raas. Hy raas magteloos.
‘Trap van my plaas af, jou oneerbiedige hond. Voor die son onder is, moet jy van hierdie werf af weg wees. Loop! Voertsek! Ek wil jou nie weer sien nie! Ek wil jou naam nooit weer hoor nie! Van vandag af is jy nie meer my kind nie. Jy sal nog die moord steek omdat jy so met jou eie vader gepraat het. Mannetjie, jou dag kom!’
Henning staan nog doodstil, sonder om 'n oog te knip, na die rasende ou man hier voor hom en kyk. Hy weet dat hy die oorwinning behaal het, dat daar iewers 'n stywe snaar gebreek het. Sonder om verder 'n woord met sy vader te praat, draai hy hom om en loop na die huis toe.
| |
VI
Nou weet tant Betta alles. Het sy nie gedurende die laaste paar jaar verwag dat dit so moet eindig nie? En tog was sy nog steeds magteloos om iets te doen om die breuk te heel, om dinge uit te vlak wat verwydering veroorsaak, om genesing te bring met moederliefde en begrip ten opsigte van 'n man wie se lewe al meer dorings voortbring. Wanneer laas het sy
| |
| |
met haar man vertroulik gesels? Dit is jare en jare gelede. Nou het hy vir haar feitlik 'n vreemdeling geword, iemand met wie sy bang is om vertroulik, waarskuwend te praat. Sy kan sien waarheen dit loop, sy merk maar te duidelik dat hy 'n afgrond tegemoet gaan, maar sy het nie die moed om hom te keer nie, hy lewe in so 'n ander wêreld as sy dat sy nie meer liefderyk vir hom aan die arm kan vat, hom sag in die oë kan kyk en sê: ‘Sybrand, jy loop verkeerd. Luister nou na die raad van iemand wat jou liefhet?’
Het sy hom nog lief? Sy skrik half vir hierdie vraag; sy wil haar eie gevoelens nie ontleed nie. Baie dinge in haar is toegekors, dood. Sy het haar invloed, die fyne afwerende en bouende invloed van die vrou, verloor. Wat is haar taak nog ten opsigte van haar man? Hy wat haar nooit meer raadpleeg nie, wat langs haar verbygaan of hy haar skaars raaksien? Wat is haar taak nog in haar huis? En teenoor haar seun?
Hier sit hy teenoor haar. Hy is groot en sterk, 'n uitgegroeide man, en sy is 'n arme ou vrou, oud voor haar tyd, 'n vrug wat afgeval het voor dit ryp is, 'n bestaan wat eintlik geen werklike doel meer weet nie. Die paadjie deur haar grys hare lê groot en skerp oop; haar wange is sonder bloed, vaal en byna soos seemsleer. Haar hande lê nou op haar bont-geblomde voorskoot. 'n Endjie bokant haar hang die muurteks met
| |
| |
sy blink, goedkoop letters: ‘Vrees niet, Ik ben met u.’
Haar seun sien haar so sit; hy het nou geen woorde om vir haar te sê nie. Hy het vir haar net kortweg, hakkel-hakkel vertel wat gebeur het, dat sy pa hom van die plaas af weggeja het, dat dit die einde is van die vertrapping van sy begeerte en wil. Wat kan hy nog sê? Wat kan sy moeder sê? Soos sy daar sit, lyk dit of sy klaar is met die lewe; haar slap hande, wat al soveel gewerk het, lê daar so doelloos, so erbarmelik in haar skoot; haar hoof, met die wit paadjie en grys-swart hare is so lewensvreemd, so ver van die gedruis van die bestaan af, dat dit sy gedagtes stil en diep maak met 'n eerbied wat anderkant die rand van alle woorde lê.
So hard en koppig as wat hy daar teen sy vader, die oorheersende, gestaan het, so teer, so beskermend en hulpvaardig voel hy teenoor hierdie verwaarloosde vrou wat sy moeder is. Dit bring 'n koel rus in hom of daar heldersagte rose om hom hang, of die bloute van 'n maanlignag hoog en onpeilbaar om sy mens-allenigheid reik. Sy ma het baie nader gekom aan sy lewe. Alhoewel hulle nooit tere woorde teenoor mekaar uitgespreek het nie, het die seun se liefde vir sy moeder geword soos 'n skugter-sterke vlam wat in die eensaamheid opbrand en 'n lig verbrei waar niemand dit sien nie.
| |
| |
Sy wil hom terughou van hierdie plan om netnou te vertrek, maar sy kan nie, en tog weet sy dat as hy gaan, 'n deel van haar lewe wat nog stil en sterk gebly het, in skerwe sal lê. Ná sy kort hakkel-woorde, waarin hy vertel het dat hy nou maar liewers die wye wêreld wil ingaan instede van al wat manlik in hom is, te laat doodtrap, het 'n halfuur verby gegaan, en nog sit hulle so, sonder woorde, moeder en seun in die gevangenis van 'n bitter magteloosheid.
Hy kyk deur die raam, ver weg oor die plaas. Die herfsdag is uitgebrand; die hemel bo-oor die geel populiere is 'n wye verlatenheid, en daardeur trek troppe spreeus, met nou en dan 'n hoorbare, verlore stemgerug; hulle vlie pylsnel na die verte weg en verdwyn of hulle saam gesmelt het met die lug. Die dalende son lê 'n lang strook goue lig oor sy moeder se voorskoot; 'n deel van haar hand sink daarin met 'n afgeslyte trouring sag-flonkerend daaraan.
Die goed wat hy wil saamvat, het hy op 'n bokkie gelaai. Dit moet nou klaar ingespan wees, want 'n rukkie gelede het Spantou die perde uit die kamp gebring. Hy wag nie tot more om te ry nie; sy besluit is vas geneem; nou is die beste tyd. Al ry hy net vir 'n uur vanaand, dan is hy ook al 'n end weg van sy vernedering, dan is hy 'n endjie nader aan 'n toekoms, ongebonde en lokkend; sy pa sal hom onterf, hy sal die wêreldse goed verloor, maar hy
| |
| |
sal kan bou aan sy eie lewe, dit laat ontplooi soos hy verkies.
Hy staan op. Nugter klink sy woorde: ‘Ek wil groet ma.’ Ook sy staan op, wankelend. Dan breek alles wat haar van hom verwyder het ineen; sy val met haar kop op sy skouer en gebroke klink dit: ‘My kind! My kind!’ Nou is hy die sterke wat haar troos, wat belowe dat hy haar nooit sal vergeet nie, maar sal skrywe, sal laat weet hoe dit gaan. Hy soen haar haastig, sien nog haar blik verlaas wat hom tot in sy diepste wese tref. Dan loop hy weg in die dalende dag.
| |
VII
Die rusie wat oom Sybrand met sy seun gehad het, het hom vir 'n rukkie totaal uit sy ewewig gegooi. Hy het die werk waarmee hy besig was, net so laat staan en sommer blindweg die veld ingestryk. Hy was daardie gewone kalmte kwyt waarmee hy sy seun so lekker kon hou op die plek waar hy hoort; dit lyk nou vir hom haas onmoontlik dat hy vroeër 'n werk, 'n plan van sy seun kon weg gesnou het met 'n selfversekerde gebaar asof dit volkome onsin is. Daardie vasgemesselde oortuigings van hom wat uiteindelik net beterwetery geword het, daardie baasskap wat ongeskok die astrantste uitdaging in die oë kon kyk, is tot onder in hulle fondamente
| |
| |
geskud. Die gebeurtenisse van enkele oomblikke het sulke onverwagse uitwerkings op sy hele gedrag dat hy voel of die weer naby hom neergeslaan het en hy nou nog duiselig is daarvan.
Met lang, enigsins onsekere stappe gaan hy oor die veld; die wakker boer sien nou geen skape, geen uitgetrapte veld nie. Hy loop en loop en loop met sy hande diep in sy sakke, sy skouers effens hoog opgetrek en sy nek geboë. Wat hom totaal verbyster, is die onverwagte brutaalheid wat die klein japsnoet teen sy eie vader kon openbaar. Waar kom hy so skielik daaraan? Hy het dae aanmekaar hier by die werk rondgeslenter sonder dat hy boe-of-ba kan sê, en onverwags, of die duiwel in hom gevaar het, neem hy so 'n houding aan dat dit nie veel gekos het nie of hy het sy eie vader te lyf gegaan!
Hy voel nou, nadat die opwinding afneem, lam tot agter in sy hakskene. Vir 'n oomblik moet hy gaan staan, so hard bons sy hart. Dit is die dank wat hy kry vir alles wat hy vir die wys klein snuiter gedoen het. Dit is sy dank! Die gevoel van vaste deursetdrif het plekgemaak vir 'n selfbejammering wat selfs 'n ander trek oor oom Sybrand se gesig bring. Die gevoel asof iets hom liggaamlik en geestelik lam geslaan het, bly; dit is of iemand 'n stut onder sy bestaan uitgeruk het. In sy hoof sing die yl gevoel asof hy wankel om te val. Hy probeer met groot inspanning om die leisels weer ferm saam te
| |
| |
vat, maar telkens verbreek sy wilskrag, gaan hy staan, effens verbysterd, en dan loop hy weer rusteloos voort.
Hy sien sy seun se vaste oë, hard en stekend op hom gerig. Op sulke oomblikke het hy sy hele lewe deur onwrikbaar bly staan, met al sy wil agter hom. Nou het hy vir die eerste keer gewankel, en toe hy meegegee het, was dit of daar iets, ver agter in sy lewe, 'n kraak gee soos van 'n styfgespanne ketting wat breek, en hy het oombliklik sy houvas verloor en ouvrou-agtig staan en uitvaar.
In daardie strak, onversetlike oë van sy seun het hy sy ware self, sy lewenskrag op die toppunt, gesien; in daardie oë, die oë van die kind wat uit hom voortgekom het, het hy die triomf van die naderende ouderdom oor die lewe aanskou. Dit is nie so seer sy seun wat hy aangedurf het nie, maar die lewe wat stadig uit hom wegsak, jaar-vir-jaar soos sap uit 'n ou boom, om in sy seun op te styg en hom breed en gespierd te maak soos hy, Sybrand, jare gelede was.
Hy gaan nou staan en kyk, half dwaas, na sy hande; hy voel met sy linkerhand langs die spierknobbels van sy harde regterarm op; hy buig sy stram knieë, gooi sy arm omhoog in die lug op en haal diep asem; die kragtige geur van die droë wintergras, van die sondeurstoofde veld dring in sy longe. Hy voel soos Simson
| |
| |
wat bid om krag om verlaas 'n groot, 'n magtige daad te doen om sy vyand te verpletter. Maar wie is dié vyand? Wat hy wil bestorm om hom te wreek, is die lewe self, dieselfde lewe wat hom nog laat storm. Hy voel opeens magteloos, want gedagtes aan die kragte wat bome en bossies, die diere, die lewe in hom voortgebring het, is soos 'n verskrikking in hom.
Hy gaan weer staan en kyk rondom hom na die vlakte, waarvan hy nou 'n klein middelpunt is. Dit is of die hele wêreld om hom draai om sy klein bestaan hier: die velde tot by die horison, die hemel met sy blou dieptes. Dit is sy grond hierdie. Hy het swaar daarvoor gewerk; wat hier netjies afgekamp en opgebou is, is sy werk. Waarom is dit dat die brutaalheid van sy eie seun hom getref het in die middelpunt van sy lewe? Stadig en diep trek hy die kragtige veldgeur in; dit is of hy die vertes met wyd-oop neusgate wil indrink in sy longe, in sy liggaam, wat krag van die aarde nodig het, krag wat kan verjong soos 'n lente wat opstyg in die takke en die stam van 'n ou, skorsige boom.
Dit is of hy blote dier, alleen liggaam geword het, so staan hy daar asof hy die aarde wil besweer om hom nie in die steek te laat nie, asof hy deur 'n kragtige poging kan red wat reeds 'n groot kraak gekry het. Diep trek hy die lug in hom op - og, hoe verkwikkend word die geur van getrapte bossies, uitgedroogde
| |
| |
gras, vlei en brak water. Dan gaan hy weer voort.
Die rus, die verstandige oordeel kom terug in hom. Stadiger loop hy nou, met vaste, reëlmatige stappe. Hy hef sy hoof op en kyk aandagtig na die trop vee wat teen die hang afkom. Die kaffer drywe hulle te vinnig! So verniel hulle sy goed! Vinnig stryk hy nou na die kaffer toe. Diep bly voel hy hoe sy lewensritme terugkom, hoe hy opnuut al die drade kan saamvat om die plaasbedrywighede te organiseer soos hy wil. Sy gang is nie meer so swaar nie; dit word lig en vérend. Nadat hy 'n paar kwaai woorde vir die veewagter gesê het, loop hy in die rigting van die kloof. Daar gaan hy vir 'n oomblik op 'n groot, swart ysterklip sit en dink. Die son lê sag en gesellig hier in die afgeskutte holte. 'n Skeerbekmuisie kom by 'n klipskeur uit en wip vinnig verder. Dit is kalm en eensaam hier. Rustig, met 'n vertroulike vrede van jare en jare gelede, kom die aand hier na oom Sybrand toe. Hy staan op om huistoe te loop. Hy is weer baas van sy eie lewe.
| |
VIII
Noudat hy sy stoel nader skuiwe na die tafel toe en die leë plek van Henning voor hom sien, begin die lastige gevoel weer wat hy vanmiddag met moeite ondergekry het. Hy weet dit nou,
| |
| |
alhoewel hy te trots was om iemand uit te vra daaroor, dat Henning weg is, dat hy geluister het na sy vader se bevel om van die plaas af te trap. Dit bring 'n nuwe gevoel van intuimeling en neerval in hom te weeg, maar hy sit rustig aan sy ou tafel met 'n bewuste houding om net soos ander aande te wees. Hy sien sy vrou se gesig; sy is so bleek asof sy haar net 'n oomblik tevore byna dood geskrik het. Sy sal haar natuurlik gedaan treur oor dié astrante kind; sy kies natuurlik die kant van so 'n klein bog. Hy wil Henning se naam nooit weer sê of hoor nie. Hy sal alle herinneringe aan hom met wortel en tak uit sy lewe ruk. Mens voel vanaand net 'n bietjie aardig, want alles was so skielik en onverwags, maar ná more en oormore, dan verander dit stadigaan en oor 'n rukkie dan kan hy lekker alleen boer, sonder dat 'n kind hom gedurig die nare gevoel van liggaamlike agteruitgang gee.
Hy wil graag vanaand vriendelik en goed vir sy vrou wees en met 'n stem, waarin daar 'n patetiese rimpeling is, sê hy: ‘Sal ons nie more 'n bietjie na Annie hulle toe ry nie? Ons was so lanklaas daar. Ek dink hulle sal vreeslik bly wees om ons te sien.’ Daar is 'n goedige glans in haar oë toe hy na haar kyk, maar sy skud net haar kop saggies, afwysend. Hy sou graag aan sy vrou mooi wou verduidelik hoe die hele gedoente ontstaan het, maar hy is
| |
| |
magteloos om teer en vertroulik te wees, en omdat hy dit besef, word hy opeens vreeslik kwaad vir haar dat sy daar so beteuterd sit asof die hele wêreld more moet vergaan. In hierdie hele saak is daar nie twee kante nie. Hy, as vader, is diep beledig, maar sy vra nie om sy kant te hoor nie. Al wat haar seun haar vertel, is die waarheid. Sy kies kant teen haar eie man.
Hy frons net sy voorkop nydig en verwurg byna so vinnig eet hy 'n stuk droë, growwe brood. Goed! Hy is nog altyd mans genoeg om alleen te staan, al verlaat die laaste een hom ook. Waar hy vandag staan, het hy stoksiel-alleen gekom, en hy kan verder ook alleen voortgaan. As mense hom wil vermaak, moet hulle trap. Dis al. Sonder om 'n woord verder te praat, staan hy op om te kyk of alles in orde is by die krale en die stal.
Tant Betta dek die tafel stadig en behoedsaam af, maar kort-kort gaan sy staan en haar hand rus op haar hart. Die stilte kom soos 'n sware vloed op haar af; die kers brand kalm met 'n geel-blou vlam, spits aan die punt. Sy maak haar werk klaar, laat een kers in die kombuis op die kas bly brand sodat haar man lig het as hy netnou tuiskom. Sy neem 'n blaker met brandende kers en skuifel stadig met moeë, eindeloos moeë bene deur die sitkamer na die slaapkamer toe. Met die trillende ligkring om
| |
| |
haar en daarbuite die duisternis, voel sy so alleen, noudat haar seun haar verlaat het, net of sy wil weg gaan uit die lewe, of die bietjie lig wat sy in haar dra, netnou uitgeknip sal word in die eindelose nag van die dood. Die lig veeg vir 'n oomblik oor swaar vergrotings: dié van haar vader en moeder, van Sybrand se vader en moeder.
Sy sit die blaker op die tafeltjie in die kamer neer. Dan maak sy sorgvuldig 'n ou kas met swaar koperbeslag oop. Dié het Sybrand van sy oorlede moeder geërwe. Dit is al vir geslagte in die familie. Daaruit haal sy, diep onder die ander klere uit, 'n klein wit rokkie - daarin is Henning gedoop. Dan nog 'n paar sagte skoentjies wat hy as suigeling gedra het. Die een is deurgeskaaf by die toontjie. Sy druk dit vir 'n oomblik teen haar vas of dit 'n kind is wat sy in die arms wieg. Warm trane val op haar hande. Dit is of alles van haar weggeneem is wat haar nog vasgehou het aan die lewe. Wat hou haar nog? Sal sy haar kind ooit weer sien? Annie en Hennie was maande laas hier - hulle is kwaad omdat Sybrand hulle nie uit die moeilikheid wil help nie. Haar lewe is al so vasgegroei aan die eensame dae dat alle afwisseling vir haar onmoontlik lyk. Dit is of sy maar 'n stuk van die eensaamheid self is, want dit het haar gedagtes, haar hele wese deurweek met sy gedurige aanwesigheid. Sy bêre die kinder- | |
| |
goedjies of dit mooi herinneringe uit 'n verre verlede is wat sy moet verwyder, diep onder dinge moet inskuiwe, omdat dit nie pas by vandag nie, omdat sy so ver, so baie ver weg gegroei het van daardie kort geluk van haar huwelik.
Sy trek haar uit en gaan lê. Naby haar gesig brand die kers. Sy hoor voetstappe in die kombuis en dadelik blaas sy die kers uit, want as haar man in die kamer kom, wil sy maak of sy slaap. Dalk praat hy weer oor Henning, en dit wil sy teen alle koste vermy. Sy hoor hom by die kamer inkom, sy hoor hoe hy uittrek en gaan lê met 'n lang, swaar sug. Dan hoor sy hoe onrustig hy asemhaal; hoe hy rondrol. Dit is net hulle twee alleen in die nag, alleen in hierdie huis. Die kinders wat hulle saam, asof die natuur hulle daartoe gedwing het, in die lewe geroep het, is van hulle af weg. Hulle is weer alleen soos vroeër toe hulle jong liggame na gemeenskap gesoek het; nou soek hulle gees op die oudag na 'n geestelike ankerplek in die gees van 'n medemens, maar dié is daar nie; nou moet elkeen sy pad alleen loop na 'n steeds wyer wordende eensaamheid en skemering.
Sy dink aan die more toe hulle uit die dorp gery het net na hulle huwelik. Die perdepote het fris in die sonnedag geklop, en langs haar was haar sterk, hartstogtelike bruidegom. Dit word wit en stil in haar van 'n groot geluk
| |
| |
net soos op daardie dag. Haar huweliksgeluk is weer in haar; dit stroom haar hele gedagte vol met sy stemming. En die dae wat tussen-in gekom het. Annie se geboorte. Henning se geboorte. Die verwydering tussen haar en haar man daarna. Die eensame dae wat voor haar staan, hard soos olienhout.
Sy voel 'n koue wat van haar voete af opkom. Dan is vanmiddag soos 'n felle werklikheid weer in haar gees. Dit bespring haar nou soos 'n dier met helder geskreeu.
‘My kind! My kind!’
In daardie woorde het baie dinge gesterwe, het sy die wanhoop van haar lewe uitgesnik.
Dit voel of dit onder haar voet begin, dan word die regterkant van haar liggaam dof. Dit kom met 'n vreeslike kramp, 'n swart vloed oor haar bewussyn. Sy gee net 'n sagte geroep en haar linkerhand val, deur die kramp opgeruk, byna ongemerk op oom Sybrand se bors. Dit het vir hom gegaan of sy vrou sy naam daar genoem het, maar sag, soos baie jare gelede toe sy hand hare gestreel het. Dit roer tot in sy diepste. Die kind het sy vrou se hele lewe verander. Hier lê haar hand op sy bors soos doer in die begin. Sy soek hulp, troos, en dit streel sy gevoel van eiewaarde dat sy na hom kom. Hy voel skaam om haar hand te vat en sentimenteel soos 'n jongkêrel te wees. Tog het vandag baie aan hom gedoen - en daardie klank van sy
| |
| |
vrou se stem nou, soos jare, jare gelede! Hy lig sy hand onder die kombers uit en sit dit op sy vrou se kou vingers. Hy skrik. Hy roep na haar. Hy neem haar om haar skouers soos jare gelede. Maar sy is stil, stiller as wat sy ooit was.
| |
IX
Annie was dan tog reg. Dat haar ouma se lyk lank warm gebly het, was 'n teken dat iemand gou moet volg. So het dit dan ook gebeur, want die plaaskerkhof se geroeste draadhek is weer losgedraai, 'n hoop rooi grond wys daar langs die graf van ouma Willa.
Vir Annie was die dood van haar ma 'n vreeslike slag, veral omdat sy en haar man kwaad was omdat oom Sybrand hulle nie wou help nie. Toe die kaffer daar by hulle met die doodsbriefie aankom, het sy tweekeer ná mekaar flou geword, want sy was in die laaste tyd nie te gesond nie; haar bene swel op en sy het in 'n paar maande dertig pond swaarder geword.
Dié gesette vrou, wat vir oom Sybrand byna soos 'n vreemdeling gelyk het toe sy moeilik uit die kar gesukkel het, werskaf vanmore in haar ma se huis rond, en kort-kort, as sy 'n kledingstuk of tekens van haar moeder se handewerk kry, dan kom die trane vanself en bly sy 'n rukkie staan om die gevoel van namelose hartseer te oorwin. Sy het al seker vyfkeer na
| |
| |
die lyk van haar moeder gaan kyk, en telkens trek 'n duister drang haar na die dode, waar sy met gevoude hande in haar kis lê, hande wat soveel geswoeg het, maar nou rus in 'n stille gekruiste houding asof in oneindige gebedteenoor die Skepper van alle lewe. Haar gesig is oud en byna geel soos 'n boomblad, en tog is daar 'n trek op wat die dogter nie kan ontraaisel nie; 'n verbloemde glimlag, onder die masker van haar gesig, 'n trek van suiwer geestelike vreugde. Sy kan nie uitmaak waaraan dit haar laat dink nie. Sy loop weer terug en kyk na haar moeder se gesig. Lank staan sy in die stil kamer; die dode se verborge lagtrek boei haar met 'n ontstemmende bindkrag. En daar daag dit opeens in haar: jare en jare gelede, toe sy nog maar 'n klein dogtertjie was, het haar ma eendag vir haar op die tafel getel en vertel en vertel van die dae toe sy nog 'n jongmeisie was, toe haar pa vir die eerste keer na haar gaan vry het en mense gesê het dat sy die mooiste meisie op 'n groot nagmaalsviering was. Daar het sy die lag, nie duidelik nie, maar fyn en ingehoue by haar moeder gesien, en dit tref haar nou met bitter pyn dat haar ma se bietjie lewensgeluk saam met haar einde op so 'n vreemde manier vermeng is.
Oom Sybrand kom op die punte van sy skoene binne. Sy vel vertoon nie 'n druppel bloed nie; sy hare en baard lyk soos van 'n mens wat vir
| |
| |
'n paar nagte baie sleg geslaap het. Hy kom staan naas die kis, teenoor sy dogter. Ook hy sien daardie trek, wat sy hart baie, baie jare gelede so geroer het. Dis haas ongelooflik, maar vir oomblikke is dit te duidelik: agter die ou, afgeleefde, effens gerimpelde gesig skemer die gelaat op van 'n jong vrou, die trekke so duidelik of sy nou uit die kis kan opstaan. Dan verdwyn dit weer as hy sy aandag te veel daarop toespits en die doodsgesig kom soos 'n skerp aanklag na sy gewete toe; hy word duiselig, en asof hy die verbysterende ooreenkoms hier voor hom van die jong vrou wat hy so liefgehad het en die ou vrou wat hy haas nie raak gesien het nie, op hierdie laaste oomblik, voordat sy aan die aarde teruggegee sal word, as 'n bo-menslike bedreiging besef, skud hy net sy kop en dit voel vir hom of sy bene saggies onder hom swik.
Saam loop vader en dogter uit die kamer, en 'n deurvoeling van die lewe se verganklikheid slaan hom met so 'n magteloosheid dat hy geen woord het om te sê nie. Om te dink dat mens alles wat jy met moeite en sorg opgebou het, net so moet laat staan, tref met 'n bylhou aan die wortel van al sy opvattings. Sy vrou se dood bring hom veral onder die indruk van sy eie verganklikheid. Sy lewensmaat is weg; dit is 'n vermaning vir hom dat sy tyd nader kom, dat hulle oor 'n paar jaar weer die geroeste hek van die kerkhof sal moet losdraai, en dan sal die mense gedemp
| |
| |
vir mekaar sê: ‘Sybrand is dood.’ Dit is of hy 'n aanval van koukoors kry, en sy dogter sien hoe hy ril. Hy loop na buite en sy volg hom. Hy rek hom uit in die warm herfsson; dit is of hy die strale opsuig in sy liggaam. Hier is die lewe wat hy begeer, wat hy wil bly behou. Hier in die warm son kom sy gees stadigaan uit die bedrukking wat hom so vasgegryp het. Annie vee trane van haar dik wange weg.
‘Pa weet,’ sê sy, ‘die nag vóór ma se dood het ek mos so 'n nare droom gehad. Ek droom dat ma by my kom en so vreeslik huil; en toe sê sy vir my dat 'n kar haar kom haal en dat sy nooit weer terug kom nie. Ek het so vreeslik akelig gevoel. En dit was altyd dié vreeslike ding wat oor ons sou kom.’
Oom Sybrand sê niks; hy kyk net voor hom. Annie gesels voort: ‘En nou val dit my by: Lettie het drie dae gelede vreeslik gehuil. Sy wou nie 'n woord praat nie, maar sy het net stip voor haar gekyk. Pa weet die kind is mos met die helm gebore.’ Oom Sybrand knik net saggies sy kop en Annie sê: ‘Pa weet dit is darem te wonderlik, maar dit lyk al vir my of daar so 'n glimlag op ma se gesig is.’
Oom Sybrand maak 'n gebaar vir sy dogter om tog asseblief op te hou. Hy loop 'n endjie van haar af weg en 'n trek van wrede pyn kom oor sy gesig. Dan kyk hy op. Die oomblik van bitter
| |
| |
beproewing is daar. Karre begin aankom; mense kuier aan na die huis. Die begrafnis moet begin. Hy weet wat hulle gesels waar hulle daar so in klompies staan: dit gaan oor Henning. Dit word gesê dat Henning se vertrek sy moeder se dood gekos het en dat die vader aan alles skuld het! Klomp onderduimse goed! Daar word hande na hom toe uitgesteek om simpatie te betuig, maar hy sien die slegverbloemde wantroue in die oë, die skimptrek op die lippe. Nou sê die laaste een dat hy sy vrou mishandel het, dat hy sy seun soos 'n hond van die plaas af weggeja het. Die arme kind is nie eers by sy eie moeder se begrafnis nie!
O, hy ken hulle so goed: dié genadelose skinderbekke met hulle lae insinuasies en vermoedens, hulle lafhartige gefluister onder mekaar, hulle lasterlike onwaarheid en vervuiling van 'n ander se karakter. Hy kan dit van hulle gesigte, houding, gebare aflees - vandag word hy aan repe geskeur. Sy hart krimp ineen van gewondheid. Hy sou die klomp nare, nuuskierige goed wat hom stip en onbeskof staan en aankyk om te sien hoeveel hy huil, hoe hy presies reageer, met 'n strop wil byvlie en hulle slaan en striem dat hulle krul; die vrouens met hulle dom gesigte en sluwe, bespiedende oë, die mans wat aas op sy leed en hom sal verdelg as hulle kan!
Hy voel sy gesig ruk van die senuweetrillings.
| |
| |
Hy moet nie dalk 'n molés hier maak nie. Dit voel of hy sy hele beheer oor sy gestel kwyt is. Soos verre winde vergaan woorde en psalms in sy ore; nou loop hy agter die kis en hoor die skuifelende voetstappe. Dan by die graf. Almal se oë kyk na hom; sy vrou se familie is beslis vyandig. Die bywoner en sy vrou staan naby hom. Hulle het nog die meeste simpatie. Met 'n verligting voel hy dat dit verby is; hy het sy handvol grond in die graf gegooi. Grawe klink teen die kluite. Hy wag nog 'n rukkie; kyk hoe die grond in die diepte stroom. Dan loop hy saam met Annie en haar man. Annie sal nou die gewigtige vraag stel waaroor sy en haar man baie gepraat het ná hulle van hulle moeder se dood gehoor het.
‘Pa, ek het met Hennie daaroor gepraat. Sal ons nie maar vir goed hier by pa kom bly sodat pa 'n sorg het nie?’ Maar sy antwoord is vir hulle hard, ru: ‘Dankie, my kind, bly tot more. Ek sal wel alleen regkom.’
Toe loop hulle stil aan. Bo-oor hulle speel die najaarswind deur die populierblare 'n verlore lied van die eeue. |
|