| |
| |
| |
Hoofstuk IV
I
Die dodes hoort by die dodes; hulle is deel van die dinge wat agter lê. Die lewendes moet sorg vir die dae wat voorlê; hulle moet vastrap, gryp wat hulle toekom, hulle lewens vasbou met aardse veiligheid wat die besitting is. So is dit dan dat die invloed wat sy moeder se dood op hom gehad het, gou op die agtergrond raak, want die lewe wag vir niemand nie; dis daarom dat oom Sybrand vanmore weer met gespanne wenkbroue tel, reken, meet.
Een ding is vir hom baie verkeerd, en dit is dat die bliktrommeltjie met geld wat altyd onder sy moeder se bed gestaan het, net ná haar dood spoorloos verdwyn het. Volgens hy deur navraag, berekening en giswerk kon uitmaak, moes daar omtrent 'n honderd pond aan note en silwergeld in gewees het, en dit vul hom met 'n vreeslike wrok om te dink dat geld, waarvan 'n deel aan hom toekom, op dié manier weggeroof is. Hy het die polisie dadelik in kennis gestel, maar hulle kon nog geen spoor van die dief of diewe kry nie. In sy enigheid weet hy egter wie dit is. Dit is Gert en Maria. Die skuld druk hulle elke dag meer, en nou het hulle die geleent- | |
| |
heid aangegryp om 'n bietjie kontant in die hande te kry. Maria was pal by hulle moeder; jy kon haar amper nie van die bed wegkry nie, en die stoepsitter Gert was gedurig in die nabyheid, kastig vreeslik besorg oor die sieke se toestand. Dit kan net hulle wees en niemand anders nie, want hulle het haarfyn geweet van die trommel. Al kos dit hom ook 'n dik spul geld, hy sal vir hulle ry. Hy sal 'n slamaaier laat kom om uit te vind wie die diefstal gepleeg het. Hy sal nie rus voor hy die bedrog aan die lig gebring het nie, nie so seer om die bedrog nie, maar omdat geld wat hy moes geërwe het, wat hom wettig toekom, op dié vuil manier, en dit deur 'n klomp familiewolwe, gesteel is. Dieselfde gevoel wat hy kry wanneer hy hoor dat 'n gehate buurman 'n groot slag geslaan het, dat hy weer grond bykoop, dat hy 'n groot ‘geluk’ gehad het - dit is dieselfde naakte, onkeerbare drif wat hom nou aansweep om sy deel, elke krieseltjie te kry waar daar geërwe moet word.
Hy loop deur die duik al met die voetpad langs na sy moeder se huis toe. Hy wag op die koms van die prokureur, want hy het hom spesiaal gevra om persoonlik te kom sodat die huisraad en werfgereedskap behoorlik verdeel kan word.
Hy wil so min as moontlik vir Gert en Maria sien. Daarom haas hy hom nie. Hy wag tot die prokureur verskyn met die kar en perde, waarmee Henning hom gaan haal het; dan gaan
| |
| |
hy tot by die huis, groet die kêrel kortaf en vra dat hulle dadelik moet begin.
Gert en Maria staan alreeds vir 'n uur of wat en wag. Oom Sybrand kyk nie na hulle nie. Hy kook. Hy wonder wat hulle al weer weggesteek en weg gesteel het. Wolwe. Die prokureur hou nie van hierdie werk nie. Hy ken die kleinlike grypsug en rusies, die nare skimpe en verwyte, die getwis oor die klere en skoene van 'n dode. Maar hy gaan voort met sy werk.
Sommer uit die staanspoor is daar moeilikheid. Die ou erfstuk, die klerekas wat in ouma Willa se kamer gestaan het, moet nou, volgens die verdeling, na oom Sybrand toe, maar tant Maria word bloedrooi van boosaardigheid en sê skerp, vashoudend: ‘Ma het altyd gesê ek kan daardie kas kry. Jy weet dit Sybrand. Dit kom my toe.’ Die prokureur paai, redeneer, lê uit. Oom Sybrand wil naderhand toegee, maar in plaas van die kas wil hy omtrent die hele voorhuis se meubels hê. Die woorde tussen broer en suster word bitsig, striemend. Oom Gert kom by en oom Sybrand beledig hom reguit. ‘Hou jou hier uit, Gert, hou jou hier uit. Jy het hier niks te sê nie.’ En oom Gert word wit tot op sy lippe en hy sê net sluk-sluk: ‘As ek my sonde nie ontsien nie...’ Maar oom Sybrand luister nie eers na hom nie. Die ingelegde vrugte; potte, panne en ketels; grawe en harke; komberse en tafeldoeke; vergrotings en muurtekste - dit moet
| |
| |
alles, op 'n grondslag van waardeberedenering, verdeel word, en broer en suster se oë is skerp gerig op die dinge wat aan elkeen toekom, en die verdeling ontaard in 'n opeisery en grypery wat die prokureur kort-kort laat ophou met werk, want hy het hom al hees beduie. Dan veeg hy die sweet van sy voorkop af, maak sy bril skoon, en kan net ontnugterd uitroep: ‘Liewe mense, wees dan nou redelik!’ Maar hier werk geen redelikheid nie. Die buit moet verdeel word, en wie nie onwrikbaar opeis wat hom toekom nie, moet aan die kortste end trek. En daarvoor is broer sowel as suster darem te uitgeslape.
Eindelik is alles, van 'n pakkie naalde af tot by ouma Willa se tjalie toe verdeel; oom Sybrand buig regop en sê met vlammende oë: ‘En die vuilgoed wat daardie trommeltjie geld gevat het, sal ek vervolg tot in hulle graf - maar kry sal ek hulle.’ Sy vermoede was reg. Waarom swyg Maria en Gert albei? Toe bars hy los met 'n hese beskuldigingstem: ‘Lewer uit! Lewer uit! Weet julle daar iets van?’ Sy oë kan sy swaer en suster verdelg, maar hulle woorde ratel deurmekaar een en al blinde verontwaardiging, haat, gekwetstheid. Die prokureur werp sy hande omhoog tussen die geweervuur van woorde in en skreeu wanhopig:
‘Maar dit is naar! Julle is tog familie, julle is Christene. In Godsnaam hou op!’ Daar volg 'n dreigende wapenstilstand vol verswege ver- | |
| |
doemingswoorde. Oom Sybrand loop eenkanttoe om sy goed te laat aankarwei. Die woonhuis sal aan hom behoort. Niemand uit Gert se huis sit poot weer daarin nie!
‘En nou moet julle Maandag inkom dorptoe dat ons die testament se bepalings finaal kan afhandel,’ sê die prokureur en klim in die kar wat Henning al weer vir hom reg het. ‘Nou totsiens,’ sê hy en lig sy swart hoed hoog in die lug, en om sy mond lê 'n sarkastiese grynslag.
| |
II
Henning se hele lewe het verander. Daar het 'n groot ontwaking diep aan die wortels van sy lewe begin werk wat hom voortdryf, hom verlangend laat kyk na die populiere van Langvlei, hom laat planne maak wat telkens weer misluk. Hoe hy ook al probeer, dit is vir hom totaal onmoontlik om vir Johanna te sien te kry. Haar ouers se oë is soos valke s'n op al haar bewegings gerig. Twee van die briewe wat hy gestuur het, is deur hulle onderskep. Die ou dom skaapwagter moes dit onder dreigemente afgee. En nou? Al hierdie teenslae en onredelike vyandigheid verskerp net die vernieude poging, maak die gefnuikte hartstogte soos verborge dinamiet. Henning het in sy wanhoop al gedink of hy nie sy vader sal nader, hom reguit sê hoe dit tussen hom en Johanna staan en hom,
| |
| |
as vader, versoek om die onnosele rusie met oom Jaap uit die wêreld te maak omdat dit hulle liefde in die weg staan. Maar as hy dan weer kyk na die kort, vaste bene, die nukkerige voorkop en die vyandige gebare, dan besef hy hoe onmoontlik hierdie plan van hom is.
By 'n biduur, 'n begrafnis, 'n kerkdiens mag Johanna nie meer kom nie, en as dit dan nog gebeur, dan is sy feitlik aan haar moeder vasgelym, wat versigtig langs haar loop soos 'n skugter plaasmens in 'n hewige verkeer. Hy het al daaraan gedink om een nag aan haar kamervenster te gaan klop en net 'n paar woorde vir haar te sê, maar hy besef maar te goed dat as Johanna se vader hom daar moet ontdek, hy half die beroerte van woede sal kry en dalk verskriklike dinge kan begaan. Wat dan? Maar dag-vir-dag so laat verbygaan sonder dat hy iets aan dié waansinnige tronklewe van Johanna kan doen? Die voorjaar is nou op sy hoogtepunt; dit is weke laas dat hy vir Johanna daardie middag by sy tante gesien het. Hy kan nie meer werk nie. Hy weet dat sy vader klaar sit om hom in te vlie, omdat hy in die laaste tyd so half werk, so ingedagte is by wat hy doen. Hy kan nie anders nie. Hy wandel rond met 'n verskriklike vuur in sy gedagte. Daardie middag, die oomblik van heftige liefdesopenbaring, is nou diep in sy bloed ingeënt; dit laat sy denke deur aanvalle van hartstog totaal
| |
| |
oorweldig word. Maar dan voel hy plotseling soos 'n gevangene wat die tralies swaar omklem en dag-vir-dag uitstaar na die vol lewe daarbuite. Hy durf nie sy ou bestaantjie laat gaan op die weg wat hy verkies nie. Sy drifte moet toegekurk word, dit moet dood!
Met 'n ruwe vloek gryp hy na 'n graaf in die waenhuis, gooi dit oor sy skouer sodat die blad weerlig in die milde lenteson en toe stap hy tuin-toe. Toe hy daar kom, weet hy self nie wat hy wou doen nie. Hy steek die graaf vas in die sagte grond en sit gehurk daarby en peins. Om hom is die bloeiende bome, die gesoem van bye en diep deurdringende blommegeur. Die pruimboom wat leun oor hom, is een wit wolk blomme waarin die son lang stroke lig maak en deurskynende reinheid aan die oop bloeisels gee. Die bye is goud-bruin tussen die weelde en teen 'n skurwe tak werk 'n houtkapper, wat effens hang-hang sit, met sy harde snawel kloppend teen die hout. Die bome hier om hom begin hulle blare stadig en kunstig losvou uit die stywe hoë takke, en van boom tot boom glans daar silwer drade blitsend in die son. Laag oor die fonteindam swaai die vinke aan half-klaar neste; hulle kwetter van arbeidsvreugde en vul die lug met 'n blye luidrugtigheid. Die lentekrag kom van alle kante op Henning aan. Rondom hom lê die koele sonlig op blare en takke, en die geur van die grond en die blomme vul hom diep
| |
| |
- dit is of hy 'n swaar liefdesdrank drink wat hom oorweldig en loom maak. Van die verte af kom die plaasgeluide, die lente-gerugte hier na hom toe, en hier is hy eensaam te midde van die volheid, hier nooi die lente hom uit tot 'n aangroeiende fees van heerlikheid op heerlikheid, en tog is sy hart alleen, omdat domme, menslike rusies, klein ou kampies wat die mens bokant die groot, magtige lewe span, hom verwyder hou van Johanna. Die lentedag kom soos 'n swaar, skuimende see in hom op. Dit is so verruimend: die eindeloosheid van blou lugte bo-oor hom, van kragte wat opstu onder uit die aarde en uitbreek in 'n gloed van blare en blomme; die geur wat uit die deursonde aarde kom, waar ou blare tot nuwe lewe word - dit vul sy sintuie. Dit dawer opeens in die kragtige boerseun se hoof; sy bloed tintel van die ritmiese krag van die aarde om hom waarop hy, sonder dat hy hom daarteen kan verset, voortgestu word soos 'n plant wat magteloos gebonde is aan die wette van die natuurverloop.
Hy gaan iets doen! Al jaag oom Jaap hom daar met die lemetford weg. Dit is naar, dit is wreed om so voort te gaan. Hulle sal natuurlik nou hulle bes doen om iemand anders aan te lok sodat sy hom moet vergeet. Sy hande klem vaster om die graaf hier voor hom. Hulle sal haar dwing om met iemand te trou van wie sy nie hou nie - en dit net alles uit haat vir sy
| |
| |
vader, vir sy familie. Opeens kom 'n groot bitterheid in sy hart op teen sy vader. Met sy hardkoppigheid en beterwetery vervreemd hy almal van hom. Hy kom nie by sy bure nie, en as een van hulle se vee 'n poot in sy veld sit, dan word dit dadelik skut-toe gestuur. Hy weet hoe die mense van sy vader praat, en nou moet hy en Johanna ly onder dié agterstevoorgedoente.
Hy het nie gemerk dat 'n kort, stewige figuur hom genader het nie. Tot naby hom kom oom Sybrand, wat net 'n endjie verder by sy looivat besig was om bas in te gooi. Hy kyk sy seun met harde oë aan en bol sy lippe op mekaar. Hy wag, maar Henning kyk nie op nie. Dan praat hy opeens, luid en hardvogtig: ‘En wat se slapery is dit nou helder oor dag?’ Hy noem opsetlik nie Henning se naam nie, want dit sou 'n klank van vertroulikheid gee aan wat hy wil sê. En dit moet teen alle koste vermy word. Die seun skrik geweldig uit sy mymering op, vlie orent en trek die graaf uit die grond.
‘Loop spit vir my die fyntuin om,’ sê oom Sybrand; ‘ek wil groente daar plant. En nie weer halwe werk nie. Al wat jy in die laaste tyd doen, is half!’
Waarom bars hy nie nou teen sy vader los nie? Waar is al die gedagtes wat soos buskruit in hom gelê het? Maar hy kan niks sê nie. Dit is of sy lewe na binne so onverwags na buite gerig
| |
| |
is dat hy onhandig rondsukkel in die werklikheid. Vir 'n oomblik kyk hy sy vader uitdagend aan met 'n kop wat effens vooroor geboë is soos van 'n kwaai bees wat net wil storm. Rondom hulle juig die vinke en gaan die lente soos 'n groot, wit kelk in die blou dag oop. Hy voel hom magteloos in die greep van die lewe om hom; daar roer diep dinge in sy gedagtes, diep soos die lente self. Sonder om 'n woord te sê, stryk hy van sy vader af weg.
| |
III
Toe oom Sybrand die middag om drie-uur van sy boonste veld af terugkom, waar hy gaan kyk het of dit waar is wat sy skaapwagter vertel het dat die kuile nie meer water het nie, word hy onaangenaam verras deur die kar wat voor sy deur uitgespan staan. Hy kyk aandagtig na die twee perde in die kampie. So ver as wat hy kan uitmaak, behoort hulle aan Andries Nel, die ouderling van hierdie wyk. 'n Nydige trek kom om sy mond, want hy weet al weer klaar waarvoor dit is. Dit is 'n kollekteerdery, en daarmee het hy baie min geduld. Die kerk moet 'n hele spul hier op die dorp aan die lewe hou, almal mense wat te lui is om te werk en van die more tot die aand in 'n ander se oë sit en kyk. Al waarvan jy hoor, is net liefdadigheid. Jy sou sweer die hele volk moet met lepels gevoer
| |
| |
word! Die ruggraat is al uit die ou spul. Al wat hulle kortkom is vroeg opstaan, hard werk, en die eerste een wat weer met sy klomp klagte en griewe begin, moet gelooi word tot hy sy smoel hou.
Driftig loop hy by die agterdeur in, vee die sweet van sy gesig af en breed en vas stap hy by die sitkamer in en bring saam met hom 'n ruik van platgetrapte bossies en gras. Hy skrik effens toe hy die predikant sien, wat langs Andries Nel op die rusbank sit. Kortaf groet hy hulle, en die ouderling wat graag van korswil hou en die kans nie wil laat verbygaan om fyn met oom Sybrand te spot nie, begin dadelik: ‘En hoe kom jy dan so blaas-blaas in, ou vriend? Dit lyk vir my jou pit is ook al uit.’ Oom Andries het 'n groot lyf en sy maag lê met 'n sierlike welwing onder sy onderbaadjie. Hy kyk met ondeuende oë na die nukkerige oom Sybrand wat hom bloedig vererg vir dié skimpery en net 'n afkeurende geblaas deur die neus gee. Hy antwoord niks, en die predikant voel dat hy hierdie man versigtig moet aanpak. ‘Broer,’ sê hy, ‘hoe gaan dit met die boerdery? Dit lyk my of dit 'n bietjie droog word.’
‘Ja'k’, sê oom Sybrand en toe kyk hy voor hom of hy hierdie kuiertjie so gou as moontlik op 'n end wil bring. Tant Betta skaam haar vir die ongeaardheid van haar man en sy probeer moedig om die geselskap aan die gang te hou.
| |
| |
Oom Andries steur hom egter gladnie aan die onvriendelike houding van oom Sybrand nie. Dit tart hom eerder uit om die ou te terg, want as welgestelde boer gee hy baie min om vir die skurwe afsydigheid van die ‘ou krimpvark’, soos hy hom gewoonlik in die omgang noem. Hy het 'n baserige manier van praat en dit kan hom nie die minste skeel hoe oom Sybrand daarop sal reageer nie.
‘Niggie,’ sê hy lag-lag aan tant Betta, ‘hoe kom jy met so 'n liewe, vriendelike man oor die weg? Neef Sybrand lyk altyd vir my so kalm en bedaard of hy nie 'n vlieg tussen 'n mens se blaaie sal doodslaan nie. Sulke soort mense maak mos nooit moeilikheid nie.’ Hy sien hoe oom Sybrand sy bes doen om nie sy afkeer uit te skreeu nie, maar dit spoor hom maar net aan om verder te gaan met sy gekskeerdery: ‘Ek wonder nou net, neef Sybrand, toe jy daar so vriendelik ingestap kom, hoe jy in 'n manel sal lyk. Jy lyk my so uitgeknip vir 'n ouderling.’
Nou kan oom Sybrand dié twak nie meer verdra nie. So skuinsweg sê hy honend: ‘Nee, ou vriend, die manel laat ek oor aan mense wat niks te doen het nie, wat van leeglê met 'n groot koei-maag moet sukkel.’ Oom Andries word effens rooi, want hy is gewoond om net te sê wat hy wil. As iemand nie daarvan hou nie, moet hy trap. As ryk boer voel hy hom ongebonde. Hy draai sy groot lyf met moeite in die
| |
| |
stoel rond en sê: ‘Dit is net soos jy sê, ou vriend. Daar is baie soorte mense nodig om die ou wêreld aan die gang te hou. Dié met 'n groot maag, maar ook dié wat soos volk lewe en nooit in die kerk kom nie.’ Die predikant veer omhoog. Hiervoor het hy nie gekom nie. Oom Andries sal alles bederwe.
Tant Betta staan verbouereerd op om koffie te gaan haal, baie hartseer oor daardie skimp, veral omdat sy weet dat dit waar is.
‘Broer,’ sê die predikant vriendelik, ‘ons moet vanmiddag nog by 'n paar mense aan. U moet ons nou nie verkeerd verstaan nie ...’ Hy merk hoe swaar oom Sybrand sy voorkop frons; ‘ek is nie lank in die gemeente nie en ek wil graag met almal kennismaak. Aan my is gesê dat u nooit meer kerktoe kom nie, dat u nooit meer aan 'n nagmaalstafel kom nie. Ek hoor ook dat u iets teen die vorige leraar gehad het. Dit spyt my van harte. Ek het daarom gekom om bietjie met u te gesels. Ons kerk het almal nodig. Sonder die kerk kan geen mens lewe nie. Ek wil graag dat ons hierdie ding regmaak. Ek sal die gelukkigste man ter wêreld wees as ek op die preekstoel klim en sien dat u weer op u plek is in die kerk.’
Hy het vriendelik, uitnodigend gepraat. Hy meen dit opreg met hierdie man wat vir hom hard lyk soos 'n taaibos. Lanklaas het hy iemand gesien wat so vergroeid is met sy
| |
| |
omgewing. Hy wag. Oom Andries sit saggies en meesmuil. Die predikant kan die stroperigste woorde kies wat hy wil, maar met dié ou krimpvark maak jy nie 'n hond haaraf nie! Van alle kante het hy penne wat jou steek. Mens moet die ou blikskottel maar vir goed onder sensuur sit!
Oom Sybrand wag 'n rukkie. Hy kan hom nie goed uitdruk nie. Naas die predikant se gladde manier van praat, is sy woorde vir hom soos onbewerkte ysterklip. Hy begin hakkerig, en dit vererg hom bloedig dat ou Andries daar sit en grinnik. Jy sien net hoe skud die ou se maag soos drilsel!
‘Dit is reg wat u daar sê dominie; ek kom min in die kerk. Maar dit is vir 'n boer wat sorg vir sy goed, onmoontlik om gereeld kerktoe te ry. Veral as hy met die lammers moet sukkel, gaan dit hotagter. En dan wil ek ook sommer reguit sê, dominie, ek weet nie aldag of dié kerktoe-ganery help nie. Die ou spul wat gereeld kerktoe gaan, is baiemaal die grootste huigelaars. Hulle is van die onderduimste oues wat ek ken. Wat help dit dan? Dit is net vet om die oë smeer.’
Oom Andries kan sy vryuit pratery nie laat nie. ‘Dit is net soos jy sê, ou vriend,’ klink sy stem hard of hy 'n bevel gee, ‘dit is net die huigelaars wat kerktoe gaan. Die opregte Christene sit by die huis. Hulle doen nie aan
| |
| |
'n mier kwaad nie. Hulle lewe in opregte vriendskap met hulle bure. Hulle lees van die more tot die aand in die Bybel.’
Die predikant moet weer tussenbei kom: ‘Ag nee, broer,’ sê hy vir oom Sybrand; ‘dié praatjie dat net die onderduimse mense kerktoe gaan, glo jy tog self nie. Ons almal het maar foute. Dit help nie dat ons mekaar beskuldig nie. Dink nou na oor wat ek gevra het, en kom weer. Dit is die kerk van u vaders. God sal u en u boerdery seën as u sy Huis nie verwaarloos nie.’
Oom Sybrand het tot die gevolgtrekking gekom dat hy 'n groot fout gemaak het om met die predikant te redeneer. Dit help nie die minste nie. Die predikant glo een ding en hy glo 'n ander. Hulle sal mekaar nooit oortuig nie. Hy glo dat hy net so 'n goeie mens is as ou Andries, dat hy net soveel kans het om in die hemel te kom. Almal weet dat hy hard werk, dat daar nie 'n lui haar op sy kop is nie. Dit is sy plig. Al die ander dinge is 'n klomp safte woorde. Die mense wat hom die lelikste onderdeur gespring het, was die vroom gesigte wat die langste op bidure kan bid. Hierdie selfde ou Andries moet kastig gedurig na sy bywoner se huis toe as dié nie daar is nie. Dit is om sy jong vrou. Almal praat daarvan. En hier wil hy hom kom kapittel. Genugtig! Die redenasie
| |
| |
stuit nou gou aan op oom Sybrand se botte stilswye.
Ná hulle koffie gedrink het, doen die predikant 'n mooi gebed vir die huis. Wye vertes gaan in tant Betta se lewe oop; ou stemme, lankal dood, sing uit die diepte op. Haar wange is nat van die trane. Sy kan sonder God nie lewe nie. Maar haar man! Die predikant en die ouderling neem afskeid, en terwyl hulle op hulle kar klim, is oom Sybrand se gedagtes al weer besig met die werk wat vir hom wag.
| |
IV
‘O, my liefste, dit is vir my byna onmoontlik om so aan te gaan. My ouers maak vir my die lewe ondraaglik. Van die more tot die aand hou hulle my dop; mens sou sê dat ek 'n gemene bandiet is. Ek het al 'n hele paar briewe vir jou geskrywe, ek het hulle dae by my rondgedra, maar ek moes hulle weer stukkend skeur, want daar was nie die minste kans om hulle aan jou te stuur nie. Ek moet selfs my briewe skelmskelm skrywe, want ma kom sommer op alle moontlike tye by my kamer ingewaai om te kyk of ek nie dalk aan jou skrywe nie. Die lewe word vir my te swaar; dit lyk amper nie die moeite werd om maar elke dag so aan te sukkel nie, terwyl jy verbied word om met die een te praat wat jy liefhet. Waarom sou ons ouers tog
| |
| |
so verkeerd wees en ons daaronder laat ly? As ek in die spieël kyk, kan ek sien hoe my gesig verval. Ek eet omtrent nie meer nie, en dit laat vir pa nog kwaaier word. Wat vir my die ergste is, is die kastige ryk kêrel wat hulle hierheen aanlok. Jy ken hom seker. Dis Jannie Kriek van Spitskop. Elke Saterdagaand is hy nou hier, en pa en ma hou my so dop om te sien dat ek vir hom vriendelik moet wees. My hart is in opstand hier binnekant my, en tog is ek so magteloos, want daar is niemand om my te help nie. Al wat my nog gelukkig maak, is die gedagte aan die Sondagmiddag toe ons so gelukkig saam was by jou tante. As ek dink aan ons groot liefde, dan kan ek weer die swaar dra. Maar so in my allenigheid wonder ek waar dit alles moet eindig. Ek hoop maar ek kan hierdie brief by jou kry. Dalk word hy soos al die ander ook maar weer stukkend geskeur. Hoe lank sal ek dit nog verdra? Wat het ek dan verkeerd gedaan om deur my ouers so behandel te word? Hulle maak of jy 'n vreeslike, lae soort mens is wat sy voet nie eers oor hulle drumpel mag sit nie. Ag, my liefste, moet my nie vergeet nie? Onthou my, onthou hoe ek in die eensaamheid ly vir 'n liefde wat vir my meer as alles is.’
Henning druk die brief krakend in sy harde hand ineen; dan vou hy magteloos die gekreukelde papier soos 'n dwaas weer oop, stryk
| |
| |
dit glad en lees die inhoud oor en oor. Hy wil blind soos 'n wilde dier aanval, maar hy kan nêrens 'n uitweg sien nie. Hy gaan sit langs die looivat en voel soos 'n verlorene in 'n wêreld wat hy nie ken nie. Jannie Kriek! Dit is of die jaloesie hom tot moord kan drywe. Hy gryp 'n groot ysterklip, plons dit geweldig in die looivat neer dat die basbedekte, ongeurige water hoog in die lug spring en wegspat oor die kante. 'n Vlaag van namelose vertedering kom in hom op sodat sy oë 'n diep hunkering kry, as hy dink aan die liewe, weerlose meisie wat so onmenslik behandel word en in haar verlatenheid smeek dat hy haar moet help, haar moet red uit die doellose van die dae wat kom, dae sonder hoop, sonder vertroosting. Al wat oorbly, is die geweld. Hy moet haar, al is sy nog onmondig, daar gaan wegvat, met haar trou, die wêreld ingaan, vér weg van hierdie kontrei waar die geselskap van skinderpraatjies deurtrek sal wees.
As die kêrel wat met ramme smous, nie die brief vir hom deurgesmokkel het nie, dan het dit seker nog maande geduur voor hy van haar gehoor het. Haar gesondheid sal daaronder ly, sy sal naderhand gedwing word om met dié ryk windbroek te trou, en dit sal die end wees. Vervloeks! Hy droë sy hande af, haal die brief nog 'n keer uit sy sak en hy lees dit weer. Om die woorde kom 'n gees, 'n aroma, 'n lieflikheid
| |
| |
wat hom oorweldig laat voel of sy teen sy bors aanleun en met diep, smekende oë, waarin die trane glans, vra dat hy haar moet beskerm, dat hy haar uit die vernedering moet wegneem, dat hulle van nou af moet saam wees, altyd.
Dit is vir hom baie duidelik dat hy gou moet handel. Hy redeneer nie meer nie. Dit is soos 'n werwelstorm in hom. Liefde, haat en jaloesie kom in hom duister deureengestrengel op. God moet hom vir iets vreesliks bewaar! Hy druk met sy hande styf vas op die kant van die looivat sodat sy kneukels wit wys. Hy kan geen werk doen nie. Sy vader kan sê wat hy wil. Mens kan nie 'n sterk veer te lank plat druk nie!
Hy het nie sy moeder gesien nie, maar word nou opeens bewus van haar stem hier langs hom. Hy skrik. ‘My kind, hier is vir jou 'n bietjie koffie en 'n paar handtertjies wat ek net gebak het.’ Hy begryp nie haar besorgdheid oor hom nie, want as hy in die tuin werk, so naby die huis, dan stuur sy nie vir hom koffie nie. Nou bring sy dit self. Sy kyk hoe hy dit drink, net soos 'n moeder wat haar driejaar-oud-seuntjie voed. Daar kom rus en besinning by hom op in die aanwesigheid van sy moeder, die swygsame, vereensaamde vrou. Wat sou sy van sy liefde weet? Sy word verwaarloos. Haar lewe, haar verlange is al toegegroei. En tog wek haar aanwesigheid 'n rus in hom soos wat mens kry as jy 'n wit plaat kosmos aanskou wat beweeg- | |
| |
loos staan in die moreson. Hy weet dat sy las het van haar swak hart. Dat sy baie ly in die laaste tyd. Maar alles in stilte. Sy praat nou min, alledaagse dinge. Sy kan nie vir haar seun sê wat sy voel nie. Sy probeer elke slag, maar 'n digte wand skei hulle. Maar haar simpatie, die diep-vroulike krag wat na hom uitgaan, maak hom stil soos 'n kuil in die maanskyn. Hy voel na, baie na aan sy moeder. Sonder om verder te praat, loop sy van hom weg huistoe.
Oom Sybrand merk nie hoe sy vrou se gesig verander nie. Sy het een more net nadat sy van die ontbyttafel af opgestaan het, so 'n aanval van haar hart gehad dat sy vir 'n halfuur doodstil op haar stoel bly sit het, uitgeput, tot in haar vingerpunte verlam, te bang om te roer, want dit was duidelik dat agter die aanslag iets groots dreig, 'n mag waarmee nie gespeel kan word nie. Haar gesig het in die laaste tyd geen druppel bloed nie, en die grys-swart hare, met die breë paadjie, gee aan haar hele wese 'n uitdrukking van 'n wasbeeld, van lewe wat gaan staan het. Maar haar man merk dit nie.
Selde in sy lewe was hy so bedrywig soos in die laaste tyd. Met die afsluiting van die boedel het dit duidelik geword in watter haglike toestand sy swaer Gert verkeer. Net die geringste stamp wat hy nou kry en dan lê hy onderstebo. Daardie vyfhonderd pond wat hy geleen het, is mooi net die strop wat hom by 'n
| |
| |
klein slootjie sal vaswurg. Ellendeling wat daardie trommeltjie geld gesteel het! Dit is nou vir oom Sybrand meer duidelik as ooit dat hy die skelm was, want die slamaaier wat hy een aand stil-stil laat kom het, het met sy vinger in 'n beker water rondgeroer, en nadat hy vir 'n kwartier daarin gekyk het, het hy die dief tot op 'n haar beskrywe. Dit het wel tien pond gekos, maar dit was die moeite werd, want sulke onderduimsheid kwel 'n mens, jy wil dit aan die daglig laat kom. Maar die ou sukkelaar sal nog boet daarvoor. Laat hom maar met sy dungeslyte baadjie so na die wip toe aanstap. Oor 'n tydjie duiwel hy daarin, en dan is die hele Boskloof van klippaal tot klippaal in sy eie hande.
Oom Sybrand sny en sny aan die jukskei voor hom, en dan hou hy weer die pad dop. Vandag moet die bywoner, Buks Langeveld, hom kom sien sodat hulle kan akkordeer oor die hele plan. Hy wil 'n fluks kêrel hê wat daar in sy oorlede moeder se huis kan gaan bly. Hy sal hom heelwat gunstige voorwaardes gee, maar hy sal moet wakker loop, want een van die ou jeremias, wat net teer op jou goedhartigheid, wil hy om vadersnaam nie naby hom hê nie. Hy is haastig om die reëlings te tref, want 'n tweede plan het vaag onder in sy gedagtes opgeskemer, alhoewel hy dit opsy gedruk het en allerhande ekskuse daaroor heen gestrooi het
| |
| |
in sy eie redenerings. Hy wil nie vir Henning allerhande planne oor trouery laat kry as hy die leë huis daagliks daar oorkant sien nie. As hy eenmaal met daardie streke besig is, dan begin hy netnou uitreken hoe oud sy vader is, hoe lank hy nog sal hou, wanneer die plaas eendag sy eie sal wees. Dieselfde gedagtes wat in hom gewerk het toe sy moeder nog gelewe het, vermoed hy nou by sy seun en dit wek 'n sure onrus in hom; hy wil al die faktore uitskakel wat die rustige vooruitboerdery wat hy nou uitwerk, sal belemmer. Mens moet nie 'n mes se lem in sy planne kan steek nie so heg moet hulle aaneen sluit.
Hy lig sy oë van die jukskei af op en kyk weer na die pad. By die boonste hek, waar sy plaas geskei word van Langvlei, sien hy 'n kar deurkom. Hy gaan regop staan om beter te sien. Moontlik is dit Buks. Van die stoep af draai sy oë na die lande wat wes lê. Die hawer glans grasgroen teen die rooi-bruin bult. Dit streel sy oë om daarna te kyk. Sy tuin en dié een voor sy oorlede moeder se deur is liggroen van die oopvouende blare. Die hoë populiere, wat 'n tyd gelede nog so wit en glansend in die winterson gestaan het, steek nou met 'n olyfgroen kleur uit die tuin op teen die agtergrond van blou somerlug. Van al die kante kom die diep genoeë na hom aangevloei: dit is alles sy goed! Om te weet dat die plaas van die klippale daarbo
| |
| |
by Langvlei tot by die draad wat swart onderkant die hawerland streep, sy eiendom is vir goed, laat hom vaster staan op die aarde, laat hom breed en geanker voel asof hy 'n boom is wat sy swaar wortels so diep in die aarde het dat hy nooit meer uitgeroei kan word nie. Maar wat op aarde is dit! Sy oë kyk vas na die hawerland toe. Vier beeste het op en af langs die draad geloop, hulle het gemik en gemik, nou het een gespring, die draad half plat getrek. Hy is binne in die land, die ander volg hom. Hy kan sien hoe hulle wegbuk om gulsig die jong hawer te vreet.
‘Spantou! Spantou!!’ Hy skreeu of die wêreld straks sal vergaan. Die kaffer kom uit die pakhuis te voorskyn en antwoord: ‘Ja, baas?’ Hy het lankal geleer om nie ‘oubaas’ te sê nie.
‘Kaffer, hardloop soos jy nog nooit gehardloop het nie! Kyk daardie beeste in die land! Bring hulle hier.’ Spantou hardloop al 'n end van hom af weg en oom Sybrand beduie nog agterna: ‘Hardloop dat jy platlê!’ Daar kom 'n dierlike drang in hom op om sy lemetford te gaan haal en hulle die een ná die ander plat te trek. Dit kan onmoontlik sy beeste wees, want hulle loop nooit hier nie. Hulle is in die groot kamp by die berg.
Hy sien hoe die kaffer hulle oor die draad ja en hoe hy hulle nader bring, terwyl klippe oor hulle heen woer. Die beeste kom blasend tot
| |
| |
naby die huis; dit is groot Afrikaner-osse met sierlike weglê-horings. Oom Sybrand het nader gestap om te kyk. Die vorstelike diere met hulle hoë skowwe kom tot naby hom, hulle kou nog aanhoudend van die gras wat hulle om hulle met uitskietende tonge nader pluk, en dié gulsige vretery aan sy gras, sy goed maak oom Sybrand vir 'n oomblik so opvlieënd dat hy die voorste os byloop en hom 'n dowwe skop in sy maag gee. Verskrik vlie die diere opsy, kyk hom vir 'n oomblik met uitdrukkinglose os-oë aan en begin toe weer al die gras wat hulle bykom, wegvreet.
‘Net soos ek gedink het!’ blaas oom Sybrand; ‘die ou stywebeen-vreksel se goed. As ek my sonde nie ontsien nie, dan skiet ek hulle hier dood en laat hulle net oor sy draad gooi. Waar kan die goed deurkom?’ vra hy vir Spantou.
‘Baas dit is Langvlei se beeste. Hulle staan teen die klippale en skawe. Naderhand val dié om en dan kom hulle deur,’ sê die jong wat bang op 'n moontlike bestrawwing wag, want hy weet nie waar hy dalk gesondig het nie.
‘Saal vir ou Poon op en ja hulle pyl-reguit skut-toe. Moet nie met hulle speel nie; dryf hulle tot in die skut. Vuilgoed!’ Toe hy omdraai, merk hy eers dat Buks agter hom staan. Hy was so opgewonde dat hy nooit gesien het dat die kar agter hom stilhou nie.
‘Middag oom,’ sê Buks met 'n draalstem en
| |
| |
hy steek sy hand ver voor hom uit terwyl hy met die ander een net aan sy hoed se bol raak.
‘Middag, ou vriend,’ sê oom Sybrand; ‘het jy in jou lewe soiets gesien? Daar staan my groen hawer op die land en ou Jaap se beeste boer daarin. Wie se bloed sal nie kook nie?’
Die kêrel antwoord net droog: ‘ja-nee, oom.’ Toe loop hy langs die blasende oom Sybrand, nederig; hy wil baie graag 'n kans kry om hier 'n bywoner te word, want die grondhuurdery het hom heeltemal verrinneweer. Hy beaam nadruklik al wat oom Sybrand sê, en met 'n stadige praatmanier beduie hy: ‘Ek stem saam met oom. As mense nie hulle goed kan oppas nie, dan moet jy hulle skut-toe stuur.’ Dat hy so nadruklik met hom simpatiseer, behaag die eersugtige boer, wat vóór Buks by die voordeur ingaan en hom nie nooi om te gaan sit nie, want vir die klein beleefdheidsdinge het oom Sybrand nog nooit 'n gevoel gehad nie. Buks sak met 'n sug 'n endjie van die eienaar van Boskloof af op 'n riempiesmat-stoel neer in die donker sitvertrek, wat steeds toestaan, sonder dat 'n venster, waarvoor malva-plante triestig treur, ooit oopgeskuiwe word. Sy oë is vas gerig op die man wat sy weldoener moet wees, want as hy nie hierdie kans kry nie, moet hy wapad toe - dis al. En die vader weet: sy hande staan vir niks verkeerd nie, maar om grond te huur teen so 'n vreeslike prys, is onmoontlik. Jy
| |
| |
boer net agteruit, al werk jy jou hande dat hulle lyk of hulle gelooi is. Hy voel vaag-afkerig van die boelhond-gesig hier voor hom met die kortgeknipte hare. Hy begin nou dadelik om sy saak voor te lê, want oom Sybrand het 'n wagtende houding ingeneem. Sy twee vuiste rus op sy knieë.
‘Soos ek vir oom laat weet het,’ verduidelik Buks met sy eentonige draalstem, ‘ek is 'n man wat baie graag vir oom hier sal wil help. My hande staan vir niks verkeerd nie; ek het 'n wakker vrou, en ons sal baie vir hierdie plaas beteken. Oom sal dit self sien.’ Hy hou die forse gesig goed dop. Hy wil dat elke woord op die regte plek inslaan. Sy vrou maak vuur onder hom. Sy is moeg van die gesukkel.
‘Ja, ou vriend,’ antwoord oom Sybrand ten volle bewus van die man hier voor hom se afhanklikheid, ‘ek het iemand nodig wat my moet help. Maar hy sal moet wakker loop. Ek sal hom weiding vir tweehonderd skape gee, 'n stuk land om vir my om die helfte te bewerk, maar dan moet hy my met al die plaaswerk help en nie sy lyf wegsteek nie.’
Buks gee 'n groot sluk. Sy oogappels skyn helder, dit lyk of hulle vooruit beur. ‘Dit is kwaai, oom. Ek het gedag dat ek darem minstens vierhonderd skape kan aanhou. Oom weet self dat tweehonderd maar bra min is.’ Sy woorde bly eerbiedig, beskroomd. Hierdie
| |
| |
kans moet hy nie misloop nie. Oom Sybrand besef in watter knyp die kêrel is, en daarom is sy woorde doodseker, hard soos glasskerwe: ‘Nee, ou vriend, nie 'n skaap meer nie. Dit is met hierdie ding net so: aanneem of laat staan. Ek het soveel kêrels wat graag dié kans wil hê,’ lie hy vlotweg, ‘dat ek sommer vanmiddag wil hoor watter kant-toe jy dwing.’
Buks vrywe aan sy voorkop. Hy reken en dink. Sy vrou sal hom weer blameer dat hy maklik toegegee het. Sy vrou wil dat hulle in die wêreld vooruitkom. Terwyl hy weifel, kom tant Betta met koffie binne. Sy vra hoe dit gaan, sit die koffie neer en gee 'n brief aan oom Sybrand. ‘'n Kaffer het dit nou net gebring. Dit kom van Annie af.’
‘Goed,’ sê oom Sybrand, ‘ek sal dit netnou lees.’
Tant Betta wou graag hoor hoe dit by hulle dogter gaan, maar dit is duidelik dat sy sal moet wag, dat sy hier, waar besigheid gepraat word, nie nodig is nie. Daarom vertrek sy weer stil en sluit die deur geluidloos agter haar. Terwyl oom Sybrand sy koffie drink, hou hy die brief soos 'n waardevolle tjek tussen sy vingers vas. Luid slurp hy die koffie weg. Hy wag. Hy weet dat hy die troefkaart in die hand het. Buks sit sy koppie stadig neer, smak met sy lippe en sê: ‘Goed, oom, maar sal oom dan nie die ding later 'n bietjie rek nie? Sê oor 'n jaar of so - | |
| |
miskien driehonderd skaap.’ Hy kyk smekend op na sy meerdere.
‘Nou goed, ons sal daardie tyd sien hoe ons akkordeer. Ek wil nog net 'n paar klein dingetjies vir jou skits,’ en oom Sybrand tel een ding na die ander op sy growwe vingers af, dinge wat hy nie wil hê nie. Hy noem hulle nadruklik, terwyl sy kop neerknik. Die vernaamste is dat Buks die huis daar oorkant nie moet verniel nie. Terloops vra oom Sybrand: ‘Het julle kinders?’
‘Nee oom,’ antwoord Buks en kyk grondtoe.
‘Nog beter,’ antwoord oom Sybrand. ‘Julle kan maar volgende week intrek; ek sal die kaffers stuur om die huis mooi skoon te maak.’
Die woorde en die houding wat daarop volg, dui aan dat dit nie langer nodig is om met praatjies te sit en bodder nie. Buks vat sy hoed en loop agter oom Sybrand aan deur-toe. Gedurende die tydjie toe hy grond gehuur het, was hy darem gelukkig, want hy was niemand se hotnot nie. Die man hier voor hom is veeleisend en kwasterig, dit kan hy sommer sien. Maar as 'n mens verleë is, dan moet jy maar oë toeknyp.
Toe hy op die kar is, haal hy nog sy hoed ver af en buig voordat hy die perde optrek om te vat. Oom Sybrand is bly dat hy so gou van die kêrel ontslae is. Hy wil sy dogter se brief lees. Dit kwel hom dat hulle nog nie weer by hom
| |
| |
was ná die keer toe hulle wou geld leen nie. Seker kwaad. Hierdie brief is daarom vir hom baie welkom. Onhandig skeur hy dit oop, hou die brief 'n end van hom af weg en terwyl hy dit langsaam lees, frons hy sy voorkop al meer.
‘Liefste ou Pappie - ek stuur die kaffer gou met hierdie brief, want ek wil papsie net vra of ons nie maar in ouma se huis kan gaan bly nie. Ek hoor praatjies dat pa 'n bywoner wil vat. Nou dink ek so: Hennie kan pa meer help as wie ook al. Pa kan net vir hom kans gee om 'n klompie skaap te hou. Ek hoop ou papsie sal dit tog seker doen, want Hennie het alte veel moeilikheid om sy huurgeld te betaal. Ek stuur vir pa 'n sakkie koek en tert saam.’
Hy draai die brief om asof agterop 'n sleutel moet wees vir dié raaisel. Daar kom 'n pyntrek om sy mond toe hy die brief fyn skeur. Ja, dit sal vir hom die aangenaamste ding op aarde wees om Annie in die oorkantste huis te hê en om nou en dan daar by haar 'n koppie koffie te gaan drink. Maar dit word geen boerdery nie! Dit word 'n meulsteen om sy nek met dié skoonseun hier wat hy nie kan beveel soos 'n bywoner nie. Nee, dit sal net in 'n pappery eindig. Keer op keer moet hy nou sy dogter kwes. Waarom sou sy met so 'n wasrug getrou het? Die liewe Vader weet: die oorgrote meerderheid boere het in die laaste tyd altyd
| |
| |
iets nodig om aan te hang! Hulle kan nie meer op eie bene staan nie.
Tant Betta verskyn op die stoep en vra nuuskierig: ‘Wat skrywe Annie?’
‘Niks,’ antwoord hy ru; ‘sy sê net dit gaan goed.’
Toe loop hy sonder om na tant Betta te kyk, in die rigting van die tuin met 'n snaakse gevoel van leë onvoldaanheid in hom.
| |
VI
Tussen hom en sy pa gaan daar 'n groot rusie, 'n ontploffing, 'n finale skeiding kom. Dit kan nie anders nie. Hy weet self dat hy agteruit boer, dat sy werk half en windskeef is, dat sy pa hom meer dophou as ooit en net wag vir die regte oomblik om behoorlik met hom af te reken. Sy pa se geduld is skoon op, want dit is nou al 'n paar weke dat die water in die kuile daar in die boonste kamp opgedroë het. Ook die windam se water, net daaronder geleë, is klaar, en daar is geen teken van reën in die lug nie. Nou moet die skape elke middag teen tweeuur die hele end geja word, dwarsdeur twee kampe, waar die hamels en laaste klompie lammerooie in groepe afgekamp is, om by die fonteindam te kom drink. Daar gaan nie 'n dag verby nie of die verskillende troppe raak deur mekaar, dit is 'n gesukkel, 'n uitvangery en
| |
| |
keerdery wat jou naderhand sat maak om net na 'n skaap te kyk.
Oom Sybrand se geduld is skoon op. Sy skape word al maerder van dié rondjaery, hulle kry nie genoeg tyd om te vreet nie, en dit net omdat die ellendige stywebeen daarbo al die vleiwater gaan afkeer het! Nooit was dit nodig om op Boskloof met water vir die boonste kamp te sukkel nie, maar net van daardie dam gesleep is, het die ellende begin. En die ergste is dat mens so magteloos is.
Henning merk maar te duidelik hoe die misnoeë in sy vader ophoop: hy weet dat die nukkerigheid eersdaags teen hom, juis ook omdat hy so oorhoop is met homself, sal losbars. In sy hele lewe was hy nog nie so ongelukkig nie. Die eentonige, harde werksdae hier op Boskloof het hy tam leer verdra. Hy het langsamerhand weggegroei daarin. Dit het 'n deel van sy bestaan geword. Maar hierdie skeiding van Johanna, die verlange wat so bitter in die eensaamheid kan word, het sy gees bewus gemaak van alles wat hy tot dusver in sy lewe ontbeer het. Nou voel hy baie duidelik hoe armsalig en triestig sy hele lewe is, sonder liefde, sonder vermaak, sonder werklike vooruitsigte. Sy pa kan nou maar doen wat hy wil; koppig gaan hy die kleurlose dae tegemoet, in sy siel vereensaamd en verbitterd omdat die lewe om hom eenselwig, onverroerbaar bly.
| |
| |
Nadat die skape water gedrink het en hulle met groot gesukkel deur die twee kampe heen gedruk is na die boonste veld toe, loop hy na sy kamer, en opeens besluit hy om dorptoe te ry. Hy het niks besonders om daar uit te rig nie, maar net die gedagte aan afwisseling bring meer opgewektheid in hom. Hy trek gou aan en gaan na sy moeder om te sê dat hy netnou gaan ry, want sy pa se verlof wil hy nie vra nie. Hy verseg dit teenswoordig. Die ou man neem dit sorgvuldig waar en maak hom gereed om op hardhandige wyse af te reken met dié nuwe astrantheid.
Sy moeder sit langs die tafeltjie in die spens, besig om kouse te stop. Hy kom saggies in en 'n weekheid oorval hom toe hy die geboë hoof sien, die gerimpelde erde-wit voorkop. Sy weet nie dat hy daar staan nie. Hy sien hoe 'n traan op die kous voor haar val. Toe kyk sy skielik op en haar oë is blink-nat. Asof sy op 'n groot dwaasheid betrap is, vee sy dit gou weg en sê: ‘Ja, my kind?’ Al die tere gevoel wat hy gehad het, verstrak opeens in magteloosheid. Sy drang om sy hande om haar te slaan en haar te vertroos, versteen in 'n afsydigheid wat die jare deur as reaksie gekom het wanneer hy medelye met sy moeder wil uitdruk. Die gevoel dat dit belaglik, dat dit om die een of ander duister rede bespotlik is om jou ingekampte binnelewe te vertoon, maak
| |
| |
hom ook hier weer meester van Henning en droogweg, asof dit die nugterste ding ter wêreld is, sê hy net: ‘Ek gaan gou bietjie dorp-toe, ma. Teen sononder is ek weer terug.’ Sy knik net en sê: ‘Bring tog vir my 'n tolletjie swart gare saam - nommer twaalf.’ Toe loop hy, sonder om haar te soen, want ook hier word hy deur 'n vasgekoekte gewoonte beheer om net sy moeder te soen-groet as hy of sy vir 'n paar dae weg gaan. Haar gesig, met die fyn lyne om die oë, die droë hande waarop die blou are so duidelik afgelyn lê, bly vir 'n oomblik voor sy gesig; in hom is 'n skuwe onrus, 'n skawende gevoel asof dinge wat teer maar ook sterk is in sy binnelewe ongebruik, weggesmyt word omdat daar geen uiting voor is nie.
Hy gooi die saal op Vos se rug en oor 'n rukkie slaan die stowwe lig en wit onder die dier se ratse hoewe uit. Dit was effens warm toe hy opgeklim het, maar nou waai die lug wyd en fris om hom en blou horisonne plooi voor hom oop; die dag met die kragtige wind om sy wange word 'n bevryding waarin hy, wat so lank soos 'n gevangene geleef het, kan opgaan. Die dier se nek hier voor hom het 'n syige, blink glans, die ore is lewendig regop gespits en roer gevoelig. Hy dein saam met die ratse gang onder hom, want die lang hale waarmee Vos vooruit galop, beur die dier self aan om vaster en vaster sy hoewe oor die pad te laat klink, lus soos hy is
| |
| |
vir die verte vorentoe. Die wind druk nou en dan sy goedbewerkte, gekrulde maanhare regop, dan val hulle weer sagspelend neer oor Henning se hand; die hoefslae slaan soos 'n swaar dansritme oor die helder pad. Henning voel 'n wye veroweringsdrang in hom opkom. Hy neurie sag en sy woorde val saam met die forse ritme onder hom. Hy slaan liefderyk, paaiend op die perd se trillende nek en gesels sommer onsinnigweg: ‘Toemaar, Vos, hulle sal ons nie lank skei nie. Een van die dae is ons saam: sy, ek en jy. Ek sal haar voor op die saal tel, en baie dinge vir haar sê en haar lang hare sal speel in die wind. Ons sal ver-weg ry van haar ouers af en ons sal baie gelukkig lewe, nè my ou ryperd? Jy hoor wat ek sê.’ Hy kyk hoe die dier sy lewendige ore roer en sag vrywe hy weer oor die gladde nek, want met hierdie droom-woorde, wat hy so vertroulik teen Vos fluister, bind hy die dier ook aan hulle verborge liefdeslewe vas. Sy liefde voel hoog en van 'n helder reinheid hier in die oop dag met die wind om sy songebruinde wange. Maar toe hy ná 'n uur en 'n half se rit die dorpie binnery, verdwyn die bly, ongeskonde gevoel en die stowwerige strate en triestige, banale winkels spring onvriendelik op sy oë aan.
Hy saal in die agterplaas van 'n winkel af, laat 'n gerf voer vir sy perd stukkend sny en toe stryk hy sku en mens-vreemd die straat in, want die skinderbekke het alreeds op baie winde
| |
| |
die verhaal uitgestrooi dat hy verbied is om sy voete op Langvlei te sit. Hy voel vernederd, want die liefde wat hy soos 'n kosbare verborgenheid in hom dra, is daarbuite op die vaal strate en in die vervelige winkels iets waarmee goedkoop gespot word. Daarom haat hy die mense en voel asof hulle almal vyande moet wees sonder die minste simpatie vir die innerlike ellende wat Johanna en hy moet dra.
Hy koop die garing vir sy ma en groet mense wat hy teenkom vinnig, gejaagd of hy nie gou genoeg kan wegkom nie. Wat jaag hom tog so? Wat dwing hom weer na die oop ruimte daarbuite waar hy alleen met sy gedagtes kan wees? Sal hy nie vir haar 'n brief skrywe en dit nou pos nie? Dit help tog nie. Haar ouers skeur al haar briewe oop.
Lusteloos stryk hy aan na die poskantoor-toe. Alhoewel hy weet dat so 'n moontlikheid uitgeslote is, dink hy tog met 'n blye opstyging van vreugde aan 'n brief van haar, aan haar woorde, warm van liefde en opregte aandoening. Net toe hy by die deur wil ingaan, is dit of sy hele innerlike 'n ruk gee, want Johanna kom op dieselfde oomblik uit die poskantoor. Sy word bloedrooi. Vir 'n oomblik kan hulle geen woord uitkry nie. Dan vra hy hakkel-hakkel: ‘Waar is jou ma?’
‘Sy wag daar by die winkel,’ sê Johanna en sy lê haar hand op haar hart of sy plotseling
| |
| |
iemand gesien het wat 'n tydlank al begrawe is. Sy oorbluftheid verdwyn gou voor hierdie geleentheid om haar weer te sien. Langs 'n sipresboompie 'n endjie van die deur af gaan hulle staan; hy gryp haar hand in syne en druk dit sodat dit haar pyn gee. Sy liefdeswoorde is donker en hees, dit is 'n vreeslike stameling van blinde drif, van smeking dat sy by hom moet bly; dit is die swaar worsteling van 'n geslote binnelewe om liefde, om teerheid te openbaar. Sy kyk rond. Mense wat uit die poskantoor kom, het hulle gesien. Die wêreld agtervolg hulle. Alleen mag hulle nooit wees nie. Sy maak vinnig haar hand uit sy greep los en sê: ‘Kyk daar kom ma; sy vermoed iets. Ek sal volgende Sondagmiddag probeer om na die boskloof te gaan.’ Haar oë kyk vir 'n oomblik vas in syne en dit vergoed vir baie eensame dae en nagte. Toe gaan sy. Hy sien haar skouers, haar gelaat van tersy, haar deinende liggaam wat daar van sy begeerte af weg gaan. Dit is of 'n deel van sy gedagtes, vasgewewe aan haar wese, met haar verdwyn.
Hy loop vinnig, lomp die hoek van die poskantoor om, bots onverwags teen 'n rustig stappende vet tannie, stryk blindweg tot byna by die oostekant van die dorp uit, en toe sien hy eers dat hy al naby die vendusie-krale is.
Langsaam keer hy na die agterplaas van die winkel terug, saal sy perd op, want hy wil ry
| |
| |
voordat oom Jaap-hulle op die pad is. As hy hulle kar sien, sal hy al agter hulle aanry. Dit sal haar in die moeilikheid bring, haar nog swaarder laat kry. Vos se pote dreun deur die strate. Sy baas wil weg. Hy wil uit na Bosklooftoe. Vir hierdie ontmoeting kon hy dae lank gely het. Haar aanwesigheid is soos die geur van 'n bedwelmende blom in sy sinne. Die konsentrasie van liefde in daardie ontmoeting was oorweldigend.
Vos het byna 'n jaaggalop. Hy vlieg oor die pad. Henning dink aan die volgende Sondag. Hierdie ontmoeting het hom weer vaste vertroue gegee. Al die vertwyfeling wat hy in sy allenigheid deurgemaak het, verdwyn, want hy weet dit nou weer, hy het dit in haar oë gesien dat niemand, geen mag ter wêreld haar van hom kan wegneem nie. Die ontmoeting is vir hom 'n aansporing, 'n nuwe lewe wat soos die wye horisonne van die vlakte hier voor hom oopgaan. Dan rys Boskloof se populiere blink en groen agter die bult op in die aandson. Die plaas trek hom onweerstaanbaar. Naas Boskloof is Langvlei waar sy vir hom wag. Volgende Sondag sal 'n groot dag in hulle lewe word. Die dalende sonlig weerlig op die galoperende perd se toom.
| |
| |
| |
VII
Die plaas rus al en daarbuite het die maan 'n wegvloeiende, verbleikte lig oor die doodstil populiere gebring. Oom Sybrand kan nie slaap nie. Dit is nou al 'n paar nagte dat hy so lê en rondrol totdat die uitputting hom teen dagbreek oorweldig en hy in 'n vaste, dromelose slaap wegsink. Dit is vir hom ondragelik dat sy skape so verniel moet word, dat hulle dag-virdag van kamp tot kamp moet voortgestoot word sonder dat hy iets kan doen om die toestand te verbeter. Hy bestudeer die lug, hou saans die wester- en noorderhemel goed dop vir weerlig, maar die dae gaan meestal wolkeloos verby. Nou en dan is daar droë vliese hoog in die weste, maar die reën bly weg. Dinge begin lelik lyk. Dit is duidelik dat die fonteinwater verswak. Die hawer sal hy miskien nog deurhaal. Maar die skape vertrap en belemmer die fonteindam. Sy fyntuin word gereeld afgevreet deur skape wat daagliks daar moet verbygaan. Dit is om radeloos van te word, veral nog as jy daaraan dink hoe onnodig dit alles is, want die dam van die ou mankbeen vertoon nog 'n wit plaat water. Dit kan 'n mens sien as jy daar bokant in die pad verby ry met die kar. Sy gesaaides daar onderkant kan jy nou al groen sien opgee langs die bult af, wat uitloop teen Boskloof se draad. Die ou ellendeling miskien om water vra?
| |
| |
Nooit. Oom Jaap kan maklik dié dam se pomp ooptrek, die leivoor deursteek en die kuile sal oor 'n uur of wat vol wees. Maar dit sal ou Jaap in der ewigheid uit blote verdelglus nie doen nie, en oom Sybrand sal dit ook nie gaan vra nie, al moet hy liewers sy laaste maer skaap met 'n bokkie tot by die water aanry.
Maar nou kom daar skielik 'n gedagte in oom Sybrand op wat hom harder laat asemhaal in die stil nag. Wie sal hom ooit uitvind? Hulle kan hom verdink, maar niemand kan iets bewys nie. Die slimste prokureur sal hier net kan skimp en dinge vermoed, maar bewys nooit! Sy vee moet gered word. Die lyding van die arme redelose diere! Dit is nie verkeerd om vir hulle te sorg nie.
Geluidloos klim hy uit die bed en trek hom aan. Dit sal vir sy vrou, as sy agterkom dat hy opgestaan het, niks besonders wees nie, want hy gaan baie nagte na vee kyk. Op die punte van sy tone loop hy by die kamer uit en toe hy die voordeur oopmaak, kom'n fris naglug hom teen. Hy gaan haal 'n graaf in die pakkamer en loop soos 'n donker skim oor die slapende werf. Niemand moet hom sien nie. Die lig in Henning se kamer is dood; by die strooise brand geen vure meer nie. Dit is of alles hom verseker van die veiligheid van sy plan. Die flou lig van die maan lê koel oor die tuin waar die populiere swaar en helder afgestreep staan. Hy loop
| |
| |
bokant die fontein verby. Naby hom skrik 'n paar voëls uit die roerlose wilkerboom op en vlug met nagtelike fladdergeruis langs die swart fonteinvoor af, wat hier en daar 'n silwerige fonkelstreep in die donkerte trek.
Hy loop vinniger en vinniger, al langs die droë sloot op en ente daarin. Sy skoene knerp oor die sand en die koel naglug kruip onder sy klere in sodat 'n frisheid in sy bloed kom en hy so gesond voel soos lanklaas in sy lewe. Hier voor hom lê die donker holtes van die kuile soos swart vlekke in die gelyk vlakte, wat spookagtig in die maanlig wegstrek. Nou nog 'n endjie verder. Hier is die ry klippale; hier hou sy grond, sy besitting op.
Tot hier toe het hy vertroue, vastigheid gehad, maar toe hy deur die draad kruip, kom 'n lafhartige onrus in hom op, besef hy opeens met skielike helderheid wat hy gaan aanvang en wat die gevolge daarvan kan wees. As iemand - miskien net 'n kaffer wat hierdie tyd van die nag van 'n kuierparty terugkom - hom sien, dan sal hy in die ‘kantoor’ 'n treurige figuur slaan, mense sal hom uitlag, en dit is vir hom die vreeslikste ding op aarde om uitgelag te word, om as kleinlik en bespotlik voorgestel te word. Hy moet liewers trek met sy vee, 'n ander plan maak.
Tog loop hy, sy voete dra hom tot naby die water, die water wat moet red, wat goud werd
| |
| |
is vir sy boerdery. Voor hom lê die donker, gestrate wal van die dam. Hy klouter daarteen op en soos 'n vreugde kom die koel glansing van die lang watervlak op hom aan. Hy kyk goed rond. In die verte lê ou Jaap se huis. Die dak blink wit in die maanlig. Die strooise 'n end daarvandaan lê swart en verlate; nie 'n dier beweeg naby die krale nie.
Hy loop versigtig vooruit. Hy ruik die water; dit is 'n magtige geur in sy neusgate, dit sterk hom vir wat hy pas moet doen. Ongeveer in die middel van die wal sak hy af. Ja-nee, hier is die pomp. Hy sien duidelik die donker streep van die leivoor wat wegkronkel na die lande toe. Maar regs van die voor, hier by die hoekpaal van die land verby, gaan die ou sloot waar die water eenmaal in afgekom het om sy kuile te vul. Hy kyk vinnig met 'n praktiese oog. Dan steek hy met die graaf; dit is dowwe houe in die nag - die grond het 'n fris, lekker ruik. Die gat is klaar. Sonder moeite sal die water sy ou koers vat. Hy kyk weer rond. Sy hart gaan staan soos hy skrik.
Bo-op die damwal staan 'n swart figuur. Oom Sybrand se bene swik onder hom. Hy kyk weer en haal diep asem. Dit is 'n perd wat daar teen die wal uitgeklouter het en nou vir 'n oomblik afkyk na die figuur hier onder. Waar die dier so skielik vandaan kom, weet hy nie. Stadig loop die perd al op die damwal langs en
| |
| |
kletter dan teen die wal af. Oom Sybrand het so geskrik dat hy 'n rukkie doodstil staan en rondkyk. Dan loop hy na die pomp toe.
Die stomp voor is diep weggeskuil onder 'n oorhangende stuk wal. Hy moet sy arm ver insteek om dit by te kom. Hy voel-voel na die stuk sak wat daar omheen vasgedraai is. Hy wikkel nou met altwee hande aan die hout. Hy voel dat dit losser word; 'n straaltjie water spoel koud oor sy hand heen. Dan lê hy uit die pad van die water weg en met 'n vinnige ruk pluk hy die houtstomp uit. Die water borrel en spuit, 'n stroom kringel in die maanlig weg; dit gaan by die vooropening deur en spoel met 'n klaterende geluid in die sloot af. Sy hart is vol vrees en tog blydskap. Met die oopmaak van die pomp was dit of sy sekerheid onder in die fondamente geskud word. Moet hy nou vir 'n uur of wat wag totdat genoeg water in die sloot afgestroom het? Hy kan dit nie doen nie. Dit sal te opsigtelik lyk om die pomp toe te steek nadat 'n klomp water uitgeloop het. Dit moet lyk of die water die vrot sak en hout self uitgespoeg het, of die swak wal vanself gebreek het. Hy gooi die stomp hout in die water met sak en al sodat dit 'n end afdrywe. Hy probeer die gat waar die water deur spoel so af te steek dat dit lyk asof die afgespitte kante natuurlik deur die water weggevreet is.
Toe vat hy sy graaf, kyk nog 'n keer goed
| |
| |
rond en loop al met die sloot af. Hy is tog verbaas om te sien hoe vreeslik stadig die water vorder. Netnou sal dit darem onder sy draad deur loop en more teen sonop, wanneer iemand onraad merk, sal sy kuile vol wees. Terwyl hy deur die nagveld huistoe stap, probeer hy om sy eie gewete dood te redeneer met allerhande goedkeurings vir sy daad. Die arme redelose diere! Die water behoort eintlik aan hom, maar dit is op 'n laaghartige wyse van hom weggesteel deur ou Jaap. Waarom moet hy dan toelaat dat sy vee verrinneweer word daardeur? Hy loop vas en gelykweg met die voetpad deuskant die huis af. Waarom rys sy hare al so terwyl hy nader na die pakhuis gaan? Maar hy onderdruk die aardige gevoel wat hy het, want hy sien al sy bestrawwende ou moeder se gesig. Hy sit die graaf neer en soos 'n skelm wat nadersluip na sy eie huis loop hy by die voordeur in en sluit dit sekuur en angstig op die daad wat hy net gepleeg het.
| |
VIII
Na 'n onrustige nag waarin die jigbeen hom nou en dan laat kreun het en selfs 'n binnensmondse vloek laat gee het, staan oom Jaap. vanmore op die stoep van sy huis, die seer voet 'n end voor hom uit, en langsaam, met sy oë op die veld gerig, drink hy blaas-blaas sy tweede
| |
| |
koppie stomende koffie. Die piering rus op 'n potjie wat hy met sy vingers gebou het, en nadat hy 'n klompie koffie daarin gegooi het, kom sy getuite lippe nader en sag-slurpend werk hy die hete vog na binne.
Die gedoente van Johanna grief hom diep. Hy kan duidelik sien hoe sy ly, want haar gesig word maerder, sy praat omtrent geen woord meer met hom nie. Dit maak hom baie seer. Het dié ou heiding se seun liewers 'n kramp gekry voor hy met Johanna begin lol het. Hoe jammer hy sy kind ook al het, hy mag nooit toegee nie, want dit is vir hom so klaar as daglig dat Johanna met 'n blindheid geslaan is, dat dit sy heilige, vaderlike plig is om te keer dat sy haar nie, met sy wete en al, in die verderf stort nie. Hy ken dié klein Henning se soort maar te goed. Hy is een van die breë osgesigte wat voor die troue eintlik verspot is met hulle vryery en mooi woordjies, en daarna is die vrou 'n meid wat in die kombuis moet sloof, teen wie nooit meer 'n vriendelike woordjie gesê word nie, maar wat net moet kos kook en sorg vir die uitgevrete ou lummel se kinders. Sy kind sal nie so behandel word nie, want hy ken ou Sybrand se spul maar te goed. Dit is 'n klomp mense wat nie safte woordjies verstaan nie; sommer uit die wans moet jy hulle met 'n hokstok op die snoet foeter - dan staan hulle troei. As Johanna nou kan trou met 'n man soos Jannie
| |
| |
Kriek! Daar is vir jou sommer 'n pure boer, 'n netjiese, beleefde klein kêrel wat vir jou so mooi ‘omie’ kan sê, dat jy van hom moet hou. Gisteraand het Johanna weer die man so sleg behandel dat mens jou oë uit jou kop moes skaam. En tog is Jannie maar altyd ewe vriendelik. Dit is een van die soort mense wat jy nie maklik affronteer nie. Sy liefde loop padlangs.
Hy sien vir Johanna van die pakkamer af kom; sy hart verteder toe hy haar daar so allenig sien loop, sonder dat sy in die laaste tyd 'n woord met hom gepraat het. Sy stem vlei vriendelik: ‘Johanna!’ en hy beduie met sy kop. Sy draai haar onwillig om en kom nader. Haar oë bly op die grond gerig toe sy stug sê: ‘Ja pa?’ Oom Jaap hoor die onbeleefdheid in haar stem, maar hy vererg hom nie. Hy voel dat hy ook miskien skuld het, dat dit sy plig is om sy dogter vriendelik raad te gee en haar op die regte spoor te lei. Hy weet nie hoe om die saak aan te pak nie, want sy hardvogtige behandeling van sy dogter het haar vertroulikheid met hom vernietig, en om dié ou atmosfeer te herstel, is vir hom inwendig moeilik, daarom dat sy toenadering lomp en effens pateties is.
‘Ou dogter,’ sê hy, maar die woorde het 'n skelle, onegte klank, ‘ek het baie oor jou in die laaste paar dae gedink. Ek wil nie hard op jou wees nie, want jy is nog jonk en ek weet dat
| |
| |
liefde blind is. Maar liefde, my kind, is ook maar baie gewoonte; as mens een baie sien, hou jy naderhand van hom. Dié gedoente met dié Henning-kêrel is een van die dae verby. En ek wil jou dit sê: op die ganse aarde kan 'n vrou nie 'n beter man as Jannie Kriek kry nie. Ek het al baie harde bene afgekou, en ek ken mense en ek kan dit vir jou sê dat ek vir hom haarfyn deurgekyk het. Daar sit nie 'n verkeerde haar op sy kop nie. Dink nou maar mooi oor wat ek jou gesê het.’
Hy wag dat sy iets moet antwoord, maar daar kom geen woord nie. Sy bly maar voor haar kyk. Hy wil kwaad word, want hy verdra dit nie dat 'n kind haar teen hom moet aanstel nie. Sy bly nog wag, asof op 'n bevel. Toe kan hy dit nie langer uithou nie en ongeduldig bars hy los en dreig met sy wysvinger na haar toe: ‘Johanna, dit sê ek vir jou: jy moet nou ophou met hierdie bogtery! Ek is nie jou vuilgoed wat jy maar kan behandel soos jy wil nie. Jou dag sal nog kom as jy jou ouers se raad in die wind slaan. God slaap nie! Daardie selde breë-gesig sal jou soos 'n meid behandel, en dan sal jy aan jou ouers se waarskuwing dink, maar dit sal te laat wees!’
Sy draai haar om sonder dat sy 'n woord gesê het en haar stilswyendheid vervul Jaap met 'n blinde magteloosheid. Hy wens hy kan haar
| |
| |
aan haar skouers skud tot sy rede verstaan. Wat help dit om te wag tot dit te laat is?
Hy kyk verbitterd oor die veld weg. Maar wat is dit daaronder? - daar blink dan water in Sybrand se kuile! Dit het tog nie vannag gereën nie. Hy kyk op in die lug en na die grond rondom hom. Genugtig nee! Mank-mank draf hy byna na die dam toe. Daar is 'n fout! Die dam se water het verskriklik gesak. Sy gesaaides is klaar as dit nou nie reën nie. Al vinniger gaan hy en blaas hard van die inspanning.
By die pomp gaan hy staan en sy blik volg die gang wat die water gegaan het. En toe bars dit los in hom soos 'n onweer: ‘So waar as wat daar 'n son aan die hemel skyn, dit sal ek wreek. Dit is die ou heiding se werk hierdie!’ Sy hande dreig sinneloos in die lug en hard skreeu hy, alhoewel daar niemand in die nabyheid is nie: ‘Ek sal vir hom met die wet dryf tot hy agter slot en tralies sit. Ek sal vir hom prosedeer al kos dit elke duim grond wat ek besit. My beeste skut-toe ja en dan nog my water skelm in die nag steel! Ek sal nou die spul wegblaas hier onderkant my. Ek wil liewers honde hê vir bure as so 'n lae ou skelm!’
Die sweet rol van sy gesig af toe hy by die hoogte uitsukkel huistoe. Luid skreeu hy vir die kaffer wat by die kraal besig is om te melk: ‘Willem! Laat alles staan! Span my kar in!
| |
| |
Span my kar dadelik in! Ek wil sommer nou-nou dorp-toe. Hardloop, kaffer!’
| |
IX
Was daar ooit 'n mooier Sondagmore? Die somerdag maak die wêreld lig en wyd tot daar waar die blou rante wegvloei in die lugoneindigheid. Johanna loop elasties oor die aarde; dit is 'n louter vreugde om die gang van jou voete te voel en die ritmiese deining van jou lyf. Sy gaan op in die dag, die wye, wegstromende dag met sy verre verskiete van blou en vervloeiende veldkleure. Die dag is vir haar 'n uitnodiging, 'n kostelike blom om te pluk. Sy is nog jonk en haar bloed tintel van lewe en haar gedagtes is blind van 'n groot liefde wat haar dra dwarsdeur die dae van gevangenisskap, van dophouery, van eensame ure wanneer die tyd traag deur die bewussyn vloei. Ná die ontmoeting nou die dag voor die poskantoor het 'n nuwe lewe soos 'n swerm wit duiwe uit 'n donker hok die blou lug ingeseil, haar wese is vol drome, sy gaan die dae deur vol verlange - tot hierdie groot dag, die beloofde dag, die dag van ryke vervulling en versadiging van liefdeshunkering.
Sy het nou so ver gevorder dat sy enige plan sal aangryp net om vir Henning te sien. Sy sal skelm wees, leuens vertel, toneelspeel, as aan haar net die paar oomblikke gegun word om
| |
| |
met hom te praat, om haar aan hom oor te gee met dié onmiddellikheid en impulsiewe krag wat die gevolg is van skeiding, van dwang, van hooggespanne, aangevuurde verwagting. Haar pa en ma het met hardvogtige wreedheid probeer doodtrap wat vir haar mooi en bindend is. Daarmee het hulle net die teenoorgestelde bereik wat hulle verwag het, want elke keer wanneer hulle vir Henning verkleineer het of vir Jannie Kriek hemelhoog aangeprys het, het die blinde drif in haar net meer vaart gekry en haar lewe meer geneig na die man met sy sterk, beenderige gesig en oë waarin daar 'n strakke staring is of dit jou dwing om te doen wat hy sê, of dit jou nader trek en al jou teenstand ontwapen. Sy is nou sover gedwing dat sy haar nie oor die vaste konvensies kan kwel nie, die ‘wat sal die mense sê?’ wat eers haar lewe soos aan baie drade beheer het. Tog is daar onder in haar wese nog 'n skugterheid oor komende dinge, oor 'n vreemde, verbysterende wêreld wat soos 'n afgrond wegblou voor haar voete. Sy het dae en nagte agter haar, tye wat vol vreeslike angs en vertwyfeling was, sonder dat iemand haar raad kon gee, kon indruk maak op haar ontwakende nuwe lewe.
Haar ouers se weerbarstigheid het geen vertroue in haar gewek nie, net verset, gedagtes van hoe om hulle om die bos te lei, van verbloemde minagting vir hulle lompe onredelikheid. Dit
| |
| |
het 'n sware stryd gekos om haar los te maak van die ankers wat haar ouers in haar lewe gegooi het, maar hierdie nuwe aansuigkrag, die magnetiese wonder waarteen sy magteloos is, het vanself, in die stil ure van die nag, in haar bewussynstroom sy werk gedoen net soos 'n jaargety die vrugte laat ryp word, haas ongemerk, met 'n krag wat opstyg uit die diepste bronne van alle lewe.
Sy het baie planne gemaak om vir Henning weer te sien, maar almal het misluk, omdat haar ouers vir haar te uitgeslape was. Sy het aan bidure, nagmaalsvierings, volksfeeste gedink, maar telkens moes sy uitvind dat haar ouers reeds op die spoor van haar uitgewerkte skema was. Sy gaan nou elke middag 'n end loop tot by die randjie bokant die dam. Haar ma wou dit ook eers belet, maar sy het gou gemerk dat dit heeltemal onskuldig is, want van die huis af kon sy vir Johanna daar alleen sien sit, roerloos, soms vir 'n uur lank. Dit het haar vererg dat die kind so bedodderd is, dat sy so kan dweep met dié ou kêreltjie. Mens sou sê dit is die enigste man op die ganse wêreld. Johanna praat in die laaste tyd baie min met haar moeder; daar is geen openhartigheid meer nie. Sy gehoorsaam haar bevele en gaan skugter haar gang.
Hierdie afspraak het weer die lewe soos 'n blink fontein in haar hart laat opgaan. Sy het
| |
| |
al oor en oor gedink wat sal gebeur as sy hom weer sien; sy het vol vrees geweifel, omdat soveel vorige planne ook al verkeerd geloop het. Nou gaan sy met dié groot verwagting wat sy dryfkrag ontleen aan die gevaar, die heimlikheid, die skelm beraming daarvan. Sy is soos 'n gevangene wat na baie gefnuikte planne eindelik wegstap uit die tronk oor die son-oorglansde ruimte en die krag in haar voel opstorm van vryheid en ongebondenheid.
Sy gaan, om dit nie so opsigtelik te laat lyk nie, langsaam oor die damwal, en toe loop sy met vinnig kloppende hart teen die skotige hoogte op na die rantjie toe waar sy so graag gaan sit en peins. Haar ouers het gesê dat hulle bietjie wil gaan rus, en haar moeder wou haar dwing om dit ook te doen, maar sy het binnensmonds gemompel dat sy lus is vir die buitelug en dat sy soos elke middag na die randjie toe wil gaan, omdat dit mooi en stil daar is. Was daar 'n agterdogtige trek in haar moeder se oë? Miskien. Al sal hulle ouers moet uitvind van hierdie ontmoeting, dan is dit ook maar goed. Sy het dié grens genader waar baie min dinge in verband met haar ouers se gevoeligheid haar nog skeel.
Haar wit figuur gaan langs die bloubosse verby tot sy bo-op die randjie sit. Net daaragter skiet die kloof van oom Sybrand se plaas af met 'n lang punt in. Sy kyk skerp oor die veld heen na Boskloof toe af; sy probeer elke
| |
| |
swart stippel te bepaal, maar sy kan niemand sien wat in hierdie rigting kom nie. Anderkant die kloof loop 'n ketting randjies af, gedeeltelik oor Boskloof se veld. Sou Henning miskien al met hulle langs kom? Sy word nou rustiger terwyl sy oor die velde heen sit en kyk; haar gedagtes is diep en stil soos kuile water ná sononder. Sy voel soos 'n deel van die wye, vredige sonnedag wat om haar is, deel van die velde wat met 'n lig-groen skynsel uitskuiwe na die witterige glans van die horison. Dit is of haar liefde en verwagting deel is van dié groot, sonnige ruimte, of dit daaruit opgegroei het, blink en stil, soos 'n wit veldblom ongesien tussen hoë polle gras bloei. Haar oë is stil en bly, groot en aandagtig, of die lewe van die natuur daardeur binnevloei na haar innerlikste wese. Sy is soos 'n veldblom self wat uit hierdie nederige aarde opgebloei het en in aandagtige verband staan met die kragte wat haar voortgebring en gevorm het.
Maar skielik kom die onrus in haar op soos die wind wat gladde water tot rimpels verplooi. Sy kyk vinnig om haar rond, maar word net bewus van die sware veldstilte wat magtig om haar gedagte is. Die bloubosse staan krom en knoestig op die uitgespoelde, dorre walle van die spruit; hulle skaduwees lê soos purperkolle roerloos en vreemd, oor die rooi-bruin aarde. Alles het op hierdie oomblik die oorweldigende
| |
| |
gestalte van die roerloosheid aangeneem: die son, die lug, die oorwelwende ruimte en die dinge wat daarin lewe. Dit laat haar opeens benoud voel of sy alleen is, ver weg van mense, of Henning nie meer sal kom nie, en sy ook deel sal word van hierdie roerloosheid wat nogtans in hom die dreigement hou van 'n naderende natuurverdoemenis.
Kom na my, my liefste, sing haar gedagtes; kom na my met die son, die vrede van die velde, die lig van die ruimte, juig haar wese byna ekstaties van verwagting. Dan word alles weer die gewone werklikheid: die son, die lug en die velde. Het sy 'n tak hoor kraak? Sy kyk vinnig rond, maar daar is niks. Nou begin sy twyfel. Netnou moet sy gaan, sonder dat sy hom gesien het. Laer en laer brand die vlam van haar stemming.
Maar wat is dit? Was dit nie voetstappe oor sand, teen 'n wal uit nie? 'n Hese fluistering: ‘Johanna!’ Hy het net by die sloot uitgeklim en staan onder 'n bloubos. Sy gaan vinnig; sy vlie hom tegemoet. En nou is daar geen verlede, geen gebondenheid aan bevele meer nie. Nou is daar net die oomblik en die geweld van losgemaakte drif. Hy druk haar so teen hom vas dat sy nouliks kan asemhaal, hy praat onsinnig aaneen, die man wie se teerheidsgevoel so toegegroei het; hy praat die groot onsin van die
| |
| |
liefde wat tegelyk die diepste sin het. Die bloed slaan swaar teen sy slape; dit is of 'n groot mag oor die aarde kom, donker, spoelend, en daarin word hy opgeneem. Sy praat nou en dan; haar skugterheid vervlugtig in 'n hartstogtelike belydenis: ‘Vat my met jou saam; ek wil by jou wees, vir altyd!’ Hulle woorde is vleiend, hees, smekend hier op die stil veld en die magtige roerloosheid van die dag, wat blind en hoorloos langs hulle gaan met die hardvogtigheid van alles wat buite die liefdesopwinding staan. Hy streel haar hoof en arms met 'n wilde blydskap asof hy iemand uit 'n land van die dodes teruggekry het en haar nooit weer sal afgee nie. Hulle gaan sit op 'n klip onder die boom en dit is of 'n mag hulle onweerstaanbaar buig, na mekaar toe dwing.
Wat het hulle alles vir mekaar gesê? Watter beloftes is gemaak, watter eenheid gesmee? Sy moet weg. Sy moet dit kragdadig doen, anders kan sy ander dae nie weer kom nie. Hy hou haar nog vas; dan laat hy haar gaan en word bewus van die son wat laag oor die bome vlam, van die skaduwees wat uitrek oor die warm grond. Hy loop al met die sloot af. Was dit alles werklik? Vir 'n oomblik was haar aanwesigheid hewig in hom, het alles soos 'n storm gekom, en nou is hy al weer alleen. Haar aanwesigheid verlaat hom alreeds. As hy haar nie aanraak nie, kom dié dowwe verwyderings- | |
| |
gevoel. Nie net elke Sondag moet hy haar sien nie, tweemaal in 'n week. Hierdie drang stu blind na 'n eindpunt toe. Nou kan niks hulle meer keer nie. Eensaam klink sy voetstappe oor die dor spruit se sand heen. |
|