| |
| |
| |
Hoofstuk III
I
Oom Sybrand is handig, uitgeslape met sy plaaswerk. Hy weet deur ervaring net waar om te vat en waar om te laat. Maar as hy met papier, met boeke, met rekeninge besig is, dan kom daar 'n styfheid, 'n onhandige stroefheid in sy houding; hy betas die papier met 'n harde, vereelte hand of dit 'n vreemde fynigheid is wat mens so gou as moontlik moet afhandel. Jaarliks het hy 'n onaangename werk te verrig as hy met die inkomstebelastingvorm moet spook. Vroeër het hy na die prokureur gegaan om die gedoente in te vul, maar hy het later gevind dat dit geldmors is, want al kos dit swaar werk, 'n stryd teen fyngedrukte skrif en verwarrende vrae en besonderhede, dan spaar mens tog darem 'n paar trippense, wat weer in baie nodige gaatjies kan rol.
Vanmiddag is die bruinerige vorm breed voor hom oopgespalk; ineengefrommelde stukkies papier, sy gladgeslyte sakboekie en 'n goedkoop potjie ink, wat reeds deur min gebruik opgedroog het en nou weer opgefris is met 'n klompie asyn, lê en staan bymekaar. Oom Sybrand is met sy jaarlikse rekenkundige uitoorlê-werk
| |
| |
besig. Wat sy inkomste ookal is, dit moet so bewimpel, omgeplooi, toegesmeer, uitgedun word dat hy nie 'n pennie aan inkomstebelasting hoef te betaal nie. Eenmaal het die prokureur die hele ding so verknoei dat hy 'n hele paar pond moes betaal. Hy is nog altyd spyt daaroor. Mens kan die ding so invul dat die ou spul wat die belasting moet invorder, altyd aan die kortste ent moet trek. Dit hoort so. Oom Sybrand kwel hom gladnie oor wie belastings moet betaal en waarvoor dit gebruik word. Die groot ding is om skuiwergate, uitkruipplekke te kry, en daarvoor staan hy wat Sybrand is, te vroeg vir die kantoormeneertjies op. Dit voel gladnie vir hom of hy iets verkeerds doen nie. As mens 'n slag kan slaan, moet jy dit doen; 'n mens moet die boer nie die kuns afvra nie. Die dun pennetjie, wat oor en oor in die asynagtige ink gedoop is, kras hard oor die papier en maak lelike syfers, soos alleen iemand maak wat min skrywe. Sy gebarste voorvinger skuiwe oor die fyngedrukte woorde heen en dan, met sy tong effens uit, word getalle ingevul, langsaam en lelik, tot die vorm tot volslae bevrediging van oom Sybrand gereed is en hy dit, nadat sy naam groot en krapperig daaronder geteken is, kan gereedhou om gepos te word as hy weer na die dorp gaan. Hy moet dit self doen, want hy vertrou niemand met 'n brief van dié aard nie. Dit kan oopgemaak word, en dan is dit weer
| |
| |
net 'n yslike swartsmeerdery. Sy vrou het nou en dan in die spens gekom, vlugtig gekyk na sy gewigtige werk en sonder om 'n woord te sê, weer verdwyn. Nou kom sy weer in die deur staan en sê toonloos: ‘Hier kom Gert aangestap. Ek wonder wat dit is, want hy was so lanklaas hier.’
‘Gert?’ vra oom Sybrand verbaas en bêre al sy papiertjies.
‘Ja - Gert,’ sê sy gelate en gaan na die kombuis, want sy weet nie eintlik hoe om die gesprek voort te sit in 'n huis waar die stokou meubels, die harde, eenselwige, daaglikse roetine en haar eie man vir haar baie dae te veel word nie. Steeds stuit haar lewe weer, as sy droom van 'n verandering, teen 'n vaal muur, teen die onverroerbare, vasgelegde dinge wat ewig stil en vasgemessel is soos haar eie lewe. Haar drome verloor hulle waarskynlikheid; daarom word hulle minder, en daarmee sterwe sy langsaam.
‘More Betta,’ sê oom Gert toe hy by die agterdeur in kom, want by die voordeur word alleen vreemde gaste ontvang. Hy het maar weer sy afgeslyte klerksbaadjie aan wat alte duidelik sy hangskouers en uitbultende magie vertoon. Hy dra ook 'n vuilgesmeerde harde boordjie, maar sonder das. Die ou boordjieknoop steek astrant onder sy groot adamsappel uit.
‘More Gert. Hoe gaan dit met Maria?’ en
| |
| |
tant Betta plaas haar hande oormekaar soos iemand wat skielik skaam en ongemaklik voel en geen plek vir die hande kan kry nie. Hy kyk sku na haar.
‘Goed dankie. Sy is besig met die vark wat ons geslag het. Hier is vir jou 'n karmenaadjie.’ Hy hou die bord voor hom uit, waarin die wors en vleis met 'n wit doek toegemaak lê.
‘Baie dankie, sê dankie aan Maria,’ sê sy en vrees dat sy haar dankbaarheid nie duidelik genoeg uitdruk nie. ‘Hoe was die vark? Darem vet?’
‘Nee, hy kan aangaan. Ons was net bang vir masels, maar gelukkig was hy skoon. Is Sybrand tuis?’
‘Ja, gaan maar spens-toe. Hy sit daar.’ Oom Sybrand het die hele gesprek gehoor, maar hy het hom nie verwerdig om op te staan nie. Nou groet hy sy swaer kortaf, want hy vermoed dat daar weer moeilikheid hier onder uit die vlaktes kom. Met sy swaer het hy net 'n klomp ellende. Die man moes nooit 'n boer gewees het nie.
Tant Betta skink dadelik koffie in, maar as sy daarmee klaar is, voel dit vir haar, wat in haar eie huishouding 'n minderwaardigheidsgevoel aangekweek het, of sy in die pad is, of met die koffie-inskink haar taak geëindig is en nederig verwyder sy haar.
Nou is die vertrek opeens baie onvriendelik
| |
| |
vir oom Gert. Hy hou niks van sy swaer nie, maar hy moet vanmiddag buig, want dié ou geharde sondaar soos hy nou daar sit, is 'n baasboer, hy vergader wêreldse goedere stadig en gewis soos 'n boomluis wat alles droogsuig in sy omgewing. Mens wil hom liewers nie raak loop nie, maar in sulke tye het jy hom nodig, want hy het besitting, geld, mag. Oom Sybrand kyk op sy beurt hierdie swaer van hom afkeurend aan. Hy sien die slap, willose gesig, die krom skof, en hy stel hom voor dat dit veel beter sou wees as so 'n man op die dorp gaan bly, daar karweiwerkies doen, slimpraatjies verkoop. Dan is mens vir goed van sy lastige aanwesigheid ontslae.
‘Hoe gaan dit met die lammerskape?’ vra oom Gert om tog tenminste te begin, want oom Sybrand sit daar teenoor hom, nie in die minste begaan omdat die gesprek nie 'n aanvang wil neem nie.
‘Nee goed,’ sê oom Sybrand, ‘net die ou blikskottel hierbo het my kuile heeltemal belemmer met die dam wat hy daar in die lang vlei gemaak het. Ek sal 'n plan moet maak.’
‘Jy meen Jaap?’
‘Ja, dié ou korrelkop.’ Toe is dit weer stil, want dit is duidelik dat agter die woorde 'n vervreemding, 'n vyandskap teenoor oom Gert skuil wat maklik sy werklike gedaante deur die verbloeming heen kan wys. Oom Gert besluit om sommer dadelik met die deur in die huis te
| |
| |
tuimel. Die moeilikheid druk hom; hy moet nou maar dwarsdeur die vernedering. Hy moet sy fyngevoeligheid in sy broeksak steek.
‘Swaer,’ begin hy en sy woorde het 'n vriendelike gebaar wat snaaks afsteek by hulle stroewe houding teenoor mekaar, ‘ek is in die moeilikheid. Ek het 'n skuld van vyfhonderd pond. Dit druk my. Ek kom vra jou om hulp.’ Oom Sybrand sê oë rek wyer. Genugtig! Nou die dag was sy skoonseun hier; nou weer dié ou sukkelaar. Dink hulle dat hy 'n vaste borg is vir almal wat in die strop verwurg?
‘Jy kan nog 'n verband op my grond kry, swaer. Ek moet die geld hê. Jy kan maar net sê watter rente jy wil hê. Maar rêrig, swaer, jy moet my help.’
Oom Sybrand het sy kin op sy hand laat sak. Agter in sy oë brand 'n donker gloed. Sy gesig word strakker. Hy moes sy spogdogter diep kwes deur haar man se versoek van die hand te slaan. Hier is glad 'n ander voorstel, glad 'n ander voorstel. Dit beteken dat hy die hele Boskloof kan besit as hy sy voorwaardes net so stel dat hy vir Gert styf kan vasdraai dat hy dorptoe moet trap. Hy bly skynbaar dink of die vraag hom vreeslik ontstel het.
‘Swaer,’ pleit oom Gert, neerslagtig oor die frons op oom Sybrand se voorkop; ‘ek kom na jou toe omdat jy familie is. Ek wil nie graag die verband op my grond aan vreemdelinge gee
| |
| |
nie,’ klink dit selfregverdigend, maar duidelik pateties. ‘Hoe lyk dit, swaer?’
Oom Sybrand wag die regte oomblik diplomaties af, want hy wil nie te gou toegee nie. Hy reken uit hoeveel geld hy gereed het en hoeveel oom Gert hom reeds skuld. Dat iemand anders Gert se grond in die hande kan kry, verontrus hom diep; dit sal al sy planne uit mekaar smyt. Hy buig hom regop, trek sy oë tot smal skrefies en sê: ‘Gert, ek het dit ook maar moeilik. Ma maak die ding vir my swaar. Sy hou my teë dat ek nie kan boer soos ek wil nie. Maar dit is ook so: familie moet mekaar help. Daarvoor is ons daar. Ons kan volgende week dorp-toe ry, dan kan ons met die prokureur praat. Ek sal ook maar raap en skraap om die geld bymekaar te kry. Maar ek moet jou help. Dit hoort so.’ Oom Gert is oorweldig deur dié onverwagte tegemoetkoming. Trane skiet na sy oë. ‘Genugtig, swaer, ek weet nie hoe om jou te bedank nie!’
En nou is dit ‘swaer’ voor en ‘swaer’ agter. Oom Sybrand het 'n gulheid en hartlikheid wat sy swaer nog nooit gesien het nie. Voor hulle afskeid neem van mekaar sluit oom Sybrand die pakkamer oop en haal 'n rol platperskes uit en gee dié vir oom Gert. Die netjies bewerkte droë-vrugte met 'n goudgeel deurskynendheid soos kosbare perkament, word in groot lappe
| |
| |
afgeskeur en geëet deur 'n opgewonde, blye boer toe hy met lang treë na die huis stap om die goeie nuus vir sy neerslagtige vrou te vertel.
| |
II
Die winter is naby die einde van sy skof en tog is die dae nog koud en die mores hard en wit van die ryp. Tussen die bome bly dit klam-koel, en waar Henning en die volk nou werk aan die voor is dit ondragelik koud en akelig in die pappery van swart, turfagtige grond. Henning het 'n verflenterde ou broek en hemp aan en die twee werkvolk dra net hulle hemde, wat modderbevuil om hulle blaaie plak. Op 'n ry staan hulle en werk. Henning is voor. Kort-kort spring hulle uit die nattigheid en gaan dan in die warm stralende son langs die kaal, dun takke van 'n wilkerboom staan. Maar dit duur nie lank nie, dan moet hulle weer wegval. Hulle voete sink borrelend in die vuil modder, deurdraad van wortels, en as die graaf daarin wegsak, gaan dit soms met 'n groot gesukkel voor die modder in 'n swart, taai streep oor die wal waai. Die koue hande moet die graaf vasvat, die arms en rug moet straf ingespan word en dan sink die voete soms onverwags dieper as die graaf opgebeur word; die modderwater kom dan koud en klewerig tot bokant die knie.
| |
| |
Henning uit die een verwensing na die ander, want dit is volgens hom blote moedswillige vernielery van sy pa se kant om daarop aan te dring dat die voor juis hierdie tyd van die jaar skoongemaak moet word. In die somer is dit 'n ander ding, dan kan mens jou man staan teen die modder en vuiligheid. Maar nou kan hy hom alleen versit daarteen, want sy rug het 'n dowwe pyn en van sy voete af kom daar 'n akelige gevoel asof hy netnou in die bed sal lê en ril van die koukoors. Oor sy gesig lê komieklike stroke modder, sy hemp en broek is die ene harde kors wat styf en bespotlik om hom hang. As hy nie 'n dodelike siekte van hierdie onnodige gedoente kry nie, dan sal dit 'n wonder wees. Agter die walle dam die swart strepe modder weerskant met hier en daar 'n krap se doppe duidelik sigbaar daarop.
Langs die swart, opgehoopte, slymerige voormodder kom oom Sybrand hande-in-die-broeksak gestap. Dit is 'n taai werk, een van die naarste, afstotendste werke wat daar is, maar sy seun moet nou eenvoudig gebrei word, dit is sy plig as vader om hom 'n geharde, taaie werker te maak. Anders gaan jy onder in die stryd met die grond en met geslepe, onderduimse medemense. Hier is dit nie half en half nie. Hier is net 'n pure man nodig wat sal spook tot hulle hom kerkhoftoe dra. Boere soos sy skoonseun en sy swaer kan jy agter elke bossie uitskop. 'n Boer
| |
| |
moet harde spiere, 'n sterk rug, uithoudingsvermoë hê. Die soort grond in hierdie kontrei maak dit nodig. As jy nie pal kan bly staan nie, is die wapad jou ander keuse.
Oom Sybrand gaan staan by die drie werkers. Henning kyk nie op nie, alhoewel hy weet dat sy pa daar beterweterig staan. Die eiegeregtige ou man, met sy hande in sy sak en sy kritiese oë, vul hom al meer met afkeer. Dit is naar dat hy so teen sy eie pa moet wees, maar hoe kan dit anders? Daar is nooit die minste liefde of vriendelikheid teenoor hom nie. Hierdie soort oorheersery, die lus om elke dag sommer uit leedvermaak jou kop diep in die modder te druk, jaag hom verder en verder van sy pa, en hy voel dit nou so duidelik, hier waar hy koud en vernederd staan, dat dit op 'n breekspul moet uitloop. Vroeër of later. Mens is mos darem nie van klip gemaak nie. Hy wens sy pa wil liewers loop. Hy hou nie van die kykery waar hy werk nie. Hy is nie 'n slaaf nie. Die vader voel lus om vriendelik met sy seun te praat, hy voel dit omdat hy die onverpoosde werkywer van sy seun aanskou. Dit doen sy hart goed. Vir iemand wat so werk, moet mens respek kry.
‘Wanneer sal julle klaar wees, Henning?’ vra hy, en sy stem pleit dadelik vir beter verstandhouding. Maar al antwoord wat hy kry, is: ‘Vanaand!’ en die seun se lyf sak weg in die diep voor en 'n streep modder plas naby die
| |
| |
vader se velskoene neer. 'n Trae woede vul onverwags oom Sybrand se hele gedagte. Dit is maar alte duidelik dat sy seun hom nie ‘pa’ genoem het nie. Sulke astrantheid, sulke goddeloosheid moet wortel en tak uitgeroei word. As sy seun nie wil buig nie, dan moet hy gebreek word. Aan die beweging van sy lippe is dit duidelik dat 'n stortvloed van bestrawwing gaan kom, maar hy sê tog niks, ruk sy kop parmantig regop en stryk weg deur die tuin.
Eindelik is 'n lang, onaangename dag om. Die son sink waterig-wit deur die blaarlose populiere, wat met vaste lyne teen die westerhemel afgestreep is, en dan styg 'n ligte rooi net vir 'n rukkie langs die stamme op en die aand kom vogtig, met 'n ryplug, en laat die plaas in 'n verstilde atmosfeer van lewe wat diep onder die grond weggekruip het.
In die skemering loop Henning met lang, lome treë na die huis toe. Hy voel so moeg, so kluimerig in sy lede dat hy graag dadelik in 'n warm bed sou wou kruip. Hy was hom skoon by die windpomp, wat die kou helder water verfrissend en borrelend oor hom spoel. Hy is al gebrei teen kou water. Hy moet hou. Wat kan hy anders maak? Hy trek skoon klere aan, loop na die kombuis en met 'n moeë stem groet hy sy moeder wat besig is met die aandete. Hy gaan 'n rukkie voor die stoof staan en laat die hitte weldadig deur hom dring. Sy moeder
| |
| |
bak vleis in die pan, en net die manier waarmee sy dit omkeer, haar neergeslane oë, haar geboë rug en die rimpels op haar voorkop vul hom opeens met so 'n oneindige jammerte dat hy onverwags vra: ‘Kan ek ma nie help nie?’ Sy skud net saggies haar kop en sug half: ‘Nee, my kind,’ en dan werk sy verder, eensaam in haarself geslote, ingedryf na die binnekring van haar gedagtes, waar die lewe eensaam uitbrand, weemoedig soos 'n stil kersvlam in 'n doodstil kamer sonder 'n lewende naby. Wat kan hy vir haar sê om die skeiding wat ook tussen hulle is, uit te vlak, om haar vereensaamde lewe nader aan syne te bring? Hier is hulle bymekaar, hier waar die gesellige vuur vertroulik hulle innerlike lewe na openhartige openbaring lok, hier is hy en sy moeder; hy is uit haar gebore, sy het aan hom die lewe gegee; eenmaal was hy deel van haar, en nou is hy so ver van haar af dat hy, lomp en onbeholpe, nie kinderlik, belydend met haar kan praat nie. 'n Vreemde hartseer is in hom, want hy voel die wrede skeidinge van groot lewensmagte aan, van strominge wat elke uur, elke dag skei, saamvoeg, breek en weer een maak. Watter wonderlike iets is die lewe tog nie! Opeens vloei sy gedagtes vol vertroulikheid, baie onverwags, en hy sê: ‘Ma, wat is dit dan dat oom Jaap so teen ons is? Hy het my die aand toe ek daar was, baie sleg behandel.’
| |
| |
‘Ja, my kind,’ sê sy met 'n trae stem waarin die onmiskenbare klank van diepe egtheid is, ‘ek weet nie. Hy en jou pa lewe nou al vir jare so. Daar is altyd rusie en vyandskap. Vandat hy die dam daar bo in die vlei gemaak het en Boskloof se reënwater afgekeer het, het dit erger geword. Ek hou tog nie van die rusies, maar ... ag ja!’ en sy staar voor haar uit in die vuur. Sy voel waarheen haar seun dwing. Die liefde roer aan sy lewe, en sy kan baie duidelik insien dat hy hom teen 'n klipmuur vasloop, want van so 'n liefdesverhouding sal niks kom nie. Net veel moeilikheid en verdriet. Wat is die liefde? dink sy. Wat sal vir haar seun wag? Ook net 'n lang ry teleurstellings. Ook net toesmeer en swyg of jou mond verseël is. Ver, baie ver terug is die ligte, lieflike drome van 'n boeredogter met haar mooi, helder, weemoedige oë. So het sy die lewe ingestaar, so het sy gekyk in die oë van die lewe self asof sy die raaisel, die wonder wou aflees van haar toekomsdae, asof sy die lewe wou dwing om aan haar die weelderige droom van 'n sterk komende liefde te openbaar. En die jare het dit vir haar geopenbaar. Haar ouers het gemeen dat sy 'n goeie huwelik doen met 'n man wat baie sal erwe, wat hard werk - al het haar vader nooit van dié vryer se barse uiterlike gehou nie. Ja, die jare het haar geleer, dit het skerper en vaster oor haar lewe heen gesny, dit het met swaar,
| |
| |
diksool-skoene op haar bestaan getrap, dit het haar drome soos sothede, soos spinnerakke, wat net die deurgang versper, weggevaag; dit het alles weggedruk, ondertoe, af, laer, aarde-toe. En nou het sy nog net haar liggaam, haar moederliggaam wat afgebeul is deur die jare, en haar drome lê weggetrap in die grond soos 'n blom op die ploegland, waar dit nie hoort nie, waar die praktiese dinge, die harde dade die enigste is en die res bog. Dit lyk na 'n groot dwaling wat vroeër of later weggewis moes word in die opkomende vloedwaters van die lewe. Nou is haar hande hard en benig, nou staan haar liggaam, wat nie goed versorg is na die geboorte van haar kinders nie, bultig en lelik onder haar goedkoop klere uit. Die lewe het klaar met haar, hy het haar vir 'n wrede, blinde doel, wat sy nie begryp nie, opgebruik, haar mooi, jong meisiesliggaam het verval tot wat sy nou besit. Waarom? Wat het sy oor? Net die weemoed in haar oë as sy wegkyk oor die blou, onmeetlike velde, as sy haar kinders se baba-kleertjies, wat sy diep wegsteek, uithaal, dit teen haar vashou in die doodstil kamer en nie huil nie, maar net sug, peinsend voor haar uitkyk en dink oor haar groot droom wat dood is, aan haar verwagting wat verbysterend, snel weggesak het in die harde sorge van die dag, in 'n saamlewe met 'n man wat eentonig verkors het in starre eet-werkslaap.
| |
| |
En hier is haar seun nou by haar en tog is hy ook reeds ver, ver weg, verlore vir haar bestaan. So is die lewe; 'n groot geskenk, en tog ook weer 'n wrede afstand. Miskien kan sy haar kind raad gee om sy lewe ligter, sy huwelik 'n sonniger iets te maak as wat hare was. Maar watter raad? Sy het stadigaan tot 'n slavin geword wat swyg, wat nie 'n mening daarop nahou nie, en as sy dié nog het, dan verbied die strakke lyne van haar omgewing vir haar om dit uit te spreek. Nou wil sy graag haar hand op haar seun se skouer lê en moederlik baie sagte, troostende, liefderyke dinge vir hom sê. Maar waarom doen sy dit nie? Waarom word haar hele mens-wees onherroeplik aan die eensaamheid vasgeklink? Daar wel 'n blinde ontroering na haar hoof, trane spring blink in haar oë, en nog sê sy niks, swyg sy, deur onsegbare dinge gewond, vervreemd van die nabye wat eenmaal vir haar so lief en heilig was.
By die agterdeur word swaar skoene skoon gestamp en nydig geskuur - die gestamp en geskuur klink tot diep onder in haar lewe. Dan ril sy, keer na haar werk terug en is weer die puntenerige, sorgsame huisvrou. Oom Sybrand kom binne en mompel iets wat na 'n aandgroet klink. Hy hang die lammerskaapsweep teen die kombuismuur, en sonder om langer by vrou en seun te draal, loop hy deur na die spens met
| |
| |
die vaste gebaar wat wil toon dat die aandete maar kan begin, noudat hy gekom het.
En weer is dit soos so baie, baie aande wat sonder vreugde weg geskuiwe het in die nag. Die kers wat stil, aandagtig brand, die vertroulike glansing van borde, messe en vurke, alles so goed bekend. En die hande wat daar oor die tafel beweeg: vaste, harde vingers; maer, knopperige vrouehande; rooi, bloedgevulde vuiste van 'n jong lewe. So sit hulle saam soos so baie geslagte voor hulle saamgesit het tot die een na die ander weggeroep is om alleen te gaan verwyl in die duisternis buite by die strakke, wagtende sipresboompies. Ander kom by: jong, gulsige monde, vurige oë, en ook hulle moet later hulle plek ontruim; die jare slyt af, die jare eis en vermurwe. Die ketting het geen einde nie.
Om die drie stille figure, geheimsinnig vergader by die kerslig asof hulle pas, God weet hoe, uit die duisternis vir 'n oomblik se bewuswording, 'n allenige bestaan aangetree het om netnou weer in die nag te versink, hang 'n bo-persoonlike bestaan waarin geslagte wat heen is, hulle uitgeleefde bestaan wil uitdruk, waarin dag en nag van lank gelede, ure van harde arbeid, kleinlike planne en eersug en bitter vetes al lang vergete, nou weer werklikheid word en die heengeganes hulle vas verbind voel aan die drie wat nou op hulle plekke sit. En die
| |
| |
vader, moeder en seun voel daardie aanwesigheid, hulle is vasgebou deur die plaastradisie, en steeds ervaar hulle die mag van geslagte wat oor hulle waak.
Daardie gedagte is nou net 'n vlugtige oomblik in oom Sybrand. Hy dink aan sy grootvader en vader wat weg is, lewendige mense wat eenmaal ook breed-rustig op dieselfde olienhoutstoel gesit het waarop hy nou sit, boere vir wie die ete net so aangenaam was as vir hom. En hulle is weg. Hy vrywe net vlugtig oor sy voorkop en om sy oë of hy 'n spinnerak wil verwyder, asof hy tot die vaste, eenvoudige dinge wil terugkeer waaraan sy lewe vasgesuig sit. Hy kan hulle nooit los nie - dan kom die snaakse gevoel of hy net in 'n bodemlose afgrond weg getrap het.
So gaan die maaltyd verby en Henning loop na sy stoepkamer. Hy voel moeg en koud en wil maar dadelik gaan slaap. Iemand klop saggies aan sy buitekamer se deur. Dit is die ou skaapwagter. Sy gesig is beplooid met donsies daarop en hy lyk inderdaad veel op 'n ou-ooi wat al baie gras in haar dae weg gevreet het. Hy staan daar in die kerslig met sy flenterhoedjie in die hand.
‘Ja, ou Jannewarie?’ vra Henning.
‘Ek het 'n brief hier vir die baas. Maar baas moet my darem 'n swaar klompie twak gee vir my werk.’
| |
| |
Sy gesig lyk of dit uit donker, gladde olienhout gesny is noudat hy dit so vragend ophef. Uit die binnesak van sy flenterbaadjie haal hy 'n brief wat krom gekreukel is en onhandig, soos een wat selde iets fyns hanteer, oorhandig hy dit. Henning draai dit verbaasd rond.
‘Wie het dit vir jou gegee?’
‘Die skaapwagter van baas Jaap, my baas.’
En nou bons Henning se hart onverwags en 'n vreugde kom deur sy bedruktheid heen soos 'n opspringende fontein. Vinnig vroetel hy in 'n kassie voor sy bed rond en soek na twak. Ou Jannewarie ontvang dit met hande wat kommetjievormig naas mekaar geplaas is. Toe verdwyn hy met 'n luidrugtige bedanking.
Henning sluit die deur of hy alleen met hierdie brief en met sy gedagtes wil wees. Hy kyk aandagtig na die handskrif. Dit is fyn en half aarselend soos van 'n mens wat min skrywe. Toe skeur hy dit oop. Hy kyk. Ja, daar staan haar naam daaronder. Gretig maak sy oë 'n aanval op die letters. Daar is geen aanhef by die brief nie. Sy weet seker nie hoe om hom te noem nie. Dit val sommer met die hele deur in die huis. ‘Ek wil jou net sê hoe spyt ek is oor wat op daardie aand gebeur het. Ek het lank gewag om te skrywe, want ek het gedag ek sal jou weer sien. Nou lyk dit vir my of jy kwaad vir my is. Moet asseblief nie kwaad vir my wees oor wat gebeur het nie, want dit is nie my skuld
| |
| |
nie. Ek is nog altyd hartseer daaroor. Jy moet maar vergewe. Ek gaan Sondagmiddag bietjie na jou tante Maria toe.’
Hy lees die woorde weer, stadig en versigtig, net of hy haar wil hoor praat, die dinge wat daar staan, wil hoor sê. Hy kyk aandagtig en met liefdevolle oorgawe na die handskrif. Daar is 'n bly verwagting in hom, 'n geluk wat opstoot tot in sy haartoppe. Dan het hy haar verniet verdink. Sy voel glad anders teenoor hom as haar ouers. Veral daardie laaste woorde: ‘Ek gaan Sondagmiddag na jou tante Maria toe,’ is vir hom so 'n opwindende uitnodiging, dit wek 'n veroweringsdrang in hom op dat hy vir 'n oomblik op sy bed gaan sit, sy hoof skuins op sy hand lê en begin dink en droom. Veel wat hard en verbitterd in hom was, gaan los. Sy kamer word ruim en vol gefluisterde liefdeswoorde. Dit is of die groot, mooi dinge van die wêreld wat ver was van hom, wat hy as verlore beskou het, opeens naby, ontstellend naby hom is. Johanna het onverwags gekom, haar gelaat, haar oë, haar liefde. Sondagmiddag sal hy gaan. Wie sal hulle liefde langer kan keer en verbied? Dit het nou 'n donker krag in sy lewe geword. Hy wil haar beskerm, opneem in sy lewe. Hy voel lus vir die stryd wat kom, want 'n onkeerbare dryfkrag het ontwaak in sy sinne, veral ná hy die laaste woorde in haar brief gelees het.
| |
| |
| |
III
Sy kan voel dat die winter nou aan die verbygaan is, want sy dra die keerkring van die seisoene in haar bloed. Voor die venster sit sy, die ou, afgeleefde tant Willa, en sy kyk deur die venster, maar ver kan sy nie sien nie. Sy weet maar te goed hoe die plaas, haar plaas voor hierdie venster uitstrek, hoe groot, hoe waardevol dit is. Haar seun Sybrand was nog nie weer 'n slag by haar ná die nare, astrante manier waarop hy met haar gepraat het nie.
Een dag het sy vir Gert gevra om haar spaider te laat inspan en haar na die dorp te bring, omdat sy daar gewigtige werk moes afhandel. Vóór die prokureur se deur het sy afgeklim, sukkelsukkel met haar stywe, mankoliekige bene, by die deur sonder iemand se hulp ingegaan en daar reguit, met 'n verweerde, blou-beaarde vuis stamp-stamp op die tafel vir haar prokureur gevra of hy raad kan gee hoe om vir Sybrand vir goed sy astrante, goddelose mond te laat hou. Die kêrel met sy dik brilglase en trae manier het verbaasd na haar gekyk en omslagtig verduidelik dat sy met 'n baie moeilike vraag kom, iets waarmee hy nie daagliks te doen kry nie. Hy het salwend gepraat van liefde en vrede, en die ou vrou het hom roerloos, met haar dowwe blou oë sit en aankyk en dit het haar geweldig vererg dat hy so om die saak rondplons, dat
| |
| |
hy sulke bogterige raad het vir so 'n gewigtige saak. Sy het toe sommer reguit haar bewende vinger na hom toe gehou en gevra: ‘Wat sê die testament, wat sê die wet, kan ek hom more in die pad steek as ek wil?’ Die kêrel het na 'n paar dokumente gekyk, met sy vinger lang reëls afgestreep en toe bevestig: ‘Ja, tante, u het alle seggenskap. As u die dag te sterwe kom, dan kry u kinders die plaas. Maar tot dan is u nog die baas. Ek het dit al vir u gesê, ek herhaal dit maar net weer.’ En met 'n skalkse glimlag het hy bygevoeg: ‘Ek hoop net tante gaan nie verkeerde dinge aanvang nie!’ Sy het bedaard opgestaan en net gemompel: ‘Toe maar, dis nie jou sake nie. Nou is ek positiefseker. Ek sal nou met die hardekop werk.’ Sukkel-sukkel is sy weer in die spaider en nadat sy vir haar 'n trippens se ‘ekstrastrong’ vir die pad laat koop het, is sy weer plaas-toe, vas beslote om haar regte tot die laaste toe te verdedig en te handhaaf.
Sy wag nou net dat Sybrand een more daar moet inkom en net die geringste sê, dan sal sy hom behoorlik bestraf en, om hom 'n les te leer, dan in die pad steek. Sy sal dit doen soos mens 'n kind bestraf, nie omdat dit juis vir jou so lekker is nie, maar omdat hy moet hoor. Al is jou kind ook sestig jaar oud, dan moet hy nog onderdanigheid en gehoorsaamheid toon. Die Bybel wil dit so hê. As mens 'n duimbreedte
| |
| |
toegee vir brutaalheid, dan slaan jy net 'n spyker in jou eie doodkis. Jy boer agteruit, en netnou moet jy in ander se oë kyk vir kos, en die goed waarvoor jy jou hele lewe lank gewerk het, word verkwis deur mense wat dit nie kan waardeer nie.
Voor haar lê die son warm en wit op die vensterbank, en met gevoude arms sit sy daar, 'n goue streep oor haar swart mou, en wag; sy wag vir Sybrand om met hom af te reken; maar sy wag ook vir iets anders: 'n groot, aanskuiwende onsekerte, 'n duisternis wat nader en nader kom sonder dat sy dit afweer. Haar gesig het in die laaste maand 'n harde, liggeel kleur gekry soos van ou suurdeeg. Haar ingewande voel dood; die minste wat sy eet, veroorsaak 'n vreeslike kramppyn. Sy is honger, maar moet die kos net so aansien. Sou dit dan die einde wees? So maklik gaan sy nie ingee nie. Agter haar, op die rakkie bokant die koffieketel, staan twee, drie wynflesse vol nuwe rate wat sy gekry het. Dit is vermeerbossie wat getrek is; dan weer wilde-als en bruinsuiker met 'n paar druppels groen-amara daarby; dan weer kruisement wat fyn gestamp is saam met maagwortels. Maar dit het geen uitwerking nie. Telkens voel dit of sy nou net die regte medisyne het, maar dan kom die teleurstelling weer. Haar kombuismeid het haar al verseker dat sy getoor is deur die skaapwagter, wat sy in die middel van
| |
| |
die maand weggeja het. Sy het by die ounooi aangedring om die slams te laat kom, wat net onder die drumpel sal grawe, die toorgoed daar sal uithaal en die kwaaddoener dan, papnat van die sweet, sal laat hol tot by die plek waar hy die kwaad gedoen het. Maar tant Willa weet nie wat om te doen nie. Sy is bang vir die toornaars; die Bybel verbied dat mens jou met sulke heidens moet besighou. En tog dwing die lus om te lewe haar om ook hierdie raad te aanvaar. Sy weet net nie hoe om dit reg te kry nie. Dit sal moeilik gaan om by die skinderbekke verby te kom. En moontlik is alles bedrog?
Die middagson kruip langsaam oor haar swart klere, blink van die baie dra. Wit en geweldig is die dag daarbuite. Sy sal vir niemand sê dat die kwaal haar nou so ver het dat sy met moeite 'n bietjie sterk sop kan drink nie. 'n Dokter moet hulle nie gaan haal nie. Al woorde wat hy ken, is ‘mes’ en ‘hospitaal’. Sy sterwe liewers voor hulle haar na 'n hospitaal neem. Sy het genoeg gehoor van die marteling daar. Maar sy kan duidelik voel dat die swakheid haar begin ondermyn. Sy kry dit moeilik om regop te staan. Die kinders van Maria wat by haar moet kom slaap, wil dit nie graag doen nie. Sy weet dit. Ondankbare goed wat op haar grond groot word!
Die son skuiwe verder oor haar heen en tril
| |
| |
soos fyn wasemdraadjies agter haar teen die muur. Geel en roerloos is haar gelaat en hande. Buite gaan die dag langsaam agter die kimme in en nog wag sy, ongeskok, vol diep vertroue, soos 'n jong bruid op 'n komende lewe.
| |
IV
Dit is Sondag op die plaas en daarbuite lê die lig roerloos oor die koppies en die velde. Die woning rys vredig op in die uitbloeiende dag; die vertes vertoon weiende vee, blou horisonne en yl wolkstrepe. In die harte van die boere is daar 'n rus so breed en kalm soos van die oorgangsdae van die winter na die somer self. Oom Sybrand het in die afgelope week gereken, bedrae op sy vingers afgetel, sy sakboekie geraadpleeg, die plaas van baken tot baken weer afgestap, en vanmore sit hy op 'n veldstoel stil, nadenkend en wegkyk oor die kaal, slap takke van die wilkerbome. Hy sit doodstil of hy vas aan die slaap kan wees en tog dink hy aaneen, dink hy oor die harde transaksie-sake, oor die lening van Gert, oor die oë wat hy nou in sy vangstok moet maak, oor die sekuurheid van toekomsberekening.
Daar oorkant sien hy hoe Gert en Maria na sy moeder se huis gaan om die Sondaggodsdiens daar te hou. Sy ma begeer dit so, want sy kan nie meer na die kerk toe gaan nie. Nou kom
| |
| |
Gert en sy gesin maar Sondagmore teen elfuur na haar toe. Daar lees hy 'n stukkie uit die Bybel, daarna 'n preek wat hy eentonig, dikwels sonder veel begrip van die eintlike inhoud en met 'n onnatuurlike sing-stem deur werk; dan volg 'n gebed, daar word gesing en die rustige lewe daarbuite suig hulle weer aan, want vir 'n oomblik het die sondebesef hulle ongemaklik en ongelukkig laat voel. Netnou vloei hulle lewe weer tevrede en sorgeloos weg in die dag. Vroeër, net ná sy pa se dood, het oom Sybrand met sy vrou en kinders ook daarheen gegaan. Maar dit het nie lank geduur nie of hy het een Sondagmore 'n ekskuus gevind en daarna het hulle, tot diepe afkeer van sy ma, nie meer gegaan nie. As dit by die ‘boeke-vat’ kom, is Gert veel beter as hy, dié verander sy stem dan dadelik tot 'n half-huilerige toon en hy kan lank bid - gebede waarin dieselfde woorde en begrippe gereeld weer terugkom. Oom Sybrand kon nog nooit op 'n biduur 'n woord uitkry nie. Sy oorlede vader het hulle gedwing om op sulke byeenkomste, as almal op hulle knieë lê en dit verwag word dat niemand oorgeslaan sal word nie, ook hulle stemme te laat hoor. Oom Sybrand het egter altyd sy uiterste bes gedaan om nooit op so 'n biduur te kom nie. Maar by sy vader, die kwaai ou man met sy kaalgeskeerde bolip en yl baard om die kin, kon hy nie verbyskram nie. Eenmaal het hy op 'n biduur net 'n
| |
| |
paar woorde met groot moeite uitgesukkel, want hy kon nie, dit was of hulle bloed uit 'n klip wou slaan, dit was vir hom behoorlik onmoontlik om sy binne-lewe, sy gedagtes, sy intieme menslikheid daar, nie voor God nie, maar voor die medemense uit te stort. Dit het hom vreeslik vererg dat hy dit moet doen, en ná sy vader se dood het hy sy voet nie weer op 'n biduur gesit nie, omdat hy dit net as 'n skynheilige affêre beskou het, waarheen mense gaan om lekker te eet en vrome woorde te sê wat hulle nooit bedoel nie en netnou weer vergeet. Eenmaal het die predikant met hom kom praat omdat hy nooit meer kerktoe gaan of aan die nagmaalstafel kom nie. Hy het baie bitter dinge teenoor die leraar gesê, nie omdat hy iets teen die kerk het nie, maar omdat dit hom kwaai opstandig maak as mense hom wil dwing. As daar voorbeeldige bure is wat gereeld kerktoe gaan, dan is dit goed en wel, maar hy maak soos hy wil, sy lewe en sy siel is syne, en niemand anders hoef hom daaroor besorgd te maak nie. Die predikant het hom straf vermaan oor so 'n goddelose houding en toe, enigsins ontnugterd, gery.
Nou is daar 'n nuwe predikant in die gemeente, en oom Sybrand verwag hom een van die dae. Ook van hom sal hy kleingeld maak, want hy het lankal geleer dat dit die beste is om reguit te sê wat jy dink. Hy weet maar te goed hoeveel
| |
| |
skynheiligheid daar agter baie salwende vriendelikheid is. Hy weet dat die ouderlinge en diakens hom verag omdat hy 'n halwe heiden is, soos hulle sê, en tog is twee van dié vreeslike Christelike knape nou-die-dag deur die poliesman opgeskraap omdat hulle by 'n slams, so 'n egte deurtrapte skelm, ‘medisyne’, kastige toorgoed, gaan haal het. Wat se godsdiens is dit dan wat soos 'n dop buite op sit en afval net ná hulle biduur gehou het? Wat gee hulle die reg om so vreeslik van hom te skinder? En tog, noudat hy so rustig op die veldstoel sit en ver oor die velde heen kyk, is daar 'n skrynende twyfel in hom. Die fondamentstene wat in sy lewe gelê is baie jare gelede, is nog daar, maar dit is of hy veg teen sy jeug, wat vir hom meer vernedering en dwang was as iets anders, en dié gevoel van gewelddadige onderwerping deur sy harde vader bring hy ook in verband met die godsdiens. Toe hy ouer geword het, toe sy vader se harde vuiste nie meer sy lewe bestuur het nie, het hy sy gevoel begin sluit vir stemme wat eenmaal sag en met 'n hemelse belofte gepraat het binne in hom.
Hy hoor nou 'n psalm opruis daar uit die huis van sy moeder en opeens oorval 'n weke gevoel hom en sy hart word gevul met 'n hoë en gewyde stemming, met aanvloeiende herinneringe uit watter verre, vergete dae, met 'n soetinnige gevoel wat hom meeneem in die wye,
| |
| |
blou dag. Maar as die gesang oor is, skud hy sy kop effens of dit 'n dwase aanval is wat hy wil teen staan, of vroulike weekheid hom onverwags in sy greep gekry het.
Hy kyk na sy hande, na sy liggaam; dan sit hy vir 'n rukkie doodstil, gedagteloos, met 'n vaag-sere gevoel onder in sy bestaan net of daar iets haper, net of dinge nie regloop nie. Hy hoor hoe Henning in sy kamer werskaf. Hy kry opeens weer lus om met hom te gesels, maar dié begeerte sterf gou weg voor die stem van sy plig wat hom maan om streng, afsydig te bly as hy sy heerskappy wil handhaaf, as hy gedurig die plek wil behou van die man wat met vaste hand sy plaas wil bestuur.
Uit sy stoepkamer kon Henning sy vader sien, maar hy doen nie 'n poging om met hom te praat nie. Die deur het 'n rukkie oopgestaan en nou sluit hy dit en begin hom netjies aan te trek met 'n blye voorgevoel van geluk wat kom, geluk wat nog verskuil gaan agter tergende onsekerhede. Met meer sorg as ooit skeer hy hom, kyk in die spieël en dan dink hy aan Johanna, aan haar brief en 'n senuweeagtige haas is daar in hom om weg te kom, om te weet wat sal gebeur. Netnou roep sy ma hom vir ete, en aan die tafel het sy pa net 'n slag vlugtig na hom gekyk, gemerk met watter sorg hy aangetrek is en toe maar weer die sag gekookte bout en daarna die
| |
| |
doekpoeding met 'n rustige Sondagsgenoeë geëet.
Ná die maaltyd staan Henning gou weer na sy kamer se kant toe. Hy plaas die briefie van Johanna sorgvuldig in sy sak en toe begin hy met sy groot onderneming. Diep-gelukkig loop hy met die voetpad langs. Hy voel hoe die weldadige, dansende lug deur sy liggaam ingedrink word en hoe die wydtes van die vredige dag dan weer van hom wegstroom na die horison of hy daarin opgaan, daarin gedagteloos vervlugtig. Voor hom loop die fontein se water helder en diep in die voor waaraan hy so swaar skoongemaak het; die gladde oppervlakte van die deursigtige winterwater trek hier en daar 'n lang rimpel wat gou uitplooi in die egalige vloeiing. Die helder sonnedag, met die populiere, kaal en trots teen die lug uit, lê afgespieël in die diepte en 'n geur van ou blare, vogtig en met die wonder van baie vergane dae in hulle, vul Henning opeens met 'n diepe, dierlike lewensvreugde sodat hy die aarde teen hom kan vasdruk uit 'n wilde drang om al die heerlike dinge nie te verloor deur die dood nie.
Hy loop met 'n gesonde gevoel in sy bloed, in die rigting van sy ouma se woning, en ver voor sy oë spring die kaal, son-om-aaide bulte oop, naas die kaaltes van die wintervelde wat 'n mildheid en lieflikheid dra en sy hart diep-stil maak van 'n gewyde natuurstemming. So 'n
| |
| |
Sondag het hy lanklaas belewe: dit is of die liefde wat lig, suiwer-mooi in sy bestaan gekom het, ook deel is van hierdie ruimte in en om hom, deel van hierdie sagte, geel-wit wintervelde wat soos sy eensame lewe met 'n onsegbare verlatenheid omgewe is.
Hy merk dat hy 'n bietjie haastig was, want die son verlaat maar net sy middaghoogte. Hy stap daarom by sy ouma se agterdeur in en vind haar besig met 'n koppie sop wat sy met klein teugies probeer drink. Maar hy skrik toe hy na die vervalle gesig kyk, die blou, half-dooi oë en die slap lewenlose vel vol diep-bruin vlekke en die lippe vol plooie, half geopen oor die byna tandelose mond sien. Sy sit inmekaar gebuk, oud en lelik, en vir 'n oomblik voel hy 'n afkeer vir die verwording wat kom met die ouderdom; die verval van die liggaam se krag.
‘Dag, ouma,’ sê hy en gaan op die riempiesmat-stoel 'n endjie van haar af sit.
‘Dag, my kind,’ antwoord sy met iets troosteloos, iets afgedaans in haar stem en toe praat sy niks verder nie, maar kyk dof, terwyl haar hoof skuins hang voor haar uit of sy niks sien nie. Haar bewende hand probeer om die dun sop na haar wydgeopende lippe te bring, maar die helfte kwyl langs haar mondhoeke af en bly hang in die baarderigheid van haar kin. Die gevoel wat Henning nou net daarbuite gehad het, die matelose drang na die gesonde lewe
| |
| |
wat uit die aarde opkom, verdwyn by die aanskouing van hierdie uitgeleefde, uitgebluste mens wat tog nog so vasklou aan die bestaan. Die verdorde hande, die ou vervalle gelaat wat tog ook eenmaal skoonheid gehad het, die vreeslike hulpeloosheid, tref sy denke met 'n skok, veral omdat sy ouma altyd so taai, so weerbaar teen elke aanslag van die lewe gelyk het. Wat kan hy sê? Sy hart hunker na die son, die lewe daarbuite, na 'n jong meisie met 'n jeugdige, sterk, bloeiende liggaam. In hierdie spens druk die lewe opeens swaar en ondraaglik op hom.
‘Hoe gaan dit, ouma?’ vra hy en hy is byna skaam dat hy so 'n vraag kan stel, want dit is maar alte duidelik wat die ouderdom hier verwoes.
‘Goed, my kind. Jou ouma kan net nie meer 'n stukkie kos in haar maag kry nie. Hierdie ding gaan my dood kos, my kind.’ Hy sit stil, want hy weet nie wat om te antwoord nie. Buitekant die venster dawer die sonnedag neer; hoog en onmeetlik is die blou te sien oor die rustige, kaal wintervelde. Binne in hom krimp daar iets ineen. Hy sit en wag om iets te sê wat sy ouma sal opbeur, maar hy kan nie. Hy voel die diepe vloeiing van lewe en bewussyn in hom; dit gaan, dit gaan tot jy lyk soos sy ouma; dan kom weer nuwe lewe, nuwe drif, en so hou dit aan, mens na mens, geslag na geslag,
| |
| |
en God alleen weet wat die sin van dié ewige, vreeslike herhaling is. Dit is of hy in hierdie lang, dralende stilte ook onverwags oud en uitgeleef geraak het. Hy voel oorbodig en doelloos.
‘Nou ouma, ek wil maar weer loop. Middag ouma.’
‘Dag, my kind.’
Hy gaan uit in die dag, die groot, roerlose winterdag. Sy hart skryn. Terwyl hy in die helder, son-oorglansde pad stap, word die stemming van bedruktheid van hom afgespoel deur die wyd-om blouende lugoneindigheid. Sy gedagtes verander gou, want opeens is nou, ná die ontnugterende ervaring, die wese, die liggaam van Johanna vol en soos sterk lewe in hom. Hy sien haar duidelik, haar bestaan is deel van sy verlange. Sou sy al by tant Maria wees? Dalk het sy gladnie gekom nie? Aarselend gaan hy by die agterdeur in. Alles is stil daar. Hy hoor stemme op die stoep voor. Sy hart spring vreugdevol op. Hy loop in die gang af, en verskyn aarselend, met sy hoed in sy hand, op die stoep. Oom Gert, tant Maria en die kinders sit daar in die son, en enigsins verskuil in die hoek is - Johanna. Sy bloos geweldig toe sy hom sien, en oom Gert val sommer dadelik weg: ‘Henning, jong, hoe het jy so gou uitgevind dat hier 'n nooi is? Jy is mos maar bra wild vir hulle. Nou sit, jong.’ Hy groet skamerig, met
| |
| |
'n stugheid daarby asof hy wil wys dat hy vir Johanna skaars raakgesien het. Maar tant Maria het gou uit die jong meisie se vérlangse belangstelling in Henning vermoed dat daar skuwe kragte aan die ontwaak is. Sy het net gewonder waar dit moet heen, want die ou vete tussen haar broer en ou Jaap is daar nog. En 'n skelm vryery gaan nie. Dit is 'n baie verkeerde ding.
‘Was jy by jou ouma langs?’ vra sy vir Henning. Mens sou nouliks sê dat sy oom Sybrand se suster is. Sy het 'n gesig met sag-rooi kleur. Haar hare is grys van die swaarkry wat sy sedert haar huwelik gedra het. Elf kinders het sy in die lewe gebring, waarvan nege nog lewe. Sy kyk met 'n verstandige, ope blik na Henning, so kenmerkend van mense wat die lewe deur harde ervaring leer ken het.
‘Ja,’ antwoord hy, nou meer op sy gemak, ‘ek het baie geskrik toe ek vir ouma gesien het. Ek het nooit gedink sy het so agteruitgegaan nie. Wat is dit dan?’
‘Ja jong,’ antwoord oom Gert, wat maar weer sy afgeslyte, swart klerksbaadjie aan het, ‘ek hou nie meer by haar aan nie. Ek het aangebied om die dokter vir haar te gaan haal, maar sy weier botweg. Sy bly maar sê dat sy niks makeer nie. Dit is darem snaaks hoe hard so 'n oumens se kop kan wees.’
‘Wat dink oom van haar siekte? Haar kleur
| |
| |
lyk darem vreeslik,’ sê Henning, wat nog nie die moed het om na Johanna se kant toe te kyk nie.
‘Haar siekte?’ vra tant Maria, ‘dit is maar alte duidelik wat dit is. Dit is maagkanker. Daardie kleur ken mens te goed. As jy dit eenmaal gesien het, vergeet jy dit nie meer nie. Gert se vader is daaraan dood. Mens kan maar sê hy het verhonger. Dit is 'n alte vreeslike siekte. Ma gaan by die dag agteruit. Sy kan daar so alleen nie langer bly nie. Die kinders sê dit is vir hulle te swaar om daar te gaan slaap, want hulle kan nie help nie. Ons sal 'n plan moet maak.’
Henning sê niks verder nie. As hy nie met die plaaswerk daarbuite besig is nie, dan is hy onhandig. Hy swyg gewoonlik as dit oor huislike aangeleenthede gaan. Johanna het nog niks gesê nie, maar haar aanwesigheid dring sterk aan op Henning se gevoel. Tog is sy natuurlike skugterheid teenoor haar en die behandeling wat hy van haar ouers ontvang het, nog tussen hulle. Tant Maria vertel van vroeër, hoe moedig ouma Willa was, hoe hard sy gewerk het en hoe sy 'n alte parmantige meid eendag met 'n taai klap by die agterdeur laat uitrol het. Sy hou vir Johanna en Henning dop. Dit is vir haar mooi hierdie skamerige, ontwakende liefde, maar sy dink met ligte wroeging aan moeilikhede wat moet kom. Sy en haar broer Sybrand is al
| |
| |
baie vervreemd. Sy onmenslike hardheid het haar weg gestoot, alhoewel hulle as kinders lekker saamgespeel het. Maar sy hou van Henning. Hy ken tog nie vir sy pa se verbitterde alleenlopery nie. Tog voel sy jammer vir hom, want hy is so jonk en onervare - en net so met Johanna. Asof die jong meisie haar gedagtes geraai het, kyk sy skielik met haar helder-blou oë in hare en tant Maria glimlag skuldbewus en 'n moederlike beskermingsdrang kom teenoor die dogter op.
‘Johanna,’ sê sy, ‘jy sit so stil daar in die hoekie. Waaroor het jy nou gedink?’
‘Niks tante,’ antwoord Johanna met 'n stem wat nog onvas in gesprekke is en sy bloos weer hewig; ‘ek sit maar en luister na wat tante-hulle so gesels.’
‘Jy weet, Johanna,’ sê oom Gert, ‘as ek jy was dan gaan sit ek nou daar op Henning se skoot. Toe! maak hom net skaam.’ Henning en Johanna word albei, tot groot vermaak van oom Gert en tant Maria, bloedrooi. ‘Toe Johanna!’ sê oom Gert en hy lag uitbundig, want hierdie soort tergery is vir hom 'n plesier. Sy skud net haar kop. Oom Gert het opgestaan en wil haar aanbeur na Henning toe, maar sy gryp aan die stoel, trap vas tot oom Gert haar los en vir Henning sê: ‘Sie, maar jy is 'n sleg, Henning. Jy moes haar nou gepak het en 'n soen gegee het.’ Henning lag afwerend, maar hierdie
| |
| |
wending wat die geselskap geneem het, het hom tog meer vrymoedigheid gegee. Hy kyk nou na Johanna as hy gesels, maar praat nog nie regstreeks met haar nie. Netnou skink tant Maria geurige koffie in en daarby kom handtertjies en soetkoekies.
Die son sink wit deur die opklim wat 'n endjie oor die veranda hang; die dag se heerlikheid en roerlose geweld blus stadigaan ineen met die koms van die naderende aand. Voëls se stemme begin opeens klink in die wit populiere wat effens glans teen die bruin van die tuingrond naby die stoep. By die aanskouing van die winterdag wat in ego-diepe verlatenheid uitvloei, kom 'n dowwe angs in Henning; 'n onomskryfbare vrees kom van die hoë, koninklike bome wat roerloos teen die wit son uitgebeitel is, dit vloei aan met die koue wat uit die aarde begin damp, van die uitgaande dag wat hy ryp en heilig in hom gedra het.
‘Nou ja, Johanna,’ sê oom Gert, ‘ek sal die kar laat inspan, dan bring ek jou weg. Dit is jammer dat jy nie vanaand kan bly nie. Henning is ook so stadig. As ek hy was, dan het ek jou lankal 'n paar stywe drukke gegee.’
Henning lag verleë, maar daar kom 'n uitdagende glans in sy oë toe hy vir Johanna reguit aankyk. 'n Blinde liefdesgevoel vervul hom as hy die glans in haar oë sien wat hom welkom heet. Oom Gert loop by die stoep af
| |
| |
om die kar te laat inspan en Henning volg vir tant Maria en Johanna die huis in. Tant Maria gaan na die kombuis, en nou is hulle net vir 'n oomblik alleen in die sitkamer, waarin die komende aand reeds aanwesig is. Hy wil vir haar iets sê, maar hy is onmagtig. Net flou, vreeslike gemeenplase bedek die geweld van die drang in hom. Sy het haar oë neergeslaan en staan naby hom. Hy voel dat die minute vinnig heengaan. Hy moet gou praat. Wanneer sal hy haar weer sien? Dié gedagte dryf hom, druk sy onhandigheid opsy. Hy voel hoe die bloed swaar teen sy slape slaan. Dit kom soos 'n vloed in sy are op. Hy skuiwe tot by haar en sê byna ru: ‘Johanna!’ Sy kyk na hom, en net in daardie blik sien hy haar liefde en oorgawe, voel hy dat dit meer is as alle woorde. Alle konvensies, alle kunsmatige skeiding het weggeval. Hy gryp haar vas en soen haar met 'n half-wrede hartstogtelikheid, waarin hy vrye teuel gee aan sy onderdrukte drang van weke en maande. Dit is of baie drade wat hom vasgehou het, verbreek word. Hy voel weggevoer soos op 'n swaar golf, byna blind, sonder redenasie. Maar opeens hoor hy voetstappe. Hy staan bedremmeld opsy. Dié aanraking wat alles verander het, is verby. Johanna moet gaan. Vir 'n oomblik kyk sy na hom. Nou weet hy dat hulle lewe iewers ineengestroom het. Haar oë is sag en blink. Diep-bly. Sy klim naas oom
| |
| |
Gert in die kar, sy lig haar hand skugter op in die kar, haar lippe is oop sonder dat sy 'n woord sê. Dan verdwyn die kar by die huishoek om. Dit is of veel, 'n hele wêreld in Henning weg gaan met dié kar. Hy groet sy tante, haastig, gejaagd, en loop langs die voetpad terug, terwyl hy kort-kort na die verwyderende kar kyk wat nou net 'n wit stippel is in die lang plaaspad.
| |
V
Oom Jaap en tant Mieta het laat terug gekom van die dorp af waar hy die kerkdienste bygewoon het. Vanaand voel sy lyf seer en sy been stokstyf. Hy is totaal uit sy humeur en skreeu onredelik oor die minste ding wat verkeerd loop. Hy kan dit nie help nie. Vanaand is dit net of die rem vanself losgegaan het en hy onredelik moet raas teen al wat in sy pad kom.
‘Vrou! Vrou!! Waar is my pyp? In hierdie huis kan jy nooit iets kry nie. Alles is gedurig weg. Jy het nog nooit in jou lewe so 'n deurmekaarspul gesien nie.’ Hy strek hom op die bank uit met die jigbeen effens omhoog. ‘Og, og,’ kla hy, ‘dit is skoon of 'n ding aan my voetsool vreet.’
Sy vrou verskyn by die deur en vra kalm: ‘Wat skrou jy so?’ Onbeheersd spring hy weer weg: ‘Waar is my pyp? Ek sal vir my 'n rondawel moet laat bou as ek ook 'n bietjie vrede
| |
| |
in hierdie huis wil hê! Soe tog, so 'n vervloekste been - amper sê ek 'n lelike woord.’
Sy vrou kyk hom rustig, deurdringend aan en dit vererg hom nog meer. ‘Wat sit daar in jou onderbaadjie se sak?’ vra sy. Hy kyk, sien sy pyp wat hy netnou self daar in gesteek het, en toe gee hy net misnoegde snorkgeluidjies. ‘Nou ja, toemaar. Wat ek wil weet, is hoe die pyp in my onderbaadjiesak kom?’
Sy vrou kyk hom net verontwaardigd aan en toe loop sy na die kombuis en wonder so in haar enigheid waarom haar man eintlik kerktoe ry. Die predikant het so mooi oor verdraagsaamheid gepraat, en net daarna gaan haar man te kere of hy 'n skoot buskruit in hom het. Dit is seker maar die pyn in sy been wat hom so onhebbelik maak.
Sy wou juis met hom oor iets gepraat het, en nou wonder sy. Hy is in so 'n slegte humeur dat hy alles kan verbrou. Sy is daarvan oortuig dat Johanna nie vir dowwe neute na tant Maria gegaan het nie. Vroeër het sy dit nooit gedoen nie. Waarom nou? Waarom was sy so opgewonde toe sy aangekom het vanmiddag? Haar wange was soos 'n paar vlamme. Jaap moet wakker loop. Daar gaan dinge agter hulle rug aan en een van die dae sit hulle in die ellende.
Ná sy haar werk klaar gedaan het, gaan sy in die sitvertrek by haar man 'n stukkie hekelwerk klaarmaak. Hy is nou kalm en lê met
| |
| |
geslote oë en rook. Hy dink aan ou Martiens Willemse wat vanmore voor hom in die kerk gesit het. Dit is 'n alte snaakse vetknop wat bo-op sy bles uitkom. Seker al sy ongeregtigheid wat daar uitgroei! Sy vrou se stem laat hom sy verstrooide gedagtes bymekaar pluk en vir 'n oomblik hou hy op met rook en luister aandagtig.
‘Jaap,’ sê sy, ‘ek wil nou nie weer dinge aan die gang sit nie, maar ek kry hondse gedagtes; ek sê vir jou reguit: hondse gedagtes. Johanna se ganery na Maria-hulle toe was nie vir dowwe neute nie. Die ding met Henning van ou Sybrand is nog gladnie klaar nie. Ek sê vir jou: ons moet wakker loop! Dit is netnou te laat.’ Meteens beur oom Jaap hom met 'n steun regop op die bank. Sy jigbeen steek reguit vorentoe.
‘Genugtig mens,’ sê hy verbysterd, ‘wil jy sê dat sy daarheen gaan net om dié ou heiding se kind te sien? So wragtig!’ Sy gesig swel pers-rooi op.
‘Ja, ek dink dat sy net daarvoor na Mariahulle toe is. Wat gaan sy nou skielik daar maak? Ek is onrustig. Ons is ouers en ons kom nie ons plig na nie.’
‘Sê sy moet hier kom,’ skreeu oom Jaap half; ‘ek sal nou 'n einde aan die spul maak. Die ou pes hier onder se kop druk ek nog in 'n diep vol twak-ekstrak. Johanna moet vir haar mal hou.’ Tant Mieta kom met haar jongste
| |
| |
dogter, die kind aan wie sy die swaarste grootgemaak het, uit die kamer.
‘Johanna,’ sê sy, ‘jou pa wil bietjie met jou praat.’
Johanna se hart klop tot in haar keel, sy begin haar sakdoek in haar hande rondrol en haar bene bewe so dat sy nouliks kan staan. Tog sê sy met 'n onsekere stem: ‘Ja pa?’ En oom Jaap wag nie. Sy onredelikheid stroom saam met sy diepe verontwaardiging. Dit is so 'n gemene affêre dat hy sommer gou kleingeld daarvan wil maak. Dit moet vir goed op 'n end.
‘Johanna,’ sê hy streng en sy word verskrik deur die wit van die oë om die donker oogappels, ‘het jy vandag met daardie Henning-vent gepraat?’ Sy word donkerrooi en kyk voor haar.
‘Johanna, praat!’ dreig haar moeder, ‘antwoord jou pa! Moet nie leuens vertel nie. God sal jou straf.’
Die dogter is so bedremmeld oor die toornigheid wat haar omring dat sy nie kan dink nie.
‘Pa, hy het ook daar aangekom toe ek daar was,’ sê sy met bewerige huilstem.
‘Dit is net soos jou ma gedink het!’ dreun die storm oor haar los; ‘ek het vir jou laas gesê, toe die smeerlap hier was, dat ek dit nie weer wil hê nie. Ou Sybrand met sy ou lae spul nie naby my familie nie. Ek onterf jou liewers. Ek ja jou soos 'n hond uit my huis! Johanna, as ek my sonde nie ontsien nie, dan gee ek vir
| |
| |
jou so groot as wat jy daar is, 'n loesing wat jy in die dag der dae nie sal vergeet nie. Ek sê nou vir jou: as ek hoor dat jy weer 'n woord met dié vent gepraat het, sal jy dit berou! Loop na jou kamer toe!’
Sy loop sonder om 'n woord te sê. Ná haar liefdesgeluk van vanmiddag is hierdie krasse, ruwe taal van haar vader vir haar soos 'n onverwagte klap, soos 'n nare, ontnugterende heiligskennis. Sy het haar pa, wat nog altyd baie goed vir haar was, nog nooit so boosaardig gesien soos oor Henning nie. Sy gaan op haar bed sit maar steek nie die kers aan nie. Sy sit lank so doodstil. Sy hoor hoe haar ouers hulle verwyder om te gaan slaap. En nog sit sy. Haar spanning verminder en die trane vloei warm oor haar wange. Sy voel nog die nabyheid, die oorweldigende mag van Henning oor haar vanmiddag, die wilde liefde wat dit in haar hart opgeroep het. En nou is die onmoontlike daar. Sy moet dit alles laat: die sterk liefde wat sy roekeloos tegemoet geloop het; of anders moet sy deur haar ouers opsy gestoot word. Vir haar is daar net een keuse, die keuse van haar hart. Dat dit verbied word, maak dit duisendmaal sterker, heimlik bekoorliker.
Sy staan op en loop na die venster. Dit is skielik of die nag met die ster-verheerlikte hemel vertroulik na haar toe kom, of dit, buite kleinlike menslike rusies, haar uitnooi na die
| |
| |
groot fees van die lewe, ewig onafwysbaar aanwesig vir hulle wat werklik liefhet. Die sterrenag omsluit haar klein lewentjie soos 'n nietige punt, en tog gaan sy uit na die ruimte wat te lank vir haar geslote was. Sy sien die ligtende sterre, die onmeetlikheid. So mooi was dit nog nooit vir haar nie, want wonderbaarlik, in 'n nuwe vleiende melodie, sing dit vir haar ontwakende menslikheid die hooglied van die liefde.
| |
VI
Ouma Willa het deur die harde, genadelose lewe se lesse geleer om prakties te wees, om vooruit aan alles te dink. Sy weet dat die dood in haar is, dat dit hom diep aan die wortels van haar lewe ingevreet het. Maar daarom is dit nog nie nodig om verskrik en oorweldig te word nie. So het sy nie groot geword nie. Sy het baie mense se oë met dieselfde twee hande toegedruk as hulle sterwe, oomblikke wanneer ander mense te bang, te aardig is om die doodstryd van 'n arme medemens aan te sien. Waarom moet jy daarvoor bang wees en vlug? Jy is net so 'n mens as daardie een wat sterwe. Vandag gaan hy heen en more kom jou kans en jy moet dan dieselfde paadjie loop wat vir jou so verskriklik gelyk het. Sy het baie lyke gewas, hulle netjies en skoon aangetrek, hulle
| |
| |
hare mooi glad gekam en hulle dan in die kis gelê met hulle hande gevou en 'n sakdoekie om die hoof en kin as die mond lelik wil oopval. So het sy dit geleer; so het sy groot geword. As daar nood is, moet jy nie lafhartig opsy staan en vir 'n dooi liggaam of 'n nare siekte skrik nie. Jy moet jou plig ken, want as al jou weke en sieklike gevoelens jou plat trek, dan moet die wêreld nog voortgaan. Die wêreld gaan hard en taai sy gang. Alleen mense wat nie skrik nie, kan op die platte van hulle voete bly staan al tref die swaarste rampe hulle ook. Sy weet dat God haar lank gespaar het, dat Hy goed vir haar was en dat sy, by al haar swaar, ook veel seëninge geniet het. Sy is dankbaar. Solank as die krag en die wil in jou liggaam is, moet jy werk en werskaf en vastrap. Sy het haar plig gedoen tot op die laaste toe. Nou weet sy dat die dood wat ander langgestorwenes so bitter, so met gekromde hande en verwronge gesigte laat gryp en skreeu het na die lewe, ook vir haar wag. Maar sy is nie bang nie. Sy weet dat God sy tyd het en dat mens jou moet neerlê by sy bestiering.
Die dogtertjie van tant Maria wat vanaand by die ou moeder moet slaap, lê reeds lankal in 'n enkelbed naas haar ouma s'n en net haar sagte asemhaling, soms met 'n diep slaap-sug tussen-in, is hoorbaar. Dit is met die grootste, byna onmenslike inspanning dat ouma Willa
| |
| |
haar laaste werkies verrig, sonder paniekerigheid, met 'n sekerte asof sy more op reis gaan en moet toesien dat alles netjies in orde is. Sy sleep haar dooie bene swaar en langsaam na die groot blinkende klerekas wat in die hoek van die slaapkamer staan. Sy vat met 'n bewende, dorre hand daaraan. Dit is of sy die verlede aanraak met al die herinneringe en die handewerk van heengegane geslagte. Dit is of hulle wat voor haar gelewe het, die dooie, vergane liggame, waarvan sy 'n voortsetting is wat straks by hulle sal wees, in dié hoë, omringende stilte gekom het, met haar wil praat, haar roep, vertrouliker as ooit, omdat sy nou nader en nader na hulle dooie land skuifel. In die gekraak van die plank onder haar voet, in die gladde, lewenlose glimming van die ou geslyte klerekas, waaraan geslagte se hande gevat het, is die heengeganes se aanwesigheid te voel, is hulle vergete stemme wat klop teen die blinde stilte om deur te kom na die land van die lewendes, is hulle oë, gebare, gang wat eenmaal lewend was, maar toegevou is in die jare en nie meer deur die steeds digter wordende vertes kan dring nie.
Langsaam skuiwe sy 'n laai oop. ‘Og Here! Og Here! Wat is die mens?’ Haar hande frommel diep onder die klere in en kom met 'n pakkie te voorskyn wat netjies in dun, wit papier toegedraai is. Sy vou die papier versigtig los, en die naghemp, wat sy aangetrek het
| |
| |
toe sy op haar wittebroodsdae was, vou geluidloos en syig daaruit los en plooi, met fyn kreukelinge, grond-toe. Sy hou dit teen haar bors asof sy dit wil aanpas. Koud en wit hang dit teen haar af, en vir 'n oomblik is dit of sy wil flou word. Sy is so moeg, so doodgedaan. Dan kyk sy weer om haar. Sy weet nog so goed hoe daardie tye was, toe sy lenig en jonk aan die deur van 'n nuwe lewe staan en klop het, toe die dae vol en onmeetlik was van liefde en hartstog. Sy het die naghemp gebêre, soos dit hoort, om daarin begrawe te word. Sy vou dit weer netjies reg en sit dit op die kas net voor haar bed sodat dit vlak by der hand is as hulle dit nodig kry. Sy sal ook duidelik sê wat haar wens is. Die koel kleed wat pas in haar hande was, is soos 'n soet lewe van lang gelede wat sy weer aanraak. Sy sien jong, uitdagende oë, gebare wat sy al vergete gewaan het, sy ruik 'n fris roosgeur en voel haar oorweldig deur die ontstellende werklikheid van hewige oomblikke wat lankal toegespoel is deur die jare.
Nadat sy nog 'n paar dinge reg gesit het, gekyk het of niks verkeerd sal loop nie, sukkel sy na die bed. Langsaam, met groot gesukkel van haar bewende hande, trek sy haar skoene, kouse en klere uit en sit hulle ook netjies reg, want sy weet dat sy hulle nooit weer sal aantrek nie. Nou kan sy nie langer hou nie. Haar kragte is tot die laaste druppel uitgeput. Sy sak stadig
| |
| |
in haar bed terug, met die gesig van 'n dode. So lê sy en wag, volkome bereid om die groot, laaste reis alleen en moedig te aanvaar.
| |
VII
Die stowwe staan in die paaie; hoog en wit hang hulle in die helder dag, wat hard en strak is van die uitgaande winter. Voor ouma Willa se deur word karre uitgespan, die tuie word aan die koelkant opgehang en die perde in 'n kampie gesit.
Ouma Willa is nie meer daar nie; dit kan 'n mens sien aan die wil wat verdwyn het op die plaas, aan die dryfkrag wat nie meer daar werk nie. Willoos wag die werf rondom op haar kragtige persoonlikheid wat alle ruwe materiaal geknie het soos sy wil. Die aarde om haar wou sy nie oor haar laat heers nie. Sy het kragtig ingegryp, beveel, gestry en tot onderdanigheid laat buig. Nou lê sy in haar groot, swart kis in die buitekamer. Mense kuier daarheen aan en vir 'n oomblik kyk hulle na die uitgeleefde, bleekgeel gesig, nou klein en verwaarloos onder haar wit mussie, na die taai hande, wat soveel gewerk, soveel dinge op hulle regte plek laat staan het, lakenwit hande wat nou vir goed gekruis lê op haar bors, op die wit nagkleed wat sy eenmaal,
| |
| |
jare, jare gelede gedra het gedurende haar wittebroodsdae.
So het die lewe dan gegee en geneem; die dae gaan nou wit en helder oor die plaas; die lente en die herfs en die somer sal weer kom, ewig, in ritmiese wenteling. Maar sy, as 'n klein verskyning in die groot gang van die tyd, het afgedaan, sy het teruggekeer na haar vadere, die lewe gaan voort deur ander liggame en vorme. Sy moet terug gegee word aan die aarde waaruit sy voortgekom het; sy: 'n bestaan waarin die Boumeester van die eeue net vir 'n oomblik lewe geblaas het en 'n groeiende lewensdrang geskep het wat egter van die begin af die smet van sterflikheid in haar gedra het.
Nou kyk die mense, bebaarde gesigte en weemoedige vroue-oë, na ouma Willa se stoflike oorskot. Hulle prys haar, en daarna gaan die mans verlig in die son staan en rook; hulle praat oor vee, oor reën en hulle lag gedemp, met die ontsettende vreugde wat 'n begrafnis bring as teen-vorm vir die droefheid; hulle lag, want die lewe behoort nog aan hulle. Hulle is bly want die dag is soos 'n fees om hulle; die krag van die aarde kom stadigaan na bo. Die lewe gaan sy groot, magtige herrysenis herhaal.
Die nuwe predikant, ds. Verster, het aangekom. Hy loop spesiaal na oom Sybrand toe, wat, swygend, by 'n aantal geselsende boere,
| |
| |
na die grond staan en kyk. Om sy hoed en aan sy baadjie voor is groot stukke lanfer gewerk. Die predikant groet hom, spreek sy medelyde uit oor oom Sybrand se verlies. Hy sê verder dat hy een van die dae sal kom kuier. Oom Sybrand antwoord niks. Hy knik net langsaam met sy kop. Die predikant loop verder om met ander familielede te praat.
Netnou word die mense bymekaar geroep. Die predikant hou die lyksrede. Hy praat mooi oor die ou moeder se voorbeeldige lewe, oor haar krag en geloof. Hy hou haar vir haar kinders tot 'n voorbeeld. Die gesang draal weemoedig in die vredige dag op. Oom Sybrand voel 'n aandoening na sy keel kruip. Kort-kort kom die opwelling van ontroering wat hom week laat voel sodat hy na die grond moet kyk om nie te verraai hoe daar onverwags 'n vogtigheid in sy oë gekom het nie. Hy en sy moeder het moeilik met mekaar gestryk. Hy was dikwels hard en onversetlik teenoor haar. Maar noudat die dood haar wil gebreek het, noudat sy daar magteloos en nietig lê, is dit of 'n deel van sy bestaan met haar aarde toe daal, of iewers iets geweldigs in hom afgebreek en neergehamer is wat hom met 'n weke, onsekere gevoel agterlaat net of hy pas van 'n groot siekte genees het. Hoe hy ookal teen die magtige aangryping stry, dit help nie. Daar is drade wat diep en fyn gespan is, wat plotseling verbreek word; onsigbare, vaste weef- | |
| |
sels skeur. Hy voel of hy plotseling baie ouer geword het. 'n Endjie van hom af staan Henning, met sy jong, sterk gesig bruin en blosend van son en wind. Sy hare glans in die lig. Hy groei uit na die lewe. Oom Sybrand kyk weer voor hom en skud saggies sy hoof. Soos uit 'n verre verlede, geskraag deur geslagte en geslagte van boere, kom die predikant se murmelende stem op die helder sonlig aan. Hy smeek om vergiffenis van sonde, hy vra om reine, geheiligde liggame, hy roep God aan as die ewige beskermer van komende en sterwende lewe.
Die swart stoet beweeg stadig na die kerkhof. Annie loop naas haar moeder en tant Maria en voor hulle is oom Sybrand en oom Gert. Annie sê sag vir tant Maria: ‘Is dit nie vreeslik dat hulle so'n fout kan maak om ouma se kop eerste by die deur uit te dra nou daar by die buitekamer nie! Dit hoort nie so nie. Ek voel al reeds so aardig dat ouma se lyk nie wou koud word nie. Dit het warm gebly. Dit beteken dat daar gou weer een sal gaan.’
Tant Maria knik net sag haar kop. Die mense vergader om die graf. Rou, luide woorde klink bokant die harde, rooi kluite. Onder die sinkplate word ouma Willa toegemaak. Die kluite reën hard, wreed, skokkend op die plate. Sy lê naas haar man, tussen geslagte wat lankal hier
| |
| |
ingedra is en rustig wag vir die bloed van hulle bloed. Stadig loop die mense huistoe. Hulle praat al luider en opgewekter. By die huis het tant Betta en tant Maria koek en koffie gereed. Dit eet en gesels. Die stemme dreun waar straks stilte en eerbiedige vrede was. Die lewe gaan voort. |
|