| |
| |
| |
Hoofstuk II
I
Die morester hang soos 'n wit, glansende vuur oor die bulte, donker afgeëts teen die sterrelig, toe oom Sybrand die morekoffie, stomend warm uit die ketel, slurp-slurp drink en rondtrap van haastigheid. Dit is vir hom of die dae te kort is, of hy veels te min doen in sy lewe, of die dae vinnig, onkeerbaar onder hom weggly sonder dat hy die behoorlike geleentheid kry om die kanse wat hulle bring, volledig uit te buit. Vanmore wil hy die ‘onderste’ lande gaan omploeë, want dit word te laat, die voorjaar is netnou hier en dan het hy niks in die grond nie. Hy loop met lang hale na die volk se stroois toe en skop hard teen die blikdeur. ‘Opstaan! Opstaan! Moet ek julle met die sambok kom uithaal?’ Dan gaan hy na die kraal, waar die beeste, wat in swart kolle bymekaar lê, lui opstaan toe hy naby kom. Hulle herkou lomerig en draai dan koulik weg van die morelug en wag geduldig, terwyl skurwe geluide van lekkende tonge gehoor word.
Van die huis se kant af kom iemand uit die moreskemering opgedoem. Hy loop tydsaam, want hy merk dat die kaffers nog nie die osse
| |
| |
aangekeer het nie. Hy wil nie met sy vader gesels nie, en daarom gaan hy na 'n ander kraal, waar die skape dig teen mekaar gedruk staan, 'n breë plaat wolwit wat spokig oplig in die moreskemering. Die slaap weeg nog swaar in sy lede en 'n vae misnoegdheid laat hom terugdink aan gister, aan die afgelope weke. Hy is baie min lus vir die werk, alhoewel hy die plaas so liefhet, want hy werk onder 'n dwang wat hy nie verdra nie; hy wil vrywillig arbei, uit 'n opregte liefde vir die plaas, vir die grond. Maar oor alles wat hy doen, val die lang skaduwee van sy vader, wat niks uit sy hande wil laat neem nie en met afgunstige oë kyk na elke ding waarop sy stempel nie duidelik afgedruk is nie. Henning leun vir 'n ruk oor die koue klipmuur en kyk na die ooste weg, na Langvlei se rigting toe waar Johanna nou moet slaap, onwetend van die sterk liefde wat hy vir haar dra. Die boskloof en vlei, rokig in die aanligtende dag, dra die teerheid van sy jong liefde. In hierdie more-uur is daar 'n soete mymering in hom wat stadigaan vloei oor die slaap-loomheid, 'n tere beskermingslus. Ver oor haar plaas heen kwyn die vurige morester weg, hoog en heerlik, en hy bly daarna kyk, dit boei hom soos die wonder van sy liefde wat in die geslotenheid van geheimhouding 'n glans van broosheid en onaantasbaarheid kry wat in hierdie belofteryke ure van die more duidelik omlyn in sy lewe opstaan.
| |
| |
Maar sy mymering word gou onderbreek deur die skor, bevelende stem van sy vader: ‘Kom aan! Kom aan! Moet ons wag tot die son wie-weet-waar sit?’
Hy staan nader en help om die osse byeen te druk, sodat die rieme om hulle horings kan val. Daar word min gepraat; net 'n hese skreeu kom nou en dan as die moedswillige osse, wat swaar blaas, nie gou maatsgewyse wil juk-toe nie. Oom Sybrand werk handig en vinnig met die stroppe; sy bevele is kort en duidelik, en die toon waarin hulle gegee word, is 'n waarskuwing dat geen uitgelatenheid of bogtery hier geduld sal word nie.
Twee spanne osse gaan, elkeen gevolg deur 'n drillende eenskaar-ploeg, teen die hang by die strooise af. Om die rustig stappende diere kom nou die morehelderheid, want die morester het hom heeltemal teruggetrek in die morehemel en sy vuur is nog net vaag-ver te sien hoog oor die roerlose populierpunte. Wyd oor die lande kom die lig van die dag en dit vloei yl en sag-wit deur die opgegaarde skaduwees en maan die plompe, deureengestroomde vorme van die dinge tot aandag, sodat hulle taakbewus na vore kom, afgelyn en duidelik, asof die dag alleen die vaste, die gevormde, die volgroeide liefhet en beskerm.
Uit die huis van ouma Willa trek die rook soos 'n blou pluim in die morelug op, 'n duidelike teken dat hierdie afgeleefde vrou, net soos haar
| |
| |
seun Sybrand, haar nie deur die son in die bed laat vang nie, dit inderdaad as 'n ewige skande beskou as soiets moet gebeur. Duidelik lê die oopgetrapte voetpad by die tuin verby na haar woning toe. Hier heers sy nog onverroerbaar en bestuur met vaste hand die boerdery, sit elke dag die emmertjies kos vir die bediendes netjies reg, elkeen net mooi genoeg, en luister in haar olienhoutstoel na klagtes, besware, verslae en moedig besluit sy alleen, koppig en eiewys soos 'n oumens dit alleen kan doen.
Oom Sybrand bekyk die eenvoudige woning, met sy breë stoep, soos dit daar opdoem uit die skaduwee van die randjie, hy vrywe driftig oor sy voorkop, want hy het besluit om vandag weer met sy ma te praat, nie weer te pleit nie, maar haar dreigend te dwing om Boskloof dadelik aan hom af te staan, sodat hy nou behoorlik 'n einde aan die saamboerdery kan maak. Vas op sy bene stryk hy agter die spanne osse aan en sien sy seun 'n end voor hom loop. Nou, so vroeg in die more, terwyl hy sy enigste seun daar sien loop, eensaam en nors, kom daar opeens 'n vreemde teerheid in sy keel op. Hy wil met hom gaan praat, sê dat hy spyt is oor sy onbeheerste driftigheid van nou die aand, hom vra om raad oor die saaiery, maats met hom wees. Maar dit is maar net die invloed van die morelug op hom, want tot enige openbaring van teerheid is hy nie in staat nie, en gou vergaan die impulsiewe
| |
| |
opwelling agter die kors van ongenaakbaarheid wat deur die jare soos 'n skurwe bas om sy binnegedagtes heen gegroei het.
So stryk hy aan tot waar die ploeë in die grond gesteek word en die rooi-swart grond in lang strepe agter hulle omkeer. Hy trek die vars grondruik diep in sy longe op en staan dan vir 'n oomblik aan die onderent van die land stil om te sien hoe die ploeë glad deur die grond sny en die blinkende, vet aarde agter hulle laat, terwyl die osse, met die kop effens laag in die juk, gelykmatig aanstap, die sterk pote vas op die grond, die velle los en skuiwerig onder die juk, onderwyl die skurwe monde gestadig kou en blinkende drade na die grond toe laat kwyl, vanwaar soms haastig 'n mondvol droë gras gepluk word.
Die moreson se gloed lig agter die hoë populiere deur, wat 'n dun goudrand om die takke kry, en oor die landskap kom 'n wydsheid en sonnigheid wat Henning vir 'n oomblik sy arms laat uitrek of hy die koue van die nag uit sy lede wil drywe, want die windlose more, met die populierpunte wat opreik na die blou ruimte, bring 'n warm weelde in sy bloed, 'n byna dierlike drang om die krag van die opgaande dag in sy jong lewe in te drink. Kragbewus gaan hy oor die land, die breë skouers en enigsins geboë hoof bo die bultlyn waaragter die son verrys met die oerkrag van alle lewe. Sy
| |
| |
vader sien hom so aanstryk, hy sien die sterk hande wat die ploeg se stert vashou en die pesige arm wat meeskud as die sooierige en klipperige grond nou en dan die skaar na bo wil dwing. Wat is dit dan? 'n Weke medelye kom in oom Sybrand op, 'n medelye met sy eie liggaam, met al die kragte wat eenmaal daarin was en straks sal afneem met geleidelike wreedheid, tot hy 'n hulpelose ou sukkelaar sal wees wat nog net bevele van die stoep af sal kan uitraas. En daar gaan sy seun, breed en sterk, die kragtige arm skuddend op die ploegstert asof hy die grond, die natuur dwing om te krimp, om te buig onder sy wil. Hy is die toekomstige baas van Boskloof, maar oom Sybrand kan nie daaraan met vreugde dink nie, net asof dit 'n groot, 'n goddelose iets is dat jou eie bloed bly voortgaan om te regeer oor die erfenis van die vadere asof in die ewige herlewing van menslike krag waar die afgeleefde wegsink, 'n skoonheid, 'n mag skuil wat die verlede vasskakel aan die toekoms, wat die aarde laat voortgaan van sterfte na lewe, van jaargety na jaargety in 'n magtige wenteling, in 'n ewige, nooit-vernietigbare herrysenis. Hy dink alleen maar aan sy eie liggaam, aan die kanse wat hy reeds verspeel het, aan die kort span jare wat daar vir hom voorlê. 'n Wrangheid kom daar in sy siel, 'n duister jaloesie, omdat hy sy goed, waarvoor hy so swaar gewerk
| |
| |
het, waarvoor hy dag en nag gesukkel het, aan so 'n jong, onkundige snuiter moet afgee, wat dit tog maar sal verkwis, omdat hy die waarde daarvan nie ken nie. Opeens is dit vir hom weer duidelik waar die knoop lê. Sy ma is koppig en gun hom nie die alleenheerskappy oor Boskloof nie. Sy is skraapsugtig en wil tot die laaste toe bly sit, terwyl hy self oud word en nie die geleentheid kry om die plaas te bewerk soos dit behoort nie. Hy moet haar net vanmore gaan pak, want lyflik voel hy die angs van die komende ouderdom, van die nadering van 'n groot grens, waar hy moet oor, al wil hy ook vassteek, al wil hy ook krampagtig die uurwerk van die vinnig draaiende dae laat staan. Sy oog gaan agterdogtig saam met die seun wat daar ploeë, met die gang van sy jeug en die krag van die jong liggaam. Maar opeens klink daar 'n hookhanou-geskreeu, die osse gaan staan en Henning begin aan die ploeg te werk. Oom Sybrand loop nader.
‘Wat is dit?’ vra hy baserig.
Die seun antwoord nie, maar wys net na die stomp, effens gebuigde skaar. Hy voel ontevrede, want hy het lankal aangehou dat sy pa 'n nuwe, tweeskaar-ploeg moet koop, maar sy vader se agterstevoor-spaarsaamheid dwing hom maar om met die ou goed voort te sukkel, terwyl die stuk land die helfte gouer geploeë kon gewees het en hulle dan deur dié tyds- | |
| |
besparing ander nuttige werk kon gedoen het. Oom Sybrand beveel dat die kaffers klippe moet bring. Daarmee hamer hy op die skaar af, probeer dit reguit dwing. Sy seun staan net krities na dié tydmorsery en kyk, en oom Sybrand is bewus van Henning se astrante houding en onderdrukte spotlag en dit laat hom nog meer volhard in sy koppigheid. Sonder dat iemand met hom praat, brom hy: ‘Dit is slegte ploeëry hierdie wat so maak. Mens moet die ploeg wikkel as jy by harde plekke kom. Dié ploeg kan nog jare hou. Die nuwe gedoente is vol bogtery. Al die boere wat van die nuwe ploeë gekry het, wil weer die ou soort hê.’ Hy bly praat asof hy homself wil oortuig en darem 'n les wil leer. ‘Toe! Kyk hoe dit nou gaan.’ Henning kan sien dat dit nie sal gaan nie, dat dit vrugtelose gesukkel is, maar stilswyend, met 'n minagtende gebaar, blaas hy deur sy neus en begin weer ploeë.
Oom Sybrand staan magteloos, gewond; daar is 'n rou kleinserigheid in hom, omdat hy bewus voel dat sy seun hom bo die hoof groei en hom dit wil laat voel. Wragtig! Met lang treë loop hy oor die geploegde land in die rigting van sy ou moeder se woning.
| |
| |
| |
II
Al haar werk vir die more is afgehandel, die meid vryf die vloer, die ketel praat sagpruttelend op die stoof in die kombuis, die kaffer vee die werf, haar brood is in die oond en elke ding staan op sy plek. Nou gaan tant Willa langs die tafel in die spens sit en drink stadig en met vaste aandag 'n koppie stomende koffie. Met haar bewerige vingers vat sy nou en dan, sodra dit in die oog spring, 'n krummeltjie weg wat op die tafel lê en slordigheid verraai. Haar hare is spierwit, olie-glad van die paadjie af weggestryk, en op haar kroontjie rus 'n wit mussie, wat gereeld dag-vir-dag daar vasgesteek word of dit 'n deel van haar ouderdom is. So sit sy met die wasemende koffie naby haar fyn deurvoorde lippe; die vel lyk soos goed gelooide leer met dun, kruisende lyntjies en barsies daarop en hier en daar 'n donkerige kol. Sy dra geen bril nie, hou haar oë net so af en toe in kou water waarin sy 'n halwe teelepel sout opgelos het, en dan gaan sy weer aan sonder om te kla, want alleen papbroeke en luiaards murmereer, maar nie sy en die geslag waaruit sy gekom het nie. Sterk staan haar wangbene naas die wilskragtige neus uit, wat maklik aan 'n man kon behoort het. En uit die afgeleefde maar stoere gesig staar twee blou oë, wat met oomblikke lyk of hulle blind is, staar by die
| |
| |
venster uit, oor die plaas weg, oor die lande waar geploeë word, weg na die verte, om te sien wat aangaan, sodat sy nie gekul word nie. Van elke ding wat Sybrand of Gert uit die grond haal, moet sy die helfte kry; dit kom haar toe, want sy het nog die lewensreg op die plaas. Aan dié woord ‘lewensreg’ hou sy vas met haar hele begrip, want dit is die waarborg dat die goed waarvoor sy en oorlede Sybrand so swaar gewerk het, nie deurgebring word nie. Sy gaan haar nie uittrek voor sy gaan slaap nie. Sy waak oor haar goed; sy eis op wat haar toekom, onverbiddelik. As 'n mandjie pere van die boom in die drie tuine wat op die plaas is, afgeskud word, dan moet die helfte na haar huis toe kom. Nie een peer te min nie. As daar getrap is, moet die helfte van die koring, tot op die laaste dopemmer toe, na haar pakkamer gery word, want sy moet ook lewe, sy hou die lewensreg, en die weesheer het duidelik laat weet dat die langslewende in die volle besit bly. 'n Paar van die dinge wat haar eiendom beheers, het vasgegroei in haar begripslewe, en mens kan net so wel probeer om 'n olienhoutwortel uit skurwe randjiesgrond te trek as om haar af te kry van wat sy nou eenmaal glo. Haar liefde vir haar kinders is 'n wakker, genadelose dophouery. So het sy groot geword. Wie sag en toegéwend teenoor sy kinders is, maak hulle onbruikbaar vir die lewe, maak hulle agtelosig, lui en nie oppassend
| |
| |
op wat hulle geërwe het nie. So het haar ouers haar geleer. Vir mense wat stukke bosse moes plat kap, eindelose kraalmure moes stawel, klippale plant wat vir myle oor die bulte gaan en by die berge uitklim, was daar nie tyd vir bog, vir soetsappigheid nie. As mens nie kon vasvat, hou vir hou raak slaan nie, dan moes jy maar gerus eenkant-toe staan, want dan deug jy nie meer nie, dan is jy net 'n oorlas vir 'n ander, en jy moet skaam-skaam jou bord kos ontvang, omdat jy dit nie verdien het nie. Teenoor die kaffers moet jy straf maar regverdig wees, want sodra hulle jou toegéwendheid sien, raak hulle oorlams en lui en dan word hulle vir die land net 'n vloek. Daarom is dit ook dat die ellendige kamsketel wat eers in die dorp gewerk het, vir haar eendag gevloek het net toe hy merk dat haar oorlede man dorptoe is. Die ander volk het hom 'n ruk daarna gaan lawe, want sy het sy harspan met 'n goedgemikte hou van haar kierie oopgeklowe. En nou nog is dit nie nodig vir haar om haar seun of skoonseun te roep dat hulle met die moedswillige werkvolk moet praat nie. Hulle vrees haar, want hulle weet dat sy min praat, maar as hulle nie hoor nie, dan kom die kwaai, geboë figuur net by die agterdeur uit, beduie 'n paar dinge met die kierie en die verkeerde gebeur nie weer nie.
Nou sit sy, soos sy dit elke more doen nadat haar werk afgehandel is, voor die raam om te
| |
| |
kyk wat daar buite aangaan, maar haar oë word nou so sleg vir vérkyk dat sy net die werf goed kan beskou, maar verder is dit 'n alte egalige vaalte waarin net haar geheue nog die ou bekende dinge op hulle plek kan plaas. Sy praat met niemand daaroor nie, maar binne in haar maag is soms 'n vretende pyn wat weggaan en na 'n paar dae weer terugkom. Sy gaan die boererate deur wat sy ken, maar die beste medisyne help net vir 'n tydjie, dan voel sy die kwaal maar weer terugkom. Met haar kinders sal sy nie daaroor praat nie, want sy weet dat hulle haar na die dorptoe wil laat trek, en eer sy dit doen, steek sy hulle liewers in die pad, want sy het die lewensreg; hulle is mooi ape om vir haar van haar grond weg te werk, sodat hulle kan deurbring wat stadig en met swaar werk opgebou is. By die hoek van die huis sien sy vir Gert om kom, en sy weet dadelik dat hy vir die een of ander gewigtige rede by haar kom kla, anders sien sy hom selde so vroeg in die more by haar huis.
‘More ma,’ sê hy, gaan sit en lê sy hoed plat langs hom neer.
‘More Gert,’ antwoord sy en kyk na hom op asof sy verwag dat hy dadelik met iets moet begin. Hy is 'n man met hangskouers, 'n bles waaroor die bietjie swart hare yl gestryk is. Sy bors buig hol in, terwyl 'n ronde magie sy broek glad laat span sodat hy die boonste knoop
| |
| |
altyd los dra. ‘Hoe gaan dit tuis?’ vra die ou vrou en vee meganies met haar hand oor die tafelblad.
‘Nee, hoe sal ek sê, ma? Dit gaan seker maar aan, veral as jou swaer jou met geweld van die plaas af wil druk.’ Hy sit sy elmboog op die tafel en kyk boos by die venster uit.
‘Ma moes lankal ons grond laat afdraad het; nou is dit net die spul miershoop-bakens en Sybrand se goed loop gereeld in my veld. Hy steur hom nie daaraan as ek praat nie. Wie het vir hom die reg gegee om die rooi lande hier oorkant te gaan omploeë? Ma het dit aan my afgestaan. Ek het dit weliswaar nog nie gebruik nie, maar dit is myne. Nou stuur hy goedsmoeds twee spanne osse soontoe, en maak net soos hy wil. Sybrand is 'n korrelkop en ma moet hom nou darem in toom hou, anders weet ek nie waar dinge moet eindig nie.’
Die ou vrou sit 'n oomblik stil nadat sy dié woorde aangehoor het. Sy vou haar arms oor haar bors en 'n trek van trotse verbittering kom om haar mond. Dan praat sy met 'n krakerige, enigsins hoë stem, maar haar woorde is nadruklik, dit laat geen twyfel oor haar bedoeling nie.
‘Kyk, Gert, ek hou nie daarvan dat jy my so dreig oor jou grond nie. Waar kom jy aan grond? Die plaas is nog myne, en dit sal myne bly tot ek hierdie ou kop die dag neerlê. Ek word moeg om die hele dag te hoor dat ek die grond nou
| |
| |
moet deel. Waarom moet ek? Ek het vir jou 'n stuk gegee, Sybrand het syne en ek het myne. As Sybrand hom nie by sy bakens hou nie, dan moet jy hom byloop. Jy is mos 'n man. Al wat ek die hele dag net moet aanhoor, is 'n klomp klagtes. In my jong dae het ons te veel gewerk om klagtes te hê. Dit was krom staan van die more tot die aand, en as jy verbrou, moet jy verbykom.’
Oom Gert is moeg vir die moralisasie wat hy gedurig moet aanhoor as hy hier kom. Sy skoonmoeder is net so 'n ou hardekop soos Sybrand. Die dag wanneer hy sy grond kry, verkoop hy dit dadelik en trek so ver weg dat hulle hom nooit weer sien nie. Hy is 'n man wat min deursettingsvermoë het en gevolglik gly die dae maklik langs hom heen sonder dat hy iets doen aan die opbou van sy stuk grond. Verband na verband moet hy opstawel om aan die gang te bly, maar die grens van kan-nie-meer is nou gaandeweg bereik en dit put sy senuwees uit, dit maak hom prikkelbaar. Soos hy daar sit met sy dun, swart klerksbaadjie, wat hy gereeld bo-oor 'n dik onderbaadjie dra, is hy vol griewe en vyandig teenoor sy vrou se familie, want sy swaar kom soos 'n stofstorm op hom af; stadig versit die rolle sand tot jy naderhand toe is. Geleidelik word jy uitgedruk net of jou plaas se draad al nouer om jou huis toegespan word. En die man wat maar die minste is, beland in 'n
| |
| |
dorpshuisie. ‘Maar ma sê niks van my lande nie! Sybrand kan nie maar maak wat hy wil nie. Ek sal my nie verwonder as hy op 'n goeie more 'n deel van my woonhuis eis nie! Ek is tam, ek is vies vir die hele spul,’ sê hy verbitterd en kyk weg van sy skoonmoeder af asof hy haar liewers nie wil sien nie, omdat hy haar vereenselwig met die onreg wat hier gepleeg word.
‘Maar, Gert, wat is dit met jou? Ek het die plaas verdeel en vir elkeen sy stuk grond gegee. Nou kom pla jy my. Is jy nie mans genoeg om met Sybrand te praat nie?’
Oom Gert word bleek toe hy na die agterdeur kyk, want daar oor die werf, met vaste treë, die arms in nukkerige swaaibeweging, kom oom Sybrand aan. Hy dink eers vinnig of dit nie moontlik is om nog weg te kom by die voordeur uit nie. Maar dit is onmoontlik, en al wat hy kan sê is: ‘Praat van die duiwel...’ Toe gaan die onderdeur van die kombuis oop en met 'n voorkop waarop fyn druppeltjies sweet staan, loer oom Sybrand vinnig by die spens in, dan kom hy met mik-stappe binne, die hoed agter op sy kop, en groet so in die sit vir sy ma en skaars-hoorbaar vir sy swaer. Daar kom eers 'n stroewe stilte. Die ou moeder staan op met 'n pyntrek op haar gesig, want haar bene kan dit in die laaste tyd nie meer hou nie. Uit 'n blou koffiekan, wat net sy tuit onder 'n warm
| |
| |
jas uit wys, skink sy twee koppies koffie in, die melk val duidelik hoorbaar daarin en toe bied sy dit, met 'n sag-bewende, knobbelige hand aan.
‘En hoe gaan dit met Betta?’ vra sy, byna meganies, omdat sy tog met iets moet begin.
‘Nee goed, ma,’ antwoord oom Sybrand; hy slurp die koffie met lang hale in, stoot die koppie rinkelend op die tafel en sit dan weer met gefronsde wenkbroue voor hom en kyk, of hy iets afwag, of hy dit uittart om te kom. Oom Gert drink met 'n hand, wat net 'n fyn skudbeweging verraai, sy koppie leeg. Hy doen dit met opsetlike waardigheid, want hy voel vanmore meer as ooit afkerig van dié ongeaarde slurpbewegings van die barbaar hier voor hom. Die spanning bereik 'n oorgangspunt. Woorde sal dit verslap, sal dit laat vervloei in redeneerdery. Oom Gert, wat van nature liewers 'n ander pad loop as hy sy swaer Sybrand sien aankom, voel nou dat hy deur omstandighede, deur die wip waarin hy geloop het, moet praat, en toe hy begin, bewe hy so dat hy moeite het om sy voete stil te hou op die vloer. Dit is of 'n ligte koukoors sy woorde aandryf.
‘Sybrand, ek het netnou vir ma gesê dat daar moeilikheid gaan kom. Ek sê jou, dinge loop verkeerd. Ek word hotnot hier, en jou eie suster is baie geaffronteer deur al die gedoentes wat gedurig mens se siel uit trek. Mens het
| |
| |
geen rus vir jou siel nie; daar is altyd 'n getorring.’
Ná al dié vaaghede voel hy oom Sybrand se oë rustig en skerp op hom gevestig, en die gehate kêrel se self-versekerdheid, sy houding asof hy in konkreet vasgemessel is, maak hom vaag deur-mekaar sodat sy gedagtes soos 'n klompie springbokke op die vlug slaan as hulle plotseling iemand geruik het wat hulle voorlê.
‘Ja, hoe sal ek sê? Mens wil graag...’ Hy kan die regte woord nie kry nie, bloos geweldig, en toe hy bewus word van die feit dat hy bloos, kom 'n verontwaardiging deur dit alles dring en hy blaf byna soos hy praat. ‘Nou steek ek vier kloue in die grond vas. Ek is nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie.’ Hy bly stil, veeg met 'n onsekere hand oor sy voorkop en binne in hom is sy hele hartslag in beroering. Tant Willa het ook sy magtige poging aanskou, en noudat hy, onklaar-getrap, swyg, sê sy vas en beslis: ‘Sybrand, waar kom jy aan die reg om die land te gaan omploeë wat ek aan Maria gegee het?’ Sy praat opsetlik van ‘Maria’ en nie van ‘Gert’ nie, want sy wil hom duidelik laat voel dat dit haar dogter se goed is en dat hy maar net 'n flou nul op 'n kontrak is. Oom Sybrand antwoord nie dadelik nie. Die harde, kortgeskeerde hare op die kop wat effens plat is bo, die dig geknypte oë naas die breë neus
| |
| |
vertoon die koppige boer vanmore baie goed in sy verkeerde luim.
‘Ek het daardie land maar gebruik,’ sê hy met dié aggressiewe klank in sy stem wat oom Gert so haat, ‘omdat dit nou al vir drie jaar so onbewerk lê. Ek kan dit nie meer aansien nie. Dis vir my te naar dat sulke pragtige saailande daar lê om deur die vee vertrap te word. Jy het dit nie gebruik nie, Gert, en daarom het ek dit nou maar gevat. Om die waarheid te sê: ek is ook moeg vir die ewige saamboerdery. Mens sou sê ons is almal 'n klomp bywoners. Ek wou juis met ma kom praat. Dit is ook maar goed dat Gert hier by is. Hy moet hoor wat ek vir ma te sê het.’ Vir 'n rukkie kyk hy nadenkend deur die venster, terwyl sy moeder hom aanskou met rustige afwagting. Haar arms is gevou en om haar mond lê die skerp lyne van een wat nog gladnie sy wil om te lewe verloor het nie.
‘Ek het in die laaste tyd die ding goed oordink. Pa was nooit van plan dat sy kinders grysaards moes word voordat hulle hulle grond kry nie. Ma het sommer later met die verspotte, kastige boerdery begin. Om die waarheid te sê: ma boer gladnie, maar die kaffers boer, en hulle maak net soos hulle wil. Nou moet dit seker maar so aanhou tot ek die dag honderd is en nie meer 'n poot kan verroer nie. Hier lê die groot pragtige plaas. Die grond word nie duim vir
| |
| |
duim gebruik soos dit hoort nie. Daardie groot lande wat daar nutteloos lê, het ek laat omploeë. Ek sê nou sommer reguit: bedém! Ek wil hierdie plaas op sy vier pote laat staan; ek is nie verniet Sybrand van Vuuren se seun nie. Maar daar sit ma. Koppigheid is nie eers die woord nie. Ma het net een woord en dit is: lewensreg. Vertel nou vir my reguit wat ma aan die boerdery het? Ek kan net so goed vir ma sorg as ma wil hê. Ma kan op die dorp gaan bly. Dit sal tog 'n plesier daar wees. Hier sit ma dor-sielalleen. Maar dit is net om my te terg, om dinge vir my swaar te maak. Maar ek sê nou: bedém!’
Die ou vrou se verontwaardiging het aangegroei terwyl oom Sybrand gepraat het, en nou kan sy dit nie meer hou nie. Haar vinger skiet dreigend van haar bors af weg en soos 'n pistool word dit na oom Sybrand gehou. ‘Jy, Sybrand, sal eendag nog swaar by God verby kom! Waar op aarde het jy al ooit so 'n astrantheid teen sy eie moeder gesien! Mens sou sê hy praat met 'n meid wat hy van sy grond af wil weg ja. Jy kan kwiek of kwak soos jy wil, ou seun, maar ou Willa sit waar sy sit. Jy moet weet ek het die lewensreg, en ek kan jou more laat trap as ek wil. Waarom mag ek nie hier boer nie? Jy is net nagaande op 'n ander, jy wil altyd die stoel alleen volsit. Ek sê dit vir jou, Sybrand, as jou vader gelewe het, sou jy nie so met my gepraat het nie. Hy sou vir jou, so groot as
| |
| |
wat jy daar is, gelooi het dat jy nie kan sit nie. Maar omdat ek 'n weduwee is, dink jy dat jy met my kan maak wat jy wil. Ek is baie dae lus en trou weer, net om iemand te kry om jou 'n bietjie skrik te maak. Nee wag, ek vererg my te veel. Sybrand, loop liewers, eer ek die beroerte kry! Ek sê jou soos ek jou honderdmaal vroeër al gesê het: my lewensreg staan ek nie af nie. Nooit! Ou Willa is nog die baas van Boskloof, en sy sal dit nog vir baie jare bly!’ 'n Dor vuis stamp op haar bors om haar baasskap van haar plaas te beduie. Uitdagend is sy nou; nie langer sal sy haar eie kind oor haar laat baas speel nie. Sy wag hom af soos 'n vegter wat nydig rondtrap en net goed regstaan vir 'n aanval voordat sy sal terug moker dat haar seun dit nie gou moet vergeet nie.
Oom Sybrand is wit om sy lippe; sy mond is ferm geslote tot 'n dun strepie. Hy het nou genoeg troei gestaan; vanmore moet sy ma weet dat dié saamboerdery 'n end moet kry, dat haar koppigheid nie lank meer geduld sal word nie.
‘Al wat ek hoor van ma, is dat ek weggeja kan word,’ sê hy en sy harde oë is vas op sy moeder gerig; ‘mens sou sê ek het geen reg hier nie. Ma dreig net met wegja. As ma dan nie na vriendelike raad wil luister nie, dan moet ma eenvoudig gedwing word om te hoor-r-r.’ Skerp dril die r-klank nog na as afsluiting van sy dreigende woorde. ‘Ek is moeg vir dié agterste- | |
| |
voor ou spul,’ sê hy en staan op, die swaar, bruin vuiste op sy bors gedruk. ‘As 'n mens nie na verstandige raad wil luister nie, dan moet jy dit by sy harspan in moker.’
Sonder om te groet, loop hy weg, gaan deur die kombuis en slaan die onderdeur met 'n knalskoot toe. Ouma Willa sit 'n rukkie doodstil, haar lippe na binne gebol, haar oë met 'n glasige staring daarin. Sy vou die tjalie vaster om haar skouers asof 'n groot koue aan die kom is. Oom Gert wag, verlig dat die onweer van hom af in 'n ander rigting getrek het. Hy kyk agterdogtig en slu na sy skoonmoeder, vat sy hoed en staan op. Watter mooi christelike maniere!
‘Daar het ma dit,’ sê hy verwytend; ‘Sybrand maak hier net wat hy wil. Ma kan hom nie meer keer nie, en al wat mens nog kan doen, is om na die wet se kant toe te staan. Dan word dit 'n vreeslike prosedeerspul, en ons sal die spot wees van die hele distrik.’
Maar ouma Willa antwoord niks; hy kon net sowel met die muur gepraat het. Weer voel hy duidelik dat hy die minste in hierdie familie moet wees, dat hulle hom gedurig, selfs in tye van vriendelike verhouding, beskou as die man wat breed op sy vrou se stuk grond kom sit het, die arm jongkêrel wat maar 'n tweehonderd skaap die more deur die plaashek kon ja toe hy vir goed tussen dié boksendais kom woon het. Hy groet en sy skoonmoeder knik net met haar
| |
| |
kop. Dan verdwyn sy afgeslyte klerksbaadjie, wat twee hangskouers bedek, by die agterdeur uit.
Vir 'n ruk sit die ou vrou so stil met haar bloubeaarde hande oor haar bors gekruis. Haar gesig verraai niks van wat sy dink nie. Oud en verrimpeld staan dit bokant haar swart klere. Opeens kyk sy na 'n ou wekker wat op 'n rakkie bokant die koffiekan met swaar stappe die dag aftree. ‘So'n ... my brood is nou 'n kwartier te laat in die oond! Seker skoon verbrand!’ Sy roep met skelle oumensstem na die meid en die werfjong en saam gaan hulle, vol opgewonde gebare, na die oond naas die huis. Die toegepleisterde plaat word afgehaal en die broodgraaf gly skerp skurend oor die oondvloer, onder die panne in. Netnou hang 'n kragtige broodgeur om die huis en die bedrywige hande van ouma Willa smeer die swart korste met vet en daarna word die geurige voedsel handig weggepak in die broodblik.
| |
III
Dit is die ootmoedigste uur van die dag, die uur wanneer die skape, met 'n stofwolk om hulle, by die kraalhek instroom, die lammers se musiek in die aandlug hang en 'n goue stofdamp, waaragter die figure van mense opskemer, om die vee draal en laer afsak na die vleie toe.
| |
| |
Swart lê die omgeploegde land agter hom. Dag-in en dag-uit het hy agter die ploeg geloop, maar saans as die son ver agter die wit grassaadtoppe weg vloei, dan word die jukke van die breë skowwe gelig, lome stemme, moeg van die hele dag se werk, klink wyd en innig in die skemeringvertes en Henning loop dan, met 'n vredige gevoel in sy gedagtes, na die stal, waar die vosbles nou, half-getem maar nog vurig-wild, met groot, onrustige oë vir hom aankyk as hy die staldeur oopgooi en binnekom. Bang en op sy hoede trap die atletiese dier, wat nou Vos heet, rond as hy met sy hand sag en temmend oor die gladde, trotse nek wil stryk. Vos tel sy kop dan hoog op en, met die neusgate wyd oop en trillend, runnik hy dat die hele stal dreun. Henning neem hom dan uit, saal hom op, terwyl die ratse dier weier om die saal op hom te hê, en dit duur soms lank voordat Henning met 'n behendige beweging in sy rug wip. Dan klim Vos hoog met sy voorpote teen die aandlig in, die klippe gons onder sy hoewe uit en vol ingehoue krag galop hy weg terwyl die ore fyn en wakker bokant sy rasegte kop roer. Dit gee vir Henning altyd 'n diep voldoening om elke aand met die fyngespanne dier teen die bult uit te ry, om die fris aandlug om hom te voel stroom en te weet dat hy, wat hom nie laat kleinkry nie, die wilde dier getem het, dat hy en Vos, albei so vol lewenskrag, mekaar steeds beter verstaan,
| |
| |
dat daar vryheid hier op die ope vlakte is, weg van sy pa se toenemende dwingelandy. Die hoefslae van die perd val dan soos opgewekte marsmusiek op sy ore. Dit dra hom op 'n forse, manlike ritme na 'n beter, vryer toekoms. Dit bring rigting en bevryding in sy lewe wat steeds maar in sy groei deur sy vader na binne gebuig word.
Vanaand loop hy na die stal met 'n ander plan. Die koue slaan rondom hom uit die lande op en die kaal populiere lyk verstote in hulle blaarlose eensaamheid daarbuite, weg van die gesellige kerslig en vuur. Met 'n huiwering buig hy by die stal in. Hy steek die stukkie kers op wat teen die roustene vasgeplak is en lang, vuil wasstrepe daarlangs laat afloop het. Naas sy pa se twee karperde staan Vos die hawer en gryp met sterk, geoefende lippe, en daar is 'n gesellige atmosfeer van ritselende voer, warm stallug en getrappel van pote om Henning. Hy streel die perd langs die glimmende nek, en nog half skrikkerig, maar gretig om sy voer te eet, laat die dier, asof hulle al beter vriende word, hom maar begaan. Hy vergeet stadigaan die baldadige oorwinning die dag daar op die kweekgras. Hy begin hom aanpas. Daar kom vertroue en verstandhouding tussen hom en sy baas. Henning vrywe die dier vertroetelend oor die neusbeen, stoot sy gekartelde maanhare mooi reg en fluister: ‘Vanaand het ons twee 'n plan,
| |
| |
Vos. Vanaand moet ons twee saam die wapad skep.’ Die dier roer net sy spits ore, raap die hawer op en ruk met sy kop aan die halterriem van louter tevredenheid. Henning blaas die kers dood en loop na die huis oor 'n kaal werf, waar 'n skroef en groot stampblok nog in die diep skemering te sien is.
In die spens, waar die familie hulle maaltye gebruik behalwe wanneer daar gaste is, heers weer dieselfde neerdrukkende atmosfeer wat vir Henning altyd vul met 'n drang om weg te kom na die vrolike byeenkomste van jong mense, waar daar luidrugtig en uitbundig gepraat word sonder die vyandige stilte wat van 'n allesoorheersende figuur kom. Op die riempiesmatstoel sit hy stil, met sy blik voor hom gerig.
‘Wanneer sal jy die lande klaar geploeg hê?’ vra die vader sonder om na die seun te kyk.
‘Moreaand, pa.’ Dan 'n lang ruk stilte.
‘Oormore moet julle dan begin om diefonteinvoor skoon te maak.’
‘Ja, pa.’
Maar Henning frons sy wenkbroue geweldig. Hy gaan dié moedswilligheid nie lank meer duld nie. Sy pa weet goed dat dit onmoontlik is om nou, gedurende hierdie nat koue van die jaar in die slykerige water en pappery te gaan staan. Die somer is die beste tyd daarvoor. Maar die kwel-lus van sy pa, dié afdwing van werk op jou net omdat hy weet dat dit vir jou onaangenaam
| |
| |
sal wees, laat iets in hom saamkrimp soos 'n tier wat wil spring. Stil sit hy, maar sy hande vat vas aan die stoel hier onder hom.
In stilte verloop die karige maaltyd, die stoele word opsy geskuiwe, Henning help vir sy ma die borde en koppies na die kombuis dra, en toe hulle twee daar alleen is, sê hy sag, sodat sy vader dit onmoontlik kan hoor: ‘Ma, ek gaan vanaand 'n bietjie uit. Ek sê maar vir ma.’ Vir sy pa wil hy niks daarvan sê nie, want daar is 'n verset in hom om enige guns meer van hom te vra; hy weet dat sy pa, sodra hy van sy plan hoor, dit dadelik vir hom onmoontlik sal maak om te gaan. Sy ma sê niks; sy is bevrees om haar instemming te gee, want haar man voer die bevel, hy het gaandeweg alle seggenskap uit haar hande geneem. Og ja! Die seun voel opeens 'n tere geneentheid vir sy stil arbeidsame moeder, met haar sagte oë, maar hy het nooit geleer om sy gevoel teenoor 'n ander uit te spreek nie. Hy is magteloos om dit te doen, en dit bou sy lewe vas in 'n hardheid wat op hom afgedwing is vandat hy sy verstand gekry het. 'n Rukkie staan hy so naas haar, daar is 'n bevryding van ingewikkelde gevoelens in hom, maar dan weet hy nie wat om te doen nie. Met 'n mompelwoordjie neem hy afskeid en gaan na sy stoepkamer. Hy het 'n onrustige voorgevoel dat sy vader hom vanaand iets sal gee om te doen en dan is dit uit met sy plan. Hy steek
| |
| |
die kers op en haastig begin hy aantrek, skuif vinnig sy das reg en met die beteuterde ou spieëltjie se hulp bewerk hy sy hare, sukkel om hulle plat te kry, want weerbarstig buig hulle regop onder die kam, ongewoon aan so 'n strawwe onderkry-poging. Hy sluit die deur saggies dat niemand dit moet hoor nie. Die spensvenster is nog lig en hy weet dat sy vader nou daar sit met 'n ou, afgeslyte boekie uit die jaar nul waarin hy met 'n sukkelskrif getalle opteken: droëskaap, lammerskaap, datums wanneer die volk laas meel gekry het, honderde klein dingetjies meer wat daar met 'n kort potloodjie afgestreep word, angsvallig en vrekkig, of die wêreld se geluk daarvan afhang.
In die pakkamer vat hy sy saal en loop na die stal toe. Toe hy vir Vos by die uitgang deur trek, is die ratse dier se kop hoog opgelig, hy snuif die fris winterlug in en stamp fors op die grond en proes luid. Met 'n haastige swaai is Henning in sy rug. Nou kan sy pa maar die voetgetrappel hoor! Nou is hy op pad. Hy kan nie meer terug geroep word nie. Vos klim van louter baldadigheid effens in die lug, die klippe spat onder sy voete weg en dit gee sy baas 'n rustige trots om die aristokratiese lenigheid van die dier onder hom te voel. Hy speel met die stang, die mooi nek gekrom, terwyl die voorpote hoog onder die bors bly speel; die sware dreuning van sy hoewe
| |
| |
laat hy agter hom as 'n uitdaging aan die verskrikte nag.
Henning vergeet die moeilikheid wat hy met sy vader het, maar nou kom 'n swaar onrus, 'n senuweeagtige spanning in hom op oor sy avontuur van vanaand. Met Johanna het hy nog maar 'n paar keer gepraat, en nou wil hy vanaand nader kennis gaan maak, maar sy hart klop onrustig, want hy gesels swak, en hy weet dat haar vader, oom Jaap, niks van sy pa hou nie. Wat sal dié vyandige ou oom te sê hê? Vos wieg rustig onder hom weg, en die wit pad skemer die donkerte in. Dit is 'n geheimsinnige lokking om so daarin weg te ry, weg in die nag, met net die ritmiese hoefslag onder jou en rondom die slapende velde, wat wyd weg vloei tot by die swart rant-silhoëtte. Hier draai die pad uit na oom Jaap se huis toe. Henning hou 'n oomblik stil toe hy by die hek deur is. Vos se sye dein kragtig en hy proes uittartend.
Sal hy gaan? In die verte sien hy die lig van oom Jaap se huis. Geel straal dit by 'n venster uit, 'n eensame ligkol op die grootse nagvrede van die velde. Die perd speel-speel die endjie pad af. En nou is hy by die werf, onseker, weifelend, of hy 'n dwase ding aangerig het. Wakker vlieg hy uit die saal en bind die toom aan die hekpaal vas. Hy voel koud van die ry, en noudat die aksie geëindig het, kom daar 'n
| |
| |
kleinlike vrees in hom op dat hy dalk uitgelag sal word waar hy met sy karige woorde probeer om 'n flou gesprekkie aan mekaar te sukkel. Sy voorvinger hamer aan die deur. Hy wag. Daar kom niemand nie. Weer klop hy. Nou enigsins driftig. Hy hoor voetstappe, die slot kners en die deur gaan oop.
‘Naand...’ Hy haal sy hoed lomp af, groet vir Johanna met 'n koue, slap hand. Net vir 'n oomblik neem hy haar verskyning op. Die smal gesig onder die neergekuifde hare en die stil oogopslag is vir hom 'n uitnodiging.
‘Kom binne,’ sê sy en hy volg sonder dat hy 'n gepaste woord het. 'n Eenvoudige hanglamp straal lig uit oor die riempie-stoele en bank. Dit is wonderbaar vreemd vir Henning om hier te sit, in dié ligkring, met Johanna hier voor hom. Hulle geselskap struikel stroef oor gemeenplase heen. Hy sê dat hulle nie te ver van Boskloof woon nie en dat dit nou taamlik koud is, en sy antwoord, terwyl sy sku-verward na haar hande voor haar kyk, dat dit een van die dae seker weer warm sal wees en dat dit vir almal voel of Langvlei warmer is as ander plase. Hy het sy arms vas gevou oor sy bors en sit pen-regop op die stoel, en terwyl hy so sukkel om sy gedagtes soos 'n klomp uiteengedwaalde skape saam te kry, dring dit tot hom deur hoe werklik aantreklik sy is met haar ligte hare so bevallig skuins oor haar voorkop gekam, haar
| |
| |
skugter oë en haar lag, wat byna gedurig om haar mondhoeke bly. Hy wil veel indruk op haar maak, hy wil gesels oor alles wat hy op die plaas doen dat sy kan verstaan watter wakker boer hy is, maar die bedrukte atmosfeer by sy huis, die stroewe swygsaamheid wat daar dag-uit en dag-in heers, het hom ook aangetas, sy innerlike bestaan vasgegryp, en noudat hy na die buitewêreld uit sy dop moet tree, is hy onmagtig om dit te doen, en sy onmag vul hom met 'n opstandige minderwaardigheidsgevoel. Sy verhouding tot haar wil nie helder en vas word nie; dit is onsuiwer en troebel in sy gees, en terwyl hy sukkel-gesels, vervul dit hom met 'n harde bitterheid of 'n groot deel van sy lewe, buite sy wil om, reeds roekeloos verrinneweer is. Vir iemand wat selde of ooit met 'n meisie praat, is hierdie ontmoeting, hierdie groot avontuur 'n heftige skok, want sy drome vind geen aansluiting by die werklikheid nie. Teen sy bitterheid in kom 'n gevoel van sagtheid, van die oopgaan van 'n geslote lewe. Langsaam groei dit sterker aan terwyl hy haar aanskou en haar aanwesigheid sy gevoel voed, en dit triomfeer oor sy ongemaklike houding en die woorde begin natuurliker vloei, asof daar toenadering, ooreenstemming in hulle lewens kom, of hulle gedagtes en gevoelens op 'n gemeenskaplike punt kruis. Die spanning verslap en hulle oë kyk vertrouliker in mekaar vas, en daardie
| |
| |
glans van stil uitnodiging wat hy in hare gewaar, tref hom soos 'n dowwe slag van binne en vir 'n oomblik sou hy haar woes en onbedwonge kon storm loop en met vreeslike krag in sy arms vasdruk. ‘Ek het jou die anderdag op die dorp gesien,’ sê hy banaalweg, omdat sy drang wyd oor alle woorde spoel, ‘jy weet by die vrugtewinkel, net naas die poskantoor.’
‘O!’ antwoord sy skugter-bly, ‘ek het jou ook sien loop in die straat. Jy het later nog voor die poskantoor stil gehou.’ Die geselskap wil nou net vlot, maar agter die deur wat die spens van die voorhuis skei, is knorrige, naderende stemme te hoor. Die deur spring oop en oom Jaap kom styf-styf binne, en daarna sy vrou, tant Mieta. Met sy een been loop die oom, oor wie se bors 'n lang, rooi baard roer, effens mank, want die jig woel hom, en boererate is vandag ook nie meer boererate nie. Dit lyk of hy nie lus het om vir Henning te groet nie, want hy steek sommer sy hand so dwarsweg uit, veeg net oor Henning se handpalm heen en antwoord nie op die gas se beskeie vraag na sy welstand nie. Met die jigbeen reguit voor hom uitgestrek gaan hy half agteroor op die rusbank sit, met sy uitstaande maag vorstelik onder sy bors uit. Nie 'n woord sê hy nie, en tant Mieta volg sy voorbeeld, want netjies en styf sit sy op haar stoel, die mond afwysend geslote, die oë versigtig van Henning af weggedraai. Hy voel die kilheid
| |
| |
wat met die ouerpaar se verskyning gekom het en kyk vlugtig na Johanna, wat hewig bloos en toe op haar lip byt en voor haar staar. Hy voel hoe die bloed warm onder sy haarwortels instoot, want dit is duidelik dat hy hier nie welkom is nie, dat 'n goed berekende vyandigheid hom vir goed van hierdie huis moet wegskrik. In sy radelose verleentheid probeer hy, nou onhandiger as ooit, om 'n gesprek te begin.
‘Hoe gaan dit met oom se lammerskaap?’ Sy woorde tril effens in die gelade atmosfeer. Op sy gesig is 'n uitdrukking van radelose skaamte wat soms na 'n lag- en dan weer na 'n huiltrek lyk.
‘Goed.’
Oom Jaap stop rustig sy pyp, met 'n gebaar wat wil verduidelik dat hy die baas in sy huis is en dat hy kan wegstoot wie hy wil. ‘Is dit nie vir tante of dit baie kouer word nie?’ waag hy dit weer en veg dapper teen sy moed wat laer en laer sak.
‘Nee.’ Skerp en afwysend is die woord, die tante se gesig effens verwring tot 'n aapagtige kwaaiheid. Die dogter kan dit nie langer hou nie. ‘Wat het van jou ryperd geword?’ vra sy baie vriendelik.
‘Ek het hom aan die hekpaal vasgemaak,’ antwoord hy. Daar kom 'n storm in hom op. Sy verwardheid sak weg. Hierdie belediging is mooi uitgedink. Die ou blikskottel met sy
| |
| |
rooi baard moenie dink hy het met lae vuilgoed te doen nie. Wat ken hy daarvoor dat sy pa en oom Jaap mekaar net na die keel wil vlieg? Die koppigheid wat daar werk in oom Sybrand, breek stadig in sy seun deur. Sy voorkop is swaar gefrons; sy mond is soos 'n vlym. Hy staan dreigend en beslis op. Sy woede gee hom krag vir 'n doodhou; dit storm blind in sy woorde op.
‘Ek sien ek is nie welkom in hierdie huis nie,’ sê hy, en swaar werk sy asem. ‘Nou, dan is dit ook maar reg. Naand oom, naand tante.’
Sy oë blits vir 'n oomblik na Johanna toe. Hy verdink haar ook. Die hele ou spul kan trap. Sonder om 'n woord verder te sê, loop hy, slaan die deur nydig agter hom toe en oor 'n rukkie kletter Vos oor die nagvelde weg, vinniger en vinniger, tot hy hardloop dat hy platlê onder die fluitende houe wat hy opeens nie van sy simpatieke baas verstaan nie.
In die voorhuisie, waarin die lamplig so sag straal, het die opgedamde woordestroom nou losgebars. Oom Jaap en sy vrou het hulle liewe, sagte dogter nog nooit in so 'n bui gesien nie. Sy is rooi van verontwaardiging en haar woorde struikel oor mekaar, kwaai, uitdagend.
‘Vanaand skaam ek my rêrig vir my eie ouers. So 'n ongeaardheid het ek in my lewe nog nie gesien nie. Mens sou sê die man is 'n hond so word hy behandel. Het ma en pa geen
| |
| |
fyngevoeligheid nie? Sies, ek skaam my oë uit my kop.’
Maar sy kan nie verder praat nie, want oom Jaap het onverwags rats met sy jigbeen en al opgevlie, loop haar storm en skud haar ru aan haar arm: ‘Met wie praat jy, Johanna? Is jou ouers skuim dat jy so met hulle moet praat? Weet hulle nie die beste nie? Ek slag vir jou liewers lewendig af voor jy omgang het met ou beesgesig-Sybrand se seun. Hy is die duiwel in persoon. Nie 'n mens kom meer by hom nie. Hy gaan nooit meer aan 'n nagmaalstafel nie en sit nie sy pote in die kerk nie. Dan wil jy nog jou ouers vir dié robbies van Boskloof beledig? Johanna, as jy nie so oud was nie, dan het ek jou vanaand 'n loesing gegee dat jy nie kan sit nie.’ Heftig skud die rooi baard oor die onderbaadjie se knope.
‘Toe maar, man,’ sê tant Mieta en vat hom aan die arm; ‘sy sal nie weer nie. Dis genoeg. Loop nou na jou kamer toe, Johanna.’ Sy loop, en oom Jaap se vinger speel nog agter haar aan: ‘As hy sy poot weer hier sit, breek hierdie paar hande sy nek af. So 'n astrantheid.’ Swaar asemhaling volg die woorde. Geboë en vernederd gaan die dogter na die kamer. Maar sy huil nie. Haar gesig is vuurrooi, uitdagend. Haar ouers het slapende magte in haar wakker gemaak.
| |
| |
| |
IV
Op die stoep van oom Sybrand se woning lê die winterson koesterend sonder dat die wind die aangenaamheid daarvan versteur. Die mure is een helder, wit vlam en die lug is roerloos, oneindig blou, met die deurdringende warmte wat sag daardeur syfer. Oom Sybrand rek hom behaaglik uit terwyl hy ver oor die plaas heen kyk. Doer teen die horison sien hy die plaaslyn duidelik uitkruip al met die bult langs en verder weg blou 'n wasigheid van die dag wat sy hart met 'n uitbundige liefde vir die plaas, vir die aarde vul, want dit gee so 'n ruimte, so 'n oopheid aan die dag, aan sy lewe dat hy vanmore ver sou wil gaan stap, vir ure lank, net om na die plaas se klippaal-grens te kyk, om te voel dat die stuk wêreld wat hier so ver voor sy oog uit spring in die blou winter-oneindigheid, syne is, deel van sy strewe, van sy hele mens-wees.
Dit is nou al soveel jare dat hy so graag hier op die stoep in die winter staan. Nie een afsonderlike winter wat verby is, kan hy meer onthou nie, alleen aangename oomblikke van warme koestering in die son, met die veld en die wegblouende hemel vredig hier voor hom. Uit sy moeder se woning trek die rook met 'n breë, kragtige kronkel die lug in. Sy gesig verstrak. Dit is duidelik dat hy met haar nie 'n hond haaraf sal maak nie. As hy kan vastrap - sy is
| |
| |
behoorlik in die aarde geplant! Hy durf nie wens dat sy moet doodgaan nie. Sy gedagte skram skynheilig, met allerhande vorme van selfregverdiging, daarby verby. En tog sou dit vir hom oneindig beter gewees het as sy uit die pad was, op die dorp of... Die natuur, so dink hy terwyl hy die warm stowing van die son in sy klere ruik, staan nooit stil nie. Die jaargetye volg op mekaar. Wat oud word, moet afgesny, afgekap, weggebêre word. Die lewe durf nie stil staan nie. Dit skep, dit laat lewe, laat doodgaan, en al wat uitgediend en in die pad is van 'n jonger kragtiger lewe, moet opgeruim word. Dit is hard, maar dit is eenvoudig so. Sy ma is soos die ou wilkerboom wat Henning nou daaronder af kap. Van binne is dit reeds uitgehol, die helfte van die takke is dood. Dit is net in die pad van ander gesonde bome. Helder klink die bylhoue deur die vreedsame morelug. Hou vir hou vreet die swaar byl in die hout weg en soms sing dit met 'n helder trilling van staal agterna. Breed en manlik is die skouers wat die ou boom daar, met kragtige hou op hou, na die aarde wil vel. Dit is die jeug wat onkeerbaar die ou, verrotte, afgeleefde afkap sodat die ewige wet vervul kan word van lewe wat verrys uit die dood.
Opeens stuit oom Sybrand se aangename gedagtestroom op 'n harde, onafwendbare genadeloosheid. Hy dink aan sy moeder, aan
| |
| |
haar vrugtelose koppigheid, en wat vertel daardie wakker, helder bylslae vir hom! Sy kragte moet eersdaags afneem, en daar is sy seun, daar is die jeug wat hom weer moet wegstoot soos hy sy lastige, al-in-die-pad-moeder wil verwyder hê, òf deur verhuising, òf deur die natuurlike opruiming van die dood. Hy buig sy kop en kyk voor hom na die skoene wat so vas staan op die grond of hy nooit sal kan omtuimel nie. In die koestering van die winterson kom daar 'n huiwering deur hom en vir 'n oomblik is dit of sy bewussyn, sy hele gedagte wil instorm teen die gelykmatige stroming van die tyd wat gee en neem, wat so 'n kragtige liggaam soos syne opgebou het om dit weer te verbreek deur 'n belaglike, wrede ouderdom. Maar hy is nog gladnie klaar nie! Hy voel nou die krag van die lewe in hom. Mens is maar net so oud soos jy voel. Sy grootvader was negentig en het toe nog in 'n boom geklim om 'n peer af te pluk. Toe het hy daaruit geval, sy been gebreek en dit het sy dood gekos. Sy vader was tagtig toe 'n onverwagte aanval van beroerte hom vir altyd, so sterk as wat hy nog was, plat getrek het. Hy makeer nog niks. As hy siekerig voel, dan gaan hy eenvoudig nie lê nie, want dit maak mens net klaerig en oud voor jou tyd. Sy pa was baie kwaai op hom, en vandag verstaan hy goed dat dit nodig was. In hierdie soort natuur word jou kos nie vir jou aangedra nie. Jy moet
| |
| |
pal staan, jy moet die grond soos 'n mol omdowwel, jy moet van vroeg tot laat wakker loop, tel, uitreken, regmoker, anders gaan dit met jou soos met baie boere wat van die stoep af wil boer, wat jukskeitjies sit en sny in die winterson of in die somerkoelte, en al-ewig kla as jy hulle op die dorp kry. Hulle het nooit iets nie, en is dan jaloers op die man wat vooruit boer.
Hy kyk in die rigting van sy swaer Gert se woning, wat langs 'n klein koppie lê, 'n paar honderd treë laer as sy moeder s'n. Daar is ook 'n knaap wat die natuur vir hom laat boer, 'n man wat Gods water maar oor Gods akker laat loop. As hy sy vrou se grond die dag moet erwe, dan staan hy reeds met albei bene vas gespantou. Daardie grond het elkgeval by sy eie gehoort, dink oom Sybrand. Dit is sommer bog dat 'n dogter grond moet erwe. Haar man moet vir haar sorge.
Hy word opeens bewus van die bylgekap wat opgehou het. Henning gee 'n trek aan die langste tak van die wilkerboom en langsaam kraak dit grondtoe, die geskeur is soos 'n pyngeroep oor die plaas, asof dit gryp na die leë hemel om houvas; dan val die skurwe stam plat met takke daar bokant wat bewerig skud vir 'n oomblik na dit al lê. Van die kraal af kom 'n kaffer aan met twee osse ingespan op pad na die
| |
| |
wilkerboom. Dit moet weggesleep word, gebruik word vir die plaas, vir werkgoed, vir brandhout.
Oom Sybrand se oë dwaal, met iets vreesagtigs daarin, weg oor die vlakte, oor die lang end pad wat van Langvlei se kant af streep oor die veld. Daar kom 'n kar aan. Klein en swart beweeg die stippel oor die veld. Nader en nader skuiwe dit in die pad af, en daar kom 'n blye herkenning op oom Sybrand se gesig. Dit is Annie en haar man! Hy ken die perde en kar te goed! Hy is altyd gelukkig as sy dogter kom kuier; sy bring 'n opgewekte stemming in die huis. Sy hele harde bestaan word in haar aanwesigheid baie eenvoudiger.
Die kar kom deur die leegte deuskant ouma Willa se huis en netnou is die werf vol wielgerol en perdgeproes. Bly-skaam loop oom Sybrand na die kar toe, tel Annie se twee dogtertjies uit. Stadig, met 'n liggaam wat al swaarder word in die laaste tyd, klim Annie uit die kar wat skeef lê onder die gewig; sy gee haar pa opgewek 'n klapsoen en sê luidrugtig: ‘Maar pa sien daar mos goed uit! Hoe gaan dit hierlangs?’ Terwyl oom Sybrand half binnensmonds antwoord, groet hy ook vir Hennie, wat met sy rooibeaarde wange en fletsblou oë effens verleë staan naas die voorbarigheid van sy vrou, wat so maklik omgang maak met dié onvriendelike, geslote skoonvader van wie hy nog nooit kon hou nie.
| |
| |
‘Gaan maar in Annie,’ sê oom Sybrand opgewek in 'n toon wat totaal anders as sy alledaagse is; ‘jou ma het seker nie gehoor dat julle gekom het nie.’ Dadelik help hy vir Hennie uitspan, lig die sweetdeurtrekte tuie van die moeë perde af en vra: ‘Hoe laat is julle daar weg?’
‘Net 'n rukkie voor sonop, pa.’
‘Kom ons gaan maak die perde in die kampie los,’ sê oom Sybrand en lei self een perd, wat sy lyf dreunend begin uitskud, na die hekkie 'n endjie van hulle af. Hennie wonder of sy perde vanaand 'n plek in die stal sal kry. Die ou kêrel bekommer hom gewoonlik nie veel oor 'n ander se goed nie.
‘Staan pa se karperde nog in die stal?’ vra hy, hoor 'n onduidelik gemompelde antwoord, klop sy pyp op sy skoenhak uit en begin dit dan met 'n geel voorvinger stop. Hy kyk na die kort, vaste postuur van sy skoonvader hier voor hom. Verbeel hy hom dit of loop die ou man effens mank, effens oumanagtig mank? Hy steek sy pyp op, trek 'n groot blou wolk daaruit en sê nadenkend: ‘Hoe lyk dit vir my as ek pa so van agter bekyk, of pa oukant toe staan.’ Asof hy vir 'n leeu 'n skop van agter gegee het, so draai die skoonvader hom vererg om, sy gesig half verwring van impulsiewe opwinding en tot Hennie se groot verbasing skreeu-praat sy skoonvader half: ‘Wat se foetery is dit in die laaste tyd met my ouder- | |
| |
dom? Van die laaste een moet ek hoor dat ek só oud en só oud is. Dit is sommer alles vervloekste jaloersheid! Dit lyk my julle wil my dood hê net om te kan erwe.’ Hy ruk onverskillig die toom van die perd se kop af sodat die dier verskrik agteruit vlieg en byna die draad om druk. Hennie is totaal verbysterd, want hy wil veral vandag sy skoonvader nie in 'n slegte bui hê nie. Vir 'n oomblik is die atmosfeer bederwe; dan begin die geselskap sukkel-sukkel weer met 'n duidelike toon van opsetlikheid daarin.
‘Wat gaan pa op daardie onderste omgeploegde lande saai?’ vra hy, tog inwendig afkerig van dié bot ou skoonvader.
‘Hawer.’ Oom Sybrand het dié woord op 'n kort, afbytende toon gesê. Dan sien hy sy dogter op die stoep by haar moeder staan, sy stemming word vergeefliker en hy sê: ‘Ons sukkel bietjie met die lammerskaap vanjaar. Die kuile hier bo begin opdroë. Dit gaan 'n foetery afgee, want hier by die fonteindam kan hulle nie in die middag kom drink nie. Vandat dié ou stywebeen-Jaap hierbo die water wat in die vlei af kom, gaan opdam het, is die hele ding bedodderd. Ek is nog altyd spyt dat ek hom nie laat prosedeer het tot ek weet nie wie-weet-waar nie. Hy het nou my hele boonste stuk veld befoeter. Ek het nooit met lammerskaap daar gesukkel nie. Die kuile was altyd vol. Nou loop dinge
| |
| |
verkeerd.’ Hennie antwoord net nederig: ‘Ja, pa.’
Hulle gaan vir 'n rukkie op die stoep sit. Stroef-gesellig sê oom Sybrand vir die twee rooiwang-dogtertjies van agt en ses jaar: ‘Kom staan hier by oupa.’ Maar skamerig kruip hulle agter hulle ma weg, tot sy byna barsbevelend sê: ‘Toe, kan julle nie hoor nie!’ Sy is vandag tweemaal so vriendelik, so vleierig as gewoonlik, want sy en haar man het gekom om 'n guns van oom Sybrand te vra. Die dogtertjies gaan, swaar daartoe gedwing, popagtig langs hulle grootvader se knie staan, hulle hele houding een en al onnatuurlikheid. Oom Sybrand wil hulle aanhaal, vind dat hy hom net bespotlik gedra en maak toe of hy hulle nie meer sien nie, sodat hulle maar teen hulle pa gaan leun.
Nadat die koffie gedrink is en Annie nogmaals gesê het hoe goed ‘ou vadertjie’ nou vir haar lyk, verwyder sy haar diplomaties om dan ‘'n bietjie met ma te gesels.’ Sy wil vir Hennie by haar vader laat, sodat hy met die kwaai versoek kan kom wat hom vannag tot hoenderskraai laat rondrol het. Stadig kruip die skaduwee van Henning se kamermuur na hulle toe. Die son skuiwe na die middaghoogte toe. En nog kan Hennie nie die moed bymekaar skraap om met sy versoek te kom nie. Elke slag kom hy so hittete by die gevreesde vraag, dan draai hy skielik weer weg soos 'n ruiter wat op die laaste
| |
| |
oomblik bang geword het om oor 'n diep slot te spring. Nou gesels hy senuweeagtig en in 'n sneller tempo as gewoonlik. Hy merk hoe die son klim. Netnou moet hulle gaan eet, dan is die kans dalk weer vir 'n tydjie verlore om met sy versoek te kom. Hy kla oor die slegte tye, oor bloedpens onder die lammers, oor steekgras in die wol, oor geknoei van winkeliers met die wolskaal, oor die swaar wat 'n jong boer vandag alleen moet dra. Hy maak 'n draai om by jakkalsjagte wat misluk, vertel van 'n doktersrekening wat hom amper die bewerasie gegee het so hoog was dit, wei hakkel-hakkel uit oor skuld ‘wat soos 'n brak aan 'n mens se jas hang,’ en toe breek dit eindelik deur, onhandig en met 'n toon van diepe minderwaardigheid: ‘Pa, ek is in die moeilikheid. Die moeilikheid meen ek. Ek skuld tweehonderd pond by die winkelier, by Blenski. Hy wil nie meer wag nie. Ek sou dit nooit vir pa gesê het nie, maar Annie het my aangepor. Daarom het ons gekom. Blenski wil nie meer wag nie. Maar hy sê dat as pa vir borg wil teken, dan is dit goed. Ek gee pa my kar en perde en my veertien osse as waarborg. Pa weet self mens kan nou twaalf tot veertien pond vir sulke osse kry. As ek weer skeer, sal ek 'n lelike gat in die skuld maak. Dinge het my nou net gevang. Dit het bietjie skeef geloop.’ Hy bly praat, sommer onnodige dinge, want hy merk hoe sy skoonvader se
| |
| |
gesig verstrak, hoe sy grys oë hard en genadeloos word en hom aankyk met 'n verhole minagting wat erger is as die grofste belediging. Dit is hierdie oomblik wat hy die meeste gevrees het. Sy oë dwaal onrustig rond, sy asem trek duidelik hoorbaar. Hy is reeds verslaan.
‘Nooit, Hendrik! Nooit!’ Die woorde word met 'n heftigheid en 'n beslistheid uitgespreek wat Hennie se moed onder in sy skoene laat sink.
‘Jy weet wat ek van borgstaan dink. Dit is die graf van ons mense. My oorlede vader se broer het vir sy vrou se pa borg gestaan, en die aand toe hulle al sy goed verkoop het, het hulle op kassies gesit. Ek sê nee! Dit is vir my vreeslik dat 'n jong boer soos jy, wat maar nou-die-dag begin het, vir my kom vra om vir jou borg te staan vir so 'n klomp geld. Wat het jy met alles gemaak? Nee, vra my liewers om geld te leen. Dit is beter. Maar geld om te leen, weet jy ook, het ek nie. Tweehonderd pond! Genugtig! Ek kan my eie ore nie glo nie.’
Maar Annie moes op die een of ander wyse 'n deel van die gesprek afgeluister het, want nou kom staan die vrou, wat nog maar 'n paar jaar gelede slank, lenig en aantreklik was, breed en moederlik langs haar vader en vleiend, smekend, met 'n krassende, onegte toon in haar oorredingspoging praat sy naby oom Sybrand se kop: ‘Toe, ou vadertjie! Doen dit vir ons.
| |
| |
Ek weet vadertjie sal dit doen. Ons kan nie help dat die winkelskuld so hoog opgeloop het nie, want ons het baie dinge nodig gehad toe ons begin het. Hennie sal dit weer gou vir vadertjie afbetaal.’
Oom Sybrand sit stil. Sy dogter se aanwesigheid, haar woorde wil sy weerstand vermurwe, maar hy reken intussen, reken vinnig, want sy planne, waaraan hy daagliks werk, lê soos 'n kaart voor hom oop. Hierdie tweehonderd pond sal hy moet betaal. Hy het hierdie skoonseun van hom al lankal deurgekyk. Hy is soos die meeste boere teenswoordig: ná sonop kom hy uit die kamer. Hy het sommer baie duidelik nou daar gehoor: hy is een van die jeremia-boere. Net 'n klomp klagtes. Met hulle rig jy niks uit nie. Dit gaan met klagtes en al die bult af. As hy nog tweehonderd pond moet betaal, is al sy planne in duie. Hier moet hy vas staan, anders het hy verniet gewerk. Selfs sy spogdogter kan dit nie van hom verlang nie.
‘Nee, Annie. Ek sê jou sommer reguit ek doen dit nooit! Julle kan dit nie van my verwag nie. Dit sal net mooi 'n strop om my nek word.’ Annie verbleek effens, maar hervat haar pleidooi weer, nou met 'n vaag-dreigende houding wat verstrengel is met haar smeekwoorde. Maar oom Sybrand skud net sy kop. Vir sy dogter sal hy alles doen, vir sy skoonseun niks.
‘Kom eet julle,’ sê tant Betta by die deur. In
| |
| |
'n grafstemming gaan die klompie na die tafel. Hennie peusel net aan die kos, nukkerig, besig om in gedagte die rekbaarste berekenings te maak. Die woorde is nou skaars, dor en sonder hartlikheid. Langs hulle op die kas staan 'n bottel heuning wat Annie vanmore so vrolik ‘net vir vadertjie’ saam gebring het. Na ete moet Hennie skielik dringend weg.
In die eentonige, wit pad beweeg die kar langsaam voort tot dit oor die bult verdwyn, en oom Sybrand gaan met 'n leë gevoel in sy hart voort met sy werk. |
|