| |
| |
| |
Hoofstuk I
I
Die perde trap verskrik en senuweeagtig oor die misblad van die groot klipkraal rond; hulle neusgate is wyd oop van die opwinding en die bene span sterk en styf bo die pote, wat gaan staan, weer voortkletter, blink strepe maak oor die mis en nou en dan skop dat 'n dowwe hou teen sagte perdevleis gehoor word. Henning kom versigtig nader met die vangstok. Aan weerskante van hom keer die kaffers opgewonde dat die perde nie moet verby bars nie. Hulle gooi hulle hande omhoog en skreeu bobbejaanagtig sodat die diere, gewoon aan die vryheid van die veld, terugsteier teen die muur en saggies bewe van skrik en opgejaagdheid. Nader en nader loop Henning met stadige meet-treë, die vangstok skuins langs hom uit, sy oë vas in dié van die vurige, agterdogtige glansing van die vosbles, wat sy kop hoog oplig, vorstelik, uitdagend, terwyl die vel van sy atletiese, gladde lyf bewerig ruk.
‘Kaffers, as die perde hierdie keer weer verby bars, draai ek julle nek om,’ waarsku Henning, al senuweeagtig van die gesukkel, dreigend deur sy tande. Saggies, kalmérend fluit hy dan; nog
| |
| |
een, twee, drie treë mik-mik vooruit, dan skiet die vangstok deur die lug, die perde dreun weg, maal wanordelik deurmekaar, terwyl die vosbles hoog met sy kop in die lug hang, vorentoe val tot op sy knieë, weer regop sukkel, om vir Henning oor die kraalmis te sleep dat 'n blink sny agter sy skoene aan kom.
‘Maar kaffers, sal julle help? Komaan!’ Fladderende flenterklere warrel vooruit, breë, uitgetrapte skoene seil, vas gestoot teen die grond, agter hom aan. Die vosbles klim teen die lug uit, rol 'n slag skoon agteroor, kom weer op sy pote, maar die styfgespanne riem word al vaster gevat, en die gevaarlike hande, wat hom wil tem en verower, kom nader en nader. Sy oë draai wit in sy kop, sy keel is byna toegedruk en sy asemgefluit klink al benouder en heser. Die halter en toom word handig oor die kop getrek, terwyl die dier van benoudheid half sit-staan. Aan 'n mak ryperd word hy gekoppel, toe gelos om uit die kraal gelei te word. Hy spook aaneen, met koddige rembewegings van sy kop, maar die rinkinkende kaffers dryf en dwing hom en hy word soos 'n verowerde by die kraalhek uitgedruk na 'n stuk groen kweek voor die kraal.
Windvoël is in die saal van die mak perd. Die vosbles staan met sy kop laag tot by die grond gebuig, die voorpote weerbarstig en dom 'n tree van mekaar af. 'n Endjie van die perde af wag
| |
| |
'n kort, stewige man, van sowat sestig jaar, met sy hande langs sy broek by die heupe ingedruk. Vas kyk sy oë na die vosbles, en hy byt nou en dan op sy kort bo-lip, haastig, onredelik, asof hy alreeds te veel van sy tyd met dié bog verkwis het.
‘Klim, Henning man, klim! Moenie wag tot more nie!’
‘Maar pa, gee my 'n kans. Ek maak net my broekspype reg.’
‘Broekspype!’ sê die vader veragtelik, ‘jy moes die ding sonder 'n handperd gery het. In my dae...’ Hy skud sy kop enigsins minagtend.
Vererg vlie die seun in die rug van die jong perd, en skaars het hy gesit, of die dier spring regop, sak grond-toe met sy kop tussen sy bene, kantel heen en weer dat sy maanhare soos 'n waaier oop gaan - maar Henning sit. Swygend volg die vader die perd se kanteling. Hy versit geen voet nie, maar staan daar soos 'n heerser vasgeplant op die kweekgras. Die vosbles gee lang hale vorentoe en ruk die mak perd soos 'n dooi gewig saam; toe lyk dit letterlik of hy regop op sy agterpote vir 'n oomblik stil staan, die dier langsaan word jammerlik saam geruk, en met die daling vorentoe en die ratse wegpluk van die kop, kom Henning hande en voete op die kweekgras te lande.
‘Wil jy meer! So 'n...,’ sê die vader nydig
| |
| |
en stap nader. 'n Endjie van die seun af gaan hy staan, die arms oor sy bors gevou. ‘En wat is dit met jou Henning? Moet ons vir jou nog 'n mak perd aan die anderkant vasmaak?’
Henning staan op met 'n streep grond aan die een kant van sy gesig. ‘Maar pa, dit is 'n uitgevrete derduiwel dié. Geen mens kan bo bly as hy so aangaan nie!’
‘Klim!’ is al wat die vader sê, terwyl hy die vosbles aan die nat stang vat.
Oor die onderdeur van die huis, 'n honderd tree van die perde af, leun die moeder. Sy kyk opgewonde na die perderyery, want sy ken haar man se weerbarstigheid en weet dat as hy eers kwaad is, hy vir Henning tot allerhande onmoontlike dinge sal dwing. Haar hart slaan met hamerslae.
Henning is weer in die saal, en skaars sit hy of sy vader gee die vosbles 'n strawwe hou op die boud. Die perd vlie met 'n vaart vorentoe dat Henning se lyf agteruit lê, sy hare orent staan en die kaffers vir die komieklike toneel uitbars van die lag. Maar die forse stem van die ou man, vir wie dit alles erns is, dwing hulle tot stilte. ‘Hou julle smoel!’ Dan is net pote wat swaar op die aarde val, te hoor. Die vosbles se asem fluit in die spring; op en af, met 'n gerem agteruit, dan vinnig vorentoe dat die kop byna die grond raak en Henning rol 'n paar keer onderstebo deur die kweekgras, waar hy 'n
| |
| |
rukkie half bewusteloos bly lê voor hy mankmank opstaan.
Die vader kyk hom vir 'n oomblik met stille veragting aan; dan bars hy los. ‘Wil jy meer? Is jy 'n boerseun of wat?’ Maar Henning het nou self sy geduld verloor en skreeu half: ‘Maar wil pa sien dat ek my nek breek - gits, dit lyk my bra so!’ Die astrantheid van die seun, die uittartende toon in sy stem is vir die vader, reeds teleurgestel in sy swak ry-vermoë, te veel.
‘Klim op,’ beveel hy en sy stem bewe; ‘klim op! Ek sal 'n man van jou maak!’
‘Pa, ek klim nie weer op nie; pa wil my nek laat breek.’ Die ou man kom nader: ‘Henning, ek sê nog net eenmaal jy moet opklim!’
Maar agter hulle staan die moeder wat betyds van die huis af nader gekom het.
‘Sybrand,’ sê sy skerp, ‘die kind klim nie weer op nie. Wil jy hom dood hê?’
Oom Sybrand blaas hard.
‘Vrou, wat het jy met hierdie dinge te doen? Wil jy die kind soos 'n ou meid groot maak?’
Henning het na sy ma se kant toe gestaan, en toe die vader dit sien, kyk hy hom minagtend aan. ‘Nou ja loop! Gaan kruip onder jou ma se voorskoot in!’
Toe gebeur die onverwagte. Oom Sybrand stap met besliste treë tot by die vosbles; in 'n kits is hy in die saal. Vir 'n oomblik staan die weerspannige dier stil asof hy aanvoel dat daar
| |
| |
'n strawwer baas gekom het om hom te buig. Sy neusgate roer senuweeagtig.
‘Kiewiet,’ sê oom Sybrand kortaf, ‘maak los die riem.’ Ou Kiewiet se vaal, kneukelige hande werk handig aan die knope van die koppelriem, maar voor hy dit los het, sê hy nog: ‘Maar oubaas, dit is doodsake hierdie, kan oubaas...’, maar die bitsige: ‘Bly stil!’ half sissend uitgestoot, laat hom gou sy werk klaar maak.
‘Gee daardie lat hier,’ sê oom Sybrand vir Kiewiet, en skaars het hy die gladde kweperlat in sy hand of dié fluit deur die lug en 'n haal bly lê op die vosbles se boud. Soos 'n pyl uit 'n boog skiet die perd vooruit, nou plotseling bewus dat hy los kan beweeg; oom Sybrand staan regop in die stiebeuels, en hy sak skaars in die saal terug of die perd kry weer 'n harde raps. Maar hy moes hom misreken het met die kragtige vosbles, want die dier spring met al vier pote en 'n kromgeboë rug skoon bokant die grond uit en skaars is hy weer op die kweek, of hy herhaal die beweging, so geweldig en onuitputtelik dat tant Betta haar oë moet sluit om nie die komende, gewelddadige dood van haar man te aanskou nie. Agtertoe steier die vosbles, kom dan vorentoe, en terwyl hy hoog agterop skop, kom die kort, stewige lyf van oom Sybrand vinnig bo-oor die perde-ore en val dof en met koddige rolbewegings oor die kweekgras.
‘My hart gaan staan nog van al dié
| |
| |
gedoentes,’ sê tant Betta verbitterd; ‘so sal hy aanhou tot sy nek gebreek is en dié van Henning ook. Ag Vadertjie tog!’
Sy loop nader na oom Sybrand toe. Hy het opgestaan, stof die gras en grond van sy klere af, en terwyl hy 'n beweging maak of hy onder die verbysterde kaffers wil invlie, beduie hy: ‘Keer hom aan, vang hom! Hy moet nie dink hy sal my klein kry nie. Keer Windvoël! Keer Spantou! Bring hom hier.’
Verbouereerd word die perd teen die kraalmuur vasgedruk; Henning gryp hom aan die toom en ruk die moedswillige dier se kop asof hy hom nydig tot tembaarheid wil dwing.
‘Stadig daar met die perd, Henning. Jy kan maklik die dier verniel, omdat jy te vrot is om hom te ry. Te vrot, dis wat ek sê!’
Maar hierdie woorde is soos 'n fyn rapshou vir Henning, wat net so koppig as sy pa is en voel dat hy nou darem genoeg verneder is. Daarby maak sy pa se nederlaag hom nog astranter, en vóór die kaffers nog die perd van die muur kan lei, is hy in sy rug en kap hom in die maag met sy hakke. Die perd vlie met 'n vaart vooruit; tant Betta voel of 'n floute oor haar wil kom toe sy die deinende en skuddende vorm van haar seun bo-op die perd sien. Al wat sy kan doen, is om verskrik haar hande op te hef sonder dat 'n woord oor haar geopende lippe kom. In lang hale spring die perd oor die
| |
| |
gras, maar Henning sit en nou en dan skreeu hy geluide soos 'n woeste veroweraar wat die kaffers laat kruip van die lag, want die verspotte wat gepaard gaan met die gewelddadige prikkel hulle die meeste.
Oom Sybrand staan doodstil, met sy kort bene wyd uit mekaar, na die ruiter en perd en kyk. Sy vrou praat met hom, smeek hom om nou met die duiwelstreke op te hou as hy haar nie in die graf wil sien nie. Maar hy antwoord nie. Sy seun het reggekry wat hy, die strawwe vader, ondanks sy vermakerigheid nie kon nie. Dan gaan die vosbles spring-spring met sy rekkende neusvleuels die veld in. Hy draf 'n endjie, spring dan weer, maar die ruiter bo-op hom is nou baas; hy begin hom brei en stuur. Die spanning van die toeskouers verslap. Tant Betta voel of 'n moegheid langs haar rug afsak.
‘Hei! Die kleinbaas het hom ingebreek!’ skreeu Spantou, gryp na die grond uit louter lawwigheid en maak of hy onder ou Windvoël wil in vlie. Maar daardie woorde van die oorlamse skepsel het vir oom Sybrand diep gekwes.
‘Loop julle!’ beveel hy bars, ‘gaan maak julle klaar vir die melkery!’
Sou die kamketels miskien rêrig dink dat sy seun beter as hy kan perdry? Hy gee die bevele op sy plaas, en mens kan alleen baas bly as jy alles beter kan doen as diegene wat jy beveel. Sy mag, sy heerskappy het 'n slag gekry.
| |
| |
Vanmiddag se ding moes nie gebeur het nie. In sy hele lewe het hy nog nooit geleer om die minste te wees nie. Die klein snuiter sal hom nou wat verbeel.
‘Sybrand, hoor jy nie as ek praat nie? Kom drink koffie.’ Opeens kyk hy na sy vrou. Hy voel nydig teenoor haar, omdat die perd hom voor haar laat grond eet het, en omdat sy self gesien het hoe die seun vir wie sy so partydig is, die meerdere is, hoe hy gedaan het wat die vader, met slegsê en verwyte en al, nie kon doen nie.
‘Ek is gan lus vir koffie nou nie,’ antwoord hy stuurs en kyk na die windam se kant waar Henning en die perd netnou nog te sien was. In die verte sien hy hulle verdwyn.
‘Kom drink koffie,’ sê sy vrou. Deur haar opgewondenheid sê sy dinge wat sy anders geduldig verswyg. ‘Jy sal nog gestraf word vir die hardkoppigheid van jou. Jy word te oud vir jong perde; jou nek kon vanmiddag af gewees het.’
Maar net daardie woorde: ‘jy word te oud’ raak oom Sybrand soos 'n warm yster.
‘Ek te oud?’ snou hy sy vrou toe, ‘wat makeer jy nou?’ Sy oë blits gevaarlik; sy gesig is rooi en sy onderlip gee 'n paar rukke. ‘Wag, laat ek liewers loop voor ek iets vreesliks
| |
| |
sê,’ snork hy half, en stryk van sy vrou af weg, oor die kweekgras heen, in die rigting van die windam, wat sy breë, swart klipwal doer bo in die leegte wys.
| |
II
'n End voor hom slaan die lammerskaap se stof rooi teen die hang op. Stadig kom hulle in sy rigting en hy hou met skerpgespitste oë hulle beweging dop en die geblêr van die lammers, deurmekaar en dikwels onwelluidend, verdrywe sy kwelgedagte en vul hom met 'n blydskap wat stil en diep in sy boerewese lê. Die ooie wei gulsig tot naby hom, die gras kraak soos hulle dit wegvreet, en die lammers huppel speels langs hulle moeders, gaan op 'n miershoop staan, om 'n oomblik daarna deur 'n moedswillige een met sagte stote afgestamp te word.
Die skaapwagter kom stadig nader. Hy dra twee lammers onder sy verflenterde vuil baadjiemoue, en sy verrimpelde gesig en vaal-swart kleur maak hom deel van die taai bossies en skurwe wêreld wat hom omring. Sy skoene, wat met dik rubbersole gelap is en vasgedraai is met dun bloudraad, kom 'n endjie voor sy baas tot stilstand. Hy groet met 'n lui draling in sy stem en wag vir sy baas om sy vrae te stel.
‘Hoeveel het vandag gelam, Jannewarie?’
| |
| |
Die ou jong laat die twee lammers sak, en so, onvas op hulle dun beentjies, lyk hulle hoog, verkrimp en lelik daar op die kaal grond. Vir 'n rukkie wag hy voor hy antwoord, krap met sy vuil hand onder sy vetterige hoedjie, en nadat hy 'n voorvinger nadenkend op sy onderlip geplaas het, sê hy: ‘Darem dis tien, oubaas; hierdie twee hy smyt hom weg die lam,’ en hy beduie na die twee lammers wat nog ewe komieklik op hulle hoë wolbene staan.
‘Nou ja, sorg dat die ooie vanaand vasgemaak word. Is daar nie lammers weg nie?’ Die vraag is skerp, of 'n mistrap hier swaar gevolge kan hê. ‘Nee, oubaas, maar ek gehoor hom die jakkalas laas nag by die berg.’
‘Die jakkals. Goed, ons sal hom uit die berg boener. Gaan nou maar so stadig aan kraaltoe.’
‘Reg, oubaas.’
Stadig trek die lammerskaap van hom af weg met die swart figuur van die wagter by hulle. Ver anderkant hulle sak die son agter die hoë populierbome in en gee 'n wit, syige vlam aan hulle kante.
'n Lang ruk staan oom Sybrand so na sy vee en kyk terwyl hy reken. As hy vanjaar geen onvoorsiene skade met die lammers kry nie, gaan hy naby die vyftienhonderd skape omdraai. Dit het baie mooi gegaan, maar hier is die ou knoop nou weer. Net soos hy vooruit boer, dan stuit hy altyd weer op dieselfde moeilikheid:
| |
| |
die koppigheid van sy moeder. Sy was met haar jongste verjaarsdag een-en-tagtig jaar. Gedurig probeer hy om haar oor te haal om op die dorp te gaan bly en om die plaas aan hom en sy swaer Gert te gee. Maar dit kom nooit so ver nie. Nou moet hy weer grond gaan huur en hy weet voor sy siel dat hy dit in die omgewing nie sal kry nie. As hy vir Jaap hier bo kan uitkoop sal dit gaan, maar dié ou klou, met sy skuld en al, so vas aan sy stuk grond dat dit dalk nog jare kan duur. Met sy pragtige dam hier bokant Boskloof, waarmee hy al die vee se water uit die kuile afgekeer het, kan mens baie uitrig. Kastig baie godsdienstig, maar 'n deurtrapte huigelaar! Dit sal nou rêrig 'n plesier wees as hy die dag sy goed hier inpak en maak dat hy wegkom.
Langs die spruitwal stap hy stadig en merk hoe laag die twee groot kuile se modderwater gesink het. Dit is 'n voetery, dink hy verbitterd; hier was altyd genoeg water, maar van dié ou swêrkater 'n dam hier bo gaan sleep het, kom hier te min om die kuile te vul. Hy moes hom dié tyd geprosedeer het, maar die prokureur het hom aangeraai dat sy kans nie so goed is nie.
Van daardie struweling af praat hy en ou Jaap nou gladnie meer met mekaar nie. Vroeër wou hulle mekaar al uit die pad stamp.
Hy loop tot by die draad wat vir Langvlei van Boskloof skei. Hy beskou die ry klippale wat
| |
| |
van hom af wegsak na die berg daaronder bokant die kloof, en daar kom 'n ou begeerte in hom op om dié draad met pale en al af te breek, sodat Langvlei kan aansluit by Boskloof. Voor sy dood wil hy dit nog sien. Onder die boere werk daar net een wet: jy baas of hy. En die onderspit delf, sal hy nog nooit; daarvoor staan hy te vroeg op vir die hele ou spul. Dié grond moet hy hê. Dit is of hy dors het en sy hande gretig uitstrek na koel water wat in sy bereik is.
Maar daar is nog die ander lastige vraag: sy moeder. Hy moet, al word ook watter plan uitgedink, vir haar oorhaal om dorptoe te gaan. Vandat sy sewentig geword het, kort ná sy vader se dood, sukkel hy al met haar, maar gaan is verniet. Dit was al reeds 'n groot oorwinning toe hy iemand met haar geaardheid uit die ou familie-woonhuis uitgedruk het na die huis oorkant die leegte. Hy sal vir haar sorg op die dorp. Maar sy sit en word al nukkeriger as hy met haar praat. Al wat sy teenswoordig kan sê, is: ‘Jy wil my dood hê, dis al.’
Hy weet self nie wat hy alles wil hê nie, maar met sy hele hart verlang hy na die dag dat hy op Boskloof kan hiet en gebied soos hy wil. Met Maria se man sal hy maklik werk om hom uit sy deel van Boskloof te kry, want reeds het ou Gert deur die prokureur van hom driehonderd geleen as verband op sy grond. Maria
| |
| |
het rêrig met 'n ou sukkelaar getrou, een van die arme oues wat niks besit nie en dan 'n lêplek kom soek op die stukkie grond wat sy vrou geërwe het.
Alles duur so lank; hy word oud. Opeens stoot daar 'n onaangename herinnering onder deur sy gedagtes. Sy vrou het hom so pas daaraan herinner dat hy agteruit gaan, dat hy sestig se kant toe staan. Dit is lelik wat daar vanmiddag gebeur het. Hy staan nou net aan die begin van sy planne en dan word hy onaangenaam daaraan herinner dat sy tyd stadigaan verby gaan. Nooit. Hy werk die hele spul nog dat hulle grondtoe steier. Sy ma is nou een-en-tagtig, en kyk hoe lyk sy! Tog hinder dit hom ook dat sy nog so gesond is. As hy haar ouderdom bereik, wil hy al sy planne verwesenlik hê: die man wat die hele Boskloof en Langvlei besit, die grootboer van die distrik.
Hy loop weer langs die spruit af, reken getalle met sy vingers uit, en kyk aandagtig na Henning, wat op 'n bultrug teen die westerrooi skerpswart afgeteken is en met 'n triomfantelike houding op die vosbles huistoe ry.
| |
III
Aan die tafel hinder die stilte vanaand. Gewoonlik word daar maar min gepraat. Dit gaan maar altyd oor die boerdery, oor werk vir die volgende dag, oor planne. Maar vanaand
| |
| |
volg daar, ná die meganiese preweling van die gebed, 'n stilte waarin die gekletter van messe en borde soos 'n skelle waarskuwing opklink. Oom Sybrand se wenkbroue is gefrons en hy eet haastig, met sy mond laag oor die bord. Sy hare is kort geskeer en vertoon reeds witterige kolle bokant sy ore. Hy dra 'n baard wat hy kort langs die wange met 'n skêr afskeer; laer af verloop dit in 'n ylerige snor en 'n swakversorgde puntbaardjie. Dun lyne lê daar by die hoeke van sy mond; dit is 'n uitdrukking van eersug en wilskrag. Die hande wat die mes en vurk omvat, vertoon breë, plat vingers, met naels wat van voor af ingebars is; dit getuig van rustelose, harde arbeid, van 'n praktiese mens. Aan die onderpunt van die tafel sit Henning, met sy swart hare effens woes bokant 'n beplooide voorkop, wat bruin en gesond glans. Sy neusbrug is breed en sy mond het 'n trek van siniese misnoeë. Hy kyk nie op na sy pa nie, hy voel dat van daardie kant van die tafel af 'n vyandelike atmosfeer dreig, 'n opgekropte wraaklus wat in strawwe woorde kan losbars as daar net die minste aanleiding voor is. En tussen die norse vader en ontevrede seun sit die moeder; haar grys-swart hare is glad van haar voorkop af weggestryk sodat die paadjie wit lê, met 'n teken hier en daar dat die hare al baie uitgeval is. Sy het 'n trek van strengheid op haar gesig, waarvan die profiellyne so duidelik teen die
| |
| |
muur-agtergrond uitgebeitel is, maar soms verslap dit opeens en as sy opkyk, dan lê daar 'n verre weemoed in haar sagte grys oë.
Die kers brand vir hele rukke doodstil met goue vonke by die pit; dan kom daar 'n onverwagte roering en die vlam buig slap. Voor die raam is die vrede van die nag oor die plaas. In die kassie wat in die muur gebou is, net agter oom Sybrand, lê die Bybel, swaar en donker, maar dit rus dikwels vir maande so sonder dat sy hande daaraan vat, en die lig van die kers speel nou oor die afgeslete letters op die rugkant.
Eenmaal het hy vir 'n paar maande 'n koerant gekry; dié is vir propagandadoeleindes aan hom gestuur. Hy het nou en dan onhandig daardeur geblaai, maar toe dit nie meer aangestuur is nie, het hy nie daarop ingeteken nie, want hy het dit as geldverkwisting beskou. Dit is ook sy spaarsin wat hulle dwing om die karige maaltye elke dag te hê. Selfs 'n skaap wat in die veld doodgaan, se vleis mag nie verlore gaan nie. Hy moet gebruik word. As dit nie dadelik bruikbaar vir die pot is nie, dan moet dit in repe gesny en winddroog gemaak word. Elke pennie wat gespaar kan word, moet op die regte plek gaan lê om sy planne uit te voer. Vir sy vrou was dit in die begin alte swaar om te luister na al dié klein, vrekkige bevele, maar vandat haar man oor die vyftig is, word dit al ondraagliker. Hy loop net rond om te kyk waar nog iets afgeknyp
| |
| |
kan word. Die meelkamer se sleutel dra hy rond, en daar moet behoorlik verslag gedaan word as die brood gouer op is as wat hy uitgereken het. In die laaste tyd is hy stuurs en swygsaam as daar kuiermense kom, veral as hulle nog baie kinders by hulle het. Hy wil hulle laat voel dat dié soort leeglêery op sy nek gladnie welkom is nie. Baie van hulle ry bloot uit luiheid 'n paar dae van die huis af weg en kom dan kastig kuier om mens net uit die werk te hou met 'n temerige pratery oor twak. Die mense het reeds agtergekom dat hy hulle nie daar wil hê nie. Hulle skimp en skinder en bly nou maar weg. En tog het hulle, by hulle kwaadstokery, 'n onderdrukte eerbied vir die strawwe boer, op wie se werf nie 'n los klip lê nie, wie se drade soos vioolsnare gespan is, vir die man wat van vroeg voor sonop te sien is, nou hier dan daar, soos hy wakker waak oor sy besitting.
Maar in sy eie huisgesin weeg sy swaar oorheersingslus stroef neer; daar word nie meer gelag en grappe gemaak nie. Dit is net werk van vroeg tot laat, met 'n skraal ete tussen-in, en verder aan die einde van die onvriendelike werkdag: die verlossende ontspanning in 'n diep slaap. Sy vrou het die meeste van haar klagte, proteste en skimpe gelaat. In die begin van hulle huwelik het hy nog met haar geredeneer, maar stadigaan het hy stiller en nukkeriger
| |
| |
geword as sy met hom oor die een of ander saak praat, en nou is sy woord wet. Hy duld geen teenspraak meer nie. As hy wil hê dat 'n ding op 'n bepaalde manier moet gebeur, dan moet daar geen haarbreedte van afgewyk word nie.
So sit hy dan vanaand daar aan die hoof van sy tafel, 'n mens in wie die wil kragtig werk, 'n taai boer wat nie die roekelose magte van vereensaming vrees waar hy hom al meer losmaak van diegene wat hom bind nie. Hy wil los en onafhanklik wees, want alle vertedering bind hom verder, maak hom te week om sy planne uit te voer; en tog stoot dit hom ook opsy waar hy onbuigbaar in sy wilsuitvoering en alleenheerskappy staan; gaandeweg word die eenvoudigste gebaar tot dwang, selfs teenoor sy vrou en seun, en waar daar nie openlike opstand kom nie, smeul bitterheid en verset. Nog net een mens het invloed op sy gevoel, en dit is sy getroude dogter, Annie, wat nou twee-uur te perd van Boskloof af woon. Sy beteken baie vir sy lewe, omdat sy weet hoe om hom te vlei, hoe om met aaiende woorde deur die kors te dring wat sy lewe al digter toepak. As hy vir haar kan gaan kuier, dan is dit 'n plesier, maar van haar man hou hy nie. Hy is een van dié lekkerpraters, wat ure op die stoep sit met die koerante, gedurig op politieke vergaderinge 'n klomp onsin vra en sy plaas laat verwaarloos.
| |
| |
By 'n politieke vergadering kom hy self nooit nie. Hy vererg hom net. Dit mors sy tyd.
Vanaand verlang hy plotseling na sy dogter, na haar liewe aanwesigheid, want sy kan so lekker grappies met hom maak, langs hom op die stoel kom sit en haar hand om sy nek sit. Dan ontdooi die harde ongenaakbaarheid in hom, die lewe kom sagter na hom toe en dit voel vir hom of daar iets liefliks, wat hy nie in woorde kan uitdruk nie, in sy lewe verlore gegaan het. Maar as sy dan weer weg is, dryf die weerbarstige lewe hom voort, moet hy werk, planne maak, bou, deur niks kleingekry word nie. Sy grypsugtige omgewing het dit vir hom geleer, die aarde waarop hy loop sê dit vir hom elke dag; daar is net twee toestande in die lewe: mens is self baas of ander speel oor jou baas. En die dae is lankal verby waarin hy toelaat dat iemand anders op sy kop trap!
As hulle klaar is met die ete, skuiwe die stoele knarserig agteruit in 'n ligwêreldjie arm aan simpatie. Henning draal so'n bietjie rond, help sy moeder die tafel afdek, en loop dan na sy kamer toe. Sy lyf voel vanaand seer. Nie 'n woord het sy vader verder oor die vosbles gepraat nie. Sy pa het gemaak of die gebeurtenis van vanmiddag nooit plaasgevind het nie. Hy gaan op sy bed sit, want sy vader het uit suinigheid nog nooit eers so ver gekom om vir hom 'n stoel daar te laat plaas nie. Toe hy nog 'n klein
| |
| |
seuntjie was, het hy van sy pa gehou, maar stadigaan het 'n ongenaakbare houding hom weggestoot en selfs vyandig gemaak. Toe hy nog jonger was, het hy saam met sy pa dorptoe gery, die hele end so gesit sonder dat sy vader 'n woord vir hom sê, want hy is blykbaar die mening toegedaan dat kinders te groot vir hulle skoene word as mens nie op 'n bevelende toon met hulle praat nie. Vér weg in sy herinnering lê die beeld van 'n vader wat hom darem nog aan sy hand gevat het, vir hom lekkers gebring het, maar vandat hy ‘groot’ is, het sy vader al barser teen hom begin optree, asof dit 'n fout is dat hy groot word, dat hy ook 'n man is wat 'n deeltjie van die plaas moet kry. As klein seuntjie was hy 'n speelding, 'n oulikheid vir die vader, maar toe hy groter geword het, het dit al vir hom gelyk of hy in sy vader se pad is, of hy al meer die plek van 'n bediende moet inneem. Geen woordjie raad durf hy lug nie, dan oordreun sy pa se uitval hom. Hoe meer hy 'n eie wil, 'n eie kyk op sake ontwikkel, hoe meer dit die vader tot onderdrukkingslus uittart, asof hy in die jong, kragtige seun 'n mededinger sien wat verneder en vroegtydig kleingekry moet word.
Hy voel nou hoe die koue van die wit mure en sementvloer in sy lede opkruip en hy ril effens en besluit maar om te gaan lê, al het sy hart lus vir vermaak, vir wilde plesier, al weet
| |
| |
hy nie juis watter vorm dit moet aanneem nie. Hy kyk, met sy kin op sy hand gestut, na 'n klein kiekie wat hy uit 'n trommel onder die bed gehaal het. Dit is van 'n meisie met 'n sagte, blymoedige gesig. Haar hare is laag oor haar voorkop gekam en die trekke oor haar smal gesig is fyn en edel. Sy lag hom toe uit 'n wêreld ver anderkant sy triestigheid. Johanna. Die mooi dogter van Langvlei. Die dogter van 'n man wat kwaai vyandig is teenoor sy vader. Maar wat sal sy van hom dink? Sou sy hou van hom? Hy kan tog nie daarvoor dat sy pa so onverdraagsaam en twissoekerig is nie. Een- of tweekeer het hy met Johanna gepraat. Maar uit haar houding kon hy niks wys word nie. Wat haar pa betref, daar vermoed hy groot moeilikheid.
Hy trek hom stadig uit en met 'n wilde sprong is hy in die bed, wat kraak asof dit wil breek. Enige uitgaaf verbonde aan dinge soos goeie huisraad en klere sal nooit sy pa se toestemming verkry nie, omdat hy dit as totaal onnodig beskou. Die enigsins verouderde wolkombers oor die bed laat gou 'n broeiende aangenaamheid in sy lede ontstaan. Hy lê inmekaar gekrimp en net 'n stukkie van sy hare steek bokant die kombers uit. Nou en dan maak hy sy oë lui en langsaam oop, met 'n rustige, blye gevoel om op so 'n kou aand so lekker in die bed te lê en net so nou en dan dromerig na die kers- | |
| |
vlam te kyk. Wag, hy vergeet netnou om die kers dood te blaas en dan is dit more weer 'n kabaal oor sy spandabelheid en agtelosigheid. Die kersvlam trek met 'n lang, blou tuit voor sy asem weg, maar dit kom weer terug as hy ophou met blaas. Vererg ruk hy sy hand onder die kombers uit en knip met skurwe duim en voorvinger die vlam weg. En nou rus hy weer aangenaam en voor sy oë kom beelde, warm en genoeglik, en hy lê stil of die minste beweging hulle gang kan versteur. Hy sien vir Johanna agter hulle huis besig om haelwit wasgoed op te hang. So het hy haar die middag gesien toe hy gaan uitvind het of sy pa se verdwaalde ou-ooie nie daar is nie. Sy het gelag, 'n helder ry wit tande het vir 'n oomblik sigbaar geword, en toe het sy gebloos dat haar geel hare erg daarby afsteek. Dié beeld vervaag en hy hoor woorde, sag en liefderyk, woorde wat hom vlei en eindeloos verteder. Hy sien haar na hom toe kom, skamerig maar met verliefde oogopslag, en sy gees geniet van die weelde van haar aanwesigheid, eers met skroomvallige eerbied, en dan voel hy hoe hy haar sagte liggaam teen hom sal druk.
Hy dommel saggies weg, vreemd gelukkig en warm en lig loop sy bloed in hom, maar opeens spring sy bewussyn in verhoogde spanning op en die droombeelde vlug verward in die onbekende, want aan sy deur word oneerbiedig
| |
| |
gehamer; dan gaan dit krakerig oop en hy hoor sy pa se barse stem: ‘Het jy die vyf vasmaak-ooie wat in die lusernkampie gewei het, vanaand vasgemaak?’ Die woorde klink vir hom beledigend en ru, soos 'n aanranding voor mense wat jou liefhet. Hy wil eers 'n leuen vertel, wil nadink oor 'n plan, maar dan kom dit met impulsiewe eerlikheid: ‘Nee, pa.’ Oom Sybrand trek 'n vuurhoutjie, steek die kers ongeduldig op, en terwyl Henning sy bose vader daar in die aangroeiende lig sien staan, sit hy koulik op die kant van die bed en knip dwaas en vakerig met sy oë na die lig. Hy kan sien dat sy pa vanaand so dwars en onredelik is as maar kan, maar sy gees is nog slaaploom, sonder enige aggressiewe spanning. Sy vader kom naby hom staan, hy sien sy broekspype naby sy knieë, en opeens haat hy dié dreigende gestalte, dié ronde broek sonder plooie hier voor hom, dié ruik van 'n skaapkraal wat daaraan hang, dié breë platneusvelskoene wat lyk of hulle net op 'n ander se nek wil trap.
‘Henning,’ kom die sware, bestrawwende stem, ‘jy is twintig jaar-het ek vir jou so grootgemaak om te gaan slaap as jou werk nog nie klaar is nie.’
Maar Henning antwoord niks. Hy hoor net sy vader se swaar asemstote en voel sy nabyheid soos 'n nare onsekerheid aan.
‘Het jy nie 'n smoel nie?’ Die stem klim
| |
| |
hoër asof die liggaamlike aksie daardeur aangesweep moet word; ‘vanmiddag se astrantheid het jou te groot gemaak vir jou skoene hè? Loop haal die ooie nou dadelik of ek...’ en voor hy nog verder kan praat, kry oom Sybrand se drif die oorhand oor hom, veral omdat die seun hom met oneerbiedige oë aankyk, en hy klap vir Henning opeens dat hy oorbluf van die bed af val. Twee oë vlam soos 'n tier s'n daar van die vloer af op; dood of lewendig, maar so'n vernedering nie langer nie. Hy is spraakloos van woede en sy jong gesig het 'n huiltrek, die voorteken van 'n vreeslike uitbarsting. Hy wag vir die volgende slag. Hy is blind; verbrysel is sy vertroue deur daardie onredelike slag. Hy sal 'n moord kan begaan, soos hy daar met gebalde vuiste wag vir sy aanvaller. Maar daar kom 'n wending. ‘Loop!’ sê oom Sybrand, ‘gaan maak jou verbroude werk reg.’ Hy sluit die deur agter hom. Sy voetstappe klink duidelik oor die stoepklippe en hy gaan die voordeur in.
Henning staan stadig op; hy vee twee trane van sy warm gesig af. Trane van woede en vernedering. Hy trek sy klere aan en sy asemhaling klink wraaklustig in die kamerstilte. Yslik lê die wrok en bitterheid in hom, hard, bonkig, soos iets wat weier om op te los. Hy blaas die kers dood, sluit die deur agter hom en die koue winternag kom nydig en klam-koud op hom aan. Hy het geen jas aan nie en sy
| |
| |
warm bene voel die koue daarteen byt; hy ril, en die koue laat sy blinde drif bedaar. Hy voel vanaand baie duidelik onder die koue sterrehemel dat die styfgespanne draad met daardie hou gebreek het. Vandat hy sewentien geword het, het sy vader nie meer sy hand aan hom gesit nie. Die houding was wel gespanne, bevelend, dreigend, maar daarby het dit gebly. Vanmiddag se perdryery het op die een of ander manier dinge deurmekaar gekrap. Hy gaan nie langer sy pa se vuilgoed wees nie. Die wêreld is groot, en al moet hy eendag vir Boskloof erwe en al gryp sy gedagtes ook as boerseun vas in hierdie besitting, hy sal maklik weg gaan en later terug kom-later as sy pa nie meer daar is nie.
En toe kom 'n dowwe hartseer in hom op. Hy redeneer nie verder nie, maar voel net alleen en verstote, met 'n hunkering na liefde, na warm, troostende woorde, die gesellige kerslig en die sagte oë van Johanna wat swygend bely hoe sy met hom saam voel. Hy rig nou sy oë meer na buite, want hy is bewus dat hy naby die klipmuur se hek moet wees. Swart suig die winternag se donker hom aan, en hy voel die koue wat uit die tuindam kom soos iets wat stadig, met al vaster greep, van sy voete af opsluip na sy bonsende slape. Die populiere is hoog, diepswart, roerloos-trots langs hom en bokant by hulle punte verby brand die sterre,
| |
| |
eindeloos ver en afsydig. Daar is geen maan nie en hy besit geen lamp om die ooie te soek nie. Dit is 'n onbegonne taak om hier in die winternag rond te loop soos 'n spook wat geen rus kan kry nie. Tog dra sy koue voete hom oor die lusernland heen, op en af, op en af. Daar is geen ooie te sien nie. Dit is net die onvriendelike, vyandige nag wat hom deurdring met 'n besef van sy waardeloosheid en mens-alleenheid. Eensaam is hy, sonder raad, sonder toekoms, sonder doel. Sy vel is koud en hy druk sy hande dieper in sy sakke, krimp hom in mekaar en voel 'n wye selfbejammering wat sy hele hart vol loop. Hy gaan van die lusernland weg en soek-soek sy pad deur die bome na die populierbos. Miskien het die ooie daar gaan skuiling soek teen die koue. Hy kon al eerder daaroor gedink het. Stadig werk hy sy pad oop deur die blare wat ritselend buig en padgee. 'n Endjie voor hom sien hy, soos 'n gladde stuk gepolyste staal, die tuindam-water opblink in die duisternis. 'n Padda spring, toe hy die naderende geluid hoor, met 'n luide geplons in die water. Donker waterringe vervloei met die skaduweeoewers naby Henning se voete. Dit is onmoontlik om hier 'n skaap te vind. Hy sal die volk om hulp gaan vra. Daaraan moes hy eers gedink het. Sy voetstappe kraak luid deur die populierbos. Die nag-aarde skrik vir sy aanwesigheid. Voëls vlie ritselend op en hulle
| |
| |
vlerke maak 'n warm, vertroulike geluid in die donkerte. Hy loop na die strooise wat 'n endjie van die krale af lê. Hard tok-tok hy aan die blikdeur van ou Jannewarie se stroois. Verwarde geluide en snorkerige gemompel is daar te hoor. Dan volg weer saag-klanke asof dit onder uit die aarde kom. Naderhand antwoord ou Jannewarie op sy geroep. Nee, hy weet niks van die ooie nie. Hy het net sy werk gedoen. Toe stilte en weer swaar slaapgeluide.
Wat nou? Moet hy nou 'n dodelike koue vat net vir die paar ooie wat moet vasgemaak word? Al soek hy die hele nag, hy kan hulle nie kry nie. En tog wil hy sy pa wys dat hy sy werk kan doen, dat hy betroubaar is; maar dan is daar weer wraak en versetlus in hom. Naderhand loop hy radeloos, rillend van die koue, na sy stoepkamer toe, maak die deur saggies oop, trek hom uit en gaan lê met 'n lang sug. Hy hoor hoe sy bloed swaar hamer in sy are. Hy voel die weldadigheid van die aankruipende hitte en met 'n sware voorgevoel kom die slaap soos 'n donker branding oor hom.
| |
IV
Toe oom Sybrand sy geduld met Henning verloor het en hom 'n slag teen die hoof toegedien het, het 'n moeder nie ver daarvandaan nie dit alles aangehoor. Deur die jare het 'n
| |
| |
stroewe, saaklike huwelikslewe, waarin sy al meer tot die rol van 'n huisbediende verneder is, haar gebrei en langsamerhand tot swygsaamheid gebuig. Haar hande het maer en kneukelig geword van die werk, dag-in en dag-uit; haar liggaam het verval tot die skouers rond afhang en die maag lelik uitsteek onder die plat bors. Die strawwe lewe het haar stadigaan opgebruik en eersdaags sal sy waardeloos, soos 'n stuk afgeslyte materiaal, opsy gewerp word. Net in haar sagte grys oë is nog die verre weemoed van dié vroue wat soos baie in haar omgewing rusteloos swoeg sonder dat behoorlike geriewe vir hulle aangebring word, sonder avontuur of afleiding. Met behulp van 'n onopgeleide, beterweterige vroedvrou het sy haar kinders in die lewe gebring, twee van hulle by die geboorte verloor, en toe self by die dood omgedraai, omdat sy nie behoorlik versorg is nie. Maar met bleek lippe en hande wat onvas bewe, het sy weer haar werk hervat, die werk wat nooit ophou nie, wat opstawel, wat menskrag opsuig, wat jong kragtige liggame laat afslyt tot nog net kneukelige, vereelte hande die borde, die wasgoed, die broodpan omvat, soos dit al duisende male tevore gedaan is. Soos die vrouens om haar het sy geleer om stil te bly, om kinders in die lewe te bring, vyfuur op te staan en sonder ophou te werk tot alles ná die aandete weer regstaan vir die volgende more.
| |
| |
Nou en dan gaan sy saam met haar man na die dorp, miskien 'n enkele maal na familie, veral na haar dogter, en dan sit sy so hulpeloos, vaag-skugter daar, want sy kan oor min praat, sy is vergroei met die stilte, met die roetine van die arbeid, wat haar gaandeweg dwing tot gedagtelose aksie. En tog, so dink sy telkens, is haar lot nie so swaar as dié van 'n paar van haar buurvroue nie, wat vir agt of tien kinders moet sorg, terwyl sy min hulp in die huis het en selfs nie eers Saterdagmiddag of Sondag kan rus nie, maar rooi gebrand, met tranerige oë voor die rokerige vuur moet staan, om daarna tafel te dek, die ete reg te sit, dan weer self die borde te was en in die middagstilte, as die ander bietjie rus, weer met die pakke verstelwerk te begin. Alleen in hulle oë lê die verre weemoed oor dinge wat onbegrepe bly, oor 'n vroeë, driftige avontuur, toe die hart ver en hoog die suiwer blom van die liefde gaan pluk het... en toe daarna die huwelik, en uiteindelik die gestadige ontnugtering, die onverwagte ruwe woorde wat wond, wat doodbrand, wat ongesien teerhede laat sterwe, langsaam maar seker, tot die mooi liggaamsvorme van die jeug verval, die arbeid alleen nog oorbly om die dae se verveling mee neer te vel, terwyl daar iets in die oë agterbly soos van 'n hoë vuur wat wegsmeul, soos van hoop wat stil vergaan het, soos van 'n oorgawe aan die vreeslike gelykmaking van die
| |
| |
lewe, wat wegskaaf, breek en die eie, mooigeboude droom laat weg vloei in 'n onwrikbare, genadelose algemeenheid.
So het tant Betta gaandeweg ook deur die meul gekom, en as iemand praat van die romantiek van die jeug, daardie dae van verwagting en ongebreidelde hoop, dan lag sy net verleë, die lag vergaan op haar lippe in die harde vore om haar mond en in haar oë is dié lig wat oom Sybrand diep onrustig kan laat voel asof dit 'n heilige mag is, ver van sy lewe, wat hom immer beskuldig en verontrus, asof hy iets wat rein en suiwer was, verwaarloos het en oorgegee het aan die vervelende wat weeg in die dae, aan die verlelikende magte wat die lewe self skep met 'n roekelose behae.
Nou gaan sy gedwee, soos 'n tam dier in die juk, haar ouderdom tegemoet. Haar hare is op drie-en-vyftig-jarige leeftyd al grys en haar gesig het fyn rimpels wat afloop na 'n plooierige kuiltjie. Die dae toe sy nog in heftige opstand teen haar man gekom het, lê vér weg; dis 'n gestrede stryd, volkome betekenisloos vir vandag. Net een ding het in die laaste tyd weer 'n beroep gaan doen op haar oorwonne gevoel: die manier waarop haar man vir Henning behandel. Of sy vir Sybrand nog liefde oor het, weet sy self nie, want die liefde het so saamgevloei met dowwe gewoonte dat sy haar nie meer afvra wat haar hart verlang nie. Maar
| |
| |
dit grief haar dat Sybrand so beesagtig met sy eie bloed kan omgaan. Sy vra hom oor niks meer uit nie. Hy maak net soos hy wil. Hy bepaal eenvoudig hoe dinge moet loop, en sy kan maar protesteer, maar hy doen dit tog. So laat sy hom maar begaan. Sy soen hom nog uit gewoonte as hy dorp-toe ry en terugkom, maar tussen hulle hang die stilte van verlore intiemheid en vertroue, die skeiding wat weef om die woorde, om die gebare en later alles oorheers met 'n sware vervreemding.
Vanmiddag het sy in opstand gekom oor dié perdryery. Haar man het haar kleingekry; sy het vir hom nog net waarde as huisbediende. Maar haar seun sal hy nie verrinneweer nie, al verbeel hy hom dat dit sy kind alleen is. Sy maak haar klaar vir 'n kwaai aanval; ou, slapende drifte kom in haar op. Vanaand het haar woede tot in haar keel gespring. Sy sal handel. Gou ook. Selfs 'n tamgemokerde esel skop nou en dan nog 'n dooihou.
Toe oom Sybrand van Henning se kamer af terugkom, het hy blaas-blaas op die bed gaan sit en hom begin uittrek. Sy het ingekom, haar uitgetrek en op haar plekkie gaan lê, ver van hom af, want die bed is gelukkig breed. Hy blaas die kers dood, en sonder dat hulle verder praat, wag hulle op die slaap, terwyl 'n drukkende, woordelose stilte om hulle draal, nadruklik, asof nog iets gesê moet word voor hulle inslaap.
| |
| |
Sy lê 'n ruk doodstil. Sy weet dat hy nie slaap nie. Dat hy nie kan slaap nie. Dan kom haar woorde, met 'n trilling van skuheid daarin soos by mense wat ingetoë van aard is en gedwing word om 'n bevel te gee. Dit klink vreemd in die nagtelike kamerstilte op, dit kom brutaal oor 'n lang stilte heen wat opgegroei het uit die dae en nagte van vervreemding en kille verwydering. Oom Sybrand luister daarna met verskerpte aandag, want op hierdie uur het dit 'n klank, 'n sin wat byna onaards helder is, anders as wanneer die daglig daar is en die gees nie so bevatlik is nie.
‘Sybrand, ek vra jou nou mooi om vir Henning ordentlik te behandel. Hy is jou kind. Ek waarsku jou.’
Geen antwoord van hom af nie. Net sy sware asemhaling, wat toon hoe aandagtig en nukkerig hy luister.
‘Jou hart is verhard. Jy weet nie meer wat liefde is nie. Jy trap alles dood. Jy het blind geword. Onthou: God slaap nie.’ Nog geen antwoord nie. Hy haal net swaarder asem. Sy het haar pyle goed gemik. Hy moet maar dink wat hy wil. Sy het genoeg gesê.
Dan kom die stilte weer. Dit spoel agter die woorde in. Dit oorweldig alles. |
|