| |
| |
| |
Hoofstuk VIII
I
Annie het 'n brief aan haar vader geskrywe sodra sy verneem het van die ‘gedoente’ met die weduwee van Buks. Sy het egter geen antwoord ontvang op haar dringende waarskuwing dat haar vader sy eie graf grawe, dat hy totaal verblind is, want dié ‘flêrie’ wil net kyk hoeveel sy van sy goed kan inpalm. En het hy dan so vir oorlede moeder vergeet?
Toe sy verneem dat haar vader, in weerwil van alles, met Maggie getroud is, was sy byna rasend van verbitterdheid, en sy en Hennie het een aand plegtig besluit dat hulle nie weer hulle voete op Boskloof sal sit nie, want die skande ‘skrei ten hemel.’
Maar toe het die berig deurgelek, waarskynlik van Maggie se familie se kant af, dat oom Sybrand die testament verander het en dat Maggie nou die helfte van die losgoed sal kry. Annie was spierwit toe sy dit verneem; haar lippe het begin bewe en sy het histeries in trane uitgebars en gesnik: ‘As ma dit moes weet ...’ Sy het vir Hennie aangespoor om die volgende more vroeg na Boskloof te ry, sodat sy self kan gaan hoor watter waarheid daar in al dié riemtelegramme skuil.
| |
| |
Oom Sybrand staan op die stoep en soos so baie dae wat agter die rug is, kyk hy oor sy plaas heen, maar dit is nie met die vaste oog van die organiseerder en plannemaker nie, dit is met 'n verbysterde gelatenheid van 'n man wat voel dat daar magte is wat hom geskud het tot diep in sy lewenswortels; hy besef dat daar veranderinge in sy lewe dreig wat opgeboude, vasgegroeide dinge aantas, hulle skend en wil laat neerstort. Dit loop verkeerd! Dit weet hy nou, maar by die heerssugtige boer wat vroeër groot moeilikhede met 'n deurtastende beslistheid kon afhandel, is daar nou dinge op die spel, werk daar gevoelens, waarteen hy nie kan stry nie, gevoelens wat vir hom, die eenmaal so strydlustige, in 'n bedremmelde verwarring bring.
Noudat sy lewe al vaster in hierdie spinneweb gedraai word, verlang hy na sy seun en sy dogter, verlang hy met 'n stille weemoed na die dae toe hy met hulle deurgebring het. Vroeër was alles tog soveel eenvoudiger! Dit is daarom dat hy met vreugde 'n kar in die pad merk wat baie na Hennie s'n lyk, en toe dit deur die leegte kom en hy sien dat dit ‘die kinders’ is, gee sy hart 'n bons van blydskap en hy stap dadelik na die hekkie voor die huis en wag met 'n glimlag op sy gesig hulle koms af.
Die kar het skaars stilgehou of hy loop opgewek daarheen en vra: ‘Het julle die kinders
| |
| |
saamgebring?’ Maar toe hy merk dat hulle nie daar is nie en dat Annie hom skerp en sonder 'n glimlag aankyk, sak sy moed en hy slaan sy oë teleurgesteld neer. Annie soen hom so effens en Hennie is so koud en ver weg of hulle mekaar nog nooit ontmoet het nie.
Vroeër sou oom Sybrand se trotse natuur so 'n aanstellerigheid nooit geduld het nie en hy sou hulle gou laat verstaan dat hy met dié soort bog nie gediend is nie. Nou het hy 'n dowwe skuldgevoel wat in helder en duidelike optrede verlam; ja, nou het hy behoefte aan hulle vriendskap meer as ooit, want daar het 'n leegte in sy lewe ontstaan wat hy vroeër nooit so aangevoel het nie. Hy vrees die groot oomblik wanneer Annie en Maggie mekaar moet groet, want by al dié omwentelinge is Annie nog ouer as Maggie! Sy gaan nie dadelik in die huis soos vroeër nie, maar wag by die kar tot hulle klaar uitgespan het, en dan loop sy naas haar vader met 'n vyandige afsydigheid wat hom baie diep seermaak. Hulle gaan sit in die eetvertrek - mense wat mekaar so goed ken, maar nou deur omstandighede kil teenoor mekaar voel.
‘Hoe gaan dit met die boerdery?’ vra oom Sybrand, maar dit is nie die vaste stem van vroeër nie, en Annie merk duidelik die nederigheid en moegheid daarin.
‘Goed, pa.’ En dan is dit weer stil, 'n stilte waarin veel wat vroeër in hierdie huis plaas- | |
| |
gevind het, 'n ontstellende aanwesigheid toon, sodat die drie mense voor hulle kyk asof hulle afstaar in die tydelose en hulle vir 'n oomblik losgemaak is van die skaafplekke van nietighede wat die lewe 'n ondraaglike iets maak.
Ja, daar is dit nou! Maggie kom met 'n vriendelike glimlag binne, maar Annie groet haar net met die punte van die vingers en gaan toe weer pen-regop sit met haar handsak vasgeklem in haar skoot.
Maggie voel die vyandige in die atmosfeer; sy het verwag dat Annie 'n bietjie stug sal wees, maar hierdie vermakerigheid in haar huis laat 'n groen vuur in haar oë kom, sy voel lus om met die mag waaroor sy nou beskik nadat sy 'n bywonersvrou was, aan die twee neusoptrekkerige goed te sê dat hulle maar weer kan inspan, dat hulle hier nie welkom is nie! Sy het 'n woeste begeerte, ná al die smaad wat sy as arm mens moes verdra, om sosiale wellewendheid na die maan te laat vlie en vir 'n slag haar heerskappy deur te voer met al die wrede ongevoeligheid wat die meer-bevoorregtes altyd so striemend op haar laat val het.
Hier moet Sybrand duidelik kies; hy kan en durf nie vir 'n oomblik weifel nie. Haar oë is op hom gerig asof sy 'n beslissing van hom afdwing. Sy het al gehoor dat hy baie van Annie hou, maar nou moet hy duidelik laat blyk dat hy voorkeur gee aan sy vrou en enigiets - al
| |
| |
is dit ook sy eie dogter uit die huis ja - vir haar sal doen. Haar gees verlang dit byna met 'n stroewe eis wat geen rekening hou met die fyner menslike verhouding nie. Daardie dae toe sy in 'n bywonershuisie gesit het en stompsinnige vrouens wat toevallig net meer as sy besit, haar gedurig laat voel het wie sy is en haar daagliks gekwes het met hulle spoggerige onbeskaafdheid, is in haar ingebrand, sy sal haar wreek. Nou het sy die mag in die hande en sy sal haar nie maklik laat afskrik deur die houding van Annie, wat haar so onaangenaam herinner aan haar vernedering van vroeër nie.
Oom Sybrand voel dat hy die wanverhouding moet herstel, want as dit nie gebeur nie, dan kan die stilte wat nou om hulle vol dreigende moontlikhede hang, netnou oorgaan in 'n katterige getwis tussen die twee vrouens. Daarom sê hy, met sy oë gemaak-vriendelik op Annie gerig: ‘Annie, julle was rêrig lanklaas hier. Dit is ook maar 'n lang end pad om af te lê.’
‘Ja, pa,’ en dit ontgaan Maggie se skerp oë nie dat Annie daar moederlik en baasspelerig sit of sy haar oorlede ma opgevolg het en nou, vanuit die hoogte, 'n rolletjie in hierdie huis kom speel. Maggie se neusvleuels roer; sy vou haar arms uitdagend, trek haar kop agteroor en kyk met 'n plooi van minagting op die lippe, waaronder tog ook duidelik verbloemde minder- | |
| |
waardigheidsgevoel lê, na die ontwikkeling van die gebeurtenisse om haar.
‘Maggie en ek,’ sê oom Sybrand met 'n stem wat bewus vrolikheid suggereer, ‘het gedag om julle op ons troue te sien. Ons was rêrig jammer dat julle nie gekom het nie.’
‘Ons kon nie gaan nie, pa,’ sê Annie en sy kyk vlugtig na Maggie met 'n blik so skerp soos 'n skeermes.
‘Ek is rêrig spyt,’ sukkel oom Sybrand wanhopig met die geselskap voort. ‘Maar nou is ons darem baie bly dat julle gekom het. En hoe gaan dit met die kinders?’
‘Goed, pa,’ sê Annie, en daar kom meteens meegevoel in haar op vir haar vader. Dit is net soos sy gedog het. Dié rissie het die eensame ou man in die strik gelei net om te erwe. Sy kom nie verniet van die lae ou spul daar onder uit die dorp wat soos 'n klomp haaie aas net waar hulle iets kan kry nie. As dié skepsel nie dopgehou word nie, sal sy alles wat moontlik is, na die dorp toe laat aan karwei om die spul daar aan die lewe te hou. As niets kom tot iets! As dit nie was om haar vader se ontwil nie, dan het sy sommer nou 'n potjie met die vraat geloop en haar so sleg gesê dat sy lank sal onthou uit watter lae omgewing sy haar met behulp van lis en onderduimsheid in 'n ordentlike huis ingedring het.
‘Hoe lyk dit dan met koffie, vrou?’ sê
| |
| |
oom Sybrand, alhoewel hy voor sy siel weet dat hierdie ou, vertroulike toon van hom min pas by die jong vrou, wat haar bes doen om enige ooreenkoms tussen haar en die gestorwe ‘ou tante’ in die kiem te smoor. Sy weet nog self nie baie duidelik wat haar houding in die nuwe omstandighede moet wees nie, maar haar strydgevoel is opgewek om haar plek te handhaaf teenoor inhalige kritiseerders en om haar man duidelik te laat verstaan dat sy nooit verneder sal word tot die slaafse onderworpenheid van sy eerste vrou nie - daarvoor maak sy staat op die krag van haar jeug.
Sy staan traag op, half bly om vir 'n oomblik uit dié atmosfeer van opgekropte nydigheid verwyder te wees, alhoewel haar ore skerp daar in die spens gespits is om elke woord op te vang wat moontlik haar nuwe baasskap kwaad kan doen. Annie gee ook nie om dat sy dit hoor nie; haar opmerkings is eintlik so bedoel, want sy voel diep gekwes dat haar vader die goed wat sy moes erwe, nou gaan verdeel en die helfte aan dié aasvoël gee. En Hennie se skuld druk hom so dat die berig van die ‘slag ’ wat hulle getref het, hom baie bitsig oor sy skoonvader laat praat het, iets wat hy vroeër nooit voor Annie gedoen het nie. Maar hy swyg nou, want hy weet dat Annie die beste persoon is om hierdie saak aan te pak.
Sy wag nou ook nie langer nie, want dit is vir
| |
| |
haar uit die staanspoor duidelik dat sy so gou as moontlik uit hierdie huis moet weg en dat daar - dit het sy met die vinnige opmerkingsgawe van 'n vrou gemerk toe sy na die verandering aan die huis en dié vrou se klere gekyk het - van die losgoed nie veel vir haar sal oorbly solank as dié skepsel maar vry gelaat word om te aas soos sy wil nie. Sy draai haar daarom effens skuins na haar pa toe en in 'n verwytende toon begin sy: ‘Pa, Hennie en ek het vandag hierheen gekom om met pa te praat. Ons het pa eenmaal 'n guns gevra toe oorlede ma nog gelewe het. Pa wou ons toe nie help nie. Daarna wou pa ons nie kans gee om op Boskloof te kom bly nie, want pa het gesê dat familie vir sulke dinge nie deug nie. Maar nou hoor ons dat pa 'n ding gedoen het wat ek nooit van pa verwag het nie. As ma dit moes weet, sal sy nie in haar graf rus nie ...’ die laaste paar woorde was reeds huilerig, maar nou kom die trane vinnig en sy bring haar sakdoek na haar oë en vreemd gaan dit om so 'n gesette vrou so fyn te hoor huil, want die klank kom soos 'n dun straaltjie deur die lug.
Oom Sybrand skuiwe in die stoel rond, vrywe met sy hand deur sy harde hare en sê: ‘Maar wat het ek nou gedoen wat so verkeerd is?’
Hy voel skuldig, innerlik vol konflikte, en daarom die verskonende houding teenoor sy dogter. Annie hou op met huil en sê heftig:
| |
| |
‘As pa my heeltemal wil onterf, dan moet pa dit nou maar doen. Pa het totaal blind geword en sal pa se eie kinders vertrap vir ander. Maar God slaap nie, dit moet pa onthou!’
Oom Sybrand blaas swaar; hy voel dat daar waarheid in sy dogter se woorde is en daarom sê hy weer paaiend: ‘Jy het nie die regte ding gehoor nie, my kind. Mense lieg en skinder baie.’
‘Nou sê dan reguit vir my pa,’ kom haar woorde ongenadig, ‘het pa die helfte van die goed wat aan my bemaak was, nou bemaak aan haar?’ en sy knik met die kop na die kombuis se kant toe.
Oom Sybrand sit lelik in die knyp. Hy kan 'n leuen vertel, maar dan sit sy turf by sy vrou. Al wat hy kan doen, is om vaag en ontwykend te praat.
‘My kind, jy sal jou deel kry,’ sê hy.
‘My deel? Wat sal vir my oorbly, dink pa? Pa moet die dinge laat net soos dit was. Dit is pa se erewoord. Die nuwe testament moet stukkend geskeur word. Ek sal nie rus voor dit gebeur het nie. Dit kom my toe. Dit is diefstal van my goed as dit anders is. Toe, pa?’
Oom Sybrand swyg. Hy voel hoe 'n gevoel van weekheid oor hom kom, hy voel opeens oud, nie meer so kranig soos vroeër toe mens duim-vir-duim vir aardse goed kon veg met 'n verbetenheid of dood en lewe daarvan afhang
| |
| |
nie. Maar in sy aarseling het iemand anders swakheid, moontlike tekens van toegee bespeur; die deur swaai oop en Maggie staan daar met vlammende wange.
‘As jy dit doen, Sybrand, is die duiwel los! Dit sê ek vir jou!’
Haar oë brand in syne. Nou is die dam gebreek, die opgekropte woorde kan die daglig sien.
‘Hou jou uit hierdie sake,’ sê Annie vir haar en kyk haar verkleinerend aan; ‘ek praat privaat sake met my pa en jou raad is hier nie nodig nie.’
‘Praat jy met jou meid?’ sê Maggie bloedrooi; ‘jy moet onthou jy is in my huis. Jy kom net hier om erfgoed te aas, anders het jy jou eie pa verwaarloos.’
Dit lyk of Annie haar wil storm.
‘Jou lae inkruiper,’ sê sy, ‘dink jy ons ken jou nie? Jy wat jou oorlede man so agter sy rug bedrieg het. Jy moet trap voor my oë. Jy wat met my vader getrou het net oor sy goed, om jou ou hele pakaas op die dorp aan die lewe te hou. Trap! Ek wil met my pa praat! Trap na die kombuis waar jy tuishoort!’
Sy draai haar weg van Maggie om te wys dat sy nie nog 'n woord verder op haar wil verspil nie.
Maar nou kom die swaar keuse vir oom Sybrand, die bitterste wat hy in sy hele lewe
| |
| |
moes maak. Hier Annie, sy geliefde kind, en daar sy jong vrou. Maggie se gesig is soos verbleikte porselein.
‘Sybrand, staan jy daar en laat jy my so beledig! Ek wil dié vrou nie een minuut langer in my huis hê nie. Ek eis dit.’
Daar is nou geen middeweg, geen toesmeer of paai meer. Hy wag, en in daardie oomblik dat hy wag, word baie dinge in sy lewe beslis.
Annie het opgestaan. ‘Kom Hennie,’ sê sy, ‘pa kies kant teen my. Eers was dit Henning wat moes trap en nou is dit ek. Maar God slaap nie. Hierdie vreeslike onreg sal gewreek word. Ma sal in haar graf nie rus nie. Sy sal haar kom wreek! Jy,’ en sy wys na Maggie, ‘sal nie rus nie. Aan God kom die wraak toe.’
Sonder om om te kyk, loop sy en Hennie by die deur uit. Oom Sybrand lig sy regterhand op of hy dit wil verhoed, maar dan val dit magteloos aan sy sy, en gebroke sien hy hoe Maggie hom bleek maar met 'n nouliks bespeurbare triomflag staan en aanskou.
| |
II
Dit is ná voorvalle soos hierdie dat hy rus begeer, en alhoewel hy dit nie wil erken nie, na die simpatie van 'n medemens verlang. Dit is alles troebel en verward in hom, en daar is nou nog net een groot vreugde en dit is sy boerdery,
| |
| |
sy ‘goed’. Hy staan nou maar so vroeg op as moontlik, werskaf op die boerdery rond tot laat in die aand om dan, met 'n lam gevoel in sy knieë, die huis te nader en die skimpe of stilswyende veroordeling van sy jong vrou aan te hoor.
Hy kan nie begryp wat daar oor hom gekom het nie, maar sy onversetlikheid van vroeër, toe hy alles in sy pad sou plat geloop het as sy kop in 'n rigting gestaan het, verbreek nou so maklik; hy neem 'n heftige besluit, maar die drif wat daarin opgesluit lê, mat hom af, en anders as vroeër kom daar onverwags in hom 'n diep verlange op na 'n wye, oewerlose rus, na 'n stilte waar die narigheid van elke dag nie soos honde met vuil pote teen hom aanspring nie.
Maar dan veg hy daarteen, want van kindsbeen af is dit vir hom geleer om te stry teen die drang om te rus. omdat dit niks anders as verbloemde luiheid is nie. Dit is daarom dat hy so min as moontlik gesit het, dat hy die lomerige begeerte om in die middag vir 'n uurtjie te gaan lê, altyd bestry het, dat hy geweier het om die bed op te soek al het hy ook hoe siek gevoel. Die lewe, wat niks anders as 'n harde stryd is nie, is tog maar tenslotte 'n moedige verset teen die luiheid, dis 'n gedurige geveg met mens se ingebore laat-maar-loop-neigings. Die lewe is maar net 'n ewige stryd teen die slaap. Dit eis dat mens moet waak - waak tussen dodes. Vandat
| |
| |
mens jou bewussyn kry, ontwaak jy uit die groot slaap, jy moet moedig sukkel om nugter wakker te bly; en dan kom daar die tye, soos hy nou voel, wanneer die suigkrag van 'n ewige slaap, wat net onder ons bewussyn lê, so verleidelik en oorweldigend word dat mens sy wil moet laat geld, moet vastrap om nie meegeneem te word nie.
Hy verset hom soos vroeër teen dié aandrang om te gaan rus, want hier is sy vee, sy plaas, sy gesaaides, alles dele van sy lewe, vasgegroei aan hom soos die bas aan 'n boom. Hy kan dit nie loslaat nie; daar is nog werk om te doen, al weeg die moeilikheid soos 'n swaar rots aan sy lewe. Dit is in tye soos hierdie dat die drang in hom opkom om aansluiting te soek by die stroom wat hy vroeër met minagting verwaarloos het: menslike meegevoel.
Daarom vat hy vandag, teen die agterdogtige vraery van Maggie in, wat steeds op haar hoede is oor die verandering van die testament, sy kar en gaan na die dorp ‘om dipgoed te gaan haal’. Sy wou saam, maar hy het dit vinnig weg gepraat, en nou sit hy ingedagte, terwyl die draaghout tok-tok op die disselboom.
Ver oor die eensame vlaktes, waarop die gras reeds tot geelwit verbleek, trek 'n enkele dwarrelwind en dit draai oor die yltes van bulteeentonigheid weg. Die najaarswydheid hang oor die velde, en met droewe oë kyk oom Sybrand
| |
| |
daarna; dit is vanmore alles so ontsaglik en wyd en hy voel soos 'n verlore mens in die ruimte, soos een stukkie lewe, te midde van al die ontelbare vorme, wat wil lewe, wat hulle wil handhaaf teen die afbrekende kragte wat altyd stilswyend aan die werk is.
Hy span by die agterplaas van die winkel uit, bestel 'n klein klompie dipgoed, en toe loop hy, onseker of hy die saak reg aanpak, na sy suster se woning toe. Een keer was hy net vlugtig daar ná hulle vertrek om 'n sakie in verband met die lening af te handel, maar vandag kom hy soos 'n hongerige, soos iemand wat smeek om heling en hulp.
Sonder om te klop, stoot hy die gebarste deur van die vervalle ou huisie oop en loop na binne. Die klein voorhuisie is skemerig en stil, en hy gaan na die kombuis toe. Tant Maria staan en stryk en haar oë rek groot toe hy inkom. Die moedige vrou hou die huishouding aan die gang, en, met pêrels sweet wat op haar voorkop staan onder die gryserige hare, stryk sy, stryk aaneen vir die ‘ryk mense’ van die dorp. Die trotse boervrou van vroeër met haar regophouding, haar fiere blik moes buig voor die onvermydelike, maar die wil is nog in haar, dit sien oom Sybrand dadelik aan die krag waarmee sy die werk aanpak en die kraaksindelikheid van die eenvoudige huurhuisie.
| |
| |
Hy loop na haar toe en onseker, met 'n bewerige mond, soen hy haar.
‘Hoe gaan dit met jou?’ sê sy vriendelik, en dit is of hy 'n stem van lank gelede hoor, uit sy kindertyd, en dit vul hom met diepe vreugde.
‘Kom ons gaan sit daar voor,’ sê sy.
‘Nee,’ antwoord hy, ‘ek sit sommer hier op die kassie. Hoe gaan dit met jou en Gert?’
Waarom sou sy suster hom nie uit die huis jaag, hom bitter verwyt oor alles wat hy aan hulle gedaan het nie? Maar sy doen dit nie. Haar helder blou oë het 'n hartlike glans; dit herinner hom soveel aan die tye toe hulle saamgespeel het, jare gelede, toe die lewe so belofteryk en vol wonderlike kragte was.
‘Nee dit gaan,’ sê sy, ‘Gert kry nou en dan 'n los werkie te doen. Dit is darem alte jammer dat daardie man nie vir iets geleer het nie. Hy kan rêrig nie sy hande gebruik nie. Dit is darem onregverdig dat sulke mense deur die lewe moet loop op 'n verkeerde pad. Hy is nie gelukkig nie. En daar is vir jou 'n man met 'n hart van goud, maar hy is in 'n verkeerde rigting ingedwing. Nee, dit gaan. Die Here sorg vir ons. Met was en stryk kan ek darem die kinders in die klere hou. Maar ek moet vroeg opstaan en laat gaan slaap. Maar ek is nie bang vir werk nie. Daarvoor lewe 'n mens. En hoe gaan dit met jou? Jy het mos nou weer 'n jong vrou,’ sê sy half spottend.
| |
| |
Hy gee 'n groot sluk en antwoord met 'n flou glimlag: ‘Nee, dit gaan aan dankie.’
Hy kyk voor hom, en sy suster wat hom so goed ken, merk dadelik dat daar fout is. Wat is dit met die puntenerige broer wat so onafhanklik van gees was dat mens hom, by al sy krimpvark-streke, moes bewonder?
‘Jy het oud geword,’ sê sy, ‘kyk jou hare langs jou slape.’ Hy knik aanhoudend. Waarom word hy nou nie kwaad omdat sy sê hy is oud nie? Hy hoor dit nou met 'n gelatenheid wat weldadig is en nie met 'n bitter opstandigheid van die wilde bloed in hom nie.
‘En jou hare is ook grys,’ sê hy.
‘Ja, die lewe werk maar straf met 'n mens. Die lewe is anders as wat mens jou voorgestel het toe jy 'n kind was. Maar vastrap is al. Mens moet jou wil nie verloor nie.’ Hulle kyk na mekaar en glimlag effens. Hulle verstaan mekaar ondanks alles wat voorgeval het. Hulle is albei uit dieselfde harde hout gesny.
‘Ja,’ sê hy asof hy op 'n vraag antwoord wat net in haar oë lê, ‘die lewe het vir my ook baie dinge geleer.’
En sy hoor duidelik aan daardie woorde wat daar in hom omgaan, en sonder enige bitterheid oor wat hy aan hulle gedoen het, kyk sy na hom met die warm simpatie van 'n suster.
| |
| |
| |
III
Maggie se krampagtige vashou aan haar standpunt, haar besluit om te hou wat sy het, tel op haar senuweegestel. Dat sy haar in hierdie huwelik begewe het, het vir haar nie maklik gegaan nie, want sy moes baie in haar oorwin wat in opstand gekom het teen die gedagte om met 'n ou man getroud te wees. Maar haar ouers, wat daagliks nie weet wat hulle more sal eet nie, het alles in hulle vermoë gedoen om haar aan te vuur, te oorreed en selfs te dreig. Sy sou veel eerder met die jong, kragtige konstabel getrou het, wat vroeër so lank voor hulle huis stilgehou het, maar die armoede in haar ouers se huis, die ellende waarin die ander nege kinders groot word, het haar laat buig voor die bekoring van geld te besit, van iets te wees en nie gedurig soos 'n brak deur onopgevoedes behandel te word wat net 'n raps meer as sy besit nie. Sy het daaraan gedink dat oom Sybrand moontlik nie meer as 'n tien jaar kan lewe nie, en dan het sy genoeg, dan kan sy trou met wie sy wil ... en intussen kan sy die ou man agter die rug soveel kul as moontlik. Dit sal juis 'n besondere bekoring hê.
Maar dit het tog anders uitgeval as wat sy haar voorgestel het, want onmiddellik ná hulle huwelik het dit vir haar, wie se hele lewe so vasgetrek was op die sinnelike, byna onmoontlik
| |
| |
geword om voort te gaan. Sy het die ou man, met sy harde hande en wrede gesig, met al meer afkeur bekyk; dit het vir haar swaar, irriterend geword om met hom saam te lewe, om hom te probeer uitkry uit die voeë waarin hy vassit. Dit put haar uit, sy is senuweeagtig en kan nie slaap nie. Die lewe op Boskloof word vir haar ondraaglik.
En toe het die strawwe rusie met Annie gekom. Sy kon sien dat dit vir Sybrand getref het soos 'n vonnis, want dae daarna was hy stil en verslae, maar sy het haar sin gekry, en dit is die vernaamste. Sy het nie verniet die opoffering gemaak nie. Sy moet baie mooi kyk dat sy nie bedroë uit die hele ding kom nie. Maar nou ... daardie vervloeking, daardie oproep van die dodes se mag deur Annie verontrus haar, want van kindsbeen af is sy geleer om te glo aan duister, bo-aardse magte, aan goëlery, aan dwaalgeeste. Sy onthou maar te goed al die verhale wat sy gehoor het van dodes wat nie kan rus nie, wat hulle kom wreek, omdat ander onreg pleeg teenoor hulle kinders of besittings. In die huis van ouma Willa was dit al vir haar vreeslik, en Buks kon haar heimlike angs nooit begryp nie, maar dit was vir haar alte duidelik dat, alhoewel mens dit nie kan sien nie, die kwaai ou vrou se gees in die huis rond dwaal, dat sy vyandig is teenoor die nuwe bewoners van die plek en nou nog, al is sy reeds in Boskloof
| |
| |
se aarde begrawe, haar teenwoordigheid laat geld met die grieselige mag wat die dwaalgeeste steeds behou oor die lewendes.
As daar een ding is, waaraan sy baie waarde heg, dan is dit 'n vervloeking. Haar vader het so baie vir hulle vertel dat sy vader hom vervloek het, omdat hy eendag met hom parmantig was, en sedert daardie tyd was dit of duiwelse magte teen hom saamwerk; hy het sy plaas verloor en kon daarna nooit weer 'n vaste staanplekkie in die lewe kry nie, so het die vloek hom agtervolg.
En nou Annie se vervloeking, haar roekelose inroep van 'n dode om in te gryp en wraak uit te oefen. Selfs bedags skrik Maggie hewig as daar net iets in die huis kraak. Dit is duidelik dat in hierdie huis, net soos in ouma Willa s'n, daar 'n gees ronddwaal wat liefderyk vertoef by die aardse goed waarmee sy daagliks omgegaan het en jaloers duister magte loslaat om Maggie se lewenslot te beheer en haar val te bewerk.
Die dodes van Boskloof wat onafgebroke hier gearbei het, wie se handewerk oral staan, wie se liggame vergroei was met die grond van die plaas, skuifel onsigbaar deur hierdie huis, hulle is op die plaas rond, hulle wil dit bewaar vir hulle bloed, hulle wil kontinuïteit hê, hulle wil voortgaan in hulle nageslagte. En hier is sy 'n indringer; ja, van die skaduwees in die
| |
| |
hoeke van die kamer, van die gekraak in die vloere, van die dak hou hulle haar dop, weef hulle onsigbare drade om haar planne te vernietig, want hulle waak oor die grond van Boskloof, hulle sal sorge, met die bo-menslike wapens waaroor hulle beskik, dat dit nie in vreemde hande kom nie.
Snags word die vrees op sy ergste, want alhoewel sy met die krag van die jeug vir oom Sybrand beveg as daar tekens is dat hy haar 'n minderwaardige rol wil laat speel, voel sy diep-in tog bang dat hy eendag kan losbreek en moorddadige dinge kan doen, want dit is vir haar duidelik dat daar iets in hom onderdruk is en lê en smeul. As sy dan luister na sy swaar asemhaling, word sy benoud, want ook hy behoort aan die magte wat waak oor die huis en plaas.
Sy luister. In die spens loop daar iemand met moeë voete; dit is 'n vrou wat saggies huil, en dit klink aangrypend weemoedig in die nag, asof veel verdriet wat in stilte gely is in hierdie huis, nou eindelik uitdrukking vind in daardie wanhopige gesnik van 'n eensame, wat selfs na die dood nog so alleen bly en verlate ween om 'n verlore, nutteloos geslete lewe. Met swaar kloppende hart gaan Maggie regop sit, steek die kers aan en voel of sy van die angs kan sterwe.
| |
| |
| |
IV
Oom Jaap het deur die harde slae van die lewe en deur 'n fyner kennis van die wispelturigheid en omstandigheid van 'n medemens se trou in krisistye baie geleer. Hy het stiller geword; sy heftigheid het baie bedaar, en hy sit nou meestal in die son, want dit is vir hom haas onmoontlik om met die verstyfde been te loop, 'n been wat soms sulke skerp pyne maak asof hy in 'n skeermeslem getrap het. Die dokter se raad is minder werd as wind, en hy het al tweekeer die bossiedokter daar gehad wat met modderpleisters, veldkruie, voetbaddens wat na 'n stal ruik en gladde smeermiddels vir 'n tydjie verligting gebring het. Maar nou help niks meer nie. 'n Ramsmous, wat 'n groot naam vir dergelike dinge het, het ook die been bespreek, en dit het rêrig gevoel asof al die kwale daaruit is, maar die volgende dag was die gevreet weer daarin, en van toe af het oom Jaap swaarmoedig begin word, want dit lyk werklik vir hom of die been nog sy dood sal kos. Hy dra geen bitterheid meer teenoor Henning nie, want nadat hy en Johanna getroud is en hy die tweehonderd morge gehuur het wat aan syne grens, wil die kêrel hom morsdood werk, seker omdat hy wil wegkom van die skimpe van die skinderbekke wat niks vergeet nie.
Tog 'n alte mooi ou seuntjie wat hulle het!
| |
| |
Net jammer dat hulle die kind Sybrand gaan doop het, want van dié ou korrelkop wil hy niks weet nie. Dit is ook maar goed soos die gerugte dit wil hê dat die jong vrou hom straf opkeil; dit is net wat hy nodig gehad het om die duiwel wat vroeg al in hom gevaar het, uit te stamp.
Ja, dit is tog vreeslik dat sy arme dogter so moes ly vir die onskuldige kindjie, en nou is sy die gelukkigste mens op die wêreld; sy lag gedurig en het 'n groot, fris boerevrou geword. So gaan dit met 'n mens: die kinders word groot, jou lewe slyt weg, hulle moet in jou plek kom, maar dit is swaar om af te gee, seker die moeilikste ding op die hele wêreld. Hy kyk oor die veld heen. Die wit wintergras staan roerloos met die sagte, koesterende son daaroor heen; dit nooi vir hom, die sieke en gekwelde, om daarheen te kom soos jare gelede toe hy kruis en dwars oor die plaas gestryk het. Dit nooi hom uit op sy leeftyd, want dit gee hom meer rus en geluk as die ydel geselskap van mense, van sy kastige vriende wat hom so in die steek gelaat het toe die moeilike dae gekom het.
Langsaam staan hy op, druk swaar op sy kierie; dit is of sy siel en gedagtes uitgaan na daardie vredige velde, waarin hy een van die dae moet slaap. Maar dit skrik hom nie af nie. Dit is 'n gedagte wat groot en dankbare gevoelens in hom wakker maak. Om aan die einde van jou lewe, ná 'n stryd wat seker nie maklik
| |
| |
was nie, terug te keer na die roerlose stilte wat daar op die gras lê, is 'n troos wat met 'n weemoedige blyheid in hom lê. Dit gaan, die een geslag na die ander, maar die grond wag om bearbei te word. Ná hom sal daar nog baie boere kom, hulle sal buk oor die aarde soos hy gebuk het en ook hulle sal deur die grasvelde na hulle laaste slaapplek uitgenooi word. Net God bly, God in en deur wie alles bestaan; God wat meer is as alles, en in sy alwetendheid gaan hulle weer rus nadat hulle, ryp geword in ervaring, die onvermydelike leer eerbiedig het.
Met groot gesukkel gaan hy by die dam verby. Dit is vir hom tog alte mooi om die breë plaat blinkende water te sien met die groen lusern daaronder. Hy loop half uitasem tot by die plaaslyn; gestut deur swaar klippale, daar deur 'n onvermoeide voorgeslag aangery en ingeplant, streep dit oor die bult om sy grond van die van ou Sybrand te skei.
Maar wat is dit? Hier kom die ou by die kloof uit, waarlik reguit na hom toe. Hy wil maak dat hy dadelik wegkom, maar dit gaan so langsaam. Oom Sybrand kruip al deur die draad en pyl reguit op hom af, en nou moet hy, totaal onvas oor die houding wat hy teenoor sy ou vyand moet inneem, maar gaan staan. Hy voel vererg en verbyster.
‘Middag,’ sê oom Sybrand en steek sy hand uit.
| |
| |
Oom Jaap aarsel; dan vat hy die gelooide hand. So onder sy ruie wenkbroue deur kyk hy na sy ou mededinger en die se gelaat, maer en vol plooie. Die ou strakheid in hom het verminder, want leed en deernis is vir hom in die laaste tyd die enigste egte dinge in die lewe. Maar wat sal hulle nou vir mekaar sê?
‘Ek hoor dit gaan nie goed met jou nie,’ sê oom Sybrand, en die hartlike belangstelling bring 'n vreemde lig in oom Jaap se oë; ‘ek het gedag ek sal maar net kom vra.’
Oom Jaap kyk na die grond en sê: ‘Ja, jy het reg gehoor. Dit gaan nie goed nie. Hierdie been sal nog my dood kos.’
Dan is daar 'n simpatieke stilte.
‘En nou is ons kinders getroud,’ sê oom Sybrand na 'n ruk.
‘Ja, nou is hulle getroud.’
Oom Jaap voel opeens 'n knop in sy keel; die erns, die dwingende opregtheid by die ou vyand hier voor hom, ontwapen hom, ontroer hom.
‘Ons altwee word oud,’ sê oom Sybrand; ‘en daarom hinder een ding my baie wat ek lankal vir jou wou gesê het. Mens leer baie; die ou lewe gee vir ons harde klappe. Mens verstaan stadigaan dat jy nie so in kwaai vriendskap met mekaar kan lewe nie. Daardie een ding moet reg!’ En toe met 'n moedige poging onthul hy die kwelling wat so lank al op hom druk; ‘ek het
| |
| |
daardie tyd jou dam oopgetrek, omdat ek die water nodig gehad het.’
‘Ek weet.’
‘Ek moes dit vir jou sê.’
‘Baie dankie.’
‘Nou ek moet loop. Baie goeie beterskap met jou been.’
‘Baie dankie.’
Hulle twee hande vang mekaar net vir 'n oomblik en hulle oë sê skugter vir mekaar wat baie woorde nie kan doen nie; en toe loop hulle weg, elkeen in 'n eie rigting, elkeen op sy eie grond, op die plase wat hulle liefhet. Hulle is maar klein stippeltjies temidde van die wit wintervelde wat 'n verlate wydsheid om hulle bou en wat hulle dra, beskerm en sal vernietig soos baie wat voor hulle en soos baie wat nog ná hulle sal kom in die voortskakelende gang wat alle lewe is.
| |
V
Dit is 'n koue en nat winter en oom Sybrand, wat nog altyd sukkel om geskikte werkvolk te kry, moet tot laat in die aand sukkel met die lammers terwyl die onvriendelike wind sy liggaam, wat nie meer so goed as vroeër bestand is teen die natuur se geweld nie, laat rittel van die koue. In die nag moet hy dikwels opstaan, want vir twee dae aan mekaar het daar 'n
| |
| |
deurdringende winterreën geval, die lammers het verkrimp langs die mure gestaan en 'n twintig is in een nag dood. Alleen moet hy in die pappery van die kraal sukkel, sy skoene sopnat en sy broekspype klewerig van die nat mis. Hy dink nou dikwels aan Henning. Alhoewel hy met geen mens daaroor wil praat nie, verlang hy dat sy seun moet terugkom, want hy het hom nodig, hy sal hom nou as 'n aanvulling en hulp beskou en nie as 'n bedreiging vir sy heerskappy en net 'n bewusmaking van die aftakeling wat die ouderdom meebring nie. Maar Henning kom nie. Dit is duidelik dat as sy eie kop hard is, dan is dié van sy seun net so hard.
Dit vul hom nou met 'n duister trots dat die seun van hom, voortsetter van 'n geslag van wilskragtige mense, nie 'n papbroek en inkruiper is nie, maar onafhanklik en trots bly net soos hy self en sy vader - ja, uit dieselfde harde hout gesny! Hy het geleer om dinge anders te sien, om die diepe vervulling waarna die lewe altyd soek, te gehoorsaam en te eerbiedig, omdat elke verset daarteen noodlottig is, omdat alle dwarskoppige ingryping op die lewe se vaste werking, se onstuitbare uitgroeiing, noodlottig is en diepgaande gevolge het. Die lewe wag vir niemand nie; dit stu voort, dit skep en kom tot volwassenheid; dit gebruik en versmyt; dit is onversadigbaar wreed, omdat dit self,
| |
| |
net soos hy, aan 'n donker wil gehoorsaam wat die mens voortdryf, blind en so dikwels onredelik, al is dit teen sy beste wil in, al lei dit dikwels tot sy ondergang.
Dit het hy met hierdie tweede huwelik ervaar. Terwyl hy lammers by 'n misvuur warm maak, ander uit 'n bottel voer, maer ooie in die tuinkampie ja en in die tussentydjies help werk aan 'n skuur, waarmee twee kleurlinge besig is, maal sy gedagtes rusteloos en soek hy na 'n verduideliking vir sy handelwyse, na begrip van sy dade.
Dit was of 'n swaar wind hom teen 'n helling afdrywe; al sy redenasie dat hy nie moet gaan nie, het nie gehelp nie, want dit het sy houvas losgemaak, en met 'n drang wat die jeug sulke verspotte dinge laat doen, het hy ook agter sy begeerte aangeloop, maar wat by die jeug natuurlik was, was by hom belaglik en verwronge; dit is daarom dat die mense so na hom gekyk het, dat hulle gelag het as hy verbykom, dat daar 'n verborge opstandigheid was omdat die natuurlike aangerand en die eenmaal erkende gang van die lewe geweldaddig onteer en omgekeer moes word.
Hoe is dit dan dat hy dit nou eers sien? Dat hy vroeër soos 'n onkeerbare woesteling teen alles ingebeur het wat die vasgelegde begrippe verbied het? Langsaam lig daar aan
| |
| |
die kim van sy wete nuwe wysheid, insig wat alleen met bitter ervaring gewin word.
Maar die helderheid oor sy hele lewe kom maar net met oomblikke; dan is hy vergewensgesind, vol begrip en nederig. Maar in die laaste tye kom daar weer swart vlae van onredelikheid, van wyk-vir-niemand-nie, en dan word dit woes en onversetlik in hom. Maggie het dit gesien. Haar kort houvas oor hom verminder. Hy laat hom nie meer hiet of gebied nie.
Sy het haar baie gekul toe sy gedag het dat die ou, afgeleefde vryer dit nie meer lank sou maak nie, dat sy hom sou buig na haar wil. Sy verwardheid sak weg voor 'n ou, herwonne koppigheid. Sy kan sien dat daar 'n groot drif in hom smeul, want as hy haar saans onder sy ruie wenkbroue sit en aankyk, dan wil sy vlug, dan word sy onderworpe en vleierig. Die ‘ou sondaar’, soos hy so dikwels heet, het opgestaan uit die vernedering waarin sy tweede jeug hom gebring het; hy maak stadig die swoele bekoring daarvan los van sy gees. Hy vermoed dat Maggie nie reguit met hom loop nie, dat die poliesman haar besoek net soos hy van die plaas af weg is. Sy vuiste bal swaar in sy sakke, sy voorhoof is gefrons; die eienaar van Boskloof mag lelik geswik het by 'n valgat in die pad, maar hy is besig om weer die leisels te vat, want hy is nie verniet uit harde hout gesny nie!
| |
| |
| |
VI
Oom Sybrand lê nou onrustig in die nag in sy bed, omdat die gedagte aan sy vrou se moontlike ontrouheid hom wakker hou en daar bitter wraakgedagtes in hom spook. Dit is so anders as vroeër toe hy nog sy man kon staan op terreine wat hy ken, waar hy sekuur kon handel en die onverskrokkenheid kon openbaar van die mens wat in die stilte weet watter krag daar in sy murg sit. Nou twyfel hy, want as man wat reeds oor die sestig is, het hy hom gaan begewe op die terrein van die jeug, en die jeug bemin en soek alleen die jeug en duld nie die inmenging van die ouderdom nie, al word dit ook geskraag deur die mag wat deur besitting, deur die dwang van geld verleen word. Dit is 'n onuitgemaakte stryd tussen instinktiewe begeerte en die beveiliging-skanse wat deur die mens se verstand opgebou word: sy besitting.
Die maanlig lê bleek op die vensterraam en daarbuite is die tuin 'n geheim van donker opstekende bome en onaardse lig. Hy vrywe met sy hand oor sy oë en kyk na Maggie. Sy slaap rustig en in die lig van die maan lyk sy vir hom so onwerklik mooi soos hy haar nog nooit gesien het nie. Die gedagte dat sy hom bedrieg en die wete dat sy rede het om dit te doen, laat duister, verwronge begeertes in hom los. In hierdie stilte, waarin die bleek maanlig die
| |
| |
onwerklikheid van 'n ander wêreld bring, kom gedagtes in hom op wat net so ver verwyderd is as die harde, nugter lig van die dag.
'n Drang dryf hom voort om sy hardgewerkte en sterk vingers om haar keel te sit en haar te verwurg, want dan kan geen ander, geen jonger man haar besit nie; dan is sy kwelling oor; die bedrog, die skelm streke agter sy rug, wat hom so hinder met 'n vashoudendheid wat alleen 'n mens van sy jare verstaan, is dan ook op 'n end. Dan sal daar weer rus in sy lewe kom, die rus wat van hom ontneem is op dieselfde oomblik toe hy teruggekeer het na die drifte van die jeug. Maar as hy sy vingers om haar keel sit, dan sal dit ook beteken dat hy homself vermoor, nie omdat dit 'n regsvervolging sal afgee nie, maar omdat hy 'n gedeelte van sy wese sal vernietig wat aan haar bestaan verbind is: die drang om te lewe. Daarsonder sal hy nie alleen rus verower nie, maar erger: die rus van die dood, waarmee die vuur geblus sal wees; die wil om vas te hou, te verower, vooruit te beur, sal verdwyn en daarmee sy houvas en greep, waarsonder hy soos 'n herfsblaar in die diepte moet val.
Hy gaan nou regop in die bed sit en beskou haar verbluf en koppig soos 'n mens wat nie wil erken dat die jeug net daar is vir die jeug nie nie. Hy kan nie afstand doen van die skoonheid wat hom nou só boei dat hy dit sal kan vernietig
| |
| |
omdat dit hom bedrieg en verraai. Hy voel dat dit die wip, die verderf is wat hom sal verongeluk. Ja, sy hande is hard en sterk, en haar keel is sag en wit. Dit sal gou wees. Dit sal voel of hy 'n sterk ding beetpak wat hom na die afgrond toe sleep. Sag stoot sy asem in die nag. Stemme wat kom uit die bleek maanlig, stemme wat die plaas wil behou, hits hom aan, laat hom na sy hande kyk asof hulle voorbestem is om die groot daad te doen.
Hy het die frisheid van die lewe laat verbygaan in sy drang om sy besittings op te stawel, in sy liefde vir sy ‘goed’. Hy het baie dinge verwaarloos; sy oorlede vrou het vir hom niks meer geword as 'n besitting nie; die avontuurlike van die liefde het dood gegaan in die matelose begeerte om meer en meer te hê. So het sy vrou gesterwe lank voordat haar liggaam dood was. Nou wreek die lewe hom; hy voel dat dit die vreeslikste sonde is, dat jy die grootste misstap begaan as jy wil ingryp op die onversetlike gang van die natuur.
Hy staan op en kyk by die venster uit; die wêreld wat uitgestrek lê onder die lig van die maan, is soos die wêreld in hom, totaal anders as gewoonlik, vol dreigende donkerte en onbekende dieptes. Ja, hy staan op die rand van 'n groot afgrond. As hy nou moet handel ... sy twee hande lê op die vensterbank; die maan val daaroor heen en laat gedeeltes van sy lig- | |
| |
gaam in die skaduwee. Hy kyk weer aandagtig na sy hande. Dit is so bevreemdend dat hy nou met hierdie selfde paar hande, waarmee hy so hard gewerk het, wat hom gehelp het om die plaas op te bou, nou die grootste ding van sy lewe moet doen. In sy gees sien hy hom al na haar toe gaan. Dit sal 'n verskriklike oomblik wees; dan is alles oor, dan het die hele wêreld verander, want met daardie een ding sal hy baie kragte in hom wat onstuimig is, weer tot ewewig bring. Dit sal die einde wees van grootse hartstogte wat altyd in hom gebots het. Een vreeslike daad, en daarmee sal alles wat in hom onderdruk gelê het, uiting gevind het. Met 'n swaar slag sal hy na buite bring wat nou innerlik lê en smeul.
So staan hy doodstil, met die sagte maanlig op sy swaar hande wat die vensterbank omklem. So wag hy vir die daad. So wag hy vir die groot oomblik in sy harde lewe.
En dan meteens gebeur die wonder. Die voëls het ontwaak; vrolik begin hulle skreeu, 'n opgewekte lied sing hulle vir die komende dag, wat straks blink oor die aarde sal kom. Met die aankondiging van die nuwe dag stort al die vreeslike gedagtes in hom neer. Dit is of die dwaasheid voor sy oë wegwaai; of die verraderlike wat hom wou mislei, wegvlug. Die wakker boer staan daar ontnugter sy oë en vrywe of hy deur 'n nagmerrie gery is, uit 'n ontsettende
| |
| |
droom ontwaak het en hom selfs skaam dat sulke gedagtes ooit in sy droom opgekom het. Hy trek hom aan, kyk 'n slag na sy slapende vrou, gee 'n lang sug, en gaan dan na buite waar die winterlug aan sy vel byt en hy meteens weer die volledige houvas op die werklikheid het. Fris spoel die nuwe dag in sy are.
| |
VII
Nou is dit weer die nugter, praktiese boer wat uit die muurkassie sy blinkgeslete, swart boekie haal om haarfyn uit te reken hoe dit met die vee staan. Alhoewel dit 'n moeilike winter was en hy reeds 'n hele klomp lammers verloor het, loop daar reeds 'n vyfhonderd in die kamp. Dit laat blydskap in hom kom as hy die getalle so sien staan en nadink oor hoe dit alles in vyf jaar vermeerder sal wees. Gister het hy 'n vierhonderd hamels teen 'n pond stuk verkoop en tien jong osse vir tien pond elk. Die geld het hy gedeeltelik kontant ontvang; vir die res in die vorm van 'n tjek; volgende week gaan hy na die dorp om die tjek in die bank te stoot; die bedrag wat hy ontvang het - 'n honderd en vyftig pond - lê, sonder Maggie se wete, onder sy bed in die swaar trommel toegesluit.
Die groot moeilikheid is nou met die inkomstebelasting. Dit word so gaandeweg al weer tyd
| |
| |
dat hy die ‘papier’ moet invul, en vanjaar sal hy sy berekening baie fyn moet stel as hy by die skuiwergat wil deurkom. 'n Paar keer te vore het ‘hulle’ hom al skerp branders gestuur, omdat hy bedrae uitgelaat het; dié ellendige goed weet ook van alles! Dit gaan rêrig van sy hart af om sy geld, waarvoor hy so swaar gewerk het, sommer so goedsmoeds in die water te gooi vir 'n vae ding soos inkomstebelasting. Die lui boere betaal nooit 'n pennie nie; hulle kry eerder nog boonop, en hier moet hy elke jaar al sy planne so agter mekaar inspan dat hy by die skuiwergat kan deurkom. Maar vanjaar gaan hy sit; hy sal darem nog baie dink en 'n hele paar draaie maak voor hy hom oorgee.
Plotseling skiet 'n gedagte soos 'n pyl tussen al sy berekeninge in; dit is dat hy vir 'n ruk so week, so toegéwend geword het dat hy selfs met ou Jaap gaan praat het, dat hy daar op die dorp by sy suster gaan sit het soos 'n ou papbroek wat deur sy vrou oorheers word; ja, lamlendig by ander gaan kla het oor die bitterheid van sy lot! Wrewel en skaamte kom in hom op. 'n Mens is 'n verspotte ding, wat op 'n sekere oomblik so teen jou ware aard handel.
Maggie kom by die spens in, en dit is kompleet of sy 'n roofdier steur waar hy met sy buit besig is; hy frons sy voorkop, maak allerhande neusgeluide en kort-kort blits sy oë na haar kant toe om haar te wys hoe onwelkom sy nou
| |
| |
in sy onmiddellike nabyheid is, hoe haar aanwesigheid die hele atmosfeer belemmer waarin hy sy toegespitste berekeninge maak. Sy sien dit en vererg haar bloedig. As hy dink dat hy die oorwinning oor haar gaan behaal, soos oor sy oorlede vrou, dan is hy laat. Sy het al genoeg ellende en senuweeprikkeling in hierdie spookhuis deurgegaan; sy wil nie nog boonop 'n bediende word nie. Sy gaan voor die koffieketel staan en sê: ‘Ek wil geld hê vir klere. Kyk hoe lyk ek.’
Hy brom net knorrig, maar in sy oë is 'n weerlig waarvoor sy opeens vrees. Sy blik wanneer hy teenswoordig na haar kyk, het verander. Daar lê 'n donderweer agter, en opeens het sy weer die groot vrees vir dié gevaarlike ou man, wat vir 'n ruk so mak geword het, maar nou sy afweer-penne na buite draai en 'n drang in haar wakker maak om, ondanks al die goed wat sy kan erwe, maar dadelik na haar ouers te gaan voordat daar iets verskrikliks gebeur. Vermoed hy dat daar iemand - die goeie ou Dries - kom net sodra hy vir 'n dag weg is?
Sy is opeens baie onrustig, en laat maar dadelik haar begeerte vaar na mooi klere om die ander vroue mee te vermaak. Die hele huis, die plaas, die mense wat alreeds dood is, haar man dra 'n verbloemde vyandskap teen haar wat haar benoud maak, haar wil laat skreeu.
Dit is die stille verwensing wat kom uit die
| |
| |
dik mure, die verwensing van die ou meubels waaraan baie hande gevat het en wat nou deur haar ontwy word, dit is die vuur wat agter haar man se oë brand wat haar aankla, beskuldig, veroordeel, sodat die swaar stilte van die plaas soos 'n roerlose likkewaan op haar gedagtes lê en haar stadigaan van haar verstand sal bring. Die groot plaasstilte waarin hierdie mense veilig gelewe het, staan buite haar, jaag die vrees in haar op. Sy is die indringer wat haar heeltemal moet oorgee aan die vormingsmagte wat hier werk of anders sal sy moet vlug, anders sal haar hele gestel pad gee. Oorgee kan sy nooit en Dries se woorde maak haar opnuut opstandig, dwing haar om te gaan, hoe seer haar hart ook na besitting strewe. Die ellendige Annie se vervloeking!
Hier voor haar staan oom Sybrand op, stramstram, bêre sy boekie baie versigtig en sê: ‘Daar is van my skape weg, ek gaan nou na hulle soek en sal eers vanaand baie laat terug wees.’
Die manier waarop hy haar aangespreek het ná die huwelik, het gaandeweg weer uit die onnatuurlike sentimentele weggebuig tot die strakke, saaklike, afsydige toon wat hy teenoor sy eerste vrou gebruik het. Daarom antwoord Maggie nie daarop nie, soos tant Betta ook maar altyd geswyg het, omdat dit klink na 'n bevel waarop mens niks aan te merk het nie. Oom
| |
| |
Sybrand word weer baas; hy vorm haar stadig om na sy wil.
Sonder om iets verder te sê, loop hy by die agterdeur uit en netnou sien sy hom oor die werf te perd ry. Dit is vir haar 'n verligting dat hy gaan, alhoewel die drukkende eensaamheid vir haar so ondraaglik is. Daar kom sulke snaakse gedagtes in haar op as sy so alleen is. Dit kwel haar dat sy so hard en onvriendelik teenoor die doodgoeie Buks was. Sy gaan maar nooit kerkhof-toe nie, want 'n ongemaklike skuldgevoel hou haar daar weg. Sy kry vandag haar verdiende loon, want ongelukkiger kan sy seker nooit wees nie. Daar kom nooit kuiermense by hulle nie. As sy op die dorp aansluit waar die ryk boere se vrouens gesels, dan swyg hulle dadelik asof hulle haar as iemand beskou wat net uit die tronk gekom het.
Sy wens Dries wil weer kom; dit is nou veertien dae dat hy laas hier was. Hy moet die hele stuk wêreld deur ry, en sy sien hom so selde, veral omdat hulle ook maar baie versigtig moet wees. 'n Gedagte skiet haar te binne: sy is so nuuskierig om uit te vind wat alles in die kis onder haar man se bed is. Daar moet baie geld in wees. As sy die slot net kan oop kry, maar hy dra die sleutel by hom en pas dit soos goud op. Sy het 'n paar klein sleuteltjies. Sy haal dit van die rakkie af bokant haar en loop na die kamer toe. Sy sukkel die trommel onder die
| |
| |
bed uit en draai die swaar slot in die rondte. Sy probeer een sleutel by die gaatjie indruk; maar dit gaan nie. Dan dwing sy 'n ander een by die gat in, maar dit wil nie draai nie.
Sy ruk soos sy skrik, want aan die voordeur word swaar gehamer. Vinnig skuiwe sy die trommel onder die bed in. Sy dink eers verward dat dit haar man is, maar waarom sal hy dan klop? Onseker loop sy deur die voorhuis, hou haar hand op haar kloppende hart, en maak die voordeur oop. Al haar angs verdwyn meteens toe sy Dries se glimlaggende gesig voor haar sien. ‘Jy het my lelik laat skrik!’ sê sy en vat vleierig aan sy arm. ‘Kom binne.’
‘Die jong sê hy is veld-toe. Ek het eers goed seker gemaak. Ek was hierbo by oom Jaap. Toe dog ek, ek sal hier langs kom. Ek betaal die ou jong nou maar 'n sikspens dan hou hy die veld dop. Ons kan dus gerus wees; hy sal my vroegtydig waarsku.’
‘Ek is so bly dat jy gekom het; jy kan nie dink hoe vreeslik dit op die plaas is nie. Ek vergaan hier.’
Sy gaan langs hom op die rusbank sit, maar hulle het nouliks die geleentheid gehad om hulle hande inmekaar te draai, toe die ou jong by die agterdeur sê: ‘Hier is die oubaas!’
So rats was Dries nog nooit. Hy wip letterlik by die deur uit en in 'n kits is hy op sy perd en ry op 'n stywe galop die leegte in. Maar oom
| |
| |
Sybrand het hom gesien, want hy het van die randjie se kant af, nie ver van die leegte af nie, gekom, uit 'n rigting vanwaar hulle hom nie verwag het nie. Hy het geen bekruip-bedoelings gehad nie, en het gouer terug gekom as wat hy verwag het, want tussen die melkbosse van die sloot anderkant die randjie het hy op die skape afgekom waarna hy gesoek het. Hy het daarom terug gery om dadelik met ander werk te begin.
Toe hy die figuur wat daar voor hom so driftig weg galop in die oog kry en hom herken, het hy opeens lam geword van die nare ontdekking. Hy het wel dinge vermoed, maar tog heimlik gehoop dat dit nie waar is nie. Nou sien hy voor sy oë wat daar aan die gang is; dat hy 'n ou dwaas is wat maar so goedsmoeds gekul word.
Hy slaan met sy hakke so hard op sy perd se maag dat die dier in die lug klim en hom, in 'n onbewaakte oomblik, byna tussen die ronde ysterklippe neerplant. Die woede styg na sy hoof. As hy sy lemetford by hom gehad het, dan het hy die knaap so seker as wat hy lewe van sy perd afgepiets.
Hy ry so hard dat die dier onder hom blaas. Sy hele lyf bewe van die opwinding. Voor die stal hou hy stil en begin die perd met onvaste hande af te saal. Sy hande rittel letterlik of hy koud kry. Hy jaag die dier met 'n vloek weg, neem die toom en saal om dit aan 'n haak in die pakhuis net naas die stal op te hang. Hy doen
| |
| |
dit werktuiglik; hy haas nie baie nie, want hy voel die naderende uitbarsting van sy woede.
Die saal hang al, maar net toe hy die toom wil oplig, word dit swart voor hom. Dit is of hy 'n slag in die nek kry; of 'n roofdier wat in stilte op hom sit en wag het, geruisloos van 'n tak gespring het om sy tande in sy nek te slaan. Hy val op sy knieë met oë wat groot en verbysterd is; sy mond is wyd oop en effens verwring, en hy kreun soos iemand wat groot pyn het. Hy sukkel effens regop, maar toe is dit of hy 'n tweede dowwe slag in sy rug kry; hy val bo-oor 'n sak mielies, magteloos teen die dodelike aanval van beroerte.
Sy linkerhand kom krampagtig omhoog of hy smeek om genade teen 'n vyand, of hy roep om hulp. En dan kom die klanke, nie meer die vaste beveltoon van ou oom Sybrand nie, maar aaklig gerek, benoud en kermend: ‘Betta, help! Betta!’
Toe ou Spantou daar op hom af kom, lê hy swaar en asemhaal, hulpeloos neergevel; die ou jong skrik vreeslik vir die baas se oopgesperde oë wat half lyk soos glas wat fyn versplinter is. Hy wag op 'n bevel van die oubaas, wat altyd net die regte woord kon praat.
Maar oom Sybrand praat nie, kan nie meer praat nie. Die uitspreek van sy oorlede vrou se
| |
| |
naam was die laaste woorde wat hy gesê het voor die verlamming van sy spraakorgane hom vir goed laat swyg het.
| |
VIII
Die een gebeurtenis, so onverwags, so slu teen hom gemik, het sy hele lewe in twee gekap. 'n Paar dae gelede was hy nog vol planne; nou sit hy hulpeloos, met 'n kakebeen wat willoos hang en met oë wat 'n smekende en tegelykertyd verskrikte staring het. Die linkerarm voel slap en dof, maar met die regtereen het hy slap beduie dat hy voor die raam wil gaan sit. 'n Kombers is om sy bene geslaan, en so lê-sit hy nou, geboë en bejammerenswaardig, daar voor die raam. Van hier kan hy oor die tuin uitkyk en oor die lang end pad wat oor die bult gaan. Sy oë bly vas op daardie pad asof dit vir hom lewe en bevryding sal bring.
Hy kan dit nou aan niemand sê nie, maar daar is 'n groot begeerte in hom: om vir Henning te sien. Henning moet kom. Henning sal kom as dit dalk te laat is. Hy het Henning weggeja toe hy nog sterk en gesond was, toe hy nog beheer oor sy spraak gehad het. Nou wil hy sy seun, sy opvolger, terug hê, maar hy kan dit nie sê nie, hy is magteloos om sy eie wens uit te spreek. Dit het alles verander in die wêreld van sy gedagtes. Dit was net of hoë, vaste
| |
| |
mure neerstort, of vloeiende kragte opeens verstywe, of dinge wat gesond gewerk het, soos met 'n dinamietslag tot in hulle fondamente tril.
Met oomblikke kom die helderheid en dan kyk hy op sy lewe terug soos van 'n rustige bergpunt en hy sien dan daar ver die pad slinger waarmee hy gekom het. Hy leun met sy hoof skuins teen die kussing wat Maggie agter hom ingedruk het, en dit is of daar verre, bloue valleie voor hom oopgaan, en daarheen gaan hy, 'n eensame wandelaar, verlate deur almal, selfs deur God. Hy smeek oral om hulp, maar daar is net harde oë, net vyandige staring, net afwysing.
Wanneer het dit alles so met hom gebeur? Die trane rol oor sy verweerde wange; hy is verlore, weggewerp in die diepte, sonder vriend sonder steun in die uur van sy laaste vernedering.
Dan word dit weer stil in hom en hy sien hom loop baie jare gelede op hierdie selfde Boskloof. Hoe breedgebou en sterk was hy nie! Nadat hy 'n lang ruk aan die landmuur gestawel het, het hy onverwags huistoe geloop, omdat 'n liefdesdrang hom getrek het. By die huis was sy jong vrou, was die lenige Betta. Dit is of die ramp wat hom getref het, aan die een kant baie lewe doodgebrand het, maar aan die ander kant vir hom oomblikke van onnatuurlike verheldering bring, en die verste skuilhoeke van die verlede laat ophelder asof niks wat hy belewe
| |
| |
het, ooit vergaan nie. Sy vrou staan daar voor hom met haar helder, ligte blou oë en die blye, geheimsinnige lag om haar mond, wat haar so dierbaar vir hom gemaak het in daardie jare. Maar dan is daar die kwellende, wat ewig die suiwere vergesel, want dieselfde gesig, met dieselfde glimlag, lê daar in 'n doodkis; die arme dode wat 'n fyne glimlag dra om die lewe wat agter lê, oor die verbysterende klug en treurspel deurmekaar wat dit alles is. Hy kan die doodsgesig nie uit sy voorstellingswêreld verwyder kry nie; dit bly staan, dit kleef, dit gryp onverwyderbaar vas en het altyd maar die glimlag van vreemde triomf wat ook weer vernedering is, hoe langer jy daarna kyk; 'n lag wat verre, vergane dae se liefdesvreugde en wellus bind in die smartlike ervaring van die dood. Dit is alles so deureengeweef dat dit vir hom voel of hy binne enkele oomblikke totaal kranksinnig sal word, want die lewe wil gaan stil staan sodat hy die vervlugtigende wonder daarvan wat in 'n liefdeslag lê en jou ook weer aanstaar van 'n doodsgesig, kan vat; dit is so verskriklik dat dit hom totaal gek sal maak. Wat altyd so ver van mekaar gelê het en rustig deur sy verstand geskei is, verskyn hier so dig bymekaar dat die hele lewe, die duister beweging wat veroorsaak word deur die ontmoeting van ruimte en tyd, hom heeltemal oorweldig.
Sou dit dan tog waar wees dat mens voor jy
| |
| |
sterwe, jou hele lewe helder voor jou afgespieël sien? Maar gaan hy nou sterwe? En dit is nie sy hele lewe wat hy hier sien nie; dit is 'n besef wat aan hom gegee word van die deureengestrengeldheid van die lewe. Hy verloor sy vermoë om al die drade met die verstand uiteen te hou. Hy sak almeer af in die afgrond onder waar die lewe onverdeeld lê, 'n groot, verskriklike eenheid; maar die geheim daarvan kan hy aan geen mens sê nie, want hy is nou stom; die geheim is nou veilig.
Hy hoor verweg perdepote klap en sien hoe hy en Betta van hulle troue af kom daardie sonnige more, maar daar dreig die kwaai toespitsing weer, die ongenadige helderheid, want hy sien die twee drawwende perde, die bruin gladde hare, die skuiwende tuie en dan hulle koppe met die roerende ore, maar hy kan nie sy blik van hulle losmaak nie. Hulle bly so voor hom, tot daar van ver 'n geluid soos barstende glas op hom aandring.
‘Het jy geslaap?’ vra Maggie luid en soos vir 'n groot kind. ‘Hier is koffie vir jou.’ Hy gee kortaf keelgeluide, jammerlik om aan te hoor, en die taai, geweldige boer van Boskloof sukkel die teelepels koffie in wat Maggie vir hom hou met 'n triomfgevoel, want die Simson het ineengestort, hy is 'n patetiese, arme mens, wat na al sy selfstandigheid neergeslaan is tot hierdie hulpeloosheid. Maggie is die baas.
| |
| |
| |
IX
Dit is of die dae aaneen vloei sonder dat daar veel skeiding is, want daagliks sit hy voor die raam en wag op die tweede aanslag, wanneer alles in hom diep en stil sal wees ... maar hy wag ook op Henning. Hy sit pal na die plaaspad en kyk met 'n toewyding wat 'n moeder het wanneer sy waak by haar siek kind; sy oë is flou en onvas, en die regtereen wil kort-kort toegaan, maar hy kyk en kyk.
Daarbuite kom die warm dae al; hy kan die blinkende son op die populierbome sien; so rustig en koninklik soos lank gelede staan hulle nog steeds. Die winter suig weg in die kou aarde, en die voorjaar se nadering is reeds in die lug; dit glans ver weg oor die velde; dit tril neer in die sonstrale wat op sy been val.
Moet dit dan die einde wees? So vernietig as wat hy is, kan hy hom nog nie neerlê by die onvermydelike nie; in sy neergevelde liggaam kom nog die vlae van opstand. Dit is vreeslik dat hy soos 'n doofstomme van sy goed moet afstand doen, dat alles daarbuite so roekeloos moet verwaarloos; en noudat hy die voorjaar sien kom, beur hy hom sukkel-sukkel regop om te kyk of hy nie kan loop nie, maar met 'n slag val hy terug in die stoel dat sy nek, wat so kwaai ingespan was, 'n ongenadige ruk gee.
Vanmore vroeg het hy gedag die vreeslike
| |
| |
sal hom weer pak; dit was toe hy in 'n hewige opwinding gekom het omdat Maggie die sleutel van sy trommel onder die bed van hom af weg geneem het. Soos mens 'n kind uitlag wat astrant is, het sy teen hom opgetree, en toe hy krampagtig daaraan vasgeklou het met sy regterhand, asof met die verlies van sy eiendom ook sy houvas op die lewe vernietig sal word, het sy die sleutel losgeruk, sodat hy met 'n skok teen die stoel se rug terug geval het. Sy woede is net 'n spot; hy kan nie praat nie; die beker van sy vernedering is vol.
Hy het gehoor hoe sy met die trommel lol en dit was vir die versigtige, spaarsame mens, wat sy sake so privaat as moontlik gehou het en sy kontantgeld in sy trommel weggesluit het, 'n marteling om daar so magteloos te sit en luister asof hy nou 'n bywoner, 'n slaaf, 'n beledigde op sy eie plaas is, op Boskloof waarop sy trotse wil en onafhanklikheid vroeër so 'n helder stempel afgedruk het.
Maar terwyl die dood hom nog nie het nie, is hy nie klaar nie, al is hy soos 'n gekweste voël wat met twee lam vlerke 'n endjie oor dieselfde aarde aansukkel waaroor dit vroeër so vorstelik gevlieg het. God kon hom nie swaarder gestraf het nie! Deurdat hy nie kan praat nie, moet hy net aanskou hoe sy goed misbruik word, hoe die muur nou moet omgestamp word waaraan hy jare gewerk het, hoe sy spaarsaamheid,
| |
| |
sy presiesheid vir hom, as 'n gevangene, vasgeklink aan sy stoel, nou 'n stille spot, 'n duister wraak word. Hy moet as 'n dwaas voorgehou word, as 'n toonbeeld van 'n sot wat vasgeklou het aan die belaglikheid van aardse dinge, hoe ernstig en plegtig hulle ookal mag opgebou wees.
Ag, as hy tog net vir een dag kan loop en praat en gebied, dan sou hy soveel, ja alles regmaak wat nog nie in orde is nie. Maar nou is hy 'n uitgeworpene op sy eie plaas; hier moet hy aan die lewe gehou word soos 'n magtelose kind. As ander se sorg net vir 'n rukkie aan hom onttrek word, dan is hy klaar. As hulle hom maar liewers alleen wil laat, sodat hy tenminste soos 'n man kan sterwe. Maar met elke daadjie laat Maggie vir hom voel hoe afhanklik, hoe uitgesak, hoe sonder waarde hy geword het. As die tweede slag maar gou wil kom, maar dan is daar sy goed, wat nou deur sy vrou verplunder en uitgespandeer sal word, omdat sy dit nie liefhet nie, die waarde daarvan nie ken nie!
Hy draai sy gesig na die kant toe of hy dit wil afwend van die warm, heerlike lewe, van sy besittings, waaraan hy sy hele bestaan gewy het. Maar hy kan dit nie loslaat nie. As hy die een wortel wil uittrek, gryp die ander net vaster.
Daagliks gaan Maggie nou dorptoe. Sy neem 'n kaffertjie saam om hekke oop te maak; sy hou self leisels. Pakke en pakke goed bring sy
| |
| |
saam, en gister het sy 'n papier van die bank af gebring wat hy moet teken. Net voor sy netnou weg is, het sy hom met borende oë gedwing; sy het sy bewende regterhand self op die papier gehelp. Toe is sy weg. Die sorg van jare, die inhaligheid op ander was tevergeefs, want die sorgvuldig gespaarde pennies word nou sommer so in die water gegooi, word uitgerinkink, en hy moet dit magteloos en sprakeloos sit en aanskou!
Daar rol weer trane oor sy wange, want die spanning in hom verslap; hy voel hoe hy liggies bewe. Die dokter het gesê dat hy hom doodstil moet hou, maar die vrou trek sy siel uit, sy help hom graftoe sleep! Hy kyk weer na die pad. Sy lippe roer, maar daar kom geen geluid nie. Wyd oor die blinkende aarde lê die son; die vrugbare, donker grond nooi hom uit om te kom; die skape se geblêr is so vertroulik. Al die dinge daarbuite is sy lewenslange vriende; dit ken hom en wag op hom, wag op sy stem wat nooit meer oor die plaas sal klink nie. Hy is dood, maar lewe nog, net om sy eie, ellendige verlorenheid te aanskou.
Die gevoel van totale insakking van sy gees kom weer, soos dit nou gereeld gebeur ná die lig ontvlambare opwinding. Sy kop hang al meer vooroor, die mond is willoos en wyd oop, sodat dun drade daaruit kwyl, en op die beplooide gelaat, met die vel sakkig en pap
| |
| |
onder die oë, is daar afgeëts 'n magteloosheid van die sterke wat in sy laaste wanhoopspoging dood gevind is.
In sy gees vergaan alle besef van die skeiding tussen die werklikheid en die droom, en wat nou onsamehangend in hom opskemer, kon net sowel waar gewees het, soos die buitewêreld wat hy nou en dan, met lui oopgemaakte ooglede aanskou, 'n droom was. Buite- en binnewêreld vloei in mekaar, en sy gees wil skeiding en verband bring, maar sak saam met die verbandloosheid neer in die sluimering wat dof oor hom kom. Om hom is net die stilte van die kamer, en van daarbuite kom nou en dan die geblêr van 'n skaap. Dit is die eerbiedige stilte van die dinge rondom by die baas se val. Met sy instorting kry baie dinge 'n ander karakter. Tog waak hulle oor hom; hulle bly trou.
So sluimer hy met die oop mond en die vervalle gelaat en merk nie dat Annie en Hennie voor die deur stil hou nie; hy merk ook nie dat Annie saggies binne kom nie en hom toe, soos hy daar verlate sit en sluimer, bekyk en dan onderdrukte snikke gee en opeens aan sy knie neerval en sê: ‘My arme vader!’
Dit duur 'n ruk voor hy die drade byeen kan kry; toe gee hy die vreemde keelgeluide soos van 'n dier wat vreeslik pyn het en dit nie kan sê nie. Daar is blydskap in sy oë toe Annie voor hom op haar knieë staan, sy hande vashou
| |
| |
en hom vra hoe dit gaan. Die belangstelling in hom noudat hy magteloos is, bring 'n blik in sy oë soos van 'n dankbare hond. Annie wat haar vader se trotse natuur so goed ken, kan nie na hom kyk nie. Sy ween saggies oor die sterke wat so verneder is.
Toe Hennie by die kamer inkom, vee Annie die trane uit haar oë weg en met 'n felle aanklag begin sy: ‘Is dit nie om van te moor nie? Jy weet wat die dokter vir ons van pa se toestand gesê het, en sy laat hom so wragtiewaar hier alleen by 'n meid staan! Ek dink 'n lae kaffer sou meer gevoel gehad het. Die hele dorp praat daarvan dat sy so vinnig as moontlik spandeer. Die winkel se wa kom gereeld daar by haar ou spul onder in die dorp stil hou om pakke en pakke af te laai. As sy vanmiddag hier aankom, sal sy iets hoor!’
Annie se praktiese natuur, haar innerlike verwantskap met haar vader, duik dadelik na bo en vinnig en flink sit sy dinge agtermekaar en word bleek van nydigheid by die aanskouing van wat ‘die skepsel’ in die laaste paar dae aangekoop het met die smakelose onsamehangendheid van die mens wat roekeloos geld spandeer sonder dat sy 'n waardebesef daarvan het.
Terwyl Hennie met 'n aardige gevoel by sy skoonvader sit, sorg Annie vir die ete, smyt die klomp ou soep by die deur uit wat Maggie
| |
| |
op die stoof gesit het met die opdrag aan die meid dat sy kort-kort daarvan 'n bietjie vir die oubaas met 'n lepeltjie moet gee.
Daar is weer sorgsame hande, net soos dié van oom Sybrand, wat 'n ding reg vat, wat orde bring, laat glinster en gerieflik word. Sterk soep word vir oom Sybrand gemaak en op haar knieë staan Annie dit vir hom en gee, maar nou en dan moet sy vinnig 'n traan wegknyp, want die slag was vir haar te groot; sy is nog nie genoeg gewoon aan die agteruitgang van haar vader nie.
Die onberekenbare genadeloosheid van die lewe roep die edelste hulpvaardigheid in haar op; sy vergeet alle gewin wat uit haar diens te haal is en met tere besorgdheid waak sy oor haar vader, vergewe opreg alles wat hy aan hulle verkeerd gedoen het, want haar hart is ontroer, die slag wat haar vader getref het, laat haar klein voel teenoor die verborge magte in die lewe.
Daar buite word uiteindelik die gedril van wiele oor die werf gehoor, en dadelik is Annie se veglus tot op die uiterste gespan. As haar vader plat geslaan is, dan moet sy darem nog onthou dat sy uit dieselfde harde hout as die sieke gesny is! Sy gaan na die agterdeur en daar wag sy.
Maggie het die uitgespande kar voor die deur gesien, maar sy het nie gemerk dat dit Annie- | |
| |
hulle is nie. Sy voel skuldbewus en bang. Toe sy by die agterdeur kom, wag die breë vrou haar daar in met oë wat haar van die werf af wil wegveeg. Die pakke wat Maggie dra, val byna uit haar hande, want sy het nie op hierdie aanval gereken nie. Haar moeilikhede het opeens soveel minder geword, en nou dit!
Annie gee nie pad toe sy nader kom nie en sê: ‘Die kar word weer vir jou ingespan; jou voete nie weer in hierdie huis nie!’
Maar so maklik doen Maggie nie van haar swaargewonne regte afstand nie.
‘En wie sal my dit in my eie huis verbied? Gee pad!’ Maar oom Sybrand is nie daar om haar te skraag soos laas nie; haar woorde verraai onsekerheid en vrees.
‘As jy nie vannag wil buite slaap nie, sê ek vir jou jy moet nou ry,’ sê Annie dreigend, stap oor die drumpel en kom nader na Maggie toe. Maggie voel nou dat sy met oom Sybrand se dogter te doen het. Hier is die ou krag wat haar so bang gemaak het. Daardie onversetlikheid ken sy. Haar moed begewe haar. Soos een wat onverwags lafhartig word, draai sy met haar pakkies en al om en loop sonder om 'n woord te sê na die kar toe, terwyl Annie met haar kin trots in die lug as oorwinnaar die woning van haar vader binnestap.
| |
| |
| |
X
Die pad gaan nog wit soos altyd na die helder horison en die dae is ryk van belofte; die gars wat hy self gesaai het, staan groen in die tuin en is elke dag 'n nuwe frisheid vir die oog. Die voëls vlie in donker troppe oor die wagtende lande en kom saans terug in swerms wat ritmies voor sy raam verbyruis. Die dae het sagter geword en daar is 'n roering in die warm aarde. Wit wolke vaar stil en hoog deur die blou lug. Die voorjaar klop onder die kors van die aarde wat die arbeider uitnooi om die vet grond om te keer dat dit blink in die son; dit wag op die hande van die flukse boer om te help met die volkome vervulling van 'n werk wat altyd maar weer ná die winterslaap daar is, sekuur soos die wenteling van die seisoene. Die knoppe glans aan die takke en die amandelboom se eerste wit skemer al agter die dun rafels van die wilkerbome uit. Die blare sal kom, die warm gras langs die blinkende fonteindam sal groen en welig soos mos onder die voete insak en die populiere sal met hulle jong, glansende blare 'n himne van die aarde sing as die voorjaarswind hulle streel. Hulle sal die ou lied laat bewe oor die plaas, 'n lied van die groot herontwaking wat steeds weer kom nadat die blare geval het, die lied wat altyd nuut klink, omdat daar onder die weemoedige ruising 'n groot
| |
| |
vreugde aandein van die skeppingsdrif wat na uitlewing en voltooiing soek, gehoorsaam aan die goddelike energie wat geen stilstand ken nie, maar rusteloos skep, laat uitgroei en laat verkwyn, seisoen in en seisoen uit.
Op sy bene rus oom Sybrand se hande; die dun, blou are lê afgelyn daarop; daar is 'n bruinblou kleur onder die vel; die gebarste naels kleef hard en skubbig aan die willose vlees. Dié hande rus; die lewenswil wat agter hulle gewerk het, sal voortaan weer in ander wesens werk, maar hier het die stilstand gekom, want een mens se taak is gedaan, in een mens het die lewensgang hom voltrek. Maar die lewe self gaan ongesteurd voort.
Oom Sybrand stry met die laaste kragte wat daar in hom is, om nie te gaan nie. Hy wag. Hy wag op sy seun Henning, soos hy vroeër, toe hy 'n presiese boer was, gewag het op die koms van die lente, wanneer hy die grond kon bewerk en die saad aan die aarde kon toevertrou. Maar Henning kom nie. Hy kan nie meer sê hulle moet hom laat roep nie. Hy het die redelose begeerte dat sy kind moet kom, natuurlik, vanselfsprekend, aangetrek deur die verlange na sy vader.
As die tweede aanslag dalk gou kom? Ja, dit is bitter, maar hy kan nog geen afstand van sy besittings doen nie; tot die laaste toe sal dit by hom wees, omdat dit ingegroei het in sy
| |
| |
vesels, omdat dit saamgevloei is met sy gedagtes, omdat dit 'n deel van sy hele mens-wees is, altyd verbonde met die aarde.
Flou kyk sy oë na die wit pad wat eindig teen die blou lug; dit vervul hom telkens met 'n gevoel van heimwee, want dit laat hom terug verlang en besef hoe kort die lewe is en watter vreeslike hunkering elke mens in hom dra na die oneindige.
Maar wat is dit? 'n Kar kom in die pad af. Sy blik is vas gesuig daaraan. Dit gaan langsaam deur die duik. Dit kom nader en die wiele rittel diep en waarskuwend oor die werf. Voor die raam hou die kar stil.
Dis Henning!
Oom Sybrand maak kermende keelgeluide van opwinding toe hy dit sien. Hy wil opstaan, maar sink magteloos terug. Hy sien vir Johanna, nou uitgegroei tot 'n sterk, gesonde boervrou; sy lag bly en haar tande skitter wit in die son.
Henning loop by die kamer in. Hy is nou 'n breedgeskouerde man met vaste trekke op sy gesig, maar hy het die oë van sy moeder, vertroulik en met dié fyn, geheimsinnige glimlag daarin. Oom Sybrand voel of die spanning in sy keel saamkrimp; sag maak hy geluide soos 'n dier, en Henning, die kragbewuste, voel hoe dit skryn in hom om sy vader wat eenmaal so onbuigbaar was, nou hulpeloos te sien. Hy lig sy vader se slap hand op en druk dit lank in sy
| |
| |
harde vuis vas en kyk die gekwelde en vereensaamde vertroulik en eerbiedig in die oë. Op sy linkerarm het hy die seuntjie wat vrolik kraaigeluidjies maak. Ja, die seuntjie wat soveel op die grootvader lyk - en wat uit dieselfde harde hout gesny is!
Met daardie handdruk, lank en begrypend, met daardie blik, vas en sterk soos sy vader s'n vroeër was, maar tog so vol begrip, maak Henning oom Sybrand se afstand van die aardse besitting maklik, want in die aanraking van sy seun het hy die komende geslagte aangeraak, het hy gevoel dat, terwyl hy in vervulling van die ewige wette, sal moet vertrek, hy tog in die nageslagte, wat uit hom voortgekom het, sal herlewe soos die boom telkens weer verrys uit die jong stam.
Nou kan hy sterwe, want die rus het gekom met hierdie bevrydende aanraking, met hierdie belofte van deurstromende lewe. So sterk soos Henning nou is, was hy ook eenmaal en dit is goed, dit is 'n diepe troos om te weet dat hy, wat straks soos 'n herfsblaar grond-toe sal moet daal, deur Henning, deur sy kleinkind verbonde is aan die oneindige kringloop van die tye en aan God. |
|