| |
| |
| |
Hoofstuk 3
Huwelik en vroeë visumvoorvalle
I
Die APB-prys van 1964: Aanloop tot die visumweiering
In Februarie 1965 kom Breytenbach vir die eerste keer polemies in die nuus toe dit bekend raak dat hy die APB-prys van R2 000 gewen het vir sy dubbele debuut. Dagbreek en Sondagnuus (14.2.65) van die Afrikaanse Persgroep, was eerste met dié nuus. Dit is ironies dat Breytenbach se eerste bekroning juis gekom het van die APB en dat die koerante van hierdie groep soveel publisiteit daaraan verleen het. In hierdie stadium het APB immers nog onder voorsitterskap van dr. Verwoerd gestaan (die man wat in die daaropvolgende jaar sou pleit vir skrywers wat ‘die prestasies van die volk sal besing’) en was dr. Albert Hertzog nog lid van dié direksie waarin hy 'n leidende rol gespeel het (veral 'n rol van ‘onplesierige inmenging en geknoei in die koerantwese’ - volgens Richard, 1985: 28). Die verkramp/ verligstryd was reeds - alhoewel op bedekte wyse - aan die gang en die koerante van APB se lojaliteit het na ‘regs’ gelê, na die ‘verkrampte’ faksie binne die Nasionale Party (wat ook sterk finansiële bande met die persgroep gehad het).
Die drie beoordelaars vir die prys was hoogaangeskrewe in literêre kringe: NP van Wyk Louw, DJ Opperman en FIJ van Rensburg (Kannemeyer, Beeld, 16.1.86, voer aan dat Louw en Opperman vir Van Rensburg, wat die prys aan Chris Barnard se Dwaal wou toeken, oorgehaal het om hulle te steun). Hulle aanbevelings en die toekenning van die prys dra onteenseglik daartoe by dat Breytenbach se werk vroeg reeds gereken word tot die ‘hoë’, gekanoniseerde Afrikaanse letterkunde - 'n feit wat later verstewig sou word deur Louw se uitlatings oor die jong skrywer (in 'n brief in Db., 30.5.65).
In Kriterium (1965: 1-4) verskyn die beoordelaars se motiverings vir die toekenning wat op 28 Februarie 1965 in 'n kunstenaarsrestaurant op die linkeroewer van die Seine in Parys aan Breytenbach oorhandig is. Dié motiverings lê klem op aspekte van Breytenbach se werk wat telkens daarna weer die aandag sou trek: die nuutheid, frisheid, spontaanheid en speelsheid; die fantasie en assosiasietegniek wat dikwels tot avontuurlike woord- en beeldgebruik aanleiding gee; die digter se ‘beheptheid’ met die ‘ek’; die spot met die ‘heilige’ dig-kuns, ensovoorts.
Die houding van 'n gedeelte van die publiek teenoor die soort letterkundige werke wat Breytenbach skryf, asook die bekroning daarvan, kan afgelei word uit berigte en briewe soos die volgende:
| |
| |
Die Sunday Express (21.2.65) beweer ‘a row is brewing in Afrikaans cultural circles over the award to Breyten Breytenbach, modernist author, of the prize for the best Afrikaans book for 1964’. Volgens dié berig word die besluit van die Afrikaanse Pers-Boekhandel gesien as 'n ‘direct snub to the dominees and “old school” orthodox Afrikaans writers’, wie se aanbevelings ná die Silbersteins-debakel geïgnoreer is: ‘They are amazed that a prize could be awarded by the APB - a company controlled by the Prime Minister, Dr. Verwoerd - to an author like Breytenbach. Their amazement has been increased tenfold because Breytenbach's wife is non-White, a fact which clashes head-on with the Government's political policy’. In hierdie kringe word beweer dat Leroux ‘mak’ is in vergelyking met Breytenbach.
'n Koerantleser skryf onder 'n skuilnaam 'n brief aan Dagbreek en spot aan die hand van ‘aanhalings’ uit Katastrofes, met die ‘deurlugte beoordelaars van Akademie en ander faam’ wat 'n klompie ‘nuwe, eertyds onbekende skittersterre aan ons vaal letterkundige firmament’ aanwys vir ons waardering en navolging - ‘en wee hulle wat ore het maar nie hoor nie, en oë maar nie sien nie, want wie durf hierdie hoogbetitelde...orakels weerspreek?’. Volgens hierdie briefskrywer is die ‘helde van die Sestigerjare aan die opmars om 'n nuwe bedeling te bewerkstellig waar die individu as volkome selfstandige entiteit sy aard, sy wil en wellus kan uitleef na hartelus en “biedem die consequences”’. In hierdie proses word terugkeer na die natuur, met vrye teuels aan die individuele gees en sy neigings en daar is geen sin meer vir waardes en godsdiens nie. Die implikasies hiervan vir die letterkunde is 'n wegbreek van outydse, stremmende inperkings: ‘Ware letterkunde is die veruiterliking, die vergestalting van wat daar in die psige van die onbenepe individu opborrel, gestel in 'n taal wat hom aan geen hinderlike reëls laat bind nie. Hoe uitgesprokener tot in die fynste besonderhede, hoe egter en waaragtiger die “kunstenaar”’. Die ‘here lede beoordelaars ook van die Akademie’ verkondig dan dat sulke werk literêre juwele is; die ‘ander’ moet 'n doodse swye bewaar omdat die letterkunde vir hulle 'n ‘imponderabiliteit’ is - ‘daarvan weet ons net so min as wat ons blykbaar van ons afskeidingsorgane se werking weet, te oordeel na ons swye daaromtrent - slegs die “kunstenaar” en “beoordelaar” is deur 'n magiese gesag begenadig met die monopolie van alle letterkundige kennis en -waardering’ (‘Ook 'n beoordelaar’,
Db., 21.3.65).
Soos dit in die rubriek ‘Van alle kante’ (Bu., 16.2.65) beskryf word, het Breytenbach hom met die verowering van die grootste letterkundige geldprys waarvoor 'n Afrikaanse skrywer in die vroeë sestigerjare kon meeding, in die nuus bevind en, of hy nou wil of nie, in die politiek. Want die vraag het ontstaan of hy sy prysgeld sou kon gebruik om met sy Viëtnamese vrou, Yolande, 'n besoek aan sy vaderland te kon bring; of sý 'n visum sal kry vir so 'n besoek of nie.
| |
| |
| |
II
Die 1965-visumweiering aan Yolande
In 1965 skilder Dagbreek en Sondagnuus 'n romantiese prentjie van die swerwersbestaan van die ‘seun van Bonnievale wat sy ouers en sy vaderland vyf jaar laas gesien het’ en wat nou sy prysgeld wil aanwend om sy geboorteland aan sy ‘koninklike lotus’, sy vrou van Oosterse afkoms - maar nou 'n Franse burgeres - te kom wys (14.2.65). Aan Dagbreek se korrespondent in Parys sou Breytenbach gesê het: ‘Ek het (Yolande) lief en sal haar nooit prysgee nie. Deur haar het ek toegang gekry tot 'n nuwe wêreld en 'n nuwe leefwyse wat my eie lewenswaardes verryk het. Ek het agting gekry vir die geesteskrag, agtergrond en verfyndheid van die Oosterling. Maar bo alles het ek met haar getrou omdat ek op haar as persoon verlief geraak het’ (ibid.). Volgens dié berig besef Breytenbach dat sy huwelik groot vraagstukke geskep het: ‘Ek hòop dat my vrou deur my mede-Suid-Afrikaners aanvaar sal word; dat ons in staat sal wees om ons in Suid-Afrika te vestig.’ Breytenbach wil hom graag permanent in Suid-Afrika vestig, maar beplan voorlopig 'n vakansie in sy geboorteland. Voordat dit gebeur, wil hy egter die versekering hê dat sy daar welkom sal wees: ‘Ek wil niks doen wat haar in die verleentheid kan bring nie en daarom gaan ek vasstel of daar van ampsweë beswaar sal wees dat ons Suid-Afrika as normale Suid-Afrikaners kan besoek of ons daar as sulks kan vestig’ (ibid.). (Dreyer (1980: 28) voer aan dat Breytenbach tot met die visumweiering nie die implikasies van sy huwelik met Yolande besef het nie; volgens hierdie waarnemer is ‘naïewe’ onkunde ten opsigte van klaarblyklike politieke realiteite 'n onderskeidende kenmerk van die digter se intellektuele samestelling.)
Op Sondag 2 Mei 1965 is daar 'n opvallende berig in Dagbreek: ‘Breyten Breytenbach bring sy vrou na Suid-Afrika. Visum gekry, sê hy. Weet niks daarvan, sê minister.’ In hierdie berig word verwys na 'n brief wat die skrywer Chris Barnard van Breytenbach ontvang het waarin gemeld word dat 'n visum aan Yolande toegestaan is. Die koerant berig verder dat die minister van binnelandse sake, senator Jan de Klerk, geen kennis dra van so 'n visum nie. Daar word bespiegel of dit wel toegestaan sal word in die lig daarvan dat sy ‘nie as Blanke in Suid-Afrika beskou word nie’.
In Die Huisgenoot (12.8.77) vertel Chris Barnard jare later van hierdie ‘ongelukkige ding’ wat gebeur het. Volgens hom het hy 'n maand ná hy uit Europa na Suid-Afrika teruggekeer het (waar hy ook op 28 Februarie die oorhandiging van die APB-prys aan Breytenbach bygewoon het) 'n brief van Breytenbach ontvang waarin hy gesê het dat 'n visum vir Yolande aangevra is en dat hulle hoop om binnekort 'n draai in die ‘paradys’ te kom maak. Op 'n middag het Barnard met 'n oud-kollega van hom, wat in daardie stadium by Dagbreek as subredakteur gewerk het, gesels oor die moontlikheid dat die Breytenbachs binnekort na Suid-Afrika sou kom. Die joernalis was nie seker dat dit wel moontlik sou wees vir die Viëtnamese Yolande nie, maar Barnard het dit
| |
| |
nie as 'n struikelblok gesien nie omdat hy geweet het dat Breytenbach tegemoetkomend behandel is toe hy navraag daaroor gedoen het by die ambassade in Parys. Wat Barnard as ‘vertroulike inligting’ beskou het, het die volgende Sondag gesorg vir hoofopskrifte in die Sondagblad van die APB.
Teen 26 Mei 1965 raak dit bekend dat 'n visum aan Yolande afgekeur is. Volgens Barnard het sy medeskrywers almal gevoel dat die skuld daarvoor syne was: hy het die nuus ‘koerante toe gedra’ en die publisiteit wat daaruit voortgevloei het, het dit vir die regering onmoontlik gemaak om die visum toe te staan (vergelyk berig in Bu., 26.5.65). NP van Wyk Louw kon egter nie glo dat dit 'n ‘Regeringsbesluit’ kan wees nie, eerder 'n ‘amptenarebesluit’: ‘Ek kan nie glo dat 'n Regering van ons só sy beslissings laat bepaal deur koerante se kontralawaai nie - dat hy homself so deur sy teenstanders in die verleentheid laat inmaneuvreer nie. Dit glo ek nog nie op 26 Mei 1965 nie. Ons het op waardige wyse nog nooit boikotte met boikotte beantwoord nie, of dreigemente met terugdreig nie, of uitskel met terugskel nie. Sal ons dan roekelose “publisiteit” van een kant af met só 'n teenset antwoord - wat erger publisiteit uitlok?’
Wat ook al die rede vir die verbod was, Barnard is deur medeskrywers uitgewys as 'n sondebok wat 'n vriend ‘uitverkoop’ het. Volgens Barnard was die briewe wat aan hom gerig is, ‘gallerig’ en sommiges daarvan in ‘onbeheerste woede’ geskryf. Die gerugte wat hy uit die kweperlaning gehoor het dat die visum om ‘ander oorwegings’ geweier is, was weinig troos vir Barnard wat ‘vir Breyten meer omgegee het as vir enige ander vriend... voor of ná hom’. Breytenbach het in 'n brief gesê dat hy Barnard nie blameer nie, tog het die vriendskap 'n knou gekry (Hg., 12.8.77).
In 1966 word weer eens 'n visum aan Yolande geweier. J du P Scholtz wat in 1966 vir Breytenbach in Parys ontmoet het, vertel later dat hy bereid was om vir die Breytenbachs voorspraak te doen hieroor. By sy terugkeer in Suid-Afrika het hy 'n brief van die digter ontvang waarin hy onder meer skryf dat sy vader al met die minister van binnelandse sake in verbinding was oor die moontlikheid van 'n visum vir Yolande; hy herinner Scholtz daaraan dat hy belowe het dat hy by die minister voorspraak sal doen. Kort daarna, of tegelyk met die brief, wat hom via Cloete Breytenbach bereik het, het Scholtz ook 'n boodskap gekry dat hy niks in die saak moet onderneem nie, omdat 'n visum weer geweier was (Bu., 18.10.73).
Chris Barnard onthou jare later dat hy êrens in 1966 'n ongedateerde en taamlik swartgallige brief van Breytenbach ontvang het na aanleiding van sy manuskrip Om te vlieg wat afgekeur is deur 'n Kaapse uitgewer en die onttrekking van sy skilderye uit 'n groepuitstalling wat deur Hollandse kunsmuseums getoer het. Die brief bevat die volgende kriptiese sin: ‘Ek het vir julle ook 'n verrassing... en ek hoop aangenaam - maar gebruik nog 'n bietjie geduld. As dit kan, voor Kersfees.’ 'n Paar maande later bel Breytenbach uit Mbabane: Hul aansoek om 'n visum vir Yolande is weer afgekeur, toe besluit hulle om Swaziland toe te gaan. In 'n brief wat Barnard 'n dag of wat later ontvang, vra hy Barnard om die nuus stil te hou. Die nuus het wel uitgelek - aan
| |
| |
die Sunday Times - maar dié keer is Barnard nie aangewys as sondebok nie (Hg., 19.8.77).
Ná 'n verblyf van byna drie maande in Mosambiek en Swaziland, waar Yolande Breytenbach haar skoonouers ontmoet, kom die Breytenbachs op 14 Februarie 1967 in Tafelbaaihawe aan as passasiers op die Portugese skip Império. Hulle word toegelaat om die skip te verlaat, in Kaapstad rond te ry en by sy broer te oornag (berigte in Bu., 15 en 16.2.67; Vo., 16.2.67).
Teen die einde van 1972 word 'n visum toegestaan aan Yolande Breytenbach. Met hul aankoms in Suid-Afrika word Breytenbach deur die grootste deel van die Afrikaanse pers met ope arms terug ontvang as ‘die verlore seun wat huis toe gekom het’. Hierdie koerante se houding koel egter merkwaardig af ná sy toespraak by die Kaapstadse Somerskool.
Breytenbach se volgende besoek aan Suid-Afrika was met behulp van 'n vals paspoort. Die besoek loop uit op 'n jarelange verblyf in die Pretoria Sentraal- en Pollsmoorgevangenisse. In 1987, meer as vier jaar na sy vrylating, word hy - nóu 'n Franse burger - 'n Suid-Afrikaanse visum geweier. Dit gebeur weer in 1988 (kyk hoofstuk 7 VI).
| |
III
Persreaksie op die 1965-visumweiering
Die aankondiging van die visumweiering aan Yolande in Dagbreek en ander koerante gee aanleiding tot hewige openbare reaksie en meestal is dit politieke/ideologiese houdings en aannames wat ter sprake kom.
Uit die berigte, redaksionele kommentaar en selfs die aard van briewe wat gepubliseer is, blyk die koerante se ideologiese instelling. Daar is reeds daarop gewys dat dit die koerante van die APB was wat Breytenbach eerste in die kollig geplaas het. 'n Anonieme briefskrywer (Va., 8.6.65) sou later die APB-blaaie só hieroor verwyt: ‘Voordat mnr. Breytenbach se prystoekenning aangekondig is, was daar verskeie stukke oor hom in die Afrikaanse pers. Nêrens was daar melding dat hy in 1962 met 'n Viëtnamees getroud is nie. Op dié manier is vooraf (bra opsetlik?) aan hom 'n soort aansien as 'n “Afrikaanse intellektueel” gegee. Toe word die prystoekenning aangekondig en skielik wemel die liberalistiese Sondagblaaie van foto's van Breytenbach en sy vrou:.. En toe is sy skryfwerk skielik van minder belang. Toe is almal bewus van sy vrou. Nou vra ek: waarom is die feit van sy vrou so stewig verswyg deur APB se blaaie voor die toekenning?’ André P Brink (Va., 3.6.65), wat sekerlik nie hierdie koerantleser se afkeer van ‘liberalisme’ deel nie, beskuldig die koerante van die APB daarvan dat dit hulle was ‘wat met die toekenning van die R2 000-prys aan Breyten Breytenbach begin het met spekulasie en ongure publisiteit wat nou daartoe gelei het dat ons Blanke stamhoofde 'n visum aan mev. Breytenbach
| |
| |
weerhou’. (André P Brink was in hierdie stadium, net ná die verskyning van sy roman Orgie, nie baie vriendelik gesind teenoor die APB nie. Hy het Orgie aan APB voorgelê, wat dit ná 'n positiewe keurdersverslag deur Rob Antonissen vir publikasie aanvaar en geset het; die manuskrip en proewe is egter in 'n laat stadium aan hom teruggestuur. Daarna lê hy dit voor aan Human & Rousseau, waar dit deur DJ Opperman op ‘literêre gronde’ afgekeur is. Uiteindelik verskyn die roman by die firma John Malherbe. Intussen is die boekerubriek in Dagbreek en Sondagnuus ook van Brink weggeneem en aan Merwe Scholtz vir redigering oorhandig (Kannemeyer, 1983: 397). In 'n brief aan my, gedateer 27.5.85, skryf Brink só oor hierdie verbintenis met Dagbreek: ‘Dirk Richard het my destyds, skaars 'n maand of wat nadat hy my aangestel het, sommer net laat weet hulle het besluit om 'n ander formaat daaraan te gee. Telefonies ook; wou niks op sy lêer hê nie...’)
Dagbreek, wat voorloper was met die nuus oor Breytenbach, was destyds onder redaksie van Dirk Richard wat dikwels onder druk geplaas is deur verkrampte lede van sy direksie (veral dr. Albert Hertzog) en verkrampte redakteurs van sy persgroep. Tog beroep Richard (1985: 123) hom later daarop dat Dagbreek 'n ‘beskeie deel’ gehad het aan die ‘strewe na hervorming’, onder meer op grond daarvan dat dié koerant ‘in die dae toe sulke joernalistieke astrantheid nog na party-dislojaliteit gelyk het... dit gelaak het dat... ('n) visum aan Yolande Breytenbach... geweier is’. Hierdie ‘laking’ vind egter nie neerslag in die politieke korrespondent se verslag oor ‘Hoekom Breytenbachvisum nie toegeken is nie’. In hierdie opvallende berig (met banieropskrif op die linkerhandse bladsy agt van Db., 6.6.65) som hy die redes vir die regering se optrede (soos hy dit uit 'n gesprek met 'n ‘gesaghebbende bron’ verkry het) soos volg op, sonder enige blyke dat hy nié akkoord gaan met die konsekwensies van die apartheids-ideologie en die handhawing van ‘wet en orde’ tot elke prys nie:
(i) | Laat die Staat mnr. Breytenbach en sy vrou hier toe, sal die Parlement geminag word, want die Parlement het in sy soewereiniteit 'n wet, die Ontugwet, aangeneem. Daardie wet sou op Breytenbach en sy vrou van toepassing wees. |
(ii) | Sou die skrywer en sy vrou in sy ouerhuis of elders in die land in een vertrek slaap en iemand kla daaroor by die polisie, sal hulle verplig wees om op te tree. Dink aan die gevolge, die internasionale bohaai. |
(iii) | Die belangrikste oorweging was miskien dat 'n presedent dan geskep sou gewees het vir alle mans in Suid-Afrika wat met nie-Blankes wil trou. Hulle kon dan oor die grens na een van die protektorate of buurstate glip, daar trou en dan, in navolging van mnr. Breytenbach, aansoek doen om toelating vir hul vroue. Of hulle kan soos mnr. Breytenbach in die buiteland trou met 'n burgeres van 'n nie-Blanke nasie terwyl hulle byvoorbeeld in die Ooste studeer of reis en dan aansoek doen om 'n visum vir die nie-Blanke vrou. |
In sy rubriek ‘Die week in die politiek’ (Db., 20.6.65) lewer Willem van Heerden hoogstens versigtige kommentaar op die Breytenbach-voorval binne die wyer Suid- Afrikaanse politieke konteks. Hy beskou die visum-weiering as 'n
| |
| |
‘administratiewe oordeelsfout’, maar waarsku dat dit nie vir ‘partyvoordeel’ uitgebuit moet word nie:
Ons mag ons verskille hê, en sommige onder ons mag selfs baie sterk voel oor dingetjies soos 'n visum vir mev. Yolande Breytenbach of simfoniekonserte in die Kaapstadse stadsaal of 'n permit vir Bantoe werknemers van die Universiteit Rhodes om te gaan kyk na studentevoetbal. Maar hierdie dinge, hoewel hulle gebruik mag word, en ook wel word, om gevoel in die buiteland teen ons te verskerp, het niks uit te staan met die werklike twisvraag tussen ons en dié gedeelte van opinie in die buiteland wat ons veroordeel nie. Dié gaan oor Blanke politieke seggenskap in Suid-Afrika (en nie oor die apartheidsbeleid as sodanig nie)...
Richard se aanspraak dat sy koerant die visumweiering ‘gelaak’ het, word hoogstens gereflekteer in die publikasie van NP van Wyk Louw se brief oor die voorval. Met die uitsondering van slegs twee briewe is die ander ‘Briewe van ons lesers’ wat in daardie stadium in die koerant gepubliseer is, ondersteunend van die politieke status quo. (In Oktober 1970 verskyn daar wel berigte deur Dirk Richard en Willem van Heerden waarin gevra word dat Breytenbach se saak in heroorweging geneem word. In 'n onderhoud met die Sunday Tribune (11.10.70) sê Breytenbach dat hy 'n bietjie moed put uit die feit dat prominente Nasionaliste die implikasies van die regeringsbeleid in menslike terme beskou, maar hy voel dat dit nie moet gaan om uitsonderings nie, maar oor die ideologie van apartheid in sy geheel.)
Die Vaderland bly aanvanklik neutraal oor die visumweiering. In sy brief wat op 3 Junie 1965 in dié dagblad gepubliseer word, daag André P Brink hierdie koerant van die APB uit om standpunt in te neem oor die visumweiering: ‘Is u koerant bereid om te protesteer teen 'n voorval wat noodwendig moet meebring dat een van die belangrikste digters wat Afrikaans nog opgelewer het, voortaan van sy eie land vervreem moet word - en dit omdat sy vrou... nie presies die “regte” kleurskakering vir ons goddelike suiderson vertoon nie...? As u dit met u gewete kan rym dan het u 'n keuse gedoen tussen die eng en meermale diaboliese grense van die politiek en die groter menslike ruimte van kultuur en beskawing.’ Die redakteur van Die Vaderland, AM van Schoor, aanvaar die uitdaging in die hoofartikel van dieselfde uitgawe van die koerant. Al vind hy dit ‘pynlik’ omdat sy koerant ‘die onbetreebare heiligdom van enige mens se persoonlike lewe eerbiedig’ noop Breytenbach se ‘striemende aanklagte sowel as die emosionaliteit van enkele Afrikaanse skrywers wat Afrikanerskap... op sleeptou sestiger’ die koerant om standpunt in te neem: ‘Breytenbach het... uit eie vrye sin en wil besluit om nie aan die lewensnorme of wetlike verordeninge van sy gemeenskap te formeer nie... (Hy) het duidelik genoeg intelligensie en begaafdheid om te weet dat hy met sy versoek om 'n visum die gemeenskap buite wie se lewensreëls hy homself uit eie vrye keuse gestel het, sal uitdaag en uittart. Hy begaan 'n groot oordeelsfout, bewus of onbewus: ONS het hom nie sy Afrikanerskap ontneem nie. Dis HY wat vir homself eerlik moet rekenskap gee wat “Afrikanerskap” van die draers daarvan verg en of hy dit nie lankal self, met voorbedagte rade, prysgegee het nie.’ (Laasgenoemde verwys na Breytenbach se ‘Afrikanerskap’-uitspraak in
Bu., 2.6.65.) Reaksie soos
hierdie brand- | |
| |
merk die digter as ‘buitestaander’ omdat hy nie konformeer aan die norme van die hegemoniese groep nie.
Abraham H de Vries, wat in daardie stadium kunsredakteur van Die Vaderland was, reageer op hierdie hoofartikel en wys sy hoofredakteur (in Va., 4.6.65) daarop dat die definisie van Breytenbach se huwelik as ‘uitdaging van geskrewe en ongeskrewe lewensreëls van die gemeenskap’ van swak smaak getuig en dat die verheffing van ‘lewensnorme en wetlike verordeninge’ tot onbuigbare ideologie nadelig is vir die voortbestaan en ontwikkeling van Afrikaans. De Vries wonder vir en namens watter ‘vreemde soort Afrikaner’ hierdie hoofartikel geskryf is. Hy voel dat die meeste Afrikaners nie só eng gebonde is aan wetlike verordeninge dat hulle nie die waarde van hul geestesprodukte voorop sal stel nie. In 'n volgende brief (Va., 15.6.65) beskuldig De Vries die koerant daarvan dat hy die visumvoorval as ‘politieke wisselgeld’ gebruik. Na aanleiding van die parodiërende woordspel in ander hoofartikels in dié koerant (8.6.65 en 10.6.65) asook die lesersbriewe beweer hy dat ‘as Die Vaderland 'n bietjie sy skuilnaambriewe agterweë hou en die briewe plaas van mense wat bereid is om hul name te teken by wat hulle sê en daarvoor in te staan, sal u uitvind: die meeste lesers se perspektief is veel, veel ruimer’. (Uit die reaksie van die publiek blyk egter meer simpatie met sienings soos dié van Van Schoor.)
Die visumvoorval kry minder aandag in Voortrekkerpers se Die Transvaler. Redakteur GD Scholtz se konserwatiewe en eksklusief Afrikaner-instelling blyk egter ondubbelsinning uit sy hoofartikel van 8 Junie 1965. Hy beskou hierin genetiese suiwerheid as dié aspek van die Afrikaner se lewensbeskouing wat tot sy behoud gelei het. Hy verdedig maatreëls om rassevermenging teen te gaan op grond van ‘wetenskaplike argumente’ asook op grond van ‘die goddelike roeping’ van die Afrikanervolk. Hy voer aan dat ‘hierdie aspek van sy lewensbeskouing die Afrikaner in direkte botsing met die liberalisme bring wat van geen rasseverskille wil weet nie’. Volgens hom kom Breytenbach se huwelik en die houding van Afrikaners wat hul aan sy kant skaar, daarop neer dat die wetgewing van die land ‘wat die lewenshouding van die Afrikaanse volk weerspieël’, verontagsaam en aan flarde geskeur word: ‘Afrikaners wat een van die belangrikste beginsels van hul volk se lewensbeskouing verwerp en wat hulle ook vir hul mense skaam, kan nou 'n besondere stap doen. Dit is om hul voet ook te plaas op die weg wat na Parys lei.’ Ook Neels Natte meen dat die voortbestaan van die ‘blankedom’ op die apartheidsbeleid gebou is; hy voel dit was 'n ‘politieke oordeelsfout’ om 'n prys toe te ken in omstandighede ‘waarvan voorsien moes gewees het dat dit sou lei tot die ongure gevolge vir ons vaderland waartoe dit gelei het’ (4.6.65).
In teenstelling met die koerante van APB het Nasionale Pers se koerant, Die Burger, geen standpunt oor die visumvoorval in hoofartikels ingeneem nie. Enkele berigte oor die prystoekenning, Breytenbach se omswerwinge en 'n aankondiging van die visumweiering verskyn sonder kommentaar (16.2.65; 18.2.65; 26.5.65). Breytenbach se omstrede brief teen apartheid verskyn egter in dié koerant (2.6.65). Op 4 Junie 1965 word in die rubriek ‘Gister in die Parlement’ berig dat die visumweiering in die begrotingspos Inligting in die
| |
| |
Volksraad ter sprake gekom het. Mnr. RB Durrant (Verenigde Party, Turffontein) het gesê dat die regering met sy dade al die goeie werk van die departement van inligting saboteer; die Breytenbach-voorval het meer ruimte in die wêreld-pers gekry as wat die departement met sy hele begroting kon koop.
Op 9 Junie 1965 verskyn daar in Die Burger 'n voorbladberig met die banieropskrif: ‘Breyten moes wys hy is blank’. Hiervolgens sou Breytenbach se moeder gesê het dat haar seun met geboorte- en doopsertifikate, geslagsregister en bloedtoets moes bewys het dat hy wit is voor hy met die adellike Yolande kon trou. (Breytenbach ontken hierdie bewering in Bu., 14.6.65.) Onderaan die berig word verwys na 'n lesersbrief wat ook in die koerant opgeneem is. In hierdie brief pleit Jurie van As dat ons wette plek moet hê vir menslikheid: ‘As ons doen wat binne die grense van ons gedwonge lewensbeskouinge op suiwer Afrikaner-menslikheid geregverdig kan word, sal ons die pad na gesonde nasieskap nie byster raak nie. As ons te bang is om dit te doen, verloor ons die stryd, ook sover dit ons bruin Afrikaners betref.’ Volgens Marthinus van Schoor van UNISA, wat werk aan 'n biografie oor Piet Cillié, is Die Burger deur die regering kwalik geneem daaroor dat dit briewe gepubliseer het wat simpatiek teenoor Breytenbach was. Van Schoor haal aan uit 'n brief wat Piet Cillié op 10 Junie 1965 aan dr. TE Dönges ('n direksielid van Nasionale Pers) rig, en waarin hy verwys na 'n gesprek tussen hulle. Met verwysing na genoemde voorbladberig en pro-Breytenbach brief het Dönges vir Cillié gevra om 'n redaksionele standpunt oor die hele episode in te neem; hy het dit ook duidelik gemaak wátter standpunt hy graag in Die Burger gestel wil sien. Cillié se reaksie hierop kom daarop neer dat die regering self nog nie standpunt ingeneem het nie - as dit gebeur, sal Die Burger daarop reageer. (Hierdie inligting is van Van Schoor verkry tydens 'n gesprek in 1984.)
André P Brink verwyt Die Burger ook oor sy hantering van die saak, maar vanuit 'n ander hoek. Hy wys daarop dat Afrikaanse koerante, gesteun deur predikante en huisvrouens, tereg geprotesteer het teen die ouderdomsbeperking op die rolprent Debbie van Jamie Uys. Teen die gevaar dat Afrikaans een van sy sterkste en verrykendste nuwe kragte verloor, protesteer mense soos NP van Wyk Louw, wie se woorde swaarder weeg as die ‘effe menigte’. Maar na dié protes word nie geluister nie. ‘Die noordelike koerante gaan op kenmerkend histeriese manier tekere teen die protesteerders. Die Burger verkies om te swyg. Het u koerant, wat nog nooit geskroom het om die saak van die Afrikaanse kultuur te verdedig nie, nie ook hier 'n gewetenstaak nie?... Watter kant toe gaan hier gekies word? Die volk wat brood en botter en fliek wil hê? Of die suiwerste hart van die volk, die kultuur, waarsonder die liggaam sou verskrompel?’ (Bu., 11.6.65).
Die feit dat Die Burger nié redaksionele kommentaar op die omstrede visumsaak gelewer het nie, was deel van sy ‘verligte’ strategie. Dit het immers 'n forum vir openbare debat geskep: nie net Breytenbach self (2.6.65) en sy familie (9.6.65; 14.6.65; 21.6.65) stel hier hulle saak nie, maar verreweg die meeste lesersbriewe oor die visumvoorval verskyn hierin - sowel heftige anti-Breytenbach- as pro-Breytenbachbriewe. Dit is egter belangrik om te besef
| |
| |
dat Die Burger nie 'n werklik alternatiewe standpunt ingeneem het nie - en daarom steeds nie die status quo fundamenteel bevraagteken het nie.
| |
IV
Reaksie van die publiek en ingeligte lesers op die 1965-visumweiering
Berigte oor die bekroning van Breytenbach se werk en oor sy persoonlike lewe stel die digter bekend aan 'n publiek vir wie hy andersins net ‘'n skrywer’ sou bly. Die weiering van 'n visum aan Yolande, die reaksie daarop van die koerante, skrywers soos Van Wyk Louw en Brink asook Breytenbach se eie brief (veral sy ‘As ek my Afrikanerskap vandag kon opsê, sou ek dit doen...’, Bu., 2.6.65) ontlok kommentaar van die algemene publiek in die vorm van briewe in koerante.
Met die uitsondering van enkele briewe (waarvan die meeste in Die Burger gepubliseer is) is briefskrywers gekant téén Breytenbach se huwelik en skryfwerk. Die anti-Breytenbach-reaksies kon ruweg verdeel word in twee groepe: reaksies op Breytenbach se oortreding van 'n landswet en die ‘nie-blankheid’ van sy vrou; en reaksie op Breytenbach as kunstenaar, sy ‘liberaalheid’ as skrywer, sy verbintenis met die Sestigers, ensovoorts (hierdie reaksies verskaf inligting oor die publiek se literatuuropvatting).
Briefskrywers in die eerste kategorie voer feitlik deurgaans aan dat Breytenbach met ‘voorkennis en voorbedagte rade’ 'n huwelik aangegaan het wat onwettig in Suid-Afrika is. Die mening word uitgespreek dat ‘mense wat die huwelik tussen 'n Blanke Afrikaner en 'n Nie-Blanke vrou goedpraat, nie in Suid-Afrika hoort nie’ en verdien om in die ‘buitenste duisternis’ gewerp te word (AP du Plessis, Bu., 2.6.65). Die volk word gewaarsku om nie die ‘beginsels van sy voorouers’ prys te gee nie (Deon Kotzé, Bu., 4.6.65) en om sy ‘identiteit te bewaar’, want dit is ‘elke trotse en beskaafde volk se waardevolste kleinood’ (Loubser, Bu., 7.6.65). Hierdie voorval het ‘Suid-Afrikaners laat wakkerskrik vir die afskuwelike werklikheid van wat sal gebeur as die Ontugwet nie streng toegepas word nie’ (‘English Speaking Realist’, Db., 20.6.65). Daar kan beslis nie toegelaat word dat die Breytenbachs 'n presedent skep wat ‘onberekenbare skade aan ons tradisionele leefwyse en landsbeleid’ sal berokken nie, want ‘bloedvermenging was nog nooit goed te praat nie... ondertrouery sal nie deug nie’ (Vincent van der Westhuizen, Db., 20.6.65). Deur ondertrouery ‘sal die mensdom mos later uitbaster totdat almal dieselfde kleur het, en dit is seer sekerlik nie wat die Here bedoel het nie, want om watter rede sou Hy dan mense van verskillende kleure gemaak het?’ (Lisbie Dreyer, Bu., 14.6.65). Die ‘godsdienstige en rasse-andersheid maak hierdie huwelik iets vreemds aan die norm’, want daar bestaan tog so iets as 'n soort-eksklusiwiteit of soort-andersheid (dr. CW Louw, Bu., 18.6.65). Die besluit van die regering
| |
| |
om nié 'n visum toe te staan nie, word ondersteun deur briefskrywers (byvoorbeeld R Nel namens Die Konserwatiewe Studiegroep van Pretoria, Db., 13.6.65 en AGV le Roux, Tv., 23.6.65). GI Moelich (Bu., 14.6.65) verklaar selfs: ‘As hierdie huidige Regering besig is om sy eie graf te grawe, sal ek graag saam met my Regering daarin begrawe wil wees, want dit sal die laaste suiwer graf in die skoot van ons lieflike land wees.’
Die argumente wat aangevoer word deur hierdie briefskrywers, naamlik gehoorsaamheid aan wetlike verordeninge wat gerig is op die bewaring van die ‘volk’ se identiteit/eksklusiwiteit/tradisies en 'n geloof in rassesuiwerheid en -meerderwaardigheid (gekoppel aan ‘beskawing’), belig hulle onkritiese aanvaarding van die dominante ideologie.
Briefskrywers in die tweede kategorie gee ook aanduidings van hul ideologiese voorkeure, maar bring dit in verband met hulle sienings oor die kuns en die rol van die skrywer of intellektueel. Hierdie briefskrywers vermeng gewoonlik die kategorieë: individuele skrywer, 'n sekere groep skrywers (die Sestigers) en die moderne letterkunde in die algemeen. Die besware berus nie op ‘suiwer’ literêre/strukturele argumente nie (iets waarvoor die Sestigers gepleit het), maar op morele argumente (veral ten opsigte van politiek en seks/sedes) en is dikwels emotivisties van aard. Daaruit blyk telkens die publiek se siening dat kuns en die (politieke) werklikheid nie geskei kan word nie: dat dit die funksie van die kuns is om die politieke status quo te onderskryf en dat die skrywer ‘volkskrywer’ moet wees.
Jan Pretorius (Bu., 24.6.65) beskuldig APB daarvan dat ‘al die onwelkome publisiteit vir ons land nie sou plaasgevind het nie’ as hulle nie die prys ‘vir 'n man in die dekadente buiteland’ gaan aanbied het nie: ‘In die vervolg moet alle instellinge wat pryse vir letterkunde of iets anders uitloof, dit verpligtend maak dat deelnemers hulle en hul gades se persoonskaarte aan die bundel poësie of prosa aanheg wat hulle vir beoordeling voorlê. Deur hierdie reël streng toe te pas en eers die persoonskaarte te bestudeer, sal dit soms nie eens nodig wees om lang manuskripte vol onverstaanbare onsin deur te lees nie en sal baie onaangenaamheid uitgeskakel word. Op dié wyse hou ons ons letterkunde ook raseg en suiwer.’ Ook ander briefskrywers is van mening dat die kunstenaar nie ‘verhewe is bo die landswet en die sedewet’ nie (byvoorbeeld AH de Wet, AL van Heerden en C Grey, Db., 10.6.65; ‘Kaspaas’, Va., 7.6.65; GJ Pienaar, Bu., 10.6.65).
Dit is veral Breytenbach se ‘verblindheid deur die kuns en kultuur van oorsese lande’ (G Terblanche, Bu., 8.6.65) en sy verbintenis met die Sestigers wat beklemtoon word. Hierdie groep skrywers word onder andere 'n klompie ‘windbroekprotesteerders’ genoem wie se pogings tot dusver bestaan uit ‘'n paar boekies wat al klaar op die rakke lê en stof vergader, kletspraatjies oor hoe onbeskaafd die Afrikaner is, baie briewe aan die pers, 'n onophoudelike onderlinge gerugkrappery en 'n yslike grootbekkigheid oor die algemeen. Dus niks om oor te roem nie’ (Gert Pretorius, Bu., 14.6.65). Sekere letterkundiges word ‘alte maklik op sleeptou geneem deur elke agitasie van baard- en plakkaat-draende “intellektueles”’, terwyl die volk ‘deur 'n soort literêre orde van sersant-majore beveel word om te klink en te drink. (Alles natuurlik ter
| |
| |
wille van die vryheid van spraak en pers en van hernieuing)’ (‘Ysterkoei’, Va., 8.6.65). Die versugting gaan op dat ons bewaar mag word van die dag dat die Sestigers die leiding oorneem (AP du Plessis, Bu., 2.6.65); ‘mag die Vader ons land en volk daarvan bewaar dat ons geregeer word volgens die norme en denkbeelde van die huidige geslag van “kunstenaars”, baie van wie, hoewel in 'n bepaalde rigting begaaf, van die mees emosionele, oorgevoelige en soms kwalik toerekeningsvatbare mense in die land is. Die Sestigers is die eerste wat wild tekere gaan as kerk of staat oor hul “kuns” frons. Moet die mense tog nie maar liewer binne hulle “kuns”-kring bly en die Regering van die land en die reëling van normale menslike verhoudinge aan langkoppe met meer ervaring en ewewig in hierdie rigting oorlaat nie?’ (GJ Pienaar, Bu., 10.6.65)
Met verwysing na medeskrywers se kommer dat Breytenbach verlore mag gaan vir die Afrikaanse letterkunde, neem een briefskrywer die volgende standpunt in: NP van Wyk Louw is verniet ‘so bevange geskrik hieroor... Breytenbach sal aanhou om in Afrikaans te skryf as hy enigsins publisiteit wil hê. In die Vastelandse letterkunde is die idioom waarin hy skryf reeds jare lank snuif getrap en deur groter geeste as hy’ (‘Een wat nie die beste in ons literatuur is nie, Kroonstad’, Db., 20.6.65). Die gevoel is oor die algemeen die volgende: ‘Sal ons Afrikaners regtig iets verloor as ons nie Breytenbach met sy liberalistiese idees by ons het nie? Is sy werke nou waarlik so perfek en verhewe dat alle beskaafdes dit moet lees? Ek glo ons is sonder Breytenbach se werke nog beter daaraan toe. Laat ons dan maar liewer in onkunde en “geestelike onbeskaafdheid” verkeer eerder as om trots en beginsels prys te gee ter wille van liberalisme’ (Nellis van Rensburg, Db., 20.6.65). Pleidooie gaan op vir 'n ‘egte volksdigter wat deur skade en skande by sy volk staan’ (A de Wet, Db., 13.6.65; HC Joubert, Bu., 17.6.65).
Die pro-Breytenbach briewe is in die minderheid. Nie een van hierdie briefskrywers verwerp apartheid of wette soos dié op Gemengde Huwelike en Ontug volledig nie. Daar word wel beroepe gedoen op die regering om met realistiese buigsaamheid te werk te gaan (P Lourens, Db., 27.6.65), met redelikheid en menslikheid (Jurie van As, Bu., 9.6.65), met tegemoetkomendheid (Ronald Cloete, Bu., 11.6.65) teenoor uitsonderlike omstandighede en uitsonderlike mense (Dirk Hertzog, Bu., 25.6.65; FB Swanepoel, Db., 20.6.65). Deurgaans is die gevoel dat die norm nie velkleur moet wees nie, maar opvoeding, beskawing, kulturele ontwikkeling (byvoorbeeld Pieter Venter, Va., 17.6.65). Prof. Wouter de Vos (Bu., 15.6.65) waarsku dat optrede soos hierdie niks te make het met die ‘lofwaardige beginsels van die selfbeskikkingsreg van volkere en afsonderlike vryhede nie’, maar tekens begin toon van ‘fanatieke rassisme’.
Openbare reaksie van die kant van skrywers wat gesiene en/of omstrede openbare figure is, trek die aandag van die koerantlesende publiek. Die reaksies van sulke ingeligte lesers betrek die verhouding kuns en (politieke) werklikheid (dit wil sê aspekte van literatuuropvattings) asook Breytenbach se posisie in die Afrikaanse literêre sisteem. Die skrywers spreek hulle almal uit téén 'n verstarde nasionalistiese en apartheidsideologie en sien die letterkunde as ‘verhewe’ bo die politieke werklikheid. Dit sluit aan by die opvatting wat die meeste
| |
| |
(pro-Sestiger) ingeligte lesers destyds oor die aard van die letterkunde nagehou het, naamlik dat die kuns outonoom is en die skrywer en mens aparte entiteite ('n opvatting waarmee die publiek meestal nie saamgestem het nie - en Breytenbach self ook nie, maar nie om dieselfde redes nie).
NP van Wyk Louw se toetrede tot die debat is van belang omdat hy (wat allerweë beskou is as die belangrikste Afrikaanse skrywer) in die openbaar standpunt ingeneem het ten opsigte van die jong Breytenbach se posisie binne die gekanoniseerde Afrikaanse letterkunde. Louw skryf in sy brief aan Dagbreek (30.5.65) dat hy met ‘pyn en skaamte’ verneem het van die visumweiering aan mev. Breytenbach wat ‘vermoedelik meebring dat haar man ook nie sal kom nie: nóú nie, miskien nóóit nie; dat hy as balling sal moet werk en leef, afgesny van sy land en sy taal - die ergste wat 'n jong skrywer kan oorkom’. Louw praat as Afrikaner, maar ook namens die literatuur wat ‘sal voortleef wanneer die grootste gedeelte van ons tyd se politiek en die groot massa van ons politici begrawe en vergeet sal wees’. Hy vra of die Afrikaanse nasionalisme (wat vir hom die grootste beweging binne ons geskiedenis en 'n teken van uitgroei, van steeds voller lewe was) nie nou 'n ‘verstarde ideologie’ word wat ‘deur amptenare met duimstokke afgemeet’ word nie. Dit gaan egter ook oor die Afrikaanse letterkunde wat dit nie kan bekostig om ‘werklike kragte’ te verloor nie: ‘ons kan 'n talent soos Breytenbach net nie wegklap, uittrap nie. Wat vir die amptenaar 'n pennestreep is, is vir die skrywer 'n totale ingryp in sy hele lewe, en vir ons letterkunde 'n vuishou in die gesig. Om van Breytenbach 'n ewige balling te maak? Ons kan nie. Ons durf nie.’ Louw verseker dan die Breytenbachs dat ‘baie, baie en van die béstes in ons literatuur, in hierdie oomblik by hulle staan’.
As voorste segsman van die Sestigers bevestig André P Brink die vroeë kanonisering van die jong Breytenbach as hy hom in 'n brief aan Die Burger (31.5.65) nie net 'n ‘toonaangewende digter’ noem nie, maar ‘een van die belangrikste digters wat Afrikaans nog opgelewer het’. Brink spreek hom ook duidelik uit teen enige determinante vir die kuns wat uitgaan van die apartheidsideologie: ‘In hierdie benouende broederskappie van witterige eksklusiwiteit sal daar weldra baie, baie min kunstenaars oorbly wat dit met hul gewete sal kan rym om tot die “kultuur” 'n bydrae te lewer. Blanke selfbeveiliging beteken vandag dan: beveiliging teen alles wat die naam kultuur, kuns en beskawing waardig is.’
In 'n brief in Die Burger (1.6.65) vereenselwig De Vries hom met kritici wat sê dat Breytenbach ‘die sterkste stem is sedert DJ Opperman’. Sy groot probleem met voorvalle soos die visumweiering aan Yolande Breytenbach is of ‘parallelle ontwikkeling’ 'n ‘ernstige strewe’ vir die regering is of slegs 'n partypolitieke truuk wat as rookskerm vir diskriminasie moet dien (De Vries self blyk positief ingestel te wees teenoor parallelle ontwikkeling as politieke uitgangspunt). Volgens 'n skrywe in Die Vaderland (4.6.65) voel hy dat die Afrikaanse letterkunde vir die regering swaarder moes geweeg het as wetlike verordeninge wat, as dit verhef word tot 'n onbuigbare en verstarde ideologie, ‘nadelig is vir die voortbestaan en ontwikkeling van... Afrikaans’.
Vir 'n ander ingeligte leser, Humphrey du Randt (Db., 13.6.65), val die klem
| |
| |
by die verhouding kuns/politiek ietwat anders - vir hom staan die ‘morele kode’ van die ‘volk’ voorop en mag die ‘volkstrewe’ nooit aan die kuns diensbaar gestel word nie. Du Randt sien Breytenbach en sy protagoniste se oortuigings dus as 'n bedreiging vir die voortbestaan van die Afrikaner. Hy meen Van Wyk Louw betree met sy pleidooi vir Breytenbach die ‘gevaarlike’ gebied van die politiek en verloën daarmee die beginsel ‘skoenmaker hou jou by jou lees’. Eintlik gaan dit vir Du Randt hier om 'n beginsel wat bo die politiek verhewe is, die reg van 'n volk om te ‘veg vir die aristokratiese ideaal, die onwankelbare voorneme om die geestelike erfenisse ongeskonde deur die massa te dra... Daarom kan die volkstrewe nooit aan die kuns diensbaar gestel word nie en die kuns self kan nooit die dwalinge van sy makers regverdig nie... Dit gaan (hier) nie om Breytenbach se kuns nie. Die kunstenaar mag sy kuns nooit aan kontensieuse filosofieë ondergeskik stel nie. Die kuns styg altyd bo die politieke oortuigings van sy maker uit.’ Breytenbach se huwelik en aansoek om 'n besoekersvisum vir sy vrou is daarom nie soseer met sy kuns nie, maar met die ‘morele kode van 'n volk’ gemoeid. Hoewel Du Randt meen dat ons Breytenbach se oortuiginge eerbiedig en as mede-Afrikaners diep met hom saamvoel, mag hy en sy protagoniste nooit ‘ons grootste erfenis, ons voortbestaan as volk’, bedreig nie: ‘Ons veg nie vir ons “vel” nie, maar vir ons geloof in die waardes wat nie deel van ons is nie, maar waarvan ons deel is. Enige poging om die nie-blanke sosiaal of polities te integreer, veroorsaak die kettingreaksie wat uiteindelik tot die val van 'n klein maar kosbare beskawing moet lei.’
| |
V
‘Klein apartheid’ en die Wette op Gemengde Huwelike en Ontug
In 'n ongedateerde brief aan Breytenbach (waarvan 'n handgeskrewe rofwerkkopie opgeneem is in die Louw-versameling van die JS Gericke-biblioteek) plaas NP van Wyk Louw die 1965-visumweiering binne die algemene politieke konteks. Hy sien Breytenbach en sy vrou as ‘slagoffers van die dag vir dag se politieke spel - set en teenset - méér as van ons “wette”’. Louw meen daar is baie Nasionaliste wat simpatie het met die Breytenbachs; hy glo selfs dat die regering graag ‘'n ongedaan maak van die beslissing met die nodige gesigsredding sal verwelkom’. Dat die visum wel geweier is, is volgens Louw 'n simptoom van die ‘stemming’ wat in 1965 in Suid-Afrika heers: 'n stemming wat na uiterstes toe neig eerder as tot die soepel hantering van situasies. Hy verwys na die rol van die pers (veral die Rand Daily Mail, maar ook Die Transvaler en die twee Afrikaanse Sondagblaaie) wat in ‘absolute roekelose opsweping’ hierdie stemming aanblaas. Louw self glo dat 'n staatsman bokant ‘stemmings’ (die verkramp/verligstryd) behoort te staan en hom nie deur propaganda laat
| |
| |
maneuvreer nie, maar dit is moeilik om staatsmanne uit gewone politici te sif.
Die tyd waarin Breyten Breytenbach 'n openbare figuur geword het (as gevolg van die publisiteit verleen aan sy bekroning met die APB-prys en die gepaardgaande visumweiering aan sy vrou) was in 'n stadium toe die Nasionale Party die wit dominante groepe reeds veilig deur die Sharpeville-krisis geloods het en bedreiging van links afgeweer het deur die Rivonia-ingrype. Teen hierdie tyd het wette soos dié wat sekere organisasies onwettig verklaar het (veral die ANC en PAC), wat effektief gesorg het vir die ‘Onderdrukking van Kommunisme’ en wat die staat die reg gee om mense vir negentig dae sonder verhoor aan te hou omdat hulle moontlik ‘staatsveiligheid’ bedreig, gesorg vir die onderdrukking van dissidensie en die totstandkoming van die tweede fase van apartheid wat eintlik die ‘goue tydperk’ was voor die ‘krisis van apartheid’ sedert 1973 (Davies, 1984a: 27-30).
Die jaar 1965 was die jaar waarin dr. HF Verwoerd as premier op die toppunt van sy mag was: ‘The government was more firmly entrenched than any other in the history of South Africa. The economy of the country was set for a boom. The threat from the militant left was almost eliminated. There was no sign of slackening in the drive towards the ideal of a radical, rationally reconstructed society, or the faith in the ultimate validity of the apartheidsgedagte’ (WA de Klerk, 1976: 275).
In twee belangrike beleidsverklarings wat dr. Verwoerd in 1965 in die Volksraad maak (uiteengesit deur SAIRR, 1966: 1-3) herhaal hy sy siening dat vrede in Suid-Afrika slegs verseker kan word deur die skeiding van wit en swart - hy glo in die oppermag van die blanke oor sy eie mense in sy eie gebied en is bereid om dit af te dwing. Met ‘skeiding’ bedoel die Eerste Minister grondgebiedelike, fisieke en veral politieke skeiding. Grondgebiedelike skeiding kom neer op die ontwikkeling van ‘tuislande’ vir swartes; terwyl hulle egter nog in die blanke areas is, sal fisieke skeiding afgedwing word deur wetlike verhindering van ‘gemengde huwelike’ en ‘geslagsgemeenskap oor die kleurgrens heen’, deur aparte skole en woongebiede en deur sosiale skeiding in die algemeen. Maar bowenal sal wit en swart 'n aparte politieke toekoms hê met die blankes in die bestaande Parlement. As die swartes geëlimineer is uit die politieke lewe in Suid-Afrika, sal daar 'n blanke meerderheid aan bewind wees. Die twee minderheidsgroepe, die kleurlinge en Indiërs, gaan slegs beperkte magte gegee word oor sake wat van spesifieke belang is vir hulle (opvoeding, welsyn, plaaslike bestuur, bruin woongebiede, ontspanning) terwyl hulle in sake soos buitelandse aangeleenthede, belasting, ensovoorts onderworpe sal wees aan die gesag van die staat wat in die hande van die blanke meerderheid sal wees. (Laasgenoemde was 'n ‘profetiese blik’ op die bedeling van die tagtigerjare.)
In hierdie tyd pleit ‘organiese’ intellektuele (soos dr. Piet Koornhof en leidende joernaliste van Die Burger en Die Transvaler) vurig dat blankes in Suid-Afrika die sosiale en politieke implikasies van hul afhanklikheid van swart arbeid moet besef en die noodsaaklikheid van opofferings moet aanvaar om grondgebiedelike skeiding te bewerkstellig. Regsgesinde faksies binne die Nasionale Party opponeer egter die konsep van onafhanklikheid vir swart
| |
| |
‘tuislande’ omdat hulle verkies dat die blanke sy ‘baasskap’ oor die hel Suid-Afrika moet behou. Die ‘verligte’ houding is dié wat ‘parallelle ontwik keling’ voorstaan. Na aanleiding van die visumweiering aan Yolande Breyten bach vra 'n verligte Sestiger soos Abraham H de Vries dan die eerste minister Is dit ‘ons erns’ met ‘parallelle ontwikkeling’ of is dit maar net 'n partypolitieke rookskerm vir rassediskriminasie? (Bu., 1.6.65).
Saam met die klemverskuiwing onder die dominante faksie van die Party van ‘baasskap-apartheid’ na ‘positiewe’ ‘afsonderlike ontwikkeling’ (wat sou meebring dat die mag in blanke hande bly daar waar dit werklik saak maak) gaan die doelbewuste bevordering van ‘klein apartheid’. Die ‘Suid-Afrikaanse manier van lewe’ moet immers gerespekteer word en daar durf geen ‘klein toegewings’ gemaak word nie, want gee jy die pinkie word die hele hand netnou gegryp (soos benadruk deur dr. Verwoerd, SAIRR, 1966: 97).
In die praktyk lei ‘klein apartheid’ in die sestigerjare daartoe dat ministers weier om diplomatieke funksies of onthale by te woon as daar swart of bruin gaste teenwoordig is en ‘nie-blankes’ word verbied om lede van blanke wetenskaplike verenigings te word. Die weiering van 'n besoekersvisum aan die (‘nie-blanke’) Yolande Breytenbach is nie 'n geïsoleerde voorval nie. In 1965 word die immigrant George Paissis by sy aankoms in Durban meegedeel dat hy te bruin is en nie welkom in Suid-Afrika nie. Die besoek van die Amerikaanse oorlogskip Independence word gekanselleer omdat daar negers onder die bemanning sou wees. 'n Permit word geweier vir swart werknemers van die Universiteit Rhodes wat na studentevoetbal wou gaan kyk. Gekleurdes wat simfoniekonserte in Kaapstad se stadsaal wil bywoon, moet aparte ingange, kaartjieskantore en toilette gebruik en hulle sitplekke agter in die saal word met tou afgeskort. Die eerste minister kondig af dat besoekende sportmanne nie toegelaat sal word om ‘nie-blankes’ op 'n toer na Suid-Afrika te bring nie - geen Maori's dus in die Nieu-Seelandse All Black-rugbyspan nie. 'n Wit taxibestuurder vrees dat hy die wet oortree om 'n blinde wit meisie en haar bruin oppaster saam in sy motor te laat ry. Wit en bruin kinders word nie toegelaat om saam deel te neem aan 'n Rooikruis-kermis by Maynardville nie. In die stadsbiblioteek van Kaapstad word voorsiening gemaak vir aparte leestafels, al gebruik ‘blank’ en ‘nie-blank’ dieselfde boeke. (Briefskrywers wat reageer op die visumweiering aan Yolande Breytenbach verwys na hierdie ‘apartheidsvoorvalle’, vergelyk briewe in Tv., 8.6.65; Bu., 31.5.65, 1.6.65 en 24.6.65; ook Willem van Heerden se rubriek in Db., 20.6.65 en WA de Klerk, 1976: 273-276).
In Rapport (21.3.73) sou WA de Klerk later vir Breytenbach daarvan beskuldig dat hy slegs besig is met 'n ongenuanseerde aanklag in sy politiek en letterkunde. Hy verwyt die Sestigers, en Breytenbach by name, daarvan dat hulle in die sestigerjare nooit die spesifieke, konkrete gevalle van onreg beveg het nie: Distrik Ses; die Nico Malanteater; onteiende strande; onteiende historiese gemeentes van die NG Sendingkerk; Dimbaza; loongapings; vervreemding van grondgebondenes; trekarbeid. Ook Breytenbach sou tot die spesifieke protes kon bygedra het, maar hy ‘het die gróót visie verkies’ wat toe die ‘klein visie geword het’.
| |
| |
Die vroeë visumvoorvalle binne die wyer Suid-Afrikaanse politieke konteks hou veral verband met twee wetlike maatreëls van die apartheidsbeleid: die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike (1949, uitgebrei in 1968) en Artikel 16 van die Ontugwet (1957). In sy brief aan Die Burger (2.6.65) noem Breytenbach laasgenoemde wet by die naam. Al verstrek die regering geen amptelike rede vir die visumweiering nie, knoop koerantberigte en lesersbriewe dit uitdruklik aan dié wette. In die anti-Breytenbach briewe en -berigte word klem gelê op die feit dat Breytenbach uit eie keuse die wetlike verordeninge oortree het wat daargestel is om die Afrikaner te beveilig; die pro-Breytenbach briewe bepleit nou wel nie die opheffing van die betrokke wette nie (‘al sou ons dit in 'n ander verband moontlik graag doen’ - André P Brink, Bu., 11.6.65), maar pleit daarvoor dat ‘ons wette meer plek moet hê vir menslikheid’, sekere gevalle verg immers ‘toegewing’.
Die sleutelbepaling in die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike Artikel 1(1), is dat enige huwelik wat binne die grense van Suid-Afrika tussen 'n ‘blanke’ en 'n ‘nie-blanke’ gesluit word, verbode en ongeldig is. In Artikel 1(2) is die verbod ook uitgebrei na ‘gemengde’ huwelike wat in die buiteland deur mans met 'n Suid-Afrikaanse verbintenis gesluit word. Aanvanklik was sulke buitelandse huwelike net volgens die Suid-Afrikaanse reg ontoelaatbaar indien die betrokke man nog 'n Suid-Afrikaanse domicilium (permanente verblyfplek) het, maar in 1968 is dit gewysig, ‘na aanleiding van die geval Breyten Breytenbach’ (De Villiers en Kinghorn, 1984: 80-81), om ook mans met Suid-Afrikaanse burgerskap te omvat (Breytenbach het ten tye van sy huwelik in Frankryk nog Suid-Afrikaanse burgerskap gehad, maar nie meer 'n Suid-Afrikaanse domicilium nie). Artikel 16 van die Ontugwet is van toepassing op geslagsomgang tussen persone wat nie wettig met mekaar getroud is nie; persone wat in die buiteland 'n ‘gemengde’ huwelik sluit wat in die oë van die Suid-Afrikaanse reg ongeldig is, kan dus van 'n misdaad aangekla word (ibid.).
Politieke opvattinge en sosiaal-ekonomiese faktore het 'n rol gespeel in die ontstaan van dié wette kort ná die NP aan die bewind gekom het. Die opkoms sedert die dertigerjare van 'n mistieke volksnasionalisme het volgens laasgenoemde ondersoekers onder meer behels dat daar geen vermenging tussen volke mag wees nie, maar dat elke volk apart moes bly om sy goddelike taak te volbring. Die enorme wantoestande onder armblankes in dié tydperk, asook die feit dat hulle in die stede tussen gekleurde mense geleef het, was ook 'n motief vir die instelling van die wette omdat daar gevrees is dat te noue aanraking tussen dié groepe tot vermenging kon lei, waardeur die blankes hulle klasse- én rassemeerderwaardigheid kon prysgee. Onderliggend aan hierdie faktore was die bloedsuiwerheidsmotief: ten diepste het dit gegaan om die behoud van die Afrikaner en die blanke se identiteit, wat ten nouste met ‘rassesuiwerheid’ verbind is (op. cit.: 11-28).
Veranderende omstandighede lei egter daartoe dat daar reeds sedert die vyftigerjare 'n debat gevoer word oor die noodsaaklikheid van hierdie wette (Joubert, 1974: 84-85). Gedurende die sestigerjare neem die bedenkinge toe. In 1962 het Helen Suzman, die enigste verteenwoordiger van die Progressiewe Party, 'n wetsontwerp by die Volksraad ingedien ten einde Artikel 16 van die
| |
| |
Ontugwet opgehef te probeer kry. Sy grond haar argumente op die persoonlike ontwrigting wat die Wet meebring en die benadeling van Suid-Afrika se internasionale aansien as gevolg van die publisiteit wat aan sodanige sake gegee word. In dieselfde jaar praat Die Burger, ‘verligte’ lyfblad van die Nasionale Party in Kaapland, van 'n ‘harde wet’ met onvoorsiene neweprodukte wat die openbare lewe en Suid-Afrika se naam geen eer aandoen nie. Veral in dié koerant se meningskolomme het al hoe meer mense hul bedenkinge oor die wette en die toepassing daarvan begin uitspreek. (Dat die publiek uiteenlopende menings hieroor huldig, blyk duidelik uit die lesersbriewe wat in 1965 oor die visumweiering aan Yolande Breytenbach in die pers verskyn.) Ook van die kant van die Engelse kerke neem kritiek teen die wette toe. Ten spyte van kritiek, bly die wette op die wetboek - en word daar selfs in 1968, na aanleiding van die Breytenbach-geval, strenger bepalings bygevoeg tot die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike (vergelyk hieroor die uitspraak van 'n Volksraadslid en die reaksie van ‘'n Afrikaanse letterkundige van die Rand’ (pseud.) in Db., 3.8.68).
Tot 1971 is gepoog om Artikel 16 van die Ontugwet streng toe te pas en daar is jaarliks soms meer as duisend vervolgings ingestel. Die vervolging in 1970 van 'n groep vooraanstaande mans van die Vrystaatse dorp Excelsior en die openbare opskudding wat dit veroorsaak het toe een van die mans selfmoord pleeg en die vroue later weier om teen die mans te getuig, het 'n nuwe beleid tot gevolg gehad. In 1971 is in die Parlement aangekondig dat vervolgings nie meer by die diskresie van die plaaslike staatsaanklaer sal berus nie, maar by die Prokureur-Generaal. Minder mense is hierna vervolg, maar daar was 'n hoër persentasie skuldigbevindings. Van 1973 (die jaar waarin die Breytenbachs, moontlik vanweë die ‘verslapping’ in die wetstoepassing, toegelaat word om as man en vrou die land te besoek) tot 1974 vind 344 vervolgings plaas en is 89% van die bevindings ‘skuldig’ (De Villiers en Kinghorn, 1984: 85-86).
In 1971 het Helen Suzman weer om 'n herroeping van die wette gevra, maar die regering het dit geregverdig op grond van die openbare mening, konsekwente politieke beleid en die histories opgeboude norme en orde van die samelewing (Joubert, 1974: 88-92 en 102-103). Suzman beskuldig die Volksraad daarvan dat hy ver agtergeraak het by die openbare mening soos verwoord in die Engelse én die Afrikaanse pers (byvoorbeeld Bu., 27.2.71 en Rap., 31.1.71 en 7.2.71). 'n Groot gedeelte van die publiek het ook al 'n toenemende afkeer van die wette ontwikkel - al is daar nog steeds dié wat vas glo aan die noodsaaklikheid daarvan (veral lede van die HNP wat in 1969 afgestig het). Sedert die vroeë sewentigerjare spreek ook die bruin gemeenskap hul al sterker uit teen die wette - iets wat saamhang met die politieke bewuswording van dié groep en wat selfs die NG Sendingkerk beïnvloed.
Die bewind van adv. John Vorster het in 1978 ten einde geloop met 'n toenemende gevoel dat die wette nie onveranderd kon bly nie, maar in die praktyk het nie veel gebeur nie. 'n Nuwe wending is egter aan die debat gegee deur die nuwe Eerste Minister, mnr. PW Botha, wat reeds in 1979 verklaar dat hy nie ongeneë is om die wette te ‘verbeter’ nie - veral die wet teen gemengde huwelike moet ‘met deernis’ toegepas word. Hy kry egter sterk teenstand van die HNP wat in 1981 duisende stemme weglok van die NP. Samesprekings in
| |
| |
April 1982 met die kerke lei ook nie tot 'n eenvormige standpunt nie. Die NG Sendingkerk en die meeste Engelse kerke was teenstanders van die wette - in so 'n mate dat hulle die weg van burgerlike ongehoorsaamheid betree het en gemengde pare deur kerklike seremonies ‘in die huwelik bevestig’ het; die Nederduits Hervormde Kerk en Algemene Sinode van die NG Kerk was voorstanders van die wette ('n jaar hierna besluit die Sinode van Wes-Kaapland egter dat die wette strydig is met die Bybel). Teen die tyd dat Breytenbach vrygelaat word uit die tronk, is die wette nog onveranderd.
'n Skakeloffisier van die SA Gevangenisdiens het in 'n verklaring na die vrylating Breytenbach se posisie verduidelik: ‘Uit die aard van die saak het dit hom vry gestaan om in die Republiek te wees vir solank as wat hy wou. Hy het egter verkies om in dié stadium na die buiteland te gaan. Dit staan hom natuurlik vry om na Suid-Afrika terug te keer soos en wanneer hy verkies’ (Rap., 5.12.82). Vir die pers is dit nie duidelik of Breytenbach en sy vrou werklik toegelaat sal word om as wettig getroude paar saam te lewe in Suid-Afrika nie. Die Eastern Province Herald (7.12.82) meen: ‘Another healthy aspect of the poet's release is that the authorities say he will be able to return to South Africa as and when he pleases. But that largesse carries a certain irony. Undoubtedly, much of Breytenbach's bitterness against the system stemmed from the fact that, in the first instance, he was forced into exile to live freely with his Vietnamese wife.’ Die Pretoria News (6.12.82) is egter nie so seker oor hierdie ‘versekering’ nie: ‘Will this Afrikaner cultural celebrity continue to have to live in exile because of the existence of the Immorality Act? In a time of political reform, the Government should waste no time in clearing up this issue. The Minister of Internal Affairs, Mr FW de Klerk, has been unwilling to commit the Government on what it would do if Breytenbach wished to settle in South Africa with his wife.’ Ook die ‘verligte’ Afrikaanse pers voel dat Breytenbach se terugkeer na Parys dalk meer as 'n persoonlike keuse is: ‘Dit bly per slot van rekening 'n jammerlike refleksie op Suid-Afrika dat 'n Suid-Afrikaner moet uitwyk na die vreemde omdat hy met 'n Viëtnamese vrou getroud is’ (Oost., 6.12.82); ‘Dat Breytenbach 'n soort banneling in Frankryk moet bly, al is dit uit vrye keuse, is nie 'n
ding wat so hoort nie. Pollux hoop dat
hy en die mooie Yolande hul nessie mettertyd hier kom skop en dat Suid-Afrika nie klippe in die pad sal rol nie’ (Rap., 12.12.82).
Teen 1982 het daar in die blanke Afrikanergemeenskap al duidelike veranderings ingetree in die houdings teenoor die Ontugwet en Wet op Gemengde Huwelike, hoofsaaklik omdat hulle nie meer gesien word as noodsaaklik vir die blanke se voortbestaan of vir orde en stabiliteit in die samelewing nie. Volgens 'n meningspeiling was daar 'n duidelike toename in die stemme ten gunste van die afskaffing van die Ontugwet - teenoor 36,2% in Oktober 1976 tot 50,4% in Oktober 1981 (hiervan was 36,4% Afrikaanstalig en 70,7% Engelstalig; die ondersteuners van die onderskeie politieke partye omvat NP:40,9%, PFP: 83,4%, NRP:57,2% en HNP:12,6%). In 1976 was die gedagte aan die afskaffing van die Wet op Gemengde Huwelike vir 57% van die blanke Suid-Afrikaners onaanvaarbaar: in 1981 was daar 'n gelykopverdeling van stemme ten gunste van en teen afskaffing (hiervan was 31% Afrikaanstalig en
| |
| |
77% Engelstalig; NP:35%, PFP:77%, NRP:58% en HNP:10% - statistiek aangehaal in De Villiers en Kinghorn, 1984: 95-96). Teen 1983 bestaan daar ook reeds sewe wettige gemengde huwelike in die land waarteen geen vervolgings ingestel is nie (vergelyk berig in PN., 17.4.85).
In 1983 gaan Suid-Afrika 'n ‘nuwe politieke bedeling’ in. Die eerste apartheidswette wat hieronder herroep word, is die sogenaamde ‘kwetswette’ op Ontug en Gemengde Huwelike in 1985. Naas die verregse reaksie hierteen van die kant van die HNP en KP, en die reaksie van links (dat die herroeping maar 'n ‘geringe poging’ is in die soeke na rasseharmonie), is die reaksie in die ‘verligte’ Afrikaanse pers positief. Die Burger (16.4.85) beskou die herroeping as ‘meer as 'n simboliese daad wat die nuwe bedeling... kenmerk’ en die rubriekskrywer Dawie (17.4.85) voel dat min dade mense so tot die besef gebring het dat daar in Suid-Afrika nie meer plek is nie vir die opvattinge van 'n verbygaande tydperk. Beeld loof die regeerders wat met ‘soveel volwassenheid omstrede sake kan hanteer’ en die ‘burgery wat verstandig reageer’ en meen dit is juis goed dat ‘dié politieke geslag wat Excelsior geskep het, dit vervang het met 'n ander soort politieke, maatskaplike en morele excelsior’ (18.4.85). Die Vaderland (16.4.85) sien die herroeping as bewys van die regering se ‘opregte bedoelings met hervorming’.
Dit is die Engelse pers wat berig oor die reaksie van Breytenbach op die herroeping van die wette (TDN, 19.4.85 en Star, 20.4.85). Die Afrikaanse pers, wat in 1966 en 1973 so ywerig berig het oor hoe die wette die digter raak, verwys nêrens na die ‘Breytenbach-geval’ nie. Volgens die Engelse pers verskil Brink en Breytenbach oor die herroeping: In onderhoude met die Paryse oggendblad Liberation, sê Brink die verandering is minimaal, maar tog belangrik. Breytenbach voel: ‘This is a ruse, not a concession. It is a tactic aimed at improving South Africa's image abroad.’
Tussen Breytenbach se versugting in 1965 dat sy geval meer Afrikaners mag laat besef wat die Ontugwet beteken in terme van die mees elementêre menseregte en die herroeping van die wette, het twintig jaar verloop. Twintig jaar tevore het 'n briefskrywer só gereageer op Breytenbach se versugting: ‘Ten spyte van (Breytenbach se) pogings om andersdenkendes te oorreed, sal die Ontugwet behoue bly, want die huidige Regering is hier gestel, nie deur toeval nie, maar deur 'n Hoër Hand wat oor die lotgevalle van volkere en nasies beskik’ (Bu., 7.6.65). In 1985 blyk dit dat dit die Nasionale Party is wat oor hierdie mag beskik in Suid-Afrika.
| |
Samevatting
Min gevalle in die Suid-Afrikaanse geskiedenis het so dramaties die lig gewerp op die ingewikkelde verhouding tussen individu en die hele sosiopolitieke stelsel waarin hy hom bevind as die visumweiering aan Yolande Breytenbach wat neergekom het op die ‘verbanning’ van haar man. Die ontdekking van sy ‘verbanning’ was vir Breytenbach 'n ontnugterende én radikaliserende gebeurtenis.
Terwyl duisende mense se lewens deur apartheidswette geraak is, is hulle
| |
| |
nooit as individue vir openbare aandag uitgesonder nie. Breytenbach se sleutelrol in heftige openbare polemieke (eers rondom die visumvoorval en later rondom sy uitsprake en optrede) kan waarskynlik toegeskryf word aan, enersyds, sy gekanoniseerde rol as skrywer en intellektueel en, andersyds, sy bedreiging as ‘afwykende’ omdat hy op 'n welsprekende wyse die hart van die apartheidsideologie kon aanval en die hegemonie ‘uitgetart’ het.
Die Afrikaanse pers se reaksie op die visumweiering in 1965 staan in die teken van die ‘baasskap’-ideologie agter die apartheidsisteem wat in daardie stadium dié pers rig - selfs die meer ‘verligte’ Die Burger neem in die tyd om die visumweiering nie standpunt in in verband met Breytenbach nie. Sy gekanoniseerde posisie en veral steun van Van Wyk Louw noop die pers hoogstens tot versigtige kritiek. Afgesien van enkele uitsonderings verteenwoordig die reaksie van die wye publiek op die visumweiering in 1965 die konserwatiewe pool; die klem val op waardes soos volksidentiteit en rassesuiwerheid. Dit kom selfs voor onder ingeligte lesers (byvoorbeeld die reaksie van Du Randt).
Binne die Nasionale Party self was daar polariseringe wat later uitloop op 'n breuk tussen die ‘verligtes’ en ‘verkramptes’. Besluitneming oor norme van aanvaarbaarheid sou oorgaan in die hande van ‘verligtes’ wat dit vaslê in wette. Ten opsigte van die wette op Gemengde Huwelike en Ontug sou Breytenbach bydra tot ‘aanpassings’; hy speel selfs 'n sleutelrol by die herroeping daarvan, omdat sy geval as eksemplaries voorgehou word. |
|