| |
| |
| |
Hoofstuk 4
Oor (Suid-)Afrikanerskap en die bevrydingstryd
Chris Barnard voer aan dat Breytenbach reeds in 1964, vóór sy verskyning op die Afrikaanse literêre toneel, heftig geraak het oor die Suid-Afrikaanse politiek: ‘As ek Breyten se politieke beskouinge van daardie tyd moes tipeer, sou ek sê hy het in 1964 so ongeveer bepleit wat die PFP vandag voorstaan. Met baie van sy kritiek het ek saamgestem, en sommige van die dinge wat hy destyds gepropageer het, is vandag regeringsbeleid’ (Hg., 12.8.77).
Barnard noem dat dit aan hom gesuggereer is dat nie die publisiteit oor die visum nie, maar sekere ‘ander oorwegings’ die oorsaak was dat die visumaansoek van die hand gewys is. Daar was naamlik 'n storie dat Breytenbach in Holland in 'n radio-onderhoud sekere stellings gemaak het wat sy saak by die Suid-Afrikaanse regering nie goed gedoen het nie. In 'n brief in 1965 aan Barnard skryf Breytenbach hieroor: ‘Ek hét deelgeneem aan daardie radiopraatjies waarna jy verwys, maar dit was tog nooit 'n geheim nie... Ieder geval dit was nog altyd die geliefkoosde grappie tussen die ambassademense en my. Boonop glo ek nie ek kan ooit doekies omdraai oor hoe ek oor ons amptelike beleid voel nie...’ (ibid.). Hierdie reguit benadering geld ook Breytenbach se siening van (sy) Afrikanerskap asook sy vereenselwiging met die doelwitte van die vryheidsbeweging.
Dit is nodig om kennis te neem van hierdie uitsprake, die reaksie daarop en die konteks waarbinne dit plaasgevind het omdat dit bygedra het tot die politieke kode wat meespreek in die resepsie van Breytenbach se tekste en omdat dit aanduidend is van die ideologiese gronde waarop sowel Breytenbach as die publiek en lesers se literatuuropvattings berus. Literatuuropvattings is immers verwant aan, 'n funksie van, of gekondisioneer deur 'n breë ideologiese beskouing (vergelyk hieroor Jakes Gerwel, Bu., 18.6.83).
Die klem val in hierdie hoofstuk op Breytenbach se uitsprake tot met sy gevangenskap; die reaksie daarop waaroor verslag gedoen word, is dié tydens die tydvak wat Davies (1984a: 27 en 30) die ‘goue era’ van apartheid noem - ongeveer 1966 tot 1973.
| |
I
Uitsprake in die voor-tronkfase oor (Suid-)Afrikanerskap
In sy brief aan Die Burger (2.6.65), waarin Breytenbach reageer op die visumweiering aan sy vrou, stel hy dit onomwonde dat hy ‘apartheid met al sy
| |
| |
implikasies haat’. As apartheid ‘verteenwoordigend is van die Afrikanerdom’, as die twee nie geskei kan word nie, sien hy geen toekoms vir die Afrikaner in Suid-Afrika nie. Sy teleurstelling, en woede, kry uitdrukking in 'n stelling wat nog steeds teen hom gehou word: ‘As ek my Afrikanerskap sou kon opsê, sou ek dit doen. Ek skaam my vir my mense.’
In 'n brief hierna aan Chris Barnard kwalifiseer Breytenbach egter dié distansiëring van Afrikanerwees: ‘Ek is 'n Afrikaner en ek sal dit bly, dis tog nie 'n keuse nie en ek glo dat ek veg juis om die voortbestaan van my eie mense - liewer óók my eie mense - maar ek glo dat dit in Suid-Afrika alleen kan geskied as die beleid en die bewind bepaal word deur die meerderheid van Suid-Afrikaners’ (aangehaal in Hg., 12.8.77). In gesprekke met joernaliste, vroeg in 1967 tydens 'n besoek aan Swaziland, beklemtoon Breytenbach dat daar vir hom 'n verskil is tussen 'n Afrikaner en 'n Suid-Afrikaner en dat hy laasgenoemde is uit ‘innerlike manifestasie’.
Al het Breytenbach Suid-Afrika oorspronklik nie om politieke redes verlaat nie (hy was eerder 'n boheemse uitgewekene), word hy ná die visumweiering aan sy vrou 'n politieke banneling wat doelbewus aan sy politieke standpunt formuleer. Die emosionele stelling in Die Burger is die eerste openbare uitlating wat sy breuk met die hegemoniese Afrikanerdom uitdruk. Die latere kwalifisering van hierdie omstrede uitspraak dui egter op sy dilemma: hy kon hom nooit werklik só losmaak van sy ‘witterige’ landgenote dat hy totaal onbetrokke by hulle lot is nie. Sy siening van die Afrikaner, sy eie mense, sou deurgaans 'n ineenstrengeling van liefde en haat, vereenselwiging en verwerping bly. Breytenbach se sosiale kritiek is dus 'n mengeling van ‘kritiese afstand’ en ‘kritiese verbintenis’. (Walzer (1987:9-13) dui aan dat Sartre dié voorbeeld is van 'n sosiale kritikus wat ‘kritiese afstand’ ten opsigte van sy verhouding tot sy eie volk gekies het. Camus, daarenteen, kies vir ‘kritiese verbintenis’.) Dít sorg vir 'n ‘curious blend of radicalism and sentimentality’ by Breytenbach (Lazarus, 1986: 171). Die ‘oplossing’ van die dilemma waarin Breytenbach verkeer, die onvermoë om te kies tussen ‘vervreemd’ wees of ‘verbonde’ wees, lê vir hom in die smee van 'n nuwe identiteit: dié van Suid-Afrikanerskap.
Die verwerping van eie identiteit en die smee van 'n nuwe is reeds sedert die sestigerjare die bron van Breytenbach se sosiale kritiek. In Maart 1967 skryf hy in die Unesco Courier (1967b: 40-43) dat apartheid 'n grootskeepse poging is om die totstandkoming van 'n Suid-Afrikaanse nasie teen te werk - polities, ekonomies, kultureel en in rasseterme. En dit terwyl die ontstaan daarvan, gegrond op interafhanklikheid en 'n gemeenskaplike verbasterde afkoms, een van die normaalste dinge op aarde sou wees. Op 11 November 1968 stel hy dit in 'n onderhoud in Vrij Nederland dat die blankes in Suid-Afrika inderdaad nie werklik ‘wit’ is nie; hyself oorweeg dit om (as teken van solidariteit en omdat hy ‘bruinwees’, byvoorbeeld in die gedig ‘Bruin reisbrief’ in Skryt, as manifestasie van Suid-Afrikanerskap sien) ‘kleurlingskap’ aan te vra. (Berigte oor hierdie onderhoud verskyn plaaslik in Bu., 15.11.68 en 19.11.68.)
In die eerste helfte van die dekade sewentig laat Breytenbach die klem val op die Afrikaan-element van die nuwe identiteit waarvoor hy as pleitbesorger optree. Dít gee blyke van die rekening wat hy hou met die opkoms van die Swart
| |
| |
Bewussynsbeweging in hierdie era. Hy glo optimisties dat, alhoewel blankes in Suid-Afrika dit nog nie besef nie, daar reeds 'n ‘kulturele rewolusie’ aan die ontwikkel is in die land en dat die inwoners besig is om Suid-Afrikaners te word. ‘Swart Bewussyn’ is immers nie net relevant vir gekleurdes nie, maar ook vir politiekbewuste blankes wat hulself as Afrikane, en nie as Europeërs nie, sien. Vir hom is dit die enigste realistiese uitgangspunt in 'n land met sewentig persent gekleurde mense (De Volkskrant, 20.6.72).
Teen 1972 het Breytenbach hom reeds op militante wyse geïdentifiseer as Suid-Afrikaner, dit wil sê hom in die openbaar verbind aan die lot van die ‘vryheidsvegters’ en hom radikaal vereenselwig met die rewolusionêre aftakeling van apartheid en Afrikaner-hegemonie ter wille van die totstandkoming van vryheid vir álle Suid-Afrikaners (soos later in hierdie hoofstuk uiteengesit word). Sy sosiale kritiek neig in die periode 1968-1972 meer tot ‘kritiese afstand’ - as ‘buitestaander’ is hy analities, gedistansieerd en eis hy dat die sosiale kritikus hom lósmaak van die groep waartoe hy organies behoort sodat hy die saak van 'n ander, onderdrukte groep kan steun.
Aan die einde van 1972 egter word 'n visum, heel onverwags, toegestaan aan sy vrou en kom hy ná 13 jaar weer tuis in sy geboorteland en tussen sy familie en vriende. Die emosionele intensiteit van hereniging kompromitteer aanvanklik sy vervreemding en intellektuele distansiëring. Hy is immers nou nie meer 'n buitestaander nie, maar 'n teruggekeerde, 'n reisiger wat huis toe gekom het en wat weer eens ‘behoort’ tot die inheemse leefwêreld - vergelyk die Seisoen-passasies oor sy aankoms en herontmoeting met sy familie (1976: 19, 20, 26).
Sy terugkoms bring hom weer in direkte kontak met mense in ‘hartland’-Afrikanergemeenskappe. Hier vind hy strewes en 'n wesensaard waarmee hy kan identifiseer en wat hy kan onderskryf omdat hy dit ervaar as 'n ‘eenwees met Afrika’ - al ervaar die gemeenskappe self dit nie so nie. Dit is veral die Afrikaner-Karooboere (op.cit.: 83-104) wat vir hom die Afrikawese manifesteer deur hulle aanpassing by die land, hulle besondere verknogtheid daaraan (die vasklou aan die aarde, al word dit stof), hulle respek vir die grond en die son en die seisoene, hulle sin vir fatsoenlikheid, hulle onafhanklikheid. Breytenbach se tekening van hierdie mense is poëties en teer - hy beskryf hulle as eerlike, reguit mense wat harde en onopgesmukte dog eerbare lewens lei. Hulle is selfonderhoudende, ruwe, geïsoleerde tradisionaliste en in hulle swaarkry en vreugde, hulle gelowe en vrese, volg hulle in die voetspore van ander Afrikane wat die streek bewoon het: ‘Dis net onder volkere waar die afgestorwenes nooit werklik afwesig is nie waar mens so bang vir spoke is. Aan die wortels van ons leefwyse in hierdie land lê baie van die oorblyfsels van die ou Khoisan-mense: hulle woorde, hulle medisynes, hulle gebruike. Al begraaf ons nou nie ons voorvaders by die vuurmaakplekke nie, al val ons grafte ook in, iets van hulle bloed bly by ons spook, en in ons’ (op.cit.: 101).
Vir hierdie Afrikaners is ‘“regering” of “wet” 'n abstraksie’ (op.cit.: 99), wil Breytenbach glo; híér is die Suid-Afrikaner in die Afrikaner terug te vind en dáárvoor kan hy aanhou skryf in Afrikaans: ‘...nie vir die ophou van Afrikaans nie... maar aspris vir die voortbestaan van 'n sekere aantal “beginsels” (die
| |
| |
herwaardering?)’ daarvan (op.cit.: 135). Walzer (1988: 33) toon aan dat Breytenbach hierdie ‘beginsels’ interpreteer as 'n soort vóór-nasionalistiese humanisme, 'n humanisme wat die kritikus met 'n aanvoeling vir sy mense nog kon herwin en aanwend in opposisie tot apartheid - hoewel die tyd daarvoor vinnig aan die opraak was. Uitgaande hiervan voer Walzer aan dat die sentrale tema van Breytenbach se sosiale kritiek is: ‘Die wesenlike is nie elders nie’. As sosiale kritikus voel hy dat hy moet spreek tot die hart van sy volk (omdat hy nog glo in die wesenlike humanisme van die volk); hy moet dus ‘volkskritikus’ bly (al is dit dan as uiterste geval in die tradisie van Afrikaner-humaniste) en ‘hoofstroom-kritikus’ wat binne sy eie geskiedenis en nasionale kultuur werk. Volgens hierdie argument sou 'n mens dus kon aanvoer dat die besoek aan Suid-Afrika die ‘betrokke’ pool van Breytenbach se sosiale kritiek versterk het.
Volgens 'n waarnemer soos Lazarus (1986: 175-177) is Breytenbach se pleidooi vir 'n ‘herhumanisering’ of 'n herwinning van tradisionele humanistiese waardes wat dan die bron kan word van mobilisasie teen Nasionalisme, egter gebaseer op 'n essensialistiese en onhistoriese vertrekpunt en dít kompromitteer die samehang van sy radikale politiek ernstig. Dié pleidooi berus naamlik op twee gebreke in Breytenbach se politieke filosofie. Eerstens steun sy sienings dikwels op die foutiewe ‘bloudruk’-teorie van apartheid. (Hiervolgens is apartheid 'n maaksel, 'n konstruksie wat geen organiese verbintenis het met die Afrikaner se politieke ervaring nie; dit is ‘ontwerp’ deur ‘argitekte’ soos Verwoerd sodat dit die belange dien van dié wat daardeur bestaan, terwyl die - oorgrote - meerderheid ‘gewone mense’, waarvan die hartland Afrikanergemeenskappe 'n belangrike deel uitmaak, die slagoffers is van hierdie ‘agente’ van apartheid.) Tweedens berus Breytenbach se sienings op 'n historiese flater. Hy besef naamlik nie dat die oorblyfsels van 'n vroeëre, humanistiese kultuur in die hartland-Afrikanergemeenskappe maar net oorblyfsels is nie. (Hierdie humanisme is lankal nie meer die sterk krag wat dit vroeër in die stryd teen Britse imperialisme, was nie: ‘History has passed Afrikaner humanism by. The progressive, mobilizing aspects of this humanism have been drained from it, leaving only a residue whose concrete social meaning, far from being progressive, is actually reactionary’.)
Die gekompromitteerde aard van Breytenbach se radikale politiek word die oorheersende kenmerk van sy sosiale kritiek. Breytenbach self is bewus van die paradoksale in sy situasie (as voorbeeld noem hy dat hy in die vreemde sit terwyl hy tog ‘met hart en niere betrokke wil bly met 'n alledaagse en miskien veranderende plaaslike realiteit’ - 1976: 133), maar glo tog dat hy ‘al is dit dan deur 'n byna organiese gekraaktheid, op 'n manier redelik getrou uiting gee aan 'n gevoel van tussen die mure sit wat deur heelwat Afrikaanssprekendes aangevoel word’ (ibid.).
Die besoek aan Suid-Afrika het wel die ‘betrokke’ pool van Breytenbach se sosiale kritiek versterk, maar dit het hom ook daartoe gebring om, soos blyk uit die laaste aanhaling, die feit in die oë te kyk dat daar 'n deel van hom is wat onherroeplik vervreem is deur ballingskap. Dit is hierdie bewuswording wat die idilliese aanskyn van sy tuiskoms versteur. Teen die einde van sy besoek kom Breytenbach so ver om openlik te erken wat dié tussenspel vir hom beteken en
| |
| |
daarmee identifiseer hy ‘die dood se steek wat in eie boesem lê’. In 'n passasie wat weggelaat is uit die Afrikaanse uitgawe van 'n Seisoen in die paradys (1976: 171), maar aangevul is deur Lijphart (1985: 8-9), word dit duidelik dat dié mense met wie hy sy eenheid wóú vier - en hulle is nie net sy familie nie, maar Afrikanerdom, die ‘mense van my stam, mense van my geskiedenis, mense van my taal, mense wat aan die kern van my onbewuste veiligheid sit’ - juis dié is met wie ware gemeenskap nie moontlik is nie. Ware gemeenskap vloei immers uit positiewe redes en nie uit vrees as uitdrukking van geweld en afsluiting nie: ‘Hierdie land is 'n gillende hel as ons maar net wil luister. Selfs die witpleistery waarmee ons nou besig is, sal nie kan verhoed dat dit eendag oopbars nie. Ons is verantwoordelik vir wat gebeur het, ons is verantwoordelik vir wat gaan gebeur’ (ibid.). In plaas van die deelname wat sy groep van hom eis, bied hy weerstand; in plaas van om te antwoord op die oproep tot etniese gemeenskap, bied hy sy wyer visie van ‘'n groter Suid-Afrikaanse identiteit’ (1976: 146). Daar was dus inderwaarheid geen ware ‘tuiskoms’ nie - en Breytenbach aanvaar, én verwelkom dit, al is dit ook onwillig.
Terug in Europa na die 1973-besoek aan Suid-Afrika, beskryf Breytenbach sy geboorteland as 'n ‘skisofrene’ land (1974a: 10-31). Die Afrikaners hoort tot Afrika (ook omdat hulle oorspronklik uit verbastering ontstaan het), maar aanvaar Afrika nie en word groot in die waan van Europeërskap - hierdie skisofrenie word verder gemanifesteer op die vlakke van imperialisme/kolonialisme, christelikheid/barbaarsheid, demokrasie/ totalitarisme. Daar is teen hierdie tyd geen twyfel meer by hom dat 'n rewolusie onvermydelik is nie - ook om die Afrikaner te verlos van sy posisie as wrede onderdrukker, as selfmoordenaar wat in sy uiteindelike selfvernietiging vuur en haat bring in die lushof van sy land (op.cit.: 19-20). Hyself raak al nouer betrokke by 'n strategie van direkte ingrype in die situasie, moontlik, soos Walzer (1988: 32) dink, om van sy eie ballingskap te vlug - om oor apartheid te skryf uit die veiligheid van Parys moes vir hom oneg, moreel onvoldoende, sonder risiko's en impotent gelyk het.
Breytenbach se haat/liefde-verhouding teenoor sy mense kulmineer in die optrede wat lei tot sy verhoor en skuldigbevinding onder die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme. Paradoksaal, sê hy, het dit altyd vir hom gegaan ‘om die voortbestaan van ons volk, 'n voortbestaan met regverdigheid soos Van Wyk Louw dit uitgedruk het, oor die inhoud en gehalte van ons beskawing’ (Viviers, 1978: 58). Sy optrede was dus nie teen Suid-Afrika gerig nie, maar teen wat hy beskou het as onregverdighede. Dat hy hierdie onregverdighede toewyt aan ‘sy mense’, en by name dié in magsposisies, blyk uit die brief wat hy gedurende die Soweto-onluste uit die tronk laat smokkel na André P Brink: ‘Mag Soweto... Treurnicht se Afrikaans en Afrikaners des moers brand. Hoeveel skande moet ons nog sien?’ (op.cit.: 105). Vir hom lê die oplossing immers in die groei van 'n Suid-Afrikaanse identiteit wat slegs in die stryd self gesmee sal kan word (briewe aan Marius Schoon, op.cit.: 126, 137). Sy eie plig, só stel hy dit tydens sy tweede verhoor, is om dit aan die kaak te stel dat Suid-Afrika geregeer word deur 'n minderheid van die bevolking - al kan hy homself nie onthef nie van sy bloedverbondenheid aan dié groep wat, by
| |
| |
implikasie, die totstandkoming van hierdie groter Suid-Afrikanerskap teenwerk (op.cit.: 173).
Sedert sy vrylating klink 'n ander toonaard op in Breytenbach se geding met sy identiteit. (Sy uitsprake in die ná-tronkfase word in hoofstuk 7 III nagegaan.)
| |
II
Reaksie tydens die ‘goue era’ van apartheid op Afrikanerskap-uitsprake
Daar is reeds vroeër gewys op Die Vaderland en Die Transvaler se reaksie op Breytenbach se uitspraak in Die Burger (2.6.65) dat hy hom skaam vir sy mense en graag sy Afrikanerskap sou wou opgee as dit kon. Die Vaderland se redakteur, AM van Schoor, konsentreer in sy kommentaar op die visumweiering op hierdie uitspraak van Breytenbach. Hy plaas klem op die heersende norme en vorme, die ‘lewensnorme of wetlike verordeninge’ van die Afrikanergemeenskap en die onskeibaarheid van Afrikanerdom en apartheid. Breytenbach se ‘rebellering teen die Suid-Afrikaanse lewensorde’ (hier in die enger sin van ‘wit Afrikaner’-lewensorde) sedert sy studentedae en veral as gevolg van sy huwelik met 'n Viëtnamees word deur Van Schoor beskou as uitdaging en uittarting van die gemeenskap buite wie se lewensreëls hy homself uit eie vrye keuse gestel het. Dit is dus nie die Afrikaners wat Breytenbach sy Afrikanerskap ontneem het nie; as hy homself eerlik rekenskap sou gee van wat ‘Afrikanerskap’ van die draers daarvan verg, sal hy moet besef dat hy lankal self, met voorbedagte rade, sy Afrikanerskap prysgegee het (Va., 3.6.65).
Die visumweiering en Breytenbach se skaamwees-uitspraak bied GD Scholtz, redakteur van Die Transvaler, die geleentheid om in sy kommentaar van 8 Junie 1965 sy eie eksklusiewe siening van Afrikanerskap uit te spel - 'n Verwoerdiaanse siening wat in dié tyd nog grootliks onbevraagtekende instemming geniet het onder die grootste deel van die dominante groep, die Afrikaners, en wat in opposisie staan met Breytenbach se pleidooi vir ‘'n Suid-Afrikaanse identiteit’. Volgens Scholtz het daar aan die suidpunt van Afrika 'n groep mense tot 'n ‘volk’ (‘'n geestelike eenheid’) gegroei deurdat hulle 'n bepaalde lewensbeskouing aanvaar het wat op sekere beginsels rus. Hierdie lewensbeskouing het gedeeltelik ontstaan uit die omstandighede waarin die volk verkeer het: ‘Hy moes naamlik die gebied waarop hy woonagtig was, met onbeskaafde nie-blankes deel. Ten opsigte van een besondere saak het die voorgeslagte sodanig opgetree dat die mense wat vandag die volk uitmaak, daar nie genoeg dankbaar voor kan wees nie. Dit was om die genetiese samestelling van die volk suiwer te bewaar... Dit is asof alle lede van die volk in die verlede instinkmatig geweet het dat, indien daar tot verbastering oorgegaan word, dit die einde van alles sou wees’. Omdat genetiese vermenging byna steeds die gevolg is van maatskaplike vermenging, word die Afrikaner, volgens Scholtz se siening, uit
| |
| |
selfbehoud gedwing om ook laasgenoemde nie te duld nie. Dit is ook deel van die Afrikaner se lewensbeskouing dat sy volk ‘'n bepaalde roeping’ het (soos in 1949 geformuleer deur die Raad van Kerke van die Nederduitse Gereformeerde Kerk) en dit was dan ook in aansienlike mate op aandrang van die Afrikaanse kerke dat die owerheid daartoe oorgegaan het om deur middel van maatreëls soos die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike rassevermenging teen te gaan.
Volgens Scholtz bring hierdie aspek van sy lewensbeskouing die Afrikaner direk in botsing met die ‘liberalisme’ wat van geen ‘rasseverskille’ wil weet nie en wat gemengde skole, gemengde woonbuurte en gemengde huwelike ‘nie as 'n euwel beskou nie’. Dit lê dus vir Scholtz voor die hand dat die Afrikaner ‘verplig is om die liberalisme as een van sy grootste bedreigings te sien’. Breytenbach en sy protagoniste word gesien as ‘Afrikaners wat nie teen die verwoestende invloed van die liberalisme bestand was nie’. Die feit bly egter staan dat die regering in sy pogings om die genetiese suiwerheid van die volk te verseker, die steun van die oorgrote meerderheid van die Afrikaners en van 'n aansienlike persentasie van die Engelssprekendes geniet. Om 'n ander houding aan te neem ‘is om die wetgewing van die land wat die lewensbeskouing van die Afrikaanse volk weerspieël, te verontagsaam en aan flarde te skeur’ (ibid.).
Uit die redakteurs van Die Transvaler en Die Vaderland se siening van Afrikanerskap blyk dit duidelik dat die begrip ‘Afrikaner’ in 1965 in die algemene omgang nie 'n taalaanduiding is nie, maar 'n politieke begrip met konnotasies van rassesuiwerheid tot elke prys, rassediskriminasie en oorheersing van ander groepe, geregverdig op grond van 'n ‘goddelike roeping’. Dit is teen só 'n opvatting van ‘Afrikanerskap’ wat Breytenbach hom rig en dit is teen die agtergrond van só 'n Afrikanerskapsiening dat die afwysende reaksie wat Breytenbach se uitsprake (oor Afrikanerskap, oor die rol van die Afrikaanse skrywer en die funksie van die kuns) uitlok, gesien moet word.
Hoe voel die publiek oor Breytenbach se Afrikanerskapsiening? Die meeste briefskrywers voel dat Breytenbach geen reg het om homself 'n Afrikaner te noem nie. Só word daar byvoorbeeld aangevoer dat Breytenbach se 1965-uitspraak ietwat van 'n vertraagde aksie is, want hy het hom al geruime tyd ‘losgemaak van sy volk’ - nie net deur die veelrassige geselskap wat hy verkies nie, maar ook deur sy skryfwerk wat 'n politieke sentiment openbaar wat met volksvervreemding saamhang (hier word spesifiek verwys na ‘Maar hou die pyn ver van my...’ en ‘Soos 'n vis in 'n mandjie’ in Ysterkoei). Die regering is dus reg om nie Breytenbach se ‘Afrikanerskap’ en digterskap te probeer koop nie - ‘die Afrikanervolk was nog nooit verleë oor sulke mense nie’ (‘Ysterkoei’, Va., 8.6.65). Velde Breytenbach (Tv., 15.6.65) is ook skaam - nie omdat hy 'n Afrikaner is nie, maar omdat 'n Breytenbach ‘wie se voorouers in ons land alles - ja, selfs hul lewe - opgeoffer het om ons land en volk blank te hou, die paadjie van die liberalisme gekies het’. HB Duvenhage meen dat dit nie eens vir Breytenbach nodig is om hom te skaam om Afrikaner te wees nie - ‘dat hy in Suid-Afrika gebore is, gee hom nie die reg om hom as 'n Afrikaner te beskou nie’ (Db., 27.6.65); HJ Strauss meen daar is niks wat Breytenbach in die weg staan om sy Viëtnamese vrou na Viëtnam te neem en ‘desnoods self 'n
| |
| |
Viëtnamees te word nie’ (Tv., 30.6.65). ‘Waar jy ook al woon en jouself 'n Afrikaner noem, moet jy te alle tye bereid wees om jou beginsels uit te leef. Die Afrikaner wat nie bereid is om dit te doen nie, volg die pad van mnr. Breytenbach en hy word in die buitenste duisternis uitgewerp’ (AP du Plessis, Bu., 2.6.65). Volgens Loubser moes Breytenbach nooit 'n Afrikaner gewees het nie en sy bede is dat hy die vóórreg so spoedig moontlik prysgee (Bu., 7.6.65), want ‘wie dubbel skaam daaroor voel dat... Breytenbach... Afrikaner is, is die derduisende Afrikaners wat hulle op die Pad van Suid-Afrika bevind’ (‘Ag sies tog’, Bu., 15.6.65). Hierdie ‘ware Afrikaners’ word opgeroep om ‘die vreemdeling en die renegaat’ te verwerp en die tradisies na te volg ‘soos hulle deur ons leiers aan ons voorgestel word’, want ons mag ‘geen haarbreedte van ons beginsels afwyk nie’ (Jan Pretorius, Bu., 24.6.65).
Ook ingeligte lesers van Breytenbach se werk spreek hulle uit oor die kwessie. Abraham H de Vries is die enigste skrywer en mede-Sestiger wat hom in 'n koerantbrief direk uitlaat oor Breytenbach se skaamwees-uitspraak: ‘Nee, Breyten, jou skaamheid (of skaamte?) oor jou Afrikanerskap deel ek nie met jou nie. Die rebelse (bruin?) Hugenoteseun, Hendrik Bibault, het onder ewe moeilike omstandighede as joune in 1707 al in die ou meul op Stellenbosch gesê: “Ek ben een Africaander” en as ek goed onthou het hy glo bygevoeg dat hy dit is al slaan hulle hom, al haal hy ook die kromme note. As jy skaam is vir wat mede-Afrikaners doen, dan plaas jy elkeen van ons (egter) in die posisie waar selfondersoek begin, en moet ek na jou luister’ (Va., 15.6.65).
De Vries betrek hierdie ‘doen’ op die amptelike verdeling wat Afrikaners maak tussen ‘blank’ en ‘nie-blank’. Dit lyk nie of hy meen selfondersoek oor die verdeling as sodanig is noodsaaklik nie, maar wel oor die feit dat maatstawe vir ‘nie-blankheid’ op Yolande Breytenbach, 'n vrou van Viëtnamese afkoms, van toepassing gemaak word. Sy is immers nie ‘swart’ of ‘bruin’ nie, sy is nie ongeletterd en ‘agter’ by die blankes nie, sy behoort nie tot 'n volksgroep wat ons hoef te vrees of sou wil ‘ophef’ nie; sy is geen kommunis nie. De Vries se pleidooi bly steeds vir buigsaamheid en ruimte vir uitsondering: Breytenbach is 'n Afrikaner wat nie geweet het hy oortree met sy huwelik 'n landswet wat net rekening hou met Chinese en Japanners nie. Hy is nog steeds ‘een van ons’ en hy is immers vir ons meer as net iets werd: ‘Ons kan niks verloor deur hom en sy vrou die land te laat binnekom nie; inteendeel ons kan baie wen’ (vir Afrikaans). Volgens De Vries is die Afrikaanse letterkunde immers ‘outonoom’ en verhewe bo die politiek.
André P Brink daarenteen loop selfs Breytenbach se ‘skaam’ gevoel (met kwalifiseringe) vooruit in die brief wat op 31 Mei 1965 in Die Burger verskyn. Die feit dat ‘een van die mees beskaafde, intelligente en sjarmante mense’ wat hy ken op grond van haar kleur (wat verhef word tot kenteken van beskawing, Christelikheid en menslike waardigheid) 'n visum geweier is, noop Brink om te vra: ‘Kan 'n mens anders as om te dink: Vandag is ek voor God skaam om te sê dat ek Afrikaner is, dat ek in Afrikaans skrywe, dat ek 'n volk en 'n taal moet dien wat al verder wegdryf van alle norme van Christelike beskawing?’ Hy waarsku: ‘In hierdie benouende broederskappie van witterige eksklusiwiteit sal daar weldra baie, baie min kunstenaars oorbly wat dit met hulle gewete sal kan
| |
| |
rym om tot dié “Kultuur” 'n bydrae te lewer.’ In 'n ander brief, wat in Die Burger van 11 Junie 1965 verskyn, vra Brink na aanleiding van ander briefskrywers se voorstel dat Breytenbach uit die Afrikanerdom ‘in die buitenste duisternis’ uitgestoot moet word omdat hy as gevolg van sy huwelik nie ‘Afrikaans’ sou wees nie: ‘Word 'n mens se Afrikaansheid of nie dan só maklik getoets?’
NP van Wyk Louw se brief in Dagbreek van 30 Mei 1965 verskyn vóór Breytenbach se gewraakte skaamwees-uitspraak, maar daaruit blyk Louw se eie siening van Afrikanerskap. Hy praat nie net namens die Afrikaanse literatuur as hy hom uitspreek teen die visumweiering nie, maar ook as ‘Afrikaner’. Hy distansieer hom in ‘pyn en skaamte’ van Afrikanerskap in die vorm van ‘'n verstarde ideologie’ en spreek hom uit vir 'n Afrikanernasionalisme wat teken is van ‘uitgroei, van steeds voller lewe’, dit wil sê vir 'n ‘oper’ Nasionalisme.
In 'n brief wat Breytenbach op 1 Julie 1965 aan NP van Wyk Louw skryf, bedank hy die gevierde digter-denker vir die ‘mooi betuiging’ in Dagbreek (J du P Scholtz verwys in 'n artikel in Bu., 17.10.73 na hierdie brief as ‘bitter’). Breytenbach vra verskoning vir die moontlike verleentheid wat sy ‘oorhaastige’ skaamwees-uitspraak vir Louw kon ingehou het, maar bevestig weer sy afkeer van Afrikanerskap wat 'n refleksie is van 'n absolute ideologie:
Ons nasionalisme lyk vir my na 'n absolute ideologie wat hoe langer hoe minder teenstand kan duld. En hierdie inkorting van die mees elementêre vryhede - en dit het lankal begin - kan nié geregverdig word nie, selfs al gaan dit hier om ons lyflike voortbestaan. Inteendeel, ek glo ons bewerk juis só ons eie ondergang. Ons was te geneig om die behandeling van ons teenstanders (gewaand of eg) te verskoon. En nou word selfs die Afrikaner verstrik in die labirint van wette. Nou is ons nasionalisme verwring tot 'n negatiewe krag deur die mense wat die hef in die hande het. Beperkende wette en verdrukking - want objektief gesien word baie mense in ons land vandag verdruk al glo ons nou ook dis vir die uiteindelike heil van die geheel - lei tog net tot meer beperkings.
In die antwoord op Breytenbach se brief verseker NP van Wyk Louw die jong digter dat hy hom nie met sy koerantverklaring in verleentheid geplaas het nie: ‘Ek is nou maar iemand wat my nie aan aanvalle steur nie - so min, waarskynlik, as wat die Regering hom aan my steur! Ek begryp dat u nou die gevoel het van 'n oorhaastige optrede; maar ek het destyds vir meer as een gesê: “Hoe kan ons by 'n man ryp oorweging en 'n filosofiese onpartydigheid na só 'n klap verwag?” Dit sou 'n onmenslike koudheid openbaar.’ Louw laat hom nie uit oor Breytenbach se siening van Afrikaner-nasionalisme as 'n absolute ideologie nie (behalwe as sy sin vir onpartydigheid ook op hierdie uitspraak betrek kan word). Hy plaas eerder die visumweiering binne die algemene konteks van 'n ‘stemming wat na uiterstes toe neig’. (Hierdie briewe is opgeneem in die Louw-versameling wat gehuisves word in die JS Gerickebiblioteek).
Ander ingeligte en invloedryke lesers sou Breytenbach se skaamwees- en ander Afrikanerskap-uitsprake nog lank teen hom hou. Hierdie lesers is openlik gekant teen Breytenbach se ‘linkse ideologie’ en betrag die Afrikaanse
| |
| |
letterkunde vanuit ideologiese vertrekpunte op die ander end van die skaal; Jakes Gerwel (Bu., 18.6.83) noem dit ‘akademiese konserwatisme’. Literatore wat hul openlik distansieer van Breytenbach se siening is onder andere AP Grové en TT Cloete.
AP Grové het reeds in 1967 in 'n artikel oor tendense in die jonger poësie (1967: 12-23) en tydens die jaarberaad van die Suid-Afrikaanse Akademie (berig in Va., 29.6.67 en Grové, 1978: 141-149) Breytenbach se verklaring in die pers dat hy skaam is om 'n Afrikaner te wees, voorgehou as voorbeeld van 'n ‘koue wind wat aan die opsteek is in ons literatuur’: 'n verset wat nie ‘lojaal’ is nie, maar wat hom rig teen die identiteit van die Afrikaner. Breytenbach se persverklarings maak van hom 'n ‘prater’, 'n ‘kletser wat uitflap’, ‘belanghebbende betoger’ en hy kan hom nie langer beroep op die sogenaamde profetiese insig van die skrywer nie: hy moet hom dus nie verbaas as hy weerspreek word nie. Sestigerskrywers kan nie volgens Grové op die een oomblik daarvoor pleit dat die mens agter die boek geïgnoreer moet word, maar dan hulself as mense opdring aan die leser deur middel van allerlei verklarings in die openbaar nie. Dertien jaar later staan Grové (1980: 1-26) nog afkeurend teenoor skrywers wat hul openlik van hul Afrikanerskap distansieer, soos Breytenbach in die onderhoud met Vrij Nederland (berig daaroor in Bu., 19.11.68), en skryf dit afkeurend toe aan die feit dat die Sestigerskrywers nie kon ontsnap aan die ‘slagkrete, skynheiligheid en skuldgevoel, die halfsagte humanisme, dubbele standaarde en omverwerping van ou waardes’ van hul tyd nie. Dit word dan vergestalt in 'n ‘kritiese en selfs afbrekende houding... teen 'n bestel wat mede deur die woord en inspirasie van vroeëre skrywersgenerasies tot stand gekom het’ en in 'n gejaag na die ‘nuwe’ wat nié 'n dieper kyk op die (ou) werklikheid gebring het nie, maar slegs uitgeloop het op 'n ‘vertoon van kunsgrepe en die gebruik van die “gewaagde”
woord’ (op. cit.: 3, 4, 5).
In die era van ‘verantwoordelike verligtheid’ (ongeveer 1973-1978) ondergaan die opvatting van ‘Afrikanerskap’ 'n verbreding. Tydens die Somerskooloptrede van Breytenbach reageer die verligte Afrikanergehoor selfs simpatiek op sy uitsprake oor Afrikanerskap en Afrikaans (vergelyk hoofstuk 5 II). Sy 1975-verhoor dompel die verligtes egter in 'n verleentheid en lei tot 'n pleidooi vir ‘lojale verset’ wat gesien word as die teenpool van Afrikanerverraad (vergelyk hoofstuk 6 III en IV).
Sedert die laat sewentigerjare staan die diskoers rondom die begrip ‘Afrikaner’ (en die Afrikaanse taal en kultuur) in die teken van 'n beweging wat gerig is op die verruiming en verbreding daarvan. Binne hierdie konteks word vroeër gewraakte uitsprake van Breytenbach onderskryf en selfs ingespan in pleidooie vir de-eksklusivering en oopstelling; in die tagtigerjare gee ontnugterde verligtes en veral ‘Alternatiewe Afrikaners’ nuwe inhoud aan Afrikanerskap (soos uiteengesit in hoofstukke 6 XI en 7 III).
| |
| |
| |
III
Uitsprake in die voor-tronkfase oor die bevrydingstryd
Op 4 Januarie 1968 verskyn daar 'n berig onder die opskrif ‘Sestiger se gruwelike aanval op SA’ in Die Vaderland, waarin gestel word dat Breytenbach ‘lid van die Franse Anti-Apartheidskomitee’ is. Die berig handel oor reaksie vanuit dié komitee op die hartoorplanting op dr. Blaiberg wat in hierdie stadium wêreldnuus was. Volgens hierdie berig het die komitee 'n beroep gedoen vir internasionale wetgewing om die hartoorplantings te verbied ‘van mense wie hul vryhede ontneem is, selfs al het die betrokke persone hulle toestemming gegee’. 'n Persverklaring van die komitee word soos volg aangehaal: ‘Daar is duisende politieke gevangenes in Suid-Afrika. Verdagtes word in hegtenis geneem en sonder verhoor onbepaald in die geheim aangehou, die regte van verdediging word nie gewaarborg nie en teregstelling vind dikwels plaas.’ Breytenbach sou volgens dieselfde berig gesê het dat dit uiters jammer is dat so baie publisiteit gegee is aan die hartoperasie wanneer die vordering van die mediese beroep in Suid-Afrika nie geëwenaar word deur die vordering in politieke sfere nie ('n soortgelyke berig verskyn in Tv., 4.1.68).
Dagbreek (31.3.68) stel dit in 'n opvallende berig dat ‘Breyten lid is van die gevaarlike AAM (Anti-Apartheid Movement)’, dat hy al vergaderings van die Franse tak van dié beweging toegespreek het en as tolk vir swart sprekers opgetree het terwyl rolprente soos Sabotage in South Africa vertoon is; hy sou ook in Mei 1967 'n internasionale konferensie oor apartheid in Parys bygewoon het waartydens beroepe op alle Europese regerings gedoen is om geen wapens aan Suid-Afrika te verkoop nie - hierdie konferensie sou in noue samewerking gehou gewees het met die Kommunisteparty, Christian Action en die Defence and Aid Fund.
Breytenbach ontken in 'n berig in Sunday Times (7.4.68) dat hy lid is van die AAM en dat hy aktief betrokke is by die politiek, al is hy onomwonde oor sy siening van apartheid. Volgens hom bestaan daar nie 'n tak van die AAM in Frankryk nie - ‘the only committee I know about is a liaison committee which... deals with matters on Africa. This consists of six pastors and six lawyers, and I am certainly not one of them.’ Hy ontken ook dat hy iets te doen gehad het met die film Sabotage in South Africa en dat hy sy CNA-prysgeld aan 'n politieke organisasie gaan skenk.
Breytenbach ontlok in 1968 nie slegs reaksie uit oor sy moontlike lidmaatskap van 'n ‘kommunisties beheerde’ organisasie soos die AAM nie, maar ook oor die ‘bevordering van terrorisme’ teen sy geboorteland. In Oktober verskyn daar artikels in die koerante van die APB oor Breytenbach se aandeel aan 'n Belgiese tydskrif, Yang Kahier, se uitgawe getiteld ‘Antwoord aan Zuid-Afrika’ wat gepubliseer is as reaksie op 'n vorige uitgawe waarin Suid-Afrika sý perspektief op landsprobleme kon gee. Breytenbach bepleit in sy artikel aktiewe en geldelike steun vir die ‘vryheidsfronte’. Volgens hom is Suid-Afrika 'n
| |
| |
polisiestaat en verteenwoordig organisasies soos die ANC en PAC die meerderheid; hulle het nou oorgegaan tot 'n ‘gewelddadige vryheidsoorlog’ nadat hulle vyftig jaar vergeefs geprobeer het om die onregte te herstel by wyse van ‘petisies, afvaardigings, stakings, optogte en al die ander politieke handelswyses waarvan gebruik gemaak kan word in 'n land van Westerse, Christelike kultuur’. Hy beweer, volgens hierdie berigte, dat die ‘maksimale politieke eise’ van organisasies soos die ANC, ZAPU en SWAPO is ‘om 'n vry en onafhanklike staat, sosialisties van inslag, op te rig: 'n staat waar elke burger - afgesien van sy ras of geloof - vir stemreg kan kwalifiseer. Niemand dreig om die wittes in die see te jaag nie. Die land het ook sy vier miljoen tegnici, boere, sakemanne en intellektueles nodig’ (berigte in Tv., 7.10.68 en Db., 8.10.68).
Dit is veral Breytenbach se onderhoude met Nederlandse koerante in November 1968 wat hom die argwaan van die pers en publiek in Suid-Afrika op die hals haal. Hierdie onderhoude verskyn terwyl Breytenbach in Amsterdam is om die Reina Prinsen Geerligsprys te ontvang wat aan hom toegeken is vir Die huis van die dowe. 'n Onderhoud op 6 November 1968 met De Volkskrant onder die opskrif: ‘Breyten Breytenbach - digter, essayis, skilder, vegter teen apartheid’ word gerapporteer in die Afrikaanse pers (onder meer in Vo., 12.11.68 en Bu., 14.11.68). Volgens hierdie berigte meen Breytenbach dat die regering 'n gewelddadige beleid op Suid-Afrika afdwing wat slegs met 'n gewelddadige opstand beantwoord kan word. Hy self beywer hom vir die gelykheid van alle Suid-Afrikaners en sy bedrywighede sluit onder meer in die hou van lesings en die insameling van geld vir die ANC om hulp aan gesinne van politieke gevangenes te verleen.
Sy onderhoud in November 1968 met die blad Vrij Nederland vind ook neerslag in berigte in die Suid-Afrikaanse pers (byvoorbeeld in Bu., 15.11.68 en 19.11.68). Hy roer onder meer die volgende aan in hierdie onderhoud: die lot van sy Suid-Afrikaanse vriende wat ‘in tronke sit of in ballingskap is’; statistieke oor kindersterftes en teregstellings wat bewys dat die swartman se lewe in Suid-Afrika ‘goedkoop’ is; adv. Vorster se staatshoofskap; blanke Europa wat bevoordeel word deur apartheid en daarom nie ingryp nie. Breytenbach vereenselwig hom in hierdie onderhoud in só 'n mate met die onderdrukte swartes dat hy sê hy oorweeg dit om kleurlingskap aan te vra (hy voel hom immers meer Afrikaan as Europeër) en dat hy hom sien as een van die ‘vryheidsvegters’:
By ons duur die besetting al drie eeue. Maar ek is optimisties. Dit is onmoontlik om apartheid in stand te hou. Oor tien, vyftien jaar is dit klaar daarmee. Dáárvan is ek oortuig, omdat ons 'n jaar gelede vir die eerste maal tot 'n militêre konfrontasie oorgegaan het. Ons vryheidsvegters in Zambië en Tanzanië begin daarvandaan die infiltrasie van Suidwes-Afrika. Dit sal twee of drie keer misluk, maar dit kan nooit stopgesit word nie, dit kan alleen uitbrei. Ons is deur die Regering daartoe gedwing. Niks anders as die wapen het vir ons oorgebly nie. Maar omdat die Suid-Afrikaanse leër enorm sterk is, moet ook aangestuur word op ekonomiese ontwrigting deur onwettige stakings. Die buitelandse beleggers moet hulle vertroue in Suid-Afrika verloor. En die witvel moet afgetakel word en verdwyn. Nie omdat ons iets teen die blanke het nie, maar vanweë wat die blankes doen... (ibid.)
| |
| |
Breytenbach vervreem homself nog verder van 'n groot deel van die publiek deur artikels soos dié in Sechaba (Apr. 1970), amptelike spreekbuis van die ANC, waarin hy weer openlik rewolusie bepleit. Hy glo dat die ‘bevrydingsbeweging’ onder leiding van die ANC, wat hom vir 'n rewolusie gereed maak, net tydelik in toom gehou kan word, maar nie meer gekeer kan word nie. Die Afrikaner kan slegs gered word deur die rewolusionêre vernietiging van sy eie kapitalistiese, totalitêre en wreedaardige magstruktuur; hierdie rewolusie kan slegs van die proletariaat kom en sosialisties wees ('n opsomming van die artikel verskyn in Bu., 22.4.70). In hierdie tyd skenk Breytenbach die opbrengs van 'n tentoonstelling van sy skilderye in Amsterdam aan die ANC (Bu., 22.4.70).
In 'n artikel in die destyds geloodsde blad, Deurbraak (1972a: 17-18), bestempel Breytenbach Suid-Afrika as 'n ‘polisiestaat’ en skaar hy hom by die onderdruktes wat die kapitalisme met sy ‘uitbuiting en sy vraatsigheid, sy uitbreiding en sy dominansie’ omver wil werp: ‘Wanneer ons sê “alle mag vir die volk” en “ons soek 'n herwonne waardigheid waarmee selfs die witman aanvaar sal word” (as lid van 'n minderheidsgroep) dan bedoel ons allereers die omverwerping van die kapitalisme met sy gepaardgaande verdierliking en rassisme.’ (Persberigte oor die artikel verskyn in Hoofst., 5.2.72, Rap., 13.2.72.)
Breytenbach gaan van die standpunt uit dat die einddoel van die bevrydingstryd 'n sosialistiese Suid-Afrika moet wees. 'n Gemeenskap wat uitbuiting en diskriminasie sal afskaf, kan egter alleen opgebou word na 'n magsoorname deur die massa. Hierdie magsoorname is egter slegs één moment in die ontstaansproses van die nuwe gemeenskap wat hy self nie as 'n soort paradys of skitterende toekomsdroom voorstel nie ('n sosialistiese gemeenskap ken immers ook stryd en verandering en 'n kleurlose gemeenskap sal nie binne afsienbare tyd verwesenlik word nie) - maar dit is 'n noodsaaklike voorwaarde vir 'n herverdeling van ekonomiese en politieke mag. Die gewapende stryd moet egter gekoppel word aan ander strydvorme en beskou word as onderdeel van 'n langdurige volksoorlog, as 'n uitdrukking van legitieme rewolusionêre geweld teen die geweld van onderdrukkers en rassiste. Gewapende stryd as sodanig en sonder meer werk volgens hom kontraproduktief. Die volk moet homself herken in die gewapende stryd - een van die vorme wat die stryd sal aanneem. Die geveg is vir die vryheid van die hele Suid-Afrika en alle Suid-Afrikaners. Die bevrydingsbeweging moet leiding gee aan die alliansie van swart arbeiders, aan eksponente van die Swart Bewussynsbeweging, aan die kerkleiers en die blanke radikale, en die stryd reflekteer op elke vlak waarop hy hom manifesteer (1972e: 66-70).
In sy ‘'n Blik van buite’-toespraak tydens die Kaapse Somerskool van 1973 verwys Breytenbach nie direk na sy betrokkenheid by die bevrydingstryd nie, maar hy laat min twyfel oor wat sy eie keuse sal wees wanneer daar finaal gekies moet word tussen die ‘ons’ en die ‘hulle’; tussen ‘wit’ en ‘swart’ nasionalisme:
En in hierdie nag wat ons nou betree sal die vure van nasionalismes aangeblaas word, nog helderder en meer verwoestend opvlam. Daar sal gesê word dat dit ‘ons’ of ‘hulle’ is - sonder dat ons weet wie ons is, sonder dat ons hulle ken. Daardie
| |
| |
kant wat ons sal moet kies, gaan dit 'n wetende keuse wees, of 'n desperate stamkeuse? Sal ons selfs 'n keuse hê? Daar gaan verwag word dat iets verdedig word. Wat? 'n Westerse beskawing? Watter Westerse beskawing, en wie s'n? Die alleenreg tot magsbesluite van die witman? Die wit vel? Net die dood se vel is vlekkeloos wit. (1973a: 8)
Uit die konfrontasie met Panus ná hierdie toespraak (1976: 131-141) kan afgelei word dat Breytenbach se doelstelling vir Suid-Afrika nie aanpassing of hervorming is nie en dat hy hom verplig voel om hom te beywer vir transformasie en oorname van die huidige bewind (op.cit.: 138).
Ander Seisoen-uitsprake waaruit Breytenbach se simpatie vir en daadwerklike steun aan die vryheidsvegters/terroriste blyk, is deur die uitgewer Bartho Smit uitgehaal uit die Suid-Afrikaanse weergawe van die reisverslag wat eers in 1976 verskyn het omdat dit die skrywer se ‘posisie (in die tronk) kan bemoeilik’ (vergelyk brief in Beeld, 19.7.77). Hierdie uitgelate dele (wat aangevul is deur Lijphart, 1985: 4-9) sluit onder meer die volgende (gekursiveerde dele) in: Tydens 'n besoek aan Hermanus en Die Kelders (die grotte wat 'n duisend jaar gelede woon- en skuilplekke vir die Strandlopers, die Khoimense, was) reminisseer Breytenbach oor hierdie mense in wie se wêreld ons leef - ‘sagte en soepel mense moes hulle gewees het, en hulle wêreld was 'n paradys. Totdat die barbare gekom het met hulle gelate soos maskers van die dood en die stokke van verwoesting in hulle hande. Die stokke wat eendag in die hande van afstammelinge, stokke van bevryding sal wees...’ (uitgelaat uit 1976: 34). Wanneer hulle terug op Onrus na die radio sit en luister is daar sprake van ‘terroriste’ - ‘daardie sogenaamde terroriste wat oor enkele jare die bewind gaan oorneem om dan as “politici” onthaal te word’ (op.cit.: 44). Breytenbach se eie keuse vir die rewolusionêre bevrydingstryd word geëggo in die ‘rustige stem van 'n wyse man’ wat oor die waters vanaf ‘die eiland vir politieke melaatses gesweef kom’: ‘Dis net deur lyding, met opoffering en militante aksie dat vryheid verower kan word. Die stryd is my lewe. Ek sal aanhou veg vir vryheid tot aan die einde van my dae...’ (op.cit.: 51). Tydens 'n opvoering van Sizwe Banzi is dead in die ‘veelrassige’ Space Teater in Kaapstad
besluit Breytenbach dat die pyn wat hierin gerealiseer word sy ‘uitloper in
die maatskappy (het) - want dis 'n bestaanspyn wat verskerp en gekontroleer word deur die Witman se wette. Die enigste manier om weg te breek uit hierdie hel is om die witman se magsgreep te breek’ (op.cit.: 106). In 'n brief aan sy suster Rachel stel Breytenbach dat tegniese vermoë op sigself niks beteken nie - selfs mag beteken nie veel nie: ‘Nou is die Witman nog haantjie op die mishoop in Suider-Afrika, in Gondwanaland. Tien jaar gelede sou mens jouself in kon beeld dat dit só voort sal duur. En nou weet ons reeds, nou sien ons klaar dat die Witman se baasskap (of selfs voogdyskap) nie eers die einde van ons 20ste eeu gaan haal nie... Die witman se tydelike heerserskap sal dan nog net onthou word omdat dit een van die obstakels was in die swartman - oftewel die meerderheid van die land se bewoners - se stryd om bevryding en verteenwoordigende regering’ (op.cit.: 178).
Dit is gedurende hierdie besoek dat die gespletenheid van Breytenbach se situasie duidelik na vore kom. Hy vereenselwig hom met die verdrukte, maar hy besef terselfdertyd dat hy verteenwoordigend is van die institusionalisering en
| |
| |
verspreiding van onderdrukking. Om jouself te identifiseer met dié vir wie jy net 'n struikelblok is op die pad na bevryding, is om selfmoord aan te gryp. Breytenbach sien immers in dat die Suid-Afrikaner wat as nie-blank geëtiketteer word en dus ‘'n afwyking van die norm’ is, net weer ‘'n edele mens kan word wanneer hy my uit die weg kan ruim; en sodoende sal hy homself òf reinig òf vernietig’ (1976: 35). Die implikasies van só 'n argument is, volgens Lazarus (1986: 171), apokalipties. Herhaaldelik dus beklemtoon Breytenbach die onafwendbaarheid van rewolusie in Suid-Afrika en ook die vreemde, byna suiwerende, regverdigheid daarvan. Tog is daar die hele tyd 'n ongemak - iets wat Lazarus (op.cit.: 172) toeskryf aan die wesenlike tweespalt by Breytenbach: ‘He is a little like Camus... The coming cataclysm preoccupies (him) not only on account of its necessity and desirability, but also on account of what it threatens to destroy. There is rejoicing in Breytenbach's voice at the contemplation of mass mobilization and intensifying protest, but there is lamenting too. The values of Afrikanerdom that Breytenbach feels should be cherished turn to ashes in his mouth, for they are subsumed under the umbrella of Nationalism.’
Ná sy 1973-besoek aan Suid-Afrika en terug in Frankryk deel Breytenbach Roggeman van De Vlaamse Gids (1974a: 29-31) mee dat rewolusie in Suid-Afrika onvermydelik is in die lig van die land se geskiedenis en omstandighede. Die politieke bewussyn groei stadig, maar wanneer dit werklik deel van die volk is, sal geen tydelike welwillendheid, geen jakkalsdraai, valse beloftes of noodmaatreëls dit meer kan vernietig nie. ‘Rewolusie’ bestaan egter nie net uit magsoorname en dus 'n verandering van regering nie, maar is die onwrikbare begin van die transformasie van strukture - en dit gebeur nie vanself of in 'n vlaag van wraak en geesdrif nie; om dit te realiseer het jy 'n party nodig, 'n strategie wat onder andere sal poog om te keer dat die party of nuwe bewind 'n burokrasie word. Breytenbach voorsien dat, ten spyte van pogings om deur die toestaan van ‘onafhanklikheid’ aan tuislande die Afrikastate en Europese moondhede te paai asook verskerpte strategieë om in die naam van stabiliteit en ‘veiligheid’ alle ware teenstand teen blanke oorheersing te smoor, apartheid nie gaan slaag nie en dat die land op die vooraand van 'n rewolusie staan wat hierdie transformasie van strukture gaan bewerkstellig.
In die loop van die tien jaar sedert Breytenbach die eerste keer in die publieke oog gekom het, het sy openbare uitsprake volgens sommige waarnemers ‘dogmatieser en marxistieser geword en ook militanter’ (De Volkskrant, 21.3.86). Die behoefte om self fisiek aan die stryd deel te neem, het al sterker geword. 'n Vooruitwysing hierna is ook sy vroeëre uitspraak (byvoorbeeld in De Volkskrant van 6.11.68) oor die ‘obseniteit’ van ‘intellektuele uitdaging’ in die vorm van versetpoësie en die gevoel dat provokasie ‘veel dieper’ moet gaan ('n moontlikheid waaroor hy hom in daardie stadium nie verder wou uitlaat nie). Reeds teen die laat sestigerjare het Breytenbach tot die gevolgtrekking gekom dat daar 'n tyd kom dat 'n skrywer se woorde nié ingang vind en vlees en wapen word nie; dan is dit vir hom tyd om ‘die geweer op te neem’. In 1972 gaan Breytenbach só ver om te sê: ‘But I cannot convince my friends of this by words alone. There must be a break, a decision, a point of departure. I must get tied
| |
| |
to the struggle by my own experience, my own concrete participation. It is while walking that I learn how to walk’ (opgeneem in 1986a: 252).
Breytenbach se bemoeienis met die swart bevrydingstryd het dus nie net gebly by openbare vereenselwiging met die doelwitte van die stryd en ‘vryheidsvegters’ asook finansiële steun aan die ANC nie. In 1972 het hy lid geword van die anti-Suid-Afrikaanse organisasie Atlas wie se doel dit was om die regering tot 'n val te bring (vergelyk sy aantekeninge in 1986a: 77-81). Tydens sy 1973-besoek aan die land het hy tentatief begin met die stigting van Atlas en Okhela, laasgenoemde deur hom en 'n paar vriende geïnisieer. Einde Julie 1975 kom hy met 'n vals paspoort na Suid-Afrika om verteenwoordigers uit die vakbonde vir Okhela te werf, maar in Augustus word hy in hegtenis geneem. Tydens die verhoor word getuienis aangevoer dat hy hom, naas aktiewe steun aan die ANC en Atlas/Okhela, aan elf ‘terroristiese dade’ ter bevordering van 'n anti-Suid-Afrikaanse-sameswering skuldig gemaak het (vergelyk Viviers, 1978: 43-48; die Okhela-manifes is opgeneem in 1984a: 329-336). Breytenbach het skuld beken op die klagstaat waaruit die verwysings na wapengeweld, plofstowwe, die optrede van ander mense en die Kommunistiese Party gehaal is. In sy verklaring in die hof (wat uit sommige oorde gesien is as 'n halfhartige terugkrabbeling, maar wat later blyk deels te gespruit het uit 'n ooreenkoms met die staat) maak Breytenbach verskoning vir die ‘manier en die metodes’ waarop hy wou werk vir die ‘groei van ons beskawing en ons toekoms’ en vir die ‘onreg en verdriet’ wat hy daardeur sy mense aangedoen het - al het hy geglo dat sy optrede nie teen Suid-Afrika gerig was nie, maar teen wat hy beskou het as onregverdighede (Viviers, 1978: 58 en 59). Hy besef nou hy is nie 'n politikus nie, nie 'n man van aksie en 'n rewolusionêr nie (op. cit.: 53); sy bydrae kan nie op die gebied van die politiek wees nie en hy sal hom dus ‘nooit weer daarin begeef en vergiftig nie’
(op.cit.: 59).
Stellings wat Breytenbach maak in briewe wat hy aan vriende skryf gedurende sy tydperk van eensame opsluiting (en wat na hulle ‘gesmokkel’ word deur die bewaarder Lucky Groenewald) bevestig egter sy geloof in die bevrydingstryd, en hy verbind hom, behalwe in die fantasieë wat hy vir Groenewald geweef het, ook aan aktiewe deelname. Alhoewel die tweede regsaak teen Breytenbach in sekere sin absurd was, het dit die doel gedien dat dit sy gesmokkelde briewe aan die lig gebring het. Dié toon aan dat Breytenbach nie sy politieke ideale en literêre engagement verloën het nie (vergelyk Ena Jansen, De Volkskrant, 6.12.82).
Uit briewe aan Gerry Maré, wat hy as lid van Okhela probeer werf het, en aan Marius Schoon (Viviers, 1978: 118-120; 134-139; 194-195), blyk dit dat Breytenbach nog geloof het in die tipe benadering wat die organisasie voorgestaan het - ‘dit dui in 'n rigting van optrede wat kan meehelp tot die bevryding van hierdie land - en daarom - die transformasie van die gemeenskap’. Hy voel dat die blankes 'n weg móét hê waarlangs hulle, met inagneming van die voordele én nadele van hul klasse-agtergrond, rewolusionêr 'n bydrae kan lewer tot die bevrydingstryd, maar dat daardie stryd, waarin 'n ‘Suid-Afrikaanse identiteit’ gesmee kan word, onder leiding moet staan van die outentieke verteenwoordigers van die meerderheid van die bevolking. Alhoewel hy nie die
| |
| |
rol van die SAKP onderskat nie en glo dat daar met hulle saamgewerk moet word, is hy daarvan oortuig dat dié Party ideologies en analities nog nie werklik die komplekse Suid-Afrikaanse werklikheid baasgeraak het nie, dat dit 'n Moskou-instrument is, sekere onaanvaarbare ‘Stalinistiese eienskappe’ vertoon en nie rewolusionêr genoeg is nie (1986a: 228). Desnieteenstaande kan met die Party saamgewerk word in 'n front wat ‘al die magte vir bevryding en transformasie sal kan artikuleer’. As gevolg van die genoemde voorbehoude moet daar egter ook voortgebou word aan Okhela omdat dié organisasie 'n spesifieke bydrae kan lewer; die doelstelling moet van nou af wees die ‘ontplooiing tot 'n rewolusionêre en demokratiese party’ wat wel klandestien sal moet opereer, maar so demokraties moontlik is en nie beperk deur etniese groeperings nie (Viviers, 1978: 120).
Sy jare in die tronk sou sy idees oor ondergrondse politieke bedrywighede (en die ANC) slyp en in die ná-tronkfase verskuif aksente in sy ideologiese diskoers (soos uiteengesit in hoofstuk 7 II).
| |
IV
Reaksie tydens die ‘goue era’ van apartheid op uitsprake oor die bevrydingstryd
Koerante wat berigte plaas oor Breytenbach se assosiasie met en uitsprake oor anti-apartheidsbewegings en die bedrywighede van ‘vryheidsvegters’, doen dit òf sonder kommentaar (by Die Burger is dit deel van 'n ‘verligte’ benadering en die ‘oop gesprek’) òf op só 'n wyse dat daar min twyfel by die leser gelaat word oor wat die betrokke koerant (redakteur) se siening daaroor is (dit geld veral die koerante van die noordelike persgroep).
'n Voorbeeld hiervan is 'n berig in Dagbreek oor die Anti-Apartheid Movement waarvan Breytenbach dan 'n lid sou wees, waaruit duidelik blyk dat dié koerant die veiligheidspolisie se mening oor die beweging onderskryf. Volgens die berig het die AAM, wat sy ontstaan in die vroeë sestigerjare in Brittanje gehad het, in 1963 'n tak gestig in Frankryk onder leiding van die Suid-Afrikaanse Kommunis Harold Wolpe wat saam met Arthur Goldreich uit Suid-Afrika gevlug het tydens die Rivonia-saak. Bekende ‘kommuniste’ is lede van die Franse tak: Jean-Paul Sartre, Jean Jacques de Felice, Monique Antoine en Kantia D Kaupp. In die Republiek word die AAM ‘deur die veiligheidspolisie beskou as blanke Suid-Afrika se grootste vyand’ (Db., 31.3.68). Reeds in 1964 het die ‘verteenwoordigers van die volk’ op 'n Volkskongres oor Kommunisme die AAM en sy ‘affiliale’ (onder andere die Colonial Freedom Campaign, die Africa Bureau, die Anti-Apartheid League en Christian Action) uitgesonder as ‘kommunisties geïnspireerde’ organisasies wat bedrywig is ‘met 'n veldtog om die Suid-Afrikaanse Regering in onguns te bring en omver te
| |
| |
werp, en om algemene stemreg in 'n enkele veelrassige staat in Suid-Afrika in te stel’ (Volkskongres, 1964: 95). Teen 1968 was 'n organisasie soos die AAM dus lank reeds onder verdenking.
Breytenbach se moontlike verbintenis met só 'n ‘kommunisties beheerde’ organisasie (‘ontbloot’ deur berigte in Va., 4.1.68, Tv., 4.1.68 en Db., 31.3.68) sou 'n nasleep hê in die toekenning van die CNA-prys van 1967.
Die beoordelaars vir dié prys was die literator DJ Opperman, die joernalis Klaas Steytler en die skryfster Alba Bouwer. In Die Burger (22.3.68) word berig dat Die huis van die dowe ‘deur al drie beoordelaars vir die hoofprys benoem is’. 'n Dag later (Bu., 23.3.68) word dié misleidende beriggewing reggestel: Breytenbach het die prys slegs met ‘één punt gewen’, want twee van die beoordelaars, Klaas Steytler en Alba Bouwer, het die bundel onderskeidelik tweede en derde op hulle lys geplaas. In 'n brief, wat in hierdie Burger-berig aangehaal word, skryf Alba Bouwer:
My aanbeveling was dat die prys aan Berta Smit toegeken word vir haar roman Een plus een. My tweede keuse was Boerneef se Op die flottina. Die beoordelaars moes egter vier boeke in volgorde van verdienste plaas, en ek het Breyten Breytenbach se Huis van die dowe derde op die lys geplaas omdat dit na my mening beter was as die orige boeke wat aan my voorgelê is.
Toe die CNA my in kennis stel dat die prys aan Breyten Breytenbach toegeken is, het ek aan hulle geskryf dat ek nie gelukkig voel oor die keuse nie. My mening is dat so 'n jong en belowende, maar nog onvolwasse, digter eerder by kritiek as by ontydige bekronings baat sal vind.
Ek is nooit genader vir samespreking of oorleg met die ander twee beoordelaars nie - wie hulle was, was trouens net aan die CNA bekend.
Nou word die berig oor die toekenning van die prys so gestel asof daar volkome eenparigheid oor Breytenbach en ‘die hoofprys’ was - watter ander pryse was daar dan nog? Hierteen maak ek beslis beswaar.
Volgens hierdie berig was Klaas Steytler se eerste keuse 18-44 van Etienne Leroux; hy het Breytenbach tweede geplaas. Die berig eindig só: ‘Die derde beoordelaar was prof. dr. DJ Opperman’. Die implikasie is dus: Opperman was die enigste een van die drie beoordelaars wat Breytenbach éérste geplaas het.
In Dagbreek (31.3.86) verskyn 'n berig wat die CNA-pryswenner van 1967 verbind met die AAM en ander anti-apartheidsorganisasies. In Tydskrif vir Letterkunde (1985: 56) beweer Koos Human, uitgewer van Die huis van die dowe, dat die destydse Eerste Minister, mnr. John Vorster, ‘woedend’ was en ‘alles in sy vermoë gedoen het om te keer dat die prys toegeken word’. Human was by Opperman aan huis toe Vorster die keurder gebel en 'n lang gesprek met hom gevoer het: ‘Op die ou einde het Opperman hom feitlik beledig deur te sê hy bespreek nie poësie met 'n leek nie. Vorster het in elk geval beweer dat Yolande nie die probleem is nie - “sy kan by my bly”, was sy woorde. Maar Breyten moes gearresteer word, het hy gesê.’ (Vergelyk Kannemeyer, 1986: 347-350 oor hierdie voorval.)
Opperman het op 'n verduideliking aangedring; dié het hy via Johan Spies ontvang. In 'n brief aan premier Vorster (gedateer 6.3.68) reageer hy só op die
| |
| |
‘verduideliking’ - wat, soos afgelei uit die brief - gaan oor inligting waaroor Vorster beskik wat verband hou met Breytenbach se politieke bedrywighede. Opperman berus hom daarby, soos blyk uit sy brief aan die Eerste Minister:
Geagte mnr. Vorster
Baie dankie vir die verduideliking (deur Johan heen) in verband met die geval Breyten Breytenbach.
Ook wil ek my waardering uitspreek dat u bereid was om my op kort kennisgewing te woord te staan. Soos onder sal blyk, dink ek die noodsaaklikheid daarvan het verval.
Ek, Alba Bouwer (die vrou van Hubert Coetzee van Nasionale Pers) en NG Steytler (redakteur van Die Huisgenoot) is gevra om 'n aantal boeke suiwer letterkundig te beoordeel - nie die persone nie. (U moet die aanbeveling dus nie beskou as 'n goedkeuring van 'n persoon se optrede nie.) Daarmee is ons taak afgehandel. Ek het my toe afgevra indien dit net oor Breytenbach se vrou gaan, behoort ons nie met ons uitwaartse beweging hulle toe te laat om sy prys te kom haal nie? Maar nou, na die verduideliking, begryp ek volkome die saak en het niks verder om te stel nie, sodat die noodsaaklikheid van 'n ontmoeting verval - tensy u anders dink. Ek sal in elk geval sorg dat die inligting aan CNA oorgedra word.
Nogmaals baie dankie en alle seën op u werk.
Hoogagtend,
Die uwe,
(Geteken)
DJ OPPERMAN
(Brief opgeneem in die Opperman-versameling van die JS Gericke-biblioteek.)
Koos Human het Breytenbach ingelig oor premier Vorster se houding (1985: 56); volgens Human het Breytenbach ‘verdraaide’ uitsprake wat hiermee verband hou, teenoor Nederlandse koerante gemaak. In 'n onderhoud in November 1968 met Vrij Nederland (ná die ontvangs van die Reina Prinsen Geerligsprys vir Die huis van die dowe) waarin Breytenbach hom aan die kant van die ‘vryheidsvegters’ van Zambië en Tanzanië stel, beskou hy naamlik die CNA-prys as 'n ‘omkoopprys’: ‘Die lede van die jurie het dit wellig op grond van letterkundige hoedanighede toegeken. Van regs is druk uitgeoefen om die prys nie te gee nie. Dat dit tog gebeur het, is alles deel van die Suid-Afrikaanse camouflage’.
Hierdie uitsprake van Breytenbach lok kommentaar uit van sowel sy uitgewers as van Sestigers soos Abraham H de Vries (Bu., 20.11.68) wat beswaar aanteken teen Breytenbach se insinuasie dat hy slegs bekroon word om die skyn van vryheid in Suid-Afrika te bewaar, want die ‘literêre integriteit’ van mense soos Van Wyk Louw en DJ Opperman (wat in keurkomitees gedien het), is bo verdenking. (Die ope briewe word later in hierdie afdeling bespreek.)
In die brief wat Breytenbach op 22 Desember 1971 aan die direkteure van Human & Rousseau rig (Stet, Jun. 1985), stel hy dit dat hy destyds, in 1968, op
| |
| |
versoek van Human, 'n bandopname met 'n toesprakie gestuur het wat bedoel was vir die CNA-prysoorhandiging waar sy vader die prys namens hom ontvang het. Hy het ook 'n getikte toesprakie gestuur - 'n ‘hardegat toesprakie’ wat hy nie verwag het voorgelees sou word nie:
Daarom het ek beloof om dit self ook nie aan die pers vry te stel nie en voorgestel dat u dit slegs op aanvraag aan die pers beskikbaar maak. En ek het voorgestel dat u 'n verklaring daaraan heg - of dit apart maak - waarin u u dissosieer met my politieke opvattinge. Omtrent terselfdertyd het ek 'n lang brief aan u gestuur waarin ek my posisie van toe so duidelik moontlik probeer stel het... Ek het gevra, mnr. Human, dat u daardie brief ook aan die here Rousseau en Opperman voorlê, sodat ons enige moontlike verdere misverstande kan vermy. Die brief was, op 'n lomp manier, 'n verduideliking van die siening wat ek verdedig op sosiale en politieke terrein.
Breytenbach skryf ook dat hy later besoek van Laurens van der Post, die 1967-wenner van die CNA-prys se Engelse afdeling, gehad het. Hy wou toe weet waarom Breytenbach dan nie eens 'n boodskap gestuur het die aand van die funksie nie - Human het hom verseker dat hy, ten spyte van 'n versoek, niks van Breytenbach ontvang het nie.
In 'n brief aan Breytenbach, gedateer 21 Januarie 1972 verwys Human wel na die toespraak wat hy ontvang het. Hiervolgens wou die voorsitter van die CNA, mnr. Alan MacIntosh, dit nie laat voorlees nie en Human self het ook nie kans gesien om dit te doen nie. MacIntosh wou net sekere dele laat voorlees, maar Human het hom gewys op Breytenbach se versoek dat die toespraak òf in sy geheel òf glad nie gelees word nie. Oor 'n gesprek met Laurens van der Post by die geleentheid het Human geen herinnering nie. Human maak Breytenbach se uitspraak dat die prys ‘omkoopgeld’ is, af as 'n leuen - ‘u weet baie goed dat dit is. Vergelyk alleen u brief van 2 Maart 1968 aan mnr. Koot Kruger van die CNA... asook sekere toepaslike dele van u boodskap’. (Brief opgeneem in Opperman-versameling in die JS Gericke-biblioteek.)
Breytenbach se ‘terroris’-uitsprake wat byna tot staatsingrype tydens die toekenning van die CNA-prys gelei het, lok ook reaksie uit van die pers en die publiek. Teen die middel van 1968 word van die kant van koerantlesers beswaar gemaak teen sekere Afrikaanse koerante se vergoeiliking van Breytenbach, ‘'n skrywer wat goed bevriend sou wees met iemand wat terrorisme teen sy geboorteland probeer bevorder’ (M Kok in Va., 9.7.68, na aanleiding van 'n berig in die Sondagpers oor André P Brink, Etienne Leroux en Breytenbach waarin ook verwys word na Lewis Nkosi). Breytenbach se broer Cloete en sy ouers distansieer hulle in November 1968 van Breytenbach se uitsprake in die Nederlandse pers omdat hy, as dit waar is, ‘alles wat eers vir hom heilig en dierbaar was, verloën’ omdat hy ‘met verkeerde invloede verstrengel geraak het’ (berigte in Bu., 21.11.68; Va., 21.11.68 en Db., 24.11.68).
Koerante van die APB lewer ook afwysende kommentaar op uitsprake wat Breytenbach veral in Oktober en November 1968 in Nederland maak oor ‘vryheidsvegters’. In berigte in Die Transvaler (7.10.68) en Dagbreek (8.10.68) byvoorbeeld, word sy bydrae tot die Belgiese tydskrif, Yang Kahier, afkeurend
| |
| |
gegroepeer saam met ‘leerstellinge’ van mense soos Nelson Mandela, Albert Luthuli en biskop Ambrose Reeves; dit word beskou as ‘alles behalwe 'n waardige antwoord aan Suid-Afrika’ en afgemaak as hoofsaaklik ‘gruwelike wanvoorstellinge’. Koerante van Nasionale Pers daarenteen, plaas uittreksels uit Breytenbach se onderhoude met De Volkskrant en Vrij Nederland sonder kommentaar - byvoorbeeld Die Volksblad (12.11.68) en Die Burger (14, 15 en 19.11.68). Aan briewe van ingeligte lesers wat afkeurend reageer op Breytenbach se uitlatings word egter prominensie verleen in Die Burger waarin dit die eerste keer verskyn voordat dit ook persdekking in ander koerante kry.
Berigte in Die Burger (22.4.70) en Die Volksblad (23.4.70) oor Breytenbach se artikel in die April 1970-uitgawe van Sechaba, amptelike spreekbuis van die ANC, is ook nie heeltemal sonder kommentaar nie: sy uitsprake word naamlik getipeer as die ‘bekende clichés van die internasionale kommunisme’ en as 'n ‘tirade’ teen die regering. In dr. Treurnicht se dagblad, Hoofstad (15.2.72), reageer die politieke korrespondent heftig op Breytenbach se artikel in die Februarie 1972-uitgawe van Deurbraak. Hy noem dit 'n ‘bitsige galbraking’ wat sterk steun op aanhalings uit Mao Tse-Toeng.
In hierdie tyd toe die Suiderkruisfonds gestig is vir Portugese soldate wat teen die bevrydings-/terrorisbewegings in Mosambiek en Angola geveg het, was dit veral die reaksie van ingeligte lesers op Breytenbach se gewraakte uitsprake wat prominensie verkry het in die pers.
Reaksie kom van jong digters (byvoorbeeld Lina Spies met 'n gedig in Kol 1:7, later opgeneem in Digby Vergenoeg) en daar is gerugte van 'n ‘breuk’ tussen Breytenbach en Brink; dit was egter die briewe van Abraham H de Vries en die direkteure van Human & Rousseau wat wye persdekking gekry het - laasgenoemde brief laat tot in die middel tagtigerjare naklanke.
In 'n ope brief aan Breytenbach (gepubliseer in Bu., 20.11.68) herinner Abraham H de Vries sy mede-Sestiger aan die stemme wat opgegaan het om hom en sy werk te verdedig (byvoorbeeld tydens die visumvoorval en die woelinge in 1968 om die Hertzogprys). Nou vra De Vries hom egter pertinent: ‘Steun jy inderdaad, op watter manier ook, hierdie, wat jy noem “vryheidsvegters”?’ en verder: ‘Wat, indien enige, is jou simpatieë en/of verbintenisse met die Kommunisme?’ De Vries beskou Breytenbach se bewerings dat hy in al sy werk stelling inneem teenoor apartheid as 'n leuen. Hy verwyt hom dat hy net ‘pseudo-antirig’ is en in Nederland die rol van die ‘groot vryheidsbeyweraar speel’ met uitsprake wat inderwaarheid net ‘strooipoppraatjies’ is omdat dit nié in sy werk gereflekteer word nie.
Die ope brief van Koos Human, Leon Rousseau en DJ Opperman verskyn op 18 November 1968 in Die Burger, maar daar word volledig daaroor berig in ander koerante. Hierin distansieer Breytenbach se uitgewers hulle in die openbaar van sy politieke standpunte en stel dit dat die wêreld nou, na sy uitlatings in Nederlandse koerante, sal weet dat dit nie - in die eerste instansie - Yolande se ras was wat hulle verhinder het om na Suid-Afrika te kom nie, maar die feit dat Breytenbach hom ‘al lank op verskillende maniere vir 'n bloedige inval in sy eie vaderland beywer’. Die briefskrywers stel dit dat hulle, in teenstelling met Breytenbach, Suider-Afrika se ‘eie vryheidsvegters’ steun en
| |
| |
bydra tot die ‘fondse teen terrorisme’. Hulle voel hulle behoort eintlik verder te gaan en vir elke rand wat hulle in die vorm van outeursaandeel aan hom uitbetaal, 'n rand tot die anti-terroristefonds by te dra ‘net om die balans te bewaar’. Ten spyte daarvan dat hulle ideologies van hom verskil, wil hulle egter hul ‘literêre integriteit’ handhaaf en sal dit hulle strewe bly om ‘alle goeie Afrikaanse letterkunde uit te gee’, al sou dit afkomstig wees van 'n skrywer wat bekend is vir sy ‘drastiese politiek’ - dit is ook in ooreenstemming met die ‘gulle ontvangs’ wat Breytenbach se werk, ten spyte van sy politiek, gehad het onder Afrikaanse letterkundiges. (Die implikasie hierby is dat ‘letterkundiges van integriteit’ 'n onderskeid maak tussen kuns en werklikheid, die kunstenaar en die mens, dit wil sê dat hulle literatuur sien as 'n outonome verskynsel.)
In 'n brief wat Breytenbach op 22 Desember 1971 aan Human & Rousseau rig (1971a: 31-33), verwys hy na die onderhoud wat hy aan Vrij Nederland toegestaan het. Volgens dié brief is dit wat gepubliseer is 'n beknopte weergawe van 'n gesprek wat vyf uur geduur het; hoewel sommige dinge daardeur uit verband geruk is, staan Breytenbach egter by die weergawe in die koerant. Die digter beskou die ope brief van sy uitgewers as: ‘Ongevraag, oneerlik en tot die dag van vandag toe vir my heeltemal onverstaanbaar. U het besluit om 'n brief aan my te rig - sonder die mees elementêre ordentlikheid om my daarvan te verwittig of selfs toe te sien dat ek 'n kopie daarvan kry... lank na die publikasie daarvan... moes ek uit die mond van 'n joernalis, wat van my reaksie wou verneem, daarvan hoor. En toe het ek hom nie geglo nie. U brief was kwetsend omdat dit so oneerlik was, omdat dit my onder andere daarvan beskuldig het dat ek dan agter die kwessie van my vrou se visumaansoek skuil sou hou terwyl ek al die jare al 'n bloedige aanslag op my mense voorberei. En dit terwyl u volkome op hoogte was van my opinies!... Met daardie brief het u my as skrywer gerepudieer.’ (Breytenbach self tref nie 'n onderskeid tussen homself as ‘mens’ en as ‘skrywer’ nie.) Ná hierdie ‘ope brief’ was enige verdere samewerking tussen hom en Human & Rousseau, soos hy dit self stel, ‘buite die kwessie’. Breytenbach verbreek sy verbintenis met die uitgewery en gee daarna by Buren uit (vergelyk ook Cloete Breytenbach oor dié voorval in Viviers, 1978: 12).
Op 21 Januarie 1972 reageer Koos Human namens die uitgewery op Breytenbach se Desemberbrief ('n afskrif daarvan is opgeneem in die Opperman-versameling in die JS Gericke-biblioteek). Die trant van die brief is dié van die ‘bloot formele verhouding’ waarop Breytenbach aandring. In verband met die onderhoud met die Nederlandse blad, die direkteure van Human & Rousseau se ope brief en Breytenbach se reaksie dáárop, maak Human die volgende stellings: Eerstens dat hy en Leon Rousseau wel bewus was van Breytenbach se oortuigings, maar dat hy nooit aan hulle te kenne gegee het dat hy 'n ‘voorstander van geweld en terrorisme’ is nie en dat sy bewering dat hulle bewus was van sy standpunt dus 'n leuen is en tweedens dat Breytenbach verkies om agter die ou storie van die visumweiering aan sy vrou te skuil al het Human self aan hom die reaksie van die Eerste Minister meegedeel wat gesê het dat Yolande nie die struikelblok is nie, maar die digter se eie politieke bedrywighede. Volgens Human is die besware wat hulle in die
| |
| |
brief het (wat as gevolg van sy ‘oop’ aard nie eers vir kommentaar aan die ontvanger daarvan voorgelê hoef te gewees het nie) ‘logies en vir elke mens wat nugter kan dink oor feite, heeltemal verstaanbaar is’. Verder beskou hulle dit as 'n leuen dat hulle Breytenbach as skrywer gerepudieer het: ‘Soos talle ander mense wat meer of minder heftig verskil van u politieke opvattings, het ons nogtans 'n groot respek vir u as skrywer. Dit lyk egter nie asof hierdie onderskeid vir u en die kringe waarin u beweeg, begryplik is nie’.
Hierdie uitgangspunt gee blyke van Human se literatuuropvatting, naamlik dat die kunswerk ‘outonoom’ is en dat die kunstenaarspersoonlikheid geskei moet word van die ‘teks’ wat ‘op sy eie bestaan’. (Hierdie brief is met die medewete en goedkeuring van Opperman geskryf. Dit is nie duidelik nie hoe die opvatting wat in hierdie brief uitgespel word (naamlik dat die kuns ‘outonoom’ is) te ryme is met Opperman se elders uitgespelde literatuuropvatting wat wel voorsiening gemaak het vir genetiese faktore - vergelyk hiervoor Johl, 1986: 33 - 'n opvatting wat nie die ‘boosheid’ van die kuns ontken het nie en wat dus nie van die kunstenaar verwag het om bestaande norme te bevestig/bewaar nie.) Uit die trant van die betrokke paragraaf wil dit voorkom of Human hierdie opvatting as ‘beter’ as dié van byvoorbeeld Breytenbach (en dié wat in sy ‘kringe beweeg’) beskou.
Die ope brief van Human, Rousseau en Opperman lei daartoe dat Breytenbach sy bande met Human & Rousseau verbreek. Volgens Kannemeyer (1986: 350) is die ‘gedeeltelike breuk’ met Opperman later tydens 'n besoek van hom aan Breytenbach in die gevangenis herstel. In die JS Gericke-biblioteek se Opperman-versameling is daar 'n afskrif van 'n fonogram wat Opperman op 27 November 1975 aan Breytenbach in die gevangenis in Pretoria gestuur het ná sy vonnis. Dit lui: ‘My diepste medelye’.
In teenstelling met die ope brief van Breytenbach se eertydse uitgewers was daar ietwat later - maar met spesifieke verwysing na sy 1968-uitsprake oor geweld en vryheidsvegters - die ‘ondergrondse reaksie’ van 'n ander ingeligte leser. Dit neem die vorm aan van 'n ‘geheime’ voorlegging aan die Broederbond, maar die ideologiese geankerdheid van hierdie resepsie is inderdaad ‘openbaar’. Die bestaan van hierdie dokument kom eers in 1983 aan die lig toe JC Kannemeyer in die tweede band van sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1983: 402) en in verskeie koerantartikels (byvoorbeeld Rap. 18.9.83 en 27.11.83; Va., 1.10.84,; Beeld, 15.9.83 en Bu., 19.9.83) ‘onthul’ dat die samesteller die bekende literatorskrywer TT Cloete is (kyk Galloway, 1986, vir 'n verslag van hierdie polemiek). Kannemeyer voer aan dat die studiestuk as manuskrip voorgelê is aan 'n uitgewer, maar dat dié op regsadvies besluit het om dit nie te publiseer nie.
In hierdie stuk (‘Versetliteratuur onder die Sestiger- en Sewentigerskrywers’) word aangevoer dat daar lank reeds 'n subtieler stryd (as dié op die sportgebied) teen die huidige Suid-Afrikaanse bewind, teen ons Christelike opvattings, sedelike norme en die openbare mening gevoer word deur sekere Afrikaanse skrywers. André P Brink en Breyten Breytenbach word uitgesonder as skrywers wat beoog om die blanke minderheidsregering in Suid-Afrika te beeïndig en selfs met geweld te vernietig; wat die Christelike godsdiens en
| |
| |
moraal verwerp en selfs laster teen God, en wat volslae seksuele vryheid bepleit (vergelyk berig in Rap., 18.9.83 en Bu., 19.9.83).
In die ‘versetstuk’ word wydlopig aangehaal uit Breytenbach se versetpoësie wat, hoewel dit (volgens die samesteller) 'n minder wye of populêre appèl as Brink se prosa het, veel drastieser en veelvuldiger uitdrukking aan sy rewolusionêre idees gee. Die klem in die stuk val egter op die ‘politieke konteks waarbinne Brink en Breytenbach sélf hulle eie werk plaas’. Aan die hand van aanhalings uit Breytenbach se onderhoude, artikels en toesprake (wat nie weer hier weergegee word nie, omdat dit elders neerslag vind) maak Cloete 'n saak uit vir die volgende: dat Breytenbach Afrikanerskap en blankheid verwerp en in eenstemming is met ‘terroriste’ wat die land deur geweld bewoonbaar wil maak; dat hy die literatuur as politieke versetsinstrument beskou; dat dit vir hom nie meer gaan om Afrikaans as sodanig nie, maar om die gebruik daarvan as ‘vryheidswapen’ en ‘vryheidsimbool’.
Kannemeyer voer aan dat die geheime studiestuk in die sewentigerjare wel in die besit van ander letterkundiges gekom het - hy verwys na dosente verbonde aan die Universiteite van Port Elizabeth en die Oranje-Vrystaat en by name na AP Grové en 'n invloedryke meningsvormer soos Gerrit Viljoen. Hy voel veral beswaard oor die ‘skade’ wat AP Grové se inleiding tot Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig aan die Afrikaanse letterkunde berokken het: ‘Jaar na jaar moet baie studente 'n eensydige geskiedenis van Sestig bestudeer in 'n boek waarin Grové op die smeerstuk steun en wat deur Cloete geredigeer is’ (Va., 1.10.84). Die stuk het verder ‘skade berokken’ deurdat 'n Port Elizabethse hoogleraar gegewens uit die stuk vir skoolleerplanne gebruik en hom daarmee 'n lastereis van twee skrywers op die hals gehaal het. ‘In watter mate skoolkinders polities deur sulke gegewens geïndoktrineer is in plaas daarvan om 'n studie van die literatuur te maak, kan 'n mens seker net na 'n deeglike opname beraam’ (ibid; vergelyk ook Weideman, 1986: 12 wat meen dat dit juis die feit is dat 'n hele korps Afrikaanse onderwysers die inligting in die UPE-stuk verder gaan ‘verhandel’ het, wat kommer wek). Cloete gee toe dat die stuk wel (beperkte) sirkulasie gehad het. Hy reken egter dit het ‘geen hond haaraf gemaak nie’ en dat uitlatings van skrywers self groter ‘skade’ aan die Afrikaner se kultuursaak gedoen het (1984: 5-7).
Die afleidings wat Cloete in die studiestuk maak uit Breytenbach se uitsprake dui op die digter se ideologiese verwerping van Afrikanerskap/Afrikaans in hegemoniese sin, asook sy opvatting van die funksie van die Afrikaanse skrywer/literatuur. Die aanhalings wat ter illustrasie gebruik word, kom uit bronne wat vrylik beskikbaar was. Daar het immers gereeld berigte in die (Suid-) Afrikaanse pers oor Breytenbach se onderhoude met Nederlandse koerante en ander oorsese uitsprake verskyn - Die Burger het selfs volledige vertalings van sommige stukke geplaas. (Kannemeyer, Va., 1.10.84 meen egter dat daar sterk gesteun is op ‘obskure’ bronne en hy beweer dat hy weet wie die Nederlandse berigte aan Cloete gestuur het.)
Cloete se besware in die Broederbondstuk teen Breytenbach se uitsprake én sy evaluering van die digter se ‘betrokke’ tekste as ‘ellendig swak poësie’, berus op 'n andersoortige literatuuropvatting as die digter s'n en word openlik
| |
| |
geknoop aan 'n ander ideologiese instelling. Cloete se ideologiese vertrekpunte berus naamlik, in teenstelling met Breytenbach, op 'n eksklusief Afrikaans/Afrikanerbasis en is gemik op die bewaring van die politieke status quo. En in teenstelling met Breytenbach, wat van meet af 'n kontesterende sosiale funksie aan die letterkunde toeken, sien Cloete in hierdie stuk ‘die Afrikaanse literatuur’ as 'n outonome gegewe. Hierdie outonomie word ‘bedreig’ en hy voel dit sy plig om wal te gooi. Volgens hom is die leidende Afrikaanse literatuur van sy tyd deur die skrywers sélf so verbind aan 'n rewolusionêre anti-Afrikaanse politiek dat die ‘eiewaarde’ daarvan in gedrang kom. Bowendien het 'n skrywer soos Breytenbach hom in só 'n mate solidêr verklaar met Engelse versetskrywers en met bruin en swart linkse skrywers dat die Afrikaanse literatuur se ‘identiteit en selfstandigheid’ in die gedrang gekom het en dit maar net 'n deel van 'n pan-Afrikaanse konteks geword het. Uit die stuk blyk dit egter dat die ‘outonomie’ en ‘selfstandigheid’ waarop Cloete aandring vir die Afrikaanse literatuur nie werklik ‘ideologieloosheid’ behels nie. In die praktyk kom dit neer op die eis dat die literatuur nie moet afwyk van algemeen aanvaarde/heersende ideologiese norme nie, dit wil sê dat dit die status quo moet onderskryf.
Die dosent aan UPE na wie Kannemeyer verwys, is WSH du Randt; van wie daar reeds in 1965 'n brief oor die visumweiering aan Yolande verskyn waaruit sý literatuuropvatting blyk (vergelyk hoofstuk 3 IV). In sy werkboek vir die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deur grens en tyd, haal Du Randt in die afdeling oor ‘betrokkenheid’ (1977: 7) woordeliks die Sestigers en Sewentigers se ‘oogmerke’ aan soos geformuleer in die Broederbondstuk. Sy negatiewe evaluering van ‘betrokkenheid’ hang saam met sy siening van die ‘korrekte’ literatuuropvatting of metode van literêre verklaring, naamlik dié een wat die ‘teks’ as ‘outonome struktuur’ sien en ‘verklaar’. As ‘verkeerde’ metodes sonder hy uit: die verklaring van die kunswerk deur die biografiese metode, die psigologiese metode en die metode wat die maker van die werk sien as 'n wese wat in 'n bepaalde historiese tydperk leef, daardeur gevorm en beïnvloed is en wat in sy werk die ‘gees’ van die tyd uitspreek (op. cit.: 1).
Die literatuuropvatting wat in die Broederbondstuk voorgestaan word, is dié van die literatuur as outonome entiteit. Die stuk was egter in opdrag van of vír die Broederbond opgestel - ‘the central organising body of Afrikaner nationalism’ wat probeer om op te tree as ‘“war council” for the entire Afrikaner nationalist movement, (to) coordinate and direct the policies and activities of all Afrikaner political, cultural, ideological, economic and religious organisations’ (Davies, 1984b: 266; vergelyk ook Weideman, 1986: 12). Binne hierdie konteks kan die stuk gesien word as deel van 'n wyer strategie wat gemik was op die ‘stolling’ of ‘bevriesing’ van sosiale/politieke norme en die handhawing van die status quo. Cloete het dan ook, volgens Kannemeyer, gebruik gemaak van gegewens in die Broederbondstuk in sy getuienis téén Kennis van die aand tydens die appèlsaak teen die verbod op die roman (kyk Galloway, 1985: 268-274 vir 'n oorsig van die sensuurgeskiedenis van Kennis). Dit is ook moontlik dat die stuk 'n rol gespeel het by die verbod op Skryt. Dus was die studiestuk, wat so téén die ‘ideologisering van die letterkunde’ was, juis self 'n ideologiese
| |
| |
instrument ter bevestiging van Afrikaner-hegemonie en deel van 'n wyer strategie waardeur ‘dissidensie’ in die sestiger- en sewentigerjare hokgeslaan is.
In sy antwoord op Kannemeyer se onthulling voer Cloete - ter verdediging - aan dat die Broederbondstuk in 'n bepaalde ‘klimaat’ ontstaan het, naamlik die gebeure rondom die verbod op Kennis van die aand. Dit is egter ‘roeringe wat nou reeds lankal tot rus gekom het’ en ‘die meeste mense in hierdie land wat destyds menings oor belangrike sake uitgespreek het, dink vandag anders as tien jaar gelede’. Hy voer as bewyse dat sy eíe sienings verander het, die volgende aan: sy bedanking uit die Broederbond en Sensuurraad; sy verkondiging van ‘ander gesindhede’ in die openbare pers en die positiewe artikels wat hy oor Breytenbach se werk gepubliseer het (1984: 6 en 7).
Verteenwoordig Cloete se jongste uitsprake oor Breytenbach werklik 'n fundamenteel nuwe kyk op die digter se bydrae tot die kultureel-politieke diskoers? Uitgaande van sy onlangs verklaarde opvatting van die literêre werk as ‘verrykte kommunikasie’ en ‘diskursus’ ('n heuristiese metode wat volgens Johl, 1986: 105 sterk herinner aan die stilistiese metode) spits Cloete sy aandag toe op struktuuraspekte van ‘nie-politieke’ tekste (vergelyk sy artikel oor ‘Die boenk’, 1980). In sy oorsig oor Breytenbach se oeuvre in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980: 162-186), wat grotendeels bestaan uit vroeëre besprekings van die digter se werk en dus nie fundamenteel nuwe evaluasies is nie, beskou hy nog steeds 'n betrokke bundel soos Skryt as 'n ‘insinking in Breytenbach se werk’; hierdie poësie wat ‘selfs nie meer poësie wil wees nie... (maar) rewolusionêre aanwending van poëtiese én onpoëtiese middele vir militante en sosiaal-politiese doeleindes’ het vir Breytenbach as digter ‘weinig goeds opgelewer en sy eie digterskap eerder skade aangedoen’ (op. cit.: 179).
Sedert die middel sewentigerjare is ‘verligtheid’ voorgehou as die ‘verantwoordelike houding’ (vergelyk hoofstuk 2 IV vir die rol van die Afrikaanse pers in hierdie verband); in samehang daarmee het al meer Afrikaners ander menings oor die letterkunde begin nahou. (Coenie Slabber, kunsredakteur van Rapport, meen dan ook dat dit jammer is dat Cloete persoonlik en alleen ‘die las moes dra van wat maar net 'n formulering was van 'n betreklik algemene siening binne die kultuurpolitieke establishment tot taamlik onlangs’ - Rap., 30.9.84).
Dit is egter so dat ook sommige ‘verligtes’ ongemaklik gelaat was deur Breytenbach se reguit, openlike oorskryding van die status quo, veral wanneer dit gekom het by sy vereenselwiging met die (swart) bevrydingstryd. Hulle konfronteer dit selde direk, maar probeer dit verskans agter hulle eie variant van ‘'n outonome woordwêreld’ wat klem plaas op ‘universele waarhede’. In hierdie verband kan gewys word op Lindenberg se minderheidsverslag oor die 1974-Hertzogprys (vergelyk hoofstuk 5 VIII). Ampie Coetzee gee wel rekenskap van Breytenbach se ‘buitetekstuele’ uitsprake oor sy literatuuropvatting (byvoorbeeld 1976: viii en 67), maar die toets lê vir hom in daardie stadium nog daarin dat Breytenbach ‘deur die gebruik van aanvaarde en literêr legitieme middele... 'n politieke versetvers skryf wat as gedig in eie reg staan’ (op. cit.: 102). Die status quo van die literatuuropvattings van Sestig word in hierdie gevalle nog gekontinueer.
| |
| |
In die tagtigerjare het daar weer 'n klemverskuiwing in die toonaangewende ideologiese klimaat plaasgevind, by name na die ‘nuwe realisme’ van die Botha-era. In hierdie tydvak word uiteenlopend gereageer op Breytenbach se jongste sienings oor die rol van massa-organisasies (soos die ANC) en strategieë ten opsigte van radikale verandering (vergelyk hoofstuk 7 II).
| |
V
Breyten, Bram en Beyers - dissidente Afrikaners in die ‘goue era’ van apartheid
Breytenbach se sienings oor ‘Afrikanerskap’ en ‘vryheidsvegters’, asook die afwysende reaksie wat dit van die pers, publiek en ingeligte lesers ontlok (met die implikasies wat dit vir literatuuropvattings en die ideologiese fundering daarvan inhou) moet gesien word in die samehang daarvan met die algemene politieke konteks. In die volgende drie afdelings word bepaalde fasette van hierdie wyer politieke (ideologiese) agtergrond ten opsigte van die tydvak middelsestig - 1973 belig, met klem op (die onderdrukking van) Afrikanerdissidensie. Dit moet saamgelees word met die oorgang in hierdie tyd van ‘baasskap’-apartheid na ‘afsonderlike ontwikkeling’ (met die gepaardgaande bevordering van ‘klein apartheid’) en wetlike maatreëls soos dié op ‘gemengde huwelike’ en ‘ontug’ (wat reeds in hoofstukke 1 I en 3 V onderskeidelik bespreek is).
Breytenbach se uitsprake oor ‘Afrikanerskap’ ontlok veral in die sestigerjare heftige reaksie. Dit was juis 'n tydperk waarin die establishment baie gevoelig was oor die ‘afvallige’ of ‘afdwaler’ en die ‘verraaier’ of ‘oorloper’ (die ‘volksduiwel’) wat dikwels gebrandmerk is as ‘liberalis’ of ‘kommunis’ - etikette waaraan vandag nog 'n stigma kleef.
In die nágloed van Sharpeville word in die vroeë sestigerjare op alle terreine toegeslaan op ‘die bedreiging van links’ en die ‘Rooi Gevaar’. Op politieke terrein lei dit tot die verbod op die ANC en PAC en die veiligheidspolisie se insypeling van die ondergrondse Kommunistiese Party wat uitloop op die arrestasie van oorblywende lede van dié Party en die ‘kommunisties beheerde’ ‘Armed Resistance Movement’. Ook adv. Bram Fischer word ingevolge die 90-dae-bepaling aangehou en later formeel aangekla.
Die ‘eerste’ Fischer-saak wat in die tweede helfte van 1964 plaasvind, skok die publiek tot die bewuswording van blankes (onderwysers, 'n sakeman, 'n geneesheer, 'n joernalis en bowenal 'n Afrikaanse advokaat) wat ‘met duiwelse lis, gevoelloos en gewetenloos, die land wou ryp maak vir die Kommunisme...’ (Ludi en Grobbelaar, 1966: 50). In hierdie tyd beroep Bram Fischer hom op sy Afrikanerskap in sy pleidooi om borgtog: ‘Ek is 'n Afrikaner. Ek het net een tuiste, en dit is Suid-Afrika. Ek het geen begeerte om die land te verlaat bloot
| |
| |
omdat ek 'n ander politieke opvatting as die Regering het nie’ (Bu., 25.9.64). In Januarie 1965 besluit Fischer egter om te onderduik. Hy doen dit om sy politieke werk voort te kan sit, want hy glo ‘dat dit die plig is van elke ware teenstander van hierdie Regering om hierdie monsteragtige beleid van apartheid met alles tot hulle beskikking te bestry’. Fischer meen wat wit Suid-Afrikaners nodig het, is ‘om hulself uit hul slaap wakker te skud - 'n slaap wat intens geword het weens die huidige ekonomiese opbloei, wat op rassediskriminasie gebou is. Om dit verder te vermy, het die opperste plig van die Afrikaner geword, want dit is grootliks die verteenwoordigers van my mede-Afrikaners wat verantwoordelik is vir die ergste van die diskriminerende wette’ (Ludi en Grobbelaar, 1966: 76-77).
In dié tyd dat die eerste resensies oor Breytenbach se debute en die berigte oor die APB-prys in die koerante verskyn, geniet Fischer se verdwyning en sy houding teenoor apartheid wêreldwye publisiteit; terwyl daar bespiegel word of Breytenbach se vrou 'n visum gaan kry, word Fischer se mede-aangeklaagdes skuldig bevind en op 12 April 1965 gevonnis. Terwyl Fischer deur sekere seksies van die oorsese pers as 'n held voorgehou word en die mening uitgespreek word dat sy land trots behoort te voel op die ekstremisme waarmee hy hom aan sy ideale gewy en die vonkie van opstand teen onderdrukking lewend gehou het (op. cit.: 7), word hy in die Afrikaanse pers en deur die algemene publiek beskuldig van verraad. Hy het hom, soos Breytenbach 'n paar maande later daarvan beskuldig sou word, ‘verwyder van die hartklop van die volk waarvan sy voorvaders trotse baanbrekers was’ (ibid.).
Dit is egter nie alle Afrikaners wat só oor Fischer gevoel het nie. In 1970 eer André P Brink hom as 'n Afrikanerdissident wat bewys het dat 'n Afrikaner ook iemand anders as die onderdrukker kan wees: ‘His free life was devoted to a broadening of the Afrikaner; and if Afrikaans is eventually to survive as a language, much of it will be due to the fact that men like Bram Fischer have been prepared to prove, risking their all for it, that it is more than the language of one oppressive minority and of one frightening ideology - that it is indeed what many exiles call it today: menstaal, “the language of human beings”’ (opgeneem in Brink, 1983: 60.
Ook Breytenbach self bewonder Fischer. In 1968 vra hy aan sy skrywerkollegas: ‘Wat was fout met Bram Fisher, of was hy reg?’ (1968b: 12). In 1975 praat Breytenbach by die kongres van die VVO se komitee oor apartheid en bring hy hulde aan Bram Fischer as ‘'n mede-Suid-Afrikaanse patriot’ (berig in SW-Afr., 6.5.75). In 'n brief wat hy na Marius Schoon smokkel in die tronk, laat Breytenbach hom 10 jaar ná Fischer in die nuus was met sy ontsnapping en opspraakwekkende getuienis só uit oor hom: ‘Die een ding wat ek jou waarlik beny, is dat jy vir Bram geken het. Ek sou wat wou gegee het om daardie wonderlike mens ook te kon ken... Ook ons dag kom, of wat ek vra, is om my deeltjie ook te kan bydra en dan sal die naam van Bram Fischer helder wees, en opofferinge soos joune sal nie vergeet word nie. En ons sal dans, ou vriend, en bly wees met hulle wat dit saam met ons beleef - en baie dink, aan hulle wat nie meer daar is nie maar wat dit vir ons moontlik gemaak het’ (Viviers, 1978: 138-139).
| |
| |
Die openbare debat wat in die middel van 1965 rondom Breytenbach se Die Burger-uitspraak oor Afrikanerskap ontstaan, kan ook gesien word in die konteks van openbare reaksie op 'n ander bekende Afrikaner-afwykeling - dr. Beyers Naudé. Hierdie predikant van die NG Kerk en lid van die Broederbond - en uit 'n streng Calvinistiese en patriotiese Afrikaner-familie - is deur die nagevolge van Sharpeville en die Cottesloe-kerkberaad in 'n rigting gestuur wat sou uitloop op 'n breuk met die Afrikaner-establishment. Sy uitsetting uit die Broederbond (wat volgens Naudé 'n ideologiese wurggreep op die kerk uitoefen) en sy aanvaarding van die direkteurskap van die Christelike Instituut het hom die argwaan van die Afrikanergemeenskap op die hals gehaal (Randall, 1982: 29). In sy afskeidspreek aan die NG Gemeente van Aasvoëlkop beklemtoon Naudé egter dat hy homself beskou as 'n Afrikaner wat sy mense met dieselfde liefde en lojaliteit wil dien as in die verlede; die kerk mag egter nie stilbly oor onreg nie. Dit is die plig van die kerk om die koningskap van Christus oor alle mense te verkondig en as die NG Kerk nalaat om dit te doen, dan faal hy sy mense en pleeg hy verraad teenoor hulle (die afskeidspreek word aangehaal in International Commission of Jurists, 1975:68-74).
Al het baie die oggend gehuil tydens die diens in Aasvoëlkop se NG Kerk (volgens 'n berig in Bu., 23.9.63), word Naudé in die jare hierna ál meer van verraad beskuldig - en selfs gebrandmerk as ‘kommunis’. Dit geld veral vir reaksies uit die Afrikaner-establishment op sy Broederbond-openbaringe, sy publikasie Pro Veritate en die werksaamhede van die Christelike Instituut en Spro-cas. Gedurende 1965 - juis in die tyd toe die Breytenbach-visum ‘warm’ nuus was - wemel die koerante van berigte oor Naudé (die kabaal oor sy verkiesing as ouderling; die Belgravia-insident; die veiligheidspolisie se deursoeking van die Christelike Instituut; die Instituut se veelrassige toewydingsdiens) en sy ‘linkse’, selfs ‘kommunistiese’ affiliasies. (Naudé self verwerp alle bande met Kommunisme omdat dit die bestaan van God ontken, vergelyk International Commission, 1975: 93.)
Dat Breyt́enbach en Beyers Naudé as dissidente Afrikaners 'n gesamentlike impak gehad het op mede-Afrikaners as gevolg van hulle afwyking van die algemeen aanvaarde norme, blyk uit die volgende brief van dr. CW Louw wat op 18 Junie 1965 in Die Burger verskyn:
Oor twee Suid-Afrikaners is daar nou 'n hewige polemiek aan die gang, te wete mnre. Beyers Naudé en Breyten Breytenbach. Oor eersgenoemde vind dit plaas omdat hy hom deur sy Christelike oortuiging vereenselwig het met die Christelike Instituut, 'n organisasie wat homself ten doel stel die kerstening van en eenwording van mense op kerklike gebied, hetsy Bantoe, Moor of Indiaan.
Op suiwer Christelike beginsels geoordeel, kan 'n mens met sy optrede geen fout vind nie. Ek het vrede met sy moed van oortuiging; moontlik sal ek dit ook kan waardeer. Tog kan ek as Afrikaanssprekende wat trots is op my NG Kerk, ondanks al sy gebreke, nie anders as om sy benadering te veroordeel nie. Indien die ware liefde in hom was, of nog is, sou mnr. Naudé sy Christelike oortuiging aangaande apartheid in al sy fasette beter binne die NG Kerk kon gepropageer het. Deur sy optrede het hy die sekulêre by die kerklike ingesleep. En die Afrikaner het rede om die anderse ‘politieke predikant’ met bymotiewe te assosieer. Het mnr. Naudé nog
| |
| |
die NG Kerk lief, of wil hy dalk deur afbrekende optrede hervorming bewerkstellig deur selfs 'n Joost de Blank te probeer oortref?
En Breyten Breytenbach? Hoewel ek geen voorstander van die Ontugwet is nie, besef ek tog terdeë dat huwelike van so 'n aard soos syne deur sy mede-Afrikaner as vreemd beskou word. Daar bestaan tog so iets as 'n soort-eksklusiwiteit of soort-andersheid. In wese is die Viëtnamese Oosters en die Suid-Afrikaners Westers. Die godsdienstige en rasse-andersheid maak van hierdie huwelik iets vreemds aan die norm wat in Suid-Afrika gehandhaaf word. Of mag die Afrikaner nie praat van sy eie norm nie? Laat Breyten Breytenbach en sy gade liewer Franse burgers word.
| |
VI
Onderdrukking van politieke dissidensie in die ‘goue era’ van apartheid
Teen 1965, toe Breytenbach se eerste opspraakwekkende politieke uitsprake in die pers openbaar gemaak word, heers daar, volgens sommige waarnemers, ‘vrede’ in die land. WA de Klerk vat die politieke klimaat tot 1966 só saam:
The operation against those who threatened or attempted sabotage or insurrection had entirely succeeded. Vorster, as Minister of Justice, working closely with an efficient force of security police, had seen to this. There had been considerable protest against measures like house arrest, incarceration and so on. The protests had lasted for some time; and had then seemed to die down. There was no doubt about it: the country was at peace, and Vorster and the security police deserved a great deal of credit for it. (1976: 277-278)
Die moord op dr. Verwoerd op 6 September 1966 beteken egter die einde van 'n tydvak in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die aanbreek van die Vorsterera. As eerste minister het Vorster die advokaat geword van 'n beleid van ‘opheffing van isolasie’, van ‘uitwaartse beweging’. Ten spyte van sy ‘uitwaartse beleid’ het Suid-Afrika se internasionale posisie in die tydperk tot 1973 nie verbeter nie - inteendeel, die algemene vyandige houding teenoor die land het toegeneem (Van Jaarsveld, 1982: 550).
Dissidensie binne die Nasionale Party self kom gedurende 1968 in die ope. Aan die begin van daardie jaar het die eerste minister nog in die openbaar ontken dat daar enige werklike onenighede binne die Party is. Vanaf Julie egter val hy openlik die ‘verkrampte’ teenstanders van sy beleidsrigting aan (vergelyk SAIRR, 1969: 1-3). Die verskuiwing in hierdie tyd na meer ‘verligte’ ideologiese klemplasings, beteken egter nie dat 'n werklik nuwe era vir rasseverhoudings binne Suid-Afrika aangebreek het nie. Die onderdrukking van dissidensie is immers veral gerig teen andersdenkendheid van ‘links’ sodat protes teen apartheid vanuit hierdie hoek grotendeels oneffektief bly.
Gedurende 1968 word twee nuwe wette voorgestel wat protes van die
| |
| |
amptelike opposisie ontlok, maar wat ten spyte daarvan ingestel word (soos uiteengesit in op.cit.: 5-10). Wet nr. 50 van 1968 bring 'n einde aan ‘Kleurlingverteenwoordiging’ in die Volksraad. Wet nr. 51 plaas 'n verbod op politieke inmenging (en maak dit dus onwettig om aan 'n veelrassige party te behoort). Die Progressiewe Party lê hom ‘onder protes en onder dwang’ neer by die wet en beperk sy lidmaatskap tot blankes. Die Liberale Party besluit dat sy voortgesette bestaan as 'n eenrassige party onversoenbaar is met sy nie-rassige uitgangspunte en ontbind (die helfte van dié Party se 2 500 lede was swart en bowendien was 42 van sy lede oor die vyf jaar ingeperk). Protes teen die twee wette kom ook van die Black Sash, NUSAS, die Studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand en agt vooraanstaande kerkleiers wat 'n omskrywe aan 1 000 kerke rig waarin gevra word dat daar gebid word vir die gekleurdes wat van alle ware inspraak in landsake ontneem word én die reg ontsê word om enige effektiewe politieke assosiasie te hê met ander groepe. Die algemene gevoel onder die protesteerders is dat geforseerde politieke impotensie nie vir altyd geduld sal word nie en dat die rassesituasie nie vir altyd in die dwangbuis van apartheid gehou sal kan word nie.
Gedurende die laat sestigerjare word apartheidsregulasies weer eens verskerp: dit geld veral maatreëls ten opsigte van instromingsbeheer en die kontrole van swart arbeid (vergelyk SAIRR, 1969: 159-169). Tussen 1 Julie 1965 en 30 Junie 1966 word 479 114 mense vervolg (gemiddeld 1 313 per dag) oor paswet-oortredings (SAIRR, 1968: 71); die syfers vir 1966-1967 en 1967-1968 verskil nie veel hiervan nie (SAIRR, 1970: 51).
Breytenbach se afkeurende houding teenoor die implikasies van die paswette spreek uit sy onderhoud met Vrij Nederland van 9 November 1968 (volledige berig in Bu., 19.11.68): ‘Vorster was 'n Nazi in die oorlog. As jy nou weet dat in '66, '67 'n halfmiljoen swartmense weens pasoortredings in hegtenis geneem is, dat 'n halfmiljoen mense boete of tronkstraf opgelê is, soos misdadigers behandel is, dan is dit tog 'n bewys dat 'n kranksinnige die hef in die hande het. Dan is dit die plig van die internasionale gemeenskap om die (beskuldigende) vinger te wys en te sê: “Jul staatshoof is kranksinnig. Ons gaan nie met julle handel dryf nie. Ons wil nie polities verkeer met kranksinniges nie. Hy behoort nie die land te regeer nie, maar hoort in 'n gestig.” Waarom is Stalin kranksinnig verklaar en Vorster nie? Vorster is anti-Kommunisties. Die seeroete om die Kaap is belangrik vir die anti-Kommunistiese wêreld. Ons verdedig die seeroete, daarom word Vorster aanvaar... Vorster word om dieselfde rede aanvaar as wat Hitler aanvaar is’ (Bu., 19.11.68).
Daar is reeds daarop gewys dat sulke uitsprake deur Breytenbach moontlik daartoe bygedra het dat daar in 1968 strenger bepalings bygevoeg word tot die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike (De Villiers en Kinghorn, 1984: 81) - 'n maatreël wat dit al hoe onwaarskynliker gemaak het dat Breytenbach ooit weer na die land sou kom. Hierdie protesterende uitlatings van Breytenbach, soos sy ‘terroris-’ en ‘kommunis’-verbintenisse, haal in ieder geval vir hom die argwaan van die eerste minister persoonlik op die hals - soos blyk uit die gebeure rondom die CNA-prys in 1968.
Daar word immers van regeringskant streng opgetree om protesterende
| |
| |
stemme teen die apartheidsregulasies stil te maak. Veral protes vanuit kerk- en studentegeledere lei tot streng waarskuwing en/of optrede van die regering. Studenteprotes word beslis nie geduld in hierdie tyd van studente-onrus in Frankryk nie. Reeds in 1965 word leiers van NUSAS (die studente-organisasie waarvan Breytenbach in 1974 'n ere-president word) gewaarsku dat hulle ‘met vuur speel’ omdat hulle ‘heul en skakel’ met studente van Algerië en Tanzanië. Advokaat Vorster, destyds nog minister van Justisie, doen 'n dringende beroep op rektore om ondersoek na dié liggaam in te stel (Va., 4.6.65). Teen Mei van die volgende jaar is Ian Robertson, president van NUSAS, ingeperk onder die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme. In 1968 lei woelinge aan vyf blanke universiteite (Kaapstad, Stellenbosch, Potchefstroom, Witwatersrand en Natal) tot polisie-optrede en 'n waarskuwing van die regering dat subsidies ingekort kan word tensy die ‘gees van die Suid-Afrikaanse samelewing gerespekteer word’ en ‘liberale idees’ en ‘integrasionistiese gedagtes’ bekamp word (Va., 12.8.68 en 20.8.68).
Van die effektiefste wapens wat die regering teen andersdenkendes gebruik het, was aanhouding en vonnis ingevolge die veiligheidswetgewing (vergelyk SAIRR, 1969: 57 en SAIRR, 1970: 62-63 en die Staatskoerant, 30.8.68 vir statistiek), inperking en die terugtrek van paspoorte of weiering van visums (vergelyk SAIRR, 1969: 47). Laasgenoemde was die eerste meganisme wat van staatskant geaktiveer is om Breytenbach se invloed op die politieke sisteem af te weer.
Ingevolge die wette van apartheid het die veiligheidspolisie wye magte om enige ‘onwenslike’ persoon aan te hou vir so lank as wat dit duur vir die persoon om al die polisie se vrae na wens te beantwoord. In 1969 vervang die Buro vir Staatsveiligheid (BOSS) die Republikeinse Intelligensiediens wat sedert die vroeë sestigerjare 'n onderdeel was van die veiligheidspolisie en wie se reputasie gevestig was op die infiltrasie van die ondergrondse ANC en SAKP. Onder die premierskap van advokaat BJ Vorster (1966-1978) word BOSS die ‘elite’ sekuriteitsapparaat van die staat; die Buro moes net verantwoording doen teenoor die Eerste Minister.
Die dissident Breytenbach se paadjie het vroeg al gekruis met dié van die veiligheidspolisie en BOSS. In die onderhoud met De Volkskrant (6.11.68) beweer hy dat daar ‘spioene’ is wat hom dophou. Tydens sy besoek aan Suid-Afrika in 1973 trap ‘kolonel Huntingdon of een van sy saaidkicks’ heeltyd op sy spoor (verwysings na hulle kom voor in Seisoen, 1976: 33, 59, 113, 114, 171 en 178 - aangevul deur Truida Lijphart, 1985: 5-9). Hy word selfs genooi vir 'n ‘geselsie’ met ‘twee here van Pretoria’ wat min twyfel laat dat hulle alles van hom weet en sy kom en gaan na en van die land beheer - hulle stel selfs voor dat hy ‘'n bietjie koöpereer’ om só sy lewe makliker te maak (op.cit.: 171-173). Gedurende sy klandestiene besoek aan die land in 1975 was die veiligheidsmagte voortdurend bewus van sy bewegings (soos blyk uit 1984a: 76-101). Tydens sy ondervraging het dit duidelik geword dat hulle reeds van sy koms geweet het vóór hy uit Rome vertrek het en dat hulle ingelig was oor die hoogs geheime Solidarité (op.cit.: 27-28). Op 19 Augustus 1975 voorkom BOSS-agente (een van hulle was ‘een van die here van Pretoria’ met wie hy in 1973
| |
| |
'n gesprek gehad het) dat Breytenbach, alias Christian Jean-Marc Galaska sy vliegtuig terug na Europa haal. Ná sy bekentenis dat hy wel Breytenbach is, oorhandig hulle hom aan die veiligheidspolisie vir ondervraging (op.cit.: 6-13; 23-33).
Breytenbach is van mening dat BOSS (en die latere DNI) 'n politieke mag binne die land vorm; dat dit 'n besluitnemende orgaan is wat as 'n magswerktuig optree en wat diep betrokke is by ‘internal mind-control’ (op.cit.: 9). Hy beweer dat die afbakening van die verskillende veiligheidsmagte se gebiede nie altyd duidelik is nie en dat daar mededinging en jaloesie tussen die groepe is. BOSS (die ‘Gryses’) was volgens Breytenbach nie baie gelukkig daaroor dat hulle hom aan die veiligheidspolisie moes oorhandig nie. Een van die BOSS-agente het aan hom gesê dat hulle hom eerder self na ‘Die Plaas’ sou wou neem sonder dat enigiemand (ooit) daarvan geweet het. ‘“The Farm”, as far as I could make out, is indeed a farm where the BOSS/DNS people prepare their “dirty tricks” in all impunity, and where they can work over their suspects in absolute secrecy - without the intervention of the Prisons Department or the Department of Justice. Had it not been for crossed lines and inter-agency rivalry I might never have been here to whisper to you, dear Investigator...’ (op.cit.: 9-10; vergelyk Davies, 1984a: 194 oor beweringe van voorvalle van ‘vuilspel’).
Sy ‘gesprek’ met die twee BOSS-agente het Breytenbach in 1973 reeds laat besluit om ‘te praat en te vertel van die afgryslike skadufigure’ wat voorlopig die deksel op die kookpot van die Suid-Afrikaanse samelewing hou. Vir hom is dié afloerders en afluisteraars agente wat ‘die uitbuiters en die afpersers se buit en magsposisie in stand probeer hou’; hulle is die ‘dienders van die wet van die sterkstes, die soldate van die Ü bermenschen’; hulle is die mag, die sameswering, die korrupsie, die regters en die beuels wat beskik oor lewe en dood en wat onder geen morele of wetlike verpligting staan nie (uitgelaat uit 1976: 171 en aangevul deur Lijphart, 1985: 8-9). Tydens sy eie ondervraging in 1975 besluit Breytenbach die geheime dienste, die spioenerende ‘broederbonde’, is ‘the real vermin living amongst us’ (1984a: 29). Hy sien sy ondervraers as ‘killers’, gevaarlike manne wat ‘per ongeluk’ doodmaak, wat leef in 'n skynwêreld waarin feit en fantasie vermeng sodat hulle altyd hul dade kan regverdig as noodsaaklik in die lig van 'n gewaande kommunistiese komplot teen hul land, wat onbeperkte mag het as regter én beuel, wat in 'n poging om die reste van menslike meegevoel uit te wis, doodmaak in 'n ‘paroxysm of unresolved frustrations (or) even... in an awkward expression of love and sympathy for a fellow human being’ (op.cit.: 34-37, vergelyk ook die nota oor marteling op.cit: 318- 320).
Breytenbach beskryf die agente van die veiligheidsmagte wel as ‘monsters’ (uitgelate dele uit 1976: 171 en 178, aangevul deur Lijphart, 1985: 9), maar ontken nie dat hulle ook ménse is nie: ‘daardie man wat homself en sy prooi en ons almal onteer, hy is familie van ons’, net soos wat die gefolterde dit is (ibid.). Ook in Confessions (1984a: 308-309) beklemtoon hy dat hulle ‘mense soos ek en jy’ is en dat daar selfs 'n vreemde verband bestaan wat die aangehoudene en sy ondervraers in 'n intieme doodstryd verbind (op.cit.: 310-313): ‘That is what makes them so horrible and so pitiful. And that is exactly why we must continue
| |
| |
condemning and combating their acts. I believe that the tortuter is as depraved by his acts as the one who is tortured... Never before has it become so all-important for all of us - especially for the most “ordinary” citizen - to struggle with all inventiveness at our disposal against the dehumanisation of man. The least that we can do is that all of us... should unite to expose all the intelligence services and the spy organs and the security or political police and the secret societies of the world’ (op.cit.: 308-309). In 'n onderhoud ná sy vrylating (1983a: 7) stel Breytenbach dit dat, as hy nog iets van die kruisvaarder in hom oorgehad het, hy 'n veldtog sou wou help loods, wêreldwyd, vir die bestryding en uitwissing van alle geheime dienste, veiligheidspolisie, netwerke, broederbonde en hul eweknieë op kulturele en literêre gebied. Hy voorsien egter dat ‘met die Calvinistiese beheptheid van die wit bevolking met “veiligheid” en suiwerheid, 'n neurose wat al hoe groter gaan word na gelang dit donkerder word (in die land), gaan hierdie mense... al hoe magtiger word’ (ibid.).
Die regering onderdruk in die periode tot 1973 nie net met alle moontlike metodes tot hulle beskikking dissidensie binne die land self nie, maar trek ook die net stywer om dissidente buite die landsgrense. Teen 1968, die jaar waarin Breytenbach vir homself vurige kole op die hoof haal oor sy uitgesproke vereenselwiging met die doelwitte van die ‘vryheidsvegters’, was die bevrydings-/terroristestryd in die Portugese kolonies, Rhodesië en Suidwes-Afrika reeds in volle gang. Suid-Afrika het toenemend betrokke geraak by gebeure in dié streke wat ‘soos 'n beskermende skild om die Republiek lê’ en dus as buffer dien teen ‘Swart-Afrika’ (Van Jaarsveld, 1982: 497). Suid-Afrika en Portugal het van 1964 op amptelike vlak nader aan mekaar begin beweeg en teen 1969 was daar heelwat bewyse van ‘samewerking’ op ekonomiese gebied. Amptelike militêre bystand is nie aan die provinsies verleen nie, maar verskeie noodleningsverenigings, veral die Suiderkruisfonds, het duisende rande ingesamel wat gebruik is om die Portugese gevegsmagte in Mosambiek en Angola se ‘probleme te versag’. Sedert 1967 verleen die Suid-Afrikaanse Polisie ook om strategiese redes hulp aan Rhodesië teen die invalle van vryheidsvegters/terroriste vanuit Zambië. Dít bring gespanne verhoudings met Zambië mee en president Kaunda verbreek sy dialoog met die Suid-Afrikaanse premier. Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika, wat ook van strategiese belang is vir die Republiek, is in 1966 ingetrek; desnieteenstaande word die Suid-Afrikaanse leër gebruik in die Caprivi-strook om guerillavegters van SWAPO wat uit Zambië die grens binneval te bekamp (vergelyk Van Jaarsveld, 1982: 501-512; 528-532.)
Behalwe deur militêre ingrype bestry die regering ook enige soort ‘terrorisme’ deur die Wet op Terrorisme wat sedert 1967 ook van toepassing is op buurstate en wat terugwerkende krag het tot 1962 toe die eerste rekrute gewen is vir opleiding buite die land. Daar word in regeringskringe aangevoer dat terrorisme die voorspel tot oorlog is. Rusland en China wil Suid-Afrika infiltreer met die doel om 'n guerilla-oorlog te begin wat sal uitloop op 'n ingrypende magstryd: ‘These cunning communist tactics, with so-called freedom fighters as vanguards, are aimed at violently overthrowing our legal Government and
| |
| |
institutions’ (SAD., 3.5.68); ‘at taking South Africa out of the hands of the White man’ (SAD., 24.5.68).
Dit is nie net die regering wat sedert die middel sestigerjare deur wetgewing en militêre ingrype die land se ‘weerbaarheid’ probeer verhoog nie; onder die publiek self word 'n soort histerie oor ‘terroriste’ gevoed deur lesings en 'n ‘volkskongres’ oor Kommunisme. Afwykende of ‘verligte’ idees word gesien as teken van liberalisme wat daarop gemik is om mense los te maak van hul ankers en só die pad te berei vir die Kommunisme en sy werktuig - terrorisme. In 'n atmosfeer soos hierdie het selfs ‘verligtes’ in die laat sestigerjare Breytenbach se ‘kommunis- en terrorisverbintenisse’ of simpatieë streng afgewys en hom òf gerepudieer as skrywer òf 'n duidelike onderskeid getref tussen digter en mens op grond van die ‘outonomie van die kuns’. In 1975 sou Breytenbach se optrede kulmineer in sy skuldigbevinding ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme en die reaksie van die publiek en ingeligte lesers moet weer eens gesien word in die lig van die lot van die Portugese kolonies in daardie stadium en die implikasies wat dit vir Suid-Afrika ingehou het.
| |
VII
Onderdrukking van dissidensie op kultuurfront in die ‘goue era’ van apartheid
Sedert 1963 onderdruk die staat dissidensie op kultuurfront amptelik deur onder meer die Wet op Publikasies en Vermaaklikheid. George Weideman stel dit só: ‘Wat die heerser die letterkunde toelaat, of wat hy hom verbied - daarin setel sy ideologiese invloed oor die woordkuns’ (1986: 12). In die sestigerjare was dit veral die werk van wit Engelse skrywers (onder andere Jack Cope en Nadine Gordimer) en swart skrywers wat hierdeur geraak is. (In sy brief na aanleiding van die Christelike Kultuuraksie se 1967-kongres verwys Breytenbach reeds na werk van Mphahlele, Nkosi, Themba, La Guma, Modisane en ander wat verban is - Va., 23.6.67). Al was die Afrikaanse literêre toneel nog nie direk daardeur geraak nie, het die klimaat van vrees en agterdog wat deur die Sensuurwet geskep is, inhiberend ingewerk op skrywers en uitgewers versigtig gemaak vir moontlike ‘aanstootlike’ manuskripte.
André P Brink se Lobola vir die lewe is onmiddellik ná die afkondiging van die 1963-wet aan die Publikasieraad voorgelê en daar was in hierdie tyd ook agitasie teen ander werk van Brink en Leroux (onder andere deur Hennie Terblanche). Brink vertel in 'n Spro-cas-publikasie van 1970 dat daar in 1964 minstens vier Sestigers was wat boeke beplan het oor sabotasie, aanhouding sonder verhoor en soortgelyke sake - Jan Rabie se Die agitator is selfs voltooi, maar is nie gepubliseer nie; Brink se roman is afgekeur ná oorlegpleging met regsgeleerdes (Brink, 1983a: 79-80). In 1968 teken die NG Kerk beswaar aan
| |
| |
teen Brink se Miskien nooit, maar die Publikasieraad bevind dat dit nie ‘aanstootlik’ is nie; in dieselfde jaar word 'n ondersoek gelas na Die kandidaat, die eerste Afrikaanse rolprent waarin dit gaan oor die ‘moderne en sogenaamde politieke Afrikaner’ (Db., 24.6.68).
Breytenbach self word ook reeds in die vroegste stadium van sy skrywersloopbaan ten nouste geraak deur die klimaat wat geskep word deur die vrees vir die Sensuurwet. Pre-sensuur in een of ander gedaante sou 'n skadu oor hom gooi tot in die tronk.
In 1966 ontvang Chris Barnard 'n ‘taamlike swartgallige brief’ (geteken ‘Job’) van Breytenbach waarin hy vertel dat sy manuskrip van Om te vlieg ‘deur 'n Kaapse uitgewery’ afgekeur is (Hg., 19.8.77). In 'n artikel waarin die ‘oorspronklike weergawe’ van die prosawerk (wat toe eers in 1971 by Buren verskyn het) ondersoek word, gee Annari van der Merwe en Adriaan van Dis 'n samevatting van die publikasiegeskiedenis van Om te vlieg (1980: 56-106). Hulle weergawe word gestaaf deur die publikasie in Stet (Jun. 1985) van 'n brief wat Breytenbach op 22 Desember 1971 aan Koos Human, Leon Rousseau en DJ Opperman geskryf het.
Die manuskrip het waarskynlik in die najaar van 1963 ontstaan (vóór Ysterkoei en Katastrofes) en is in 1965 aan 'n Transvaalse uitgewer, die Afrikaanse Pers-Boekhandel wat sy eerste twee publikasies hanteer het, voorgelê. Dié het (volgens Beeld, 16.6.68) enkele besware gehad en wysigings aanbeveel. Die skrywer het egter geweier om wysigings aan te bring en die manuskrip is aan hom teruggestuur. Gedurende 1966 het Breytenbach die werk oorgeskryf en aan Human & Rousseau voorgelê, wat dit afkeur.
Reeds in 1967 (vier jaar vóór die boek se verskyning) word daar 'n uitgebreide bespreking deur André P Brink in Standpunte geplaas (1967b: 44-51). Die jaar 1967 word as publikasiedatum aangegee; ses maande later, onthul hy: ‘So pas het dit bekend geword dat Om te vlieg nie meer gaan verskyn nie... Breytenbach se Om te vlieg is die eerste Afrikaanse werk van gehalte - sover bekend - wat sonder die toedoen van die Sensuurraad deur die blote vrees vir die lagwekkende verouderde Wet doodgesmoor is voordat dit die publiek kon bereik wat dit verdien’ (1968a: 59). Intussen verskyn Aspekte van die nuwe prosa in 1967 waarin Brink drie keer na die onverkrygbare Om te vlieg verwys en in 1969 volg ook PJ Nienaber se derde Perspektief en profiel met 'n Brink-bespreking van dié prosawerk.
AP Grové tree met Brink in gesprek na aanleiding van uitsprake in hierdie artikel. Hy betwyfel dit dat daar 'n ongunstige ‘klimaat’ bestaan wat invloed het op (pre-)sensuur en hy wonder oor die moontlikheid of die manuskrip se ‘literêre gehalte’ iets met sy lot te make het (1968a: 60). Brink antwoord dat literêre gehalte nie vir die drukkers gegeld het wat bang was dat daar moeilikheid sou kom indien hulle die werk druk nie: ‘Die Sensuurwet is so vaag, en kan so omvangryk toegepas word, dat hulle geen risiko wou loop nie. As dit nie 'n diaboliese uitvloeisel van die bestaan van die Wet in sy huidige vorm is nie, weet ek nie. Dáárom het ek te velde getrek teen die onheilsame klimaat wat deesdae begin om werke reeds in die kiem te smoor - selfs sónder om hulle die kans van 'n objektiewe toets te gee’ (1968b: 62). Grové glo egter steeds dat die
| |
| |
feit dat die drukkers geweier het om die manuskrip te hanteer, nie noodwendig iets bewys teen die Sensuurwet nie, maar eerder teen die manuskrip: ‘Daar is tog so iets soos 'n openbare “sensuur” wat buite enige wet om funksioneer’ (1968b: 62).
In Februarie 1968 is Breytenbach vir die eerste keer amptelik deur Koos Human ingelig oor die vertraging: ‘Ons ondervind moeilikheid met die drukkers wat betref sekere passasies in die manuskrip. Ek het al heelwat moeite gedoen, maar ek kan nie sien hoe mens die bepaalde gedeeltes kan verander sonder skade aan die boek nie’ (brief gedateer 16.2.68). In Desember 1971 laat Breytenbach van hóm hoor:
Terloops, as alles goed verloop - touch wood - dan verskyn Om te vlieg binne die eersvolgende tien dae by Buren-uitgewers, sonder dat 'n jota of 'n titel verander is aan die manuskrip wat u onder oë had. Dit moet seker 'n aanduiding wees van 'n radikale klimaatsverandering in die land - of is die wet gewysig? Of is die drukkers mal?... Ek wil die volgende afleiding maak: u het van die begin af gedink die boekie is stront, 'n oordeel wat ek desnoods in ag kon neem, maar waarom het u dit dan nie gesê nie? Of was u maar net bang vir die bohaai wat dalk by publikasie kon ontstaan? Of was u onder die een of ander druk of dwang? Gebeur dit soms dat u ook onder druk of dwang is, al is dit ook indirek, soos die wete - vooraf - dat 'n sekere werk of die werk van 'n sekere skrywer die gevaar loop om geboikot te word deur sekere invloedryke instansies? (En u geniet mos toegang tot gesaghebbende magsbekleërs!) U beklee die eerbare en moedige beroep van uitgewers, verspreiders van kultuur, sképpers van 'n intellektuele klimaat. Het u dan net die moed van magsvertoon teenoor u miserabele skrywertjies, veral as hulle oorsee is?... (brief aan Human & Rousseau, gepubliseer in Stet, Jun. 1985)
Van der Merwe en Van Dis voer aan dat Breytenbach nie sy manuskrip in 1966 ‘oorgeskryf’ het nie, maar dit ‘hérskep’ het: ‘In plaas daarvan dat Om te vlieg... herskryf word om dit meer aanvaarbaar te maak, doen Breytenbach presies die teenoorgestelde. Indien die manuskrip om sy enkele “obsene” passasies en algeheel eksperimentele karakter afgewys is in 1965, kom daar in 1967 nog ander gronde bý waarop die boek nie uitgegee is nie. Die styl en aanbieding is wel nie meer so blatant revolusionêr anders nie, maar dié tempering blyk in diens van 'n nóg onaanvaarbaarder doel te wees: Om te vlieg kry 'n ander swaartepunt - 'n nuwe politieke strekking. En die politieke inslag van Om te vlieg is waarskynlik die hoofoorsaak waarom Human & Rousseau die boek in 1967 nie kon, of wou, uitgee nie. Maar dit is nooit erken nie’ (1980: 62). Koos Human sê egter tydens die polemiek van 1968: ‘In nie een van Breytenbach se boeke word daar 'n opvallende standpunt teen apartheid ingeneem nie... as die skrywer daardie standpunt in sy werk ingeneem het, spreek dit vanself dat resensente dit in hulle kritiek beswaarlik oor die hoof sou sien’ (Tv., 13.11.68). (Van die vroeë resepiënte wys dan ook net Brink vlugtig daarna as ook ‘een van die mees betrokke prosawerke in ons literatuur’.)
Human & Rousseau publiseer wel Die huis van die dowe wat aan hulle voorgelê is ná Om te vlieg. Volgens Van der Merwe en Van Dis word dié digbundel met ‘enige wysigings en die weglating van een gedig (“Swart dood”)’ in 1967
| |
| |
uitgegee (op.cit.: 56). J du P Scholtz wat Breytenbach in 1966 in Parys leer ken het en gesprekke met hom gevoer het oor die digbundel waaraan hy toe gewerk het, voer egter die volgende aan:
Onderwyl ek nog in Europa was, het 'n Kaapse uitgewer wat gehoor het... dat ek die tikskrif van Breyten se tweede digbundel gelees het, (vir) my geskryf en gevra of hy na my oordeel moeite moet doen om die bundel vir uitgawe te verkry. Ek het geantwoord, ja beslis, maar ook gesê dat geen Suid-Afrikaanse uitgewer dit sal waag om die bundel in sy geheel soos dit is, uit te gee nie. Die bundel wat in 1967 onder die titel Huis van die dowe verskyn het, bevat 'n hele paar mooi verse van ná Junie 1966, maar daar is ook heelwat uitgelaat - te growwe politieke gedigte en ook ander wat nie as geheel bevredig nie... ('n gedig) na aanleiding van die moord op dr. Verwoerd wat die neo-beskaafde titel ‘Begrafnis van 'n vark’ gedra het... is vanselfsprekend nie in Huis van die dowe opgeneem nie. (Bu., 18.10.73)
Kannemeyer verwys ook na die parodie op DJ Opperman se ‘Sproeireën’ wat nie opgeneem is in Huis van die dowe nie.
In die brief wat Breytenbach op 22 Desember 1971 aan die direkteure van Human & Rousseau stuur (gepubliseer in Stet, Jun. 1985) verwys die digter na die gedig ‘Swart dood’ wat uitgelaat is uit die bundel en na ‘'n paar wysigings in die oorspronklike manuskrip’ wat aangebring is nadat die uitgewer ‘regsadvies’ ingewin het:
...(D)aardie geheimsinnige regsadvies wat altyd byderhand is en gebaseer waarop 'n uitgewer dan altyd bereid is om die skrywer aan die kortste end te laat trek... Presensuur - sensuur toegepas deur die uitgewer (ons praat nou van Afrikaanse werke) berus altyd op die vertolking van een van ons heilige wette (wat ons almal as oudmodies beskou!) en dis altyd onmoontlik, finansieel, vir die uitgewer om sy nek uit te steek in die hof... Miskien kan u my help - bestaan daar enige presedent, is enige Afrikaanse boek ooit verban? Wanneer u besluit om 'n manuskrip te sensureer, wat is u werklike oorwegings?... Het u onder andere 'n duidelike sienswyse oor wat goed en suiwer is vir die ‘Afrikaanse kultuur?’ Het dit miskien, met 'n omweg, te doen met die handhawing van die fassade van Afrikanereenheid? Of is dit maar net 'n kwessie van bankbalans?...
In die Spro-cas-publikasie van 1970, Anatomy of apartheid, beweer André P Brink: ‘Even from Breytenbach's latest volume of poetry Kouevuur (Cold fire) several of the best poems had to be omitted because printers feared prosecution - and also because they feared discrimination by other influential and wealthy clients’ (opgeneem in 1983a: 80). In Raster (1972) sê Brink dat Oorblyfsels (1970) die gedigte bevat wat ‘uit Kouevuur weggelaat is’. Ook volgens Adriaan van Dis (in 'n onderhoud met Breytenbach in De Vlaamse Gids, Jun. 1974), bevat Oorblyfsels gedigte wat deur die uitgewer weggelaat is uit Kouevuur. (Volgens Brink het Kol die gedig ‘Nie met die pen, maar met die masjiengeweer’ geweier.)
Toe Oorblyfsels in 1970 by Buren verskyn het, het die uitgewer - mnr. Daantjie Saayman - in 'n onderhoud met Die Beeld gesê dat die bundeltjie van nege verse net in 'n oplaag van 150 gedruk is. Dit sal nie in boekwinkels te koop wees nie en kan slegs direk van die uitgewer bestel word. Die verse met hul ‘kritiese
| |
| |
politieke inslag’ sou vatbaar kon wees vir ‘misverstand’ en hy wou hom en die skrywer ‘geen potjie met die Publikasieraad op die hals haal met 'n vrylik beskikbare uitgawe nie’, tog het hy gevoel dit sou 'n onreg teenoor Breytenbach wees as die verse ongepubliseer moes bly lê (DBeeld., 28.6.70). By die herdruk van Kouevuur in 1981 is die gedigte in Oorblyfsels teruggeplaas in die bundel waartoe dit oorspronklik behoort het.
Breytenbach se literêre loopbaan word in die tydvak tot 1973 nie slegs deur pre-sensuur geraak nie, maar ook deur dreigemente van amptelike sensuur. Op 5 Februarie 1971 berig Die Afrikaner dat daar ‘besliste pogings aangewend gaan word deur konserwatiewe kerk- en kultuurliggame om 'n digbundel van Breyten Breytenbach - wat onder meer 'n parodie op die gebed “Onse Vader” bevat - verbied te kry’. Volgens dr. Hennie Terblanche, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, het Breytenbach met dié gedig in Lotus ‘te ver gegaan en die Afrikanervolk sal dit nie aanvaar nie’. Hy self sou sorg ‘dat instansies so optree dat die boek verbied en die uitgewer en die skrywer aan die pen ry’. Mnr. JH Jooste, direkteur van die Christelike Kultuuraksie, het gesê dat die CKA die boek en in die besonder die gedig onder die aandag van die Publikasieraad sal bring, al twyfel hy nou reeds of daar enigiets van dié vertoë sal kom.
Die rol van konserwatiewe kerk- en kultuurliggame ten opsigte van die onderdrukking van dissidensie moet gesien word teen die agtergrond van die woeling in Afrikanergeledere (die sogenaamde ‘verkramp’/ ‘verlig’-stryd). Die Nasionale Party is immers nie bloot 'n politieke party nie, maar 'n volksbewe-ging wat ten nouste met die kultuurfront skakel en deur kultuurorganisasies gerugsteun word. Daarom sal dié groep wat beheer oor instellings soos die FAK en veral die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns kon verkry, ook heelwat politieke invloed kon uitoefen (Serfontein, 1970: 84-117 en Schoeman, 1974: 90-115).
Sedert die moord op dr. Verwoerd het die ‘verkramptes’ geprobeer om die Broederbond as hul belangrikste wapen teen die ‘verligtes’ in te span. Die pro-Vorster groep het egter die Broederbond oorheers in die tydperk 1970-1976 en dit gebruik as instrument om Vorster se beleid te versterk. (Die ‘Broederbondstuk’ wat ná 1974 opgestel is, moet gesien word as deel van die Vorster-strategie wat gemik was op die totale uitroeiing van dissidensie op alle fronte.)
Die stryd om die beheer oor die Akademie het in 1964 begin met die toekenning van die Hertzogprys aan Etienne Leroux vir sy Sewe dae by die Silbersteins. Dit was nie net 'n twis om literêre strategieë wat deur dié toekenning ontketen is nie, maar een waarby politieke, godsdienstige en sedelike norme betrek is, en dit was die eerste keer dat ‘inwaartse’ en ‘uitwaartse’ Afrikaners (soos V Hiemstra dit in 1968 stel, soos aangehaal in Serfontein, 1970: 85) openlik teenoor mekaar te staan gekom het. Lijphart (1978: 42 e.v.) het in 'n ondersoek na die ontvangs van Silbersteins bevind dat die reaksies op 'n konfrontasie van verskillende werklikheidsbeskouings berus, dit wil sê, botsing van ideologieë. Johl (1986: 134-140) voer aan dat hoewel die vakkundiges wat die roman op morele gronde verdedig het én teenstanders van die werk van
| |
| |
dieselfde ideologiese basis uitgegaan het, naamlik dat apartheid goed is, hulle uiteindelik by totaal verskillende interpretasies van die gegewe uitgekom het. Voorstanders van die werk het op grond van hulle interpretasies besluit dat die roman apartheid verdedig, terwyl teenstanders die boek as 'n afkeuring van segregasie vertolk het.
Vanuit behoudende kringe word daar in die sestigerjare 'n stryd gevoer teen die ‘liberale’ elemente in die Afrikaanse kultuurlewe, veral die letterkunde, want ‘die liederlikhede wat in hul boeke opgedis word deur Afrikaanse skrywers wat tot die sogenaamde Sestigerbeweging behoort, dien om die weg te baan vir die bevordering van die Kommunisme in Suid-Afrika’ (JD Vorster, Tv., 18.5.67). As teenvoeter vir die ‘liberale’ (dissidente) Akademie wat pryse toeken aan ‘ondermynende boeke’, word die Christelike Kultuuraksie (CKA) gestig. Dié aksie wou ‘die ware Afrikaanse kultuurwaardes’ beskerm en ‘liberale en Kommunistiese infiltrasie’ in die Afrikaanse letterkunde keer (Serfontein, 1970: 28). Prof. PFD Weiss was die voorsitter en ander lede sluit in mev. H Weiss (suster van dr. Beyers Naudé), ds. DFB de Beer, prof. AB du Preez; die perskommissie bestaan uit mnr. Beaumont Schoeman (toe assistentredakteur van Hoofstad, later redakteur van Die Afrikaner), mnr. AM van Schoor (toe redakteur van Die Vaderland), dr. AP Treurnicht (later redakteur van Hoofstad), mnre. Gert Beetge, Jaap Marais en HJ Jooste.
In Mei 1966 gee NP van Wyk Louw se feesstuk Die pluimsaad waai ver aanleiding tot 'n versugting van eerste minister Verwoerd dat 'n geslag van skrywers sal opstaan om ‘ook die prestasies van die volk te besing’. Hierdie uitspraak lei tot 'n polemiek rondom die skrywer se ideologiese uitgangspunte. Teenoor dié wat glo dat die skrywer as ‘ware volksletterkundige’ slegs die goeie en groot dade van sy volk moet uitbeeld, staan Louw en ander wat die nasionale skrywer sien as iemand wat nie bloot verheerlik nie, maar alles ‘oop’ sien. Louw onderskei tussen ‘nasionaal’ (wat ook die ‘liberale’ insluit, omdat dit nog ‘lojaal’ is) en ‘konserwatief’. Hy beskuldig die ‘Weiss squad’ daarvan dat hulle, met hulle literatuurbeskouing en ideologiese uitgangspunte, 'n letterkundige staatsgreep wil uitvoer - dit wil sê dat hulle hul literatuuropvatting en die ideologiese gronde waarop dit berus as die onbetwisbaar ‘korrekte’ voorhou aan die publiek: ‘Wat hulle... doen is... agterdog saai, verdeeldheid in nasionale kringe bring... (en) ons literatuur en literêre beskouings vir alle intelligentes belaglik maak’ (Wurm, Des. 1966; Bu., 31.1.67; RDM., 3.2.67 en Db., 11.2.68).
In 1967 probeer die ‘verkramptes’, die ‘Hertzoggroep’, beheer verkry oor die Akademie. Die twis draai aanvanklik om botsings tussen die ‘verligte’ en pro-Vorster Akademieraad (met veral die voorsitter, prof. PJ Nienaber en raadslid regter VG Hiemstra as die leidende verligtes) en sy verkrampte amptenare (veral mnr. Daan Goosen en dr. HJ Terblanche, die direkteur van die Akademie se Vaktaalburo en voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans). Dit brei egter volgens waarnemers uit tot 'n ‘goed georganiseerde anti-Akademieveldtog’ deur die verkramptes, met mnr. AM van Schoor van Die Vaderland en dr. AP Treurnicht as nie-amptelike beskermhere. Vir Serfontein was die politieke opset duidelik: as die Akademie aangeval
| |
| |
word oor taalhandhawing, oor ‘liberalisme’, oor ‘verwatering’ van Afrikanerwaardes, ensovoorts, is die teiken eintlik die Nasionale Party self, wat terselfdertyd met fluisterstories en deur briewe in die pers oor dieselfde sake deur dieselfde mense aangeval is (1970: 99).
Die Hertzoggroep se doel was om die Akademie op die 1967-jaarvergadering te ‘kaap’, maar die uitslag was vir hulle 'n verpletterende nederlaag. 'n Poging onder leiding van dr. Piet Meyer, die hoof van die Broederbond, om 'n herverkiesing van die Akademieraad af te dwing, loop op niks uit nie. Op 'n vervroegde raadsverkiesing in 1968 word die bestaande Akademieraad herkies en dit bring 'n einde aan die Hertzoggroep se ‘aanslag’ op die Akademie. (In dieselfde jaar misluk hulle pogings om prof. Weiss in die plek van prof. Thom verkies te kry as voorsitter van die FAK.) Ideologiese faktore en daarmee gepaardgaande uiteenlopende literatuuropvattings onder Akademielede sou egter steeds invloed uitoefen op byvoorbeeld die toekenning al dan nie van dié liggaam se belangrikste literêre prys: die Hertzogprys. Telkens sou Breytenbach in die brandpunt van gebeure staan waaruit duidelik blyk dat die toekenning of onthouding van pryse (veral deur 'n staatsverbonde instansie), net soos sensuur, deel uitmaak van die oorkoepelende strategie tot toesighouding oor samelewingsinstellings (soos die Afrikaanse letterkunde) en dus van die onderdrukking van dissidensie.
Anders as die Perskor- en CNA-pryse wat ‘bloot’ gerig is op die ‘beste’ Afrikaanse literêre werk, het die Hertzogprys tot laat in die sestigerjare ook in sy grondwet die Afrikanersaak gedien. Dit blyk uit klousule 13 van die ‘Prosedure by Toekenning van die Hertzogprys en die Akademieprys vir Vertaalde Werke, soos Gefinaliseer in 1961 en Geldig vanaf 1962’ wat bepaal:
Hierdie pryse word slegs toegeken aan Suid-Afrikaanse burgers wat beslis simpatiek staan teenoor die aspirasies van die Afrikaanse volk. (Nienaber, 1965: 37)
Hierdie voorskrif het nie voorgekom in die oorspronklike ‘Akte van Overmaking’ nie (op.cit.: 16-18). Julian F Smith (1985: 26) meen dit is die geval omdat, gesien die omstandighede en doel van die stigting van die Hertzogprysfonds, Afrikaner-nasionalisme en -patriotisme so voor-die-hand liggend was dat destyds geen behoefte aan 'n formele voorskrif in dié verband gevoel is nie. Eers in die tyd van die ‘dissidente’ Sestigers, toe skrywers van ‘volksvreemdheid’ beskuldig is, het só 'n klousule nodig geword. Die SA Akademie het immers, gesien sy stigting, doel en staatsteun, 'n vennootskaplike verhouding tot die regering, en voel hom sterk volksverbonde (kyk uitsprake van Cronjé soos aangehaal in op.cit.: 27). Al is klousule 13 later geskrap, het die kwessie van die inagneming van die ‘lewensbeskoulike’ by kunsbeoordeling 'n strydpunt gebly by Akademieprystoekennings/-weerhoudings. Die Hertzogprys word immers nog steeds deur hierdie liggaam beskou as 'n prys wat ‘ten nouste saamhang met die taal- en politieke strewe van die Afrikaner, 'n prys wat gebore is uit die verset van die Afrikaner teen die onderdrukking en minagting van sy taal’ (Grové in Akademie 75:42).
Die bekroningsprosedures verbonde aan die Hertzogprys het deur die jare
| |
| |
aanleiding gegee tot kritiek en het tot 'n groot mate die ideologiese rol van die prys bevestig. Van 1928 kom die drie genres om die beurt in aanmerking vir die prys. 'n Kommissie (wat sedert 1965 op 'n driejarige basis benoem word) bespreek die meriete van verdienstelike werk. 'n Gemotiveerde aanbeveling word dan voorgelê aan die Akademieraad, wat die finale verantwoordelikheid vir 'n bekroning dra. Dit is ook moontlik vir 'n lid van die kommissie om 'n minderheidsverslag uit te bring. Geen ander Afrikaanse literêre prys het so gereeld polemieke uitgelok soos die Hertzogprys nie: ontevredenheid oor ‘verkeerde’ skrywers wat bekroon is, oor skrywers wat te láát of selfs nóóit bekroon is nie, oor toekenningsprosedures, ensovoorts.
In dieselfde tyd dat daar persberigte verskyn oor die CNA-pryswenner van 1967, Breyten Breytenbach, se moontlike verbintenisse met anti-apartheidsorganisasies en ‘terroriste’, begin die bespiegelinge ook oor wie die 1968-Hertzogprys gaan ontvang. Dit is veral JHP Serfontein, redaksielid van Sunday Times, en een van die sleutelfigure in die onthulling van die ‘verkrampte aanslag’ van die Hertzoggroep, wat gevoelig is vir die ideologiese implikasies van die toekenning. Hy voorspel ‘the biggest literary controversy for many years’ en glo dat ‘political considerations might play an important, if not decisive role in the decisions regarding the Hertzog prize’. Indien die prys aan die omstrede Breytenbach toegeken word, ‘the verkramptes will raise a big outcry and use it as an important part of their campaign against the present verligte Akademie Council... If the award does not go to Breytenbach a strong outcry is expected from many Afrikaans writers and poets who firmly believe that the only criterion should be literary factors. They state that 50 years from now people will not be interested in a poet's politics but only in his writings’ (ST., 11.2.68; 'n soortgelyke berig deur Serfontein verskyn in ST., 7.4.68). In April vertolk MM Levin van Sunday Times die pogings om Breytenbach te verbind met die anti-apartheidbeweging en Franse en Suid-Afrikaanse kommuniste as ‘a bitter (smear) campaign’ teen die skrywer, geloods deur 'n seksie van die Akademie en die Afrikaanse nasionale pers. Hierdie aanval teen Breytenbach word volgens Levin se segsman in die Akademie teengestaan deur ‘many leading members of the Akademie, who are standing by the rule that a writer's work should be considered purely on its literary value and nothing else’ (ST., 7.4.68).
Ook die Afrikaanse koerante bly nie agterweë met bespiegelinge oor die pryswenner nie. Nasionale Pers se Die Beeld (wat ook 'n sleutelrol gespeel het in die onthullings rondom die Hertzoggroep) lewer breedvoerige kommentaar. Rykie van Reenen brei in Die Beeld (25.2.68) uit oor die moeilike besluit wat vir die keurders (AP Grové, Elize Botha en TT Cloete) wag. Daar is letterkundiges van aansien wat regsit om te protesteer as die ‘stormvoël van 'n Breyten Breytenbach’ nie bekroon word nie; as hy wel bekroon word, kom daar éérs 'n ding. Die keurkomitee het dan ook 'n vroegtydige vermaning in die Volksraad gekry toe dr. Johannes Otto (LV vir Koedoespoort) tydens die tweede lesing van die Akademiewetsontwerp gesê het die komitee moet by die toekenning van die prys ‘sy vinger stewiger en oordeelkundiger op die volk se pols hou’ en nie ‘die volkswense, die volksmaak en die volksoordeel summier verontagsaam nie’
| |
| |
(Db., 25.2.68). Die bekroning van Breytenbach sal ook ‘beslis 'n dik stok in die hand van die anti-groep in die Akademie wees om die huidige Akademieraad vanjaar op die jaarvergadering in Port Elizabeth te kasty’ (Rykie van Reenen, DBeeld, 26.2.68).
In haar bespiegelinge oor 'n moontlike wenner wys Rykie van Reenen (ibid.) daarop dat mens uit hul uitlatings en gepubliseerde kritiek kan aflei dat ‘van die lede van die keurkomitee op letterkundige gronde min erg het’ aan die twee belangrikste aanspraakmakers: Breytenbach en Uys Krige. Krige is wel ‘verstaanbaarder vir die gewone man as Breytenbach. Maar dit is nie aldag seker of sy politieke sienswyses hom in sekere kringe meer bemind maak as Breytenbach nie. Hy was ewenwel darem met 'n Afrikaanse meisie getroud’. Van Reenen meen ‘'n uitkomkans’ vir die komitee sou wees om die prys vir die derde opeenvolgende keer nie toe te ken nie, maar dit sou ongelukkig wees vir die intellektuele prestige van die Akademie - die mense begin sê hy is bang. 'n Ander moontlikheid is dat die prys postuum toegeken word. Aangesien die skenkingsakte slegs bepaal dat die prys moet gaan ‘na die schrijver of schrijfster van het beste letterkundige werk van belletristiese aard in die Afrikaanse taal’, meen sy daar is niks wat in die weg van 'n postume toekenning staan nie. In daardie geval sou Boerneef of Ingrid Jonker bekroon kon word. 'n Derde moontlikheid sou wees om Elisabeth Eybers 'n tweede keer te bekroon vir al haar werk wat ná 1943 verskyn het - as dit sou gebeur, sal die omstandighede herinner aan die vorige keer toe sy die prys gekry het omdat die letterkundige komitee mekaar ‘nie kon vind nie’ oor die vraag of WEG Louw, ID du Plessis of Uys Krige dit moes kry.
Serfontein (ST., 7.4.68) bespiegel ook oor die gevoelens van lede van die keurkomitee. Volgens hom word daar ‘in akademiese kringe’ gesê dat nòg Grové (wat lid van die Publikasieraad is) nòg Botha dink Breytenbach verdien die prys; hulle baseer hul siening op ‘suiwer literêre gronde’. Volgens Serfontein mag Cloete ‘dalk ten gunste van Breytenbach wees’ - 'n siening wat in die lig van latere gebeure gerelativeer word.
In die redaksionele kommentaar van Schalk Pienaar in Die Beeld (31.3.68) word dit gestel dat die politieke bowetone wat al sterker na vore kom in debatte rondom letterkundige pryse ‘wesenlik onwenslik’ is, maar ‘niks verander aan die feit dat dit in die huidige omstandighede onvermydelik is nie’. Wat die Hertzogpryskeurkomitee besluit, hoe hulle moet besluit en waarom hulle so besluit, ‘sal beoordeel word ook deur 'n groot pawiljoen vir wie die letterkundige aspek die minste is, en wat ook letterkundiges sal insluit vir wie die letterkundige aspek nie noodwendig die swaarste weeg nie.’ Die Beeld spreek sy simpatie met die keurders uit, want ‘self het ons geen die geringste twyfel dat in sommige kringe hierdie artikel gelees sal word as 'n pleidooi dat die Hertzogprys aan Breyten Breytenbach toegeken moet word nie. Dis presies dieselfde politieke moedswilligheid waarmee die keurders te doen sal kry, wie hulle ook al bekroon’.
Die Afrikaanse Pers-koerante se houding teenoor die Hertzogprys-woelinge blyk veral uit hul ondersteuning van senator PA Stofberg se mosie vir die instelling van 'n Verwoerdprys vir Vaderlandsletterkunde wat hy 8 April 1968
| |
| |
in die Senaat indien. Die redakteur van Die Vaderland, AM van Schoor ('n nie-amptelike beskermheer van die verkrampte veldtog teen die Akademie), verskil byvoorbeeld van talle toonaangewende skrywers en literatore wanneer hy aanvoer dat dit ‘baie eenvoudig’ is om ‘vaderlandsliteratuur’ te definieer: ‘dit is naamlik literatuur wat aan 'n bepaalde gevoelsnorm beantwoord en die volksanksie dra vanweë die ontroering wat dit in die volksiel verwek’. Volgens Van Schoor kan woelinge om die Hertzogprys in rustiger kanale gelei word deur die instelling van só 'n prys: terwyl 'n ‘kunsroman’ die Hertzogprys kry, kan 'n ‘verliteratuurde stuk vaderlandsnavorsing of 'n outentieke, begeesterde biografie’ die Verwoerdprys verdien. Dit sou egter nie onmoontlik wees dat dieselfde werk met albei pryse bekroon word nie: ‘'n literêre werk sou deur sy “woordprestasie” kon kwalifiseer vir die Hertzogprys, maar deur sy “gevoelsfaktor” ook vir die Verwoerdbekroning’ (Va., 19.4.68).
Afrikaanse skrywers en literatore beroep hulle almal in hul bespiegelinge oor wie die Hertzogprys behoort te kry op skeiding van die mens en skrywer en op ‘suiwer literêre gronde’ of hulle nou vir of teen Breytenbach is. Rob Antonissen glo dat Breytenbach sy plek kan inneem naas Van Wyk Louw en Opperman en dit plaas hom in 'n gunstige posisie vir die prys. Antonissen is nie geïnteresseerd in die digter se politieke sienings nie; 'n kunstenaar kan slegs aan sy werk beoordeel word (ST., 7.4.68). In 'n radiobespreking noem ook Ernst Lindenberg en PG du Plessis - op grond van die gehalte van sy werk - Breytenbach as eerste keuse vir die Hertzogprys.
J Smuts (DBeeld, 10.3.68) is van mening dat die Akademie self die oorsaak is van die storm wat ontketen is oor die toekenning van die Hertzogprys ‘omdat hy in die verlede toegelaat het dat politieke en ander oorwegings 'n rol speel by die verkiesing van lede van die Akademie en van sy rade en komitees, en by die toekenning van pryse’. Só is Sewe dae by die Silbersteins, volgens die bekroningsmotivering, nie as kunswerk bekroon nie, maar omdat die keurkomitee dit as voortreflike anti-kommunistiese lektuur beskou het; Uys Krige se werk daarenteen word nie bekroningswaardig gevind nie omdat sy politiek nie reg is nie. Smuts wys daarop dat twee lede van die 1968-keurkomitee ook deel was van die 1964-komitee wat Sewe dae op ideologiese gronde aanbeveel het vir bekroning. Een van hulle, AP Grové, se ideologiese verwerping van 'n kandidaat vir die 1968-bekroning, Breyten Breytenbach, spreek duidelik uit 'n Standpunte-artikel (1967), wat, volgens Smuts, geskryf was met die doel om dié skrywer ‘te diskrediteer en die publiek voor te berei op die beslissing van die keurkomitee’. Smuts glo dat as die feit van Breytenbach se huwelik met 'n sogenaamde ‘nie-blanke’ vrou (dit wil sê buite-literêre maatstawe) die deurslag gee by die toekenning van die Hertzogprys, ‘word die prys waardeloos en die hele aangeleentheid 'n klugspel’. PD van der Walt (DBeeld, 13.3.68), daarenteen, vind Smuts se ‘verdagmaking van prof. AP Grové se literêre integriteit’ uiters jammer en selfs 'n bietjie bedenklik. Hy maak 'n saak daarvoor uit dat die beoordelaars van 1964 se sienings (oor Sewe dae en oor Breytenbach in die geval van die Standpunte-artikel van Grové) ‘literêr verantwoord’ is en daarom ‘bo verdenking’.
Bartho Smit (Db., 14.4.68) verwerp die uitgangspunt dat die meriete van 'n
| |
| |
werk in die laaste instansie bepaal word deur ‘die meriete van die man agter die boek’ - wat in der waarheid daarop neerkom dat die skrywer ‘polities en andersins 'n “goeie” Afrikaner’ moet wees. Hy haal voorbeelde uit die wêreldgeskiedenis aan om te bewys dat ‘die onvermoë of weiering om te onderskei tussen die skrywer en sy werk en tussen die kultuur en die politiek van die dag’ al tot absurde situasies gelei het (soos die verbod deur die Nazi-bewind op Heinrich Heine se werk in die Duitsland van die dertigerjare omdat Heine se moeder 'n Jodin was). Smit het begrip vir baie Afrikaners wat die mens Breytenbach beskou as ‘vyand van ons volk en sy strewe om voortbestaan’ en wat meen dat dit volksverraad sou wees om hom te bekroon met die Hertzogprys wat juis ingestel is om die voortbestaan van ons volk te help verseker. Laasgenoemde siening berus egter, volgens Smit, op 'n ‘totaal verkeerde opvatting van die saak’ omdat die grondwet van die prys nie voorskryf dat ‘die skrywer van 'n werk aan 'n sekere kerk of politieke party moet behoort of aan sekere sedelike norme moet voldoen nie’. Die andersdenkende Leipoldt se werk is twee keer bekroon sonder dat generaal Hertzog fout daarmee gevind het omdat hy geweet het ‘dat niks wat die mens Leipoldt sê of doen ook maar iets kon afdoen aan die waarde wat sy werk vir ons volk en kultuur sou hê nie’. Die besware teen 'n moontlike bekroning van Breytenbach se werk, is egter nie gegrond op ‘een van sy gedigte of selfs maar 'n reël uit een van sy gedigte’ nie, maar teen ‘wat die mens Breytenbach, geheel en al buite sy kuns om gesê of gedoen het.’ (Vir reaksie van die kant van die publiek op Smit se brief, kyk Db., 5.5.68 en Db., 12.5.68.) Smit
beklemtoon in sy brief dat hy slegs 'n
situasie probeer ontleed; sy bydrae moet nie gesien word as 'n pleidooi dat die Hertzogprys aan Breytenbach se werk toegeken moet word of nie toegeken moet word nie (Db., 14.4.68). Gedurende die Kol-debat later in dié jaar (kyk hoofstuk 5 V) sou Smit hom sterk uitspreek teen die destydse Brink/ Breytenbach-siening ten opsigte van die sosiale funksie van die skrywer.
In hierdie tyd van woelinge om die Hertzogprys verwerp skrywers en literatore die instelling van 'n prys vir ‘vaderlandsletterkunde’. Hulle besware word saamgevat in die verslag wat saamgestel is deur die Letterkundige Kommissie, onder voorsitterskap van PJ Nienaber, wat deur die minister van nasionale opvoeding aangestel is om hom te adviseer in verband met die prys. Die besware teen die prys sluit volgens die verslag (1968: 7-14) onder meer in: die suspisie dat die motiewe vir die prys nie suiwer is nie; dat die status en prestige van die Hertzogprys aangetas sal word; die onomskryfbaarheid van die begrip ‘vaderlandsletterkunde’; regimentasie; voorskriftelikheid; dit herinner te veel aan die Stalin-prys.
Op 26 April 1968 word aangekondig dat die Hertzogprys postuum toegeken is aan Boerneef. Die aanbeveling van die komitee en die Akademie se be kragtiging was eenparig. (Die komitee se motivering verskyn in Bu., 26.4.68.) Die besluit om Boerneef te bekroon, lei 'n moontlike konfrontasie tussen verkramp en verlig af, maar neem ook die wind uit die seile van mense wat ‘literêre meriete’ voorop stel. Die meeste literatore en skrywers beskou dit dan as ‘'n verstandige bekroning’ waarmee nie fout gevind kan word nie omdat die literêre meriete van Boerneef se werk nie betwyfel kan word nie (berigte in DBeeld,
| |
| |
28.4.68 en ST., 28.4.68). Uys Krige (ST., 28.4.68) voel wel dat die prys eerder aan Ingrid Jonker kon gegaan het; Etienne Leroux voel ‘as persoon’ dat Breytenbach dit moes gekry het (Db., 19.5.68). Nie een van hierdie kommentators verbind egter die Akademie se besluit direk aan ideologiese/nie-literêre motiewe nie. Die enigste werklike standpuntinname téén die besluit om Boerneef te bekroon, kom van André P Brink wat uit protes daarteen uit die Akademie bedank. Selfs hy ‘koester nie bedenkinge oor die gehalte van Boerneef se poësie’ nie, maar sien die postuumtoekenning as ‘'n ontstellende en flagrante pypkan van die vernaamste kandidaat, Breyten Breytenbach’ en as ‘'n poging om 'n netelige politieke dilemma te systap’. Brink se besware is nie teen die feit dat ‘sy man nie ingekom het nie’, maar dat meer as net 'n suggestie van politiek by die Hertzogprys nou onmiskenbaar geword het en omdat die bekroning van 'n oorledene 'n presedent geskep het wat uiters gevaarlik mag wees (DBeeld, 12.5.68).
Die toekenning van die Hertzogprys gedurende die vroeë sewentigerjare bring weer opskuddings in literêre kringe mee. Só word die Hertzogprys vir prosa in 1970 aan Karel Schoeman toegeken in plaas van aan Etienne Leroux. Die letterkundige keurkomitee het 'n meerderheidsverslag ten gunste van Leroux uitgebring. 'n Minderheidsverslag ten gunste van Karel Schoeman is egter deur die Akademieraad aanvaar en daar is besluit om die prys aan hom toe te ken. Volgens koerantberigte was die Akademieraad bang om die prys aan Leroux te gee omdat daar van verkrampte kringe so 'n storm losgebars het toe die prys in 1964 aan hom toegeken is vir Sewe dae by die Silbersteins. Die besware was nie teen Leroux se letterkundige verdienste nie - daar is teen hom ingebring dat hy 'n ‘Sestiger’ is en ‘oor seks en sulke dinge’ skryf (DBeeld, 17.5.70). In literêre kringe word heftig gereageer teen die toekenning. AP Grové, Elize Botha en TT Cloete dreig om uit die letterkundige keurkomitee te bedank omdat dit geen doel dien nie (DBeeld, 17.5.70). In die woelinge staan twee sake voorop: die toekenningsprosedure (veral FIJ van Rensburg se besware daarteen) en die inagneming al dan nie van die lewensbeskoulike element in 'n werk.
In 'n artikel wat in 'n Nuusbrief van die SA Akademie verskyn, wys PJ Nienaber daarop dat die Akademieraad nog nooit gevoel het dat politieke of godsdienstige beskouings in aanmerking geneem moet word by die toekenning van die Hertzogprys nie. Hy voeg egter by dat aangesien dit 'n ‘literêre grondbeginsel’ is dat geen werk waarin die ‘bose’ verheerlik word of die ‘negatiewe’ tot algemene lewensvorm verhef word, ooit goeie literatuur kan wees nie, dit daarop neerkom dat boeke met sodanige strekking nooit vir bekroning met die Hertzogprys in aanmerking sal kom nie (Hoofst., 24.9.70; Bu., 15.10.70).
Die kwessie van lewensbeskouing is ook ter sprake by 'n simposium wat op 29 Oktober 1970 gehou word oor probleme rondom die toekenning van die Hertzogprys. Die meeste skrywers en literatore hier teenwoordig is gekant teen 'n kunsmatige skeiding van sogenaamde estetiese en sedelik-godsdienstige waardes en die idee dat daar 'n ‘korrekte’ lewensbeskouing is wat bekroonbaar is terwyl 'n ‘afwykende’ lewensbeskouing 'n skrywer diskwalifiseer vir 'n prys (berigte oor die simposium verskyn in Bu., 30.10.70 en Tv., 30.10.70). Op 8
| |
| |
November 1970 verskyn daar in Dagbreek en Sondagnuus se boekeblad die menings van vyf letterkundiges oor die toekenning van pryse. Die gemene deler in hierdie beskouings is dat ‘literêre gehalte’ die deurslag moet gee en nie lewensbeskoulike elemente nie.
Die debat van 1970 is in dié opsig van belang in 'n oorsig van Breytenbach se werk: dit dra by tot die sfeer wat geskep word vir die ontvangs van sy werke en die oorweging daarvan vir bekroning. In 1971 ontstaan die vraag dus by literatore: wat sal vanjáár gebeur? Sal die Akademie hom weer laat lei deur die lewensbeskoulike element van werke wat vir bekroning in aanmerking kom, of sal sy beoordeling op ‘stewige literêre pote’ staan?
Werk wat in 1971 in aanmerking kom vir die Hertzogprys vir poësie is onder andere Kouevuur en Lotus van Breytenbach; Onderdak van Elisabeth Eybers; Edms. Bpk. van DJ Opperman, Taxa van Ina Rousseau; Apocrypha van MM Walters, Argekrobaat van SJ Pretorius en Plektrum van Sheila Cussons.
Die Letterkundige Kommissie van die Akademie wat die aanbeveling oor die prys moet doen, bestaan uit: AP Grové, Elize Botha en TT Cloete (wat toe nié uit die komitee bedank het nie), PG du Plessis, CA van Rooy, WEG Louw en Felix Lategan. PD van der Walt was afwesig op die dag toe daar gestem is.
Vroeg reeds word deur die pers bespiegel oor die toekenning van die prys in die lig daarvan dat Breytenbach die CNA-prys ontvang het. Dit is veral die Engelse koerante wat voorspel dat 'n groot herrie gaan losbars, wie ook al bekroon word. The Star (2.3.71) plaas Breytenbach bo-aan die lys van moontlike wenners, maar glo dat as hy wel bekroon word dit 'n ‘fierce battle’ onder Afrikaanse kultuurleiers sal ontketen op grond van sy huwelik en sy uitgesproke kritiek teen apartheid. Al dring letterkundiges dus daarop aan dat pryse slegs op grond van literêre meriete toegeken word, voel sekere Akademielede en kerkleiers dat 'n persoon se karakter en persoonlike uitsprake nie van sy werk geskei kan word nie. Gevolglik sal die toekenning van die Hertzogprys aan Breytenbach neerkom op 'n teken van aanvaarding van sy onkonvensionele leefwyse. (Kyk ook opvolgberigte in Star, 17.3.71, 19.4.71, 13.5.71 en 18.5.71.) Volgens The Daily News (14.5.71) ‘Breytenbach has come to represent the antithesis of Afrikaner conservatism’; 'n toekenning aan hom sal gesien word as ‘an endorsement of his controversial personal views on apartheid and of his (avant garde) writings’.
Die konserwatiewe Afrikaanse dagblad, Hoofstad, reageer skerp op die Engelse pers se hantering van beriggewing oor die Hertzogprys. Volgens dié koerant (24.3.71) wil die Engelstalige pers, soos in die verlede, ‘letterkundige gemoedere in Afrikanerkringe opsweep en die Akademie in ongelyk probeer stel’. Breytenbach het omstrede geword as gevolg van sy eie optrede en sy vereenselwiging met mense soos die politieke uitgewekene Dennis Brutus, en swart skrywers soos Mazisi Kunene, James Phillips en Lewis Nkosi. Dit het uiteraard implikasies vir die feit of Breytenbach ooit eers in aanmerking moet kom vir die Hertzogprys:
Bewustelik of onbewustelik lê ten grondslag van die toekenning van die Hertzogprys die lewensbeskoulike en die aspirasies van die Afrikaanse volk. Dat genl.
| |
| |
Hertzog dit in gedagte moes of kon gehad het blyk uit die skenkingsbepaling dat as die Akademie ontbind sou word of ophou om te bestaan, die fonds deur die gesamentlike moderatuur van die Afrikaanse Kerk in die Vrystaat oorgeneem sal word. Die Hertzogprys is 'n waardige toekenning. Wel kan gevra word: kan Breytenbach ooit in die lig van die vereistes en vanweë sy optrede 'n waardige ontvanger wees daarvan? (ibid.)
Die bespiegelinge oor 'n dreigende polemiek en waarskynlike wenner in ander Afrikaanse koerante is meer ‘gedemp’ as in die Engelse pers en in Hoofstad (sien berigte in Tv., 18.3.71; Bu., 18.3.71; Vo., 18.3.71). Breytenbach word ook nie hierin prominent as belangrikste aanspraakmaker voorgehou nie.
Skrywers en literatore bly nie agterweë met hul bespiegelinge nie. By die simposium oor die probleme by die toekenning van die Hertzogprys, gehou deur die Potchefstroomse Werkgemeenskap van die Akademie, erken PD van der Walt - een van die keurkomiteelede vir die 1971-prys - dat ‘almal wonder oor Breyten’. Hy lig veral twee strydvrae om die prys uit. Die eerste raak die skenkingsakte wat bepaal dat die ‘beste oorspronklike Afrikaanse letterkundige werk’ bekroon moet word, maar terselfdertyd lê die prys ‘ingebed in die hele nasionale strewe van die Afrikanervolk’. Dit is daarom werklik 'n probleem om te besluit of iemand wat hom geheel of gedeeltelik distansieer van ‘ons nasionale strewe’ bekroonbaar is. Die ander omstrede saak is of die Letterkundige Kommissie se besluit bindend is op die Akademieraad. Van der Walt meen dit is wenslik, maar dit hoef nie te gebeur nie, want die Komitee se advies is ‘per slot van rekening nie vry van persoonlike vooroordele nie’ (Rap., 28.2.71).
Ná gerugte in die Engelse pers dat Elisabeth Eybers bekroon gaan word, verskyn 'n berig in The Star (19.4.71) waarin vertel word dat twaalf Afrikaanse skrywers 'n brief van protes aan die SA Akademie gerig het. In die Oppermanversameling van die JS Gericke-biblioteek is 'n afskrif van hierdie protesskrif, tesame met twee briewe van André P Brink aan DJ Opperman. In die eerste brief, gedateer 3 April 1971 vra Brink of Opperman bereid sou wees om die aangehegte verklaring te steun. Volgens Brink het ‘sowat helfte van die name wat as aanduiding daarby getik is, reeds ingewillig om saam te werk’. Die verklaring is volgens die brief ‘iets wat spontaan op verskillende plekke ontstaan het’ en Brink tree net as koördineerder op. Hy erken dat die bewoording ‘taamlik sterk’ is, maar glo dat mens so iets ‘òf sterk òf glad nie stel nie’. Die verklaring lui soos volg:
Ons, ondergetekende skrywers, het kennis geneem van die toekenning van die Hertzogprys aan Elisabeth Eybers. Ons wil pertinent ons hoë agting vir die werk van die bekroonde betuig, tesame met die oortuiging dat dit al lank gelede bekroning verdien het. Maar in die huidige omstandighede kan ons die aankondiging nie beskou as 'n toekenning aan Elisabeth Eybers nie: waarop dit in laaste instansie neerkom, is gewoon 'n lafhartige en literêr immorele weiering om die prys aan Breyten Breytenbach toe te ken.
Enige literêre keurkomitee en enige akademiese liggaam kan soms menslik dwaal; maar wanneer daar, soos in die geval van die Hertzogprys, in die loop van amper 'n dekade haas sonder uitsondering jaar vir jaar toekennings gemaak of
| |
| |
weerhou word op 'n wyse wat mettertyd die hele integriteit van ons literatuur aantas, dan kan ons nie anders as om te protesteer nie.
Ons wil ons dus hiermee uitdruklik as skrywerskorps distansieer van die Hertzogprys en dit onomwonde stel dat ons die toekenning van hierdie prys in die toekoms sal beskou as 'n belediging vir wie dit ook al mag ontvang.
Geteken (in alfabetiese volgorde):
Hennie Aucamp |
Chris Barnard |
André P Brink |
Abraham H de Vries |
Phil du Plessis |
PG du Plessis |
Marlise Joubert |
Uys Krige |
Etienne Leroux |
John Miles |
George Louw |
DJ Opperman |
Jan Rabie |
Casper Schmidt |
Adam Small |
Bartho Smit |
Ernst van Heerden |
In 'n brief gedateer 24 April 1971 verwys Brink na 'n telegram wat hy van Opperman ontvang het na aanleiding van sy versoek om die verklaring te steun. Hieruit kan afgelei word dat Opperman nie genoeë geneem het met die betrokke aksie nie en hom nie daaraan wil verbind nie en dat, op grond van die moontlike totstandkoming van 'n meer ‘verligte’ pryskomitee, die protesskrif teruggehou gaan word:
Ek het gisteraand met my terugkeer van Bloemfontein jou telegram gekry. Ek is baie jammer dat jy dit as voorbarigheid beskou het om jou naam by die voorgestelde brief te noem; maar soos ek probeer verduidelik het, was dit net om aan die persone wat genader word 'n aanduiding te gee van wie almal die omsendbrief sou kry. Ek glo nie enigiemand van die betrokkenes het dit verkeerd geïnterpreteer nie, maar ek sou nietemin opreg verskoning wou vra as jy meen dat misbruik van jou naam gemaak is. Op die oomblik staan die saak so dat die Johannesburgse groep wat die protes geloods het, nou meen dat daar in ieder geval reeds genoeg druk op die Akademie uitgeoefen is om met redelike sekerheid te verwag dat die nuwe pryskomitee meer ‘verlig’ gaan wees - WEG Louw, Rob, Ernst Lindenberg en jongeres. Gebeur dit wel, is die beoogde protes nie meer ter sake nie. Gebeur dit nie, kan 'n ander en meer oorwoë vorm van protes onderneem word.
Op 19 Mei 1971 word dit bekendgemaak dat die prys inderdaad aan Elisabeth Eybers toegeken is (Cloete se motivering verskyn in Bu., 20.5.71). The Star en The Daily News (20.5.71) meen dat die Akademie met dié besluit weer 'n konfrontasie met Afrikaanse kultuurleiers gesystap het. Die ontevredenheid van skrywers en literatore is volgens hierdie berigte verkieslik bo 'n botsing met dié leiers wat streng gekant is teen Breytenbach se onkonvensionele kuns en onpatriotiese politieke instelling. Sunday Times (23.5.71) haal Breytenbach se reaksie op die toekenning aan. Hiervolgens glo Breytenbach dat Eybers deur die toekenning ‘insulted and belittled’ is, want die Hertzogprys ‘has become a
| |
| |
small prize awarded on political grounds... it has become a tribal decoration which the chief hangs around the neck of a do-gooder’. Breytenbach glo die Afrikaanse literatuur het 'n gevaarpunt bereik - daar sal 'n hele nuwe benadering moet kom as Afrikaans wil oorleef: ‘If we, the Afrikaans writers, have our language's interest seriously at heart, we shall have to abandon not only the Hertzog Prize, but the Akademie and the whole concept of Afrikaner literary awards’.
Hoofstad (24.5.71) meen Breytenbach het geen bewyse vir sy bewering dat die toekenning op politieke grondslag gemaak is nie - ‘die Akademie het dit sonder meer ontken’. Volgens die koerant ‘verraai Breytenbach in sy kommentaar 'n kleinsieligheid en geestelike krenterigheid benewens 'n intellektuele voosheid wat 'n mens haas alle simpatie met sy standpunt laat verloor. Daarom hoef ons nie enige waarde te heg aan sy voorspelling dat die Afrikaanse letterkunde 'n “gevaarpunt” bereik het en dat Afrikaans gevaar loop om heeltemal onder te gaan nie. Dit smaak alte veel na 'n geval van suur druiwe. Al wat onder sal gaan, is die werke van skrywers wat so ver buitekant die geestesstrominge van die Afrikanervolk en sy denke staan dat dit aan geestelike bloedarmoede ly’.
André P Brink se reaksie op die toekenning van die prys is dat die Hertzogprys nie op ‘suiwer literêre grondslag’ aan iemand toegeken word nie en daarom het die CNA-prys die barometer geword waarvolgens skrywers en digters hulle werk kan meet (ander kommentators deel sy mening oor die CNA-prys). Die 1971-Hertzogprys is weerhou van iemand wat dit werklik verdien het: ‘Enigeen wat iets weet van die Suid-Afrikaanse letterkunde sal saamstem dat Elisabeth Eybers die prys verdien. Nogtans kan ek net sê dat dit om politieke redes weerhou is van Breyten Breytenbach vir sy digbundel, Lotus.’ Volgens Brink is Suid-Afrika die enigste land waar mense wat in pryskomitees dien ook lede van die sensuurraad is. Tensy hulle vervang word, sal die toekenning van die prys nooit tot sy reg kom nie. (Die sensors na wie verwys word, is AP Grové en TT Cloete) (Tv., 22.5.71).
Ernst Lindenberg se reaksie op die toekenning van die prys aan Eybers is een van ontsteltenis. Hy voel skaam om lid te wees van die Akademie wat nie Breytenbach se werk wou bekroon nie al verteenwoordig sy poësie tans die belangrikste groeipunt in ons letterkunde: ‘Hierdie besluit illustreer op pynlike wyse die Akademie se onvermoë - of vrees - om leiding te gee op letterkundige gebied’. Hy voel 'n onreg is gepleeg teenoor sowel Breytenbach as Eybers. ‘Ook die prestige van die Akademie is 'n gevoelige slag toegedien. Sedert die miskenning van NP van Wyk Louw aan die begin van sy loopbaan, het die Akademie geen groter ondiens bewys aan die Afrikaanse letterkunde en kultuur as nou nie’ (Vo., 22.5.71).
‘Dit is om van te wanhoop,’ sê Ernst van Heerden oor die Akademie se ‘maneuvers’ wat meebring dat Breytenbach nie die erkenning kry wat hom toekom nie. Hy voel die Akademie se weiering om Breytenbach te bekroon is 'n ‘ontwyking van verantwoordelikheid wat nie alleen die ingeligte publiek se vertroue in die Akademiepryse ondermyn nie, maar ook die hele besigheid van die toekenning tot 'n klugspel vervlak’. Vir Van Heerden lyk dit of die Akademie homself wil verhef ‘tot 'n tweede soort Publikasieraad: om sy eie,
| |
| |
subtieler vorm van sensuur toe te pas - die sensuur van ekskommunikasie’ (Rap., 23.5.71).
FIJ van Rensburg noem die bekroning 'n ‘tipiese ontwyking’ deur die Akademie. Volgens hom is dit vir alle deskundiges buite die Akademie duidelik dat Breytenbach bekroon moes word, want in sy drie bundels wat in die statutêre bekroningsperiode verskyn het, ‘staan daar van die beste gedigte in Afrikaans’. Hy glo daar ‘heers groot ingenomenheid in akademiegeledere oor die vernuftige wyse waarop die beste met die goeie oortref is’. 'n Mens voel jammer vir Elisabeth Eybers dat sy op dié manier slagoffer gemaak is van 'n strategie wat heeltemal buite haar beheer lê, want 'n mens het agting vir haar werk. Maar dis die soort skade wat die Afrikaanse letterkunde toegedien word ‘as die literêre spel nie eerlik gespeel word nie’ (Oost., 21.5.71; Rap., 23.5.71). In 'n artikel in Die Vaderland (25.5.71) beweer Van Rensburg dat die feit dat Breytenbach nie bekroon is nie ‘niks te doen het met 'n rustige opweeg van die literêre meriete van twee ongeveer gelyke aanspraakmakers en die delf van die onderspit deur die swakkere nie’. Van Rensburg stel onomwonde:
Dit is bekend dat invloedryke Akademievoormanne voor die tyd daarvoor te vinde was om, ingeval die keurkomitee Breytenbach sou aanbeveel, 'n verklaring deur die Akademieraad te laat uitreik dat die Akademie wel agting vir Breytenbach se werk het, maar dat hy hom nie kan bekroon nie, nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. Die rede: politiek.
Van Rensburg verwys na klousule 13 (wat ‘na alle waarskynlikheid ingeskryf was om die lastige Peter Blum uit bekroning te hou’) wat intussen geskrap is sodat die hoeksteen van die bekroningsreëls die inagneming van literêre meriete is. ‘Wanneer daar egter opnuut “'n lastige geval” soos Breytenbach opduik, is die Akademie (egter) bereid om weer met sy reëls rond te spring soos dit hom pas’. As gevolg hiervan het die Akademie se bekroningslys ‘heeltemal verband met die werklikheid verloor’ en het ander pryse, ‘veral die CNA-prys’ hom in aansien verbygesteek - iets waaroor daar in akademiekringe 'n gevoel heers ‘wat wissel van hartseer tot bitterheid’ (Va., 25.5.71).
Die Voorsitter van die Akademieraad, prof. G Cronjé, gee egter die versekering ‘dat politiek glad nie ter sprake gekom het’ by die toekenning aan Eybers nie (Tv., 31.5.71). Ook TT Cloete, ondervoorsitter van die Komitee, verwerp bewerings dat die prys om politieke redes nie aan Breytenbach toegeken is nie: ‘In die notule kan swart op wit gesien word dat politiek nooit ter sprake gekom het nie. Dit is net die buitestaanders wat politiek daarvan wil maak. Ek het teen Breytenbach gestem, maar dit is bekend hoe hoog ek hom aanslaan’. (Hier word verwys na Cloete se vroeë resensie oor Ysterkoei wat die bundel hoër aangeslaan het as byvoorbeeld Van Rensburg s'n.) Van Rensburg verwerp Cloete se verweer en sê dit is ‘naïef om te verwys na notules van die SA Akademie as bewys daarvan dat politiek nie 'n rol speel in die toekenning van die Hertzogprys nie, want die eintlike beraadslagings vind in informele hoedanigheid plaas’. Sy beswaar teen die bekroningsprosedure bly dat ‘voormanne mekaar vooraf pols, versigtig druk uitoefen, koppe tel, ensovoorts’. Teen
| |
| |
die tyd dat die formele vergadering plaasvind, ‘is al die kontensieuse dinge klaar gesê en heers daar eenstemmigheid oor wat op so 'n vergadering nié gesê moet word nie, of wat nié genotuleer moet word nie’ (Tv., 1.6.71).
Die woelinge om die Hertzogprys lok nie veel kommentaar van die publiek nie. In een van die weinige briewe oor die onderwerp stel Melwyn Minnaar (Bu., 28.5.71) dit dat lesers hul vertroue verloor in die Akademie se oordeel. ‘Elke jaar is daar 'n geknoei agter die skerms en word 'n soort kompromistoekenning gedoen waardeur die Akademie rustig en veilig op die draad bly sit’. Die bekroning van Onderdak was weer 'n ‘gerieflike ontsnappingsroete’ en 'n ‘miskenning van Breytenbach se digterskap’. Ander briefskrywers voel egter dat die Akademie deur die woelinge onregverdig in 'n swak lig gestel word. In 'n naamlose brief wat in Die Vaderland (3.6.71) verskyn, word beswaar gemaak teen FIJ van Rensburg se siening dat Breytenbach die prys moes gekry het. Die briefskrywer meen Van Rensburg moes eerder ingegaan het op redes waarom Breytenbach die prys verdien en hom nie besig gehou het met ‘'n klomp vae aantygings om die Akademie en die Letterkundige Kommissie onder verdenking te bring’ nie. Ook dr. HJ Terblanche (Tv., 11.6.71) verwys na Van Rensburg se stelling dat ander faktore as literêre oorwegings Breytenbach uit die bekroning gehou het. Terblanche voel dat 'n mens moet toegee dat literêre oorwegings moet geld by die toekenning van 'n literêre prys, ‘maar alle beoordelaars is mense en by die mens geld ook die inhoud, al is hy ook nie 'n gewone mens nie, maar bloot “letterkundige”’.
Reeds sedert die sestigerjare het sisteembewakers die toekenning van pryse aan Breytenbach probeer teëwerk. Dit was nie altyd so blatant soos tydens die CNA-prysvoorval van 1967 nie. In die geval van die Hertzogprys wat meermale van Breytenbach weerhou is, het die Letterkundige Kommissie hulle immers beroep op ‘suiwer literêre maatstawe’. Eers tydens die 1974-polemiek (wat in hoofstuk 5 VI bespreek word) is openlik erken dat dié prys gekoppel is aan 'n bepaalde literatuuropvatting en ideologiese raamwerk wat ingestem is op die belange van die bestaande sosiopolitieke sisteem. Soos sensuur ingespan word om 'n besondere soort kuns daar te stel en te handhaaf, só behels bekroning die aanmoediging van 'n besondere soort kunswerk - al is ‘heersersklasverbintenisse en ideologiese implikasies by laasgenoemde nie altyd so klinkklaar nie’. (Smith, 1985: 26).
In 1971 het Breytenbach - sekerlik met dit wat in voorafgaande jare met hom gebeur het in gedagte - gewys op die klassieke ‘carrot-and-stick approach’ wat ingespan word om dissidensie op die vlak van die Afrikaanse literatuur teen te werk:
The carrot is the possibility of having the book prescribed for schools or bought in bulk by provincial libraries; of being commissioned to write or translate for one of the provincial theatre councils; the carrot is any of a number of literary prizes; of being taken to the bosom of the tribe by being put on a pedestal - of becoming the Poet.
The stick can be the spelling out (beforehand) of any of a whole series of laws: the law on blasphemy, the law protecting any section of the population against verbal injury, the law on the suppression of Communism, even the law against
| |
| |
terrorism. (I need not remind you that these are some of the walls of Apartheid.) Or senior intellectuals when consulted in their capacity as guardians of the Culture will advise against unnecessary and disruptive controversy: ‘high instances’ will pick up the phone to enquire, to threaten or even to bargain; a member of the Publications Board (who may also be a respected literatus doctor or a writer) will intervene (beforehand) to confirm in private.
If all else fails the printers will simply refuse to print the objectionable work. (1971b: 57-58)
| |
Samevatting
Uit hierdie hoofstuk blyk onder meer dat die ideologies begrensde kode ‘Afrikanerskap’ in die tydperk onder bespreking ingespan word om die bestaande (politieke en literêre) sisteme te ‘bevries’, of ten minste die dinamiese aard daarvan teen te werk en te kontroleer. ‘Afrikanerskap’ word dus gebruik vir hegte, ideologies bepaalde, sistemiese verskansing. Breytenbach se fundamentele bevraagtekening van ‘Afrikanerskap’ en ander gevestigde en nuwe kodes, soos ‘verligtheid’ en ‘terroriste’, versteur die ewewig van die gevestigde sisteme.
'n Groot deel van die Afrikanerpubliek, wat deur die nasionale Afrikanerpers ‘op hoogte’ gehou word van Breytenbach se sienings, brandmerk hom as ‘volksduiwel’ en verenig teen hom in hul pogings om sisteemstabiliteit te herstel. Pogings van regeringskant om literêre pryse van Breytenbach te weerhou, sensuuroptrede en verskerpte wetlike maatreëls wat dit onwaarskynlik gemaak het dat hy ooit weer na Suid-Afrika sou terugkeer, maak deel uit van die Afrikaner-regering se oorkoepelende strategie om politieke en kulturele ‘dissidensie’ te onderdruk en sodoende sisteemstabiliteit te bewaar.
Binne die literêre sisteem gebruik invloedryke ingeligte lesers ‘herskrywings’ (in die vorm van interpretasie en kommentaar), veral van Breytenbach se ‘politieke tekste’, as instrumente om sisteemstabiliteit te probeer behou. Die opvallendste voorbeelde hiervan is AP Grové se toespraak voor die Akademieberaad van 1967 (en sy daaropvolgende Standpunte-artikel) en TT Cloete se ‘Broederbondstuk’. Die nie-toekenning van die Hertzogprys kan ook in hierdie lig gesien word. Die aard van hierdie herskrywings is bepaal deur die lesers se organiese verbondenheid aan geïnstitusionaliseerde instansies wat gerig is op die beskerming van bepaalde belange: die Suid-Afrikaanse Akademie, die Sensuurraad, die Broederbond, ensovoorts. Die genoemde twee invloedryke literatore het in die sestigerjare bande met verskeie van hierdie instansies gehad. Deur die ‘Afrikanersaak’ voorop te stel, kom die herskrywingsaktiwiteite van hierdie establishment-verteenwoordigers neer op doelbewuste manipulasie van die literêre sisteem en op die beskerming van bepaalde sisteemhiërargieë.
Hierdie herskrywers se strategieë word gerig deur behoudende of ‘verkrampte’ ideologiese vooronderstellings wat daarop ingestel is om norme en vorme wat voortdurend in oop sisteme (behoort te) verander te ‘stol’ of te ‘bevries’ ter wille van en ter bewaring van die status quo. Die ‘verkrampte’ herskrywers beroep hulle op 'n outonomistiese literatuuropvatting (net soos die ‘verligte’ herskrywers). Die norme wat deur hierdie benadering voorgestaan word
| |
| |
(isolasie van die omringende werklikheid, outonomie en eenheid) is dieselfde norme (eenheid, afsonderlikheid, uniekheid) waarvolgens die apartheidsisteem op kulturele, politieke en kerklike gebiede groeperinge bewerkstellig het. Die ‘objektiwiteit’, ‘selfstandigheid’ en ‘selfgenoegsaamheid’ wat hierdie variant van die outonomiebenadering bepleit, kom neer op 'n pleidooi vir die bevestiging van bestaande algemeen aanvaarde (dit wil sê hegemoniese) norme en vorme.
Hierdie ‘verkrampte’ herskrywings kon Breytenbach egter nie uit die Afrikaanse literêre sisteem weer nie. Hy was reeds ‘gekanoniseer’ teen die tyd dat hy die sisteem-ewewig so radikaal versteur het met sy ‘politieke tekste’. Reeds vroeg in sy skrywersloopbaan is Breytenbach se tekste, deur die positiewe herskrywings van lesers wie se bona fides nie binne die literêre sisteem te betwyfel is nie én deur prystoekennings, tot die Afrikaanse literêre kanon verhef. Dit was immers ‘die grootste Afrikaanse digters’, NP van Wyk Louw en DJ Opperman, wat hom met die APB-prys bekroon het en die toonaangewende literatuurhistorikus, Rob Antonissen, wat hom uitgeroep het tot ‘die sterkste nuwe digterskap wat na Opperman by ons sy verskyning gemaak het’. Herskrywingstekste deur lesers van hierdie kaliber het Breytenbach se vroeë tekste gekanoniseer in terme van die waardes wat in daardie stadium as dominant voorgehou is binne die literêre sisteem: die oopboor van nuwe bronne, woordontginning, eksperimentering met poëtiese vorme, ensovoorts. Sedert sy dubbele debuut is Breytenbach se tekste dus verhef tot die ‘hoë’ letterkunde en hy self tot toonaangewer/segsman van 'n belangrike literêre subsisteem, die ‘nuwe’ Afrikaanse poësie.
‘Verkrampte’ herskrywers het verskillende uitweë probeer kry uit hierdie kanoniseringsdilemma. Grové se herskrywing dat ‘Breytenbach se nuutheid in hoë mate 'n modeverskynsel is, en daarom in essensiële sin juis nie so danig nuut nie’ was daarop gemik om Breytenbach ‘af te skuif’ in die sisteemhiërargie. Cloete plaas Breytenbach se ‘politieke strydverse’ op 'n laer vlak en voer aan dat dit sy ‘digterskap eerder skade aangedoen het’, dit wil sê hom ‘afgetrek’ het in die sisteemhiërargie.
Breytenbach se eie dilemma is dié van identifisering met 'n groep/sisteem. Hy kan nie sy bloedverbondenheid aan die groep waartoe hy struktureel/organies behoort, ontken nie, maar hy deel geen ideologiese bande met hierdie ‘Afrikaners’ (in hegemoniese sin) nie. Hy kan egter nie struktureel deel word van die groep met wie hy hom wel ideologies vereenselwig nie. Kanonisering vergroot hierdie dilemma. Deur kanonisering verkry Breytenbach wel die ‘vastrapplek’ waarvandaan hy ‘volkskritiek’ kan uitspreek, maar daardeur word hy ook ‘ingetrek’ en ‘opgeneem’ in die Afrikaanse literêre sisteem, wat in sy begrensdheid 'n manifestering is van die apartheidsideologie wat deur die skrywer verwerp word. Breytenbach is die hele tyd bewus van die teenstrydige sosiale posisie wat hy beklee: al vereenselwig hy hom met die onderdrukte groepe staan hy, as verteenwoordiger van sy mense, vir die institusionalisering en uitbreiding van onderdrukking. |
|