| |
| |
| |
Hoofstuk 1
Breytenbach en die politieke en joernalistieke bestel: 'n oriëntering
Die heftige en uiteenlopende reaksies wat Breytenbach uitgelok het en nog steeds uitlok, kan eers in perspektief gesien word as dit binne die politieke konteks van die tydvak 1960-1989 geplaas word. Die klimaat van die sestigerjare, waarin Breytenbach openbare reaksie begin uitlok het, is naamlik bepaal deur die sistematisering van die Afrikaner-nasionalisme van die Verwoerd-era en die feit dat vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog die ganse buite-wêreld as vyandiggesind beskou is. Dit was juis op 'n tydstip dat 'n geslag jong skrywers hulle óópgestel het aan ‘vreemde invloede’:
Vandaar die uitermate heftigheid van die establishment se veldtog teen die Sestigers; en ook die merkwaardige geesdrif waarmee 'n jonger generasie lesers hul werk ontvang het... Politieke gesindhede kon gemeet word aan die manier waarop mense die Sestigers aanvaar of verwerp het. Wat in sy wese... 'n gebeurtenis in die literatuur wou wees, is in die strydperk ingevoer... En een van die heel boeiendste paradokse van die Sestigersituasie kom uit dié gegewe voor: terwyl die ‘literatuurbeskouing’ van die Sestigers self bepaal is deur... 'n instelling op die ivoortoring, het daardie einste werk 'n hele kompleks van ándersoortige (sogenaamde ‘buiteliterêre’) effekte ontketen wat dit deel gemaak het van 'n omvattende sosiale woeling. (Brink, 1985b: 10-11)
Breytenbach word egter nie net as lid van 'n ‘groep’ skrywers betrek by hierdie ‘omvattende sosiale woeling’ nie, maar bowenal as individu, wat hom, veral sedert die laat sestigerjare, in die openbaar verbind met die swart weerstandsbeweging teen die apartheidsideologie (en hegemonie) van die Nasionale Party-regering. Hierdie hoofstuk poog om 'n oorsigtelike historiese blik te bied op die apartheidsisteem as sodanig en (swart) weerstand daarteen. Die doel is om Breytenbach binne 'n politieke en historiese konteks te plaas, om aan te toon waar sy politieke simpatieë inpas binne die ontwikkeling van protes teen apartheid en om die rol van Afrikaner-intellektuele binne die veranderende patroon van Afrikaner-nasionalisme te belig.
| |
I
Klemverskuiwings in die apartheidsideologie
Breyten Breytenbach was nege jaar oud in 1948 - die jaar waarin dr. DF Malan die Afrikaner-Nasionaliste tot oorwinning gelei het in die algemene verkiesing.
| |
| |
Vir Breytenbach het dié jaar in die teken gestaan van 'n verhuising van Kafferkuilsrivier na Wellington waar hy later sou matrikuleer aan die Hoërskool Hugenoot en veral uitblink in Afrikaans. ‘As jong man het Breyten... die gemiddelde Afrikaner se huislewe en opvoeding gehad. Plaas- en dorpslewe, toegewyde ouers, baie vriende, lid van die Ned. Geref. Kerk, die Voortrekkerbeweging...’ (volgens sy broer, Cloete, in Viviers, 1978: 3). In sy jeugjare bevraagteken hy nie Afrikaner-nasionalisme, soos verskans in die regeringsbeleid, as dié ideologie wat samelewingspatrone in Suid-Afrika rig nie.
Al was hierdie nuwe beleid van ‘apartheid’ in sekere opsigte 'n voortsetting van die ou segregasie-era wat in 1913 tot die ‘Land Act’ gelei het, markeer dit op ideologiese vlak 'n nuwe fase. Die belangrikste verskil tussen apartheid en die vroeëre eklektiese maniere van segregasie lê in die aandrang op die konsekwente toepassing van 'n paar basiese beginsels, veral dié van skeiding, wat gerig was op die versekering van blanke oorlewing en behoud van Afrikaner-identiteit (Du Toit, 1975: 39; Van Jaarsveld, 1971: 374; Steyn, 1980: 259-261).
Die periode 1949-1961 (waarin Breytenbach sy skoolloopbaan voltooi, gaan studeer en die land verlaat) word die tydvak van die konsolidering van Afrikaner-nasionalisme. Deur die skepping van 'n omvattende apparatuur van wette, regulasies en burokrasieë is Afrikaner-eenheid verstewig en Afrikanerbelange bevorder en verskans. In hierdie eerste fase van die Nasionale Partybewind, die tydperk van ‘baasskap-apartheid’, was apartheid rassisties, soos vergestalt in wetgewing soos dié op rasse-klassifikasie, gemengde huwelike en geslagsverkeer oor die kleurskeidslyn, aparte openbare geriewe, groepsgebiede, ensovoorts. Hierdie maatreëls wat moes sorg dat rasse geskei bly, sou Breytenbach se lewe later direk raak. Dié ideologie het ook gesorg dat skeiding konsekwent toegepas is in georganiseerde sport en ontspanning, kultuurorganisasies, opvoedkundige en kerklike instansies en sosiale verkeer in die algemeen.
In 1958 skryf Breytenbach aan die Universiteit van Kaapstad se Michaeliskunsskool in vir 'n kursus in die beeldende kunste en raak hy vir die eerste keer bewus van hierdie rassistiese regulering van menselewens. Aan hierdie ‘oop’ en ‘liberale’ universiteit het hy bevriend geraak met jong Afrikaners soos Marius Schoon wat, soos Breytenbach dit self stel, ‘aan die enge beperkinge van ons stamkraal’ ontsnap het (brief in Bu., 2.6.65) en met wie hy jare later weer 'n ‘woonstel deel’ in Pretoria Sentraal-gevangenis (Viviers, 1978: 126). Peter Dreyer (1980: 25-27), wie se pad in die jare 1959-60 met dié van Breytenbach gekruis het, vertel dat die jong student in Kaapstad ook kennis gemaak het met gevestigde skrywers soos Jan Rabie, Jack Cope, Uys Krige en moontlik Ingrid Jonker; sy kennisse het ook ‘uitlanders’ ingesluit soos Rabie se Skotsgebore skildervrou, Marjorie Wallace, en die Hollander Cees de Jong. Breytenbach het egter veral sterk onder die invloed gekom van jong mense wat hy self later spottend ‘die ou Kaap se spul liberaliste’ (Barnard, Hg., 5.8.77) genoem het - onder andere Michael Tapscott, Jobst Grapow en Heleen Raath met wie hy in 'n stadium 'n huis gedeel het. Saam het hulle veelrassige partytjies gereël waarby, volgens Breytenbach, enkele ‘token’ swartes betrek is wat moes help om hulle ‘gewetes te sus’ en hulle het in 1959 met plakkate in 'n optog geloop
| |
| |
om te protesteer teen die wetgewing ten opsigte van aparte universiteite (Breytenbach, 1974a: 12).
Teen die einde van dieselfde jaar vertrek Breytenbach Europa toe. Dr. HF Verwoerd was toe reeds 'n jaar lank premier. In die Verwoerd-era van apartheid word die ideologie van apartheid toegepas tot die punt van totale grondgebiedlike skeiding. Op ideologiese vlak verskuif die tradisionele aannames van 'n inherente blanke meerderwaardigheid en die denkbeeld van ewigdurende voogdyskap en oorheersing na 'n erkenning van die gelykheid en reg tot selfbeskikking van die onderskeie/geskeie volke. Baasskap-apartheid gaan dus oor in die ideaal van ‘totale skeiding’ wat verwesenlik moes word deur 'n program van ‘positiewe afsonderlike ontwikkeling’, wat bestaan uit ‘tuislandontwikkeling’ vir die swart groepe en ‘parallelle ontwikkeling’ vir die kleurlinge en Indiërs. Terwyl die leerstellinge van apartheid in die vyftigerjare op rassisme gegrond was, word dit nou gegrond op die idee van selfbeskikking gebaseer op etnisiteit (vergelyk Van Jaarsveld, 1971: 397).
Al was die ideologie van apartheid nou bereid om die eventuele regte en onafhanklikheid van swart afsonderlike state te erken, was skeiding volgens Du Toit (1975: 40) ook daarop gemik om enige moontlikheid uit te skakel dat swart instemming relevant mag wees vir die legitimiteit van blanke oppergesag en bewind in die ‘hartland’ van Suid-Afrika. Die ideologiese doelwitte van apartheid/totale skeiding dien dus die legitimering van Afrikaner- (blanke) beheer van die gemeenskap en die legitimering van dwangmaatreëls wat nodig mag gewees het om die oogmerke van skeiding te bereik: afsonderlike ontwikkeling was dus volgens hierdie waarnemer 'n gesofistikeerde strategie vir volgehoue blanke oorheersing. Breytenbach (1972e: 67) verwys dan ook na die ‘tuislandbeleid’ as deel van die ‘verdeel-en-heersstrategie’.
Die digter, wat waarskynlik adresse van ‘politieke kontakte’ van Marius Schoon gekry het toe hy op sy wêreldreis vertrek het, was teen 1964 in Parys reeds bevriend met swart uitgewekenes soos Ezekiel Mphahlele (Barnard, Hg., 5.8.77; ook Bu., 19.11.68 en Viviers, 1978: 41). Volgens Barnard het Breytenbach se huwelik met Yolande sy ‘teoretiese belangstelling’ in Suid-Afrikaanse politiek ‘oornag verander’ in 'n obsessie; Barnard voel selfs dat sy 'n rol gespeel het om die digter ‘in die politiek in te sleep’ (Hg., 12.8.77) - iets wat Breytenbach ten sterkste ontken (1984a: 54). Hoe ook al, Barnard meen Breytenbach se politieke idees het in 1964 ooreenkomste getoon met dié van die destydse jong Progressiewe Party wat ten gunste was van 'n veelrassige regering en 'n veelrassige parlement. Ná 1965, toe 'n visum aan Yolande geweier is, het Breytenbach se idees 'n radikaler rigting ingeswaai en hy distansieer hom al duideliker van die (Kaapse) liberalisme en die sienings van die Progressiewe Party. Hy beskou die liberalisme naamlik as die ‘manifestasie van 'n opportunisme’ wat net ‘die vyand se posisie versterk’ omdat dit eintlik net ‘'n ander manier van saamwerk’ is (1972a: 17; ook 1974a: 26 en 1984a: 60). Breytenbach dink dit is misleidend van die Progressiewe Party om voor te gee dat die land se probleme besleg kan word deur ‘verantwoordelike toegewings’ en ‘dialoog’; dit gaan vir dié Party om die ‘versekering van kapitalisme’ omdat hy ‘daarvan oortuig is dat met genoeg welwillendheid, christelike waardes en waardigheid,
| |
| |
die gepaste leiding, opvoeding en geleidelike inlywing van die minderbevoorregtes in die “maatskappy van verbruikers” die beleggings in die rykdom en toekoms van Suid-Afrika veilig sal wees’ (1972a: 18).
Ná dr. Verwoerd se dood in 1966 lei onderlinge verskille, onder meer oor toenadering tussen Engelssprekendes en Afrikaners, tot 'n skeuring in die Nasionale Party. Die feit dat die nuwe Herstigte Nasionale Party in die algemene verkiesing van 1970 duidelik geklop word deur die Nasionale Party, is simptomaties van die geleidelike en steeds-groeiende beweging weg van Afrikaner-eksklusiwiteit in die rigting van 'n ‘verligte’ houding. Net so minagtend as wat Breytenbach staan teenoor die moontlikheid dat 'n ‘liberale’ of ‘progressiewe’ houding rasse-onregte in Suid-Afrika sal uitskakel, so minagtend staan hy teenoor ‘verligtheid’. Hy meen dit is, soos ‘oop gesprek’, 'n onbegrip; dit is hoogstens 'n ‘vorm van egoïsme, 'n selfbevrediging, 'n ontworteling, 'n luukse. 'n Manier om nie die ware oorsake van ware probleme raak te sien nie. Salf vir kankerlyers. A lilac flag on a mudbarge’ (1973c: 13).
Die nuwe Eerste Minister, adv. BJ Vorster, se voortgesette aandrang op afsonderlike ontwikkeling en sy ‘uitwaartse beleid’ ten opsigte van sport- en diplomatieke betrekkinge kan beskou word as pragmatiese antwoorde op tydgenootlike politieke behoeftes - veral buitelandse druk en toenemende isolasie asook die krisissituasie wat sedert 1972/73 ontstaan het ten opsigte van die Afrikaner-(blanke) magsbasis as gevolg van toenemende verset van die kant van die onderdrukte swart massa. Vorster, wat 'n verenigde wit front wou opbou teenoor die swart meerderheid duld, (volgens Moodie, 1975: 292-293) geen afwyking - na links of regs - nie en onderdruk dissidensie op alle vlakke.
Breytenbach, wat hom sedert die laat sestigerjare al meer in die openbaar vereenselwig met die swart bevrydingstryd en die opkoms van die massa openlik bepleit en effektief probeer aanhelp het, word in hierdie tyd een van die grootste Afrikaner-dissidente - een wat nie eens lippediens doen aan die heersende ideologie nie. Sy moontlike invloed word al sterker teengewerk deur meganismes soos sensuur, weerhouding van pryse, vervolging en uiteindelik tronkstraf.
Teen die einde van die sewentigerjare, toe Breytenbach reeds 'n paar jaar in die tronk sit, lê die politieke inisiatief nie meer eksklusief by die dominante groep nie en die massa is nie meer bloot op die verdediging nie. Dit hang saam met die verandering in die streeksituasie - veral die verdwyning van heelparty van die ‘bufferstate’ as gevolg van die vordering van die swart bevrydingstryd elders in Afrika (Davies, 1984a: 36). Hierdie verskuiwing in die magsbalans (tesame met 'n ekonomiese resessie) lei tot 'n diepgaande krisis vir die dominante groep. Aan die een kant is daar die faksies wat meen dat toenemende onderdrukking moet saamval met pogings om sommige van die apartheidsinstellings te ‘hervorm’; aan die ander kant is daar teenstand teen alle pogings om ‘tradisionele apartheid’ te matig omdat dit 'n eerste stap sou wees in die proses van die prysgee van voorregte.
Ná die sogenaamde ‘Inligtingskandaal’ van 1978 word die minister van verdediging, mnr. PW Botha, verkies tot Eerste Minister. Die Botha-era van apartheid word gekenmerk deur die opkoms van 'n reeks nuwe inisiatiewe en 'n staatsbeleid wat in die ideologie van die regering beskryf word as sy ‘totale
| |
| |
strategie’. Die nuwe ‘ideologie van oorlewing’ doen 'n beroep op 'n verbond tussen wittes en ‘matige swartes’ teen ‘militante, radikale Marxiste’ (Adam en Giliomee, 1979: 136). ‘Politieke magsdeling’ word die mikpunt, maar die groep-gedagte bly grondliggend aan die beleid. In 1983 kry die Nasionale Party 'n mandaat van die wit kieserskorps om te begin met 'n proses van politieke rekonstruering wat bestempel word as ‘gesonde magsdeling’ tussen wittes, ‘kleurlinge’ en Indiërs en vergestalt word in 'n nuwe konstitusie wat voorsiening maak vir drie ‘huise’ in die Parlement en wat onderskei tussen ‘eie’ en ‘algemene’ sake.
Die Nasionale Party se beleidsprogram staan onder die noemer van ‘hervorming’. ‘Organiese’ intellektuele beskryf dit as ‘'n beweging in die rigting van 'n demokratiese samelewingsorde (wat)... neerkom op die aftakeling en uitfasering van klassieke apartheid as 'n geïnstitusionaliseerde stratifikasiestelsel wat blankes se dominante posisie in die land se politieke orde verskans en hulle 'n mededingende voordeel in die ekonomiese, sosiale en politieke mark verseker’ (Rhoodie, 1988: 190). Vanuit hierdie perspektief word hervorming gesien as ‘blankes se kollektiewe respons op wat feitlik die helfte van hulle as 'n rewolusionêre aanslag teen die bestaande sosiaal-politieke orde definieer’ (op. cit.: 191). Om sy beleid van ‘hervorming’ deur te voer, gebruik die Staat aan die een kant sy dwangmag (soos die verklaring van noodtoestande); aan die ander kant wend hy strategieë aan wat daarop gemik is om die begunstigdes se ‘hart en sinne’ te wen (op.cit.: 200-202).
Die oorgrote meerderheid blankes ondersteun die Nasionale Party se hervormingsinisiatiewe. Aan die regterkant van die blanke politieke spektrum word dié inisiatiewe egter verwerp op grond van die bedreiging wat dit inhou vir blanke belange en bevoorregting (vergelyk SARS, 1987: 393-401). Aan die linkerkant van die spektrum word die beweging na ‘magsdeling’, soos dit verstaan word onder dié beleid, afgewys as óndemokraties. Vanuit hierdie perspektief is die uiteindelike doelwit van die hervormingsproses om die voortbestaan van 'n kapitalistiese sisteem onder Nasionale Party-heerskappy te verseker en om dit meer effektief te verskans deur ondersteuning te werf daarvoor van die kant van bepaalde seksies van die gedomineerde groepe, naamlik swart ‘gematigdes’ en die middelklas (SARS, 1986: 218; SARS, 1983: 56).
Ook vir Breytenbach is die strategieë van die pragmatiste of ‘nuwe realiste’ van die ‘nuwe bedeling’ slegs kosmetiese veranderings - hulle is bereid om die voorkoms van apartheid oorboord te gooi ten einde die blanke minderheidsmagsmonopolie te behou en daarom kan hul ideologiese vertrekpunte hoogstens as ‘pragmaties regs’, in teenstelling met ‘ver regs’, beskryf word (1985b: 135).
Al meer eertydse ondersteuners van die ‘hervormingsbeleid’ het teen die middel van die tagtigerjare vertroue in die leiding van die Nasionale Party ten opsigte van ‘ware hervorming’ verloor. Hierdie ontevredenheid het mettertyd gelei tot individuele inisiatiewe vir ‘onderhandeling’ gemik op die ‘oopmaak van kommunikasielyne’, veral na buite-parlementêre groeperinge (vergelyk Marais, 1988: 307-329).
In teenstelling met liberale, progressiewe of verligte houdings het Breyten- | |
| |
bach self reeds in die vroeë sestigerjare uitgegaan van die radikale standpunt dat die bestaande politieke situasie in Suid-Afrika nie meer aangepas kan word nie, maar omvergewerp moet word; hy was tóé reeds ‘committed to the black liberation struggle’ (Cope, 1982: 166). Jare later, ná sy vrylating uit die tronk, sou Breytenbach wel skerp krities staan teenoor sy ‘dear, ineffective, fat institutionalized friends in the liberation movement - the Grand Game players, those living off the suffering of our people back home’, wie se betrokkenheid slegs 'n politieke spel is (ST., 8.4.84). Dít beteken egter nie dat hy deur die bevrydingstryd as sodanig ontnugter is nie; in 1983 nog was dit vir hom 'n jammerte dat geen Afrikaanse skrywer van wie hy weet, hom daarmee identifiseer nie (TCT, 12.4.83). Sy siening oor die gebruik van geweld in die bevrydingstryd het egter ook aanpassing ondergaan en in die tagtigerjare is hy bereid om mee te doen aan inisiatiewe soos dié van die Instituut vir 'n Demokratiese Alternatief (IDASA) wat ‘onderhandeling’ as politieke strategie voorstaan, al het hy kritiek teen bepaalde aspekte van die nuwe Afrikaner-verligtheid.
| |
II
Die rol van die Afrikaner-intellektueel ten opsigte van klemverskuiwings in die apartheidsideologie
Voordat Breytenbach se rol verder bespreek word, is 'n oorsig oor die algemene rol van Afrikaner-intellektuele nodig. Binne die verskuiwings in die dominante ideologiese klimaat van die sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare (van ‘baasskapapartheid’ na die ‘positiewe apartheid’ van afsonderlike ontwikkeling na die latere opkoms van ‘verligte’ Afrikaner-nasionalisme en ‘pragmatiese apartheid’ na die ‘totale strategie’ en ‘Nuwe Bedeling’ of modernisering van rassediskriminasie) verteenwoordig die sienings van Afrikaner-intellektuele (tradisionele en organiese intellektuele) immers 'n stroming wat nie los staan van ander faktore soos die rol en invloed van die media, die veranderde houding van die kiesers, die uitwerking van swart aansprake/opstand, internasionale druk, ensovoorts, nie.
Met 'n Afrikaner-regering aan bewind het Afrikaner-intellektuele ruim geleentheid gehad om regeringsbeleid te beïnvloed. Dit gebeur veral in die vyftigerjare toe intellektuele soos GD Scholtz, W Eiselen, die SABRA-groep, leidende figure in die Afrikaanse kerke en prominente Broederbonders ywerig hul sienings oor ‘afsonderlike ontwikkeling’ uitgespel en hul deel bygedra het tot die ideologiese klemverskuiwing na ‘positiewe apartheid’ (soos uiteengesit deur Du Toit, 1975: 41-43).
Andersdenkende (tradisionele) Afrikaner-intellektuele wat hulle teen die amptelike beleid uitgespreek en dus teen die ‘volkswil’ verset het, is van
| |
| |
‘volksverraad’ beskuldig en gedoem tot die ‘wrede lot (van) ekskommunikasie uit die kring van regte Afrikaners’ (Willem de Klerk, 1984: 22). Dit sluit gerespekteerde geleerdes in, soos die NG Kerk-teoloog, prof. BB Keet, die oud-Broederbonder, prof. LJ du Plessis, en die dertien Pretoriase akademici wat in 1955 protesteer teen die verwydering van die bruin kiesers van die gemeenskaplike kieserslys. Selfs afwykende idees oor afsonderlike ontwikkeling vanuit die SABRA-groep is in die kiem gesmoor en dr. Verwoerd self het ingegryp om die NG Kerk daartoe te bring om die besluite van die Cottesloe-beraad te repudieer. Die ‘liberale’ geestelikes wat tydens die beraad na vore getree het, verdwyn mettertyd op die agtergrond - die opvallende uitsondering is dr. Beyers Naudé wat bedank uit sy amp as Moderator van die NG Kerk in Suid-Transvaal en die ekumeniese vereniging die Christelike Instituut (wat apartheid verwerp as valse evangelie) stig. Die prys wat hy moes betaal vir sy andersdenkendheid was, naas die verbod op die Instituut en dié se mondstuk, ‘the wrath of powerful forces in the Afrikaner community’ (Randall, 1982: 29) wat lei tot jarelange inperking. 'n Ander Afrikaner-intellektueel uit stoere Boervoorgeslagte, adv. Bram Fischer, se idees oor die rol van die Afrikaner ten opsigte van die blootlegging en beëindiging van die ‘monsteragtige implikasies van 'n beleid wat op rassediskriminasie gebou is’ (Ludi en Grobbelaar, 1966: 76-77) en sy betrokkenheid by 'n ‘sameswering teen die staat’ bring mee dat hy totaal uit die Afrikanerlaer gestoot en as verraaier gevonnis word.
Du Toit (1983: 15) voer in die lig van sodanige onderdrukking van dissidensie aan dat die ‘etniese inkapselering’ van Afrikaanse intellektuele ironieserwys sy hoogtepunt bereik het nadat die leierskap van die Nasionale Party in die hande van 'n uitgesproke intellektueel, dr. HF Verwoerd, gekom het. Dít het, saam met die groter rol van die veiligheidsmagte ná Sharpeville, voorlopig die einde van onafhanklike invloed deur Afrikaner-intellektuele beteken sodat die Afrikanerdom in dié tyd 'n ‘rotsvaste eenheid, 'n strakke ideologiese konsensus’ was wat ‘geen afwyking of kritiese vraagstelling kon duld nie’ (ibid.).
Tog, nog vóór die einde van die Verwoerd-era het die eerste botsings tussen ‘verkramptes’ en ‘verligtes’ al na vore begin kom. Dié terme is geskep deur Willem de Klerk (in 'n toespraak wat op 6.10.66 in Die Transvaler gepubliseer is) en tref 'n onderskeid tussen, aan die een kant, Afrikaners wat ‘verkleefd is aan ou idees en gebruike’ en wat die volk tot ‘verstarring en koppige selfhandhawing’ wil lei en, aan die ander kant, dié wat nie toegee aan ‘oordrewe nasionalisme’ nie en gevoelig is vir ‘openheid’ en ‘progressie’. Botsings tussen die verligtes en verkramptes oor kwessies rakende toenadering tussen Afrikaners en Engelssprekendes, Vorster se ‘uitwaartse’ beleid en kultuursake (soos gemanifesteer in die reaksie op jong skrywers en die stryd om die beheer oor die FAK en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns) was eintlik 'n hervatting van vroeëre onderlinge struwelinge, maar ná die kort tydperk van Verwoerdiaanse hegemonie is die versigtige artikulering van ‘verligte’ idees deur kunstenaars, joernaliste, akademici, kerkleiers en besigheidslui (die tradisionele intellektuele) beskou as 'n potensiële breuk met die hele Afrikaner-geskiedenis (ibid.). Hierdie intellektuele beywer hulle sedert die middel sewen- | |
| |
tigerjare vir 'n ‘verbreding’ van Afrikaner-nasionalisme (vergelyk Degenaar, 1978: 38).
Moodie (1975: 289) noem die Sestigers (wat hulle beroep op NP van Wyk Louw as geestelike voorganger) die ‘egte’ verligtes, maar wys daarop dat Afrikaner-verligtheid nooit 'n bewuste ‘beweging’ was nie. (Dit sal later blyk dat Breytenbach nie vrede daarmee gehad het dat hy tot een van die Sestigers gereken is nie.) Van Zyl Slabbert sien 'n ‘verligte’ as 'n enkeling ‘who experiences a conflict between the parochial demands of the particular organization within which he finds himself and the more universal demands of his occupation’. Volgens hom was verskillende Afrikaners ‘verlig’ oor verskillende sake; die impak wat 'n verligte maak, was dus eerder dié van ‘nuisance value to the establishment within the institutional boundaries of the Afrikaner organization in which he finds himself’ (1975: 13-14); André P Brink self verwys na dié houding as een wat die Afrikanerlaer verbreed het (1976: 5). Anders as vroeër kan ‘verligte’ Afrikaner-intellektuele nou ‘afwykende’ beskouings bínne die nasionalistiese establishment lug sonder om hul bande met die binnekring te verbreek. Só hoop hulle om ‘hervormings’ aan te bring, sonder om soos (radikaal) andersdenkende Afrikaners ‘hul tyd te mors in opposisiekringe wat tog geen mag het nie, of by futiele protesgebare te bly’ (Du Toit, 1983: 16). Van die ‘verligtes’ se langtermyn hervormingstrategie het egter teen die laat sewentigerjare, volgens 'n kommentator soos Slabbert, nog maar min tereggekom. Die beweging weg van kulturele eksklusiwiteit wat deur die ‘verligtes’ bewerkstellig is, het selfs die Nasionale Party se appèl op die kieserskorps versterk omdat die handhawing van blanke (in teenstelling met Afrikaner-) voorregte en vooruitgang die strydpunt geword het wat die tradisionele taalverdelings
in
blanke verkiesingspolitiek oorbrug het (Slabbert, 1975: 16).
Die ‘verligtes’ se politieke strategie van ‘binne die raamwerk’ bly, het berus op die aanname dat die Nasionale Party die sleutelinstrument tot politieke verandering kan wees, 'n geloof wat Breytenbach nooit gedeel het nie. Met die opkoms van PW Botha en sy uitgesproke ‘hervormingsbeleid’ het, volgens Du Toit (1987: 11), die ‘verligtes’ se oomblik van waarheid aangebreek, want dit sou nou in die praktyk moes blyk of die Nasionale Party wel 'n instrument vir hervorming kon word al dan nie. Teen die tyd dat die blanke parlementêre verkiesing van Mei 1987 te midde van 'n algemene noodtoestand aanbreek, was daar egter toonaangewende ‘verligtes’ wat nie meer onvoorwaardelik kon glo in Nasionale Party-geleide hervorming nie. Die ‘Nuwe Natte’, ‘onafhanklikes’ of ‘ontnugterde verligtes’ soos Wynand Malan, Denis Worrall, Willem de Klerk en Dawid de Villiers erken dat die politieke strategie waarop hulle hul hoop gevestig het, ontoereikend is: die Nasionale Party kan nie in 'n instrument van hervorming omgeskep word nie (ibid.).
Hierdie opposisiegeledere word geskei in dié wat die parlement nog as middel tot verandering aanvaar; dié wat deelname aan die staatsregterlike strukture verwerp en dié wat as ‘brugbouers’ na nie-rassige demokratiese bewegings wil optree. Organisasies soos die Instituut vir 'n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA) deel forums met individue verbonde aan die United
| |
| |
Democratic Front (UDF), die South African Youth Congress, die National Education Crisis Committee en die Congress of SA Trade Unions (COSATU) (vergelyk hieroor Friedman, WM., 9-15.10.87 en Slabbert, 1987: 16-17). Die meer Afrikaans-georiënteerde Nuwe Demokratiese Beweging (NDB) laat ook die klem op samespreking met buite-parlementêre bewegings val (soos blyk uit Malan se deelname aan die Dakar-besoek).
In hierdie nuwe Afrikaner-opposisiepolitiek val die klem op ‘vrywillige’ en ‘vrye assosiasie’, op ‘redelikheid’ en op ‘nasiebou’. Die keuse is vir ‘versoenings-’, ‘proses-’ of ‘onderhandelingspolitiek’ en téén ‘konflikpolitiek’ (Louw, 1987: 20). Voorstanders van onderhandelingspolitiek glo dat die nuwe Demokratiese Party (wat in April 1989 gebore word uit 'n samevoeging van die Progressiewe Federale Party, die Nuwe Demokratiese Beweging, die Onafhanklike Party en die sogenaamde ‘Vierde Mag’) kan bydra tot die skep van nuwe strategieë vir 'n gesprek oor demokratiese alternatiewe.
Breytenbach was reeds vroeg in sy politieke loopbaan sterk oortuig dat juis die Afrikaner-intellektueel 'n belangrike rol in ‘die swart bevrydingstryd’ te speel het. In 'n brief wat hy in 1963 aan André P Brink skryf (aangehaal in Brink, 1976:5), vra Breytenbach waarom Afrikaner-intellektuele nie 'n positiewer, selfs militanter, politieke houding inneem nie. Is dit omdat daar gewag word op 'n grootmoedige houdingsverandering by die Afrikaner in plaas daarvan om aan te dring op geregtigheid en erkenning van die menswaardigheid van almal in Suid-Afrika? Volgens hierdie brief het Breytenbach gevoel dat hy eers respek vir die Afrikaner (en vir homself) sal hê as Afrikaners onder huisarres geplaas word, deur die veiligheidspolisie ‘ondervra’ word en tel onder die beskuldigdes soos dié in die Rivonia-verhoor. Hierdie uitlating dateer uit die tydperk vóór Breytenbach se verskyning op die literêre en politieke toneel in Suid-Afrika, maar dit reflekteer 'n houding wat ten grondslag lê van sy voor-tronkstellings ten opsigte van die funksie en aard van die literatuur en die rol van die wit Afrikaanse skrywer as intellektueel binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Ná sy vrylating uit die tronk het daar wel verskuiwings plaasgevind in sommige van sy standpunte (hieroor meer in hoofstuk 7).
| |
III
Breytenbach en die bevrydingstryd
Breytenbach se uitsprake en optrede neem 'n spesifieke plek binne die swart bevrydingstryd (soos uiteengesit deur onder andere Lodge, 1983) in. Binne die verskuiwings in die ideologiese klimaat van die sestiger- tot die tagtigerjare verteenwoordig die rol en invloed van swart aansprake 'n belangrike stroming. In hierdie tyd het 'n oorgang van vreedsame, nie-gewelddadige protes na georganiseerde, militante verset plaasgevind en het die swart bevrydingstryd
| |
| |
verskuif van gewettigde optrede na ondergrondse en bannelingstrategieë. Hierdie stryd was egter nooit eksklusief ‘swart’ nie omdat blankes hulle in verskillende stadia en vanuit verskillende ideologiese vertrekpunte daarmee vereenselwig en/of daaraan meegedoen het.
Die tydperk 1912-1939 was een waarin swart ontevredenheid gegroei het van petisie tot uitdaging. Die South African Native National Congress is in 1912 gestig en in 1923 herdoop tot die African National Congress (ANC). In 1949 het die ANC, ontnugterd deur die oneffektiwiteit van hulle strategie van petisie, 'n Program van Aksie aanvaar as antwoord op die implementering van die nuwe Nasionale Party-beleid en as 'n uitvloeisel van die nuwe lewe wat die Youth League in die organisasie geblaas het. Dit was veral jong leiers soos AP Mala, Oliver Tambo, Walter Sisulu, Jordan Ngubane, Nelson Mandela en Robert Sobukwe wat in hierdie tyd 'n belangrike rol begin speel het. Die Program van Aksie het die riglyne neergelê vir die vorm wat swart weerstand in die periode 1949-1960 sou aanneem: die gebruik van boikotte, stakings en nie-gewelddadige burgerlike ongehoorsaamheid as strategieë om die aspirasies van swart nasionalisme te verwesenlik.
Die Program van Aksie lei tot die ANC se ‘Defiance Campaign’ van 26 Junie 1952 - die grootste nie-gewelddadige versetveldtog ooit in Suid-Afrika en die eerste massa-veldtog wat gesamentlik deur swartes en Indiërs gehou is. Hiertydens is meer as 8 000 mense in hegtenis geneem vir die oortreding van apartheidswette en die ANC-lidmaatskap het met tienduisende gestyg. Alhoewel die veldtog daarin geslaag het om 'n effektiewe massa-aanhang vir die swart nasionale beweging te mobiliseer, het dit nie blanke mag gedisorganiseer nie en het dit nie daarin geslaag om die regering van koers te laat verander of om die simpatie van groot getalle wit kiesers te wen nie. Wit ondersteuning kom in hierdie tyd slegs van radikale indiwidue soos Patrick Duncan en van die klein hergegroepeerde ‘white left’ in die South African Congress of Democrats en die Suid-Afrikaanse Liberale Party.
In hierdie tydperk wen die idee van 'n nasionale konvensie veld en in 1955 vind 'n ‘Congress of the People’ plaas by Kliptown, bygewoon deur 3 000 afgevaardigdes van die African National Congress, Indian Congress, Coloured People's Organization asook die blanke Congress of Democrats. Volgens die Freedom Charter, wat hier aanvaar word, sou gestrewe word na volkome gelykheid vir alle nasionale groepe.
Die ideologiese verskille tussen ANC-lede lei in 1959 tot die wegbreek van die Afrikaniste-aanhangers en die stigting van die Pan Africanist Congress (PAC) onder leiding van Robert Sobukwe. Die PAC beklemtoon Afrika-nasionalisme sterker as die ANC wat nog steeds 'n voorstander van 'n veelrassige staat is. Die PAC argumenteer dat swartmense 'n ideologie benodig wat die massa sal verenig en motiveer, maar dat hierdie ideologie nie die liberale idee van veelvolkigheid of dié van Marxisme kan wees nie.
Sowel die ANC as die PAC beywer hulle teen 1960 vir 'n paswetveldtog. Die PAC se werwingsveldtog in die digbevolkte Vereeniginggebied kulmineer in die groot opmars na die Sharpeville-polisiekantoor op 21 Maart 1960 in 'n poging om grootskaalse inhegtenisneming op grond van paswet-oortredings uit te lok.
| |
| |
Die optog loop uit op 'n skietery waartydens 69 mense dood en 180 gewond is - 'n voorval wat aan die wêreld toon dat apartheid nie gebaseer is op ideologiese instemming van die onderdrukte massas nie (Davies, 1984a: 26). Onluste breek ook in 1960 uit onder trekarbeiders in Langa en Nyanga wat sterk onder die indruk van die PAC se werwingsveldtog kom. 'n Klein radikale blanke groepie (gesentreer om die koerant Contact, onder die redakteurskap van Patrick Duncan) speel 'n belangrike rol in hierdie post-Sharpeville-opstande - veral as skakel tussen die PAC en die owerhede. Die regering se ad hoc-opheffing van die paswette - die eerste toegewing wat gedoen is aan swart politieke inisiatief - lei in 'n vlaag van politieke selfversekerdheid tot uitgebreide stakings en 'n opmars na Kaapstad.
Sharpeville en wat daarop volg maak 'n diep indruk op lede van die geslag jong skrywers wat spoedig bekend sou staan as die Sestigers. Brink hoor die nuus in Parys en sy eerste reaksie was dié van ‘as my mense ondergaan, wil ek saam met hulle ondergaan’; die ‘vreeslike insig’ waartoe hy kom, is: ‘if this was really the apocalypse, if “my people” were really sinking - then it was their own fault, the inevitable retribution for what they themselves had done and had allowed to be done...’ Hierdie ervaring dra by Brink by tot die afbreek van vroeër gekoesterde sekerhede en oortuigings en die groei van twyfel in tot nou toe aanvaarde gemeenskapstrukture (1983a: 32-33). Tydens 'n onderhoud met Willem Roggeman verwys Breytenbach na sý reaksie op die nuus van die ‘massamoord’ by Sharpeville. Ook hy was destyds in Parys - waar hy pas aangekom het na hy via Valencia en Barcelona na Frankryk geryloop het. Hy was naamlik daarvan oortuig dat die gebeure by Sharpeville sou lei tot die ‘verwagte algemene losbarsting tuis’ en het met sy laaste bietjie geld die Kanaal oorgesteek na Engeland waar hy die nuus sou kon volg (1974a: 10). (In 1971 maak Breytenbach in 'n brief aan sy uitgewer, Koos Human, melding van 'n toesprakie wat hy aan hom gestuur het wat bedoel was vir moontlike persvrystelling ná die oorhandigingsfunksie van die CNA-prys vir 1967. Volgens hierdie brief (wat in Stet, Jun. 1985 gepubliseer is) bevat die geskrif, wat toe nooit vrygestel is nie, verwysings na Sharpeville.)
Die verwagte algemene losbarsting vind egter nie plaas nie. Die regering kondig 'n noodtoestand af en herstel die orde deur die mobilisering van burgermageenhede, inhegtenisneming van vermeende opstokers, die verbod op die ANC en PAC onder die nuwe Wet op Onwettige Organisasies en die bekamping van ondermynende aktiwiteite deur die Wet op Terrorisme. Oor die verbod op die ‘belangrikste Suid-Afrikaanse politieke bewegings’, veral die ANC, laat Breytenbach hom só uit: ‘Dit was natuurlik 'n belaglike ding om te doen, asof die verbod op die bestaan van die verteenwoordigende organisasies die geregverdigde belange wat hulle verteenwoordig ook uit die weg sou ruim. Nou, as 'n mens terugkyk op daardie tydperk is dit duidelik dat dit 'n keerpunt in ons geskiedenis was. Die blanke het toe die laaste kans om die mag op 'n vreedsame wyse aan die meerderheid oor te gee, verspeel’ (1974a: 12).
In die nasleep van Sharpeville is Robert Sobukwe van die PAC aangekla en tot drie jaar tronkstraf gevonnis; daarna is hy jare lank in voorkomende aanhouding. Ná sy vrylating word hy ingeperk op Kimberley. Tydens sy
| |
| |
1973-verblyf in Suid-Afrika besoek Breytenbach dié eertydse PAC-leier. (In berigte op 16/17.3.72 in Bu., Vo., Tv., Star, RDM. en ander koerante word bespiegel of Sobukwe dalk in die moeilikheid kan beland oor dié besoek.) In Stet (1985: 7-8) vul Truida Lijphart na aanleiding van die Nederlandse uitgawe die ontbrekende fragment in die Afrikaanse uitgawe van 'n Seisoen in die paradys (1976: 164) aan waarin Breytenbach sy besoek aan Sobukwe beskryf. Hiervolgens beskou die skrywer die swart leier as ‘een van die heel weiniges’ van al die ‘historiese en nog lewende leiers van die Suid-Afrikaanse volk’ wat nie in die gevangenis sit of in ballingskap is nie: ‘Vir so 'n man is die regime bang en wanneer mens die man ontmoet is dit duidelik waarom. Die krotwyk waar hy gedwing word om te woon... kan nie afbreuk doen aan sy outoriteit nie. Die mense respekteer hom en sien na hom op vir leiding. Selfs die voltydse toesig waaronder hy gehou word deur die politieke polisie is 'n aweregse soort kompliment...’
Sharpeville en die gevolge daarvan verteenwoordig ‘a turning point in the history of African nationalism, when protest finally hardened into resistance, and when African politicians were forced to begin thinking in terms of revolutionary strategy’ (Lodge, 1983: 225). In die sestigerjare vind daar dan ook 'n oorgang plaas van 'n ‘loosely structured mass organization to a clandestine insurgent revolutionary élite’ (op.cit.: viii). Omdat elke wettige en vreedsame poging om toegewings te bewerkstellig tot dusver misluk het, begin swart leiers al meer voel dat geweld die enigste alternatiewe bedingingsmag geword het. Die twee vertakkings van die nou verbode nasionale organisasies (die ANC se nie-rassige militêre vleuel, Umkonto we Sizwe, en die PAC-georiënteerde Poqo-beweging) beywer hulle voortaan vir revolusionêre verandering en is albei bereid om geweld te gebruik om dit te bewerkstellig (soos uiteengesit deur Davies, 1984b: 288-290). Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) speel 'n leidende rol in Umkonto se program van ekonomiese sabotasie wat moes oorgaan in guerilla-oorlog. Later sou aangevoer word dat die Afrikaanse advokaat, Bram Fischer, gemoeid was met die opstel van dokumente soos Operation Mayibuye waarin die ‘weg na oorwinning deur geweld’ uiteengesit is (Ludi en Grobbelaar, 1966: 122-131; vergelyk ook Davies, op. cit.: 290-294).
Tentatiewe voorbereidings vir 'n guerilla-oorlog word gefnuik deur wetgewing teen sabotasie, aanhouding sonder verhoor, huisarres, die infiltrasie van spioene en die arrestasie van leiers van die versetbeweging in Junie 1963 by die Rivonia-hoofkwartiere. Dit, tesame met die voortgesette toepassing van staatsgeweld teen enige teken van volksopstand in die daaropvolgende jare het massa-optrede vir byna 'n dekade aansienlik gedemp (Davies, 1984a: 28).
Tydens die Rivonia-verhoor word Nelson Mandela en ander gevonnis tot lewenslange tronkstraf. Uit weggelate fragmente uit Seisoen, aangevul deur Lijphart (1985: 7), blyk Breytenbach se gevoel oor Rivonia, ‘'n naam wat nog steeds [in 1973] soos 'n vloek weerklink’ en oor die ‘regmatige leiers’ se afsondering op Robbeneiland, die ‘skandvlek’. Die ‘rustige stem’ van die ‘wyse man’ wat oor die water kom (vanaf die eiland waar Mandela en Fischer aangehou word), bring 'n boodskap:
| |
| |
Om onderdrukking omver te gooi, dit is goedgekeur deur die mensdom en dis die hoogste strewe van iedere vry mens... Julle kan sien dat daar nêrens 'n maklike weg is na vryheid toe nie, en meer as een van ons sal deur die dal van doodskaduwee moet loop, weer eens en weer eens, voordat ons die bergtoppe van ons verlangens bereik... Ek sal aan julle sy hierdie Regering beveg, duim vir duim en myl vir myl totdat oorwinning behaal is... Wat my betref, ek het die keuse gemaak. Ek sal Suid-Afrika nie verlaat nie; ek sal nie oorgee nie... Dis net deur lyding, met opoffering en militante aksie dat vryheid verower kan word. Die stryd is my lewe. Ek sal aanhou veg vir vryheid tot aan die einde van my dae...
Ná Rivonia en die verbanning van Mandela en ander na Robbeneiland, is daar 'n verskuiwing in die swart nasionale beweging na ‘exile politics’. Die verantwoordelikheid vir militêre besluite verskuif na die buitelandse vleuel van die ANC onder leiding van Oliver Tambo. Die periode 1963-1969 word gekenmerk deur pogings om Suid-Afrika deur Rhodesië te infiltreer, die vorming van 'n verbond met die Zimbabwe African People's Union (ZAPU) en die aanvoering van gesamentlike optrede teen die Rhodesiese leër en die Suid-Afrikaanse polisie in die Wankiegebied. In 1970 kom daar 'n einde aan ANC/ZAPU-samewerking.
Tussen 1970 en 1975 neem pogings om Suid-Afrika te infiltreer die vorm aan van koeriers wat met vals paspoorte/identiteitsdokumente oor amptelike kontrolepunte kom. Die opspraakwekkendste voorbeeld hiervan was juis Breytenbach. Hy was nie lid van die ANC nie (Breytenbach, 1984a: 49) en het selfs krities gestaan teenoor die invloed van die SAKP binne die organisasie (op.cit.: 61-62) en teenoor bepaalde strategieë van die ANC, soos die saamgroepering van wit en swart militante teen apartheid (ibid.) Sy politieke bedrywighede het momentum gekry toe hy in 1972, op versoek van John Makhatini, die leier van die ANC vir Noord-Afrika en Europa, lid geword het van die anti-Suid-Afrikaanse organisasie Atlas. Die doel van die organisasie was om met hulp van blanke uitgewekenes en met die samewerking van swart vryheidsbewegings die regering van Suid-Afrika tot 'n val te bring. In Parys word Breytenbach op indirekte wyse, deur die Franse beweging Solidarité, iets wys van geheimhoudingsprosedures. Tydens sy 1973-besoek aan Suid-Afrika kon hy tentatief begin met die stigting van die geheime organisasie Atlas/Okhela (laasgenoemde deur hom en 'n groepie vriende geïnisieer). In die Okhela-manifes (opgeneem in Breytenbach, 1984a: 329-336) word daarop aanspraak gemaak dat die ANC die organisasie gelegitimiseer het deur die versoek om dit te stig. In 'n voetnoot (op.cit.: 335) sê Breytenbach dat dit nie waar is nie: ‘In fact the office-bearers of the ANC with whom we were in contact, could not and did not encourage us in the name of the ANC’.
Okhela is gevorm ter ondersteuning van 'n faksie binne die ANC (op.cit.: 49) maar eintlik ‘in tandem met Steve Biko se Swart Bewussynbeweging’, want ‘Breytenbach het 'n demokratiese eenheidstaat voorgestaan, maar dit nodig geag dat blanke aktiviste onafhanklik onder hulle eie mense moes werk’ (Walzer, 1988: 32). Ná sy terugkeer in Parys kom Okhela behoorlik op dreef, onder meer met die aansluiting van Barend Schuitema (sekretaris van die
| |
| |
Anti-apartheidsbeweging in Nederland), Donald Moerdijk, Don Morton en sy eertydse Kaapse vriend Jobst Grapow. Einde Julie 1975 vertrek Breytenbach met 'n vals paspoort na Suid-Afrika om twee verteenwoordigers vanuit die vakbonde vir Okhela te werf. Ná twintig dae waarin hy steun en lede vir die organisasie probeer werf, word hy op 19 Augustus 1975 in hegtenis geneem.
Al is interne swart weerstand teen die regeringsbeleid in die sestigerjare voorlopig gestuit deur verskillende onderdrukkende maatreëls, sodat die klem verskuif het na ‘exile politics’ waarby Breytenbach betrek is, kom daar teen die einde van die dekade weer tekens van opstand in die land self - die dominante ideologie wat hierdie opstand gerig het, was dié van ‘Black Consciousness’. WA de Klerk (1976: 321) sien dit as 'n ironiese ontwikkeling binne die geskiedenis van die Afrikanerdom wat self so nóú verweef is met die konsep van nasionalebewustheid.
Die Black Consciousness Movement het die ruimte gevul wat gelaat is deur die verbanning van die ANC en PAC. In hierdie fase van die swart nasionale bevrydingstryd was dit veral 'n groep ‘bevoorregtes’ - die studente van die swart universiteite - wat in opstand kom teen Afrikaner-nasionalisme. Die eerste organisasie wat vir die Black Consciousness Movement voorspraak gedoen het, was die South African Students' Organization (SASO), onder leiding van Steve Biko (wat Breytenbach op sy 1975-besoek aan Suid-Afrika probeer werf het vir Okhela - vergelyk Breytenbach, 1984a: 83).
Die nuwe groep ‘organiese’ intellektuele besef spoedig dat hulle hul na die onderdrukte gemeenskappe moet wend om 'n breër basis vir die beweging te verseker. Die konsep word dan doelbewus van die universiteite na skole, die kerk en ander groepe uitgedra. In 1972 is die Black People's Convention gestig, die eerste openlike politieke organisasie onder swartes sedert 1960. In dieselfde jaar is die Black Community Programme in die lewe geroep. Teen 1976, met die uitbreek van die Soweto-onrus en Breytenbach in eensame aanhouding, was die Swart Bewussyn-filosofie die oorheersende invloed op die politieke sienings van jong, stedelike, middelklas swartes en een van die belangrikste motiverende kragte vir opstand (vergelyk hieroor Davies, 1984a: 33). Omdat bevryding in holistiese terme gesien is, het dit al die aspekte van die swart gemeenskap geraak en daarom het dit ook kulturele gestalte gekry - soos gesien kon word in die ‘township’-literêre oplewing van die vroeë sewentigerjare. In 'n gesmokkelde brief aan Marius Schoon verwys Breytenbach na die aande van ‘versetpoësie’ in Holland waar hy kennis gemaak het met swart (uitgeweke) digters soos Dennis Brutus, Mazisi Kunene, Lewis Nkosi, Kgositsile en Serowe (sic) (Viviers, 1978: 127).
Breytenbach was deeglik bewus van die invloed van Swart Bewussyn en sy besinning oor ‘Suid-Afrikanerskap’ en die rol van die intellektueel het raakpunte daarmee. Volgens hom is Swart Bewussyn nie slegs vir gekleurdes nie, maar ook vir politiek-bewuste blankes wat hulself sien as Afrikane en nie meer as Europeërs nie (De Volkskrant, 20.6.72). In The true confessions of an albino terrorist voer Breytenbach Swart Bewussyn aan as een van die redes waarom hy en sy vriende kritiek van links teen die veelrassige Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se rol in die buitelandse vleuel van die ANC gehad het in die vroeë
| |
| |
sewentigerjare: ‘...we thought that the SACP was papering over the real problems of cultural awareness (after all, we've had Black Consciousness in the meantime!); and we thought that by grouping Black and White - in this way, at this level - in the same organisation, one was diminishing the effectiveness of the militants by confusing the feedback and making it difficult for people (with their daily experience of harsh Apartheid...) to identify with the Party’ (1984a: 61-62; ook 333). Die stigting van Okhela was dus 'n poging om aan wit militantes wat as gevolg van die Swart Bewussynbeweging ‘uitgestoot’ kon word, die geleentheid te gee om effektief op te tree teen apartheid. (Vergelyk ook Breytenbach se brief aan Schoon in Viviers, 1978: 137.)
Soos vroeër met ander swart politieke bewegings gebeur het, het die Suid-Afrikaanse regering egter ook in die sewentigerjare teen die Swart Bewussynbeweging opgetree. Leiers soos Steve Biko van SASO en Bennie Khoapa, direkteur van die BCP, is ingeperk en aangehou - eersgenoemde sterf tydens aanhouding. (Breytenbach laat hom meermale uit oor ‘dood in aanhouding’, vergelyk ‘Brief uit vreemde aan slagter’ in Skryt (1972) wat sinspeel op die dood van die aangehoudene Timol; die daaropvolgende teks wat bestaan uit 'n naamlys van gevangenes wat ‘onder behandeling van die veiligheidspolisie, geboorte aan hul dood (ge)gee’ het, asook Lijphart (1985: 7) se aanvulling tot Seisoen (1976: 152) oor die geval Iman Abdullah Haroen.)
Op 19 Oktober 1977 word 'n verbod geplaas op die sestien belangrikste Swart Bewussynorganisasies, op die swart koerant The World en die veelrassige Christelike Instituut. Van die leiers word gevonnis tot gevangenisstraf op Robbeneiland; enkeles verlaat die land en die ou patroon word herhaal deur die totstandkoming van 'n ‘Black-Consciousness-movement-in-exile’ in Londen.
Sedert die 1976-opstande het die ANC homself bevestig as die politieke beweging met die grootste populêre aanhang in die swart woonbuurte van Suid-Afrika. 'n Herbevestiging van die uitgangspunte van die Freedom Charter van 1955 vind in 1983 plaas met die stigting van die nie-rassige United Democratic Front (UDF) wat die ‘Charterist’-tradisie in die swart politiek voortsit.
Breytenbach, wat nog altyd krities gestaan het teenoor fasette van die ANC se beleid en strategie en ná sy vrylating nog nie glo dat daar enige kans is dat dit gaan verander in 'n vry demokratiese organisasie nie (1984a: 327), erken egter die ANC in die tagtigerjare as dié massa-organisasie wat die saak van swart politieke mag die beste verteenwoordig: ‘The African National Congress... will eventually rule the country... It is conceivable that the present totalitarian State will be replaced by one which may be totalitarian in a different way... and yet there is no other way. How can we advance unless we destroy racism?’ (ibid.)
Die swart ‘politieke spel’ van die tagtigerjare staan in die teken van 'n oplewing in sowel die ‘gewapende stryd’ as van ‘popular resistance’ (en die boikot-strategie) onder die vleuels van die ‘buite-parlementêre, nie-rassige demokratiese beweging’. Betrokke organisasies word aan die een kant gekortwiek deur onderlinge botsings met mekaar en faksieverdelings in eie geledere. Aan die ander kant moes hulle hulself handhaaf binne die beperkings van twee
| |
| |
noodtoestande en die opkoms van reaksionêre en ‘vigilante’-bewegings. Die beperkinge wat die noodtoestande en die afkondigings van 24 Februarie 1988 die swart versetbeweging opgelê het, het moontlik bygedra tot 'n nuwe strategie: die tentatiewe uitreiking na gewettige, blank geïnisieerde buite-parlementêre of ‘brug’-organisasies soos IDASA en die ontbinde NDB, wat hulle beywer vir 'n ‘nuwe onderhandelingspolitiek’.
| |
IV
Die rol van die pers ten opsigte van Breytenbach as openbare figuur
Breytenbach het in sy skrywers- en openbare lewe telkens gesorg vir ‘nuus’ in die sin van opspraakwekkende of belangwekkende ‘gebeure’. As skrywer word hy ‘nuuswaardig’ as gevolg van die publikasie van tekste wat die lesersverwagtingshorison drasties verskuif, van omstrede prystoekennings of -weerhoudings, van dreigende én werklike sensuuroptredes teen hom. As politieke figuur sorg hy vir ‘nuus’ as gevolg van sy huwelik, die visumweierings aan sy vrou en homself, sy omstrede politieke uitsprake, inhegtenisneming en vonnis, vroeë vrylating, deelname aan die Dakar-samesprekings, ensovoorts. ‘Nuuswaardig’ was hy dus wel deeglik in die oë van joernaliste - alhoewel hulle selde die gebeure om hom in verband met die wyer sosiale en politieke konteks gebring het.
Breytenbach ontlok uiteenlopende reaksies van die verskillende Afrikaanse koerante en van hulle lesers. Teenoor dié wat versigtige voorstanders van ‘verdraagsaamheid’ is en 'n lansie breek vir die toelaat van ‘uitsonderings op die reël’ ter wille van ‘menslikheid’, staan dié koerante wat Breytenbach etiketteer as ‘volksduiwel’ - as bedreiger van die ‘tradisionele’ en ‘algemeen’ aanvaarde. In dié proses help die pers mee om hom te verhef tot 'n ‘held’ in die oë van dié wat buite die hegemoniese groep staan.
Die uiteenlopende reaksie van die verskillende koerante op Breytenbach word in die hoofstukke wat hierop volg, voortdurend bekyk teen 'n wyer agtergrond: die stryd tussen die persgroepe, die bepalende rol wat die onderskeie redakteurs se ideologiese opvattings speel, en die geleidelike klemverskuiwings in die dominante ideologiese klimaat.
In die eerste dekades van hulle bestaan was die groot Afrikaanse persgroepe nou verbonde met faksies binne die Nasionale Party. Die koerante van die Nasionale Pers (byvoorbeeld Die Burger) het die ideologiese voorkeure van die Kaapse tak van die Nasionale Party onderskryf en bevorder, terwyl die Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) dié funksie ten opsigte van die Transvaalse tak vervul het. Die politieke funksie van die pers word duidelik
| |
| |
gedemonstreer in die vulling van hekwagtersrolle: veral die keuse van redakteurs asook die samestelling van direksies uit leidende politieke figure (vergelyk Hachter en Giffard, 1984: 179-180).
Tot in die sestigerjare het die Afrikaanse koerante gewoonlik die partyleiding lojaal gevolg en selde botsende menings uitgespreek of berig oor partywoelinge. Die Burger was die eerste Afrikaanse koerant wat 'n andersoortige rol in die Afrikanerdom begin vertolk het: ‘a role which is outonomous yet at one with the Nationalist Party - a role of mild rebelliousness conjoined with loyalty’ (Otto Krause, News/check, 13.3.64). Die koerant het dit sowel sy reg as sy plig begin beskou om ‘nuwe denkrigtings’ te verkondig en die publiek te beïnvloed en te lei (Pienaar, 1979: 128).
Dat die dae van slaafse navolging van die Party ook vir die ander Afrikaanse koerante iets van die verlede was, blyk uit die hantering van partywoelinge in die laat sestigerjare wat uitloop op die stigting van die HNP. Nasionale Pers se koerante (veral die Sondagblad Die Beeld, asook Die Burger en Die Volksblad) het nie net die Afrikanertwis gereflekteer nie, maar 'n veldtog teen die Hertzoggroep gevoer - iets wat skerp in teenstelling was met die tradisie dat sulke geskille uit die Afrikaanse pers gehou word. Dit gee aanleiding tot groot bitterheid onder die behoudendes oor ‘liberale’ Afrikaanse koerante wat ‘bitsige aanvalle’ op ‘leidende nasionaalgesinde Afrikaners’ doen (Scholtz in Dreyer, 1977: 68; Van Jaarsveld, 1971: 465). Die koerante van APB (veral Die Vaderland en Hoofstad) het in hierdie tyd van woelinge 'n forum vir ‘verkramptes’ geword en gereeld briewe gepubliseer waarin die ‘verligtes’ (en die Sestigers) en aspekte van adv. Vorster se beleid aangeval is. Dagbreek en Sondagnuus (later Dagbreek en Landstem), het in sy sirkulasiestryd met Die Beeld 'n dubbelslagtige rol in die verkramp/verlig-stryd gespeel. Die Transvaler se rol was deurgaans dié van 'n onsuksesvolle ‘vredemaker’.
In die sestigerjare is die reaksie op Breytenbach (en die Sestigers) 'n barometer van die stryd tussen verkramp en verlig as sodanig. In daardie stadium was die oorwig na die ‘verkrampte’ kant - daarom is die enkele uitsonderings (veral Die Burger wat nie kommentaar lewer op sake rakende die digter nie en wat 'n forum bied vir 'n ‘oop gesprek’ oor hom in sy briewekolomme) des te opvallender.
Sedert 1972 het die Afrikaanse koerante, óók Perskor-koerante, teen die grein van sommige direksielede in, ‘verligte’ denkrigtings geïnisieer, ondersteun en uitgebou - al het dit teen die koers van volkome geïntegreerde politiek gebly. Die tweede breuk in die Nasionale Party - dié onder leiding van dr. AP Treurnicht in 1982 - is deur die Afrikaanse koerante help voorberei deur ‘'n skerp kritiek op die regse pogings om die hervormingspolitiek te fnuik en die Nasionale Party te kaap’ (Willem de Klerk, 1984: 74). Tans beskik regse groepe (lede van die Konserwatiewe Party en die Herstigte Nasionale Party) nie oor 'n kommersiële dagblad in die Naspers- of Perskor-stal wat as spreekbuis vir hulle dien nie.
Die Afrikaanse koerante het in die sewentigerjare 'n groot aandeel gehad in die vorming van die openbare mening en 'n klimaat om pragmatiese afwykings van apartheid aanvaarbaar te maak. (Dit sal later blyk hoe hulle Breytenbach
| |
| |
in dié verband as 'n simbool gebruik het.) Die aksente wat in dié tyd baie sterk gelê is, was onder meer die noodsaaklikheid van beraad met swart en bruin; die afskaffing van ‘klein apartheid’; die aanvaarding van stedelike swartmense as permanent en die selfseggenskap oor hul eie sake; die wegbeweeg van diskriminasie en die hersiening van diskriminerende wetgewing; afskaffing van werkreservering; ‘normalisering’ van sport deur opheffing van baie van die begrensinge; die gevare van internasionale isolasie en die noodsaaklikheid van Afrika-diensbaarheid (Hachter en Giffard, 1984: 186 en Willem de Klerk, 1984: 73). Afrikaanse koerante het dan 'n klimaat van ‘verandering’ geskep en meegewerk in die rigting van die politieke beleid van die P.W. Botha-era (vergelyk hieroor WJ Wepener, Rap., 14.10.79). Die Afrikaanse pers projekteer in hierdie tyd ‘verligtheid’ as beeld van die ‘verantwoordelike Afrikaner’ en ‘verkramptheid’ as die afwykende en selfs twyfelagtige (Willem de Klerk, 1983: 342 en 1984: 75). Maar dat die verligte Afrikaanse pers in 'n groot mate nog die dominante ideologie onderskryf, blyk uit uitsprake van die verligte segsman, Willem de Klerk. Hy plaas besondere klem op ‘perspatriotisme’ en onafhanklike politieke joernalisme ‘without violating (the) relationship with the Afrikaans political philosophy’ (1983: 338 en 340).
In die sewentigerjare toe ‘verligtheid’ ál meer ‘aanvaarbaar’ geword het en voorgehou is as die ‘verantwoordelike’ houding, tree daar 'n ander dimensie in vir sover dit persreaksie op Breytenbach betref. Hy word dus in 1973 met ope arms deur die Afrikaanse pers in sy geboorteland verwelkom. Met sy fundamenteel alternatiewe menings en optrede raak hy egter teen 1975 'n verleentheid vir die ‘verligte’ pers wat steeds Afrikanerbelange en ‘wet en orde’ vooropstel.
In die vroeë tagtigerjare steun al die kommersiële Afrikaanse koerante die PW Botha-administrasie en die ‘hervormingsbeleid’. Willem de Klerk verwoord die politieke uitgangspunte van die Afrikaanse pers teen 1984 só: ‘Die politieke koers van die huidige bewind geniet ongetwyfeld die algemene steun van die prominente Afrikaanse koerante... Nie dat die Afrikaanse koerante onkrities is nie... Daar is... 'n tendens om die Regering te maan om nie terug te deins en te veel oor sy regterskouer te kyk nie. Die Afrikaanse koerante is egter teen die koers van totale geïntegreerde politiek. Die konsep van afsonderlike ontwikkeling as 'n leitmotiv vir ons politiek bly steeds prominente beleid van die Afrikaanse pers. Dit blyk in die swaar aksent op selfbeskikking, 'n eie leefwêreld vir elke groep en eie onderwys... Die Afrikaanse koerante sal alleen hulle invloed as veranderingsagente behou as hulle hulself kan projekteer as onbetwyfelbaar in hulle geworteldheid in die Afrikaanse gemeenskap en in diens van die Afrikaner se behoud van sy selfbeskikking’ (1984: 74 en 77).
Afrikaanse koerante se geloofwaardigheid word in die Botha-tydvak betwyfel deur verskillende lesersgroepe: aan die een kant deur konserwatiewe Afrikaners wat dit te ‘liberaal’ vind en aan die ander kant deur ‘ontnugterde verligtes’ wat voel dat veral die Nasionale Pers se partydigheid vir PW Botha koerante soos Die Burger en Beeld eensydige nuusbronne maak. Die hantering van die Nasionale Party se ‘leierskapkrisis’ in 1989 dui egter daarop dat die amptelike Afrikaanse pers al meer sy steun verleen aan versnelde hervorming en dat hoop
| |
| |
gerig word op die leiding van FW de Klerk. Die grootste probleem - vir die héle pers - is die stryd om geloofwaardig te bly in die lig van die groeiende neiging van die regering om in reaksie op die sekuriteitskrisis en in naam van ‘wet en orde’ die dekking van sensitiewe nuus te beheer deur wetgewing (vergelyk Giliomee, 1981: 212-217; Willem de Klerk, 1983: 338 en Du Plessis en Olivier, 1987: 130-131).
Die reaksie op Breytenbach se vervroegde vrylating in 1982 is weer eens 'n refleksie van die amptelike Afrikaanse pers se ideologiese rol: as nuwe pragmatiste sien die redakteurs dit as 'n wyse stap op die vooraand van 'n ‘nuwe bedeling’. Sedertdien poog voorstanders van NP-geleide hervorming om Breytenbach skadeloos te stel deur sy uitsprake te betrek waar dit hulle pas (byvoorbeeld by argumente rondom die depolitisering van Afrikaans). Voorstanders van 'n ‘nuwe onderhandelingspolitiek’ en die alternatiewe Afrikaanse pers (by name die ‘onafhanklike’ Vrye Weekblad) betrek hom op hulle beurt weer by húlle aksies en strategieë. |
|