sisteem) as politieke ideologie. Hy identifiseer hom met sosialisme (byvoorbeeld 1984a: 60) en - meermale indirek of by implikasie - met Marxistiese politieke opvattings in 'n breë sin. Hy stel dit egter dat hy nie lid is van die verbode Suid-Afrikaanse (of enige ander) Kommunistiese Party nie (op. cit.: 60).
Dit was nie die doel van hierdie ondersoek om te bepaal in watter vertakking of spesifiek Suid-Afrikaanse mutasie van die Marxisme Breytenbach se politieke en literêre diskoers ‘inpas’ en om dan krities daaroor te besin nie. Oppervlakkig beskou, wil dit lyk asof sy politieke uitsprake en sienings oor die funksie en aard van kuns nie 'n sistematiese geheel van ortodoks Marxisties-Leninistiese denke is nie, maar eerder 'n eklektiese byeenbring van, onder meer, basiese uitgangspunte van die jong Marx (Marx vóór sy interpretasie deur Friedrich Engels en VI Lenin); tendense in moderne Europese Marxistiese teorieë; kenmerke van die libertyns-sosialistiese Anargisme asook van Maoïsme. (Leatt, Kneifel en Nürnberger, 1986, verskaf 'n oorsig van hierdie en ander ideologiese perspektiewe, met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks.)
Sentrale kodes in Breytenbach se skeppende en politieke tekste toon aansluiting by die ‘oorspronklike’ Marx: die mensgerigtheid; die gemoeidheid met verhoudings (dialektiek); die opheffing van die teenstellings onstoflikheid/stoflikheid, gees/liggaam, hemel/aarde, subjek/objek; die fokus op die toestand van ‘vervreemding’ wat uitmond in die verminkte staat van die menslike bestaan; die materialistiese opvatting van die geskiedenis.
Van die nuwe Europese Marxistiese teorieë is dit spesifiek Marxistieshumanistiese opvattings en temas wat gemanifesteer word by Breytenbach. Dit sluit in: die bemoeienis met die aard van bewussyn en die siening van die mens as historiese agent wat, alhoewel hy nie in staat is om die geskiedenis geheel en al na sy wense te vorm nie, tog die skepper is van sosiale, politieke en ekonomiese instellings; die temas van vervreemding, die mens se verhouding tot die natuur, menslike onderdrukking en vryheid asook die rol van dié wat ‘bewusmaking’ as hul taak sien.
Breytenbach se voortdurende opstand teen die ‘establishment’ en al sy bewakers (die heersers, base, rykes, akademici, kritici, kultuurleiers en ander meningsvormers) en teen alle folteraars, onderdrukkers en uitbuiters van die mensheid (staatsmanne, politici, amptenare, soldate, polisie, tronkbewaarders, ondersoekbeamptes en skerpregters) toon ooreenkoms met een van die wesenstrekke van die Anargisme.
Dit kan sekerlik te wagte wees dat Breytenbach se verkenning van en aansluiting by Oosterse denkpatrone, die Zen-Boeddhisme en Taoïsme, hom ontvanklik stem vir invloede van die Maoïstiese revolusionêre beweging met sy religieuse ondertone en klem op kulturele bewustheid. In sommige van sy (politieke) tekste word daar dan ook direk na Mao Tse-Toeng verwys.
Breytenbach spreek hom egter uit teen die Moskou-variant van Marxisme en teen Stalinisme. Hy is byvoorbeeld krities teenoor die SAKP-faksie in die ANC wat hy beskou as een van die mees onbuigsaam lojale volgelinge van die buitelandse beleid van Moskou: ‘Stalinism, in this sense, means to be doctrinaire; always to follow “Mother's” line, however often it may be revised or changed; and to be bureaucratic in the extreme. Also to be non-democratic by