| |
| |
| |
| |
In die paradys
Herman Wasserman
Hy kan nie onthou dat die winters so koud en nat was toe hy voorheen, in 'n ander lewe, hier gebly het nie. Die kaggel brand hoog net 'n paar tree van hul tafel, maar dis steeds te koud om sy baadjie uit te trek. Is dit net vanjaar dat die sneeu so dik lê op die pieke, of onthou hy maar net nie goed nie? In twee-en-twintig jaar het baie dinge in die wêreld al verander, die weer kon seker ook. Hy glimlag skielik toe hy 'n advertensie onthou wat hy 'n paar jaar gelede in Londen gesien het: ‘If the effects of global warming are everywhere, why is my flat so fucking cold?’ Buite roer geen mens nie, net nou en dan swiep 'n motor verby, stertligte smeer rooi teen die nat restaurantruit. Eintlik moes hulle by die huis gebly het, dink hy. Hulle het pas die naweek 'n nuwe olieverwarmer aangeskaf, hy het 'n nuwe boek waarvan die storie hom pas begin beetkry het, daar is nog meer as 'n driekwart van die bottel tienjaaroud oor. Dis iets wat hy gou aangeleer het hier op die platteland, sulke introverte aande van musiek luister op die rusbank, te voel hoe hy stadig aangeklam word en die kamermure om hom stadig begin smelt. Om dan sy kop agteroor te laat sak, die oopgeblaaide boek oor sy gesig te sit en die papierreuk in te asem. Daar is iets in oorsese slapbandboeke wat hom veral aanstaan, iets veraf en effens bitter in die reuk. Om so aan die slaap te raak, sy kop in 'n ander wêreld, dis 'n reis wat hy graag onderneem.
Maar dit was deel van die voorwaardes, dis een van die tien punte in hul ‘genesingsplan’, soos voorgeskryf deur die goeie dr. H.G. Feenstra, D. Litt. et Phil. (Psig), SA, oftewel hul nuwe
| |
| |
vriend Hans, soos hy hulle reeds in hulle eerste sessie aangemoedig het om hom te noem. Hulle moet meer uitgaan. Hulle moet probeer vriende maak. Hulle moet stokperdjies kry wat hulle uit die huis uit sal neem. Hy moet leer om homself terug te dwing in die wêreld, leer om hom minder te onttrek, leer om te kommunikeer. Sy moet haar vrese konfronteer, leer om tussen ander mense te kan beweeg, leer om te ontspan. Hulle probeer nou al maande lank.
‘Wat lag jy?’ vra Hannelie toe sy hom sien glimlag.
You had to be there, dink hy, maar wend 'n poging aan. ‘Ag, ek dink sommer aan die koue, en iets wat...,’ begin hy, maar stop toe die kelnerin nader kom en die spyskaarte neersit. Sy het 'n ring deur haar naeltjie, presies op Kobus se ooghoogte, en hy moet homself dwing om nie daarna te staar nie. Hy kan sweer sy het dit nog nie laas keer ingehad nie.
Ná sy hulle gelos het om oor hul bestelling te besluit, gesels hulle nog hiernatoe en daarnatoe oor wat om te eet. Dankie tog vir die uitgebreide spyskaart, dink hy. Daar is tientalle goeie restaurante op die dorp, maar hulle kom elke keer terug hiernatoe. Is dit die vyfde of die sesde keer? In die dorpskoerantjie lees hulle gereeld van nuwe eetplekke wat oopmaak, sien die sosiale foto's van paartjies met wynglase in die hand en styf geposeerde glimlagte, en telkens neem hulle hul voor om 'n nuwe plek te probeer. Maar voor hulle weet, is hulle maar weer op dieselfde plek. Hulle bestel darem elke keer iets anders - hierdie keer besluit hulle op pastas. Die praat droog op pas nadat hul keuses in die kelnerin se boekie opgeskryf is. Hannelie begin patroontjies op die tafeldoek natrek, vroetel aan die tandestokkies in die houertjie in die middel van die tafel. Hy kyk die kelnerin agterna. In die hoek by die visbak fluister 'n jong student in sy metgesel se nek, sy lag hardop en uitbundig.
'n Rustiger lewe sou die antwoord wees, het hulle maande gelede besluit, vars lug was beter terapie as enigiets wat Hans hulle sou kon gee. Stap vir stap het hulle die stadslewe soos 'n vel van hulle
| |
| |
afgegooi. Eerste was 'n nuwe blyplek. ‘Own a piece of paradise,’ het die groot reklamebord by die ingang van die nuwe ontwikkeling gelok. ‘Gmf,’ het Kobus gesnork, ‘tipies. Almal in die omgewing is so Afrikaans soos braaivleis en bidure, maar as daar grênd gewees moet word, moet daar mos in Engels gepraat word. Óf Engels, óf die plek moet 'n pretensieuse Nederlandserige naam hê.’
Die ontwikkelaars se vlae het gewapper by die fonteintjie by die ingang, die bouers se lorries het gesteun deur die strate. Een vir een het die vier by viers daardie Sondagmiddag deur die veiligheidshekke getrek, op 'n streep het die gesinnetjies rondom die toonhuise gedrentel. Iets in die eenvoud van dit alles het hulle dadelik aangetrek, asof 'n tannie met 'n skinkbord koffie en beskuit hulle êrens op 'n stoep staan en inwag.
Die trek uit die stad was nie die terapeut se voorstel nie, maar hul eie besluit. Hulle kon nie in dieselfde huis bly nie - Hannelie het aanhou nagmerries kry, steeds gesigte gesien in die gang. Kobus het swaarder begin drink, sy humeur al meer begin verloor vir kleinighede. Saans kon hy nie tot rus kom nie, obsessief deur die huis bly loop, oor en oor seker gemaak al die deure is gesluit. Party aande het hy so daarteen opgesien om huis toe te gaan dat hy om en om die blok gery het, al stadiger en stadiger, tot hy genoeg moed bymekaar geskraap het om by die oprit in te ry. Dit het nie gehelp dat ander mense hulle bly vertel het dat dit soveel erger kon gewees het, dat hulle gelukkig was dat hulle nie geskiet of verkrag is nie. Die stad het hulle begin vasdruk, by elke robot was daar 'n kaper, elke vreemde gesig op die sypaadjie was 'n moontlike inbreker. Elke geluid in die nag het 'n herhaling van die vorige keer aangekondig, elke skaduwee wat beweeg het was een van húlle wat op borgtog uitgelaat is.
Hulle het reeds 'n maand of wat gesoek toe die agent hulle van die nuwe ontwikkeling vertel. Net 'n paar strate, op 'n stuk
| |
| |
grond wat voorheen 'n plaas was, 'n eg plattelandse gevoel, het sy beloof. Hulle het gaan kyk en gesien hoe daar weerskante van die enkele rytjies huise 'n oop stuk veld strek, rye bome wat eers 'n peerboord was, 'n paar hektaar wingerd. Op die oog af vreedsaam, maar die buurt is omring met 'n ses voet hoë muur, daar is slagbome by die ingang waar besoekers moet inteken, sekerheidswagte patrolleer die strate. ‘Dis soos The Truman Show,’ het Kobus geskerts, maar hulle het dieselfde Sondagmiddag nog 'n aanbod gemaak.
Hulle het 'n hond gekoop en begin stap. Aanvanklik het dit vir hulle effens vreemd gevoel om so opgepas te word, maar hulle het gou meer ontspanne begin voel. Hy het 'n praktyk op die dorp oopgemaak, sy het van die huis af gewerk en nou en dan kliënte oor middagete in 'n restaurant ontmoet. Vyfuur saans het hulle egter teruggetrek agter die mure, binnekant toe begin lewe. As hulle 'n ander lewenstyl gesoek het, het hulle dit gekry. Hulle het die sosiale lewe in die stad nietemin aan die begin erg gemis - die skemerkelkies in modieuse kroeë, die uitsnuffel van nuwe restaurante, die kunsflieks. Aanvanklik het van hul stadsvriende nog een of twee keer deurgery om te kom kuier, maar later ook begin wegbly. Dié wat opgedaag het, het sonder uitsondering 'n opmerking gemaak oor hul omheinde gemeenskappie (‘'n banggat-park’ het een dit genoem; 'n ander - 'n dosent aan die universiteit - het 'n debat ontketen oor hoe dié soort buurt die eksklusiwiteit van markkragte simboliseer, 'n finale erkenning dat die gaping tussen ryk en arm nie meer oorbrug kan word nie). Dit was 'n verskynsel wat hulle voorheen nog net in Gauteng aangetref het en nie hier in die idilliese, vreedsame Bolandse Eden nie. ‘Die plek krioel van die gangsters, man,’ is Kobus se standaardantwoord daarop, ‘jy moet sien hoe alles in die dorp nou omhein is, elektriese drade oral, selfs die koshuise het veiligheidsdeure. Dis nie meer soos in ons dae nie.’
Dit was nie lank nie, of hulle het gewoond geraak daaraan, be- | |
| |
gin ontspan in die wete dat hulle hier seker so veilig is as wat hulle enige plek in die land kan hoop om te wees, weggesak in 'n lou poel gerustheid. Saans het hulle verby die veiligheidswagte geloop en gegroet, of uit 'n motorvenster gewuif. ‘Julle moet kom kuier!’ het Hannelie vir hul dogter in Londen 'n e-pos geskryf, ‘jy sal nie glo hoe voorstedelik ek en Pa geword het nie! Viva suburbia!’
Hul lewe het 'n geroetineerdheid gekry wat dit nooit in die stad gehad het nie, en die reëlmaat van klein doenighede het hulle gesus. Twee keer per week speel hy muurbal teen iemand wat deur sy sekretaresse aan hom voorgestel is, 'n skoolhoof op die dorp, en twee keer per week verloor hy. Twee keer per week maak hy kos - gewoonlik 'n pot Maleise kerrie of braaihoender - drie keer per week is dit haar beurt, meesal aansienlik meer kreatief, uit 'n kookboek van Donna Hay of 'n Internetresep. Hy werk selde meer later as vyfuur en het begin uitsien na vroegaande, wanneer hy met die hond kan gaan stap en sien hoe die son sak agter die heuwels onder die tjalies rooi-en-bruin wingerdlappe. Die laatherfs is sy gunstelingtyd van die jaar, veral hier, waar die lug bros is en bome en wingerde louwarm kleure begin kry. Hy stap graag tot bo-op een van die kleinerige heuwels in die stuk veld, van waar hy kan uitkyk oor landerye, damme en plaashuise. Halfpad teen die heuwel op staan 'n lukwartboom. As hy op 'n helder dag korrel tussen die grootste mik van dié boom deur, kan hy in 'n reguit lyn sien verby die dakke van die huise. Doer in die verte, anderkant die lappe bruin en groen, die spikkels huise en die eerste gloeisels van straatligte wat aangeskakel word, kan hy Tafelberg dofweg teen die skemer horison geteken sien staan. Ver, maar nie onbereikbaar nie. As hy 'n rukkie so staan en kyk het, hom verbeel hy kan in die rye liggies 'n patroon uitmaak waarin hy voorstede, paaie en bakens kan herken, het hy effens kriewelrig begin voel. Iets het êrens gekrap,
| |
| |
maar hy het nie te lank gewonder daaroor nie. Sy verbeelding het hy eerder oor die boom laat gaan. Wie sou nou 'n lukwartboom juis hiér kom staan en plant het? So onvanpas, die groot boom met sy boskasie blare tussen die geometriese rye wingerd?
Tot sy verbasing loop hy twee van sy universiteitsvriende raak in die dorp, en herken hulle sonder veel moeite. Een van hulle is 'n ouditeur by 'n plaaslike firma, bly al meer as sewe jaar daar. Die ander een het onlangs ná sy egskeiding getrek uit Gauteng, vir hom 'n kleinhoewe gekoop waar hy op klein skaal met kruie boer en uit 'n ou werkershuisie 'n klein belastingkonsultasie-besigheid bedryf. Hy verbeel hom hulle herken in mekaar se oë iets, dalk 'n soort gelatenheid, iets amper soos moegheid. Hulle ontmoet mekaar nou en dan vir 'n drankie ná werk, 'n keer of wat selfs vir 'n braai. Oor die ou dae praat hulle heel vrolik, oor die jare sedertdien het hulle nie veel te sê nie.
Die kelnerin glimlag vriendelik toe sy die kos neersit.
‘Oom en tannie moet net roep as daar nog iets is,’ nooi sy voor sy wegstap.
‘Wanneer laas het 'n kelnerin jou tannie genoem?’ vra hy.
‘Ons is tussen ons eie kerk se mense,’ grinnik Hannelie, ‘welkom.’
Hy stoot die irritasie met die kelnerin eenkant toe, en besluit om die aanmerking eerder as 'n aanknopingspunt te gebruik. Nie nou al die aand verniel nie. Terwyl hulle eet vertel hy haar van die ou man wat hy vroeër die aand tydens sy stappie deur die buurt op en af in die straat sien loop het met 'n Bybel in die hand, mompelend by homself.
‘Vreemd!’ roep sy. ‘Ek het hom nog nie gesien nie. Wonder of dit 'n nuwe intrekker is?’
‘Ek dink hy is familie van die Therons by nommer agt,’ sê hy, ‘ek het hom daar sien ingaan.’
Hy vertel haar nie van die halwe karkas 'n paar huise ondertoe nie. Hulle eet immers, en die vorige keer toe 'n hond voor hul huis doodgery is, kon sy nie slaap nadat sy self die bloed met 'n
| |
| |
tuinslang van die teer probeer afspuit het nie. Die nuutste skermutseling tussen hul bure sou ook nie nuus wees nie - hy het niks om by te voeg by die nou reeds bekende en reëlmatige aandelikse litanie van gille en huilbuie nie. Behalwe miskien dat hy vanaand in die verbygaan die man se stem deur die venster iets hoor sê het soos ‘ek belowe... ek belowe’.
‘O ja, amper vergeet ek!’ roep Hannelie skielik, en moet keer dat die wyn nie by haar mondhoek uitspat oor haar hemp nie. ‘Ek het vanmiddag toe ek by die huis kom gou om die blok gaan stap met Brakanjan, die son het so 'n rukkie geskyn, toe dag ek ek moet hom bietjie oefening gee. Elk geval, ek was net by die einde van die teerpad, daar by die begin van die veldjie, toe keer daardie vrou met die kierie my. Jy weet mos, daai maer antie wat daar oorkant langs daardie mense met die poedels bly. Sy keer my toe voor. Sê ek moenie deur die veld stap nie, sy het 'n moerse slang daar gesien die vorige dag. 'n Kapel of 'n ding. Nogal grillerig, nè? Om te dink hulle is so naby, hulle kan eintlik by die huise inkruip. Brrrrr...’
‘Ag, ek glo darem nie. Slange in die middel van die winter? Ek dink sy sien gesigte. Praat van bure, het jy al iets gehoor oor daardie Smith-vrou?’ vra hy. Daar het die vorige aand 'n ambulans voor haar huis gestop, en Kobus en Hannelie het druk bespiegel oor wat haar kon makeer. Hulle het probeer loer of die ligte vanaand gebrand het, maar alles het normaal gelyk.
‘Nog niks,’ antwoord Hannelie deur 'n mond gnocchi, ‘maar ek wonder tog oor haar. Sy het nie vir my goed gelyk toe ek haar laas gesien het nie, baie bleek en bewerig.’
‘Tja-a, wie weet nou ook wat agter ander mense se voordeure aangaan, nè?’ is Kobus se bydrae, voor hy wegsak in een van sy troebel buie. Die gesprek stol, tot Hannelie skielik haar lepel laat kletter op die bord.
‘En nou?’ vra Kobus as hy haar groot oë sien.
‘Ek het nie die voordeur gesluit nie.’
‘Hoe weet jy?’
‘Ek het dit net skielik onthou.’
| |
| |
‘Jy verbeel jou seker, man. Moet nou nie daaroor bekommerd wees nie.’
‘Nee, ek is seker. Jy het agterom gestap garage toe, ek het gedink ek sou voor uitgaan en die deur sluit, maar toe sit ek vir die hond buite kos neer en volg jou deur die garage. Die voordeur is oop.’
‘Ag, as dit is, so what? Jy weet self hoe veilig dit is. Niemand gaan daar naby kom nie.’
‘Jy weet nooit nie.’
‘Dis die ding. Ek weet. Ek weet presies hoe alles gaan wees, vanaand, môre, oormôre, die dag daarna.’
‘Wat bedoel jy?’
‘Sommer niks.’
‘Wel ek hoop maar alles is oukei. Shit, ek kan dit nie glo nie. Ek moes ingedagte gewees het.’
‘Moenie worrie daaroor nie. Los dit nou. Geniet die kos. Hoe's jou gnocchi?’
‘Shit, shit. Ek dink darem ek het die deur toegetrek.’
‘Los dit. Alles sal presies wees soos wat dit was toe ons weg is. Ek belowe jou.’
‘Het oom-hulle darem alles geniet?’ vra die blondine met die strykplankmagie wanneer Kobus die kredietkaartstrokie teken. Hy voel weer die warmte opstoot in sy nek. Praat hulle wragtig nog op hierdie dorp van oom en tannie?
‘Dankie, alles was reg,’ antwoord Hannelie as Kobus sukkel om iets uit te kry. ‘Het ons klaar betaal? Kom Kobus, ons moet by die huis kom.’
‘Sien julle dan seker weer oor 'n paar weke?’ groet die kelnerin, en Kobus neem hom net daar voor om volgende keer beslis 'n ander plek uit te probeer.
Toe hulle naby die huis kom, raak dit stil in die motor. ‘Alles lyk reg,’ verklaar Kobus as hulle in die oprit stop, maar hy kan sien Hannelie lyk bekommerd. ‘Jy sal sien, als sal wees net soos ons dit gelos het.’ Hy stap voor haar uit, voel-voel aan die deurknop en stoot die deur oop.
| |
| |
‘Sien jy? Ek het mos gesê. Hier hoef jy oor niks te wonder nie, alles is op hul plek,’ sê Kobus as hy die lig aanskakel. Die sitkamer lyk inderdaad presies soos hulle dit gelos het - elke stoel op sy plek, die CD-rakke onverstoord, die hopie boeke netjies gepak op die koffietafel, nie 'n haar uit sy plek nie.
‘Dankie tog,’ sug Hannelie.
‘Net soos dit was.’
‘Jy klink amper teleurgesteld. Nag, ek gaan slaap. Hoe laat gaan jy môre werk?’
‘Watse dag is dit môre?’
‘Uhhm, Woensdag - nee vandag was Woensdag, die vullis is weggevat, Donderdag. Dis Donderdag môre.’
‘Gewone tyd, ek het afsprake.’
‘Goed, lekker slaap.’
Sy rek om hom te kan bykom vir 'n piksoen op die wang.
As hy sy wang vir haar hou, kyk Kobus oor haar skouer na die sitkamer agter haar, die portaal, die uitsig deur die ruit. Alles presies soos dit was, gister, eergister en die dag vantevore. Hier, laat hy die gedagte insink, is hulle veilig.
Kobus hoor haar vroetel in die badkamer, maar hy stap studeerkamer toe. Onder in sy laai, weggesteek in 'n filmhouertjie, het hy nog 'n klein bietjie dagga wat hy saamgebring het uit die Kaap. Hoe lank hy dit al saampiekel, of waar hy dit gekry het, kan hy nie eers meer mooi onthou nie. Dit moet dalk al verslaan het, dink hy, as dagga hoegenaamd kan verslaan. Langsaan, ingeskuif onder 'n AA-slapbandboekie, Budget Self-Catering Week-end Getaways in Southern Africa, lê die pakkie Rizlas en 'n halwe sigaret. Hy slaan die boekie - destyds gekoop met die voorneme om gereeld uit die stadsgewoel te ontsnap, maar bitter lanklaas gebruik - oop, min of meer in die helfte. Hy vryf die stukkies stingel en pitte uit en sorteer dit eenkant toe en rol dit eers sorgvuldig in 'n stuk papier toe voordat hy dit in die snippermandjie gooi. Hy rol die halwe sigaret tussen sy vingers sodat die tabak uitval, en laat dit saam met die oorblywende fyn groen korrels dagga inglip in die vou tussen die bladsye afgestaan aan
| |
| |
Riversdal en Riviersonderend. Dan lig hy die boek op en laat die mengsel afgly tot in die Rizla. As hy die gomstrokie natlek, glimlag hy effens, ingenome dat hy dit nog nie afgeleer het om 'n netjiese joint te rol nie. Die jare se moer. En die bure s'n ook.
Sy lê al in die bed, die boek half onder die duvet ingeskuif. Sy kyk nie op as hy inkom nie. As hy langs haar op die bed neersak, sug sy effens geïrriteerd. Hy weet dis hierdie irritasie wat hy uitgelok het as 'n soort regverdiging, en hy neem homself 'n klein bietjie kwalik daarvoor. Nietemin gaan hy voort: ‘Die reën het opgehou, ek gaan 'n entjie met die hond stap.’
Sy kom effens orent. ‘Wat?’
‘Ek is lus vir 'n bietjie vars lug. Ek gaan 'n ent stap. Ek's netnou terug.’
‘Jy kan my nie alleen los nie. Ek wil nie alleen hier bly nie. Dis in die middel van die nag, en dit is boonop yskoud ook. Vir wat moet jy nou buitentoe foeter?’
‘Goed, ek sal die hond hier by jou los. Ek sal nie lank wees nie. Slaap nou.’
‘Kobus...’
Hy druk 'n agterkant van 'n vinger teen haar wang en staan op.
Hy moet sorg dat hy ver genoeg is sodat niemand die rook kan ruik nie, vermaan hy homself. Kan jy jou die skandaal indink? Die buurt is al doodstil, nes elke ander aand ná tien, maar hy maak seker. Eers as hy 'n goeie ent weg van die huise is, leun hy teen 'n boom en haal die joint uit sy sak uit. Die onwettigheid van dit alles laat sy maag reeds opgewonde draai voordat hy nog die vuurhoutjie getrek het. Hoe voel dit nou weer? Hy vat net drie diep trekke, dan nip hy dit versigtig teen die stam. Eers kyk hoe dit my slaan, vermaan hy homself, dis nie vir oorboord gaan nie. Maar as die eerste golwe van onder sy knieë af begin opstoot, laat vaar hy die versigtigheid. Hy steek weer aan en rook totdat dit sy vinger brand. Nou is dit 'n kwessie van 'n minuut of
| |
| |
wat, weet hy, voor dit hom soos 'n muil gaan skop. Dit was 'n tydjie, hy is uit oefening uit. Hy stap vinnig om bo-op die kruin van die heuwel te kom, en kort-kort gly sy voete oor die nat kleigrond. Aan die oorkant van die boord kan hy die buitelyne van die huise teen die naglug uitmaak, en net in een of twee van hulle brand daar nog 'n kamerlig. Dis donker om hom, een of twee keer stamp hy sy voet teen iets, maar hy voel dit skaars. As hy op 'n kol tot by sy enkels wegsak in 'n plas modder, vloek hy nie eers nie, mik net vir die heuwel. Hy maak dit betyds. As hy gaan sit op die nat grond voel hy die vlae in hom opstoot, die bloed ruis in sy kop, sy maag kriewel effens van die gebruiklike paniekerigheid, maar hy haal diep asem en ontspan. Hy sal nie lank hier sit nie, belowe hy homself, hy wil nie hê Hannelie moet bekommerd raak nie. Hy sal netnou weer terugkeer na sy plek langs haar in die bed, hy sal haar vashou en agter haar rug aan die slaap raak. Netnou, netnou, hy belowe. Soos die trip hom vat, sak hy agteroor en laat sy kop slap raak. Maar hy maak nie sy oë toe nie. Hy kyk verby die dakke van die huise, deur die mik van die lukwartboom. Die reënwolke het effens oopgetrek, en sy sig is verbasend helder. Soos 'n verspieder na 'n vreemde land staar hy na die horison, waar hy onderkant die hangende wolke die stadsliggies kan sien swem in die vogtige swart asem van die nag.
Uit: Aan die ander kant van die stad, Kaapstad: Human & Rousseau, 2003
Aan die ander kant van die stad is de tweede verhalenbundel van Herman Wasserman (1969). Hij observeert het leven in de stadsjungle, een milieu waar menselijke contacten nooit duurzaam zijn. Wassermans verhalen worden gekenmerkt door humor en mededogen. De schrijver registreert wat het betekent als blanke te leven en te overleven in het nieuwe Zuid-Afrika, maar blijft daarbij uiteindelijk optimist. Zuid-Afrika is, ondanks alles, nog steeds de Kaap van Goede Hoop.
|
-
-
[tekstkritische noot]aangeklam: dronken
-
-
[tekstkritische noot]naeltjie: navel
-
-
[tekstkritische noot]nuwe ontwikkeling: bouwproject - grĂȘnd gewees moet word: indruk gemaakt moet worden - toonhuise: huizen die men kan bezichtigen - tannie: oudere vrouw - stoep: terras - oor en oor: telkens weer - robot: stoplicht - agent: makelaar
-
-
[tekstkritische noot]peerboord: boomgaard met perenbomen - skemerkelkies: drankje in de vooravond - flieks: films - banggat: angsthaas - Bolandse/ die Boland: streek rond Stellenbosch
-
-
[tekstkritische noot]e-pos: e-mail - muurbal: squash - kerrie: curry - tjalies: omslagdoek - bros: broos - damme: waterreservoirs - lukwartboom: Japanse mispel - korrel: mikt - mik: hoek van stam en tak - doer in die verte: heel in de verte
-
-
[tekstkritische noot]besigheid: kantoor, zaak - amper: bijna
-
-
[tekstkritische noot]aandelikse: avondlijke (van elke avond) - kierie: wandelstok - moerse: ontzettend grote - kapel: cobra
-
-
[tekstkritische noot]piksoen: vluchtige zoen - dagga: cannabis - saampiekel: bij zich heeft
-
-
[tekstkritische noot]die jare se moer: leeftijd, daar heb ik lak aan - buitentoe foeter: naar buiten gaan - oorboord gaan: helemaal stoned worden
-
-
[tekstkritische noot]muil: muilezel - boord: boomgaard
|