| |
| |
| |
| |
Tandeka
Eben Venter
Veertig jaar het Tandeka Radebe en haar mense op die plaas gebly. Haar kieste is vet, wie sal haar jare kan bymekaartel? Voor haar oë het die Oubaas en die Oumies grys geword. Stadig ook. Maar nou is daar 'n ander ding. Die Oubaas wil Beskuitfontein verkoop.
Dis nie 'n ding wat vir hulle werksmense vertel is nie, hoekom sal die Oubaas? Maar hulle het dit geweet. Groot karre het voor die hek na die jaart gestop. Wit mans en wit vroue met mooi klere het uitgeklim. Partykeer het hulle 'n taal gepraat wat nie Afrikaans of Engels was nie. Vuyo, die man wat veertig jaar al na die skaap kyk, het die hek vir een van die karre gaan oopmaak.
‘Kom die Baas koop?’ vra hy sommer. Toe knik die een agter die stuurwiel sy kop. Vuyo het daai aand kom sê die man was sommer nog jonk, maar sy kop silwer. Van die jongetjies kon dit nie verstaan nie. En sy vrou ook, sê Vepi, sy was goud. Uit die sak op haar skoot kom vyf rand na Vuyo toe.
Van toe af het hulle geweet dat hulle reg was. Hulle bly al té lank op die plaas dat dinge vir hulle kan wegkruip. Die wit mense kon mos nog nooit iets wegsteek nie.
Die Oumies kom staan by Tandeka. Sy sit op die kombuistrap agter die groot huis, enemmelskotteltjie met krummelpap op haar skoot. Tandeka kyk op na die Oumies se oë. Die Oumies se oë is soos water wat die son vang.
| |
| |
‘Tandeka, die Baas en ek het vir Beskuitfontein in die mark gesit. Ons moet verkoop. Daar is niemand wat kan kom oorvat nie. Die Baas en ek word nie jonger nie. En daar's die helle wat so moor en doodslaan. Ons gaan baie huil as ons van hierdie plaas moet weggaan. Van julle af.’
Tandeka luister, maar sy weet klaar. Wat haar omkrap, is dat die Oubaas en die Oumies hulle almal gaan vergeet hierso op Beskuitfontein.
Vuyo het gesê nee, so maklik is dit nie. Maar hy weet nie hoekom hy só sê nie. Hy sê ook nie waarheen hulle moet gaan as hulle hier loop nie. Hulle swart mense kan mos nou maak soos hulle wil. Bly waar hulle wil. Maar ander plekke het nie werk nie. Die werk is op.
Vuyo is die man wat voor die Radebes hierso was, hy het al klaar op Beskuitfontein na die skaap gekyk toe Tandeka daar aankom. Sy was nog intombi. Vuyo lyk jonger as Tandeka, maar dit is nie so nie. Vuyo is die man wat voel hy's nooit beloon vir sy werk met die skaap nie. Sy goeie hand met die lammerooie, met die klas van die stoetramme, is nooit raakgesien nie. As sy weer kyk, is Vuyo kwaad.
‘Wanneer, Miesies?’ vra Tandeka en kyk op na die wit vrou. Sy sal nie haar pap vanoggend klaar eet nie.
‘Ek kan nie sê nie, Tandeka, so iets kan mos vreeslik lank vat.’ Die boerboel kom aangedraf, sit 'n voorpoot op die trap, loer na die pap en melk in die skotteltjie, op na sy miesies. Sy sit haar hand op die groot kop.
‘Die Mies en die Baas moet ons nie weggooi nie.’
‘Jy weet mos ons sal julle nooit weggooi nie, Tandeka. Jy en Notemps is soos my susters.’ Notemps maak die huis skoon, partykeer ook die blombeddings, boude in die lug.
Tandeka glimlag, grawe 'n bolletjie mieliemeel uit haar kiestand. Dié ding van die susters, dink sy. Voor haar gryp 'n warrelwind papiertjies en stokkies, spring links na die watertenk toe, dan oorkant na die hekkie wat mens by die jaart uitvat. Dis lek- | |
| |
ker in 'n sonkolletjie, maar in die skuur waar sy gaan hout haal vir die Aga en in die rantjies waar sy gaan houtmaak vir haar huis, kan Augustusmaand haar uittrek en alleen los.
Dié ding van die susters. Nie dat die Oubaas en die Oumies hulle ooit soos honde behandel het nie. Die geld was maar altyd skraps, maar die meel en tee en suiker, die rantsoene, dié het altyd gekom. En elke maand 'n skaap vir almal daar teen die rantjie. Kyk, daar is plase waar dit slegter gaan. Daar is plase waar die vensters van die witmenshuis flenters gegooi is. Daar is plase waar die werk vir altyd opgedroog het. Sy kan huil, sy wat Tandeka is.
Vóór 1994 het die Mies al met die ding van die susters gekom. Maar eers daarna, toe Mandela op hulle swart-en-wit televisie voor die groot geboue koning geword het, eers toe het die Oumies sommer vir haar en Notemps om die skouers gevat wanneer sy van die see af kom. Sy ís lief vir die Oumies.
‘Die Mies sal my nie wegsmyt nie,’ sê sy weer.
‘Tandeka, hoe's jou hart dan vandag? Ek en die Oubaas het mos vir julle daai huisies gekoop in die dorp. Julle name is almal op die lys vir 'n huis. Ek en die Baas sal julle mos nooit weggooi nie. Gooi jy jou kinders weg, Tandeka?’
Maar dis die meel en die suiker en die ou-ooivleis. Waar gaan dit vandaan kom as hulle eers in die dorp loop bly? En die hout?
‘Ons het so baie, baie jare op Beskuitfontein gebly, Mies. Ons het al julle kinders voor ons gesien. Jou bybie, Kosie, hy het kom sê: Tandeka, ek kom boer by Beskuitfontein. Ek kom sorg vir julle almal. Moenie worrie nie.’
Die wit vrou maak haar mond met haar hand toe en kyk skeef in die verte. ‘Jy moenie so praat nie, Tandeka.’
‘Ai tog, Mies, ai toggie. Julle Kosie was 'n goeie kind. Nooit 'n skerp woord na ons kant toe nie. Ons het almal gewens hy moet hier kom bly. Vuyo ook.’
Tandeka dink aan haar eie pa en ma, stokoud nou, wat agter- | |
| |
gebly het op die plaas van die Saaltjiebaas. Nie op die plaas so by die jaart nie, maar op 'n veepos. Ver weg van vars water. Hulle het siek geword. Sy het langs die Oumies ingery dorp toe. Met die Raad gaan praat. Daar sit nou swart mense agter tafels. Hulle kan haar taal verstaan. Sy weet hulle kan meer help as die mense wat altyd agter die tafels gesit het.
Sy vra vir 'n woonplek vir haar ou pa en haar ou ma. Ná maande kry sy 'n antwoord. Daar is 'n huis naby die Rooistoor. Hulle kan daar 'n kamer kry. Oumies gaan op 'n dag na die huis, sy hoor eers later daarvan. Die Oumies vat 'n ou jas en truie. Sy vat brood, melk, vleisbene vir haar ou pa en ma. Die Oumies se hart, ai.
Die vrou wil terugloop die huis in, haar naaldwerk in die sonkamer gaan vat. Tandeka kan dit sien. Sy wil haar daar by haar op die trap hou. Daar is nog iets.
‘Hoe sal ons in die dorp bly, Mies? Daar's nie genoeg werk vir ons plaasmense ook nie. Die dorpsmense het klaar al die werk gevat.’ Die township het vreeslik gespring, gespring. Die nuwe huise kruip al teen die berg op. Waar kom al die mense vandaan wat hier by die dorp kom bly het? Sy ontstel haarself, sit die pap neer. Die boerboel kan maar vreet. Sy is ontsteld. ‘Hoe sal ons nou maak, Mies?’
‘Tandeka, maar wat vra jy vandag alles vir my? Elke mens maak mos maar sy eie lewe. Julle sal regkom, jy sal sien.’
‘Hoe kan ons regkom, Mies? Daar's mos nie spene wat saans melk kan gee vir ons mense nie.’
‘Jy sal vir Mandela moet loop vra, Tandeka,’ maar voel skielik skaam dat sy dit gesê het. En tog. Sy het haar idees oor die nuwe regering.
‘Mandela wíl vir ons gee, Mies. Maar daar is niks nie. Ons gaan swaarkry in die dorp. Daar is nie hout nie.’
Die vrou van die plaas dink nou aan die plaas wat duskant die dorp lê. Sy naam was Helvetia. 'n Switser het in die dertigerjare
| |
| |
die herewoning gebou. Teen die hoë plafon van die eetkamer, 'n saal byna, het spekvet engeltjies tussen wolke baljaar. Die ou Switser het bloekoms en denne aangeplant, later het hulle hoër as die huis getroon, in die somer lieflike kolle teen die wit gewels gegooi. O, sy was lief vir daardie huis. As sy haar voet op Helvetia se werf neergesit het, het sy opgetoë gevoel. Selfs al het die moeilikheid toe reeds begin. Vat daai Pôkkos, het die ou Switser sy rifrûe opgeja. Dit was die Poqo-beweging. Hulle wou die ganse melkvoorraad van elke dorp vergiftig. Maar daardie plaas, daardie Helvetia. Dat so 'n plaaswoning in hulle distrik gebou kon word, was 'n gawe. Dit was die hand van die Here oor die ou man.
Maar die laaste jaar of wat - ag, dit het gebeur voor jy jou oë kon uitvee - het die township tot teen Helvetia aangekruip. Vandag staan nog net een gewel. Die bome, almal, elke liewe een van die pragspesies, is tot op die grond afgesaag. Vuurmaakhout. Hulle sal nog alles gedaan maak. Die hele land. Sy steek haar sakdoek terug en met geweld pluk sy die hond aan sy halsband nader om teen haar heup te kom staan.
‘In die winter kry die mense die swaarste,’ sê Tandeka. ‘Hulle weet nie meer waar om hout te kry nie. Die besembos op die dorp se berg is lankal klaar.’
‘Mandela het dan gesê almal gaan elektrisiteit hê. Julle huisies wat ek en die Baas vir julle gekoop het, gaan elektrisiteit hê, en 'n spoeltoilet. Dis hoe ek dit verstaan het.’ Haar woorde weerklink skerp. Die mense moet ook maar soms hoor wat hulle nie wil nie.
Tandeka druk op haar knie en beur orent. Sy bly egter op die grond onder die trap staan en loer na die Mies. Vonk in die blou oë. Daar is nie 'n ding by haar mies wat sy nog nie gesien het nie. Sy is nooit niks gespaar nie.
| |
| |
‘Beskuitfontein sal mooi verkoop, Mies. Die Baas het altyd goed na sy veld gekyk. Julle sal mooi loop, Mies.’ Aan tafel, nes sy die volgelaaide skinkbord inbring, het sy die Oubaas en die Oumies al sien tande maak. Sy het gesê, nee, sy weet wat is daai ding wat hulle baklei. Hulle praat praat praat. Te vinnig. Sy het die kinders almal sien huil, almal saam as hulle pa en ma tande maak. Niks is haar gespaar nie. Veertig jaar.
‘Ons hoop so, Tandeka. Ons het hard gewerk. Hier was niks, nie 'n enkele boom of boorgat of draad toe ons hier kom bly het nie. Jy was 'n jong vrou.’ Byna sê sy iets oor haar borste daai tyd, want sy wil die gesprek wegstuur, ligter maak.
‘Kleinbaas Cliffie en die kleinmies Christa sal lekker kry as Beskuitfontein eers weg is.’ Dis haar laaste steek. Sy weet die wit vrou besef nou dat sy van die geld praat wat die verkopery gaan bring. Beskuitfontein wat sy en die Oumies ken, word nou 'n ander ding. Geld. Maar jy kan nie op geld bly soos op 'n plaas met 'n werf nie. En die geld gaan anderkant toe, na die twee kinders wat agtergebly het. Dis die naaste wat Tandeka daaraan kan kom om te sê: ons het veertig jaar hier gewerk, die oes van hierdie Beskuitfontein is ons s'n ook.
‘Jy praat mos nou van dinge waarvan jy niks weet nie, Tandeka. Dit het ook niks met jou uit te waai nie. Dis nie jou besigheid nie.’
Vonke. Dis Vuyo se dinge dié, dit vermoed sy en haar man al lank. Sy hans streke sypel deur na die ander. Voor haar was Tandeka nog nooit so astrant nie. Sy was altyd die slimste hier in haar huis, dié Tandeka. Die resep van haar lamsmarinade, van pannekoek, papierdun en deurweek, moes sy net een keer gewys het. Maar nou gaan sy werklik te ver. Sy weet nie wat Jurgie, die Duitsertjie wat van Beskuitfontein 'n wildplaas wil maak nadat die koop afgehandel is, met Tandeka-hulle gaan maak nie. Sy gee ook eintlik nie om nie. Die meeste sal seker na hulle huisies op die dorp moet trek. Haar hart gaan uit na hulle, maar Tandeka moet darem nie op háár tone kom trap nie.
| |
| |
‘Jy moet opskud met die kos, Tandeka. Teen sesuur is die mans hier, ons sal nie kan wag nie. Die patats...’
‘Watter mans, Mies?’
‘Kyk, Tandeka, jy't nou alles vir my gesê wat jy op jou hart gehad het. Ek kan baie dinge vir jou ook sê, maar ek sal my bek hou. Hierdie land behoort nou aan julle en julle kan daarmee maak wat julle wil, want ek sal gelukkig nie meer hier wees om dit te aanskou nie. Maar wat ek en die Baas hier op Beskuitfontein gebou het, is nie julle s'n nie. Jy moet dit baie mooi begryp. Ek het al dikwels vir jou gesê jy en Notemps, julle is soos my eie susters vir my. En ek het respek vir jou. Die baas ook. Hy groet jou met die hand. Maar só, soos jy nou gepraat het, praat jy nie weer met my nie. Allamagtig.’ Sy swaai om en stap met die hond binnetoe.
Die verwarmer is aan, die sonkamer oorverhit. Sy gaan sit, trek haar breiwerk nader, net nader, want sy laat die geblomde breisak net so by haar voete staan. Sy kyk oor die geel grasperk na buite, vou haar hande, byt haar onderlip.
Die Here het Kosie weggevat voordat sy hande hard geword het. Sy sal swaar hier weggaan. Haar hele lewe lê hier. Watter wilger op hierdie werf het sy nie met emmers water aan die lewe gehou in hoeveel droogtes nie? Sy't haar al probeer voorberei op die dag waarop hulle die laaste keer hier sal wegry, maar niks help nie. Haar hand en hart raak aan die bewe. Dis soos om weer 'n kind af te gee.
Dit was laatmiddag toe sy die heel eerste keer hier op Beskuitfontein uit 'n motor geklim het. Stowwerig. Die fondasies van hulle huis was reeds gegrawe. Karel het nie op hom laat wag nie. Sy durf het haar aangetrek. Later het dit obsessioneel geword. En wou sy weghol.
Haar man hou die deur van die Chev vir haar oop en hulle loop oor die rooi grond na wat hulle huis sou word. Sy arm om haar lyf. Die son wil net-net sak, voëls in die verte, want daar was g'n boom op die werf nie. Toe, 'n stofstreep deur die veld na hulle toe. 'n gmc-bakkie jaag tot byna bo-op hulle en slaan brieke aan
| |
| |
in wolke fynstof wat saam aangejaag kom. 'n Jong man met 'n 303 in sy hand spring uit, slaan die deur toe.
‘Karel,’ praat hy uitasem met haar man, ‘ek soek 'n los vreksel wat hier na jou gehol het.’ Spoeg. Sweet. ‘Dié kaffer skiet ek nog vanaand vrek.’
Dit was gewoon om in daardie jare, en selfs lank daarna, nog só na Tandeka en haar mense te verwys. Maar die manier waarop die ongeskeerde mannetjie dit gedoen het, die punte van sy ore bloedrooi, het haar omgekrap en afgestoot. Eers drie maande later is daar tyd gemaak om haar aan Saaltjie voor te stel. Sy kon sy plat voorkop nie voor haar oë verdra nie.
Jare der jare moes sy baklei voordat die mans hier geleer het om haar te respekteer. En nou nog, ag, wat help dit tog om oor so 'n hopelose saak te tob. Toe skielik, Kosie, haar jongste, morsdood in 'n motorongeluk. Hy't nie bestuur nie. Sy's nie een vir selfbejammering nie, maar die geel grasperk anderkant die sonkamer se vensters swem voor haar oë.
Dan kom sy regop, betrap haarself met byna dieselfde ding, weer, in haar gedagte: Kosie se pofferhandjies op sy driewiel se stuur hier op die einste grasperk. Dit sal nie deug nie, sy mag haar nie in pyn toedraai nie. Sy sai 'n rukkie gaan lê. Om Kosie nie te vergeet nie, maar weggebêre te hou. Sy moet haarself daarby neerlê.
Tandeka sny 'n groot stuk botter af, dit is sag van staan in die kombuis, en sit die reuseklont op die patats. Sy draai 'n botteltjie oop en haar hand sukkel om die kaneelstokkie raak te vat. Sy wou nie die Mies kwaad maak nie. Sy wou net sê hoe sy is, want sy weet hulle mag maar. Tog weet sy nie hoe hulle nou ánders moet wees in hierdie land vandat een van haar eie mense koning geword het nie. Annerdag in die dorp sit sy 'n bietjie voor die Engelsman se winkel, haar goed diep onder die groen bank ingedruk teen die rondlopers. Sy vertel van haar Oumies en haar Oubaas se ding met die plaas. Toe slaan die een langsaan met 'n vinger by haar kop: is jy geza om nou nog Baas en Miesies te sê?
| |
| |
Maar Tandeka weet hoe lyk 'n ooi as hy giftulp gevreet het, hoe hy beginne draai, hom disnis loop in die draad, mal tot in sy groen binnegoed toe. Sy's nie daai ooi nie. Die mense van die dorp is anders, hulle verstaan niks, hulle kan maar praat soos hulle wil.
Sy buk swaar om die Aga oop te maak, die pan met die boud loodswaar. Op Beskuitfontein is die Oubaas se lammers soos ooie. Sy draai die boud om, steun en drup bruin vetwater oor sy wang. Klein Cliffie en Christa kry al Beskuitfontein se geld, maar hulle het nooit 'n vinger op hierdie plaas verroer nie, net karretjies gespeel, en poppe.
As sy vanaand alleen sit met haar beker koffie, drie lepels suiker, sal sy vir haarself sê dis reg so. Reg so.
Uit Twaalf, Kaapstad: Queillerie, 2000.
Eben Venter (1954) is een kind van de Karoo, een onherbergzame streek in het Kaapse binnenland. Vooral met de romans Foxtrot van die vleiseters (1993) en Ek stamel ek sterwe (1996) heeft hij zijn literaire reputatie gevestigd. Zie ook hoofdstuk 3.
|
-
-
[tekstkritische noot]plaas: boerderij - haar kieste is vet: ze is weldoorvoed, ze heeft het goed - Oubaas en Oumies: aanspreekvormen van de blanke boer en zijn vrouw gebruikt door de zwarte arbeiders - jaart: erf- enemmel: van email - krummelpap: pap van maïsmeel
-
-
[tekstkritische noot]die helle: de duivels - omkrap: ontstelt, ergert - intombi: meisje - boerboel: buldog
-
-
[tekstkritische noot]Aga: bepaald soort fornuis - rantjies: heuvels - uittrek en alleen los: koud en miserabel zijn - skraps: schaars - flenters: stuk - moenie worry nie: je moet niet bezorgd zijn
-
-
[tekstkritische noot]veepos: plaats, zonder voorzieningen, waar het vee opgepast wordt - Raad: lokale bestuur - gespring: gegroeid - duskant: aan deze kant van
-
-
[tekstkritische noot]het... baljaar: speelden uitbundig - bloekoms: eucalyptusbomen - werf: erf- rifrû: Rhodesische draadhaarhonden - Poqo-beweging: militaire vleugel van het Pan Africanist Congress - gedaan maak: vernietigen, opgebruiken - beur orent: moeizaam recht komen
-
-
[tekstkritische noot]mooi loop: het goed hebben - nes: juist wanneer - tande maak: ruzie maken - hans streke: opstandigheid - astrant: vrijpostig - wildplaas: boerderij met wilde dieren
-
-
[tekstkritische noot]patats: zoete aardappelen - swaar: met verdriet - bakkie: kleine auto met laadbak - brieke: remmen
-
-
[tekstkritische noot]'n los vreksel: een alleenlopende zwarte schelm - pofferhandjies: opgezwollen handjes - die einste grasperk: op precies dit grasperk - geza: gek
-
-
[tekstkritische noot]giftulp: bepaalde giftige bloem (geen tulp) - disnis: te barsten
|