| |
| |
| |
| |
Kompos
H.J. Pieterse
Teen die tyd dat hulle stad toe trek, het Gawie en Mariana reeds aanvaar dat een, of beide van hulle, onvrugbaar is.
Ná vyftien jaar se getroude lewe, hormoonbehandelings en verskeie boererate, het hulle moed opgegee om hulle kant van die stamboom te kan voortsit. 'n Miskraam vroeg in hulle huwelik het die hoop op 'n moontlike erfgenaam lewendig gehou maar dit was die laaste teken. Met verloop van jare het dit hulle al hoe minder gepla; die plaaslewe het immers meer as genoeg van hulle tyd in beslag geneem.
Toe die plaasaanvalle ook in hulle distrik begin toeneem, was Mariana heimlik dankbaar dat hulle nie kinders het om ook te moet beskerm bo en behalwe die huis en implemente nie.
Die soveelste onopgeloste aanval, dié keer op 'n buurplaas, was die laaste strooi. Die buurman is vermoor en sy sewentigjarige vrou aangerand en verkrag.
Gawie het sy graadsertifikate opgediep en begin werk soek in die stad. Ná maande se onsuksesvolle aansoeke was hy gelukkig om 'n pos te kry by 'n versekeringsmaatskappy. Hulle het hul trek gepak, vir 'n laaste keer oor die stukkie grond geloop en van die werkers afskeid geneem.
Ja, julle bliksems, het Gawie gedink terwyl hy en Mariana die werkers se hande skud, nou moet julle maar oorvat en opdonder. Hy kon die uitdrukking op die meeste van die werkers se gesigte nie peil nie.
| |
| |
Van tyd tot tyd sou hulle vir 'n naweek teruggaan platteland toe, maar dinge was nie meer dieselfde nie. Rondom al die dorpies op pad na hulle voormalige tuisdorp het die plakkerskampe onbeheers gestoel. Die landskap het al hoe kaler begin lyk. ‘Oorbeweiding, brand... wat weet die lot wat boerdery...’ sou Gawie mompel.
Mariana het opgewek na die veldbrande weerskant die pad gekyk. ‘Komaan, hulle brandmos alles afvoor die somer kom. Dis deel van hulle kultuur; om die natuur te help, nie waar nie?’
‘Al kultuur wat hulle nou ken, is vernietiging,’ het Gawie stuurs geantwoord.’ Wat verwag jy van mense wat steeds lewende honde saam met hul dooies begrawe? Moenie vir my probeer vertel die brande is beplan nie. Hulle het min of meer alles gekry wat hulle wou gehad het, nou moet hulle maar self opsnork.’
Hulle voorstedelike huis het 'n hoë muur om die erf, sekuriteitsligte en 'n afstandbeheerde hek. Soggens sien Mariana vir Gawie by die hek af en trek haar dan terug in die huis.
Sy pak alles in die huis reg, kyk TV en lees. Stadigaan tree die verveling in. Die bure het nog nie moeite gedoen om te kom kennis maak nie en sy voel kriewelings in haar opstoot.
Eers ná 'n paar weke begin sy haar aandag op die tuin vestig. Die vorige eienaar het nie juis groen vingers gehad nie en daar is baie werk voordat hulle tuin sal kan kompeteer met die res van die buurt se netjiese grasperke en gesnoeide heinings en bome. Die bome pla haar die meeste; daar is min inheemse plantegroei.
Toe die soveelste swart man een oggend die hekklokkie lui, besluit Mariana om met hom te gaan praat. Van agter die staalhek vra sy die jongerige man wat hy wil hê.
‘Ek is Abraham Mahlangu, mevrou,’ stel die man hom voor. ‘Ek sien u tuin is deurmekaar. Ek werk goed, ek sal hom mooi regkry, betyds vir die lente.’
Mariana is verbaas oor die man se beleefde aanspreekvorm.
| |
| |
‘Ja... wel... jy sal eers met meneer Fourie moet praat,’ begin sy.
‘Ek sal môre vroeg weer kom, mevrou. Wat is u naam?’
‘Mariana... mevrou Fourie. Het jy enige verwysings?’
Die man haal 'n paar stukke papier uit sy baadjiesak en gee dit vir haar aan. Sy lees die getuigskrifte van 'n paar werkgewers. ‘Kom weer môre.’
Die aand vertel sy vir Gawie van die ontmoeting en stel voor dat hulle 'n tuinhulp in diens neem. Gawie sug terwyl hy na haar luister. ‘Ek het regtig gedink ons sal op ons eie hier kan regkom... ek wil nie mense hierheen lok nie.’
‘Kyk hoe lyk die tuin. Ek kan nie alles self uitkap nie.’
Gawie dink 'n rukkie lank, en sê dan: ‘OK, ek sal môre met die knaap praat. Hoop nie dis nog 'n chancer nie. Ek sien hulle elke dag hier langs die strate afloop vir kwaadgeld.’
‘Hy het 'n oop gesig. Besluit jy self.’
Die volgende môre sit Abraham Mahlangu in die oprit en wag. Gawie en Mariana groet hom en Gawie kyk ook na sy verwysings.
‘Hmm. Lyk of jy jou werk ken,’ sê Gawie.
‘Meneer kan gerus gaan kyk na die ander tuine waar ek gewerk het,’ antwoord Abraham.
Hulle gesels 'n rukkie en Gawie stel Abraham aan as tuinman.
Die eerste dag hou Mariana hom dop terwyl hy die gras sny en die plante wat deur die ryp gebrand is, uithaal. Hy werk vinnig en netjies. Wanneer sy vir hom brood en tee bring, bedank hy haar, eet en drink vinnig en werk verder. Hy kom groet Mariana aan die einde van die dag en belowe om die Saterdag weer te kom.
Soos sy vrou, is Gawie beïndruk met Abraham se resultate. ‘Die man ken sy storie; kyk hoe mooi lyk die beddings reeds, reg vir die lenteplantasie,’ sê hy toe hulle deur die tuin stap. ‘Volgende keer moet hy hier klaar maak, dan kan hy die dooie plante en gras inspit vir kompos.’
Die Saterdag is Abraham vroeg op sy pos. Hy maak die snoei- | |
| |
werk klaar en grawe 'n komposgat in die agterste hoek van die tuin. Gawie pak die motorhuis reg en Mariana gaan kyk hoe Abraham laag vir laag fynstamp in die gat.
‘Ek hou van die reuk,’ sê sy.
Abraham kyk vinnig na haar en glimlag. ‘Mens moet kompos hê, dis altyd goed,’ sê hy. ‘Mevrou sal sien hoe dit later in die beddings werk. Ons plant die saad net goed en op die regte tyd, die natuur sorg verder vir alles.’
Mariana frons. ‘Ek ken darem kompos. Ons het lank met die grond gewerk,’ antwoord sy.
‘Waar het mevrou-hulle gewoon?’
‘In Mpumalanga, naby Machadodorp. Weet jy waar dit is?’
‘Ek kom ook van Mpumalanga af, van Groblersdal. Ek ken die wêreld daar goed. Machadodorp ook. Dit was mooi daar toe ek jonk was, voordat ons verskuif is. Nou is daar te min aan die gang.’
‘Waar het jy so goed Afrikaans leer praat, Abraham?’
‘Op skool, mevrou. Ek het nog altyd vir Afrikaners ook gewerk. Hulle is ten minste reguit mense.’ Hy glimlag weer.
‘Dan sien ons jou volgende week?’
‘Tot volgende week, mevrou.’
Deur die weke sien Mariana en Gawie hoe die tuin omvorm word tot 'n pragstuk. Die rose, dahlias, lelies, impatiens en bougainvillea kom goed aan. Die voëls keer terug en Mariana verlustig haar daarin om in die middae deur die erf te loop en die geure in te snuif. Nog net die bome wat pla, dink sy. Sy gesels af en toe met Abraham, vra hom uit oor sy gesin wat nog op die platteland woon.
Aan die einde van elke maand betaal Gawie Abraham sy loon en sit 'n paar rand by om sy waardering te betoon. ‘Ek moet sê, die knaap is beter as wat ek gedink het,’ sê hy aan Mariana. ‘Ek vertrou nog nie een van hulle nie, maar 'n mens veralgemeen maklik in hierdie land.’
| |
| |
‘Hy het regtig groen vingers,’ sê sy.
Mariana besoek 'n spesialis en hy verseker haar dat sy wel een of ander tyd kan swanger word. Hy skryf 'n verdere hormoonbehandeling voor. Sy wonder dikwels daaroor terwyl sy die beddings en grasperk natlei. Dinge moet maar hulle gang gaan, ons doen wat ons kan, dink sy.
Desembermaand vra Abraham 'n paar dae verlof. Mariana gee hom komberse, ou klere, eetgoed en koeldrank om vir sy vrou en kinders saam te neem.
‘Baie dankie, mevrou; julle is goeie mense.’
‘Noem my asseblief Mariana, Abraham,’ vra sy en voel hoe sy bloos.
Hy kyk eers weg, sê dan: ‘Goed, Mariana, dankie. Ek sien julle weer.’
Op Kersdag daag Abraham en sy gesin by die huis op. Gawie gesels met die kinders op Sotho en Mariana deel lekkernye uit die kombuis uit.
‘Julie moet mooi loop,’ groet Gawie hulle. ‘Volgende jaar doen ons die bome.’
In Januariemaand vra Mariana vir Abraham om al die uitheemse bome op die erf te begin uitkap. ‘Hulle moet álmal uit, ook die witstinkhout,’ sê sy.
‘Ja, die skaduwee is nie goed vir die blomme nie, Mariana, maar die witstinkhout is darem maar mooi...’
‘Alles moet uit. As ons skoongemaak het, kan ons besluit wat om nuut te plant.’
Sy kyk hoe Abraham boom vir boom afsaag en die stompe met organiese gif behandel. Waar sy kan, sit sy hand by wanneer hy die takke opsaag en blare in die komposgat inwerk.
Gawie word al hoe meer rondgestuur vir sy werk. Wanneer hy naweke terug is, lê hulle lank en gesels oor die politiek. ‘Ek dink al hoe meer dis 'n bedekte seën dat ons nie 'n kind het nie,’ dink hy een aand hardop. ‘Voortslepende geweld, voortslepende geweld... dis al deuntjie wat almal deesdae ken.’
| |
| |
‘Dit pla my nie eintlik meer nie,’ antwoord sy. ‘Die tuin hou my goed besig. Ek en Abraham het groot planne; jy gaan die plek nie herken oor 'n jaar of so nie.’
‘Jy voel OK met Abraham so gereeld in die erf?’
‘Ja, hy is baie ordentlik.’
Hulle hernu Abraham se kontrak en hy kom drie keer per week werk. Mariana verwonder haar steeds aan sy sekure vat, byna 'n streelbeweging oor die plante, oor hoe hy, wanneer hy dink sy nie kyk nie, met die plante praat. Hy het mooi arms, dink sy. Saam plant hulle 'n keiappel teen die agterste heining. Hier kom niks of niemand deur nie, dink sy wanneer sy die digte bos deur die weke sien opskiet.
Gawie skrik wakker toe die flitslig op hom skyn. Hy sit verward regop en sien twee mans met klapmusse op voor hulle bed staan. Hy wil aan Mariana vat, maar die een man beduie dat hy moet lê.
‘Lat ons jou hande sien, lat ons hulle sien!’ sê die man. Gawie lê terug en laat sy hande op die duvet rus. Mariana het ook wakker geword en kyk met groot oë na hom.
‘Jou gun,’ vra die man.
‘Ek het nie 'n wapen nie...’ begin hy. Dan tree die tweede man vorentoe en slaan hom met 'n knuppel teen die slaap.
Hy roei deur donker water boontoe, probeer lug kry. Hy probeer skree maar daar is iets in sy mond gedruk. Sy hande is stewig agter sy rug vasgebind en hy voel die koue van die gangvloer. Die sitkamerlig is aan. Hy probeer hom loswoel maar kan net teen die mure vasskop. Iemand praat êrens met Mariana. Die alarmknoppie is te hoog teen die muur, hy kan dit nie bykom nie.
Gawie skuif in die gang af, hoor hoe die stem harder word. Hy kan nie die woorde uitmaak nie; die stem is vriendelik bevelend.
Hy skop homself vorentoe en loer om die hoek van die sitkamer.
‘A, die baas van die plaas!’ sê die een man. ‘Ons het vir jou gewag. Ons maak vannag paartie hier!’
Die sitkamer is 'n gemors van papiere, leë bierbottels en blik- | |
| |
ke. Mariana sit op sy leunstoel, haar mond en oë toegebind met handdoeke, haar arms vasgebind aan die leunings.
Hy probeer 'n klank uitkry, maar hoor homself net steun.
Die een man tree nader en sleep hom tot in die middel van die kamer. ‘Jy lieg toe nie,’ sê hy. ‘Ons kry nie jou gun nie.’ Hy lag. ‘Jy het wragtag nie een nie!’
Gawie pleit met sy oë. ‘Moenie worry nie, watch net, baas,’ sê die man weer, trap op Gawie se rug en skop hom totdat hy op sy sy lê.
Gawie sien hoe die ander man, wat nog nie 'n woord gesê het nie, die tou om Mariana se arms met 'n kombuismes lossny en haar regop druk. Sy is doodstil. Dan draai die man haar om, laat haar teen die stoel staan en skeur haar nagrok met een beweging oop. Sy val skuins teen die stoel, maar die man druk haar weer regop.
Daar is 'n skielike stilte toe al drie mans na Mariana se wit boude kyk. Die prater giggel en sê iets aan die ander man in 'n taal wat Gawie nie verstaan nie.
Die stil man gaan staan agter Mariana, trek sy broek af en voel oor haar lyf. Sy steun benoud en spartel. Die man streel oor haar hare, haar nek, lig die nagrok op en voel tussen haar bene. Toe sy begin wriemel, klap hy haar teen die kop, hou dan haar nek vas. Hy voel verder en sprei haar bene oop.
Toe die man hom in haar indwing, hoor Gawie net 'n gesuis in sy kop. Die prater giggel weer en moedig die ander man aan.
Hy beweeg vinniger en vinniger in haar, pluk haar regop toe sy sywaarts kantel.
‘Kyk mooi, my baas, kyk mooi!’ lag die man langs Gawie en skop hom in die ribbes.
Die man druk Mariana se kop in die kussing in en versnel sy pas.
Gawie voel die man se skoen op sy sy en probeer wegkyk, maar kan nie.
Die man by Mariana se asem hyg. Toe sy rug krom trek, lag die man bokant hom weer hard.
| |
| |
Hoor hy ‘Mariana’ terwyl die man vorentoe ruk en sy vrou om die lyf vasklou?
‘Lê mooi so,’ hoor hy die man bokant hom sê. Dan tref die knuppel hom weer teen die kop.
Abraham werk die laaste gras en blare van die dag in die komposgat in. Die kompos doen sy werk in die beddings, dink hy. Die dinge werk altyd so.
Dinge is goed, al trek Mariana binnekort. Ná Gawie se dood het sy haar heeltemal in die huis teruggetrek. Wanneer Abraham aanmeld vir werk, is die nuwe bome reeds uitgesit om geplant te word: sipresse en eike.
Die polisie het deur die maande 'n paar keer gekom en gegaan, vir hom allerhande vrae gevra. Maar sy tuin lyk onverbeterlik.
Hy trek die reuk van die kompos diep in sy longe in en spit verder. Die graaf stamp teen iets. Hy gaan kry die tuinvurk en lig 'n paar lae gras op.
Die vel kleef nog ligweg om die beentjies van die klein geraamte, die reuk is sterk.
Abraham skrik en sit die vurk neer. Hy kyk lank na die vermolmde liggaampie, raak weer daaraan met die vurk.
Dan stamp hy dit dieper in die gat in. Wat nou in die grond is, moet in die grond bly.
Die vleis word gou deel van alles, dink hy.
Hy stamp die bene fyn, saam met die plantreste en gras, al dieper en dieper in die grond van sy land in.
(Variasie op 'n ou tema)
Uit Ferreira, Jeanette (red.), Kruis en dwars. 37 nuwe stories oor Suid-Afrika, Kaapstad: JL Van Schaik, 2001
Henning Pieterse werd geboren in 1960 in het Nederlandse Wageningen, maar is opgegroeid in Zuid-Afrika. Een paar jaar geleden brak hij als dichter plotseling door met zijn tweede bundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000), en veroverde hij de belangrijkste prijs van de Afri- | |
| |
kaanse literatuur. In 1998 had Pieterse al de verhalenbundel Omdat ons alles is gepubliceerd. De schrijver deinst in deze verhalen voor niets terug. Dit is literatuur als een rauwe hartenkreet, balancerend op de rand van het exhibitionistische, schokkend en aangrijpend. Het verhaal ‘Kompos’ is gesitueerd tegen de achtergrond van de machtswisseling in Zuid-Afrika. De gevolgen van de bewindsovername door een zwarte regering reiken verder dan het teloorgaan van de blanke privileges of van de westerse cultuur. Het geweld wordt voorgesteld als een organisch bestanddeel van de Zuid-Afrikaanse geschiedenis. ‘Kompos’ treedt rechtstreeks in dialoog met Disgrace van Coetzee en Donkermaan van Brink.
|
-
-
[tekstkritische noot]boererate: kruidenmengsels - plaaslewe: leven op de boerderij - implemente: werktuigen - graadsertifikate: diploma's - hul trek gepak: alles ingepakt voor de verhuizing - oorvat en opdonder: de zaak overnemen en in elkaar laten zakken
-
-
[tekstkritische noot]plakkerskampe: gebieden aan de rand van een stad of dorp waar men op eigen houtje primitieve huisjes gebouwd heeft - gestoel: gegroeid - opsnork: zich zien te redden - hekklokkie: bel bij het hek
-
-
[tekstkritische noot]verwysings: referenties - die strate afloop vir kwaadgeld: niets te doen hebben - gesels: praten - hou dop: in de gaten houden, kijken naar
-
-
[tekstkritische noot]voordat ons verskuif is: voordat we verplicht werden elders te gaan wonen
-
-
[tekstkritische noot]natlei: bewateren - komberse: dekens - lĂȘ hulle... en gesels: liggen ze te praten
-
-
[tekstkritische noot]vat: greep - flitslig: zaklantaarn - klapmusse: balaclava's - lat: laat - die baas van die plaas: de heer des huizes
-
-
[tekstkritische noot]wragtag: inderdaad - versnel sypas: verhoogt zijn ritme
|