te maak en uit te kyk nie. Dan hoor hy 'n geweldige slag buite en hoe sy ma-hulle skree. Hy hardloop na die venster en kyk na buite. Die groot peperboom wat vlak voor hul huis staan, is middeldeur geslaan.
‘O, my liebe Jeretjie! Wat het ek gedoen?’ skree hy en hardloop na buite.
In die gietende reën staan baie mense wat kom kyk wat gebeur het. ‘Dis da'em baie snaaks,’ hoor hy sy pa aan een van die grootmense sê, ‘dit wil kompleet lyk offie weer iets vir ons wil sê.’
Jalontie stap stadig na sy pa toe. In sy hand is die koppiespeld met die dooie reeëngoggatjies. ‘Pa, is... issit so lat 'n mens'ie die rooibaadjies moet doodmaak'ie?’ vra hy bewend. Almal kyk verslae na die koppiespeld wat hy omhoog hou.
‘My tjeent, my tjeent, wat het jy gestane maak?’
‘Ek... ek het maar net gespeel, Pa, ek willie moeilikgeit gemaak hettie,’ huil Jalontie. ‘Pa, Pa kan my maar doodslat assie reent net sal ophou.’
‘Nee, mannetjie, vir jou gat ekkie slattie, al issit wat jy kortkom. Jy vat nou daai rooibaadjies en jy ga sit vir hulle een vir een mooi stadig innie water oppie pan.’
‘Oppie pan, Pa? So ver, Pa?’
Sy pa praat sag en stadig: ‘Luister hierso, mannetjie, jy praat'ie nog een keer teë nie. Jy maak soos ek sê en loop sit daai boodskappertjies van !Xthui-Goab innie pan en nêrens anners neer'ie. Verstaan jy vir my? Dis net Godsgluk lattie boom'ie oppie huis geval hettie, anners was ons ammal nou dood. En vir wat? Net oorlat jy nie ore aan jou harspan hettie!’
Jalontie voel hoe iemand hom aan die arm nader trek. Hy kyk om en sien dis oupa Booi. ‘Jy moet nou vidag vir Oupa mooi lyster, my tjeent. Jy moet maak soos jou tatta vir jou gesê het. Innie pan en nêrens anners ga haal jy daai rooibaadjies een vir een van daai koppiespeld af en sit vir hulle stadig innie waters oppie pan neer. Nie vinnig'ie en jy moet hulle ôkkie stane neergooi nie. As jy dit doen, sal !Xthui-Goab eers kwaad wees en dan verspoel ons