| |
| |
| |
| |
Wesenlike werklikheid
Rachelle Greeff
‘Ma, jy raak funny van so alleen wees met jou honde,’ korswel die kinders. ‘Jy sit hier vas in 'n virtual reality van jou eie. Hoekom kom Oujaar Ma nie saam met ons nie?’
Maar Anna, wat al diep in die sewentig is, skud haar kop: ‘Nee wat, gaan doen julle maar julle ding en kom vertel my.’
Maar hulle het seker gelyk, dink sy. Mens raak mettertyd eienaardig so eenkant, met meestal net diere vir geselskap. Tog probeer sy dit nie eens vir haar kinders verduidelik nie; hulle is nog te jonk, en ook meer op ander mense aangewys as sy. Immers praat haar honde nie haar ore van haar kop af nie, en ook nie snert nie. Hiervan had sy genoeg. Nee, nie haar kinders s'n nie, haar tydgenote. Baie van hulle, het sy lankal tot haar teleurstelling ontdek, praat onophoudelik kaf in beuselagtige besonderhede. Sy't nooit kon dink bunions kan vier uitgegroeide vroumense deur twee koppies tee elk boei nie. Of hulle bemoei hulle met iemand anders, iemand wat nie eens teenwoordig is nie, se skoonseun ‘in die Transvaal’ wat sy werk verloor het. Nie een van die geselsers het dié kind nog ooit ontmoet nie, en sal ook nooit.
Anna se kinders is sorgsaam. Hul ma is vir hulle apart van alle ander mense in hul wêreld. Hulle vra uit, en doen moeite om haar te bederf met geskenke anders as sepies en sakdoekies; hulle probeer peil wat sy werklik behoef. Sy sien dit raak en waardeer dit.
Maar hulle is verkeerd as hulle sê sy raak snaaks. Want al krimp haar treë, asof haar nommer-drie-skoene op 'n dag haar eie stappies gaan insluk, en al wiebel sy soms soos 'n trapsuut- | |
| |
jies, mis daardie ogies tussen sagte skubbe niks. Sy wei steeds daagliks onvermoeid deur haar twee koerante en die stapels boeke, wat lyk of dit diepgewortel staan op vrugbare aarde, want hoe anders groei dit dan, soos die stam van 'n lewende boom, al hoër?
Laatmiddag van die laaste dag van daardie jaar, negen-tien-nege-en-negentig, lig Anna se Citroën Pallas haar geruisloos en rustig op en ry sy na haar naaste Pick 'n Pay. Hier is die gange tussen die rakke redelik verlate. Die vonkelwynpryse is drasties gesny. Drasties en desperaat, want van die millennium-stormloop het toe net mooi niks gekom nie, nes sy gereken het. Net so is die Y2K-virus seker ook koek hiernamaals. Om te dink party mense is so verveeld, hulle moet hul eie Armageddon opdroom. Sy glimlag met haarself op pad terug van die winkel, met haar twee sakke goed in die middel van die Pallas se wye bagasiebak. Een sak vir die honde, Leeu en Bella, en die ander een vir wanneer die kleinkinders die volgende dag kom.
Nie lank nadat sy by die huis terug is nie, bel 'n vriendin, Thea, weduwee soos sy self (een wat haar nie ophou met snert nie): Kom drink 'n drankie, vir wat sit jy daar so alleen?
‘Ek sit nie, dankie, ek lê lekker lankuit op die bed met 'n nuwe boek,’ antwoord Anna wat pas in haar onderrok op haar bed gaan lê het. Die hitte van die dag het haar uitgeput, én daar's die nuwe leesding. Sy hou van alleen, maar ter wille van Thea sê sy: Goed dan, maar net vir 'n in en uit.
Anna sluit haar by Thea en haar mense onder die wingerdprieel aan. Twee van Thea se kinders is daar, kinders wat voor Anna grootgeword het. Die dogter is 'n aktuaris in Londen en raak al self grys. Die seun is 'n plaaslike musikant wat weet hy gaan sy werk verloor omdat sy orkes gaan ontbind. Hy gaan later uit, vertel hy, na 'n millenniumpartytjie waarvoor hy 'n veregedoente, so klink dit, op sy kop gaan dra. Maar nou kuier hy eers by sy ma oor wie hy erg is.
| |
| |
Hy is net weg toe 'n helikopter naby Thea se huis sy stert soos 'n weerhaan draai terwyl hy opstyg, en dan noord dreun. ‘Dis die President,’ sê een van die ander kuiergaste, glo 'n ministersraadgewer, ‘op pad Robbeneiland toe.’ Anna en Thea se buurt is 'n klipgooi van die Groote Schuur-landgoed.
Thea se dogter buk haastig onder die wingerdvlegsels uit en korrel met haar videokamera na die helikopter om later in Londen te wys daar gaan die President en sy vrou, Zanele, na die partytjie op Robbeneiland.
‘Nie dat ons meer van hulle sien as julle nie,’ sê Thea vir haar dogter.
Met die omdraai sê-vra die dogter dat Kobus, haar broer, goed lyk.
Ja, antwoord Thea, die gordelroos is veel beter. Hy koppel hom nou minder aan sy pynmasjien. Dit verdryf in 'n mate die pyn uit die senuweewortels, maar sal niks doen aan die viruslading wat net nie wil daal nie. Hy praat oor sy siekte met sy ma en suster, maar nie voor ander mense nie, nie eens Anna nie. Sy mediese fonds, sê Thea, dra maar eina-eina by. ‘As hy nou 'n vierdubbele hartomleiding moet kry van te veel tjops en bier en rondlê voor die televisie, dán betaal hulle.’
Die kuiergas wat die helikopter uitgewys het, lyk of hy ingestel is op luister eerder as op praat - dít doen hy min en versigtig. Hy het die mooiste maar droewigste grys oë, let Anna op. Die gesprek onder die wingerdprieel neem die jaar in oënskou. Mense begin hul beste boeke van die jaar opnoem. Die man met die grys oë sê niks, hoewel Anna seker is hy lees baie. Toe almal klaar is, herroep hy, byna afgetrokke, 'n onlangse gekibbel in 'n kabinetskomitee. Die presiese komitee kan hy nie onthou nie, maar wat hy nie sal vergeet nie, is die komitee se aanbeveling aan die kabinet om J.M. Coetzee nie met sy onlangse Britse boekprys geluk te wens nie. ‘Hulle het gevoel die boek stuur 'n slegte beeld van die land na buite.’
| |
| |
‘Dít,’ sê Anna, en die yl grys haartjies van Thea se wenkbroue sluit daarby aan, ‘is 'n skande.’
Die volgende oggend, die eerste dag van die jaar twee-duisend (dis nou as jy volgens die Christelike kalender tel, het Anna haar kleinkinders herinner), het niks verander nie, anders as wat sensasioneel uit sekere oorde voorspel is. Hoe anders sou ek dan vir my tee kon gemaak het? dink Anna, en wonder wat die paniekeriges nou met honderde blikkies Weense worsies en stapels brandhout en gevulde gashouers maak.
Die honde draai om haar bene. Staptyd, sê hulle. Die jong teef, Bella, beur hygend teen die ketting om haar nek. Die hardhorende oue, Leeu, het artritis en velkanker en sy oë is afgesluit agter vliese wat swart is in die skemer, maar petrolblou glim in lig. Maar hy snuffel steeds sy stories by elke polletjie en paal uit, en lig 'n stram been om ook sy bydrae te laat.
Dis net hul asems, haar en haar honde s'n. Hul bloed stu van kamer tot kamer. Soos die pompe, maar net stiller, van die swembaddens agter die mure en heinings waarlangs sy met hulle beweeg. Van ander geluide is die strate ontdaan. Die hele lot babelas van 'n oormaat drank en kos en koop. Die kinders waarskynlik nukkerig uit hul roetines. Sy stap rustig - met Bella se opgewonde asemhaling al effense steurnis - deur die groot antiklimaks soos deur mis.
Hier ís dit nou, mymer sy, en niks het verander nie.
Die honde lei haar na die kanaal, die Swartrivier, lank reeds ingebeton. Dit was die droogste Desember in twee-en-veertig jaar, het sy net nou die dag in 'n koerant gelees, en op die sementbodem lê die lekseltjie doodstil. Sy begin uitwerk hoe oud sy twee-en-veertig jaar gelede was, maar besef dis 'n som sonder nut en los dit. Toe die bergies laas hier op die grasoewer lê en slaap het, het hulle hul gemors net so gelos. Dit het intussen tot onder in die kanaal afgewaai. Anna is teë vir hulle, vir die leeglêers wat die strate bemors.
| |
| |
Dis toe dat sy dit sien: op die dor, geel grassies langs die kanaal staan 'n boottreiler sonder 'n boot. Bo-op die treiler - verbeel sy haar of is dit langer en dunner as gewoonlik? - is 'n doodskis. 'n Skrams lagie wit verf is haastig oor die goedkoop hout aangebring. Dis 'n eienaardige maer kis, asof uitgerek tussen kop en voete. Die jong hond ignoreer die treiler, probeer verbybeur vorentoe. Maar nie Leeu nie. Hy snuffel om die doodswa se wiele, gevaarlik glad vir die pad. Sy stert kwispel en hy sein deur die vliese na Anna asof hy wil sê: ‘Sien jy nou, iets het tóg verander.’
Sestien dae later wil die kwik bo uit die barometer bars. Op Tafelberg, en verder suid al met die bergketting langs, warrel vlamme al hoe wilder, hoër as branders, hoër as bome. Hulle dans af op die kamme van die ongebrande struike en bome, klief dit oop soos 'n stormwind. Vreet alles wat voorkom met 'n onheilspellende dreuning. Twintig verdiepings hoog, het brandslaners met bloedbelope oë later vertel. Hulle het roostuine en agapantlanings sien brand, stoele en silwermessegoed in swembaddens sien dryf. Vroue histeries hoor skreeu en smeek oor selfone na Stuttaford Van Lines se koel kantore. Hulle het gesien hoe mense op hul dakke staan, tuinslang in die hand, en die vlamme soos 'n stormsee ry. Hoe 'n ou vrou se perswit kop skroei omdat sy omgedraai het, terug in haar brandende huis in om net één portret, dié van koningin Victoria in 'n goue kartelraam, te red.
Dae lank sit die vrou langs haar koningin. Sy bad nie. Sy trek die reuk van roet en rook en gebrande hare om haar soos 'n kombers. Sy weet nie eens dat dié hel nou oor die Kaapse Vlakte gespring het na die Hottentots-Hollandberge nie. Die opleiwingerd teen die hange wat nie skroei of brand nie, hang verlep. Deur die rookmis staan die son botstil en oranje soos in 'n kinderprent. Stoetperde op stal trap en runnik onrustig. Hulle word in perdesleepwaens in veiligheid gebring. Hierna volg die Weskus waar die skilpaaie wat nie in hul eie sop gaar kook nie, deur
| |
| |
brandvoertuie platgetrap word. 'n Bokkie duik uit op die teerpad, haar pootjies verkool.
Soos 'n maanlandskap, het mense agterna beskryf. Anna weet weinig van die maan; sy weet net haar keel brand. Buite in die tuin dwarrel, asof uit die niet, 'n blaartjie. Sy steek haar hand daarna uit en met die ligte landing op haar palm verkrummel dit. Sy gaan in en maak die vensters toe. Agter die ruite sif as soos kapok.
In dié dae is Thea se seun voortdurend in haar gedagtes. Hy en ook hulle, vir haar sonder naam en gesig, wat 'n storie wil doodswyg.
My hond was reg, besef sy met 'n onwelkome en ongewone onrustigheid, en sit vir haar teewater op, iets het tóg verander.
Uit Merke van die nag, Kaapstad: Tafelberg, 2001
Rachelle Greeff (1957) hoorttot de opkomende schrijfsters van de jaren negentig. Met haar romans, verhalen en kinderboeken oogstte zij veel waardering. De roman Al die windrigtings van my wêreld (1996) werd vertaald in het Nederlands en het Duits. De onderwerpen die zij behandelt zijn erg uiteenlopend. Het leven laat vooral op de vrouw sporen na. Gelukkig houden zuur en zoet elkaar min of meer in evenwicht. Greeff schetst intieme portretten van vrouwen. Haar werk ontroert zonder sentimenteel te zijn. Ook de politieke en maatschappelijke veranderingen in Zuid-Afrika en de gevolgen voor het individu krijgen ruime aandacht.
|
-
-
[tekstkritische noot]korswel: schertsen - praat snert, praat kaf: onzin praten - bunions: eeltknobbels - snaaks: eigenaardig
-
-
[tekstkritische noot]trapsuutjies: kameleon-vonkelwyn-: mousserende wijnen-nes: zoals - koek hiernamaals: loos alarm - veregedoente: vreemd hoofddeksel met veren - oor wie hy erg is: op wie hij bijzonder gesteld is
-
-
[tekstkritische noot]eina-eina: bijna niets - tjops: koteletten herroep: memoreert
-
-
[tekstkritische noot]die hele lot babelas: iedereen met een kater - bergies: daklozen die op of bij Tafelberg de nacht doorbrengen - lê en slaap: lagen te slapen - teë: niet genegen
-
-
[tekstkritische noot]branders: golven van de branding- brandslaners: brandbestrijders - agapantlanings: lanen met keizerskroon - Stuttaford Van Lines: een verhuismaatschappij
-
-
[tekstkritische noot]kapok: sneeuw
|