Ek het die datum ingetik in my onvoltooide verslag oor 'n ondersoek na die veranderende rol van kleiner kulture in globalisering, en toe die komper afgeskakel. Wanneer ek dit volgende maand staan en lewer en later terwyl ek dit gereed maak vir publikasie, sal die datum my herinner aan die boodskappe, aan hom, aan ons, en oor die rye onbekendes, agter die woorde op papier sal geliefde gesigte, tonele, patrone inskuif. Dis my manier van dagboek hou.
1944 was 'n droogtejaar in die Klein-Karoo. Dawid se ouers (skaapskeerders? seisoenwerkers?) het hom ‘weggegee’ uit noodsaak omdat hulle so arm was. Die man met die toglorrie, my pa, móés tog beter vir hom kon sorg. Hulle het nou en dan kom kyk of dit met hom goed gaan op Winkelplaas, te voet, met die donkiekarretjie, een maal met 'n geleentheid. Dan was hy dae daarna nors. Toe het hulle net weggebly. Die dag toe die Nazi's Pole ingeval het, het Pa van die dorp af gekom met ‘Polekas’ ('n groot teekis), balle, twee karretjies en 'n Meccano-stel.
Ons togte oor berge en kontinente het begin, die name van die plekke het ons saans oor die draadloos gehoor: Tobroek, Timboektoe, Berlyn, Bloemfontein, Kakamas en Dresden. Duskant die wildevyeboom, deur die leiwatersloot, anderkant om die plakkiebos, tussen die watertenks deur, al langs die skaapkraaltjie en die plas bloed van die slagplek.
Die pastoor vou sy hande op die Bybel. Hy leun vorentoe. ‘Tante Makkie, seuns - en ons dink ook aan Frekie wat hom vooruit is - julle sal hom mis as vader, maar ook ons as gemeente...’ Buite in die straat toet 'n motor ongeduldig. Die begrafnisgangers kyk na mekaar. Wie is so sonder eerbied? Hulle kan mos die lykwa sien staan...
‘Ek het maar hier gebly toe jy annerland toe weg is. En kyk waar's jy nou...’ Ons tyd van vervreemding, van ek hier en jy daar, van neerkyk en vertrap en uitskop het tussen ons gekom, ons het dit toegelaat. Hy het op die dorp die Kooperasie se vragmotor bestuur. Ek het hom op sy ou plaasnaam genoem en gevra: