| |
| |
| |
Tweede bedryf
1908
Dieselfde kamer, maar met ander muurpapier, gordyne, tapyte, ens., want dertig jaar het verloop. Die ou leuningstoel staan nog min of meer op sy ou plek, maar die klein tafeltjie is nie meer daar nie, en op die groot tafel, in die plek van die kandelare, staan 'n olielamp, wat egter nie opgesteek is nie. Op die vloer naas die buffet staan 'n voetstofie. Dis laat namiddag, en daar kom nog 'n skemerlig by die venster in. Op die tafel is 'n naaimasjien en 'n hopie naaigoed. By die masjien lê Nelie se bril, wat sy opsit wanneer sy die naaiwerk doen. Daar staan twee of drie stoele by die tafel en nog 'n paar los rond in die kamer.
Mev. Venter, nou in die sewentig, sit in die leuningstoel, met 'n oop brief in die hand. Haar vingers is ingekrimp van die rumatiek. Sy sukkel om by die swak lig te lees, sug en lees weer, en kyk ongeduldig na die voordeur. Na 'n rukkie gaan die voordeur oop en Nelie, nou 'n vrou van so 'n ag-en-veertig jaar, kom binne. Sy stap na die tafel, sit die bril op en begin aan die naaiwerk te werk.
[net soos Nelie inkom]:
A, eindelik! Ek kon ook 'n dodelik toeval gehad het, en geen mens in die huis nie. Waar het jy weer ál die tyd gesloer, Nelie?
Ek het mos vir Johanna van der Merwe...
Jy sou dan net ‘welkom tuis’ gaan sê het; daarvoor het jy nie 'n uur en 'n half...
Maar as 'n mens van so 'n reis terugkom, het jy tog baie om te vertel, Ma, en baie om te wys ook - sulke mooi dingetjies wat sy in die vreemde plekke opgetel het - ek sou nog langer gebly het, maar ek weet Ma raak so kriewelrig as Ma 'n bietjie alleen moet sit.
Ag, my kind, as jy eendag so oud en hulpeloos is, en die kinders wat jou lus en jou lewe - maar wat, as 'n mens nie self 'n moeder is en moederliefde gesmaak het nie - Mina sal my gevoel beter begryp as jy, Nelie.
[Nelie kyk met 'n halfpynlike, halfgeamuseerde trekkie op, maar sê niks en gaan met die naaiwerk voort. Daar is 'n kort stilte; mev. Venter skuiwe ongemaklik in haar stoel.]
Bring tog die stofie, Nelie. Ek sit so sleg, en die pyne - ai, die ou liggaam!
[Nelie, wat die bril afhaal sodra sy die naaiwerk los, skuiwe die stofie
| |
| |
onder mev. Venter se voete in. Mev. Venter neem Nelie aan haar hand en hou dit inniglik vas.]
My lieflingskind, wat altyd my hulp en my troos was! Jy weet nie wat 'n warm plekkie jy in my hart inneem nie, Nelie. Dis omdat ek jou liefhet, dat ek jou altyd naby my wil sien en voel.
[streel haar]:
Ja, Ma, ek weet.
En ek wil tog nie 'n las wees nie - liewer dood as om 'n las te wees...
[liefdevol]:
Toe maar, Moeder, toe maar!
Maar ek wat so vir my kinders geswoeg het - alleen vir hulle grootgemaak het, met die vader in die graf - ek het tog in my oudag 'n aanspraak op hulle sorg en liefde.
Og, natuurlik, natuurlik, Moeder.
Nou is die ander so ver van my weg - Mina met haar huisgesin, Willie met syne - nou ja, dis die wêreld se beloop - maar ek kwel my tog so oor Mina. Hierdie brief - ek het weer daarna gekyk, al is die lig ook te swak vir my oë - maar jy was nie hier om die lamp aan te steek nie...
[Nelie handel op die wenk, en steek die lamp aan. Buite word dit langsamerhand heeltemal donker.]
En jy weet, as dit begin donker word, en ek is alleen in die huis - nadat die ou hart my al sulke poetse gebak het - dan verbeel ek my ál daar kom weer 'n floute aan.
[As Nelie die lamp klaar opgesteek het, neem sy weer die naaigoed op.]
Mina was tog so begaan daaroor, toe sy laas hier was. Onthou jy, Nelie, hoe ernstig sy met jou gepraat het?
Ja -
[laggend]
vir my die Leviete voorgelees - dat dit my plig is om vir Ma nooit 'n oomblikkie alleen te laat nie. Dis wat Mina van hou: om vir 'n ander...
Ag, Nelie, Nelie! As 'n kind oor haar moeder besorgd is! Arme Mina! Dat sy nou 'n man moet gekry het wat haar die lewe so...
Wil Ma nou regtig aanneem dat dit alles Hendrik se skuld is?
Maar Nelie, kan jy jou eie bloed afstaan?
Om te sê wie se skuld dit is - dis mos nie 'n kwessie van kante kies nie; dis 'n kwessie van feite.
Ja, dit is ook so. Maar as ek darem dink hoeveel sorg en liefde ek aan haar bestee het, hoe ek vir haar opvoeding my spaargeldjies opgeoffer het, en dat sy 'n man moet kry wat dit nie waardeer nie en...Daar hoor ek 'n kar! Gaan kyk tog, Nelie.
Dink Ma dan nou dat sy regtig van hom gaan wegloop - van haar mooi huis, van haar groot seun, en alles?
| |
| |
Dis Hendrik wat alles wil omkeer - so skrywe sy - en dat sy...Ag, Nelie, gaan kyk tog, al is dit net omdat jou moeder dit vra. Jy weet nie wat 'n spanning dit vir my is nie. Dit sal jy nie besef nie.
[stap voordeur toe]:
Nou ja, om vir Ma gerus te stel...
[Sy maak die voordeur ope. Sodra die deur beweeg, hoor 'n mens iets - soos 'n stuk plank - op die stoep val.]
[skrik]:
Wat is dit, Nelie?
Nie die kar nie, Ma. Dié is verby. Dis net my naambord. Ek het al gemerk dat die skroewe los is. Nou het dit afgeval.
[Sy kom weer in, met 'n bord waarop geskrywe staan: ‘Cornelia Venter, Modemaakster.’ Sy trek die deur agter haar toe, hou die bord op die buffet, en staan daarna te kyk.]
Dis eenkant maar goed, want ek wou dit afhaal om te laat oorskilder. Die verf begin al oud en dof te lyk.
[het intussen die brief weer toegevou en in haar klere weggesit]:
Luister! Ek dink ek hoor weer 'n kar - en nog een.
[skuiwe die bord agter die buffet en gaan voort met die naaigoed]:
Dis nie in ons straat nie. Die trein is seker in, dis dié wat daar soveel karre is - die kebkarre van die stasie af...
Dis juis die karre wat vir haar sal bring.
As sy kom, ja; maar as ek vir ál die karre moet opspring...en Ma se ore is nogal so fyn - vir wat Ma graag wil hoor.
As dit vir my kinders is - jy weet self, Nelie, toe my man my ontval het, hoe ek nog net vir julle gelewe het. En Mina, vir wie ek so op die hart gedra het, juis omdat sy 'n moeilike kind was, wat soveel sorg nodig gehad het - so anders as jy, Nelie - oor jou het ek my nooit bekommer nie, so was dit ook nie nodig om my gedagtes gedurig oor jou te laat gaan nie...Luister! Daardie kar draai mos by ons af.
[luister]:
Ja, en dit klink of hy voor die deur stilhou.
[Sy staan op en stap voordeur toe.]
Ek kan darem nog nie dink dat Mina...
[Sy maak die deur oop.]
Ja waarlik, Ma het beter geraai as ek.
Nie geraai nie, Nelie; ek het gevoel, want ek is 'n moeder.
[Mev. Venter het onder die praat opgestaan - iets wat sy met 'n bietjie moeite doen - en sy stap nader na die voordeur.]
[in die deur]:
Wel, Mina! Naand, Fanie.
[buitekant]:
Naand, Nelie.
[Mina kom in, gevolg deur Fanie, 'n seun van omtrent twee-en-twintig. Fanie het 'n reiskoffer in elke hand.]
[Sy en Mina val mekaar om die nek.]
| |
| |
Fanie ook! Naand, my seun.
[Hy los die koffers en soen haar.]
Sit daardie koffers opsy, Fanie, en bring die ander goed in.
[Fanie stoot die koffers teen die muur, en stap uit om nog goed te haal.]
'n Bietjie koffie, Nelie.
[wat reeds op pad was na die middeldeur]:
Ja, Ma, ek gaan nou juis water opsit.
En iets om te eet. Hulle is seker flou van die honger.
Net 'n koppie koffie, dankie. Ons het so baie padkos gehad.
Hulle moet darem iets warms kry, Nelie. Het jy 'n paar eiers?
[Nelie af in die kombuis.]
[onderwyl Nelie uitstap]:
Dankie, Ousus. Dit sal lekker smaak.
[wat weer met bagasie ingekom het]:
Twee sjielings, asseblief, Ma; en hy vra wanneer hy ons weer moet kom haal.
[gee hom die geld]:
Wanneer? - O, wanneer ons teruggaan huis toe? Maar as ons hier mag bly - as Ma ons nie ook wegja nie...
Ag, my kind, asof ek ooit...asof ek nie altyd gelukkigste is met my kinders rondom my nie!
[Mev. Venter en Mina val mekaar weer om die hals. Fanie draai om en stap by die voordeur uit.]
Ek het geweet Ma sal my nie verstoot nie. Ek het dit vir Hendrik gesê - ek het hom behoorlik gewaarsku - maar aan hom is geen salf meer te smeer nie. Ek sal darem vir Ma niks kos nie. Hy sal moet onderhoud betaal. Ek het 'n prokureur gesien.
Toe maar, Mina, al het jy hier nakend aangekom - al het ek self niks...
[soen haar]:
Wat 'n heerlike, onselfsugtige moeder!
[Onder die praat kom Fanie met die laaste van die bagasie binne. Hy staan 'n bietjie in die kamer rond, en werskaf later vir tydverdryf aan die naaimasjien soos een wat in die meganisme daarvan geïnteresseerd is. Mev. Venter gaan in die leuningstoel sit, en Mina neem 'n ander stoel.]
Maar sê my eers, hoe gaan dit met Ma?
So - oud en kranklik - soos 'n mens moet verwag in die jare wanneer jy op die ou wêreld begin afkyk soos iets wat al onder jou padgee. Die ou hart wil nie meer nie. Elke maal 'n toeval, en dan dink ek dis my laaste. As Nelie my vir 'n halfuur alleen laat in die huis...
Maar dit moet sy nie doen nie. Noudat ek hier is, moet sy vir
| |
| |
Ma goed versôre - dit sal ek haar self nog sê.
Jy is ook so lief en bedagsaam.
Dis die minste wat ons vir Ma kan oorhê, ná Ma se jare van opoffering vir ons, noudat Ma te swak en te sieklik - ja, sê my, hoe is die rumatiek in die laaste tyd?
Kyk hier.
[Hou die hande op.]
Die vingers wil nie oop nie. Dis die hande wat altyd so bedrywig was. Nou is dit hulpeloos. Nelie moet alles doen, vir haar en vir my - die arme kind!
Sy kry darem die toelagies elke maand, van Willie en van Hendrik.
Ja, dit help baie, en ek is daar dankbaar voor. Sal Hendrik nog syne stuur, dink jy, noudat jy...?
Hy moet. Ek sal 'n manier kan prakseer. Al is ek ver van hom af, moet hy nie dink dat hy van my ontslae is nie. Dit sou hy wel wens. - Wat peuter jy ál aan die masjien, Fanie? Netnou breek jy dit.
[Nelie het intussen ingekom met skottelgoed. Sy vou die tafelkleedjie terug, sodat sy die helfte van die tafel beskikbaar het. Sy haal 'n tafellaken uit die buffet, en dek die helfte van die tafel.]
Dit lyk my daar is 'n fout. Slaan dit nie steke oor nie, Tant Nelie?
Ja, dis baie hinderlik. Sal jy dit kan regmaak?
[Hy begin stukke van die masjien af te skroewe.]
Nelie sal tog bly wees. Sy het al so daaroor gekla.
Maar straks verfoes hy dit. So maak hy met alles by die huis - horlosies, pompe, alles wat maar ratte het - daar kan hy sy hande nie van afhou nie. Die laaste ding word uitmekaaruit gehaal, en by die inmekaarsit steek hy vas.
Nee a, Ma. Net as 'n ding regtig te stukkend is...
Laat hom maar probeer. Hy sal wel versigtig wees - nè Fanie?
Nou ja, as jy hom nog wil aanmoedig...Hy is met daardie goed net soos sy pa met boeke. Die werksmense kan maar bak en brou en alles verknoei, dan sit Hendrik op die stoep met Jan Celliers se versies, of besig om aan die koerante te skrywe oor die A.T.V. en die C.J.V. en al die ander Vees, en Fanie is by die buurman om die motorkar te bekyk.
'n Motorkar? Die ding wat op die pad loop sonder perde?
Ja, Ouma, mnr. Naudé het een. Het Ouma al 'n motorkar gesien - of Tante?
Ek hoor daar was verlede week een in die dorp, maar ek het dit nie gesien nie.
| |
| |
Ek bly ook maar liewer ver uit die ding se pad uit.
Ek sou hom van die stoep beskou, maar binne-in kry jy my nooit.
So het ek ook vir mnr. Naudé gesê, maar hy hou aan met nooi.
Hy sou juis vanmiddag vir ons kom haal het om 'n ent te gaan ry, en ek het so daarna uitgekyk...
Maar toe kry jou ma jou nodig - en my groot seun sal my nie afstaan nie, nè, as sy pa my so behandel dat ek nie langer...
Maar Mina!
[Sy maak 'n teken wat moet sê: ‘Tog nie voor die kind nie.’]
Toe maar, Fanie weet van alles. Hy sien mos wat in die huis gebeur - hoe Hendrik daar al ingekom het, hoog in die takke, en vir my links en regs...
Gaan haal jou hoed af, Mina, en was jou hande. Die ete is amper klaar.
[staan op]:
Ek kry seker die vrykamer, nè, en Fanie die buitekamer?
[staan ook op]:
Ja, dis vir julle klaar - altyd vir my kinders klaar. Ek sal saamkom en kyk of jy alles het - en nog verder hoor wat jy te vertel het.
Het Ma dadelik die goed nodig? Ek kan nie nou die masjien bra los nie.
Toe maar, net my handsakkie. Dié neem ek somaar self.
[Mev. Venter en Mina by die gangdeur uit. Nelie bly besig by die tafel, en Fanie met die masjien.]
Ma praat asof ek so tevrede was om saam te kom, maar daardie kans vir 'n motorrit - dié kry 'n mens nie aldag nie. Nou ja, tant Nelie weet hoe beslis Ma kan wees as sy 'n ding wil hê, en vandat ek 'n opgeskote seun was het Ma gevind dat sy vir Pa met my kan vermaak as 'n sterk jong man wat altyd klaarstaan om vir haar op te kom. Nou moet ek maar die rol speel.
Ek sê mos, Ma het dit so gereël, en Ma kry altyd haar sin. Maar die oukêrel is tog net so ná aan my, nie waar nie? En ek kan nie help om vir hom jammer te voel nie.
Wat was dan vandag die moeilikheid, dat jul somaar daar weggespaander het?
Ag, die ou dinge - die stryery oor die plaas. Hulle het vanmôre...
Ek moet net die eiers en die tee gaan haal. Praat maar, ek kan in die kombuis goed hoor.
[Nelie af in die kombuis. Sy laat die deur oop staan.]
[los tydelik die masjien, sit wydsbeen soos een wat perdry oor
| |
| |
'n stoel naby die middeldeur, en praat na die kombuis toe]:
Nou ja, hulle het met die opstaan al aan mekaar geraak, en toe het Pa 'n dop gaan steek om ekstra koerasie te kry om sy sê te sê. Dis ál tyd dat Pa drink, as hy en Ma woorde het. Dit maak 'n ander man van hom, en dit het hy uitgevind - so beslis en so seker van homself - jy sou hom nie ken nie - jy sou sê hy is altyd baas in die huis. Maar wat, as die brandewyn sak, dan moet hy mooi om ekskuus vra, en dan doen hy weer net wat Ma sê. Nou wel, vanmôre, op sy nugter maag, het hy glo misreken, en die dop was vir hom te kwaai. So het ek hierdie keer my pa regtigwaar deur die wind gesien; nie somaar getik nie - dit was hy al baie - maar behoorlik smoordronk. Dit het vir Ma 'n goeie grief gegee, en Ma is een wat die yster slaan terwyl dit heet is. Ma het my gou-gou die kar laat inspan; ons is Wellingting toe, na 'n prokureur; toe net terug om ons goed te kry - Pa was nog besig om sy oggend se manhaftigheid weg te slaap - en met die namiddagtrein is ons weg, en hier is ons.
[Nelie bring die tee in.]
Jy sê hul stry oor die plaas. Hoe so?
Kyk, Tante weet, die boere het nou 'n baie swaar tyd.
[Nelie onder die praat weer kombuis toe].
Pa het al 'n verband moes opneem, en hy sê hy sien nie meer kans om die rente uit te boer nie. Nou wil hy die plaas verkoop, en dorp toe trek, en 'n winkelklerk word. Maar dan sal ons 'n klein plekkie moet kry, en eenvoudig moet lewe; en op die plaas, soos Tante weet, het ons die groot huis,
[Nelie kom in met die eiers]
en die mooi werf, en die tennisbaan, en die swembad, en mense kan kom kuier - hierdie moeilikheid was juis deurdat Celia se mense vir die naweek...
Celia! O, ja, jou moeder het vir ons geskrywe van daardie nooientjie van jou, en hoe gek jy na haar is - jy, wat nog so 'n snuiter is. En sy is 'n mooi dingetjie, nè? - so sê jou ma.
[gaan weer aan die masjien werk, terwyl Nelie begin brood sny]:
Ja, heeltemal gangbaar. Sien, sy is eintlik Ma se keuse.
Jou ma se keuse? Is jy dan nie self mans genoeg om...?
Om 'n nooientjie te hê nie? Ja, Tante, ek hou van hulle - van 'n hele paar nogal - maar nou nie op so 'n ernstige manier soos Ma oor dié dinge dink nie.
[laggend]:
Ag, hoor tog, hoe ewe onverskillig! Maar jou ma het geskrywe dat jy smoorverlief is.
Ja, so sê Ma vir my ook - elke dag - en nou begin ek dit self te glo. Sien, Ma weet tog wat vir my die beste is; en ek moet erken Celia is 'n kans uit 'n duisend. Sy is mooi, en sy kan klavier speel, en sing, en 'n bietjie skilder, en...
| |
| |
Nee, sien, haar mense is baie ryk. Sy het nooit hoef te werk nie. Nou sê Ma, as Pa hom net meer op die boerdery wil toelê, en ek trou met Celia, dan sal hy wel die plaas kan aanhou vir ons om dit eendag oor te neem...
Het jy aanleg vir die boerdery?
Nee, Tante, glad nie; nog minder as Pa. Ek sou graag ingenieur wil geword het, maar dit kon Pa nie bekostig nie. En sien, wat Ma sê, met Celia se geld sal ons heerlik op die plaas kan woon, al vreet die mot ook die appels op en die filloksera die wingerd.
[Hy draai die masjien.]
Kyk, Tante, ek meen dis nou in orde.
[Mev. Venter en Mina kom by die gangdeur in.]
Ai, dit sal 'n plesier wees. Baie dankie, Fanie.
Nie te danke, Tante. Dit was vir my 'n plesier om daaraan te werk.
Het jy en Ma al klaar geëet?
Ja, ons is klaar. Ek sal darem vir geselskap weer 'n koppie koffie neem.
[Mina gaan by die tafel sit, en mev. Venter in die leuningstoel. Nelie skuiwe vir haar ma die stofie onder die voete en help om haar gemaklik te laat sit. As sy klaar is, sê mev. Venter: ‘Dankie, Nelie.’]
Daar is my hande nou vol olie. Kan ek dit maar in die kombuis gaan was, Tante?
As jy wil - maar gaan deur na die buitekamer, daar sal jy spieël en seep en handdoek kry. Daar is glo nie water in die beker nie, maar dié kan jy mos self gaan tap.
Goed, Tante, ek sal regkom.
[Fanie af deur die kombuisdeur.]
O, Nelie, jy moet tog hoor hoe daardie vent met Mina te kere gaan. Om te dink dat ek my dogter moes afstaan aan 'n man wat drink - wat in sy dronkenskap skel en raas en slaan ook - hy het jou geslaan ook, nè Mina?
Wel, eintlik meer gestoot - so aan my skouer gevat en my geskud, en toe vergeet ek myself, ek gee hom 'n taai klap, en toe stoot hy my weg.
Ai, hoor tog! En dit aan 'n kind wat ek so teer grootgemaak het.
[skink vir mev. Venter 'n koppie koffie - dan vir die ander, en vir haarself ook, en gaan later by die ongedekte deel van die tafel sit]:
Help vir jou met die eier, Mina - en met die brood - en botter.
| |
| |
Vereers hier bly, en kyk watter uitwerking die prokureursbrief het.
Ja, my kind, as hy jou so mishandel - so lank as jy wil - onder jou moeder se vlerk.
My dierbare ou moedertjie!
Ag, Ma, wees dan nou verstandig. Ons is mos nie meer kuikens nie.
[Aan Mina]:
Wat is die uitwerking wat jy verwag?
Wel, as dit hom mak maak...
Sodat hy doen wat jy wil hê?
Ja, as jy dit so wil stel.
Dis nie dat die lewe ondraaglik is nie?
Wat katkiseer jy my so? Hendrik is nie heeltemal onregeerbaar nie. Jy sal sien, hy kom netnou agter my aan.
Dink jy waarlik dat hy jou so lief het, Mina?
[lag]:
Lief? Ma laat my lag. Watter liefde was daar ooit in ons huwelik?
Maar hy moes tog, toe hy jou gevra het...
Ek was Nelie se suster en het so hier en daar 'n familietrekkie gehad wat hom aan haar herinner het - maar sy was ver en ek was naby, en sy was buitendien te sedig om na te vry...
Dis die grondige waarheid - en hy was 'n bietjie swak en besluiteloos - soos jy ook, Nelie. Maar ek is anders. Ek weet as ek 'n ding wil hê, en ek sê dit reguit - ek sê 'n ding soos dit is - vir 'n arm meisie soos ek was Hendrik 'n goeie partytjie, ek wou hom gehad het en ek het hom gekry. En nou, daar is die hele storie - en wat het jul miskien daarop te sê?
Maar jy dink hy sal agter jou aankom - hy sal jou nie wil verloor nie?
Nie uit liefde nie, maar uit hoogmoed. Hul is trotse mense, die Joostes van Bovlei: trots op hulle naam en hul familie. Hy sal hier wil wees voordat mense weet dat ek weggeloop het.
Dan regeer jy hom deur sy selfrespek - deurdat hy daar meer van het as jy - en jy hom so tot skande kan maak? Mina, jy behoort jou te skaam.
Watter selfrespek is dit om dronk te word? Om so te boer dat jy die mooi plaas kwytraak, net wanneer jou seun 'n kans staan om 'n huwelik te maak wat...?
[merk dat Fanie aankom]:
Sjt!
[Fanie kom by die kombuisdeur
| |
| |
in. Hy gaan aan tafel sit en begin te eet].
Kom, my groot seun - moeder se steun en beskermer, nè!
[Sy trek hom met die verbygaan nader en soen hom. Hy woel skamerig los.]
Dis ek wat die familienaam wil hooghou - ter wille van my seun -
[sy streel sy hare]
en hy sal my daarin bystaan, en nie toelaat dat sy pa vir ons...
Mina, dit vind ek nou baie onverstandig.
A, die verstandige Ousus - weet altyd beste. Maar as die onderwerp jou hinder, kan ons dit verander. Jou eiers is lekker, en jou koffie ook.
[Nelie kyk vir Mina vlammend aan. Sy moet egter haar ergerlikheid opkrop, en wend haar dus maar weer na haar naaigoed.]
En wat hoor ek van jou, Fanie? Krummeltjie wil ook brood word?
A, maar sulke bruin oë, Ma - jy hoef nie skaam te wees dat dit jou hart gesteel het nie, nè Fanie.
Hulle was juis vir die laaste naweek by ons - Celia en haar pa en ma. Dis maar 'n werklikheid om vir hulle te onthaal, want hul is sulke deftige mense, maar terwyl Fanie dit nou goedgevind het om juis dáár sy hart te gaan verloor...
Luister nou! As jy hom so hoor praat, en dan die tweetjies bymekaar sien - ek sê vir jou...
[Onder die praat van die laaste woorde toet 'n motor buite - 'n windtoeter, want die elektriese was destyds nog nie bekend nie.]
[spring op]:
Daar, luister! Ja, dis 'n motor -
[nog 'n getoet]
dis mos mnr. Naudé.
[Hy gooi die deur oop].
So waar, dis Pa.
[Almal sit verbluf. Dan verskyn Hendrik in die deur - nou 'n man van vyftig, met 'n houding wat onder normale omstandighede stil en waardig kan wees, maar op die oomblik is hy ‘gedrink’, hoewel nie dronk nie, d.w.s. hy slinger nie en sy tong is nie baie swaar nie, maar hy het die manhaftigheid, die selfversekerdheid, die onbesonnenheid en onverskillige praterigheid wat 'n paar sopies aan 'n anderins bedeesde en versigtige man kan gee. Hy staan die geselskap te bekyk. Fanie breek eerste die spanning.]
Ek gaan na die motor toe.
[Hy spring by die voordeur uit en druk die deur toe.]
[Sy bied hom 'n stoel aan. Hy gaan egter nie sit nie maar bly staan met sy hand op die rug van die stoel.]
| |
| |
[Mev. Venter sit maar stil, en kyk hom aan asof hy 'n wildeman is.]
Weggedros, nè? Stook my seun teen my op. Probeer om my met 'n prokureursbrief bang te maak.
[Hy haal die brief uit sy sak uit, en hou dit op.]
Dis wat ek daarvan dink - sien!
[Hy skeur die brief aan stukkies, wat hy op die vloer strooi.]
Jy het weer by die hotel aangery. Dit kan jy tog nie van my wegsteek nie. Ek het dit somaar aan jou oë gesien toe jy by die deur inkom - aan jou hele houding. En nou ruik ek dit ook. Gá!
Dis my saak. Ek is my eie baas - en joue ook. En nou, as jou wettige man sê ek vir jou: ‘Mina, kom huis toe.’
Loop slaap nou, Hendrik, tot jy regkom. Jou brein swem nog. Jy weet nie wat jy praat nie.
Ek weet wat ek wil sê en wat ek moet sê. Ek was ook by 'n prokureur. Jy het van my af weggeloop - my verlaat. Ek het jou kom haal, jou gevra om terug te kom; jy het geweier. Nou kan ek 'n egskeiding kry - ja, 'n egskeiding, dan is ek klaar met jou - klaar - los!
[Hy stoot die stoel om.]
Gee hom 'n koppie sterk swart koffie, Nelie. Dit help om hom by te bring.
[Nelie, gespanne, kyk 'n paar maal van die een na die ander, en gaan dan af in die kombuis.]
Dan sal jy my die helfte van die boedel moet uitbetaal, Hendrik.
Die helfte van niks! Ek gee boedel oor, en dan kan jy sien hoe jy klaarkom. Toe, nog 'n maal; dis jou laaste kans. Kom jy? Of kan ek hier uitstap as 'n vrye man!
[Hy beweeg voordeur toe.]
Wag darem eers vir die koppie koffie. Nelie bring dit vir jou.
[Hy stop en draai om.]
En tel nou mooi die stoel op, wat jy so onmanierlik omgegooi het.
Dit doen ek nie - so waarlik nie - al soebat jy ook...
Hendrik! Jy is in 'n vreemde huis, hoor. Gedra jou.
[Hy kyk rond, nes hy nou eers ten volle besef dat hy nie in sy eie huis is nie. Hy skrik effens as hy in mev. Venter se gesig kyk, en laat sy oë sak. Dan stap hy skaam-skaam na die stoel toe, en stel dit regop.]
[Hy gehoorsaam. Nelie kom met 'n koppie in van die kombuis af, en gee dit vir hom.]
| |
| |
'n Lekker koppie koffie vir jou, Hendrik.
[kyk haar stip in die oë en praat tederlik]:
Nelie! Jy!
[Neem die koffie aan.]
Dankie, Nelie. Uit jou hand sal ek dit drink.
[Hy drink daaraan; Nelie stap terug na haar stoel.]
[deur jaloesie gepla]:
En uit myne? Ons sal sien.
[Sy stap na Hendrik toe, en neem die koppie uit sy hand.]
Oppas, Mina! Is jy nie bang nie?
Nee, Ma, hy is 'n baie onskadelike diertjie.
[Sy hou die koppie by sy mond.]
Toe, Hendrik, drink. Dit sal jou nugter maak.
Ja. Jy weet goed dat jy dit op die oomblik nie is nie.
[kyk haar woes aan]:
En wie is daar die oorsaak van? Wie ja my na die drank toe - om maar weg te kom, om te vergeet? Dis jy, en jy weet dit! Maar nou is ek van jou los. Ek kan skei - ek kan weer trou - ek gaan weer trou - met die een wat ek liefhet.
[druk die koppie aan sy mond, en hy sluk]:
So! Elke slukkie help. Ek ken hom mos al.
['n bietjie kalmer]:
Ons het mekaar nooit liefgehad nie, Mina. Ek weet vir wie ek kon liefgehad het - jy weet dit self - en Nelie -
[hy kyk vir Nelie aan, en praat met sterk aandoening]
- weet jy dit ook, Nelie? Vir jou. Dit was jy. Dit sal altyd jy wees.
[Nelie naai maar asof sy niks hoor nie.]
Moet nou nie verspot wees nie. Drink jou koffie klaar, en moenie weer praat voordat jy weet om jou woorde te weë nie.
Nelie sou my verstaan het. Ek sou vir haar gewerk het - nooit aan die drank geraak het nie - 'n sukses van my lewe gemaak het. Nelie
[sy stem word swakker, asof hy meer met homself as met die ander praat],
hoekom het jy nie seminarie toe gekom nie? Hoekom het jy nooit met ons kom saamspeel nie? Hoekom was jy so volmaak, hoekom nie so 'n bietjie verspot dat 'n mens kon vatplek kry nie? Hoekom...?
[Hy laat sy kop sak, en swyg.]
[aan die ander]:
Nou 'n kort slapie - by 'n oop venster, dat hy die lug kry. Dan is hy in 'n paar minute reg.
[Sy trek hom op.]
Kom, Hendrik.
[Hy volg haar gedwee, en sy stap met hom by die gangdeur uit.]
Ai, Nelie, wat dink jy daarvan?
[Nelie werk maar aan die naaigoed en sê niks.]
Dat ek my dogter in 'n goeie familie laat trou, met 'n kêrel wat op die oog so ordentlik is, en dat ek op my oudag sulke tonele moet belewe! Asof my beker nie al vol was nie!
[Sy sug.]
En ek met my swak hart - is dit nie om van te beswyk nie?
[Nelie bly
| |
| |
nog stil.]
Maar praat dan, Nelie - of
[sakdoek uit]
het jy ook geen gevoel vir my nie?
Ja, ja, Ma; dit is treurig.
En wat moet ons nou doen?
Wel, Mina dan.
[Stilte.]
Toe, Nelie, het jy nie raad nie?
Sy moet maar sorg dat sy hom nie weer rede...ag, ek weet ook nie. Dis mos nie my saak nie.
Ons kan haar tog nie na daardie lewe laat teruggaan nie.
Dan moet hul glo maar skei - dit lyk dis wat hul altwee op mik.
En dan die skande op my - op ons familie? Nelie,
[snik weer]
jy weet hoe ek op ons eer en op ons godsdiens gesteld is - het jy geen respek vir my gevoelens nie? Het jy...?
[Mina kom by die gangdeur in. Sy gaan sit. Stilte. Mev. Venter sug maar.]
Wel? Het ek 'n gesprek gesteur? Dan was dit natuurlik oor my.
Wat kan jy anders verwag as jy met sulke gedoentes in die huis kom inval?
Dan gee jul vir my die skuld?
O, nee, my kind - ten minste, nie ek nie.
[met 'n bittere trek op haar gesig]:
O, maar Nelie dan. Sy sou hom natuurlik in orde gehou het. - Nie waar nie, Nelie?
[Nelie werk maar in stilte voort.]
Jy sou natuurlik van hom 'n ander man gemaak het. Dis wat jy wil sê, nè? Toe, ontken dit nou, as jy kan.
Jy vra daarom, hoor Mina. Nou sal jy dit kry ook. Ja, hy sou 'n ander man gewees het, as hy 'n vrou gehad het wat net 'n bietjie... Nee, wag, laat ek my mond hou. Dis julle sake, en ek moet my daaruit hou. Ek sal tog geen goed kan doen deur in te meng nie.
Ag tog, die wonderbare Ousus, wat so vir die goeie is! Dié modelmens! Dié kan haarself altyd so presies op die regte spoor hou - en ander mense ook as hul dit wil toelaat. Wel, Ousus, is dit 'n salige gevoelte om so volmaak te wees - soveel beter as ander mense?
Mina, gee dit jou plesier om my te tempteer? Waarom laat jy my nie met rus nie - soos ek vir jou?
O, jy laat my met rus, nè? Met jou woorde miskien - maar met jou gedagtes ook? Dink jy dat ek te blind en te onnosel is om dit te lees? Hoe jy op my neergesien het - van kleins af, toe Ma maar aaneen vir jou opgehemel en vir my afgehaal het - omdat jy kamta so goed en deugsaam was en ek so wild en onnutsig! Hoe die afguns in jou binneste opgekom het as ek keer op keer die moed het om my geluk te gryp, en jy joue laat verbygaan solank as jy sit en prakseer hoe om goed te wees!
| |
| |
Dis omdat jy daardie afguns gehad het, nou verbeel jy jou dat ek ook...
En as ek soms daardie gevoel het, wie wek dit by my op? As ek sien hoe jy jou wil beter hou as ek, dan moet ek mos innerlik lag wanneer ek jou die loef afsteek! Wanneer jy moet betaal vir die goedigheid waarop jy so roem! Wanneer ek selfs, as ek wil, jou kêrel voor jou neus kan wegvat en...
Toe maar, Ma, ek weet wat ek sê klink aaklig en wat Nelie sê klink lieflik. Maar op die bodem waar ons eerste ingewings vandaan kom is ons baie eners - is alle mense wonderlik eners - net die een kan smoor wat die ander laat losbreek. Ek het mos vir Nelie fyn opgelet toe Hendrik netnou met sy ontydige liefdesverklaring voor die dag kom. Sy het niks gepraat nie, maar ek het gesien hoe vinnig haar asem gaan - wat 'n saligheid oor haar gesig...
[opgewonde]:
Mina! Dis genoeg!
O, dit was vir jou heerlik. Stry nou! Stry nou!
[met sterk gevoel]:
Dis nie dat ek jou man uit afguns voor jou neus wil wegvat nie, dit weet jy goed. Maar jy het self van hom weggeloop - jy wil hom nie meer hê nie. Dis dat...dat jy hom nie liefhet nie, en...
[sy aarsel].
[heftiglik]:
Ja - as jy dit dan wil weet - ja, ja, ja! En nou het jy dit.
A! En nou het ons dit ook. Die deugsame Ousus! Die engel van 'n mens, wat nooit 'n bose gedagte...
[spring op, byna snikkend]:
Jy is 'n giftige slang, Mina. Jy is 'n duiwel!
[Met die sakdoek voor die gesig gaan sy haastig by die gangdeur uit.]
Ek het mos geweet dat daar agter daardie vrome houding ook 'n duiweltjie sit. Sy hou hom net goed toegedek; maar nou het ek hom darem 'n slag die gesplete hoef laat wys.
Ai tog, my kinders, my kinders! Waar kom jul aan so 'n gees van twis en vyandskap! Nie in my huis nie, waar ek julle net liefde en opoffering leer ken het. Het julle geen jammerte vir my nie?
[staan op en omhels haar moeder, en bars in trane uit]:
En vir my dan, Ma? Ma sien wat ek deurmaak. Kan ek daarvoor dat my senuwee dit nie meer kan hou nie? Of ek daar self skuld aan het of nie - dit maak dit nie ligter om te dra nie. Ek weet ek doen lelike dinge. Ek sê somaar hardop wat ek nie eens saggies behoort te dink nie. Maar ek kan myself nie meer in toom hou nie.
| |
| |
Mina, my kind, kyk hoe bewe jy. So kan dit nie voortgaan nie. Ons sal iets moet doen.
Dit weet ek nie. Dit weet ek nie. Dit lyk my ek sal maar my trots en my eergevoel in my sak moet steek, en toesien dat - ja - jy sal maar van Hendrik moet skei, Mina. Nelie sê dit ook.
[verander dadelik haar houding]:
O, Nelie sê ook -? En wat moet dan van my word? Ek moet die helfte van die boedel kry, maar soos dinge vandag is, as hul die plaas aan die een kant gooi en Hendrik se skulde aan die ander, dan weet ek nie of ek nie nog moet inbetaal nie. Dan sal ek hier vir Ma moet kom oppas, en naaiwerk doen vir my kos en klere, en Nelie sal die nooi speel in die mooi groot huis - in my huis! Dink Ma ek kan somaar goedsmoeds so 'n toekoms...?
[Fanie kom by die voordeur in.]
Lekker gery! En raai, Ma, wat nog die beste was: die kar het vasgesteek, en ons het moet werk daaraan, onder 'n straatlamp, en ek het dit weer aan die loop gekry, en mnr. Naudé sê dat as ek nie daarby was nie...
Hier naasaan by sy swaer, Ma. Hoekom...?
Loop dadelik, Fanie, en vra hom of hy sal omgee om ons almal terug te neem, huis toe.
In die nag - oor die berg - met 'n motor! O, dit sal heerlik wees!
[Fanie by die voordeur uit.]
Nog 'n pure kind, nè. Al die treurigheid van sy ouers - dié word alles vergeet, as hy net 'n motorrit kan kry.
Ja, hy is absoluut 'n kind. Dis dié dat hy nog gelei moet word. Iemand anders moet vir hom besluit. Maar hy sal goed regkom. Ma sal sien, hy sal somaar een van die dae met Celia trou, en dan die plaas oorneem, en dan is hy gered en ons ook. Dis wat Hendrik eenvoudig nie wil insien nie. Maar noudat Hendrik so dom-dom in my hande gespeel het...
[Hendrik kom by die gangdeur binne.]
A, hier is ons, vars en uitgerus - en klaar om huis toe te ry, hoor!
Ja. Dis alles gereël. Fanie is nou net weg om vir mnr. Naudé te roep. Ons kan ry sodra hy kom.
Wil jy al weer meekom huis toe?
Natuurlik. Wie se huis is dit miskien?
Jy het darem gou jou plan verander.
| |
| |
As jy my nie wil terug hê nie, waarvoor het jy agter my aangekom?
Ja, nè, dit wonder ek nou self. Dit was somaar weer my voortvarendheid.
Dit hoef jy my nie voor die kop te gooi nie. Ek wil vir Ma verskoning vra dat ek in dié toestand hier aangekom het - ek het daar inniglik spyt oor, Ma - maar jy, Mina, wat my desperaat maak, en dan...
Bly nou liewer kalm, Hendrik. Die gespartel sal jou niks help nie. Ek ken mos nou die wet - noudat ek 'n prokureur gekry het om my dit voor te sê. As ek huis toe gaan, kan jy nie 'n egskeiding kry nie - te meer nadat jy openlik 'n bekenning van liefde vir 'n ander vrou...
O, noudat jy weer by jou positiewe is, wil jy daar liewer nie aan herinner...
[Fanie kom by die voordeur in.]
Motor voor die deur. Sal ek maar oppak?
[Hy neem van die bagasie en dra dit uit.]
Kyk, Mina, dis tog nou duidelik dat ons twee nooit weer gelukkig sal kan saamlewe nie. Ons was ook nooit gelukkig nie. Ek het op my troudag besef dat dit 'n fout was, en ek reken jy ook. Ons het vyf-en-twintig jaar lank probeer om daar die beste van te maak. Dit was 'n hopelose poging, en die spanning het nou vir ons altwee te veel geword. Laat ons nou die posisie in die gesig...
[Fanie kom weer in, en Hendrik swyg. Fanie neem die bagasie wat oorbly.]
Dis ál, nè. Dan is ons klaar. Ek sit net die goed op, hoor, Ouma, en dan kom ek dagsê.
[Fanie weer uit.]
Laat ons dit in die gesig kyk, soos verstandige mense, en bespreek wat die beste en maklikste en stilste...
Daar is niks te bespreek nie. Ons ry huis toe, dis ál.
Maar Mina, luister dan net...
Ek gaan my hoed opsit. Kom Ma saam?
[Sy help vir mev. Venter om op te staan. Hendrik staan hulpeloos. Fanie kom weer in.]
Alles reg om te trek. Kom maar, mense. Dag, Ouma.
[Hy soen haar.]
Dag, my kind. Kom kuier maar gou weer, hoor, en bring weer jou mammie mee.
| |
| |
Waar is tant Nelie dan?
[Hy roep in die middeldeur]:
Tant Nelie! Ons wil groet, ons ry.
[Onderwyl Mina met mev. Venter oor die kamer sukkel, kom Nelie by die middeldeur in.]
Ja - met die motor, tant Nelie, oor die berg. Lekker, nè? Dag, tant Nelie.
[Hy soen haar. Mev. Venter en Mina stap by die gangdeur uit.]
Dag, Fanie. Jul moet versigtig ry, hoor.
[reeds in die deur]:
Toe maar, Tante, ek weet mos hoe daardie ding se ratte inmekaar sit.
[Fanie by die voordeur uit.]
Nelie, ek vra om verskoning. Ek weet ek het 'n gek van myself gemaak.
[Nelie gaan swygend by die tafel sit.]
Sal jy my vergewe, Nelie?
Ja, natuurlik - as daar iets te vergewe is.
Dat ek myself so vergeet het - dat ek op so 'n manier en op so 'n tyd dinge uitgeblaker het...en tog, Nelie,
[hy buig nader, en praat met gevoel]
die wyn het maar uitgebring wat in my hart was. Miskien is dit maar goed; want as ek nugter was, het ek nie gedurf om dit aan jou te sê nie. Nou weet jy dit. Ek weet nie hoe jy daaroor voel nie - ek mag jou dit nie vra nie, want ek is 'n getroude man - getroud met jou eie suster - en ek weet hoe sterk en hoe streng jou morele en godsdienstige oortuigings is. Maar, Nelie, ons raak altwee aan die ou kant. Ons het die jare van begeerlikheid reeds agter die rug, en wat ons vandag vir mekaar kan voel is net die reinste geestelike verwantskap. Gee dit ons nie die reg om te praat soos ons vroeër miskien nie mag gepraat het nie? 'n Mens het maar een lewetjie op aarde, en ons s'n - joue en myne - is aan 't verbygaan. Is daar geen manier om 'n fout te herstel nie, om 'n geluk agterna te jaag wat jy eenmaal laat glip het? Het jy geen plan nie? Is daar niks wat ons kan doen nie?
[Nelie skud haar kop.]
[in opgewondenheid]:
Weet jy, Nelie, ek voel partykeer so - ek wil net ruk en breek - die konvensies, die kamtige beskawing, selfs die godsdiens...
Ag, Hendrik, wat baat dit nou? As daar niks te doen is nie, moet ons berus - dis ál.
En probeer vergeet - en ongelukkig, as ek wil vergeet - jy weet self...
| |
| |
Nee, Hendrik, ons hoef nie te vergeet nie - solank as ons dit nie lelik maak nie. Ons sal daar nie weer oor praat nie, maar sal dit onthou, elkeen in sy eie hart, as iets moois en edels wat in ons lewe gekom het en wat ons mooi en edel behou het. Daarom moet ons vir ons so gedra dat...
[Mev. Venter en Mina kom by die gangdeur in, laasgenoemde klaar vir die reis.]
O! Jammer om te steur! Dag, Nelie.
[Sy soen haar, taamlik kouerig. Nelie duld dit ook maar net.]
Tot siens, Moedertjie.
[Hulle omhels en soen.]
Tot siens, my kind. Mag die Here jou bewaar!
[wat intussen die voordeur oopgemaak het]:
Dag, Nelie. Dag, Ma.
[Hy gee vir beide hand.]
Dag, Hendrik. Jy sorg mooi vir my dogter, hoor.
[lag]:
Asof ek nie vir myself kan sorg nie.
[In die deur.]
En jy, Nelie, sorg jy maar mooi vir my ou moedertjie.
[Mina en Hendrik af. Mev. Venter staan nog 'n rukkie in die voordeur. Die motor toet, en sy waai met die hand. Dan kom sy binne, trek die deur toe, en neem haar ou plek in die leuningstoel in. Nelie het intussen weer by haar werk gaan sit. Sy het somaar voor haar gesit en uitkyk, maar sodra sy merk dat mev. Venter ingekom het, sit sy haar bril op en begin sy met die masjien te werk.]
Ai, dit was 'n dag, nè? Ek is verwonderd dat my hart dit gestaan het. As ek maar kon dink dat ál die moeilikhede nou verby is! Maar ek voel tog so bekommerd oor Mina. Dat sy weer met daardie kêrel moet huis toe gaan! 'n Man wat nie sy maat by die wynfles ken nie, en wat voor sy vrou se oë van liefde gaan babbel met 'n ander! En jy, Nelie - jy kan nie dink hoe jy my geskok het nie. Jy wat as my lieflingskind aan my knie grootgeword het, met die oop Bybel gedurig voor ons - verlief op 'n getroude man, en nie skaam om daar somaar mee uit te kom nie en...
[spring op, heftig]:
Nog een woord, Ma, en ek loop hier uit - weg - dat Ma my nooit weer sien nie.
Maar Nelie! En ek, wat hier hulpeloos sit, met 'n hart wat enige oomblik...
Dis reg. Dink weer net aan Ma se eie kwale en kwellinge, en roem dan op moederliefde! Wat in my omgaan, wat ek dink en voel en begeer en mis, daar het Ma nog nooit 'n gedagte voor oorgehad nie.
Ai, dat ek sulke ondankbaarheid van 'n kind wat ek...
[stap tot voor mev. Venter en gryp haar in opgewondenheid aan die skouers]:
Ondankbaarheid? Waarvoor moet ek dankbaar wees? Dat Ma my in 'n wêreld gebring het waar geluk te vinde was, maar
| |
| |
ek mag dit nooit gaan soek het nie, uit vrees dat ek sou wegdwaal van die moederliefde wat my soos 'n voël in 'n kou...
[Mev. Venter het haar kop in 'n swym vooroor laat val.]
Ma! Ma!! Wat is dit? Wat is dit? Praat dan, Ma!
[Sy help haar ma - stoot die hare van die voorkop weg en vrywe die polse. Mev. Venter kom weer by.]
[soen haar hartstogtelik]:
My moedertjie! Gaat dit beter?
Ja, Die ou hart. Toe maar. Dit kom nou reg.
A. Dis fluks. Ai, maar Ma het my laat skrik.
['n Kort pouse. Nelie lawe maar nog.]
Nelie, my kind, was ek 'n baie slegte moeder vir jou?
[aangedaan]:
Nee, Ma, nee - Ma was lief en dierbaar.
Ek was miskien onkundig, Nelie, miskien onverstandig, en onbedagsaam - maar ek het jou liefgehad - en jy moet vir my ook liefhê, Nelie - noudat ek dinge nie meer kan verander nie, nou moet jy nie vir my kwaad wees nie.
[sak naas mev. Venter neer, met die kop in haar skoot]:
Nee, Ma, ek is nie. Dit was net vir 'n oomblik. Ek weet Ma het dit nie so gemeen nie - Ma het dinge nie so gesien nie. Ek weet Ma het my liefgehad.
[Sy soen die hande wat mev. Venter op die skoot laat lê.]
[Skerm] |
|