Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 70]
| |
Hoofstuk 7
| |
[pagina 71]
| |
Reg deur die boek word ons attent gemaak op die lewensomstandighede van die mense waar George besoek aflê. Let op die volgende bladsye: 21: ‘die liggaamsreuk van iemand wat op die land werk’; 34: ‘die ouderwetse ledekant, die wastafel met gekraakte marmerblad...’; 51: ‘Sy lyk soos 'n seun in haar werkklere...’; 52: ‘... en nou kom jy goedgunstiglik kyk hoe dit gaan met ons wat agtergebly het, jy met jou duur klere...’ 58: ‘Skielik verloor George sy humeur oor die gestrompel in die donker gang...die skelheid van tant Miemie se stem, Bettie se opdringerige heupe...’; 87: ‘Maar jy kyk tog op ons neer,... armoedige boere wat hier in 'n uithoek sit met hulle skape en hul mielies en probeer om aan die lewe te bly...’ 101: ‘George sien 'n middeljarige man met 'n uitgerafelde snorretjie, 'n vrou met rooigemaakte wange, en drie opgeskote meisies wat hulle skamerig en giggelend terughou...’; 102: ‘Die vrou wat binnekom...Bo-op daardie geweldige romp lyk die kop byna belaglik met die helder oë...’ 121: ‘Ons lewe hier is 'n ernstige saak...ons moet veg vir ons bestaan. Daar is nie tyd vir nuttelose dinge nie.’ 129: ‘Die boordjie is gerafel langs die rand,...en die kraag van die baadjie vetterig verkleur, en hy voel skielik moeg en teensinnig, sodat hy gaan sit sonder om verskoning te maak’; 151: ‘“Ons praat 'n ander taal,...al klink die woorde ook dieselfde...”’. Aangesien alle ervarings en alle waarnemings vanuit die oogpunt van George, die waarnemer/verteller, is, kan mens sy instelling teenoor die mense van die wyse waarop hy hulle beskryf, aflei. Dit is duidelik dat hy nie besonder positief teenoor hulle voel nie, dat hy hom eintlik op 'n afstand van hulle voel, dat hy hulle eintlik effens benede hom sien. En die skrywer is medepligtig aan hierdie gevoel: dit word die duidelikste geopenbaar met betrekking tot die gedigte waaruit daar so kwistig aangehaal word (bl. 121-123). Hierdie gedigte is deur Schoeman self geskryf, doelbewus swak. Ons het duidelik te doen met 'n klasse-afstand hier. Die konsep ‘klas’ kan as volg gekwalifiseer word: ‘... classes are abviously not sums of individuals...it is impossible to make a class by adding individuals together on whatever scale. Classes are functions of the process of production as a whole. They are not its subjects, on the contrary, they are determined by its form.’Ga naar voetnoot2) Dit bring mens dan by die kwessie van produksie, van produksiemagte en produksieverhoudings, by die feit dat 'n maatskappy bestaan vanweë die produksieproses - waaruit dan ook die geskiedenis kom: ‘The growth of human power is the central process of history. The need for that growth explains why there is history. “Men have history because they must produce their life”’.Ga naar voetnoot3) | |
[pagina 72]
| |
Hierdie produksie van lewe, wat deel van die proses van die geskiedenis is, bepaal dan uiteindelik watter klasseverhoudings daar tussen mense sal bestaan - indien daar sodanige klasseverhoudings is - en dié verhoudings binne 'n kapitalistiese maatskappy word bepaal deur die plek van die mens binne die netwerk van besitsverhouding.Ga naar voetnoot4) In Na die geliefde land produseer die skrywer drie maatskappye: 'n idilliese bestaan in die verlede, wat vervang is deur 'n armoedige en agterlike bestaan in die hede, en aan die periferie 'n buitelandse bestaan. Deur George se koms na die geliefde land word die maatskappy van die verlede herproduseer, of gereproduseer. Die implikasie van hierdie reproduksie is dat die huidige maatskappy (in die teks) onbevredigend is (dis as mens dialekties redeneer); maar daardie reproduksie is ideëel, die huidige is die werklik-materiële. George se koms aktiveer feitlik letterlik Althusser se siening van ideologie as ‘A “representation” of the Imaginary relationship of individuals to their real conditions of existence.’ Representasie = reproduksie; en die maatskappy van die verlede - wat verby is - is die verbeelde, wat as 't ware dubbel verbeel word, aangesien dit nog in die fiktiewe romanvorm voorkom. Ons het dus hier: klas, wat saamhang met produksieverhoudings, ideologie, wat saamahang met bestaansomstandighede, geskiedenis, wat as verlede fungeer; en drie produksies (reproduksie) van sodanige bestaansomstandighede (‘conditions of existence’). Daarby impliseer klas en ideologie, konvensioneel Marxisties gesien, natuurlik die aanwesigheid van kapitalisme. Maar die eerste taak is om dié drie maatskappye te identifiseer - dus te her-reproduseer (dit is die taak van die leser: sy/hy moet dus reproduseer wat alreeds in die teks geproduseer en gereproduseer is). Die maatskappy/gemeenskap wat in die hede van die boek figureer is eenvoudig, armoedig, met brood en koffie vir middagete en pap en boontjies vir aandete; met harde en droë beskuit en koppies net half geskink; en selfgedraaide sigarette, waar vroue ouderwetse tabberds dra en die mense redelik vraatsig te kere gaan wanneer hulle per geleentheid by mekaar kom om skaars skaapvleis en slaaie te eet en te veel selfgestookte brandewyn te drink. Dis 'n gemeenskap wat alles verloor het en waar die dae bestaan uit harde werk op die plaas, vroeg opstaan en omsien na skape en mielies en koeie en groente en aartappels koöperasie toe neem. Die mense is slordig en geïsoleerd, met min tyd vir ontspanning of gesellige saam verkeer. Die weer is meestal tries en herfserig, die paaie sleg, tuine en landerye verwaarloos en huise vernietig; die kamers in huise kil en troosteloos, met portrette van voorvaders en nie oral ligte in huise nie; waar ouer mense die dinge van die verlede koester, of in die verlede leef en die hede ontken. Die boere is - skynbaar - weggedryf vanaf die stede waar hulle eers gewoon het; hulle is ontmens en leef - skynbaar - onder druk van 'n | |
[pagina 73]
| |
burokrasie of 'n diktatuur, skynbaar met aanhoudings en teregstellings sonder verhoor. Dit is 'n beleërde maatskappy. Só het George dit eerste ervaar: ‘En dus het hy gekom, die eerste van die geslag wat in die vreemde grootgeword het. Hy het die gloed van die sonsondergang gesien en die skielike donker van die nag; hy het vreemde, onverklaarbare klanke in die verte gehoor. Aanplakbiljette en slagspreuke op die mure in tale wat hy nie kan verstaan nie, papier wat reeds begin lostrek en afrafel; die felheid van die son en die hitte van die dag, opgestapelde bosse vlamhelder blomme, opgestapelde massas vreemde vrugte met die ryk, soet geur van ontbinding. Hy het die ontelbare, anonieme menigtes van die bushalte en stasieperronne gesien, die kinders gehoor in hul spel, en die mans wat onder mekaar praat terwyl hulle van die werk af kom. En toe het hy hierheen gekom, na hierdie mense wat syne is, na hierdie grond wat nou aan hom behoort, hierdie aarde, klippies en gruis’. (bl. 63-64) Dis skynbaar 'n maatskappy wat deur 'n vreemde mag vernietig is. Maar weer: skynbaar, want Schoeman werk hier met wat mens kan noem die ideologiese teken, dié teken wat sê ‘vernietiging/destruksie’ - en verder hoef hy dan nie te gaan nie, want die politiek-bewuste leser kan die interpellasie maak, kan die semiotiese snap.Ga naar voetnoot5) Hierdie maatskappy het die vorige vervang. Ons moet nou daardie vorige maatskappy her-reproduseer uit die reproduksies van die ouer mense en van George. Dit het só gelyk. Erfplase kon met geld en volk onderhou word; daar was welgestelde mense, in akademiese kringe belangrike mense, in die regte en die politiek, mense met titels. By troues was daar ministers, Weermagmense, sewehonderd gaste. Daar was vyf ‘meide’ in die huis, en nog meer as daar die dag skoongemaak word. Meisies het nooit nodig gehad om iets in die huis te doen nie, en hulle het tennis gespeel, gedans en bioskoop toe gegaan. Dit was 'n wêreld van direksiekamers, senaatsvergaderings, prestasies, onderskeidings, besittings, winste, verowerings en beleggings in die buiteland. George se ouers, in die diplomatieke diens, was hooggeplaastes; en die plaas waarna hy kom soek, het aan sy familie behoort; hy het dit van sy moeder geërf, en George is altyd deur klein Mieta opgepas wanneer hulle plaas toe gekom het. Hulle was besitters - en George het ook nou gekom om in besit te neem wat syne is. Dit was 'n goeie tyd en die mense het 'n beter lewe geken. Hulle het onthaal, talle skape geslag vir vleisbraai, waar Ministers by was, die burgemeester en die hele stadsraad. Daar is gepraat oor geld, hotelle, bediendes, gastelyste, vakansieoorde, klere, karre. Rietvlei was 'n ware lushof: die plaashuis was groot, met baie vertrekke en groot kaggels. Selfs dié wat nie direk ingeskakel was by die kapitalistiese hegemonie nie, kon goed leef, het 'n goeie huis in die stad gehad, was owerstes oor dertig ‘kaffers’. | |
[pagina 74]
| |
Alles dui dus op 'n maatskappy wat met grasie en met gemak geleef het (vgl. N P van Wyk Louw se gedig ‘Nuusberigte’ in Tristia), en in weelde. 'n Kapitalistiese maatskappy met 'n besitters- en 'n proletariaatklas. Diegene van die besittersklas wat hierdie wêreld moes verlaat kon toe in Europa iets soortgelyks reproduseer. Die wêreld waarin George woon, bestaan uit skilderye, etse, boeke, juwele, 'n villa net buite Lausanne, 'n Europees-verfynde atmosfeer, met besoeke aan Parys, Londen, die Italiaanse mere, die Dordogne. Opera, ballet, wyn, truffels, mooi klere, ens. Maar omdat hulle in Europa nie werklik kon reproduseer wat hulle in Suid-Afrika gehad het nie, het hulle terugverlang - en George se moeder was daarin die hooffiguur van verlange. Die wyse van produksie van die vroeër, gevalle, maatskappy verskil duidelik van die produksiewyse en produksieverhouding van die huidige maatskappy in die teks. Wanneer daar gepraat word van produksie en produksieverhoudings, dan word daar gewoonlik ook gepraat van ideologie, as voorstelling, dus ook 'n reproduksie waarin ‘verbeelde’ en ‘verhoudings’ belangrike konsepte is, en waar die konsep ‘klas’ onafskeidbaar is. Twee aanhalings uit Louis Althusser sal die verbondenheid van die konsep ideologie met klas en produksie duidelik maak: a. ‘It is only from the point of view of the classes, i.e. of the class struggle, that it is possible to explain the ideologies existing in a social formation.’ Alhoewel ons as lesers die maatskappy van die verlede moes her-reproduseer, het ons nietemin 'n duideliker beeld/voorstelling van daardie wêreld as van die een waarin die karakters in die boek leef. Afrikaanse, eietydse, letterkundiges soos Elize Botha en J C Kannemeyer probeer ook vasstel en vra ook hoe hierdie wêreld van die hede lyk (bls. 536-537: Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig, en bl. 537: Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur) - en basies is albei ontevrede met die huidige realiteit van die boek.Ga naar voetnoot7) Waarom is die maatskappy van die verlede dan vir ons duideliker alhoewel daar minder daaroor gesê word? Die antwoord lê daarin dat daardie maatskappy soos ons huidige wêreld is; dit is dus herkenbaar as ons eie (en herkenbaarheid = 'n beroep doen op = interpellasie = 'n definitiewe eienskap van die ideologie, van die mens se verhouding tot sy bestaansomstandighede). Daardie wêreld is dus uiteindelik nie 'n reproduksie (in die boek) nie, maar slegs die weerspieëling van 'n bekende wyse van produksie, nl. die kapitalistiese. Daardie wêreld word geïdealiseer deur die ou mense, en deur George wat dit kom soek - m.a.w. die verbeelde word verkies bo die werklike bestaansomstandighede. George kan nie daardie | |
[pagina 75]
| |
‘verbeelde’ werklikheid vind nie, en by die ‘werklike’ kan hy nie aanpas nie - daarom moet hy terugkeer na Europa, waar lewensomstandighede bestaan wat 'n spieëlbeeld is van die produksiewyse - nl. die kapitalistiese - wat hier in Suid-Afrika in die verlede bestaan het. Die bestaansomstandighede wat in die teks in die verlede bestaan het en geïdealiseer word, waarvan die ‘mooi dinge’ wat uitgehef is, ooreenkom met die deursneë wit, bourgeois, Afrikaanse leser se huidige bestaansomstandighede; die wêreld waarna verlang word, is duidelik die verlore ‘state of grace’, die beter wêreld. En dit was klaarblyklik 'n soort kapitalistiese hegemonie. Waarom het hierdie wêreld verdwyn? (Botha vra dieselfde vraag: bl. 537). Om hierdie vraag te beantwoord, moet mens Schoeman se toekomsprojeksie en die leser se verhouding tot die twee maatskappye in ag neem, deduktief histories en ideologies probeer dink - want Schoeman gee weinig aanduidings van die materialistiese oorsaak van die verdwyning van daardie wêreld. Vanuit die huidige bestaansomstandighede in die teks, wat tegelyk die geprojekteerde en gesuggereerde toekomstige omstandighede vir die leser is, moet ons die redes vind. Waar is die kousaliteit? Dié soort toekomsprojeksie het al 'n ideologeem geword: die vernietiging, agteruitgang, aftakeling, verbreking van strukture, met die implikasie van 'n permanent vernietigde wêreld (vgl. J M Coetzee, The life and times of Michael K., en Nadine Gordimer, July's People). Maar dan is dit 'n ideologeem omdat daar nie rekening gehou word met die historiese materialisme nie, of omdat dit geïgnoreer word, óf omdat dit nog nie die bewussyn van skrywers deurgedring het nie, óf omdat dit verdring word - 'n mens sou miskien sou miskien selfs kon praat van ideologie in dié geval as ‘a strategy of containment’. Die ideologeem in hierdie teks van Karel Schoeman kom dus daarop neer: die vernietiging van 'n kapitalistiese maatskappy met sy klas en sy besitters kan net as gevolg hê 'n armoedige, agterlike, geïsoleerde, beleërde maatskappy in die hande van 'n vae diktatuur. Volgens Marx is daar vier progressiewe tydperke in die ekonomiese vorming van 'n maatskappy (en as uitgangspunt moet mens dit ook in gedagte hou: (Volgens die materialistiese siening van geskiedenis is die fundamentele determinant in die geskiedenis die produksie en reproduksie van die lewe self). Die vier eras is dan: 1. Pre-klas maatskappy (primitiewe kommunisme), 2. Pre-kapitalistiese, klassemaatskappy (feodaal), 3. Kapitalistiese, klassemaatskappy, 4. Post-klassemaatskappy (sosialisties).Ga naar voetnoot8) En dis dan interessant om daarop te let dat kapitalisme die wegbereider vir sosialisme is: ‘Development of the productive forces of social labour is the historical task and justification of capital. This is the way it unconsciously creates the requirements of a higher mode of production.’Ga naar voetnoot9) En ook bl. 202: ‘The violet destruction of capital not by relations external to it, but rather as a condition of its self- | |
[pagina 76]
| |
preservation (di. kapitaal moet, om voort te bestaan, gedurig in krisis verkeer) is the most striking form in which advice is given it to be gone and to make way for a higher state of social production’. Die maatskappy van Geliefde land is klaarblyklik nie in ‘a higher state of social production’ nie. Die skrywer het dus nie aan historiese materialisme aandag geskenk nie - omdat hy dit sekerlik nie as belangrik of betekenisvol beskou nie. Die verlede was die ideaal en kapitalisme is die norm. Daarteenoor is daar egter van die karakters binne die bestaansomstandighede, soos geskets in die teks, wat bereid is om daardie werklikheid te aanvaar. Carla wil nie in opstand kom teen ‘hulle’ (die diktatuur) nie, en sý wil nie weggaan (Europa toe) nie. Sy is dus in werklikheid sonder ideologie: daar is geen verbeelde, verdoeselde verhouding tussen haar en haar werklike bestaansomstandighede nie. En die skrywer, en George, is simptatiek teenoor haar: so simpatiek dat ‘hulle’ haar wil verwyder, dus binne 'n ideologie wil laat voortbestaan. Daarom is sy verward: sy sou die tipe kon wees van die postkapitalistiese mens wat in 'n nuwe, ander, produksiewyse kan opgaan (bl. 150: ‘Ons moet leer om in hierdie nuwe wêreld te lewe’, en: ‘Ek wil my deel bydra, nie eenkant sit en verkommer in 'n droomwêreld nie. Ek wil iets uitrig; ek wil lewe ...’). Maar sy sou slegs in daardie wêreld kon opgaan as haar skepper (die outeur) vir haar iets van die ‘nuwe wêreld’ kan wys wat positief is, wat potensiaal het en wat die suggestie bevat dat die skrywer bewus is van die geskiedenis - al is dit slegs as ‘afwesige oorsaak’ (Althusser). Want as die ‘nuwe wêreld’ nié duidelik gesien kan word as post-revolusionêr, dus postkapitalisties, dus gedetermineer in terme van die historiese determinisme as die begin van sosialisme nie, dan het daar géén revolusie in hierdie boek plaasgevind nie (en kritici praat van 'n revolusie: cf. Kannemeyer, bl. 535) - geen revolusie, slegs 'n vae katastrofe, of iets soos 'n natuurramp: ‘in any moment of history in which social cataclysm does not take place there is only, so to speak, the “not-revolution” that has never occurred. So what is visible, there for interpretation, is the way the ideological structure registers the strain of having kept it repressed’Ga naar voetnoot10). Dan het ons weer hier 'n geval van verdringing. Buiten Carla en Gerhard pas die siening van die geskiedenis deur die karakters in hierdie teks absoluut konvensioneel binne die ideologiese patroon van die Afrikaner: ‘hy moet die verlede hê as fondament waarop hy verder kan bou’ (bl. 106), die verlede word geïdealiseer in nostalgiese herinnerings: ‘... ons handjievol het 'n ernstige, ek wil selfs sê heilige taak, om ons erfenis te handhaaf en te verdedig ...’ (113), ‘Dis belangrik dat dit nie vergeet word nie ...Soms voel ek dat dit 'n plig is wat ek het om te sorg dat hier die dinge bewaar bly en die mense te herinner aan wat daar gebeur het’ (bl. 132). Hulle pas dan ook mooi binne die kategorie van diegene wat die hede beleef in die metafore van die verlede: ‘The tradition of all the dead generations weighs like a | |
[pagina 77]
| |
nightmare on the brain of the living. And just when they seem engaged in revolutionising themselves and things, in creating something entirely new, precisely in such epochs of revolutionary crisis they anxiously conjure up the spirits of the past to their service and borrow from them names, battle slogans and constumes in order to present the new sciene of world history in this time honoured disguise and this borrowed language ... In like manner the beginner who has learnt a new language always translates it back into his mother tongue, but he has assimilated the spirit of the new language and can produce freely in it only when he moves in it without remembering the old and forgets in it his acestral tongue’.Ga naar voetnoot11) Al hierdie eenselwige sienings van die geskiedenis word in die teks geteleskopeer binne die milieu van die ete en die samesyn; binne die muwwe, groteske wêreld van ou dinge en ou portrette en tradisionele handelinge, binne die ideologiese tekens van die ouer Afrikaner - sodat die geskiedenis self 'n ideologiese teken word. Die kontrastering tussen George en dié mense - en ons moet onthou dat George en die outeur kan vereenselwig word, én dat George die esteet is - dié kontrastering veroorsaak 'n nihilering, 'n bespotting van hulle ideologiese tekens. Impliseer dit dan dat die skrywer ook hulle siening van die geskiedenis denigreer? Tog nie, want George soek juis ook na die verlede, idealiseer ook. Hier is moontlik 'n kontradiksie wat die skrywer se geskiedenisbeeld betref. Hy gee geen alternatiewe konsepte by wyse van Carla en Gerhard nie. Albei wil dóén: Gerhard (en Carla se broer) d.m.v. 'n retrogressiewe, reaksionêre opstand (‘... op loop met 'n mond vol verslete ou slagkrete ...’), en Carla deur 'n verwerping van die verlede wil iets bydra tot 'n nuwe wêreld. Maar dit gebeur aan die einde van die teks wanneer sy ook hierdie wêreld gaan verlaat. Sy én George verlaat dié wêreld. Ons weet waarheen hy gaan: terug na sy kapitalistiese bestaanswyse (sy - en die skrywer - se keuse). Maar Carla? Sy weet ook nie; sy sê net: ‘Maar ek wil nie vasgevang raak in herinnerings soos al die mense hier rondom my nie, ek wil nie my hele lewe lank loop en omkyk oor my skouer nie. ek wil my deel bydra, nie eenkant sit en verkommer in 'n droomwêreldjie nie. Ek wil iets uitrig; ek wil lewe ...’ En: ‘... Maar ek is jonk, ek is sterk, my hande staan vir niks verkeerd nie. Solank jy net moed het en glo in wat jy doen, maak dit nie saak wat daar met jou gebeur nie. Ek is nie bang nie. Daar is niks waarvoor ek bang is nie.’ (bl. 150) Hierdie woorde van Carla moet gelees word, nie net om wát dit sê nie (dus nie net as betekenaars wat uitwys na betekendes nie), maar ook as betekenaars, tekens, want die wyse waarop dit sê, sê méér as wát dit sê. Dis gestileerde sinne, met herhalings, jukstaponerings en opposisies - dus poëties; en ook met clichés - dus leeg. Hier word dus weer geïdealiseer; hier waar Carla - die materialisties-gebondene - praat, praat sy ideëel. In die teks-wees van die teks | |
[pagina 78]
| |
word daar vir Carla kontradiksies geskep. Waarom? Omdat die teks nie die materialistiese wat so 'n veronderstelde post-revolusionêre situasie vereis, kan hanteer nie; omdat die teks nie die vermoë het om die materialistiese bo die ideële te stel nie. Want dit is 'n idealistiese teks. Vroeg in die teks word die twee pole gestel: terwyl mevrou Hattingh praat oor die verlede, haar ‘opgedamde woorde voortstroom’ sê haar man, skielik rusteloos: ‘ek moet gaan werk’ (bl. 13); en weer wanneer George vra ‘Waar lê Rietvlei?’ beduie Hattingh, maar ‘Hy stap al weg na sy werk.’ Hierdie jukstaponering stel verlede en werk in die hede teenoor mekaar, dus die idilliese en die materialistiese, met George en mevrou Hattingh (van die ou geslag, die terughunkeraars) as die beheptes met die verlede, en Hattingh as die werker in die hede. Reg deur die teks is daar sprake van 'n dialektiek tussen werklike bestaansomstandighede en die ideële, of die ideologiese, die verbeelde verhoudings tot die werklikheid. Carla epitomiseer die werklike omstandighede: haar hande (bl. 37), haar arbeid op die plaas (bl. 38), haar woorde oor die werklikheid (‘Die was 'n mooi lewe’ sê George, en sý: ‘So mooi dat dit nie eers bestand was teen die werklikheid nie, die eerste rukwind het dit uitmekaar gewaai’ - bl. 50), haar ontgroeiing van taal (woorde: ‘jy't hulle eenvoudig ontgroei; jy't geleer om woorde in dade om te sit,’ - bl. 86; en haar ‘poëtiese’ woorde aan die einde is dan nog duideliker die woorde van die outeur); die ontgroeiing van taal beteken dat daar nie meer voorstellings (representasies in woorde) van verhoudings tot die bestaansomstandighede gemaak kan word nie - soos ideologieë maak. En wanneer George die idille van die verlede begin onthou, wanneer hy dus begin herken (interpelleer), dan is Carla by (bl. 49). In die teks as ‘betekenaar’ sou mens die wisseling tussen die idillies-beskrywende en die nugtere prosa ook binne dié binêre opposisies kon plaas. Of die wyse waarop die teks in die volgende geval optree (bl. 61): eers 'n beskrywing van die plaaswerf: triestig, 'n werklikheid - en dán, direk daarna, dink George: ‘... die onverbiddelikheid van die werklikheid’ het te veel geword. Die materiële omstandighede, soos geïllustreer tydens die ete-saamtrek, die mense, Raubenheimer (wat die ‘idealis’ is) irriteer hom meer en meer (bl. 129); en in die foto wat hy sien vanuit die verlede, verdoesel die werklikheid die beeld (bl. 131). Die teks teken die materiële omstandighede vanuit 'n idealistiese vooroordeel. En wanneer die materiële, fisies, met geweld dáár is, kán George dit net nie heeltemal ervaar nie: ‘Voor hom sien George in vae, verre reeks gebeure, soos 'n ou rolprent wat verbyflikker, mense met rukkerige gebare en bewegende lippe waaruit daar geen klank voorkom nie.’ (bl. 140). George bly dus; vreemdeling, die vervreemde individu (individualis) wat nie 'n egte verhouding tot die werklike bestaansomstandighede kan aangaan nie, wat afsydig sy individualiteit behou, die individualiteit wat die produk van sy Europese (veral Switserse, veral dus kapitalistiese) bestaanswyse is: ‘... the story of history for Marxism ... is the story of a fall out of collective | |
[pagina 79]
| |
life and consciousness into a world of estrangement and separation and alienation. Only toward the end of that story, when the enormous power of capitalism to break human life up into ever more estranged and isolated units has began to be felt in its full force, when all the forms of collective unity have been systematically undermined and human life shivers within the lonely monad of each isolated consciousness, does “individual identity” as such become a primary category within thought. To treat the “I”, the feeling or experience of individual identity, as a primal datum or ontological category is thus to repress or deny History itself ...’Ga naar voetnoot12) Vanuit die sterk suggestie van klas in hierdie teks, vanuit die konvensionele siening van die geskiedenis - en die gevolglike onverskilligheid t.o.v. die historiese determinisme - vanuit die verheffing van die idealistiese bo die materialistiese, vanuit die klaarblyklike voorkeur vir die individuele, vanuit die idealistiese aard van die teks is dit moontlik om die afleiding te maak dat mens hier hoegenaamd nie met 'n post-revolusionêre milieu te doen het nie. Daaruit sou mens 'n verdere afleiding kon maak oor die karakterisering daarvan as 'n teks vir die toekoms (Kannemeyer: ‘Na die geliefde land word êrens in die toekoms gesitueer wanneer 'n revolusie reeds in Suid-Afrika plaasgevind het ... bl. 535): dat dit negatief ingestel is oor verandering in Suid-Afrika, en dat dit basies 'n kontra-revolusionêre teks is. |
|