Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 57]
| |
Hoofstuk 6
| |
[pagina 58]
| |
van die ‘analoë werklikheidsituasies waaraan die leser sy reaksie kan toets’, en die latere beswaar oor die ‘suggestiewe waarde van vae, algemene verwysings’ in Brink se bespreking - wat J.C. Kannemeyer ook met ‘vaagheid en onbeantwoorde vrae’ bevestigGa naar voetnoot3) - sou mens natuurlik kon wys op die werking van die ideologiese diskoerse: die interpellatiewe, die feit dat die Afrikaanse leser situasies herken, dat dit binne sy/haar se ideologiese bewussyn is, en daarom hoef alles nie presies uitgespel te word nie. Interpellasie kan dan in 'n geval soos hierdie 'n ontduiking wees van die materiële omstandighede wat lei tot situasies soos in die roman gegee; interpellatiewe verswyging wat op die samewerking - natuurlik onbewus van hom/haar - van die leser steun. Maar wát as die leser begin sê: sê my, spel dit uit, ek wil nie meer kodes lees nie, maar die materiële werklikheid? Dit beteken natuurlik nie dat Schoeman onbewus was van sekere, aan elke middelklas-Afrikaner bekende, situasies nie; maar dat kritici uit daardie stand soms net nie noukeurig genoeg gelees het hoe hy wél met 'n materiële basis sy roman begin het nie. Die eerste sin lees so: Daar het vanoggend weer soldate met die grootpad verbygekom: hulle het verbygery en nie by die plaas stilgehou nie, maar alles het rusteloos en 'n bietjie beangs geword en die bediendes het gedemp saam gepraat in die kombuis’Ga naar voetnoot4) Die geïmpliseerde ‘verhouding’ wat hier aangesny word, is tussen die bediendes en die soldate - die res is ‘alles’. Die belangrikste reaksie is die van die bediendes; en in die eerste tien bladsye van die roman word die bediendes tien maal genoem, of figureer hulle, en verder is hulle verskyning en handeling redelik frekwent in die boek. Ek wil beweer dat die gemiddelde Afrikaanse leser hierdie eerste paragraaf sal lees, en veral bewus sal word van die soldate en van die rusteloosheid en die beangstheid - maar dat hy/sy die bediendes nie eintlik sal raaklees nie. Dit word bevestig deur die feit dat kritici hulle ook nie eintlik raakgesien het nie: nie Brink nie, nie Kannemeyer nie, en slegs een maal Phfeiffer.Ga naar voetnoot5) Bediendes sien mens net nie raak nie, hulle is net daar. En in die Afrikaanse plaasroman was daar altyd tallose bediendes, naamlose figure in die agtergrond. Buitendien: as mens raaklees met betrekking tot die bediendes sou jou reaksie kon wees: dit is die normale manier in Suid-Afrika waarop bediendes reageer op soldate of polisie. Wat dus hier staan, is in terme van ons ideologiese tekens normaal en hoef nie 'n spesifieke beklemtoning te wees nie. En selfs wanneer afdelings eindig met 'n bediende/werker is dit 'n normale afsluiting vir die plaasroman: ‘Môre moet Jakob die roosbome snoei’. (bl. 7); dis die einde van 'n gedagtestroom, 'n | |
[pagina 59]
| |
punt, 'n bygedagte wat verband hou met die natuur in die voorafgaande sin: ‘Die aande is nog koel, dink sy, al loop die winter einde toe.’ Dis byna asof Jakob die werker en die natuur één is: figure of magte buite die besitters. Bediendes kom in die teks hoofsaaklik op drie wyses voor: as werkers; as ontvangers van die base se oorskot/rommel/afval; en as deel van die agtergrond, décor - soos die pou op die werf: ‘Sy staan op en stap oor die grasveld na die huis, verby die eensame pou, verby die bediendes met hulle emmers water op die stoep.’ (bl. 8). Maar hoofsaaklik is hulle werkers wat as werkers behandel word, soos in die volgende: ‘Hy bulder vir die volk...hy roep vir sy vrou...’ (bl. 10). Dus duidelik binne 'n baas (besitter) en kneg (werker) verhouding. Die bediendes het meestal geen persoonlikheid nie, hulle is meestal nie mense nie - hulle is nét bediendes. Daar is dus 'n baie duidelike verdeling van arbeid en 'n daarby gepaardgaande reïfikasie of dehumanisasie wat saamgaan met die verdeling van arbeid en die klassestruktuur. Daar is egter verskille in die besitter-arbeid-verhouding afhangende van die familie vir wie hulle werk; en dié verskille is belangrik. Daar is drie families: Enslin-, Anna- en Martha-hulle; en dan ook die soldate (waarmee die boek begin het). Enslin staan in die teks bekend as ‘Enslin’, en sy vrou ‘mevrou Enslin’, waardeur hulle 'n afstand of deftigheid, of klas gegee word wat die ander nie het nie. By die Enslin-familie is die arbeiders hiërargies in die verhouding baaswerker; hulle is werkvolk (bl. 12) wat in strooise woon, hulle ontvang gedurig opdragte wat geskreeu word, en hulle werk al die tyd vir Enslin (veral besig om af te kamp). Hulle werk nie goed genoeg nie (Mevrou Enslin kla gedurig: bls. 11, 40, 47, 94). En hulle word ook gekoppel aan die terroriste: ‘“Hierdie mense glip ongemerk binne,” verklaar Enslin, “en die volk gee hulle onderdak en help hulle...”’ bl. 40). Daar word egter nooit 'n kousale verband gelê tussen ‘hierdie mense’ en die bediendes nie. Gaandeweg raak mens egter bewus van 'n verskil tussen baas en kneg wat méér is as net 'n baas-kneg-verskil, wat selfs 'n mate van antagonisme openbaar. Vergelyk die volgende passasie: ‘Die gate vir die pale is gegrawe en die beton word gemeng en gegiet Enslin blaf ononderbroke opdragte uit en die werkvolk staan in groepies saam en gesels wanneer sy oog nie op hulle is nie, onwillig en ongeïnteresseerd. Onder die peerboom staan Linda in die sonskyn en wag op haar moeder, en sien dan die voertuig in die pad aankom. | |
[pagina 60]
| |
jong manskappe staan op die werf rond in hul kakie-uniforms, en die werksmense het hulle op 'n afstand teruggetrek om die besoekers waar te neem. Die soldate staar terug en praat met harde stemme onder mekaar, haal hulle helms af en leun hul gewere teen die voertuig aan. Dan haal een van hulle 'n bal te voorskyn en hulle begin dit met gekunstelde ongeërgdheid oor die werf rondskop. Die werksmense draai weg en begin gedemp onder mekaar gesels’. (bl. 64-65). In die verhouding wat hier - op 'n afstand (soos Linda waarneem) - gesuggereer word, is daar die geïmpliseerde afsydigheid van Linda teenoor die werkers, en aanvanklik ook teenoor die soldate, die baas-werker-houding van Enslin, en hulle geïmpliseerde vyandigheid teenoor hom; die gesuspendeerde antagonisme tussen soldate en werkmense, en die doelbewuste afkerende houding van die werkers. Die gemene deler van hierdie gedempte spel van houdings en verhoudings is dié van twee ‘kampe’, Linda en die soldate teenoor die werkmense; nie direk in die verhouding van vyande tot mekaar nie, maar eerder binne 'n verhouding van klas: besitter teenoor werker. Dis van kardinale belang dat mens hierdie boek met die konsep van klas as deel van jou bewussyn lees, alhoewel klas miskien vir die skrywer ook nog hier as 'n stilte, 'n verdringing, 'n ‘containment’Ga naar voetnoot6), bestaan. In die geval van die verhouding van Anna tot die bediendes. Sy hou toesig oor hulle (‘“Ek weet nie hoe jy jou meide so sonder toesig kan laat werk nie”’, bl. 26); en by haar is hulle altyd aan't skoonmaak, altyd op hulle knieë, of werkers in die agtergrond, of deel van die agtergrond. En sy vertroue hulle ook nie (‘Dan neem sy mevrou Enslin effens opsy. “Hou bietjie 'n ogie op haar, Ellie,” sê sy sag, “ek vertrou haar glad nie”’ bl. 100). Sy word dan ook later deel van die militêre mag, net soos Enslin met sy afkampery deel daarvan is. Teenoor die genoemde twee families word die werker-werknemer-verhouding in Martha se huis nie so sterk beklemtoon nie. Martha dink uiters soms wat hulle ‘moet’ of ‘hoort’ te doen. En geleidelik begin haar bediendes - wat name het en reageer op dinge, en selfs praat en menslik voorkom -, geleidelik begin hulle hulle voorafbepaalde, ingedeelde arbeid te oorskry; die spesifisiteit van werkindeling vervaag - en daarmee saam dan uiteindelik ook die reïfikasie en fragmentasie wat die lot van die werker binne die kapitalistiese opset is. Alhoewel die bediendes aanvanklik randfigure is, verskerp die fokus afwisselend op hulle en sien mens hulle raak as mense. Martha se verhouding tot haar bediendes is humaan - liberaal - en die teenoorgestelde van die ander wit karakters s'n, selfs 'n omsetting daarvan: sy vra raad, sy soek advies by hulle, sy beheer hulle nie deur haar posisie as deel van die heersers- of besittersklas nie. Alhoewel haar verhouding tot die bediendes nog binne 'n feodale, of vroeg-kapitalistiese, sosiale formasie staan, nl. gebaseer | |
[pagina 61]
| |
op arbeid as norm vir die beoordeling en behandeling van 'n werker (vgl. bl. 69: ‘“Jakob het jare lank hier gewerk, hy't met Hendrik se pa grootgeword. Hoe sou hy dan nie betroubaar wees nie?”’), en 'n verhouding waarin geskenke - van ou klere ens. - as gebaar patroniserende betekenis het (bl. 52: ‘Sy knik bemoedigend. En is daar nie nog êrens 'n ou serp van Hendrik nie? wonder sy’); al is dit ook kenmerke van haar verhoudings, is daar tog 'n interessante, wedersyds uitsluitende, parallelisme hier aan die gang: terwyl haar bediendes die huishouding oorneem (bl. 22), is sy besig om haar te onttrek van haar besittings, minder en minder daarvoor om te gee. Sou mens gedwing word om daaruit 'n soort diskoers af te lei van: die geleidelike opheffing van die arbeidsverdeling kan gepaard gaan met die geleidelike afstand doen, aliënasie van besittings en van die wêreld van die besitter? Emily - Martha se bediende - onttrek haar ná Hendrik se dood (bl. 92), en haar ontrekking is eintlik 'n aanduiding van die ineenstorting van 'n arbeidsverhouding wat saamhang met die aanvang van die ineenstorting van 'n ideologiese opset, of 'n spesifieke sosiale formasie, of selfs sinoniem is daarmee. Nie lank daarna nie kom die totale ontrekking: ‘Emily het nie gekom nie, en vir die eerste keer dat sy onthou, is daar niemand in die kombuis om die stoof aan te steek, koffie te maak en die tafel te dek vir ontbyt nie. Die huis wag verbaas, en dit is stil in die skemerige kamers waar niemand die godyne kom ooptrek nie’ (bl. 107). En direk daarna word die arbeiders deur die soldate weggeneem. In die lig van arbeidsverhoudings, besittings en die signifikansie van 'n militêre ingryp sou mens voorlopig die afleiding kon maak: die ineenstorting van arbeidsverhoudings, die vervreemding van besittings kan lei tot militêre optrede. En ten opsigte van militarisasie en die werker binne 'n klasseverhouding is dié handeling van die bediende, Maria, opvallend: ‘“Gaan roep solank die soldate, Maria,” sê sy. “Hulle't net opgestap boord toe om lemoene te gaan pluk.” Maria beweeg egter nie, roerloos op haar knieë by die deur. Vir Martha is die soldate eintlik nog siviel (dus van dieselfde klas as sy), maar vir die bediendes is die siviele getransformeer tot die militêre, en hulle potensiële vyand omdat hulle - by wyse van interpellasie - die vyand van die ‘base’, die besittersklas is. Die militêr tree dan op in diens van die besittersklas, en deur die verwydering van die arbeiders verwyder hulle die konflik; maar sonder werkers | |
[pagina 62]
| |
word 'n niemandsland geskep, is daar geen plase meer nie, word die idilliese bestaan ondermyn. Dit bring mens dan by dié ideologeemGa naar voetnoot7): 'n versteuring van die klasseverhouding deur die afbreek van die verdeling van arbeid, en deur die groeiende bedreiging van die werkers vir die besitter, kan lei tot militêre oorname, en tot uiteindelike vernietiging van die wyse van produksie. Die einde is fundamenteel: ‘Uiteindelik ná al die jare is sy vry, onthef van alle verpligtings, sonder gesin of bediendes na wie sy moet omsien...’ (bl. 126) Maar dán word sy één met die natuur en in 'n sin gedehumaniseerd. Dit is dan ook lente: ‘... deurdringende lentereën, die eerste van die seisoen, en sy weet dat alle spore uitgewis is’ (bl. 126) en daar is die moontlikheid van verlossing aan die einde. As dit egter die alternatief is tot die bestaan van klas, dan is hier weer 'n stilte; want dan staan hier: dit is noodsaaklik dat klas bestaan, want daarsonder volg die uitwissing van die wyse van produksie en 'n terugkeer tot die natuur (Dié situasie is vergelykbaar met Na die geliefde land: daar bestaan geen klas meer nie, maar die gemeenskap is agterlik). 'n Mens sou materialisties en dialekties verder kon lees. Daar is 'n kousale verband tussen wat hier gebeur en die rol van die bediendes: dit is doodgewoon - tot op 'n afgekeerde punt - deel van die proses van historiese materialisme, al word dit nie eksplisiet so uitgespel nie. Maar die karakters besef dit nêrens nie, nie eens Martha nie want sy tree nog op binne die besitter-arbeider-verhouding teenoor Jakob en Emily. Die enigste karakter wat dit waarskynlik besef, is Ernst wat veg vir die terroriste. Maar Ernst is afwesig. Die oorspronlike Hegeliaanse dialektiek benodig 'n tese en antitese vir die uiteindelike sintese. Indien mens die realiteit van die historiese materialisme in die teks sou kon insien as sintese, die spesifieke wyse van produksie wat daartoe gelei het as tese, sou Ernst dan nie - hy wat aan die besittersklas die ‘anderkant van die saak’ tuis behoort te bring - sou sy rol dan nie antiteties kon wees nie? Maar omdat hy nie teenwoordig is nie, is die dialektiese proses nie voltooi nie. Die afwesigheid van die teenpool, die afgekeerde retoriek veroorsaak die vaagheid, idealisme, eksplisiete nie-materialistiese van die roman - dat die teks ‘vreemd’ is vir die werklikheid, dat dit geen ‘counsel’Ga naar voetnoot8) kan geen nie. Soos Martha vreemd is vir haar omgewing, en meer en meer vervreemd raak, so vervreemd is die skrywer van sy karakters en wat met hulle gebeur. Want basies werk hy hier nie met mense nie, maar ideologiese tekens, ideologeme. 'n Teken is 'n veilige middel ter verwydering van die werklikheid van bloed en vernietiging. | |
[pagina 63]
| |
VerwyderingsstrategieëNet so min as wat die karakters van oorsaak en gevolg en die klassekonflik weet, net so min weet hulle van wat om hulle - of op die ‘grens’ - gebeur. As mens nagaan hoe na die werklike oorlog verwys word, kry jy die volgende: ‘'n wilde besigheid’, ‘hierdie gelol’, ‘dit begin ernstig word’, ‘hierdie besigheid’, ‘hierdie moeilikhede’, ‘al hierdie dinge’, ‘hierdie voorvalle op die grens laasweek’; hulle hoor oor die radio, dit word gesê dat dit oorlog is (bl. 64).Ga naar voetnoot9) Dan verander sake effens wanneer oom Hendrik sterf, in dié sin dat iets gebeur - maar sy dood is slegs 'n gevolg waarvan die oorsaak onduidelik is; en uiteindelik weet almal dat iets gaan gebeur - maar nie wát en wáárom nie. Hier is dan weer die situasie van karakters wat in vaagheid leef, terwyl die leser eintlik net vermoed wat gebeur - omdat die leser die ideologiese tekens van interregnum-Suid-Afrika ken. Oorlog, opstand en die grens is ideologiese tekens waarbinne Schoeman skryf, en omdat hy interpellatief werk hoef hy nie spesifiek te wees nie, kan hy ‘verwyderd’ skryf: hy doen 'n beroep op ons kennis van ons situasie om mede-bepalend by sy teks te wees. En hierdie interpellasie is dan ook sy kortpad-tegniek, hy hoef dus nie aandagte gee aan die materiële omstandighede, dus aan die wérklike redes vir die ontstaan van revolusionêre omverwerpings nie. Om te sterwe, is dan ook eintlik om af te sterwe van jou materiële omstandighede. Dié kerngedagte is saamgevat in die woorde van oom Hendrik: ‘Dis nie wat óm jou gebeur wat belangrik is nie, dis wat binne-in jou gebeur, in jou hart en jou siel en jou verstand’ (bl. 29). Dit is 'n bevestiging van die ideële bo die materiële, en hou verband met die verwyderings- of onttrekkingstrategieë van die teks. Martha sê dat sy van alles begin afsterf (bl. 21), Hendrik hou hom net besig met sy boeke oor die verlede; hulle sterf dus eintlik ook van mekaar af en onttrek hulle meer en meer van die werklikheid. Martha ervaar gevoelens van vervreemding tussen mense (bl. 24), sy soek na Duitse gedigte van jare gelede (bl. 35), en Linda is afgesny van die lewe. Daar word 'n draad om hulle huis gespan. Die aandag gegee aan foto's sluit ook hierby aan (bl. 19): 'n foto van die verlede, van 'n werklikheid wat verby is wat nie meer onmiddellik bestaan nie. Martha verkies om te skryf eerder as om die telefoon te gebruik. Die grot en omgewing waarheen Martha vlug, by uitstek onttrekkingsimbool, word idillies beskryf: ‘Later die middag gaan sy stap, alleen soos haar gewoonte is, dwars deur die veld en teen die helling van die berg. Deur die jare het sy hierdie wandelinge altyd alleen onderneem, met net die honde wat haar | |
[pagina 64]
| |
kwispelend kom vergesel, maar vandag sien hulle haar nie van die huis weggaan nie: alleen stap sy op verby die dam, verby die spruit en met die al steiler voetpaadjie langs die ingang van die grot en oor die rotse terwyl sy aan takke en struike vashou om haar op te trek. Wanneer sy bo kom, gaan sit sy op 'n rots en luister na die wind in die groot stilte. Vlak onder haar lê die plaashuis met sy buitegeboue en bome, Hendrik se rondawel, die werf; sy kyk uit oor die landerye, die wit stofpad wat voortvleg dorp toe, die bome van Smaldeel eenkant en Rietfontein anderkant, en die verdere plaashuise in die verte, donker boomkolle op die witgebleikte vlak van die veld. Hoe dikwels het sy deur die jare nie hier gekom nie, eers as ontvlugting toe sy 'n bruid was in 'n huis vol oumense, vol siekte en dood, waar die een na die ander gesterf het, en later eenvoudig omdat die plaas en hierdie uitsig en die hele wye land vir haar dierbaar geword het, die stilte, leegheid en onveranderlikheid 'n troos in elke kwelling en verdriet. Sy ken die veld en die berg, die klowe en skeure, die voetpaadjies en seldsame strome, soos selfs Hendrik hulle nooit leer ken het nie ...’ (bl. 59) Hierdie gedeelte vereis 'n bietjie meer aandag, hoort eintlik onderwerp te word aan iets soos 'n diskoersanalise, waarin ook styl as ideologiese teken of kode in ag geneem word, want hier is 'n opvallende en noukeurige stilering. Ek wys slegs op die parallelle sintaktiese patrone, die ritmiese opbou by sinne tot oomblikke van rus (‘sy kyk uit...plaashuise...donker boomkolle op die witgebleikte vlak van die veld’), poëtiese herhalings (‘Sy ken die veld...leer ken het nie’). Die gepoëtiseerde natuurbeskrywing, wat ook aan die einde van die boek - by die ‘bevryding’ - opval, idealiseer die natuur, en in daardie idealisering roep dit natuurlik op die Afrikaanse plaasroman: die mens se verhouding tot die natuur, veral tot die idilliese natuur. En betrokkenheid by die natuur beteken onttrekking van mense, en weer eens aansluiting by die ideële, vervreemding van die materialistiese. (Sedert die plaasroman sou mens die spoor kon volg van die ideële, idealistiese in die Afrikaanse roman, ten koste van die materiële, materialistiese). Essensieel het ons hier te dien met die idee bo die materie, want selfs die vernietiging word geïdealiseer - die lente kom. Martha keer terug tot die natuur, haar onttrekking word dan ook 'n daadloosheid, sodat dié dialektiek gegenereer kan word: onttrekking teenoor die daad. Daar is dan in die teks die daadloses teenoor die daders: Martha teenoor Anna, Linda aan die begin teenoor Linda aan die einde. Maar veral Ernst teenoor Martha, alhoewel Ernst afwesig is - en die vaagheid oor wát hy doen, sluit dan aan by die vaagheid waarin die karakters lewe. 'n Verdere afleiding te maak oor hierdie vaagheid is dat die skrywer onbetrokke by sy karakters is: hy het hom onttrek en gee aan ons net die ideologiese tekens en die ideologeme waarbinne ons moet lees - die werklike materiële omstandighede is dus nie van belang nie. Die oorsaak | |
[pagina 65]
| |
daarvoor lê in wat Frederic Jameson noem ‘strategies of containment’Ga naar voetnoot10), die verdringing of verdoeseling van die essensiele deur te veel aandag te gee aan die illusionêre. Eintlik het ons dan hier 'n mistifikasie, 'n repressie van die onderliggende kontradiksies wat die vernietiging van hierdie gemeenskap in Om te sterwe veroorsaak het.Ga naar voetnoot11) | |
Ideologiese tekensOmdat taal intiem verbonde is met ideologie, word taal - veral in die letterkunde - gebruik binne 'n ideologiese teken-sisteem. Met ander woorde objekte, verskynsels, karakters, situasies, handelinge, ruimtes, dialoog in 'n teks kan dus ook ideologiese tekens wees, dus tekens wat deel uitmaak of verwys na 'n breë ideologiese struktuur. Soos wat daar in Elsa Joubert se Die laaste Sondag 'n lang beskrywing is van pannekoekbak, wat mens kan lees as ritualisering van 'n spesifieke Afrikaanse kultuurbedryf. Maar deur die ritualisering word dit geïdentifiseer as ideologiese teken.Ga naar voetnoot12) Ook binne die teks van Schoeman sou mens sekere ideologiese tekens kon isoleer, soos byvoorbeeld die plaas en die realisering daarvan deur dié plaasroman, die grens, die siviel-militêre, kultuurhandelinge. Oor die kodes van die plaasroman en die vernietiging van die idille is daar alreeds iets gesê. Ten opsigte van die grens is daar 'n opvallende ontwikkeling tot bewuswording. Dit word as volg gedoen: bl. 20: ‘... maar die wêreld het hierdie afgelope paar maande verander, en as jy dit nog nie agtergekom het nie, is dit tyd dat jy dit doen. Net laasweek nog is daar mense langs die grens op die pad aangeval, sommer helder oordag en vlak by hulle huis. | |
[pagina 66]
| |
Progressief kom die grens nader, tot dit 'n realiteit word in die tekste van die tagtigerjare, soos bv. Alexander Strachan se 'n Wêreld sonder grense (1984) en Louis Krüger se 'n Basis oorkant die grens (1984). Dit sou lonend wees om na te gaan hoe die grens ontwikkel van 'n vaagheid soos by Schoeman tot 'n realiteit soos by Strachan en Krüger, tot uiteindelik 'n kode vir die Afrikaner. Of is dit alreeds, histories, 'n kode? Die volgende twee aanhalings plaas die kwessie van siviel-militêre verhoudings in perspektief, en gee ook die toon aan waarbinne ons dit moet verstaan - skep dus die kodes. bl. 85: ‘“... en vir al die kêrels in die kamp, al die manskappe en offisiere - ons sê vir julle baie dankie, manne, dat julle so ver van die huis af gekom het en jul in gevaar stel om die lewe vir ons veilig te maak, ons waardeer dit en ons is baie dankbaar, en ons wil net vir julle sê, dons die vuilgoed op!”’ (woorde uitgespreek op 'n geselligheid vir die soldate). Die soldate word deel van die gemeenskap. Dit word as normaal gesien: daar is geen grens tussen siviel en militêr nie - ons aanvaar dit so feitlik sonder om dit agter te kom. Dit is die begin van 'n hegemoniële verhouding; die hegemonie, as instemming, in aksie.Ga naar voetnoot13) Soldate wat deel het aan die vleisbraai met die bykomstighede daarvan, het deel aan 'n kulturele geleentheid - wat hulle deelname dus nog meer intiem maak. Kulturele handelinge is kenmerkende kodes wat Schoeman gebruik in sy apokaliptiese romans (ook in Na die geliefde land); ideologiese tekens wat geassosieer behoort te word met 'n spesifieke gemeenskap, optree as identifikasie | |
[pagina 67]
| |
van daardie gemeenskap, en miskien, op ironiese wyse, wil staan vir die voortsetting van 'n bo-bou, terwyl die infrastruktuur besig is om te verkrummel. Die volgende sodanige kodes word opgeroep: die damesleeskring en die besoekende skrywer (bl. 84), die vleisbraai (bl. 85), die volkspele (bl. 87), die boereliedjies (bl. 88), die taal (bl. 114) - en dan aan die einde, Engels en die vreemdelinge wat skynbaar oorgeneem het (bl. 127). 'n Mens sou hierdie slot - met die woorde ‘Who are you?’ - ideologies kon lees: as aanwyser vir die verbreking van al die voorafgaande kodes, dus die vernietiging van een hegemonie. | |
Die ideologeemDie konsep ‘ideologeem’ kom vermoedelik oorspronklik van V.N. Volosinov, Marxism and the philosophy of Language.Ga naar voetnoot14) Dit word 'n bruikbare tipering binne ideologiese verband in die werk van Frederic Jameson, The political unconscious.Ga naar voetnoot15) In Afrikaans het Hein Willemse die eerste bydrae gemaak tot die beskrywing van een van die ideologeme van die Suid-Afrikaanse klassediskoers. Vir hom staan die twyfelende intellektueel in enkele romans van Schoeman ‘in die teken van die soeke na oplossings in die huidige Suid-Afrikaanse tydsgewrig’. Hy stel dit so: ‘Die intellektueel wat wil oorleef en deur die historiese kataklisme van sy tyd wil leef, staan in diens van 'n ideologeem - oorlewing - 'n kleiner faset van die omvattende klassediskoerse’.Ga naar voetnoot16) Die konsep word verder verhelder deur Peter John Massyn: ‘'n Klasselangue is georganiseer rondom minimale “eenhede” of ideologeme. 'n Ideologeem word struktureel gekenmerk deur 'n tweeslagtigheid: enersyds is dit 'n begripskern wat konseptueel ontwikkel kan word tot 'n abstrakte waardesisteem in die vorm van 'n filosofiese stelsel, andersyds 'n verhaalkiem wat deur narratiewe ontwikkeling verwerk word tot 'n kollektiewe (klas-) fantasie in die vorm van 'n kulturele teks. These ideologemes are the ideologically charged raw materials upon which ... narrative art works - seeking to articulate and work through the deeper contradictions by the complex process of erating new narrative details'’.Ga naar voetnoot17) Die woord en konsep is 'n kombinasie van ïdeologie en foneem, waar foneem die kleinste eenheid van 'n klankstruktuur is. Alhoewel dit 'n veel vaer begrip as die linguistiese is, bring dit wel die moontlikhede van die ontleding van 'n klasse-ideologie in die kleinste betekenisvolle eenhede daarvan. | |
[pagina 68]
| |
Dit lyk nuttig om dié betekeniseenheid verder te probeer benut in Afrikaanse literatuurstudies: om ideologeme te identifiseer en te probeer benoem beide as konsepte en as deel van 'n narratiewe struktuur, vgl. Jameson bl. 87-88, en: ‘As a minimal unit, the ideologeme can be developed in either of two contrary directions: the conceptual, in which case it appears in rudimentary form as a “pseudo-idea” (opinion, belief, prejudice, etc.) but can then be taken to the length of a complete philosophical system, or the narrative, in which case it appears first as a “protonarrative” (fantasy, anecdote, tale, etc.) but may then be taken to the length of a cultural narrative like a novel or epic poem.’Ga naar voetnoot18) Die ideologeem kan dan wees 'n klein betekenisdraende eenheid wat deel van 'n waarde-sisteem is, 'n filosofiese konsep, of 'n simboliese oplossing vir 'n konkrete historiese situasie wat binne kontradiksies staan. Hendrik se preokkupasie met die geskiedenis in Om te sterwe en die siening van die geskiedenis, of die gebruik daarvan, in die moderne Afrikaanse prosateks lyk asof dit, ‘die geskiedenis’, as ideologeem geïdentifiseer kan word (maar dit sou natuurlik verdere navorsing verg: beginnende by Jan Rabie se Eiland voor Afrika?). Hier by Schoeman begin die gesprek daaroor op bl. 33: ‘Hendrik sny sy vleis, versigtig en presies. “Die mense van daardie tyd het 'n waardestelsel gehad,” antwoord hy dan. “Daar was dinge wat vas gestaan het, dinge waaraan hulle kon glo sonder om te twyfel.” | |
[pagina 69]
| |
Maar ongelukkig word die gesprek nie voltooi nie, en al wat mens moet aflei, is dat geskiedenis gesien word as stof tot idealisering, intellektualisering, of as herhaling, in die verhouding waartoe hede tot verlede staan. Die verlede figureer nie in terme van 'n dialektiek nie, dis slegs 'n teken, en ideologies omdat dit slegs met betrekking tot die Afrikaner gesien word. Daar word ingesien dat daar 'n herhaling van stryd is; maar dat die verhouding van klasse in dié stryd nou anders is (in die sin dat die vroeëre koloniseerders nou soos koloniste optree) dit is nie duidelik nie. Die ideologeem geskiedenis-wat-herhaal-word (of: die Afrikaner se geskiedenis is die oorsaak van wat nou met hom gebeur) verkry nie volle narratiewe realisering nie omdat geskiedenis nie in terme van klas en produksieverhoudings gesien word nie, die herhaling-van-die-geskiedenis ideologeem is 'n verdoeseling van die werklike redes. Dus weer 'n ‘containment’ of ‘evasion’: ‘a way of achieving coherence by shutting out the truth about History’.Ga naar voetnoot19) Omdat Om te sterwe binne 'n ideologie geskryf is wat slegs kan voortbestaan deur die handhawing van klas en klasseverskil, binne 'n bourgeois ideologie, daarom kan die teks nie deurbreek en die werklik onafwendbare van die geskiedenis gee nie, nl. die vernietiging van klas. Alhoewel die teks 'n vermoede openbaar dat die kontradiksie van die klasseverhouding besitter-werker die oorsaak van die vernietiging van idilles is, bly dit 'n vae, ideële struktuur wat 'n versoening met die materialistiese onmoontlik maak. |
|