Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 80]
| |
Hoofstuk 8
| |
[pagina 81]
| |
dit: nie arbeid word verkoop nie, maar die mens self. Die mens wat nie vir homself kan produseer nie, nie vir homself kan leef nie. En dus ook nie mens kan wees nie: ‘Benodig die arbeider al sy tyd om die noodsaaklike lewensmiddele te produseer vir die onderhoud van homself en sy familie, dan bly daar vir hom geen tyd oor om sonder betaling vir ander persone te werk nie. Sonder 'n gewisse produktiwiteitsgraad van arbeid is daar vir die arbeider geen beskikbare tyd nie, en sonder sodanige oorskiettyd geen surplus arbeid, en daarom geen kapitaliste, maar ook geen slawe-eienaars, geen feodale heersers - met een woord gee besittersklasse nie.’ (a.w. bl. 290) In Die kremertartekspedisieGa naar voetnoot2) is slawe-eienaars besittersklasse wat in luukse leef, dus van hulle surplus waarde; en hulle is akkumuleerders van besittings, met ook mense as besittings of kommoditeite. Die ekspedisie waaroor dit alles gaan, na 'n verlore stad, is vanuit 'n begeerte tot meer besittings. Maar die uiteinde daarvan - in die kremertartboom - is 'n omgekeerde ekspedisie tot géén besittings. In die woord self lê die teenstelling al: ‘ekspedisie’ kom van die Latynse ‘expeditio’, wat kom van die werkwoord ‘expedio’, wat kan beteken ‘om uit te vind, te ontdek’ wat nuttig en voordelig is; maar ook: ‘om vry te maak, om los te maak’. ‘Dan met wrewel. Maar ek het my dit verbied. Dan met spot wat makliker geval, wat hom deursigtig hou en niks vir alles veil het, en ek kan soos 'n voël in 'n nes in 'n stam terugglip en na binne lag. En stil bly ook, dalk ook net stil bly om na buite te droom want die sewende sintuig is die slaap.’ Die begin van die teks bestaan uit grade van kontrastering: wrewel teenoor spot, na binne lag, na buite droom, stil bly en na buite droom, en hierdie opposisies groei aan met die verdere verloop totdat kontradiksies gemaak word: ‘Tyd het dikwels in die verlede moeilik geraak toe ek nog meer as dag en nag wou besit’. (bl. 5) Tyd kan immers nie van die verlede, of van dag en nag geskei word nie. Verder is daar ontkennings wat uiteindelik negativerings word: ‘Soos die rooibok, nee, nie soos die rooibok en die bontkwagga nie, nie soos buffels of kuddediere van watter aard ook al nie ...’ (bl. 6); en daar is paadjies na niks, en waar sy waar sy haar bevind is nie vir die mens bedoel nie. ‘... nie vir my bot en bloei en vrug dra nie, nie om my honger te stil nie, dat knolgewasse en veselwortels nie vir my onderaards swel nie, en nie om my te behaag drup die huilboerboom sy nektaar nie, en nie om my te laaf | |
[pagina 82]
| |
staan die platdoring op strategiese punte in die middel van 'n skadukol nie, en nie om my plesier te doen hang die gevlekte orgideë uit nie, nie vir my slaan beginsomer die krinkhout tente van geur op nie.’ (bl. 8-9) Waar sy haar bevind, is krale en potskerwe wat van mense was; nou háár besittings, maar rommel. Met die krale begin haar dagtekening, die meting van tyd: krale word tyd, tyd word 'n besitting; maar ook rommel, dus niks. Haarself, maar dan ook haar medemens, sien sy afgespieël in die bobbejane; en sy haat hulle oor hulle vraatsug en inhaligheid, want dit het sy gesien by mense. Slegs wanneer sy slaap kan sy haarself ken - dus buite die konnotasies van mens-wees, wat in terme van die vorige paragraaf vraatsug is; net wanneer sy slaap is sy nodig vir haarself. Die implikasie is, as jy die teenstellende, wat nou al dialekties begin word, verder voer, die volgende: sy was altyd nodig vir iets anders, om arbeid vir ander en nooit vir haarself nie. En die kontradiksie groei: in slaap is sy haarself, want dan is sy nie arbeidend of staan sy in 'n produksieverhouding nie; maar in slaap is sy, weens die aard van slaap, ook nie volledig mens nie. Sy wás nooit mens nie - slegs kommoditeit, mens getransformeer tot waarde - en slegs in slaap is sy mens! Op vlug vir die bobbejane - inhaliges en vrate - kom sy op die krale af; krale wat tekens is van ruilwaarde, geld, en uiteindelik kommoditeite. Die opeenvolging in die teks op bladsy 11 van ‘voorwerpe’, ‘waarde’, ‘geld’, is seker nie toevallig nie. En daarna praat die vrou van ‘my’ dinge, van ‘my’ besittings. Ons het dus hier eintlik iets wat lyk na die begin van 'n soort primitiewe akkumulasie, wat in die volgende parallelisme identiteit en besitting vereenselwig: ‘Ek kan sê: dis myne. Ek kan sê: dis ek’ (bl. 11). My ‘myne’ is my ‘ek’, ek is my besittings. Maar die kontrasteringe wat die teks bou ontsien ook nie besittings nie: die krale wat sy nou het is petieterig teenoor die geskenkies wat sy voorheen gekry het om haar aantreklik te maak - om van haar 'n begeerlike besitting te maak. Omdat sy 'n besitting was, dus histories gedetermineer is, weet sy nou van die akkumulasie van besittings; daarom moet sy nou ook vergaar. Maar die kontradiksie is dat alles wat sy nou bymekaarmaak oorblyfsels is - potskerwe, krale, koperdraad, ‘armsalige versiering wat ek senuagtig aan stingels ryg en om my nek dra, verroeste koper draadringe, dik en swaar soos boeie, waarmee ek niks kan aanvang nie ...’ (bl. 14) Haar misnoeë kan sy kwalik verberg, en dié dinge wat voorheen miskien die rol van kommoditeite gehad het se funksie word nou omgekeer tot iets met net gebruikswaarde: om tyd mee te meet. So kan tyd gesien word in terme van besittings, en van besit word. Sonder ophou, byna onverbiddelik, koppel die teks elke mededeling van die vertellende vrou aan besittings - ‘want bedeel uitsluitlik met herinneringe, het ek hier aangeland’ (bl. 15). Bedeel met herinnerings, in besit van herinnerings, herinneringe as besitting. En daardie herinnerings onthou die rede waarom sy | |
[pagina 83]
| |
hier is, wat ontstaan het in die kringe van die digters, storievertellers, vooraanstaandes wat versamel het waar die rykes is, die kooplui, die besittersklas. Haar herinneringe kontrasteer met haar eienaar die ryk koopman se ‘opgegaarde herinneringe’, wie se lewe van akkumulasie eindig in die teenoorgestelde (wat is die teenoorgestelde van akkumulasie? afstroping? dié teks vra aaneen om antonieme): ‘Arme skepsel wat sy rykmanslewe onverbiddelik by die aanskou van soveel oorvloed uithyg.’ (bl. 17) Die ryke wat nie meer sy rykdom kan geniet nie, die slawe-eienaar wat deur sy slaaf getroos word, die minnaar wie se slavin sy moeder is - die besitter wat besit word. Maar wanneer hy sterf, het sy geen sekerheid meer nie - ‘Net dié wat het, het ook sekerheid’ (bl. 18). Daarom soek sy die vreemdeling: om weer besit te kan word. Want daarsonder kan sy nie bestaan nie; en die teks gee hier - op bladsy 19 - die hiërargie van hierdie maatskappy: die vreemdeling ('n besitter), sy van die ‘besitte klas’, en die ‘armstes der armes’. Die klasseonderskeid - wat ooreenkom met 'n soort kapitalistiese klassesisteem - bevestig ook 'n ander kapitalistiese eienskap, nl. die verdeling van arbeid: ‘Die arbeid skei ons wel. Die slawe werk in sy pakhuis aan die waterkant en die slavinne in sy woonhuis.’ (bl. 21) En hulle praat almal 'n ‘eiesoort werkerstaal’.
Haar ontwikkeling as een van dié besitte klas is belangrik. Sy het daar gekom as 'n kommoditeit wat gekoop en verkoop kan word en waarvan die waarde bepaal is volgens haar arbeid (wat insluit die bevrediging van die seksuele behoeftes van haar eienaars). Daar a.g.v. haar skoonheid, word sy 'n kunsobjek vir die ryke: ‘Meer dik wels as wat hy met my geslagsverkeer het, beveel hy my om my te ontklee en gewoon rustig met hom te gesels, onderwyl hy my deurentyd bekyk soos 'n mens 'n mooi sonsondergang beskou of so’. (bl. 25) Haar mooiheid, wat sy nou bewus kultiveer, en haar aangeleerde ‘kulturaliteit’ verhoog haar waarde as besitting. Sy weet nou van besittings en van waarde, sy die ‘gewaardeerde kunsvoorwerp en bediende’ (bl. 51). Maar sy word gedeeltelik deel van die klas van besitters: die teks gebruik werkwoorde wat die frases van hulle denkwyse uitmaak: ‘Ek tel op wat ek aan sy dood te verloor en wat ek te wen het’ (bl. 46), ‘Ek oorweeg wat ek vir hom kan gee’ (bl. 47). Sy weet wel waar hulle rykdom vandaan kom, sy leer van die handel, van wins en verlies - ‘Menseverlies staan gelyk aan kosteverlies’ (bl. 49). Hoe meer sy leer, hoe meer sy deel word van dié klas, hoe minder wil sy 'n besitting wees; haar liefde vir die vreemdeling opponeer die konsep van besit-wees: ‘Besit en liefhê is begrippe wat mekaar vloek’ (bl. 49). Die teks ontwikkel tot 'n dialektiek wat mens nie anders as die logika van ‘differance’ (Derrida) kan beskou nie. Sy | |
[pagina 84]
| |
wat gepredestineer, gedetermineer is tot kommoditeit-wees, kom op die weg na gelykheid met hulle (die besitters) waarvan die konsep en noodsaaklikheid van kommoditeite kom. Nou wil sy ‘anders’ wees (‘... ek is anders as wat hulle almal dink, anders gans en al as wat wie ook al van my dink’ bl. 50); maar haar ‘andersheid’ is soos dié van die besitters se anders-wees van die slawe. Die begrip ‘anders’ kan sy nie verstaan anders as vanuit klas nie; ‘anders’ bestaan nie as klas nie bestaan nie; en kan nie voortbestaan as klasseverskil nie gehandhaaf word nie. Dit word teenoor haar gehandhaaf deur die vreemdeling: ‘Jou soort het hom die magtigste in die stad gemaak, sê die vreemdeling dan. Jy behoort gevleid te voel, eintlik. Jou weldoener was 'n kenner soos min en hy het selde minderwaardige materiaal gekoop. In jou geval het hy volkome gelyk gehad. Kyk, beduie hy, jou liggaamsproporsies is van 'n seldsame eweredigheid.’ (bl. 48) En ook deur haar weldoener, selfs in die teerste oomblik van liefde, van ‘gelykheid’: ‘Hy stut sy kop teen my skouer soos en met die onskuld van 'n kind. En handomswaai verander hy en word hy wyser as ek, betig hy my, neem hy oor en lei hy die liefkosing ...’ (bl. 50) 'n Bestaan anders as die gedetermineerde kan sy nie ken nie; ‘Ek het my al probeer indink in 'n soort bestaan waarin ek nie 'n besitting is nie, maar dit geval my nie maklik nie.’ (bl. 53) Op die ekspedisie - die ekspedisie van die besitters op soek na skatte - kom sy die naaste aan hulle. Sy sien neer op die slawe wat hulle dra, sien werkende vroue wat sy byna ‘slavinne’ noem (‘Miskien is hulle ... Ek wil sê slavinne. Ek wurg die woord in’, bl. 66), (let net hier op die krag van die woord, die woord wat klas máák!); en sy kan geen kontak maak met hulle eie slawe nie (‘'n Ruk lank al merk ek iets in die hare van my voorste draer’, bl. 67, my kursivering). Maar die ‘vreemdeling’ sal vir haar altyd 'n vreemdeling bly. Die teenoorgestelde gebeur op hierdie ekspedisie egter ook: wanneer hulle hulle besittings verloor en hulle begin swaar kry word die slawe vir 'n rukkie heersers, omdat hulle weet van swaarkry. Dan is sy 'n soort bemiddelaar, êrens in die middel: ‘Ek hou my voorbarig en komplimenteer hulle laf en breedsprakig. En kyk hulle astrant in die oë, skep 'n familiêre verhouding, dan hou ek my hande bak en kry ek ook vrugte, bessies, ruspes, uitjies. Dan gaan sit ek met my geskenk halfpad tussen hulle en die vreemdeling en die oudste seun. Na 'n rukkie kom voeg die vreemdeling hom by my en gee ek vir hom ook. Hy deel sy bietjie dan met die oudste seun. 'n Ingewikkelde stelsel. Maar nog is die situasie nie kritiek.’ (bl. 75-76) | |
[pagina 85]
| |
Maar in die middel is nêrens nie. En om êrens te wees lê vir haar in die kontradiksie van die parasiet: ‘En ek in my eienaardige posisie as parasiet ...’ (bl. 77), en: ‘Ek is volkome afhanklik ... geheg soos 'n parasiet’. (bl. 78) ‘A curious system of thought, or of language, or of social organization (in fact all three at once) is implicit in the word parasite. There is no parasite without a host. The host and the somewhat sinister or subversive parasite are fellow guests beside the food, sharing it. On the other hand, the host is himself the food, his substance consumed without recompense, as when one says “He is eating me out of house and home.” The host may then become host in another sense, not etymologically connected ... If the host is both eater and eaten, he also contains in himself the double antithetical relation of host and guest, guest in the bifold sense of friendly presence and alien invader ...’Ga naar voetnoot3) Sy sou nie kon bestaan as daar nie besitters was nie; maar hulle sou sonder slawe ook nie kon bestaan nie. Mens sou die redenasie verder kon voer: sonder akkumulasie van besittings, en klas en taal het sy geen bestaan nie. Daarom, wanneer sy van alles afgestroop is, die noodwendige einde? Akkumulasie, klas, kapitaal het van haar 'n parasiet gemaak, maak van mense parasiete - en dis al bestaanswyse wat hulle ken. Beide kapitalis én werker. In haar boom is sy nog al die tyd 'n parasiet, byna letterlik; maar dit is ook omdat dit die enigste bestaanswyse is wat sy ken, want daartoe is sy gedetermineer. Slegs deur 'n totale omkeer - onderstebo in 'n ondersteboboom - sou die parasitiese beëindig kon word. Om los te raak van die parasitiese sal sy van tyd as besitting moet loskom, en van die skeiding tussen droom en werklikheid: ‘Dit maak nie meer vir my saak dat ek tyd nie netjies kan afhandel en bêre en liefs vergeet nie want nou besef ek dat droom en wakker wees mekaar nie vloek nie, maar verlengings van mekaar is en inmekaar vloei ...’(bl. 90) Die fout van die ekspedisie was dat die besitters 'n droom wou soek, die bestaan van die droom of illusie as 'n werklikheid wou gryp. Die besitter wil die droom besit, dit approprieer, dit werklikheid maak - want slegs werklikhede, konkreta, kan besit word. En die kontradiksie is dat die finale toegang tot die droom in die opsegging van alle besittings lê. | |
[pagina 86]
| |
Die teks ‘vertel’ nie chronologies nie, omdat die vertelde tyd dit nie is nie, en omdat die slavin, wat vertel, tyd nie kon orden en dus nie besit nie. Die teks besit dus óók nie tyd nie. Wat strukturering betref, is jy gedurig bewus van die teks self-wat dan nie net medium is nie, maar ook doel. Jy is ook altyd bewus van die ‘beskrywende’. Byvoorbeeld: ‘Toe vlug ek voor die wind uit wat my en die uitskot en alles wat kranklik is, opraap en ek sukkel skuins-skuins voort, half kruipend, slingerend van houvas na houvas, boom, paal, hek, gebou. Dat ek die al in gewaai kan word, ek, die skille, die vodde, dat ek in die maling opgaan tot in alle ewigheid. Dreunend die see. Hy baklei met homself. Hy trek uitmekaar en bots en bal saam, hy trek homself op tot in die lug, hy slaat donderend neer op die hoogwaterstreep en rol om en om oor die stad se pondokkiesbuurt en die weelderige boskasie daar en smyt wrakstukke van dau's en samboeke wat vir hom gemaak en aan hom gewy was, neer tussen die palms en roosbome en rykmanstuine. Die wind skeur die siele los van die bome waar hulle soos die spoke van voëls probeer skuil en waai hulle ver weg die vreemde binneland in’ (bl. 23) Hier het die teks totaal oorgeneem. Konvensioneel beskou sou mens sê dis ‘poëtiese beskrywing’, dis die digteres Wilma Stockenström aan die woord. Ek wil egter beweer dat mens anders hierna en na talle ander stukke in die boek kyk; dat dit nie die ‘verteller’ is, of die digteres agter die verteller nie. Maar dat dit die teks self is wat sy mag bevestig, dat dit die mag van die woord is - dat dit dus die mag van skrif (‘writing’) is. Daar is twee parallelle episodes of oomblikke waarin skrif en ‘kapitalistiese’ klasseverskil en akkumulasie onafskeidbaar is. Die ondersoek daarna sal miskien die belangrikheid van skrif, van die ‘scriptible’, maar ook die hoogs betekenisvolle stiltes van die teks illustreer. Die eerste strek vanaf bl. 27 tot bl. 34; en die tweede vanaf bl. 84 tot bl. 87. In albei is die slavin onbegryplik melankolies, neerslagtig of terneergedruk, en in albei praat sy dinge wat niemand verstaan nie: ‘In my werkerstaal heet ek hulle saggies welkom en spreek ek vertroostinge uit, maar niemand hoor my of verstaan my blykbaar nie’ (bl. 33); en ‘Tot op 'n vooruitgeskowe rots vorder ek en soos ek daar staan, hoor ek hoe ek iets sê. Nie sê. Prewel. Stamel. Ek hoor die woorde hortend uit my mond oor die afgrond val om deur die windgevulde stilte ingesluk te word.’ (bl. 87) Wanneer sy op die terras staan en uitkyk (bl. 27) sien sy die stoet nuwe slawe met hulle slawejagter aankom. Dit is die oorsaak van haar melankolie en sy - beskermde, goedversorgde, bevoorregte slavin - onttrek haar binne haar gedagtes, net soos in die holte van haar boom. Die teks struktureer so dat die | |
[pagina 87]
| |
melankolie (bl. 27), die wegkruip in die boom (bl. 28), en die sien van die slawe, die neerslagtigheid (bl. 29), 'n duidelike eenheid vorm, sodat haar emosies oor die slawe en die volgende monoloog met die boom parallel funksioneer: ‘As ek kon skryf, sou ek 'n ystervarkpen vat en jou geweldige boepens van bo tot onder vol bekrap. Tot onder jou takke sou ek opklouter en kepies in jou oksels kerf om jou te laat lag. Groot letters. Klein letters. In 'n skrif vol lelle en skrulle, in singelende lyne skryf ek om en om jou want so baie het ek te vertel van 'n tog na 'n nuwe horison wat 'n ekspedisie na 'n boom geword het. Hier kom 'n ritmiese pouse. O, ek het baie geleer by die digters, nee maar ek is onderlê in die tegnieke, in die saamflans van liriek en epiek. Ritmiese pouse en voort rol die gedagtes, om en om jou stam die poëtiese geskiedenis van 'n kranksinnige ingesteldheid wat uiteindelik al was waaraan ons kon kleef, gestroop van die stoflike en uitgeteer en tot sterwens toe moeg van onsself in die strewe wat ons saamkarwei, ballas van die verlede. So versier ek jou strepie vir strepie met ons hersenskimme sodat jy die belaglikheid kan verwerk, vergroei, glad maak, die nuttelose inligting dikvellig kan bewaar tot die dag van jou selfontbranding. En voldaan sit ek die ystervarkpen neer en staan 'n ent agtertoe om my handewerk arms in die sye te betrag. Jy is vol van my letsels, kremetart. Ek het nie geweet ek het so baie nie.’ (bl. 28) Die sinonieme en metafore vir skrif is opvallend: ‘bekrap’, ‘kepies’, ‘vertel’, ‘tegnieke’, ‘saamflans’, ‘poëtiese geskiedenis’, ‘ballas van die verlede’, ‘versier’, ‘nuttelose inligting’, ‘my letsels’. Die merke op die boom, die versierings, is haar letsels; maar slegs die tekens van haar letsels. Vir haar is skrif dus slegs teken van. Maar hoe kan haar verhaal dan vertel word as skrif nie iets anders is nie? Haar verhaal en skrif is onafskeidbaar, en dan is skrif nié teken van, weerspieëling van nie - dit is die ‘versiering’ op die stam van die boom. Skrif is die verhaal, die verhaal is die teks. Die teks weerpsieël nie - maar is self. Daar is nie 'n ‘inhoud’ en 'n ‘vorm’ nie. Waarom die selfbewustheid van die skrif, wat herhaal, weerspreek, omdop, omkeer, regstel? Is die skrif self nie kontradiksie nie? Het dit nie die kontradiksie gemaak nie, dié skrif van die besitters - liriek, epiek, ‘metaalklank van ironie’ - en die ‘skrif’ van slawe - die werkerstaal? Hierdie teks in keurige poëtiese skrif is die skrif van digters en spitsvondiges, van die besittersklas. Van vandag: Afrikaans. En dit eindig in nihilering, in involusie, in die binneste van 'n droom. Taal en klas is verbonde; die slavin se onvermoë om haar emosies te ken en te beheer is direk herleibaar tot klasseverskille; en dit word nie deur die teks ‘uitgespel’ of ‘uitgesê’ nie, dit lê in die strukturering van die teks self, in die stilte van die teks, in die skrif. Die reaksie op haar melankolie kan sy beskryf as inkeer, involusie, skuiling soek; maar as sy skrif gehad het, sou sy die melankolie kon verklaar. Haar skrif bestaan egter slegs uit tekens, en haar rus vind sy buite taal, in die fisieke ervaring van die natuur. | |
[pagina 88]
| |
Hierdie rus - wat nie 'n opheffing van die melankolie is nie omdat dit nie by die oorsake daarvan uitkom nie - word ook in die natuur versteur: deur ape wat haar wil ‘aanspreek’; maar sy vererg haar omdat hulle buite hulle ‘klas’ gaan om dit te doen. Omdat hulle teen haar diskrimineer. Die diskriminasie van klas het ook met taal te doen. Net so irriteer die papegaai van haar eienaar haar - die papegaai wat die eiendom van 'n besitter is, wat ook taal het maar dit omdop, dit misbruik teenoor haar, sodat sy t.o.v. taal tekortskiet, t.o.v. die taal van 'n besitting (die papegaai). Sy ‘beskryf’ die slawe wat aankom, die nuwe besit-te-word objekte, en dan 'n hamerkophaai wat op die strand gevrek het. Die teks lê die verband gewoon deur jukstaponering, sonder om dit in woorde uit te sê: die hamerkophaai is soos die slawe, is vir haar dus 'n teken van hulle misère. Maar sy sê dit nie want sy kán nie: sy kan net in tekens verstaan, en nie in taal/skrif nie, want taal behoort aan klasse wat gemaak is deur die besitters - en sy behoort aan geeneen meer nie. Sy praat met die slawe, ‘vertel’ hulle van haarself, maar niemand verstaan nie, al praat sy in die werkerstaal. Dit is 'n taal wat slegs bestaan wanneer jy 'n besitting word (en die slawe is dit nog nie op hierdie stadium nie). Daar is dus geen taal buite die besitter en sy eiendom nie. ‘Ek keer my rug op die verdoemdes’, op hulle wat nog nie taal het nie; en sy inventariseer haar lewe: opperste slavin met al die geriewe. Hoër as die verdoemdes, maar bevoorregte eiendom van die besitters. Dus nog slavin, maar een wat eintlik binne geen klas meer is nie. Sy huil by die hamerkophaai. Die haai word dan wéér teken: nou van haarself, van haar smart; maar nét teken, soos sy haar tekens teen die boom sou kon gemaak het as sy kon skryf. Maar sy het ook nie taal nie. Die ander keer wanneer die slavin terneergedruk raak en nie taal het nie is toe hulle op die ekspedisie eienaardige tekeninge op 'n rotswand sien. Weer eens jukstaponeer die teks die klasse: die besitters, die slawe, sy; en weer is taal, teken en teks saam. Die tekeninge is tekens wat die besitters nie kan verklaar nie. Hulle vind dit nie esteties bevredigend nie, vind dit nie die werk van ‘opgeleide kunstenaars en klassifiseerbaar in skole en rigtings, en kosbare besittings daarby’ nie (bl. 86, kursivering van my). En die vreemdeling begin dit afkrap - omdat hy dit nie herken nie, nie kan ken nie, nie kan approprieer of besit nie, en nie in sy besitterstaal kan ‘interpreteer’ nie. (Sy is natuurlik 'n kunsobjek wat kenbaar in hulle taal is, dus 'n besitting. 'n Ander rede vir haar neerslagtigheid?) Dis een stilte van die teks. 'n Ander kan verband hou met die parasitiese. Die rotstekeninge is nie - nie meer - parasities nie, hulle bestaan outonoom, hulle weerspieël nie en het nie 'n verduideliking nodig nie; hulle laat dus geen interpretasie - wat parasities is - aan hulle koppel nie. Diegene wat parasities bestaan soos die besitters, kan dit dus nie begryp nie, daarom is dit te vernietig. Verder: mens kan slegs die tekenings interpreteer n.a.v. wat die teks nie daaromtrent sê nie; want die teks beskryf hulle soos die reisigers hulle sien in terme van hulle norme, wat gedetermineer is deur hulle klas. Die teks kan dus slegs deur sy stiltes ‘skrif’ word en praat van parasitisme. En die slavin kan nie | |
[pagina 89]
| |
verwoord nie, omdat sy slegs taal besit deur die grasie van die besitters, parasities. Daarom voorspel sy, praat sy in tale, bevry, los van alles - soos die rotstekeninge. Daar is nog 'n laaste keer in die teks dat sy taal beproef. Die klapklanke wat haar nuwe versorgers, die klein mensies, maak, probeer sy ook, en dofweg kom daar iets uit haar eie verlede en neem dinge in woorde vorm aan: ‘Nou het ek die naam vir alles: slaaf, ontmanning, handel, kusstad, see, dwangarbeid. Ja, nou het ek dit alles’. (bl. 98) Maar: ‘Ek het die name en word nie na geluister nie. Niks kan ek met die name aanvang nie. Hulle is rammelaars maar’. (bl. 98) Dus is daar wéér geen taal wat kontak kan maak en denke kan vorm nie, woorde is slegs klanke. Sy neem weer haar toevlug tot tekens wanneer sy 'n konfrontasie met die klein mensies afdwing: sy ontklee haar om so net as mens voor hulle te staan. Maar sy word nie raakgesien nie: ‘Die smaad van nie mens te mag wees nie, kom ek te bowe’ (bl. 99). Sy word nie as mens gesien nie, maar as godin, as teken. 'n Einde kom na die bloedige geveg om haar boom. Om haar as besitting? Eendag hoor sy 'n kreun (‘... hoor ek 'n gekreun, of verbeel my ek hoor dit. Of verbeel ek my nie?’ bl. 106), en dan soek sy noukeurig ‘... na die geringste lewensteken’ (my kursivering). Haar einde kom ook soos 'n teken: die gif wat vir haar neergesit is - 'n laaste geskenk (geskenke as tekens het sy as besitting gedurig gekry); en sy speel vir oulaas met die goue spykertjie, die ‘... klein kosbare tekens van 'n ontwykende betekenis’ (bl. 109, my kursivering). Met tekens sonder betekenis probeer sy om haar in haar laaste oomblikke te vermaak; en in die boom, teken van die ontfermer, en onderstebo soos 'n vlermuis vind sy bevryding: maar nog deur tekens. Omdat 'n besittersklas en 'n besitte klas - in vandag se terme kapitalis en proletariaat - en taal en teken in die teks so dikwels in jukstaposie staan, is dit, ten slotte, nodig om die verbande te soek. Dit was hier materieël so gedetermineer dat klasse ontstaan het, eienaars en slawe; en binne dié dialektiese materialisme is dit so dat die klasse nie sonder mekaar kon bestaan nie. Hierdie geforseerde en tragiese afhanklikheid het ontstaan omdat daar mense is wat die wêreld egosentries en vir selfgewin probeer orden. Maar die besitters op soek na hulle gedroomde stad van rooskwarts en hulle slawe sal uiteindelik verdwyn. Die implikasie daarvan om 'n slaaf, 'n besitte klas, te wees is enorm; want daardeur word die mees wesentlike ‘eiendom’ van die mens hom ontneem, nl. taal. Die slavin, dus eintlik sonder taal, bestaan slegs van tekens: haar liggaam, geskenke, 'n ivoorarmband, die taal van die digters, spykers, krale, 'n kremertartboom, as godin. Tekens is egter nie taal nie, tekens parasiteer, soos sy parasiet is. En haar strewe is om bevryding. | |
[pagina 90]
| |
Die teks ‘vertel’ haar ‘verhaal’, red haar as't ware van die leef van tekens alleen; maar die teks ‘vertel’ ook homself - en dit, die skrif, ‘writing’, is nie parasities nie. Dié skrif is al wat oorbly, dit ‘verwys’ nie na 'n spesifieke tyd-ruimtelike koloniaalhistoriese situasie nie, want dit skep self so 'n wêreld met sy hiërargie, sy eksploitasie en kapitalistiese akkumulasie - en dit is ook nie 'n ‘teken’ of ‘spieël’ van ons huidige soortgelyke histories- en materialisties gedetermineerde wêreld nie. Dit is wel gedetermineer - soos alle tekste - maar dit staan nie in 'n sekondêre posisie nie. Want in sy totaliteit is die skrif outonoom, maar dit het binne 'n ideologie ontstaan en in sy skrif-wees besit dit die eienskappe daarvan: ironie, kontradiksie, teken wat nie taal is nie, nihilering, selfvernietiging. En daarin is dit juis 'n radikale verset teen daardie ideologie. |
|