Marxisme en die Afrikaanse letterkunde
(1988)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 35]
| |
Hoofstuk 4
| |
[pagina 36]
| |
In 'n sosiale teorie oor plakkers word die volgende gevolgtrekking gemaak: ‘It sees them as part of a “culture of poverty” which makes poverty inevitable because the squatters lack the “normal” bourgeois virtues of ambition, enterprise, and hard work which would permit them to raise themselves out of poverty; and it poses them as a threat, a source of radicalism against the bourgeoisie.’Ga naar voetnoot4) Basies gaan dit in die Ampie-trilogie oor drie verhoudings: Ampie en sy donkie; Ampie en die vrou; Ampie en die kind. Dit begin alles met Ampie en die donkie, ou-Jakob. Deur die verkoop van sy donkie kry Ampie geld waarmee hy na Blikkiesdorp gaan, waardeur hy in opstand kom teen sy pa, as gevolg waarvan hy uitverhuur word aan die feodale heer, Kasper Booysen. En die vervreemding tussen hom en sy meisie Annekie hou ook met dié verkoop verband, omdat die goedkoop ring wat hy haar skenk uit daardie verkoop gekom het. Hulle uiteindelike versoening kom ná die brief wat hy aan haar geskryf het oor die dood van ou-Jakob. Van die begin af is dit duidelik dat ons hier met 'n buitengewone verhouding te doen het. Ampie en die donkie is 'n twee-eenheid, Ampie is die menslike ekwivalent van die donkie, terwyl die donkie 'n klankbord vir Ampie se emosies is, sy gesprekgenoot, sy alter ego. Alhoewel daar 'n basiese verskil tussen mens en dier is, vind hier 'n opskorting van sekere verskille plaas a.g.v. 'n eendersheid, waarvan Ampie nie bewus is nie (as hy was sou dié soort verhouding immers nie bestaan het nie). Die affiniteit met die donkie is in 'n mate 'n eenderse dierlikheid, wat voortgekom het uit armoede en agterlikheid: ‘En gebore in die gestadige verslegting van ouers het hy die vryheid van 'n dierlike lewe lief gekry en die dwang van die beskawing gehaat wat hom op die skoolbanke geforseer het.’Ga naar voetnoot6) Oral beklemtoon die teks deur vergelyking en wyse van beskrywing Ampie se dierlikheid; en dit word selfs gestel teenoor menslikheid - alhoewel Ampie in daardie geval besig was met 'n ‘menslike’ handeling, nl. vuurslaan: ‘Sy menslikheid is weg, en in die donker, wat om die veldbrand toegesak het, lyk Ampie soos 'n woesteling, onkeerbaar’ (bl. 146). Maar dis nie alles negatief nie, want dikwels is daar ook by hom 'n natuurlikheid, 'n drang na die vrye natuur, weg van mense, 'n eenheid met die natuur en 'n liefde daarvoor (‘... in sy digte | |
[pagina 37]
| |
boesem swel 'n ontvanklikheid wat liefde voel vir kaal bulte, die onpeilbare hemelblou’ ... bl. 119). En die klimaks van dierlike instink en 'n vrees vir die mag van die natuur - 'n vereniging van dierlike en natuurlike - word in die teks bereik met die donderstorm waarin Jakob vrek, en waaraan die teks, beskrywend, baie aandag gee. Ampie se dierlikheid en natuurlikheid - wat materialisties gedetermineer is - bestaan sonder bewustheid van die teenoorgestelde, nl. mens-wees en kultuur. Maar die teks, wat vanuit sy aard kultuur-objek is, weet wel daarvan. Ampie se andersheid, wat slegs kan bestaan omdat daar teenoorgesteldes is - soos kultuur bv. - bedreig terselfdertyd die bestaan daarvan, dialekties gesien. Daarom moet dit verwyder word, en om dit te verwyder moet hy 'n bewussyn ontvang; bewussyn wat 'n sosiale produk is;Ga naar voetnoot7) en om dit te kry, moet hy geleer word om met mense saam te leef. Die geval Sitman in ‘Bywoners’ was in 'n sekere mate dieselfde; mens sou dus kon vra waarom het hý nie soveel aandag gekry nie. Ek dink dis histories en ideologies verklaarbaar: ‘Bywoners’ was die eerste werk oor die saak, en daar was toe nog nie duidelikheid oor 'n ideologese strategie nie. Daarteenoor is die strategie van die Ampie-teks inisiasie en opvoeding. Wanneer Ampie dan deur Kasper Booysen ingeneem word, word hy gewas, sy kop in fatsoen gebring (!), kry hy skoon klere en 'n vaste verblyfplekkie - en moet hy op 'n bed slaap. Hy word met die ondertekening van sy werkskontrak bewus gemaak van die gesag van sy pa, al is dit 'n korrupte en dom gesag (wat nog kan beveel ‘... jy moet elke aand jou vraeboek leer, want jy is nog maar baie dom en dis kaffersleg as 'n mens ongeleerd bly’, bl. 61). En hy word geleer dat daar sekere gedragskodes by die hofmaak van 'n meisie is. Dit alles is 'n inisiasie tot die besef dat daar gesag is, outoriteit, 'n baas; dat daar orde moet wees vir 'n samelewing om te kan funksioneer. Die wyse wat die teks kies om hierdie opvoeding en proses van bewuswording te bewerkstellig is materialisties gedetermineer. Ampie se pa het hom beveel om sy donkie te verkoop. Sy donkie word dus getransformeer tot iets wat geldwaarde kan hê, sy donkie is dus nie meer ‘donkie’ nie maar ‘waarde’. Hy word dus materieel gedwing om hom te vervreem van sy donkie. Ek het aanvanklik gedink dat sy donkie hier 'n kommoditeit word. Dis egter nie heeltemal die geval nie,Ga naar voetnoot8) omdat 'n kommoditeit geproduseer moet word vir verruiling: | |
[pagina 38]
| |
‘Om ware (kommoditeite) te produseer, moet daar nie net gebruikswaarde geproduseer word nie, maar gebruikswaarde vir andere, gemeenskaplike gebruikswaarde.’Ga naar voetnoot9) Buiten die feit dat Ampie vanselfsprekend nie donkies geteel het vir gemeenskaplike gebruikswaarde nie, het sy donkie eintlik vir die koper daarvan, Kasper Booysen, ook geen gebruikswaarde nie. Dis gekoop uit feodale goedhartigheid, patroniserend. Dus hoegenaamd nie 'n kommoditeit nie. Maar omdat Ampie nie van sy donkie vervreem kan word nie verkoop hy sy arbeid aan Booysen. En dit is nie meer feodaal nie, maar die embrionale begin van primitiewe kapitalistiese akkumulasie: ‘... hierdie nuwe bevrydes word verkopers van hulleself, nadat hulle beroof is van hulle produksiemiddele en van alle waarborge wat die ou feodale instellings vir hulle bestaan gegee het. En die geskiedenis van hierdie onteiening berus nie op blote veronderstelling nie. Dit is die geskiedenis van die mens onuitwisbaar geskrywe in bloed en vuur’.Ga naar voetnoot10) Ampie se inisiasie vind natuurlik plaas binne die sekuriteit van die feodale opset, maar die waardes wat hy daar leer bevat die elemente van 'n sisteem wat die feodale sal vervang. Tydens sy opvoedings- en sosialiseringsproses werk hy saam met Flip Staander, Booysen se bywoner en dus van 'n hoër stand as Ampie. Hy raak versot op Staander se dogter, Hester, en hy besef. ‘dat hy hom nou sal moer roer om ook aangeneem te word, en hy't besef dat as hy ooit met Hester behoorlik sal kan opsit, hy kant en klaar moet wees, nes Hester self’. (bl. 114) Deur die aanneme kan hy dus gelyk wees met haar; deur 'n godsdiensritueel kan hy sy klas te bowe kom en aanvaar word binne 'n ander stand. En hierdie besef bring 'n openbaring (‘Nuwejaarsdag was vir hom 'n openbaring’ bl. 129): dié van klas en klasseverskil. Wanneer Ampie dit besef, is die denkwyse nie meer dié van 'n naïewe natuurmens nie, maar dié van 'n ideologie-skeppende teks: ‘Al die jongmense het hom daarvandaan vermy en Hester het geen notisie van hom meer geneem nie. Hy het die feesvreugde as 'n buitestaander aanskou en in sy hart het die bitterheid baie groot geword. Vir die eerste keer in sy lewe kon sy oë toe opmerk die verwaarlosing en verslegting van sy familie, en hy't met afkeer aan die murasies gedink waarin hulle opmekaar bondel soos beeste in 'n kraal en slaapplek vat as hulle vaak kry ... Al wat Nortjé is, het hy toe verwens met ruwe vloeke - ook homself. - Sy swaarkry in die lewe, sy agteruitstaan by alles waar 'n ander jongman met hom meeding, die besef dat die mensdom hom gebruik net wanneer hy iets vir hulle kan verrig, maar verder hom eenkant laat staan | |
[pagina 39]
| |
- alles, het hy toe gevoel, is net te wyte aan die slegtigheid van die Nortjé's daar in die afstootlike murasies.’ (bl. 130) Dieselfde teks wat hom voorheen gerig het teen Ampie se verwaarlosing en beestelike gewoontes, skaar hom nou by Ampie in die kritiek op die Nortjés; en as die teks woorde soos ‘verslegting’, ‘agteruitstaan’, ‘meeding’, ‘slegtigheid’ en ‘afstootlike’ gebruik, sê dit dat Ampie nou weet van beter. En wanneer Bart (Annekie se broer) Ampie later sien, beskryf die teks - vanuit Bart se oë - hierdie nuwe mens: ‘Nou lyk hy in sy mooi pak klere self 'n grondbesitter, so deftig alles in die haak, g'n skoenriempie verkeerd nie.’ (bl. 143) As jy in gedagte hou dat Bart later die epitoom van die kapitalis word, is dié waarneming sprekend. Die uiteinde van die opvoeding is die ideaal: ‘“... as oom Kasper nie omgee nie, dan sal ek daardie huisie van oom Flip vir ons regmaak, want ek moet vir Omie bekend maak dat ek en Annekie sal gaan trou nes die huisie reg is en ek 'n lappie grond by Oom gekry het om op te bestaan...”.’ (bl. 148) Byna al 'n bourgeois-ideaal; maar die feodale sisteem bly nog sy sekuriteit, want hy het ook besluit dat hy nie ‘dorp’ toe - dus industrieë toe - sal gaan nie. 'n Sentrale gegewe in die tweede deel van die trilogie lê in dié gedagtes van Ampie, aan die begin van die boek: ‘Soos 'n siddering het dit sy siel deurtril, die swak bewustheid dat hy deel uitmaak van 'n maatskappy met sy wet en orde waaraan hy homself tog sal moet onderwerp.’ (bl. 155) En teen die einde: ‘As hy so stadigaan die nuwe lewe gewend kan word, sal die sake stryk. - Die wette van die lewe moet hy gehoorsaam.’ (bl. 224) Die teks wat Ampie gevorm het tot 'n aanvaarbare mens en hom laat wegbreek het van die brute natuur en hom op die pad tot kultuur geplaas het; daardie teks gaan hom nou ideologies vorm; en omdat dit 'n proses van instruksie is, sal die teks homself gedurig laat geld. Byvoorbeeld, die frase uit die vorige aanhaling, ‘deel uitmaak van 'n maatskappy...’ ens.: dit is 'n cliche wat Ampie nie so dikwels vantevore gehoor het dat hy dit self kan gebruik nie. Dis die teks self wat praat, die teks-vir-ideologie. Direk na die mededeling dat hy hom sal moet onderwerp, in die volgende sin, volg die eerste onderwerping: om saam met Annekie aangeneem te word. Die beloning, maar ook die verlies indien hy faal, is Annekie. Dis egter ook die erkenning van en onderwerping aan 'n hoër gesag wat dit van hom vereis; en hier | |
[pagina 40]
| |
werk die ontsag van die natuurmens vir 'n groter mag saam om hom die nodige agting en vrees vir gesag te gee: ‘Hoekom wil oom Tys dit hê? Waarom wil God dit hê? Hy voel mos dat hy nou sonde gaan doen: sy hart rebelleeer. Hy kan Annekie nie mis nie; hy word gedryf; hy moet daardeur, maar by God kom hy nie verby nie! Ampie voel geweldig bang vir God. Hy kan hom mos orals skielik bykom en sommer verdedig. Hoe vreeslik is ou-Jakob met een bliksemslag verniel ...’ (bl. 186-187) Oom Tys, Annekie se pa, is 'n swak bywoner (‘hy voel hom misplaas daar op die lande waar hy met teësin werk vir kos en klere’, bl. 166), maar die teks ignoreer sy swakhede omdat hy ander waardes besit, nl. die geestelike - en hy neem die Bybel as maatstaf vir alles. Hy word dan ook deel van Ampie se inwyding tot die godsdiens. Op 'n baie elementêre vlak het mens dus met die eerste twee dele van die trilogie 'n skeiding tussen ‘infrastruktuur’ (ekonomiese determinisme) en ‘suprastruktuur’ (kultuur), waar die suprastruktuur dan deel twee van die trilogie uitmaak, en die ‘geestelike’ oom Tys oorneem by die ‘materiële’ Kasper Booysen. Die geestelike instruksie van die teks leer hoofsaaklik van gesag, orde, sonde, skuld en tug, en van die inherente boosheid van die mens. En in Ampie se eenvoudige formulering van die betekenis daarvan openbaar die teks sy rassisme en klasbewustheid: ‘Ampie begryp nou hoekom God so straf is. As 'n mens 'n slegte kaffer, wat boonop verbrou het, tot inkeer wil bring en iets werd wil maak, dan moet hy hom goed kasty, ja, amper verniel om hom reg te kry. En heel die mensdom is sleg en het verbrou, en daarom moet hulle so kort-kort een-een deurloop.’ (bl. 201) Ou-Jakob se dood was dan ook a.g.v. Ampie se sondetjies. Hy vind rus in die wete dat God ook liefde is - en net soos Kasper Booysen se feodalisme hom beskerming gee, net so vind hy nou beskerming in die wete van 'n streng en liefdevolle vader. Ampie kan Annekie alleen besit as hy die wette van hierdie vader gehoorsaam - en die onmiddellike, mees gedugte, is die aanneming. Dit behoort duidelik te wees dat die godsdiens hier 'n sosiale produk is wat deur die maatskappy gebruik word as 'n middel tot konformisme, en hier veral die skuld-teologie wat die teks onverbloemd as ideologie aanbied. Ampie se opvoedings- of bewuswordingsonderneming het ontstaan a.g.v. sy materiële omstandighede; en net so vereis die wêreld dat hy hom nou ook religieus moet onderwerp. Maar ten spyte van sy vrees gaan hy die aanneme deur, en kan die huwelik voltrek word. Sy grootste opstand kom egter tog teen 'n laaste eis van die godsdiens: dat hy moet bid. As hy dit nie kan doen nie, dan het hy nog nie deel geword nie (‘Ek het nooit kon dink dat jy so sleg is nie. 'n Mens wat klaar aangeneem is en boonop getroud is, behoort mos te kan bid!’ sê Annekie, bl. 226). Uiteindelik konformeer hy tog: | |
[pagina 41]
| |
‘... Ampie sluit nou elke aand die boekevat met “Ons Vader”. Annekie is heeltemal daarmee tevrede, want hulle kan tog nie soos heidens lewe nie.’ (bl. 229) Die teks handel die hele dramatiese aangeleentheid af in slegs daardie twee sinne. Wat mens laat wonder: is dit wérklike oorgawe? Die ‘Onse Vader’? Terwyl hierdie ideologiese bande om Ampie gespan word, is daar 'n ander karakter, Bart, wat geleidelik in die teenoorgestelde rigting begin beweeg. Ampie raak verstrik in 'n feodale ‘klein-burgerlikheid’; en Bart breek uit na die lokkende kapitalisme en vryheid. Die volgende stukkie dialoog tussen Ampie en Bart sal illustreer: ‘“Jy kan mos nie besigheid doen nie, Bart! Jy is mos nog nie mondig nie!” Bart se handeling hierna dui op 'n onvermydelike determinisme. Hy neem die geld vir Ampie-hulle se huweliksfees sodat daar nie gevier kan word nie - 'n konvensie is gebreek - en hy vertrek wanneer Ampie mondig word - 'n kontras wat die teks bewerkstellig. Mens sou dus kon sê dat Bart teenoor Ampie staan soos die begin van kapitalisme teenoor die einde van 'n agrariese bestaansekonomie. Maar alhoewel Ampie konformeer, gesosialiseer is om aan te pas by die besondere gemeenskap, is daar tog ook tekens van 'n strewe na iets hoër, van 'n groeiende ‘bourgeois’-bewustheid. Hy verlang na 'n mooi toekoms waar hulle twee ‘alleen hier in die woning met hulle eie goedjies’ (bl. 158) kan bestaan, en hy sien hoe Annekie hulle besittings rangskik; hy voel verantwoordelik, hy voel ambisieus (‘... Annekie mag nie agteruitstaan nie ...’ bl. 159), en hy begin selfs dink aan kommoditeite (‘Oor 'n paar maande sal Annekie met haar eie hoendereiers na die winkel toe kan stap ...’ bl. 159). En wanneer daar - volgens konvensie - besluit word dat hulle seun na Ampie se vader vernoem moet word, kom hy in opstand omdat sy pa staan vir verslegting en verwaarlosing; juis dit waarteen hy nou strewe. Die besluit om die kind Jakob te noem is eintlik 'n eienaardige kontradiksie - 'n klein aanduiding van die basiese kontradiksie wat deel is van die hele Ampie-trilogie. Hy vernoem sy seun na die donkie omdat die donkie vir hom meer beteken het as sy pa - en sy pa staan vir die ergste van bywoner-misère. Dit weet Ampie nou nadat hy gesosialiseer en ‘opgevoed’ is; maar dit kon hy | |
[pagina 42]
| |
alleen bereik het a.g.v. die donkie. Die donkie staan egter ook vir die natuur, vir vryheid, los van die maatskappy. Miskien wil die naamgewing aan die kind 'n versoening van teenoorgesteldes wees: natuur teenoor kultuur. Boek drie van die trilogie is die finale fase in die bewuswordingsprogram van Ampie; maar nou is dit gekompliseer deur Bart, Ampie se kind, die delwerye en die godsdiens - determinasies wat tot tragedie en 'n ommekeer van alles lei. Die teks is taamlik eksplisiet oor Bart, die skrander seun ‘met meer besigheid in sy pinkie ... as die hele familie saam in hulle koppe’ (bl. 272), se rol in die ontwrigting van die bywoner-gemeenskap. Hy ‘wat net waarde heg aan 'n besitting om dit te verkwansel’ (bl. 274), word die leier van dié eenvoudige mense op die pad na die delwerye, waar selfs Ampie se versukkelde ouers hoop om tot die middelklas te kan behoort (bl 276). Bart is die verteenwoordiger van die nuwe strewe tot kapitaal - en weg van die land af. Hulle wegtrek word duidelik materieël bepaal in die beskrywing van slegte landboutoestande wat dreig om die ondergang van die boerebevolking te veroorsaak. Kasper Booysen die grondbesitter som die situasie op in woorde wat sy verset teen enige ander wyse van produksie openbaar: ‘Die delwery gaan ons land leegsuig, en daar tussen die kreunrantjies sal 'n groot deel van ons boere opmekaar bondel, ongeskik vir plaaswerk word en 'n las vir die maatskappy ... Altemit sal ek die swaar tye deurkom; maar wat van die bywoners wat van ons afhanklik is? Niemand van hulle kan dit bekostig om een oes te verloor nie. En wat bly oor? Onderstandswerke! Dis kliphard vir 'n boer om daagliks op vasgestelde ure vir 'n hongerloon per dag onder die oë van 'n baas te werk. - Nou kom die gevaar! Die delwerye streel die ingebore vryheidsgevoel, want daar kan hy altemit die geluk kry om selfstandig te werk.’ (bl. 246) Die alternatiewe is dus: delwerye of onderstandwerke. Mens kry die gevoel dat Booysen liewer die onderstandswerke - soos om op die pad te werk - verkies as die delwerye. En Bart verkies die delwerye. Albei heenkomes verteenwoordig 'n verandering in die wyse van produksie - albei op die pad na kapitalisme deur arbeid as 'n kommoditeit; of, in die geval van Bart wat 'n Baas wil wees, deur die besit van die produksiewyse. Booysen wil Ampie red deur hom op sy eie voete te laat staan as geldverdiener, arbeider op die pad. Dis ‘eerlike’ arbeid, in-die-sweet-van-jou-aangesig-arbeid. Maar Booysen kan nie insien dat die feodale stelsel waar hy die produksiewyse (as grondbesitter met bywoners) besit het in wese nie veel anders was nie; behalwe dat bywoners onder hom gewerk het in die idille van die natuur. Dis dié idille wat Ampie nog onbekemmend beleef voordat hy van sy wêreld vervreem gaan word. Bart as uitbuiter teenoor Ampie as geëksploiteerde, Bart as kapitalis teenoor Ampie as arbeider, Bart as besitter teenoor Ampie as die eerste van die klas van die proletariaat - dit word duidelik hier gesê: | |
[pagina 43]
| |
‘Bart hou sy kop in al die snaakse teenstrydighede wat die lewe voor sy voete rol ... en die lewe is agterstevoor. Diegene wat sy kop gebruik, gaan vorentoe, dis duidelik. Daar is so baie voorbeelde. Die padmakers swoeg heeldag deur met graaf en pik, terwyl die ploegbaar, wat selde sweet, die pad maak. Sy baas weer, wat in die motor rondry en vet word en nooit sweet nie, gebruik sy kop en maak die distrik se paaie. Al die teenstrydighede kom reg anderkant uit. En al die kopmense maak vriende met die onregverdige mammon”.’ (bl. 326) En die ergste ekslpoitasie vind plaas wanneer Bart Ampie-hulle se diamante steel, die kind sy erfgenaam maak, maar dan met alles verdwyn - en van die kind, volgens Ampie, 'n spotterny maak. Maar die kind is nie net daar as middel om uitbuiting in al sy aaklikheid te belig nie. Die kind is deel van Ampie se opvoeding tot verantwoordelikheid (‘...die strelende bewustheid dat hy werk en sorg vir sy kind...’ bl. 248). Hierdie verantwoordelikheid veroorsaak dat hy gedwing word tot nuwe, vreemde, materiële omstandighede - en 'n verdere inisiasie sal moet deurgaan: ‘“Ons toekoms, kind! Dis vir jou toekoms dat ek hier is. Jy moet eendag kan sê dat jou pappie jou goed groot gemaak het. Die doel het my laat maats maak met die mammon. Ek het verkeerd aangevoor”.’ (bl. 378) En buiten mammon was daar ook ander bedreigings: dat hy nie kan konformeer nie, nie kan buig ‘onder die basemente’ van ander nie, dat hy nog nie kan ‘maats maak met die mense van die wêreld’ nie (bl. 367). Die hoofdeterminante van Ampie se nuwe milieu is die delwerye. Hier word hy - half-natuurmens, half-bywoner, half-opgevoede, half-op-die-pad-nabourgeoisie - gekonfronteer met 'n ander wyse van produksie en daarom met 'n ander sosiaie milieu. Die teks het die delwerye gekies as heenkome vir die verarmde bywoners omdat dit - net soos in ‘Bywoners’ - nog nie mense kon skep binne 'n kapitalistiese produksiewyse nie, want dan sou hulle werkers, 'n proletariaat, moes gewees het; en die sprong van 'n idilliese feodale produksiewyse tot kommoditeitsprodusente en verhandelaars van hulle eie arbeid was nog te groot. Die delwerye is 'n tussenfase: alreeds binne 'n kapitalistiese stelsel, maar hulle wat voorheen bywoners was, werk tog hier vir hulleself (‘Die delwerye streel die ingebore vryheidsgevoel...’), en uiteindelik kan die gelukkiges miskien bo uitkom, hulle ‘eie baas’ word, besitters van die wyse van produksie word, kapitaliste word sonder om die vernedering van proletêr-wees deur te gaan. Hulle wou almal base word. En die proefkonyn was Ampie. 'n Baas sou hy nooit kon word nie, maar miskien kon hy die tipe van die geëksploiteerde word, die ideële proletariaat, want hy is by uitnemendheid geskik tot uitbuiting (Bart het dit al lankal begin doen). Daarom is dit nodig om hom te sosialiseer. Een van die sterk sosialiseringsmagte is hier ook die godsdiens; en een van die tekens van verantwoordelikheid is die huisgodsdiens, en die gebed in die | |
[pagina 44]
| |
openbaar. As Ampie dit nog nie kan doen nie, het hy nog nie ten volle man geword nie: ‘Jy is tog immers nou 'n man en ook reeds 'n vader, wat hoort te weet hoedanig hy sy huis moet menteneer en sy huislike pligte moet uitvoer, al kom die koning ook by ons kuier...Die satan het sy klou nog danig vas om jou hart, Ampie...”.’ (bl. 269) Maar Ampie kon die godsdiens nooit as 'n sosiale feit aanvaar nie: die gebed was vir hom privaat, die gemeenskap met die Here privaat; en die sektes waarin Annekie so opgegaan het by die delwerye - wat haar van alle beskroomdheid genees het - het hy gehaat: ‘Ek het vanaand ook godsdiens in ons kaia gehad, Annekie. Ek het gevoel dat God hier by ons was...net Jakoppie en ek - allenig. Ons twee het lekker gesels en die Here saam gedien. Ek sal die kind meermale oppas, want in die tabernakel, waar almal so raas, sal ek my nie so gelukkig kan voel as hier in die kaia by Jakop en die Here nie...!”.’ (bl. 305) As die klein, intieme gemeenskaplikheid van die huisgodsdiens nie deur sy privaatheid kon breek nie, sou die groot sosiale gebaar van die tabernakel hom nog minder sosialiseer. Maar die druk daarvan, en van aanpassing by die vreemde, van mammon, van eksploitasie, sou ondraaglik word. Sy ontsnapping vind hy deur drank, 'n ‘wêreldse’ ontvlugting (die wyse van die ontvlugting is dan alreeds 'n verset teen die kerk). Uiteindelik in 'n toestand van beneweling ruk hy hand-uit wanneer sy kind in die kerk is, en hy probeer die kind red. Maar hy word gered, deur Kasper Booysen, en die teks impliseer dat hy nie hier hoort nie, dat hy terug moet plaas toe. Deur die handeling so te struktureer sal die teks egter nog duideliker die vinger op die wond lê. Die kind se dood word gekoppel aan verskeie dinge: Ampie se dronkenskap - waarvoor Bart aanvanklik verantwoordelik was, asook sy ineenstorting omdat Bart van sy kind 'n spotterny gemaak het; Annekie se sekte-beheptheid wat tot verwaarlosing gelei het; maar die finale determinerende milieu was die delwerye waarheen hulle a.g.v. die ekonomiese determinisme moes gaan. Na die dood van sy kind keer Ampie terug plaas toe: terug na die natuur, terug na die aarde, terug na die feodale stelsel. Daar is verskeie dinge agter hierdie ‘gelukkige’ einde te lees; moontlike konsekwensies wat die teks nie kon uitspel nie, omdat die teks toe dit gekonsipieer is, gedetermineer is deur dieselfde omstandighede wat die lewens van die karakters daarin bepaal het. 'n Mens sou kon sê dat Ampie teruggekeer het omdat hy half-simpel is en daarom nie opgewasse kon wees teen die harde wêreld van geld en eksploitasie nie. Dan is daar niks meer te sê nie, en is Ampie net maar nog een van die idiote in die Afrikaanse letterkunde. Of dan is dit bloot die verhaal van 'n individu - met ‘eksistensiële’ ondertone - wat nie deel van 'n gemeenskap is nie of die slagoffer van 'n milieu is - en dan is die teks sonder enige verdere moontlikhede | |
[pagina 45]
| |
van 'n dialektiek. Die teks is egter nie net 'n beskrywing, verhaal nie, maar ook 'n bondgenoot by die lotgevalle van Ampie,Ga naar voetnoot11 'n teks wat dus die skrif van 'n ideologie aan die maak is, So, wyer gelees, is Ampie dan die gekose persoon wat vanaf die eerste boek vanuit sy natuurlike, pre-feodale staat geruk is en opgevoed word tot 'n besef van (feodale) waardes, tot verantwoordelikheid, tot 'n beskermde burgerlike bestaan, en tot konfrontasie met 'n vreemde en dreigende sosiale milieu waarteen hy hom gedurig verset. Binne hierdie verbande en verhoudings gesien word hy 'n korrelaat vir die historiese en materialisties gedetermineerde bestaan van die Afrikaner vanaf feodalisme tot die begin van kapitalisme. Maar die teks skipper aan die einde, omdat dit 'n terugkeer na feodalisme wil hê en kapitalisme as bose mammon-aanbidding, eksploitasie en manipulasie beskou. Die feodale idille - die gemoedelike, vriendelike gebruik van arbeid sonder inagneming van die mag van die ekonomie - is beter as kapitalistiese eksploitasie. Liewer bywoner as proletariaat. Tensy jy jou eie baas kan wees en nie onder ander se ‘basemente’ hoef te buig nie. Maar 'n baas - ook 'n feodale baas - is alreeds 'n element in die kapitalisme. En die kapitalisme kan sonder sy proletariaat nie bestaan nie. Vanwaar dan die proletariaat? |
|