| |
| |
| |
1948-1961
In 'n beleidsdokument van 1948 het die African National Congress Youth League gesê:
The majority of Europeans share in the spoils of white domination in this country. They have a vested interest in the exploitative caste society of South Africa. (Karis en Carter, 1973: 227)
As mens hierdie uitspraak lees saam met die volgende waarneming word die dialektiek van die stryd duideliker:
The inclusion within the ruling Afrikaner coalition of a growing number of urbanized ‘poor whites’ guaranteed them a privileged status in the labor market and channeled to them some small fraction of capital's rising profits. On this basis, the living standards of all white South Africans rose rapidly after 1948... (Saul en Gelb, 1981:17)
‘Capital found that apartheid worked’ (1981: 16). Kapitaal en apartheid het hand aan hand gegaan: wit mense het bourgeois geword en swart mense het gekonsolideer geraak binne 'n proletariaat. Daar moet ook kennis geneem word van die feit dat - in teenstelling tot die Afrikaanse letterkunde - die ontwikkelende situasie van klasse-oorheersing gelei het tot ontnugtering by die swart elite van die veertigerjare, wat weerspieël is in die swart letterkunde: in die toenemende gebruik van Afro-Amerikaanse modelle wat wit oorheersing verwerp.
Om hulle posisie van dominasie te handhaaf moes die Nasionaliste in dié tyd talle wette instel (die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet, die Ontugwet, die Wet op die onderdrukking van Kommunisme, die Bantoe-owerhedewet, die Bantoe-onder-wyswet, die Wet op Bevordering van Bantoe-selfregering, ens.). Die groot repressie het begin. ‘...It is the situation of the 1940's
| |
| |
which aptly deserves the appellation of “organic crisis”’ (Saul en Gelb, 1981: 13).
Die meeste prosa van dié tyd is 'n voortsetting van die tradisie van die Afrikaanse prosa tot dusver: 'n refleksie van die realiteit sonder dat daar simboliese oplossings gebring kan word vir die groeiende kontradiksies in die maatskappy.
Vanaf die idilliese feudalisme van die meester-slaaf-verwant-skap in sy vroeër werk probeer Mikro nou die geïntensiveerde rasseprobleme aanspreek. Hy slaag egter nie daarin om kleur werklik binne 'n politieke konteks te sien nie; en in plaas daarvan keer hy hom tot die wit, kleindorpse wêreld en skryf binne die gemoedelike verteltoon oor die klein tragedies van die ouerwordendes en die oues van dae. Dit is 'n betekenisvolle ‘bekentenis’ van 'n onvermoë om nuwe tye te hanteer - vanaf'n humoristiese, patroniserende houding teenoor swart mense skryf hy nou patroniserend oor wit mense.
In 'n toneelstuk Die jaar van die vuur-os (1952) wil W A de Klerk (1917) die Afrikaner tot die besef bring dat hy nie binne die grense van sy ras kan bly voortbestaan nie, maar dat daar uitgereik moet word na swart en bruin landgenote om na 'n nuwe oplossing te streef. Die verwarde mengsel van ideologie, karikatuur, tipe en die gebruik van die deus ex machina kan 'n aanduiding wees van die onsekerheid waarbinne sommige Afrikaanse skrywers in daardie stadium verkeer het in terme van watter soort intervensies hulle kon maak. 'n Vermenging van verskeie aktuele sake - industrialisasie, die ontwikkeling van 'n meer komplekse maatskappy, kolonialisme, Afrika, die Afrikaner daarin - is karakteriserend van De Klerk se ander werk. Ook later in Die laer (1964), 'n historiese roman oor die Dorslandtrek, vertel vanuit 'n ‘gekleurde’ se perspektief, is die probleme met die perspektief miskien juis herleibaar tot ideologiese ‘stiltes’ wat onbewus die produksie van die teks kon beïnvloed het.
Buiten die feit dat die eerste swart Afrikaanse skrywers nou hulle eerste prosatekste produseer (Arthur Fula en Eddie Domingo), is dit ook die eerste poging van 'n wit petit-bourgeoisskrywer om hom te projekteer in die situasie van 'n swart Kleinboer wat probeer om deel te word van 'n verstedelikte proletariaat. F A Venter (1916) se Swart pelgrim (1952) (dis sprekend dat die hoofkarakter 'n pelgrim moet wees!) is die verhaal van 'n Xhosa wat stad toe gaan om werk te kry en om na sy broer te soek. Maar hy keer gebroke terug. Die ideologiese boodskap
| |
| |
het literêre kritici nooit werklik uitgespel nie, nl. dat daar geen swart pelgrims na die land van wit mense kon wees in Verwoerd se tyd nie. Dit is opvallend dat beide De Klerk en Venter onlangs besonder konserwatiewe uitlatings begin maak het oor die Afrikaner en die skrywer; en dat daar ontevredenheid was by swart skole (spesifiek in die Kaap) wat betref die voorskryf van Venter se Man van Cirene (1957): die roman oor die swart man wat Christus se kruis help dra het. Hierdie soort rassisme - natuurlik ‘histories gefundeer’ - sou in orde gewees het in die bloeityd van die Nasionaliste se hegemonie; maar nie vandag nie.
Die Afrikaanse poësie was besig om te konsolideer tot 'n bourgeois-poësie, hand aan hand met Suid-Afrika se ekonomiese oplewing na die Tweede Wêreldoorlog en die Afrikaner se groeiende aanvaarding van die kapitalistiese ideologie. Dit was 'n poësie wat bewustelik gegroei het uit 'n Westerse tradisie en wat gestreef het na gelykheid van gehalte met die beste in die Westerse wêreld. Kapitalisme, spesifiek ‘volkskapitalisme’, is doelbewus aangeneem as die Afrikaner se redding, teenoor die vrees vir swart onderdrukking en Engelse superioriteit. 'n Mens sou die onttrekking van die poësie van die tyd van 'n nasionale stryd of 'n sosiale gewete tot individualiteit en wedywering kan interpreteer in terme van die ontwikkeling van kapitalisme - waarvan die estete die ware aangesig nog nie geken het nie:
And what was...the essential problem in South Africa was what had been the problem for a long time: not nasty prejudiced whites and irrational Afrikaners and mysterious cultural forces, but a super-exploitative capitalism. (Johnstone, 1982: 16)
Ten spyte van die ANC se veldtogte in die stedelike gebiede, die massa-mobilisasie van die vyftigerjare, die ‘Defiance Campaign’, die ‘Congress of the People’ met die aanvaarding van 'n teks oor menseregte; ten spyte van die protes teen Bantoe-onderwys en die paswette vir vrouens, die verskuiwing van mense, die konsolidasie van die proletariaat en die nywerheidsonrus in die laat vyftigs; ten spyte van die feit dat die bestaande swart elite as gevolg van die beëindiging van swart mense se regte om eiendom te besit gereduseer is tot 'n proletariaat, maar nog die vermoë gehad het om opwindende prosaliteratuur voort te bring. (‘In the 1950's and the larger portion of the sixties we experienced a literary renaissance for blacks in this country...the renaissance was a celebration in prose’, Mphahlele, 1982: 89). Ten spyte van die enorme teenstry dighede wat aan die ontwikkel was tussen 'n wit
| |
| |
bourgeoisie en 'n geforseerde swart proletariaat in die stedelike gebiede, en dat 'n gekultiveerde swart bourgeoisie in die Bantoestans vervreemd geraak het van hulle etniese landgenote in die stede - ten spyte van al hierdie omwentelinge is daar geen aanduidings dat die Afrikaanse digters wat alreeds 'n sekere status bereik het (Van Wyk Louw, Eybers en Ernst van Heerden) enigsins bewus was van of besorg was oor hierdie sake nie.
Van Wyk Louw het na die ‘nuwe’ gestreef in Nuwe verse (1954) en 'n sintese van die verlede en die wêreld van sy jeug met sy kleurryke volkstaal bereik. Hy was op soek na 'n nuwe digterlike diskoers vir die ‘kentering van die tye’ (Kannemeyer, 1978: 422), en baie bewus van die digter se ambag en die profeet se roeping. Daardie diskoers het hy gevind in Tristia (1962), die poësie van sy ‘ballingskap’ vanaf 1950-1957, wat vandag nog beskou word as die ‘grootste’ poësiebundel in Afrikaans. Die ervaring van ballingskap was eintlik ironies: alhoewel dit gelei het tot 'n kritiek op die Afrikaner en 'n emosionele reaksie op Suid-Afrika wat in die frase odi et amo saamgevat word, was dit desnieteenstaande 'n verrykende ballingskap in terme van 'n Europese bewussyn. In elegiese verse betreur hy die afwesigheid van die Europese in Suid-Afrika:
my land, my dor verlate land:
iets wens olywe groei in jou:
dat alles klein, Latyns, gaan word
en kalk-wit kerkies bou (1962: 14)
Hierdie bundel verteenwoordig die toppunt van verfyning in die Afrikaner se poësie. Die aristokratiese ideaal is met die verkryging van die Afrikaner se politieke republiek bereik. Natuurlik kan mens die twee prestasies nie eenvoudig in 'n direkte oorsaak-en-gevolg-verband sien nie - maar in terme van die dialektiek van mag is dit die uiteinde van doelgerigte strewes.
Die woorde ‘gespanne realisme’ is al gebruik om die rigting te beskryf waarin Elisabeth Eybers se poësie ontwikkel het. Hierdie wegbeweeg van die vroeëre romantisering van die moeder, kind, die vrou mag saamgegaan het met rypheid; maar daar was 'n besliste intensivering van die ironiese, nie slegs wat poëtiese tegniek betref nie, maar ook in haar houding teenoor die lewe. Die ironie sal 'n altyd-teenwoordige element in die Afrikaanse poësie word na Van Wyk Louw se dikwels aangehaalde reëls uit Tristia: ‘Ons het ten minste heelwat ironiese ruimte’, en ‘eintlik moet ons leer ironies lewe:/én: binne ironie
| |
| |
nog liefde hou’. 'n Mens sou sekerlik Elisabeth Eybers se voorkeur vir ironie met verwysing na haar persoonlike lewe kan verduidelik; maar die groeiende invloed van die ironiese houding kan ook gesien word as 'n simboliese oplossing vir die groot kontradiksies wat aan't ontwikkel was in die Suid-Afrikaanse maatskappy. Met 'n aanpassing van Pierre Macherey se teorie van afwesigheid (‘We always eventually find, at the edge of the text, the language of ideology, momentarily hidden, but eloquent by its very absence’ (1978: 60)) sou mens kon sê dat waar die poësie van dié tyd tematies min erkenning van die Suid-Afrikaanse situasie getoon het, dit kan wees dat poëtiese middele en die skynbare onttrekking van die politiek na die estetiese 'n stille bewustheid geïmpliseer het.
Alhoewel Ernst van Heerden (1916) se poësie van die latere sewentiger- en tagtigerjare 'n groeiende besorgdheid vertoon met die politieke is sy werk in dié tyd persoonlik, geïnternaliseer en gepreokkupeerd met die poëtiese.
Digters wat met betrekking tot temas en poëtiese praktyk meer betrokke was by hulle tyd as bogenoemdes is S J Pretorius (1917) en D J Opperman (1914-1985) - en later S V Petersen, G A Watermeyer en Barend Toerien. Industrialisasie, arbeid en die aliënasie van kapitalisme is verwante onderwerpe in hulle werk. Opperman (wat ook beskou word as een van die ‘groot’ Afrikaanse digters) is 'n meester van die metafoor en die volgende in die ry van ‘uitnemende’ digters. Terwyl Pretorius nader aan die volk was, is Opperman primêr 'n digter se digter.
Vir Van Wyk Louw was die digter die intellektueel, vir Opperman was die digter die akademikus, die navorser en bloemleser (of akkumuleerder). Hy was by die letterkunde betrokke sedert sy jeug, en vanaf die sestigerjare het hy 'n ‘literêre laboratorium’ georganiseer by die Universiteit van Stellenbosch waar hy hoof was van die Departement Afrikaans-Nederlands. Menige jong digter het aan sy voete gesit, en baie skryf poësie soos syne. Deur sy bloemlesings en sy assosiasie met die uitgewers van die hegemonie was hy in die posisie om 'n sekere mate van ‘beheer’ oor poësieproduksie uit te oefen - en om gedigte te kanoniseer.
Opperman het die Suid-Afrikaanse realiteit (die politiek en die natuur) geëksploiteer om dit te transformeer, om die ‘engel uit die klip’ te bevry, die ewige vanuit die tydelike. Sy verbintenis met Afrika was ter wille van dié transformering, metaforisering, selfs ‘universalisering’; en dit impliseer in werklikheid die
| |
| |
de-afrikanisering van Afrika. Die doel van die letterkunde was klaarblyklik vir hom om die realiteit te interpreteer sub specie aeternitatis; en waar hy industrialisasie, arbeid, klas, kapitalisme en nasionalisme aangeraak het, of die aard daarvan wou weergee (soos in ‘Ballade van die grysland’, 1947 en Joernaal van Jorik, 1949) is die materialistiese basis uiteindelik verwerk tot idealistiese strukture met indrukwekkende metafore. In laasgenoemde - 'n epos oor die geskiedenis van die Afrikaner, maar ook oor die menslike kondisie - word die onverbiddelike proses van die mens se groei tot gehegtheid aan sy/haar materiële situasie gesien as verraad teenoor die geestelike en die religieuse; en in hierdie epos het Opperman die Afrikaanse skrywer se alreeds verfynde voorkeur vir die idealistiese bo die materialistiese verskerp. Hy het geskryf oor ‘die geskiedenis en dilemma van die Afrikaner en uiteindelik ook van die mens en die digter in die lig van die ewigheid as boustof’ (Kannemeyer, 1983: 119). Hierdie eksploitasie van die materialistiese ter wille van die ewige bepaal ook die ‘laag’-struktuur van sy poësie, waar meer as een ‘simboliese’ suprastruktuur vanaf die poëtiese infrastruktuur gelees kan word.
Opperman het dus die teks van die geskiedenis gedehistoriseer om die ‘ewige betekenis’, en ter wille van die estetiese écriture. Die digter is die skriba van die mense, wat hulle geskiedenis aanteken sodat dit getransendeer kan word. Hy (sy?) is die bewaker van die beskawing; en beskawing kan uiteindelik gemeet word aan die winste van die kapitalisme. 'n Noukeurige studie van Opperman se werk, insluitend sy toneelstukke geskryf in die klassieke Griekse tradisie, met inagneming van die Afrikaner se ontwikkeling van nasionalisme tot kapitalisme, sal waarskynlik histories 'n korrelasie vind tussen polities-ekonomiese en kulturele ontwikkeling.
Opperman se poësie het hierdie periode oorheers; en omdat sy tekste die belangrike spanninge en kontradiksies van die tyd verestetiseer en gedehistoriseer het, was hulle by wyse van spreke wel ‘oplossings’, of aanwysers. Aan die ander kant het die minder simboliese en meer direkte poësie emosies aangeteken. G A Watermeyer (1917-1972) se manlike Afrikanerwerkers het geëis geld, grond, behuising en brood; en hulle het geweier om tevrede te wees bloot as werkers en ‘anderman se kneg’! Oor die werk van die eerste ‘gekleurde’ digter, S V Petersen (1914-1987) is daar gesê ‘die lewe van die bruinmens met sy gevoelens van verset en aanvaarding na die vroeëre geestige en humorrea- | |
| |
listiese uitbeeldings (kry) die eerste keer gestalte in die Afrikaanse letterkunde’ (Kannemeyer, 1983: 167). Maar reeds hier, aan die begin van 'n swart Afrikaanse letterkunde, het die rassisme van die nasionalistiese staat 'n gevoel van skande veroorsaak: Petersen het aanvanklik gepraat van ‘die vloekstraf van 'n donker kind’; en selfs later wanneer hy protesteer teen diskriminasie is die titel van sy bundel nog betekenisvol: Die kinders van Kain (1960).
Geleidelik het die wit Afrikaanse digter se bewuswording van onderdrukking en klasseverskil tog uitdrukking gevind; soos byvoorbeeld in sekere verse van Barend Toerien (1921). Sy gedig ‘Orlando-landskap’ praat in die stem van die swart werker oor onhigiëniese lewensomstandighede, arbeidsuitbuiting, vernedering, paswette, klasse- en rassediskriminasie, groepsgebiede - al die diskriminerende praktyke van die periode na 1948. Hierdie teks is 'n gepaste oorgang vanaf hierdie tydperk tot die groeiende repressie van die volgende; vir wat dit sê, maar ook vir wat dit is, 'n aanduiding van 'n ander soort letterkunde wat gaan kom: bewus van onderdrukking (in so'n mate dat daar selfs in skrif met die onderdrukte, as onderdrukte, geïdentifiseer word), en krities - maar nog niks meer as kommentaar of aanval nie; reaktief maar sonder simboliese oplossings vir die kontradiksies. Omdat die wit Afrikaanse skrywer geheel-en-al bourgeois geword het, geheel deur klas en kultuur van die onderdrukte geskei.
Orlando-landskap
Wat van ons wat woon in krotte
en dag na lange dag geruk
word deur die ritme van 'n pik,
of donker onderaards soos rotte
kap en dra en dril, met gasse
en ou lug ons pal metgesel,
met uitskei ondersoek word, afgetel,
op straat gestop word, visenteer vir passe?
Wat van ons, julle wat wette maak,
wat met 'n potlood, met 'n hand-
beweging op 'n kaart ons koers
neerlê, gevoelens en die land
haarfyn beplan, en bitter maak;
wat, wat van ons, jul donker broers? (1983: 17)
|
|