| |
| |
| |
1922-1948
Hierdie periode wat kulmineer in die triomf van die Afrikanernasionalisme in 1948, het ook die kontradiksies in die Suid-Afrikaanse maatskappy verskerp. Want die vreugde van 'n klein seksie van die bevolking was die oorsaak van die ellende en groeiende konflik by die meerderheid.
Met die groei van industrialisasie by swart en wit het armoede ook vergroot. Daar was die ontbinding van die stamstelsel, die opbreek van families, radikalisme by die werkersklas, en oproerigheid in die platteland. Revolusionêre frases soos ‘Africa for the Africans’, en dreigemente van ‘swart gevaar’ was volop. In 1928 het die Kommunistiese Party van Suid-Afrika ernstig gepraat van ‘an independant South African Native Republic as a stage towards the Workers and Peasants Republic, guaranteeing protection and complete equality to all national minorities’ (Marks en Trapido, 1987: 260). Wit Nasionaliste het nuwe wette begin maak, soos die Wet op Oproerige Byeenkomstes van 1929, en verskeie ander - nuwe tekste van die tyd: die Nywerheidsversoeningswet, die Ontugwet, die Hertzogwette.
Buiten die feit dat die Afrikaanse letterkunde, veral prosa en drama, weerspieëlend van aard was, en betrokke by die verbygaan van die idille, die verlies van die natuur, verstedeliking, armoede en die ontwikkeling van die bourgeois-klas - buiten hierdie nabye en ooglopende verbintenis met sosio-politieke verhoudings, was daar ook die begin van 'n transformasie. Die letterkunde en die maatskappy het in so 'n mate ontwikkel dat mens in hierdie stadium kan identifiseer met twee van Fredric Jameson se ‘semantiese horisonne’ ‘...which mark a widening
| |
| |
out of the sense of the social ground of the text through motions, first, of political history, in the narrow sense of punctual event and a chronicle-like sequence of happenings in time; then of society, in the now already less diachronic and time-bound sense of a constitutive tension and struggle between social classes...’ (1981: 71)
Afrikaner-nasionalisme het arbeid in die fabriek gebruik vir steun, dit het gedy op etnisiteit en totaal geglo aan die koloniale konsep van ‘Westerse beskawing’, vgl. dié woorde van J B M Hertzog (buite verband, maar by uitbreiding hier van toepassing):
Nie alleen is die naturel onbekwaam tot enige sodanige taak (van leierskap, A C), hy is selfs nie in staat om leiding aan te gee in enige ander rigting van gemeenskaplike ontwikkeling en vooruitgang nie. Oppergesag deur die naturel gevoer, is 'n gedagte te dwaas en belaglik om van gedenk te word behalwe deur verbitterde agitators, wat chaos wil...
Die welvaart en geluk van die naturel sal, gedurende sy tydperk van minderjarigheid, steeds in die eerste plaas afhang van die goeie gesindheid en opregte bedoelinge van die witman...
Dan wanneer hy sy meerderjarigheid bereik het in ontwikkeling en beskawing, en op geleike peil is kom te staan met die witman, sal hom ook sy mondigheid toegeken word. Alsdan sal die tyd aangebreek wees om sy aanspraak op politieke regte in hersiening te neem, en verder die betrekking vas te stel waarin hy sal staan teenoor die Europeaan. (Nienaber, 1965:238)
Wit mense sou verantwoordelik wees vir die beskawingsproses, maar om die rol te vervul sou hulle 'n besliste beskawingsvlak moes bereik en behou. Die Afrikaanse letterkunde het deel geword van daardie beskawingsproses en die verhouding daarvan tot die ‘Westerse beskawing’ is duidelik geformuleer. Dit sou moes bydra tot die Afrikaanse Kultuur en daarmee die etniese groepering versterk; maar tegelykertyd sou dit ook ‘universaliteit’ bereik as Letterkunde.
Terwyl die bewonderde prosatekste van D F Malherbe nog die idilliese verheerlik het en pre-industriële arbeid geïdealiseer het, het die veranderende wyse van produksie tot hoofkonflik gegroei in sy Hans-die-skipper (1929), waar 'n seun weier om sy vader se gerespekteerde wyse van arbeid oor te neem. Die inisiasie van die agterlike en die feudale klasse tot 'n ontwikkelende bourgeoisie is die preokkupasie van Van Bruggen se latere werk (veral die Ampie-trilogie, 1924, 1928, 1942). Met hierdie inisiasie- | |
| |
trilogie het Van Bruggen 'n soort narratief begin wat later interessante parallelle sou hê in die sestigerjare, in die werk van Etienne Leroux. Klas, industrialisasie en Afrikaner-armoede was direkte prikkels vir die toneelstukke van J F W Grosskopf (1885-1948); en die stryd teen konserwatisme in die stukke van H A Fagan (1889-1963).
Hierdie refleksies oor sosio-ekonomiese aangeleenthede was egter onderwerpe van die meer outydse literêre produkte. Daar was belangrike kulturele ontwikkelinge: die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK, 1929), die Afrikaanse Skrywerskring (1934), en twee literêre tydskrifte, Tydskrifvir Letterkunde (1936), en Standpunte (1945). Daar was 'n nuwe geslag skrywers (C M van den Heever 1902-1957, I D du Plessis 1900-1981, N P van Wyk Louw 1906-1970, W E G Louw 1913-1980, Elisabeth Eybers 1915); en 'n ‘beweging’, die Dertigers. Hierdie ontwikkelinge op kulturele gebied gedurende die dertigerjare het plaasgevind toe swart politieke militantheid aan die afneem was as gevolg van die aksies van die staat. Maar daar was ook hongersnood en depressie (Marks in Trapido, 1987: 30).
Dit word algemeen in die Afrikaanse literêre kritiek aanvaar dat die Dertigers 'n vernuwing in die Afrikaanse poësie gebring het - en die meeste van die Dertigers het nou geïdealiseerde literêre figure geword. Die hardnekkige besorgdheid oor ‘hernuwing’ wat vandag nog 'n betekenisvolle norm is vir die literêre kritikus in haar/sy soeke na ‘gehalte’ en die estetiese kan waarskynlik teruggevoer word na hierdie mededingende strewe. Die ‘vernuwing’ in die poësie het beteken dat daar minder aandag aan die ‘tipies-Afrikaanse’ gegee sou word (die natuur, die verlede, die taal) ter wille van die klem op die persoonlike en die belydenis, waar die individu sentraal staan. Digters het die skryf van poësie as 'n bewuste taak aanvaar, waar elke woord, metafoor en klank suiwer en esteties bevredigend moes wees. Die kunstenaar was 'n persoon met 'n rol, en met 'n profetiese roeping.
Dit is van belang om daarop te let - binne die breër verband van 'n Suid-Afrikaanse letterkunde - dat hierdie groter bewussyn van die literêre nie net beperk was tot die Afrikaanse letterkunde nie. Plaatje se Mhudi (1930) en John L Duke se Insila ka Shaka (1928, later in Engels vertaal as Jeqe, the Bodyservant of King Shaka, 1951) het ook die neiging tot die ‘elitêre’ gehad, waar die skrywer 'n definitiewe rol gehad het: ‘It is in the late thirties that
| |
| |
the notion of the black intellectual regarding himself primarily as a “writer” seems first to have surfaced... Movements for cultural unity and advancement began to emerge’ (Sole, 1979: 151). Daar kan 'n korrelasie wees tussen verminderde politieke militansie (as gevolg van die onderdrukking daarvan) en 'n toename in 'n elitêre soort letterkunde.
'n Vlugtige oorsig van die werk van die gekanoniseerde Dertigers sal die literêre ontwikkeling aantoon.
In die prosaproduksies van C M van den Heever kom 'n tipiese narratiewe patroon na vore waarin die hoofelemente is: die natuur, die plaas, die stad en verstedeliking. Daar is altyd 'n verlies, 'n verbrokkeling van die idille. Teenoor sterk vaderfigure is die hoofkarakters introverte, geïnternaliseer soos die poësie van die tyd (veral dié van Van den Heever). Dikwels sal 'n teks so gestruktureer wees dat karakterverhoudings parallel loop: soos die liefdesdriehoek tussen die besittersklas herhaal of geskadu word deur liefdesdriehoeke tussen die plaasarbeiders (vgl Somer, 1935), waardeur 'n bewustheid van klasseverskil geskep word, alhoewel dit nie in daardie tyd as sodanig ervaar is nie. (Die klassekonsep het ook nog nie deel van die woordeskat van die moderne Afrikaanse literêre kritikus geword nie). Dikwels is ekonomiese kwessies en ideologiese besorgdhede in prosatekste oorgedra. Ekologiese, ekonomiese, politieke en klasrealiteite is verwerk binne die ‘literêre werk’, waar die literêrheid beklemtoon is in die styl, die wyse van beskrywing en dikwels die duidelik ‘gestruktureerde’ narratief. Die skrywer was ook intellektueel, doelbewus besig met die produksie van 'n Afrikaanse literêre kultuur binne 'n ontwikkelende staat (die vader) en familie (die Afrikaner).
'n Groeiende bewuswording van nasionalisme en die kultivering van 'n eie kultuur, 'n eie identiteit, kon in hierdie tyd die oorsaak gewees het van die ontstaan van 'n dialektiek ten opsigte van ‘die ander’, waar ‘hulle’ erkenbaar word en waarneembaar is om hulle ‘andersheid’. Dit is opvallend dat in dié tyd van die onverbiddelike institusionalisering van rasseskeiding daar so 'n belangstelling was in ander kultuur- en rassegroepe, veral in die werke van I D du Plessis, Mikro (C H Kühn, 1903-1968), P J Schoeman (1904), G H Franz (1896 - 1956). Du Plessis het 'n verhandeling geskryf oor die bydrae van die Maleiers tot die Afrikaanse volkslied (1935), waar die Afrikaner se kultuur implisiet die norm was en ander het daartoe bygedra - en waar
| |
| |
die versweë bedoeling dan sou wees dat die ander kultuur daar is om bestudeer, be-skryf, en uiteindelik ‘opgehef’ te word. In sy trilogie oor die ‘gekleurde’ plaaswerker, Toiings (1934, 1935, 1944) ‘...stel Mikro...die Kleurling vir die eerste keer sentraal’ (Kannemeyer, 1978: 349). Maar Toiings word nietemin geïnisieer tot die onderskeid tussen goed en kwaad deur die wit plaaseienaar, sy patroniserende bewaker. Die klem is deurgaans op die ideologiese - d.i. op die verskil tussen rasse - selfs in die progressie van die weergawe van die ‘gekleurde’ tot 'n meer gepolitiseerde bewustheid van kleur, soos in Mikro se later werk. Die ideologiese kategorisering van Schoeman se werk in die literatuurgeskiedskrywing onder ‘die uitbeelding van die dier en die inboorling’ (1978: 357) is sprekend van 'n koloniale houding selfs nog by moderne literêre kritici. Franz se belangstelling in die ‘Bantoe’ en folklore, en die ‘folkloristiese’ inligting wat verstrek word, koppel die ‘wetenskaplike’ met die literêre en sou kon ontstaan het in Sosiale Darwinisme en ‘Imagery derived from the biological sciences and the family (which) gave rise to ubiquitous notions of the “dependant” or “child races”. In the imperial context this was later transformed into conceptions of “separate development” and “trusteeship”’ (Marks en Trapido, 1987: 72). Daarby kom nog die milieu, gewoonlik die plaas of die veld - die idilliese - waar ‘hulle’ (die ander rasse) behoort, en waar hulle klasseposisie dus bevestig is.
Waar die prosatekste besorg was oor ras, die rol van etnisiteit binne klasse-oorheersing (wat selde bewus gestel is, maar binne 'n ideologie plaasgevind het, dus onbewus), groeiende verstedeliking - daar het die dramatekste van hierdie tyd gegaan oor armoede en die opheffing van die armblanke. En die Afrikaanse poësie het gestreef na 'n kultuur van aristokrasie. Die feit dat dit aan die gebeur was min of meer teen dieselfde tyd dat, byvoorbeeld, Afrikanervroue begin het om die klerefabrieke te verlaat vir klerklike werk, in die tyd van die Ekonomiese Volkskongres, die Reddingsdaadbond en Volkskapitalisme, kan slegs daarop dui dat die Afrikaner ekonomies en polities tot 'n bourgeoisie aan't ontwikkel was. Hierdie ontwikkeling sou op sy beurt die geforseerde vorming van 'n swart proletariaat versterk, stygende werkersklasmilitansie en die groei van vakunie-organisasie - wat sou kulmineer ‘in the extroardinary African mine workers' strike of 1946’ (Saul en Gelb, 1981: 14).
Die poësie van die tyd kan gekarakteriseer word in die woor- | |
| |
de van Kannemeyer: ‘Die nuwe kunstenaars sien die poësie as 'n bewuste taak en wil 'n vers skep waarin elke woord en beeld suiwer en artistiek bevredigend is’ (1978: 278). Dertig het sinoniem geraak met poësie - die poësie van N P van Wyk Louw, W E G Louw, Uys Krige en Elisabeth Eybers.
N P van Wyk Louw - ‘as digter en essayis een van die heel grootste persoonlikhede wat die Afrikaanse letterkunde nog geken het’ (Kannemeyer, 1978: 386) - was professor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes (eers in Amsterdam, 1950 - 1957, en later in Suid-Afrika), literêre teoretikus en akademikus onder wie se leiding 'n hele geslag kritici van die vyftiger-, sestiger- en sewentigerjare opgelei is in die Formalistiese tradisie, met spesiale aandag aan die estetiese en die ‘suiwer woord’. Sy essays van die dertigerjare (Lojale verset en Berigte te velde) formuleer die strewe van die nuwe Afrikaanse poësie, die ‘hoë en dwingende’ taak daarvan, en die noodsaaklikheid van die ‘aristokratiese’. Die uiteindelike doel van die digter is die intellektuele, wat sal beteken die intellektuele leier van sy/haar mense. Miskien wou Van Wyk Louw 'n soort organiese intellektueel skep (daar is egter geen bewys dat hy Gramsci gelees het nie), net soos die maak van 'n estetiese tradisie in daardie tyd 'n prioriteit was, en uiteindelik - toe Afrikaner-nasionalisme gevestig was, gerugsteun deur etnisiteit en verdeling - die totstandkoming van liberalisme. Die titel van sy latere essay- en ‘briewe’-bundel is selfverduidelikend: Liberale Nasionalisme (1958), met 'n subtitel: ‘Gedagtes oor die nasionalisme, liberalisme en tradisie vir Suid-Afrikaners, met 'n kulturele nadrup’.
Die gedigte en toneelstukke van Van Wyk Louw wat geskryf is tussen 1935 en 1948 sentreer meestal om die geestelike en metafisiese, poësie en die skryfkuns, die ‘nasionale’ en mag.
Deurgaans in sy poësie sal daar 'n soeke wees na geestelike helderheid, en 'n metafisiese stryd met God. Dit sou die werklike begin wees van 'n ‘heerskappy van gedagtes’, 'n Hegeliaanse benadering tot die werklikheid; die ideële, totaal sonder 'n besorgdheid oor of bewustheid van die materialistiese. Die digter is die profeet, maar hy (as manlike figuur) word nie begryp deur ‘hulle’, die massas, nie, en hy moet die stryd met God besleg. Die oplossing lê in die perfekte gedig, in intellektuele skoonheid. Hier is die begin van die selfgesentreerdheid van die artistieke (die begin van modernisme in Afrikaans?) Selfs waar die ‘materialistiese’ skynbaar belangrik word, soos die aanslag van 'n
| |
| |
half-mens, half-dier op 'n stam êrens in Afrika (Raka, 1942), beweeg die werk uiteindelik op die vlak van die ideële en gaan dit oor die vernietiging van kultuur en beskawing. Van Wyk Louw se werk met 'n nasionale tematiek, soos die spel waarin die Voortrekkers hulle dade regverdig (Die dieper reg, 1938), is allegories, idealisties en poëties, sonder historiese motivering. Die latere stuk, Germanicus, wat handel oor mag en oorheersing, bespiegel en intellektualiseer oor die konflik tussen aristokraat en potentaat, tussen die politieke leier en die kultuurpersoon; en die gevolg is skynbaar die onttrekking van die individu van die ‘massa’, en 'n afsku aan mag as boos. (Klaarblyklik het Van Wyk Louw Germanicus in 1947/48 begin, maar dit nie toe voltooi nie, en dis eers in 1956 gepubliseer. As gevolg van politieke ontwikkelinge?)
Met die uitsondering van Die dieper reg het Van Wyk Louw se literêre produksie in die tyd geen direkte verband gehad met die groeiende Afrikanerhegemonie nie (soos ook die geval was met die ander Dertigers, W E G Louw en Elisabeth Eybers). Maar 'n herinterpretasie van sy werk binne daardie historiese konteks sou kon konkludeer dat sy aristokratisering en intellektualisering van die poësieproses, sy ‘universalisering’ van letterkunde, uiteindelik tog dialekties verwant was aan die versterking en regverdiging van Afrikaner-nasionalisme. Dit sou natuurlik die enge etnisiteit daarvan wou verbreed, maar min helder woorde is, aan die anderkant, gesê oor die effekte van die misbruik van politieke mag op die ‘massa’. Want Van Wyk Louw was deeglik bewus van mag en sy misbruike, soos spreek uit sy latere gedig oor die inkwisiteur en sy gevangene, ‘Die hond van God’.
Uys Krige was anders. Hy het uitgepraat teen politieke onreg, die Afrikaner gekritiseer, en was betrokke by die Tweede Wêreldoorlog terwyl die nasionalistiese Afrikaner militêre diens geweier het. Sy poësie het min van die kulturele en estetiese ywer van sy tydgenote gehad, hy het nie hulle roepingsgevoel gehad nie, nòg hulle obsessie met die intellektueel en sy (nog manlike) rol. Hy was romanties, het poësie vir die mense geskryf en as wêreldreisiger iets van die Suid-Europese in die Afrikaanse poësie gebring, ook deur vertalings. Terwyl Van Wyk Louw oor liberalisme geïntellektualiseer het, was Krige die eerste liberaal, skepties oor nasionalisme - omdat hy die uiterstes daarvan in die oorlog aanskou het, en 'n gedenkwaardige gedig daaroor geskryf het: die ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’. Waar Van
| |
| |
Wyk Louw die esteet was, die liberale nasionalis, toegewy aan die aristokratiese ideaal, was Uys Krige die liberale humanis wat uitbeweeg het in die wêreld.
M E Rothmann (MER, 1875 - 1975) was betrokke by die materiële omstandighede en kulturele ontwikkeling van die Afrikaner. Haar deelname aan die Carnegie-kommissie oor wit armoede in die vroeë dertigerjare, aan die ACVV, die Voortrekkerbeweging en die Kaapse Nasionale Party, het haar nader gebring aan die mense vir wie sy geskryf het as die digters van die tyd. Haar besorgdheid was dieselfde as dié van Van Bruggen (armoede, die plaas ens.), maar met groter klem op die vaslegging van kultuur; en haar prosa was meer gesofistikeerd, op 'n ‘literêre’ wyse, met vertellers wat vertroulik omgaan met die leser, al vertellend en lerend. In haar tekste het 'n literêre kultuur vanuit sosio-ekonomiese kondisies ontwikkel in dié sin dat skryf en die ontwikkeling tot'n hegemonie hand aan hand gegaan het. Alhoewel die letterkunde suprastruktureel is, skyn dit tog 'n feit te wees dat die groeiende vaardigheid wat betref die literêre produksie in dié tyd nie geskei kan word van 'n Afrikanerkohesie nie wat sou kulmineer in die Nasionaliste se triomf in 1948.
Net soos nasionalisme die groei tot kapitalisme versnel het, so het die prosa wegbeweeg van die mense en sosiale kwessies na die individu en van realisme na vorme van pre-modernisme (vgl. die tekste van C J M Nienaber, P de V Pienaar, Willem van der Berg). |
|