Hierdie boeke vertel die verhaal van wit weldoeners wat die ‘Hotnot’ wil probeer ‘beskaaf’ en assimileer; maar wat terselfdertyd erken dat daar inherent 'n ongelykheid bestaan, en dat hulle projek dus onmoontlik is. In wese maak hierdie tekste 'n saak uit vir kulturele beheer oor swart (‘gekleurde’) mense, ‘...'n proses waardeur die gekleurdes onthef word van enige outonome kulturele bestaanswyse en gevolglik aangewese is op die gesuperimponeerde dominante kultuur, maar terselfdertyd hul volledige assimilasie in daardie kultuur allerweë geblokkeer vind’ (1983: 74).
‘Union transformed the main population groups - the Africans, Afrikaners and English - into monoliths, each of which had its own history, culture, definition of the so-called race problem and solution to it. Each had fundamental strengths, basic weaknesses and peculiar concerns which determined political goals, shaped policies, fixed priorities and dictated strategies’ (Ngubane, 1987: 141). Teen 1910 het nuwe etniese identiteite na vore begin kom; maar die beheer van die staat en van die ekonomie was Engels. Etniese mobilisasie sou die enigste wyse wees waardeur 'n Afrikaner-monoliet die beheer van dié staat sou verkry.
Die teenprestasie van die nasionalistiese Afrikanerkultuur was die stigting van uitgewerye (J L van Schaik in Pretoria, 1914, en Nasionale Pers in Kaapstad, 1915), die totstandkoming van die Afrikaner Broederbond (1918) en die Suid-Afrikaanse Akademie (1909), en die strewe na die uiteindelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal (1914-1925). Met die instelling van die gesaghebbende literêre prys, die Hertzogprys in 1915, was die Afrikaanse letterkunde op die pad na kanonisering, en het die bereiking van die estetiese 'n doelwit geword, sy dit onbewus en nog nie duidelik geformuleer nie.
Leipoldt word kosmopolities met sy bundel Uit drie wêrelddele (1923), en daardeur begin 'n tradisie. Terwyl die prosa aan die begin gestaan het van die bewustheid van die ‘literêre’ (soos in die hoogs liriese prosa van D F Malherbe, 1881-1969) was daar nog 'n preokkupasie met die geskiedenis (vgl. Preller se Piet Retief, 1906) en die strewe om 'n smaak en liefde vir lees te skep. Daarin was die didaktiese, humoristiese en satiriese geskrifte van C J Langenhoven (1873-1932), wat ook die Afrikaner se volkslied, ‘Die Stem’, geskryf het, belangrik - veral in die bekendstelling van 'n gemoedelike, intieme verwantskap tussen verteller en leser, waardeur die fiktiewe en literêre nader aan die