Ritme en skandering. 'n Ondersoek na ritmiese sisteme in uitgesoekte Afrikaanse gedigte
(1972)–Abel J. Coetzee– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 165]
| |
Slot‘Indeed it seems possible that the terribly laborious studies of modern prosodists may in time to come be placed among the curious displays of misdirected intelligence... that the history of science so often presents’Ga naar voetnoot1.. As 'n studie van die skandering aangepak word om daardeur slegs 'n skematisering van die ritmiese struktuur in 'n gedig te gee, of sodat dit bloot kan dien as basis vir 'n opname van die ritmiese figure wat 'n digter gebruik, sonder dat dit 'n middel tot 'n ontleding en evaluasie van 'n gedig is, kan bogenoemde uitspraak van Richards wel waar wees. In hierdie studie is daar egter deurgaans 'n poging aangewend om die ritmiese patroon van 'n gedig nie as 'n onafhanklike entiteit te sien nie, maar om dit juis as hulpmiddel tot die verheldering van betekenis en as 'n moontlike basis vir evaluasie aan te wend. Omdat die skandering slegs 'n skema is wat die werking van die ritme moet openbaar, is dit vanselfsprekend dat dit as skema 'n redelike mate van duidelikheid moet inhou en met die grootste moontlike objektiwiteit gebruik moet word. Daarom was dit nodig om te soek na sekere ‘wetmatighede’ en om 'n skarideringsformule op te stel wat eenvoudig - maar nie óór-eenvoudig nie - en onmiddellik 'n ritmiese patroon sal blootlê sodat daardie patroon die moontlike implikasies van die woordgebruik kan aantoon. Daarvoor is die tradisionele metode van skandering nuttig gevind, waarin slegs met twee grade van klemtoon en aksent gewerk word, nl. sterk en swak, en wat hoofsaaklik die gedig as teks op papier in ag neem, eerder as om te berus op opnames van klankrealiserings soos deur voordraers van lesers gemaak, alhoewel sodanige realiserings wel in sommige gevalle van nut kan wees. In die gebruik van dié skanderingsmiddel word die voetmaat dan behou, maar met 'n gedurige inagneming van moontlike sintaktiese groeperings wat die voetindeling kan bepaal. Omdat daar vir 'n bestudering van die poësie geen vaste formules bestaan nie, kan die deskriptiewe skandering wat in hierdie studie voorge- | |
[pagina 166]
| |
stel word, ook nie 'n onfeilbare middel ter bepaling van die ritme wees nie, en daarom sal die prosodis in sommige gevalle met groot versigtigheid te werk moet gaan, veral waar die ritme onbelangrike woorde in 'n versreël wil aktualiseer. Dit behoort dan ook 'n duidelike waarskuwing te wees teen kritiese onverdraagsaamheid wanneer 'n gedig nie ooreenkom met 'n vooropgestelde, vanuit die ritme geabstraheerde, prosodiese norm nie. Die skanderingstelsel wat hier opgestel is - weliswaar soms ‘terribly laborius’ - wil nie 'n onbuigbare formule wees nie, alhoewel dit slegs gebuig moet word nadat alle moontlikhede binne die geabstraheerde stelsel ondersoek is. Dit wil 'n hulpmiddel wees tot sekere betekenisverklarings, wil die funksionaliteit van die ritme aantoon, of dit in die norm of in die afwykings van daardie norm is. En, bo alles, wil dit die letterkundige help met sy moeilike taak van evaluasie. |
|