Martjie
(1920)–Jan F.E. Celliers– Auteursrecht onbekend
[pagina 76]
| |
XV.Roelf gaan weg,
op sake moet hy uit,
vier dae deur die veld.
Twee ander, van sy vrinde, gaan ook mee,
hul gaan te perd;
'n jag-tog sal dit wees ter-selfder-tyd.
Dae lang word reeds beskuit gebak,
die saëlsakke vol gemaak,
die streepsak ook wat op
die handperd word gelaai.
Roelf is opgewonde:
een en al verwagting oor die reis.
Net daaroor is die praat aan tafel ook.
En as hy Martjie kastig,
in die kombuis,
kom help met koekbak en beskuit
| |
[pagina 77]
| |
en, meer as ander dae,
haar plaag en terg,
dan voel sy dat dit net
die bly verwagting is van hulle reis
wat hom so buitensporig maak.
En op die môre van vertrek
as hy, en die ander twee wat same gaan,
'n stukkie eers nog eet
aan tafel by oom Koot,
as hy tot afskeid haar 'n handdruk gee,
O, dan het Martjie hom
nog nooit so mooi gesien,
in veldpak, netjies passend aan sy lyf,
en bree-rand hoed wat lyk
of 't niemands hoof so mooi kan pas
as syne.
En in sy oë vlam 'n gloed
van hartstog....
ag, die hartstog net alleen
vir veld en berge....
Tant' Mieta wil, vóor Roelof huistoe kom,
sy kamer eers 'n goeie skoonmaak gee.
Die werk van bed-opmaak
en uitvee elke dag
was altyd maar die werk van Rosie.
Martjie het wel af en toe
ook daar gekom,
| |
[pagina 78]
| |
om Roelf 'n koppie koffie aan te bring,
te waarsku dat die ete wag,
en so nog meer.
Maar nooit was sy alleen daarin, soos nou.
Want alhoewel die werk ook nou
aan Rosie weer was opgedra
- 'wyl sy sou toesig hou -
so het sy tog ook self 'n voorskoot om;
en ongeduldig het sy, na 'n ruk,
ou Rosie weggestuur:
sy sou wel alles self regeer
en Rosie moet vir ounooi maar gaan help.
As Rosie 'n rukkie weg is draai sy stil
die sleutel in die deur,
en sluit sig in.
Hoe heerlik om haar daar alleen te voel!
Alleen? O nee:
sy wese is daar,
die kamerlug hang vol daarvan,
dit sweef haar teë uit die skaad'wee
van die bed,
dit fluister uit die lang gordyne-plooie
en uit die sonligstraal
wat deur die raam
die tafelkleed beskyn.
Omstrelend en omtastend sluit
sy gees en wese haar van alkant in,
bekorend soet soos iets wat sy
in stilte steel,
| |
[pagina 79]
| |
en tint'lend in haar bloed met so'n gevoel
van saligheid dat sy
- met hande op haar bors geklem -
bly staan,
onmagtig die betoow'ring haar te onttrek;
ondeuend-bly geniet sy van
verbode vrug
uit jong verbeeldings ryke skat:
'n gode-drank,
'n drome-melodie,
in liefdes skoon paleis.
Daar staan die varing-plant waar hy
sy sorg aan gee,
sy metgesel,
- bevoorreg bowe haar -
sy streel die fyne blaartjies met haar hand,
begiet die plantjie liefd'ryk uit die kruik,
in onbestemd besef van medely
met iets wat sorg en troos ontbeer.
En voor die tafel staan sy stoel,
daar sit hy elke dag.
Sy gaan daar nou op sit en dink daarby:
so sit hy op dieselfde plekkie, net
waar ek nou sit!
Opbruisend kom 'n blyheid haar oorstelp,
haar arme slaan sy kruiselings
om eie lyf
en wieg haar heen en weer -
| |
[pagina 80]
| |
'n laggie om haar mond.
Besitter voel sy haar van iets
wat sy hou-vas,
en niemand ooit haar kan ontroof:
‘Ja, net soos ek so sit hy hier,
sy hoof waar myne is,
sy hals....’ 'n purper blos bedek meteens
haar wange,
uit die stoel
spring sy oorend,
verbergend in haar hande haar gelaat,
haarselwe hatend....
Na 'n rukkie is nou weer
die felle slae in haar bors bedaar.
Sy sien 'n boeke-rakkie aan die muur;
en neem 'n boek daaruit
en slaan die blaaie om,
verstrooid en sonder plan,
en lees 'n reël hier en daar.
Maar wat is dit? Sy lees aandagtig nou:
‘Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie,
ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie.
O, leer my die bittere stryd te volstry.
En, ag, wat daarbinne my hart so deurknaë,
ek wil 't nie mis nie al kan ek 't nie draë,
die pyn wat genot is en mart'lend verlei.
| |
[pagina 81]
| |
Ek kan jou nie haat en mag liefde nie géwe,
so staan dit gemeld in die boek van ons lewe,
O, smart wat verdélend my hart so deursny.
Ek mag jou nie hou nie en kan ook nie skeië,
so wil 't die sterre se wet van die tyë,
O, sê my, hoe sal ek die stryd ooit volstry.
O, eensaam herhaal ek deur nagte en daë,
vergeefs nog en ewig die swaarste van vraë,
en voed ek, genietend, die pyn wat ek ly.
Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie,
ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie
O, leer my die bittere stryd te volstry.Ga naar voetnoot*)
Met aandag, meer en meer gewek, het sy
die versie tot sy end gelees.
Hoe treffend en hoe waar
word daar die spieëlbeeld van eie siel
haar voorgehou!
Daar lê 'n stukkie potlood op die plank,
sy neem dit in haar hand....
Sy kan 't nie laat nie,
O, sy sal, sy moet!:
sy trek 'n potloodstrepie langs die vers!
Sal hy dit sien!
| |
[pagina 82]
| |
O, laat hy 't sien! Sy is wanhopend al,
sy gee nie om nie:
Ja, as sy dan nie mag praat nie
laat dan so
sy oog geopen word;
hy moet dit sien, sy wil dit hê;
maar, ag,
hy dink miskien dat hy
dit selwe eens het aangemerk....
Sy skryf die eerste letters van
haar naam daarby!
Met kloppend hart set sy
die boekie op sy plank terug.
't Sou wel kan wees dat hy
die boekie nie meer in sal kyk, -
wat help dit dan?!
Die potlood in haar handjie
het 'n geur,
soos alles wat hy raak
of syne is.
Sy vra haarself of sy alleen
die lug gewaar,
dan of dit slegs verbeelding is van haar;
lavendel-geur is 't nie, maar wel
'n fyn aroma, soet en aangenaam,
wat uit die wese straal
van die wat ons bemin.
Sy berg die stukkie potlood in haar bors,
dis iets van hom,
sy sal dit hou vir haar....
| |
[pagina 83]
| |
Héwig skrik sy op,
want iemand het die deur se kruk gedraai.
Dis Rosie,
ou-nooi stuur haar weer, en vra
waar nonnie bly.
Haar soete droom is uit,
sy gaan,
en laat die werk aan Rosies sorg.
|
|