| |
| |
| |
Hoofstuk IX
Jeugdig groeiende gras bedek die vaal verwinterde vlakte, waarop glad-verhaarde beeste al rustig begin te wei. Die veld lê glansend-groen in die môreson, wat al die kragte van die weefsels in die grond koester om lewe voort te bring, en op die blokke omgeploegde aarde heers bedrywigheid. Dit is die ure van skep, opbou en groei, want in die natuur is die stukrag, wat die kieme vinnig laat ontwikkel. Die bo-kors van die vlakte word beroer, die tyd van uitbroei is daar.
Plek-plek kruip die pasgebore sprinkaanlewe uit die grond en spring met swak pogings die kraggewende lig tegemoet; elke grasblaar in die pad moet sterf om daardie lewe op te bou. Onsigbaar eers, dog al gou merkbaar spring hierdie nietige insekte na mekaar toe, asof hul instinkmatig voel dat in saamtrek hulle krag sit. Dis of elke sprietjie, wat tot in die grond toe afgevreet word, hulle laat groei en vermenigvuldig, totdat een wemelende massa opmekaar wriemel,
| |
| |
die sagte weiding toemaak en verteer, en soos 'n golwende rooiwatervlak na die opkom van die son toe hobbel en knabbel onder skurwe skuurgeluide. Agter bly die aarde doods en kaal, asof 'n kudde skape daar op die veld vasgekeer was.
Na die middagete keer Gert Bouer met sy volk van die woning af terug na sy groot blok droë land, waar hy dieselfde môre mielies geplant het. Meteens kom hy op die eerste swerm voetgangers af, wat 'n akker se breedte oor die voetpad van die veld gebuit het.
Hulle staan vir enkele sekondes vasgepen, asof die krioelende gewriemel met sy suiselende suggeluid hulle hipnotiseer....
‘Jô! Auk!’ roep die volk, en Bouer sê verbaas: ‘Flus het ons g'n spoor van hulle geware nie. Hulle kom net so vinnig as die skade wat hulle aanrig!.... G'n stuk versuim nie!.... Die plantery moet maar wag!.... Hy stuur 'n Kaffer na die polisiestasie om spuite en sprinkaangif te haal en een na die beampte.
Bredenhand popel van werkywer toe hy
| |
| |
die boodskap ontvang. Hy is vol selftevredenheid noudat hy sien dat sy mense wakker is, want hy het hulle mos ook al te deeglik deurgeloop. Dit was maar voorsorgmaatreëls; nou begin sy werk eers regtig. - Haastig steek hy hom in sy amptenaarskleding, en laai met omslagtig veel vermanende woorde die sorg van sy huishoue op sy oudste dogter, wat verwonderd voel oor die kastige besorgdheid van haar pa.... Hy voel effens bekommerd oor Koos, en terwyl hy die saal op die perd se rug gooi, sê hy: ‘Die werkstalligheid dwing my nou om tydig en ontydig uit te spring! Jy moet maar styf staan, Ous en hier agterlangs die sake reghou. Heel waarskynlik sal ek daelank van die huis af wegbly want my wyk is groot en die voetgangers, wat uitkruip, kyk nie na my geriewe nie. Maar belowe my dat jy gereeld oor Koos sal dokter! Sy voet lyk nie vir my al te mooi nie; - jy moet niks versuim met die ghries nie, Ous, en as hy nou slegter word, hou hom dan maar uit die skool uit; hy loop reeds baie melankoliekig.’
| |
| |
Hy trippel op die vosperd weg, selfbewus van sy waardigheid en plig. Na 'n tiental minute trek hy op 'n vinnige galop, toe hy daar ver op die vlakte 'n klompie mense geware. Dis die hele Bouer-seksie daardie. Almal is seker nuuskierig om die besondere werkstalligheid te sien.... Sowaar, neef Gert is al besig met die spuit! Dis fluks! 'n Witman daardie!
Inderhaas passeer hy, lugtig groetend, die moeder en Bettie met die kwinkslag: ‘Julle moenie bang word om die rooibaadjies dood te trap nie! Trap hulle! trap rond!’ Hy spring van die vos af by neef Gert, om die kwasie-ernstige verwyt te hoor: ‘Pleks dat jy my oproep, moet ek jou kommandeer, Neef Lambertus!’
‘Nee, maar dis reg, Neef Gert! Ek wil maar net sê dat 'n kommandant maar 'n dienaar van die hoëre gesag bly, en dis in elke instansie die uitvoering van sy plig.... Ek het die werk aangevoor, jou tyding het my wakende gevind.... maar kyk, ons moet roer!.... Outas bring die water aan net so vinnig as julle kan!.... Neef Gert, ek sal
| |
| |
die spul hiervandaan omsingel, probeer jy net om hulle van die hotkant toe te dam.... Gooi in, my outas!.... Gooi in! Loop haal nog water, roer julle....! Sien jy Bettie hoe salig die voorste klomp al pote-uit is en hierdie spul wat ek nou net klaar gespuit het, verloor hul aptyt; hulle litte word lam, ou Suster, hulle voel naarrr!’
Bredenhand word opgewonde deur die wriemelende lewe hier voor sy voete. Die bontspringende rooi-insektegolfies, wat vasberade, dom-astrant na sy posisie toe vreet met hul geheimsinnig sugtende geraas, voor sy oë tril en dribbel, sodat hy g'n oogknip een bepaalde plek kan dophou nie, werk op sy haastigheid. Bettie se welmenende: ‘Ja, ek sien dit, Oom Lambertus!’ hoor hy skaars. Hy het die teenwoordigheid van die nôi, wat een van sy vlamme was, vergeet; hy volg net die inspirasie om daardie onverbiddelik vooruitkrioelende massa te stuit. - Meganies wissel sy hande om die handvatsel van die spuitpomp en telkens loer hy oor sy skouer of die outas met die water aankom, wanneer die groot-lampolieblik se gifmeng- | |
| |
sel na die boom toe sak. Hy weet nou dat die plaat rooibaadjies agter hom sal opdroë waar hulle lê, en voordat die son wegtrek, toe hulle op die kaalplek uitkom, begin hy te glo dat sprinkane uitgeroei kan word. Toe sy hand die spuitpomp los, roep hy segevierend uit: ‘Ons het die slagveld behou, Neef Gert, die vyand is verdelg!’
‘Jy meen ons het die brandwag klaar gemaak,’ sê Bouer. ‘Die groot kommando's lê nog voor en wag. Dit lyk vir my of daar reeds 'n rapportryer vir jou aankom, Neef Lambertus; - dit is de Bruin se jong.’
Bredenhand ontvang die brief met gefronste wysbroue. ‘My jong, loop bring vir my die vosperd hiernatoe!.... Ja, Neef Gert, dit lyk vir my ook of ons maar met 'n voorpossie van die vyand te doen gehad het. Maar ons het hom darem lelik die skrik op die lyf geja; ons was vir hom 'n bietjie te kras hier in jou posisie, want nou verken hy die veld na de Bruin se lande toe.’
In die vaartgevoel van sy haastigheid laat hy die vosperd weggalop, asof 'n dodelike krankte hom na de Bruin se huis geroep het.
| |
| |
Die prikkel om die plaag te beveg is in sy bloed; die miljoene en miljoene mag hom nie wen nie!....
Dis skemerdonker toe hy by de Bruin se huis afsaal. -
‘Kom binne, oom Lambertus!’ nooi Alida hom met 'n vrindelik glimlaggende gesig in die huis. Die gedagte spring uit sy hart uit: ‘Jy is laat, ou Suster!’ Die tafel is alreeds gedek toe hy die kamer voor Alida binnetree en luimig vir de Bruin groet:
‘Dit lyk vir my of julle mense my noual wil opdons tot by oom Daantjie in die kalwerhok!’
Taai soos tameletjie kom de Bruin se woorde uit sy keel, terwyl Bredenhand se wil en werklus glipperig soos seep is, wyl hy luister na die lysige bewering: ‘Die voetgangers is nou skadeloos....’ wat hy perdomps afbreek met wat op die moment in sy gedagte kom.
‘Gert Bouer en ek het vandag gespook, de Bruin. Ek sê vir jou dit was 'n tamaai swerm, daardie; my arm het dit geware. - Ek sal vanaand vir julle inspan om te spuit.’
| |
| |
‘Hulle kruip mos in die aand opmekaar en....’
‘Ja, hulle is oulik, hulle soek mekaar se warmte op om lekker te kan slaap en dit sal vir ons net so'n om- en omloop wees om hulle met die gifsprei toe te maak.’
‘Ek glo nie al te danig aan gif nie, ek....’
‘Ek sweer dat die spul duskant Gert Bouer nooit weer sal roer nie.’
‘Ek dink ons moet hulle met 'n doringboom doodsleep, dan bly die veld gesond.’
‘Jy meen soos die oumense gemaak het? Goed, Neef! Bring maar jou osse,.... laat die doringboom maar kap!’
‘Hulle is voorlopig skadeloos en ons kan maar eers iets eet.’
‘Dis ook goed, maar dan moet ek vannag by jou oorbly.’
Sy ampswerk het nou vir Bredenhand onder die duim. Oral op die vlakte kruip die voetgangers in groot plate na mekaar toe en die berigte bereik hom op sy posisie. Hy kan geen nag in sy eie huis deurbring nie, en hoe hy ook probeer om saans die
| |
| |
woning van oom Karel Coetsee te bereik, daar was telkens verhindering.
Op die derde agtermiddag van sy veldtog werk hy in die buurt van Louw Grebe. Die vaarterigheid van sy doening het effens verslap, toe hy die berig ontvang, dat sy teenwoordigheid op daardie plek vereis word, want daardie kwasserige man verstaan g'n rede nie; dog tewens het 'n sprankie blyheid hom begeester omdat die buurt hom aantrek. Vanaand sal hy darem vir Dirkie kan gaan kuier en al het hy met 'n korrelkop te doen, hy sal deurdruk en die duiwel g'n vatplek gee nie. Sy boodskapper kom terug met die berig dat die baas baie kwaai is en hom amper ingevlieë het.
Bredenhand besluit spontaan om self te handel. Hy moet hulp hê, want daar is nog 'n swerm in die nabyheid. Skielik kry hy die bravado-gevoel of hy vir Grebe en die hele sous na die voetgangers toe kan sleep.... So'n dwarskop, wat sy planne met sy verkeerde nukke in die war wil stuur! - Vasbesluit raap hy hom op in die saal en galoppeer na die spoggerige woning van Louw
| |
| |
Grebe. Sy kwaaiste burger staan hom daar en inwag op die hoë stoep, en 'n spotlag blink bokant sy puntbaardjie; - hy hoor die verkleinerende begroeting: ‘Middag sprinkaanbeampte! En wat soek jy dan hier, terwyl die swerm voetgangers daar anderkant die bult uitgebroei het? Jy moet mos op hierdie oomblik daar wees om hulle uit te roei! Nee, jong, jy moenie so rondry nie, ek kan jou altemit nog rapporteer!’
Bredenhand voel dat die bloedstroom deur sy liggaam stoom en hy sluk twee droë slukke af voordat hy antwoord, so bedaard as hy kan. Tog klink sy stem effens bewerig: ‘Reg, Neef Louw, reg! Ek wàs daar, en nou is ek hier om jou ontwil; - ek is hier om vir jou te sê dat jy jou hulp moet bysit! - Alwaarskynlik het jy van my boodskap g'n notisie geneem nie, maar nou kom ek self hier en ek sê vir jou, Neef Louw Grebe dat jy moet kom help!’
‘En sê nou ek wil nie? - Wat sal jy dan maak, al het jy 'n baster uniform aan?’
Bredenhand voel dat hy liewerster moet padgee. Sy bloed kook en tog sê hy met 'n
| |
| |
besliste stem, trillerig van toorn: ‘Ek sal weet wat om te doen! Gaan jy hulp gee, ja of nee!’
Die beampte voel hom op daardie oomblik tien persent die meerdere van daardie windbuks, al staan hy nog steeds onderkant die stoeptrappe met die vos se leisel in sy arm gehaak.
Grebe bekyk die beampte vir enkele sekondes van sy tone tot sy hoed en bars driftig uit: ‘Jy is astrant, nè, jou niks-gewènd! Dis mos jou werk om die sprinkane uit te roei, nie myne nie! Jy word mos daarvoor betaal. Die hele nasie moet mos ongehoorde belastings betaal om julle joppies aan die gang te hou en nou wil jy my inspan om jou werk te doen? Ek sien die hele boksendais van julle liewerster uitmekaar uit spat, voordat ek 'n pikanien stuur om vir jou te help.... Ek het jou laas gesê dat ek na myself sal kyk. Ek vra niks van julle nie,.... los my uit!’ Driftig stap hy weg in die huis. -
Bredenhand voel op die oomblik half verslae, want hy staan op die moment magte- | |
| |
loos en om later die hulp van die wet in te roep, gee net ergernis en komplikasies. Dit flits deur sy brein, dog tewens begin die bravadogevoel weer sy gees te beheers met 'n koppige ek-kan-sonder-jou-klaarkom, en hy gaan op sy vos terug na die rooi gewriemel, om daar regtig vir Grebe te wys met toornige pompstote dat hy sonder hom ook klaar sal kom. -
Hy skiet die gifsprei oor die krioelende massa hier voor sy voete, dat dit lyk asof 'n misbank daarop neersak. Dis nou asof die wemeling voor sy oë hom uittart: Jy kan nie sonder Louw Grebe klaarkom nie, nè! Jy kan nie! Jy kan nie!....
Die skemer sak al oor die vlakte, toe hy sy laaste hale met die spuitpomp maak, en hy mompel afgemat soos hy voel: ‘Bly in jou spoggerige huis, Louw Grebe, maar ek sê ook vir jou, los my uit!’
Die vosperd jaag oor die afstand na oom Karel Coetsee se huis. Bredenhand sal vanaand g'n lollery verdra nie. Sake moet nou afgehandel word; 'n meisiemens mag hom nie in onsekerheid laat nie. Hy wil weet wat
| |
| |
is wat! Dirkie moet nou padlangs sê, ja of nee!....
In hierdie stemming kom hy die woning binne. Dirkie is weer so vlugtig as 'n rietbok; hy sien maar net 'n glimps van haar so nou en dan, dog die eerwaardige vader en twee dampende pype, hou vereers geselskap in die voorhuis.
‘Ja, Neef Lambertus, dit gaan so in die wêreld nes in die dae van ouds. Gideon het met drie-honderd man die Midianiete oorwen.... swak of onwillige hande strem enige werk.’
Die onderstroming van Bredenhand se gedagtes bly dieselfde; sy moet vanaand sê wat is wat!
Maar die noodlot keer vir Bredenhand hier voor. Terwyl die tafelgaste na die aanddiens luister, klop-klop die galop van 'n haastige ruiter buitekant en 'n geklop op die deur verbreek die godsdiensstemming om die tafel.
Bredenhand dink vol wrewel dat dit weer 'n boodskap is, dat iewers op die vlakte weer swerms uitgebroei het. Maar
| |
| |
hy gaan bly. Môre is tyd genoeg....
Hy skrik toe Louis du Toit binnekom, en staande vir hom wink; dog lughartig swaai hy hom op sy stoel om en vra: ‘Is dit tog nie weer voetgangers wat jou op my spoor gebring het nie, swaer Lewies? Ek is vanaand te moeg om my aan hulle te steur!’
‘Nee, Ouboet, jy moet saamkom, dis baie dringend! Moeder het my beduie waar ek jou heelwaarskynlik kan kry,’ sê du Toit somber en vervolg in die dodelike stilte: ‘Koos lê bedenklik siek. Hy het vanmiddag skielik deurmekaar geword.’
‘Koos?’ Sy heftige oë staar vir een sekonde vas in Dirkie s'n; toe staan hy op en sê kalmerend: ‘Julle word te gou onrustig oor dié voet van hom.’
‘Nee, Ouboet, dit sou my nooit hiernatoe gebring het nie. Ek dink dat ons 'n dokter moet laat uitkom. Kosie se voet mag altemits die oorsaak wees, maar nou is sy hele gestel aangetas. Krissie en sus Leen is albei daar. Die kind bly deurmekaar en kreun gedurig, en hy 't sy bewussyn verloor. Laat agtermiddag het hy in 'n soort van
| |
| |
stuip agteroor immekaar getrek en toe het ons besluit om jou te roep.’
‘Koos was maar onderhewig aan sulke toevalle van sy geboorte af. 'n Perdemisbad en wynruit het hom altoos gesond gemaak. 'n Mens moet net oppas om nie muilmis in die water te sit nie. Hê-julle dit al perbeer, swaer Lewies? Ek dink dat julle te gou geskrik het!’
Sy bleek gesig en gevoelvolle oë, wat kort-kort Dirkie s'n vang, beduie darem dat die beampte sielsonrustig voel, al praat hy so lighartig.
‘Ouboet, die medisyn-trommel staan op die tafel in die kamer en die vroumense het na hartelus gedokter, maar Koos se geval is nie sommerso 'n ordinêre siektetjie nie. Dit het alles te skielik gekom. Ousus was amper van haar verstand af toe sy vir Krissie roep. Die arme kind het vir my sonder trane gehuil toe sy uitroep: ‘Tant Krissie moet kom; Koos wil doodgaan!’
In die donker gang by die voordeur staan Dirkie voor Lambertus; haar hande hang aan die kraag van sy baadjie en haar oë soek
| |
| |
syne in die skemerdonker: ‘Oom Lambertus, laat my weet!’
Hy slaan impulsief sy arm om haar liggaam en druk 'n soen op haar lippe:
‘Dirkie, ek sal!’ |
|