| |
| |
| |
Hoofstuk VIII
Nadat Bredenhand die ouers van Dirkie gegroet het, vra hy taamlik beslis vir haar om saam te stap tot by die hek.
Meneer en mevrou Coetsee bly verwonder op die stoep agter, toe hul dogter so ewe gedwee langs Lambertus loop, asof sy weet-nie-wat van hom is nie. Sou sy nou waarlik tog haarself aan die wewenaar oorgee in weerwil van haar lighartige taal oor hom? Hulle kyk mekaar aan met die stille vraag en dieselfde gedagte, waarop hy spontaan sê: ‘Nogal astrant van haar en dit so onder ons oë; dit lyk amper of hy seker van sy saak is.’
Met 'n sug antwoord sy: ‘Die kind is baie fyngevoelig; sy wil nie graag 'n mens onnodig seermaak nie en daarom stap sy sommer vir die vrindskap.’
‘Ek glo darem ook nie dat sy haar kop gaan verloor nie, Moeder. Sy is 'n te verstandige kind daarvoor; maar sy het haar jare en Bredenhand is geen onaansienlike persoon nie.’
| |
| |
‘Hy is ook 'n ernstige man; sy slotgebed vanmôre het my geroer; 'n mens kon voel dat sy gemoed beswaard was.’ Sy sug alweer en albei kyk na die twee wat blykbaar in 'n gesprek by die hek staan. Hulle is nogal tydsaam om afskeid te neem. - Hoe lank hou hy haar hand vas....
‘Ek wil nog maar net 'n paar woordjies met jou gesels; want my wetenskap sê aan die eenkant: praat met Dirkie, en aan die anderkant: sy meen self nie wat sy gesê het nie. Ons papiere lê nog deurmekaar; kyk ons moet ons kwessie klaarder uitpraat; jy laat my in die onversekerdheid, Dirkie, en ek kan nie so vertrek nie.’
Dirkie voel verleë om so onder haar ouers se oë langs die wewenaar te stap; hy het te onverwag gevra; sy kon skielik g'n gedagte om te weier vind nie, en sy 't gevoel dat sy moes gehoorsaam teen haar sin.... En nou praat hy asof hy al regtig gevorder het oor die kwessie tussen hulle; dis aanmatigend en astrant. Sy word effens ongeduldig en antwoord beslis: ‘A, nee a, hoe kan Oom dan so sê? Ek het mos openhartig gepraat; Oom
| |
| |
kan verseker daarvan wees wat ek gesê het, het ek gemeen!’
‘Ek het vannag baie oor die saak gelê en dink, want dis vir my 'n hartsaak, 'n gewetensaak, 'n sielsaak. Jy is 'n kristin, Dirkie en jy gee soveel te kenne: as my kinders daar nie was nie dat ek welkom sou gewees het. Ek sê, jy het dit nie gemeen nie.’
Hulle staan by die hek waar die gesaalde vosperd wag. Sy het g'n lus om te argumenteer nie, maar nietemin luister sy tog na die mooi geluid van die dringende stem, wat baie sag en tog so duidelik praat. ‘Ek is g'n oppervlakkige meisiemens nie, Oom Lambertus!’ verklaar sy ernstig en haar houding en blik beklemtoon dit.
Sy beheerste hartstog raak los en tintel deur sy liggaam en sy oë kry 'n vreemde gloed, terwyl hul oor die meisie flits en die begeerte om die vroulike gestalte te besit, word oppermagtig. Vinnig, amper dreigend vra hy: ‘En dis die enigste beswaar? Jy het niks teen my persoon nie, Dirkie? Dis net my kinders wat jou hinder?’
Sy huiwer en word effens beangs. Hy lyk
| |
| |
opeens so geweldig, asof hy haar kan gryp, en tog stoot dit haar nie af nie; die krag wat haar skynbaar wil oormeester trek haar eerder aan. 'n Nuwe gevoel van haar vroulike wese klop in haar gemoed en opgewonde antwoord sy: ‘Nee, Oom Lambertus, ek sê nie dat jou kinders die enigste beswaar is nie, maar hulle is 'n onoorkomelike beswaar. As hulle daar nie was nie, sou die saak vir my glad anderster gewees het. Ek het sekerlik respekte vir jou, Oom, maar liefde is 'n ander ding.... ek wil natuurlik ook eendag graag my eie huis hê, maar dan sonder bekommernis....’
‘Verwag jy van my dat ek my kinders moet afstoot?’.... val hy haastig in.
‘Dit sê ek nie.... maar kyk, Pa en Ma sien vir ons en hulle kan dalk verkeerde gedagtes kry; ons staan hier so lank en gesels, asof daar regtig iets tussen ons bestaan,’ besluit sy met 'n glimlag en sy steek haar hand uit om te groet.
Hy vat dit gretig vas. ‘Maar vrindskap bestaan tog seker tussen ons.... Jy het my regtig teleurgestel, Dirkie!.... Ek kom
| |
| |
weer! Laat jou gedagte gaan, ou Suster, ek is seker dat jy dan anderster sal dink.’ Hy druk haar hand en kyk ernstig in haar laggende oë, waar 'n flikkering van spot uit straal, wat hom tref en kwes, en hy hoor: ‘Ek sal mos nie verander nie, Oom!’
Met 'n diep sug raap hy hom op die vosperd. ‘En ek sal nie moed opgee nie!’ werp hy haar toe, en met die wegry lyk hy soos 'n kommandant, wat aan die spits van sy burgers gaan.
Dirkie kyk hom agterna. Die spot verdwyn uit haar oë vir 'n droomglans. Hy is darem 'n knap wewenaar.... jammer! jammer! Langsaam loop sy in 'n bedrukte stemming terug.
Die wilkerbome by die dam onttrek hom aan die oë op die stoep. Sy fiere houding sak gaandeweg inmekaar. Diep in gedagte wieg hy in die saal; die teuels hang slap, en dooierig hang sy liggaam op die vos, wat sy pasgang egaal hou. Hy voel tevredener oor die afskeid as oor gisteraand se gesels. Flus was daar 'n intiemer verhouding tussen hulle twee en sy het openlik erken dat sy respekte
| |
| |
vir hom het. Dis na verwant aan liefde. Maar tog, die spot wat uit haar oë gestraal het en die onverskillige besluit dat sy nie sal verander nie, het soos 'n sweepslag deur sy siel geklap. Dis moeilik om so'n vroumens goed te verstaan. Dis gee en vat, lok en afstoot onder die beheer van 'n koppige eiesinnigheid, wat soos 'n neet klou aan haar lewensopvatting. Hy sien haar in die blomtuin met die gieter, en hy sien haar by die hek, waar sy haar mooi postuur orent gestoot het vol argument en inskiklikheid en bekoring, dat hy haar kon wegsleep van die plek af. Die natuur van 'n vrou moet anderster wees as die van 'n man. Dis soos 'n krap wat agteruit en dwars loop na sy bestemming toe. Sy wil en wil ook nie, kafbesware belemmer die pad van haar natuurlike beloop en kafredenasies steek haar in die pad. Dirkie se onbesorgde en gelukkige lewe was om die kinders van haar ousus groot te maak. Die roeping van 'n vrou het sy volbring in die voorhof van haar lewe en nou is dit haar beswaar om die lewe verder daarmee in te gaan. - Nee wat, dis sommer grille
| |
| |
wat ook by 'n vrou se natuur behoort. Dirkie was hartlik, innemend by haar besware, en sy moet die moeder van sy kinders word! Haar besware het g'n reg van bestaan nie, al stoot sy hulle nou met haar bekoorlike koppigheid vorentoe; hulle moet uit die helder hoof van haar geban word, want hulle is uit die bose. Sal sy hom respekteer as hy sy verantwoordelikheid vir sy kroos prysgee om haar ontwil? Sal sy die swakheid ooit kan goedkeur? Nee wat, sy is nie so harteloos nie en hy sal en kan dit nie gedoog nie; selfs Koos gaan by hom bly! Sy vaderskap is nou die heiligste plig wat hy het, g'n vroumens kan hom daarvan beroof nie....
Hy dryf op die gedagtes weg in die beminlikheid van Dirkie. - Hulle twee sal saam weer 'n nuwe lewe begin.... Hy voel so seker van sy saak asof sy hom reeds die jawoord gegee het....
Ouboet loop hom met 'n van vreugde stralende gesig tegemoet en vat vir Poon om die perd koud te lei. Die ander kinders staan hom en inwag by die kombuisdeur. Sy vaderhart word groot en dis of hy die klop- | |
| |
pende drang daar voel om sy liefde vir hulle te openbaar. Met 'n diep stem groet hy hulle kortaf: ‘Middag kinders!’ en gee vir Ousus en Klein 'n soen. Ousus skink dadelik vir hom koffie in. Nooit van te vore, selfs nie in die kommervolle dae na sy vrou se dood het hy so intiem vir sy kinders gevoel as nou nie.... Stil oorweeg hy hulle toekoms met sy jong liefdesplan. - Dit sal min moeite kos om hulle uitmekaar uit te maak. Koos is so te sê al geboek en swaer Lewies sal Ouboet sonder frons of oëknip ook byneem as hy net praat. Klein kan by haar Ouma bly; moeder het al dikwels soveel as te kenne gegee dat sy baie graag vir Klein wil grootmaak. Ousus kan 'n betrekking by die leraar kry om sy kindertjies op te pas; sy is uitgeknip daarvoor.... dis maklik om van al die sorge ontslae te raak en dan is sy pad oop na Dirkie toe.... Driftig drink hy sy koppie leeg.... Dis duiwelse gedagtes daardie wat slu en verleidelik konkel met sy besef van plig en roeping. Basta! Bedaard vra hy vir Ous:
‘Hè-julle vannag by Ouma-hulle geslaap?’
| |
| |
‘Nee Pa, ons het sommer hier gebly, want Pa sal van nou af seker baie nagte moet uitbly op die amp en ons kan tog nie altoos uitslaap nie. Ons is nie bang nie, Pa!’
Hy knik. ‘Ja, my kind, dit sal heel waarskynlik so wees en as julle hier kan reghou, is dit beter.... Ek wil nou net vir Ouma gaan groet.’
Toe sy in die kombuis die klankvolle stem van haar oudste hoor, kom haar geboë houding orent in haar leuningstoel en toe Lambertus in sy amptelike vertoning in die agterhuis verskyn, verhelder haar gelaat deur 'n bekoorlike glimlag. Sy wenk hom en trek met dieselfde hand sy stoel nader na haar toe. ‘Kom sit hier my seun! Kom vertel vir my! Ek wil mos weet hoe jy gevaar het op die amptelike tog!’
Bredenhand sak gewigtig neer op ‘oom Lammie se stoel’ met 'n glimlag en 'n sug: ‘Hoe lyk dit dan vir my of Moedertjie danig nuuskierig is?’
Sy hou haar hand op sy knie en kyk hom met 'n tere hoogmoed aan. ‘Ek is nuuskierig, my kind; 'n moederhart wil alles weet van
| |
| |
haar kinders en in jou geval is dit iets groot besonders, Lammie.’
‘Nee moeder, hoe sal ek sê -, dit het baie, baie voorspoedig gegaan,’ antwoord hy, terwyl hy die as van sy pyp afdruk en langs sy neus verby beskou.... ‘Ek wil darem ook sê en my veronderstelling gaan met my saam, dat my werk al my verstand sal insleep om skoon en helder daardeur te kom.... Die verantwoordelikheid wat op my rus is baie groot.’
Hy 't klaar met die as en kyk selfbewus gewigtig na die kamer se hoek, terwyl die moeder haar hoof effens laat sak en jammerhartig skeef hou, wyl 'n suggie oor haar lippe glip. Sy voel diep onder die indruk van Lambertus se vernaamheid en moeilikhede, en haar hele houding sê: ‘Toemaar Lammie, praat verder my kind, ek luister!’
Sy hoof swaai resoluut van die hoek af weg omhoog en sy sware stem klink beslis: ‘Maar ek sal deurkom, Moeder! Ek sal deurkom! Dit gaan daarmee soos met ieder nuwe onderneming. Elke begin bring die vreemdigheid saam en daarna word die werkstallig- | |
| |
heid eers 'n gewoonte.... Ek wil daarmee nie sê dat ek moet leer nie, glad nie! Dis ons mense wat touwys gemaak moet word; hulle verstaan die nuwe reëling nog nie bra nie.... Ek wil sê dat die mense my deur die bank goed onthaal het en mooi na my geluister het. Hier en daar het hul 'n baster stryery aan die gang gesit, party van hulle was onverskillig, maar dis nie eintlik iets om oor te praat nie. Ek het hulle gou-gou stil gemaak en hulle belangstelling opgewek vir die saak. Ek kan nie kla nie, Moeder, want ek het maar met een korrelkop onder al die mense wat ek gister deurgeloop het, teëgekom. Louw Grebe is 'n kwasserige man, soos oom Karel Coetsee sê.’ Sugtend beskou hy weer sy pyp se kop en druk met sy dik, ongevoelige duim die opkrullende vuur af.
Belangstellend vra die moeder na die welstand van die Coetsees. Dis of 'n skokkie haar skielik regop bring in haar leunstoel. Sy kyk haar oudste aan met 'n stil vraag in haar oë, wat met 'n skyn van skaamte opsy swenk, en dis vir haar voldoende.
| |
| |
‘Nee, nog gesond deur die goedheid. Hulle het vanmiddag groete laat weet. Ek het laasnag by hulle oorgebly. Dis regtig hartlike mense daardie, wat nog na ons ou opvatting van vrindskap lewe.’
Haar aangesig verlewendig, as sy vergeefs probeer om sy vlugtige blik aan hare vas te trek; maar rustig, effens gedemp sê sy: ‘Ja, my kind, dis ou bekendes, wat ons geaardheid getrou bly.... Hulle het mos nog vir Dirkie in die huis, nie waar nie?’
Vir een sekonde kon sy in die kinderoë sien en toe bespeur sy ook 'n glimlag wat van sy neusvleuels wegtrek in sy baard. Sy weet genoeg, al antwoord hy skynbaar onverskillig: ‘Ja, Moeder Dirkie is nog daar. - Sy is die regterhand van die oumense; 'n deeglike dogter; die huisgesin draai feitlik net om haar.’ Die pyp se as vra weer sy duim en daarna trek die kamer se hoek weer sy oë vas. - Die weduwee herneem haar geboë houding, gedurende die enkele sekonde van stilte wat volg. Sy swaai haar oë onderlangs op na hom toe en vra effens ondeund: ‘Hoe lyk dit Lammie?.... Jy kan dit tog nie vir
| |
| |
jou moeder wegsteek nie. Hê-julle same gesels?’
Die glimlag trek oor sy hele aangesig en hy kyk die onderlangse blik uitdaend aan: ‘Wat dink Moeder dan van my? Ek sal mos nooit so'n kans verby laat glip nie!’
‘Neef Karel-hulle is 'n voorklas en 'n skoon familie. Nig Mieta en ek het saam lidmaat geword.... Ek kon dit dink, Lammie! Maar as die Here dit so mag bestier, dan sal ek gerus wees as jy en Dirkie eendag saam kan akkordeer. - Sy is 'n sorgsame kind en sal goed vir jou kindertjies sorg.... Ag, my kind, jy moet tog maar mooi jou oë oophou en bedagsaam wees. Jy trek nou die wêreld deur en kom met baie mense in aanraking.... 'n Kwaai stiefmoeder is 'n ellend in 'n huis en ek kry Kosie so jammer.... Die outjie het mos laasnag weer bang geword. Hy is so aantreklik en absent. Die kind lê teer in my hart, Lammie!’
‘Hy is maar so van sy geboorte af, Moeder. Dit sal regkom! Dit sal vergroei; 'n mens moet hom net nie verpiep nie.... wat ek wil sê,.... ek het darem my lyne goed
| |
| |
gestel en heel waarskynlik gaan ek dié slag 'n paling vang.’
Haar blik van begrype glimlag hom toe en verstar direk toe sy sê: ‘Daar kom die kinders van Lewies-hulle af terug.’
Die stemme van Sarel en Lena nader die kombuis van buite af.
Sarel se oë blink van snaakse verwondering uit die masker van sy goedige gesig. - ‘Ouboet is op krygsdiens, nè?’.... Hy skuif 'n stoel nader, terwyl Lena teruggaan om vir 'n verversing te sorg.
Bredenhand herhaal gewigtig en omslagtig van sy wedervare, dog kom nie naby Dirkie nie en daarna swaai Sarel weg op 'n ander koers. ‘Ek hoor dat jou Kosie by Lewies-hulle gaan bly. - Ek reken so, Ouboet, dat jy nie beter kan doen nie; vernaam van jy so los en vas van die huis af is.’
Die herinnering stol sy gedagteloop en skep skielik 'n gevoel van weerstand. Bredenhand staar skerp in die hoek van die kamer, terwyl hy sy pyp se kop met albei hande omvat. Verwonder en bly blik die moeder oor haar seuns en sê opgewek: ‘Ek voel regtig
| |
| |
dankbaar. Koos het die meeste sorg van al jou kinders nodig, Lammie!’
Dit lyk vir Bredenhand of alles saamspan om sy vaderskap te breek en juis vandag is die gevaar so sterk as ooit tevore; dog hy antwoord gedwonge-bedaard: ‘So was die plan Sarel, maar die loop van 'n mens se lewe draai dikwels wonderlike koerse uit. Gister en vandag verskil dikwillig so hemelsbreed, dat 'n mens se planne en voorneemstes van gister, vandag onuitvoerbaar word.... Daar het in my lewe 'n gesonde draai gekom en ek voel oortuig dat ek verkeerd doen om my huisgesin uitmekaar uit te maak.’
Sarel uiter net 'n langgerekte en onsekere ‘Ja, Ouboet.’ Almal swyg en 'n spanning volg. Sugtend breek die moeder dit en sê: ‘Krissie sal vir Kosie darem soos haar eie kind versorg, Lammie; - jy moet die kans maar vat, dit is tog in sy belang, en hy bly so te sê onder jou oog.’
Nou kom die ergernis so geweldig in hom op dat hy met 'n besliste gebaar die stemming wat hom wil verlei wegslaan: ‘Wag, Moeder, wag! Nee kyk, laat ons daardie
| |
| |
kwessie los; julle argumente is inblasings van die bose.... Ek sal wel môre met Lewieshulle praat.... Dankie, sus Leen!....’ Hy neem die koffie van die skinkbord, maar luister tewens met klimmende verontwaardiging na die seëldruk-opinie van sy skoonsuster. ‘Die bose en mensliewende dinge akkordeer nie saam nie, Ouboet. Ek dink dat jy baie ondankbaar is; sus Kris het vir my vertel dat die saak kant en klaar gereël is. Sy 't reeds vir my gewys waar Koos gaan slaap. Ons voel almal bly oor so'n oplossing, want jy kan nie stry nie dat Kosie stadig kwyn en in 'n baie bedenklike toestand is. Jy kan gerus dié slag aan jou kind se welvaart dink.’
Sy harde stem oorval haar laaste woorde. ‘Jy maak my seer, sus Leen! Jy maak my seer! Watter onheil broei hier onder julle op die sabbatdag? Netnou is die plaas vol van daardie nonsens. Dis vir julle lekker om daaroor te kekkel, nè? Julle weet niks.... niks....! Ek is vader; maar julle wil hê dat ek soos 'n niksnuts moet weghol vir sy optelkind.... Julle weet niks! Ek is moeg vir die
| |
| |
gelollery. Ek is moeg! moeg! moeg!’ Hy sluk sy toorn af, staan op en sê beheers kalm: ‘Naand, Moeder!’
‘En jy wil nou al loop?’ vra sy melankoliekig. ‘Jy moet tog nie kwaad word nie, Lammie; jou susters meen dit goed.’
Die glimlag lê koud op sy harde oë. ‘Kwaad word lyk anders, Moeder! - Kyk die son wil ondergaan.’ Spottend vervolg hy: ‘Ek moet nou na die kinders kyk, want hulle was van gister af tot flus heeltemal alleen!’
Hy stamp die kombuisdeur met 'n harde klap agter hom toe. Dit laat hom effens skrik, want hy wil geen kwaai gevoelens agterlaat nie, dog gaandeweg kry sy humeur die oorhand. Sy eie mense word op hierdie Sondag die handlangers van die duiwel, wat sy inwendigheid wil proklameer om hom onverskillig te maak vir die dierbaarste eiendom wat hy besit.... Met vaste stappe stap hy om die koppie en sy gevoel klim met die passe saam. - Wat die deksel het hulle met hom uit te waaie? Hy is mos nie 'n seun van vyftien jaar wat elke aand sy postuur vir sy
| |
| |
ouers moet wys, voordat hy gaan slaap nie! Dié remketting-heerskappy van ouer, broer en suster gaan hy afskud. - Sy eie spannetjie het met hom en die oorlede vrou saam 'n eenheid gevorm, dat die Almag alleen kan verbreek, en nou is hy en die kinders die eenheid, wat God alleen kan ontbind. - So is sy posisie op die huidige oomblik en hy weet dat hy vandag regstaan. - Maar nou knie die Satan al die mooi menslike eienskappe, soos liefde en besorgdheid met opofferingsbesef en dankbaarheidsgevoel, deurmekaar in die harte van moeder, broer en suster, net om sy kop deurmekaar te maak, teneinde die pad na Dirkie toe oop te stoot! Haar gevaarlik verleidelike woorde was ook die werk van die duiwel, wat nou met albei sy kloue in die kooksel van sy konkoksie knie.... Dié kinders van hom is syne; sy vleis en bloed! En dit is so verordineer vanaf die grondlegging! Hoe kan hy afstand doen van sy heiligste besitting? Weggee, onteien, vergeet?.... God bewaar hom daarvoor!
Hy voel dat sy gemoed saf word toe hy
| |
| |
die viertal geware in hul gewone niks-en-iets-doen-houdinge, om en in die huis. - Daardie kinders het God hom gegee en hy het saam met sy oorlede vrou die doopbelofte afgelê oor een vir een van hulle.... Gehoorsaam aan 'n spontane drang, buk hy by die binnekom by Klein en gee vir die kind 'n haastige soen, en voelend dat hy hom moet verklaar, sê hy vir die verbaasde dogtertjie, wat hom met vraag-oë bly aanstaar: ‘Jou Pappie was mos weg en hy 't flus vergeet om vir jou te groet.’ 'n Beroering trek deur die gemoedjies van die viertal, asof hulle in verwagting staar op iets besonders wat nou gaan gebeur....
‘Koos, kom nader jong, gee laat ek jou voet sien. Jy word mos bang in die nag as ek weg is, nè?.... Hy is effens geswel - hoe is die pyn?’
‘Nee, Pa, ek het nie eintlik so dood baie pyn nie; net partykeer is die steekpyn so op in my been baie kwaai,’ antwoord Koos, met 'n pieperige stem effens gejaagd. Hy skraap al sy vrypostigheid bymekaar en bly langs sy pa se knie staan, want hy het nog
| |
| |
iets op sy hart wat hy wil vra; die ander drie skuif onmerkbaar nader.
‘Pa, ek wou nog iets vir Pa gevra het, Pa!’
‘Laat ek hoor, Koos!’
‘Ek wou gehoor het wat sê Pa; kom 'n predikant dan nie in die hemel nie, Pa?’
Die groot kop van sy kind slaan hom dronk. Waar kom hy aan daardie diepsinnigheid? Sou hy predikant wil word, terwyl hy bangerig voel deur die vrees van 'n onsekere saligheid?
‘Ek wil nie sê, almal nie, Koos. 'n Predikant is ook maar 'n mens, maar wanneer hy soos 'n kristen lewe, kan God hom in die hemel opneem.’
‘Maar 'n predikant is dan so ryk, Pa en 'n ryk mens kom mos nie in die hemel nie, nie waar nie, Pa?’
'n Glimlag trek oor Bredenhand se gesig; hy verstaan die kind se onsekerheid, maar onder die indruk van Koos se diep gedagte, verklaar hy ernstig: ‘My kind, ek sien volkome wat jou hart so danig beroer. Jy dink oor wat jou vader eergisteraand gelees het, en dis baie goed, Koos, dat jy soiets ter harte
| |
| |
neem.... Kinders, luister almal! Mag die Here gee dat julle net soos Koos die Goddelike Woord inasem, want dan eers word die Bybel se wetenskap 'n bron van kennis. Koos doen my nou hier 'n diepsinnige vraag, wat twyfel in sy jonge hart gewerk het, en ek voel vanaand regtig verheug daaroor. - In die dae toe die Here op die aarde gewandel het, was daar ook ryk mense, net soos nou. Hulle rykdom het hulle God geword en hulle van die Here afgetrek; hulle ganse doen en late was net geld, geld, geld, en dis hierdie soort mense wat bekwaald in die koninkryk der hemele kan ingaan, net so bekwaald as wat 'n kameel deur die oog van 'n naald kan gaan....
Is dit vir jou duidelik, Koos?’
‘Ja, Pa!.... maar ons sal nooit nie so ryk word nie, nè Pa?’
‘My kind, waarvan praat jy nou? Ons sal maar arme Adamskinders bly, al verdien jou Pa 'n weinig as sprinkaanbeampte; rykdom lyk anderster, Koos!’
'n Blye glans verlig Koos se gesig; hy voel gerus.
| |
| |
Bredenhand se vaderhart word groot. Watter span kan teen syne optrek in godsvrug en 'n goeie stil geaardheid? En nou moet hulle uitmekaar uit? 'n Buitestaander kan 'n vaderhart nie peil nie.... Koos moet eendag, so die Here wil, predikant gaan word. |
|