| |
| |
| |
Hoofstuk VII
‘Kom, Klein, laat ek jou hare uitkam en jou vlegseltjies bymekaar bind; jou kop lyk alte woes en deurmekaar in die laaste tyd.’
Die dogtertjie kom voor haar op 'n veldstoeltjie sit en Ousus kam en vleg en strik, onderwyl sy almaardeur suutjies sing: ‘Moenie huil nie, moenie treur nie, die jongetjies van Sluis kom weer!’
Klein begin onwillekeurig ook saam te sing. Die wysie pak haar en die woorde is so wonderlik vreemd.
‘Van nouaf moet ons g'n môre oorslaan nie, hoor! En as ek dit altemit vergeet, moet jy my tog herinner. 'n Mens se hare is 'n sieraad en dit moet altoos netjies wees.’
Ousus wil haar versuim in die verlede goedmaak, want nou is hulle mos kinders van 'n sprinkaanbeampte! Sy is in 'n verhewe stemming en vol ambisie vir die lewe. Die verveling van haar harde roetine-werk het haar onverskillig en haar wese oud gemaak; nou krioel die blye gedagtes in haar hoof;
| |
| |
planne en verwagtings maak die toekoms heerlik en haar bruin oë glinster van geesdrif. Alles in die huisie word ekstra skoon gewas of glad gevryf, terwyl die sustertjie haar as 'n skadu volg, altoos begerig om haar te help.... Sy sing nou al gaaf en duidelik die liedjie saam. Ousus voel vreemde prikkelinge deur haar liggaam; stemme van verlange klop in haar hart en sy koester die voorgevoel dat daar iets heerliks vir haar gaan gebeure. Hulle sal nou binnekort ook almal nuwe klere dra, en sy sal weer in tel wees onder die jongmense van Sluis, en van die jongetjies sal dan ook by hulle kom kuier en van haar persoonlik notisie neem.
‘Ous, waar was hulle dan?’ vra Klein spontaan. Die vryflap rus stil in haar hand op haar pa se stoelleuning; haar oë kyk vraend op in die van haar ousus.
‘Wie meen jy, Klein?’ en ook haar vryflap rus op die stoel se leuning.
‘Ek meen die jongetjies van Sluis, Ous, ons sing al maar gedurig dat hulle weer sal kom.’
Ousus lag hardop oor die ernstigheid
| |
| |
waarmee Klein die uitleg gee. ‘Jou verspotte ding, waarvandaan kry jy die snaakse gedagtes hè? Dis sommer 'n lied. Hulle was mos nie regtig weg nie! Maar hulle sal darem ook hiernatoe kom!’
‘En dan koop Pa vir ons 'n musiek en ons sing die hele aand nè, Ous?’
‘Klein, jy word te oulik!’ sê Ous vrindelik vir die nadenkende dogtertjie, wat nog steeds stil met die vryflap staan en vra: ‘Hoekom kan 'n lied dan jok, Ous?’ - Waar kom die kind aan dié wonderlike gedagtes vanmôre? ‘Dis nie eintlik jok nie, Klein, want 'n lied word gesing. Vat nou byvoorbeeld “Pollie ons gaan Pêrel toe”, dan gaan ons mos nie regtig Pêrel toe nie, ons sing dit sommer so; dis ook 'n lied.’
‘'n Mens kan sommerso jok, nè Ous? En as jy sing dan is dit g'n sonde nie?’ Haar blanke voorkoppie is vol gedagte en oorskadu haar ernstige kinderoë. Ousus kan haar geen antwoord gee nie. ‘Verspotte ding! Jy is vanmôre glad te slim; vryf nou Pa se stoel mooi glad en blink en dan sal ek vir Pa vertel dat jy dit gedoen het.’ Ousus glimlag onder haar
| |
| |
werk.... na reg jok hulle as hulle so sing.... dis nie sonde nie!.... waar kry Klein die wonderlike gedagtes?....
Vanmôre het sy vir Ouboet en Koos uitgestuur om oondhout te bring.... gister suurdeeg by tant Leen gekry.... daarna ingesuur.... Vir die eerste keer in maande se tyd gaan sy nou 'n baksel brood in die oond bak. Die ou as is so vasgekoek en bedek met 'n laag hoendermis dat sy die valsvloer met 'n graaf moet opbreek. ‘Ja oondjie, van vandag af sal jy weer weet wat jou naam is.’
In die Sluisloop, wat onder vaarlandswilkers in die skaduwee van doringbome en tussen ente populierbosse deur sy bedding hou, soek die twee seuntjies oondhout. Koos bring sy draggie teen die wal uit en gaan onder 'n oliewenhoutboom lê; sy voet verdra nie dat hy daarop trap nie. Sy ouderwetse, amper volwasse gesig, gestut deur sy regterhand, dwaal dromerig met die spruit af, en sy ouboet hoor hy nie, wat hoog in 'n nabye wilker 'n droë tak ongemaklik staan en afkap. Koos sien net vir sy pa en die vos. Gister al, toe hulle die stal vir die perd aan- | |
| |
mekaar getimmer het, was daar baie weemoed in sy gedagtes, altemit deur die pyn teweeggebring. Sy ma sou die doring mooi en baie saggies uitgehaal het. En tog bewonder hy sy pa met 'n lewende liefde. Vanmôre was hy vir hom soos die inspekteur, wat hulle kom inspekteer en vir die juffrou net laat lag asof sy bang word. Die inspekteur kom ook so aangestap net soos sy pa na die vosperd aangekom het. Die inspekteur dra g'n kamaste soos sy pa nie, maar hy dra darem iets wat soos 'n groot kamas lyk in sy hand. Vanmôre het sy pa te pragtig gelyk en hy kon ampers gehuil het van liefde en bekommerdheid, toe hy op die bakoond hom gesit en nakyk het. Sy pa het van gister af skielik 'n ander mens geword. Hy is hom gewend as iemand wat moeg aankom met die bladsak op sy rug en nou gaan sy pa dalk vreemd word vir sy kinders, want hy word nou ryk.... As sy oorlede ma nog gelewe het, sou sy seker al te bly gewees het vanmôre en sy sou maak dat hy nooit vreemd vir hulle word nie. - Hy mis sy moeder baie en toe sy pa daar wegry, het hy begin
| |
| |
verlang na die hemel; sy ma is daar; sy was vir hom baie teer en het hom dikwels ‘my hansseun’ genoem....
Koos is 'n ingetoë kind met onbegryplike oë, wat rondskuif in geselskap, maar rustig word en donker, wanneer g'n mens notisie van hom neem nie. Sy pa sê dat hy hom oorgee aan die duiwel, wanneer hy soms helder oordag wonderlike goeters geware, soos wolke wat vlerke het en koppe uitstoot met oë vol vlammetjies; dan lyk dit of hulle hom wil bekruip; - sy pa het hom al dikwels daaroor geslaan as hy dan bang word. - As babetjie was hy baie gepla met stuipe en van dat hy hom bewus is, sien hy die wonderlike goeters al. Partykeer krioel hulle in die hoek van 'n kamer; soms is daar engeltjies tussenin, wat op en neer gaan. Dan voel hy glad nie beangs nie; eerder gelukkig. Maar wanneer iets bo van die balke af vir hom lê en loer, dan word hy benoud en bang, want dit moet die duiwel wees. Vroeër het hy altoos by sy moeder skuiling gesoek en sy het hom gestreel en teen haar vasgedruk, terwyl sy pa dan sê dat die kameel hom ry en dat hy moet
| |
| |
loop speel! Nou sê almal dit en hy probeer maar om sy kop toe te trek wanneer hy die kameel sien. - Soos sy pa gisteraand vir hulle duidelik gemaak het, kan dit maklik 'n kameel wees, wat met sy lang nek en hoë pote bo-oor die balke loer. So'n vreeslike dier kan nooit deur die oog van 'n naald gaan nie. Hy hoop dat hulle arm sal bly, want hy verlang na die hemel waar hy weer sy moeder sal ontmoet....
So in gedagte dwaal sy oë langs die Sluisloop af, tot sy ouboet ook sy drag oondhout uitbring en langs hom kom sit. Hy vee die sweet van sy voorhoof af met sy hempsmou en sê: ‘Nou sal jy tog ook kan uitsit en groot en sterk word, Koos; vandag eet ons brood en vleis!’ Die jongste luister skaars na Ouboet se voorspelling; dieper gedagtes hou hom besig.
‘Ouboet, Pa lyk vanmôre soos die inspekteur van die skool, nè?’
Die oudste lag, maar voel tog dat Koos in sekere sin die waarheid sê. ‘Ja, Koos, maar Pa is eintlik die inspekteur van die sprinkane. Die hele vlakte is aanmekaar van hulle en
| |
| |
oor 'n ruk sal jy die kleintjies sien uitkruip en dan moet Pa hulle inspekteer en doodspuit.’
‘Die inspekteur ry in 'n motorkar; hy is seker baie ryk. Gaan ons nou ryk word, Ouboet?’
‘Ek dink so, Koos, want Pa het nou alreeds 'n perd.’
‘Ek sal baie spyt wees as ons eendag ryk gaan word, Ouboet!’
‘Ek sal juis baie bly wees, want dan ry ek ook rond soos Pa en later dryf ek sy motorkar. Hoekom sal jy dan spyt wees, Koos? 'n Arm mens kry mos baie swaar.’
‘Ryk mense kom nie in die hemel nie!’ antwoord Koos, met 'n droewige klank in sy stem, en sy oë glans vogtig.
‘Moenie glo nie! Oom Lewies lees elke aand ook in die Bybel en hy bid en sing en gaan kerk-toe, en hoekom mag hy dan nie in die hemel kom nie? Die predikant is ook ryk en hy kom eintlik in die hemel, want hy praat gedurig daaroor en oor die liewe Here.’
Die jongste se oë begin rond te skuif. Hy
| |
| |
moet sy ouboet glo, want 'n predikant is nog ryker as oom Lewies. En tog het sy pa dit uitdruklik in die Bybel gelees en dit mooi duidelik gemaak gisteraand, dat 'n ryke net so min die koninkryk der hemel kan ingaan as wat 'n kameel deur die oog van 'n naald kan gaan. Dis onmoontlik! Die Bybel sê mos die waarheid!....’ Hy voel dat hy glad nie oor die saak kan praat nie, want dit is vir hom te wonderlik deurmekaar. As sy pa terugkom, sal hy vir hom vra of Ouboet ook reg is.... ‘Kom ons loop, Koos!’
Elkeen vat sy drag. Ouboet het syne al voor die oond neergesmyt toe Koos kruppelkruppel nog halfpad van die spruit af aankom. Hy gaan terug om ook sy draggie te vat. ‘Is jou voet nog baie seer, Koos?’ ‘Ja, Ouboet, en met rukke gee hy sulke steke tot bo my knie.’
Ousus het 'n ruk gelede agt gesonde boerebrode uit die oond gehaal. Die huis geur van die varse gebak en 'n broodhonger deurtrek die liggame van die kinders, behalwe Koos, wat nie die minste aandag aan die vreemde werksaamhede gee nie. Rondom is die opge- | |
| |
wektheid asof 'n nuwejaarsfees in die woning gevier sal word; die oë word groot van ongeduld, die mage hap die geur in; almal snak na 'n korsie; maar Koos strompel deur die kombuisdeur na buite. 'n Stille drang dryf hom, soos in die verlede dikwels al gebeur het, na die allenigheid toe. Met alles wat daar in die huis gebeure het hy vrede. Vandag is sy geaardheid eenkant-toe en hier op die bakoond voel hy die tevredenste. Hy kan daar ure deurbring, en die tyd gaan verby asof dit slegs minute is, so droom sy gees dit deur, want daar is soveel beroering in sy siel, dat sy hoof as 't ware opgelig word deur die vinnigwoelende gedagtes. Sy harde vader; die groot feit dat hy op 'n vosperd weggery het om sprinkane te verniel en om ryk te word; verlange na sy moeder in die hemel - alles geprikkel deur die pyn wat hy moet verduur, is te veel vir sy gemoedjie.
Die vlakte lê soos 'n boek vol vreemde letters voor hem oop. - Sommerso vanself kom die sprinkane daar uit en dan moet sy pa hulle inspekteer. Hy sal baie fyn moet oplet, want die vlakte is groot en so dood as 'n
| |
| |
klip.... wonderlik dat so'n dooie ding tog lewendig is.... Die vosperd sal baie sprinkane doodtrap - sy pa sal hulle woel; hy kry alles reg! Daar is nou al twee sakke meel in die huis. Sy pa het 'n perd gekoop en as dit so aanhou is hulle netnou ryk. Dis darem goed dat sy moeder betyds doodgegaan het, want anders sou sy nie in die hemel gekom het nie. Sy sou hom darem nie so baie seer gemaak het met die doring nie; haar hande was sag; haar stem het hom altoos nader getrek, vir haar was hy nooit bang nie.... As hy nou ook doodgaan, dan kom hy ook by sy moeder in die hemel, maar hy is bang om dood te gaan, vernaamlik wanneer dit donker is. Hoekom kan 'n mens nie lewendig in die hemel kom nie? Die sprinkane kom dan lewendig uit die grond uit en 'n mens moet dood in die aarde ingaan, voordat hy in die hemel kan kom.... Hy draal met sy gedagte oor die wonderlike raaisel. Dit moet sekerlik die engeltjies wees, wat hy soms in die hoek van die kamer sien, wat 'n mens dan optel na die hemel toe. Hulle gly so pragtig op en af en gaan sommer
| |
| |
deur 'n muur en hulle kan seker sommer ook in die grond ingaan om 'n mens daar te vat.... Hy moet tog nie in die donker nag doodgaan nie, want dan kan 'n mens niks geware nie, hy moet doodgaan as hy iets kan sien. Die liewe Here moet hom tog maar help om in die dag te sterwe, soos sy moeder. - Hy sal bid, want hy wil graag by sy moeder in die hemel wees....
Hierdie kringloop van gedagtes het die seun daar gehou, roerloos soos 'n beeld, starend oor die vlakte met sy onbewoë blik, sonder glans.
Ousus het vir die kinders gewaarsku om vir Koos nie te hinder nie. Sy wil tog kyk hoelank die outjie dit daar op die bakoond kan uithou. Vroeër het sy hom ook so dopgehou; een uur en twintig minute; maar hierdie keer gaan hy dit ver uitstof. Tog moet sy hom teen skemertyd gaan roep. Hy skrik toe sy hom aan sy arm vat. ‘Op die kop drie uur en vyf minute Koos, hê-jy hier vanmiddag op die oond gesit! Wat is jou plan? Die kameel gaan jou weer ry as jy so eenkant-toe padgee!’
| |
| |
Nukkerig brom hy: ‘Dis nie waar nie! Ek het flus op die oond geklim om te kyk hoe Pa sal maak as die sprinkane uit die vlakte uitkom.’
‘Jou lawwe ding, dan sal jy jou deursit. Pa sê maar net die mense aan. 'n Sprinkaanbeampte is iets nuuts! Pa moet die mense eers touwys maak! Kom ons gaan eet!’
Teen die gebod van haar pa bly hulle in die huis. Ousus voel vandag te selfstandig, en sy 't mos al dikwels met die kinders alleen in die huis oorgebly; baie nagte al en haar pa was nooit so besorg as vanmôre nie. Hulle het nou ook niks meer van 'n ander nodig nie en waarom dan tant Leen-hulle lastig geval met die hele pakaas om daar te slaap? Sy is niks bang nie, Ouboet nog minder en die ander tweetjies weet van niks! Wat sal hulle hier kan oorkom? As Koos maar net nie vannag iets onsigbaars geware nie, want dan kan 'n mens darem al te maklik bang word....
Haar selfstandigheid verhoog ook die gevoel van verantwoordelikheid en terwyl die viertal om die kombuistafel sit, word sy ern- | |
| |
stiger en die ander eerbiedig stil, asof hulle vader ook daar is. Sy voel dat sy moet lei. Een vir een staan hulle na gewoonte op om te sê dat hulle versadig is en sy vervolg: ‘Bring maar die Bybel, Ouboet!.... Dankie!’
Vol ontsag kyk hulle almal na hul ernstige suster; Koos voel veilig en tevrede, want hulle dien die Here ook al is Pa nie by hulle nie. Klein skuif tot teen haar vas en kyk ook in die boek; maar Ouboet voel amper vreesagtig in die eerbiedige stilte waarin net die omblaai van die groot blaaie gehoor word.
Ons sal maar die volgende hoofstuk lees. Pa het gisteraand Markus tien gelees, nè Ouboet?.... Pa kan maar weer die elfde ook lees as Pa wil en dan kan Pa sommer vir ons 'n uitleg gee van wat ons nie verstaan nie.’ Sy dreun sonder stembuiging die hoofstuk taamlik vloeiend deur en vra daarna vir Ouboet wat hy onthou het.... Ewe ernstig asof sy pa daar voor hom sit, staan hy op; sy hoof buig effens oor na sy regterskouer. ‘Ek het onthou, Ous, dat hulle klere op die
| |
| |
pad gegooi het vir die Here om oor te ry op die vul.’
‘Ja, Ouboet, dis toe die Here sy intog in Jerusalem gedoen het.... Sit maar, Ouboet!....
Koos, en jy? wat het jy onthou?’
‘Ek het onthou van die vyeboom, Ous..’
Maar verder sien sy geen kans om haar pa te volg nie en Ouboet is te onnosel vir soiets. Koos sou sy kon gevra het as hy Ouboet se jare had; hy en 'n gebed pas beter saam.... Skugter slaan sy haar arm om Klein se nek en gee haar 'n soen op haar voorkoppie. Die drietjies ontvou hulle hande en kyk hulle Ousus eerbiedig agterna toe sy die Bybel bêre....
Ouboet en Koos kruip in op die groot katel agter die gordyn. Almal is nou bymekaar in een kamer en dis vir Ous 'n heerlike gerustheid toe sy die kers doodblaas. Na die dood van haar moeder was dit vir haar vandag die gelukkigste dag; die lewe het vir haar 'n groter betekenis gekry, haar persoonlikheid het selfbewus en sterker geword, sodat sy maklik die huisgesin byme- | |
| |
kaar kan hou. Al bly haar pa ook weke-lank weg, daar sal niks verkeerds gebeur hier nie; sy kan vir alles sorg, ook vir hulle geestelike behoeftes. Sy verlang daarna en voel gelukkig deur die gedagte, om regtig soos 'n moeder selfstandig alles hier te bestuur. Wanneer Klein volgende jaar ook skool-toe gaan, sal sy vingeralleen, wel baie eensaam voel, maar dan sal sy sorg dat hulle koffieketel die heeldag warm bly. Die jongetjies van Sluis sal dit wel gou agterkom; sy kan maar baie dikwels die werf gaan vee, so ewe ongeërg, en Adriaan de Bruin of Sarel Venter sal sonder moeite na haar toe kom; dan kan sy vir hulle koffie inskink, en hulle kan gesels oor vergange skooldae en oor die lidmaatskap wat nog voorlê. Altemit kan hulle dan saam 'n klas vorm, die aande wanneer haar pa tuis is. Hy sal bly wees om so'n werk te doen, want hy is so begaaf om 'n mens uit die Bybel en vraeboek te leer.... Sy dommel weg in die heerlikheid van haar droomgedagtes en dis nog net Koos wat in die groot donker van die potdigte slaapvertrek lê en omdraai....
| |
| |
Die stekende pyne wat in sy been optrek hou die slaap van hom af en die innerlike onrus wakker. Na die boekevat van Ous het hy so tevrede gevoel, selfs gelukkig, omdat hy oortuig was dat hulle die liewe Here behaag het. Maar nou hier in die donker word dit haas onmoontlik om aan die liewe Here te dink, al probeer hy ook hoe.... Dis of die donker moedswillig planne uitvoer om sy begeerte na die liewe Here om te krap. In die voelbare duisternis is dit of hy kort-kort 'n vlugtige skynsel geware, en al knyp hy sy oë bot toe, dan sien hy hulle nog. - Op hierdie selfde katel het sy moeder gesterwe. Vinnig draai hy hom weer om op die ander sy. Die engeltjies moet hulle tog nie klaarmaak om hom te kom haal nie; dis te donker; doodgaan in die nag is te vreeslik! Hy moet probeer om wakker te bly tot môre vroeg. Bedags kan hy langs die Sluisloop lê en slaap! Die dood moet hom vang as hy wakker is, dan weet hy tog wat gaan gebeure. Hy word benoud van angs en kruip vas teen Ouboet aan, maar die gedagte dat die engeltjies hom kom haal los hom nie. As sy moeder nog ge- | |
| |
leef het sou sy hom nou vasgehou het in haar arms soos vroeër en dan het hy altoos veilig gevoel.... As Ousus wil, kan sy hom ook vashou, maar hy durf sy geluid nie in die donker in te stuur nie om haar te roep. Sy asem gaan vir hom juis reeds soos sugte wat uit die donker uitkom. Die sweet breek orals uit; dis of hy bo sy kaal arms 'n wolkerige wasigheid sien optrek. Hy kan dit nie meer hou nie, en roep met 'n skerp snydende stem as 'n wanhoopsroep vir Ousus.
‘Koos!.... wat is dit Koos?’ klink die verskrikte stem van die bedjie af. Ouboet het hom omgedraai en daar kreun 'n rukkerige klank deur sy neus.
‘Ousus, steek tog op die kers dat ek kan sien!’
‘Wat makeer dan, my Boetie? Ry die kameel jou weer?’
Die vlammetjie staan roerloos om die pit. 'n Pieperige stemmetjie soebat van agter die gordyn.
‘Ousus, ek voel so bang! Laat ek tog by jou slaap asseblief!’
‘Hoe orig!’ lag Ousus. ‘Kom maar jong!
| |
| |
Ek sal vir Klein oordra!.... En vir wat is jy dan so bang?’
‘Ousus, ek wil tog nie in die donker so allenig bly nie; ek voel of ek sal doodgaan!’
‘Jy sal nog eendag mal word as jy jou so oorgee aan die duiwel, Koos!’
‘Is dit dan die duiwel, Ous?’
‘Ja, my Boetie, die duiwel maak 'n mens bang en sodra as jy bid dat die Here jou van die bose moet verlos, dan gee die duiwel pad.’
‘Ousus, maar wat moet ek dan sê laat hy kan pad gee?’
Sy stoot haar arm onder Koos se hoof in en trek hom teen haar vas. ‘My liewe Boetie, kom ons twee bid saam die Onse Vader en net soos ons kom by: “en verlos ons van die bose” dan sal jy sommer voel dat jou bangeit weggaan.’
Met veilig voelende vroomheid prewel Koos die woorde saam met sy Ousus. |
|