| |
| |
| |
Hoofstuk VI
In die helderheid van Saterdagmôre se vroeë lig is Bredenhand op die koppie voordat die son bokant die vlakte uit is. Daar lê sy wêreld voor hom, ses plase aan-mekaar wat hy vandag moet deurgaan; hy voel dit as sy plig!
Sy oë kan die ganse oppervlakte nie sien nie, want dit lyk soos 'n baster distrik, maar tog kan hy in sy gedagte nagaan wat sy koninkryk is. Dis vandag wel die laaste dag van die week, maar 'n flukse amptenaar behoort in een dag die westelike helfte maklik deur te gaan.
Die son se eerste lig vang net die opstal van Gert Bouer toe hy sy observasieplek verlaat. 'n Paar minute lank dink hy aan sy uitrusting. Hy het tydens die rebellie 'n rybroek en kamaste gedra, dog sedert daar-die dae het hy die artikels selde nodig gehad. Vandag kan hulle weer diens doen en sy Sondagbaadjie ook. 'n Mens moet uitwendig sowel as inwendig streeptrek met jou wêreldse posisie saam.
| |
| |
‘Ousus, julle moet by Ouma-hulle gaan slaap as ek nie vanaand terugkom nie! Die afdeling is baie uitgestrek!’
Lambertus is in sy element. Hy hou van kuier-kuier rondgaan onder die mense. Nooit kon hulle vir hom 'n beter amp uitgedink het as die van Sprinkaanbeampte nie. Hier in sy naaste omgewing is hy al moeg gekuier; sy bene is ook nie meer so jonk nie; hy kon dit voel met sy onlangse besoek by Dirkie. Nou kan hy soos in outydse dae die wêreld opneem. Op Sluis moes hy wag tot die kraaie hom 'n uintjie bring, want hy kan nie vir werk soebat nie. Goddank dat die sukkellewe verby is en die toekoms helder soos die môre. Hy het wel sy kop in Fisher se strop gesteek, maar hy sal daar niks van dink om nog 'n lus om sy nek te verdra nie. 'n Hubare vroumens sal tweemaal dink voordat sy 'n sprinkaanbeampte afwys. Ja, Dirkie, ek wonder hoe gaan jou polse klop vanaand!
Hoe kom die rooihaar-dogter van oom Karel dan so skielik in sy gedagtes in? Hy kan vanaand sy halterplek by die Coetsees
| |
| |
maak en Dirkie sal nou sekerlik 'n ander wysie sing as laas.... Hy voel vrymoedig en astrant....
As die Here se seën daarby is, sal hy jarelank sprinkane uitroei; altemit tot hy eendag op pensioen moet aftree, en dit beteken 'n betrekking vir sy lewe....
Van koning Farao se tyd af bestaan die sprinkane al. Sal generaal Kemp hulle ooit baasraak? Hy mag 'n baasbakleier teen die Engelse gewees het, maar sprinkaan se kind! - Ag nee, daarmee gaan hy verniet spook! Dog daarmee het hy vrede, solank as hy hierdie amp behou.... In beginsel is hy wel teen die uitroei van die sprinkane; maar net so goed as daar vir elke kwaal 'n raad is, vir slanggif 'n teëgif, vir die weerlig afleiers, net so goed kan daar ook 'n plan teen die sprinkane gemaak word. Maar uitroei? nooit in der ewigheid nie, ou maat!....
So met die rondgaan kan hy altemit sy tweede deel ontmoet. As 'n mens 'n vrou gewend was is die lewe, sonder haar, nes 'n ploeg sonder osse daarvoor.... stilstand wat die innerlike lewe betref. Hy voel nou
| |
| |
die eensaamte in sy eie huislike kring. Met niemand kan hy oor sy intieme gevoelens gesels nie: die verstaning van siel teenoor siel is nou uit sy lewe uit en sy hart hunker na iemand wat hom kan begryp. Op Sluis is dit net sy moeder wat so'n enkele keer 'n hartsontboeseming van hom hoor; dog sy is in haar posisie soos 'n gewikste middelman om vir alkante op te kom terwille van die vrede en goeie saambly onder die verwante..... 'n Vrou wat hom in alle onderdanigheid en liefde eer as haar man, dis waar sy hart na snak. 'n Bejaarde meisie of 'n weduwee sonder kinders is vir hom die beste; 'n weduwee met kinders gee net verdrietige verwikkelinge, 'n moeilike verhouding tussen die ouers. Dirkie sal omtrent die beste wees....
Die vlakte skuif onder hom deur. Dit is hom so goed bekend as die binneste van sy huis. Net die mense wat in die laaste jare ingetrek het ken hy nie. En as Dirkie haar kop hard hou.... wel die wêreld is groot!
Die naaste bure het sy besoeke met 'n vreemde eerbied ontvang; alles het gemoede- | |
| |
lik afgeloop. By de Bruin is hy opgehou deur die vriend se traagheid van taal. Alida kon haar oë uit haar kop uitkyk en het die hele ruk stil gesit en luister na hulle redenasies oor die voortreflikheid van die ou metode om sprinkane uit te roei.
‘Die gif doen meer kwaad as goed,’ het de Bruin op sy slepende manier verklaar.
‘'n Mens kan een swerm doodsleep, neef, maar bewaar jou as daar twintig tegelyk vernietig moet word.’
‘Almiskie, neef Lambertus ek....’
‘Ons vlakte is te kaal, daar is g'n bome nie. Nee, en waarmee sleep jy hulle dood?’
‘En kyk na die veld en na....’
‘Nou ja my liewe man, die eerste reën sal die kwaad wegspoel en die veld groei homself gesond.’
‘En kyk na die beeste Neef, hulle....’
‘Jou beeste sal niks oorkom nie, dit sal ek guarantie! Maar kyk, ek moet verder.... Alida hoe lyk dit vir vanaand?’
‘Oom kan maar kom om te gesels, dis tog tydkorting,’ sê sy skamerig.
Hy groet die hom nastarende de Bruins
| |
| |
met 'n breë swaai van sy hoed, terwyl die gevoel van vernaamheid geweldig sy hart oormeester; en tog is hy bewus daarvan dat hy hom niks aanstel nie. Hy verkies om nederig te bly, al kan sy posisie die skyn van hoogmoed verdra.... Hy voel gelukkig soos hy is....
Nou swaai die pasgang oor 'n kort sypad na Gert Bouer toe. Sy dogter Bettie was 'n kortstondige vlam van hom. - Daar staan sy reeds en uitkyk op die stoep. Wat sal nou deur haar vlermuisgedagtes trek? Dis sekerlik vir haar 'n raaisel watter jongkêrel aankom....
Toe hy die leisel van die vos oor die paalhek gooi, sien hy net rokke wat haastig in die huis verdwyn. 'n Glimlag krimp terug in sy baard se knewels. Ek het gedink dat ek jou sal verwilder! Ek sal haar mak kry, gee my net 'n kans.
‘Môre, neef Gert!.... Nee dankie, afsaal kan ek nie; my reis is baie ver vandag!.... Ja, ek sal 'n paar minute in jou huis versuim. My besigheid is baie dringend, Neef!’
| |
| |
Dis 'n dronkslag vir Gert Bouer; sy verbaasde oë slaan met skaapagtige geduld in die van Bredenhand en duidelik wag die onbewoë gelaat op 'n verklaring van die ongewone besoek. Sou Bredenhand met hom oor Bettie kom praat? In dié geval moet hy 'n veilige afstand bewaar....
‘Neef Gert, jy moet jou reghou! Ek kom jou aansê vandag!’ begin die beampte vol stille selfbehae hier sy veldtog. Die pa van Bettie lyk wild en onklaar, hy voel seker ongemaklik.
‘Laat ek dan hoor Neef wat jou so ongewoon hiernatoe dryf.’ Bouer voel geruster; sy vaderskap sal nie beproef word nie. Tog is hy op sy hoede. ‘Jy moet jou klaarmaak, neef Gert! Die sake lyk krimineel, dit lyk na oorlog!!’
Bredenhand voed sy lekkerkry om Gert te verontrus, en is so ingenome met die aanvoor van sy geselskap dat hy lus voel om met katte-aard sy prooi deeglik te karnuffel vir die grap. Hy ken vir Bouer en weet hoever dat hy moet gaan.
'n Gedagte aan sy strydvaardigheid, nou
| |
| |
die sorgeisende toestand van sy boerdery alles van hom verg, laat Bouer onthuts antwoord: ‘Wat bedoel jy? Is daar weer 'n rebellie of so iets in die lug?’
‘Ek sê net dat jy jou moet klaarmaak, sodat as ek vir jou oproep, jy gereed kan wees om te kom!’
‘En van wanneer af hê-jy dan veldkornet geword?’ 'n Toon van kleinering klink deur die vraag en beslister vervolg Bouer: ‘Sê vir my wat is dit jong waarvoor ek my klaar moet hou?.... of korswil jy?.... Jy moenie speel nie, jong! Oorlog is g'n spulletjie nie!’
‘Nee ou maat, ek korswil nie. Ek meen dit ernstig as ek vir jou sê: ek sal jou oproep, wanneer die vyand daar is!’
Bouer word ongeduldig en verloor die paslikheid van sy rede. ‘Jy lyk 'n mooi patat om vir my sommer op te roep, en dit nogal in vredestyd. Ek is g'n pampoenkop nie, ou Neef! En watter held op die veilige veld gee vir jou die opdrag as ek mag vra?’
Onverstoorbaar en uiterlik gestreng, maar innerlik vol genot hou Lambertus nog 'n
| |
| |
rukkie vol: ‘Ek het 'n wettige opdrag, Neef, en ek gee net my waarskuwing, hou jou reg!.... die vyand is nader as jy dink!’
‘Man, loop! jy's gek.... jy sê ek moet my klaarmaak? Wat die drommel is dit kêrel? Praat! Praat!’
‘Ek sê vir jou as die voetgangers kom gaan ek vir jou kommandeer!’
Daar kom orde in Bouer se stemming. ‘Al waarvoor jy my sal kry, Neef, is vir die sprinkaan-voetgangers.’
Die beampte skater dit uit en maak paljas-vertonings op sy sitplek en slaan homself op die knie van plesier. ‘Ditsem! Ditsem, neef Gert! En jy kom dit nou eers agter?.... Ek wil hê jy was lelik in die nood!’ en toe sy pret uitgelag is vervolg hy bedaarder: ‘Ja, Neef, dis vir die voetgangers; ek kom jou net sê dat ek aangestel is as julle sprinkaanbeampte.’
Gert Bouer het effens verleë saamgelag. Sy antwoord is egter ernstig: ‘En jy is aangestel.... ek sien!.... As ons tog maar weer kan boer, neef Lambertus.... Die laaste twee jaar het ons net sprinkane ge- | |
| |
voer.... Om hulle uit te roei kan jy my maar enige tyd roep, al is dit middernag!’
Bettie bring twee koppies koffie binne. Skamerig presenteer sy vir Bredenhand. Hy het mos die vrypostigheid gehad om haar te vra. Hy 't seker ook maar met haar gespeel, soos hy flus met Pa gespeel het. Sy kon hulle mooi staan en afluister in die kombuis, want altwee gesels maar hard. Nou lyk die oom darem aansienliker as toe.
‘Waarheen gaan kuier Oom dan so vroeg?’
‘Ek soek vlamme Bettie; net waar 'n rokie uittrek gaan ek heen. Julle vlamme hier verbrand 'n mens.’ Hy loer ondeund vir haar oor sy koppie en in sy oë blink begeerte.
Bettie sê net: ‘Ag.... dis wat Oom dink!’ en sy is woerts daaruit....
Bredenhand wieg weer in die saal. Hy nader nou 'n ongewoon geboude boerehuis. By Louw Grebe sal hy ook moet aanry en dis 'n plig wat altemit met broekskeur kan volbring word. Grebe dink daar niks van om 'n mens goedsmoeds aanstoot te gee nie;
| |
| |
neef Louw is 'n korrelkop en altoos aan die opposisiekant.
Hy tref hom aan op die ruime sementvloer-stoep van sy woning. Uit die hoogte, met 'n meerderwaardigheidsglimlag op sy weldeurvoede gesig, waaraan 'n snor en 'n puntbaardjie 'n dominerende uitdrukking gee, keer hy die beampte voor. Vir hom is Bredenhand die sukkelaar-ambagsman, wat ook al vir hom 'n paar dingetjies reggeknutsel het.... Hy is nogal te perd.... sy swaer s'n.... seker verleë oor 'n werkie!
‘Ek het nie geweet dat du Toit 'n vosperd het nie.’
‘Jy is reg, neef Louw, swaer Lewies het g'n vos nie, maar ander mense kan darem ook 'n vosperd besit!’
Bredenhand voel gekrenk, maar hy sal hom vandag nie deur Grebe laat verkleineer nie, soos vroeër, toe hy smaad moes dra, terwille van sy brood. Hy kom nou as amptenaar.
‘Jou perd? Dan het hy seker in julle kamp verdwaal geraak. Kom ons gaan na binne!’
Maar Bredenhand gaan vandag nie oor
| |
| |
daardie drumpel nie. Sy manlikheid beheers die antwoord, wat in Grebe se gemoed insink en die prikkeling tot opposisie versterk.
‘Dankie, neef Louw, ek is haastig. Hoe ek aan hierdie vosperd kom, daarmee hê jy niks te make nie. Ek kom jou net inlig dat ek aangestel is as die sprinkaanbeampte hier. Jy is wetgeleerd genoeg om te weet wat van jou verlang word. Die spuite en gif is verkrygbaar by die polisie en by my.’
‘En nou jy die baantjie gekry het, wil jy my hier kom les lees?’ Sal Bredenhand hom hier kom aanstel, waar hy sy ja-broeragtig-heid gewend is?
‘Neef Louw, ek sien dat jy heeltemal onnodig kwessies wil soek! Ek kom net vir jou in kennis stel dat jy moet rapporteer sodra jy voetgangers geware en jou hulp moet gee wanneer dit vereis word!’
Wat verbeel die kaalkop-luishond hom dat hy my hier die wet kom stel? ‘Dink jy dat ek my poot sal verroer vir julle? Ek is mans genoeg om my eie lande te beskerm en dit sal ek doen sonder julle hulp. - Nee
| |
| |
Lambertus jong, julle roep my verniet!’
‘Dis soveel te beter, neef Louw, solank as jy dit dan ook maar doen, dan het ons vrede!’ Grebe sal nie lekker kry nie; hy 't met die sprinkaanbeampte te doen, nie meer met Lambertus Bredenhand van eergister nie. Hy voel hoe weldadig sy manlikheid groei en dit skyn hom of eergister vèr in die verlede lê.
Met 'n behoefte om seer te maak val Grebe driftig uit: ‘Laat ek vir jou vertel, meneer sprinkaanbeampte, die hele sprin-kaan-affêre van julle, met sprinkaanjaers, sprinkaanbeamptes en hoofbeamptes en opperhoofbeamptes is net een geldmorsery van die begin tot die end.’
Grebe is gewend dat al wat boer is ontsag vir hom het, en hierdie hongerlyer wil hom domineer; ‘Dis 'n geswendel op 'n groot skaal! Daar kom nou honderde baantjies en hoë betrekkings oop om vir nefies en boeties 'n groot salaris te gee; om vir vriende wat losloop, uit die werk uit geraak het, bankrot gespeel het, 'n luilekker-lewe te gee! Julle regering verkwis....!’
| |
| |
‘Wag, neef Louw!’ Bredenhand hef sy hand met stilmakende gebaar omhoog en sy waardige houding maak indruk. ‘Wag, ons moenie twis nie! Ek moet nog verder gaan,’ en terwyl hy Grebe gemoedelik op die skouer klop: ‘Jy sal tog kom, neef Louw!’
‘En wie sal my verplig?’ is die heftige uitroep.
‘Die wet, neef Louw!’
‘Ek dink van julle wet net soveel as van jou kamaste!’ Hy vat die hand wat die beampte reg gehou het om te groet. ‘Die beste, neef Louw!.... Okso!’
Die vlakte skuif weer onder die trippelgang van die vosperd deur, terwyl die ergernis in Lambertus se gemoed die oorhand kry. 'n Vyandige houding het hy verwag, hoewel nie so straf nie. Vir hulle soort is ons boere soos witkaffers; die hovaardigheid vreet hulle op. Grebe dink dat sy kop van koper is totdat hy eendag daardie selfde kop gaan stukkend stamp.... Oor die algemeen was die mense vrindskaplik, en hy sal genoeg getuies kan oproep indien Grebe met die wet in botsing kom.
| |
| |
Nadat hy by nog 'n paar huise aangery, sy middagete by 'n vrind genuttig en koffie gedrink het soos 'n Beierse burgerbier, saal hy in die namiddag af by Karel Coetsee, 'n kristen soos hy ook 'n gawe wêreldburger is. Hierdie keer is die oumense egter in sy pad en om Dirkie alleen te sien sal hy 'n plan moet maak. Hoe sal dit wees as hy die oubaas onder hande neem? Hy is geen skamerige jongkêrel, wat rond kan sluip en kanse soek nie, maar 'n verstandige man wat reg-uit deur die wêreld loop. En hy het die vrymoedigheid om reg-uit met oom Karel oor so'n kwessie te praat. Sy kanse is nou beter as laas. Hy kom as iemand van waarde met alles in sy voordeel.... Met dié moedgéwende planne en gedagtes groet hy oom Karel op die stoep waar die moeder ook is, besig om hemde te lap....
Die ontvangs is vir die beampte effens te stroef, want hoewel hy gevra is om af te saal en sy perd goed versorg is, word daar hoegenaamd geen besondere aandag aan hom betoon nie; slegs enigsins onverskillig na sy welstand en die van sy moeder verneem.
| |
| |
Onderwyl hy die rede van sy besoek paslik uiteensit, toon die twee oudjies meer en meer belangstelling en die moeder sê daarna: ‘Jy is gelukkig, neef Lambert, om so'n betrekking by die regering te kry; dit gaan teenswoordig moeilik om 'n verdienste raak te loop. Karel se applikasie vir poliesman is gelukkig deur en hy het die dokter al gepasseer; hy wag net op sy kaartjie en dan gaan hy na die dépôt in Pretoria.’
‘Ek reken die veiligste betrekkings is dié van die regering. 'n Amptenaar se geld is veilig; ek wil sê hulle verdien nie so danig veel nie, maar hulle kan gerus wees.’
‘Ongetwyfeld Oom! ongetwyfeld! - En dan kry 'n mens nog mense wat die regering wil braai. As 'n mens so rondgaan soos ek vandag, dan vind jy eers uit hoe dwars en verkeerd 'n mens kan wees. Vanmiddag was ek by Louw Grebe aan; dit was net swartsmeer en uitskel van begin tot end.’
‘Hy is maar kwasserig, neef Lambert, 'n moeilike entjie mens om mee klaar te kom; kwasserig....’
‘Ja! Ja! neef Lambert.... Maar laat ek
| |
| |
jou dit vertel: hulle kan vir my 'n hele distrik se plase present gee en dan wil ek nog nie die regering wees nie. Al gee ek dan vir die laaste burger vyftig pond present, dan sal daar party wees wat ontevrede is omdat hulle nie honderd gekry het nie en party sal meen dat hulle verdienste honderdvyftig pond werd is.’
Die moeder vou haar lapwerk inmekaar en laat die pakkie op haar skoot rus, terwyl sy beweer: ‘Ons ou nasie is baie nousienend en afgunstig op mekaar; daar is teveel hovaardigheid en opstand onder ons mense teen die wettige gesag en daarom kasty die Here ons met plae. Wat 'n mens saai, dit sal hy maai!’
Sy staan met 'n swaar sug op en gaan na binne.
‘Ja, oom Karel, tant Hieta is reg!.... sy is reg! Dis tog so indirek teen Gods Woord om teen 'n regering, wat deur God ingestel is as'n waaragtige instelling, sommer uit dwarskoppigheid op te staan.’
Bredenhand voel meer tuis, en op 'n terrein waarmee hy bekend is. Sy gedagtes
| |
| |
kom losweg en hy word bewus dat hy in die regte rigting vorentoe stryk....
‘As ons die saak deeglik en uit die grondigheid van ons hart wil naspeur, sal ons sien dat al die volkere van die wêreld van Moses se tyd af, so te sê, onregeerbaar was. Die eerste volkere het maar in sy dae openlik in die wêreld begin te wys dat daar soiets as hulle is. Ons hoor van die Amelekiete, maar voor sy tyd hoor ons niks van hulle nie. 'n Mens kan maar sê dat die Israeliete die eerste behoorlike en ordentlike nasie op die wêreld was. En hoe het Moses nie met die Israeliete gesukkel nie? Al die plae van honger, dors, oorloë en slange wou nie help om hulle reg te ruk nie. Koning Dawid moes 'n opstand onder sy volk, deur sy eie seun Absolom gelei, deurmaak.... En dit het hom, so te sê, totaal gebreek. - Salomo se seun moes sien dat tien stamme van sy ryk hom verlaat onder Jerobeam. En dit het alles gebeure met die uitverkore volk van God.... En as 'n mens daardie omstandigheid in betragting neem en jy kom na onse ou volkie toe, dan loop die sake hier maar net
| |
| |
dieselfde. Ons is - jy kan maar sê - ook 'n uitverkore volk. Die voorouers het ook as voortrekkers in die wildernisse onder hulle Moses en Aäron rondgeswerwe en voortdurend onder mekaar getwis. Hulle is ook gestraf deur oorloë, droogtes en sprinkane. Daar was ook broeder-oorloë onder ons gewees. Maar, oom Karel, wat vir my so wonderbaarlik en opmerklik is, dit is dat God alles so toegelaat het. Hy kon dit tog verhinder het, nie waar nie, Oom?’
‘Dis wonderbaarlik ja, maar dis ook ondeurgrondelik, en tog is dit verstaanbaar, neef Lambert. God gaan nie teen Homself nie; Sy Woord is Hyself! En Sy Woord moes vervul word! Daardie opstand en ongehoorsaamheid het die saad van Abraham verstrooi oor die aarde.... Die broeder sal opstaan teen die broeder; die vader teen die seun....’
‘O, ja, ek verstaan dit, oom Karel; dis alles onder die toelatentheid en daarom is dit vir my so wonderbaarlik.... Ja, dit is so!’ Lambertus haal sy tabaksak uit en presenteer.... ‘Die lewe is soos een won- | |
| |
derbaarlikheid van begin tot end.... hier is vuur, Oom.... 'n mens raak dom!’ Hy skraap nou al sy vrypostigheid te saam, terwyl hulle ligte rookwolke deurmekaar laat dwarrel. ‘Terwyl ons nou hier bymekaar sit, wil ek sommer van die geleentheid gebruik maak. - Ek is 'n man wat reg-uit met 'n mens praat. Ek loop geen draaitjies nie! Ek het besluit om 'n verandering in my lewe te bring; my huis is maar 'n halwe huis vir my; daar kom die beste kort, wat 'n binneboerdery behoort te hê. Oom Karel, 'n vrou, Oom; 'n aanspraak!’
Hy sug 'n trae sug en slaan sy oë in die stadig deinende tabakwolk op. ‘Dis wat ek kort kom, Oom, en ek wil Oom met alle respekte vra of Oom daar iets op teë het as ek met Oom se dogter Dirkie 'n vertrouelike geselskap aanknoop? En as sy naderhand gewillig is, sal Oom dan daarmee instem?’
Coetsee se grys baard bewe skaars sigbaar van 'n skalkse laggie en sy oë volg die rokie wat hy in 'n lang tuit hoorbaar uitblaas. Hy ken vir Dirkie, sy openhartige en bedagsame dogter, wat hom van Bredenhand
| |
| |
se laaste kuier alles vertel het. Hy hoef die beampte nie te kwes nie.
‘Neef Lambertus, ek ken vir jou en jou familie baie jare en as jy en Dirkie kan akkordeer, sal daar van my kant geen hindernis kom nie. Gesels met haar, ek sal dit nie belet nie.’
‘Ek bly Oom dankbaar!’ Dis al wat hy op die oomblik kon uitbring, maar sy moed groei met 'n ongewone haastigheid. Oom Karel gee hom alle redelike kans asof hy met sy vrou die afspraak gemaak het en die selfstandige dogter my die beampte nie moedswillig nie. Sy het haar stemmig aangetrek en haar uiterlik is op die beste, en sy lyk vir Lambertus soos 'n ryp geswelde vrug, wat hy sommer kan pluk. Hy het haar netnou geware toe sy twee emmers water aandra na die blomtuin toe. En toe die oomblik gunstig is skuif hy sy passies soontoe. Die aantrekkingskrag van die nôi, wat met die goue haardos blomme staan en natgooi kriewel in sy bene, en hy nader soos 'n seun wat bewerig sy eerste liefde tegemoet kom. So het hy haar nooit vantevore gesien nie;
| |
| |
nooit kon hy dink dat Dirkie so'n uitsoekmeisiemens is nie, as nou, geskilder deur die aandson, soos 'n blom vanself. Sy opgeflikkerde moed het net so skielik weer verdoof; die taal van sy bedrewe tong is steeks en kan alleen 'n lawwe kwinkslag uiter: ‘Jy is tussen die blomme terwyl ek is aan 't komme!’ waaroor hy onnatuurlik hard lag, dog tewens haar skelme glimlag sien en klare antwoord hoor. ‘Oom Lambert kom met die perd en dit is baie werd;’ waaroor hy nog uitbundiger skaterlag en toe sy hand gee om te groet. Toe is dit of daar plotseling 'n blomgeur uit die blomme opstyg en ingetoënheid oor die tuintjie sprei. Hy word in die popspeelpaadjies toegepen deur die onmag wat sy tong en ledemate bevange hou. Dis of daar 'n stonde heers vir enkele sekondes van swaarkry wedersyds. Dirkie hou haar half leë gieter met 'n maklike swaai van haar regterarm, hoog oor haar kleurerykdom en in die aandson blink die druppelstrale soos vallende kristalle en glans die hare van die dogter soos golwende goud. - Toe hy van die bekoring loskom, sê hy bewerig: ‘Jy
| |
| |
werskaf nog maar gedurig met jou blomme, nè Dirkie?.... Word jy nie moeg om daardie swaar gieter so dag vir dag leeg te gooi oor hulle nie?’
‘Ag nee wat, Oom Lambert, 'n mens moet tog 'n tydkorting hê, anders word die lewe te eentonig.’
‘En jy praat so, wat altoos besig is in die huis met al die werkies wat 'n huismoeder se plig is? Nee, Dirkie, jy het g'n tydkorting nodig nie, wat jy kort kom is 'n eie huislike lewe waarin jy nooit na tydkorting sal soek nie.’
‘Maar ek wil dit hê en wat is beter vir 'n meisiemens soos ek, as om blomme te kweek? My pronk-ertjies groei pragtig, ek kan my so verkyk na hulle, maar ek probeer verniet om een katjiepiering aan die groei te kry.... Die swaarste is die water dra.’
‘Gee vir my die gieter, laat ek vir jou help!’
‘As Oom so goed wil wees, kan Oom die emmers vat en dan kan ek bly aanhou natgooi met die gieter.’
Die beampte help haar as 'n flukse seun
| |
| |
en Dirkie se oë straal van innerlike pret. Hy is mos gewend om fondamentklippe aan te rol, mure op te messel en balke deur te saag.... Sy sal hom maar inspan solank as hy gewillig bly; hy moet tog iets doen vir haar geduld om weer sy omslagtige geselsery te sit en aanhoor.
Hy maak die gieter met een emmer vol. ‘Ek sal dit leeggooi Dirkie, dan kan jy tog solank rus.... as jy die volgende uitgiet, sal ek die emmers weer gaan volskep.’
‘Hoe lyk Ousus se tuintjie, Oom Lambertus?’
‘Sy sukkel maar baie, die arme ding. Klein help haar af en toe, want Ousus het haar hande vol. Daar kom 'n moeder in my huis kort, Dirkie!’
‘Oom Lambert moet maar rondkyk vir 'n maat. Oom het mos nou 'n perd.’
‘Dis wat ek doen, en terwyl jy daardie kwessie aanroer, kan ek jou met alle vrymoedigheid sê dat jy die moeder moet word wat my kinders kortkom.’ Sy lag en sê: ‘Oom Lambert, hoe praat jy dan so verkeerd, Oom? Ek deug glad nie vir 'n moeder
| |
| |
nie en het Oom mos die ander dag al gesê dat ek moeg is om kinders van 'n ander groot te maak.... Maar dis nou genoeg, Oom Lambert,.... die blomme is almal nat.... Kyk die son is onder en dis tyd om vir die aandete te sorg. - Pa is nog op die stoep en Oom moet maar solank soontoe gaan en gesels.’
Haar arm haak die twee emmers in en haar hand vat die gieter, waarmee sy van 'n half-verslae man wegstap....
‘Ons sal dit weer vervat vanaand!’ roep hy agterna met die bymekaarskraap van sy versinkende moed. Hoe anderster is sy nou as toe hy haar laas oorval het? Nou is sy honderd persent meer vrou as toe en begeerliker in dieselfde graad, dog tewens beklim 'n bedrukte gevoel hom. En dit vererger in die ure van die aand. Aan tafel voel hy soos 'n vreemde gas, wat moeite met sy woorde het. Maar hy word gebind en vervoer deur Dirkie se vaardige huislikheid en bediening. Hy voel dat sy die siel is van hierdie huis en die wyse waarop sy alles beheer en rondwerskaf is vir hom iets onbe- | |
| |
kends. Selfs sy oorlede vrou het haar nooit so los en gesellig in haar huis beweeg, soos Dirkie hier nie. Sy woorde is vasgeskroef terwyl hy aan tafel sit; maar hy dink met weemoed aan die tingerige figuurtjie van Ousus en voel dat hy onreg doen om haar optree in sy huis na haar swakke vermoë te vergelyk met die ervare optree hier.
Bredenhand het sedert sy wewenaarskap slegs 'n onbepaalde behoefte in sy hart gevoel na 'n aanvulling van die leegheid in sy lewe. Sy rond en bont val op Sluis onder die dogters van sy bure was maar net 'n oppervlakkige uiting van sy gevoel soos die eerste kuier vir Dirkie ook maar was. Maar nou voel hy die hartstog van 'n dieper sielsverlange, die ou gevoel van sy jongelingsjare kom terug en maak die dogter van oom Karel Coetsee vir hom die mooiste vroumens wat hy nog ooit ontmoet het, en temeer omdat hy haar g'n oomblik in die hande kan kry nie. Sy fladder soos 'n vlermuis onophoudelik by hom verby in die kombuis, saam met die kinders na hul kamer toe, die gang deur en terug om die blaker
| |
| |
net twee duim op die tafel te versit. En al die tyd gesels en vry die rookwolkies van hom en oom Karel met mekaar asof dit hulle kuiertyd is; maar die woorde van die oom en syne klink vir hom soos die verre dreunings van 'n weer.... Maar as die oumense hulle terugtrek vang hy haar tog.
‘My liewe suster, jy is vanaand net so vlugtig as 'n bokkie; 'n mens sien jou hier en daar, maar nooit stilsit nie. Nou sal ek vir jou vashou, want jy sal vir my nie wysmaak dat jy sodanig rond en bont moet staan nie.’
‘Dis maar my aard, Oom Lambert; stilsit is my dood; ek moet woel!’ Sy sê dit so vinnig asof sy op die oomblik onder sy oë uit wil spring.
‘Ek het dit lankal opgemerk dat jy g'n leuningstoelwurmvreter is nie; maar nou skiet my iets te binne. Ek kry nou ewe skielik 'n kat-se-gedagte.... ja, jy lag, maar dis so.... 'n grys kat met geel oë.... Regtig, Dirkie, toe jy flus so onder die oë en uit die oë uit was, het ek jou beskou vir 'n dog- | |
| |
tertjie van tien jaar. Sê vir my hoe oud is jy?’
‘En is dit nou Oom se kat-se-gedagte? Hoekom dan juis 'n kat s'n, Oom?’ vra sy laggend.
‘Ek sal jou sê!.... waarskynlik sal jy dit nooit so opgemerk het nie, maar as jy 'n kat se lewe bestudeer, dan vind jy uit dat alles daar blitsig soos 'n weerlig gaan en altoos onverwags. Die spring na 'n muis, die wegvlug vir 'n hond is so skielik dat 'n mens verwonder staan, oor die vinnige gedagte, wat haar woerts deur die venster, oor die hek en in 'n boom inja so presies en suiwer, al is die pad ook al vol van die moeilikste hindernisse. En net so vinnig het die vraag deur my kop geblits. Hoe oud is jy? As ek jou in die huis sien werskaf en sorg, dan kan jy ook vyf-en-veertig wees.’
‘Oom se skatting is reg, tussen tien en vyf-en-veertig,’ antwoord sy hom met 'n skalkse lag.
‘Nou laat maar bly!.... Die kat-se-gedagte het weer deur my kop geblits.... Ons sal dit nou vervat! Daar in die blom- | |
| |
tuin het ek vir jou gesê dat jy die moeder vir my kinders moet word. Dirkie, jy is daarvoor bestem! Die Alwetendheid het jou voorbeskik as 'n moeder en in Sy wyse raad is niks verkeerds nie! Ou Suster, jy kom nie daar verby nie, want jou natuurlikheid kan jy nie verander nie. Die Alwyse Voorsienigheid het vir jou die natuur van 'n moeder gegee. Ek sien dit mos aan jou geaardheid hier in die huis en ek sê vir jou, Dirkie, dat jy die moeder van my kinders moet word.’
Soos 'n dominee wat vra: ‘En wat is daarop u antwoord?’ hou hy sy kop, sy baard effens linksweg opgehef, en sy oë onverbiddelik streng....
Dit bring haar in die oupad. Sy het dadelik ingetoë geword, hoewel sy sedert Bredenhand se koms altoos op haar hoede was.
‘Oom Lambert moenie nou weer oor daardie kwessie praat nie. Ek het mos duidelik vir jou gesê dat ek al moeg is van die werk om kinders groot te maak. Ek kry g'n kat-se-gedagtes soos Oom nie, maar my lewelank het ek die gedagte: as ek eendag
| |
| |
los is, gaan ek my nie weer so verbind nie. Nee, Oom Lambert, ek wil nie uit die staanspoor uit 'n kruis dra nie, as ek altemit eendag gaan trou.’
‘Wag, Dirkie, jy kan dit nie sê nie. 'n Kruis is nie die keuse van 'n mens nie, 'n kruis word opgelê deur die Hoërhand, en elke mens dra maar sy kruis, al is dit in sy grootste voorspoed. Jou lewelank sal jy dit dra, ou Suster. Maar ek kom tot my punt terug, want ek weet, my liewe Dirkie, dat jou hart, jou natuur, jou hele geaardheid presies so voorbeskik is vir 'n heerlike moederskap, en in my huis kom een soos jy is totaal kort. Laat jou gedagte gaan, ou Suster.’
‘Ek hèt, Oom Lambert! Al lankal al! Ek wil nie nog 'n slag ander mense se kinders groot maak nie!’
‘My liewe Dirkie, daardie beswaar van jou verval, want my kinders is soos populierbome; hulle groei vanself; dis uit die kwessie uit om hulle groot te maak.’ Hy vat sy vuurhoutdosie uit sy baadjiesak en neem 'n vuurhoutjie daaruit. ‘Kyk, Dirkie, nou
| |
| |
hou ek dit met die kop na jou toe, en nou weer met die kop na my toe. Net soos die vuurhoutjie gedraai het, kan jou gedagte ook draai.’
‘Nooit nie, Oom Lambert; my liewe Oom, ek is tog g'n hoekklip nie; ek sê weer wat ek laas vir Oom gesê het, en ek kan amper daarby voeg: dis jammer dat Oom nie 'n jongkêrel of 'n wewenaar sonder kinders is nie.’ |
|