| |
| |
| |
Hoofstuk V
Du Toit druk hom hartlik die hand. ‘Jy moet die safte plekkie vir die sprinkane in jou gewete maar hard maak, Ouboet!’
‘Soos ek vir jou gesê het ag ek dit verkeerd om die plaag te bestry; maar as hulle my daarvoor huur, dan moet die regering hom verantwoord. Ek word net 'n loontrekkende amptenaar en moet my owerheid dien; dis volgens die Bybel. Ek sal my werk deeglik doen.... Tot siens!’
Die eerste vyftig tree stap Bredenhand met 'n vaart asof sy nuwe werk hom jaag, so onder die oë van die twee daar op die stoep; dog gaandeweg bedaar hy en begin sy posisie te besef. Hy was sy selfbeheer so'n rukkie kwyt. Die woorde het sy mond ontsnap; hy kon nie behoorlik dink nie. Hierdie aanstelling het ook te onverwags op hom afgekom. Nou kan hy weer wik en weeg en deurdink. Hy word oor sy swakheid ontevrede. Flus was hy paphartig soos boet Sarel voor sy troue. Krissie was
| |
| |
soos 'n ouer suster wat haar boetie deur sy skoolwerk help.... Na reg het hy nou verpligtings teenoor swaer Lewies-hulle; hy voel dat hy sy vaderskap vir 'n baantjie verkwansel het, en dat dit boonop van hom verwag word om dankbaar te wees.... Sy persoonlikheid is gedaal; die hulp verneder hom en hy het die hulp tog nie nodig nie.... vernaamlik nou nie! En teen die vernedering stoot die onderstroming van sy gemoedslewe 'n kompleks van eiewaarde, onafhanklikheidsgevoel en trots. - Krissie-hulle mag om die dood nie merk dat hy hulle as sy weldoeners beskou nie.... En toe hy tot die konklusie kom voel hy meer tevrede en gee sy gedagtes oor aan die aanstelling, wat sy verdrukte eiewaardigheid laat opleef. Die benoeming gee hom die mag om elke boer in sy afdeling op te roep, wanneer daar nood is, soos 'n veldkornet sy burgers in tye van gevaar.... Selfs swaer Lewies staan onder hom.... Die praatjies oor gebrek en al dié kaf sal nou ook 'n end kry. Met 'n sekere inkomste elke maand sal die versorging van sy huisgesin makliker gaan
| |
| |
.... Ousus het mos gepraat oor mieliemeel.... Dan maar eers na Fisher toe om alles te bestel wat hy vir die huis nodig het. Die Jood sal sy oë uit sy kop uitkyk; want hierdie slag is hy nie verleë nie; hy kan nou order! Alles kan hy nou op skuld kry; die waarborg om te betaal dra hy in sy sak.
In sy gewone stugge houding, wanneer hy met Lambertus te doen het, ontvang Fisher die man wat al die ambagte ken en tog sy swakste klant is. Bredenhand kry net krediet wanneer hy 'n werk vir hom verrig en die winkelier se gewone vraag: ‘Wat kan ek vir jou doen?’ klink amper kwetsend. So voel Lambertus dit vanmôre; vroeër het dit hom nooit so danig opgeval nie; hy is nou fyn gesnaar en die houding van die Jood hinder hom.... Hy is nie oor hom verleë nie! Fisher is mos nie die enigste winkelier op die wêreld nie!.... Op die dorp is alles baie goedkoper as hier op die platteland.... Wat sal hom belet om 'n kar en perd vir hom aan te skaf? In 'n halwe dag ry hy dorp-toe en terug! Fisher moenie te gerus vir hom wees nie! Hy sal nog na sy
| |
| |
klandisie vry!.... Bevelend vra die beampte: ‘Hoe staan jy dan vanmôre so uit die haak uit Fisher, asof jou brandkas oopgebreek is? Jy moet mos ook bly wees dat dit reën, man! Die boere kan mos nou ploeë en geldmaak en vir jou betaal! As ek jy is sal ek vandag net in my skik wees!’ Die Jood se amper oorbluf-verwonderde oë het hom 'n stil genot gegee en hy kry lekker - wyl hy luister: ‘Jy lyk vanmôre uit die haak uit! Die reën het seker vir jou geluk gebring, want jy is al te opgewek!’ sê Fisher met 'n gemaakte lag, want hy voel kriewelrig. ‘Die boere kan ploeë, ja, maar vir die sprinkane saai! Wanneer sal hulle vir my betaal?’
‘Die sprinkane is uit die kwessie uit; hulle sal die gesaaide nie kry nie, Fisher; die oes is joune! Maar, kyk hier, ek wil hê dat jy nou op die daad 'n sak mieliemeel en 'n sak boermeel na my huis toe opstuur; hulle het dit baie nodig daar! en twee sielings se vleis.’ Die geldstuk van sy moeder kan hy vir sakgeld hou, dis min genoeg!
Fisher is dronkgeslaan. Hy voel die nei- | |
| |
ging om vir Bredenhand 'n afjak te gee, met sy bluffende houding. So'n bankrotte ‘Jack of all trades’! Hy sal hom maar inbind, sy kant skoonhou. Met 'n kille spotlag kom hy by Lambertus voor die toonbank staan. ‘Jy kan alles van my koop, alles, my besigheid ook; solank as jy net die geld daarvoor bring.’
‘Het ek jou al ooit verneuk?’ vra die beampte hooghartig.
‘Ek sê nie so nie; maar opskryf doen ek nie; jy weet mos dat jou werk jou rekeninge betaal en nou is hier geen werk vir jou nie. As ek skuld gee dan moet ek sekuriteit daarvoor hê!’
‘Nee, Fisher, nou maak jy 'n groot fout. Die mense wat al soveel jare met jou handel, moet jy tegemoetkom, dan koop hulle altoos meer. Jy maak nou 'n groot fout!’
Die winkelier slaan hartlik laggend Bredenhand op die skouer. ‘Jy kan my niks leer hoe om besigheid te drywe nie. Ek het groot geword in besigheid. Goed, jy kan koop, tot twintig pond toe, Bredenhand, as jy net 'n brief van meneer du Toit saam- | |
| |
bring. Kom bring vir my 'n waarborg en ek sal jou skuld gee, soveel as jy wil hê, dit maak g'n saak nie!’
Toe kry die beampte die bevlieging om sy aanstelling te toon. Hy druk dit met 'n astrante gebaar onder Fisher se neus. ‘Dè, lees!.... en praat dan nog!’
‘Hoekom moet ek lees?’ Die vraag klink geringskattend. 'n Waarborg kom nie in 'n groot koevert nie en van Bredenhand se briewe hoef hy niks te weet nie. Maar die beampte staan manhaftig as 'n majoor voor sy regiment, beklop die aangebode dokument met sy linkerhand en sê indrukwekkend: ‘As jy dit dan nie wil lees nie Fisher, dan sal ek vir jou sê wat hierin staan; hierdie is my aanstelling as die sprinkaanbeampte van Sluis!’
‘Laat ek sien!’ sê die winkelier ongelowig en gryp haastig die brief uit die growwe hande uit, terwyl Bredenhand hom met 'n blik van meerderwaardigheid opneem.
‘Jy moes dit dadelik vir my gesê het, Bredenhand. Ek vra 'n waarborg; - goed daar is hy mos! Die skoolmeester se waar- | |
| |
borg is sy salaris. Du Toit s'n is sy besitting en joune is jou amp! Ek weet dat julle sal betaal, julle is almal eerlike mense, en as jy vir my jou bestelling gee, dan sal ek dit opskryf.’ - Die koopman se wese het tot 'n gryns vertrek, 'n vrindelike gryns, terwyl hy na sy plek agter die toonbank teruggaan, vol planne. Hy skrywe al en roep sy jong: ‘Simon, span die trollie in en bring die goed netnou na die baas se huis toe!.... En wat wil jy nog meer hê, Bredenhand? 'n Sprinkaanbeampte kan mos nie te voet gaan nie. Ek het 'n paar goeie perde. 'n Skuldbewys sal goed wees.’
'n Perd....! Ja, die Jood is reg.... om al die plase deur te kom sal hy 'n perd moet hê.... 'n perd, saal en toom....! Sy gevoel van eiewaarde styg dominerend op in sy gemoed en sy geestesoog skitter by die aanblik van die sprinkaanbeampte te perd oor die paaie van Sluis en omgewing....
'n Skuldbewys van twintig pond sterling word daardie dag in Fisher se kantoor geteken, betaalbaar in die bank op die dorp, oor twee maande vanaf datum....
| |
| |
Nog nooit het Bredenhand se rooi skimmelbaard so haaks met sy bolyf uitgestoot en sy blaaie so vierkantig uit sy romp uit soos nou nie. Dit lyk of hy alles op die aarde uitdaag, soos 'n kalkoenmannetjie die trop, terwyl hy daar op die vosperd oor die pad trippel. Die mense wat hom sien is verslae.... Toe, praat nou nog! Die tonge roer hulle en gedagtes is vol gissinge.
Die beampte word gaandeweg weer die Bredenhand van vroeër en 'n herbore besef van eiewaarde, solank versmoor deur sy afhanklikheid, laat hom nou baasspelerig voel teenoor sy ewemense. Hy sal so'n heen en weertjie by Sarel se huis aanry om sy moeder gelukkig te laat voel.
Die rimpelgesig trek nog meer opmekaar van hoogmoed en vreugde. Ook sy het altoos geweet wat in Lambertus steek. Sy oorlede vader was 'n vername persoon in die kerkdiens en ook op politieke gebied, en Lammie gaan ook so'n gesiene man word. Die mensdom wil dit net nie weet nie, wat werklik in Lambertus steek. Miskenning was tot nog toe sy grootste struikelblok in die lewe.
| |
| |
Die praatjies sal nou 'n end gee en die vrede in die familie sal bewaar bly. Haar ou moederoë lig met 'n kinderlike blydskap op haar oudste kind.
In die huis, alleen met Klein agtergebly, het Ousus haar al bekommer. Die vader se plannemaak ken sy; gewoonlik het hulle 'n lang asem. Hulle loop vereers uit op 'n lening hier of daar, en wanneer haar pa dan eendag weer 'n werkie kry, moet sy omtrent alles wat inkom netso weer uitgee. In stille onderwerping aan haar lewenslot doen sy meesal haar pligte, dog dit gebeur dikwels, soos vandag die geval is, dat sy behoefte gevoel om te murmureer. Die wêreld behandel haar onbillik; dis die grondtoon van haar mymering. - Haar lot verskil so hemelsbreed van dié van haar porture. Van maats kan sy nie praat nie, omdat sy nooit met hulle soos maats kan omgaan nie. Sy is gedoem om 'n moeder te wees lank voor haar jare. Dit maak haar afgemete, koel, en smoor die begeertes van haar jeug. So onnatuurlik, ouderwets draai sy in die kringloop van haar pligte, oud voor haar
| |
| |
tyd. Sy moet soos 'n grootmens saam met tant Leen en Ouma, ou klere sit en lap en verstel, dikwels na hulle stemmige redenasies luister en die vermanings aanhoor, dat sy die wesies en Pa tog al te goed moet oppas en versorg....
En wanneer sal die mieliemeel dan eindelik kom vandag? Dikwels vergeet haar pa wat hy beloof het. Hy moet so baie rondgaan om werk te soek vir sy ambag en hy is so vol bekommernis dat die tekort in sy huis hom ontgaan. En dan dink die familie sleg daarvan.... dis 'n ewige skande! Hulle leef armoedig, reg genoeg; dis maar leen en terugbetaal, maar hulle bly darem aan die gang.
Dis nou amper twaalfuur.... Sy sal maar self weer 'n plan moet maak om twee borde mieliemeel te leen.... 'n emmer sal te swaar wees om te dra.... 'n Kind soos Klein is vrypostiger as syself en die mense sal nie sommer iets vir haar weier nie.
‘Klein, vat nou hierdie slopie en kry by tant Krissie twee borde mieliemeel vir ons en, sê vir tant Krissie dat Pa vandag 'n plan
| |
| |
sal maak, en dat ons dit dadelik sal terugbring; onthou nou mooi, gehoor?’
‘O ja, Ous, ek het! Ek sal hardloop!’ Ousus volg haar vinnige sustertjie met oë groot van weemoed. As sy eendag 'n stiefmoeder moet kry.... Haar pa kuier dikwels Saterdagaande en soms ook weekaande.... sy weet nie waarheen nie; maar hy het gereeld sy Sondagsklere aan en as 'n wewenaar in die week sy Sondagsklere aantrek, dan gaan hy vir hom weer 'n vrou soek. Sy kry haar pa jammer, want hy is baie alleen; maar sy kan haar in die hele omtrek, van al die mense wat sy ken, geen enkele vroupersoon in haar oorlede moeder se plek indink nie.... wat sal van Klein word as Pa 'n stiefma in die huis bring? En van Kosie? En Ouboet? Sy sal haar man kan staan, want sy is al gewend om 'n huis te regeer; maar sowaar, as die stiefma 'n hand teen hulle optel, sal sy sommer reguit dit vir haar pa vertel. Die swaar van die lewe moet tog nie vir hulle ook vang nie, soos dit vir haar gevang het....!
Haar dromerige groot oë dwaal oor die
| |
| |
ruimte. Verlede jaar was sy nog op skool; daar was sy doelgooier van die eerste korfbalspan.... Hulle het so lekker gespeel en uitgery na die ander skole toe en die hele pad deur gesing.... Haar ma se dood het onverwags gekom en skielik haar lewe in bande vasgehou.... Arme Pa kry swaar en sukkel vreeslik om werk te kry! Sy moet maar baie goed vir hom sorg, dan sal hy nie sommer 'n stiefma in die huis bring nie. Sy sal dit wel agterkom as haar pa so'n plan het, want 'n pa sal tog sekerlik dit vir sy dogter bekend maak.... Hier kom Klein met die sloop oor haar skouer.... Die water kook al amper....
‘Wat sê tant Krissie, Klein?’
‘Ous, tant Krissie lag net en sê dat Pa so aanstellerig as 'n sprinkaan is.’
Ousus word verontwaardig. ‘Hulle het altoos iets oor Pa uit te waaie! Omdat ons vanmôre 'n halwe brood en nou die handjievol mieliemeel laat vra het; nou dink hulle dat ons soos sprinkane vreet. Oom Lewies het seker dit vanmôre vir Pa verwyt, dat ons so dikwels daar iets kom leen!’
| |
| |
‘Ous, en tant Krissie het nogal gesê dat sy baie bly daaroor is!’
‘Dit wys jou hoe onderduims dat hulle is.’
‘Ja, Ous, en oom Lewies is ook baie bly!’
‘Los maar vir hulle Klein en loop haal vir ons water terwyl ek solank die pap aanroer.’
Fisher se trollie hou voor die deur stil en die jong vra waar hy die meel moet aflaai. Haar blik skuif vraend van die Kleurling na die twee sakke op die voertuig en dan weer na Klein. Dis 'n fout. Simon het seker baas Fisher verkeerd verstaan; maar Simon hou vol dat hy hier moet aflaai. ‘Die oubaas het die goed gekoop by die winkel en hy loop saam met baas Fisher saam met die perde. Nou hy kom saam met die vosperd hy die pad! Nee, hy is reg so, Nonnie, die goed hy moet hierso by die huis gelaai word.’
‘Nou ja, dan moet dit glo maar in die kombuis kom,’ besluit Ousus nog half onseker. So'n wonder het nog nooit gebeure vandat haar pa sy grond verkoop het nie.
| |
| |
‘En Outa, jy sê die oubaas kom op 'n vosperd?’ Hy het hom dit seker verbeel.
‘So roerie-waar, my Nonnie; hy ry soos die poliesman, maar die vosperd, hy trippel. Dis Rusland, Nonnie, maar hy trek nie by die dubbel nie, hy trek net by die single; maar eintlik hy is die ryperd, my Non!’ Sy oorlams oë het al geswaai na die koffieketel op die es, en die oortuigende stem verswak tot 'n geheimsinnige gefluister: ‘My Nonnie, het my Non dan nie vandag vir baas Fisher se jong 'n bekertjie koffie nie?’
Ousus sou vir hom 'n ketel vol kan gee, dankbaar en verwonder as sy is. Dis 'n uitkoms hierdie so heerlik as die droom van Jakob. Die Heer het vir haar pa gehelp! Sy sal sommer direk die twee borde meel vir tant Krissie terugstuur en vir hulle wys dat hulle nie soos sprinkane alles wat voorkom vreet nie....’ Loop gou, Klein; maar jy vertel hulle niks nie, gehoor!’
In haar ontroerde blydskap jubel duisend dankgesange, wat uiting vind in haar spontane lied: ‘Moenie huil nie, moenie treur
| |
| |
nie, die jongetjies van Sluis kom trug!’ Sy is skaars bevoeg om in so'n oorvloed te oorlê. - Sal sy 'n stukkie vleis braai? - Nee, wag tot Pa kom! - Bêre dit maar in 'n skottel weg. Sy dek die tafel dralend in die kombuis.
Met militêre houding kom Bredenhand op die vosperd aangetrippel. Sy aangesig is streng en sy oë speur oor die omgewing asof hy noual op 'n inspeksie rondry. ‘Hier kom Pa, Ous!’ roep Klein. Die kinders kom agter die kombuis se onderdeur en staan hul vader met oop mondjies en aangaap. Vier wonder-groot verbaasde kinderoë volg elke beweging van hul indrukwekkende, swygsame vader. - Pa klim af, gooi die toom oor die perd se kop, lig die saalklap op, maak buikgord los; die stiebeuels blink en kom klinkend gekruis bo-oor die saal. Hy kom met die saal oor sy arm, met perd en al na hulle toe. Hulle skrik effens vir sy eerste woorde: ‘Sit die saal op die gereedskapkas in die hoek, Ousus!’ - Hy knelter nou die perd.... ‘Klein, kyk na hom dat hy nie oor die koppie gaan nie! Jy ook,
| |
| |
Ous! Hy sal soontoe dwing! Bêre dan die saal soos ek jou gesê het!’
Sy staan sowaar nog met die ding in haar hande asof niks besonders gebeur het nie. Hy gaan op sy stoel sit in die voorhuis en lees op sy gemak die instruksies van sy amp deur.
Ousus brand van nuuskierigheid, maar is te sku om iets te vra. Daardie papiere sal sy wel in die hande kry.... Haar pa is met groot sake deurmekaar! Benydenswaardig rustig blaas Lambertus sy rookwolkies in die voorvertrek op en dwaal in die paradys van sy gedagtewêreld.
Haar pa sal nie altoos so geheimsinnig bly nie.... Dit sal wel iewers uitlek.... Daar kom die kinders, nou kan ons maar gaan eet....
Ouboet en Koos kom baie stadig oor die pad. Die jongste hang aan sy ouboet se skouer, wat hom met sy arm om die lyf vorentoe help. Klein hardloop hulle tegemoet; haar oë straal bly, en opgewonde roep sy: ‘Pa het 'n perd!.... Ons word nou ryk.... Daar loop hy en ek moet na hom kyk!’
| |
| |
‘Ag wat! dis sommer een van Fisher se perde! Loop roep vir Ous! Koos kan glad nie loop nie!’
Hulle bring hom in die kombuis; sy groot gesig verwring van pyn; die taaie uithou om nie te huil nie breek: ‘Hy is te seer, Ous!.... My been is ook baie seer, Ous!’
Nog verbyster deur die raaiselagtige gebeurtenisse, kan Ousus nou haar gemoed lug; geluk, besorgdheid en liefde en hartseer maak haar senuweeagtig. ‘Stil maar, my boetie; hy sal netnou bedaar as jy rus! .... Wat gaan nou aan, Ouboet? Kyk daar in die kombuis.... reken bietjie, meel en vleis en 'n saal en 'n toom!.... Wag maar, Kosie, ek sal vanmiddag 'n broodpappie opsit! Stil maar, my boetie!.... Pa kom so ewe stilweg op 'n vosperd aangery.... Laat jou voet op die bankie rus, Boetie! So!.... Ek is vandag dom, Ouboet....!’
‘Ek ken die perd!’ sê Ouboet op 'n toon asof hy verongelyk voel.... ‘Sy naam is Rusland.... Hy trek ook in die kar; sonder 'n maat.... Nou kan ek tog ook perdry .... Simon sê hy trippel op 'n akkoord!’
| |
| |
Ous werskaf net so deurmekaar as haar gedagtes. ‘Ons weet nie of dit Pa se perd is nie, altemit het Pa dit net geleen.... Loop haal vir my 'n lappie, Ouboet. Ek skep die pap op!’ Bedees stap sy voorhuistoe: ‘Sal Pa kom eet asseblief?’ sê sy baie eerbiedig en neem toe Koos se voet onder behandeling. Die vader het stil binnegekom en kyk gestreng na Ousus se gedokter. ‘Wat maak julle nou? Wag met daardie gepappery; laat ek die voet sien! As hy moet uitsweer duur dit te lank, en Koos kan nie so lank uit die skool uit bly nie. Môre is dit Saterdag en Sondag daarby.... Maandag sal hy goed kan loop.... G'n lammervanger oor my drumpel nie!’
Hy frommel in sy gereedskapskas en daarna stryk hy sy knipmes enkele male oor die boleer van sy skoen, voel die sny en sê: ‘Kom Koos, ek sal mooi werk en jou nie onnodig seermaak nie! Jy moenie ruk nie, Koos!’
‘Ja Pa, ek sal nie ruk nie!’ Die outjie verkeer in doodsangs, maar g'n kreun ontsnap hom nie; sy oë is net twee plooie en
| |
| |
sy mond trek pynlik opmekaar, sodat Ouboet vir die komieklike gesig sy mond moet toedruk om nie te lag nie; inwendig krul hy van plesier. Klein het die perd vergeet. - Ousus is g'n kind om sommerso weekhartig te word nie, maar vandag voel sy so omgekrap, dat haar gemoed haar volskiet oor die angs van haar boetie. Klein huil suutjies omdat sy trane in Ousus se oë sien.
Met vaste hand, bedaard en kundig, asof die snykuns ook sy ambag is, slag Bredenhand die dik, skurwe, vuil soolvel van die geswelde voet al om die doring af; en toe die ooplê, vat hy hom met 'n plukaan, waarmee hy ook al tande uitgepluk het, en trek 'n doring van 'n doring uit. ‘Jy moet kyk waar jy loop in die vervolg, Koos!.... Nou kan julle maar 'n ghriespleister opsit vir die vuil!.... Maandag is die voet gesond!.... Ouboet, kyk jy solank na die perd!.... Ons kan nou maar eet, kinders!’
Die gedoente met Koos bring die planne met die outjie skielik op die voorgrond. Die groot gebeurtenis het sy belofte aan Kris- | |
| |
sie heeltemal verdring en terwyl die viertal om die kombuistafel sit, kom 'n rebelse gees daarteen op. Het hy dan so tekortgeskiet in sy vaderskap, dat hy die kroon hom moet laat ontneem? Nee, daar bestaan g'n rede voor nie.... hy mag ook nie.... behalwe sy doopbelofte ‘om in de voorzeide leer te onderwijzen, of te laten onderwijzen’, bind hom ook die belofte aan sy oorlede vrou op haar sterfbed: ‘Lambertus moet tog nie jou kindertjies uitmekaar maak nie,’ waarop hy plegtig ‘Ja, Mammie ek belowe jou dit,’ geantwoord het.... En al hierdie bindende, kragtige beloftes het glad nie in sy harsings opgekom nie toe hy vanmôre so paphartig vir Krissie hulle weerstaan en eindelik as 'n oorblufte skepsel ingegee het. So kan 'n mens oop-oë sonde doen, onskuldig in die grootste moeilikhede verval. Nee wat!.... daar moet 'n kinkel in die draad kom! Hy is mos nie gekontrak nie....!
‘Ouboet, bring jy vir ons die byl, die hamer en die saag, en dan help jy vir my om 'n skuilinkie vir die perd te maak.’
‘Het Pa vir Rusland gekoop?’ vra
| |
| |
Ouboet vrypostig met 'n skamerige vreugde in sy oë.
‘Rusland, of wat-se-land, hy mag daardie kaffernaam nie hou nie: sy naam is van nou af, Poon!’....
Die geur van gebraaide vleis deurtrek die huis. Ousus wil graag 'n lekker ete berei; sy het altoos dit begeer en is so gewillig as die beste moeder, as daar net is; maar dis vandag 'n dag van wonderwerke.... Hoekom bly haar pa dan so geheimsinnig? Hy kon vir haar tog maar vertel het van wat aangaan; dit maak haar effens hartseer, want sy is tog sy oudste kind en die moeder van die huis so te sê, maar Pa bly dig en streng soos 'n klapper met lang baarde en sy snak so na 'n glimpsie van vertrouelikheid....
Teen die ligblou mure van die kombuis wikkel in die kers se skynsel, die skaduwees van al die huisgenote behalwe sy wat suutjies heen en weer loop. Die kinders staar in blye vooruitsig na Ousus se gewerskaf en die geur maak hulle honger; selfs Koos vergeet sy pyn. Bredenhand is hoogs tevrede
| |
| |
oor die stemmige gedrag van die kinders. Hulle word goed opgevoed, praat nooit onnodig nie, net wanneer hy iets vir hulle vra; - en hulle gedagtes is vol vrae soos hulle hier sit, dit weet hy. Dit lyk na verwaarlosing!.... Bogpraatjies!.... Hulle is goed gebrei vir die lewe.... Koos sal hom uit sy plek uit voel by swaer Lewies. Hy is aan die stemmigheid, die toon van eerbiedigheid gewend en sal in die luidrugtige lewe daar nie aard nie.... Ja, dis sy roeping as vader om baie streng te wees in die opbou van 'n kristelike huisgesin. Dit keer losbandigheid en gee die kinders ernstigheid en krag om die verleidings van die wêreld te trotseer.
Bredenhand het die gewoonte ingevoer dat elke kind, wanneer hy klaar geëet het, sy bord effens vorentoe moet skuif, daarna opstaan en duidelik verklaar: ‘Dankie, Pa, ek is versadig!’ en dan moet hy stil sit tot Pa klaar is met die boeke-vat. Dit gee hom die versekering dat almal voldaan is en tevrede, hoe gering die ete ook al mag wees. - Daar steek baie in so'n gewoonte! Dit leer ordentlikheid en eerbied, ook dankbaarheid en
| |
| |
openhartigheid teenoor die vader, wat hulle dan beskou as die versorger en dit gee homself die tevrede gevoel dat sy kinders versadig is....
Na die boeke-vat, wat hy vanaand met 'n besonder ernstige dankgebed afgesluit het, vra hy vir hulle wat hulle van die gelesene onthou het. Vir hom was dit weer so treffend, die genade van die arme en die verwerping van die ryke. Die rykdom van die armoede is nie van die wêreld nie!....
‘En wat het jy onthou, Sus?’ Sy staan op en sê nogal rats: ‘Pa, ek het ge-onthou dat Pa gelees het van die kameel wat deur die oog van 'n naald gaan.’
‘Die Woord sê eintlik kemel, Ousus, maar dis dieselfde; hulle het in die dae van die omwandeling van onse Here op die aarde, die woord maar net anderster gespel. Die Here wil ons laat verstaan hoe moeilik dit vir 'n ryke is om in die hemel te kom. Dis baie makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan. Julle weet mos hoe yslik groot 'n kameel is; hy staan met sy kop goed so hoog as die nok van hierdie huis.’
| |
| |
Klein bring skielik haar handjie voor die mond om 'n kreet van verbasing te keer. Koos se oë fonkel in sy groot vaal kop, en Ouboet wil al maar vorentoe dwing, so luister hy. Ousus staan nog steeds eerbiedig, want haar pa praat eintlik direk met haar. ‘Sy nek is so lank as 'n breipaal, sy pote soos die verandapale van Ouma se huis; maar sy lyf is nie so danig groot nie; hy is in een woord 'n baie ongemaklik geboude dier. En julle weet hoe klein die oog van 'n naald is, en nou kan julle self begryp dat 'n ryke nie in die hemel kan kom nie. Dis te sê, hy moet sy rykdom laat staan en eers arm word.... Sit maar, Ous!.... En Ouboet wat hê-jy onthou?’
Die seun staan met sy kop amper op sy regterskouer, verleë en bang. Pa het, wat hy onthou het, glad uit sy kop uit gepraat en nou lê 'n bestraffing voor. Maar gelukkig kry hy gou-gou 'n gedagte. ‘Pa, ek het dieselfde ge-onthou wat Ous onthou het!’
Bredenhand kyk hom vir enkele sekondes streng aan, en hy sien ook ses ander oë, wat wondervreemd gloei, soos oë van jong kal- | |
| |
wers wat geskrik het. ‘Sit maar, Ouboet .... Ek wil maar sê dat die gelykenis my ook besonder getref het. Ons moet nie na rykdom streef nie, kinders!’
'n Paar sekondes doodse stilte volg, daarna 'n diep sug van Bredenhand. ‘Kinders, vandag was die liewe Here ons besonder genadig gewees. Ek kan vanaand ook met die psalmdigter uitroep: “Ik zal den Here loven met mijn gansche hart!” Kyk, ons huis is vol kos vanaand. Die tyd van skaarste is vir ons verby. Kinders, ek is vandag aangestel as die sprinkaanbeampte van Sluis!.... Julle kan nou maar opstaan, kinders!’
Vir Ousus gaan daar 'n lig op en sy voel hartseer oor haar bose gedagtes omtrent tant Krissie-hulle; maar tog jubel dit weer in haar gemoed. Terwyl sy die skottelgoed omwas, sing sy baie suutjies: ‘Die jongetjies van Sluis kom trug’. |
|