| |
| |
| |
Hoofstuk IV.
Oorkant die Sluisloop, soos 'n duisendpoot op die voetpad, net so eienaardig as die koppie duskant, rus 'n rantjie op die vlakte en daarteenaan val die opstal van Louis du Toit dadelik in die oog.
Jare gelede het hy 'n agentskantoor in die dorp gehad. Na die wêreldoorlog het hy sy standplaas na Sluis oorgebring. Deur sy huwelik met Krissie het hy die eiendom verwerf en die grootste grondbesitter van Sluis geword. Hy ontvang Lambertus in die stoepkamer, wat hy sy kantoor noem.
Die kleiner gestalte, effens grys bokant sy ore, met 'n kortgeknipte skimmel moestas, toon 'n natuurlike hartlikheid. Tog klink dit verwytend: ‘Jy stap mos hier verby die laaste tyd, ouboet. Ek moes jou maar laat roep, want anders word jy soos 'n vreemdeling.’
‘Ek moet van jou verskil, ou swaer! Die aantreklikheid moet van weerskante kom. Die distansie tussen ons is vir jou net so ver as dit vir my is.’
| |
| |
‘Reg, ouboet! maar die gewoonte het my bederwe. Jy het amper elke dag hier aangekom. En toe jy skielik ophou was dit vir my snaaks.’
‘Dis maar die wêreld se beloop, ou swaer!’
Vol wrewel het hy oor die halwe myl gestap, maar hier in die armstoel voor sy openhartige swaer klim 'n swak gevoel van skuld in sy gewete en hy vervolg met 'n verskoning waaroor hy skaam voel: ‘Ek kan my draaie nie kry nie!.... Die werk wil my toedam maar die oorloop is te laag.... Die weer is gunstig, nè? Gaan jy baie mielies plant vanjaar?’
‘Soveel as wat ek in die grond kan kry .... Generaal Kemp gaan die sprinkane met alle mag beveg. 'n Mens kan hulle vanjaar uitskakel.’
‘Dit is ook so: die bedenkinge van die mense is vyandskap teen God. Dink jy nie ook so nie, swaer Lewies?’
‘Hoe bedoel jy nou weer, ouboet?’
‘Ek meen dat dit 'n verkeerde ding is om die raadsbesluite van die Here teë te werk.’
| |
| |
Du Toit antwoord met 'n hartlike lag: ‘Ek glo nie dat jy meen wat jy daar sê nie. Wil jy dan altemit lê en doodgaan as jy siek word? Jy dokter mos! Wanneer die vlooie jou pak, sal jy nie probeer om die laaste ou vlooitjie dood te knip nie?’
‘Natuurlik ek sal; maar verstaan my goed! Daar is 'n groot verskil tussen siekte en 'n landsplaag. 'n Landsplaag kom soos 'n spesiale straf van die Hoërhand; ons moet daarin berus; ons moet die kastyding eintlik liefhê. Die gevolge van ons sonde moet ons dra; 'n dief kry tronkstraf en as hy probeer om te ontvlug dan kry hy dit dubbeld.’
‘Nee, boet, jy praat nou deurmekaar en verwar die sake. Wanneer die boerderybedryf krank is, dan moet ons die oorsaak daarvan probeer wegneem. Diewe maak die maatskappy krank; hulle moet uit die pad uit. Selfbeskerming is 'n deug en of dit nou 'n persoon of 'n plaasgemeenskap of 'n staat is, wat homself moet beskerm, dit kom op dieselfde neer. Maar ek wil jou die vraag stel: Sal jy help doodspuit as die voetgangers uitbroei?’
| |
| |
‘As hulle my betaal, of as die regering my kommandeer, ja al te seker, swaer, ek is tog maar 'n dagloner; die werk en die gevolge van die werk kom op rekening van die persoon wat my huur.’
‘Dan is die wêreld reg,’ besluit du Toit met 'n veelseggende glimlag. ‘Maar ek het jou laat roep om oor 'n belangrike saak te gesels - wag net so'n oomblikkie, want ek wil in Krissie se teenwoordigheid met jou praat.’
‘Is dit dan so noodsaaklik dat sy daarby moet wees?’ Bredenhand het al sy griewe teen die du Toits vergeet. Hier by sy swaer met sy beminlike maniere voel hy soos ouboet Lambertus, wel op sy hoede, effens agterdogtig, maar sonder openlike kwessies. Vir Lewies se stil persoonlikheid koester hy 'n heimlike waardering, amper vrees om vertroulik te praat oor wat hom daagliks in sy allenigheid soms kwel; maar nou Krissie by moet kom.... sy suster, wat hom as haar ouboet moet respekteer, en nou die ander dag weer so gruweloos beledig het, nou leef die griewe in sy binnenste op. Sy hou haar soos
| |
| |
'n voog oor hom en hy is mos g'n kind om deur haar bestraf en gekritiseer te word nie....
Du Toit het weer gaan sit; 'n vraag spreek uit sy oë, sterk op Lambertus gevestig, wat swakkerig vervolg: ‘Om jou die waarheid te sê het ek 'n aksie teen haar! Krissie is soos 'n stofwolk voor 'n donderstorm; sy maak die aarde donker voordat dit eintlik begin te reën.’
Louis se wese word vriendeliker. Sy vrou het hom van die woordskermutseling vertel. Die Bredenhands het opvliegende humeure, vernaamlik wanneer hulle gekrenk voel; maar Krissie het alweer geglimlag toe sy hom van die patalje vertel. Sou dìt die rede wees waarom Lambertus sy huis gemy het? ‘Dis gevaarlik, ouboet. In enige aksie wen 'n vroumens dit altoos van 'n man. Wat het Krissie dan so danig gesondig?’
‘Jy neem dit te lughartig op. Ek nie, ek meen dit ernstig wat ek sê’ beweer Lambertus met 'n skyn van 'n glimlag in sy eenkwart skimmelbaard. ‘Sy het my bitter seer gemaak en my aangespreek asof ek 'n geweten- | |
| |
lose vabond is. Ek verseker jou dat ek net lelik sleg gevoel het daaroor. Ek is g'n klip nie, maar haar ouboet, swaer Lewies!’
‘Julle Bredenhands is soos 'n winterveld waarin 'n vonkie val; 'n nat streepsak slaan die vuur met een hou dood! Jy voel nou nie meer sleg oor daardie nonsens nie, ouboet! Ek gaan vir Krissie roep! Julle kan dan sommer afmaak!’
Dit klink bevelend. Lambertus was te diep gekrenk om deur daardie paaimaniere van Lewies sy gemoed te sus. ‘Sit eers en luister! Belowe my dat jy met Krissie sal praat!’
Du Toit word ernstig. ‘Ek wil nie vir jou seermaak nie, Lambertus, maar ek glo dat jy te fyngevoelig en te agterdogtig is.’
‘Nee, swaer, hoegenaamd nie, maar Krissie praat losweg van dinge en sake waar sy totaal buitekant staan. Jy moet haar onder die aandag bring dat sy haar woorde moet weeg.’
‘Hoe bedoel jy?’ In sy verwonderde oogopslag skemer 'n skyn van verontwaardiging. Sy vraag is so beslis dat Lambertus soetsappig word.
| |
| |
‘Ek meen maar net dat sy my baie seergemaak het met haar uitlatings.’ Hy kan geen konkrete feite op die oomblik bymekaar kry nie. ‘Dit sal my laaste gedagte wees om my met julle huislike lewe te bemoei en ek verdra ook nie dat sy haar met myne inlaat nie!’
‘Nou verstaan ek dit glad nie!.... Jy meen dat Krissie haarself heeltemal moet verander, haar gevoel en liefde moet sy onderdruk en onverskillig word vir jou en jou kinders? Pleks dat jy dit waardeer, Lambertus, wanneer sy openhartig, wat in haar gemoed is vir jou sê. Jy behoort dankbaar te wees dat 'n vrou soos Krissie, jou eie bloedsuster, 'n oog oor jou kinders hou. 'n Vrou sien baie dinge raak waar ons mans geen oog voor het nie.’
‘Ek meen dit glad nie dat sy haar moet onttrek nie! A nee! Ek is maar te dankbaar bly dat sy haar so dikwels oor my kindertjies ontferm; wat sou anders van hulle geword het so sonder 'n moeder? Ek doen so wat ek kan vir hulle, wat ek kan bybring, bring ek; ek voed hulle op na my vermoë en
| |
| |
my beste oortuiging en dan voel ek regtig seergemaak wanneer die mense met hulle aanmerkings en kritiek aankom en ek van die praatjies hoor wat van my liefdeloosheid rondgaan. Toe my vrou gelewe het was daar nooit so iets nie en ek sorg tog maar net soos vroeër. Dis die gemis, ou swaer, wat dit veroorsaak. Ek voel dit al te dikwels in my allenigheid; 'n huis sonder 'n moeder gaan te gronde. Ek sê vir jou’ - 'n diep sug hik sy boesem uit - ‘ek mis my oorlede vrou baie! baie! My lewe is nie aangenaam vir my nie. Dis 'n kruis, ou swaer! Dis 'n kruis! - Roep maar vir Krissie!’
Du Toit voel geroer. ‘Jy het ons volle simpatie, ouboet! En Krissie stel soveel belang in jou kinders, dat ek juis op haar versoek jou vanmôre laat roep het. Ons wil met jou praat oor hulle en daarom moet sy daar bywees.’
Lambertus kan teen wil en dank 'n swak gevoel van verset, deur du Toit weer opgewek, nie onderdruk nie, toe hy alleen daar sit. Dis 'n bemoeisug met sy sake waarteen sy gevoel van eiewaarde bots. Lewies het hom
| |
| |
gewen met sy vriendelike maniere om kwessies op te los. Hy voel egter te hooghartig om die swakheid te erken; hy kan sy man staan ook teenoor Lewies en baie maklik teenoor sus Krissie.
‘Môre, ouboet! Ek is regtig bly dat jy oorgekom het!’ Sy groet hom met 'n soen. ‘Ons moet die struweling van die anderdag maar vergeet. Daar is genoeg moeite in die wêreld om nog ons lewe ongelukkig te maak oor klein geskilletjies!’
‘Ja, maar ou suster, jy is partykeer darem al te skerp met jou tong en 'n man....’
‘Ek sal die tong-van-my se punt dan maar moet afsny, ouboet!’ val sy hom laggend in die rede. ‘Ek wil g'n oorsaak wees dat daar kwaaivriendskap tussen ons bestaan nie. Maar luister! Ons wil vir jou help!.... ons meen dit wel met jou, ouboet! Jy wil dit altemit nie glo nie, maar julle swaar gaan ons seer ter harte! Daarom het Loewie en ek besluit om jou Kosie by ons in die huis te neem. Wat dink jy van die plan?’
Hoewel die gevoel van teenstand nog in hom roer, het die goedheid van Krissie en
| |
| |
Lewies hom weekhartig gemaak. Sy suster haar woorde kom te rats vir sy positiewe om 'n gedagte, wat sy gevoel kan vertolk, uit te dink. Hy is bewus dat hy 'n lamlendige antwoord gee. ‘Ek sal met Koos praat, sus! Jy weet dat hy maar 'n eenkant geaardheid het.’ Sy taal kom losser en strook meer met sy gevoel.
‘Kosie sal moeilik met julle span saamstryk; nie dat die fout by julle s'n lê nie; maar my span word so anderster as julle s'n grootgebring. Ek meen daar niks verkeerds by nie; maar ek is aan dié kant nog van die ou soort; ek wil my kinders nog in die ou paaie probeer hou!’
‘Maar, ouboet, jy kan tog niks van my kinders se opvoeding sê nie?’ val Krissie effens vinnig in, sodat Lewies voel dat dit nou sy beurt is. ‘Gee hom 'n kans, Lambertus! Ek weet wat jy bedoel en jy is heeltemal reg! 'n Kind kan hom egter baie gou aanpas by 'n ander omgewing en vir Koos sal dit die beste wees.... Hy is nie sterk nie; vir 'n boer, of ambagsman soos jy sal hy nooit deug nie; maar ons sal hom laat leer, sodat hy
| |
| |
later 'n gawe posisie in die maatskappy kan beklee, as die Here se wil daarby is. En dit is alles werd vir jou en vir die kind, nie waar nie? Sy toekoms!’
‘En ons sal hom vat as een van ons eie kinders, in niks sal hy gebrek ly nie!’ vul Krissie aan. Die tabakrook wat bokant Bredenhand se massiewe kop uittrek, word witter en kleiner en haastiger. Hoekom lol Krissie alweer oor gebrek? Sy posisie is ongemaklik. Die mense is te vriendelik; dis alles pragtig mooi, maar hy, as vader, sal sy seggenskap oor sy seun verloor.... 'n vreemdeling vir sy eie kind word so te sê!.... Hy kan die mensliewende swaer en suster ook geen aanstoot gee nie.... Krissie moes die woord van gebrek nie gebruik het nie; sy kruip weer onverstandig in sy sake in.
‘Ons verstaan dat dit vir jou baie moeilik gaan om hier gereeld geld te verdien en wanneer jy dalk eendag moet uitspring om 'n vaste verdienste te soek, dan sal jy altemit lank van die huis af moet bly. In dié geval loop alles teen Ousus aan, en Koos het die meeste versorging van julle alger nodig.
| |
| |
'n Mens kan van Ousus nie verwag dat sy al die sorg van 'n moeder kan dra nie, is dit nie so nie, Ouboet?’
Hier kry Lambertus gelukkig 'n aanknopingspunt vir sy argument sonder om vir hulle seer te maak. Sy rug en blaaie word vierkantig, en selfbewus kyk hy vir Krissie met 'n skalkse glimlag in die oë. ‘En wie sê vir jou, sus Kris, dat my huis altoos sonder 'n moeder sal bly? Ek hoop tog nie om gedurig so allenig my lewe, sonder aanspraak deur te bring nie!’.... Sy gelaat herneem 'n stroewe trek. ‘Maar ek bly julle dankbaar; ook vir die besorgdheid wat julle oor my kindertjies gevoel; julle bedoelings is sekerlik opreg; maar moenie die sake oordryf nie! Ek gee julle die versekering dat my kinders nie verwaarloos word nie. Ons leef wel armoedig, maar hulle eet hulle mage trommelvol en klere het hulle genoeg....’
Du Toit het sy Kaffer met die possak sien aankom. Hy voel ontstem omdat Lambertus so verkeerd is.... eiesinnig!.... hy maak sy kop hard.... los hom maar. Lewies verlaat die vertrek om die possak te ontvang.
| |
| |
Krissie is ook teleurgestel; baie van haar geesdrif is weg. Ouboet moet sy kop maar stamp. 'n Tweede vrou!.... Waar sal die sorg en liefde vir die arme goedjies dan belande? ‘Maar sê nou, ouboet, dat jy een van die dae weer vir jou 'n maat gaan vat.... 'n stiefmoeder is tog nooit 'n eie moeder nie, en Kosie het baie liefde nodig, dit kan ek jou verseker. Maar jy is hulle vader, jy moet self weet wat die beste is!’
‘Hier is 'n brief vir jou Lambertus en dis nog al 'n in-diens-brief. Wat se besigheid het jy dan met die Goewerment?’ Hy knipoog vir sy vrou en hulle glimlag skelmpies vir mekaar. Lambertus bekyk die groot envelop met verbasing. ‘Wat die drommel wil die regering van my hê? Ek voel maar wild vir sulke briewe!’ Hy word ineens so opgewonde dat sy hande bewe. ‘Jong, hoe die drommel verstaan ek dit dan nou?’ Sy hart bons in sy keel en na 'n afsluk vervolg hy.... ‘Lewies dit lyk vir my net danig na 'n aanstelling as sprinkaanbeampte hierdie!’
‘My mapstieks! veels geluk, ouboet!....
| |
| |
Verskoon my net 'n rukkie.... ek moet die pos afgee.’
En Krissie soen hom op sy voorkop, terwyl hy sprakeloos daar sit.
‘Die ander dag het jy mos kwaad geword! Maar nou gaan ek die geheim vertel, boet Lammie! Loewie sou sekerlik die aanstelling gekry het; hy was so goed as benoem, maar toe wou hy dit nie aanneem nie, omdat hy jou die kans wou gee en hy het toe vir jou net sterk aanbeveel, en hier is jy nou vandag ons sprinkaanbeampte, Ouboet.... Nou sal jy binnekort jou hande vol hê. Na hierdie reën sal die voetgangers vol oor die vlakte uitbroei; en dan sal jy dae agtereen van jou huis af weg wees.... Ek dink dat jy Kosie maar by ons moet bring, of hoe sê jy?’
Hy is oorweldig! Sonder argument kan hy slegs met gebroke woorde sy toestemming gee. ‘Krissie, my sus!.... ek bly julle dankbaar! Ek sal laat ons sy goedjies, ek meen sy klere agtermekaar sit....’ |
|