| |
| |
| |
Hoofstuk III
Dis 'n veelbelowende môre in Oktober. Gister het die eerste stortbui neergeswiep om die nuwe seisoen onstuimig aan te kondig, dog toe die elemente bedaar, het 'n sagte reëntjie vriendelik neergesak. Die gedagtes swerf oor die groot blokke omgeploegde aarde en die harte is vol dankbaarheid. God seën en verderf; dog die ervaring wil nie in die harte meng nie. Niemand dink aan sprinkane of droogte nie, net aan die arbeid wat vrug sal dra. 'n Nuwe lewe verdryf alle swaarmoedigheid en adem blye verwagtinge oor Sluis....
Die lug is toegetrek; 'n motreën val onhoorbaar op die dakke. Al die bewoners het in weerwil van die deinserige lig vroeg opgestaan. Hulle het die son nie nodig om vir hulle te wys hoelank dit dag is nie. - Net in Lambertus Bredenhand se huisie bly dit doods en somber; al die vensters is nog toe. Die enigste bewys van lewe is op die kaal werf; 'n verpotte varksog dowwel in die nat aarde en 'n paar langbeen-hoenders, wat
| |
| |
ry-ry loop, skrap daar vir 'n wurmpie of insek. Daar binnekant bestaan geen dryfveer om liggaam en gees uit die rus te ruk nie. Dis net Ouboet en Koos wat na die skool toe moet en as dit laat is, loop hulle sonder kos; by die skool is gereeld kinders wat 'n orige sny brood saambring; die sopkombuis is mos ook daar en dis seker nou nog baie vroeg. Ousus dommel met die sussende gedagtes deur. Sy begin elke nuwe dag in die woning en dan kom daar pas roering op die slaapplekke.
In die voorhuis se bedompigheid lê twee seuntjies op 'n bulsak, die vader op 'n tweepersoonsbed agter 'n gordynafskorting in die slaapkamer, terwyl in die orige deel Ousus en Klein op 'n kateltjie slaap.
Die grou môrelig gly deur die oop voeë van die vensterluike en druk 'n bedrieglike skemer in die huis. Ousus gaan vanmôre deurdommel tot haar vader vir haar roep; dit gebeur so selde. Sy het na die dood van haar moeder byna 'n jaar gelede, alle verantwoordelikheid van die huishoue gedra. Onervare as sy was, het sy 'n pligsbesef ont- | |
| |
wikkel wat haar vir die moeilike taak gesterk het en net soos haar moeder het sy so goed as alleen gestaan, omdat die vader onbewus te kort geskiet het.
Bredenhand lyk onverskillig omtrent die fisieke toestand van sy kinders. Dis of sy oë steeds met 'n hooghartige blik oor hulle hoofde heengly soos 'n soeklig, en nooit hulleself raaksien nie. Wanneer pyn of siekte of agteruitgang onder sy aandag kom lyk hy streng, soms hardvogtig, gewoonlik vol weersin. Dog in werklikheid is hy dit nie. Daar is 'n onbestrede mag in hom, wat liefdesbetoon of enige weeklikheid onderdruk, terwyl dié gevoelens tog diep in sy gemoed wakker bly; hy kan hulle net nie openbaar nie. En daarom kom sy siel in opstand teen die leuen van liefdeloosheid waarvan die maatskappy hom verdink. Hy sien sy kinders gesond na liggaam en siel, en merk veral dat hulle kop en skouers uitsteek bo hulle porture in Bybelkennis. Selfs Klein kan al partyplekke mooi onthou van wat hy saans vir hulle voorlees en Ouboet kon al aangeneem geword het, as hy nie so jonk was nie.
| |
| |
Bredenhand is vanmôre die eerste wat roer. Hy stoot hom effens hoër in sy kussings op en hoes sy bors oop om met prewelende stem sy eerste gebed te stamel. En die sielsbehoefte is opreg. Wanneer hy ontwaak is sy gemoed onbeswaard, sy gees deemoedig en sy eerste gedagte is vroom, verinnig deur verlange. Sy vrou en hy het die môrelied van dankbaarheid gereeld saamgesing; hy doen dit nog en voel die eensaamheid wat hom vromer en weemoedig maak.
Die hoes en prewel het vir Ousus heeltemal wakker gemaak. Lusteloos staan sy op en begin teësinnig aan haar klere te pluk soos iemand wat tot harde arbeid gedwing word. In die voorhuis skud sy haar broertjies uit die slaap uit. ‘Ouboet! Koos! julle moet nou opstaan!’ Sy stoot die bodeur van die kombuis futloos oop, betrag die bedrywige vark en hoenders vir 'n paar sekondes en voel die lewe in haar liggaam stroom; die vars lug trek soos 'n opwekker deur haar gees en dadelik voel sy so aktief as op haar beste. Nadat sy vuurgemaak en haarself opgeknap het word sy moedertjie. Haar mooi oë ver- | |
| |
helder onder die werkies, maar verdonker as sy die leë mieliemeelsak langs die gereedskapkas sien lê. Ouboet het gisteraand pap gemaak.... hy kon tog vir haar herinner het dat die meel gedaan is.... pa sal vir haar kos vra.... Hoe bly dit dan so stil daar in die voorhuis? ‘Nee allemensig Ouboet! Koos! Hoekom slaap julle dan weer?’ Dié keer skud sy hulle deeglik; sy hoor Koos kreun en Ouboet nukkerig mompel: ‘Los my!’.... ‘Ek boender julle netnou daaruit! Staan op!’
Die sorge van 'n moeder hou haar gesiggie ernstig. Brood is daar nie; dis 'n skaarse artikel. Eensklaps verlig die oplossing haar oë. Tant Krissie het gister gebak. Sy kan nie sê dat sy geen brood het nie. As Koosdie melk daargaan haal moet hysommer 'n halwe brood ook vra. Ouboet sleep homself verby na die es toe en Koos volg hom kruppel-kruppel; sy hempie hang nog oor die broek en sy groot gesig staan verdrietig.
‘Wat makeer jou, Koos? Het die miere jou ontstig?’
‘My voet is seer, Ous; ek het gister in 'n
| |
| |
lemoendoring getrap en nou steek dit tog te vreeslik, Ous!’
‘Maak reg jou hempie.... ek sal netnou 'n ghriespleister opsit.... Dan sal jy die melk moet gaan haal, Ouboet, en vir ons ook sommer 'n halwe brood vra.’
Die vader hef sy môrepsalm aan, 'n kragteloos slepende geluid vol lomerige draaie, 'n gedempte roep om Gods ontferming, heimwee na die hemel waar sy afgestorwene leef, 'n hunkering na liefdeslewe. Hier mis Lambertus meer as ooit sy dierbare aanspraak, wat saam met hom kon voel, wat hom kon verstaan. Dis of hy 'n klag van verlatenheid opstoot deur die roue klanke, en sy gedagtes vermenigvuldig deur sy hartsgevoel....
In die kombuis klink die lied soeter, dog die draaie kom Ousus net half-pad deur; sy moet onderwyl ook die vloere vee. Klein vat die besem verder toe Ousus koffie maak. Gelukkig is daar nog van gisteraand se melk vir pa. Sy bring die koppie koffie vir hom op die bed en sê bedees dat daar g'n krieseltjie meel meer in die huis is nie. - Hy gooi sy koffie in die piering, hou dit effens opsy
| |
| |
van sy mond en kyk vir Ousus met so'n strenge blik aan, dat sy haar oë neerslaan as 'n skuldige persoon.
‘Ek het nou die dag 'n vol sak gekoop! Dra julle dit dan uit die huis uit weg?’
‘Pa moenie vergeet nie dat ons vir tant Krissie hulle 'n emmervol moes teruggee, wat ons daar geleen het en Pa weet self dat ons in die laaste tyd amper net mieliepap geëet het’. Dit is die swak verwyt wat haar sagte stemmetjie uitbring en haar oë kyk verwagtend na hom op.
‘Tant Krissie kon gewag het! Jy weet mos dat hulle altoos oordaad in hulle huis het’. Met die wegstap durf sy nog sê: ‘Maar ons moet ons pad oophou, Pa!’ Haar pa se onbillikheid verwek 'n beskroomde teëstand, en die besef dat sy die versorgster is, verskerp haar moedergevoel. Tant Krissie moet vanmôre alweer help en wat omtrent die melk?
‘Ek sal vandag 'n plan maak!’ hoor sy agterna. Sy salige gevoel na die môresang is ongenadig deur Ousus se herinnering versteur. Die aarde het hom al te gou gegryp.
| |
| |
Sy humeur vleg deur sy liggaam op en prikkel sy gemoed om orals fout te soek. So kan sy lewe nie aangaan nie. 'n Kind het g'n oorleg en deursig nie! 'n Moeder sou geweet het wat om te doen!....
Sy groot gestalte verskyn in die kombuis en die seuntjies sê skroomvallig: ‘Môre, Pa!’ maar hengel al om Ousus na sy kortaf: ‘Môre’! omdat hy Klein opsy stoot, wat vir hom 'n soen wou gee. Dadelik het hy egter berou daaroor gevoel, maar om dit vir 'n kind te wys.... Hy vat sy tweede koppie koffie en 'n sny brood van die skinkbord af, asof dit 'n alledaagse gebeure is. En toe Ouboet verleë voor hom kom staan met 'n duidelike vraag in sy oë, sê hy gestreng: ‘Praat, kêrel, praat!’ Ouboet skraap al sy moed bymekaar. ‘Pa, Oom Lewies het gesê dat pa asseblief 'n bietjie moet oorkom.’ Ouboet wil inmekaar krimp onder sy vader se plotseling flikkerende blik en barse vraag: ‘Het hy nie gesê wat ek daar moet kom haal nie?’
Hy antwoord amper of hy wil huil: ‘Nee, Pa, Oom Lewies het net gesê dat pa moet
| |
| |
oorkom asseblief!’ Ouboet trek terug na die beskerming van Ousus toe. Bredenhand se hart klop heftiger. Hy het swaer Lewies se huis gemy na Krissie se uitval op hom. As Lewies hom dan so noodsaaklik moet sien kan hy dan nie die halwe myl oorstap nie? Hulle hou hul daar oorkant soos hoë mense, wat neersien op 'n ander, en Krissie matig haar die hoogmoed aan om vir hom te verkleineer! Sal hy vandag nog agter hulle aanloop? Onwillekeurig betrag hy die spannetjie daar voor hom en sy vaderskap groei.
Ous gee vir haar broertjies elkeen 'n sny brood. Hulle het vanmôre goed geëet. Klein lyk al soos 'n moedertjie vanself. Gawe kinders almal, soos hulle daar staan. Waar is die versukkeldheid? Hulle moeder was ook maar tingerig en tog het sy nog drie dae voor haar dood die huis se vloere self gesmeer. Hulle is g'n blokke nie, maar taai en eerbiedig. Dis net Koos wat vanmôre effens pieperig lyk.
‘Koos! hoe lyk jy dan so knieserig?’
Die outjie kry 'n sieklike glimlag oor sy pynlike groot gesig, wat rooi word van verleë bangheid. Hy wikkel selfs sy lyf agter
| |
| |
Ousus in en laat sy swaar hoof teen haar hang. Ousus spring vasberade vorentoe. ‘Pa, Koos kan nie skool-toe gaan nie; sy voet is seer!’
‘Laat ek sien!’ - Hy trek die griespleister af wat Ous vanmôre opgesit het. ‘Ek sal die doring vanmiddag uithaal, Koos; dis nie te erg nie, jy moet maar loop. Ek verdra g'n lammervanger oor my drumpel nie en as jy vandag uitbly is hy Maandag hier. Hulle aas mos op 'n kind wat uit die skool bly. Trek julle baadjies aan, die reën sal julle anders natmaak, al val hy soos 'n baster dou!....
Lewies het hom laat roep nè? Hoewel hy vol kwessies is teenoor Lewies-hulle daar oorkant die spruit, lê op die bodem van sy hart tog die behoefte aan hulle vrindskap, wat net deur koppigheid daar gehou word. ‘Hê jy nie dalk gehoor wat jou oom wil hê nie, Ous?’ Sy weet van niks en was met Klein in stilte die skottelgoed.
Hy stap na buite. Die frisheid stimuleer sy gees tot verset. Gewend om blindelings gehoorsaam te word in sy huisgesin, is dit vir hom moeilik om self te gehoorsaam. Hy voel
| |
| |
wel dat hy oorkant-toe moet gaan, dog hy wil om die dood nie wys dat hy verleë oor hulle is nie. Hy eerbiedig slegs spontaan en sonder argument die Hoogste gesag. Swaer Lewies - hulle moet hulle nie verbeel dat hy agter hulle aan sal loop nie. Omdat hy 'n privaat possak het, en die grootste deel van Sluis besit, dink hy dat hy god van kafferland is! Hy kan maar wag! - Eers gaan hy nou sy ou moeder môre sê....
Sinds haar weduweeskap woon mevrou Bredenhand by haar jongste seun Sarel in, ofskoon sy soms wekelank by Krissie kuier. Daardie huisgesin is egter effens te luidrugtig; die geaardheid is so geheel anders as wat haar opvoeding was. Sy voel haar meeste tuis by haar skoondogter Lena, al het dié soms ook 'n haastige humeur.
Elke môre kom Lambertus haar gereeld 'n besoekie bring en sy is verwonder dat hy nou so laat is. Die weer het hom sekerlik gehinder. Die arme pakesel kry darem swaar.... Haar ou moederhart is onuitputlik om vir haar oudste kind se gedraginge 'n uitleg of verskoning te vind. Sy kan geen tekort- | |
| |
komings in Lambertus sien nie, en wanneer sy hulle opmerk dan sal sy moederlik met hom onder vier oë daaroor gesels, want sy is hoogmoedig op die begaafste van haar kinders; hy is so vernuftig as sy oorlede vader was. - Die grootste genot van sy teenwoordigheid smaak sy Sondae wanneer hy om haar ontwil kom boeke-vat. Dan herleef haar gees die ou tye van haar huweliksgeluk. Sy word getroos en Lambertus se gebed salf haar siel. Hy lees so duidelik; sy stem is soos die van 'n leraar en hy lees so na die komma nes sy oorlede vader. Kompleet dieselfde vernuf en handigheid met die gereedskap, - en die werk van haar oorlede man was volmaak! Dat die mense hom so swak betaal is onkristelik; hy werk tog hard en is gedurig op sy voete.... Sy wag effens ongeduldig op sy koms in die agterhuis op 'n gerieflike lae veldstoel wat hy ook vir haar gemaak het, en kort-kort verneem sy of hulle hom nog nie geware nie, tot ergernis van haar skoondogter Lena, wat die gereelde besoeke net pure tydverspilling beskou. Sy sal vir Sarel verwilder as hy so sou maak. Haar man
| |
| |
ken gelukkig tyd se waarde. Sy hoop om voor Krissie-hulle groente te hê vanjaar. Maar dié liewe Lammie kan g'n tyd vind om 'n tuintjie om te spit nie. Hulle sal maar weer hulle oor die halwe weeskindertjies ontferm en baie deur die skêr se oog laat val. - Hoekom pak hy nie liewerster sy gereedskap op sy rug nie en stap die wêreld in om werk te soek, al is dit waar! Deur hierdie kuiergewoonte van hom bly sy maag vol kos, terwyl die arme magies tuis opgeblaas word met mieliepap.... Hier kom die ou nogal so ewe haastig.... 'n mens sou sweer dat hy te laat vir die sinode is.
‘Môre, sus Leen! Julle is al op? Ek dag ek kom kry julle nog in die kooi, toegetrek onder die kombers soos die son agter die wolke!’
‘Ons het die son nie nodig om vir ons te wys hoe lank dit dag is nie, boet Lammie.’ Sy sê dit vrindelik want hy is tog hulle ouboet.
Hy voel die steek nie eintlik nie, maar stap met 'n bedrukte gesig na sy ou moeder toe en groet haar eerbiedig. ‘Hoe gaan dit nog met moeder?’
| |
| |
Sy trek die tjalie digter om haar skouers; die lug is effens te koel vir haar vanmôre. ‘Lena, jy kan gerus die agterdeur toemaak, my kind!’ Sy wink hom op die stoel langs hare.... ‘Nee, Lammie, ek voel deur die Goedheid nog gesond!’ en vra belangstellend na die kindertjies. Die skerp uitvalle van Krissie oor haar Lammie en ook Lena se seël daarop het haar droewig gestem.
‘My liewe moedertjie, dit gaan met hulle nog gelukkig goed deur die Goedheid van onse Vader; daar is niks te klae nie; hulle is gesond en eet hulle elke dag nog dik. Kosie was vanmôre effens knieserig oor 'n doring in sy voet.’
‘Jy moet tog maar al te mooi na Kosie kyk. Daar kan dalk kwaad inkom. Jy weet mos dat ek al te gek na Kosie is!’
‘Nee moedertjie, Ma is verniet bekommerd om hom. Ek sal die doring vanmiddag uithaal, dan sal die ghriespleister hom effens losgetrek en saf gemaak het.’
‘En verder gaan dit goed?’
‘O, ja my mammie, niks te klae nie, deur die Goedheid gaan dit eersteklas!’
| |
| |
‘Maar weet jy watter praatjies hier rondgaan, juis oor jou kindertjies, boet Lammie?’
Sy bedrukte onderdanige houding slaan skielik oor na heftigheid. Vinnig draai hy sy groot kop met skerp oë na Sus Leen en sê bitsig: ‘Die wat agter my praat is my volk!’
‘Ek wil darem sê, boet Lammie, praatjies maak gaatjies, en dis vir ons baie pynlik om hulle aan te hoor.’
‘Wie is ons, sus Leen? Jy meen die praatjies lê die hele wêreld vol. Ek steur my nie aan hulle nie.’
‘Los hulle maar, boet Lammie, maar ek wil jou aanraai om in die belang van jou en jou huisgesin uit te spring. Ons sal wel kyk dat hier niks verkeerd met jou kinders gebeur nie.’
Hoewel Lambertus bedaard skyn, begin die moeder onrustig te word. ‘Lena, bly tog stil, my kind, al daardie kaf bring net ergernis en sonde!’
‘Ek weet wie die ergernis begin het,’ sê Lambertus taamlik bedaard maar heftig vervolg hy: ‘Sus Krissie het my 'n ruk gelede gruweloos beledig, en dis sy die!’
| |
| |
‘Stil my kind! Krissie is 'n Bredenhand! Jy is maar net so! Julle moet mekaar verdra!’
‘Maar sy praat oor so baie waar sy geen rekenskap van kan gee nie. Ek het dan g'n liefde vir my kinders nie; ek behandel hulle soos honde, - ek is erger as 'n hond! Dis reg!.... Moeder moet my nou goed verstaan, ek vertroetel en bederwe myne nie soos sy met hare doen nie, - ek bring myne op in onderdanigheid, om eerbied vir die ouer mense te hê en bo alles om God lief te hê.... Ons lewe maar tydelik op hierdie aarde, Moeder!’
Hy stop sy pyp met stadige wysvingerskrape uit sy tabaksak uit en kyk sy bewoë moeder aan, wat met geboë hoof onder die indruk gekom het. Sy skerm vir haar twee oudstes en bid dat die liefde bewaar mag bly....
‘Lena, bring tog vir jou ouboet 'n koppie koffie en 'n sny brood, my kind!’
Terwyl haar dogter in die kombuis werskaf, gee die moeder vir haar oudste seun 'n sieling. - Sy ontvang gereeld 'n bedraggie
| |
| |
van die kerk. ‘Jy moet maar vir jou kindertjies 'n stukkie vleis koop, Lammie, my kind, en kyk tog mooi na Kosie.’
‘Ja dankie, Moeder, ek sal! Met 'n swaar sug steek hy die geldstuk in sy onderbaadjiesak en kyk afgetrokke deur die tabakrook.... Sy pyp kom op die tafel en die piering op die punte van sy linkerhand se vingers; hy doop die brood in die koffie en hap groot byte uit die dik sny. Onder die gekou kry Lambertus se gesig 'n pynlike trek en sy oë staar na die voetstofie van sy moeder.
Wat hinder jou, Lammie? Jy lyk vanmôre vir my so ontroer in jou gesig.’
Haastig kyk hy op. 'n Flou glimlag kruip weg in die kriewels van sy baard. ‘Nee, Moeder, dis sommer moeder se verbeeldentheid .... Ek dink nou net oor swaer Lewies. Hy het my mos vanmôre laat roep.’
‘Jy moet maar gaan my kind; altemit het hy 'n werkie vir jou om te doen.’
‘Ek sal hom vandag wel bykom, Moeder; ek is nie haastig nie.’
‘En wat gaan jy vandag werk, Lammie?’
| |
| |
‘O, Moeder, ek het te veel te doen om op te noem. - Sus Leen dink altemit dat ek stilsit. Ek sal maar net effens aanstip van wat vir my staan en wag. Die sersant het my laat roep om die perdestal 'n sementvloer te gee; my tender is in. Ek moet 'n stel stoele maak vir iemand op die dorp, met gedraaide pote. Dit beteken ek moet spesiaal vir my 'n draaibank maak en spesiale beitels daarvoor kry; want dit moet juis fyn riwwe oor die pote wees. Ek kan dit doen, Moeder. O ja! dis maklik! Maar moeder moet nou goed verstaan, dis neën-en-twintig pote vir ses stoele en 'n rusbank, want die rusbank moet vyf pote kry en elke poot moet akkuraat net soos die ander een wees en van swart stinkhout gemaak. Daar lê nou juis my moeilikheid, Moeder; ek het nie swart stinkhout nie en waar is die geld om dit te koop? Werk genoeg, Moeder!.... dis onkans wat my in die pad steek!’
‘Ja, Lammie, ek verstaan, maar jy moet tog maar 'n plan maak, my kind! Laat ek vir jou die goeie raad gee, my kind. Loop nou direk oor na Lewies-hulle toe. Moenie
| |
| |
vir die duiwel 'n plek tussen julle gee nie.’
‘Wel, Moedertjie, ek sal dan maar oorstap soontoe, maar ek wil reguit sê dat ek nie haatdraend is nie; ek voel net bitter beledig; hulle sal waarskynlik al vergeet het wat hulle gedoen het. Ek sal maar loop, Moeder.... As elke mens na homself kyk, dan sal ons op Sluis nooit hoor van sonde nie!’ |
|