| |
| |
| |
Hoofstuk II
Weerskante die sluisloop lê strepe stompgevrete wintergesaaide, wat die beskikbare water maklik sou kon grootmaak indien die sprinkane dit nie verhinder het nie. Soos rooi stofstorms het die swerms bo die vlakte uitgekom, daarop neergesak na hulle laaste skof, om volgens hulle wintertaktiek in verspreide aanval eers die veld en daarna die gesaaide by te trek, stadig, gewis, onkeerbaar. Die groen akkers het na uitgedorde lande in die droogte begin lyk voor die oë, wat magteloos die ramp moes aanskou, en die kwynende vee het dwalend op die veld na voedsel rondgesoek.
Aan die eenkant van die spruit, bokant 'n streep land, staan 'n koppie wat op die vlakte verdwerg tot 'n miershoop, en aan sy voet lyk die woning van Lambertus Bredenhand soos 'n baksteen. Van die bewoners op die plaas Sluis is hy die enigste wat nie direk deur die sprinkaanramp getref word nie. Hy dank die Vader dat hy nie behoef te swoeg vir 'n loon wat op die
| |
| |
oomblik van ontvangs nog weggeneem kan word nie. Toe hy uit sy besitting uitgeraak het, deur die regmaak van 'n hopelose boedel, het sy gesonde verstand hom oortuig dag sy toekoms as 'n bruikbare man, wat homself bekwaam ag vir al die ambagte, sekerder is. Die sake het ewewel nie geloop soos hy dit verwag het nie. Hy het 'n sukkelbestaan gevoer, dog koppig volgehou dat daar g'n rede om te kla in sy huisgesin is nie. Maar hulle wat sy huisomstandigheid ken, het dikwels hul hoofde meewarig geskud en hom agteraf verwyte toegeslinger of belangstellend met hom daaroor gepraat, waaroor hy dan ook steeds dankbaar was.
Oënskynlik bly Bredenhand onbekommerd. Selfs na die dood van sy vrou het hy min bedruktheid laat blyk en om die knoue wat die lewe hom gegee het nooit gemurmureer nie. Sy kinders kla nie, die gebrek was nooit oor sy drumpel nie, en al mis hy 'n moeder daar binnekant, dan voel hy tog gerus dat daar voldoende vir sy kroos gesorg word. Sy grootste grief is dat sy familie hulle te veel met sy huislike sake bemoei deur
| |
| |
die oordrewe bekommerdheid wat hy haat. Hy het ook 'n stille aanklag teen die maatskappy, wat hom en sy werk, begaafd as hy is, nie waardeer nie, sy persoonlikheid krenk en sy arbeid swak betaal. Hy is so goed as enige ambagsman, maar moet met 'n afskeep-loon tevrede wees. Die hele toeleg van die maatskappy is om hom te verkleineer; hy kan nie vorder nie; selfs by Dirkie moes hy onverrigtersake omdraai, hoewel hy tog nie heeltemal ontmoedig was nie. Hy sal haar weer bykom.... met een ordentlike kontrak is hy voor....
Die besoek aan Dirkie lê al ruim veertien dae agter die rug. Hy kom nou van die winkel. Fisher het weer gelol oor 'n paar sielings skuld. Dis die ou se politiek om 'n werk amper verniet gedaan te kry. Hy laat eers voel wat jy aan hom verplig is, om jou daarna in te palm. Hy sal op die werkie verloor, maar om nog 'n paar sielings skuld te kry moes hy dit so goedkoop aanneem. Selfbewus stap hy in die rigting van die koppie. Rondom tot aan die horison strek die vlakte hom uit, yl besprinkel met opstalle, bywoners-huisies,
| |
| |
struise en kolle bloekomplantasies. Die landbougees is deur die plaat nie gebreek nie. Orals wys groot donker blokke omgeploegde aarde dat die boere van Sluis vanjaar eers meen om te saai sodra die gunstige oomblik daar is. Hy beskou die arbeid as 'n verlore krag, sweet vir die sprinkane, wat vanjaar die akkers gaan kaal skeer in 'n paar minute. Die verstand kan nooit sy voordeel uit die kluite haal nie. Adam het nou eenmaal die vloek op die aarde gebring. ‘Dis die wêreld se beloop!’
Die bottende veld wag op die eerste reën. Armoedige beeste in hul verskrompelde pluisvelle skeer die yl grassprietjies gulsig af, of staan moed-verlore hier en daar op die vlakte in 'n dood-kom-vat-my houding.
Hulle pote is onwillig om hul ligte lyf verder te dra; hulle moet na die werwe aangestoot word, anders sal hulle daar op die plek bly lê en vrek. Bredenhand se hart sê dankie, dat hy die bekommernis vandag nie het nie.
Duskant die koppie is Sarel Bredenhand se opstal. Daar woon sy ou weduwee- | |
| |
moeder. Dis 'n aanleg, wat vorentoe streef, dog dis merkbaar dat die proses met rukke en stote gaan, want die bou van die huis wys dit met sy aangelaste stukke. Dit lyk meer na 'n koeliewinkel, en dit hinder Lambertus telkens as hy daarna oplet. Sarel het g'n oog, g'n smaak nie. Die boerdery het die ou se gees uitgehaal; hy is 'n gebore sukkelaar. Nou is hy weer besig om 'n koei langs die kraal op te help. Sus Leen is by hom en.... by my kool, sus Krissie met haar popperige lyfie help hom ook. Is sy nie bang dat sy haar rok sal besmeer nie? Hy sal ook maar soontoe stryk en hand bysit!
Die pakkie goed van Fisher sit hy op die kombuistafel, roep sy ou moeder 'n groet toe deur die agterhuis en kom by die gewerskaf met outoritêre gebare.
‘Wat sukkel julle drie grootmense dan so? Julle vat te ongelyk. Sarel, ek sal die kop vat en jy die stert. Julle twee kan eers vir Sarel weerskante help optel. Sy is mos maar 'n ligte ou dingetjie.’ Die eienaar van die bees mopper. ‘Sy help glad nie saam nie
| |
| |
- dooie gewig is die swaarste gewig om op te tel.’
‘Die veld maak hulle so kragteloos, dat hulle moed verloor,’ sê Krissie verskonend.
‘Dit help nie om te praat nie! Beur net gelyk! Reg? Toe maar!’
Bredenhand voel sy meerderwaardigheid. ‘As ek jy is, hang ek haar tussen vier pale op, om die bloed 'n kans te gee om te loop, anders kan jy haar maar keel afsny.’
‘Ja, dis omtrent die beste plan, Ouboet.’ Sarel weet egter dat Lambertus nooit die vier pale sou plant nie. ‘Stap jy saam tuintoe, Ouboet?’
‘As ek jy is gee ek eers die koei so'n handjievol voer. Jy het mos genoeg ge-oes voordat die sprinkane gekom het?’
‘Ja, Ouboet, ek kan so'n plan maak. Ek het nie te veel nie, want ek voer my osse gereeld. Ek hoor mos dat die regering mense aanstel, amptenare om die sprinkaanswerms te spuit.’
‘Wie 't vir jou vertel, Boet?.... Ek is baie daarop teë; dis 'n verkeerde ding, wat ons regering wil aanrig!’
| |
| |
‘Swaer Lewies het glo 'n berig daaroor ontvang. Ek ontmoet hom nou die dag by Fisher, ek glo gisteragtermiddag; hy sê toe vir my: Boet Sarel - Boet Sarel, sê hy, ons gaan 'n sprinkaanbeampte kry. Ek vra vir hom toe wat ons met die artikel moet maak? Swaer Lewies meen dat so'n amptenaar glo inspeksie moet gaan hou met spuite en sprinkaangif.’
‘En so wil hulle probeer om die straf van Hoërhand dood te spuit? Nee, Boet Sarel, hulle sal dit nooit regkry nie; ons wil hier direk teen die bestier van die Alwetende Voorsienigheid ingaan. Ek sê, dis sonde, Boet; die regering maak 'n fout!’
‘Solank as daar 'n end kom aan die plaag het ek vrede, Ouboet. Hulle sal hier seker ook 'n beampte aanstel, want die vlakte is vergewe.... Baie dankie vir jou hulp, Ouboet! Totsiens!’
‘Swaer Lewies sal wel daarvoor sorg dat hy die jop kry. Hy is danig in-die-Ko!’ roep Lambertus hom agterna, en terwyl hy in die huis wil gaan trek sus Krissie hom aan
| |
| |
die arm eenkant-toe. Sou sy die aanmerking oor haar man gehoor het?
Hy voel effens ongemaklik daaroor, dog dadelik geruster, toe sy in een van die hoekies van die onreëlmatig geboude huis, saggies sê en met blye oë hom reguit in die wese kyk: ‘Ek wil vir jou 'n geheim vertel, Ouboet! Jy praat met g'n sterfling daaroor nie, gehoor?’
‘Wat se geheimsinnigheid is dit dan so danig, Sus Kris? Het swaer Lewies vir hom 'n motorkar gekoop?.... Goed ek sal stilbly!’
‘My liewe Ouboet, nee, maar sonder korswil, sal jy nie bly wees nie, Ouboet, wanneer jou kindertjies nie langer gebrek hoef te ly nie?’
Die huis se hoek word wyd vir hom en vir haar eng. Sy oë blits in hare en die man word groter voor haar oë.
‘As dít jou geheim is, moet jy op die plek jou mond toestop!’
Haar lieftallige besorgdheid het die vonk van onverdraagsaamheid teenoor sy familie se bemoeiings met sy huissake tot vlamme
| |
| |
aangeblaas. Hy weet wat in die agtergrond van haar gedagtes steek, 'n stille beskuldiging van verwaarlosing en selfsug. Hy het al baie van die skimpe moes opvreet.... Maar sy is ook 'n Bredenhand soos hy.... Sarel het die ou weduwee-moeder se aard - - en geen huis se hoek bestaan meer nie, geen Sluis met al sy oë en ore nie.
‘Jy is danig gou op jou perdjie, nè? Of dink jy altemit dat dit volop in jou huis is?’
‘Daar het jy niks mee uit te waaie nie! Kyk na jou eie huis en gee jou eie kinders 'n beter opvoeding, sodat hulle 'n oumens kan respekteer!’
Maar tog verswak sy toorn. Sus Krissie groei hier voor hom in haar heftigheid; hy geware weer die huis se hoek en voel die behoefte om hulle in die skuiling in te trek. Haar oë flikker nou in syne, wyl haar snydende woordevloed in sy gemoed inkerf.
‘Los vir my en my kinders, Lambertus, jy is verblind. Jy is te selfsugtig om die ellend van jou kinders raak te sien. Hoe lyk jou Kosie? Verpot soos 'n verboepte varkie! Dit
| |
| |
word tyd dat jy jou oë oopmaak! Jou kinders het hulle moeder verloor en hulle vader verwaarloos hulle! Ousus moet bontstaan en sorg! Hoe versukkeld lyk die arme kind alreeds; die plig is vir haar te swaar, al doen die arme kind haar bes!’
‘Suutjies, Sus Kris! Jy sal moet bewys wat jy daar sê! Ek wil niks meer hoor nie!’
‘Goed, ek sal stilbly en ek gaan jou ook niks van die geheim vertel nie. Jy moet dit self maar eendag uitvind!’
Driftig verdwyn sy uit die hoek uit. Bredenhand se humeur is in sy pad om na binne te gaan. Hy vat die pakkie en loop sonder om selfs sy moeder te groet....
‘Pa, Ouboet het die boodskap van meester gebring en meester sê dat Pa 'n bietjie moet oorkom as Pa tyd het, asseblief.’ Sy dogter, vyftien jaar oud, met donkerbruin oë wat skigtig na haar Pa en na die pakkie kyk, 'n tingerige figuurtjie in haar skrapse klere, 'n oulike gesiggie ernstig vir haar jare, ontmoet hom in die kombuis.
'n Hoofknik is sy antwoord. Ousus kan sien dat haar Pa nie in die beste stemming
| |
| |
is nie en sy voeg haar weer by Kleinsus in die blomkampie voor die deur, waar die jongste met 'n tuinvurkie sit en kap, in gedagte versink. Sy lig haar ogies, dieselfde van vorm en kleur as Ousus s'n en veronderstel:
‘En sê nou die sprinkane kom weer, Ous? Hoekom verplant ons dan die blomme?’
‘Hulle sal nie weer kom nie, Klein!’
‘Hoekom sal hulle dan nie weer kom nie, Ous?’
‘Karel van oom Lewies het vanmôre vertel dat die regering almal gaan doodspuit.’
‘Almal, Ous?’ Dis vir die dogtertjie, wat volgende jaar skool-toe sal gaan, te baie. ‘Maar sê nou hulle kom darem party van hulle weer?’ Sy sien die lewendige tapyt van sprinkane wat hulle tuintjie 'n paar maande gelede toegemaak het, en die tapyt oor die werf so ver 'n mens kan sien, net een lewendige bedekking, en dis te baie om almal dood te maak.
‘Dan moet hulle maar weer kom en ons slaan maar weer op blikke dat dit so kletter en ons maak hulle skrik dat dit so gons
| |
| |
.... maar die regering sal hulle doodspuit, - ons kan nie sonder blomme bly nie!’
‘Waar bly die regering, Ous?’ Haar oë bly vol gedagte in die lug in staar. ‘Die sprinkane vlie mos oor die hele wêreld. - Hoe gaan hy hulle doodspuit?’
‘Dis sonde om teen die Here op te staan!’ kom die dreunende stem van hulle vader, wat van die voordeur sy twee dogters opgeneem het. Versukkelde kinders lyk mos anderster! Kinders wat gebrek ly sal uit hulselwe in geen blomtuin werk nie. Krissie maak verniet kwessies!....
‘Ja, Pa, dit is!’ stem albei saam en hulle oë vra vir mekaar, wat hulle geen van bei kan antwoord nie; pa is ook al uit die voordeur uit.
Die vader frommel in sy gereedskapkaste. Dis sy kosbaarste besitting. Alles blink van nuwigheid en is sorgvuldig op sy plek. Soms kan hy so lekker sit en wegdink, wanneer hy stuk vir stuk daar uitneem en gewigtig inspekteer asof hy relikwieë in sy hande het. Sy kwaaiste humeur bedaar. Hiermee kan sy verstand bestuur, sy liggaam werk, en hy
| |
| |
die bestaan van sy huisgesin verseker. - 'n Beitel gly vir 'n rukkie suiwer oor die oliesteentjie. Skerp trek sy oë saam met sy duim oor die vlymskerp sny van die glinsterende stuk gereedskap. Meester het heel waarskynlik vir hom 'n werkie. Die ou kan goed betaal, want hy verdien 'n vet salaris elke maand. Wat hy op Fisher se werk verloor, kan hy maklik uit meester uithaal. 'n Ander stuk gereedskap gly nou oor die oliesteen en 'n glans van voldoening bestraal sy wese. Hy hoef nie rond te gaan om werk te bedel nie. Sy werk is goed, al wil die mense dit nie waardeer nie. Sy dag sal egter kom!!
Met dié opbeurende gedagte verlaat hy sy woning, na die skoolmeester toe. Daar makeer iets aan die huisorrel; baie van die tone gaap, pleks van klink. In meester se teenwoordigheid gaan Bredenhand soos 'n geskoolde ambagsman voor die musiek sit en laat sy vingers oor die toetse gly. Die voorkop vol rimpels wys hoe hy peins, en die blik bokant die instrument teen die muur geplak help hom om te dink. Hy het die kwaal nagespeur, ontleed en vasgestel.
| |
| |
Dralende trek hy die skuifklap oor die toetse, skud sy behaarde kop en sê bedenklik:
‘Dis 'n groot werk hierdie, Meester; hy het lelik benoude-bors, en as dit so aangaan sonder doktershulp kry hy asma. Die stoppers werk aan elmboë; hulle kan nie meer die klappe behoorlik teen die fluitjies toedruk nie; party van die tongetjies is af en party is stram van die stof. Die ding is so vuil as 'n dorsmasien, Meester. Dit sal 'n skoonmaak kos van elke onderdeeltjie; die hele musiek moet uitmekaar: voorklappe, agterklappe, die blaasbalk, al die toetse; en 'n paar nuwe tongetjies sal ek moet maak.’
‘En wat sal dit dan kos, meneer Bredenhand?’
‘Dis moeilik om dit nou al te sê, Meester. Ek werk maar gewoonlik vir tien sielings per dag en dit sal sekerlik twee dae se werk kos; ek reken een pond sal omtrent reg wees, maar dan sal ek hom guarantie, Meester!’
‘Goed, meneer Bredenhand, kom dan maar môre vroeg.’
| |
| |
Die môrelig gly oor die vlakte en vang Sluis se ambagsman met 'n bladsak, waarin die nodige gereedskap is, oor sy skouer, op pad na die onderwyserswoning. Bredenhand gaan in 'n vrolike stemming voorwaarts. Hy hou van die werk wat hom wag; al sy ander joppies sal hy daarvoor opsysit, bewus as hy is van sy musikale talent.
'n Mens moet sy kop gebruik, want dis 'n partieklar werk om so'n huismusiek reg te maak. Fisher moet maar vir eers 'n rukkie wag. Kontant gaan voor skuld indien.
'n Mens kan sy aard nie verander nie! Sonder om die minste bedenking by meester op te wek, kan hy maklik tot sonondertoe met die werk gedraai het, al was die net om vir meester te oortuig dat sy skatting van twee dae se werk reg was, en dat hy eerlik sy pond verdien het. Maar hy kry dit eenvoudig nie reg om sy ewe-mens te kul nie. Hy was skaars 'n dag en 'n half met die musiek aanmekaar en een pond het hy speelspeel verdien.... Vyftien sielings gaan op die skuld by Fisher af, dan sal hy, wanneer
| |
| |
sy werkie daar ook klaar is, kiets wees. Die res kan hy aan sy huis bestee.... Tevrede oor homself, vat Bredenhand sy gereedskap bymekaar in sy bladsak. Hy steek sy hoof, regterarm en blad deur die riem toe meester in die kamer kom en vriendelik rondkyk.
‘Ek het gisteraand nie gedink dat jy alles weer op sy plek sal kan terugsit nie; die musiek het die vloer vol gelê. - Dit lyk na besigheid!’
‘Soos u sien, daar staan hy! Hy kan weer brul. Maar hy was lelik verkoue, Meester, en het 'n dokter baie nodig gehad, glo vir my. Nou is sy bors weer oop en die lug kan daardeur blaas tot hy lekker kry! Luister net!’
Bredenhand trek al die stoppers oop en die swaarste geluid wat 'n psalmwys deur die instrument kan deurdruk, vul die huis. Dis graftone na Lambertus se sin en toe hy by die reël kom, sing hy met harde basstem saam: ‘Zijn mij uw huis en tempelzangen’.
Na 'n reeks van akkoorde staan hy swyend op en sy glansende oë vra vir die luisteraar: ‘Hoe lyk dit vir jou, Meester?’
| |
| |
‘Hy klink soos 'n kerkorrel! Jy het 'n dag en 'n half, nie ten volle nie, maar sê maar 'n dag en 'n half daaraan gewerk en dus skuld ek jou vyftien sielings.’
Bredenhand se gelaat word stroef. Hy voel vol argument, maar weerhou die eerste woord, omdat die huisvrou binnekom met die tee en die vriendelike opmerking: ‘Ek het ons orrel nie herken nie; die huis het eintlik gedawer! Drink eers 'n koppie tee voor jy loop, meneer Bredenhand.’
Lambertus voel onklaar vir opposisie. ‘Dankie, juffrou! Ek sal hom speel dat hierdie tafel op sy pote tril!’
‘Asseblief tog nie vir my nie!’ Haar oë glimlag in die van haar man.
En onder die staan en leegdrink word die feit, dat hy vyf sielings sommer goedsmoeds gaan verloor, weer prominent vir Bredenhand, wat teësinnig voel dat sy weerstandsvermoë in hierdie sfeer skadeloos is, selfs toe hy die volgende slag ontvang. Met 'n glimlag en 'n gemoedelike stem maak die onderwyser vir hom duidelik dat 'n amptenaar gedurende die laaste helfte van die maand
| |
| |
meesal kort van geld is. ‘Sodra die tjek kom sal ek met jou regmaak, meneer Bredenhand.’
‘Ja, Meester, ek verstaan! - ek wil sê - ek het die geld op die oomblik baie nodig - 'n mens moet maak soos ky kan - ek sal darem klaarkom.’
Lambertus se stroewe gelaat ontplooi toe hy hand gee, dog verstrak dadelik met die wegstap. Onbewus kom sy gestalte regop en sy hoof buig effens agteroor, deur die loskom van die verdronge besef van eiewaarde, wat sy persoonlikheid tragies beheers. Die ewige kwessie tussen dagwerk en stukwerk! Hy het weer aan die kortste end getrek. Dit gebeur so seldsaam as 'n verjaardag, wanneer hy met voordeel stukwerk kan doen. Die mense beknibbel sy dagwerk omdat hy oor hulle verleë is en hulle nie oor hom nie, of uit armoede of vreksuinigheid. Met sy stukwerk kry hy meesal by Fisher 'n kans, maar die Jood beknibbel dit soos 'n stuk beskuit. Hy kom steeds onderkant hulle uit en die krenkende rede is dat hy moet aanneem, wat hom aangebied word. Sy pas versnel
| |
| |
en deur sy gedagte trek die tergende feit van sy afhanklikheid. Dis agteruitgang deur teëspoed op teëspoed in die boerdery, misoes, geen mark nie, sprinkane, grondbelasting, skuld en uiteindelik die boedel na sy vrou se dood. Hy moes sy grond verkoop, sy beeste, sy wa, sy perd. Hy kan sy gevoelens nie meer onderdruk nie, hul borrel uit.... Gebore en groot geword op Sluis!.... nou bly hy op 'n vergunninkie. Dit was ook so'n verneukslag daardie! Swaer Lewies het alles mooitjies sit en aanskou. Swaer Lewies het gewag tot hy sy slag kon slaan en toe hy slaan, was dit kastig uit jammerte vir die weeskindertjies. Met die kinkel- en konkeldraaie van sy gladde tong het hy hom oorweldig, oorbluf soos hy in daardie dae was, en besitter van sy eiendom geword, vir die helfte van die waarde. Bredenhand voel of hy na reg nou besitter van sy grond moet wees. Hulle is verplig om hom 'n woonplek op Sluis te gee. Hy is die oudste van die Bredenhands en het die grootste seggenskap in die sake wat hulle moeder betref. Hulle moet hom eer! Dis sy reg! - en vandag moet
| |
| |
hy maar ewe geduldig die affronte, grille en grappies van sy ewenaaste verwerk en verduur om in die goeie guns te bly. So is hy verneder! Eergister deur Krissie, flus deur meester.... Krissie sal haar woorde weer moet insluk. Hoekom foeter die familie met verkeerde jammerhartigheid oor gebrek, verwaarlosing en liefdeloosheid? Krissie is die kwaaiste totebel. Laat sy haar eie kinders 'n opvoeding gee en syne vir 'n voorbeeld vat! Syne sal hy oplei langs die ou paaie, waarop hy ook geloop het met die hulp van God.... Hy weet dat hy sy plig doen teenoor sy huis. Die wêreld se beloop bly maar opdraande.
Hy kom nou agter dat sy gedagtes taamlik rond en bont gespring het met homself. Dis darem verspot om so doelloos hot en haar met jouself te redeneer!.... Wat win 'n mens daarby? Die paar sielings sal hom nie arm maak nie.... Sy dag sal nog kom!
Hy hang sy bladsak bo die gereedskapskaste in die kombuis op en sê: ‘Bring vir my waswater, Ous!’ |
|