| |
| |
| |
Hoofstuk I
Onder die afdak waar Fisher al die rommel van sy winkel wegpak, staan Lambertus Bredenhand en neurie-fluit. Hy kry dit reg om die twee geluide te laat saamsmelt wanneer sy onbewuste rebelleer teen die eentonigheid van fluit of neurie. Hy het 'n uur lank onverpoos herhaal 'n ouderwetse deuntjie van 'n bedroefde meisie wat aan die oewer van 'n snelle vliet gesit en treur het, terwyl 'n vloerplank of 'n greinhoutbalk of 'n spyker onder sy gereedskap deurloop. - Dit lyk soms of die twee inhaak om verder die tussensang voort te sit onder die saaggeknars en hamerhoue, tot alles eensklaps swyg toe 'n kar daar voor die winkel stilhou. Die saag rus op 'n vloerplank. - Bredenhand gaan op een van die negosiekaste sit en stop bedaard sy pyp om 'n paar minute, onder die rustige optrek van rookwolkies, aan die afleiding daar voor die winkel te gee. Sy reëlmatige gesig, effens rimpelrig om die oë, kyk afgetrokke langs die kar verby, asof die gedagte besig is om
| |
| |
sake te kombineer. Oom Karel Coetsee en tant Mieta, nè?.... Die perde begin al te verhaar.... Ja, dis mos môre nagmaal. Hulle sal g'n nagmaal oorslaan nie, of dood of siekte moet hulle keer!
Hoewel hy dikwels daaroor gepraat het, val hom die kerkfees nou eers weer te binne, en tewens kom die pynlike bewustheid in hom op dat hy weer nie kan gaan nie. Die voorbeeld wat die ou mense gee, word deur die omstandigheid van die wêreld vernietig; ons loop geknelter in 'n kamp en die jongspul is losgelaat op die vlakte. Die tyd van laertrek op die kerkplein is verby, net soos die vader se priesterskap in sy huisgesin stadigaan verdwyn. Oom Karel hou sy waarde, ek probeer om myne te hou; maar die jonggetroudes maak met hulle hoë roeping of dit speelgoed is. En daarom word die mens so oppervlakkig dat die een se leed die ander een se welbehae is.
In die tot pulwer gemaalde winterpad skommel die wit kapkar, terwyl twee ou mense, deeglik toegebaker met jas en kopdoek, tydsaam en gewigtig daarin klim.
| |
| |
Twee bruin perde word opgetrek, en die rytuig swaai in die opslag van 'n stofwolk weg. Afgetrokke hang sy oë aan die skommelende kapkar in die stofwolke, en Bredenhand voel 'n verlange in hom opkom soos dikwels in die laaste maande van sy eensaamheid. Sugtend mompel hy: ‘Dis maar die wêreld se beloop!’
So het hy in die verlede ook na die nagmaal toe gery tot die dood hom sy vrou ontneem het. Dié ramp het hom afgetrek tot waar hy vandag staan. Sprinkaan! Skuld! Boedel! Die omstandigheid van die lewe! Maar hy sal nie sommerso hensop nie! Hy kan sy brood, Goddank, verdien; sy hande staan vir niks verkeerd nie! - Hy is nog Lambertus Bredenhand, die ouboet van die familie, al besit hy vandag geen duim grond meer op Sluis nie....
Hy klop sy pyp uit en met 'n sug stoot hy die saag in die lang sny van die greinhout hier onder sy knie, en sy baard knik met sy gedagte saam, terwyl die stuk gereedskap met lang, stadige hale in die balk invreet.... Ja! Ja! Die ou mense gee ons
| |
| |
'n voorbeeld; maar hulle het ook die grootste voorreg van hulle ouderdom. As sy oorlede vrou nog in die lewe was, sou hy nie vandag onder hierdie afdak gestaan het nie, gebonde, ongered en eensaam as hy teenswoordig is. En om vir swaer Lewies of boet Sarel te vra om saam te ry, kan hy nie doen nie; elke herinnering aan sy verswaarde toestand is pynlik en vernederend vir hom. - As die Here se wil daarby is, sal hy later weer self 'n man van besittings wees; net een ordentlike kontrak sal hom op die been bring! En dan sal hy ook nie meer allenig bly nie. 'n Man soos hy is maar 'n halwe mens; 'n hulpe neffens hom sal die voorspoed weer verdubbel....
Onwillekeurig meng die fluit en neurie van die bekende deuntjie weer met sy gedagte; die saag knars somwyle skerper en die treurige wysie beheer die tempo van sy stote. 'n Hulpe neffens hom....! Die vrugtelose gesoek na 'n maat vir hom in sy omgewing het hom al onverskillig gemaak vir die hubare vrouspersone op Sluis....
'n Glimlag speel om sy oë terwyl die drie- | |
| |
tal voor sy gees passeer: Bettie Bouer, Annie Venter en Alida de Bruin.... Gelukkig dat hy maar 'n soekende siel was, en die enigste nadeel wat hy oorgehou het, is 'n gevoel van bitterheid teenoor sy ewenaaste. Hy kon dit merk dat hulle hom op Sluis swartsmeer. Die nooiens is vir hom so wild as hase wanneer hy net maar effens dié kant-toe gesels - en wie het vir Alida die nuus omtrent sy huislike lewe aangedra, dat sy hom afgesnou het? ‘Nee, oom Lambert, ek wil tog nie eendag so sukkel soos jou oudste dogter nie!’ Dis laster wat sy hand hier in die as slaan! Hier op Sluis sit sy turf! Hy moet 'n ander rigting uit!
Die treurige wysie en die hamerslae op sesduimspykers klink geesdriftiger. 'n Opflikkering bewe deur sy somberheid, en die gereedskap geware dit. Oom Karel en tant Mieta is mos kerk-toe, nè?.... Dirkie is mos vanaand allenig by die huis!.... Om twaalfuur kan hy hierdie werkie aflewer en vir hom 'n nuwe hoed koop. Die Coetsees is net so vorentoe as die Bredenhands, en al is hy vandag tydelik die armste Bredenhand,
| |
| |
hy mag die naam nie terwille van 'n hoed laat val nie, al sal hy daar vanaand te voet aankom. Swaer Lewies se perd gaan hy nie vra nie, nog minder boet Sarel s'n. Dit sal net lekkergoed vir skindertonge wees.... Die ouderwetse deuntjie klink nou so lewendig dat 'n mens die woorde al kan hoor, asof daar 'n siel ingekom het....
Die dae word al merkbaar langer, en dit lyk nie of die ryp 'n plan het om die vroeë tuine skrik te maak nie. Dit kan 'n gunstige jaar word as die sprinkane nie weer moedswillig word nie. Mag die Here se seën oorvloedig wees vanjaar!.... Pronkerig en goedgesind stap Bredenhand met 'n flinke pas oor die grens van Sluis. Hy is nie meer 'n boer nie, maar tog voel hy dat die lewe van 'n ambagsman hier buite grootliks van 'n boer se voorspoed afhang, en 'n boer se lewe is net so wisselvallig as die weer! 'n Boer se arbeid is net soos dié van 'n miskruier; hiet vir hiet moet hy weer van onder af beginne met sy bol; en wanneer hy bo uit is, stoot hy net 'n entjie makliker - dis al!
| |
| |
- Die natuursomstandigheid is die wonderbaarlikste ding! Gee hy jou die kans om 'n oes te bêre, dan kan jy pas min of meer gerus wees.... Dis nes 'n vroumens so vol grille, en tog ontsien 'n mansmens geen moeite om vir haar te win nie. Dis die wonderbaarlikste natuursomstandigheid wat daar in die wêreld is! Vandag loop hy tweeen-'n-halfuur te voet om te probeer uitvind hoe sy kanse by Dirkie Coetsee sal wees; hy, 'n wewenaar, raps-raps aan die vyftig, hier stap hy tien myl te voet af op 'n waag. Hy kan die dryfkant van die natuur hier binnekant in hom voel. G'n mens kan dit weerstaan nie. Hoe lank het Jakob nie geswoeg vir Rachel nie! Dit was vir hom 'n moet! 'n Hulpe neffens hom!.... Dis ook vir hom 'n moet!
Sy stap is veerkragtig; in sy hart is 'n sterk oortuiging dat hy nou op die regte koers is. Hy is aansienlik en knap vir sy leeftyd; 'n nooi moet goed wees as hy haar nie kan vastrek nie. Dirkie is sekerlik nie so ontydig as die lawwe spul op Sluis nie. Toe hy met sy oorlede vrou getroud is, was
| |
| |
Dirkie op die bruilof; nog 'n dogtertjie wat wil pop speel. Sy moet al taamlik bejaard wees. Geen meisie begeer om bokwagter te bly nie. Nee wat! Sy kans is eersteklas! Dis darem wonderlik as mens die werkstalligheid van die natuur waarneem, hoe fyntjies en onskuldig hy vir 'n mens bekruip. Toe hy vanmôre sy gereedskap uitmekaar uit stoot, was Dirkie so ver uit sy gedagte as oom Karel self. Die kapkar het daar voor die winkel stilgehou en oom Karel se dogter in sy gemoed in gedryf. Dis of dit so moet wees....
Die wilgerbome by die dam skyn al groen as die aandson hulle vang; die blomtuin voor die huis kan sekerlik nie kla oor Dirkie se versorging nie!.... Is dit tog nie sy wat eenkant aan die treksaag staan en wieg nie? Dis mos onnodig moegmaak daardie! Bredenhand skud sy kop. As 'n mens 'n ding verstaan, is dit maklik, maar as 'n mens die slag nie ken om met 'n stuk gereedskap te werk nie, dan moor jy jou verniet en vorder stadig. Naby die houtkapplek stoot hy sy teregwysing op 'n baas- | |
| |
agtige toon vorentoe: ‘Maar my genugtig, Dirkie, julle hou die ding verkeerd! Julle druk die treksaag te vas! Hoekom moor jy jou so? Wag! Gee, laat ek vir jou....’
‘Nee, nee, oom Lambert....!’ Haar ligrooi hare staan pluiserig en hang in slierte oor haar voorhoof en wange, en haar gesig word hoogrooi van verleentheid terwyl sy hom met 'n beswete hand groet en daarna half oorbluf die hare wegstryk. ‘Kom ons gaan huis-toe! Die volk lê om die bierpotte, Oom!.... Karel en ek moes maar uitspring! Daar is genoeg hout tot môre vroeg.... Karel, maak jy solank vuur, en dan roep jy my, hoor!’ Lambertus stap langs haar en beduie: ‘Kyk, as julle nou weer aan die treksaag spring, hou hom los en laat hom self loop; stoot hom net en maak of jy hom so half-half oplig, of, as jy trek, doen net dieselfde, dan kan jy urelank saag sonder om moeg te word. Saagwerk is maklik - maar 'n mens moet dit verstaan!’
Dirkie luister skaars. Oom Lambertus het hulle oorval, nogal op die houtkapplek, so eie asof hy 'n daaglikse kuiergas is - en sy
| |
| |
lyk so verwaarloos.... haar ouers kerktoe.... wat lol die ou oor 'n treksaag?
‘Jy sien, Dirkie, jy moet jou arm slap hou, maar net stuur. Met 'n handsaag is dit net dieselfde. Enige stuk gereedskap het sy besondere manier van hanteer.’
Sy 't nou beheer oor haarself. Hulle kom in die voorkamer, en Dirkie skuif die venstergordyne oop terwyl sy die onderrigting opvolg: ‘Vat nou 'n strykyster, oom Lambert, of breinaalde.’ Sy stoot haar hare beter in fatsoen, en haar oë word lewendig.
‘Net dieselfde, Dirkie, net dieselfde! Dit neem my 'n paar minute om die slag te leer; maar ek is 'n wonderlike man, die begaafdheid het ek nou eenmaal gekry om met enige stuk gereedskap op die aarde te kan werk. Verstaan my goed, Dirkie, ek meen dat dit, in dié geval, binnekant 'n man se natuurlikheid moet bly; ek kan, byvoorbeeld, nie van jou verwag dat jy 'n huis gaan bou nie. Ek bedoel die handigheid, en vir my twee hande staan niks verkeerd nie.’
‘Dan is Oom regtig 'n gelukkige man.’
Die ou verveel haar effens, en sy voel on- | |
| |
tuis met haar uiterlik. As Karel haar roep, sal sy haar regmaak.... Wat sou die ou hier kom haal?.... Vir haar?.... O liewe naarheid!....
‘Ek wil dit nie sê nie, Dirkie - wat meen jy eintlik?’ In haar ligblou oë flits 'n tinteling van spot, en die draai van haar stem is vol platjie. ‘Ek reken so, oom Lambert, dat, as daar niks is, binnekant Oom se natuurlikheid, natuurlik, wat Oom nie kan doen nie, dan reken ek dat Oom regtig 'n gelukkige man is.’
Bredenhand word teëstribbelig, omdat hy ook hier nie begryp word nie. Die mensdom kan hom nie verstaan nie. ‘Nee, Dirkie, jy vat dit verkeerd op. As jou hande vir enige ding regstaan, kan jou hart darem bedroef wees of verlang, nie waar nie? Handigheid bring nie geluk nie - ten minste nie heeltemal nie. Dit mag 'n rapsie van geluk bring, ja, maar geluk het niks direk met handigheid te make nie.’ Hy versit sy stoel 'n halwe draai onder hom en vervolg meer opgewonde, omdat die veld voor hom vol nuwe gesigspunte is: ‘Indirek, ja; en laat ek
| |
| |
dit nou vir jou duidelik maak: die waardering van 'n mens se werk, van wat jou handigheid kan uitvoer, die welslae van 'n mens se ondernemings - dit bring eers tevredenheid, en daarna pas kan 'n mens gelukkig word. Maar dit gaan hard om so ver te kom; die mens waardeer nie graag die werk van 'n ander nie; daar is agterdog en agterklap en afguns....’ Sy oë staar ernstig 'n tabakwolk na en buig toe oor na Dirkie met die somber klinkende vraag: ‘Kan jy my sê wat geluk is, Dirkie?’ Sy elmboë kom op sy knieë rus, en die pyp se steel wys uit sy gevoude hande na die plafon terwyl sy oë met die ernstige vraag haar onderlangs vaskyk soos strenge vaderoë wat vir sy dogter vra: ‘Waar was jy gisteraand?’ Hy voel dat hulle nou na die gewigtige doel van sy koms toe draai. Maar dit verbouereer Dirkie, en sy voel so sku soos vir 'n predikant. 'n Strikvraag.... hoekom draai Karel dan so lank?.... Met 'n verleë laggie stoot sy weer haar hare glad: ‘Hoe sal ek vir Oom sê? Geluk is.... Oom Lambert vra my dit te skielik.... Ek reken as mens nie nodig
| |
| |
het om te kla nie.... ek meen... sê nou maar as Oom 'n huis kant en klaar gebou het, byvoorbeeld, en die mense is tevrede en betaal vir Oom wat Oom vir die werk moet hê, dan reken ek voel Oom gelukkig.’
Sy ouderlingskop skud nee. ‘Jy antwoord nie my vraag nie, Dirkie. Wat is geluk? Ek vra wat geluk is. Gee my jou verklaring!’
Sy word nou kriewelig. ‘Ek sê mos vir Oom. Wat wil Oom meer hê?’ Maar tegelyk flits dit deur haar: ‘Ek sal Oom sê: 'n Mens is gelukkig wanneer hy enigiets op die aarde kan regkry, en ek reken dat Oom 'n gelukkige man is, omdat Oom alles kan doen. Ek is seker dat Oom vir ons op die orrel kan speel.... Wag, laat ek eers 'n kers opsteek.’ Sy kom haastig terug met Karel en die lig. ‘Dis regtig jammer dat Pa-hulle kerk-toe is. Oom moet maar solank speel en my verskoon, want al die oë kyk na my vandag, en ek het nog baie te doen.’
Orreltone dreun swaar deur die huis saam met die harde basgeluid van Bredenhand, wat Uit diepten van ellenden uitsing tot die laaste vers toe.
| |
| |
Ná die aandete het Bredenhand die huisvader se pligte waargeneem en die kinders vrae gestel wat hulle nie kon beantwoord nie, maar hom die kans gegee het om oor skriftuurplase uit te wei tot vervelens toe. Wat moet sy met hom maak vanaand! Sy voel huiwerig as sy daaraan dink dat hy spesiaal vir haar gekom het.... 'n wewenaar met vier kinders.... Op haar jong lewe het die ban gerus om kinders groot te maak - kinders van haar ousus, wat as wesies uit die grieptyd uit gekom het. Haar lot was 'n lewe van toewyding en versorging, en haar ouers word al hoog bejaard. Wat moet sy aanvang met Lambertus Bredenhand? Sy kan onmoontlik net nou vir hom sê: ‘Oom, hier is Oom se kamer.’ Dit lyk te onbehoorlik, al gee sy hom ook die predikasieboek van Spurgeon saam en 'n nuwe kers.
Hy is 'n doring om te preek!.... Arme Karel! Die seun verveel hom aan die slaap. Hy sal vir hulle twee net so allenig in die voorhuis laat sit.
Dit is die lot van Dirkie toe sy ‘Goed,
| |
| |
oom Lambert, ons kan so'n bietjie gesels!’ antwoord op sy vraag: ‘Gee jy om, Dirkie, dat ons twee vanaand 'n slaggie saam gesels?’
Die tafel en die kerslig en 'n stilte wat tweekeer deur die sug van 'n ernstige wewenaar afgebreek word, is tussen hulle. Bredenhand koester die bewustheid dat sy persoon in hierdie sfeer onskendbaar is, want sy gemoed beweeg hom nog in die nawerking van sy huisvaderlike priesterskap, en hy wil met alle gewigtigheid die gesprek wat sy orrelspel afgebreek het, hervat. Hy het so heerlik op koers gekom na hartsake toe.
Maar sy voel ongemaklik, omdat sy nie die minste lus het om iets te sê nie en die onderwerpe waaroor sy met die diepsinnige Oom sou kon praat, baie beperk geword het deur sy doening. Maar hy wou mos gesels: nie sy nie!.... Dirkie vee 'n stoffie van die tafelblad af met haar sakdoek; snuit skaars hoorbaar haar neus; skiet met haar wysvinger die te lang entjie pit uit die kersvlam uit; versit die blaker onnodig. Sy sit en wag. Hoekom praat oom Lambert nie? As sy be- | |
| |
gin, sal dit oor vaak en moegheid wees.
Bredenhand stop sy pyp en tussen die kragtige pû-pû van die rookdampe vervolg hy: ‘Jy het nie eintlik 'n.... goeie verstaning.... van geluk nie, Dirkie.’ Sy oë kyk halfskeel na die opkrullende tabak, wat hy afdruk met sy duim, en daarna kyk hy haar met half-toegeknypte oë aan en vra: ‘Was jy al ooit gelukkig, Dirkie?’
‘Sekerlik, oom Lambert, ek is dit so te sê maar gedurig!’ antwoord sy spontaan. Sy moet nou keer, want hy dwing om teer kwessies aan te roer. ‘Daar is niks wat my hinder nie; die wêreld dra my lekker, en as 'n mens in liefde en vrede en genoeglik saam woon, dan reken ek so, dat 'n mens niks verder hoef te begeer hier op die aarde nie.’
‘Sodra as jy die liefde na die wêreld se behae toe bring, dan kom jy in die knyp!’
‘Daarvoor sal ek oppas, Oom; ek sal sorg dat ek losbly!’
‘Jy praat nou teen jou beterwete in, Dirkie! Is dit dan jou begeerte om 'n bokwagter te word?’
‘Soos ek vanaand voel, verkies ek niks
| |
| |
beter as om te bly soos ek nou is nie. As die mense my dan vir 'n bokwagter uitmaak - dis hulle saak, maar ek dink dis ontydigheid van hulle.’
'n Droë laggie verwaai die rookwolk voor hom. ‘Nee, ou suster, dit sal jy my nie vertel nie. Wanneer die wonderbaarlikheid van die natuur in jou begin te werk - dis te sê, wanneer jy dit begin te voel, dan wil jy ook help om die huis op te bou. Dis die wêreld se beloop! Iemand sal vir jou vra om saam met jou die huis te bou, Dirkie. - Jy maak my nou indagtig oor jou opvatting van geluk - jy weet mos toe jy gepraat het oor die bou van 'n huis. Maar ek vat dit glad anders op. Jou geluk lê op die end: myne vat van die staanspoor af. Ons twee bou dan die huis van ons lewe. Ons bring die messelgrond en klippe op die bouplek; ons ry die stene, die hout, deure en vensters en sinkplate aan. Ons grawe die fondament op harde oubank. Maar ons lê die hoekklippe - ek sê ons twee lê die hoekklippe, Dirkie! En ek sê vir jou, as ons same die huis opbou, dan sal jy ook weet wat geluk is!’
| |
| |
‘Maar Oom het mos al kant en klaar gebou! Daar is dan al vier kinders binnekant Oom se huis.’
‘Almiskie, Dirkie, maar die een hoekklip het padgegee, en ek vra vir jou om die plek weer op te vul.’
Sy het al moeg geword vir Bredenhand se omslagtigheid en beeldspraak. ‘My liewe Oom, ek is g'n dooie klip nie! Buitendien is ek al moeg om ander mense se kinders groot te maak. Was Oom vandag 'n jonkman of sê nou maar 'n wewenaar sonder kinders, dan kon ek altemit nog daaroor gedink het. As ek getroud is, wil ek tog nie uit die staanspoor al sukkel nie, oom Lambert!’ |
|