| |
| |
| |
Hoofstuk XV.
Wolke.
Die skuldbewys, wat in die jood se hande is! Daardie beproewing het vir Staander rondgeja met 'n kop vol broeigedagtes en hom sy werklus ontneem. - Virwat sal hy hom nog staan en moeg maak? Daar is mos nou g'n bestaan meer vir 'n arm man, hier buite op 'n plaas nie. Die enigste produk waarmee hy kans gesien het om te boer, is nou belas en die besigheidsman slaan net sy voordeel daaruit. Ons kan maar dokka! - Hy sal moet uitspring om 'n verdienste te soek!
Booysen het met teësin die laksheid van sy bywoner bespeur.
Daar het 'n dorpsgas by Staander-hulle kom kuier, en blink ogies vir Hester gegooi; maar vir oom Flip se part kon hy net so wel gebly het. Hoe kan hy vir die vreemde vryer, uit die staanspoor 'n paar pondjies vra om te leen; om daarmee die jood vereers te sus? Al het die jonkman honderdmaal 'n motorbaaik, dit lyk te aerdig om die geld vir hom te vra. - Hy 't altoos heimlik geweet, dat hy hom met dowwe neute paai, dat die moontlikheid van 'n ryk skoonseun na die aanneme van Hester, maar 'n tydelike geruststelling was waarmee hy indertyd al te gretig die skuld twee maande vorentoe gestoot het. - Nou is g'n keerkans nodig nie. Die bewys se tyd is om, en hy is ongeredder as voorheen ... Laat die bom maar bars; laat die skerwe uitspring waar- | |
| |
heen hulle wil, en seermaak ook, wie hulle mag tret! Doller as die kop af kan dit nie!
So het vlae van onverskilligheid die broeigedagtes opsy gestoot, maar altoos in sy allenigheid - en daarom kan die werk hom nie meer aflei nie. - Sy ganse wese staan vyandig, en in homself gekeer, teenoor die wisse feite van dagvaarding en bankrotskap. Sy wil is as vasgeketting om te handel. Hy weet, dat hy maar net vir Booysen kan gaan vra en hy sal gehelp raak, maar tewens dat hy dit nooit sal doen nie. - Gevaar is vir hom niks nie. Hy was gedurende die boereoorlog 'n dapper man. - Sy eie mense het Flip Staander nie vertel, van die wolke, wat bo sy huisgesin saampak nie. Van die vader het hulle min notiesie geneem, en nooit gemerk nie hoe heftig partykeer die wysbroue op en neer gallop bo donker oë, waarin 'n dowwe gloed smeul. - En wonderlik toe die dagvaarding kom, was dit of daar skielik 'n geeskrag in sy ruggegraat spring. Aan die vloed van vinnige verwyte van sy vrou, het hy hom g'n oomblik gesteur nie, g'n verklaring selfs vir haar gegee nie. - Met die heillose dokument in sy hand, het hy flink-stappend na Booysen toe gekom, en hom verras deur sy spontane en duidlike versoek: ‘Neef Kasper, ek is in die moeilikheid! Kan jy my help asseblief?’
Dit was so maklik dat hy self skaars wou glo aan die tydlike oplossing, toe Booysen hom, met 'n verwyt oor sy agteloosheid, uit die moeilikheid gered het. - Baie dankbaar en welmenend het hy beloof om met die volgende oes, met neef Kasper reg te maak.
Vir Ampie het 'n onrustige tyd aangebreek, die maande na die nagmaal; - onsekerheid omtrent die houding van Hester teenoor hom. Hy kon g'n duimbreed vorder nie en nooit het hy 'n kans gekry om met haar op te sit nie. - Meesal was sy gedurende die week- | |
| |
dae baie vrindlik en voorkomend en dan was hy te dankbaar, om vir haar met al die werkies weer te help, te bly om weer 'n glimlag, of 'n knipogie van Hester te verdien. Telkens deur 'n stille hoop, kon hy heerlik wegdroom in die denke oor 'n lewe saam met daardie meisiekind. Veral in die oomblik waarin hy vir ou-Jakob 'n besoekie bring of op die donkie na die beeste in die veld moes soek. Hy kon dan weer vertroulik praat soos vroeër oor die nooi van sy hart, oor die wonderlike Hester, wat vir ou-Jakob altoos vreemd gebly het.
Net Saterdae het so'n wrokgevoeletjie van sy hart besit geneem. 'n Wrokkie, wat in sy binnenste al meer en meer 'n bitterheid geskep het, oor die onegale toestand, tussen hom en Hester. Sy kon so ewe onverskillig op Saterdae by hom verby stap, of sy moedswillig hom nie wou raaksien nie; en deur die onmag, wat hy dan teenoor die nooi voel, verkrop die bitterheid gedurig maar in sy gemoed.
Die eerste Saterdag agtermiddag na die môreskof, het 'n jongkêrel na Hester toe gevlieë op 'n moterysterperd. En daarvandaan kon 'n mens elke naweek teen sononder, die haatlike gedoefdoef hoor kom en Maandagmôres baie vroeg weer hoor verdwyn. Hy 't al 'n boekvol slegte wense oor die vinnige stuk gereedskap uitgemompel, en by ou-Jakob van die raserige masien geskinder. - As hy en ou-Jakob dan in die naweke by mekaar kom, voel Ampie, dat die bitterheid sy boesem uitsit en hy so'n bevlieging kry, om Hester te trotseer, en om na Vlakplaas toe te ry, soos vroeër weer na Annekie! ...
Maar nooit het hy sover gekom nie, want hy 't begin te voel, dat hy vir Annekie 'n vreeslik goddelose boodskap indertyd met Bart saamgestuur het. - Hy het maar troos gesoek in die geselskap van sy maat, al pratend oor die snaakse doening van die dogter van oom Flip,
| |
| |
die wonderlike nooi Hester, wat vir ou-Jakob altoos vreemd gebly het ...
Toe Kersfees en Nuwejaar naderkom, het hy met Hester saam, baie oor die plesier van die feesdae gesels. Op Nuwejaar sou hulle tiekiedraai, dat die aarde bewe. Ook Grieta Booysen was vol planne vir die boerefeesdag. Hulle sou al Oujaarsaand begin en aanhou tot laat in die nag van die eerste Nuwejaarsdag.
Hester sou die dag geware, wie Ampie is, het hy hom voorgeneem. Hy sou probeer om daardie dorpgas vir altyd uit te sit! ...
Sy nuwe klere, wat Tannie vir hom present gegee het, het hy aangepluk en sy kuif, wat nie meer soos 'n bokramhoring lyk nie, mooi ordenflik reggestoot en sy rooi skoene gewaks....
En heel die Oujaarsnag het hy saamgedoen - hoewel eers ingetoge later lewendiger, met die plesier en spel van al die jong mense uit die buurt, wat op oom Kasper se werf bymekaar gekom het. - Eenmaal moes hy selfs met Hester tiekiedraai. Hy wou eers nie. Sy lyf het koud geword en aan die brand geslaan om beurte. Sy voete het onnosel gevoel, om daardie malgetrappel in die rondte, skaflik reg te kry. Maar nee wat! Ampie moes maar deurdruk. Sy het hom eintlik vasgegryp en hy het so te sê stokdoof en blind geword, gevoelloos en gedagteloos daar rondgeswaai, geanker aan die fris meisiekind; en daardeur het sy lag van opgewondenheid saamgeklink met die geskater van Hester en al die jongmense, om sy dom getrappel al om haar. - O die wilde rondgewarrel was vir hom te heerlik. Hy het vir die eerste keer in sy lewe een met Hester gevoel en na die trek van haar hande geluister, blind van begeerte na die nooi self.
Daarna het Hester vir Grieta Booysen ook oorgehaal
| |
| |
om te tiekiedraai met Ampie. En dit was so komieklik, dat hy met almal uitgeskater het van pret; want Grieta is 'n klein ou-dogtertjie, hoewel verduiweld rats op haar voete! Hy kon nie by bly nie; - dis die! ...
Maar Nuwejaarsdag was vir hom 'n openbaring. Toe het sy ma met 'n tou kinders agter haar, vroeg die môre kom kuier en met 'n kweperlat die kombuis ingestorm. In die roes van feesmaak het hy toe met haar gekorswel, en sy 't hom met die kweperlat uitgedryf, oor die werf, waar hulle twee te keer gegaan het soos kindertjies, wat stoei. Maar sy verwagting van die dag het spoedig daarna verydel geword. Virwat moes sy ma, juis daardie Nuwejaarsdag heeldag oor die werf bly hang het, soos 'n vermalde mens, en sy onnosel suster ook, met hulle verspotte praatjies?
Al die jongmense het hom daarvandaan gemy, en Hester het geen notiesie van hom meer geneem nie. Hy het die feesvreugde as 'n buitestaner aanskou, en in sy hart het die bitterheid baie groot geword. Vir die eerste keer in sy lewe, kon sy oë toe opmerk, die verwaarlosing en verslegting van sy familie, en hy 't met afkeer aan die murasies gedink, waarin hulle opmekaar bondel soos beeste in 'n kraal, en slaapplek vat, as hulle vaak kry ... Al wat Nortjé is, het hy toe verwens met ruwe vloeke, ook homself. - Sy swaarkry in die lewe, sy agteruitstaan by alles waar 'n ander jonkman met hom sameding; die besef dat die mensdom vir hom gebruik, net wanneer hy iets vir hulle kan verrig; maar verder hom eenkant laat staan; alles het hy toe gevoel, is net te wyte aan die slegtigheid van die Nortjés daar in die afstootlike murasies.
Dit was 'n keerpunt in die lewe van sy gevoel.
Dieselfde Nuwejaar agtermiddag, toe die jongspan nog vol uitgelatenheid was en die ouer mense in die skaduwees gesit en korswel het, was sy toevlug na sy
| |
| |
altoos enerse ou-maat. En vir ou-Jakob het hy toe vertel, wat in sy binnenste omgaan. - ‘Kom ons sit in die koelte jong; ek wil met jou gesels! Ons pas nie meer hier op die plaas van Booysen nie ou-Jakob. Jy moes gesien het, hoe die spul vir ons behandel het. Hul kyk doer oor ons kop verby; 'n mens sou sweer dat hulle nooit sal honger kry, nog eet of drink nie. Vandag moet ons eenkant toe staan, soos vuilgoed, waar g'n mens notiesie van neem nie; maar môre in die werk is ons weer goed genoeg! - Ons kan dit mos nie help, dat die Nortjés-hulle so aan die slegtigheid oorgegee het nie? Laat Hester-hulle vir twee maande in murasies bly, en oom Flip sonder werk bly; dan sal haar spoggerige klere ook maar soos toiings wees. - Hulle hou hulle verniet so hoogmoedig vandag!’ ...
Toe het 'n gevoel van trots in sy boesem opgerys, en hy 't opgestaan, tot vlak-voor ou-Jakob en toe met klem geredeneer:
‘Wie is die Staanders dan so danig? Hulle eet ook maar meeste stywe mieliepap, en virwat kan Hester haar so danig aanstel teen my? Oom Flip loop dag vir dag met 'n gelapte broek en 'n gelapte hemp, en hy het nou die dag lelik uit die weer uit gevloek! ...
Dis goed my ou maat, dat jy vir Hester nie geken het nie. Sy sou nooit vir jou liefgekry het nie, soos Annekie!’ ...
En dromerig vervolg hy, terwyl hy onwillekeurig sy arm om ou-Jakob se nek slaan:
‘Laas Nuwejaar was ons twee saam op Vlakplaas. Toe het ons pand gespeel, buite op die kweek. En Annekie moes driemaal om die huis ry op jou rug ou-Jakob, om haar pand in te dien. En Bart, die vloek, het toe vir jou geslaan, dat jy moes agteropskop. Dis jammer dat jy hom nie raak geskop het nie. Jy 't toe vir Annekie net lelik laat vasklou en skree van benoud- | |
| |
heid. - Maar het ons nie lekker gelag, toe sy geval het nie? Ons het die dag net propper sport gehad!’
Die jongkêrel, wat blinkogies na Hester gegooi het, was op die Nuwejaarsdag so vrypostig om ouers te vra. Die nuus dat Hester sou gaan trou, was spoedig op die vlakte. - Ampie het toe geweet, dat sy vir hom verlore is, en in 'n stemming van botte onverskilligheid het hy maar verder deur gelewe, ontevrede met alles wat hy moes verrig. - Oom Kasper het ook vir hom 'n slegte manier begin kry. Dis verniet om vir oom Kasper 'n orige los sikspens te vra. Hy moet nou altoos sy rookgoed vir oom Kasper wegsteek; want nes hy vir hom sien met 'n ou simpel sigretjie, dan kyk oom Kasper hom so wonderlik vas aan, of hy publiek wil vra: ‘Waar hè-jy daardie sigret gekry?’ - En al die gereedskap, wat hulle wegsmyt, vra oom Kasper positief vir hom, asof hy dit kan help, dat hulle so agtelosig is, om hulle goed op die vlakte weg te smyt; en Ampie voel net ergerlik daaroor. Hy verdra die heeldag se oppas glad nie! ...
* * *
Oom Flip Staander-hulle het ook na die dorp getrek, na Hester toe wat met die dorpgas van Blikkiesdorp getroud is. - Staander kon vir Booysen nie betaal het nie. Die hael het sy koringoes baie verniel. - Booysen wou hom nog 'n kans gegee het, maar Staander het g'n uitkoms vir hom in die boerdery gesien nie. Nou maak hy stene met sy skoonseun saam. - Ampie mis oom Flip-hulle darem baie; want hy kan nou na g'n plek toe meer kuier nie.
Die dae is vir hom soos dooie gate, waarin hy moet aanhou grou, sonder end. Hy voel soos 'n dagloner, wat hunker na die rustyd. - En as hy hom alleen kry by
| |
| |
ou-Jakob, dan stoot 'n heimwee in sy boesem op, en groot verlangste na die ou lewe, vul sy hart.
‘Dit was 'n ander tyd toe ons vir Annekie gekuier het, nê my oumaat? - Altemit sal ons weer eendag soontoe gaan, wie weet! Ons het vir daardie meisiekind àl te sleg gesê. - Sy is seker nog vir ons vreeslik kwaad ... Die plaas hier word nou vir ons onhoubaar. As ons die kans kry, trap ons, want oom Kasper begin ook al slegte maniere te kry, om 'n mens heeldag dop te hou!’
O, Ampie verlang na die wilde, ongetoomde lewe van vroeër, toe geen mens sy dade nagespeur het nie. Hy voel 'n leegte, as hy so by ou-Jakob staan. Hy mis die skakeltjie, wat hulle twee se lewes vroeër saamgevoeg het. Telkens as hy nou sy maat besoek dan voel hy àl te wel, hoe die verlangste na Annekie in sy boesem groei. - Maar hy kan nie besluit om haar weer op te soek nie. Die berou oor wat hy haar aangedoen het, druk soos 'n briekblok op sy aandrang om te gaan.
Geen wonder dat Ampie vir ou-Jakob begin te troetel. Dis selde dat 'n dag verbygaan, waarop hy nie, al was dit maar 'n kort besoekie vir sy maat gebring het nie. Die nuwe vlam op Booysen se plaas, wat sy hart aan die brand geslaan het, is uitgedoof; maar uit die as het opgegloei, 'n skoon, geduldige verlangste, vol weemoed, na sy verstote eerste liefde. En wanneer hy dan by die ou donkie dwalend mompel, en sy droomgedagtes uitfluister teen die grou kop, dan voel hy 'n vergoeding, vir die starre arbeid van die dag. - Maar eindelik het die tam geduld gebreek, toe op 'n môre nog voor dagbreek, 'n ruslose drang hom ontydig na ou-Jakob toe gedryf het.
Die lug was heelnag swaar en swoel, asof 'n dubbele dampkring benouend op die aarde afgesak het. In sy kamertjie het Ampie gelê en omdraai, omdraai, om van
| |
| |
'n kwellende onrus weg te kom, wat in sy kop die bontste rampe voorgestel het. - Nou sien hy hom met ou-Jakob van 'n hoë krans afspring; dan het die weer oom Kasper se huis aan die brand geslaan, en wil hy vir Grieta Booysen red - maar kan g'n voet verroer nie; dan sien hy in 'n vol rivier 'n kar omslaan, met Annekie daarin, en sy versuip so voor sy oë.
Met 'n driftige spring is hy toe van sy kateltjie af, ruk die deur oop, en staan buite in die stilste maanlig, wat oral geheimsinnige duister kolle op die aarde vlek. - Die digspring van die deurslot klink soos 'n ruwe stoornis ver in die omtrek. Die lome stilte hou vir Ampie net so onrustig buite as in sy kamertjie. Daar is 'n groot mistieke mag in die natuur. Dit smaak vir hom, of uit ieder donker plek, so peilloos diep, iets vir hom loer. En as hy effens aanstap, lyk dit of 'n gedaante hom opvolg, so dubbeltrap sy voete en gly sy eie skaduwee al neffens hom, korrek in al sy lyne suiwer afgebeel. Die bome, vrugteboord, die kraal, die gewels van oom Kasper se huis, doer ver die huisie waar Staander in gebly het, alles lyk wonderlik helder, indrukwekkend afgeteken in die matte maanlig en onbeweeglik gehou deur 'n waas van geheimsinnigheid in die geweldige stilte.
Die skaduwee van 'n groot wolk skuif oor die aarde, ook donker, maar lank nie so swart as al die vaste skaduwees, wat die omgewing vlek nie. - So bekruiperig skuif die enorme skaduwee na Ampie toe, dat hy vervul word van 'n bang eerbied as vir 'n voorbode. - Iets moet gebeur het, dis nie altemit nie! Die lug is vol los wolke groot en stadig drywend na die maan se kant toe. Die groot los wolke moet vir hom 'n boodskap bring. Wanneer die lug geheel oorgetrek en vlieserig is, dan weet hy moet 'n kaffer sterwe. En as die digte banke aankom, is dit 'n witman, wat sal
| |
| |
doodgaan. Vannag is dit 'n vroumens! Ja, altoos as die lug so vol van daardie groot los wolke is, vernaam in die nag, dan sterf 'n wit vrou. - Hy weet dit! En dis nou seker dat sy ouma dood is. Sy was reeds siek verlede jaar. - Sy kon so vreeslik skerp vir iemand aangekyk het. Haar oë was almelewe kwaai en vinnig; maar nooit het sy somar verniet geslaan nie. Haar oë se aankyk was genog! Hy sal verplig wees om op Vlakplaas die berig te bring! Hulle sal dit dalk daar nog nie weet nie. Annekie sal baie spyt voel om dit te hoor. Sy was reeds oorlé ouma se peetkind. Hulle moet dit weet en gou-gou ook! Toe is die drang gebore, wat sy somber gemoedsstemming vir 'n ruk verdring het, vir een gedagte. Na Vlakplaas toe! - In die stil maanlig nanag kruis Ampie die veld na sy ou-maat toe! - Hy hou hom opgeruim, hoewel 'n bang voorgevoel diep in sy binnenste gebly het. - Ampie kry ou-Jakob onder 'n doringboom, rustend in die sware lug, wat mens en dier in lome, lêerige stemming hou. Toe die donkie hom bemerk, spring hy orent en bries 'n paar keer, voordat Ampie by hom is ... Toe draai die esel sy massiewe kop, vol ondeurdringbaar gevoel, na Ampie toe, verwonderd oor hy so ontydig kom kuier. Geselsend op 'n fluistertoon, asof hy bang is om die stilte seer te maak, kom Ampie nader.
‘Jy moet jou vere regskud my ou-maat! Die besluit het geval! Jy staan verniet so doontkêr onder die doringboom in die donker! Kom uit hier in die maanlig! Die donker plekke is vannag vol spokery, ek voel maar lugtig!’ Hy trek ou-Jakob aan sy kort kuif na die lig en sê: ‘Ons moet na Vlakplaas toe! Daar het vannag wonderlike dinge gebeure ou-Jakob! Die ouma van Annekie en van my, het gesterwe! En daar gaan nog vreesliker dinge gebeur! Ek voel dit!’
En toe hy soos gewoonlik met sy arm om sy maat
| |
| |
se nek, langs die troue stomme donkie staan, gesels hy vreemdvertroulik verder:
‘Ek voel vanmôre baie snaaks ou-Jakob! Die nooi van laas jaar, wat doer op Vlakplaas bly, sy ja my rond! En aangesien my ouma hierdie nag gesterwe het, sal ons twee môre sekerlik moet wegspring soontoe. Ons moet positief die tyding wegbring vir oom Tys-hulle. Ja my ou-maat, my ouma het gesterwel Sy was oud en gedaan, en laas jaar al so kranklik dat ons almal elke dag haar doodsberig verwag het. Nou moet die wolke my die boodskap bring! En ons moet Vlakplaas toe! - Dan sal ons somar versigtig hoek in die water gooi en uitvind, hoe Annekie haar pols klop! Of hoe sê jy?’
Hy plak sy growwe hande weerskante van ou-Jakob se kop, en kyk vol liefde in die groot peillose oë van sy maat. - En deur die doening stryk 'n stemmigheid, so suiwer as 'n rimpellose waterbron, sy denke deur, kalm sussend sy gemoed, so onverstaanbaar as 'n tortelduif, wat op die kranse vir sy maat koerdoek.
‘Ou-maat, ons twee het altoos saam gery na Vlakplaas toe! - Hier by oom Kasper het die wonderlike nooi net my liefde deurmekaar gekrap! Sy het van my gemaak 'n maltrap, wat nooit vastigheid kan kry nie! Maar dis verby! Sy het vir ons gewys, wie dat sy is ou-Jakob! 'n Mens kan maar sê dat sy die moterysterperd getrou het; want sy kon daardie windlawaai se gedoedoef, so Saterdag op Saterdag, nie staan nie! - Ons twee gaan sonder manewales oor die bulte; ons twee ry skaflik, sonder malgeraas ... Ek sweer vir jou ou-Jakob, dat Annekie die liewe Here sal dank, as ons twee doer oor die bult, na Vlakplaas afsak. Hou jou maar reg ou-maat, en as die liewe Here ons net spaar, dan ry ons môre middag hiervandaan. Dis morê Saterdag en ons sal vir oom Kasper vra om ons tot Maandagmôre skiet te gee ...’
| |
| |
Die drukkende atmosfeer van die nag het deur die somerdaghitte, intenser oor die aarde gehang. Nie so benouend as in die roerlose nanagstilte nie, maar deur die hitte lomer. G'n toggie het die lower lewendig gemaak nie. Die skaduwees was plekke vol bedompigheid en die klippe het gebewe in die fel sonnegloed, so hittig as 'n bakoond, wat die vrou te lank met suikerbos gevoer het. - Die vee lê, onverskillig waar hulle lê, te futloos om die koelste plekke op te soek. Die hond se blaf is halfpad hoes en die mens het skaars energie om vir mekaar te sê: ‘Môre neef!’ of ‘Hoe staan die lewe?’ En so lui as 'n trapsoetjies op 'n takkie, het Ampie rondgeluier. Die heeldag deur het die swaarmoedigheid gehelp om hom lusteloos te hou. Die bang voorgevoel in sy boesem het sterk geword, maar sy lyf kragloos, met skaars die veerkrag om te stap. - Oom Kasper voel ook maar vadsig om vir Ampie en die, kaffers aan te spoor. - Gelukkig dat die boerdery in Februariemaand g'n dringende werk het nie.
Die lug het onmerkbaar amper die aarde oordek met 'n vlies, wat die sonnegloed deur 'n matte bedompigheid laat steek. Teen die middag het die vaste banke nader gekrui soos die magtige armee van 'n ylverspreide verkennerskorps.
Die lug lewer nou al die soort van wolke en Ampie vol van bygeloof en voorgevoel, beredeneer die lug met alle erns. - Los wolke oral in die vlieserige lug, die banke aan die westerkant soos swart plate. Dit sal nie maklik gaan vannag nie! Laas nag is my ouma reeds dood, en wie sal vanaand, of hierdie nag sterwe? Die wolke sê vir my dat witmens, kaffer, vrou en mansmens dit sal geware. Die weer kom uit soos kaffer impi's van alkante hiernatoe! ...
In die skemerte, haastiger as ander aande, kondenseer die deinserigheid, en die blitse bewe onophoudelik
| |
| |
amper bo die horison. - Gewone sake word stilweg afgehandel, en met 'n skugter eerbied onderhou die stemme 'n stroewe huislikheid. - Die nag het toegesak, die aandete en godsdiens is verby; maar Ampie hengel buite op die werf, asof hy bang geword het vir die mure van sy kamertjie. - Dit kwel hom nou, die bang voorgevoel, wat hom heeldag gepla het. Vrees bekruip sy hart. Sou dit wees, omdat sy ouma dood is? Hy wonder of sy ouma in die hemel is? Sê nou, sy is daarbo; dan dwarsdeur die wolke sien sy nou vir Ampie hier op die werf, al is dit baie donker. Haar oë was reeds so vinnig en deurdringend, so kwaai - verwoedend kan 'n mens maar sê! ... Hy gril by die gedagte en voel gejaag. - Bang kyk hy na die ver blitse, wat so hou-vir-hou op die aarde neerslaan, en die dreunende donder, wat hy daar gunter hoor rommel ... Hy sal maar liewerste weer na binne gaan, en vir Booysen sê, dat die beeste en alles goed versorg is. Altemit sal hulle vir hom 'n slaapplek in die huis gee. Vir sy kamertjie voel hy vanaand maar wild. Hy 't laas nag àl te benoud daar rondgedraai, en moenie praat, oor wat van hierdie nag gaan word nie! Kyk hoe verwoedend slaan die blitse; so sonder moeite of bedenking, tref hulle alles op die aarde, wat in hulle pad is, en dan raas die donder boonop nog daaroor! ... Dis om vir die mensdom te wys, hoe maklik God 'n sondaar by kan kom! 'n Mens weet nooit wanneer jou end daar is nie! ... Die liewe Here moet hom tog bewaar! ... Stil sluip hy die kombuis deur.
‘Hoe kom jy dan so soetjies binne Ampie?’
Sy oë draai onrustig deur die kamer en hy mompel skaars verstaanbaar:
‘Dis somar Tannie; my ouma is dood!’
Almal kyk skielik op en Mevr. Booysen vra verwonderd: ‘Wie het vir jou die tyding dan gebring?’
| |
| |
‘Dis wonderlik om dit vir Tannie te vertel,’ sê Ampie baie ernstig, ‘die mense sal dit nie glo nie; maar die wolke het vir my die boodskap gebring! En as dit nog maar al is Tannie! Laas nag was die wolke groot en yl, Nou kom hul soos gebergtes bo die aarde. Vannag sal baie mense les op sê en die emmer skop!’
Booysen het sy koerant opsy gesit, en die kinders eerbiedig, verwonderd na hulle ma gekyk, wat so ernstig ongewoon vir Ampie luister. Haar antwoord is vol gloed, spontaan:
‘My liewe Ampie, wat print jy jou daardie dinge in? Dis kafferbygelowe, waar g'n mens hom aan moet steur nie. Niks in God se werk gebeur onverwag of deur 'n toeval nie! Die somer volg die lente, net so seker as winter op die najaar volg. - En as die lug vol wolke is, dan het die Here daardie wolke geformeer om in die lente, of die somer, of die najaar, vir ons lande reën te bring. Die lewe van ons almal het die Here in sy hand Ampie! En wolke, storm of sonsverduistering, of sterrereën, of enige natuurverskynsel, het niks met ons menslike lewe hier op aarde te doen nie. - Ou-seun glo jy, dat die liewe Here die sondaar lief het, dat hy sy skepsele wil bewaar! En as hy hulle wil straf, deur hael, verspoelinge, droogte en sy blitse, dan betaam dit ons nie, om sy planne te bepaal in die perke van ons bygelofies nie!’
‘Ja Tannie!’ is die dowwe antwoord van die skugter seun, wat inkruip langs die kinders, teen mekaar op die groot rusbank.
‘Ons kan 'n groot storm te wagte wees,’ sê Booysen somber. Na 'n pouse van ongemaklike stilte sê Ampie onseker:
‘Omie, as die liewe Here ons spaar, sal Omie my dan asseblief môremiddag los? - Ek wil met ou-Jakob na Vlakplaas toe, om die tyding van my oorlé ouma se
| |
| |
dood daar te bring. - Booysen het effens vir sy vrou geglimlag wyl hy fluister:
‘Jou redenasie was verniet ou-vrou. Die lewe self en ondervinding sal hom soetjies aan bekeer, as hy net lank genog by ons kan bly. - En jy wil môre met ou-Jakob Vlakplaas toe om vir die nooi te kuier?’ Ampie lag verleë en antwoord, wyl sy bolyf inmekaar krul van skaamte: ‘Nee oom Kasper!’
‘Nou ja jong, jy kan môre ry en sê maar groetnis vir die nooi. - Vergeet maar daardie bog omtrent jou ouma. As sy nie lankal dood is nie, dan lewe sy nog positief vanaand! ...
Die weerlig flikker telkens feller en die donder rommel naderby met harde dreunings. Vaster teen mekaar sit die kinders met Ampie op die bank, roerloos met oë groot van eerbied of angs. Booysen het g'n aandag in die nuusblad voor hom nie. - Onwillekeurig het die dreigende elemente almal vasgevang met hul geweldige kontraste van lig en duister, rumoer en stilte, elkeen op homselwe magtig en intens ...
‘Is die uitsitplekke goed toe Ampie?’
‘Ja, Omie, ek het al die uitsitplekke deurgeloop vanmiddag, soos Omie my gesê het.’
‘Die voor en die spruit sal afkom, dis nie altemit nie,’ sê Booysen meer teen homself.
Na weer 'n ruk van benoude stilte vra Ampie:
‘Ek wou vir Tannie iets gevra het asseblief! Ek wou vra of ek vannag maar in die kombuis kan slaap.’ - Oorredend vervolg hy: ‘Dan is ek byderhand Tannie; want 'n mens kan nooit weet wat of die weer se plan is nie.’
‘Toe maar Ampie. Die weer lyk werklik kwaai!’ Maar selfs, toe hy dig by Booysen hulle, in die skynsel van die agterhuis se lamplig, daar op die kombuis se vloer lê, opgetrek bo sy dubbelgevoude kombers, kon hy die
| |
| |
bange onrus in sy hart nie wen nie. - As hy sy oë toeknyp sien hy die glinster van die weerlig, wat die duister wegblits en hy hoor die donderende dreunings, of die lugte bo die huis oopgebars het. - Hy voel dat hy 'n sondaar is, waarop die godheid toorn en hy kan nêrens 'n wegkruipplek vind nie. - As hy tog maar kon bid, of sing, enige iets kon doen om die liewe Here te laat verstaan, dat hy soebat om ontferming en behoud vir sy lewe. As hy sing, dan sal die liewe Here hom hoor.
In die stilte buite kom lewe. 'n Steek wind vang die huis met benoud klaende rukke en huil verder, baie treurig weg. - Soetjies nou, en dan weer kragtiger almaar droewig loeiend om die woning, soos 'n onwillige bode, wat 'n treurmare moet bring en weeklaend wegspoed. Die naargeestige wending ruk Ampie sittend teen die muur op sy kombers. Die bang geluide gaan soos die swaar drukkende gehoe van baie uile wat 'n doodsberig bevestig. - Almaardeur huil die geloei vol naarheid om die huis. - As hy tog maar kon bid! Maar sy gedagtes kan g'n woorde vorm vir wat sy hart die liewe Here wil afsmeek nie ... Die blitse en die dreunings was die slag al baie nader. - In die lamp se skynsel skuif hy digter na die mense in die agterhuis, sodat hy almal goed kan sien. - Daarbinne word g'n woord gewissel nie. Eerbiedig wag hul stil die onweer af.
Ampie voel dat God vanaand regtig op die mensdom toornig is. - Ag as die liewe Here hom tog maar sal spaar. Hy sal die bybel elke aand lees en nooit weer vloek nie en nooit g'n arme os mishandel nie en vir sy pa en ma ook weer gaan kuier: want hy het in die tien gebooie geleer dat hy sy vader en sy moeder moet eer ... As hy maar net kon sing. In sy benoudheid dring sy hees vraag na Booysen toe:
‘Sal Omie - hulle my toelaat om die aandsang te sing?’ en daadlik volg 'n angstige versoek, wat klink
| |
| |
soos bidde: ‘Sal Omie, nie vir my spot nie? Die weer is so vreeslik Tannie, en as Tannie-hulle lag, dan kan ek glad g'n geluidjie uitbring nie. - Dalk sal die liewe Here hom oor ons ontferm!’
Getref deur sy openhartigheid en erns, voel hulle vreemd aangedaan: ‘Sing maar gerus ou seun, sing na die drang van jou gemoed!’
Booysen het sy koerant weer gegryp en gemaak of hy lees terwille van die seun. Die onverstaanbare woorde, in rou klanke uitgestoot, klink soos 'n angskreet teen die donderslae op. - 'n Heilige erns en godsvertroue vervul die agterhuis, tesame met die skor, harde geluid, deur Ampie se benoudheid voortgebring. Want Ampie ken g'n wys nie, hy sukkel aan die liederwys, wat hy by oom Tys vroeër saamprobeer het, hy ken die woorde en voel verligting onder die rou ontboeseming. - Dit tref die kristenharte van Booysen en sy vrou. - Dit gaan so same met die wind se klaende droewige geloei. - Dit is die sielsversugting van 'n gemoed vol angs en bewing. Maar toe die openbaring van 'n mensesiel, die gevoel van hulle eie sielelewe tot 'n kliemaks opgedryf het, toe gryp die sieldrang van man en vrou, so spontaan, die aanvangsreël oor:
‘Ik weet aan wien ik my betroue.’
dat Ampie stilbly, en luister na die volheid van geluid, groeiend deur oortuiging en geloof. - Ampie luister, opgevoer deur die heiligheid van die moment, sterk deur die mag van intuīesie, wat hom onbewus die voorhuis binnelei, tot weer op die bank, langs die singende kinders.
Toe breek die onweer los met 'n skielike geweld, waarin die hardste dreunings verlore raak. Die stormwind het onkeerbaar op die plaas losgetrek, die reën val soos bokhael op die aarde en in die magtige gedruis vervloei die donder se geraas. Roerloos sit die huis- | |
| |
genote met Ampie in die agterhuis vol ontsag en eerbied, vrees ook vir die mag waarmee die Almag hom laat ken, vir die Almag, wat die stikduister wêreld, vir een oomblik oogverblindend belig en tegelyk met een geweldige donderslag laat sidder. Die duister is intenser en dit skyn asof die stormgeraas en reëngekletter effens verswak het vir die donderslag. - 'n Skrik ruk al die lede van die huisgesin uit verband uit. Booysen staan op en die kleintjies skuif van die bank af, na hulle moeder toe, wat hulle teen haar lyf vasdruk. Grieta Booysen praat met senuskokkies in haar stem: ‘O ma, die slag was seker langs ons huis!’
Ampie sit soos een, verdoof deur sterk drank. Sy oë wyd van angs, volg net vir Booysen wat na die kombuis toe stap. ‘Die weer is soos 'n oordeelsdag kinders! - Die slag het neergeslaan en baie naby ook!’ sê Booysen. ‘Ons moet maar wakker bly, tot die weer verby is.’
‘Sou die slag nie van ons beeste doodgemaak het nie?’ vra Grieta Booysen luid vir die twede keer.
‘Bes moontlik Grieta en as dit God behaag het moet ons tevrede wees!’
Die woorde word skrewerig geuiter en herhaal om verstaan te word. - Na enkele minute is die huisgesin met Ampie weer, stil eerbiedig om die tafel. Toe die weer verby getrek het, staan Booysen met Ampie op die stoep. Die kraal se beeste is nog almal. Booysen voel gerus. Die vraag van Grieta het hom gekwel.
‘Dit was 'n waterspoeling Ampie. Hoor die spruit,’ sê Booysen. ‘As die waters so afkom, kan g'n mag ter wêreld hulle keer nie!’
‘Water is nes 'n sprinkhaan, Omie. G'n vuur keer hom nie, waar hy wil loop, daar loop hy,’ sê Ampie sonder enige emosie, baie ernstig. - Die volle maan giet sy lig oor die aarde, en die stil benoudheid van die atmosfeer is weg gewaai, maar in Ampie se boesem het die
| |
| |
voorgevoel gebly, wat hom gekwel het met 'n bang onsekerheid. Die lug is reeds vol groot los wolke, wat stadig drywe na die maan se kant toe ...
‘Dit was 'n kwaai slag Ampie! Ek wonder waar hy neergekom het!’
‘Die slag het doodgemaak Omie!’ ...
En die gedagte het nou sekerheid vir hom geword. - Die huisgenote slaap al lankal, maar Ampie vind op sy kombers, in Booysen se kombuis g'n rus nie. - Hy wonder of die weer nie altemit vir Annekie getref het nie ... Iets het die slag geraak, en iets van hom! ... Hy voel hier binne in sy hartslag, dat hy iets verloor het. Die heeldag deur het hy gevoel dat iets verskrikliks gaan gebeur. Nou weet hy dit. - Of sou die weer ou-Jakob dalk getref het? ... ‘Ag Here nee, dan liewerste vir Annekie! ... Ag, liewe Here nee, spaar ons tog aldrie same asseblief!’ sug sy wanhopige sielsuiting en hy verkeer in 'n spanning onhoubaar. Dis Annekie of ou-Jakob! Hy kan hom nie daarvan los dink nie, en vasbesluit begeef hy hom na buite. Toe sluip hy in die maanlig oor die werf, na die kamp, waarin ou-Jakob altoos wei, na die doringboom, waaronder hy ou-Jakob vanmôre nog gekry het, al rusloser, al banger vir die sekerheid, wat hom daar wag. - En toe hy by die lewenlose donkieliggaam staan, bars die benoude roep sy longe uit: ‘Ou-Jakob, my ou-maat!’ en hy werp hom op die grond langs die dooie esel ...
Die maan se lig verdof en al die jong wolke, wat so vinnig bo deur die lug sweef, kleur die môre met 'n rand van karmosyn, en endloos blou is die suiwer hemel bo die wolke. Die aarde juig omdat daar nuwe lewe is, en die veld so groen. Die dag dans deur die lug met tintelende strale, as die son bo die kom verrys. - Die beeste woel om uit te breek, uit die papmorsige kraal, en oom Kasper soek vir Ampie. Hy kry die maats roer- | |
| |
loos lê naby die doringboom en weemoed maak hom stom. - Die wondervolle liefde tref hom in sy siel, en dis of hy iets heiligs aanraak, toe hy die seun wil wakker skud. Sy stem klink hees van aandoening:
‘Ampie! ... Ampie! ...’
Die liggaam beur hom stadig orent, en verwilderd, asof uit 'n benoude slaap ontwaak, kyk twee oë hom vreemd aan.
‘Ampie ou-seun, kom jong, staan op!’
‘Ja, oom Kasper!’ antwoord Ampie dof.
Booysen help hom op.
‘Die weer het vir ou-Jakob doodgeslaan nê?’
‘Oom Kasper, is ou-Jakob dan dood?’ vra hy soos een, wat in 'n droom gehinder word ...
|
|