| |
| |
| |
Hoofstuk XVI.
Vergoeding.
Ampie het in die eerste weke van geesverbotting gelewe soos 'n daggaroker in die nadraai stadium. Outomaties het sy liggaam elke dag se gereelde pligte, as na gewoonte gevolg. Hy was sonder 'n bewijs van wil, begeerte of hartseer. Slegs 'n onbepaalbare gevoel het geweldig op sy innerlikheid gedruk; vandaar die stomp voortlewing soos 'n tamgetrekte karweios.
Booysen het medely gevoel met Ampie en hom 'n ander donkie beloof, net so geskik as ou-Jakob. Met 'n droewige glimlag het Ampie hom bedank en afgetrokke gesê dat hy baie bly sal wees ... Maar in sy hart het daadlik iets geroer, gelewe en die onbepaalbare druk gebreek. - Toe het Ampie sy droefheid kon uithuil onder die doringboom, waar sy ou-maat getref geword en hy hom ook in die aarde gebêre het. Hy 't lank getreur onder die doringboom en dit was goed. Die kering was weldadig. Hy 't weer 'n mens gevoel, met begeertes en hartstog.
Soms kon hy blymoedig 'n môre met sy werk begin, 'n dreungeluid op sy trompie afstrum, om teen die namiddag moedeloos en eensaam rond te slenter deur die kamp, asof hy daar iets soek. En omdat daar niemand saam met hom kon treur nie, het hy die allenigheid meer gevoel, en na 'n drang gèluister om weg te trek, sodat
| |
| |
hy nie dag vir dag die noodlottige doringboom sou sien nie.
Die mense was goed vir Ampie. Hulle het eerbied vir sy droefheid gevoel, getrag om sy gedagtes af te lei. - Mevr. Booysen wou in hom die lus laat herleef vir die volgende aanneme; maar sy hart was so afkerig, as sy gedagtes onbekwaam was, om vraag of antwoord van die vraeboek uitmekaar uit te hou.
Ampie het eendag vir Booysen weer wou sien asseblief:
‘Oom Kasper, ek wil na die dorp toe gaan, as my jaar by Omie om is. Ek sal die donkie, wat oom Kasper vir my wil gee, verkoop en met die geld dan 'n steenmakery agtermekaar sit naby om Flip Staander. Ek reken so; oom Flip sal wel vir my 'n slaapplek gee, al moet ek ook, vir hom steenmaak daarvoor.’
Maar Grieta Booysen het dikwels vir Ampie geroep om die blomtuin vir haar nat te giet terwyl sy saamhelp, om die water aan te bring. Hy 't altoos gewillig daar gehelp, en swakkies wou die vonke van liefde 'n flikkerskyn oor sy wese gooi. Toe het die lewensgloed opnuut begin te smeul en 'n onnoembare verlange na iets noodsaakliks as onmisbaar vir sy lewe, sy smart getemper, dog sy hart weer oopgemaak vir die liefde. Nou het gedagte oor sy toestand en lot die oorhand gekry, planne en berekeninge gemaak, alles waarin die dogtertjie op Vlakplaas haar plek kom neem. Sy hart het gesnak na die saamvoeling van iemand - en Annekie sou treur met Ampie saam, oor die dood van ou-Jakob, hulle twee se ou-Jakob - daarvan was hy oortuig!
Hy 't opgeleef as 'n nuwe mens, maar dit het lank geneem, voordat Ampie kon besluit, om sy groot verlies aan Annekie mee te deel. Hy 't hom toe neergesit in sy kamertjie, nadat hy van oom Kasper 'n potlood,
| |
| |
'n velletjie papier, 'n koevert en 'n posseël gekry het. By die lig van sy lantern het hy somar spontaan-weg, die volgende brief van die ongelykste letters, sonder lettertekens en vol ontydige hoofletters geskryf:
‘Liewe veelaandinkende aanekie ek sit my nederom u te Melden dat dit met my Nog goed gaan deur die Goedheid van die Here en indien dit met u anders Gesteld is sal dit my seer ter Harte gaan en liewe Annekie dit heef die Here behaag om vir ou-Jakob van ons weg te neem.’
Hierdie aanhef het opgewel in sy kop, deur die hoorlees van vorige briewe by oom Tys-hulle.
‘Die weer het hom Doodgeslaan en Hy het sommar op die plek bly lê Morsdood en liewe Annekie ek wil graag van u hoor omtrent toestand en va u famlieleden Skryf my tog spoedig hoe dit gaan want ek is seer besorg over u allen my hart voel baie seer oor oorlede ou-Jakob hy was net so Verstandig as 'n mens mens kan maar se hy was gelyk een broer en hy het vir my Alleen laat staan hier op die plaas die Gesaaide is nie te sleg nie en liewe Annekie skryf my tog spoedig want oorlede ou-Jakob is nie meer daar om my te troos nie in my élend en daarom kan ek nie meer met oorlede ou-Jakob kom kuier nie hopende dieselfde van u te horen so sluit ek met die pen maar Nooit met my verlangende Hart so blyf ek u teerbeminde Abraham Nortjé
die soentjies is vir jou.’
Agter op die koevert het hy geskrywe die letters S.W.A.K. Hester het hom dit vroeër op een van haar briewe gewys en toe het sy die letters gesoen en vir
| |
| |
hom beduie, dat dit op Engels beteken, hoe innig die brief met 'n soen verseël is. Annekie sal weet! ...
Vir Ampie was dit 'n groot gerusstelling toe hy die brief aan oom Kasper kon gee om op die dorp te pos. In die poskantoor van die plaaswinkel het hy glad geen vertroue gehad nie en hy 't hardnekkig besluit dat oom Kasper positief dieselfde brief in die groot poskantoor moet pos, terwyl oom Kasper tog dorp toe moes. Booysen wou nog beswaar maak teen die wanhopige adres, maar Ampie was beslis: Oom Kasper moes maar net vir die posmeester sê, dat die plek Vlakplaas se kant toe lê en dat die adres heeltemal reg is.
'n Paar dae lank het Ampie met bly verwagting lekker deur gewerk.
Toe die eerste week verby was, en van Vlakplaas geen berig gekom het nie, het hy, gepeins oor al die moontlike redes daarvoor. Sou sy die brief ontvang het; oom Kasper het tog positief die brief gepos! Die mens soek mos almelewe sy verderf, en die posmeester het sweerlik die brief vrek-omgedraai! Die mensdom behandel hom almaardeur asof hy kwaad gedoen het, of sou Annekie, onverskillig teenoor hom, versuim het om die brief te beantwoord? - Gedagtes vol selfverwyt het hom gepak, namate die tyd verby gaan. Wat het hy aangevang om daardie meisiekind so sleg te sê? Sy 't nou seker lankal ander vryers raakgeloop; dis ook bes moontlik, dat sy al getroud is. - En hy, wat Ampie is, sit hier en krepeer van ellend op Booysen se ou plasie, waar die dooie lewe hom dag vir dag knelter, asof hy deur 'n slagyster vasgevang is.
Die rypies het al smôrens hier en daar die aarde witgepoeier, toe Ampie se brief na homself terug gekom het as onbestelbaar. Ampie sou die slag sy sake beter oorlê en 'n kaffertjie stuur, om persoonlik die brief vir Annekie te gee ... Drie dae later op 'n Sondagmiddag
| |
| |
het 'n mondfluitjie met Bart, van Vlakplaas af gekom. Die skrander musikale seun van die Tysfamielie, het sy mondfluitjie gebêre en ook sy spekulasiegees. Ampie het ook so baie verander sedert hy hom laas gesien het, met die afsêbrief van Annekie; nou lyk hy in sy mooi pak klere self 'n grondbesitter, so deftig alles in die haak, g'n skoenriempie verkeerd nie. Bart het werklik verleë gevoel. - Maar toe hy opmerk aan die lomp groet, hoe rooi verleë Ampie vir hom amper verbouereerd lag, toe raak Bart se skuheid weg en hy probeer om uit vind, wat Ampie so al besit. ‘Gee 'n sigret jong, as jy het!’
Ampie wil egter weet, hoe sake staan; hy brand van nuuskierigheid om van Annekie te hoor. Bart het g'n brief gebring nie; maar Bart kon omstandig veel vertel die agtermiddag, terwyl hul saam sigrets gesit en rook het tot die kamertjie van Ampie benoud geword het. En Ampie het gehoor: Dat Annekie vreeslik kwaai vir hom was, maar baie bly, toe sy weer tyding van hom ontvang het; dat 'n dorpseun probeer het om hoed-op-ie-hang by haar; maar puur verniet. - Dat Annekie vir hom laat weet het dat hy baie gou moet kom kuier en dat sy vir hom wag! Bly in sy hart, maar baie gewigtig in sy voorkoms, het Ampie toe geantwoord:
‘Neef Bart, sê jy vir Annekie dat ek sal kom kuier, sodra oom Kasper my verlof gee. Soos jy self sien ou-neef, rus die hele boerdery van oom Kasper nou op my. - Gaan ek vort, dan staan alles stil, en wat word dan van die gesaaide? Ek is onmisbaar vir oom Kasper, 'n mens kan maar sê, ek is oom Kasper self. - En sê vir haar, dat sy moet oppas vir die dorpskêreltjies; hulle maak net mooi beloftes, maar hulle voer niks uit nie!’
Ampie het 'n end saam met Bart teruggestap. Hy sou die heel ent pad met hom kon saamgeloop het, want sy hart was weer op Vlakplaas; dog die boerdery van
| |
| |
Booysen rus op hom. - Hy 't lank gestaan en kyk na die bekende bult, nadat hy van Bart afskeid geneem het.
Die wete dat Vlakplaas se mooiste meisiekind nog baie van hom hou en die boodskap gestuur het dat hy moet kom kuier, werk 'n omkering in sy gemoedstoestand. Iets in homselwe rebelleer teen sy gedrag jeëns Annekie, waardeur hy klein voel, hoe groot sy liefde ook mag swel vir haar. Wat vroeër selfverwyt was, roer nou in hom as die vreemde besef, dat hy vir Annekie groot onreg aangedoen het. Dit setel dieper in sy innerlikheid, beinvloed heel sy wese met 'n vreemde weemoed, waar tog genot in skuil. 'n Wroeging en die heerlike wete skep 'n nuwe en fyn lewensbegrip in sy ruwe siel, die onreg en sy ontrouheid, sy boos gedagtes jeëns Annekie en daarteenoor haar wagte op sy koms.
Hy vergelyk in stil bedenking hul verhouding. Dit maak sy boesem saf vir die nooi, wat hy in haar wonderlike liefdeslewe ontdek - en dit lei sy skelm skugterheid in 'n beter koers. Hy voel of hy vir Annekie sal kan soebat om hom te vergewe, hy vind geen verskoning vir homself nie. - Hoe verlang hy na die komende Saterdag en tog voel hy huiwerig om Annekie te ontmoet. Hy voel deur eie skuld die morele moeilikheid. Hy moes nooit Annekie vir Hester opgegee het nie. Die afsêbrief was somar pure twak! Wat was die wonderlike dogter van oom Flip vir hom, dat hy so danig agter haar gedraai het soos 'n brak? En wat is Annekie op hierdie heden nog vir hom werd? Sy hele lewe - en sy wag vir hom! Hy was 'n stuk gereedskap, wat 'n mens gebruik en neersmyt, as jy klaar het met die ding, handig om iets reg te maak, of anders in die pad. - Vir Annekie was hy altoos eners, nes hy vir ou-Jakob altoos eners was, al het hy rondgeloop in toiïngs. Die een het hy verloor, die ander moet hul twee se plek van nou af inneem. - Hy voel nou eers hoe diep sy liefde vir
| |
| |
Annekie gebêre was, hoe dit uur vir uur loskom uit sy wese, en hom inneem, kalm beslis, met die bedaarde drang, wat sy gedagtes, vol oorweging, 'n standvastigheid gee, sodat hy seker voel van sukses. Die kalwernukke is verby! ...
Hy sal voor Annekie verskyn, as die versorger van haar lewe, en op sy allerbeste; sy is sy lewe werd, en meer nog as sy lewe. - Sy moet hom sien, soos hy Oujaarsaand was, mooi aangetrek, tussen die jongmense, as een van hulle. - Net hulle is te sleg vir Annekie se weggooi goed! Sy het die reg daarop, dat hy homself oppas en netjies reghou - sy moet met hom kan spog! - Hy sal vir haar 'n woonplek gee vol gerief en soos sy dit begeer. Sy hou mos van 'n klerekas met so'n groot spieël, 'n stoof, 'n ysterkatel en 'n verebed ... en hy sal hom nog goed bedink voordat hy vir oom Kasper sal laat staan ... die leë huisie van Flip Staander is 'n ordentlike verblyf vir hulle twee! ...
So het die week verby gegaan met sy wisselende stemminge ...
Saterdag middag, toe hy hom wil regmaak vir die kuier, roep Kasper Booysen hom haastig. Hy wys vir Ampie na die lug agter die bulte vol digte rookwolke, wat 'n ontydige veldbrand opstoot uit die nog nasomerklamme winterveld. Hulle voel meteens die noodsaaklikheid van aksie teen die gevaar, wat met onafsienbare verwoestings dreig, wanneer hy die oorhand behou. Ampie spring toe weg met Booysen en al die kaffers, wat hulle bymekaar kon skraap.
Die vuurtjie, wat maar met 'n onversigtige weggespatte vonkie begin het, krul nou soos 'n vuurstreep oor die plase. - 'n Oproep aan al die bewoners, rol soos 'n toorwoord deur die lug, om die ramp te keer. Die ganse omgeving kom in opstand teen die gevaar, wat droë mielielande, doodryp wagtend op die oes, sal verteer,
| |
| |
en elke tree vorentoe, akkers van die vee se weiveld buit, sat sal afsak na die vleië om die leegtes en fonteine te laat opdroog en 'n wintergesaaide onmoontlik te maak, wat kafferhuise en bontstaande besittings in ashope sal verander. Geen draaiery oor wat so'n ontydige veldbrand in Meimaand kon veroorsaak het nie; direk luister elkeen na die oproep, om die vyand in te storm, met die taaiste ywer om hom klein te kry. Witmens, kleurling, baie vrouens en selfs kinders, wat 'n slaanding kan hanteer, voel dienspligtig, sonder dwang. Die veldbrand is weldra 'n toneel van groot bedrywigheid. Dit is 'n vasberade stryd, waarin die dowwe neerplof van die slaandinge soos 'n demper op die losgelate vlamme val, dog die opknetter van die vuur in ruie gras aanwakker. - Orals gestippel teen die rookkolomme vertoon die ver van mekaar verspreide klompies mense maar nietig in vergelyking met die myle lang wolkgordyn, wat soos 'n grou gebergte lyk. - Hulle is vandag voorspoedig en weldra is groot gapings in die vuurstreep en wolkgebergtes aangebring. Die geweldige inspanning van soveel kragte, begeester elkeen met 'n volhou en 'n taaiheid, teen die hitte en skerp rook, waarmee die vyand op hulle aanval.
Ampie het sy maats algar agtergelaat sonder dat hy hom dit bewus is, en sy kuierplan na Vlakplaas is vergeet. - Hy lyk al soos 'n wilde, wat sy gesig met kleursel vuil besmeer het. Die sweet en rook en pulwerige as het hom bestreep en bevlek dat daar geen stukkie gelaatskleur oorgebly het nie. Sy oë fonkel, so begeester hom die stryd. Dit smaak vir hom of hy allenig vuurslaan. Dieselfde hartstog het hom gegryp as indertyd by die slagpale, toe dit ook vir hom was, of hy alleen die os aanbring. Dieselfde drif het in sy lyf gespring. Hy sal kan aanhou vuurslaan, dae lank, so taai voel hy homself en gevoelloos amper vir die rook en
| |
| |
hitte. Hy lewe in die doodslaan van die vlamme, die vuur beset hom met die wreedheid van 'n fanatis op die slagveld. Daar is vir hom 'n wellus in die stryd, wat deur sy liggaam prikkel, as hy hou-vir-hou 'n paar voet van die veldbrand doodvee. Die vlamme word vir hom as wesens met die brutale durf om Ampie te bespring. Hul maak hom wild en woes; hy koggel hulle uit: ‘Jul dink verniet om my te wen! Julle is laat! Ek slaan jul uitmekaar uit dat die stof so trek!’ En nou hy hom 'n baas voel oor die vlamme, gloei sy oë van moordsug. Dit traak hom niks, waarheen die vuur hom lei nie, as hy maar net die vuur se lewe kan verniel. Sy menslikheid is weg, en in die donker, wat om die veldbrand toegesak het, lyk Ampie soos 'n woesteling, onkeerbaar.
Die duister verlig die toneel soos 'n fantastiese geheel, van tallose gloeitinte, waarbo die vuurkolomme groots oprys, hoog in die hemel in, om weer 'n wyl skemerlig in die duisternis te gooi. Dis soos 'n magtige vuurwerk oor die aarde; die vlamme gloei en dans in die donker, die duister gee hul lewe en lig; 'n nuwe stadium het ingetree. Die veldbrand het sy bondgenoot gewink en skielik het die wind sy aanval deur die duisende van vlammetonge uitgedreun. Orals knap en koetter die verdorde veld, nog nie uitgevreet en weggetrap deur die vee nie, en vang die vlammetonge op, wat gulsig vorentoe lek, en die vuurbrokke, wat afspring vorentoe oormoedig deur die wind se besieling. Die wind bring baldadigheid in die vuur, die vuur verswelg die veld, die veld lê soos 'n magtelose prooi, want alle weerstand word nou uitmekaar gewig. Die vlamme warrel as in 'n rondedans, en bokspring oor die polle omhoog knetterend van plesier; want hulle het die opdraende bereik, en oorwinnend bespring hul die skuinste met galopspringe, soos 'n ruiterbende op 'n fort instorm. Die bondgenote, nou ongehinderd, gryp mekaar,
| |
| |
soos twee, wat sinneloos van liefde is. Hul dwarrel, hoog die lug in met 'n uitdaende gedreun, uitgelate in die vryheid, wat 'n mens laat sidder.
Nou moet oorlê gebruik word deur die mensdom en die kragte gekontroleer, namate die gebrom van wind en vlamme opdreun of verswak. Die vuur sal hom nou moet gedaan spook teen homselwe deur 'n voorbrand, soos 'n broederstryd 'n nasie uitput.
Ampie se woeste opdruk, kom hier tot stilstand. Hy word bedaarder, voel die lus om in te gee, nou dat die veldbrand hande uitgeruk het. - Dis mos verniet om verder nog jou lyf te staan en moor hier vir 'n ding, wat jou g'n voordeel gee nie. Die mense kan sonder hom maar verder met die malle vuur baklei, hy moet hom nou gaan regmaak vir sy kuier. - Waar is hy in die veld? ... So wrentig dis mos Vlakplaas hierdie! ... Sonder bedenking storm hy die vuurstreep deur, die mense verby, wat 'n voorbrand wil begin op 'n geskikte plek, na die nuwe rooksuile toe, wat van agter die bult uitklim. Vlakplaas se mense het die voorbrand daar al begin. 'n Stukkie van die nuwe vuur het geniepsig oor die voetpad weggespring, toe Ampie daar kom - in 'n ruie veld dreig die nuwe ramp. - Dis hier waar nou die mense van Vlakplaas veg, asof dit hulle lewe geld. Ampie het in die skynsel, wat die vuur teen 'n goue muur van dekgras gooi, die onvergeetlike lap dekgras van hom en Annekie herken. Deur sy bewustheid skiet 'n vaste besluit, soos die taai krag deur sy lyf en senings. Die vuur moet dood! Die dekgras mag sy buit nie word nie! - 'n Woesteling weer, plof hy met sy slaanding in die vlamme. - Hy 't Bart nie opgemerk nie, wat Ampie herken het met 'n hees roep:
‘Dag jong! Hy 't hande uitgeruk, dis die!’
Ampie slaan hier langs 'n meisiekind van Vlakplaas die vlamme dat daar duisende vonkies in die swart
| |
| |
brand knipoog, knap en sterwe. Sy fonke oë mis die tyd om haar te sien, sy hart voel alles soos dit is. Sy ruwe drif sak weg; bedaarder, word hy sterker in sy doening, nou sy harteklop gedagte daarin bring, en as die meisiekind se slaanding halwe werk verrig, vee Ampie s'n die vuur morsdood, so hou-vir-hou.
‘Ons moet perbeer die dekgras red!’ hoor hy haar kortasem uitbring. Die meisiekind het daardie seun herken.
‘Ja Annekie, ons moet die dekgras red! Ons moet!’
Dis hulle s'n! Daar lê 'n heiligheid van skoon herinnering vir hulle twee, daar in die goue ruigte waarna die vlamme gulsig lek! Dis hulle s'n, die dekgras daardie! Dis hulle twee, wat nou die vlamme opdons en verniel, 'n vonkevuurwerk oor die swart brand toor, deur die besielde aanval van hul twee. Dis of ook Annekie se slae forser neerplof in die dof-dof, dof-dof van hulle twee so doening.
‘As ons hom net kan aanbring tot die voetpad Ampie, dan sit sy turf!’ sê sy met stote, hees en kortasem, onder die vuurslaan deur.
‘Die Here sal ons help my liefste Annekie!’
‘Hy sal Ampie! ... Hy sal!’ ... Hul slaan! Hul slaan!
Die vlammetjies kring kleiner na die voetpad toe. 'n Duisternis oorval hul, swart en skielik. - Nou gooi die groot vuur, wat homself gedaan spook op die bulte, sy flikkering vir twee wilde wesens. - Die oomblik vang hulle harte met 'n ru verhewenheid en hulle woes betakelde gesigte bly starend na die vlamme wat mekaar verlaas bespring. Die veldbrand sterwe in die donker van die nag. Hul twee se liefde lewe en skitter wyl hul langsaam na die eenkamer woning op Vlakplaas wandel.
Ampie het vir oom Kasper weer bietjie eenkant toe
| |
| |
geroep. - Hy 't skamerig begin, met 'n rooi-gloeiende gesig en effens 'n senuweeagtige laggie. Dis groot sake waar hy oor moet praat.
‘Ek wou net vir oom Kasper sê dat oom Tys vir my vertel het van twintigduisend mense, wat sonder werk op die dorpe rondloop. Ek reken so Omie, as ek ook soontoe gaan, soos my plan was, dan is daar een-en-twintigduisend sonder werk. - Ek sal maar liewerster by Omie-hulle bly en as oom Kasper nie omgee nie, dan sal ek daardie huisie van oom Flip vir ons regmaak, want ek moet vir Omie bekend maak, dat ek en Annekie sal gaan trou, nes die huisie reg is en ek 'n lappie grond by Oom gekry het om op te bestaan ... Ek reken so, oom Kasper sal ons seker help! ... Annekie kan ook somar vir tant Grieta hand bysit in die kombuis. Sy kan werk Omie! Aits daardie meisiekind kan vir jou werk!’ ...
En Booysen klop vir Ampie op sy skouer, innerlik verheug oor sy besluit:
‘Dis reg ou seun, ons twee sal almelewe oor die bult kom!’
|
|