| |
| |
| |
Hoofstuk XIV.
Die Môreskof.
Een uur te perd diskant die dorp, in 'n leegte, langs 'n amper droë lopie, met hier en daar 'n syferwater, is die gewoonlike uitspanplek deur honderde ashopies en kaalgetrapte plekke in die veld aangeduie. - Dis maar 'n eentonige wêreld in die groot ruimte tussen kaal bulte, en dis 'n troostelose uitspanplek met nêrens boom of struikgewas. Die bulte lyk maar orals eners, die lopie sny soos 'n krullerige skeur in die leegte af, en die veld is niks besonders vir die beeste nie; maar toe die wa van Kasper Booysen uitgespan staan, en Ampie werskaf met die osrieme, die water en die vuurmaakgoed, toe kry sy hart 'n liefde vir die kaal wêreld om hom heen. Daar is g'n mens meer te bespeur nie, as net allenig Hester hier by hom, haar moeder agter die wa, en die kaffertjie by die beeste langs die lopie. - Maar Hester staan hier by die vuurtjie met haar kappie dig om haar kop, haar hande toegemaak met bleikhandskoene, en sy praat met Ampie oor die heerlikheid van 'n uitspan in die veld, die allenigheid en die aarde wat so rustig is.
Die woorde van die wonderlike meisiekind skiet in sy liggaam op met tintelende warmte - ag Ampie sou gewillig wees om op hierdie kaal plekkie, met net die bulte om hom heen, en die oneindige blou lug daarbo, sy lewe te verslyt, as Hester net altoos daar sou bly staan, so eie met hom geselsend oor die allenigheid.
| |
| |
Dit gee hom die bewustheid van beskermer en versorger. Hy voel hom as die baas van hierdie plekkie. Alles is onder sy sorg. Alles kan hyself behartig. Hester hoef haar bleikhandskoene nooit eers uit te trek nie, sy hoef haar nie te roer nie. Die osse wei stilweg langs die lopie af. Die kaffertjie sal hulle bring, as hy die order gee! Tant Saartjie woel daar agter die wa om die eetgoed reg te kry, en sal netnou beskuit en hoendervleis en handtertjies uitbring op erdeborde. - Hester staan daar soos 'n dogter van 'n koning, wat bedien moet word en dis nie meer as reg nie, want sy is 'n wonderlike meisiekind. Sy moet haar-bleik en reghou vir die aanneme. Vir hom is Hester soos 'n heilige en al sy woorde kom so stadig, of 'n staalveer hulle in sy hartslag vashou. - Sy praat die meeste en hy woel maar net, terwyl hy heerlik luister - stoot half gebrande houte verder in die vuur, of blaas die vlamme wakkerder, of skraap 'n miskoek hier agter hom en pas dit op die regte plekkie in die vuurgloed. - Maar in sy digte boesem, swel 'n ontvanklikheid, wat liefde voel vir die kaal bulte, die onpeilbre hemelblou, die wa hier by hom en net diskant, Hester langs die vuurtjie, wat hy reghou. - Hy wil niks meer nie; die aarde is so vir hom goed en hy kan sterwe in die lushof van sy gedagtes ...
Die ketel kook. - 'n Skielike gewerskaf van tant Saartjie met baie woorde, die klink van koppies, en die sag geborrel van die eerste gietsel uit die tuit. Die geur van koffie, die stille inskink, al die koppies vol en dan die stil genot, van elkeen in sy eie doening.
Die uitspanplek is soos 'n stukkie van die hemelse rus vir Ampie en as hulle met 'n môreskof van die kerkplein af kom hiernatoe, sal die son vir hulle kry, as hy die bulte uitklim.
- - - - - - - - - -
| |
| |
Die Nagmaal is verby en ook die mensgewarrel na die leegstroom uit die kerk uit. Nou lig die skemerte die donker omhoog, bo die blok van ligstralende tente, waartussen die vuurtjies as gesprinkel is. Groot skaduwees gly oral langs verby, en om die vuurtjies woel nog sorgvolle vroumense, wat vir gasvryheid lewe. Die nagmaalgangers besoek mekaar verlaas oor en weer, en die bejaardes is verdiep in 'n bespreking van die Sabbatdag se sielsgenot. Uit baie tente klink nog 'n late lied van die jongmense en in die twyfellig hier buite, het die godsdienserns 'n diepte gegee aan die jong harte, waar die liefde hulle saamgebring het. - Voor die waens, in vae strepe, breed en lank, lê die osse aan hulle trekgoed vasgemaak en herkou rustig, gereed vir die inspan, vroeg-vroeg môre.
Ampie sit daar neffens 'n vuurtjie op 'n moot van 'n droë blokhout sigrets en rook, so stil en allenig. Dit was 'n baie woelige dag, met al die mense op die kerkplein. Hy het hom maar skraal gehou en baie eenkant, met 'n sterk gevoel, dat hy nie in die menigte pas nie. - Maar Hester was so tuis daar in die drukte, of heel die mensdom haar famielie is, en dit het hom maar droewig en baie ernstig gemaak. - Net voor die aanddiens, waarin sy voorgestel sou word, het sy in haar pragtige wit klere vir hom vertel, hoe maklik die vrae was, wat sy moes antwoord. Hy kon ook maar gekom het, dan was hy bes moontlik nou ook aangeneem ... Daarvandaan het Ampie somar opgeruimder geword, want Hester was te vrindlik. - Hy 't wonderlik lighartig na die aanddiens toe gegaan, hoewel sy kop maar deurmekaar gebly het, vol bont gedagtes. Dit gaan met so'n nagmaal, publiek soos met 'n vendusie. Baie beeste, 'n mag der menigte van mense, en in die kerk net een, wat maar die woorde oor sy lippe laat rol. En moenie praat nie van die yslike
| |
| |
gedrang, telkens as so 'n kerk leegloop. Dit was vir hom of sy asem met geweld wou wegbly, toe hy vasgepak en voetjie vir voetjie vorentoe skuiwe met die stroom van mense saam. - Vanaand in die eensaamheid, kan hy stil sit en dink en rook. - Dis darem lekker as 'n mens kan rook, wanneer hy wil. - Hy was selde sonder rookgoed laaste week. - Dis vir hom baie maklik om dit te bekom. - Daar is so dikwels goeters buite Booysen se huis, somarso op die vlakte; en as hy vir oom Kasper 'n los sikpens vra, dan gee oom dit gewoonlik. Al die voorslae van sy bokvel verkoop hy maklik. Oom Kasper hoef mos nie te weet dat dit sy voorslae is nie! Laat Oom maar dink, dat hy hulle van die dorp af saambring! Hy 't reeds vir Hester 'n sikspens se lekkergoed ook saamgebring, nogal by ou-Moosa gekoop. Die ou-vabond het hom nie herken nie. Net toe hy hom herinner aan die ring, toe wou dit Moosa skielik byval ...
'n Snaakse selfbewustheid het in sy kop kom nessel, vanaf die wonderlike dag, toe hy vir Hester-hulle ingedryf het met die wa, en toe hulle vertoef het op die heerlike uitspanplek. - Na die môreskof voor sonop sal hy weer daar wees. Ag mag die tyd verby vlieë! ...
Hester was so vrindlik, so baie eie met hom. Sy kon hom maar net order, en hy was lustig om alles vir haar te verrig. - Ag, die Hester is vir jou 'n prag van 'n mens! - Hoe spoggerig het sy vandag gelyk, soos 'n splinternuwe koningin, so uit die kas ...
Sy is goed opgepas geword, sy moes haar bleik en nie haar hande roer nie, want sy moes haar reghou, skoon en suiwer vir die aanneme. Maar hy sou wat betaal, ja, tien dosyn hoendereiers, wat hy in die ruigte optel, om die fyn handjies van Hester, vir so 'n ruk vas te hou ... Tant Saartjie het hom darem genog kos gegee en baie
| |
| |
handtertjies ... Maar Hester het so laggerig vir hom gesê, hier op dieselfde kerkplein:
‘Jy is mos net al handig Ampie. Jy sal eendag sekerlik vir jou vrou ook baie help!’
Ag, dit was heerlik daardie woorde, dis of sy hartslag wou dwing om aan die brand te slaan. Ja, hy sal wrentig vir Hester eendag baie help! Sy kan maar op die kooi bly lê van die môre tot die aand en in die nag dwarsdeur, altoos maar rus en rus. Hy sal die laaste werk vir haar verrig. Sy kan haar bleik haar lewe lang ... As hy tog net maar een aand met haar kan opsit, om haar dit goed duidlik te maak. - O, hoe verlang hy om van die gewoel af pad te gee, alleen weer sy wa na die heerlike uitspanplek toe te drywe. Altemit kan hy 'n kans kry om daar sy hart vir haar oop te maak. Hy hunker na die môreskof ...
Hier teen die wawiel op die moot hout en langs die vuurtjie, sit Ampie maar net en dink, so deurmekaar en lekker ... Wat het met hom gebeur? Hy het die osse se aanja plaas-toe en terug nie gevoel nie ... En wonderlik, van Annekie het hy niks meer gedink nie. Sy is somar 'n ordinêre meisiekind, wat g'n behoorlike opvoeding gehad het nie. - Sy sal eendag nog baie spyt kry, oor sy hom so privaat behandel het. - Sy moet by Hester kom leer, hoe om haar te gedra! ... Dis darem lekker om 'n vroumens te versorg, vernaam 'n mooie, soos Hester van oom Flip ... 'n Mens kan maar sê dit het net van hom af gehang, die ganse aanneme van Hester. Sê nou, hy het die wa laat vasval in die modder? Of as hy nou somar goedsmoeds verkeerd gery het; of steeks was om sy lyf in te steek in die laaste en geringste werkie? Wat sou van Hester-hulle geword het? Sy sou haar hande tog maar net besmeer het. Hoe pragtig het sy vanaand nie gelyk nie, daar voor die preekstoel. 'n Mens kan maar sê, die aanneme was net allenig
| |
| |
vir Hester van oom Flip ... Die kerk lyk binnekant so pragtig, met al die menigte van lektrie ligte. As hy nie hier gewees het nie, wat sou dan van die spul geword het? Die tent het hy ook so te sê allenig opgeslaan, en al die swaar goed van die wa afgetel, ook so te sê allenig ... Maar Hester kon toe somar in die tent instap en haar regmaak en aantrek soos sy wou ... Toe hy die lekkergoed vir haar gebring het, het sy skaars dankie gesê; maar dis minder! Sy moet nou in die gewoel bly; sy is te besig met die nagmaal en haar kop is te vol van die aanneme, en al die mense hou ook so baie van Hester van oom Flip.
Môre vroeg-vroeg na die inspan sal hulle weer allenig wees. Die môreskof sal haar weer vir hom gee en na die uitspanplekkie in die bulte bring ...
Hy het 'n daler gekry vir die dosyn hoendereiers by ou-Moosa gister. Tannie sal hulle nooit eers mis nie ... die hoendereiers was somar eenkant in die ruigte. - 'n Mens kan maar sê hy het die eiers opgetel ... Hester was vandag darem baie min naby die wa. Dit het gelyk of sy g'n rus kon vind nie. Altoos was sy wild en woelig onder die jongkêrels, wat g'n wa en osse het om na te kyk nie. - Dis seker omdat hulle almal bymekaar hoort met die aanneme ... En nou nog is sy eenkant met hulle saam ... Haar ma kuier ook nog lekker by die ander mense. - Hy sit hier stil allenig. Dis niks nie! As Hester maar eers terug is op oom Kasper se plaas, dan sal sy kans wel kom, om met haar op te sit. - Hy wens dat hy op hierdie heden kon inspan vir die môreskof ...
Dis darem 'n groot saak, die aanneme, wat 'n mens kan deurmekaar maak, om so voor die gemeente uit te stap, as die predikant jou naam aflees, ‘Abraham Nortjé’ en al die mag der menigte van mense vir jou kyk. So voor die vreemde uit te stap, na die predikant
| |
| |
hier voor jou, hoog in die wonderlik mooi uitgewerkte vat, waarin hy so oulik pas. Hy voel hom koud word, as hy daaraan dink; vernaam as die predikant so bekruiperig en brom-brom na jou toe stap, voor al die vreemdes net met jou allenig praat. Nee kyk, dis meer as wat hy sal staan! En dit so in die volle lig van die menigte van lektrie ligte. - Hy 't eintlik koud geword vir Hester se part, toe sy daar voor die preekstoel staan, net in die middel van die mooigeblomde vat. - Sy het haar kop so effens eenkant toe gebuig ... Ag, sy 't gelyk soos die koningin van almal daar! ... Sy en haar ma sal seker netnou kom! ...
Die predikant se stem het gebewe, toe hy gebid het. Hy het twee pakke klere; 'n ordinêre swart pak en 'n kispak, wat baie los en wyd om sy lyf sit soos 'n tamaai reënjas. Hy het vanaand sy ordinêre baadjie aangehad, met so'n wit lappie voor sy bors. Maar vanmôre het die predikant hom glad oorbluf, toe hy sy kisklere aangehad het. Hy 't amper g'n enkel woord van die gehele preek verstaan nië, maar hom net verwonder aan die gefladder bo die vat uit, wanneer die predikant soos 'n groot vlermuis sy arms uitswaai oor die gemeente ... ‘Geliefde hoorders,’ is die woorde, wat hy baie mooi onthou het, so dikwels het die leeraar daardie woorde uitgeroep ... Hy 't hom verwonder aan die hoë mure, die pilare; maar mees aan daardie los affêre, omtrent 'n tree bokant die predikant se kop, wat lyk soos 'n yslike tamaai veldhoed, waarvan die bol inmekaar gedruk is. - Dis seker vir die koelte, as die son agtermiddae deur die venster, so reguit op die predikant wil skyn. Die mense bedink darem altoos wat wonderliks. - En die gehele gedoente noem 'n mens preekstoel.
Hester het so duidlik voor onder die preekstoel gestaan en haar hare was agter vasgebind met 'n fraai pienk lint. - Sy het die grootste strik gehad van al die
| |
| |
meisies ... al die ander aanneemmeisies hou seker baie van haar! Sy groet nou seker al haar nuwe maats.
Die predikant het vir haar ook 'n kaartjie gegee, vol blink letters. Sy sal dit seker in haar slaapkamer bo teen die muur vasspyker.
Die kerk se mure is darem hoog, en wit, vernaam by al die lektrie ligte. 'n Mens kan eintlik daarin wegraak! ...
Hester en haar moeder kry vir Ampie langs 'n smeulende vuurtjie, en hy geware hulle pas, toe tant Saartjie vir hom sê:
‘Is die trekgoed reg Ampie?’
‘Ja, Tannie, net die stroppe moet ek aansit.’
‘Goed ou-seun! Voor rooidag moet jy inspan. Die son moet vir ons op die uitspanplek kom kry!’
Toe spring Ampie orent.
‘Ja, tant Saartjie,’ sê hy dowwerig en sy dromerige oë gly oor die vae figuur van Hester in die skemerte. Hy aarsel. - Toe, impulsief, steek hy sy growwe hand na Hester toe, en asof die gedagte hom opeens bemeester, sê hy duidlik: ‘Veels geluk nig Hester met jou aanneme, ek hoop die Here sal jou bewaar!’
Sy voel verras; sigbaar aangedaan. Sy kyk hom gevoelig vas in die oë, en vat sy verwaarloosde hand in haar sagte vingers, en haar stem is diep en klankvol, as sy sê: ‘Baie dankie Ampie!’ en toe op vroliker toon:
‘Jy moet jou nie verslaap nie jong, want ek wil op die uitspanplek eers wakker skrik. Dis vir my te heerlik om te slaap, as die wa so in die donker aanklop!’
Tant Saartjie bring vir hom nog handtertjies en beskuit. Toe wens hulle hom goeie nag en verdwyn in die watentjie. - Die kerktent het hy al gebêre op die wa: Dis net vir inspan! Alles is nou reg vir die môreskof ...
En Ampie het gewaak die nag soos die wakkerste verpleegster in 'n hospitaal. Sy kombers het hy om sy
| |
| |
lyf geslaan en op die houtmoot teen die agterwiel gebly leun. Die weer was sag, en al die sterre was sy maats, want boontoe het sy hart gedwing. Die liewe Here ken mos sy begeertes! Die vuurtjies op die plein is almal dood en alles is so stil, as in die veld, net voor die rooidag breek. - Net nou en dan 'n diep sug van 'n bees wat sy lyf in 'n ander houding beur. - Die slaap is vir Ampie wild, tog droom hy heerlik deurmekaar, so wonderlik, asof hy hom daar tussen die sterre wegdink, na 'n uitspanplek doer in die bulte, en hy hoor weer, hoe sy vir hom vra: ‘Jy sal seker vir jou vrou baie help, Ampie?’
Ag, die sterre sien daarbo seker die rooidag al aankom ... As hy tog maar kon inspan vir die môreskof ... En as die wa dan wegtrek sal hy sorg dat geen onnodige geraas vir Hester wek nie. Hy sal maar net sy sweep laat waai oor die span; want Hester moet eers wakker word op die uitspanplek. - 'n Bont gemengel van gedagtes het in sy kop kom draai, dog telkens weer verbeel hy hom, dat hy langs die wa aanstap, sag swaaiend met sy sweep oor die osse om g'n onnodige geraas te maak nie; want Hester moet eers op die uitspanplek geware, dat die môreskof verby is. So teen die wiel geleun en wakker, verdroom die seun die eerste môre-ure. Tot op die stil nagmaalplein 'n roerentheid hom helder bly laat opspring.
Ampie buk onder die wa en skud 'n bondeltjie daar deurmekaar. ‘Kom kaffertjie ons moet inspan! Baie soetjies my jong! Die nonnie-hulle slaap nog en hulle moet aanhou slaap!’
Hier en daar knipoog al 'n vuurtjie, op die stadig ontwakende kerkplein. - 'n Boer wil darem tog sy môrekoffie nuttig.
Fluisterend roep Ampie die osse se name, as hy hulle optrek en die juk op hulle skowwe plaas; sukkelend,
| |
| |
maar baie geduldig in die duister. Die môrester blink oor die horison, toe Ampie se wa die kerkplein verlaat. Oral werskaf daar in gedempte rumoer die vroeë mense, en soos geweldige skaduwees, poseer die opgejaagde osse langs hulle jukke.
En elkeen vat sy koers!
Die klopmusiek klink al die strate deur, asof die kerkwaens heel die dorp vol klop-klop. Ontydig kraai die hane van die laaste hoenderhok en blaf die laaste hond uit die dorp, uitdagend teen die vreemde stoornis. Maar met kresendo neem die klopgeluide oral die dorp in besit, asof miljoene wiele daar deurheen trek, om alles wat nog sluimer op te klop. 'n Stukkie veld se lewe het die dorp verower. Maar stampend stuit die klopklank teen die koue slaapgeboue op. Dit voel vyandig hier, in die afgemuurde paaie, en wil uitbreek na die ruimte, om daar weg te hardloop, met 'n welkom groetnis na die môrester. En meteens breek die harde geklop af, toe die dorp daaragter lê.
Met breë golwe rol dit nou die velde oor en teen die breë bulte op. Die wageklop, saam met die skuifel van die osse, die knars en stamp van wiele oor die pad, is nou vol rus en wye liefde, soos 'n ou lied, so tuis daar in die ruimte, waarna die stille môre luister. - En stiller word die veld, van al die luister, na die ou lied van pionier en trekker, wat wegdein en verswerf doer in die wydtes verloor, soos die pionier en trekker self, ook in die wydtes wegswerf. - Hoe verder van die dorp af, hoe vryer klink die lied, en in die bulte roep dit met 'n ongebonde fierheid, uit die laaste duikie nuwe klanke op, terwyl die bulte stil bly luister met 'n glimlag van die dageraad.
Ampie stap lewendig, met sy sweep so soetjies waaiend oor die span. Hy noem die name van die osse nie; want mensestemme is 'n skokkende geluid, onpaslik in
| |
| |
die vroegte, 'n Lustigheid deurtintel heel sy liggaam. Hulle trek nou van die mensdom af weg, na die veld toe, na die uitspanplek. - Daar klink vanmôre nuwe klanke in sy siel, so wonderlik saamsingend met die stampende geklop in die vrye ruimte. Dit is 'n lied van liefde, wat wil waak, beskerm en troetel, alles in die wa hier onder sy versorging. Dis weer sy wa, sy osse; dis alles syne wat neffens hom aanklop, so reguit na die môrester, helder, blink, en lieflik. - Die sien van die bulte, lig hom soos 'n veertjie oor die pad, dit smaak hom of hy sweef, gedra deur die golwe van geluid. Want al die tone jubel in sy siel en voer sy gees na die môrester, daar hoog al aan die hemel! - Ook die trekvee voel gelukkig in die môreskof. Hul skuifelpasse klapper tweemaal gouer oor die paaie, as met 'n dagtrek in die son. Hulle voel die môre frisheid in hulle bloed en senings, wat lustig werk, om vinnig vorentoe te stryk. - Die osse ken die pad, en Ampie se voorosse loop los uit voor. Die kaffertjie het lankal touopgegooi, en moet net die briek oppas.
En Ampie hou maar lustig langs die agterosse sy swewende stap, die sweep in rus op sy skouer. Gedagtes, groot van simple heiligheid, vervloei nou in sy liefdessang. Die môrester verbleek al meer en meer; die son dryf hom die hemel in, na al die engele, wat so skitter daar. - Die hemel is vol van engele, en bedags is die hemel ook vol sterre, wat verdwyn soos die engele in toeka se tyd. Toe het die engele so ewe skielik op die aarde neergeblits, nes dikwels sterre in die lug verbyskiet, wit en pragtig blink, soos Hester gister gelyk hit in die blink kerk. - Nou bly hulle mos pal in die hemel! Sê nou Hester was ook 'n engel? Wat sou hy dan aan haar gehad het? Dis goed dat sy 'n mens is, nes hyself. As hulle tog ook maar eendag in die hemel mag kom! Hulle twee saam! Daar is mos nooit g'n sonde
| |
| |
of bogtery nie; 'n mens bly ewig bymekaar in liefde en vrede ...
Daar waar die son sal uitkom is die hemelpoort. Hullery reguit soontoe. Sê nou dat hy kan aanhou ry, met wa en Hester-en-al daardeur! ... Vanmôre lyk hy soos 'n goue plaat, en almaar blinker na die poort toe, waar 'n mens se oë sal moet digknip, as hy daar wil deurgaan ... Daar onder is die uitspanplek. Hulle het die son gewen. En Hester slaap nog lekker vas, want die pad was mooi en as die wa so klop dan slaap sy mos tog al te heerlik. - Hy sal vir Hester roep as hy die koffie klaar gemaak het. - Dan sal hy vir haar wysmaak dat hy hom skandelik verslaap het en dat die wa nog op die kerkplein staan. - En dis nie altemit nie, of sy sal sekerlik vir hom sê ‘Sies Ampie, jou ou-sleg!’
Maar dan sal hy eers lekker lag, as hy haar nooi om af te klim, en sy geware hierdie bulte en die lopie en die vuurtjie langs die wa en die koffie klaar gemaak al ...
|
|