| |
| |
| |
Hoofstuk XIII.
Swarighede.
Die voorjaar het die veld sy nuwe kleed gegee en al die bome 'n volle bladerkroon. Die plaas van Kasper Booysen lyk somar tien maal mooier. Die eerste reëns het geval, en vandag het Ampie en Flip Staander met die ploewerk 'n begin gemaak. - Dis nog 'n week voordat Hester-hulle sal moet ingaan om te katkeseer op die dorp, en nog is Staander ongered, om sy vrou en dogter behoorlik op die kerkplein te besorg. - Die lastige skuldkwessie, het hy gelukkig twee maande vorentoe gestoot. Diè wag nou na die nagmaal met 'n skuldbewys. Die jood was so ewe inskiklik en ordentlik en glad nie haastig nie. As hy gewillig was om 'n paar pond rente by te betaal, dan kon die skuld nog maar 'n rukkie wag! ...
Nou is die ander moeilikheid vir Staander alles. Dis dag vir dag 'n gelol, wat hom gedurig herinner, om tog die wa en osse en kerktent van Booysen te vra. - En hoe dikwels was die direkte versoek al op sy lippe, terwyl Booysen langs hom stap, of hom help in die werk: ‘Neef, help my dan tog met jou wa, osse en tent, kerktoe asseblief. Hester moet die laaste week voor nagmaal by die predikant katkeseer, en jy is tog die enigste man wat ons kan help!’ ...
Maar skoot vir skoot, as hy so'n kans het met Booysen alleen, dan hengel die versoekie in sy keel, tot hy benoud word; verniet of hy vir neef Kasper kon gevra
| |
| |
het. - Om homself te verontskuldig het sy brein 'n redenasie uitgewerk: Neef Kasper is self ook maar traag om hom vir 'n nagmaal uit te sit ... met kar en perde ja, so gou-gou uit en tuis ... neef Kasper het g'n tyd vir die gelêery nie. Booysen het vroeër al vir hom gesê: ‘Neef Flip, ons lewe nou in 'n haastiger tyd, as toe ons ou-mense geleef het. - Dis nou trein, motor, lugskip, en as ons nie dag vir dag woel nie, bly ons agter. Ek verstaan nie hoe party mense, vir dae lank in die dorp by die kerk kan versuim nie; of hulle moet baie ryk wees en baie orige tyd hê.’ As Booysen daardie sienswyse het, hoe kan hy, wat Flip is, dan vir hom die onmisbare trekbeeste en sy persoon vir 'n volle week uit die werk uit vra? - Die stille redenasie oor die saak het die versoek dan weggedruk, ook skoot vir skoot. - Pynlik het die besef geword, dat hy die goed tog binnekort gevra moet hê. - Booysen was reeds gewillig om vir ou-Jakob aan te presenteer. Dit lyk nou so aardig om so baie en glad ander dinge te vra. - In sy kop broei die gedagtes, terwyl hy agter die ploeg aanstap en werktuiglik met die stelarms werk. Ampie glorie met die sweep langs die span. Dit was sy begeerte om nes oom Flip die osse op te drywe, en vandag het hy die sweep, en loop oom Flip hier agter; 'n mens kan maar sê dat hy die baas is. - As Hester netnou met die koffie kom, dan sal sy hoor en sien hoe handig hy kan drywe. Hy sal enige tyd vir Hester-hulle na die nagmaal toe kan bring met die wa. Hy kan gerus vir oom Kasper vra om hom die kans te gee. - Hy is al amper nes 'n kind in Staander se huis, en vat baie uit die hand van tant Saartjie uit. As Hester praat van vuurmaak hout, dan spring hy aan die byl, en as sy net die leë emmer roer, dan is hy daar om die vir haar vol water in te bring. Sy praat en lag en korswil ook partykeer met hom saam, maar o, hy voel nog baie-baie
| |
| |
ver van Hester af, en tog begeer hy so innig, om net èèn aand met haar op te sit, propper op te sit, soos hy en Annekie laas die nag op Vlakplaas opgesit het ... Hy kan gerus 'n slag perbeer, ook net vanaand! Hy sal wel 'n plannetjie agtermekaar bedink om haar vanaand, as oom Flip hulle wil gaan slaap, alleen te kry.
Toe Hester koffie vir hulle bring, hou hy stil en kom langs oom Flip op die twee-voorploeg se stel sit. - Staander voel onrustig ergerlik, hy weet wat netnou sal gebeur. Dit neul mos heeldag deur sy kop. - Daar hè jy dit! ‘Ja pa, wat ek wou sê, het pa toe al vanmôre die rygoed by oom Kasper gekry? Ek wil nie vir pa aanja nie, maar die tydjie nader vinnig:’
‘Netnou my kind! Netnou as ons uitgespan het. Oom Kasper was vanmôre baie besig!’
‘Ek wens ek kon met julle saamry Hester.. Ek sal vir julle vuurgoed bymekaar soek, water dra en ketelkook,’ begeer hy so vrypostig dat Hester hom verwonderd aankyk, so'n paar gedagtetjies oor Ampie se handigheid vorm, en toe hom baie vrindlik bemoedig; want sy wil haar lyf maar skraal hou op die pad. ‘Maak 'n plan en kom saam Ampie. Jy kan vir oom Kasper vra, ons sal dit baie lyk.’ En sy knipoog vir die eerste keer in haar lewe vir die oorgelukkige seun.
‘Jong vat die sweep!’ order Flip Staander bars. Maar langs die osse lewe Ampie in die heerlike vooruilsig. Hy sal versigtig wees en die osse drywe oor die mooiste ente pad ... As Booysen tog maar net vir hom sal los!
‘Jy moet jou draaie wyer maak! Spring oor die tou, wat slaap jy dan? Keer die voorosse in die ploegvoor!’ raas oom Flip ergerlik hier agter. Flip Staander voel of Ampie ook met Saartjie en sy dogter sal saamspan teen hom. Wat wou die bogseun ook vir Booysen vra? Hy sal dit doen sowaar, uit pure niksgewend. Kort van gees! ... Hy sal maar netnou reguit na neef Kasper toe
| |
| |
stap! ... Hy plooi sy versoek weer agtermekaar en redeneer so maklik of die ding vandag sal stryk. Vanmelewe het hy mos nooit so'n swarigheid gehad, om sy sê te sê nie. Hy het nie besonder moeite gehad, om vir ou Saartjie as sy bruid te wen nie! En haar ouers het hy ook sonder veel moeite kafgeloop. En dit was kwaai kwessies daardie, vergelyk by hierdie ou kwessietjie, om 'n wa, osse en kerktent te vra ... Wat de drommel sukkel hy dan so? Neef Kasper kan mos maar net nee sê, in die allerslegste geval!
En met die uitspan kom Booysen self na die ploeëry kyk. Wyl Ampie die osse aankeer na die suipplek toe, stap Staander met neef Kasper langs die vars oopgeploegde vore.
Eindlik sukkel Staander met baie moeite uit:
‘Neef Kasper, die nagmaal is al baie naby. Nou Maandag moet my vrou en Hester ingaan kerktoe.’ ...
‘Ja neef Flip, en soos ek vir jou beloof het, die dag van Ampie se koms, jy kan vir ou-Jakob maar vat. Ek bly daarby!’
‘Baie dankie neef Kasper, dis al wat ek wou gehoor het!’
En toe hy wegstap huistoe om te gaan eet, brom hy vol ergernis: ‘verdomp!’
Ampie haal oom Kasper vinnig in en vang hom op die werf.
‘Oom Kasper ek wou vir oom iets gevra het asseblief!’
‘Nou ja, laat ek hoor!’
‘Ek skaam amper om te vra Omie, dalk sal oom Kasper nee sê; maar dan is dit daarna toe. Ek wil maar net vra, of ek met die wa kan saamry, asseblief oom Kasper. Oom Flip gaan oom se wa, osse en kerktent vra vandag, en ek sal baie mooi na oom se osse kyk; en dan kan ek somar vir ons 'n paar voorslae ook weer
| |
| |
saambring. Dis baie goedkoper op die dorp as hier, Omie.’
Verwonderd kyk Booysen toe vir Ampie. Die toestand word hom duidlik want hy ken neef Flip en hy glimlag toe hy antwoord:
‘Ons sal nog sien Ampie. Ek wil met Staander eers daaroor gesels.’
Toe Booysen Self met Staander oor die saak begin, val Staander se swarigheid weg en hy breek los, in stilte Ampie dankbaar.
‘Neef Kasper, daardie bogseun het my voorgespring,’ sê hy met 'n gebrekkige laggie, terwyl sy gedugte wysbroue grapperig gallop.
My plan was om agtermiddag na neef toe te stap om die wa, osse en kerktent te vra. Hester moet nou eenmaal ag dae op die dorp vertoef. - Dis somar 'n onnodige affêre maar hoe sal 'n mens nou maak?’ Booysen staan 'n rukkie in gepeins.
‘Die beste plan sal wees, dat Ampie vir hulle daar sal besorg en terug kom met die osse en weer ingaan, as Hester-hulle moet terug kom. Nie waar nie?’
En Staander, van die kwelgees ontslae, is Booysen baie dankbaar vir sy hulpvaardigheid. Hy voel 'n ander wese - Sy stap is lugtig en sy oë blink onder die beweeglike donker wysbroue. - Hoe lekker sal hy hierdie aand vir Saartjie kan trotseer! Hy sal maar ewe houtpop as gewoonlik bly; want sy sal sekerlik lawaai maak oor hy so belangloos en vergeetagtig is ...
Toe hy tuis kom is twee paar oë so duidlik vraend op hom gerig. Maar Staander het soos gewoonlik sy koppie koffie sit en afwag, onverskillig vir die stille aanmanings van 'n naderende onweer. - Hester, afwagtend, oorhandig hom die koffie, en terwyl Flip Staander dit langsaam en onhoorbaar uit die piering leegsuig, skiet Saartjie so'n skimpskoot reguit na hom toe:
| |
| |
‘Ek wonder of ons op die ou end weg sal kom! Dit lyk nie vir my so nie!’
‘Hoe sê?’ bring hy vadsig uit, asof hy te lusteloos voel om in enige geselskap deel te neem.
‘Jy 't seker weer vergeet om by Booysen aan te gaan nê?’
‘Ou vrou julle lol al-ewig oor dieselfde ding!’ sê hy met 'n afwerende handgebaar en kyk half ergerlik vir Saartjie van onder sy moestas-wysbroue uit.
‘Kyk hier Flip Staander, as jy wil hê, dat ons hier almal op 'n bondel moet krepeer van ellend, dan moet jy laat ek stil bly, en my vasmaak, dat ek my nie kan roer nie; want jy 's nou eenmaal nes 'n meelsak; waar 'n mens hom neersit, daar bly staan hy. Jy praat van lol? Wie lol? Dis jy wat lol met jou gedurige ekskusies. As ek nie telkens agter jou staan, en jou wakker hou en jou in die huis verwilder nie, sal jy nooit iets verrig vir ons nie. - Wil jy dan hê, ek moet die spul by Booysen gaan vra? Dit sal nog daarvan kom as jy te sleg is!’
Gelukkig dat Hester alleen by hulle in die voorhuis is. Hy wonder net, dat sy haar ma nie help nie. Nee wag! Sy vang haar ma se skimpskoot op!
‘Moeder, dit sal niks help, om verder met pa te praat nie. Die tydjie is nog maar kort, en ons moet weet wat aangaan. Kom ons twee stap nou direk na oom Kasper toe.’
‘Nee my kind, ek skaam my om jou pa by Booysen in die skande te steek. Ons sal wag tot vanaand. - Hoor jy Flip Staander? Tot vanaand gee ik vir jou die kans, om vir jou huis se belang, jou sê te sê. - Ek het nou klaar gepraat. Jy praat van lol? Goed, ek sal nie meer lol nie!’
‘En ek sal baie bly wees!’ sê Flip Staander baie kalm en onder sy wysbroue glinster 'n skelm pret, want hy voel dat hy nou moet lostrek.
| |
| |
‘Ek sal vanaand nie vir neef Kasper al die goed gaan vra nie.’
‘Ag foei pa! foei tog!’ sê Hester.
‘Ek was dit te wagte my kind! Jou pa is nou eenmaal onbekwaam om sy sê te sê!’ meen die moeder minagtend.
‘Ou vrou, en virwat word julle dan so danig bitsig leen my? Julle kan maar gerus gaan slaap. Booysen het klaar die hele uilsel vir my gegee.’
Staander druk nou opgeruimd deur en in sy stem klink 'n fris klank van jare gelede, wat in sy vrou en Hester hulle harte deurtril. - Hy kyk sy vrou ondeuend met 'n geweldige knipoog aan, en sy swaai, kastig driftig, haar rug na hom toe.
‘Ag! Jy is weer ontydig en verspot!’ sê sy half binnensmonds. Maar Hester gee haar pa 'n soen en sê:
‘Dankie tog, my pa!’
‘Ou vrou dit kon jy ook gerus gedoen het,’ sê hy vrolik, terwyl hy opstaan en haar soen dat dit so klap.
Die aand is daar 'n gees van blye tevredenheid in die huis van Staander, iets wat so seldsaam gebeur. En so tref Ampie hulle in daardie beste stemming.
Sy ganse agtermiddag, was èèn verlangste na hierdie oomblik. Net daardie een knipogie van Hester het hom laat oplewe, soos 'n verlepte pompoenblaar deur 'n reënbui. Die wonderlike meisiekind hou seker regtig van hom, en hy 't 'n veerkrag in sy lyf gevoel, asof hy al die moeilikhede van die wêreld kan oorwen. Sy verstand het helder beduie, dat hy hom nou sal moet roer om ook aangeneem te word, en hy 't besef dat as hy ooit met Hester behoorlik sal kan opsit, hy kant en klaar moet wees, nes Hester self. - Toe het daardie gedagte hom met allerhande swarighede laat rondstap en daarmee sy konklusie klaar gevorm. - Hy sal met hierdie nagmaal ook voorgestel moet word, dan is sy kop mos
| |
| |
deur! Dit was vir hom of die affêre baie maklik somarso kon afloop. - Toe hy die melk binne bring, het hy vir Tannie in die kombuis verwilder deur sy onverwagte plan:
‘En wat sal Tannie sê, as Tannie hoor dat ek ook aanneme toe gaan?’
‘Ek sal net sê: dis baie fluks van jou Ampie!’
Verbaas het sy geantwoord en daarby gedink:
‘Sou die seun na sy moeder aard, wat nie al haar varkies het nie!’ Maar toe oom Kasper ook van die groot planne hoor, moes Ampie net sy vraeboek gaan haal. - Die eerste vraag het Ampie op 'n trippelpas en vol van glorie opgesê; maar gou-gou het oom Kasper oortuig geword dat Ampie altemit eendag 'n lidmaat van sy kerk kan word deur jammerhartigheid aangeneem; die inhoud van die vraeboek sou nooit in die seun se kop kom nie. - Ampie voel egter aangemoedig, nadat Booysen hom koudgelei het op 'n takvolle manier. Hy voel geen skroom om na Hester toe te gaan nie. Die kerktoe ryery is mos 'n uitsoek onderwerp om oor te gesels vanaand. Hy hunker om met Hester op te sit en met haar oor die aanneme te gesels, en verder oor die lewe na die aanneme. - In sy hart het dit aangehou moker, wyl hy aanstap in die lanternlig na oom Flip se woning en sy harsings werk al maar 'n ideale lewe uit: aangeneem, met Hester kant en klaar getrou, saam in 'n huisie op oom Kasper se plaas.- En wat sal Annekie dan sê? ...
Sy lantern laat hy brandende in die kombuis. Hy kom die voorhuis binne. - ‘Sit Ampie!’ wys Hester hom 'n stoel naby oom Flip. ‘En hé-jy toe al jou planne reggekry?’
‘Ek sou so dink! Ek moet vir julle inbring met die wa,’ informeer hy windmakerig; sy wese glans van geluk. Hester ontwyk die gloeiende oë van die seun, wyl sy
| |
| |
mompelend kombuis toe stap ‘dis nie sleg nie!’ Sy help haar moeder met die skottelgoed was.
Flip Staander, nou alleen met Ampie, voel dat die aangename stemming in sy huis verbreek is. Hy is nie blind nie! Die malkop van 'n niksgewend is doodverlief op sy dogter. So 'n opgetelde swerweling! Hoe durf hy die gedagte in sy harsings hou? Maar Hester sal natuurlik met hom speel, hom aan 'n lyntjie hou, omdat hy somtyds handig is! Sy sal so uitermate mal nie wees om te ver te gaan met die oudste kind van Goor Dawid nie. - Maar hoekom bring sy dan juis altyd koffie landtoe, as hy en Ampie saamwerk? Vroeër het sy haar bitter weinig aan so'n goeie gewoonte gesteur, toe hy alleen gestaan het in die werk. As daardie maltrap maar nie Hester se kanse nou met die nagmaal sal bederwe nie. - Hester sal daar seker welaf, goedopgevoede en flink jongkêrels ontmoet ... Die jood se skuldbewys moet reeds kort na die aanneme betaal word. Ja, daardie skuldbewys sal hom nog dae gee. Die tabak belasting het hom uitgeroei! Die jood sal hierdie slag sy goedjies sonder enige bedenking laat opskryf! ...
En Ampie voel hom hier ongemaklik by oom Flip, wat so kwaai reg voor hom sit en uitkyk en g'n woordjie sê nie. Dit lyk nie of hy ooit weer lus sal kry om te gesels nie. Daar in die kombuis hoor hy, tussen die geklink Van skottelgoed deur, 'n laggerige gefluister van Hester, en haar ma. Netnou sal hulle seker uitkom, en dan sal tant Saartjie en oom Flip gaan slaap, of altemit eers boekevat ... en dan kan hy met Hester allenig agterbly. - Hy moet maar solank sukkel met oom Flip ...
‘Oom Flip, watter osse sal ons inspan kerktoe?’
‘Hè-jy gepraat?’ vra Staander nors.
‘Hoe dink oom hoeveel osse sal ons inspan kerktoe?’
‘Jong dit sal oom Kasper wel vir jou vertel!’
| |
| |
‘Ek wil vir ons 'n paar voorslae van die dorp af saambring.’
‘So!’ Staander ontsien pie moeite om sy kop na Ampie toe te draai. Maar Ampie hou halstarrig koers en merk die stugheid van oom Flip nie meer nie. Sy tong het los gekom.
‘Oom Flip, ek wil vir oom Flip 'n raaisel opgee, en as oom Flip dit raai, dan sê ek oom Flip is baie goed in raaisels!’
‘Laat ek hoor!’ sê Staander met ergerlike teësin. Gelukkig kom toe Hester en haar ma ook binne. - Ampie gee opgewonde, 'n weinig kortasem, die raaisel op, en raak verbouereerd, terwyl hy dit opsê onder die druk van soveel deurdringende oë, en vernaam die skerp blik van tant Saartjie.
‘Dis 'n snaakse ding ... Nee wag! Ek meen dis 'n wonderlike ding Tannie; hoe verder dat hy gaan, hoe verder dat hy loop Tannie, hoe verder gee hy nooit g'n end nie, en ek gee vir Tannie te raaie wat dit is!’
Tant Saartjie en haar dogter bars hier in lagge uit.
‘Die raaisel het nie end nie!’ sê oom Flip vrolik, en dink, ‘nee wat, sy dogter sal met Ampie lekker kan die gek speel.’
‘Dis die wonderlikste raaisel, wat ek ooit gehoor het,’ sê tant Saartjie, en Hester beweer laggerig, dat Ampie self nie weet wat die snaakse sonder-end gedoente is nie.
‘Dis 'n treinspoor nig Hester! Kyk, hoe verder,’ hy druk met baie klem op die vername woordjies, ‘hoe verder dat hy loop - ek meen, jy kan maar met hom aan stap, maar jy sal nooit sy end kry nie.’ En toe lag Ampie voldaan, oor hy al die Staanders mooitjies gevang het. En vrolik probeer hy nog 'n slag uitlê: ‘Kyk Hester, die twee treinspore hou mos aan, tot dit lyk of hulle
| |
| |
doer ver inmekaar inloop. Nou ja! Stap bietjie soontoe! Jy sal nooit daardie end kry nie!’
‘Ampie het ons gewen ma! Maar ek wil nou gaan slaap, want ek voel baie moeg vanaand.’
Vir Ampie klink dit soos 'n vonnis. Hy was net mooi op koers, en hy 't nog niks oor die aanneme gesels nie. Sy sielsdrang is om die stonde nog te rek so lank as moontlik is. Dit gee hom durf. - Dis of Hester in die sprekende oë van Ampie, eers teleurstelling en toe 'n innige versoek gelees het, wat haar noop om te draal, wyl sy verwonderd luister:
‘Ek wou nog iets vir jou gevra het nig Hester!’
‘Jy moet my net nie so'n strikvraag vra nie, as die raaisel van flus!’
En toe voel Ampie weer of alles deurmekaar gekrap is in sy kop, sodat hy onbeholpe sê:
‘Ek wou net gehoor het nig Hester, hoe laat die aanneme sal beginne.’
‘Nee dis 'n strikvraag Ampie, ek kan jou glad g'n antwoord daarop gee nie,’ sê Hester opgeruimd, ‘die predikant se ure is amper heeldag. Ons sal maar net moet vasstaan van die môre tot die aand’ - en sy sê almal ‘gerustige nag!’
Toe Ampie met sy ou lantern na sy slaapplek toestap, voel hy tog tevrede oor die lekker aand, wat hy deurgebring het. Sy enigste swarigheid is net, of hy dit ooit sal regkry om met Hester op te sit ... En sy hoop is nou gevestig op die kerktoe ryery.
|
|