| |
| |
| |
Hoofstuk XI.
Besoek.
Ampie is 'n paar môres later weer baie vroeg op die werf. Hy het vannag op die katel geslaap en wonderlik gedroom van sy tant Fyta, wat vir oom Flip 'n vingerhoed present gee, waarmee oom Flip water skep uit die dam se inloop; en Hester kook die koffieketel langs die wilkerstomp, en sy vra hom of sy lyf nie al te seer is nie. Baie snaaks en deurmekaar het hy gedroom, die heel nag amper; maar vanmôre voel hy innerlik tevrede, asof hy ontwaak het in 'n nuwe land van geluk. - Hy geniet die suiwerheid van die lug, die rustige ontwaking van die dag, wat 'n snaakse ontvanklikheid tower in sy kop. Alles is nuut, die hemel bo en die wêreld om hom, nuut soos hyself.
Hy het honderdmaal in die fris môre ontwaak, en honderdmaal die dag sien breek, dog altoos was sy hart soos klip, vir die skoonheid van natuur se stille orde. Vanmôre is sy oë onversadig vir die rustige begin van die dag, en die laaste dagbreekroep, van wat die slaap afskud, streel sy gehoor. - Die liefde lewe hier in sy siel, nou hy die geeslose atmosfeer, wat altoos om die murasies van sy ouers gehang het, nie voel nie. 'n Gees van orde en mensliewendheid beheers die plek en sy hart begin dit te verstaan. - Die hele sfeer op Booysen se plaas, het van hom 'n ander mens gemaak, vrypostiger, en openhartig. Die lewe hier was nog sonder stamp en stoot tot sover. Hy 't uitgevind,
| |
| |
dat hy ook iets beteken. Die damskrob het hom dit geopenbaar. Sy selfbewustheid het ontkiem. Hy moet nou na homself ook kyk, die begrip het in sy kop ontwaak, en in sy hart 'n ongekende lus daarvoor. Hester Staander sal seker dan ook baie notiesie van hom neem. - As hy dit net kan regkry om saam met haar aangeneem te word in Oktobermaand ... Gister het hy met Grieta Booysen laat weet vir Hester dat hy net vinnig leer en hard sy bes doen met die aanneemlesse; en hy wonder wat sy terug sal laat weet.
Hy gaan weer in sy kamertjie en pluk sy klere reg. Sy bokramkuif raak ook al aan die agterstevoor spieël gewend, en oom Kasper se ou skoene aan sy weglêtone. Hy sal tog sekerlik 'n hoed vir oom Kasper vra ...
Die môreson blink raps oor die bult op 'n uitgegroeide seun, wat op sy trompie 'n toonlose wysie afkrap. Ampie het hom reggemaak vir sy eerste werk. Hy wag net vir oom Kasper. Sopas het hy met nig Grieta vir haar pa laat roep, omdat hy hom noodsaaklik wil sien asseblief! - Staander was net daar om vir Booysen te sê dat hy dorp toe moet vir dringende besigheid, en Booysen het vir sy bywoner nog planne gegee, wat hy die jood kan voorlê.
‘Vertel hom van die tabakbelasting neef Flip, en vra 'n paar maande uitstel. En as hy verkeerd word, laat hom dan maar spook, jy besit niks van waarde nie. Hy sal moet aanneem wat jy voorstel.’
‘Ja nee, neef Kasper, ek sê ook so! Wat kon hy maak? Hy kan mos g'n bloed uit 'n klip tap nie! Dis pure twak met hom!’
Toe Booysen na Ampie toe kom lag die seun met sy breë glimlag; ook oom Kasper kyk vrindlik en vra in die beste stemming:
‘Jy Ampie en jy 't my laat roep. Wat is dit?’
‘Oom Kasper, kyk my keps!’
| |
| |
Ampie druk drie vingers, elke vinger op 'n verskillende plek deur die flenterding.
‘Ek wou maar net van oom Kasper gehoor het, of oom Kasper nie dalk altemit vir my 'n orige ou hoed kan gee nie!’
‘Natuurlik Ampie, jy kan met daardie streepsak op jou kop, nie meer behoorlik voor 'n mens kom nie. - Grieta, loop haal vir Ampie jou pa se plaashoed nê!’
Terwyl Flip Staander op 'n rywiel oor die plaaspad dorp se kant toe trap, om 'n hopelose poging aan te wend vir uitstel van betaling, by 'n siellose sakeman, stap Ampie met sy hoed op na die kraal. Die wêreld is vanmôre ruim en die son staan soos 'n somerson in die hemel. Sy stap is lugtig of die kweek hom opveer. 'n Melkemmer slinger onder sy elmboog, en die spantou aan sy los vingers van die hand, wat die trompie in posiesie hou. Sy stemming is vir sy doening, verhewe. Dis sy lus om met die beeste te werk en hy begin belangstel in Booysen se boerdery. Die wete, dat 'n deeltjie van die boerdery op hom alleen rus, en dat Tannie nog altoos tevrede die emmer melk by hom ontvang het, kweek in hom 'n gevoel van verantwoordelikheid. Hy voel gelukkig. Dis môre Saterdag. Dan sal hy in die middag vir Jakob vat en Vakplaas toe ry, na sy liefste Annekie. Hy sal vir haar vertel van Hester en Grieta Booysen ook, en dan sal sy tog ook 'n slag jaloers wees. 'n Halwe week van volle ongekende lewe is verby. Sy liggaamskragte het gestoei met die egale, werk; sy innerlikheid met die onegale lewe. En binnekant hom, roer die wakker luste na iets geweldig onbepaalds. - Sopas het Grieta Booysen hom baie vrindlik en so laggerig meegedeel, dat Hester vir hom sal ‘duim vashou’ op die belangrike dag wanneer hy sal aangeneem word en sy hoop dat hy ‘die hiet sal maak’. Die boodskap het hom baie bly gemaak en alles stem
| |
| |
hom dankbaar, sodat hy nou sy hart kan uiter op die klanklose staalveer tussen sy lippe ...
Hy voel uitbundig; wyl hy aanstap swel die lustigheid in sy gemoed en die onmusikaalste uiting stoot nietemin vinniger bloedgolwe deur sy lyf, sodat sy voete vinnig trippeldans, hoewel hy baie stadig kraal toe vorder. Sy vrolikheid skiet los en wild swaai nou sy voete hot en haar soos 'n jonge kalfie, dikgesuip, bokspring oor die kweek. Aits! waar is Annekie van môre?! Hy dwing net om te dans. Waar is die meisiekind van Vlakplaas nou? Hy sal haar rondswaai, dat sy haar draaie nie kan kry nie, en hy maak sy manewales, soos een wat malkop is van lewenslus ...
Naby die kraal gwarr-plaps 'n droe miskoek hier by hom, en skuif die stofmissies omhoog. Sy trompie is op die plek gebêre, wyl hy die wêreld staan en opneem, ergerlik gesteur. - Wie is so bevoeter? Dis moedswilligheid daardie! Hy sal dit hê sowaar! Weer gwarrel een, raps oor sy kop agter op die verdorde kweek. - Onrustig vlieg Ampie se duister oë die omtrek deur. Dit spook hier op die helder dag! Maar toe hy weer 'n draaiende plakkaat oor die kraalmuur sien uitgooi, hoor hy meteens 'n welbekende gelag.
‘Kom uit daar! Ek het klaar vir jou geëien!’
Dis weer sy ontydige moeder daardie en hy 't vanmôre die regte gees om haar te ontmoet, 'n Uitbundige stoeilus bevlieg hom. Hy sal die vroumens warm takel so in die vroegte. Die emmer lê al doerr, en hy het die spantou dubbel.
‘Wag ou Mamma! Ek sal vir jou wys vanmôre! Jy wil my mos met miskoeke gooi nê?’
Sy hoed verloor hy al, toe hy met die swaaiende riem kort agter die grapperig vlugtende figuur aanhardloop, wat fladder van rokke en wat nogal 'n suigeling bo haar heupkom balanseer. ‘Moenie Ampie! Jy sal die
| |
| |
kind seer maak! Swernoot! Jy sal bars as ek jou in die hande kry! Soe! Eina toggie!’ Dis almal uitroepe, wat haar vrolike gelag onderbreek. Toe draai sy om, moeggehardloop, en met die los hand, weer sy die kastige kwaai slae van haar oudste af. - Twee koulike kindertjies, elkeen met 'n vetterige pakkie in hulle hande, staan oopmond, en met wye oë die vreemde malligheid en aanstaar; nie soseer die gehele vertoning nie, daar is vir hulle baie min besonders in; maar wel hulle Ouboet, wat in 'n pragtige pak klere rondhardloop, dat sy mooi stertjie hare, so dans en swaai oor sy voorkop.
‘Jou vabond se kind!’ sug en skree die moeder, almar laggend. ‘Moenie jong! Soe Ampie! Jy het die kind geraak, hoor hoe huil sy!’
‘Ma soek mos daarna nê? Dit sal ma leer om anderdag nie weer vir my so ontydig te bekruip nie. Kyk waar lê my nuwe hoed reeds!’
Hy groet sy moeder nou en ook die kleintjie en daarna vir Kleinboet en Kleinsus, wat angsvallig nader kom na hulle vreemde Ouboet toe.
‘Swernoot se kind! En hoekom hè-jy nie jou karmenaadjie kom haal nie?’
In haar oë straal die glans van liefde vir haar oudste en die ontmoeting verberg hartelikheid, onder die roue verwyte, wat sy hom toevoeg.
‘Ek is te besig ma, en kry g'n stukkie tyd nie!’
‘Jy 't met jou rug in die botter geval, en nou wil jy ons nie meer raak sien nie hê?’
‘Ma, jy moet nou nie vir my hinder nie, want ek moet gaan melk. Dit het reeds laat geword deur ma se ontydigheid. Laat staan my ṅou!’
‘Toe loop melk! Ek sal wag! Ek is alles gewènd!’
Hulle staan nou om hom en kyk na sy gedoentes. Die wysste koeie word onrustig, nou die vreemdes hier so naby staan, en hulle gaffel met die horings al na Klein- | |
| |
boet, wat die bees trotseer, deur uit te spring en pad te gee, met sy klein ratse lyfie.
‘Julle hinder my! Gee pad daarvoor Kleinboet!’ sê Ampie bars; maar hy voel trots daarop, toe sy Kleinboet babbel oor die baie melk, en hy vertoon spoggerig hoe handig hy met die koeibeeste kan werk en hoe geskik hulle vir hom luister. - Sy moeder maak of sy vir Ampie so gewènd is in sy gedaanteverwisseling, en as melkboer; wyl die kleintjies vol verwondering bly oor Ampie en sy doening.
Haar stem klink die wêreld vol, en ook haar lag, toe hulle na Booysen se huis toe stap. Sy loop en vertel van die tamaai vark; en dat sy pa nou siek lê by die huis, van die ongenadige baie eet.
Haar huismeid het Mevr. Booysen al van die besoek verwittig.
‘Dit was my grootste swarigheid, toe jy vir Ampie in diens geneem het,’ sê sy, half ergerlik vir Booysen.
‘Vat hulle kort ou vrou! Steek hulle in die werk as hulle vir jou pla! Dan sal jy gou ontslae wees van hulle!’
‘Jy kan mooi praat!’ verwyt sy hom. ‘Jy kan altoos uitspring; maar ek bly sit met die las.’
Sy spioen die groep, wat oor die werf naderkom. Wat sou die simpel siel hier in die vroegte wil kom haal? 'n Swart verlepte hoed, met 'n wit band nogal, vasgemaak onder haar ken. Sy gru van die armoedige klompie, waartussen Ampie nou uitblink, as 'n meneer wat hulle 'n diensie bewys. As dit tog maar nie 'n gewoonte sal word nie ...
Nouliks het Ampie se moeder vir Mevr. Booysen geware, of sy versnel haar treë, laat alles, wat om haar is agter, en storm reguit, sonder aarseling of geswenk op haar toe; kyk haar wyfelend wild in die oë groet kortaf ‘Môre!’ en bly toe vassteek, stil, stom en starend. Ampie bly eenkant staan, hoogmoedig, met 'n blyheid,
| |
| |
wat sy hele wese oortrek. Sy melkemmers weerskante hom.
Mevr. Booysen nooi hulle vrindliker binne, as haar bedoeling was omdat sy daadlik jammerte gevoel vir die armsalige kombinasie. Koulike klein kindertjies, met bang, wondervolle hongergesiggies, en hulle vrypostige moeder, so sonderling in haar maniere. Daadlik vat Ampie se ma toe 'n vetterige pakkie uit Kleinboet se hande en presenteer dit vir Mevr. Booysen, met 'n besondere dreunklank in haar stem:
‘Dis Ampie se karnaatjie!’
Toe order sy die kleindogtertjie kortaf:
‘Kleinsus gee die blikkie vet vir tant Grieta!’
Skroomvallig langs haar rokke, skuif die dogtertjie 'n passie vorentoe en reik 'n smerige, beoliede stroopblik vol loperige varkvet na die vreemde tante.
‘Kleinsus jy 't weer geloop en mors!’ bestraf die moeder haar. ‘Ek het die blik by die huis gelyk-vol gemaak nig Grieta, maar teenswoordig se kinders is te onpresies. 'n Mens kry geen geaardheid in hulle nie; hulle is nes kaffers! ... Kleinsus staan agteruit! Moenie so ongeaard vir 'n groot mens staan en kyk nie!’
‘Baie, baie dankie!’ sê Mevr. Booysen toe so vrindlik as sy kon en sy wys vir die moeder 'n stoel om op te sit. Die kleintjies hurk langs hulle moeder teen die muur en Mevr. Booysen voel opgeskeep met alles.
Ampie het intussen die melk neergesit en toef doelloos in die kombuis. - Mevr. Booysen oorweeg. - Sy sal hulle maar so gou moontlik 'n stukkie kos gee. Hulle is honger en as die versadig is, sal hulle wel spoedig huis toe gaan. - Die vlees en vet kan Ampie maar opgebruik - en die meid ook.
Om die gespanne toestand wat te breek, vra sy hoe die vark geslag het, en onwetend het sy daarmee die gedagtes van Ampie se moeder op koers gebring.
| |
| |
‘Daar loop nie nog so'n vark in die hele kontry nie; en spek nig Grieta, ek lieg nie vir jou nie, die der dikte!’ beduie sy met vier vuil knopperige vingers van elke hand bomekaar. - ‘Ons het 'n groot lampolie blik vol vet. Ou Dawid het glad goor maag!’ vertel sy vol vrolikheid en gestikulasie. Haar hande beduie amper hoe haar man te keer gegaan het met die vark.
‘Die ou dwing net om al die varkvleis te verkoop. Ek moet net mooi praat en keer. Ek sê vir hom: Dawid jy vreet te veel; maar die ou wou mos nie vir my luister nie. Vannag het ek vir hom twee pakkies engelse sout ingejaag en vanmôre, net voor ek hiernatoe gekom het, 'n stywe jalappe.’
‘Verlang julle nie na Ampie nie?’ vra Mevr. Booysen vir die kleintjies teen die muur, wat nou hulle koppies agter die rokke van hulle ma wegsteek, en doodstil bly. - Sy wou die moeder aflei van die varkgeskiedenis. ‘Kinders, moenie vir julle groen hou nie! Tant Grieta praat!’ Die moeder ruk hulle een vir een orent. ‘Hulle skaam! - Ek wonder vir wat moet 'n mens skaam wees? Ek skaam vir g'n mens ter wêreld nie. Dis somar origheid om skamerig te wees. Ek was nou die ander dag in die kantoor met hierdie selfde kind, kort na sy geboorte, om die bewys te lewer. Ek sê toe vir die magistraat: ‘Magistraat! hier is hy, eerlik en opreg.’ Ek lewer die bewys, en ek hou die kind so voor sy twee oë, dat hy geheel en al oortuig was. En die magistraat was regtig geskik en hy sê hy hoop dat hy my binnekort weer sal sien! Maar die ou is laat. - Hy sal hierdie slag baie lank moet wag!’ Die moeder lag geheimsinnig, tog veelseggend vir Mevr. Booysen. ‘Dis darem àl te swaar om kinders groot te maak nig Grieta, en wat het 'n mens van hulle? Nes hulle groot genog is dan trap hulle. Kyk vir Ampie ...’
Mevr. Booysen het onderwyl die melk bewerk en
| |
| |
sy werskaf nou om 'n brekvis reg te kry vir die geselserige moeder en haar kleintjies. - As hulle buikvol is, sal hulle altemit loop, is haar gedagte.
Kasper Booysen kom die kombuis deur en groet vir die moeder baie vrindlik en vra wat werk ou Dawid, waarop sy weer verhaal hoe siek die ou hom oorvreet het aan die vark. Booysen glimlag toe veelseggend vir sy vrou en hy kyk vir Ampie, wat vinnig uitspring na buite.
‘Oom Flip is vandag dorp toe Ampie. Vat die gereedskap en draai die snymasien se moere almal vas, soos ek jou gister gewys het. - Hy groet sy moeder haastig en sê:
‘Ma moet vir oom Tys hulle laat weet, dat ek môre middag sal kom kuier, asseblief.’
‘Nig Grieta! Dis die wêreld se beloop!’ gesels die moeder, wyl Mevr. Booysen aanhou werskaf. ‘Pleks dat Ampie vir ons kom opsoek, gaan hy na Vlakplaas toe. 'n Mens sou sweer neef Tys hulle het hom getoor. - Maar Ampie is 'n wonderlike kind, hy is onverstaanbaar soos 'n lemoen sonder pitte. Hy is so dig as 'n vark wat pitjies het.’ Sy kom toe baie geheimsinnig en snaaks tot teen Mevr. Booysen en fluister brommerig: ‘Nig Grieta, het Ampie jou nie 'n geheim vertel nie?’ En toe Mevr. Booysen ontkennend haar kop skud, stap sy vrypostig nader, tot vlak teen haar en sê fluisterend: ‘Ampie het sy geld gebank! Sowaar, ek weet dit!’ En toe nig Grieta vol verbasing laggend 'n antwoord wou gee, wys sy suutjies met haar hand: ‘St ... stil nig Grieta; moenie daaroor praat nie, hou dit dig, nig Grieta, hou dit dig! Net ek weet dit. Dis 'n groot geheim!’ ... En nog geheimsinniger vervolg sy: ‘Ampie is vol politiek nig Grieta, hy het sy pa en almal vet om die oë gesmeer, maar net nie vir sy moeder nie. Hy het al sy geldjies bymekaar gevat en in die
| |
| |
bank gesteek. 'n Mens sal dit nie agterkom nie; maar dis waar. Hy is 'n wonderlike kind; maar vir sy moeder kan hy tog niks wegsteek nie! Ek het dit mooitjies agtergekom. Ampie se geld is veilig, nig Grieta.’ En nog geheimsinniger vervolg sy: ‘Ek weet van 'n baie goedkoop bank, nig Grieta, 'n bank waar jy jou geld in kan bêre, sonder om 'n pennie te betaal. - My neef Jan is 'n poliesman, nig Grieta, en hy bly op Rooipoort. Hy het my dit vertel, en hy weet van alles! Rooipoort se bank is die beste bank! As jy eendag baie geld het nig Grieta, bring dit soontoe! Maar hou dit dig nig Grieta! Ek sê hou dit dig!’
‘Ek sal dit vir g'n mens vertel nie,’ sê Mevr. Booysen vol luim. Die moeder het haar 'n ietsie opgeruim met haar koddige begrippe.
‘Kom eet julle nou eers, sit hier, en laat die kindertjies genog eet, hulle het seker baie honger.’ Na 'n gesonde brekvis en nog 'n lang ruk van geduld en selfopoffering, het Mevr. Booysen toe eindlik die kloumens met 'n uitgegroeide boerbrood huistoe gestuur.
‘Jy was glad te vrindlik ou vrou!’ was Booysen se berisping. ‘Ek het gesê, vat hulle kort.’
‘Ek kon hulle onmoontlik korter gevat het as vanmôre. Sou jy hulle altemit voor die agterdeur laat bly het? Of huistoe georder het uit die staanspoor? Ons kristelike plig is om die arme, verwaarloosde drommels tot 'n voorbeeld te wees, en om hulle nie te verstoot nie! - Al wat ek op hulle teë het, is dat hulle vel te dik is. Hulle voel nie dat hulle in die pad is nie, en 'n skimp, dat hulle haas moet loop, is ondoeltreffend. - My môre is totaal bederwe.’
‘Ek vrees oormôre is dit dieselfde geskiedenis,’ sê Booysen, ‘ek glo verseker dat die malmens meen, dat julle vanmôre lekker saam gekuier het. Sy sal die indruk behou, dat jy na haar verlang!’
| |
| |
‘Ek sien geen kans daarvoor nie. As hulle my kom hinder sal jy vir Ampie in die pad moet steek.’
‘Ou vrou, jy is te haastig! Ek dink jy moet met hulle baie kortaf wees. Hou jou of jy baie besig is, en steek haar in die werk, soos ek jou reeds gesê het, laat haar die borde was, vloer smeer, of die werf vee ... As sy dan nog vertoef, dan hè-jy iets vir jou opoffering. - Ou vrou, dis die skadekant van my akkoord met Ampie. 'n Ander het ek flus geware. - Ampie moet met iemand saamwerk, anders kul hy ons. - Ek kry hom in die stoor, inmekaargetrek van die lag, en al wat hy kon uitbring was:
‘Omie, die kat!’
Maar die heel môre het hy daar g'n strooi gebreek nie.
|
|