| |
| |
| |
Hoofstuk X.
In die Werk.
Rooidag die volgende môre, drentel Ampie al in die skemerte op die werf en snuif die koue lug diep in sy longe in. Die mense slaap nog almal in Booysen se huis; maar buitekant spring die hoenders een vir een van hulle slaapplek af, en klap 'n haan sy vlerke, of die wêreld dit moet hoor, voordat hy kraai. - In die murasie by sy pa-hulle kruip nou seker ook die kinders uit hul koue streepsakke, na die vuurkan toe, wat sy ma vanmôre, nog vòòr rooidag aan die brand gesteek het. Dis darem lekker om so om die vuurkan te sit, allenig met jou bene en hande so om die vuurkan, dan kan die ryp maar val! - Hoe verlang Ampie nou na daardie vuurkan met sy baie gate, waardeur die kole en die vlamme loer en lek. 'n Mens dink baie ver; en die gloed, die vonke en die vlamme maak jou gedagtes vry. - Ag, Ampie drentel doelloos op die koue, eensame werf, en hy voel bedrukter, naarmate hy meer verlang. Dit lyk of alles hier so afgebaken is.
Die môrelig stoot stadig gunter die woning van Flip Staander uit die skemerte te voorskyn. 'n Rokie krul al bo die skoorsteen uit. Dis baie vroeë mense, wat daar bly. Hy kan gerus na oom Flip-hulle toe gaan, en hoor omtrent die damskrob, waar oom Kasper gistraand van gepraat het... Die wind sal seker vandag skaflik wees.
| |
| |
Ampie hoor 'n geskuifel in die kombuis, en toe hy met die agterdeur in die huis kom, sien hy nog effens 'n rok, wat vinnig om die hoek in die voorhuis wegraak. Alleen langs die es by 'n wakker vuurtjie, waarvan die vlamme om die groot swart yster ketel rondgalop, dink hy wie daardie vroumens kon gewees het. Tant Saartjie seker nie; sy sal mos nooit vir hom padgee nie. Dis seker hulle meisiekind. Oom Flip het mos 'n groot dogter, Hester heet sy glo. Passeerde jaar het hy haar op 'n buitekerk gesien, maar hy het nie notiesie toe van haar geneem nie. Die mense verbeel hulle mos dat hulle kop van goud is by so'n kerkgeleentheid. Almal is hoogmoedig; en wat sal hulle eendag saamdra as hulle sterwe? ... Hy wonder hoe die dogter van oom Flip nou lyk? - Dis seker sy wat vir hom weggevlug het ... Ampie hoor nou stappe in die voorhuis. Toe kom oom Flip die kombuisie binne, nog ongekam en ongewas, en tant Saartjie net kort agter hom. - Hulle groet vir Ampie kortaf, of hulle nukkerig is; maar Ampie merk die stugheid nie en vra met sy breë glimlag, wie dan vir hom gevlug het flus, toe hy hier ingekom het?
‘Dis Hester. Sy het maar net vir haar pa geroep, toe sy so ontydig 'n mansmens voor die agterdeur geware. Hoekom sal sy dan vir jou vlug hê?’ sê tant Saartjie 'n weinig bits.
Intussen het sy 'n skottel warm water vir haar man klaargesit om sy hande en gesig te was, waarna sy koffie maak.
Oom Flip vat uit sy binnebaadjiesak 'n stukkie kam en stoot sy hare, baard en snor daarmee baie handig in fatsoen, terwyl hy vir Ampie op 'n ordertoon vra, of hy vanmôre dan nie moet gaan melk nie?
‘Oom Kasper het gesê, ek en oom Flip moet mos vandag met die skrob gaan werk. Ek kom oom Flip net sê,’ sê Ampie half binnensmonds.
| |
| |
‘Ek weet wat ek moet doen! Maar jy kan mos nie leeglê, tot ons daarmee sal beginne nie? Die osse moet nog vreet.’
Ampie kry ook 'n koppie koffie by tant Saartjie, wat vir haar dogter koffie wegbring.
Ampie sê onder die geslurp deur dat hy die osse sal uitjaag, en dat oom Kasper hom niks van vanmôre se melkery gesê het nie. Flip Staander drink nou ook en daar ontstaan 'n gemoedelike verhouding.
‘Laat ek vir jou reghelp, want jy weet nog nie wat 'n gereelde boerdery is nie. As Booysen vir jou gesê het om te melk, dan moet jy dit gereeld elke dag smôrens en saans doen en daarna eers spring jy in die ander dagwerk in.’
‘Ja, oom Flip!’ sê Ampie weifelagtig en vervolg, terwyl hy weggaan. ‘Ek sal dan glo maar eers moet gaan melk.’
Die dag met die damskrob het Ampie hom nie maklik verweer nie. Die geniepsige ding wou hom maar net tussen die agterosse insmyt, vernaam as oom Flip die span vinnig teen die damwal opdryf. Ampie moet nog leer om met die skrob te werk ... Maar hy 't gehou met die taaiheid van sy onvernielbaar gestel en ook omdat hy bang geword het vir oom Flip, wat hom by die begin kortaf en bars beduie het, hoe hy die lomp gereedskap moet hanteer. Oom Flip het ook net lelik al geraas, toe hy 'n paar keer mis geskep het, of te diep, waardeur die geniepsige ding omgeslaan het. Toe die osse, skraal as hulle is, kans kry om te blaas, gaan Ampie langs oom Flip op 'n wilgerstomp sit om ook wat uit te rus terwyl hy vol hoogmoed sê:
‘Nee, wat oom Flip, dis nou verniet vir daardie skrob om my te wil baasraak! Hy lig my net so effens nou en dan, maar wat hou is ek!’ Sy oë soek die van oom Flip.
Staander knik maar net en laat die jong moestas bo sy oë wiebel. Die skuld, die skuld ...
| |
| |
Dit wil hom mal maak. Hy kry ook glad g'n kans, om vir neef Kasper behoorlik vir sy hulp te vra nie. Almelewe kom daar iets tussenin. Vanmôre het 'n buurman vir Booysen geroep om 'n skade te takseer.
‘Hoelank dink oom Flip sal ons nog met die skrob moet werk?’
‘Hoe so?’ sê Staander dooierig, afgetrokke, en daadlik daarop lewendiger. ‘Kom, vat maar Ampie jong. Nee wag, hier kom Hester vir 'n wonder met kaffie vir ons. Dit kan ek gerus onthou!’
Maar Hester was nuuskierig om vir Ampie te sien. - Vanmôre het die bog haar amper gevang, verwaarloos in haar vroeë môredag. Daardie klas het mos g'n maniere geleer nie. Voordeur of agterdeur is vir hulle net dieselfde. Goor Dawid-hulle het maar net een deur in hulle kastige woonplek, dis die. Sy het gedag dat dit oom Kasper was. - Sy wil maar net vir Ampie wys, dat sy tog nooit vir hom sal vlug nie. Wat sou die bogseun van Goor Dawid van hom dink? Sy 't van Grieta Booysen gehoor, dat hy al amper ordentlik lyk. En deur nuuskierigheid gedryf het sy toe maar koffie vir hulle ingeskink. Sy kon, om 'n oordeel van Ampie se uiterlik te vorm egter op g'n slegter oomblik gekom het nie. Bont van die modderspatsels is sy oorblufte gesig, vermaaklik om te sien, en ook sy hele vertoning is met kolle klei betakel en sy sterk kaal bene een modder plakkaat. En Ampie self slink sku en nietig weg hier langs oom Flip, toe hy die uitgegroeide boerenooi sien aankom. Die groet is koel; effens het sy geknik of dit vir haar 'n las was om van Ampie notiesie te neem. Flip slurp sy koffie met lang trekke weg en Ampie bedank verleë vir die beker, wat sy hom wil oorhandig.
‘Vat jong, al wat jy bedank is jy kwyt!’ sê Staander in blye stemming oor sy dogter so bereidwillig is vandag. - En Ampie tas toe ongewis na die koffie wat sy
| |
| |
aanpresenteer. - Sy sien met welbehae sy verleentheid en vra of die skrob hom baas geraak het. Hy sluk 'n groot sluk, half wind, half koffie, en sê toe heserig, sy kop verleë buigend:
‘Hy kan my mos nie wen nie!’
Maar Hester het die antwoord nie afgewag nie, onverwag vir haar pa het sy hom ongeërg gevra:
‘Het pa toe al vir oom Kasper gesien omtrent die wa en osse en die kerktent?’
‘Is julle dan so haastig?’ vra hy bars. Die kwelgedagtes het sy dogter alweer oopgekrap. Die jood se skuld het vir hom opgetel vanmôre, en nou kom die japsnoet van 'n dogter hom herinner aan die plan, asof die kerktoe ryery al môre moet gebeure.
‘Ek is nie haastig nie pa; maar ek sê pa maar net. Hoe eerder ons verseker is daarvan, hoe beter.’
‘Daar is nog tyd voor. Die ding sal regkom!’ sê hy kortaf.
‘Ampie vat die skrob jong!’
Ampie se begeervolle oë het intussen vir Hester skelmpies opgeneem. Die uitgegroeide fris gestalte, as sy selfbewus in haar houding so vry met haar vader praat, waardeur hy eerbied vir die dogter voel, en tewens 'n drang om dig by haar te wees. Hy beskou die nek, so wit as kapok, en die hare, dik gevleg, daarbo gedraai, en die wit strooihoedjie, wonderlik mooi op haar kop. - Hy gooi sy skelm oë oor die mooi gevulde gestalte, met groeiende begere, en dis of een hom van verbode heerlikhede wegruk, toe oom Flip se stomp order hom na die damskrob roep.
Oom Flip het haastig geword. Die dekselse geneul heeldag is hy nou moeg voor. Dit begin nou al te lol oor wa en osse, wat in Oktobermaand eers nodig is. 'n Mens kan sien hulle is nie meer gewend, om met 'n wa te ry nie. Jou siel kry nêrens rus hier op aarde nie!
| |
| |
- Bars skree hy vir die touleier: ‘Kaffertjies hou reg voor!’
En Ampie gryp met mag, die sterte van die skrob. Oom Flip, die pa van Hester, groei tot 'n reus vir hom, en sy gevoel van onderworpenheid vermeerder insgelyk. Hester toef ook nog 'n ruk by hulle ... Ampie is as vasgesweis aan die vermalde stuk gereedskap, wat soos 'n nukkerige ou donkie, hom net wil afgooi, so telkens as die span die modder teen die damwal uitsleep. - Sy spiere krop bo sy polse van die vashou, en outomaties beur en pareer hy, as hy kleitrap in die morsigheid; 'n botte kragsinspanning van 'n slaafse wese. En Hester roep toe helder uit, sodat hy elke woord in sy hart voel grootword: ‘Nou glo ek ook dat jy 'n skrob kan menteneer!’
En effens het sy geglimlag vir Ampie, toe hy haar passeer, voordat sy huistoe gaan; en dis toe of sy krag verdubbel word.
Oom Flip se sweep swiets driftig deur die lug en klap so sny-sny oor die span, dat dit lyk of baie boere op die bulte osse aanja. Staander gee vir Ampie g'n sekonde skiet nie. Dis maar net kom en uitsteek, hou met al die krag wat Ampie kan byeenbring, die damwal uitklim, dan omgooi, en weer kom. - Die klappe klief die lug soos geweerskote, en die osse hou 'n stywe pas, of hulle 'n kerkwa in die groot transportpad trek.
Flip Staander voel dat hy sodoende sy moeilikhede kan oorwen. Hy moet woel en besig wees. En sy woorde rol op barse ordertoon: ‘Ampie jy moet hou, ek sê jy moet hou as jy goed is!’
'n Botte vasberadenheid om nie in te gee nie is al gedagte wat nog in Ampie is. Hy voel werktuiglik dat hy moet gaan en kom, met die loodgevaarte aan sy arms. Sy liggaam het sy harsings ingeneem. - Hy het sy twede wind, en hiervandaan kan hy aangaan tot hy
| |
| |
dood neerslaan. - Flip Staander kan maar opdryf en probeer om Ampie se end te soek. Hy sal dit nie regkry nie. - En netnou is dit uitspantyd.
Hoewel die son nog hoog skyn, is dit ophoutyd vir die beeste. Augustus is vir die vee 'n al te skraal maand. Ampie spoel sy bene so skoon as hulle lank laas was, en ook sy gesig; toe stoot hy sy bokram kuif behoorlik agtertoe en sit met teësin sy haatlike keps daarop. - Hy sal tog môre vir oom Kasper 'n nuwe hoed gaan vra. Die ou afgedraagde, treurige keps skend nou net sy gesig. Hy voel dit. - Staander het vandag lekker met Ampie saam gewerk. Die seun is gehoorsaam en baie taai. Hy 't hom goed geweer vandag, die dam kan môre skoon wees, as daar g'n teëspoed kom nie ... maar hiervandaan tot môre! ... Hy voel benoud vir die lang ure, wat voorlê, waarin hy met sy gedagtes alleen sal moet spook. - Nog net twee dae het die jood hom kans gegee. Dan moet die skuld betaal wees; of anders is 'n dagvaarding sy voorland. Hy gril en sug by die gedagte en mompel iets oor ‘bloedtap uit 'n klip!’
‘Het oom Flip met my gepraat?’ vra Ampie, wat nou die stroppe afhaal van die trekgoed.
‘Nee, Ampie, dis somar 'n slegte gewoonte van my daardie. As ek my partykeer kom kry, dan gesels ek een strook deur met my allenig. 'n Mens het baie moeilikhede in die ou wêreld! Ek wens daar was nie so'n ding as skuld nie Ampie; of ek moet baie geld hê.’
‘Dis somar maklik oom Flip, om baie geld te maak!’ sê Ampie so oortuigend, dat Staander hom verwonderd aangaperig vra: ‘Hoe dan?’
‘Oom Flip moet brandewyn koop en aan die volk verkoop met baie wins; maar oom moet oppas dat die poliese dit nie agterkom nie!’
‘Jy's mal Ampie,’ sê Staander teleurgesteld, ‘'n Mens mag nie die wet goedsmoeds oortree nie. - Jong hier
| |
| |
kom Booysen. Jy moet die rieme en stroppe maar na my huis toe bring, ek wil nog met neef Kasper praat.’
Direk dink Staander dat dit 'n uitsoek kans is, om al sy swarigheid vir neef Kasper te vertel.
‘Julle het vandag nie gespeel nie, neef Flip,’ sê Booysen opgetoge oor die werk.
‘Ek sou so dink neef Kasper, ons het vandag goed opgedruk. Dit wil my voorkom of ek saam met Ampie lekker sal werk; as ek net by jou kan bly; maar die toestand knyp 'n mens partykeer so vas, dat jy moet uitspring om uitkomste te soek. Die twakbelasting het ons klaargemaak neef Kasper!’
‘Ons moet maar perbeer uithou neef Flip. Ons boere het g'n geld nie, maar kos genog en as ek kos het in my huis, dan sal jy ook g'n honger ly nie. Ons perbeer 'n ander soort van boerdery. Ek dink lusern of so iets kan ons vat om mee te boer.’ En toe het Booysen lank met sy bywoner oor die toekomstige planne gesels, totdat die son wou ondergaan en Staander het geen durf kon bymekaar skraap om sy versoek te uiter nie. Mistroostig het hy na sy huis gestap. - En tog het Booysen en hy so lekker saam gesels dat hy so te sê die hele moeilikheid vergeet het.
Maar Ampie het 'n uur gelede blymoedig soontoe koers gevat en maar weer met die agterdeur in die kombuis gekom. Die slag het Hester, netjies aangetrek, maar baie eenkant so duidlik met 'n stille vraag: ‘En wat kom soek jy hier?’ amper vir hom laat retireer.
‘Jou pa het gesê dat ek die rieme hiernatoe moet bring,’ verklaar Ampie mompelend verleë. En toe word Hester vrindliker. Sy help vir Ampie reg en sê 'n ietsie jammerhartig: ‘Jy is seker baie moeg nie waar nie?’
‘Nee wat, ek is glad g'n moeg nie!’ spog Ampie en sy oë glinster van verleë durf.
Toe Hester verder niks meer sê nie, en begin te
| |
| |
werskaf somarso, en Ampie ook g'n woorde bymekaar kan bring nie, toe voel hy weer of hy kan wegvlug, hoewel sy oë vasgevang word deur die vrou-gestalte, met die rug na hom gekeer. 'n Hartstog, om so lank moontlik in hom op te neem, die presiése lyne van die volgeboude lyf, gee hom durf om nog te draal.
‘Wou jy nog altemit iets gehad het Ampie?’. vra sy toonloos, elke woord so duidlik.
‘Nee, nig Hester,’ skrik hy op. Hy 't sonder erg haar naam genoem, en skaars kom die geluidjie ‘Naand,’ oor sy lippe.
|
|