| |
| |
| |
Hoofstuk IX.
Nuwigheid.
Soos iemand, wat waarlik nie weet waar om te trap nie, volg Ampie vir Mevr. Booysen na sy kamer toe. Hy vertoon al baie menslik. Sy kop, skoongewas, pronk met 'n krulkuif, soos 'n bokramhoring. Hy wou daardie sieraad behou, en oom Flip het toe àl daar omheen gesnoei. - Dis of hy na die dodesèl gebring word, en of tant Grieta hier voor hom sy tronkbewaarder is, wat hy moet volg, so willoos en onmagtig voel hy op die oomblik. Sy bene slinger soos los gedoentes onder sy lyf, hy 't geen kontrôle meer oor iets van hom nie. Hy volg soos iemand, onderworpe aan sy lot. Hulle maak met hom tog net wat hulle wil. Was, haresny en nou àl agter tannie aan, wat hom flus die nuwe klere gegee, en aangehou sê het, dat hy vir hom tog elke dag so fris moet was, en dit nogal in koue water!
‘Hier moet jy slaap Ampie. Sit jou komberse maar op die katel en trek jou nuwe klere en skoene aan. Dan kom jy netnou huistoe, hoor!’
‘Ja, Tannie!’ sê Ampie wesenloos met bang gesig.
‘Jy lyk nou somar 'n ander mens Ampie. Elke dag moet jy deëlik vir jou was met seep hoor!’
‘Ja, Tannie!’ herhaal hy willoos soos 'n slaaf.
‘Jy sal hier al te lekker slaap.’
‘Ja, Tannie!’ sê hy weer maar met onrus in sy groot
| |
| |
oë. Die pynlike gesig van die wilde seun lyk ongelukkig, hier by al die gerief.
‘Hoe lyk dit Ampie?’
Met klimmende verbasing hoor sy hom aan:
‘Tannie maak verniet vir my so danig baie moeite. Ek sal somar agter die stoor langs die kafhoop slaap. Ek het voor laas week in 'n vlei lekker geslaap. Ek sal nooit hier slaap nie Tannie!’
'n Flou glimlag breek deur die pynlikheid van sy gesig:
‘En sê nou ek droom in die nag? En sê nou ek val af?’
Driftig maak Mevr. Booysen hom stil:
‘En as jy afval sal jy nog nie doodval nie! 'n Witmens lewe in 'n huis, nie in die veld soos ongedierte nie!’
‘Ja, Tannie!’ fluister hy bedees.
Toe hy allenig daar in die digte kamertjie agterbly, voel hy net ongelukkig. Dis anders as in die murasies by sy pa-hulle. Daar kon hy padgee, wegvlug deur die veld, waarheen hy wou. Hier snoer die onbekende, waarvoor hy bang voel, hom vas aan 'n nuwe lewe van gebondenheid. Hy is bewus, dat enigeen nou met hom kan maak net wat hy verkies. Sy wil is weg. Hy sal net luister, luister. Lank bly hy roerloos staan in die vertrekkie, en swaar gedagtes oor die onbekende lewe kwel hom. Hy sal nou-strop trek, van hierdie heden af. Wat op die aarde het hy tog aangevang? Hy is vasgekeer in hierdie kamertjie soos 'n haas onder 'n wip. - Hul sê hom glad, dat hy moet was en aantrek, en skoene dra ... Met 'n diep sug sê hy onderworpe: ‘Ek sal my dan glo maar moet aantrek. - Nogal broek, baadjie en onderbaadjie!’ - Maar besluiteloos swaai sy blik sku van die stoel, na die waslafeltjie, met sy grooftskottel, na die blink spieël daarbo. - Hy sien in 'n halwe skemerte duidlik sy dik gekrulde kuif so eenkant oor sy voorkop hang ... Hy kan hom gerus regstoot. -
| |
| |
So'n spieël maak 'n mens darem dom. As hy wil maak soos Ampie daar anderkant, om sy kuif by te kom, dan gee sy hand hier duskant van sy kuif af pad ... Kyk nou, hoe verkeerd en agterstevoor! ... So'n spieël maak hom net deurmekaar ... dis somar 'n mal gemors, wat met 'n mens die spot dryf. - Hy kan baie goed daarsonder klaar kom, en ook met hierdie katel. - Sy vol gewig druk nou die springmat hol. Nooit sal hy op daardie slap gedoente slaap nie. Wie sal vir hom hier kom afloer? Tannie sal dit mos nie agterkom nie, as hy vannag hom in sy kombers toerol, somar hier op die grond? ... Die plan versoen hom met sy toestand, en alles lyk nou minder vreemd. - Hy sal tog lekker vir tannie-hulle kul ... hy sal hom nou maar eers moet aantrek soos hulle sê.
Toe sy bondeltjie ou flenters daar in 'n hoek gesmyt is, gly sy oë behaagsiek oor die nuwigheid waarmee hy hom getooi het. - Hy kan maar uitgaan, want hy lyk nou soos oom Kasper self, 'n welaf man met baie pitte. - Hy wonder wat Annekie sal sê, as sy hom sien. Sy sal nou seker met hom saamkom. Hy lyk mos nou soos 'n jentelman en Annekie sal glad hoogmoedig wees. - Hy moet oom Kasper nog 'n hoed ook vra, as hy meer eie is ... Vrypostiger as flus begeef hy hom weer op die werf, en toe Booysen en sy vrou, hul kinders en die huismeid hom terdeë opneem, toe pronk hy vol hoogmoed, met sy eie houding, tog verleë laggend soos 'n kind, wat van geen sonde weet nie.
Die beeste kom kraal-toe, skralerig van die Augustus skaarste en Ampie hou hom reg vir sy eerste taak in Booysen se diens. - Hy moet melk, en die seuntjies van oom Kasper, uit nuuskierigheid, dwing al om naby Ampie te wees, skamerig om te gesels. - Maar toe hulle hom help om die koeie uit te keer, begin hulle hom te beduie die maniere van daardie en daardie bees, en
| |
| |
hul noem die name. - En op sy beurt, terwyl hy besig is om 'n melkbees te span, vertel Ampie van wys koeie, wat hy laas jaar mak gemaak het, om los te melk, sonder spantou of iets. Toe hulle die melk huistoe bring, fantaseer hy lewendig oor sy ohdervindinge met kwaai beeste, so ongewoon, dat die seuntjies oop mond langs hom stap soos ou maters. En in die kombuis, met oë wat straal van voldoening, wys hy vir Tannie die melk, en vra of sy elk aand so baie kry.
‘Ek is 'n ou melkboer Tannie, en ek kan botter ook maak.’
‘Dis gaaf, en as die veld volop is, dan sal ons sien,’ sê Mevr. Booysen, terwyl sy die melk deursif.
Daar binne in die agterhuis, vanuit die kombuis, bespeur Ampie die regmaak vir die aandete, en uit die staanspoor is sy aandag in beslag geneem, hoewel hy teësinnig die toebereidsele sien. Hy sal aan daardie tafel mos nooit gaan sit en eet nie! - Die hanglamp verlig alles so blink en helderwit op die tafel, dat sy blik as gekluister bly. Die oudste kind van Kasper Booysen werskaf daar so maklik en verstandig. En Ampie vergeet sy teësin, geboei deur Grieta Booysen, die ratse dogter, wat in sy binnenste 'n snaakse lus besorg. Sy oë hang as getower aan daardie fyn figuurtjie, klein maar wonderlik bevallig in haar doening ... Hy luister na die klink van mes en bord so suiwer in haar hande; terwyl sy sierlyk skuiwe om die wit tafelvlak - en soetjies alles regskuif, regskuif nog 'n slag. - Hy sien die sagte swaaibeweging van haar koppie, as sy haar oë oulik oor haar werkies heen laat gly. Hoe vreemd bekoorlik is die dogtertjie wat in sy boesem 'n onrustige verlangste wakker maak, 'n drang na iets, wat hyself nie kan bepaal nie. - Toe glans die oë op, direk na hom toe, ernstig eers en dan verwonder en dan daadlik sagter deur 'n liewe glimlag. -Hy kon die ontdekking
| |
| |
nie ontduik het nie, vasgenael, so voor haar oë as hy was, en toe hy skielik wegkoes, hoor hy haar lag. 'n Ergernis oor hy so lomp gestaan en loer het, groei in sy binnenste. Hy is betrap deur daardie meisiekind, en sy 't vir hom gelag. Hy voel so uit sy plek uit daar. Hul moet tog asseblief vir hom nie soontoe nooi nie ... die lekkerste ete sal hom nie daarbinne bring nie ... Hy sal viervoet vassteek! ...
‘Tannie, ek wil vir Tannie asseblief iets vra asseblief!’ en hy fluister toe onrustig bangerig vir Tannie, om tog sy kos maar eenkant-toe te sit hier in die kombuis asseblief ... Hy sal somar in sy kamer ook eet, as sy wil ... Hulle moet tog nie vir hom so baie moeite maak nie, asseblief tog nie!
Mevr. Booysen het toe aan sy begeerte voldoen. Voorlopig moet die kêreltjie maar meeste eenkant bly - later sal hy self kom bydraai.
Maar toe die aandete verby is, en oom Kasper die bybel voor hom oopslaan, moet Ampie naderkom. Bedremmel toef hy in die deur. Mevr. Booysen wink hom binne.
‘Sit maar op die bank en luister, Ampie!’
Skigtig gluur hy deur die hele ligte vertrek en hengel nog soos 'n perd wat in 'n spoorwegtroks gedwing word. Sy kop buig verleë oor die regterskouer, wat met 'n senutrek vorentoe swaai, terwyl hy na die sitplek sluip. - Hy sou gevlug het as die order van tant Grieta en die stille oogbeduie van oom Kasper, die vreemde blikke van die kleinspan en die sprekende oë van Grieta Booysen hom nie na die sitbank toe gedwing het nie. En sy litte, willoos onder hom, het soontoe geslinger. Hy voel daar buite in die ruimte nooit so angstig nie, dis hier benoud en toe, soos in die kantoor daar op die dorp, en sy harsings kan g'n stuk gedagte vorm nie.
| |
| |
Die boekevat gaan soos 'n skouspel vir sy gees verby. Hy voel gekluister aan die plegtigheid, deur sy intense vrees. Die stem van Booysen hoor hy soos 'n ver gemompel. Oor sy gesig kom weer die pynlike trek van inspanning om goed te luister, waar hy onmoontlik die gelesene in hom kan opneem, en hy voel of almal vir hom kyk. Sku, onrustig, steelgewys, gooi hy sy blik oor die mense hier byeen. - Die lamp lig helder op luisterende seuntjies, wat kort-kort vlugtig vir hom loer, en effens dan hul koppies wegsteek oor die snaakse krulkuif van Ampie. En Tannie se oë ontmoet hy ook so effens nou en dan, maar vir Grieta Booysen sien hy mees, en altoos met haar wye donker oë, vol wonderlike erns, of hulle hom wil indagtig maak, hoe sondig dat hy is. - O ja, hy voel dit soos 'n vuurbrand in sy binnenste, die wrede plek, wat opstoot boontoe na sy keel, met benoude kloppinge. En die gemompel van oom Kasper almaardeur, dreun soetjies eers, en dan weer luider, soos die wind, wat deur 'n populierbos ongestadig ruis. En die gemompel roer sy bang gewete, saam met die ernstige blik van Grieta Booysen.
Dis anderster as die boekevat by oom Tys. Daar was hy tog eie met sy famielie saam; hier as 'n eenling, onder daardie hoë mense, alles vreemd en nuut en blink; hier iedereen so op sy plek in eie houding, rustig en persies, so ver, so baie ver van Ampie af ... Selfs Grieta Booysen ook so ver en onbereikbaar.
Die benoude oomblikke raak egter op 'n end, toe gelukkig vir Ampie, oom Kasper die groot boek toeslaan en 'n kleiner een vat. - Hy lees nou glad anderster as flus, 'n storie uit die kinderbybel, wat vir Ampie soos 'n toorgeskiedenissie klink. Sy oom Tys het vroeër, toe hy aanneemlesse saam met Annekie geleer het, ook al daarvan vertel; maar nie, nee lank nie soos oom Kasper nou nie. Hy luister skerper as die kinders.
| |
| |
Sy wese druk die begeerte uit om alles in te neem, wat daar in sy eie taal, so verstaanbaar en pragtig voorgelees word, sodat dit saamdring in sy siel tot een heerlike genot; terwyl sy gees bly hunker na die wonderbaarlike. - Hy sien hoe lekker die seewater die grote mag van Farao verslind - en hy lag in sy siel, oor die uitsoek poets, wat daardie saamgevloeide waterblokke vir hulle gebak het. - Hy voel dit so, en sy geaardheid lewe.
Booysen vra sy kinders omtrent die gelesene en hulle antwoord stemmig, wat hulle weet. Ampie tintel van verbeeldingskrag, toe hy die storie ook kan vertel op sy beurt, en soos hy dit opgevat het.
Oom Kasper, ek het onthou dat oom Kasper gelees het, hoe die eerste span mooi deur die pad, middeldeur die see gekom het, sonder dat een van hulle versuip het. En die twede span, ek meen ou-Farao se klomp, was toe net mooi in die middel. Hulle dog toe: net nou het ons vir julle daar voor; maar toe klap die water toe, soos 'n geweerskoot, bo hulle koppe en hulle het geswem dat die sweet so van hulle aftap; maar dit het hulle niks gehelp nie - die kante was te ver, en almal moes maar mooi versuip, en het die voorste span toe nie lekker vir hulle uitgelag nie?’ Ampie gloei van opgewondenheid en sy oë skitter, toe hy vrypostig rondkyk; maar daadlik voel hy, of hy nooit weer vir oom Kasper sal vertel, wat hy onthou het nie. - Die seuntjies lag hardop; selfs Grieta Booysen ook, en tannie bêre haar kop eenkant in haar hande, terwyl Booysen hom baie vrindlik, en so lag-lag sê, dat hy regtig mooi geluister het. - En alles het weer skielik vreemd vir hom geword, sy bang gevoelens het alweer sy gees verdof. - Hy sing nie saam nie, toe hulle die aandgesang, vreemdklinkend in die kamer laat hoor met suiwer klanke, en die stemme van Grieta en haar moe- | |
| |
der bo die ander uitklink. Dis net die vrouestemme wat hy hoor, en weemoed roer in sy hart 'n heimwee wakker. Nou voel hy wat die groot verlangste was van flus. Dit gaan vir hom of hy doerr, dwalend in die veld vir Annekie hoor sing. Sy sing mos ook so uit, as of die klank so in jou wese indring. - Vol droef gemymer dink hy weg, na 'n salige plekkie aarde, in hoë dekgras in die windgesuis en Annekie hier by hom, vas teen hom in die stilte.
Hy skrik werklik, toe hulle stilbly, en weer bemerk hy dat Tannie haar kop eenkant toe wegsteek, en dat oom Kasper effens grimlag en dat Grieta Booysen se oë hom vol jammerte bly aanstaar. 'n Heimwee en 'n drang na iets so wonderlik onbepaald pak weer sy lyf en sinne en dit verbyster sy gedagtes, waarin 'n teer vroomheid en 'n groot verlangste met liefde deurmekaar wil ronddwaal, onregeerbaar. Dit smaak hom of sy trane, netnou, netnou maar sal uitbars, sy gorrel is as toegebind ... Hy sal hier nooit kan bly nie. Hy voel allenig in die vreemde huisgesin. Sy hart verlang na Vlakplaas. - Die blik van Grieta Booysen roer hom in sy siel, en hy kan vir sy liefste Annekie nou in sy arms vat, en saam met Grieta Booysen bid da die liewe Here tog nooit vir hom en Annekie uitmekaar moet neem nie ...
‘Jy kan nou maar gaan slaap Ampie,’ hoor hy oom Kasper sê; ‘As die wind môre nie waai nie, sal jy met oom Flip Staander saam met die damskrob werk!’
‘Ja, oom Kasper!’ stem hy werktuiglik in.
‘Nag tant Grieta! Nag oom Kasper! Nag nig Grieta! Nag Kasper! Nag Gertjie!’ En toe hy almal so behoorlik nag gesê het, verdwyn hy in die duister van die kombuis. - En in sy kamertjie kom hy toe tot besinking. Die dag se wedervare oordink hy kalmer, in die stilte van sy vertrekkie, waarin sy laternlig skemeragtig skyn. Hy
| |
| |
sit op die kant van sy holmat katel en voel besluiteloos oor wat hy nou sal aanvang. - Hy is nog glad nie vaak nie, want hy 't te veel om oor te dink. Hy het die laaste ure so heeltemal uit sy gewoonte uit geleef. Dit sal nooit stryk nie! Die hoë mense is vol fiemies, en hulle het glad te veel onnodige bogtery. Hulle is hier ook nes al die mense op die dorp, wat maak of hulle nooit te vore ander mense raak gesien het nie. - Hulle sal my hier wegja net daardeur! ... En dan die orige moeite hierso, net vir 'n stukkie kos. 'n Mens sou sweer dat eet wat wonders is! Die een perd eet persies net soos die ander perd; en beeste vreet mos almal eenders! Dis net die hoë mense wat anderster wil maak as ander mense. - As hy en Annekie eendag getroud is, sal hy die bogtery nie in sy huis toelaat nie. Hulle twee sal behoorlijk eet, hulle brood en koffie, mieliepap en boontjiesop, uit een behoorlike diep erdebord, wat mens van die tafel af kan laat val, en hy bly heel en bruikbaar. - Virwat is al daardie soorte borde nodig? Net moeite! En virwat al daardie vaatdoeke wat by elkeen se bord lê? Annekie en ek sal met al ons kinders wat ons sal kry, met een klaar kom ... Ai Annekie en ek sal lekker saam boer! ... Ag Annekie hoekom kan ons nie nou al saambly nie? - Sy redeneergedagtes het oorgegaan in mymery, wat dool met Grieta Booysen in die hel verligte agterhuis en dwaal so om en by 'n kol hoë dekgras langs die pad, met Annekie. Nou voel hy eers hoe lief hy daardie meisiekind het, en ook hoe wonderlik sag nig Grieta Booysen sy hart vir Annekie gemaak het. Die teer gevoel, wat hom, in die diensie aan tafel bemeester het, vul sy gemoed alweer. En vroomheid en verlangste, met liefde deurmekaar ontroer sy hart soos flus daar in die agterhuis. Hy wil net dwing om hardop uit te roep, dat die liewe Here vir hom en Annekie moet bymekaar bring, en baie lank vir Anne- | |
| |
kie moet spaar; maar in sy hart is die gebed so innig, as 'n sielskreet na verlossing; maar sy lippe prewel net: ‘Ag Here!’ soos die geprewel van 'n sterwende ...
Toe Ampie hom opgerol in sy kombers, daar op die grondvloer neerlê om te slaap, voel hy soos 'n kristen, wat die heerlikheid van die hemel verwag ...
|
|