| |
| |
| |
Hoofstuk VIII.
Oor ander Sake.
Op Kasper Booysen se plaas bly Flip Staander, met sy vrou Saartjie, hulle dogter Hester, behalwe nog drie jonger kinders, in 'n netjiese huisie, omtrent 'n kwartmyl van Booysen se woning af. - Staander is 'n werkesel en so trou as 'n brak, wat om die huis groot geword het. - Dat hy vandag op die grond van 'n ander sit, is te wyte aan die groot teëslag van sy lewe, toe sy buurman Piet Herbs hom oorgehaal het om borg vir hom te staan; want Staander was destyds grondbesitter. - Flip Staander het toe ja gesê, omdat hy te swak was om nee te sê, hoewel sy hart hom magtig teen die daad verset het. - Saartjie het dit pas agtergekom, toe Flip uit sy erfdeel uitgeraak het. En al sy tekere gaan oor Piet Herbs het hom niks gebaat nie. Hyself was oorsaak van die swaar, wat op sy huisgesin toegesak het, en sy vrou Saartjie het hom dit duidlik laat voel, en daarvandaan het haar bitse verwyte sy geeskrag uitgeput. Hy het die skuld gevoel soos koue koorsrillings, as ou Saartjie hom so telkens daaraan herinner.
‘Vandag sit ons in die verknorsing deur jou slegtigheid ... Jy 't ons in die ellend ingesleep ... ons het ons eie grond, wa en osse gehad, vandag moet ons ander mense na die oë kyk.’
Dit het Flip platgedruk, en hom gelaat, 'n man vol
| |
| |
broeigedagtes, waarin hy wegsuf, as hy geen afleiding het nie. - Slegs in sy werk voel hy opgeruim. Arbeid is vir hom 'n medisyn. - Kasper Booysen is in sy skik met Flip; 'n man wat nooit lol of kwessies maak nie en soos 'n uurwerk loop; 'n mens wen hom op, en hy loop egaal deur tot hy afgeloop is.
Maar vandag, nou die wind so aanhoudend om die huis sanik, en buite in die werk met die damskrob tot in jou murg insny, en jou bene verbrand, as die modder daarop droog waai, is dit binnekant aangenamer. - Vir Flip Staander egter, waai die wind hier in sy voorhuis net sy kop vol kwelgeeste terwyl hy sit en pyprook; en die naaimasien se geweldige gerikketik dreun soos 'n myngeraas deur sy kop. Hy voel die opgekropte swaar vandag besonder fel en lewendig. Vernaam vandag.
Hier sit sy vrou en Hester voorstelklere en maak vir die dogter, wat eers in Oktobermaand na die aanneme moet gaan, en die goed is laas maand al in die dorp op skuld gekoop net voordat hy sy tabakoes weggebring het. - En gister het hy 'n kwaai aanskrywing van die jood ontvang, oor dieselfde skuld, wat deur die voorstelklere so vat-vat aan vyf-en-twintig pond. As hy nou maar 'n behoorlike prys vir sy tabakoes gekry het, dan sou hy daardie vuur maklik kon doodgooi ... Nou kan hy kwalik die klein vuurtjies hier om hom, by die koelie en die slaghuis, baasraak ... Die ver- duiwelde tabakbelasting! ... Dis die doodhou vir sy boerdery! Die oes het hy vir die vyfde deel van sy waarde moet verkoop ... Hy kon ordentlik hier bestaan het by neef Kasper ... Neef Kasper voel vandag ook waar die skoen knyp ... Sy spogoes het hy, so te sê, ook maar persent gegee! ... Uitroei! ... Uitroei! ... Dis duidelik vandag se politiek. Ons boere moet uit die pad uit! Uitroei! ... verdomp! - Sy groot, donker
| |
| |
wysbroue, wat soos 'n jong moestas lyk, dans nou op en neer van inwendige verbolgenheid. - Daardie wysbroue het altoos die manier om, by tussenpose op en af te wip; maar as ou-Flip kwaad is, of baie bly, of in die verleentheid, dan dans hulle vinniger, en slegs die gloed van sy oë, wat gewoonlik geesloos lyk, gee sy gemoedstoestand te kenne.
Hoe gaan hy daardie skuld betaal kry? Dankie vader dat sy vrou niks van die aanskrywing weet nie ... Sy sal tog maar net weer hom verwyt, al het sy self die skuld gemaak ... As Hester nou maar 'n welaf jongetjie kon raakloop ...
Onwillekeurig staar sy oë stil op die gewerskaf van sy oudste dogter, 'n frisgeboude boerenooi met 'n growwe gesig en vaal hare. Kort-kort laat Hester die masien se gerikketik oorgaan in 'n dreuning en dit lyk of sy al-hoe haastiger word. Staander voel effens opgebeur. - Sy sal enige tyd 'n goeie huwelik kan doen, en die aanneme is nie meer so ver nie! - As hy net die skuld uit die pad uit kan kry ... die vrot, onregverdige en ontydige tabaksbelasting! ... Hy sal maar verplig wees, om vir neef Kasper te vra vir hulp. Neef Kasper kan maar net vir drie maande borg staan by die bank, en sy kar en twee donkies, sy huisraad ook, as dit moet, kan hy maar vir neef Kasper as 'n sekuriteit gee ...
Die saak lyk vir hom opgelos, en blymoediger begin hy met Saartjie te gesels oor die groot gewigtigheid, wat vir Hester wag in Oktobermaand. ‘En hè-jy al gedink oor 'n plan om vir ons te vervoer dorp-toe en ons verblyf daar? Dis 'n volle week, wat ons daar sal moet bly, want Hester moet positief die laas week se katigesasie van ons leeraar bywoon.’
‘Ons sal maar 'n plan moet maak,’ sê Flip besluiteloos.
| |
| |
‘Hoekom vra pa nie intyds vir oom Kasper sy wa en osse en kerktent nie pa?’ vra Hester so ewe onverwag.
‘Ja my kind, daar is nog baie tyd voor; ons kan so'n plan maak!’ en in sy hart dring baie moeilikhede vorentoe. Alweer 'n swaar, wat hy aan homself te danke het ... Die vabond van 'n Piet Herbs, met sy vrindelike bakkies. Het sy tong tog maar liewerste aan sy verhemelte vasgeklou, toe hy vir my vra om daardie onheilige bewys te teken as sy borg ... En nou al begin die japsnoet van 'n dogter, oor die wa en osse van neef Kasper ... en Saartjie sal van nou af aanhou neul daaroor. - Hy moet neef Kasper reeds netnou vra om borg vir hom te staan.
Toe Staander in hulle agterhuis inkom, kry hy vir Booysen en sy vrou besig met 'n ernstige redenasie, wat hulle daadlik afbreek, en almal se houding lyk ongemaklik. - En toe Mevr. Booysen vir hom 'n koppie tee oorhandig, vra sy kastig belangstellend: ‘En wat werk nig Saartjie? Nog altoos besig aan Hester se voorstelklere?’
Daadlik set Flip die koppie tee nog ongeproe op die tafel. Dis of nig Grieta hier ekspres sy vrakans oopstoot.
‘Ja nig Grieta, hulle werk maar gedurig daaraan, en dit lyk vir my dit kom nooit klaar nie. Die groot moeilikheid lê ook nog voor. Hoe ons by die Kerk sal kom, weet nugter!’
‘Ou-Flip! Jong, as julle donkies te swak is, vat vir ou-Jakob by! Hy is enige tyd so goed as twee ander donkies!’
‘N-N ... jaa neef Kasper,’ sê Flip baie langsaam en vinniger vervolg hy: ‘Baie dankie, neef Kasper, ons sal nou darem oor die bult kan kom.’
‘Ou-Jakob hoor, so te sê alweer aan sy vorige baas,
| |
| |
maar dit sal g'n beswaar wees nie. - Ek het mos vir Ampie gehuur ou-Flip.’
‘Vir kaffer-sleg se maat, neef Kasper? Nou die ander dag het ek hom nog ontset. Goor Dawid wou hom met geweld verwurg.’ En Staander vertel die geval. Hy is afgelei van wa en osse, en 'n borgskap.
‘Dis tyd dat Ampie onder daardie dwang uit kom,’ sê Booysen ernstig. ‘Ja Flip, baar as 'n vaalpenskaffer, vuil as 'n koeliemeid; maar dis 'n witman, 'n afrikanerkind, en sy wil is goed soos dit my lyk.’
Staander skud sy kop. ‘Ek glo mos nie aan daardie Nortjeesgeslagte nie. Ampie sal wegloop soos 'n slegte kaffer.’
‘Ek dink jy is verkeerd. Hy is te lafhartig om weg te loop. Hy sal hier bly, uit vrees vir jou en vir my. Vrees is die beste eienskap, wat hy nou besit, om vorentoe te kom. - Ek en die vrou het juis ernstig oor Ampie gesels toe jy ingekom het. - Jy kan ook help ou-Flip. Ons moet van Ampie 'n mens maak.’
Maar Staander lyk nog onbekeerlik.
‘'n Slegte witman is slegter as 'n slegte kaffer!’
Booysen het vanmôre, toe hy so offisieel te werk gegaan het met die opstel van die kontrak, 'n roeping gevoel om die Afrikanerkind te red van algehele ontaarding, om 'n wilde wese, vol vasgeroeste gewoontes en antibeskawings-neiginge op te kweek tot 'n bruikbare mens. Die dokument is waardeloos, dit het Kasper Booysen goed geweet; want die sug na 'n ongebonde lewe, buitekant die wet, is te sterk in daardie klas van indiwidue; maar hy het vashouplek gekry deur hulle vrees vir die geheimsinnige van 'n ernstige wettige verrigting. Hy ken die laaggesonke deel van die ouboervolk, en ook die bevoorregte klas van sy nasie; - hy ken homself, in die klein verneukslaggies, in die gehuigelde beleefdheid, agterdog, wantroue, geslotenheid,
| |
| |
wat onbeholpe uit die dade spreek en waarvan die fyner beskawing amper 'n deug maak, en wat hulle ‘smartness’ noem.
Die onnatuurlike en onbeholpe aanpassing van gewone ondeugde, was die begin van die ou volk se stryd teen vreemde invloede, wat so indringerig op hulle toegesak het; die begin van ontaarding; want die ‘smartness’ van die vreemde het hulle ingepalm, en hulle moes saam, terwille van die lewe ...
So het Booysen gefilosofeer met sy vrou, toe Flip Staander hulle kom hinder het, en nou vervolg hy: ‘En hoekom is daar sulke slegte witmense Flip?’ Ek sal jou sê. - Vroeër, onder ons ou mense, was dit buurmanskap en vriendskaplike reëling van kwessies, somarso onder mekaar. Later het besigheid-is-besigheid gekom, en daarin het hulle ook direk 'n oneerlikheid bespeur, wat blykbaar geoorloof was. Maar àl te heftig het die besigheidswêreld hulle oorweldig, deur oorlog en verwoesting van hulle eiendomme en hulle was genoodsaak om met lomp besigheidsbegrippe, te stry teen geskoolde besigheidsvernuf, wat hul vyandig was, omdat besigheid nou eenmaal besigheid se vyand is. - En hulle wou maar liewerste vlug, of ingee. Baie het weggetrek van die moderne handelswêreld, wat sekuur stadig agterna kom en vinnig vorentoe vlieë, as die pad voor oop en veilig gemaak is. En daar begin dieselfde storie opnuut. Maar meer nog het ingegee. Die golf van beskawing, wat die seewater op ons nugter ou land uitgestoot het, was te geweldig. - Hulle het gespartel, tot hulle naderhand 'n staanplekkie gekry het; of hulle het willoos afgedryf soos opdrifsels sonder koers, onverskillig vir waar die vloed hulle uit sou stoot. - En die gedeelte is ontaard in ons arme blankedom, wat vir ons Ampies voortbring. Ou-Flip, en daar loop honderde Ampies, wat die adel van die voortrekkers se bloed nog in hulle
| |
| |
are het ... Ja ou-Flip, die wêreld is vir ons te vinnig jong!’
Die wind sleep so tragies om die woning, duidelik vir almal, nou Booysen stil bly, en dis of die treurige geluid droefgeestige stemminge in die agterhuis instoot. - Flip Staander het vol eerbied gesit en luister en hy begin swaarmoedig oor die bedrog in besigheid en die hardvogtigheid. - Gaandeweg word hy opgewondener, omdat hyself hom as 'n dupe voel.
‘Ja neef Kasper, ek kan ten volle met jou instem. Ek weet mos self hoe goddeloos die besigheid vir my toegetrap het. - Piet Herbs het soos 'n buurman my gepaai met mooi woordjies. - Hy was dan sus en so in verleentheid ... die bybel leer ons, dat die een die ander moet help, en hy kon dan kastig homself nie help nie, en ek was te goedertrou neef Kasper, en ek plak my naam op daardie vervloekte dokument ... Had my hande tog maar liewerste voor die tyd afgeval! ... Toe was die strop om my nek en ek het daar vandaan gewurg! Ek wurg vandag nog!’
Flip het homself vergeet. Sy gevoel het los gekom en hy vervolg vol bitterheid:
‘Ja ek wurg vandag nog! Ek sit op ander mense se gronde, waar ek my eie gehad het. Vandag moet ek vir ander mense hulp vra as ek my mense wil kerktoe ry. Vandag moet ek self geld perbeer leen, waar ek dit nie nodig gehad het nie.’
Mevr. Booysen breek hier Flip se uitbarsting af.
‘Neef Flip, die wêreld is nou eenmaal so! Maar hoe sal ons die ding dan verhelp? Dis verniet vir ons om oor die toestande te redeneer. Die mense moet opgevoed word en die kerk doen reeds baie in daardie rigting; en almal moet geleer word.’
‘Ja nig Grieta,’ val Staander in, ‘ek sê ook so, die kerk se plig is om na die arm mense om te kyk.’
| |
| |
‘Julle dink glo dat die kerk almagtig is. As sy een tiende van ons arm blanke kan red, sê ek sy het 'n wonder verrig,’ val Booysen vinnig in. - ‘En as die skole al die arme-blanke geleerd maak, wie sal vir al die arme-blankes werk gee? Daar is g'n werk vir almal nie. En as daar geen werk is nie, dan verwerk die harsings planne, om sonder arbeid, deur spekulasie, kwansel, drankverkoop en ontug, tog in die beskaafde lewe mee te tel; want die kastige geleerdheid kan fyner leeglê planne uitdink as die ongeleerde Nortjeesoort wat die maatskappy uitgeskakel het.
'n Land moet aan sy mense arbeid verskaf. Dis die eerste vereiste, en geleerdheid, of soos hul sê, opvoeding, die twede. Die eerste sal liggaam en gees in balans hou, die twede, onder die hedendaagse toestande, skep gevaarlike verhoudinge in ons mensdom. - In ons armeblankedom leef darem nog 'n sieleadel; mensliewendheid en mededeelsaamheid van die geringe wat elkeen besit. Die wil om te werk is net verslap deur werkeloosheid en ellende, en die liggaamskrag is daar, al sluimer hy in gedwonge rus. - Dis 'n bate, wat deur gesonde staatkunde, van groot betekenis kan word.’
Op dowwer toon, asof half moedeloos vervolg hy:
‘Nou moet dit glo so wees, dat besigheid-is-besigheid die wêreld regeer. Hoe kan daar simpatie wees met ons arme-blankedom? Daar is geen siel in besigheid nie. - Daarom het ons vandag die druk van 'n tabakbelasting ou-Flip. - Die arme-blankes sal nou vinnig meer word. - En die fataalste is, dat waar hy een kant arme-blankes fabriseer, ons regering aan die ander kant perbeer, om ons oë te verblind met kommissies, onderstand werkies en ander poginkies om ons arme-blankekwessie op te los.’
‘Hulle wil ons uitroei neef Kasper. Uitroei!’
| |
| |
Lewendig verstoor Mevr. Booysen die somber gesprek.
‘Kyk, daar kom Ampie oor die werf! Dààr lê 'n plig van ons, Kasper!’
‘Jy is reg ou vrou!’
Buite drentel die weggegooide witmens op en neer, met 'n rooi-blou kafferkombers oor sy arm en 'n lantern in die een hand.
‘Jy sal hom maar eers onder hande moet neem vrou, voordat Ampie presentabel is.’
‘Seep het ons genog,’ sê sy blymoedig, half spottend. ‘En 'n ou hemp, 'n ou pak klere van jou, sal hom darem regruk. Sy volstruis-tone kan ons ook perbeer in fatsoen druk, met een van jou uitgetrapte nommer neges; maar vir sy kop gee ek vèrplie in. Maar hier is oom Flip mos! Oom Flip, jy ken mos van alles, en haresny ok. Jy sal eer hê van jou kuns met daardie boskasie. Dis sonde, maar 'n mens kan darem nie help nie, om so ligsinnig te gesels oor daardie spektakel nie. - Ons was flus darem te ernstig ... of hoe sê jy oom Flip?’
Ja nee, nig Grieta! Ek meen ek sal darem perbeer om Ampie se kop in fatsoen te bring.’
‘Dan begin ons maar bo. Kom oom Flip! Kasper, jy sal vanaand vir Ampie seif vra, waar Ampie is,’ voeg sy haar man lustig toe, met 'n knipoog vir Staander, wyl hulle aanstap. ‘Oom Flip en ek sal sowaar nie met Ampie speel nie ...’
En Staander voel eintlik verlig, omdat hy nou onmoontlik vir neef Kasper kan vra om borg vir hom te staan.
|
|