| |
| |
| |
Hoofstuk VII.
Ampie en Annekie.
Ampie speel nog altoos deurmekaar akkoorde, wyl sy maat 'n maklike pasgangetje hou.
In die eenkamerwoning op Vlakplaas, skuil ook die gehele huisgesin van oom Tys, vir die onplesierige wind, behalwe hulle musikaalste loot, Bart wat nog buite iets moet verrig.
Toe hy vir Ampie geware, staan hy stil en sak weg in 'n groot lap dekgras, langs die pad. Vandag sal hy vir Ampie lekker laat val. Hy sal uitspring, nes 'n ongedierte met 'n yslike gebrul, as hulle naby is. - Iets boei hom egter. In die windsang bo sy kop meng 'n warboel van akkoorde hulle tot een swerwende geluid, en hy, die musikant van die Tysfamielie, kan daar onmoontlik bly wegkoes. So skelmpies loer hy bo die grassaadtoppe uit, en bemerk dat Ampie deur sy mondfluitjie blaas. - Ampie het mos nooit 'n flenter om musiek gegee nie en nooit 'n trompie selfs bespeel nie. Daardie mondfluitjie het g'n onaardige geluid nie. Hy wens dis syne ...
Ou-Jakob het al iets vreemds daar voor geware, en toe hy stadiger stap merk Ampie oor die regop ore van sy maat nog intyds hoe Bart daar wegsak.
Ou-Jakob wei-wei stadig van hulle af weg, toe Ampie met sy neef daar plat sit in die digte dekgras, waar geen wind sy bestaan laat merk nie. - Bart het geluister hoe Ampie laas vir Annekie gevra het, en skrander van begrip, lei hy vir Ampie koud.
| |
| |
‘Jong jy 't mos àl te haastig weer vir ons kom kuier.’
‘Die dorp geval my nie, neef Bart! Dis daar te toe, 'n mens kan jou nie roer nie!’
‘Wat sukkel jy dan so met die mondfluitjie? Of raak hy vir jou baas? Gee laat ek sien jong!’
‘Ek het hom op die dorp gekoop neef Bart en betaal vyf sielings vir hom.’
‘Hier by die koelie kan ek net dieselfde vir twee sielings koop,’ sê Bart, wyl hy die instrument 'n paar keer deur sy lippe heen en weer laat skuiwe. ‘Hy is vals Ampie; dis somar 'n ordinêre mondfluitjie hierdie!’
‘Wat wou! Jy is vals! Gee hier my goed!’
Ampie gryp maar Bart ruk agteruit.
‘Wag jong, laat ek speel, altemits was dit somar!’
Teësinnig sit Ampie en luister. Hy voel nie op sy plek nie en gee g'n flenter om die speel of probeer-speel van Bart nie. Sy wens is dat hy vir Annekie hiernatoe moet bring in die digte dekgras.
Maar as Bart 'n klankie hoor dan is hy onregeerbaar.
‘Neef Bart, gee hier die fluitjie, ek wil met jou gesels.’
‘Jong kom ek ruil jou eers! Vat hierdie trompie. Hy is goed, sterk en geskik. Wat jy wil speel sal hy vir jou gedienstig weergee, enige ding. Luister Ampie!’
Bart hou die ding vir sy oop mond, wat oop en toe beweeg, 'n verskeidenheid van klanklose suggeluidjies oor die veer uitstoot. En effens dreun 'n klank van neef Bart se duim se gestrum oor die omgekrulde hak.
Dis waar wat Bart gesê het. 'n Mens kan maklik enige ding op die trompie speel, en as jou mond nie moeg word om oop en toe te koggel nie, en jou voorraad van sugte voldoende bly, dan het die trompie nie 'n end nie, want al die ander elemente is van staal. - Bart laat 'n sugwysie deur sy lippe hoor - 'n Seties, so sê hy, en hy gee sy bolyf mee op die maat. Sy manewales, meer as die geluid, beheers vir Ampie. Bart beïnvloed hom deur
| |
| |
die kombinasie van sugklanke, gesigtetrek en bolyfgedoente.
‘Gee hier laat ek 'n slag perbeer!’ En Ampie kry die beginsel reg. Die klanklose geluid swaai op die maat van sy asem soos hy dit uitstoot, volgens die lied, wat hy wil voorgee om te speel. Maar sy bolyf roer te geweldig vir die droewige wysie:
‘Hoe moet ik my beklagen?
Helaas, ik ben een bruid!’
Dit sug so grapperig deur die trompie, en Bart lag vir die ongeleerdheid.
‘Jong jy moet mos jou bolyf stil hou as jy iets stemmigs speel. 'n Seties of 'n polka, ja, dan kan jy jou bolyf roer. - Maar netnou sal jy hom verstaan. En hy hou vir altyd, want hy is van yster. Jy kan die trompie in die water laat val, en in die son laat bleek vir dae, hy sal niks oorkom nie; maar as die mondfluitjie in die water val, of in die son bleek, is hy vals en jy kan hom maar in die vuur smyt. Die vuur sal vir 'n trompie ook niks maak nie.’
En Bart het vir sy neef heeltemal oorgehaal tot die ongelyke transaksie; maar in die gouïgheid het Ampie 'n plan uitgedink.
‘Ek sal jou ruil ja, maar jy moet vir my iets doen boonop.’
‘Laat ek hoor!’
‘Bring vir Annekie hiernatoe.’ Ampie lag so breed en onweerstaanbaar, dat Bart se druk verswak.
‘Ek moet vir Annekie noodsaaklik allenig sien en daar in julle huis moet ek juis wag tot julle slaap en ons kan opsit.’
‘En sê nou sy is nie in die huis nie?’ veronderstel Bart vol berekening.
| |
| |
‘Dan soek jy haar en bring haar hiernatoe. Ek sal hier, wag tot twaalf uur.’
‘Ampie jy gee my baie moeite. Jy kan my gerus nog iets toegee. Ek sal moet politiek gebruik en allerhande planne om vir Annekie te paai,’ betoog Bart.
‘Ek gee jou hierdie knipmes boonop, as jy haar bring. Ek het vir hom drie sielings moet betaal.’ Bart beskou die mes en stryk sy duim oor die skerpte, terwyl hy indagsaam sê: ‘Hul kos hier by die koelie maar net een sieling.’
‘Nou ja, jong, maar op 'n dorp moet 'n mens ook almelewe dubbel betaal. Toe jong, loop nou! Anders word dit laat!’
‘En sê nou sy wil nie?’
‘Sê jy net vir haar dat Ampie die persent vir haar gebrink het, en dat hy baie haastig is, en dat sy moet kom.’
‘Gee die mes, ek sal vir Annekie bring.’
In die graspriëel, plat op die grond, sit Ampie hom en vermaak met die trompie. - Hy probeer al die liedjies, wat hy ken en die wysies, wat somar in sy kop kom; maar die dowwe geklank boei hom nie, dit gaan vir hom soos die gehamer op 'n skoensool, wat hy bo 'n ysterlees vasslaan. Hy voel effens ongeduldig op Bart, omdat die neef van hom die beste van die transaksie gekry het, en boonop nog sy knipmes. - Daardie bog, met sy gelol oor water en vuur, en die onbreekbaarheid van die trompie ... hy is 'n jood so uit die kas. - Driftig verdwyn die sterk instrument in sy geheimsinnige baadjie voeringsak. - Hy sal vir Bart ook eendag onderdeurspring. Wag maar! Sy kans kom nog! Hy was flus maar net verleë, en as Bart vir Annekie bring ... wat gee hy dan om vir 'n mondfluitjie, of 'n knipmes, of 'n trompie? ... As hulle tog maar gou sal kom. - Stadig sak hy agteroor in sy arms onder sy kop, en lê lankuit op sy rug.
| |
| |
Die mag van die veld is versamel hier in die noute, omring deur 'n digheid van sagroerende pylers van goud opmekaar. 'n Kind van die veld wag daar op sy liefste met 'n hart, waar 'n heerlike verlangste in groei. Verlangend staar sy dromerige oë op na die sagte blou van die hemel, na die speelse rumoer in die grassaad se toppe, wat, verdof tot gefluister, sy ore bekruip. Hy voel hom so salig alleen, afgesluit van die mense, deur die natuur se volmaakste beskutting, as in die heiligheid van 'n tempel.
Die wind ruk en pluk die dekgras se toppe in speelse gewarrel van ontelbare pluimpies, en wiegel gedurig die ruigte in golwe van goud. - Waar hy lê sal 'n kersvlam nie bewe nie, so hou die rank, regop grasse eendragtig die fynste luggie buite.
Maar eindlik, toe 'n vlaag sy droombevange brein verwaai, spring hy driftig op. Sy digte haarbos fladder met die grastoppe saam, waardeur hy die omtrek opneem, dog niemand gewaar nie ... Toe spekuleer hy oor hulle koms. - Sy is seker nie in die huis nie. Dalk sukkel Bart om haar alleen te sien; altemit moet hy politiek gebruik ... sy is partykeer maar 'n harde kop. Dit sal hom niks verwonder nie of sy is so steeks soos 'n perd. En dan sal hy nog lank moet wag ... Bart sal haar darem bring. - En as sy nou glad nie wil kom nie? Verdrietig val Ampie weer plat, ontmoedig, toe die gedagte posvat ... Hulle kon maklik al hier gewees het. - Sy het hom tog die jawoord gegee ... en sy wil amper mal word oor 'n ring. - Die sal haar bring ... sy sal wel netnou kom. - Versigtig sit hy die ring op sy skurwe hand en beskou hom baie ingenome. Ja, hy blink eintlik soos 'n spieël en die steentjies korrel opmekaar soos jong gernaatpitjies, nes sy begeer het. - Hy sien haar al spog en so ewe ongeërg met die vinger wys, so oulik na enige ding wat sy daar kastig sien, en
| |
| |
haar gesig so ernstig, of sy haar hele lewe dwarsdeur 'n ring gedra het ... Nee, daardie meisiekind met haar lang donker hare, wat lyk soos 'n perdestert, so mooi! ... Aits vir die vaste lyfie wat so swaai-swaai wegstap! So wragtig, sy moet nou kom!
Haastig spring hy orent. Sy asem is gejaag, of hy 'n lang distansie gehardloop het. Sy oë, vol vreemde gloed, vlam oor die dekgras, toe nêrens 'n menslike wese sigbaar is nie. Die drif jaag onbesonne deur sy liggaam, en sy mal gebare beduie hoe hy sal maak en wat hy sal uitrig.
‘Ek sal haar bring! ... O, ek storm haar, tot voor haar ma en ek pluk haar hare uit haar kop ... En daardie Bart! as hy my kul, ek sweer as ek hom in die hande kry, ek sal hom in 'n erdvarkgat begrawe ... As hy my kul!’ herhaal hy wreed, opgesweep deur die gedagte, tot amper raserny. - Woes spring hy die dekgras uit en vermald die ruigte deur, wat hy vertrap om by ou-Jakob te kom, wat rustig wei en skielik opkyk na sy maat.
‘Wat staan jy dan ook so oorbluf?’
Ampie gee die stomme dier 'n harde skop, dat die esel eenkant toe staan, met iets wonderlik vragends in sy oë, asof hy vir Ampie vra:
‘Hoekom dan so verkeerd?’
En daadlik voel hy jammerte en baie van sy drif bedaar, toe hy vertel:
‘Ou-Jakob, hulle wil vir ons kul! Kom ons laat spat na hulle huis. - Ons gaan vir hulle daaruit haal en jy sal vir hulle trap, dat daar net 'n nat kol van hulle oorbly!’
Met lang galopspringe, sny hul' deur die dekgras na die pad. - Toe sien hy die twee van die huis af kom en ou-Jakob is alweer alleen die dekgras in. Ampie se oë is vol krag, ja hy gewaar daadlik hoe haar rokke
| |
| |
fladder in die wind en hoe die wind wakker met haar hare speel, en hoe haar kappie se valle dans al op haar hare, en wyl sy hart dans van geluk, stap hy haar tegemoet. - Hy hoor hoe sy met Bart gesels, oor hulle so ontydig is om haar op die vlakte in so'n orkaan te bring; sy, 'n meisiemens, van goeie edukasie en dit nogal vir Ampie, die verspotte bog! Wat sal hy van hom dink? ...
‘Ek is vir jou kwaad Ampie, en as ek geweet het, dat dit so ver was, Bart sou my nie geroer het nie!’
Ampie groet haar wyl hy verleë lag en hulle soen mekaar baie deftig soos twee ou-mense, wat gebuk gaan onder 'n bekommerde lewe. Ampie grinnik net. Hy het geen woorde beskikbaar nie en vertoon as 'n seuntjie, wat vir sy kwaai tannie in vol geselskap moet kom groet.
‘Bart sê dis net hier-hier!’ sê Annekie met voorgewende verontwaardiging. ‘Dis somar origheid van julle!’ Haar gesig wen baie daardeur. Tog gaan sy saam met hulle in die hoë dekgras, waar 'n klein ruimte as 'n stil plekkie hulle nooi om neer te sit.
‘En vir wat is jy dan so danig, om nie na ons huis toe te kom nie hê?’ En toe sy in Ampie se oë 'n oplewende gloed bemerk, draai sy skamerig haar kop na Bart toe. ‘Bart en vir wat moes ek nou hier gekom het?’
Ampie is weer normaal.
‘Ek moes jou noodsaaklik sien, want vanmiddag moet ek in my werk staan!’ vertel hy haar grootmeneeragtig. ‘Ja ek het sowaar geen tyd nie Annekie!’
Verwonder kyk sy toe vir hom en vra:
‘Die slagpale is mos nie hier nie; sal jy dit dan nog maak?’ Hy skuif nou tot vas teen Annekie en vat haar hand.
‘Nee Annekie die slagpale kan na die hoenders gaan vir my part. 'n Mens is daar jou lewe nie seker nie, dit wil net moor en doodmaak, en dit lyk vir my of hulle 'n
| |
| |
mens ook naderhand somar lewendig sal afslag. - Ek moes net vlug, want 'n kaffer wou my met geweld doodsteek. Sy oë het gelyk of hy my op die plek wou vermoor! sowaar!’
‘Haai! en wat se werk is dit dan?’
‘Kasper Booysen het vir my gehuur.’
‘Nou ja, dis mos somar hier-hier; vernaam op ou-Jakob. Maar vir wat moes ek dan hiernatoe gekom het?’ vra Annekie ongeduldig, en sy ruk haar hand los. Wie is Ampie dan so danig? Sy sal mos nie agter hom aanloop nie! Sy 't sowaar lus om huis toe te stap ... Waar is dan die kastige ring?
Ampie het nou die meeste swarigheid, hoe om Bart uit die pad uit te kry. Die kalant sit of hy daar vasgeplant is soos 'n neet, aan hulle twee.
‘Bart jy sal mos nie omgee om vir ou-Jakob te laat suip nie? Jy kan hom maar na die spruit toe ry; maar jy moet net versigtig wees hy 't 'n skaafplek aan die hotkantse blad. Oom Kasper-hulle se tuig was te knap vir hom,’ sê Ampie so vaderlik en goedwillend moontlik. Maar Bart het glad g'n lus nie. Hy kry nou lekker. Bart ontwikkel 'n besigheidsplan in sy geslepe, stil kop.
‘Ek is gewend om donkies te ry, jy kan vir ou-Jakob mos netnou ook laat suip wanneer jy ry.’
Ampie voel nie bereid om rusie te maak nie. Hy besef dat Annekie dan sal weghardloop, as hy en Bart aanmekaar spring. - Nou sal hy ook, soos Bart sê, politiek gebruik.
‘Kyk jong, ek het vir jou 'n mooi knipmes persent gegee, doen jy my nou ook 'n diensie, en laat ek met Annekie alleen gesels, asseblief jong! toe!’
‘Jy kan maar naby bly,’ sê Annekie.
Amper voel Bart lus om in te gee, maar hy het baie sinnigheid in daardie belt van Ampie, en dit wil hom voorkom, of die ding sal stryk.
| |
| |
‘Die mes het ek mos fêrplie verdien, nie waar nie? Ek moes net baie sukkel om vir Annekie hier te kry.’
‘As ek alles geweet het, sou ek nooit gekom het nie,’ sê Annekie ontevrede.
‘Ek sal vir jou anderdag 'n persent saambring, toe loop nou jong!’
‘Gee vir my die belt en ek sal trap.’ En Bart se oë blink van lus, toe Ampie hom die belt toesmyt.
‘Dê! Vat en trap!’ ...
En nou is hulle twee alleen daar in die digte dekgras. 'n Ruk van spanning volg. Annekie skuif koel en ingetoë, van Ampie af weg, en hy het weer geen woorde nie.
‘Jy moet nou gou vir my die ring gee Ampie, want ek moet huistoe,’ sê sy koel en saaklik.
‘Ag Annekie, en virwat is jy dan nou so haastig?’
‘Dis jy wat haastig was. Hè-jy dan flus nie gesê, dat jy vanmiddag in die werk moet staan nie?’
‘My liefste Annekie, as ek vir ou-Jakob aanja soos vanmôre, is ek binne 'n half uur op Booysen se plaas, en - die verloofsring het ek hierso.’
Nou kom hy weer vas teen Annekie sit en wys vir haar die ring. ‘Kyk hoe mooi krop die steentjies Annekie, opmekaar soos jong gernaatpitjies. Hy vang jou oë soos hy blink. En van nou af sal jy gedurig dink dat ons twee verloof is, nie waar nie?’
En gretig gryp sy toe die ring. Hulle soen mekaar. Tenminste Ampie soen haar heftig; waar sy net dink oor hoe die ring aan haar vinger sal lyk. - Sy pas hom en hy gly los in.’
‘Ag dis te wyd - hoe jammer!’
‘Ou-Moosa is 'n vuilgoed van 'n koelie. Ek het die maat so suiwer geneem, en hy 't gesê, dat al die ringe eenders is - aimal nommer pas - dit was sy woorde. Perbeer jou middelvinger Annekie, hy is 'n ietsie dikker as die ander.’
| |
| |
Daar pas hy beter en die dogter voel somar soos 'n bruid; hoogmoedig bly haar oë op haar vinger en Ampie beskou haar vol geluk. Toe vra sy skielik.
‘Hè-jy vir my ook lekkergoed saamgebring?’
‘Nee!’ sê Ampie vererg.
‘Jy lieg Ampie, jy het!’ seur sy plagend.
‘Kom serts my as jy my nie wil glo nie!’
‘Ag sies jong, en ek het so'n lus vir lekkergoed.’
‘My liefste Annekie, virwat lol jy oor lekkergoed, ons moet mos nou ons sake deëlik goed bespreek, dan nie?’
‘Ek weet nie! En virwat dan?’
‘Ons is verloof en 'n groot besigheid wag mos vir ons daarvoor. Kyk, as ek by oom Kasper klaar het, is ek mondig en heeltemal my eie baas, en ek sal nie dat pahulle meer met my bodder nie. - Dan moet ons trou Annekie; want ek sal 'n sorg moet hê, of hoe sê jy?’
‘Ek weet nie Ampie!’ is al wat sy kan uitbring. Dis alles vir haar so stemmig en so onbegeerlik. Hulle kan maar liewerste nog aanhou vry-vry-speel vir so'n jaar of twee. Wat wil die arme bog so haastig met 'n vrou maak? Hy kan bekwaald vir homself sorg. - Besluiteloos sê sy met oulike erns:
‘Ek het mos ander dag vir jou al gesê dat jy te haastig is. Ek sal my ma-hulle nie somar gou laat staan nie. Nee jongie, ek is vir my ma-hulle te lief.’
‘Ons sal mos naby bly Annekie, en julle kan amper dag vir dag, oor en weer, vir mekaar gaan kuier.’
‘Nou ja, dit kan wel wees, maar nog 'n groot saak, jy is mos nog nie aangeneem nie?’
‘Ek sal by oom Kasper leer dat dit so klap. Hy is 'n gawe witman en sal my aanneemleste oorhoor, as ek nie na julle toe kan oorkom nie ...’
‘Nou ja, maar dan is jy mos nog nie aangeneem nie,’ hou Annekie staande.
| |
| |
‘Nou ja?’ sê Ampie vraend: - sy kop totaal onmagtig, om 'n antwoord uit te dink.
‘Jy sien Ampie, ek wil maar sê ... trou is nie somarso nie ... dis gewigtig!’
‘Nou ja! Wie stry dan?’ Ampie voel ergerlik omdat sy woorde wegbly hoewel sy gedagtes vol is in sy kop.
Maar Annekie haar meesterskap voelend, begin self te oorweeg en die kwessie te beredeneer. Indagsaam sê sy toe:
‘En waar sal ons dan bly?’
En toe het spontaan 'n groot plan Ampie se kop vervul. Sy wese straal van hoogmoed en wyl hy vir Annekie vas teen hom aandruk, en ook haar kop so teen sy skouer voel, vertel hy asof hy 'n droom vir haar meedeel - hulle heerlike toekoms.
‘Oom Kasper sal vir ons 'n lappie grond gee om 'n deel.’ Sy stem, so ongewoon teer streel vir Annekie. ‘Oom Kasper sal vir ons die grondjie ploeë en so'n stukkie tuingrond spit ek en jy saam om. Daar saai ons wortels en ons plant artappels en pompoene. Jy kan vir jou ook blomme plant soveel as jou hart begeer.’ - Sy kan vir haar so'n paar hoendertjies aanskaf en ook 'n goeie varksog; van die lang swartes, met slap ore; - die kortsnoetvarke kry al te lig pitjies. - En sy kan haar hoendereiers ruil vir ons vir koffie en suiker en kerse ...
Dis vrede in die hoë dekgras daar. Volkome veiligheid en vrede suis die grassaadtoppe op hulle af, en liefde streel die rustige tempeltjie as met soet gefluister van bo af.
Sy stem, sleep langsaam, vol gevoel, met al die heerlikhede weg, en sy val hom liefies in die rede met 'n fluisterstem:
‘Haai jongie! En wat omtrent ons huis?’
‘Oom Kasper sal vir ons 'n huisie opsit by die
| |
| |
grondjie, en baie van ons huisraad kan ek somar tussen my werk in vir ons maak. Ek sal laat oom Kasper vir ons 'n paar stoele en 'n katel op die vendusies koop. Hy sal dit vir ons doen, want hy is wonderlik gek na my. Hy sal ons saad ook gee, dat ons genog brood kan wen vir ons gebruik. En as ons dan genog patats in die aarde het, en so'n akker mielies, dan sal ons baie lekker lewe.’
Sy stel haar eise verder met 'n vleistem, waar hy verruk na luister. Sy bloed begin te bruis en hartstog groei daarbinne, nou sy ook opgaan in die heerlikheid. ‘Ampie, maar ek wil 'n mooi huis hê, en jy moet vir ons 'n mooi klerekas ook koop, met 'n groot spieël, en 'n stoof, want ek wil nie sukkel met 'n vuurkan of 'n essie nie. Ons moet propper boer!’
Gelukkige eiewaan beheers vir Ampie nou. Dis vir hom of hy alles self sal kan volbring en Booysen is uitgeskakel.
‘Ek bou vir ons 'n huis met twee vertrekke en 'n kombuisie. Bekommer jou tog nie daaroor nie hartlam! Ek sal jou nooit laat sukkel nie. Ek koop vir ons 'n stoof en sal wel 'n klerekas met 'n spieël raakloop, een van die dae. Al my goed sal ek bêre, net daar voor. Ek sal vir jou mos alles doen, my liefste Annekie!’
Sy, leunend teen hom vas, luister in 'n roes van soet verlange, na die skone lewe, wat vir haar en Ampie wag. - Hy voel hoe vas haar vaste lyfie teen hom druk, haar kop sp teen sy skouer dommel, en hy sien die rooi lippe van haar liewe mond, en sy hartstog breek die bande van sy ongeskoolde wil. - Toe hy haar wild gesoen het op haar mond en voorkop, sê hy heftig:
‘Ek voel of ek somar nou, op die plek vir jou kan vat, vir altyd met my saam!’
Toe skok 'n skrikkie haar gedagtes weg. Sy omvat hulle verhouding en sien weer alles om hulle heen on- | |
| |
rustig, half met angs. Die grassade suis bo hulle, en stil, afgesluit van die wêreld, deur 'n ringmuur van digte dekgras sit hulle twee alleen, sy innig alleen met Ampie. - En instinkmatig word sy kalm en ingetoë. Sy ruk haar self van hom af weg en lag, half bangerig vir sy wondervreemde oë en sê: ‘Ek moet nou loop, Ampie. Jy is verspot met daardie praatjies!’
‘Ek kan vir jou nie nou laat los nie, Annekie. Bly nog 'n ruk. - Toe asseblief tog, toe! Kom ons twee trap die wêreld uit na die bosveld toe, waar g'n mens vir ons kan hinder nie!’
Hy hakkel die malgedagtes uit; maar sy lag hard en roep vir Bart, terwyl sy opspring, en deur die dekgrastoppe vir haar broer gewaar.
‘Nee jongie, jy praat nou te bont. Oom Kasper sal jou in die pad steek, as jy langer bly.’
‘Ek gee g'n flenter om nie! Annekie bly nog 'n ruk, toe!’ ...
Hy voel dat sy beheer oor Annekie verdwyn het, en vol hartseer hoe die soetste stonde op 'n end is. - Sy staan so waardig, hoewel sy vrindlik bly en sê:
‘Kom groet my Ampie, hier kom Bart!’
Hy soen haar innig met 'n hart vol heimwee, na die gelukkigste oomblikke van sy lewe.
|
|