| |
| |
| |
Hoofstuk VI.
Ampie en sy Maat.
Augustus meen dit vandag regtig. Die wind speel met die laaste deeltjie stof. Die lug is deinserig en die transportstreep net een stofstreep. Die wind draai so lastig om Kasper Booysen se huis, dat die vrou al heeldag uit haar humeur is. Almal vergeet om die deur agter hulle toe te trek, alles bly ewe vuil; skoonmaak help nie, elkeen loop waar hy nie moet loop nie, en die huis is so trekkerig, net mooi instaat om die sterkste mens 'n kwaai influensa te besorg. - Die meid werk brom-brom van al die skroberings van haar nooi, die kinders baklei meer as ander dae, en Booysen het nukkerig die huis uitgestap na sy boerdery, waar die populierbos so'n laspos van 'n wind ordentlik teëstaan.
Die eentonigheid werk op 'n mens se senuwees. Laat die beste orrellied van sonòp tot sonònder aanhou, en vroeg-vroeg sal 'n mens met plesier vyf sielings aanpresenteer, om tog asseblief maar die end van daardie gedreun te kry. En wie kan die klaagtoon, altoos dieselfde treurgeluid van die wind om die huis, kalm heeldag aanhoor? Die huisvrou moet, en soos sy sal ieder gewoon mens uit sy humeur raak.
Maar daardie armoedige jongkêreltjie, wat so vinnig kaalvoet oor Kasper Booysen se plaas aanstap, so maklik en lig deur die graspolle, is vandag baie bly. Ampie voel die ongerief nie. Hy het daaronder in die
| |
| |
kamp sy ou-maat geware, en soontoe dryf sy sterk verlangste hom, en die wind is vir hom soos 'n marsmusiek, waardeur hy heerlik loop.
'n Paar dae lank was hy onbeslis. - Hoe sal hy weer vir ou-Jakob kan terugkoop? ... Maar sy groot verlangste het sy harsings weer verruim, sodat die planne daarin getrek het, bont en los. As hy net die eerste bottel brandewyn kan in die hande kry. - Daarvandaan sal dit stryk. In die spruit kan hy dit wegsteek, of in 'n erdvarkgat. As die kaffers hom net nie sal verraai nie ... Hy is maar wild vir die poliese. Die beste plan sal wees, om maar vereers weer droë miskoeke bymekaar te soek en smid toe te bring in streepsakke. Dis baie ver om hulle soontoe te dra. Hoe lekker het ou-Jakob altyd vir hom daarmee gehelp ... Dis sikspens 'n sakvol. Twintig sakke - en tien sielings is syne. Dit sal hom vyf dae vat, bygesê as die miskoeke nie te ver uitmekaar uit lê nie. - Daarmee kan hy sy eerste bottel brandewyn betaal. Hy sal dit in die dorp moet gaan koop ... ‘Nee wragtie nie!’ In daardie vuil plek sal hy g'n voet weer sit nie! Die poliese sal hom somar weer goedsmoeds vang, vernaam as hulle 'n bottel brandewyn by hom geware ... en die sal hulle vat, en dan het hy weer niks nie ...
Grillerig het hy telkens die gedagtes opsy gedruk; maar telkens weer het soort-gelyke in sy lewendige brein gedring. Tot hy op die Augustus môre, deur sy groot verlangste alleen, weggevoer word na ou-Jakob toe - sonder 'n plan.
Dis of die skeiding maande was, so klop sy hart van vreugde, toe die donkie ophou met wei en sy groot lomp kop hoog oplig en die diep donker oë merk dat Ampie naderkom ... Daardie vaal ou-donkie het hom altoos verstaan, en leidsaam geluister na sy malste koersvat, tydig of nie ...
| |
| |
Ampie streel die groot kop, troetel dit in sy arms en liefkoos dit teen sy wang aan en hy verval in 'n soete mymery, waarin sy siel hom ontboesem in saggiese gesels, wyl sy hart teer en ontvanklik word en hy groot van gedagte.
‘Ek wil vir jou terughê, kom wat wil! Die aarde is leeg as jy uit my lewe uit is. - Ek was nou hot en haar op die wêreld, in die kort rukkie dat ons twee uit mekaar uit is, en orals is dit net maar moeilikheid en oppas om in jou spore te trap; en ek weet sowaar nie in watter spore ek moet trap nie. - Die een ruk is die mense vrindlik en netnou spot hulle vir my, of gee my 'n loesing. - Net jy ou-Jakob is vir my altoos deur, die een met die ander dag, dieselfde. Of ek 'n sieling verdien het, of glad niks meer besit nie, ek kan op jou staat maak. - Ek wil vir jou hê my ou-maat!’
Hy voel 'n blye weemoed opklim in sy boesem en verhewe, of die wind vir hulle saam wil oplig van die aarde. - En terwyl hy nou vòòr ou-Jakob staan, en in die geduldige oë sien, waarin hy liefde en trou lees, wel plotseling die begeerte op in sy hart, om van nou af pal by ou-Jakob te bly; om reguit na oom Kasper Booysen toe te stap en vir oom Kasper te sê: ‘Oom Kasper, jy het vir ou-Jakob gevat, jy sal vir Ampie ook moet vat!’
En op die plek spoor die begeerte hom tot die daad. - Die donkie volg hom tot by die hek van die kamp.
Die los lappe om sy lyf, wat vir hom nog broek en baadjie is, fladder in die wind, en dit gaan soos 'n jong warrel waar Ampie stap. Wat gee hy om? Die beste pak klere sal hom vandag nie gelukkiger maak nie; hy mis dit nie, omdat hy nog altoos die toiings gewend is, wat ander mense baas geraak het. - Hy voel plesierig en sy kop is lewendig van al die fyn planne, wat hy on- | |
| |
der die loop anmekaar las. - Oom Kasper is mos baie ryk en hy sal buiten ou-Jakob nog geld verdien ook. As hy hom aan oom Kasper vasgemaak het, is sy pa laat. - Sal hy nie lekker lag as sy pa laat is nie? Hy moet al vas in oom Kasper se werk staan, as sy pa hom kom kry. - So stap hy opgeruimd na Booysen se woning. - Maar op die stoep is dit of iets hom àl op die bors druk; sy vrypostigheid raak skielik weg en 'n vreemde gevoel, so half bangerig raak hom baas. Hy kan nie besluit om aan die voordeur te klop nie en hy gaan versigtig terug onder die stoep. Niemand het hom gehoor nie en hy 't lus om huistoe te hardloop. - Dis baie hoë mense wat hier bly, en al die deure en vensters is so onvrindlik toe. Hy sal maar liewerste kombuis toe stap.
Saggies klop hy aan die agterdeur en ruk hom gou 'n paar tree terug, vas teen die muur. - Die meid maak brom-brom oop en daadlik weer toe as sy vir Ampie sien.
Dis die afleiding, wat weer die harmonie in Kasper Booysen se huis sal herstel. Daardie kind van die ellendigste huisgesin in die omtrek, sal vandag die eentonigheid van die wind se treurgeluid breek en laat vergeet.
Baie teësinnig kom Mevr. Booysen agterdeur toe, vas van gedagte om weer 'n gebedel van die Nortjees aan te hoor. Slegte mense! Veraglik in hulle lui en vuil lewe! Daar staan hy, so verwaarloos en onbeduidend as 'n slegte kaffer! Hoekom werk die mense nie? ... Sy is vol ergernis en vra bars en vinnig:
‘Ja, Ampie? En wat wil julle dan nou weer hê?’
Verleë haal Ampie sy groot sakkerige keps af en sê bedees:
‘Middag Tannie!’ onderwyl hy versigtig 'n tree naderstap. En daadlik voel sy 'n jammerte vir daardie openbaring van die droewigste armoede, wat haar bekend is; vernaam noudat Ampie haar vreesagtig, hulpbehoewend aankyk, met sy groot oorblufte oë. - Werklik
| |
| |
daardie kind het g'n onaardige gesig nie; sy donkerbruin, bang oë ... In haar gewone humeur groet sy hom nou en vra vrindlik wat hy wil hê.
‘Tannie ek wou baie graag vir Omie gesien het asseblief,’ sê hy saggies, asof sy stem haar dalk sal affronteer. En so meelywekkend is sy kindergesig, vuil as dit is, dat sy vrindlik verder vra: ‘En waaroor wou jy vir oom Kasper gesien het Ampie?’
‘Ek wil my verhuur Tannie. - Ek wil my lyf in Omie se boerdery insteek.’ Almaardeur lag hy so half onnosel en wys die sterk, wit tanderye.
Mevr. Booysen het dit nie verwag nie. In 'n oogwenk sien haar gees die gesukkel, wat haar man steeds het met kafferhulp, en wanneer Ampie onder Flip Staander se toesig werk, is hy stellig enige dag so goed as 'n kaffer; en bemoedigend sê sy:
‘Dis 'n eersteklas plan Ampie! Spring uit om iets te verdien jong!
Ampie voel hom nou somar vrymoedig en 'n groot man. - Hy voel of hy maar liewerste met Tannie alles wil klaarpraat. - Vir oom Kasper is hy nog maar wild.
‘Tannie kan maar alles vir Omie vertel asseblief, as tannie nie omgee nie. As ek ses pond geld en vir ou-Jakob terug kry, dan sal ek heel jaar dwarsdeur my lyf in Omie se boerdery insteek. Ek sal enige werk doen Tannie.’
‘Wag Ampie, ek sal vir Omie gaan roep, dis beter. Versuim maar so'n rukkie hier in die kombuis.’
Sy het g'n vrymoedigheid om daardie vuil flenters in haar agterhuis te nooi nie. Maar Ampie voel hom tuister waar hy is, en sê:
‘Ek sal maar solank hier wag, Tannie.’
Die wind waai nog lastig en eentonig; maar die harmonie is tussen daardie twee herstel, toe Booysen en sy vrou aangestap kom.
| |
| |
‘Hoe lyk dit Ampie? Wil jy weer vir ou-Jakob uit my uitslaan?’
Ampie lag sy hele gesig blink oop. Hy voel bly toe hy verleë uitbring: ‘Ja, oom Kasper!’
‘Nou ja, Ampie, kom dan môre vroeg met jou pa saam, dan kan ons saam gesels daaroor.’
‘My pa, Omie?’ vra Ampie baie teleurgestel; want hy het sonder twyfel gedink, om somar daadlik by oom Kasper te kan bly.
‘Jy is mos nog nie jou eie baas nie Ampie! Hoe oud is jy?’
‘Ek word in Septembermaand twintig, Omie.’
‘Wanneer jy een-en-twintig is, dan word jy mondig, en dan kan jy jou eie baas wees, volgens die wet Ampie.’
Verdrietig begin hy die terugweg huistoe. Sy pa sal maar weer vir ou-Jakob vat en vendusie toe stuur soos laas. Wat gee sy pa om? En sal sy pa vir hom by oom Kasper laat werk? Dis nog 'n ronde jaar voordat hy mondig sal word. - Vinnig stap hy met sy skurwe voete, oor die koppiesveld, met die taaiheid van 'n Soeloe-soldaat, en die planne woel alweer in sy kop. - Sy pa sal nie aan ou-Jakob ruik nie! Oom Kasper sal sy esel vashou tot hy die dag mondig is, en dan sal hy mos net kan maak, wat hy wil! Hy sal vir ou-Jakob vat en inspan voor sy treppie, wat hy nog wil koop, en vir Annekie gaan haal met daardie karretjie en stadig langs sy pa stap-stap verbyry, neffens haar op die kar. - Sy hart swel groot en die lewe lyk so heerlik met Annekie hier langs hom.
Maar, toe hy in die verte sy tuiste sien, begin hy kalmer sy planne reg te sit. - Sy pa weet nog niks van hom en oom Kasper nie, en hy sal soetjies sy pa bydam. - Om 'n haas onder die wielband te vang, kamp 'n mens eers mooi 'n paadjie soontoe af met fyn doring- | |
| |
takkies. Hy sal maar doodstil bly, tot sy pa sal begin uitvra. Dan sal sy pa weer oor die vark begin - sy pa wil mos doodgaan oor 'n vark ...
Buite, langs die sonkant van die bouval, en uit die slag van die wind, speel sy kleinboet en sustertjie met kleiosse.
So ongeërg kom Ampie binne die murasie. Om die vuurkan sit die ouerpaar en hulle oudste dogter Fyta ... Hulle slurp swart semel-koffie, elk uit 'n groot stroopblik, wat die pa 'n oor aangesit het. Hy is nogal vernuftig op sy manier. - Gewoonlik is die kookplek in die gedeelte van hulle woning, wat dakloos is, maar gedurende winderige en reëndae, word die vuurkan in die huis gebring, soos hulle daardie skuiling noem. Die hoogste instinktiewe uiting van vandag is, om uit die slag van die wind te wees.
Ampie stamp sy simpel suster eenkant toe.
‘Gee pad van my plek af!’
‘Ma, kyk vir Ampie!’
‘Ampie jy bars!’ brom die ma, sonder om te roer.
Ampie sit so ewe houtpop langs sy pa, wat nou vrot tabakblare uit 'n kortsteel pyp rook, en skelm sy goor ogies eenkant toe gooi na sy seun, vol agterdog. Virwat is Ampie dan so danig inkruiperig?
‘Was jy vanmôre by die wippe?’
‘Ja, pa en toe loop ek Kasper Booysen op die lyf, en hy vra my toe somar om by hom te kom werk.’
‘Het hy vir jou gevra?’ verneem ou-Dawid baie ongelowig. ‘Ou-Booysen is seker baie verleë om hulp.’
‘Pa, hy 't my eintlik gesoebat; hy 't net lelik na my gevry; maar ek wou nie somar kop gee nie en ek sê toe vir hom, dat ek eers my pa sal moet vra. Want ek is mos nog nie mondig nie?’
Nortjé voel sy hart week word.
| |
| |
‘My kind, dis goed van jou; jy moet altoos na jou pa luister, dan sal jy nooit spyt kry nie.’
‘Ja, pa!’ sê Ampie soos 'n boetvaardige en vervolg: ‘En toe het Booysen gesê, dat ek pa môre vroeg sekerlik moet saambring, om die akkoord te maak.’
‘Ek dink ons sal darem die vark kan koop ou-seun, want Booysen kan daadlik betaal. Hy is mos ryk!’
‘Pa en wat kry ek dan, pa?’
‘Ampie luister! Ek het 'n mooi plan. Ek gee vir jou al wat oor die vyf pond gaan en dan koop jy vir jou daarvoor 'n kombers. Ek koop die vark en sal vir jou 'n karmenaadjie gee.’
En verder sit hulle swygend om die vuurkan ...
Daardie seun van hom slaan hom vandag totaal dronk ... Nortjé loer onderlangs vir Ampie, wat so sedig kyk as 'n koster met nagmaal. So handelbaar en gewillig was die kind nog nooit nie. Ampie het mak geword. Die melès, wat hy in die dorp gemaak het, het hom goed gedoen.
Ja, daardie wilde kind van die veld is op die oomblik mak. Hy weet wat voorlê. Van môre af is Kasper Booysen sy baas, en daarvandaan sal hy mondig wees; vry om te maak net wat hy wil, onder sy pa uit. - Nou kan sy pa nog ewe eiegeregtig 'n belt van hom afvat, dan sal sy pa verniet vir hom iets vra. Hy sal met Annekie hier langs die murasie verbykom, agter ou-Jakob aan en sy pa sal maar net mooi die spul moet sit en aankyk.
Dis of hy die toekoms daar soos goud en geluk, in die gloed van die vuurkan sien; - so lekker gly hy weg in droomland - en die wind waai so wonderlik gelukkig om die murasie, of hy vir Ampie wil saamneem vorentoe ...
Vroeg die volgende môre staan hulle twee voor Kasper Booysen se kombuisdeur, en altwee lyk of hulle
| |
| |
begrafnis toe kom, die klere toiings uitgesonder. Ampie voor, as hoofpersoon, skralerig en sku, sy pa agter hom, onverskillig vierkantig en breed gebou. Hy het hom vanmôre so effens met water skrik gemaak, en in vergelyking met sy seun, het hy klere aan; maar selfs vandag op sy beste, is die bynaam van Goor-Dawid nog baie paslik.
Booysen bekyk hulle krieties vir enkele sekonde, en nooi hulle toe binne. Hy voel medelyde met Ampie in sy komplete verwaarlosing, tog met 'n glans van vreugde in sy oë. En op die oomblik sou niks vir hom begeerliker wees, as om daardie kind vir altyd aan die geesvernielende sfeer van die Nortjees te onttrek nie. Swygend soek hy die skryfgereedskap bymekaar. Daar heers 'n plegtigheid in die vertrek, asof daar werklik begrafnis sal gehou word. - Nortjé sit ongemaklik, skrylings op sy stoel. Oor sy gesig glim 'n verleë lag; maar Ampie wil liewerste bly staan en kyk net voor hom op die grond. Die vader wil iets sê, maar kan geen woorde vind nie, en Ampie dink maar net hoe hy hier deur sal kom; dis so benoud hier binnekant en so vyandig.
Sy kop was rooidag agtermekaar om, wat volgens sy begrip van besitsreg aan hom behoort, te besorg. Die belt, wat sy pa van hom gevat het, 'n lantern, wat hy by sy vorige baas opgetel het, het hy in die skemer ver van die huis af iewers weggesteek. Later sal hy dit wel daar kry. Toe het hy 'n riem, waar hy 'n sweep van wil maak en 'n gebreide steenbokvel vir voorslae, styf opgerol en in die tamaai voeringsak van sy baadjie gebêre en ook sy vraeboek. - Hy sal by oom Kasper leer dat dit so klap ...!
Hulle twee het die slag langs mekaar gestap soos boesemvrinde. Hulle het mees geswyg, maar altwee was gelukkig, waar hulle begeertes haas vervul sou word.
Maar in die plegtigheid van Booysen se netjiese huis,
| |
| |
word die natuurlikheid verdring, soos altoos, wanneer vreemde mure of toestande hom omknel. - Hy skrik nou vir die nuwe lewe, wat voorlê. Gister was oom Kasper mos baie vrindliker; vandag lyk hy soos 'n suurpruim. Hy voel nou regtig bang vir oom Kasper. Amper net so bang as vir die konstabel, of sy pa, as die baie kwaad is. Tog voel hy, toe die onderhandeling vorder, 'n begeerte om onder oom Kasper te staan. Dis 'n ander soort bangheid hierdie, 'n ontsag, wat weldadig is.
‘Oom Kasper, en ek het nou Ampie vir jou gebring,’ begin nou Nortjé met 'n vreemde vrypostigheid, toe Booysen klaar is en hom sit en aankyk, of hy iets vra. - Maar hy voel so uit sy plek uit as hy selde was. Booysen kon maklik vir hom oom gesê het, as hy respektabel was; want Nortjé sou grys hare kon gewys het, indien sy krotlewe hulle nie omplak het, met rook en vuil nie.
‘Ek verstaan dat Ampie die hele jaar deur sal werk vir ses pond, as ek die bedrag nou uitbetaal - nie waar nie?’ vra Booysen korrek en duidlik, en Ampie het somar, toe daar roerentheid gekom het, helder bygestaan. Vinnig keer hy hier sy pa voor.
‘Omie moet vir my asseblief een pond daarvan gee, om vir my 'n kombers te kan koop - en ou-Jakob kan Omie vir my gee, as ek die dag mondig is; solank as ek hom net kan ry, wanneer ek hom nodig het.’
En Ampie kyk reguit in Omie se gesig, soos 'n generaal wat 'n oorwinning behaal het.
‘Wag maar Ampie, ou-Jakob kom reg!’ sê Booysen met 'n lag en Nortjé lag teësinnig saam.
‘Doen jy maar net jou bes en wees gehoorsaam,’ vervolg Booysen ernstig.
Toe kom die vader se tong ook los, onderwyl Booysen skrywe: ‘Ja, Ampie, doen jou bes ou-seun! Wees gehoorsaam en hou jou hande van ander mense se goed af. Ek is vandag arm, maar die Here hoor
| |
| |
my! Nooit het ek my hande aan ander mense se goed gesit nie.’
Hier vertel Nortjé die waarheid; maar kleinighede wat so af en toe, somarso in sy murasies ingedra is, het hy nooit navraag na gedoen nie.
Ampie dink aan die belt, en hy voel bly, dat hy sy pa mooi onderdeur gespring het.
‘En jy moet elke aand jou vraeboek leer; want jy is nog maar baie dom en dis kaffersleg as 'n mens ongeleer bly.’
‘Hier het ek reeds my vraeboek,’ sê Ampie trots en hy duik die gedaan en vuil bevingerde boek halfpad uit sy baadjiesak uit.
Nortjé kan van gister af sy seun nie meer begryp nie. Dat die kind so skielik oor alles gedink het, en so astrant word, is hy mos nie van hom gewend nie.
Toe Booysen die kontrak voorgelees en Nortjé blyk van tevredenheid gegee het, moet die vader hom teken. - Nortjé sit nou baie ongemaklik en sê:
‘Oom Kasper, jy weet die griep, ek meen die kwaai griep van voorverlede jaar, toe ons almal plat gelê het?’
‘Ja, Nortjé, dit was 'n bitter tyd daardie! Wat daarvan?’
Ek het hom in my rug gehad en my hande was daardie tyd glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken ... Kom, Ampie, vat die pen onder; ek sal bo vat!’
Die oudste hand beef ongemaklik bo en dis 'n meesterwerk van Ampie daardie, om D. Nortjé nog leesbaar onder die kontrak klaar te krap.
Vanmôre was dit stil, toe die son rustig agter die half afgebrande bult uitgeklim het, en die stemming van die aarde, was soos 'n erediens op Sondag. - Maar dis Augustusmaand se ou manier.
| |
| |
Toe Ampie afswaai in die kamp na ou-Jakob toe, stryk die wind eers soetjies, maar gou-gou sterker, al sterker, oor veld en koppie soos gister - en weer net Ampie is opgeruimd in wind en stof. Hy moet vir sy esel gaan vertel, dat hulle twee van nou af weer maats is.
Toe ou-Jakob vir Ampie gewaar, lig hy sy groot kop omhoog en twee lang ore klap regop, soos wagters op hulle pos. - En as daar lewe in die ernstige eselsoë blink, gty blydskap droewig oor die somber kop, wat deur sy oopgespèrde neusgate probeer om 'n groet vir Ampie te runnik ...
Ampie druk die kop liefkosend teen sy lompe vas, 'n lang ruk, stil en innig ...
‘En nou ou-Jakob moet ons koeliewinkel toe, om 'n kombers vir ons te koop!’
Hy is op die rug en ou-Jakob luister sonder toom. Dit jubel in sy hart, en Ampie oorskree die windgeraas, soos hy sing, die wêreldse liedjie, wat sy moeder so dikwels sing in haar ellende.
‘Hoe moet ik my beklagen?
Helaas, ik ben een bruid!
Myn blydskap syn nu uit!’
Uitbundig deur sy groot geluk, voel die seun weer losgelate op die velde, die knelter van sy pa se mag nou los vir ewig.
‘Ons ry die wêreld plat vandag ou-Jakob! Ons gaan nou eers ons belt haal uit sy wegsteekplek!’ So vinnig as hulle ry, swel die lustigheid in sy gemoed. Hy ruk die mondfluitjie uit sy sak en rukkerig gly die instrumentjie tussen sy lippe deur met 'n wyslose klankegewarrel, wat 'n jubellied vir Ampie is.
Effens versuim hulle, toe Ampie sy belt weer om sy lyf gèspe.
| |
| |
‘Ou-Jakob jong, my pa is laat met hierdie belt! Hy sal aan ons belt nooit weer ruik nie! Ons gaan nou eers 'n slag na Vlakplaas toe. Die kombers kan ook maar wag tot ons genog weer saam gery het. Die nooi sal bly wees as sy vir ons sien! Ek het mos nog 'n persent vir haar en jy moet by wees, as ek dit vir haar gee. - Ons gaan dit same bring! Aits ons trouring! Hier-jy jou spoggerige ding! Ou-Jakob ons rym vandag op 'n akkoord.’
Die esel druk sy spiere teen die wind en gee sy uitgeruste krag geheel vir Ampie. En as hy proes en snuif en lustig poteklap, wyl Ampie gedagtes sonder denke uitbaljaar, dan klink dit as een lied, saam met die winde, soos vroeër baiekeer, maar nou wilder, in die roes van maatsvoel in die onbeperkte veld, onder die vrye hemel en die frisse windsang om hulle heen, na Annekie, na Annekie!
|
|