| |
| |
| |
Hoofstuk V.
Doelloosheid.
Ampie se plan is om by Tant Fyta 'n stukkie kos te soek vir die lang pad, wat voorlê.
Die strate van Blikkiesdorp is vol doellose bedrywigheid, want gereelde werk is daar iets seldsaams. Klein kindertjies kruip rond in die stof, die opgeskote jeug is gedeeltelik skooltoe, omdat hulle soontoe moet, die ander deel het by die huis gebly oor kafredes; die half volwasse mense dood die tyd met rondloop of 'n doellose gepeusel in die huisies aan een of ander lieflingwerkie, of hulle speel kinderharp liedere op 'n ou musiek, 'n oorblyfsel nog uit beter tye, en deur die strate klink hier en daar die tone, langgerek en ru, van 'n psalm, slepend en mistroostig. - Groot mense gesels onder mekaar oor die politiek, of kerklike sake, of spit 'n tuintjie om, wat later deur hulle buurman se hoenders kort gehou sal word, of peuter aan 'n ambag, wat hulle half geleer het en doen 'n werkie, wat nie bepaald noodsaaklik is nie. - Die sielbederwende kwaad van werkeloosheid druk op die samelewing, en as gevolg broei ongeregtigheid in eertyds brawe kristenharte. Die geeste word geskerp om planne uit te dink, wat gebrek uit die beknopte woninkies sal hou. En afgesien van reg of wettigheid, word planne deurgedruk, waar selfrespek geen sê in het nie. Dit skyn daardeur of in enkele dele van die dorp 'n sekere welvaart is, tenspyte van die
| |
| |
werkeloosheid en dis die heerskappy van sin en luste wat dit bring. Die mensdom groei daar op in die atmosfeer van morele agteruitgang en sedelike bederf, en vinnig word 'n ramp voorberei, wat later ondenkbare moeite en koste sal vereis om te bestry. - Arbeid en bearbeiding alleen sal daardie atmosfeer reinig en selfrespek aan die verslegte blankedom teruggee.
Toe Ampie by die huisie aankom, waar sy tant Fyta woon, kom sy met 'n suigling op haar arm en 'n sieling se goedjies van die winkel af. Sy groet vir Ampie en vra na die welstand by sy tuiste, wyl sy die suigling op die grond sit en die goedjies in die amper leë kasplank koskas skuiwe, een kers, een dosie vuurhoutjies, een koekie seep, trippens se suiker en trippens se mieliemeel. - Tant Fyta sug groot sugte, toe sy die goedjies daar uitpak, en temerig vertel sy vir Ampie dat dit haar laaste sieling was. Sy hoop dat haar man vandag tog iets sal tuisbring. ‘Jou omie loop nou rond om die heinings te knip en dis maar selde dat hy iets te doen kry ... Hoe gaan dit met jou pa-hulle?’ vra sy vir die twede maal gedagteloos, terwyl sy teenoor Ampie so teësinnig gaan sit.
Ampie het gekom vir koffie en 'n sny brood soos hy altoos daar gewend was.
Maar die kind kruip die deur uit en tant Fyta roep met 'n gilstem ‘Betta!’
'n Dogtertjie van omtrent ses huppel van agter die huis na binne en kyk sku vir Ampie se woes en verwaar-loosde uiterlik, nieteenstaande sy vroeër herhaaldelik vir hom gesien het.
‘Loop kyk na Fritsie!’ order tant Fyta haar bitsig, en daarna lyk dit vir Ampie of hy vir haar 'n sny brood sal moet vra; want soos sy daar sit geware sy hom nie eers nie. Sy sug net.
‘Ek weet 'n plan om maklik geld te maak!’ sê Ampie
| |
| |
om vir haar op koers te kry en sy toon ineens belangstelling.
‘Dit sal goed wees Ampie, want ons krepeer van ellend!’
‘Tannie moet laat oom Frits smokkel!’
Haar oë rek wyd van verwondering. Waar sou die halfbaar kind gehoor het van so iets? Maar sy voel nie so ernstig daarteen as 'n ruk gelede nie, en sy luister gretig toe Ampie vertel hoe skrander die ou bandiet gewerk het en van sy kordaatstukke. - Die seun het vir haar interessant geword, so kinderlik geselsend oor verbode sake. - Maar Ampie hoop in stilte dat sy hom brood en koffie sal gee.
Tant Fyta breek nou los, 'n halfbenoude blyheid lewe in haar op.
‘Dis te gevaarlik ou-kind!’ tog brand dit in haar boesem, die wete dat dit met haar man, met haarself ook allig daarheen moet. Dit was haar laaste sieling vandag en Frits het in drie dae niks tuis gebring nie.
‘Dis teen die wet Ampie!’ sê sy flou, ‘en jy sal tog maar eendag in die tronk te lande kom en dan is dit klaar, uit en gedaan met jou!’ sy huiwer, maar vervolg heftig:
‘Dis mos wat ons regering wil hê; al ons ou boere brandarm, veragtelik en agter die tralies. Hulle het mos vir jou ook somarso opgesluit nie waar nie? Hulle wil ons armes dooddruk, as hul dit kon regkry! Maar boer se kind is vir hulle te taai Ampie!’
Sy het opgestaan, die klein kind, wat in kom kruip het opgeswaai in haar arms en nou abba sy die baba te heftig, wat die kind laat huil. ‘Betta! kom vat vir Fritsie! Hoekom pas jy nie die kind op nie, hê? Ampie, en jy 't heel nag in die tronk moes bly?’ vra sy bedaarder, nog taamlik afgetrokke.
‘Ja, tant Fyta en ek sal baie bly wees as tant Fyta vir
| |
| |
my 'n knippie brood kan gee asseblief, as daar te spare is.’
‘Ou-kind en dat ek dit nie eerder gedoen het nie. - 'n Mens se gedagtes is teenswoordig almelewe apsent. Glo vir my Ampie, hier loop vandag honderde van ons mense, wat nie eers 'n sny brood in hulle huis het nie. Ek het darem nog 'n halwe brood Ampie.’
Sy neem dit uit die koskas en gee hom 'n dik ronde sny, en sy vervolg, nie so seer teen Ampie nie, maar meer om aan die drang te voldoen, wat die verkropte gevoel van onreg in haar opstu, totdat sy heftig uitpraat:
‘Ja, Ampie, so gaan dit in die wêreld. - Daar is die myne, daar is die goud! Dag vir dag grou hulle in ons aarde... in ons boere se aarde. En hier in blikkiesdorp word groot gebrek gely; mense versleg hier, en as hulle dan drank smokkel om tog te lewe, dan word hulle gevang. Ek sê, wie se skuld is dit? wie s'n? - Hier bly Kootjie Swarts. Die myne het hom uitgesmyt, maar hy kry g'n taaises geld nie; hulle sê hy is nog olraait. Kootjie is maar 'n oorblufte mens, maar trou in die diens van die Here, en baie vir vrede en liefde. - Kootjie het toe perbeer by die munesiepelletie om op die strate te werk. Hulle sê vir hom dat hulle kaffers goedkoper daarvoor gebruik. Toe het hy perbeer om te smous langs die huise, met groente, wat hy smôrens op die mark opkoop; maar die koelies het daardie hele besigheid in hulle hande en Kootjie was ook maar verplig om so hier en daar skuld te gee, en dit moes hy nie gedoen het nie. Hy het die meeste van die uitstaande gelde nie gekry nie, en ou Kootjie Swarts moes opgee. - Toe word hy onverskillig en beginne drank smokkel. Hy was maar onnosel en 'n mens kon somar aan ou Kootjie se oë sien, dat hy iets gedoen het, wat verkeerd was. Hulle het hom somar gou-gou getrep, en vandag is
| |
| |
Kootjie Swarts 'n bandiet. Toe hy die dag sy vonnis hoor, drup daar net sulke groot traandruppels uit sy baard uit ... en ek het sy arme vrou so jammer gekry! - En toe?’
'n Persoon wat op haar huisie afkom het haar oë gevang.
‘En wat kom soek jy dan? - Môre Dawid!’
‘Skink vir my koffie in Fyta jong! ek is nou moeg geloop agter die vervlakste kind!’ kommandeer Dawid Nortjé.
Ampie wil wegraak in die klein kamertjie so hopeloos naby sy vader. Hy sluk en sluk droë slukke agter die droë brood aan ... ‘En hier sit die skelme vabond so ewe poliets en eet. En wat die swernoot hê jy aangevang. Dit let my nou nie veel nie of ek trap jou hier voor jou tante,’ dreig Nortjé. Sy suster het hom egter daadlik gekalmeer en op 'n stoel laat sit.
‘Jy moet jou bedink Dawid, die arme kind het heel nag in die tronk deur gebring’ en inderhaas skink sy 'n pinkiebeker swart koffie en skep van die suiker uit die trippense kardoesie, wat sy flus gekoop het. Vir haar broer gee sy die helfte van die stuk brood, wat sy nog besit. Alles gaan stil en stemmig. Tant Fyta sit weer as 'n siellose wese teenoor hulle, vol gedagtes, wat haar harsings deurmekaar krap. Sy kyk die voordeur uit oor die ellende, wat daar in blikkiesdorp opmekaar pak en sy verwag haar man so half en half met 'n paar sielings. Maar in die swerweling se oë gloei die angs vir die eensame wandeling netnou met sy vader huistoe.
Skuins agter sy pa aan stap Ampie wild en wakker, vir 'n moontlike uitval van die kwaai vader van hom, wat stil oorweeg hoe om sy seun se malkopdaad agter te kom. Virwat was hy dan in die tronk? Hoe het hy daardie nuwe belt in die hande gekry? Hy weet dat Ampie hom sal voorlieg. Dit sal verniet wees om vir hom te
| |
| |
vang; want Ampie sal weghardloop sodra hy na hom gryp. - Dawid Nortjé loop in gepeins skuins voor sy seun. Dis 'n treurige wandeling teen die klaende voorjaarswind, wat elke dag amper oor die velde stryk. Geen woord word gewissel nie en dis vir Ampie of hy deur onsigbre kettings saamgetrek word, so willoos volg hy die stil figuur van sy vader. - Die lewe is so leeg. Daar is geen doel meer nie. - Breed loop ou Nortjé met sterk stappe. Geen mens sal raai dat hy die môre al dieselfde pad geloop het nie. Taai en onvernielbaar amper, is hy 'n ideaal vir die doen van die grofste werk in 'n steenkool myn. Sy vaal baard is swart en verkleur van die gedurige lewe in rook en by gemis aan seep, en sy leepogies is vieslik om na te kyk. Hy kon geen pasliker bynaam gekry het nie as ‘Goor Dawid’, soos die buitegemeenskap hom tiepeer. - Jammer dat verslegting daardie fris man, vir die gemeenskapslewe tot 'n las gemaak het.
Nortjé voel dat hy vir Ampie nou moet uitvra. Hy raap 'n klip van die grond af op en staan ineens reg voor sy seun, wat net wou wegspring, toe sy vader dreigend uitroep:
‘As jy weghol, gooi ek jou met hierdie klip dood!’
Dit verydel Ampie se plan. Nou sal hy fyn agter mekaar sy saak bedink en perbeer om vrede tussen hulle te kry ...
‘Virwat sal ek dan weghol, my pa?’
‘Waar is ou-Jakob se geld?’
‘Laat ek nou alles duidlik vir pa vertel. Die skelm afslaer stop my net een pond en agtien sielings in my hand pa. En ek het gepraat en gesoebat, maar dis net so goed en praat met daardie klip waar pa my mee sal gooi, as ek weghardloop. Ek het hom gesê: hy is 'n skelm en 'n geldvreter pa!’
‘Jy staan my weer en voorlieg! Swernoot! praat die
| |
| |
waarheid. Hoekom hê jy toe weggeloop pleks om vir my te kom vertel?’
Ou Nortjé hurk neer en sy klouvingers frommel met sy baard. Klein goor ogies, wat lyk of hulle aan toegroei is, kyk agterdogtig na sy kind, wat baie rustiger, sonder bedenking maklik verder sy pa aflei en vertel:
‘Nou vra pa my iets, wat ek nie mooi kan duidlik maak nie, want toe ek my kom kry, was ek op die pad na die magistraat, om my klagte in te dien,’ en try maak sowaar indruk op ou-Dawid.
‘En toe? Wat sê die magistraat?’
‘Pa, hy sê ek lieg!’ sê Ampie met so 'n verontwaardiging, dat hy self alles begin te glo, wat hy nou vertel: ‘hulle het my hot en haar geruk en toe ek wou weghardloop, het hulle gesê dat ek gesteel het. Ek sê kom ‘serts’ my, en hulle het my toe ‘geserts’ en alles gevat behalwe hierdie belt pa, want my broek wou met geweld afsak, en toe set hulle vir my die heel nag in die tronk soos 'n bandiet. - Van môre los hulle my toe en toe kry pa my by tant Fyta.’
‘En jy wil vir my wysmaak dat hulle al ou-Jakob se geld gehou het? Ek is g'n poenskop nie, jy staan my hier en voorlieg!’
Maar onbeskroom druk Ampie verder deur.
‘Nee pa 't my nie mooi verstaan nie. Ek het mos vir pa gesê dat ek hierdie belt gekoop het van die geld; want waarna lyk dit om voor die magistraat te verskyn met 'n broek, wat net wil afgly? Ek moes mos tog ordentlik lyk, nie waar nie?’
En daarmee moet Nortjé ongelukkig saamstem. Ampie is so dig as 'n bottel brandewyn in die drankstoor. Jy kan alles sien, maar niks proe nie. Nortjé voel dat sy seun hom voorlieg, dog sien min kans om meer uit te vind, hoewel hy ergerlik en ontevrede voel.
‘Gee die belt laat ek sien!’
| |
| |
Ampie hou sy lyf skraal, terwyl hy vir sy pa die punt aanpresenteer, op sy hoede vir 'n verdagte beweging.
Nortjé hanteer die belt met 'n groeiende begere en deëlik bevoel hy dit of daar dalk nie geld in is nie. Daarna gèspe hy hom vas om sy lyf en sê, terwyl hy aanstap: ‘Ek sal die belt vir my vat.’
Ampie kom verleë agteraan met 'n gevoel van verkropte onmag. Dis onreg daardie en dis 'n skande om so te werk! Hy sal niks oorhou nie van àl ou-Jakob se geld, as sy pa die knipmes en die mondfluitjie agterkom.
Nortjé gee voedsel aan die spyt wat in sy hart woon en aan die twyfel aan sy seun se verklarings, toe hy neerslagtig verder aanslenter met stadige passe. Moet hy daardie seun van hom nou glo? Hy lyk so ernstig en verontwaardig, of hy die grootste onreg gely het. - Ag! en sy begeerte na die bees van 'n slagvark is so sterk, dat hy nie kan dink aan onkans om die vark te koop nie. Dit was sy hartewens vir weke. Hy 't so geniet deur die gedagte alleen om binnekort sy lang gespeende vleeshonger te versadig ... Daar is g'n geregtigheid meer in die land nie! So gaan dit almelewe met 'n arm mens, die laaste swernoot verneuk hom! Sou Ampie hom dalk ook nie kul nie? 'n Opbruising van toorn verhaas sy pas. - 'n Mens word nie somar verniet gevang nie. En 'n Magistraat het g'n reg om die geld te hou nie. - As daardie kind hom goedmoeds staan en voorlieg het? ... So wrentig, Ampie het hom weer verneuk ...! Die toorn bekruip sy sinne, maar hy bedwing sy haas.
‘Ampie!’
‘Ja pa!’
‘Kom stap hier langs my, ek wil met jou praat!’
Ampie kom 'n weinig nader tot 'n halwe tree skuins agter hom.
‘Jy sal bars as jy vir my lieg hoor!’
‘Ja pa!’ sê Ampie sedig, klaar om weg te koets as sy
| |
| |
pa net roer en vinnig sal hy uitsny voor sy pa die kans het om weer 'n klip op te tel.
‘Ek sê jy sal bars!’ herhaal sy pa heftig, terwyl hy skielik stilstaan en Ampie twee tree agteruitdeins. - Daar lê g'n klip naby nie en Ampie voel gerus, so wild en wakker as hy is.
‘Waar is ou-Jakob se geld? Ek wil dit hê! Bring! Lewer uit! Lewer uit!’
En uit die staanspoor is hy onkeerbaar. ‘Bog! Vabond! Jy dink glo dat ek jou vuilgoed is nê?’
Die woede vlam deur sy harsings en skiet deur sy senings. 'n Malmens is ou-Dawid Nortjé, toe hy vir Ampie bespring, soos 'n valk 'n kuiken opskep. Die losgebreekte woede was te plotseling vir die geringste vlugkans, en Ampie, weerloos en vasgeklou deur 'n magtige gryp van woede hande, bly stom as 'n skaap, wat hulle keel afsny. - Net sy oë, vol doodsangs, sper oop en staar mal in die ruimte, asof die doodsbenoudheid hulle wil oopskeur, 'n doodsbenoudheid wat die sterk hande, soos kloue om sy keel, kop toe pars, en hy hoor die waansinkrete, soos dowwe hamerslae op sy kop.
‘Jy moet vrek! Verdomde kind! Jou end is hier! ... hier! ... Ek moor ... God ek vermoor jou!’ ... brul ou Nortjè in dierlike klanke.
En soos dit nou toevallig moes gebeur het, het 'n manspersoon die onmenslike gebrul gehoor. Dis Flip Staander, oom Kasper Booysen se bywoner, wat, uitgegaan om 'n paar beeste te soek, toe hy 'n leegte uitklim, op die spokery afkom. - Alles het soos 'n rolprent hom verby geflikker. - Hy herken Goor Dawid en sy seun Ampie. Die vuiles gaan sy kind vermoor hier in die veld. Hy bars in volle vaart op die vader los en ruk hom met 'n onverwagte ruk opsy, en dit is heeltemal voldoende om vir Nortjé tot besinning te bring. Dit bruis
| |
| |
in Staander se binnenste op om vir ou-Dawid in te storm met 'n woordevloed vol minagting en slegsê; maar Ampie het inmekaar gesak en hy perbeer om hom orent te sukkel. Slegs 'n gemompel van verwyt grom hy teen Nortjé wat nou eers merk hoe sekerlik hy sy kind hier sou vermoor het ... Hy sidder vir Flip Staander, wat vir Ampie regop hou en van onder sy groot wysbroue die wrede vader dreigend aankyk. - Nortjé, 'n man, wat vir Staander met een vuishou pap kan slaan, is bang vir daardie stil man, en Staander, wat hom geen sekonde sou bedink om vir Nortjé in te vlieë nie, as hy dit sou waag om weer sy hand vir Ampie op te tel, kan, wyl hy verstandig vir Ampie regbring, sy sê nie sê nie. - En dis wat Staander in sy lewe altoos gehinder het, waarom hy bywoner van Booysen geword het.
Nadat Ampie heeltemal weer reg is, stap hulle drie saam verder.
‘Die kind het van die huis af weggeloop neef Flip, en ek het hom van môre op die dorp moes gaan haal.’ Sê Nortjé eindlik om die spanning te breek.
‘As ek 'n minuut later gekom het Nortjé, sou ek jou moes opgebring het vir moord.’
Hy skrik vir die gedagte en voel dankbaar dat dit nou onnodig is. Hy sou nooit die vrypostigheid besit het nie en net swaar gekry het onder die verpligtingsdrang.
Nortjé voel heeltemal normaal en kry die neiging om witvoetjie te soek.
‘En wat bring jou dan so verdwaal in hierdie gebuurte neef Flip?’
‘Ek is agter drie osse aan. Hulle is van eergister môre af al weg. Hè-jy hulle altemit nie geware nie? Dis twee donker rooies, omtrent ses jaar oud, een met weglê horings en een met knyp horings; die ander os is 'n afrikanermof, 'n rooi kop met sulke half gedraaide kort horinkies.’
| |
| |
‘Neef Flip ja, dit wil my byval, dat ek gister middag, onderkant my huis drie osse gesien wei het. Dit was vreemde beeste. Ek het my dogter nog gestuur om hulle van die vlei af op te ja, dis nou 'n tyd dat beeste lelik vasval neef, en in die vlei is baie vals plekke wat gevaarlik is.’
So nader hulle, los geselsend, die laaste bult waaragter Nortjé se verblyf is. - Ampie het geen woord gepraat nie. Hy voel ongelukkig en as iemand, wat liewerste uit die wêreld uit wil padgee.
Dit lyk of die ellendige verblyf daaronder vir hulle staan en inwag, soos 'n stompstert gedierte, met 'n tamaai groot kop. Outydse murasies, wat gedeeltelik onder 'n ruigte-strooidak die huisgesin van die Nortjés herberg. Die onbedekte deel trotseer al die seisoene se geknaag in die oop lug en omvat die kastige kombuis en vandag se eetplek. 'n Vaste eetplek is daar egter nie, elkeen eet, waar hy of sy die kos ontvang. Nortjé het dit nog nie nodig geag om die hele murasie onder beskutting te bring nie, en hulle leef nou al twee jaar so, heeltemal gaaf. Geen prikkel spoor die begeerte na die gerief van 'n witmenslewe meer nie. 'n Strewe om hoër te staan as die kaffer, wat net so, en beter in baie opsigte as hulle lewe, is dood. - En daarbinnekant krioel nou die kroos onder 'n gedurige gekekkel, waardeur 'n dreungemompel van die moeder val, soos pompomskote tussen klein geweervuur, as sy gevoelloos onpaslike dreigemente uiter.
Fyta, die oudste dogter, ruim vier jaar jonger as Ampie, is 'n halwe idioot, wat 'n lap ou sis tot repe skeur vir haarlinte en 'n band om haar rok mee op te hou. - Netnou sal Ampie kom en sy moet tog ordentlik lyk, dalk bring hy 'n gawe jongetjie vir haar saam. - Mina, die twede oudste dogter, is die enigste wat 'n begrip en ook 'n begeerte vir persiesheid het. Sy veë met 'n
| |
| |
bossie dekgras die ongelyke vloer, dat die stof die murasies binnekant deinserig maak.
‘Sit soontoe Fyta!’
‘Ek sal nie, hoor jy! Ag! ... loop ... wat!’
‘Ma, sê tog vir Fyta, sy moet padgee!’
‘Fyta ek voeter jou netnou!’ dreig die dooie dreunstem.
‘Ag Ma, ek is mos besig.’ (Sy klap met haar tong, kastig verontwaardig.)
‘Ek hinder mos g'n!’
Mina stamp nou vir Fyta uit haar pad uit.
‘Mina, jy moet sê as jy slae kort kom!’ brom harder die moederstem.
‘Sien ma dan nie, ek maak die huis aan kant nie?’
Die moeder van ses nog lewende Nortjétjies - vier is al begrawe - besweer die gees van rusiemaak verniet. - Sy het die geeskrag nie daarvoor nie, sy is tam. - Net wanneer die verdronge emosies van bitterheid en mensehaat te sterk opstu, dan is sy onkeerbaar, nes ou-Dawid, 'n felle furie, waarvoor die kinders tjoepstil, sidderend wegkruip. - Dis egter iets seldsaams. Haar simple onderworpenheid is te gewend aan ongerief en wanorde en kindergeraas, dat dit haar kan hinder. En dis vir haar 'n geluk dat sy simpel is in daardie omstandigheid, want sy voel tevrede in die roue werklikheid om haar heen. Die brom-dreun dreigemente is maar net die uitinge van haar onbewuste, wat somar so opborrel.
Sy abba die heel kleinste. - Al die kinders het maar klein gebly. Die twee, wat op die vloer rondkruip lyk ewe groot: Ampie se kleinboetie en 'n dogtertjie van vyf. Hulle krap die sand en stof en ander vuil op die vloer, bymekaar tot walletjies, wat 'n beeskraal voorstel en 'n pad, wat na die deur toe lei. Gekleurde klippies, bont opgestel is dan die beeste, wat uitgaan
| |
| |
weiveld toe. Die tweetjies speel baie lekker daar in die gemors; maar gou is hulle genot verby. Die nydige dekgrasbos van Mina vee hulle hele fantasie weg. Die kleinboet spring verwoed op en trane spat in sy oë. Hy stamp sy suster met sy tengerige vuisies in haar sy, soos 'n bombardementjie, waaroor sy lag en aanhou vee. Die dogtertjie het haar boetie se voorbeeld gevolg.
‘Kleinboet julle maak net 'n gemors! Ma, kyk vir Kleinboet en Kleinsus!’
‘O julle soek my nê? Julle sal my kry!’ sê die moeder sonder om haar oë na die twis te draai en 'n paar keer herhaal sy die bedreiging. ‘Julle sal bars.’
Sy het van eergister af, toe Ampie nie tuisgekom het nie, 'n snaakse kwelling, wat haar wonderlike hart deurmekaar gekrap het. Vanmôre vroeg het 'n vlaag van vroomheid haar hardnekkig laat sing:
‘Salig hy die in dit lewe,’ waarin die suiwer, maar harde stemme van Fyta en Mina gaandeweg gedeel het, toe hulle drie om die vuurkan in die môreskemer gesit het. Die kleintjies het toe nog geslaap en ou-Dawid was al agter Ampie aan. - En naderhand het die moeder vir Mina georder om die bybeltjie te soek. Toe het Mina hulle voorgelees van die eerste bladsy, wat sy oopslaan en dit was uit die Hooglied van Salomo. Die ander het vol eerbied gestaar in die vuurkan se springvlamme om 'n groot swart ketel, en die oomblik was vir die moeder heilig. Die bloed van voortrekkers wat nog deur haar are vloei, het uiting gegee aan 'n godsdiensdrang, toe haar hart gekwel geword het.
En toe Mina die bybeltjie toeslaan, het om die warm vuurkan maar weer dieselfde lied van flus opgeklink in die kille winterdageraad. Toe het die kleinspan wakker geword en hulle in die gewone kleurlose lewe teruggesleep. - Maar die moeder het die klou-gedagtes van gister-heel-dag-al gedurig gevoed. Die skelms het vir
| |
| |
Ampie gevang. Hulle weet mos dat hy geld het. Hy lê daar langs die pad, soos die Jood, wat die barmhartige Samaritaan naderhand opgetel het ...
Gister het sy die heeldag aan ou-Dawid getorring. Hy moes tog maar uitspring. Hy kon maar gerus reguit dorp toe peil, want al die skelms en diewe en moordenaars bly daar.
Nortjé het hom toe geërg.
‘Wat wou? Ampie het niks oorgekom nie! Die vloek is skoonveld met ou-Jakob en al, of met die geld. En die vark kan ons maar op ons pens skrywe, en doodvee met die hemp!’
‘Ek sê hy lê daar teen die bult, net deuskant die dorp, kaal uitgeskud nes die Jood, wat langs die pad gelê het, in die bybel.’ - Ou-Dawid ken sy vrou. 'n Mens kan net so wel perbeer om Winter in Somer te verander as om haar nou 'n gat in die kop te praat. Sy hoofgedagte was:
‘Die duiwel sal hom ry!’
En vroeg voor die rooidag nog het hy toe getrap. En sy het, onverskillig vir alles om haar heen, net na die tuiskoms van Ampie uitgesien. Vroeër was dit niks, as hy vir dae weg gebry het nie; maar nou het hy mos baie geld by hom gehad. - Die arme kind ... en hy lê daar half vermoor langs die pad ...
En terwyl sy die rustelose klein Nortjétjie abba, bly haar blik die deuropening deur, op die lang bult vas.
Sy 't weinig sorge nou meer in haar lewe, wat gewend geword het aan die bot onverskillige laat-kom-soos-dit-wil. - Maar hierdie wegbly van Ampie onder die vir haar so besondere omstandighede, gee haar dae ...
En plotseling guds die storm van blydskap deur haar bloed, hoewel haar starre oë effens maar 'n glans oortrek. In haar bevange brein knap die gedagte los, wat soos 'n band haar harsings vas gesnoer het.
| |
| |
‘Daar kom hulle!’
En nou begin sy in haar ordelose huishouding te lewe.
‘Dê Fyta, vat die kind!’
Fyta borrel met die baba en die ander die murasies uit, om te sien of Ampie nie dalk 'n jongkêrel vir haar saamgebring het nie. Sowaar dis drie, haar pa, Ampie en die ander wat sweerlik na haar sal kom vry. Haar liggaam tintel van geluk. Dis daardie blou-oog jongetjie, waar sy so baie van gedroom het.
‘Dê Mina, vat die kind! Ek wil my regmaak, hier kom mense saam met pa en ouboet-hulle!’
‘Ek sal nie!’ martel die suster haar.
‘Ma, sê tog samblief vir Mina dat sy die kind moet vat! Kyk hoe lyk my hare, ons kan ons naam mos nie laat val nie!’
‘Mina, luister vir jou ous! Sy 's reg, dalk is dit nog die magistraat, wat hulle saambring om te ondersoek, waar Ampie bly.’
‘Laat Kleinboet die kind vat,’ sê Mina, ‘ek het heel môre huis aan kant gemaak!’ en sy trap eenkant toe.
‘Ag ek sal nie dê!’ sê Kleinboet kwaad nog vir sy suster wat sy spel gebreek het.
‘Julle moenie nou vir my bodder nie!’ brom die moeder haastig.
‘Kom help Mina, laat die pap gaar kom!’
En voor die hunkerende oë van Fyta, draai die derde persoon van die ander weg, die veld in. - Dis seker somar om hom reg te maak vir vanaand, dink die simpele dogter nog blymoedig in haar waan.
In die deinserige murasies terug, is gou die hele voorval vergeet. Dis weer die gewoonlike geraas en deurmekaar gewarrel van die Nortjees.
Die vader, moeg en lyfseer van die groot inspanning, vertel luierig vir sy vrou, wat hy van Ampie weet, en Ampie, sku naby die deur hoor die verhaal, met wat sy
| |
| |
pa nog aanlas. Hoor hoe lieg die ou! Hulle het mos nie vyf pond by die Magistraat van hom afgevat nie ... Hoor maar sy pa kan spek skiet!
Maar wat hom opval is hoe wonderlik opgeruimd sy moeder die geval opneem, waar sy pa so triesterig gebukkend sit, omdat hy nie sy sin kan kry met die vark nie.
‘Dawid, vir wat is jy dan so hartseer oor die vark? Loop koop die ding op skuld!’
‘Jy is mal vrou! Wie sal vir ons nou skuld gee?’ Sy het met haar bekrompe insig 'n idee gekry en koppig vasgehou, dat Ampie al die geld gebank het.
‘Ou-Dawid, my man! Ek sê loop koop die vark! Ampie sal vir jou borg staan. Hy het die geld gebank.’
‘Gebank?’ Sy leepogies kyk baie venynig vir sy wederhelf.
‘Wat weet Ampie van 'n bank? Die vervlakste kind het ons besteel. Jy is verspot vrou! Jy praat somar deur jou keel!’ Hy staan op en Ampie vang 'n kwaai blik van sy pa en toe spring hy na buite.
‘Ek ontsien my twee bene!’ brom Nortjé. ‘Ek wil gaan slaap,’ vervolg hy, toe hy na die ander kant van die murasie stap, waar die rusplekke van die huisgenote is.
‘Ek sê koop die vark!’ dreun sy vrou hom half dof agterna. Sy beskou die bank as 'n heilige geslotenheid. Geld daarin is vir ewig veilig gebêre, en iemand, wat geld in die bank het, kan alles koop op skuld.
En daarbuite slenter Ampie doelloos deur die veld. Onbewus daarvan hou hy 'n voetpaadjie na een van die plekke, waar hy 'n karwielband gestel het as 'n wip vir hase. Sy lyf voel stywerig van die rukkie stilsit in die huis, en hier binnekant in hom, lê die swaar gewig van leed. Hy voel of hy daar ook baie moeg is. - Moeg ook vir die bly daar in die haatlike murasies, waar sy
| |
| |
lawwe moeder so ontydig is om te dink dat hy die geld gebank het. - Netnou kom daar weer splinternuwe sonde oor die kastige vyfpond, soos sy pa haar voorgelieg het. - As sy tog maar liewerste haar mond wil toe hou. - Sy sal nou anhou neul met hierdie verbeeldentheid van haar, tot sy die ding vergeet het. En tot solank sal hy sy lyf moet skraal hou vir sy pa.
Sy pa 't hom amper bokveld-toe gehad. Hy 't net begin om niks meer te voel nie, nes een wat doodvas aan die slaap is. Hoekom moes oom Flip hom juis op daardie oomblik kom verlos het? Hy kon maar liewerste daar gebly het, dood en uit die wêreld uit.
Hy voel soos een, wat regtig kennis met die wêreld gemaak het. Hy het in die drie dae 'n ondervinding deurleef, ver meer as alles saam, wat hy vroeër ervaar het, en hy is heeltemal ontmoedig. Die wêreld is vir hom soos 'n vals gedierte, wat hom van agter bekruip, en met al die mense kan hy glad niks uitrig nie. Hy sal kan wegvlug uit die wêreld uit, bosveld toe; maar wat sal dit hom help? Daar is ook poliese en sy pa sal tog maar weer sy spoor vat.
Net een ding het hy geleer. Solank as hy iets besit, beteken hy iets. - Kyk vir ou-Moosa se winkel, toe hy kon speel met die geld, was hulle baie vrindlik, en toe hy langs die poliesman daar verby stap na die kantoor, toe het hulle vir hom gestaan en lag! En die ou bandiet het net met hom gesels solank as sy sigrets gehou het, en toe die gedaan was, kon hy maar gaan slaap. - En toe sy pa agterkom, dat hy niks besit nie, toe wou sy pa hom somar goedsmoeds vermoor. - Hy gril as hy sy hals betas en skrynerig sy vingers daar voel. - Hy sal nog fyntjies in sy spore moet trap hier vandaan, tot sy pa die slagvark ook vergeet het, en dit sal nog 'n rukkie vat. - En die belt sal hy nog uit sy pa uithaal. Dis darem laag om somarso die ding te vat.
| |
| |
Dis openlik steel so onder sy oë en hy moet maar tjoepstil bly.
Die wielband lê plat; maar niks daaronder nie. Ampie het nou skaars 'n oog vir iets, wat enkele dae terug nog sy lus en lewe was. Hy het somarso hier op die plekkie uitgekom. Hy weet self nie vir wat hy nog rondstap nie. Hy voel gedaan; moeg vir die wêreld.
Lusteloos slenter hy maar weer oor dieselfde voetpaadjie huis se kant toe.
En onverwag spring sy moeder in die paadjie, vol lag en ontydigheid. Maar hy het skaars geskrik. Hy is vererg daaroor; moeg en afgewerk as hy voel; asof niks hom ooit weer met die lewe sal versoen nie. - Hy voel ongemaklik nou sy Ma hier langs hom stap. - Dis nie verniet nie! ... Sy ma is ook ewig ontydig!
‘Ampie jy steek verniet vir jou ma weg; - ek weet alles!’
‘Maar dan kan ek mos nie iets wegsteek vir ma nie!’ antwoord hy bars.
‘Jy wil nie hê, jou pa moet dit agterkom nie nê? Maar ek sal stil bly Ampie. Jy 't vir ou-Jakob se geld gebank, nie waar nie?’
Gedurende die aand, ongemerk naby die deur, het sy geestesgang dieselfde doellose groef van swaarmoedigheid gehou. Hy 't dof geword deurdat sy harsings gedurig 'n klouende swaar verwerk, so lui, asof hulle lus kry om te toef in die onbepaalde somberte. Hy 't selfs sy kleinboet nie opgemerk nie, toe die 'n lang ruk stil, vas teen hom gestaan het, asof hy iets wou vra, dog bang geword het en naderhand ontevrede weg gestap het. - Dit draai maar in sy kop. - Hy 't niks meer nie ... hy sal nooit iets bymekaar kry nie ... Met ou-Jakob het hy alles verloor ... Sy eerste groot ambiesie het jammerlik gesterwe en daarmee ook sy eerste liefde verslaan. Hy huiwer selfs om oor Annekie
| |
| |
te dink; omdat hy hom gevoel as 'n niksnuts, 'n windmaker wat kastig so baie geld sou gaan verdien om kastig eendag met haar te trou. - En die ring sal hy ook nooit vir haar durf bring nie. - Met ou-Jakob het hy alles verloor! ... Alles wat in die wêreld lewe is sy vyand! ...
In die versuftheid staar hy na die huisgesin, wat om die vuurkan groep. Ampie merk niks van kou hier langs die deur nie. Die kinders is stil, hulle kry lekker warm daar, want die pa se groot plek kan nou deur die kleintjies opgevul word.
Sy moeder kom van die vuurkan af, en bring vir hom warm koffie en dis iets baie ongewoons.
‘Kry jy dan nie koud nie Ampie?’ vra sy so simpatiek as hy nog nooit haar stem gehoor het nie.
‘Kom sit nader by die vuurkan tussen ons.’ En in sy kille lyf begin die lewe te gloei en in sy hart 'n nuwe gevoel, wat hunker na 'n medegevoel en liefde.
En toe kry hy skielik 'n groot verlangste na ou-Jakob ...
|
|